Tendense in kinderbediening aan die begin van die 21ste eeu1
ABSTRACT
Tendencies in children’s ministry at the beginning of the 21st century
At the beginning of the 21 century it seems that children decide to leave the church at an early stage. In trying to get a better understanding of the problems the church is facing in this regard this article describes a few tendencies in children’s ministry. Where possible these tendencies are illustrated with available statistics from the ministry of the Dutch Reformed Church. The article concludes that these tendencies challenge the church and theology to think more theologically about the foundations and practices of children’s ministry.
1. Inleiding
Dit wil voorkom of die kerk in die algemeen worstel met die effektiwiteit van kinderbediening. In die Verenigde Koninkryk het die belangrike TweenAger navorsing bevind dat baie kinders besluit om die kerk as jong adolessente te verlaat. “Boredom in church between the ages of 7 and 10 makes them leave by the time they are 13, very often never to return” (Brewster en McDonald [2004]:9). Withers (2006:11), met verwysing na die UK Christian Handbook, wys daarop dat gedurende die twintigste eeu die bywoning van Sondagskool gedaal het van 55% na 4%. Die kinderbedieningsfokusgroep van die Lausanne Committee for World Evangelization se konferensie in 2004 toon aan dat daar ’n stille erosie van kinderbediening in Westerse lande plaasvind en dat in sommige lande soveel soos 50% van die kerke nie meer ’n bediening gerig op kinders het nie (Claydon 2005:319). Brierley het reeds in 2000 bevind dat 2 uit elke 5 kerke in Engeland se eredienste nie meer deur kinders bygewoon word nie (:319). Kinders wat wel eredienste bywoon maar uiteindelik die kerk verlaat, het reeds teen die ouderdom van 9 of 10 jaar besluit dat hulle die kerk gaan verlaat sodra hulle ouers dit sal toelaat (:57). “In the West, the vast majority of children who leave church do so within two years of entering Secondary/Senior school” (:58).
Dit wil voorkom of hierdie tendens in Suid-Afrika reeds binne die NG Kerk voorkom. Sedert 1993 is daar ’n konstante daling in die aantal kinders wat inskakel by die junior kategese (Bisschoff en Schoeman 2005:31-32). In die tydperk 2000 tot 2004 was daar ’n drastiese daling in katkisante vanaf 119 908 tot 80 495. Dit is ’n daling van 32,9%. In die ooreenstemmende periode het die aantal kinders (katkisante) wat inskakel by die senior kategese ook gedaal vanaf 89 964 tot 64 506. Dit is ’n daling van 28,3%. Volgens die gemeentevraelyste is die gemeentes bewus van net 8 039 skoolgaande dooplidmate wat nie by die kategese inskakel nie. Bisschoff en Schoeman toon aan dat die daling in die aantal katkisante wat inskakel by die kategese meer drasties is as die daling in die aantal dooplidmate. Hulle is van mening dat daar waarskynlik in die omgewing van ongeveer 34 000 dooplidmate is wat veronderstel is om in die kategese te wees en nie daar is nie. ’n Deel van hierdie daling kan moontlik toegeskryf word aan die feit dat daar gemeentes is wat dooplidmate op ander maniere begelei as deur die formele stelsel van kategese. Tog wil dit voorkom asof daar ’n redelike aantal dooplidmate is wat alreeds in die fase van junior kategese uit die sisteem “verdwyn”. Op grond van hulle analise van die NG Kerk se bediening van kinders is Bisschoff en Schoeman (2005:36) van mening dat die vraag met reg gestel kan word of dit nie nodig geword het om weer ernstig te besin oor die kerk se bediening van kinders nie.
Teen hierdie agtergrond wil die artikel die kerklike kinderbedieningspraktyk aan die begin van die 21ste eeu krities ontleed in ’n poging om die dieperliggende problematiek beter te probeer verstaan. Dit word gedoen deur ’n aantal tendense wat in die bedieningspraktyk na vore kom, te beskryf en waar moontlik te aktualiseer aan die hand van statistiek wat beskikbaar is ten opsigte van die bediening in die NG Kerk. Hierdie tendense kom nie almal in alle kontekste en gemeentes voor nie en is ’n veralgemenende beskrywing ten einde te probeer orden ter wille van kreatiewe nadenke.
2. TENDENSE
2.1 Kinderbediening is nie ’n hoë prioriteit nie
Dit wil voorkom of sommige gemeentes kinders nog steeds hanteer volgens die ou kultuurbeskouing dat hulle net gesien en nie gehoor moet word nie. Van hierdie kultuurbeskouing sê Frambach (2005: Integrated, Equipped, and Empowered …): “[I]t has become embedded, over time, like a rock in a streambed, in the consciousness of many adults, and even in many of our churches—although we certainly wouldn’t want to admit it publicly or in polite company.” In hierdie gemeentes word kinders nie gewaardeer as volle deelnemende lidmate van die gemeente nie.
