Nagmaalviering in die NG Kerk - tussen tradisie en vernuwing. Deel 2
ABSTRACT
The celebration of the Lord’s Supper in the Dutch Reformed Church - between tradition and renewal. Part 2
In this article, part 2 of our series, the historical survey of the celebration of the Lord’s Supper in the Reformed tradition is continued. Where the previous article focussed on Europe, especially Calvin and the Netherlands, this article focuses on South Africa and the Reformed world. Firstly the celebration of the Lord’s Supper in the history of the Dutch Reformed Church in South Africa is described. Secondly the influence of the Liturgical Movement as well as the World Council of Churches’ Faith and Order text, Baptism, Eucharist and Ministry, on the celebration of the Lord’s Supper is examined. A third part explores the practices surrounding the Lord’s Supper in the larger Reformed world, specifically in relation to frequency, forms, acts, preparation, ministers and three examples of how the sacrament is currently being celebrated in other Reformed churches. Finally the possibility of the implementation of new ways for celebrating the Lord’s Supper within the liturgy of the Dutch Reformed Church is explored. In Part 3 of our series on the Lord’s Supper, we will, building on the first two parts of our series, give practical theological criticism of and suggestions for the current situation regarding the celebration of the Lord’s Supper in the Dutch Reformed Church.
1. INLEIDING
In hierdie artikel word die historiese oorsig met betrekking tot die viering van die nagmaal in die gereformeerde tradisie hervat. In deel 1 van ons reeks van drie artikels is gefokus op die wyse waarop die nagmaal in Europa gevier is, veral op Calvyn se liturgie en verdere ontwikkelings in Nederland. In hierdie tweede deel van die reeks word die historiese oorsig voortgesit, maar dan eerstens soos die nagmaal in die geskiedenis van die NG Kerk in Suid-Afrika gevier is. Vervolgens word die invloed wat die Liturgiese Beweging en die “Faith and Order”-kommissie van die Wêreldraad van Kerke se teks Baptism, Eucharist and Ministry op die viering van die nagmaal gehad het, belig. ’n Derde afdeling verken die gebruike rondom die nagmaal in die breër gereformeerde wêreld, spesifiek ten opsigte van frekwensie, formuliere, handelinge, voorbereiding, bedienaars en drie voorbeelde van hoe die nagmaal vandag in ander gereformeerde kerke gevier word. Ten slotte word die een en ander met betrekking tot die toepasbaarheid van nuwere gebruike in die nagmaalliturgie van die NG Kerk gesê. In die derde deel van ons reeks oor die viering van die nagmaal in die gereformeerde tradisie sal die prakties-teologiese konsekwensies van hierdie inligting deurgetrek word na die liturgiese praxis van die NG Kerk.
2. DIE NAGMAAL IN SUID-AFRIKA
In 1652 is die kerklike patroon van Nederland na Suid-Afrika oorgeplant. Die vorm van die erediens soos dit beslag gekry het by die Sinode van Dordrecht in 1618/1619, en veral uit die pen van Datheen, is ook aan die Kaap gebruik. Op eie bodem was daar maar min ontwikkeling wat die erediens betref en die gewone patroon het gewoon voortbestaan (Barnard 1981:377-379).1 Die Sinode van 1890 het besluit dat dit elke gemeente vry staan om die nagmaal te bedien op ’n eie wyse, mits die uitwendige seremonies soos voorgeskryf is in die Woord nie verander nie en bygeloof vermy word. Hierdie besluit was na aanleiding van ’n lang twis vanweë ’n nuwigheid (gereformeerd?) wat die eerste keer in Riversdal kop uitgesteek het.
Volgens Barnard is die nagmaal in die NG Kerk na alle waarskynlikheid vanaf die begin sittende om ’n tafel gevier. “Op 8 Jan 1888 het ds J R Albertyn te Riversdal vir die eerste keer die tafel uitgebrei na die banke deur lakens daarop te plaas. Die brood en die wyn is dan deur die diakens na die lidmate gedra” (Barnard 1981:380; sien ook Van der Watt 1987:333).2 Die rede vir hierdie skuif was gewoon omdat die ruimte voor die preekstoel so beperk was dat die kerkraad genoodsaak was om die nagmaal in die konsistorie te bedien. Hierdie gebruik om nagmaal in die konsistorie te bedien het egter onstigtelikheid veroorsaak in die liturgie. Daar het ook na aanleiding van hierdie nuwe gebruik van sittende nagmaal ’n twisgesprek ontstaan tussen die Kaapse predikant dr J J Kotze, wat dit as ’n on-gereformeerde nuwigheid gesien het, en die kweekskool-professor, dr J I Marias, wat dit as gereformeerd verdedig het (Van der Watt 1987:333).
