P Verster
Universiteit van die Vrystaat

Jesus is ons versoening: die implikasies van die versoening vir die sending

ABSTRACT

Jesus is our reconciliation: the implications of reconciliation for mission

This article gives an overview of the continuing debate on reconciliation, especially from the perspective of Paul. The author argues that different ways of perceiving reconciliation emerge from relevant literature. On the one hand, reconciliation is described as Christ’s representation, which has nothing to do with Old Testament sacrifice and substitution. Reconciliation with God is obtained by following Christ. Another possibility is that Christ is our reconciliation by substitution. The author reviews the implications for mission of this last perspective.

1. INLEIDING

Die implikasies van versoening is vir die sending van besondere belang, nie alleen omdat die leer oor die versoening verskillende aspekte van die verlossing in Christus raak nie, maar ook omdat daar in die huidige tydsgewrig verskillende standpunte na vore kom. Dit is veral Paulus se uiteensetting in Romeine en 2 Korintiërs wat aandag geniet. Hierdie artikel wil ondersoek instel na die betekenis van Jesus Christus as ons versoening en hoe Hy die sending moontlik maak. Is Hy meer as net die voorbeeld of aanduier van die versoening? Kan daar beweer word: Hy is ons versoening? Hierdie saak moet ontleed word in die lig van die jongste nadenke daaroor. Vorster (1997:4) stel dit duidelik dat die vraag of die versoening ’n versoening van alle mense op grond van Christus se voorbeeld van selfoorgawe is, of ’n soenoffer en voldoening van Christus aan die geregtigheid van God, sentraal staan. In aansluiting hierby word die saak ondersoek in die lig van die verskil tussen verteenwoordiging en plaasvervanging. Indien Christus ons by God verteenwoordig, word versoening moontlik deur navolging en word die mens opgeroep om deur navolging versoen met God te lewe. Soms word die begrip “plaasvervanging” ook so geïnterpreteer. In hierdie artikel word plaasvervanging, in navolging van Vorster (1997:9, 10), verstaan as die saak waarin Christus, wat sonder sonde was, in die plek van ander hulle geregtigheid by God word.

2. STANDPUNTE OOR VERSOENING

2.1. Klassieke gereformeerde beskouings in gedrang

Die wyse waarop Luther bekende gedeeltes in Romeine gelees het, word tans bevraagteken. Die sentrale uitgangspunt dat Jesus Christus Homself in ’n daad van oorgawe prysgegee het om op daardie wyse die toorn van God van die mens af te wend, word betwyfel. Calvyn (1559:555) het daarop gewys dat die kruis, nie alleen volgens menslike oortuiging nie, maar ook volgens goddelike dekreet, vervloek was. Wanneer Christus dus aan die kruis gehang word, maak Hy Hom onderworpe aan die vervloeking en dit moet geskied sodat ons verlos word van alle vervloeking wat vanweë ons ongeregtighede op ons wag, omdat dit op Hom oorgedra is. In die dogmatiek van Van Genderen en Velema (1992:442-443) word die gedagte steeds bevestig: God spaar nie sy eie Seun nie, en ook nie Homself nie. Daar het bloed en trane gewag op die Middelaar wat tot sonde gemaak is. Verkuyl (1992:233) bevestig dat Jesus se bloed meer as martelaarsbloed was, wel middelaarsbloed.

Hierdie gedagtegang word tans bevraagteken. Die vraagstuk sentreer rondom die probleem van die sonde en die wegneem daarvan. Veral Wiersinga (1971:189) het die versoening nuut geïnterpreteer: “Ik meen aangetoond te hebben dat we hier niet kunnen denken aan een oordeel Gods dat op Jezus (of zoals men wel zegt: op God zélf) neerkomt. We zullen aan Golgotha moeten denken als de plaats waar wij mensen openbaar worden in onze diepste intentie: de plaats waar wij mensen in de krisis komen, waar het voor ons kritiek wordt, waar de Kpn^s van hemel en aarde ons het corpus delicti toont.” Vorster (1997:12) toon aan dat Wiersinga juis ’n effektiewe versoening verlang, maar dan vanuit die wêreld self sodat die versoening tot sosiale versoening en verandering verskraal word (Vorster 1997:13).

Die vraag wat tans al hoe meer gevra word, is of die kwaad nie inherent deel van die bestaande werklikheid is nie, en ook of die goeie sonder die kwaad kan bestaan. Dit raak ook die wyse waarop daar na die versoening in Jesus Christus en sy sterwe aan die kruis gekyk word. Is daar hoegenaamd sprake van ’n offer van die Seun van God aan die kruis? Kan dié offer as ’n daad van gehoorsaamheid aan die Vader beskou word?