Eredienste word gelei asof net volwassenes teenwoordig is. Die prediking is die meeste van die tyd vir die kinders onverstaanbaar. Daar word min of geen moeite gedoen om kinders in die liturgie betrokke te kry nie. Kinders is in die erediens, maar die verwagting is dat hulle moet stilsit asof hulle reeds volwasse is. Soms praat predikante hierdie praktyk goed met die verskonings dat hulle nie die gawe het om met kinders te werk nie of dat hulle nie geleer is hoe om dit te doen nie. In sulke gemeentes is die meeste kleingroepbyeenkomste ook net op die volwassenes gerig. Kinders word of nie saamgeneem na hierdie byeenkomste nie, of hulle word aan hulleself oorgelaat om op hulle eie te speel of TV te kyk terwyl die volwassenes hulle godsdiens beoefen. Boonop word kinders se gawes in hierdie gemeentes dikwels geringgeskat en word hulle baie min of glad nie benut as deel van byvoorbeeld lofprysingbegeleiding of gemeentelike uitreikspanne nie. Kinders word dus gesien as mense wat net bedien moet word en hulle word nie gesien en gebruik as ’n bedieningsmag nie.
’n Verdere aanduiding van die tendens om kinderbediening as onbelangrik te ignoreer, is die gebrek aan betrokkenheid by en die houding teenoor kinderbediening by die leierskap van gemeentes. Barna (2003:39) wys daarop dat die meeste kerkleiers met wie hulle onderhoude gevoer het, oningelig was oor die inhoud en die praktiese inkleding van die gemeente se bediening van kinders, asook die effektiwiteit daarvan.
In baie gemeentes is min leiers direk betrokke by die bediening van kinders. Dit wil voorkom asof die meerderheid jeugleraars hulle aandag toespits op adolessente. Boonop is min mans betrokke by die bediening van kinders en word hulle bediening baie maklik gelaat in die hande van vroue. Wat die oorsake hiervan is, is nie duidelik nie. Moontlik hang dit saam met die feit dat in die opleiding van predikante daar min aandag aan kinderbediening gegee word.
In hierdie tipe gemeentes word kinders en hulle bydra geringgeskat. Godsdiensbeoefening word tot ’n groot mate ’n saak van volwassenes. Dit hang saam met wat Barna (2003:12) die mite van die moderne bediening noem: “Adults are where the kingdom action is.” Die bediening draai dus om die volwassenes. Stockton (1983:87) het alreeds die volgende verdoemende uitspraak oor so ’n tipe kerk gemaak: “A church which is almost exclusively adult in its make-up and style may well be seen to be lacking in catholicity and failing in its proclamation of the kingdom of God.”
2.2 Geloofsvormende invloed van ouers ontbreek
Alhoewel die geloofsvormende invloed van ouers oor die algemeen binne die kerk in teorie aanvaar word, wil dit voorkom of dit nie altyd in die gemeentelike bedieningspraktyk genoegsaam verreken word en tot sy reg kom nie. Barna (2003:77-78) het in die VSA bevind dat alhoewel 85% van ouers erken dat hulle primêr verantwoordelik is vir die morele en geestelike opvoeding van hulle kinders, meer as twee derdes hulle taak in die praktyk abdikeer aan hulle gemeentes. Volgens Barna (2007: The 5 Ps of Parenting) onderskat die meeste ouers die invloed wat hulle op hulle kinders kan uitoefen. “Consequently, they… neglect emphasis upon activities that would strengthen their relational bond with the children. Many parents, even those who are born again Christians, also overlook the need to foster a deeper connection between their children and God, or to enhance the child’s worldview as a critical component of their decision-making skills.”
Die kerk het moontlik self bygedra tot hierdie tendens. Lawson (2004:10) is van mening dat “the very growth of our educational ministry programs for children and youth, while beneficial to so many, can lull some parents into minimizing their own role in the spiritual instruction and nurture of their children, abdicating this function to the church.” Strommen en Hardel (2000:14) is oortuig dat die geloofsvormende invloed van ouers in baie huishoudings verdwyn het as gevolg van ’n verkeerde paradigma onderliggend aan die bediening van kinders. “[T]he teaching and nurturing of faith in Protestant congregations today is associated primarily with the church building, or what is often called the ‘Godbox’. Over the years the message has been, ‘Let the professionals do the teaching. They know the best.’ So, parents send their children to the church for Sunday school or other religious instruction, handing the responsibility of faith education to the teachers” (:17).
2.3 Familiebediening kom nie tot sy reg nie
Min gemeentes is regtig familiegerig en spits hulle daarop toe om ouers te help om hulle geloofsvormende roeping ten opsigte van hulle kinders te vervul. Sommige gemeentes moedig ouers net aan om eredienste by te woon en hulle kinders saam te bring en Sondagskool by te woon. Waar ouers en kinders boonop in aparte eredienste bedien word of waar kinders se behoeftes in die erediens geïgnoreer word, is dit geen verrassing nie dat ouers feitlik week na week die kerkgebou verlaat “with few tools to help them care for the souls of their children” (Beckwith 2004:103). Alhoewel daar in teorie baie gemaak word van familiebediening, gaan dit in die praktyk dikwels net op in die sporadiese aanbieding van huweliks- en gesinsverrykingsprogramme. Daar kom min tereg van ’n deurlopende program van ouerbegeleiding ten opsigte van hulle verbondstaak. Strommen en Hardel (2000:97) verwys in dié verband na ’n ondersoek in die VSA wat bevind het dat “only 7 percent of Christian education coordinators in the six major Protestant denominations said their church emphasize helping parents promote faith in their children.”