Dertig jaar na ds Albertyn se proefneming, nadat gemeentes op die gevaar van die aansteeklikheid van griep via die gemeenskaplike bekers gewys is, het dr W M Nicol en sy kerkraad in 1918 in Johannesburg-Oos ’n servies met kelkies by ’n ander kerk geleen om daarmee te eksperimenteer. Die eksperiment was so suksesvol dat daar besluit is om daarmee voort te gaan (Van der Watt 1987:333).3 Sowel die gebruik van kelkies as om sittend nagmaal te vier in die banke het wyd ingang gevind in die NG Kerk en is tot vandag feitlik deurgaans die algemene gebruik.
Die vryheid ten opsigte van wyse van nagmaalviering, wat vanaf Calvyn soos ’n goue draad deur die geskiedenis van die liturgie van die gereformeerde kerk loop, kon egter nie Anton Baumstark4 se universele wette/tendense met betrekking tot die ontwikkeling van rituele vryspring nie. So byvoorbeeld is daar ’n duidelike ontwikkeling vanaf pluriformiteit in die wyse van viering na uniformiteit en nou weer na pluriformiteit te bespeur. Die wyse van viering is gedurende die eerste drie eeue aan die besluit van die kerkrade oorgelaat. Gedurende die Vergadering van die Raad van Kerke van die NG Kerk in 1953, is gepleit vir uniformiteit ten opsigte van die liturgie en dat die vorme vasgelê moet word (Handelinge 1953:35). Hierdie pleidooi was na aanleiding van die grootskaalse liturgiese pluriformiteit in daardie tyd. Indien jy egter vandag in ’n NG gemeente se nagmaaldiens inloop, kan jy nooit seker wees wat jy te wagte moet wees nie. Daar is dus weer eens liturgiese pluriformiteit na ’n tyd lange poging om uniformiteit te bewerk. Hierdie ontwikkeling sal heel waarskynlik voortgaan sodat daar weer in die afsienbare toekoms gepleit sal word vir uniformiteit ten opsigte van die liturgie, en spesifiek dan ook die nagmaalviering in die NG Kerk.
Al hierdie ontwikkelinge staan uiteraard nie in isolasie ten opsigte van ontwikkelinge rondom die wyse van nagmaalviering in die res van die wêreld nie. Daarom sal die invloed van die Liturgiese Beweging en die Wêreldraad van Kerke (WRK) vervolgens belig word.
3. TERUG NA DIE BRONNE
Een van die slagspreuke van die Liturgiese Beweging van die 19de en 20ste eeu was retour aux sources (terug na die bronne). Die vernaamste bronne waarna teruggegaan is, is die Bybel, die Kerkvaders, die Kerk, die Ekumene, Simbolisme en Kultuur. Al hierdie bronne het nie net ’n invloed uitgeoefen op die vormgewing van die nagmaalviering binne ekumeniese kringe nie, maar ook in die liturgiese vernuwing van bykans al die Westerse kerke in die tweede helfte van die 20ste eeu (Wainwright 1992a:328-338). Een belangrike invloed van die Liturgiese Beweging was op die frekwensie van nagmaalviering by Protestante, wat ’n terugkeer was na ’n sekere verstaan van die kerk. Volgens Wainwright (1992b:558), “the recovery of the Church as a community in which each member has a ministry to fulfil within the body. The liturgical movement has sought to give expression to this truth in the ordering of the worship assembly”.5
In 1982 het die Lima-rapport van die “Commision on Faith and Order” van die WRK verskyn wat handel oor doop, amp en eucharistie. Ten spyte van kritiek6 het Lima beteken dat kerke reg oor die wêreld liturgies nader aan mekaar gegroei en van mekaar se liturgiese tradisies begin kennis neem het. Wat veral belangrik is in hierdie rapport, is dié elemente wat as essensieel gesien word. Vir die nagmaalviering sluit die vernaamste punte in: lof, skuldbelydenis en vryspraak, die verkondiging van Gods Woord, geloofsbelydenis, voorbidding, die gereedmaak van die brood en wyn, danksegging, instellingswoorde, anamnese, epiklese, gebed vir die wederkoms van die Heer, die Ons Vader, vredegroet, teken van versoening en vrede, die breek van die brood, eet en drink, postkommunie en seën (Boendermaker 1998:239). Benewens hierdie hoofpunte noem Lima ook nog vyf hoofelemente vir die struktuur van die nagmaalviering, te wete 1. danksegging aan die Vader; 2. gedagtenis van Christus; 3. aanroeping van die Gees; 4. gemeenskap van die gelowiges, en 5. verwagting van die Koninkryk (Boendermaker 1998:239).
