Hendriks, HJ & Grobbelaar, J
Universiteit van Stellenbosch

Op soek na ’n nuwe wyse om kinderbediening in en deur die gemeente te verstaan1

ABSTRACT

In search of a new way to understand children’s ministry in and through the congregation

This article wants to stimulate the development of children’s ministry by trying to give some possible answers on the question: How should we think about children’s ministry in and through the congregation in the context of the 21 century? This question is answered by taking into account the approach that has been developed by Petra College for children’s ministry over the past 20 years. In the first part of the article a few important basic theoretical markers are formulated. In the second part five children’s ministry processes are discussed. Thereafter the connection between the calling and ministries of congregations and these children’s ministry processes are discussed.

1. Inleiding

Alhoewel George Barna (2003:14) met reg verklaar dat kinderbediening “the single most strategic ministry in God’s kingdom ...” is, dui verskeie tendense in die kinderbedieningspraktyk (vergelyk Grobbelaar 2008:144-168) aan dat die kerk in die sosiale konteks van die begin van die 21ste eeu sukkel om kinders effektief te bedien en hierdie strategiese bediening te laat slaag. Kinders ly veral as gevolg van die gevolge van die verbrokkeling van die familielewe en die samelewing se korporatiewe aard, groeiende generasiegapings, die negatiewe gevolge van sowel welvaart as die fenomeen van sosiale uitsluiting (vergelyk :46-138) en gemeentes se skynbare onvermoë om in hierdie konteks ’n holistiese kinderbediening gerig op die totale nood en behoeftes van kinders te ontwikkel. Met reg pleit Beckwith (2004:16-17) dat daar aan die begin van die 21ste eeu meer nagedink moet word oor nuwe paradigmas en nuwe maniere van doen ten opsigte van die bediening van kinders (vergelyk Strommen en Hardel 2000:16-18). Daar bestaan, internasionaal en in Suid-Afrika, verskillende perspektiewe op die veranderinge wat nodig is en die nuwe paradigmas wat ontwikkel moet word (vergelyk Grobbelaar 2008:168-191).

Teen hierdie agtergrond is die doel van hierdie artikel om ’n gesprek oor die ontwikkeling van ’n breër en omvattender praktykteorie vir kinderbediening, wat kinders se totale kindwees en al hulle behoeftes in ag neem, te stimuleer deur antwoorde te soek op die volgende vrae: Hoe behoort daar oor die bediening van kinders in en deur die gemeente in die konteks van die 21ste eeu gedink te word? Wat is en hoe behoort kinderbediening te lyk in die konteks van die 21ste eeu? In die soeke na antwoorde op hierdie vrae word heel eerste ’n aantal belangrike basisteoretiese uitgangspunte geformuleer. Daarna word daar, in aansluiting by die benadering wat by Petra Kollege vir Kinderbediening oor ongeveer 20 jaar ontwikkel is, aandag gegee aan die beskrywing van vyf kinderbedieningsprosesse. Dit word opgevolg met ’n bespreking van die verband tussen die roeping en bediening van gemeentes en kinderbediening, en hoe hierdie vyf kinderbedieningsprosesse daarby inskakel.

2. Basis-teoretiese uitgangspunte

Die volgende basis-teoretiese uitgangspunte2, wat as moontlike vertrekpunte vir 'n indringende gesprek oor die ontwikkeling van ’n breër en omvattender praktykteorie vir kinderbediening kan dien, word kortliks aangestip, maar nie uitvoerig bespreek nie:

a) Kinderbediening vind altyd plaas met kinders binne ’n spesifieke tyd en op ’n spesifiek plek en kan dus nie anders as kontekstueel wees nie (vergelyk Hendriks 2004:27-28). In ’n gelowige soeke na ’n verstaan van wat kinderbediening is behoort die globale, Afrika, en Suid-Afrikaanse konteks waarin kinders hulle aan die begin van die 21ste eeu bevind, ernstig verreken te word.

b) Teologiese refleksie oor en die praktiese uitleef van kinderbediening is gehoorsame deelname aan God se missionale praxis (vergelyk Hendriks 2004:24-25). Wie God is, behoort die kerk se kinderbedieningspraktyk te bepaal. Kinderbediening behoort daarom iets te reflekteer van God se identiteit (vergelyk Grobbelaar 2008:407-410). Hier kan nie ’n omvattende Godsleer aangebied word nie. Dit is egter belangrik vir die bediening van kinders binne die konteks van die 21ste eeu, veral in die lig van kinders se lyding as gevolg van sosiale uitsluiting, om opnuut te let op die Triniteit en die missionaliteit van God. Die belydenis dat die God wat sigself geopenbaar het as Vader, Seun en Heilige Gees één God is, impliseer dat God ’n God “van gemeenskap, van verhoudings, van behoort-aan-mekaar, van liefde” is (Smit 2003:24). God verwag daarom van kinders van God om ook so te leef: in verhouding, in gemeenskap met alle ander mense, ook volwassenes en kinders met mekaar. Hierdie insluitend koinonia kon egter net beleef word omdat God in Christus Jesus bereid was om sy bestaan op Goddelike wyse nie te beskou as iets waaraan vasgeklem moes word nie, maar ontledig van kon word deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word ter wille van hulle redding (Filippense 2:6-7). Juis hierin kom tot openbaring dat God ’n missionale hart het wat tot gevolg het dat God na almal, insluitende kinders, uitreik om hulle te kan insluit in die koinonia wat God tot stand bring. Kinderbediening behoort hierdie Goddelike kenosis-identiteit te weerspieël deur gemeenskapstigtend uit te reik na alle kinders om hulle in Jesus se Naam in die midde van die gemeente te ontvang (Matt 18:5).3