Richter en Francis (1998:87) wys op bevindings van twee ondersoeke deur die “Church of Scotland” waarvan die implikasie met betrekking tot familiebediening nogal kommerwekkend is. In die eerste ondersoek het 50% van die jongmense aangetoon het hulle familie vir hulle die belangrikste bron van inligting oor die Christelike geloof en praktyk was. ’n Ander ondersoek onder die kerk se predikante het egter bevind dat net 1% van hulle gedink het dat families ’n belangrike bron van hierdie soort inligting vir kinders is. Indien dit ’n predikant se persepsie is, sal familiebediening nie vir die predikant belangrik wees nie.
In Kerkspieël V (Bisschoff 1998:31) word die gevolgtrekking gemaak dat daar in die NG Kerk ernstig besin sal moet word of daar in die praktyk regtig genoegsame aandag aan familiebediening gegee word. Volgens hierdie opname het 50.8% van die gemeentes geen familiebedieningsprogramme of -aksies aangebied nie. In die meeste gevalle was die Vrouediens (80.2%) verantwoordelik vir dit wat wel aangebied is. Hierdie programme bereik dikwels net die vroue in die gemeente. Familiebediening kry dus nie deurlopend aandag nie en word ook nie genoegsaam geïntegreer in die totale bedieningspraktyk nie. Ongelukkig is daar nie in Kerkspieël 2000 of 2004 aandag gegee aan die saak van familiebediening nie en is latere gegewens dus nie beskikbaar nie. Is dit bloot toevallig of is dit ’n simptoom van die tendens wat hier bespreek word?
2.4 Kinderbediening bestaan hoofsaaklik uit kategese
Dikwels word die klem in kinderbediening so geplaas op kategese dat die bediening van kinders in gemeentes opgaan in kategetiese arbeid. Hierdie tendens is die gevolg van die onderskeid wat in die verlede tussen jeugbediening, as ampsbediening en kategese, en die “nie-amptelike” of “georganiseerde jeugwerk” gemaak is (Nel 1998:9, 51-58).
Die klem op kategese as “Christian education” het verder daartoe gelei dat die bediening van kinders ontwikkel het in ’n skoolmodel (Harkness 1996:4-6; Roberto en Pfiffner 2007:1) met die gevolg dat kognitiewe gerigtheid in die kategese die botoon begin voer het en dat die affektiewe, die handelinge en ervarings van die katkisante self, verwaarloos is (Beukes 1995:13; Roberto en Pfiffner 2007:1). Hierdie klem kan toegeskryf word aan die invloed van die Griekse filosofie se beklemtoning dat die mens die goeie sal kies as hy dit leer ken. Die oordrag van kennis word gevolglik die hoogste prioriteit in die kategese want ’n persoon se oortuigings, houdings waardes en gedrag word gesien as die noodwendige uitvloeisel van die regte kennis wat oorgedra is (Prins 1990:73). Die veronderstelling waarmee gewerk is, is dat die ander aspekte van die bediening van kinders, byvoorbeeld die affektiewe, in die ouerhuis en ander lewensverbande genoegsaam aandag gekry het. In die verlede het dit tot ’n mate gewerk, maar hierdie breë bedding van sosialisering waarbinne geloofsvorming plaasgevind het, ontbreek al hoe meer in kinders se lewens (:75). Kategesevernuwing alleen is dus dikwels nie suksesvol is nie.
2.5 Differensiasie in ooreenstemming met kinders se ontwikkelingsfases word oorbeklemtoon
In baie gemeentes is daar ’n groeiende bewuswording van die belangrikheid van kinders en hul bediening. Kinders se eie unieke bedieningsbehoeftes en hulle ontwikkelingsfases word gevolglik in ag geneem en meer en beter programme gerig op kinders word met oorgawe aangebied. Kinders word selfs volgens hulle ontwikkelingsfases in verskillende eredienste vir kinders bedien. Ook in die NG Kerk hou al meer gemeentes ’n aparte erediens vir kinders. Die aantal gemeentes wat ’n aparte kinderdiens hou het volgens Kerkspieël 2004 van 43% in 1993 tot 57% in 2004 gestyg (Bisschoff en Schoeman 2005:50). Dit is opvallend dat dit in die meeste gevalle ’n erediens net vir die kleiner kinders, sonder hulle ouers, is. Net 10.9% gemeentes hou ’n erediens gerig op kleiner kinders saam met hulle ouers. Die aparte kinderdienste word in die meeste gevalle (72.7%) deur ’n lidmaat gelei. Bisschoff en Schoeman se gevolgtrekking is dat dit wil voorkom asof hierdie kinderdienste ’n baie bepaalde bediening binne hierdie gemeentes geword het. Ook in gemeentelike kleingroepe word daar dikwels groot moeite gedoen om kinders op hulle vlak en apart van die volwassenes te bedien.