Die invloed van die Liturgiese Beweging het ook die NG Kerk bereik teen die middel van die 20ste eeu. Suid-Afrikaanse teoloë wat hierby betrokke was, was G M Pellissier, H D A du Toit, A C Barnard en B A Müller (Burger 2000:4-5). Hulle geskrifte en bydraes het wyd invloed uitgeoefen en vind vandag steeds weerklank in die werk van liturgiese navorsingsgroepe soos dié van BUVTON. Hier word deeglik kennis geneem van liturgiese ontwikkelinge binne die ekumene en dieselfde beginsel as dié van die Liturgiese Beweging, te wete terug na die bronne, word toegepas in die formasie van nuwe liturgiese voorstelle. Die gevolg hiervan is ’n al sterker wordende besef dat elke erediens in wese ’n diens rondom Skrif en tafel is.
4. DIE BREËR GEREFORMEERDE WÊRELD
Tot dusver is die huidige wyse van nagmaalviering in die NG Kerk in lyn gebring met die tradisie waarin dit gedoen word deur middel van ’n diachronies historiese oorsig. Dit sal haas onmoontlik wees om hierdie praktyk te vergelyk met die breë ekumeniese wêreld. ’n Liturgie compareé ten opsigte van die nagmaal met alleen die gereformeerde familie in die wêreld is alreeds ’n enorme taak. Daarom sal daar nou enkele voorbeelde geselekteer word van hoe en hoe gereeld ander gereformeerde kerke die nagmaal vier. Saam hiermee sal gewys word op die praktiese reëlings wat al deur ander gereformeerde kerke getref is ten einde ’n meer gereelde, maar steeds ordelike, viering te verseker.
4.1. Frekwensie
In hulle boek The Reformed Family worldwide, verken Lukas Vischer en Jean-Jacques Bauswein (1999) die gereformeerde wêreld en dokumenteer onder meer hoe gereeld die verskillende gereformeerde kerke in die wêreld die nagmaal vier. Die eerste opvallende inligting uit hierdie bron is die frekwensie van nagmaalviering by kerke van gereformeerde belydenis in Suid-Afrika. Kerke soos die Presbiteriaanse Kerk, die UCC (United Congregational Church), en die RCA (Reformed Church in Africa) vier die nagmaal maandeliks, teenoor die NG Kerk wat die nagmaal vyf keer per jaar vier. Dit beteken dat die NG Kerk ressorteer onder dié gereformeerdes in Suid-Afrika wat die nagmaal die heel minste vier.
In ’n land soos Frankryk wissel die frekwensie in gereformeerde kerke tussen ’n minimum van maandeliks tot ’n maksimum van weekliks. Ook in Duitsland is die frekwensie met enkele uitsonderings na maandeliks. In Afrika-lande soos Ghana en Angola is die frekwensie van nagmaalviering in gereformeerde kerke deurgaans maandeliks. In die VSA wissel die frekwensie tussen 4 en 52 keer per jaar en in die Verenigde Koninkryk tussen 2 en 52 keer. Die GKN (Gereformeerde Kerken Nederland) vier die nagmaal tussen 6 en 52 keer per jaar. Hierdie stand van sake in Nederland is volgens Immink deur die liturgiese bewuswording van die 19de en 20ste eeu teweeggebring. Die vernuwers het hulle op Calvyn se Straatsburgse liturgie georiënteer; daar was toenemende ekumeniese kontak asook aandag vir die liturgie van die Vroeë Kerk (Immink 1998:255-256). ’n Opname wat Alan Sell in 1986 gedoen het, het ook aangetoon dat daar wêreldwyd ’n toename in frekwensie in nagmaalviering is binne die gereformeerde familie, en nêrens ’n afname nie (Sell 1986:522).7
4.2. Wat dan van die formulier?
Volgens Boendermaker (1998:239) was ’n lang formulier in die konteks van die Reformasie (16de eeu) regverdigbaar, maar roep dit vandag al hoe meer vrae op. Die formulier is tydens die Reformasie gebruik om te verkondig waarom dit regtig gaan in die viering, maar dit is geen rede om dit vandag nog steeds presies so te doen nie (Boendermaker 1998:239). Daar het al bykans vyf honderd jaar kerkgeskiedenis verloop sedert die Reformasie, en die meerderheid lidmate wat vandag in die NG Kerk die nagmaal gebruik se lidmaatskap het nie oorgekom van die Rooms-Katolieke Kerk nie.
