Hansen, LD
Universiteit van Stellenbosch

Gereformeerde mistiek? ’n Heroorweging van “bevinding” by KH Miskotte

ABSTRACT

Reformed mysticism? Reconsidering “bevinding” in KH Miskotte

Given the world-wide growth in interest in mystical or contemplative spirituality – also amongst Reformed Christians – this article asks what constitutes authentic mysticism in light of 20th-century corrections and retrievals of definitions of this phenomenon as reflected in the widely accepted definition of mysticism by Bernard McGinn. The similarities and differences between mysticism in this sense and Dutch theologian Kornelius Miskotte’s term “bevinding” is investigated as amounting to mysticism while retaining characteristic Reformed emphases.

GEREFORMEERDE WANTROUE JEENS MISTIEK

Alreeds ’n aantal dekades lank is daar wêreldwyd ’n groeiende belangstelling in die Christelike spiritualiteit, ook in mistieke of kontemplatiewe (soos mistiek tot in die 15de eeu genoem is) spiritualiteit – ook onder Gereformeerde gelowiges (sien Waaijman 2002:1-2; McGrath 1991:8; Rice 1991:7ff; Beumer 1993:113). Laasgenoemde word egter dikwels in hulle soeke gekonfronteer deur ’n eeue lange Gereformeerde suspisie jeens die mistiek. Samevattend beskou, word die mistiek dan gesien as buitengewone, ekstatiese ervarings en visioene wat ’n vorm van sielkundige afwyking is eerder as ’n legitieme godsdienstige (en allermins Christelike) ervaring; ’n hoogs elitistiese verskynsel, beperk tot ’n uitgesoekte minderheid – diegene in kontemplatiewe monnikke- of nonne-ordes; ’n menslik-geïnisieerde soeke na God, wat weinig plek vir Goddelike inisiatief en die Gereformeerde sleuteloortuigings van sola gratia en sola fide laat; ’n onbybelse, Hellenistiese korruptering van die Christelike geloof, los van die liturgiese en sakramentele tradisie van die kerk, wat die Gereformeerde sola scriptura-beginsel ondergrawe; altyd gemik op ’n versmelting tussen die mens en God, wat die onderskeid en afstand tussen God en mens ontken; ’n wêreldmydende verskynsel gerig op individuele geestelike ervarings, met weinig belang in of invloed op die wêreld rondom die mistikus (vergelyk Bras 2003:753-59; Jelsma 2003:815-21).

MISTIEK: ’N GESKIEDENIS VAN SKEEFTREKKING EN KORREKSIE

Vir al die bogenoemde punte van kritiek sal mistici uit die geskiedenis as voorbeelde voorgehou kan word. In die ±2 000 jaar lange geskiedenis van die Christelike mistiek het skeeftrekkings beslis plaasvind. In die ±300 jaar voor die einde van die 19de eeu het baie kritici (en verdedigers!) van die mistiek dit presies verstaan soos wat bogenoemde kritiek dit verwoord. Veral sedert die Verligting is toenemend aan die mistiek gedink aan die hand van sielkundige toestande. Mistieke ervarings het ’n manier geword om godsdienstige aansprake te beoordeel – of te veroordeel. “Misties” het vir baie die uitsluitlike betekenis van “enigmaties”, “geheimsinnig” of “vreemd” gekry. “Mistiek” sou verwys na ’n besondere sfeer van die werklikheid, vreemd aan gewone gelowiges, met ’n eie taal, logika en kundiges – die “mistici”. Op die uiteinde van die proses “[m]ysticism became synonymous with fanaticism and error … Mysticism became a term of opprobrium” (Waaijman 2002:356).

Een probleem is dat mistiek ’n geweldig moeilike verskynsel is om te definieer, soos die wye verskeidenheid (selfs weersprekende) definisies daarvan bewys (sien Baers 2003:145; Steggink 2003:27). Sedert die einde van die 19de eeu is talle algemeen aanvaarde opvattings oor die mistiek egter bevraagteken, en gepoog om mistiek opnuut te definieer. Dit is gedoen deur hernude ondersoeke na die oudste bronne van die Christelike mistiek in die patristiek, vroeë Christelike liturgie en selfs verder terug – in die Bybel. Aan die einde van die 20ste eeu en hierdie ingewikkelde geskiedenis van korreksies vind ons ’n definisie van mistiek – dié van gesaghebbende kenner van die verskynsel, Bernard McGinn – wat ’n herwonne betekenis van die mistiek weerspieël.

’N DEFINISIE VAN MISTIEK: BERNARD MCGINN

In die eerste plek verwys outentieke mistiek vir McGinn altyd na ’n proses; nie na geïsoleerde, ekstatiese godsdienstige “ervarings” nie. McGinn vermy die uiters dubbelsinnige term “ervaring” heeltemal ten gunste van die formulering van mistiek as ontmoeting en as die bewussyn van God se teenwoordigheid (McGinn 1994a:273; vergelyk Baers 160): “Thus we can say that the mystical element in Christianity is that part of its belief and practices that concerns the preparation for, the consciousness of, and the reaction to what can be described as the immediate or direct presence of God” (1994a:xvii).1

Verder, indien mistiek neerkom op ’n vereniging tussen God en mens tot die punt van versmelting, meen McGinn dat min “mistici” in die geskiedenis die benaming sou verdien (1994a:273, 276, 299). Dit is ook duidelik dat McGinn mistiek nie as ’n wêreldmydende verskynsel sien, sonder enige invloed vanuit en op die wêreld om die mistikus nie: “Although the essential … goal … of mysticism may be conceived of as a particular kind of encounter between God and the human, … everything that leads up to and prepares for this encounter, as well as all that flows from or is supposed to flow from it … is also mystical” (1994a:xvi). Soos baie kenners van mistiek, reken McGinn dus dat, in die klassieke terminologie, die via activa en die via contemplativa nie wedersyds uitsluitend en onversoenbaar is nie, maar dat aksie ’n konstitutiewe deel van outentieke mistiek vorm.

McGinn is ook, soos baie 20ste-eeuse ondersoekers van die mistiek, opnuut bewus van die Bybelse wortels daarvan en die plek van die mistiek binne die sakramentele lewe van die kerk.2 Hy verwerp ook die siening daarvan as elitistiese verskynsel in die Christelike tradisie, en steun die siening van die universaliteit van mistiek vir alle gelowiges (1994a:286-88, 296).