c) Kinderbediening is ’n omvattende bediening waarin kinders se totale kindwees en al hulle behoeftes binne hulle totale ekologie in ag geneem word. Dit wil holisties van aard wees en wil kinders, jeug, familie, gemeente, gemeenskap en kultuur met mekaar in verband bring (Strommen en Hardel 2000:16).

d) Kinderbediening behoort kinders te integreer, deel te maak van en te laat deelneem aan die totale lewe van die gemeente (vergelyk Grobbelaar 2008:438-446). Die bediening van kinders behoort dus nie net die verantwoordelikheid van die kategese (Christian education) te wees nie, maar behoort eerder in die gemeente geïntegreer te word as verantwoordelikheid van die totale gemeente en daarom deel van die gemeente se totale bediening. ’n Omvattende benadering wat die kindrelevansie van elke aspek van die gemeentelike lewe sal verreken behoort gevolg te word (vergelyk Nel 1998:77-97). Hierdie inklusiewe gemeentelike benadering (Nel 1998) is natuurlik nie nuut nie, want die wortels daarvan lê in die heel eerste punt van die Jeugbeleid vir die NG Kerk wat die Algemene Sinode reeds in 1966 aanvaar het en soos volg geformuleer is: “Die jeug is ’n wesenlike deel van die gemeente” (Jeugstudiekommissie 1976:428). Deur die jare het Malan Nel baie gedoen om hierdie benadering akademies te ontwikkel en voorspraak daarvoor in kerklike kringe te maak. Nel (:79) se eie waarneming is egter dat hierdie omvattende beskouing en inklusiewe benadering moeilik op gemeentebodem groei (vergelyk Grobbelaar 2008:189-190).

In kinderbediening behoort daar weg beweeg te word van ’n korporatiewe styl van kerkwees na die vestiging van ’n “kinship model” (Lockhart 2003) of wat Olson (2001) “kindom” kinderbediening noem. Die implikasie is dat familiebediening die basis van kinderbediening behoort te wees (Thesnaar 2003:19) en dat kinderbediening dus voortdurend vanuit ’n familiale perspektief (Marais 2004:4) bedink sal word (vergelyk Grobbelaar 2008:438-442 en 450-455).

a) In kinderbediening behoort daar groot erns gemaak te word met resente navorsing oor die geestelike ontwikkeling van kinders (vergelyk Grobbelaar 2008:181-185). In godsdiensopvoeding en geloofsontwikkeling is daar in die verlede swaar geleen op die ontwikkelingsteorie van Piaget en die uitgangspunt was dat kinders se godsdienstige konsepte en denke ontwikkel aan die hand van hulle kognitiewe ontwikkeling. Allen (2005:330-331) spreek tereg die volgende mening hieroor uit:

Cognitive developmental theory has convinced Christian educators that children learn best with other children their age doing developmentally appropriate activities. And it is true that children may learn some things better in this way. The fundamental difficulty is that spiritual development is not essentially cognitive development. That is, the way children (and adults) grow in their understanding of maths or history is not fundamentally the way they (and we) grow spiritually. Other factors are at work in spiritual development, not all primarily age-specific. Therefore applying cognitive developmental principles to a primarily spiritual enterprise may not, in itself, produce mature members of the Christian community of practice, the church.

Die nuwe belangstelling in die geestelike ontwikkeling van kinders is juis die gevolg van onder andere “an emerging sense among developmental scholars that something has been missing in the scholarship, and that domain is spiritual development” (Roehlkepartain et al 2006b:1-2).