Die beswaar wat dus al hoe sterker na vore kom, is dat God tog nie werklik ’n gewelddadige God kan wees nie. Is dit so dat God die bloed van sy Seun eis, om dan tot ’n daad van versoening met die mens oor te gaan? Die wêreld waarin ons bestaan, is inderdaad so ’n gewelddadige wêreld. Geweld is so ’n gruwelike miskenning van geregtigheid dat gevra word: Is God vanuit hierdie perspektief beskou nie ook ’n gewelddadige wese nie? Hy gebruik mense om sy Seun ter dood te veroordeel en aan die kruis te vermoor, sodat Hy wat hierdie geregtigheid van die mense sou eis, in sy toorn gestil kan word. Hierdie beskouing oor versoening word tans toenemend verwerp.

Veral vanuit feministiese kringe word die gedagte dat versoening plaasvervanging insluit sterk bevraagteken. Dorothy Sölle (1982) het reeds aangetoon dat sy die gedagte van God wat sy eie Seun offer om sodoende die versoening te bewerk, nie aanvaar nie. Die dood van Jesus aan die kruis word dan baie eerder as ’n daad van onreg deur mense teen ander en teen God beskou. Die Seun van God word vermoor weens die kwaad in die wêreld. Hy verklaar Hom solidêr met dié wat so ly, en kom sodoende te staan aan die kant van mense wat teen die onreg in die wêreld optree. Versoening bestaan dus glad nie in die sin van plaasvervangende versoening, of dat Jesus ons versoening is en die verhouding met God herstel het nie. Die “manlike” beskouing van “oordeel sonder liefde” word veral deur resente feministiese teoloë afgewys (Loades 1997:393).

In hierdie beskouing word die versoening nie deur die plaasvervangende lyding van Jesus Christus bewerk nie. Die geloof in die Here Jesus as die Een in ons plek word ook afgewys. Die mens moet hom of haar stel aan die kant van die lydendes in die wêreld, teen die teenwoordigheid van die kwaad, waarteenoor God self ook onmagtig is.

Loubser (2000:312 ev) toon aan dat, ook vanuit die denkrigting van die postmodernisme, die hele saak van versoening tans opnuut gedefinieer word sodat veral Paulus se hele teologie herinterpreteer word.

2.2. Ontwikkelings in die nadenke oor versoening

2.2.1. Katallassein in die lig van Hellenistiese interpretasie

Wat betref die gedagte van die versoening, toon Cilliers Breytenbach aan dat versoening (katallage), veral in 2 Korintiërs 5:11- 21, daarop dui dat diplomatieke bemiddeling eerder as bemiddeling deur ’n plaasvervangende offer plaasvind. Waarop Paulus dus volgens Breytenbach dui, is dat Jesus Christus in hierdie werklikheid van die kwaad tot ’n diplomatieke bemiddeling oorgegaan het om ’n bepaalde versoening te bewerk, maar dan nie in die sin van ’n plaasvervangende offer nie. Dit is veel eerder ’n versoening waarin Jesus Christus Hom as ‘t ware teenoor die kwaad stel.

Breytenbach (1989:34) stel die vraag of die plaasvervanging en versoening, as die offer waarna Paulus volgens Peter Stuhlmacher, Ian Howard Marshall en Ulrich Wilckens verwys, wel as ’n plaasvervangende, versoeningbewerkende offerdood geïnterpreteer moet word. Moet ander kultiese begrippe van plaasvervanging wat eerder op verteenwoordiging dui nie in ag geneem word nie? Hy gaan dan van die standpunt uit dat hierdie vraag alleen beantwoord kan word met volledige verwysing na Paulus se verstaan van versoening in Romeine en 2 Korintiërs en ook na die bespreking daarvan in die “religionsgeschichte” waarin Paulus die herkoms van versoening vind. Die begrippe katallassein en ilaskesthai moet ook ondersoek en Paulus se eie aanwending daarvan bepaal word om aan te toon watter versoening en vergifnis hier ter sprake is.

Wanneer Breytenbach sy standpunt formuleer, wil hy veral twee sake sterk onder die loep neem (1989:34): “Erst dann kann man die Frage nach der traditionsgeschichtlichen Herkunft und dem möglichen Zusammenhang aufwerfen und schliesslich auf die Fragen antworten, ob (a) Versöhnung für Paulus im Tode Jesu begründed ist, und (b), ob dieser Tod ein Sühnopfertod ist, der von kultischen Denkvoraussetszungen her zu begreifen ist, oder ob Jesu Tod nach paulisnischem Verstandnis ein stellvertretender Tod ist, dessen Interpretation ohne die Voraussetzung der alttestamentlichen kultischen Sühnetradition möglich ist.”