Ten slotte voeg McGinn ’n belangrike caveat by sy definisie van mistiek as die bewussyn van God se teenwoordigheid, deur te wys op die “paradoxical necessity of both presence and absence” waarvolgens God as teenwoordig ervaar word, maar juis te midde van sy oënskynlike afwesigheid (1994a:xviii).

Die vraag is nou in watter mate herwonne sienings van mistiek, soos weerspieël McGinn se definisie, versoenbaar is met Gereformeerde spiritualiteit en die eiesoortige beklemtonings daarbinne, wat die weg kan baan vir hernude nadenke deur Gereformeerde gelowiges op soek na ’n meer mistieke spiritualiteit binne hulle eie tradisie. Dit is hier wat gekyk kan word na die mistieke (of nie) in die spiritualiteit van die Nederlandse teoloog Kornelis Heiko Miskotte (1894-1976).

MISKOTTE EN DIE MISTIEK – VAN WAARDERING TOT WANTROUE

Met die eerste oogopslag vertoon die jonger Miskotte tekens van groot waardering vir die mistiek. Hy erken dat hy ’n mistieke geneigdheid het, dat hy (in sy jong dae) “van aanleg een mysticus … en een asceet” was (1985:167), en praat van sy “mystieke bloed” (1990:203) en “hart” (1990:323). In 1921 kla hy dat sy prediking “té profetisch [is] vir mijn mystieke natuur” (1990:205).3 In die gemeentekoerantjie van sy eerste gemeente, die Gemeenteblaadje Cortgene, gee Miskotte in sy vroeë uiteensetting van die sogenaamde “verborge omgang” (1976, passsim)’n beskrywing van die verskillende stadia in ’n geestelike “reis” wat hy beleef het en wat sterk resoneer met klassieke uiteensettings van die “mistieke reis”. 4

Mettertyd vind mens egter by Miskotte ’n toenemende negatiwiteit jeens die mistikus as synde “een omgeslagen woesteling, een uitgeputte wellusteling der fantasie” (1985:349), wat streef na “een … onthevendheid … geestelijke ontroeringen, nieuwe ervaringen” (1951:41) en “hogere werelden” (1951:236; vgl. 1969:261). Hy praat van “de vermetelheid van de mystiek” – die drang na “het ‘grenzeloze’, ‘wijzeloze’, ‘wegeloze’, ‘bovenwezenlijke’” (1969:226). Die “verrukking” en uiteindelike “zich laten beminnen” in die stille teenwoordigheid van God in Miskotte se” Van de verborge omgang maak só plek vir “ekstase” en daaropvolgende “ontzettende reactie, tot de ‘accedia’, de levendswalg toe” van die mistiek (1938:162-63). Vir Miskotte kan mistiek dus beslis ’n ontvlugting uit die werklikheid (1969:137), ’n lewe van onaktiwiteit – selfs ledigheid – verteenwoordig (1938:193), en ’n keuse vir “mystiek” word gestel teenoor dié vir “daad” (1997:387). Hy wys ook daarop dat “in Israël” onder andere “geen … mystici voorkwamen, die in alle religies overigens de toppunten vormen” (1985:460). Indien bogenoemde voorbeelde ’n juiste aanduiding van Miskotte siening van mistiek is, is dit verstaanbaar dat hy toenemend oortuig geraak het dat mistiek “in strikte zin” vreemd is aan die Bybel (1969:118, 231, 241) en daarom ook soms die woord “mystiek” in aanhalingstekens plaas om dit duidelik te stel dat hy daarmee verwys na ’n “bybelsche mystiek”, beslis nie mistiek in die sin van (in sy woorde) “Versenkung” nie (1946:26).

MISTIEK BY MISKOTTE: ’N KWESSIE VAN BEVINDING

Vanuit ’n ander perspektief kan egter gesê word dat Miskotte juis daarvan bewus is dat die “onduidelijk”, “misbruikt”, “overtrokken” en “onvoorzichtig” term “mistiek” (1969:226; 1983:206; 1977:53) verskillend geïnterpreteer kan word en daar dus versigtig mee omgegaan moet word. Daarom verkies Miskotte om dit later eerder te vervang met die Nederlandse term “bevinding”5 (vgl Meyer 1996:233; Van der Velden 1984:203), en volgens sy jare lange vriend en leerling GH ter Schegget “[d]e beroemde mystiek van Miskotte ligt hier en nergens anders” (1995:13).

Volgens Ter Schegget slaan bevinding vir Miskotte op innerlike ervaring, spesifiek op geloofservaring (1995:11).6 In die voorwoord tot ’n versameling essays gewy aan dié term, Kennis en bevinding (1969), lys Miskotte die volgende kenmerke van “suiwer bevinding” (1969:viii):

Bevinding is nie beperk tot geestelike gebeurtenisse in die “ingekeerde siel” nie, maar hou ook verband met die ervaring van God se volk en van die gemeente. Dis nie ’n grondslag waarop geloof gebou word nie, maar eerder ’n “toegevoegde waarde” aan ’n soort kennis wat deur die geloof gekwalifiseer en gevoed word. In bevinding word gestalte gegee aan én dit word medebepaal deur die dubbelsinnigheid van die ervaring van “de gegevens van de dag”, van “wereldgebeure” – dis duidelik uit die psalms, wat getuig van die labiliteit (onewewigtigheid, fluktuasie tussen uiterstes) van die menslike hart. Gevolglik slaan bevinding ook op “onuitspreeklijke aanvechtingen”, waarvan die intensiteit die mens dikwels tot die grens van vertwyfeling kan dryf en enige oortuiging oor die sin van die lewe kan verduister.

Die verband tussen bevinding, kennis en geloof

Die feit dat die beste plek om die eienskappe van ware bevinding te soek in die psalms is, maak dit reeds duidelik dat bevinding vir Miskotte ’n Bybelse begrip is (vgl. 1999:542ff; 1969:viii). Met verwysing na Psalm 19 sê Miskotte dat Bybelse vroomheid en bevinding nie ’n eksklusief innerlike vroomheid is nie, maar ’n “saaklike”, “aardse”, “burgerlike” vroomheid, gegrondves in kennis van God (vgl 1982:81) – volgens die Bybel is die vromes juis diegene wat God “ken”. Hierdie kennis is egter nie bloot verstandelike, rasionele kennis nie, maar óók gevoelsmatig; dit is intiem en persoonlik (1969:224-5).