Desnieteenstaande is die gereformeerde tradisie, ’n tradisie met groot klem op die suiwere leer, ook ten opsigte van die nagmaal. Daar is egter ook ’n argument uit te maak vir die vanselfsprekendheid van rituele in die liturgie. Volgens Lukken (1980:20-22)8 is lang meegaande verduidelikende formules by ’n ritueel soos die nagmaal juis ’n teken dat die nagmaal sy vanselfsprekendheid verloor het wat dit behoort te hê. En hoe meer gereeld die nagmaal gevier word, hoe vanselfsprekender sal die betekenis van die nagmaal vir nagmaalgangers word, en hoe minder verduideliking sal benodig word.
4.3. En die voorbereiding?
Gedurende ’n onderhoud met lidmate oor die moontlikheid van ’n meer gereelde viering, was een man bekommerd oor hoe die selfondersoek en belydenis ten volle tot sy reg kan kom met ’n weeklikse viering. “Destyds sou iemand wat vassit met sy buurman oor ’n leibeurt doelbewus nie nagmaal gebruik het voordat die probleem tussen die twee partye opgeklaar is nie.” Met so ’n argument kan die nagmaal egter vir presies die teenoorgestelde doel aangewend word as wat die bedoeling daarmee is. Spesifiek dan ook die bedoeling of intensie van die selfondersoek. Calvyn sou so ’n situasie van onmin as ’n sielehongersnood gesien het, waardeur die partye gedring word deur ’n verlange om gevoed te word. So dien die geestelike voedsel van die nagmaal waarmee daardie honger gestil kan word as aanmoediging om te gaan reg maak met jou buurman en die leibeurt uit te sorteer, eerder as wat die leibeurt as rede aangevoer word om die nagmaal te vermy. Om Calvyn self aan te haal: “However, if we have careful regard to the end for which our Lord intended it, we should realize that the use of it ought to be more frequent than many make it. For the more infirmity opresses us, the more frequently we need to have recourse to that which is able and ought to serve to confirm our faith and further us in purity of life. Therefore, the custom ought to be well established in all Churches, of celebrating the Lord’s Supper as frequently as the capasity of the people will allow” (Calvyn 1984:153).
Tradisioneel is daar tydens nagmaal in die NG Kerk ’n aparte voorbereidings- en dankseggingsdiens gehou. Hierdie praktyk wat soveel tyd in beslag geneem het, het nie alleen in die NG Kerk grootliks in onbruik geraak nie, maar in gereformeerde kerke reg oor die wêreld. Saam hiermee sien die meerderheid van gereformeerdes deesdae die nagmaal as ’n integrale deel van die erediens en nie as ’n aparte diens bykomend tot die Woorddiens nie (Sell 1986:525-526). Prakties gesien, kan die momente van voorbereiding, belydenis en danksegging in één erediens opgeneem word. Wanneer die praktyk van ’n weeklikse viering eers gevestig is, sal selfondersoek ’n voortgaande proses word wat nie net vier maal per jaar gedoen word nie.
4.4. Voorbeelde van vierings
Een bron van inligting vir hierdie artikel was e-pos-response op vraelyste van gereformeerde teoloë reg oor die wêreld. So wys prof David Wright daarop dat Presbiteriaanse gemeentes in Skotland wat ’n weeklikse nagmaalviering het, dit gewoonlik in ’n aparte tafeldiens laat geskied. Gewoonlik 8:00 of 9:30 teenoor die hoofdiens om 11:00. Dieselfde reëling word aangetref in die Gereformeerde Kerk van Hongarye, aldus die praktiese teoloog prof Janos Pasztor. Prof Lukas Vischer van Switserland wys daarop dat die logistiek in sy land met betrekking tot die nagmaal van plek tot plek verskil. Lopende en sittende kommunie kom voor en deesdae word die vorming van ’n sirkel waarin mense vir mekaar die elemente aangee al hoe meer gewild.