Daar is tyd en plek vir differensiasie. Die vraag is egter: Is gemeentes nie dalk besig om hulself in die voet te skiet met hierdie praktyk nie? 'n Verbondsgeoriënteerde kerk behoort die klem op familie-eenheid te lê. Nogtans word families so uitmekaar gehaal dat Sondae dikwels as die “most segregated hour of the week” ervaar word (Prest 1993:10). Die ironie is dat dit wil voorkom of hierdie fragmentasie in die gemeentes wat die “suksesvolste” kinderbediening het, die duidelikste na vore kom. Die gevolg is dat daar in hierdie gemeentes baie min intergenerasionele interaksie is. Hinrichs (in Frambach 2005: In an Intergenerational Matrix) bevestig hierdie waarneming soos volg: “[T]here is generally very little conscious awareness of any need for intergenerational activity that enables people to experience “koinonia” wherein needs are shared, spiritual bonding occurs, people are energized, and “diakonia” is empowered. The norm is fragmentation in congregational life.” Volwassenes beoefen op hulle eie hulle “volwasse” godsdiens en kinders beoefen op hulle eie hulle “kinder” godsdiens.
Die kinders word dus nie in die totale lewe van die gemeente ingetrek nie en eie bedieningstrukture, selfs eie infrastrukture, word vir hul bediening ontwikkel. Dit bring skeiding tussen die kinders en die “volwasse gemeente” en die kinders kan maklik ’n “aparte gemeente” binne die gemeente word wat uitgesluit word uit die “ware/eintlike gemeente.” Dit hou die gevaar in van die ontwikkeling van ’n ander spiritualiteit by die kinders as by die res van die gemeente. Wanneer kinders nie in die gemeenskaplike erediens ingesluit word nie, kan hulle nie ’n waardering vir die bepaalde denominasie se liturgie en eredienstradisie ontwikkel nie. Beckwith (2004:151) is van mening dat kinders in die aparte kinderdiens ’n houding ontwikkel dat die erediens ’n plek is waar mense vermaak moet word. Dit is ’n houding wat nie eensklaps verdwyn op ’n gegewe ouderdom nie.
Kinders voel dus later nie meer tuis saam met die volwassenes in gemeentelike byeenkomste en aksies nie, want daar is by hulle ’n gebrek aan ’n gevoel van verwantskap met die gemeente omdat hulle gemarginaliseer is na die periferie van die gemeentelike lewe. In ’n ondersoek deur middel van gestruktureerde onderhoude in ’n bepaalde gemeente wat hulle bediening só inrig, het Van der Merwe (2004:46) bevind dat kinders dikwels verwys na “my ma-hulle se kerk” of “my pa-hulle se dominee.” Hulle het dikwels die kollektiewe voornaamwoord “ons” gebruik, maar nooit die persoonlike voornaamwoord “my” nie. Hy maak hieruit die volgende gevolgtrekking: “Hierdie uitdrukkings verklap die afstand wat daar tussen gemeentes, predikante en die kinder- en jeugbedieninge heers. Hierdie afstand bestaan omdat kinders nie ten volle deel van die gemeente voel nie, maar hul betrokkenheid eerder as uitvloeisel van hulle ouers se verwantskap met die gemeente, ervaar.”
In hierdie benadering word baie klem geplaas op goeie programmateriaal en kurrikulum. Baie tyd word spandeer aan die ontwikkeling van die regte materiaal in die gemeente of dit word ten duurste aangekoop by gespesialiseerde uitgewers. Blevins (2004:144) wys tereg daarop dat globalisering ernstige gevare op hierdie gebied inhou en hy gebruik die term McWorld om hierdie proses te beskryf.
Alhoewel gedifferensieerde kurrikulums waarde het vir kognitiewe leer, het die pendulum dalk net te ver in hierdie rigting gedraai (Stafford 2005:64). Hoe goed hierdie differensiasie ook al bedoel is, neig dit om net een aspek van die ontwikkeling en behoeftes van kinders, naamlik die intellektuele of kognitiewe ontwikkeling, te beklemtoon. Kinders se kognitiewe vermoë om te leer en kommunikasie met woorde te verstaan, word dus verabsoluteer en as norm gebruik vir hoe geloofsvormingsaktiwiteite ingerig moet word. Die fout lê nie in die ontwikkelingsielkunde self of in die feit dat dit in ag geneem moet word in die bediening van kinders nie, maar in die manier hoe dit gebruik word. Die unieke van kinders word so beklemtoon dat kinders losgemaak word uit hulle sosiale sisteme. Die behoefte aan mekaar in die gemeenskap van die gelowiges word nie meer raak gesien nie. Die individualiteit van elke kind en elkeen se individuele geloofsontwikkeling en die verwesenliking van sy/haar potensiaal kry al die klem. In die proses kan daar ’n subtiele skuif plaasvind na self-ontwikkeling en soms self-bevrediging, selfs geestelike self-bevrediging (vergelyk Regele 1995:39).