En waar word God geken? Die Bybelse mens ken God nie in die eensame terugtrekking in die siel nie, maar in die geskiedenis. Dáár, uit God se woord en daad, word Hy geken as die liefdevolle God (1969:11; vgl 1952:5; 1983:117; 1948:148; 1951:148; 1945:10).7 In die werklikheid, in die tyd, ontmoet God óns (1969b:13-14), word ons onkunde oor God ontbloot en tegemoetgekom in God se dade, veral in dié sentrale daad van Goddelike openbaring in die geskiedenis: die koms van sy Seun (vgl 1948:170; 1989:198; 1969:11; 1952:5; 1983:43, 46). Hierdie feit – dat die mensdom hulle in die werklikheid ervaar/bevind as lewend voor die aangesig van God – word dus eerstens bepaal deur ons kennis van God vanuit Godself (vgl 1969:v; Ter Schegget 1991:43 mvn Miskotte 1966b:222; Kooiman 1985:24). En, hoewel bevinding nooit ware geloof kan wees nie, kan geloof nie sonder bevinding wees nie (1982:396; 1983:206). Bevinding is soos ’n aura van ervaring wat die geloof – wat self ’n gawe van God, bewerk deur die Heilige Gees, is (1969:28, 169, 232; 1946:324, 371-72; 1954:24; 1989:142, 328; 1982:336; 1997:25, 486) – omvou,8 ’n soort toegif, ’n “toegevoegde waarde” tot die geloof (1969:v; vergelyk Van der Velden, 200).

Dus: Vanuit die kennis van en vanaf God word beweeg na die ervaring (1951:204)9, wat dan “gesuiwer”, “gefiltreer”, “georden” en “deurlig” word vanuit die geloofskennis van God (1969:v).10 Teen hierdie agtergrond – van die hegte band tussen Godgegewe kennis waarvan die Skrif getuig, geloof (só heg dat Miskotte kan sê: “Het gelóóf … dát is mystiek” – 1969:241) en ervaring – kan dan gelet word op verskillende voorbeelde van bevinding by Miskotte.

Die plekke van bevinding: Woord en wêreld

Soos gesien, word bevinding vir Miskotte “medebepaal” deur ervarings in die kontingente werklikheid waar die mens voor God se aangesig leef en Hom ontmoet in “woord en daad”.11 In hierdie verband is dit nuttig om aan te sluit by Van der Velden se onderskeid tussen die sogenaamde bevinding “van het bestaan” en dié “van het Woord” by Miskotte (1984:193). Volgens Van der Velden is eersgenoemde gegrond op die kennis van die werklikheid van mens en wêreld (met inbegrip van die frase “voor die aangesig van God” – soos volgens Ter Schegget (1991:43) en Kooiman (24)); laasgenoemde bevinding is gegrond op die kennis van die openbaring van God – die Woord.

Bevinding van die bestaan

1) Nadenke oor die lewe sluit vir Miskotte nie net nadenke oor die mensdom, hulle geskiedenis en kultuur in nie, maar ook oor die natuur. Want, in die lig van Ou-Testamentiese getuienis, “strekt [bevinding] zich ook uit over de ontmoeting met de andere creaturen, de aanraking met het geheimenis der schepping” (1983:206). Mens hoor God se stem in die natuur – in voëlsang, reëndruppels op die dak, die wind se suising (1983:134-35).12 Ook in die stilte van die natuur – ’n “gevulde” stilte soos dié in kerkgeboue en wat eie is aan die Sondag (1982:280, 302-305; 1985:191).13

Dis duidelik dat daar in Miskotte se natuurbelewing ’n sterk suggestie is dat die mens wel vir God in die natuur ontmoet (vgl 1990b:410). Drie kenmerke van sy natuurbelewing – of dan Godsbelewing, selfs -ontmoeting (vgl Muis, 1990:388), in die natuur – is egter deurslaggewend: Nêrens is sprake (soos by sommige vorme van die natuurmistiek) van ’n opgaan in die natuur, ’n versmelting tussen God en die mens via die natuur, of in ’n groter kosmiese geheel nie. Ondanks hulle soms intense nabyheid, word die noodwendige afstand tussen God en natuur gehandhaaf (Puchinger, 1968:210; 1969:66; 1954:13). God word ontmoet in die natuur net in soverre Hy bemiddeld deur die natuur daarin ontmoet word.14 So sê Miskotte dat Psalm 104 “een bijbelse natuurpsalm [is], dat betekent: de God, die zich aan Israël geopenbaard heeft … wordt herkend [let wel: nie “leer ken” nie] in de wereld” (1969:66). In Psalm 19 lyk dit weer asof die sterre “kennis van God uit de ‘natuur’ … belede”. Miskotte sê egter: “De volgorde bedriegt hier … De kennis gaat van de Leer naar de schepping … dit [behoort] tot het patroon van de bijbelse vroomheid” (1969:239).

2) Wat geld in die geval van die natuur, geld ook in die bevinding van die “gewone lewe” as ’n ruimte van die ontmoeting met God (1969:66). Voorbeelde is volop in Miskotte se dagboeke (1990a:488; 1951:59-60; Van der Sar, 1993:75). Dit hou duidelik verband met sy gesin – Miskotte sien God se glimlag in dié van sy vrou (1985:364), vind God se teenwoordigheid in die vrolike spel van sy kinders (1990a:25, 256), en ’n besige inkopietog met hulle herinner hom aan RR Marrett se “Sacraments of simple folk” waarin “[i]edere menselijke handeling: eten, drinken, vechten, sterven is meer dan een willekeurige daad – zij is een ‘sacrament’” (1990a:463). Hy vind die openbaring van God se sorg ook in die eenvoud en erns van ouerskap, vriendskap en eggenoot-, regter-, onderwyser- en verpleër-wees (1951:43).

Die beste voorbeeld van die bevinding van die gewone lewe is Miskotte se Het gewone leven: In den spiegel van het boek Ruth (1939), vir hom dié Bybelse voorbeeld van hoe God Hom laat ken in eenvoud. Die Rutverhaal vertel ’n familiegeskiedenis van swaarkry en uitkoms in die alledaagse bestaan waar “Gods Getuigenis zelf zich als iets zeer gewoons kan invoegen in het leven, onaanzienlijk als het gewone koeltje, dat om Elia suisde” (1984:339); waar God se leiding in en agter gebeure, in ooreenstemming met sy verborge plan, te vinde is (1984:346, 389).

