Ontvang hiermee die tweede uitgawe van die Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif vir 2009, Deel 50 nommers 3 & 4, 2009. Baie dankie aan die skrywers vir hulle bydraes en mag u as leser groot baat vind by die teologiese navorsing en nadenke wat in al die artikels neerslag gevind het.

Vanjaar is die 500ste herdenking van die geboorte van Johannes Calvyn. Om hierdie geleentheid te herdenk het die redaksie ´n aantal skrywers gevra om artikels oor Calvyn te skryf. U vind die neerslag van hulle werk in hierdie uitgawe. In baie lande word daar vrae gevra oor Calvyn se nalatenskap en wie dan nou eintlik die draers van sy erfenis is. Hierdie vrae noop elkeen van ons om ons deeglik te vergewis oor wat Calvyn se erflating vir ons was. Een ding staan vas: Calvyn wou die hele lewe onder die gesag van God se Woord plaas. As ons werklik Calvyn wil huldig, moet dit ook ons strewe wees.

By die lys van medewerkers verskyn weer ´n nuwe naam, die van dr Gerrit Brand wat diens aanvaar het in die Departement Sistematiese Teologie en Ekklesiologie by die Universiteit van Stellenbosch. Ons heet hom graag welkom as medewerker van die NGTT.

Dr Riaan Prins en sy eggenote Elize het gedurende September hulle seun Juriaan in ´n motorongeluk verloor. Ons bid vir hulle, sy eggenote en seuntjie die vertroosting toe van die Here ons God. Dink asseblief ook steeds in u voorbidding aan prof DA du Toit en dr BA du Toit.

Die voordragte van die Calvyn Gedenkkonferensie wat aan die einde van Augustus by die Kweekskool gehou is, word DV later in ’n afsonderlike uitgawe van die NGTT gepubliseer. As intekenaar sal u ’n kopie ontvang. Los kopiee kan bestel word by me Esther van Biljon van CLF by order@clf.co.za of by 021 873 6971.

In die vorige uitgawe het sekere belangrike aanduidings by die artikel van prof Hennie Kruger per abuis verlore gegaan. Dié artikel word in sy geheel weer, met die korrekte aanduidings, geplaas. Ons verskoning aan prof Kruger en aan u die lesers.

P Coertzen

(Redakteur NGTT)

Stellenbosch

26 Oktober 2009