In die proses word die program maklik die bediening en daar moet voortdurend “bigger, better, and glitzier” programme (Beckwith 2004:11) vir die kinders aangebied word sodat meer kinders meer gereeld na die gemeente getrek kan word. Die gevolg is dat kinderbediening eintlik ’n bemarkingsmiddel word (Beckwith 2004:104). Kinderbediening word dus aangegryp as ’n geleentheid om meer volwasse lidmate te werf (Mercer 2005:33). ’n Subtiele skuif vind plaas: die bediening van kinders is nie meer belangrik ter wille van die kinders self nie, maar ter wille van die volwasse lidmate wat met hulle insette in die gemeente ingetrek kan word. Volgens Mercer (2005:33) is daar ’n groter dinamika aan die werk: die vormende krag van die verbruikerskultuur op die godsdienstige lewe en bedieningspraktyke van gemeentes. Met reg waarsku Lawson (2004a:10) dat kerke moet oppas dat hulle sogenaamde sukses met al meer gespesialiseerde bedieninge aan kinders en adolessente nie sal lei tot selfvoldaanheid nie “with less inclination to assess critically our ministry efforts.” Hy wys tereg daarop dat sulke selfvoldaanheid “can also make us less sensitive to the changing society around us, with changing needs and ministry opportunities” (:10). Volgens hom (:10) is dit een van die gevare wat die kerk bedreig: die verafgoding van ’n bepaalde tipe bediening, “loyalty to a ministry approach instead of sensitively following the God we serve as we are led into new territory.”
2.6 Leer en lewe word nie genoegsaam geïntegreer nie
Kinderbediening sukkel dikwels om leer en lewe in kinders se lewens te integreer. Dit word duidelik geïllustreer deur die volgende bevindinge van Barna (2003:123-124) in die VSA oor wat predikante dink hulle gemeentes in slaag om in kinders se lewens te bereik en wat in feite waar is van kinders:
• Two-thirds (64 percent) of the nation’s Protestant senior pastors claim their church is doing an excellent or good job of helping kids to share their faith in Christ. However, we found that a large portion of churched kids never do so.
• Four-fifths of our senior pastors say their church is doing an excellent job of enabling kids to understand and engage in worship. Our studies among kids show that 4 out of every 5 churched 13-year-olds do not know what worship is, and a substantial majority of them admits that they do not feel thay have ever experienced God’s presence.
• Three-quarters (74 percent) of the pastors interviewed claim their churches is doing an excellent or good job of getting kids to adopt a biblical worldviewe. In spite of that, we know that fewer than 5 percent of churched kids who are born again have a biblical worldview by age 13.
Die sterk pedagogiese gerigtheid van die kategese met sy klem op veral die kognitiewe, lei daartoe dat die kategese neig om eerder ’n informerende sisteem as ’n transformerende sisteem te wees. In dié verband maak Harkness (1996:105) die volgende geldige opmerking: “Too often in congregations the transmission of Christian knowledge is an activity designed to attempt to modify peoples’ belief systems at a cognitive level, rather than impacting on their total personalities, as if in some way the transmission per se has an efficacy for Christian development.” Nel (1998:137) bevestig hierdie sentiment as hy die mening uitspreek dat onderrig “’n baie formele, byna geoutomatiseerde transportering van informasie geword het. Hoe meer dit die geval is, hoe kleiner word die uitset in terme van jongmense wat met besieling en uit oortuiging lidmate van gemeentes word.”
Die skeiding van die kategese en aksies soos dit in die NG Kerk gedoen word, vergroot hierdie gevaar omdat dit wat in die kategetiese onderrig geleer word nie genoegsaam geïntegreer is in die jeugaksies nie. Hierdie benadering sukkel om in die praktyk te werk doodeenvoudig omdat kinders nie inskakel by die aksie-deel van die bediening nie. Volgens Kerkspieël 2004 (Bisschoff en Schoeman 2005:35) het net 20 146 kinders in 2004 ingeskakel by enige aksie wat op die kinders in die junior kategese gerig was teenoor 45 386 kinders wat in 2000 ingeskakel het. Die persentasie inskakeling by die aksies gerig op die kinders wat deel is van die junior kategese was dus in 2004 net 25%. Dit is ’n drastiese daling van die 46,53% wat in 1993 ingeskakel het (Bisschoff 1998:140). Al meer gemeentes bied glad nie meer ’n aksie gerig op kinders aan nie. Barna (2005: Other programs) het in die VSA bevind dat van 1997 tot 2004 daar ’n 10% daling was in die aantal gemeentes wat programme vir kinders in die week aangebied het.
Wat die integrasie van leer en lewe verder bemoeilik is dat kinders nie genoegsaam in gemeentes gehelp word om die leer in praktiese dienswerk uit te leef nie. Beukes (1995:13) was reeds van mening dat kinders uit die gemeente na die rand gerangeer word en hoofsaaklik as arbeidsveld en nie as arbeidsmag nie, gesien en hanteer word. Kinders word wel tot ’n geringe mate by die kerk se kom-strukture betrek, maar baie min by die gaan-strukture. Dit hang heel moontlik saam met die feit dat in geloofsvorming die vorming van kinders se missionale identiteit nie genoegsaam aandag kry.