Wat geld van bevinding in die natuur, geld ook in die gewone lewe: Vanuit die kennis van die geopenbaarde Naam is dit moontlik dat God “ondanks Zijn afwezigheid, tegenwóórdig is” en ontmoet word waar “God op directe wijze niet meer wordt ontmoet … [maar] alleen vanuit de zeer beschroomde doch zeer besliste overgave [dit is, die God-bewerkte geloof]” gevind word (1984:403, 463-64). Die verborge en voorsienige God word ontmoet (465) in die Tora wat die weduwee van ’n hongerdood beskerm (442), in die leviraatshuwelik (444) en ook in Boas, ’n simbool van God “zoals Hij genadiglijk en vaderlijk met weerloozen omgaat” (504), want: “In de menschelijke ontmoeting kan ons Gòd ontmoeten … [want] God … handelt … op de meest beslissende oogenblikken met ons door midden van mènschen … die Hij zendt” (490-91). In die “gewone lewe” vind ons ’n “afglans” van God se openbaring (482) en dáárin kan ons God se nabyheid en teenwoordigheid in die alledaagse ervaar (Van der Sar 81; vgl Miskotte 1951:148; 1976:54).

3) By Miskotte was daar ook sprake van ’n bevinding van kuns (vgl 1985:287; 1990b:461, 481; Puchinger, 210, 212). In bevinding, synde medebepaald deur die ervaring van wêreld- en alledaagse gebeure en die kennis van die werklikheid, speel kuns ’n geweldige rol. Niemand delf en lei die mens dieper in die lewe in as kunstenaars nie. Kuns is inderdaad ’n vorm van “openbaring” (1954:154), van verborge dieptekennis (1976:10; 1990b:436; 1946:227-78), van die mens se gewone leefwêreld (1999:390-91, 428). Soos ervarings van die natuur, het die ontmoeting met kuns ook ’n bevindelike dimensie (1966b:172; 1990b:147; 1976:10).

Kuns kan wel kennis van die lewe gee, ons bewus maak van ons lewensvrae (1951:154; vgl 1999:232), maar dit verskaf nie antwoorde nie. In hierdie sin is kuns slegs ’n antisipasie (1951:154; 1983:264), ’n beeld, ’n weerglans, van die lewe wat goed “moet” wees (1973:364); ’n teken, ’n afskynsel, ’n afglans (1989:478) van God se eskatologiese beloftes en teenwoordigheid (1990a:161; 1999:438). Die openbaring van die werklike sin van die lewe is te vind slegs in God se openbaring daarvan (1999:434). Daarom kan Miskotte sê dat die teologie ’n “tolk [is] … van de mystieke kennis, die de kunst ons ontsluit” (1952:12).

Die dieptedimensie van die lewe en lewensvrae wat die kuns openbaar, het vir Miskotte nie nét met skoonheid en eskatologiese belofte te make nie, maar ook met “de mystiek van de dagelijkse misère” (1990b:197; Puchinger, 212, 215). Daarom vind Miskotte by skrywers ’n openbaring van lewenstryd, pyn en lyding, en soms van die oënskynlike sinloosheid van die lewe, van die verborgenheid van die goeie God, maar óók van sy afwesigheid. Drie voorbeelde kan hier genoem word:

Die aanvegting van Job en die verborge God in lyding, waarna Miskotte telkens in sy loopbaan terugkeer, wys dat: “dáár leren wij Hem [God] verstaan … waar Hij ons in onze nood nabij is, niet achter of bij of boven de nood, in de nood” (1976:80; vgl 1945:411; 1990a:178; 1997:418). Die paradoks is: Die ervaring van God se verborgenheid in ons nood is eweneens ’n plek van bevinding, van ontmoeting met God: “… dit is het heerlijke van onze God … dat Hij zich ten diepste openbaart in een strijd op leven en dood” (1976:53). Job is ’n teken van en heenwysing na God se nabyheid (1984:269). Dit maak ook “[d]e arme … de representant van de God, die Zich vernedert, om met ons op de aarde te wonen. Een mystiek surplus is aan de blote existentie van de arme eigen” (1983:198; vgl 1938:104).15

Verder vind Miskotte dit veral by Franz Kafka en Friedrich Nietzsche. Anders as by Job, waar God teenwoordig is te midde van sy verborgenheid, is God by Kafka bloot afwesig. In Kafka se wêreld en karakters merk ons niks van God nie (1954:100). God is radikaal afwesig; nogtans: “[Alles] getuigt van God, voor zover zij van Gods afwezigheid getuigt, een afwezigheid, die nog iets anders inhoudt dan Zijn verborgenheid; een afwezigheid, die de keerzijde is van onze verlorenheid” (1954:103-104). Vir Nietzsche, as die een wat filosofie ontmasker het, het Miskotte groot respek gehad (1983:259). Sy uitspraak: “God is dood,” slaan volgens Miskotte op Nietzsche se siening dat in al die kritiese “regspraak” van die filosowe die Godsbegrip nie outentiek is nie, omdat die mens nie werklik daaruit leef nie, geen erns met God maak nie, “God” iets laat beteken of nié laat beteken nie uit magslus of uit vrees of uit morele of weens immorele dryfvere (1969:215). Op grond van ons Godgegewe kennis van God, geopenbaar in die Skrif, raak ons eie konfrontasie met die verhaal van Job, Nietzsche en Kafka ’n instansie van ’n bemiddelde ontmoeting met God. Dit is immers wat Miskotte self in hulle werke vind. Daarom is Kafka se worsteling met die afwesige God vir Miskotte ’n openbaring van Messiaanse verlange. Daarom dat Nietzsche, volgens Miskotte, in sy ontkenning van God en die soeke na ’n plaasvervanger vir God heeltyd besig bly met God. So is ook Nietzsche se bevinding eg, warm en menslik (1983:26), en raak ook hý “een onwillig getuige van het nieuwe Jeruzalem” (1990b:158).