b) ’n Verskuiwing van ’n na-binne-gerigte-gemeentelike-benadering na ’n missionale benadering waarin die totale nood van alle kinders raakgesien word en gemeentes hulle gestuurde-roeping op ’n omvattende wyse teenoor veral die gemarginaliseerde kinders van die samelewing uitleef, behoort plaas te vind (vergelyk Grobbelaar 2008:187-189). Alhoewel daar nie duidelike grense tussen die verskillende kontekste is nie, vind kinderbediening plaas binne die konteks van die huis, die kerk, die skool en die gemeenskap (Lehmann 1999:vi; Malherbe s a: 23-35). Kinders word in hierdie kontekste dikwels bedien deur lidmate buite hul gemeenteverband as individue of saam met ander kerklike instellings of nie kerklike organisasies.4 As missionale gemeenskappe behoort gemeentes deur hul lidmate betrokke te wees by die lewe van kinders in die huis, skool en kerk. Veral in gemeenskappe waar kinders ly onder die gevolge van sosiale uitsluiting behoort gemeentes in vennootskap met plaaslike gemeentes en ander gemeenskapsinstellings, soos byvoorbeeld skole en besighede, en die vorming van netwerke, na hierdie kinders uit te reik.

c) Kinderbediening is nie net ’n bediening aan kinders nie, maar is ook bediening met en deur kinders (Nel 1998:96). Olson (2001:63) voeg ’n vierde dimensie by en praat in die verband van “children’s ministry in four ways: ministry to children, with children, by children, for children.” Onder die bediening vir of namens kinders verstaan sy veral die bediening van voorspraak in belang van kinders. “It is standing and speaking out for the needs of children and for the inclusion of children as members of the family of God” (:63). Omdat dit te omslagtig is om elke keer al vier die voorsetsels te gebruik, word kortweg van die “bediening van kinders” gepraat met die veronderstelling dat al vier hierdie dimensies daarby ingesluit is.

3. Kinderbedieningsprosesse

Met bogenoemde basie-teoretiese vertrekpunte as agtergrond behoort daar gesoek te word na ’n nuwe kinderbedieningsparadigma wat nie gefokus is nie net op onderrig en allerhande aktiwiteite en programme nie, maar op die lewenskonteks van kinders. Binne hierdie lewenskonteks behoort kinders se behoeftes en nood so aangespreek te word en hulle so begelei te word dat hulle holisties kan groei en ontwikkel ten opsigte van hulle totale mens-wees sodat hulle al meer die mense kan word wat hulle reeds in Christus is. Die ontwikkeling van so ’n kinderbedieningsparadigma kan gedien word indien kinderbediening meer bedink te word vanuit die metafoor van ’n pelgrimsreis (vergelyk May et al 2005:16-19) en die prosesse, of gebrek daaraan, wat voortdurend in kinders se lewenskontekste langs hierdie roete afspeel. In hierdie ’n breër verstaan van kinderbediening kan, soos in Petra Kollege se benadering, waarskynlik vyf lewensbelangrike prosesse vir menslike ontwikkeling onderskei word (vergelyk Malherbe s a: 32-37) wat in ag geneem behoort te word. In die bedieningspraktyk is hierdie prosesse aanvullend tot mekaar en eintlik so met mekaar verbind en ineengestrengel dat hulle nie van mekaar geskei kan word nie. Die terminologie wat vir hierdie prosesse gebruik word is welbekend. Dit beteken egter terselfdertyd dat dit dikwels verskillend verstaan en gebruik word en dat die verstaan wat hier daaraan gekoppel word, oop is vir debat. Hier word nie ingegaan op al die nuanses en verskille in die verstaan van elke proses nie, maar daar word eerder in kort verduidelik hoe elke proses ’n plek in ’n breër verstaan van kinderbediening het, ten einde ’n gesprek daaroor te stimuleer.

3.1 Groei

Die mees basiese uitspraak wat oor kinders gemaak kan word is seker dat hulle groei. Dit is waar ten opsigte van elke aspek van kinders se lewens: fisies, emosioneel, intellektueel, sosiaal en geestelik. Kinderbediening behoort daaraan mee te werk dat kinders se totale lewe en omstandighede deur God se liefde aangeraak word sodat hulle Godgegewe potensiaal maksimaal sal groei. Waar die groei in hulle lewens, om watter rede ook al, nadelig geraak word, is dit belangrik dat hulle die nodige versorging, ondersteuning en begeleiding sal ontvang om steeds menswaardig te kan lewe. Die volgende vier prosesse is ten nouste verbind aan hierdie proses van groei.

3.2 Koestering

Koestering is die primêre proses waardeur God se liefde kinders se mees basiese behoeftes ten opsigte van elke aspek van hulle lewe wil aanraak. “This love is expressed through care, which aims at providing children with the nourishment, protection and stimulation that they need. Love includes discipline ...” (Malherbe s a: 33). Die ruimte waarbinne hierdie liefdevolle versorging in die eerste plek behoort plaas te vind is die familie. Ongelukkig groei baie kinders op in families, of selfs buite hulle natuurlike familie, waar hulle nie liefdevol gekoester word nie en hulle groei nadelig beïnvloed word omdat daar nie in hulle mees basiese behoeftes voldoende voorsien word nie. Juis daarom behoort kinderbediening daarop gerig te wees om families te ondersteun om die koesterende omgewings te wees waarin kinders behoort op te groei sodat dit moontlik sal wees dat die kinders die nodige gehegtheid en emosionele binding met hulle volwasse versorgers kan ontwikkel. Waar dit absoluut onmoontlik is om kinders binne hulle natuurlike familie-konteks hierdie koestering te laat ervaar, behoort daar gepoog te word om die beste moontlike alternatiewe familie-proses vir hulle te voorsien. Deurgaans moet ingedagte gehou word dat in hierdie koestering kinders behoort te ontdek en te ervaar dat God liefde is.