2.7 Kinderbediening is nie genoegsaam na buite gerig nie
Alhoewel dit nie op die oomblik met nagevorsde statistiek bewys kan word nie, wil dit voorkom asof die meeste gemeentes van die NG Kerk se bediening van kinders in baie opsigte ’n na binne gerigte bediening is. Daar word baie min uitgereik na kinders buite die gemeente. Dit is veral ontstellend as in ag geneem word dat uit Suid-Afrika se totale kinderbevolking onder 15 jaar van 14 362 287 in 2001 net 272 907, of 1,9%, deur die NG Kerk bedien word (Grobbelaar 2008:163). Boonop het die aantal swart- en bruinkinders onder 15 jaar in die Suid-Afrikaanse bevolking vanaf 1996 tot 2001 toegeneem vanaf 12 407 244 tot 13 286 486, maar die aantal swart- en bruinkinders wat aan die NG Kerk Familie behoort het dramaties afgeneem van 795 637 tot 478 309 (:163). Verder is dit duidelik dat die Reformed Church in Africa weinig impak op die kinderbevolking van die Indiër en Asiatiese bevolkingsgroepe het omdat hulle in 2001 net 553 dooplidmate gehad het uit die 259 426 Indiër en Asiatiese kinders onder 15 jaar in Suid-Afrika (:163).
Die uitreik na kinders buite die tradisionele grense van die gemeentes van die NG Kerk word bemoeilik deur die reste van die apartheidsverlede in die Suid-Afrikaanse samelewing en die NG Kerk. Die meeste kinders in nood bly buite die daaglikse lewenswêreld en gesigsveld van baie lidmate van die NG Kerk en hulle word dus min direk met hierdie nood gekonfronteer. Die gebrek aan kerkeenheid tussen die familie van NG Kerke maak dit net nog moeiliker om hierdie kinders se leefwêreld te betree.
Die waarneming dat die gemeentes van die NG Kerk min uitreik na kinders buite die gemeente is in ooreenstemming met die algemene beeld van die NG Kerk wat in Kerkspieël 2004 na vore kom as ’n kerk waarin die meeste gemeentes min verstaan van hulle missionale roeping in die wêreld en dus meesal na binne gerig en met opbou besig is (Bisschoff en Schoeman 2005:21). Bisschoff en Schoeman (:21) wys daarop dat op die vraag “Wat is die vier belangrikste doelwitte/stellings waarop die kerkraad ooreengekom het?” die eerste drie groepe van antwoorde die klem plaas op na binne gerigte aksies soos opbou, geestelike groei, erediensgroei, versorging en onderlinge omgee en dat die na buite gerigte aksies soos uitreik en getuienis in die vierde plek geplaas is. Boonop wil dit voorkom asof evangelisasie ’n bedieningsterrein is wat al minder aandag in gemeentes kry (:22). Net 47,7% van die gemeentes het ’n georganiseerde evangelisasiebediening gehad teenoor 56% van gemeentes in 1996. Ongeveer twee-derdes van die gemeentes is wel by gemeenskapsontwikkelingsprojekte, waarvan die meeste by voedingskemas, betrokke (:37). Slegs 12% van die gemeentes het ’n MIV-strategie (:38). Verder het net 23,8% van die gemeentes 'n armoede- en werkskeppingstrategie (:39). Bisschoff en Schoeman (:42) se slotsom is: “Gemeentes het ’n behoefte aan ’n behoorlike strategie en roeping, veral as missionêre gemeenskap. Te veel gemeentes funksioneer sonder ’n strategie en is net op oorlewing en instandhouding ingestel. ’n Behoorlike ingesteldheid op diens aan die gemeenskap ontbreek by baie gemeentes.” Alhoewel ’n groot aantal gemeentes deur middel van voedingskemas wel kinders uit die armer dele van die Suid-Afrikaanse gemeenskap bedien, is dit jammer dat so min gemeentes ’n strategie het om faktore soos armoede en die MIV-pandemie wat die lewens van kinders ernstig raak, aan te spreek.
Dit sal natuurlik verkeerd wees om die afleiding te maak dat die NG Kerk glad nie betrokke is by die bediening van die gemarginaliseerde en noodlydende kinders in die breër gemeenskap nie. Deur die omvattende dienste wat die NG Kerk op die terrein van die Diens van Barmhartigheid deur middel van onder andere haar Kerklike Maatskaplike dienste en Inrigtingsorg bied, word wel van die kinders in die breër gemeenskap ook bedien. Die samesmelting van die Kerklike Maatskaplike dienste van die NG Kerk en die VGK se Diakonale dienste in die Wes- en Suid-Kaap in BADISA dra daartoe by dat die NG Kerk in hierdie gebied al meer betrokke raak by die bediening van kinders in armer gemeenskappe. Ongelukkig is dit waar dat daar nie baie lidmate by hierdie barmhartigheidsaksies betrokke is nie en, alhoewel nie onbelangrik nie, is vele lidmate se betrokkenheid beperk tot die gee van finansiële bydraes.
Dit wil voorkom of daar agter hierdie tendens ten diepste ’n verkeerde kerkbegrip en verstaan van kinderbediening teenwoordig is. “Children’s ministry, more often called ‘children’s work’, is considered as a nurture programme that happens on Sunday morning in the church building or a hall nearby” (Withers 2006:13). Kinderbediening is dus gerig net op die kinders wat na die kerk toe kom in plaas van dat kinderbediening uitbeweeg na waar die kinders is en hulle in hulle lewenswêreld ontmoet. Hierdie eksklusief na-binnegerigte sisteem is in stryd met die oorspronklike doel van die Sondagskool as ’n sosiale uitreikasie wat die kinders buite die kerk wou evangeliseer (vergelyk Grobbelaar 2008:158).