Bevinding van die Woord

1) Vir Miskotte ontstaan daar in die “aangespreek word” deur God se Woord ’n ontmoeting met God (vgl 1997:462). Die mondelinge woord van God gaan die Skrif vooraf (1973:78; 1982:262; 1966b:126) – soos ’n brief wat ’n verteenwoordiging is, ’n teken van ’n bepaalde teenwoordigheid (1983:238; vgl 1999:489). Dit is dus duidelik dat, wanneer Miskotte van die Bybel praat, hy van ’n bemiddelde ontmoeting praat (1946:267-77). Van God se openbaring dra ons nie regstreeks kennis nie, wel indirek – deur die getuienis van God se woorde en dade, en die Bybel is die neerslag van hierdie getuienis (1946:126; vgl 1948:41; 1945:9). Wat die woord tot ’n besondere Woord maak, lê in die openbaring en Teenwoordigheid waarheen dit verwys en waarvan dit getuig (1966b:126; vgl 1982:262). In die bevinding van die Woord word die bevinding van die bestaan ten diepste gepeil en word ons diepste vrae en verlangens beantwoord (in Muis, 468). Die “leer” (die Bybel) en die lewe lê mekaar uit (Bakker, 1991:14; Miskotte, 1966b:93). Die lewe word “ingedragen … in de omgang met het Woord” (1983:257; vgl Muis, 393); “vanuit de Openbaring wordt het bestaan gekent tot op zijn wortels” (Van der Velden, 198).

2) Gegewe bogenoemde, is dit verstaanbaar dat die bevinding van die gepredikte Woord vir Miskotte eweneens ’n sentrale vorm van die bevinding van die Woord is. God se Woord “geskied” en stel so ’n ontmoeting tussen God en mens daar (1973:244). Die gepredikte Woord as bemiddelende instansie van God se teenwoordigheid word ten beste getoon in Miskotte se vergelyking tussen die prediking en die Rooms-Katolieke mis (1973:297; 1976:200-201; vgl 1945:455; 1966a:195; 1983:239). Miskotte noem die Skrif dan ook die “monstrans der presentie” (1983:239; vgl 1973:209). Soos die monstrans net die houer is waarin die hostie gedra word, die presentia realis, so is die prediking die hostie: Deur die werking van die Gees breek God se stem “uit de arme substantie van het menschenwoord, het verandert en verteert het menschenwoord … wezensverandering. God geeft antwoord” (1973:251, 283).

Die prediking is ook dié lokus by uitnemendheid van die samehang tussen die bevinding van die Woord en van die bestaan, waar die onderskeid tussen die twee opgehef word en hulle “ineenskuif” (Van der Velden, 193, 200). By die grens van die filosoof en skrywer se kennis en bevinding van die werklikheid staan die Woord “van vertroosting, van bevrijding, van verheffing … van illuminatie, van verstilling … de laatste eigenlijke kennis die heilbrengend is” (1982:254; vgl 1997:322). Juis omdat ons ervarings van die werklikheid dikwels ambivalent is en die geloof en die Woord self weerspreek, lê die finale woord by die Woord (vgl 1966a:111; Van der Velden199; Muis 481-82). Die doel van die prediking is daarom ook dat dit die verkondigde heil as maatstaf stel vir ons ervarings en dit ontmasker vir wat dit is: belangrik, kennis-openbarend wat betref die werklikheid, ook van ons ervarings van God in die werklikheid – maar relatief en sekondêr tot die Woord self, tot die kennis van God vanuit God (Van der Velden, 200).

3) Laastens, en dit hou hiermee verband, is die bevinding van die Sondag as die dag van die opstanding, waarop die Opgestane spreek in die hede (1969:83, 85); die dag van die gemeentelike samekoms en van die ontmoeting met God in die gepredikte Woord. As sodanig is die Sondag die dag van God se trou en teenwoordigheid, van die waarheid, waaragtigheid en nabyheid van God in die hede (1997:322; 1951:130, 134; 1983:11; 1951:130; vgl Meyer 202) – maar ook ’n voorteken van die uiteindelike, eskatologiese “hemelse teenwoordigheid” (1983:335, 415; 1984:315).

Die verhouding tussen bevinding en politieke/profetiese aksie

Bevinding was vir Miskotte geen terugval in ’n innerlike wêreld om God alleen te aanskou nie, want “God is zoals Jezus is, [en] eist consequenties in het dagelijkse en in het politieke leven” (1990b:238, 379). Bevinding moet daarom ook in verband gebring word met die politiek, juis omdat vir Miskotte “[d]e bevinding het gehele leven [omvat]: de beleving van schuld en verzoening, het ervaren van de reddende hand Gods, de verborgenheid Gods, de liefde, de politiek, de natuur, het gezin, de naaste, de angsten – àlles” (De Kruijf, 1975a:62).

Gedagtig aan die beskrywing van bevinding as ’n bemiddelde ontmoeting met God, is dit te verstane dat Miskotte sê geluk is die ontmoeting met God en “Wie wijd werd in het Ogenblik van het geluk, die keert terug in het leven met de bede en de drang om voor alle mensen het bescheiden deel te veroveren … wie … de Ontmoeting met de Vader, nu en dan beleeft, die wordt een strijder voor sociale rechtvaardigheid” (1976:221-22). Omdat God geregtigheid is en bring (1982:41) vra Hy ook “bijzondere daden van gerechtigheid” (1983:217). Dus: Vanuit dit wat ons van God ken – vanuit sy openbaring, sy dade van geregtigheid, soos dit deur ons geglo (vgl 1989:161) word as geloofskennis en beleef word in die werklikheid – word ons opgeroep om ’n “weerglans” te wees daarvan; ook in ons politieke bestaan (vgl 1982:217; vgl 1969b:32; 1989:237).

Miskotte praat veral duidelik oor die verhouding mistiek/politiek in Messiaans verlangen: Het lyrisch werk van Henriëtte Roland Holst (1941). By Roland Holst – met haar eksplisiete sosialistiese lojaliteite en haar “activistische mystiek” (1999:86), met haar samehang tussen “mystieke diepte” en “messiaans verwachting-van-de-verte” (1999:128) – vind Miskotte hoe “vanuit dit geloof wordt het hart bovendien omringd en geholpen door ervaringen, een klein steunsel, een teder onderpand … Heel de curve van Henriëtte Roland Holst [politieke] streven en dichten verloopt in de ban der fascinatie die van de Openbaring uitgaat” (1999:186-88; vgl 1951:173).

In die preekbundel Uitkomst (1948:20ff) wys Miskotte op die aanvanklike bewuswording van onreg in die een of ander insident, wat ontwikkel tot ’n bewussyn van die omvang van onreg op alle lewensterreine. Daar ontstaan ’n honger na geregtigheid, maar “[w]ij zouden den waarachtigen honger niet kennen zonder de kennis van den waarachtigen God … Hij heeft ons ontevreden gemaakt … De honger is een spoorslag tot werken: gij zoekt dan uw plaats in den sociale strijd” (25-26).