3.3 Sosialisering

Sosialisering dra God se liefde in kinders se lewens in deur die bou van verhoudinge en die skep van gemeenskap. Hierdie proses begin ook primêr in die konteks van die familie. “Children who are properly nurtured and who enjoy socialisation within their primary group will then have the courage to venture out in a larger world” (Malherbe s a: 33). Dit is deur hulle interaksie met die familie en die groter gemeenskap, wat die kerk insluit, dat kinders in aanraking kom met die waardes, tradisies en gebruike van die familie en gemeenskap en dit deur enkulturasie toe-eien en so hulle eie identiteit ontwikkel. In die bou van verhoudinge met kinders speel onder andere kommunikasie en spel ’n uiters belangrike rol. Spel kan gesien word as kinders se universele taal en dus ’n belangrike wyse waarop hulle kommunikeer. Kinderbediening sonder goeie verhoudinge kan nie effektief wees nie en daarom behoort die bou van verhoudinge met kinders, die vorming van vriendskappe oor generasie-skeidinge heen en interaksie met kinders die normale lewenstyl in gemeentes te wees en behoort die ouer generasie voortdurend te poog om in kinders se wêreld in te beweeg deur hulle taal te gebruik. Dit wil juis voorkom of daar in gemeentes in die algemeen nie genoeg begrip hiervoor is nie en dat daar meer aandag daaraan gegee behoort te word om spel en speelsheid effektief te gebruik in die bediening van kinders. Omdat die kultuur waarin kinders opgroei ’n groot vormende invloed op hulle waardes het, behoort gemeentes binne hulle lokale kontekste intensioneel in die gemeenskap betrokke te raak om in die samelewing Christelike waardes te bevorder en ’n kindvriendeliker omgewing vir kinders te skep. Veral in die Suid-Afrikaanse samelewing aan die begin van die 21ste eeu waarin ’n deel van die samelewing blykbaar nie baie waarde heg aan die lewens van kinders nie, is dit ’n uiters belangrike taak van elke gemeente.

3.4 Vorming

“To live is to learn and to learn is to live. When we stop learning, we stop growing and in a sense we also stop living” (Malherbe s a: 35). Leer begin reeds by geboorte en is ’n lewenslange proses. Leer speel ook ’n belangrike rol in die manier waarop kinders geloof en waardes in ’n praktiese Christelike lewenswyse integreer. In die leerproses speel ontdekking, nabootsing en onderrig ’n belangrike rol. Nabootsing vind hoofsaaklik informeel, ongestruktureerd en selfs onbewustelik plaas en daarom is rolmodelle uit ouer generasies waarmee kinders kan identifiseer uiters belangrik in hulle vorming. Burns en DeVries (2003:58) verwys in dié verband na die bevindinge van ’n studie onder gelowige volwassenes oor die mees effektiewe geloofsvormende praktyke wat hulle ouers beoefen het, wat ernstig opgeneem behoort te word. Hierdie studie se slotsom was: “There was no single, across-the-board practice that worked in even a slim majority of families ... The most common faith-nurturing factor in more than 90 percent of those surveyed was that those students who continued in their faith had a half-dozen mentors present during their growing-up years.” Dit is juis die uitdaging waarvoor kinderbediening aan die begin van die 21ste eeu staan: Om kinders so te bedien dat hulle ’n netwerk van in-diepte verhoudinge met verskeie volwassenes wat ’n vormende invloed op hulle lewens kan uitoefen, kan ontwikkel. Dit moet egter aangevul word deur intensionele en formeel gestruktureerde onderrig waarin die Bybel ’n prominente rol speel. Omdat kinders van nature nuuskierig is behoort hulle in die leerproses gestimuleer te word tot self-ontdekking en hierin kan ervaringsleer ’n belangrike rol speel. Alhoewel gedifferensieerde leerervaringe op grond van ontwikkelingsfases altyd ’n rol sal speel, behoort die skepping van intensionele intergenerasionele leerervarings in die gemeentelike bedieningspraktyk meer aandag te kry.

Alhoewel Allen (2002:329-336) toegee dat haar empiriese studie bepaalde beperkinge gehad en dat daar dus nie absolute en algemeen toepasbare gevolgtrekkings daaruit gemaak kan word nie, behoort die volgende bevindinge van haar kwalitatiewe studie5 waarin sy die spiritualiteit van 40 kinders in die ouderdomsgroep 9-11 jaar uit twee tipes gemeentes, naamlik ’n hoofsaaklik intergenerasionele gemeente en ’n hoofsaaklik gedifferensieerde gemeente, met mekaar vergelyk het, ernstig verreken te word:

The IG6 children referred to prayer more often and exhibited relationality in more of their discussions of prayer than did the children from non-IG settings. In defining the concept of knowing God, a larger number of IG children gave relational descriptions of that concept than did non-IG children. Also, more IG children shared examples of reciprocal relationality than did non-IG children.