Die min aandag wat die uitreik na kinders buite die gemeente kry is nie net ’n tendens binne die NG Kerk nie, maar eintlik ’n verskynsel ten opsigte van sendingwerk wat oor die algemeen voorkom. Hieroor merk Johnstone (1998:251) op: “Looking back over the twentieth century it is astonishing to see how little ministry to children has featured as a major concern for mission agencies in recruitment, in discussion at international conferences and in deployment of resources.” Hy wys verder daarop dat die Lausanne Sendingkonferensie van 1974 geen verwysing na kinders het nie behalwe om te sê dat alle mense ongeag ouderdom na die beeld van God geskep is. By die Lausanne Consultation on World Evangelization in Thailand in 1980 het nie een van die 23 werkswinkels iets met betrekking tot die bediening van kinders aangebied nie. Stafford (2005:5-6) verwys na hierdie gebeure as die kerk se verwaarlosing van kinders en noem dit die “sins of omission.” In 1997 het daar by die Global Consultation on World Evangelization wel ’n regstelling gekom en het een van die taakgroepe gefokus op die bediening van kinders. Een van die uitkomste van hierdie konferensie was die erkenning van die strategiese belangrikheid van die 4/14 Window, wat verwys na kinders tussen die ouderdom van 4 en 14 jaar, in sendingwerk (Brewster 2003:179).
3. Gevolgtrekking
Die uitdaging waarvoor die kerk en teologie staan is om die gebrokenheid waaronder die bediening van kinders aan die begin van die 21ste eeu ly, te herstel deur nuwe maniere van dink en doen, nuwe paradigmas ten opsigte van kinderbediening te ontwikkel (Beckwith 2004:16-17). In die proses is dit noodsaaklik dat daar aandag gegee sal word aan meer kreatiewe nadenke oor die teologiese onderbou van die bediening van kinders sodat goeie teologiese grondslae ontwikkel kan word waarop ’n effektiewer bedieningspraktyk gebou kan word (vergelyk Nel 1998:9; Strommen en Hardel 2000:195). Alhoewel kennis uit die ontwikkelingsielkunde, opvoedkunde, sosiologie en kommunikasiewetenskappe uiters belangrik is vir die bediening van kinders, moet daarteen gewaak word om nie so daarop te fokus dat die teologiese nadenke nie tot sy reg kom nie (vergelyk Beukes 1995:18; Grobbelaar 2008:11-12; Senter 2001:31; Westerhoff [1976] 2000:1-23). Daar moet veral daarteen gewaak word dat die pragmatiese georiënteerdheid op wat gedoen moet word en wat werk nie lei tot wat Kim (2004) “ecclesiastical pornography” noem nie. Dan word programme en modelle van sogenaamde suksesvolle bedienings, selfs vanuit ander teologiese tradisies, net so oorgeneem deur gemeentes sonder enige kontekstuele teologiese nadenke (vergelyk Dean 2005; Dunn 1997:27; Harkness 1996:14; Ruso 2005). Almal wat betrokke is by die bediening van kinders behoort daarom te leer om te beweeg “beyond managerialism” na die beoefening van ’n meer “reflective ministry” (Van der Ven 1998). In die woorde van Nel (2005:17) vra dit om te “reflect upon the ministry with regard to knowledge, insight, competency and attitude as to what we do, why we do it, how we do it, and with what attitude we do what we do.” In hierdie teologiese nadenke behoort daar veral oor kinderbediening nagedink te word vanuit ’n ekklesiologiese perspektief en behoort ’n prakties-teologiese ekklesiologie wat kinders verreken as wesenlik deel van die gemeente, ontwikkel te word (vergelyk Dunn en Senter 1997:673-674; Nel 2003:79; Wright en Kinser 2004: From programs to people)
BIBLIOGRAFIE
Barna, G 2003. Transforming children into spiritual champions. California: Regal Books
--- 2005. Sunday School is changing in under-the-radar but significant ways. The Barna Update, [Online]. Available from: <http://www.barna.org/FlexPage.aspx?Page=BarnaUpdate&BarnaUpdateID=192> [Accessed 11 July 2005].
--- 2007. Barna finds four mega-themes in recent research. The Barna Update, [Online]. Available from: <http://www.barna.org/FlexPage.aspx?Page=BarnaUpdateNarrowPreview&BarnaUpdateID=285> [Accessed 3 December 2007].
Beckwith, I 2004. Postmodern Children’s ministry. Grand Rapids: Zondervan.
Beukes, M J du P 1995. Ontwikkeling van die kategese tot ’n familiale-gemeentelike geloofshandeling. Praktiese Teologie in Suid-Afrika 10(2), 13-26.
Bisschoff, J H (red) 1998. Kerkspieël V. Verslag van die vyfde wetenskaplike opname van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Maart 1996 in opdrag van die Algemene Sinode. Pretoria: Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk.
--- 2005. Kerkspieël 2004. Verslag van die sewende wetenskaplike opname van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Maart 2004 in opdrag van die Algemene Sinode. Pretoria: Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk.
Blevins, 2004. Global pedagogy. “A table conversation.” Christian Education Journal Series 3, 1(3), 141-151.
Brewster, D 2003. Children “at risk’ because they have not heard the Good News: The 4/14 window, in Miles, G & Wright J (eds), Celebrating Children. Equipping people working with children and young people living in difficult circumstances around the world, 175-181. Carlisle: Paternoster Press.