Een wyse waarop die probleem ten opsigte van ’n té lang viering ondervang word, is deur middel van intinksie. Intinksie is die eeue oue gebruik waarvolgens nagmaalgangers brood neem, dit daarna in die beker doop en dan eet. Sodoende word albei elemente ontvang, iets waarvoor Calvyn hom deurgaans beywer het, teenoor die gewoonte van die Katolieke Kerk om aan die leke slegs die brood te bedien. Sommige voel egter dat intinksie ’n breuk met die tradisie is, dat dit nie is soos Christus dit ingestel het nie, dat baie van die simboliek so verlore gaan en dat Jesus sy verraaier só aangewys het.9 Desnieteenstaande is die gebruik in baie gemeentes ingevoer om die uitdeel en ontvangs van die sakrament te vergemaklik en te bespoedig. Verder is ons huidige gebruik ook in elke geval ’n pars pro toto van die oorspronklike ritueel (Wepener & Müller 2001:491), wat beteken dat intinksie dus alleen ’n pars van ’n pars is.
4.5. Wie mag bedien?
Hierdie vraag is eintlik irrelevant vir die viering in die NG Kerk, aangesien die diakens alreeds help met die uitdeling van die elemente. Ons sien egter dat die ouderlinge ook in die tradisie van die gereformeerde nagmaalviering ingespan is om te help, en dat die diakens by Calvyn se viering vir die mense die beker aangegee het. Hierdie situasie waarin ook kerkraadslede kan help tydens die nagmaal, is anders as wat die praktyk in baie ander kerke is, en ’n pluspunt wat nog verder ingespan kan word om ’n meer gereelde viering moontlik te maak.
Die vraag of ander persone as bevestigde predikante van die NG Kerk die sakrament kan instel, is ’n heel ander vraag wat nie hier aangeroer gaan word nie. Wat wél opmerklik is in groot gemeentes, is dat meer as een predikant, by meer as een tafel, in die tradisie en tot vandag toe nog, die nagmaal bedien. Dit is verder ook opmerklik dat in baie gereformeerde kerke die gewoonte deesdae bestaan dat lidmate vir mekaar die elemente bedien. Hierdie gebruik word gerugsteun deur ’n ryke stuk simboliek wat die simbool van eenheid van die gelowiges as liggaam van Christus, wat een is soos die brood van die nagmaal wat verwys na die liggaam van Christus, mooi na vore bring en benadruk.
4.6. Drie voorbeelde van nagmaalliturgieë
Volgens prof Elsie McKee word die nagmaal maandeliks gevier in die gemeente in die VSA waarvan sy self ’n lidmaat is, maar weekliks (elke Vrydag) by Princeton waar sy ’n professor is. Tydens die nagmaalviering in die Presbiteriaanse gemeente in Princeton vergader die gelowiges rondom die tafel, gewoonlik in twee groepe, die een na die ander. Een hele brood en groot gesamentlike bekers word deur die predikant en ’n ouderling bedien. In afwisseling daarop word die brood en beker deur die predikant aan die eerste persoon bedien, wat dit dan aanstuur, sodat elke persoon sy/haar buurman bedien. Andersins bly die kommunikante soms sit (in ’n groot sirkel) en word die elemente gewoon net onder mekaar verdeel.
’n Tweede voorbeeld kom ook uit Amerika, maar hierdie keer uit die stad Grand Rapids in die staat Michigan, waar die Calvin College en die bekende Church of the Servant (COS) gesetel is. Hier is die nagmaal ook ’n gewone deel van hulle weeklikse aanbidding, aangesien die basiese struktuur van hulle liturgie twee fokuspunte het, te wete Woord en sakrament.10 Tydens die viering word daar vorentoe geloop, ’n sirkel gevorm en die gelowiges deel die elemente vir mekaar uit. Na lang oorweging aan al die bekendste wyses van nagmaalviering (sittend, kniel, lopend) geskenk is, het die volgende motivering die besluit gestaaf, te wete “to come forward (thus to indicate our pledge of fidelity), to stand in a circle (thus to indicate our unity), and to pass the bread and wine to each other (thus to indicate that we minister Christ to each other) (Wolterstorff, p 19).