In general, though both groups of children gave profound and eloquent testimony to their relationships with God, the IG children in this sample were more aware of their relationship with God, that is a large number of them spoke more frequently and more reciprocally of that relationship (Allen 2002: Abstract; vergelyk 311).

Die uitdaging is om strategieë en praktyke vir geloofsopvoeding te ontwikkel wat ouderdom-inklusief is en in ooreenstemming en verenigbaar sal wees met dit wat die kerk wesenlik is (Harkness 1996:235-237). Allen (2002:72; 2005:323) se voorstel van die “situative/sociocultural perspective”, primêr gebaseer op die werk van Lev Vygotsky, behoort in die proses verreken te word. Kennis van die ontwikkelingsfases van kinders behoort benut te word nie net om te differensieer nie, maar juis om intergenerasionele interaksie te verryk en te laat slaag. Volwassenes behoort ook begelei te word om kinders nie net as objekte van bediening nie, maar ook as subjekte van bediening te sien en hulle deur kinders te laat bedien.

Binne die proses van vorming het evangelisasie as voorstelling aan Jesus, oproep tot geloof, en inkorporering in Christus se liggaam beslis ’n plek in kinderbediening. Tog is die evangelisering van kinders nie ’n eenvoudige saak nie en roep dit vrae op met betrekking tot “personal freedom, coercion and the place of parents and their convictions” (Malherbe s a: 34). Kinders behoort op geen wyse gemanipuleer te word om ’n oorgawe aan Jesus te maak nie. Binne ’n multigodsdienstige konteks, veral waarin die Christendom boonop in die minderheid is, is dit ’n uiters komplekse saak (vergelyk Daniel 2006) en daarom behoort gemeentes baie versigtig te werk te gaan wanneer hulle in hul uitreikaksies in sulke kontekste by kinders betrokke raak. Dit beteken nie dat die verkondiging van Jesus Christus as Verlosser in sulke situasies verloën moet word nie. Die uitdra van die evangelie na kinders moet egter gedoen word met die grootste mate van sensitiwiteit vir die behoeftes van kinders en die konteks waarin hulle hul bevind.

3.5 Genesing

Die wêreld van die 21ste eeu is ’n gebroke wêreld waarin kinders slagoffers is van die gebrokenheid en baie vorme van lyding ervaar. Juis daarom is genesing as die proses waardeur die heelheid van gebroke kinders en hulle gebroke wêreld herstel word ’n uiters belangrike deel van kinderbediening. In die eerste plek vereis dit dat daar in die wêreld van getraumatiseerde kinders inbeweeg sal word en fyn na hulle geluister sal word, ook in terme van hulle eie universele taal, sodat hulle seerkry en pyn goed gehoor kan word. In die tweede plek vra dit om saam met kinders op reis te gaan na ’n ontmoeting met die Goddelike Geneesheer wat, selfs deur die inskakeling van menslike agente in die proses, die enigste Een is wat genesing kan bewerk en gebrokenes kan herstel. In hierdie proses kan pastorale versorging of berading ’n belangrike rol speel. Die werklikheid is egter dat daar, veral in kontekste waar kinders ly onder die gevolge van sosiale uitsluiting, nie genoeg gespesialiseerde persone beskikbaar is om professionele dienste te lewer nie. Gelukkig het Larry Crabb (1997:206), psigoterapeut vir meer as twintig jaar en professor in pastoraat aan die Colorado Christian University, reeds die volgende uitspraak gemaak wat baie hoop gee vir sulke situasies: “Qualifications to effectively counsel have more to do with wisdom and character than with training and degrees. Wisdom and character should be developed in Christian communities.” In sulke kontekste behoort gemeentes meer te maak van die terapeutiese waarde van en daarom die mobilisering van ouer generasies se wysheid en karakter en die verdere ontwikkeling van hulle luistervaardighede en daar-wees vir kinders, om in die verwerking van hulle seerkry by kinders te wees en hulle te vergesel op die weg van genesing en groei. Crabb (:206) is verder van mening dat die kerk in die eerste plek helende gemeenskappe nodig het wat “connecting at the exact centre of their purpose and passion” plaas eerder as meer opgeleide beraders. Die terapeutiese waarde van die gemeenskap van die gelowiges deur middel van intergenerasionele aktiwiteite en programme kan in die lewe van getraumatiseerde kinders ’n baie belangrike rol speel.