Soos ons ervarings onderhewig is aan die toets en oordeel van God se Woord (veral gepredik), so ook ons dade (1948:26). Vir Miskotte is “profeteren … uit de Schift spreken, niets anders, heel eenvoudig en heel beslist” (1946:303; vgl 1973:110; 1969:267). Hoewel profesie nie tot die prediker beperk is nie, is die gepredikte Woord – só stel Miskotte dit herhaaldelik – by uitstek profesie en die prediker, profeet (1983:233; 1945:310; vgl Van der Velden, 151). ’n Preek begin daarom by die besef dat “de Schrift niet in de eerste plaats gaat om de ziel, maar om de gehele wereld. Wat in de grote wereld gebeurt, bepaalt ook de stormen en stilte van ons hart. We beseffen dat de wereldpoltiek Góds zaak is” (1983:233).

Ten slotte benadruk Miskotte dat gebed ’n gebeurtenis van hart tot hart tussen God en mens is, maar ook een wat oorgaan in dade (1977:37). Die essensiële van die vraaggebed is dat die koninkryk van God sal kom (1977:42), en om dít te vra is ook om jouself konkreet te verbind om ook die koninkryk van God te “soek”: om vir vrede te bid is om vredemaker te word (1977:42-3); om vir brood en gesondheid te vra is om dit vir ander aprioriese te beaam (1977:43). Dit geld van alle vorme van vraaggebed (1977:46).

KONKLUSIE: GEREFORMEERDE MISTIEK? MISKOTTE IN GESPREK

Soos Miskotte self later gereken het, meen die meeste Miskotte-kommentatore dat hy nié ’n mistikus was nie – hoogstens dat sy teologie en spiritualiteit mistieke trekke toon (De Kruijf 1975b:87; Van der Velden 203; Meyer 235; Beumer 1993:257; Brienen 1978:106). Feit is, egter: Beide Miskotte en die meerderheid kommentatore beoordeel hierdie vraag vanuit ’n definisie van mistiek wat in die 20ste eeu oor ’n wye spektrum bevraagteken of selfs verwerp is.

Gaan mens egter uit van Ter Schegget se stelling dat Miskotte se “beroemde mistiek” gesoek moet word in sy siening van bevinding, dan vertoon dit besliste ooreenkomste met McGinn se herwonne definisie van mistiek. Daar is reeds uitgewys dat bevinding vir Miskotte ’n Bybelse begrip is en – soos mistiek vir McGinn – duidelike Bybelse wortels het. Daar is byvoorbeeld uitgewys dat McGinn doelbewus wegbeweeg het van mistiek as ervaring na mistiek as bewussyn van God se teenwoordigheid; hierdie klem is ook duidelik in Miskotte se siening van bevinding. Dis hierdie idee van die bewussyn van God se teenwoordigheid in die werklikheid wat geherformuleer kan word, nie as “versmelting” nie, maar as ontmoetings met God. In die bespreking van Miskotte se “plekke van bevinding” (byvoorbeeld in die natuur, kuns en gewone lewe)16 is daar gewys hoedat bevinding by hom ook verstaan kan word as ontmoetings met God.17 Die vorm van mistiek waarop McGinn ook wys as die bewussyn van God se teenwoordigheid te midde van sy oënskynlike afwesigheid, is juis een van die verskyningsvorme van bevinding by Miskotte – in sy werk oor Job, Kafka en Nietzsche.

Die vraag is: Wat is die verskil tussen bevinding as die bewussyn van God se teenwoordigheid by Miskotte enersyds en mistiek andersyds, selfs in die 20ste-eeuse herwonne vorms en definisies van laasgenoemde? Wat maak Miskotte se bevinding/mistiek Gereformeerd?

Eerstens hang dit saam met McGinn se stelling:

“Mystics … affirm that their mode of access to God is radically different from that found in ordinary consciousness … this mode of the divine presence is said to be given in a direct or immediate way, without the usual internal and external mediations found in other types of consciousness … What the mystics are talking about is what lies ‘between’ these necessary mediations” (1994a:xix).

Hierdie direktheid of onmiddellikheid van die bewussyn van God se teenwoordigheid word vandag egter óók bevraagteken – nie net onder godsdiensfilosowe18 en sekere mistiekkenners nie19, maar ook vanuit teologiese perspektief. Veral Edward Schillebeeckx verwoord dit duidelik. Volgens hom is die ervaring van mistieke vereniging een van (wederkerige) “puur aanwezigheid” … wat terselfdertyd bemiddeld is, omdat alle menslike ervarings van God áltyd op die een of ander wyse gemedieer is (1986:65-68). Ons ervaar God se absolute teenwoordigheid nooit suiwer of “onverdund” nie. Hoewel God, vanuit sý perspektief, absoluut (Schillebeeckx se woord vir “onmiddellik”) by ons teenwoordig is, is óns belewenis daarvan altyd geïnterpreteerd. As eindige wese het die mens konsepte van God nodig om te kan glo: Die mens benodigbemiddelde onmiddelijkheid” – selfs mistici wat aanspraak maak op “onmiddellike” ervarings van God, soos Johannes van die Kruis en Meister Eckhart. Weens die aard van God sowel as dié van die mens, en die gevolglike noodsaak van die konseptuele bemiddeling van die geloof (en mistiek as – soos Schillebeeckx dit stel – intense vorm van geloof), is sulke onmiddellikheid nóg moontlik nóg wenslik. Anders bly die mistikus in die mistieke “donker nag” vasgevang.

By Miskotte is die antwoord op die vraag na die moontlikheid van onmiddellike ervaring van God onontkenbaar negatief. God word altyd bemiddeld ervaar/ontmoet – hetsy in die natuur, die kuns, die uitsonderlike of alledaagse lewensgang, die lydende naaste en die oënskynlik Godverlate naaste, asook in die naaste wat hulp verleen en veral in die ontmoeting met God soos bemiddel deur die Woord en die gepredikte Woord.