Breytenbach kom tot die gevolgtrekking dat die versoening waarvan in Paulus se egte briewe sprake is niks te doen het met die Hebreeuse begrip KPR en niks met ’n offer nie. Die plaasvervangende element wil hy behou, maar hy plaas dit in ’n Hellenistiese raam met verteenwoordiging as beslissende saak. Kim (1997:361-362) toon aan dat Breytenbach enige moontlikheid afwys dat Paulus die Joods-Hellenistiese gebruik van versoening (katallassein), soos dit in 2 Makkabeërs voorkom, in gedagte gehad het. Hy (1997:362) wys daarop dat Breytenbach slegs die profaan-Hellenistiese agtergrond veronderstel. Verster (1989:23) toon egter aan dat Paulus verskeie verwysings na Moses en die Joodse wêreld maak. Ook Kim (1997:362) is van oortuiging (in navolging van P Stuhlmacher) dat dit hoogs onwaarskynlik is dat die Joods-Hellenistiese agtergrond (vgl Philo en Josephus) nie ’n rol speel nie. Daarteenoor meen Maccoby (1991:63) dat Paulus se standpunt dat Jesus, as pre-eksistente hemelse wese, op aarde ’n verlossingsrol kom speel het totaal vreemd aan die Joodse agtergrond is. Dit is egter onmoontlik om nie te bevestig dat Paulus wel by die Joodse wêreld, byvoorbeeld Jesaja 53, aansluit nie, alhoewel hy dit diepgaande vernuwe.

Breytenbach se gevolgtrekking is dat die dood van Christus wel verteenwoordigend is, “Ergmöglichungsgrund”, maar dat dit nie as kultiese offer verstaan moet word nie. Kim (1997:362, 368, 380-381) is van mening dat Paulus sowel die Joods-Hellenistiese as die profaan-Hellenistiese gebruik veronderstel en dit vernuwe om die volle betekenis van plaasvervanging na vore te bring.

By Breytenbach sou ’n mens weer kon praat van versoening in die sin van Jesus as die Persoon wat Hom teen die teenwoordigheid van die kwaad in die werklikheid stel en dat versoening deur vereenselwiging met die daad van Christus self bewerk word.

2.2.2. Plaasvervanging gehandhaaf

Fitzmyer (1993:122) stel dit duidelik dat Paulus die verlossing en versoening nie alleen sola gratia beskou nie, maar ook solo Christus en sola fide. Die versoening word deur hom ook teen die agtergrond van die Hellenistiese wêreld ontleed, maar sterk klem word gelê op die plaasvervangende element. Alhoewel hy ook die idee van Christus se dood as offer bevraagteken (1993:122), staan hy tog sterk op die gedagte dat die versoening plaasvervangend is. Hy stel dit duidelik dat Paulus verskeie Joodse en Hellenistiese beelde gebruik om uiteindelik aan te dui dat die Christusgebeure versoening en verlossing beteken: “He makes it clear that these effects stem from ‘the love of Christ’ (8:35), and as a result there is now ’no condemnation for those who are in Christ Jesus’ (8:1), for it has all been achieved through ‘one act of uprightness’ (dikaioma, 5:18)” (Fitzmyer 1993:124).

In die Paulus-navorsing van Brown (1997:576-583) bevestig hy ook dat daar by Paulus inderdaad besonder sterk klem op plaasvervanging gelê word. Brown (1997:577) stel dit soos volg: “Since God acquitted people in judgement, they were now justified. This acquitting took place not because people were innocent but because, although they were sinners, the truly innocent Jesus was himself made sin for the sake of others (II Cor 5:21). By an act of love Christ died for sinners (Rom 5:8).”

2.2.3. Versoening as die saak van geregtigheid

’n Verdere ontwikkeling word deur Dunn (1998) na vore gebring in sy breedvoerige bespreking van die versoening in die teologie van Paulus. Dunn (1998:212-228) verskil van Breytenbach daarin dat hy wel van mening is dat Paulus die dood van Jesus Christus as offer beskou. Hy toon aan dat Paulus ’n eie interpretasie aan die offer gee, maar dat hy dit beslis as ’n saak beskou waarin die sondelose die sonde van ander wegneem. Dunn meen Paulus beskou Jesus se dood as “atoning sacrifice”. Hy (1998:223) stel dit soos volg: “This was the good news of Paul’s gospel: those who identified with Christ in his death were saved from dying their own death as the outcome of their subservience to sin. By identifying with Christ in his death, the death they could experience was his death. Death was still inescapable (2 Cor 5:14), but by virtue of their suffering in his death neither sin nor death would have the last word.”

Dunn (1998:223) is egter van mening dat die dood van Jesus nie plaasvervangend is nie. “It is rather that Christ’s sharing their death makes it possible for them to share his death.” Hy wys daarop dat Luther inderdaad, volgens hom, die kern van die versoening verkeerd verstaan het. Jesus het, volgens Dunn, nie gekom om plaasvervangend in die plek van die sondaar te sterf en so versoening te bewerk nie, maar veel eerder om ’n saak van geregtigheid in die deelname van sy dood voor te staan; om die saak van geregtigheid in die wêreld en onder die aandag van mense in die wêreld te bring. Die saak van geregtigheid kan derhalwe alleen maar gedien word wanneer begryp word dat Jesus Christus die Persoon is wat die geregtigheid dien.