5. KONKLUSIE
Aan die einde van hierdie artikel staan ons wat die viering van die nagmaal betref op die kruispunt van die gereformeerde tradisie en die Suid-Afrikaans-Gereformeerde en Ekumenies-Gereformeerde konteks. Vanuit die tradisie van die gereformeerde kerke is dit duidelik dat ’n kwartaallikse viering vreemd is aan die ideale van Calvyn, en ’n ongelukkige ontwikkeling wat oor die verloop van heelwat eeue ingesluip het. ’n Kwartaallikse viering is eerder in lyn met Zwingli se inrigting van die erediens. Terselfdertyd blyk daar ’n terughoudendheid te wees by kerkrade en predikante in die NG Kerk om ’n doelbewuste keuse vir ’n weeklikse viering te maak. Dit is egter duidelik dat ’n weeklikse viering eie is aan ons gereformeerde identiteit en tradisie, en leef ons nie meer in die eeu van die Reformasie waarin dit nodig was om ons gereformeerde identiteit te bevestig deur dit af te grens teenoor dié van ander kerke nie.
Volgens Calvyn neem God sy kinders in sy huis op deur die doop, maar hou daarna aan om hulle soos ’n liefdevolle Vader te voed met alles wat goed is deur die nagmaal (Calvyn 1984:142). Ten einde te verseker dat bygeloof nie insluip nie, is dit noodsaaklik dat die sakrament altyd saam met die Woord bedien word. Hierdie argument kan egter ook omgekeer word, deurdat die gereelde viering van die nagmaal ook help om die prediking (en as sodanig die hele liturgie) op Christus gefokus te hou en te help verhoed dat die prediking nie dwaal en verval in algemene praatjies of blote leerredes nie. Die sakrament van die nagmaal verseker dat die sentrale heilswaarheid van die Christelike geloof - Christus self - nooit op die periferie van ’n erediens beland nie.
Die presiese aksies was vir Calvyn, en die meeste sinodes na hom, ’n middelmatigheid. Self het hy lopende kommunie beoefen en die diakens het help uitdeel. So ’n reëling maak dit moontlik om heelwat vinniger die sakrament te bedien en maak die gereformeerde ideaal van ’n weeklikse viering in sommige situasies meer haalbaar. In die geskiedenis is daar in Nederland ook soms meer as een predikant ingespan om die sakrament te bedien. Vir groter gemeentes, wat in elk geval meer as een predikant in diens het, kan die sakrament wat by verskillende bedieningspunte deur verskillende leraars bedien word, help om die viering te bespoedig en glad te laat verloop. Soos reeds vermeld, is die gebruikmaking van die hele klassieke formulier in ons hedendaagse konteks nie meer oral gewens nie. Verder kan selfondersoek in die tydsbestek van een erediens opgeneem word, of beter nog, kan dit ’n voortgaande proses in die lewe van ’n gereformeerde Christen wees.
In kleiner gemeentes kan die gebruik om na vore te kom en ’n sirkel te vorm waarin lidmate die brood en wyn vir mekaar aangee met vrug geïmplementeer word. Die gebruik van intinksie kan, sonder dat die simboliek verlore gaan, geïmplementeer word. Al maak die gemeente van kommunie via intinksie gebruik, kan die voorganger steeds die sentrale simboliek van neem, dank, breek en uitdeel by die tafel behou en selfs uitbou.
Hierdie praktiese reëlings uit die geskiedenis en ekumene kan gemeentes help met die inrigting van ’n weeklikse, of ten minste meer gereelde, nagmaalviering. Dit is verder ook daarop gemik om as hulp te dien by die inrigting van ’n gereelde, maar ook ordelike viering. Daar sal uiteraard baie weerstand wees teen ’n weeklikse viering, wat beteken dat die feitelike agtergrond en motivering vir so ’n skuif, met groot omsigtigheid aan die gemeente meegedeel moet word. So ’n weeklikse viering gaan teen ons Westerse funksionele grein in.
Daarom, ten slotte en ter syde. Die siening dat die liturgie ’n nuttelose spel is, kan hier van waarde wees. Hiervolgens is liturgie ’n spel waarin God se kinders lui voor Hom speel soos kinders met ’n gratis geskenk. Om so al spelende God se Vaderhart te verbly, soos ’n spelende kind doen (Post 2001:43).11 Die liturgie is ’n tyd waarin alles doelbewus nie afgejaag moet word nie, waar ’n mens nie kriewelrig word as die predikant langer as ’n uur besig is nie en waar die predikant nie ter wille van die gemeente se haas alles na die preek aframmel nie. Nee, die liturgie transendeer aardse tyd, liturgiese tyd is anders, dit is die plek waar aardse tyd en hemelse tyd (Noordmans) mekaar die hand gee. Liturgiese tyd vloei en soos ’n rivier deurbreek dit die landskap van ons moderne gejaagde lewe wat ’n nut vir alles soek. Soos verskillende stroompies kom al die onderdele van die liturgie saam om een groot rivier te vorm. En soos ’n rivier vloei hierdie liturgie ook in tyd en is die rituele tyd van twee liturgieë dus nooit identies nie, dit kom altyd by jou verby, of eerder oor jou, vir die eerste keer.