3.6 Samevattend

Soos ’n diamant het kinderbediening dus verskillende fasette (Malherbe s a: 32) en elkeen van bogenoemde vyf prosesse vervul ’n belangrike rol en behoort tot sy reg te kom in die bediening van kinders in en deur die gemeentes binne die konteks van die 21ste eeu. Hierdie vyf prosesse behoort daarom ingebed te wees in gemeentes se uitleef van hul roeping en bediening in hierdie wêreld. Dit roep die vraag na vore: Wat is die roeping en bediening van gemeentes en hoe pas hierdie kinderbedieningsprosesse daarby in?

4. ROEPING EN BEDIENING VAN GEMEENTES EN KINDERBEDIENING

Die roeping van elke gemeente kan in kort omskryf word as die inskakeling by en deelname aan die missio Dei (Burger 1999:80). Wat presies behels hierdie roeping? Eintlik beteken dit niks anders nie as om “Christus na te volg en om deel te word van die groot werk wat Hy gedurende sy aardse lewe begin het en wat Hy ná Pinkster deur die Heilige Gees voortsit” (Burger 2002:265). Daar is vele kante aan die koninkryk van God of die heil wat Christus gebring en kom vestig het. In aansluiting by die werk van Michael Welker spreek Burger (1999:83; vergelyk 2002:266) die mening uit dat die volgende drie begrippe ons baie kan help om die rykdom van die heil wat Christus gebring het, te verstaan, naamlik “’n nuwe kennis van God, die herstel van reg en geregtigheid en ’n lewe waarin daar plek is vir genade en liefde.” Burger (1999:83-84; vergelyk 2002:266) gaan voort en noem dan drie dinge wat mense se deelname aan die roeping van die kerk inhou. Hierdie drie aspekte van die kerk se roeping kan in terme van gemeentes se roeping ten opsigte van kinders as volg geformuleer word:

• Dat gemeentes sal deelneem aan die verkondiging van die kennis van die evangelie aan alle kinders, terwyl volwassenes saam met kinders leerlinge van Jesus sal bly;

• Dat alle gemeentelede se daaglikse lewe gekenmerk sal word deur ’n opmerksame raaksien van alle kinders in nood. Dat daar met 'n genadige liefde na alle kinders uitreik word, maar in besonder na kinders in nood, kinders wat lei as gevolg van sosiale uitsluiting, arm kinders, straatkinders, kinderarbeiders, kinderprostitute, kinders wat seksueel gemolesteer word, kindersoldate, weeskinders, vigswesies, vigsgeïnfekteerde kinders en kinders wat op enige ander wyse getraumatiseer is; en

• Dat ons nie net in die kerk nie, maar ook in die samelewing en die openbare lewe sal opstaan vir billikheid, reg en geregtigheid, vir vrede en versoening ter wille van alle kinders.

Hoe moet hierdie roeping nou deur gemeentes uitgevoer word? Nel (1994:26-27; 1998:81) wys daarop dat daar tradisioneel onderskei word tussen die volgende sewe bedieningswyses of –modi, naamlik kerugma, marturia, didache, leiturgia, koinonia, paraklese en diakonia. Hierdie bedieninge word soms op verskillende wyses saamgevoeg (Burger 1999:111). Hier word gekies om dit op die mees algemene wyse saam te voeg, soos Burger (:111, 203-260; vergelyk Nel 1994:27; 1998:89) dit doen, naamlik:

• leitourgia (aktiwiteite waarin daar ’n sterk direkte fokus op gemeenskap met God is);

• kerugma (’n reeks aktiwiteite wat sentreer rondom die Skrif en die verstaan, internalisering en verkondiging van die inhoudelike boodskap van die evangelie);

• koinonia (aktiwiteite wat gerig is op intermenslike ondersteuning en versorging), en

• diakonia (aktiwiteite wat fokus op opofferende praktiese diens aan ander na die voorbeeld en ter wille van Christus).

Met die volgende diagram van Gabriel Fackre (2007:176) word die probleem met betrekking tot hoe die dienswerk na binne ter wille van die opbou van die gemeente en die dienswerk na buite ter wille van die uitdra en uitleef van die evangelie in die wêreld verstaan behoort te word, oorbrug (vergelyk Burger 1999:112):