Die versoening lê dus nie soseer in die plaasvervangende optrede nie, maar in die feit dat Jesus Hom deur sy dood teen die onreg in die wêreld gestel het. Waar die wet hierdie onreg bevestig, stel Paulus hom daarteen. Volgens Dunn is dit juis die kern van sy argument teen die wet. Hy (1998:386) verduidelik soos volg: “The charge of legal fiction also breaks down before our earlier finding that God’s sentence of death on sin is carried through in the death of Christ. Were Paul’s doctrine of atonement one of substitution (Jesus died and the sinners went scot-free) that would be more open to such a charge. But as we saw, Paul’s teaching is of Christ’s death as a representative death, the death of all, of sinful flesh. His gospel is not that the trusting sinners escape death, but rather that they share in Christ’s death. The cancer of sin in the human body is destroyed in the destruction of the cancerous flesh. This is a feature of the ongoing process of salvation to which we shall have to return.”

Dit is dus duidelik dat Dunn die klem by Jesus se dood op verteenwoordiging en nie op plaasvervanging lê nie. Dit is egter nie bloot die verteenwoordiging van iemand wat die pad aandui nie, maar wel van die een wat met sy dood die dood van ander opneem en so die ander verteenwoordig in ’n nuwe lewe wat met God begin word.

2.2.4. Versoening in diens van die “Jesus Sache”

Die “Jesus-seminar” betwyfel uit die aard van die saak die dogmatiese aspekte van Jesus se optrede en sake soos die maagdelike ontvangenis, opstanding en hemelvaart. Ook die plaasvervangende lyding en sterwe van Jesus word bevraagteken en ontken. Die historiese metode word aangewend en daaruit word afgelei dat die weergawe van sy dood van die interpretasie van die tyd omgewe is. Crossan (2002:1-15) is oortuig dat die vroeë Joodse gemeenskap inderdaad onder die begrip “opstanding” liggaamlike opstanding verstaan het. Hulle sou dus onder Jesus se liggaamlike opstanding verstaan het dat Hy die eerste van die opstanding van die regverdiges is. Dit is volgens hom ook die bedoeling van die weergawes van die Jesus-geskiedenis. Volgens hom moet dit egter verstaan word teen die agtergrond van die tyd waarin Jesus opgetree het. Berigte van wondere was algemeen, so ook opstanding uit die dood. Die weergawes van Jesus se verhaal word derhalwe juis gebruik om te probeer aantoon dat Hy die eerste was wat opgestaan het. Vir Crossan is Jesus se opstanding egter bloot metafoor en moet dit in diens van die sogenaamde Jesus-saak beoordeel word.

Hoe sou Paulus nou dié saak voordra? Crossan (2002:12-13) gee sy weergawe soos volg: Paulus sou vir mense wat hy teëkom, sê dat hulle moet kom kyk hoe hulle as Christene die versoening beleef: “And whenever one of you turns from Ceasar, who crucified Jesus, to God who raised Jesus, you participate in this justification of the world. It is a choice between the divine Ceasar and the divine Jesus. Come to the sardine-seller’s shop the day after tomorrow to see and decide for yourself. Come and see how we live and then you can choose to join us or to depart in peace.”

Binne die kringe van die “Jesus-seminar” is die dood en opstanding dus nie plaasvervangend en heilbrengend nie, maar dra dit die boodskap van die sogenaamde Jesus-saak, naamlik die saak van liefde en geregtigheid. Crossan is selfs van mening dat Paulus se interpretasie dat die geloof in die opstanding van Jesus essensieel is ’n fout en bloot ’n bepaalde interpretasie is (Van Wyk & Van Aarde 2000a:804).

Van Aarde, ’n medewerker ten opsigte van die “Jesus-seminar”, is van mening dat Paulus ’n teologiese konstrukt van deelname in die opgestane Jesus ontwikkel (Van Wyk & Van Aarde 2000b:826). ’n Veranderde visie is volgens hom sentraal in die Paulus-teologie. Dit sluit aan by die gedagte dat deelname aan die Jesus-saak en nie aanvaarding van Jesus as “die versoening” nie die heil bewerk (Van Wyk & Van Aarde 2000b: 827).

3. INTERPRETASIE

Hoe moet hieroor geoordeel word? Dit is inderdaad so dat met groot erns nuut na verskillende aspekte van die versoeningsleer, soos in Romeine en 2 Korintiërs 5:11-21 uitgewerk, en die missiologiese implikasies daarvan in die moderne tyd gekyk moet word.

3.1. Die oorsprong van die kwaad

3.1.1. Die kwaad en die skepping

3.1.1.1 Bedreiging by die skepping

Die eerste vraag wat op die tafel lê, is dié na die teenwoordigheid van die kwaad. Is die kwaad in die werklikheid ingeskape? Is dit deel van die werklikheid van die begin van die skepping af? Is die werklikheid deel van ’n gebroke heelal? Kan die goeie nie sonder die kwaad bestaan nie? Dit sou beteken dat Christus, as verteenwoordiger van dié wat geregtigheid soek - die een wat teen die universele kwaad stry - die weg van die ewige stryd teen die kwaad aandui.