Miskotte se beklemtoning van die Woord, veral die gepredikte Woord (waarmee hy ook bevinding soos mistiek by McGinn – binne die liturgiese kader van die kerk plaas), bring sy Gereformeerde oriëntasie duidelik in die spel. Soos bevinding (as die bewussyn of ervaring van God se teenwoordigheid), kan geen spreke oor God ooit vanaf die mens of die werklikheid uitgaan nie, hoe belangrik dié ook al vir Miskotte is. Elkeen van die “plekke van bevinding” ís sodanig slegs vanuit die genadige openbaring van kennis van God, vanuit God, wat deur die Gees tot geloofskennis gemaak word. Hierdie vertrekpunt maak Miskotte se mistiek deur en deur Gereformeerd. Daar is geen weg rondom die Woord nie. Anders as wat dikwels die geval in die geskiedenis van die mistiek was, is die Woord nooit ’n weg tot God wat gebruik en agtergelaat word – soos wat dikwels onder die “meditatiewe lees” van die Bybel in die geskiedenis verstaan is – nie. Die feit dat ’n plek vir die ontmoeting met God via die Woord in die mistieke tradisie bestaan, impliseer nié dat dit die primaat van die Woord as plek van ontmoeting met God erken nie. By Miskotte vind ons deurgaans die oortuiging dat die “bevinding van die Woord” sy a priori-primaat behou as eksklusiewe voorwaarde vir alle bewussyn van God in die werklikheid. Ook teologie as teo-logos – as woord-/spreke-oor-God – vloei nie voort uit ons bewussyn van God in die werklikheid nie; ons bewussyn van God in die werklikheid vloei voort uit God se spreke oor Homself.20

Dus: Bevinding by Miskotte is nié mistiek indien laasgenoemde beskou word as die onmiddellike ervaring van God se teenwoordigheid nie. Indien daar egter sprake van bemiddelde onmiddellikheid in die mistiek is, dan is die teendeel waar. Wat Miskotte se mistiek oortuigend Gereformeerd maak, is die vertrekpunt daarvan: by die Woord as plek van eerste ontmoeting met God; dan eers, van daaruit, word God ook op ander plekke ontmoet. Daarom is die mate waarin ons ervarings in die werklikheid plekke van ontmoeting met God – inderdaad bevinding – is, onderhewig aan die toets van God se Woord (vgl 1973:292; Van der Velden197; De Kruijf 1981:48).

Laastens, en wat hiermee verband hou: Soos vir McGinn, is daar vir Miskotte ’n onbreekbare verband tussen mistiek/bevinding en profetiese aksie. Maar ook hier is Miskotte se mistiek duidelik Gereformeerd en Woordgefundeerd. Die waarheid van wat ons glo en sê oor God hang nóg van ons ervaring nóg van ons dade wat daaruit voortvloei af. Volgens Miskotte moet die teologiese waarheidsbegrip primêr personalisties verstaan word – as handeling en ontmoeting (1990a:422-37). Maar hy merk dan onmiddellik op dat “wij bij de existentiële strekking van het theologisch waarheidsbegrip niet blijven staan” (1990a:423). Waarheid, sê Miskotte, impliseer nou een maal waarheidskennis – en dit is hier waar die vernuwing van die Reformatoriese teologiese kenleer met krag ingryp:

De reformatorische vernieuwing is déze geweest, dat de notie verbum (woord Gods) de notie veritas (waarheid) omvat … Waarheid is in de eerste en laatste plaats dienst aan en voegzaamheid onder het Woord Gods. … Dit Woord kan alleen als regerende en scheppende macht begrepen worden in en boven de velden van onze ervaring” (1990a:423-24 – Miskotte se beklemtoning; vgl1966b:122-23; 1982:381).

Ook hierin is Miskotte se mistiek grondig Gereformeerd en ook op hierdie en al bogenoemde maniere bied dit aan Gereformeerdes stof tot nadenke oor die moontlikheid van ’n legitieme plek vir die mistiek in eie tradisie.

BIBLIOGRAFIE

Baers, J 2003. Evoluerend Westers denken over mystiek in de twintigste eeuw. In Baers, J, G Brinkman, A Jelsma & O Steggink Encyclopedie van de mystiek. Kampen/Tielt: Kok/Lannoo, 137-238.

Bakker, JT 1991. Om de Naam/om het leven: KH Miskotte. In De Knijff, HW & GW Neven Horen en zien: Opstellen over de theologie van K.H. Miskotte. Kampen: Kok, 110-32.

Bakker, NT 1984. Bevinding en politiek bij K.H. Miskotte. I. In de Waagschaal. Nieuwe Jaargang 12 (no 21, 21 januari): 653-57.

Beumer, J 1993. Intimiteit en solidariteit: Over het evenwicht tussen dogmatiek, mystiek en ethiek. Ten Have: Baarn.

Bras, K 2003. Reformatie en mystiek. In Baers et al, 753-59.

Brienen, T 1978. Bevinding, aard en functie van de geloofsbeleving. Kampen: Kok.

De Kruijf, GG 1975a. Bevindelijke theologie, II. In de Waagschaal. Nieuwe Jaargang 4 (no 3): 60-62.

— 1975b. Bevindelijke theologie, III. In de Waagschaal. Nieuwe Jaargang 4 (no 5): 86-89.

— 1981. Heiden, Jood en Christen: Een studie over de theologie van K.H. Miskotte. Baarn: Ten Have.

Forman, RKC (ed) 1990. The problem of pure consciousness: Mysticism and philosophy. Oxford: Oxford University Press.

Jelsma, A 2003. Protestants verzet. In Baers et al, 815-21.

Katz, ST (ed) 1983. Mysticism and religious traditions. Oxford: Oxford University Press.

Kooiman, RJ 1985. Op die scherp van de snede: Een studie over de publicaties van K.H. Miskotte over Job en (de wijze van) vragen als bijdrage voor de Evangelistiek. Doctoraalskriptie. Theologische Hogeschool, Kampen.

McGinn, B 1994a. The foundations of mysticism. Vol. I in the series The Presence of God: A History of Western Christian Mysticism. New York, NY: Crossroad.

— 1994b. The growth of mysticism. Vol. II in the series The Presence of God: A History of Western Christian Mysticism. New York, NY: Crossroad.

— 1998. The flowering of mysticism: Men and women in the New Mysticism (1200-1350). Vol. III in the series The Presence of God: A History of Western Christian Mysticism. New York, NY: Crossroad.

McGrath, A 1991. Roots that refresh: A celebration of Reformed spirituality. London: Hodder & Stoughton.

Meyer, OS 1996. Tussen stilte en ekstase: Die spiritualiteit van KH Miskotte in die spanningsveld van die mistiek en die Charismatiese spiritualiteit. Ongepubliseerde D.Th.-verhandeling. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch.