So moet die gereformeerde liturgie, ’n liturgie waar Woord en sakrament saam tuis hoort, ook vloei in die volheid van die eskatologiese tyd. ’n Tyd waarin ons tyd het om tyd te hê. ’n Tyd waarin ons tyd het om met brood en beker die dood en opstanding van ons Meester te vier. En waar ons as gereformeerde erediensgangers “er gewoon blij mee zijn zonder andere bijbedoelingen dan het gewoon fijn te vinden bij God en mensen te zijn. Een gratis aanbieding van de vrijheid die God ons schenkt” (Post 2001:43). So kan die liturgie, as eenheid van Woord en sakrament, sy walle oorstroom met alles wat goed is, in lyn met Calvyn se fundamentele definisie van God, te wete fons omnium bonarum.12 ’n Fontein waarby ons rus kan vind, waarby ons elke Sondag kan gaan skep, om daar God se goedheid te proe en te voel en te sien en te ruik. En om só uitdrukking te gee aan die hoofdoel van ons bestaan, te wete “to glorify God and to enjoy Him forever”.13
BIBLIOGRAFIE
Agenda vir die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1962, 1966, 1970, 1974, 1990 en 1998.
Barnard, A C 1981. Die erediens. Pretoria: NG Kerkboekhandel, Transvaal.
Bauswein, J-J & Vischer, L (reds) 1999. The Reformed Family worldwide. A survey of Reformed Churches, Theological Schools, and International Organizations. Grand Rapids: W B Eerdmans Publishing Company.
Boendermaker, J 1998. Maaltijd van de Heer: oecomenisch-protestant, in Oskamp, P & Schuman, N (reds). De weg van de liturgie. Tradities, achtergronden, praktijk. Meinema: Zoetermeer.
Booyens, B 1982. Nagmaalsnaweek deur die jare. ’n Kerkhistoriese studie. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.
Brinkhoff, L et al (reds) 1962. Liturgisch Woordenboek. Roermond: J J Romen & Zonen.
Burger, C W 2000. Reformed liturgy in the South African context. Ongepubliseerde artikel.
Calvyn, J 1541. Short treatise on the Lord’s Supper, in Reid, J K S (red) 1984. Calvin Theological Treatises. Library of Christian Classics: Ichthus Edition. Philadelphia: The Westminster Press.
Du Toit, H D A 1959. II. Die Sakramentsbediening in die Handelinge van die 26ste Vergadering van die Raad van die Ned Geref Kerke van SA.
Handelingen der Negende Vergadering van de Synode der Gereformeerde Kerk van Zuid-Afrika 1857.
Handelinge van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1962, 1966, 1970, 1974, 1990 en 1998.
Immink, G 1998. Heilig Avondmaal: Klassiek-Gereformeerd, in Oskamp, P & Schuman, N (reds). De weg van de liturgie. Tradities, achtergronden, praktijk. Zoetermeer: Meinema.
Loff, C 1983. The history of a heresy, in De Gruchy, J & Villa-Vicencio, C (reds). Apartheid is a heresy. Cape Town: David Phillip. Lukken, G 1980. De onvervangbare weg van de liturgie. Hilversum: Gooi & Sticht.
Pasztor, J 1989. Worship in the Reformed Family: A working paper from the Worship Committee. Reformed World 40/7, 148-162.
Pasztor, J 1988. Calvin and the renewal of the worship of the Church. Reformed World 40/2, 910-917. Post, P 2001. 2B. Ritualiteit: Drie illustraties, drie teksten, in Barnard, M & Post, P. Ritueel bestek. Antropologische kernwoorden van de liturgie. Zoetermeer: Meinema.
Sell, A 1986. The Lord’s Supper in the Reformed Family. Reformed World. XXXIX/2, 518-527.
Taft, R F 1999. Comparative Liturgy fifty years after Anton Baumstark (d 1948): A reply to recent critics. Worship73/6, 521-540.
Taft, R F (S J ) 1996. Communion via intinction. Studia Liturgica 26/2, 225-236.
Thurian, M 1986. Churches respond to BEM. Volume II. Official responses to the “Baptism, Eucharist and Ministry” text. Genève: WCC.