In hierdie verband kan verwys word na Barth (1957:112 ev) wat redeneer dat die THW/BH in die skeppingsverhaal (Gen 1) dui op ’n stryd wat reeds tydens die skepping gewoed het, ’n werklikheid teenoor die skepping. Hierdie bedreiging is deel van die werklikheid. God gaan volgens Barth aan hierdie bedreiging verby. Dit is nie ’n bedreiging vir Hom nie. Sy skeppingsdaad is ’n daad daarteenoor, omdat Hy God is.

Hierteenoor sou ’n mens in ’n gesprek met Barth kon vra of die uitdruklike kern van die skeppingsverhaal nie is dat God telkemale sien dat dit wat Hy geskape het, goed is nie. Daar is wel ontwikkeling in die skepping. Terwyl God skep, is alles nie meteens klaar afgehandel nie. Daar is gang in die skepping. Wanneer die Gees van God oor die waters sweef, is dit so dat dit ongevormd en onaf is. Maar die skepping is uiteindelik tog die volkome goeie skepping van God. As die ingeskape kwaad wesenlik deel van die skepping is en die goeie nie daarsonder kan bestaan nie, wat is dan die aard van die skepping? Dan is die skepping self essensieel verwerplik. God is immers nie onmagtig nie en skep ook nie as onmagtige die kwaad in sy skepping in nie. Die argument wat aangevoer word, naamlik dat dit is hoe die skepping lyk, kan ook omgedraai word. Daar kan gesê word dat ons die skepping nie anders ken as vanuit ’n na-sondeval-werklikheid nie. Hierdie werklikheid waarin ons bestaan, is ’n in-sonde-gevalle-werklikheid. Ons kan nie anders daarna kyk as vanuit hierdie perspektief nie. Ons kan ons nie indink hoe dit sou wees sonder die sonde en die werklikheid van die sondeval nie. Daar moet onmiddellik erken word dat dit ’n besonder ingewikkelde vraagstuk is. Sou die mens enigsins ’n vrye wese kon wees in ’n volkome goed geskape werklikheid? En as die mens vryheid van keuse gehad het, is die boom van goed en kwaad dan nie tog in hierdie goedgeskape werklikheid ’n aanduiding van iets wat on-af en onafgerond is nie? Is die keusevryheid van die mens dan inderdaad die beginsel van vryheid of is dit deel van die onvoltooidheid van die skepping waarin ons bestaan? Wat wel duidelik is, is dat God sy skepping as goed beskou. Dit dui op ’n staat van harmonie voor God. Daar vind egter duidelik versteuring plaas. Hierdie versteuring sou as “val” beskryf kon word - die harmonie word versteur.

Ander interpretasies kom ook voor.

3.1.1.2 Akkommodering van chaos

Samuel Marx (1995:226) is van mening dat God reeds in die skepping die chaos akkommodeer. Die spanning tussen orde en wanorde is inderdaad volgens Marx (1995:226) nie vir God problematies nie. Ons weet immers dat daar geen dualistiese mag naas God bestaan nie. Marx (1995:233) breek met die antitese tussen chaos en orde. Die spanning wat wel bestaan, het ’n kontinue karakter. Hoe word die sonde beskou? Marx (1995:234) verduidelik: “Die tuin verteenwoordig die bestaansmodus onder die volle seën van God, maar dit behels steeds verantwoordelikheid en vra om bewaar te word. Die mens kon - en hét - deur sy afwyking van die ordereël van God die volle seën van God, of te wel die volkome gemeenskap met God (tuintoestand), verbeur.” Marx is dus ook krities teenoor die idee van die sondeval. Hy (1995:234) verduidelik: “Sonde het na aanleiding van orde-wanorde-spanning die betekenis van ’n afwyking van die ordereël van God.”

Dit is belangrik om die tuinverhaal deeglik te oorweeg in die lig van die agtergrond en die totale betekenis daarvan en om dan tot ’n gevolgtrekking te kom oor orde-chaos en die gebod van God en oortreding. Dit is egter duidelik dat die implikasie van sonde nie weg te redeneer is nie in die sin dat dit ten diepste ’n radikale versteuring in die verhouding met God is. In dié sin kan dit as niks anders as sondeval beskou word nie.

3.1.1.3 Die val as keuse in die gang van ontwikkeling

Barret (2000:156), wat die verhouding tussen wetenskap, natuur en die teologie bespreek, toon wel aan dat daar tog in die ontwikkeling van die mens in die werklikheid ’n duidelike nuwe beskouing gekom het wat as ’n sondeval beskou kan word: “Perhaps a struggle developed within the hominid psyche between response to God and the assertion of independence - a succumbing to the temptation to assert human autonomy over creaturely dependence.” Daar is dus volgens hom wel die element van keuse by die mens, ’n keuse teen die goeie van God en vir die kwaad. Hierdie beskouing bied interessante perspektiewe. Die wyse waarop God se goeie skepping aan die verwording onderworpe is, moet egter nog in dié beskouing uitgewerk word.