Inreach – Nurture

Outreach – Mission

getting the Story straight

preaching and teaching

kerygma

getting the Story out

evangelism

Celebrating the Story within

Sacramental worship

leitourgia

celebrating the Story without public prayer and praise

doing the deed within

service to brothers and sisters in Christ

diakonia

doing the deed without

service to the world as victim-care and victim-cause

unity within the Body of Christ

koinonia

unity within the body of the world

Die vraag is nou: Wat is die verband tussen die bediening van die gemeente en die vyf kinderbedieningsprosesse wat hierbo onderskei is? As uitgangspunt behoort te geld dat kinderbediening kinders in die totale gemeentelike lewe behoort te integreer deur vir hulle plek te vind en hulle volledig tot hul reg te laat kom binne die ruimte en tussen die mense op wie die gemeentelike dienste van kerugma, leitourgia, koinonia en diakonia gerig is en deur wie dit uitgevoer word. Elke diens van die gemeente het immers kindrelevansie en is ryk aan potensiaal vir kinderbediening (vergelyk Nel 1998:83). Daarom is kinderbediening veel eerder, soos gemeentebou of bejaardesorg, ’n perspektief op die totale gemeentelike lewe en haar dienste, op alle handelinge en handelingsvelde (Heyns en Pieterse 1990:17). Kinders word dus die lens waardeur na die totale gemeentelike bedieningspraktyk gekyk en oor besin word. Dit wil gemeentes help om voortdurend seker te maak dat kinders as objekte en subjekte van bediening in elke gemeentelike diens tot hul reg kom. Om dit te bereik kan dit moontlik van waarde wees as die vyf kinderbedieningsprosesse, soos hierbo beskryf, en die bogenoemde dienste van die kerk saam as gereedskap gebruik word om die gemeentelike bedieningspraktyk gereeld te ondersoek en te evalueer. In die proses kan onder andere die volgende twee vrae gevra word, naamlik: 1) Hoe bevorder elkeen van die vier gemeentelike dienste die vyf kinderbedieningsprosesse? en 2) Hoe kom elkeen van die vyf kinderbedieningsprosesse tot hul reg in elkeen van die vier gemeentelike dienste? In die proses behoort ’n bifokale lens gebruik te word wat nie net fokus op die kinders wat reeds deel is van die gemeentelike lewe nie, maar ook help om goed te kyk na die gemeente se betrokkenheid by kinders buite die gemeente.

5. SAMEVATTING

Teen die agtergrond van die soeke na nuwe kinderbedieningsparadigmas vir die konteks van die 21ste eeu, was die doel van hierdie artikel om ’n gesprek oor die ontwikkeling van ’n breër en omvattender praktykteorie vir kinderbediening te stimuleer. Daar is gepoog om hierdie gesprek te dien deur in die heel eerste plek ’n paar basis-teoretiese vertrekpunte vir so ’n gesprek uit te stippel. In die tweede plek is aangetoon dat die gesprek oor ’n breër en omvattender verstaan van kinderbediening moontlik gedien kan word deur vyf kinderbedieningsprosesse in hierdie gesprek in ag te neem. In die derde plek is daar gelet op hoe hierdie kinderbedieningsprosesse moontlik in die roeping en bedieninge van gemeentes kan inpas sodat kinders effektiewer in en deur die gemeente bedien kan word. Hiermee is die gesprek oor die soeke na nuwe kinderbedieningspardigmas en ’n breër en omvattender praktykteorie vir kinderbediening wat getrou is aan die lewenskonteks van kinders aan die begin van die 21ste eeu beslis nie afgehandel nie, maar is die saak eerder op die tafel geplaas vir verdere wetenskaplike ondersoek en gesprek.

BIBLIOGRAFIE

Allen, H C 2002. A qualitative study exploring the similarities and differences of the spirituality of children in intergenerational and non-intergenerational Christian contexts. Ph D thesis, Biola University, La Mirada.

--- 2005. Bringing the generations together: Support from learning theory. Christian Education Journal, Series 3, 2(2), 319-333.

Barna, G 2003. Transforming children into spiritual champions. California: Regal Books

Beckwith, I 2004. Postmodern Children’s ministry. Grand Rapids: Zondervan.

Burger, C W 1999. Gemeentes in die kragveld van die Gees. Oor die unieke identiteit, taak en bediening van die kerk van Christus. Stellenbosch: BUVTON.

--- 2002. Wat leer ons uit die Nuwe Testament oor praktiese gemeente-wees vandag?, in Burger, C W en Nell I (reds), Draers van die waarheid: Nuwe-Testamentiese visies vir die gemeente, 259-273. Stellenbosch: BUVTON.

Burns, J & DeVries, M 2003. Partnering with parents in youth ministry. S l: Gospel Light.

Crabb, L 1997. Connecting. Healing for ourselves and our relationships. A radical new vision. Nashville: Word Publishing.

Daniel, P 2006. Working with the pre-Christian child. Unpublished paper presented at the Penang 3 consultation of the Child Theology Movement, Malaysia, June.

Fackre, G 2007. The church. Signs of the Spirit and signs of the times. Grand Rapids/Cambridge: William B Eerdmans.

Grobbelaar, J 2008. ’n Ondersoek na die bediening van laerskoolkinders in en deur die gemeente as intergenerasionele ruimte. DTh proefskrif, Universiteit Stellenbosch.

Harkness, A G 1996. Intergenerational Christian education: Reclaiming a significant educational strategy in Christian faith communities. Ph D thesis, Murdoch University, Perth.

Hendriks, H J 2004. Studying congregations in Africa. Wellington: Lux Verbi.BM

Heyns, L M & Pieterse, H J C 1990. Eerste treë in die Praktiese teologie. Pretoria: Gnosis.