Van der Watt, P B 1987. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1905-1975. Pretoria: NGKB.
Wainwright, G 1992a. Recent eucharistic revision, in Jones, C et al (reds). The study of liturgy. Londen: SPCK.
Wainwright, G 1992b. The continuing tradition of the Church, in Jones, C et al (reds). The study of liturgy. Londen: SPCK.
Wegman, H A J 1991. Riten en mythen. Liturgie in de geschiedenis van het christendom. Kampen: Uitgeverij Kok.
Wepener, CJ& Müller, B A 2001. “Liturgiese kitsch?” - liturgiewetenskaplike verkenning van ’n gereformeerde ritueel. NGTT 43/3 & 4, 480-493.
Wepener, C J 2002. Still because of the weakness of some? - A descriptive exploration of the Lord’s Supper in South Africa, 1948-2002. Jaarboek voor liturgie-onderzoek 18.
Wolterstorff, N. Worship at Church of the Servant.
World Council of Churches 1982. Baptism, Eucharist and Ministry. Faith and Order Paper no 111. Genève.
1 Alhoewel die besluite van die Sinode van 1857 met betrekking tot die wyse van nagmaalviering en ds Andrew Murray snr se formulering, te wete “ten gevolgen van de zwakheid van sommigen”, wat tot gevolg gehad het dat bruin en wit mense voortaan in aparte geboue die sakrament sou ontvang, nie die gewone patroon of ’n te geringe ontwikkeling was nie. Hierdie artikel kan egter nie ook by daardie stuk geskiedenis stilstaan en ook daaraan laat reg geskied nie. Daarom word hier ’n doelbewuste keuse gemaak om dit te negeer. Vgl in hierdie verband gerus die studie van Loff (1983), sien ook Wepener (2002), asook Handelingen der Negende Vergadering van de Synode der Gereformeerde Kerk van Zuid-Afrika 1857:59-61. ’n Ander tipes Suid-Afrikaanse ontwikkeling rondom die nagmaal waarby hierdie artikel ook nie sal stilstaan nie, is die sg nagmaalnaweek. Vir meer hieroor sien Booyens (1982).
2 Hierdie wyse van nagmaalviering staan ook bekend as communio sedentaria en is tydens die Reformasie in die kanton van Zürich gebruik waar Zwingli werksaam was.
3 Vgl ook Du Toit (1959:81-84). In hierdie dokument waarsku Du Toit teen ’n meganiese gelyktydige gebruik van die wyn wat die suggestie van ’n heildronk kan wek.
4 Nav notas van prof Paul Post van die Teologiese Fakulteit Tilburg, asook Taft (1999:521-540). Vir ’n literatuuropgawe van Baumstark se oeuvre sien die lemma Baumstark in Brinkhoff (1962). Een van hierdie wette/tendense is dat daar altyd in enige ritueel ’n noodwendige ontwikkeling van uniformiteit na pluriformiteit en weer na uniformiteit is en so word hierdie tendens telkens herhaal.
5 Vgl in hierdie verband ook Wegman (1991:353) volgens wie die fondament van die ekklesiologie ontdek is in die Bybelse siening van die volk van God en in die koninklike priesterskap van alle gelowiges. Hierdie fondament is medegelê deur die Liturgiese Beweging.
6 Vir positiewe én negatiewe kritiek van verskillende kerke wêreldwyd, sien Thurian (1986).
7 Vir nog argumente ten gunste van ’n weeklikse viering vanuit die gereformeerde wêreld, sien Pasztor (1989:148-162) en Pasztor (1988:910-917).
8 Die saak met betrekking tot verkorte en/of alternatiewe nagmaalformuliere het al telkens voor die Algemene Sinode van die NG Kerk gedien. By die Algemene Sinodes van 1962, 1966, 1970, 1974, 1990 en 1998 is verkorte formuliere aangevra, voorgelê en aanvaar.
9 Vir ’n interessante bespreking van intinksie in die geskiedenis van die Christelike kerk, sien Taft (1996:225-236).
10 Vergelyk gerus www.churchoftheservantcrc.org, asook ’n boek wat deur Nicholas Wolterstorff geskryf is getiteld Worship at Church of the Servant.
11 Die konsep wat hier van belang is, is liturgiese inkulturasie, ’n proses waarin die liturgie en die omringende kultuur mekaar krities-wederkerig deurkruis, hier spesifiek ten opsigte van tyd.
12 Dit is: “die fontein van alles wat goed is”.
13 Westminster Confession.