3.2. Jesus en die kwaad

Dit is belangrik vir die verdere bespreking rondom die vraag na die versoening of Jesus inderdaad die verkeerde keuse van die mens kom ophef het. Op watter manier het Hy dit kom doen? Stuhlmacher (1981:134-135) beskou Romeine 3:24-26 inderdaad as die Christologiese grond van die regverdiging en versoening. As na die verwysing in Romeine 5, (die eerste en die tweede Adam) gekyk word, wil dit tog lyk of daar ’n sterk saak daarvoor uitgemaak kan word dat Jesus, deur sy gehoorsaamheid as tweede Adam, die heil en verlossing bring. Hy is dus dié plaasvervangende Persoon, wat die kwaad wat deur Adam gekom het deur sy gehoorsaamheid wegneem. Schenker (1981:127, 143) toon aangrypend aan dat die verband met die Ou Testament juis aantoon dat Jesus tot die grootste denkbare liefdesdiens aan die mens bereid was.

Daar sal gevra moet word of dit plaasvervanging van die sondaar in sy sonde is om hom of haar vry te koop en of dit verteenwoordiging van die mens in sonde is om ’n nuwe pad te loop. Is hier nie ’n diepgaande saak aan die orde waar Christus in sy versoening die volledige genade en absolute heil van God aan ons bekend stel, waarin Hy inderdaad vir baie sterf nie? Dit is vir die sending van die allergrootste belang. As daar ten opsigte van die sending erken moet word dat Jesus inderdaad net ’n stem teen die kwaad was wat mense oproep om self ook teen die kwaad te stry, kan daar goedskiks geargumenteer word dat alle godsdienstige persone medewerkers in die stryd teen die kwaad is en dat almal so heil verwerf.

In die lig van 2 Korintiërs 5 en verdere gedeeltes is dit egter van besondere betekenis dat Jesus Christus nie maar net ’n voorbeeldige persoon was nie, maar die plaasvervangende Persoon. Die gedagte van plaasvervanging, van een vir ander, die een in die plek van die ander, die sondelose in die plek van die sondaar, kan nie misken word nie. Dunn is dus nie konsekwent wanneer hy die volle konsekwensies van sy beskouing dat Jesus se dood wel as offer beskou moet word, deurtrek nie. Crossan moet na ’n selfontwerpte “metafoor” gryp om sy eie gevolgtrekking dat Jesus se opstanding uit die dood ’n werklike liggaamlike opstanding en sy dood dus heilbrengend is te weerlê. In dié sin moet ons dus bevestig dat die versoeningsleer vir die kerk van besondere betekenis is en dat die verlossing in Christus om dié rede ’n baie sterk missiologiese rol speel.

Ons is op die breeklyn:

Óf Jesus was die moontlikheid van versoening, skep die moontlike pad tot versoening, en is net die plaasvervanger in dié sin van die een wat die weg aandui, maar wat ook nagevolg moet word om die versoening te verkry. Hiervolgens het Hy die sogenaamde Jesus-saak kom voordra en is dit nie ter sake of belangrik of Hy God is wat mens geword het nie. Navolging staan dan sentraal.

Óf Hy is versoening - die Een wat as ewige Seun van God, plaasvervangend Homself vir ander prysgee en so totale vernuwing meebring; in mense as nuwe mense, maar ook in die gemeenskap deur die nuwe tyd wat in die wêreld aanbreek.

4. JESUS IS ONS VERSOENING

Op grond van die navorsing word die volgende keuse gemaak: Jesus is ons versoening.

Argumente ter bevestiging hiervan is die volgende: Alhoewel Paulus hom van die terminologie van sy tyd, ook die offerterminologie (teen Breytenbach), moet bedien, word die saak van die plaasvervangende lyding juis daardeur versterk en bevestig. Hy het fisiek gesterf. Hy het fisiek gely. Hy het fisiek opgestaan. Dit was die belydenis van die kerk. Dit was waarom die kerk kragtig gegroei het (teen Crossan). Dit het natuurlik dinamiese implikasies vir die vernuwing van die wêreld.

Hoe kommunikeer Paulus dié saak in Romeine en 2 Korintiërs? In die lig van die oorredingsteorie1 van Grice (1989:26) word dit duidelik hoe Paulus die gespreksvoorwaardes oortree om die saak van die plaasvervanging en versoening deur Jesus Christus te beklemtoon. Wat vir die Jode teenstrydig en onaanvaarbaar sou wees, bevestig Paulus. God self voorsien sy ewige Seun in die plek van die sondaars. Dit is nie aanvaarbaar vir die Joodse oortuiging nie, en daarin oortree Paulus die gespreksvoorwaardes sodat dit duidelik kan wees dat Jesus die Here is wat, as Seun van God, Homself in die plek van sondaars prysgee (vgl ook Verster 1999:13-22).