Jeug-studiekommissie 1976. Verslag van die Jeug-studiekommissie van die Ned. Geref. Kerk vir behandeling deur die Algemene Sinode in sitting 13 Oktober 1966 e.v.d. asook die besluite van die Algemene Sinode. 3de druk.

Lehmann, W 1999. Foreword, in Motgenthaler, S K (ed), Exploring children’s spiritual formation. Foundational issues. River Forest: Pillars Press.

Lockhart, A 2003. Part of the village. The kinship model for youth ministry. Youthworker March/April. [Online]. Available from: <http://www.youthspecialties.com/articles/topics/family/village.php> [Accessed 10 September 2005].

Malherbe, J [s a]. Children’s ministry – what, where and how. Unpublished student notes. White River: Petra College.

--- 2001. ’n Ruimer kyk op kinderbediening. Kruisgewys 1(2), 35–36.

Marais, F 2004. Riglyne vir gesprekvoering oor families. In Familiefokus – familie-aktiwiteite en eredienswenke vir gemeentes van die NG Kerk. [Aan lyn]. Uitgegee deur die AJK en BUVTON. Beskikbaar by: <http://www.jeugfokus.org.za/Verslae/Familiefokus2004.doc> [Besoek 21 Maart 2004].

May, S, Posterski, B, Stonehouse, C & Cannell, L 2005. Children matter. Celebrating their place in the church, family and community. Grand Rapids/Cambridge: William B Eerdmans.

Nel, M 1994. Gemeentebou. Halfway House: Orion Uitgewers.

--- 1998. Jeugbediening. ’n Inklusiewe gemeentelike benadering. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.

Olson, D C 2001. Out of the basement. A holistic approach to children’s ministry. Nashville: Discipleship Resources.

Roehlkepartain, E C, King, P E, Wagener, L & Benson, P L 2006b. Spiritual development in childhood and adolescence: Moving to the scientific mainstream, in Roehlkepartain, E C et al, The handbook of spiritual development in childhood and adolescence, 1-15. Thousand Oaks: Sage Publications.

Smit, D J 2003. Vernuwe! – na die beeld van ons Skepper. Wat Christene bely oor God die Skepper. Wellington: Lux Verbi.BM.

Strommen, M P & Hardel, R A 2000. Passing on the faith. Winona: Saint Mary’s Press/Christian Brothers Publications.

Thesnaar, C 2003. Familiebediening – die sleutel tot effektiewe jeugbediening. Kruisgewys 3(1), 18–20.

TREFWOORDE

Kinderbediening, Familiebediening, Jeugbediening, Sosialisering, Vorming, Genesing

KEY WORDS

Children’s ministry, Family ministry, Youth ministry, Socialising, Formation, Healing

KONTAK BESONDERHEDE

Prof HJ (Jurgens) Hendriks

Fakulteit Teologie

Universiteit Stellenbosch

hjh@sun.ac.za

Dr J (Jan) Grobbelaar

Petra Kollege Wes-Kaap

Posbus 260

De Doorns

6875

jan@petracol.org.za

1 Hierdie artikel is gebaseer op die skrywer se doktorale proefskrif (Grobbelaar 2008). Prof HJ Hendriks was die promotor.

2 Hierdie basies-teoretiese uitgangspunte is gebaseer opdie resultate (Grobbelaar 2008:402-466) van’n hermeneuties senitiewe korrelatiewe dialoog tussen die empiriese werklikheid van die sosiale konteks (Grobbelaar 2008:46-138) en die kerklike bedieningspraktyk (:139-192) waarin kinders aan die begin van die 21ste eeu in opgroei, en die bevindinge van ‘n ondersoek na Bybels-teologiese perspektiewe op kinders (:193-401).

3 Vergelyk Grobbelaar (2008:307-341) se bespreking van die belang van Matteus 18:5 in samehang met Mattesu 18:1-14 en Matteus 19:13-15 vir die bediening van kinders aan die begin van die 21ste eeu.

4 Vergelyk Marlherbe (2001) se artikel wat ’n saak daarvoor uitmaak dat ’n verpleegster wat in die kindersaal van ’n hospitaal werk, en tuis ook haar eie kinders versorg, reeds by kinderbediening betrokke is en nie eers in die gemeente se kategese of aksies gerig op kinders betrokke hoef te raak om beskou te word as iemand wat kinders bedien nie.

5 Allen se metode van ondersoek was semi-gestruktureerde onderhoude wat aangevul is met die 12-item Likert scale Religious Experience Questionnaire (Allen 2002:201-202; vergelyk 200-240 vir haar navorsingsontwerp en -prosedures). Die inligting wat by die kinders verkry is, is gegroepeer en verwerk aan die hand van vier konsepte: kennis van God, gevoelens oor God, gebed en wederkerige rasionaliteit (:241-268).

6 IG is Allen se afkorting vir intergenerational.