Brewster, D & McDonald [2004]. Children – the great omission? [Online]. Viva Network. Available from: <http://www.viva.org/?page_id=286> [Accessed 27 July 2005].
Dean, K C 2005. Getting out of God’s way. Freeing our inner theologian. Youthworker January/February. [Online]. Available from: <http://www.youthspecialties.com/articles/topics/theology/inner_theologian.php> [Accessed 10 September 2005].
Dunn, R R 1997. A Theological framework for doing youth ministry, in Dunn R R & Senter M H III (eds), Reaching a generation for Chris, 45-68. Chicago: Moody Press.
Dunn, R R & Senter M H III (eds) 1997. Reaching a generation for Christ. Chicago: Moody Press.
Frambach, N 2005. Seen and heard: A theology of childhood. Paper presented at the 6th International conference of the International Association for the study of Youth Ministry. London. [Online]. Available from: <http://iasym.org/conf2005london/papers/frambach.htm> [Accessed 9 September 2005).
Grobbelaar, J 2008. ’n Ondersoek na die bediening van laerskoolkinders in en deur die gemeente as intergenerasionele ruimte. DTh proefskrif, Universiteit Stellenbosch.
Harkness, A G 1996. Intergenerational Christian education: Reclaiming a significant educational strategy in Christian faith communities. Ph D thesis, Murdoch University, Perth.
Johnstone, P 1998. The church is bigger than you think. Structures and strategies for the church in the 21st century. Ross-shire: Christian Focus Publications.
Kim, H 2004. Ecclesiastical Pornography. The Danger of Popularity in Youth Ministry. Youthworker July/August. [Online]. Available from: <http://www.youthspecialties.com/articles/topics/power/ecclesiastical.php> [Accessed 26 September 2005].
Lawson, K E 2004a. Evangelical Christian education in the later 20th century: Growing influence and Specialization, Christian Education Journal Series 3, 1(2), 7-14.
Mercer, J A 2005. Welcoming children. A practical theology of childhood. St. Louis: Chalice Press.
Nel, M 1998. Jeugbediening. ’n Inklusiewe gemeentelike benadering. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.
--- 2003. Youth ministry as a practical theology: making a case for youth ministry as an academic discipline. Journal of Youth and Theology 2(1), 68-83.
--- 2005. Why theology? It is only youth ministry. Journal of Youth and Theology 4(1), 8-22.
Prest, E 1993. From one generation to another. Pinelands: TFL Publishing.
--- 1999a. God’s Word on children. Pinelands: TFL Publishing.
Prins, J M G 1990. Geïsoleerde onderrig - die dilemma van die kategese. Ned Geref Teologiese Tydskrif 31(1), 72-81.
Regele, M 1995. Death of the Church. Grand Rapids: Zondervan Publishing House.
Richter, P & Francis, L J 1998. Gone but not forgotten: Church leaving and returning. London: Darton, Longman & Todd.
Roberto, J & Pfiffner, K 2007. Best practices in children’s faith formation, Lifelong faith, Fall/Winter, 1-8. [Online]. Available from: <http://www. lifelongfaith.com/media/Journal%20Articles/BestPractices-ChildrenFaithFormation.pdf> [Accessed 30 September 2008].
Ruso, D 2005. Theology of youth ministry; an oxymoron. Youthworker January/February. [Online]. Available from: <http://www.youthspecialties.com/articles/topics/theology/oxymoron.php> [Accessed 10 September 2005].
Senter, M H III 2001. Four views of youth ministry and the church. Grand Rapids: Zondervan.
Stafford, W 2005. Too small to ignore. Why children are the next big thing. Colorado Springs: Watebrook Press.
Stockton, I 1983. Children, church and kingdom. Scottish Journal of Theology 36(1), 87-97.
Strommen, M P & Hardel, R A 2000. Passing on the faith. Winona: Saint Mary’s Press/Christian Brothers Publications.
Van der Merwe, J 2004. Kinderbedienings: ’n Prakties-teologiese verkenning van probleme en evalueringsmoontlikhede. M Div werkstuk, Universiteit Stellenbosch.
Van der Ven, J A 1998. Education for reflective ministry. Leuven: Peeters Press.
Westerhoff, J H [1976] 2000. Will our children have faith? Revised and expanded edition. Harrisburg: Morehouse Publishing.
Withers, M 2006. Mission-shaped children. London: Church House Publishing.
Wright, D & Kinser, D 2004. Post-relational youth ministry. Beyond youth work as we know it. Youthworker September/October. [Online]. Available from: <http://www.youthspecialties.com/articles/topics/pastpresentfuture/post-relational.php> [Accessed 10 September 2005].
TREFWOORDE
Kinderbediening, Kategese, Familiebediening, Geloofsvorming, Gesin
KEY WORDS
Children’s ministry, Sundayschool, Family ministry, Faith formation, Family
KONTAK BESONDERHEDE
Dr J (Jan) Grobbelaar
1 Hierdie artikel is gebaseer op ’n hoofstuk in die skrywer se doktorale proefskrif (Grobbelaar 2008:139-192). Prof HJ Hendriks was die promoter.