Kim (1997:381 ev) bevestig dat die Damaskus-ervaring Paulus se begrip van die versoening bepaal. Hy is van mening dat Paulus homself teen sy teenstanders verdedig met verwysing na die Damaskus-ervaring. Daar het hy immers self die versoening met God beleef. Hy was ’n vyand van God, maar God het hom met Homself versoen. Kim (1997:383) wys daarop dat Paulus juis so die plaasvervanging bevestig: “In any case, he developed it out of his theological reflection on his personal experience on the Damascus road. In our judgement, it is this supposition rather than anything else that can explain convincingly the fundamental innovation he wrought in the Jewish idea of reconciliation: it is not human beings who reconcile an angry God to themselves through their prayer, repentance or good works; but rather it is God who has reconciled human beings to himself and still brings them to reconciliation to himself through the atoning death of Jesus Christ. For on the Damascus road Paul himself experienced God’s reconciling him, a hostile enemy, to himself, forgiving his sins and making him a new creature by his grace.”

Daar kan beslis by hierdie gedagte aangesluit word. Die saak van plaasvervanging in die Ou Testament, byvoorbeeld Jesaja 53, ensovoorts, verdien egter ook aandag. Wenham (1995:152) maak ’n sterk saak daarvoor uit dat Paulus Jesus se dood as vervulling beskou: “If this plausible suggestion is right, then Paul saw the death of Jesus not only as new Passover bringing redemption to the people of God as well as to individuals enslaved in sin, but also as the fulfillment of the day of atonement. He sees Jesus’ death, in any case, as an atoning sacrifice for sin, probably as a sacrifice effecting ‘propitiation’ and taking away the judgement of God.”

• Plaasvervanging staan sentraal:

• In Romeine 5 bevestig Paulus dat Jesus die volledige heil verwerf.

• In Romeine 6 word die doop as ‘sterf’ met Jesus geïnterpreteer omdat Hy reeds gesterf het en omdat dié wat sterwe met Hom sterwe.

• In 2 Korintiërs 5:11-21 staan die plaasvervanging voorop en nie die verteenwoordiging nie: “Laat julle met God versoen” en “Hy wat geen sonde geken het nie ... ”

Die korporatiewe terme by Paulus bevestig juis die plaasvervanging. Vergelyk maar die talle verwysings na met/in Christus, tweede Adam, ensovoorts (vgl Roetzel 1999:100-104).

Watter argumente kan nou aangevoer word om aan te toon dat die plaasvervanging nie op ’n misverstaan van die sonde en ook nie op ’n gewelddadige God dui nie?

• Die sonde spruit uit ’n wanverhouding met God.

• Hierdie wanverhouding is die gevolg van die sondeval en ’n voortdurende keuse vir die sonde.

• God self gaan intertrinitaries (Verster 1989:48-54) oor tot volle versoening daarin dat Hy self in Jesus Christus Hom oorgee in die dood as plaasvervanger van die mens. Daarin is geen sprake van God wat gewelddadig optree nie. Die teendeel is wel waar: God self voorsien intertrinitaries.

• Christus is die Middelaar (Verster 1989:55-63) wat die mens met God versoen in sy totale plaasvervangende oorgawe om die sonde weg te neem.

5. IMPLIKASIES VIR SENDING

Wat is die betekenis vir die sending?

Indien die versoening in Jesus Christus in die lig van voorbeeld en verteenwoordiging beskou word, het dit die implikasie dat sending baie sterk klem op blote humanisering sal lê, dus ook op die missio humanitatis (Thangaraj 1999:54). Sending sal dan kwalik meer kan doen as om mense op te roep om die voorbeeld van Jesus te volg. Hy sou as dié goeie mens voorgehou kan word en mense sou opgeroep kon word om in navolging van Jesus die goeie te soek en ook te bevorder. In dié geval sou sake soos versoening, soos bevorder deur die Waarheids- en Versoeningskommissie in Suid-Afrika, die hoofklem dra (vgl Vorster 1997:4 se verwysing daarna). Die versoening in Christus sou ook as toevallig beskou kon word en Boeddha of Mohammed sou eweseer die voorbeeldige mens kon wees.

Indien Jesus Christus ons versoening is, word Hy verkondig as die Een wat versoening bring, wat mense in ’n totale nuwe verhouding met God plaas ten spyte van die totaal versteurde verhouding. Daar is dus inderdaad iemand wat in ons plek wil staan. Hy is ons geregtigheid (vgl Vorster 1997:9-11). Jesus Christus is dan die Een vir ander wat die nuwe verhouding moontlik maak. Dit is die implikasie van Paulus se talle verwysings na die plaasvervanging (vgl vir my bewysvoering Dunn 1998:222). Sending beteken dan om die heil wat in Christus, as die een vir ander, sentreer aan die hele wêreld te bring. Dit bring hoop op die mees eksistensiële vlak van ons bestaan omdat daar Een is wat in ons plek kom staan.

BIBLIOGRAFIE

Barth, K 1957. Die Kirchliche Dogmatik 111/1 (Dritte Auflage). Zollikon/Zürich: EVZ.

Breytenbach, C 1989. Versöhnung: eine Studie zur paulinischen Soteriologie. Neukirchen-Vluyn: Neukirchener.

Calvyn, J 1559. Institusie. 11.16.6. (Vertaal deur dr ASizoo 1956. Eerste deel bevattende boek 1 en 11). Delft: Meinema.

Grice, H P 1989. Studies in the way of words. Cambridge: Harvard University Press.

Crossan, J D 2002. The resurrection of Jesus in its Jewish context. Lecture NTWSA, 1-15.

Dunn, J D G 1998. The theology of Paul the Apostle. Edinburgh: T & T Clark.

Fitzmyer, J A 1993. Romans: a new translation with introduction and commentary (The Anchor Bible). New York: Doubleday.

Kim, S 1997. 2 Cor 5:11-21 and the origin of Paul’s concept of reconciliation. Novum Testamentum 39:360-384.

Loades, A 1997. Feminist theology, in Ford, D F. The modern theologians. Cambridge: Blackwell, 575-584.

Loubser, J A (Bobby) 2000. Will “Pauline theology” survive postmodern hermeneutics? Ned Geref Teologiese Tydskrif 41(3, 4):305-321.

Maccoby, H 1991. Paul and Hellenism. Londen: SCM.

Marx, S 1995. ’n Struktuur-analities-eksegetiese ondersoek na die spanning tussen orde en wanorde in Genesis 2 en 3. Ongepubliseerde DTh-tesis. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat.

Roetzel, C 1999. Paul: the man and the myth. Edingburgh: T & T Clark.

Schenker, A 1981. Versöhnung und Sühne: Wege gewaltfreier Konfliktlösung im Alten Testament mit einem Ausblick auf das Neue Testament. Freiburg (Schweiz): Schweizerisches Katolisches Bibelwerk.

Sölle, D 1982. Stellvertretung: ein Kapitel Theologie nach “Tode Gottes”. Stuttgart: Kreuz.

Stuhlmacher, P 1981. Versöhnung, Gesetz und Geregtigkeit: Aufsatze zur biblischen Theologie. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Thangaraj, M T 1999. The common task. A theology of Christian mission. Nashville: Abingdon.

Van Genderen, J & Velema, W H 1992. Beknopte gereformeerde dogmatiek. Kampen: Kok.

Van Wyk, D J C & Van Aarde, A 2000a. Twee versoenbare konstrukte in resente historiese Jesus-navorsing, deel 1: John Dominic Crossan. Hervormde Teologiese Studies 56(2, 3):814-835.

Van Wyk, D J C & Van Aarde, A 2000b. Twee versoenbare konstrukte in resente historiese Jesus-navorsing, deel 11: Andries van Aarde. Hervormde Teologiese Studies 56(2, 3):814-835.

Verkuyl, J 1992. De kern van het christelijk geloof. Kampen: Kok.

Verster, P 1989. Die “bediening van die versoening” onder revolusionêre omstandighede. Ongepubliseerde DD-verhandeling. Pretoria: Universiteit van Pretoria. Verster, P 1999. Nie-egte vrae in die Romeinebrief: ’n taalhandelingsperspektief. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat.

Vorster, J M 1997. ’n Oorsig van die versoeningsleer by Paulus en die implikasies daarvan vir versoening in Suid-Afrika vandag. Ned Geref Teologiese Tydskrif38(1, 2):4-15.

Wenham, D 1995. Paul: follower of Jesus of founder of Christianity? Grand Rapids Mi: Eerdmans.

Wiersinga, H 1971. De verzoening in de theologische diskussie. Kampen: Kok.

1 Die wyse waarop Paulus sy argument opbou, word mooi deur dié teorie bevestig. In Rom 3 oortree hy juis die gespreksvoorwaardes van kwaliteit en kwantiteit deur breedvoerig te beskryf hoe die geloof in Jesus, die Plaasvervanger (v 24), die versoening moontlik maak. Hy oortree ook die gespreksvoorwaarde van wyse deurdat hy die verwagting dat die wet die versoening bewerk, afwys (vgl Rom 3:21; vgl ook Rom 5:10 en Rom 6:10). Selfs hoflikheid as gespreksreël word oortree wanneer Paulus juis die Joodse verwagting (Rom 3:25-26) verbreek. In 2 Kor 5:11-21 word nog duideliker bevestig dat Jesus Christus die Plaasvervanger is daarin dat Hy Homself, as Seun van God, in die plek van die sondaar stel; ’n ondenkbare gedagte vir die rigting in die Judaïsme wat die wet as uitgangspunt geneem het. Die argument dat die hermeneutiese oorweging van die teks ’n totaal ander interpretasie moontlik maak, hou nie rekening met die feit dat die interpretasie van Paulus die versoening in Christus deur God as God se weg tot heil bevestig nie.