Miskotte, HH 1981. Niet te vergeten Miskotte. Kampen: Kok.

Miskotte. KH 1938. De vreemde vrijspraak. Amsterdam: Holland.

— 1946. In de gecroonde allemansgading: Keur uit het verspreide werk van Prof. Dr. K.H. Miskotte. (Bijeengebracht door W.C. Snethlage & E.A.J. Plug.) Nijkerk: Callenbach.

— 1948. Uitkomst: Toespraken voor jongeren van elke leeftijd. Amsterdam: Holland.

— 1951. Feest in de voorhof: Sermoenen voor randbewonders. Amsterdam: Holland.

— 1952. Hoe zijn wij de mens: Theologische visie. Leidse Voordrachten 8. Leiden: Universitaire Pers Leiden.

— 1954. Grensgebied. Nijkerk: Callenbach.

— 1966a. Bijbels ABC. Baarn: Ten Have.

— 1966b. Geloof en kennis. Haarlem: Holland.

— 1969. Kennis en bevinding. Haarlem: Holland.

— 1976. … als een die dient: Volledige uitgave van het ‘Gemeenteblaadje Cortgene’ 27 oktober 1923 – 4 april 1925. (Red A Otter.) Baarn: Ten Have.

— 1973. Om het levende woord: Opstellen over de praktijk der exegese. Kampen: Kok.

— 1977. De weg van het gebed. 4de druk. ’s-Gravenhage: Boekencentrum.

— 1978. Geschonken eindigheid: Enkele gebeden en preken. Kampen: Kok.

— 1982. In de waagschaal: Een keur uit de artikelen van dr. K.H. Miskotte uit de eerste vijf jaargangen van In de Waagschaal. Verzameld werk deel 1. Kampen: Kok.

— 1983. Als de goden zwijgen. Verzameld werk deel 8. Kampen: Kok.

— 1984. Antwoord uit het onweer: Het gewone leven. Verzameld werk deel 10. Kampen: Kok.

— 1985. Uit de dagboeken, 1917-1930. Verzameld werk deel 4. Kampen: Kok.

— 1989. De kern van de zaak: De blijde wetenschap. Verzameld werk deel 11. Kampen: Kok.

— 1990a. Teologische opstellen. Verzameld werk deel 9. Kampen: Kok.

— 1990b. Uit de dagboeken, 1930-1934. Verzameld werk deel 5a. Kampen: Kok.

— 1997. Preken en meditaties. Verzameld werk deel 3. Kampen: Kok.

— 1999. Messiaans verlangen en andere literatuur- en cultuurkritische opstellen. Verzameld werk deel 12. Kampen: Kok.

Muis, J 1990. Openbaring en interpretatie: Het verstaan van de Heilige Schrift volgens K. Barth en K.H. Miskotte. 2de druk. ’s-Gravenhage: Boekencentrum.

Puchinger, G 1968. Gesprek met Prof. Dr. K.H. Miskotte. In Christen en secularisatie. Delft: Uitgave WD Meinema NV, 203-60.

Rice, HL 1991. Reformed spirituality: An introduction for believers. Louisville: Westminster/John Knox.

Schillebeeckx, E 1986. Als politiek niet alles is … Jezus in de westerse cultuur. Ten Have: Baarn.

Steggink, O 2003. Mystiek: woordgebruik en theorievorming. In Baers et al, 25-56.

Ter Schegget, GH 1991. De bevinding bij K.H. Miskotte. In De Knijff, HW & GW Neven Horen en zien: Opstellen over de theologie van K.H. Miskotte. Kampen: Kok, 43-69.

— 1995. Indachtig KHM. In Monshouwer, D et al Kornelis Heiko Miskotte (1894-1976): Brug tussen cultuur en theologie. Kampen: Kok, 11-20.

Van der Velden, MJG 1984. K.H. Miskotte als prediker: Een homiletisch onderzoek. ’s-Gravenhage: Boekencentrum.

Van der Sar, HC 1993. Het bijzondere van het gewone. In Den Hertog, GC & GW Neven (reds) Miskotte: Hoofdlijnen van zijn theologie. Kampen: Kok, 75-101.

Vreekamp, H 1987. Spiritualiteit en bevinding. In Jelsma, A & H Juch (reds) Ruimte om op adem te komen: Bezinning over spiritualiteit. Kampen: Kok, 44-52.

Waaijman, K 2002. Spirituality: Forms, foundations, methods. (Transl J. Vriend.) Leuven: Peeters.

— 2003. Mystieke ervaring en mystieke weg. In Baers et al, 57-79.

TREFWOORDE

Gereformeerde spiritualiteit, Mistiek, Bernard McGinn, KH Miskotte, Bevinding

KEY WORDS

Reformed spirituality, Mysticism, Bernard McGinn, KH Miskotte

KONTAK BESONDERHEDE

Dr LD Hansen

Fakulteit Teologie

Universiteit van Stellenbosch

Privaatsak X1

MATIELAND 7602

E-posadres: ldhansen@sun.ac.za

1 In sekere sin is McGinn se magnum opus in drie volumes, The presence of God: A history of Western Christian mysticism (1994a, 1994b, 1998), ’n weergawe van die lot van hierdie siening van mistiek.

2 Veral belangrik was die sienings van die bestaan van mistiek in die Bybel (veral in die wysheidsliteratuur, Psalms en die Johannese geskrifte), asook van ’n sogenaamde “sakramentele mistiek” in die Pauliniese formulerings “in Christus” en “Christus in ons”, en die herwinning van die histories noue verband tussen mistiek en die lees van die Bybel.

3 Jare later onthou Miskotte ook, byvoorbeeld, sy aanvanklike ontevredenheid by sy eerste lees van Barth se Römerbrief, want: “vooral: waar bleef de mystiek, ook die van de bijbel, bijvoorbeeld van het Johannes Evangelie?” (Puchinger, 1968:244).

4 Dit sluit in die ervarings van vervreemding van God en van God se verborgenheid, wat lei tot passievolle gebed en die versterwing (die laat gaan van die natuur en natuurlike neigings), die hoogtepunt van die verborge omgang in die verrukking (vgl. 1976:289). Dan volg die verlating (die einde van die verrukking) en laastens die insig dat God se genade genoeg is en dat die “geheim”, die kuns, van die lewe is om jou deur God te laat bemin in die blywende stilte (1976:202-203).

5 Die term “bevinding”, wat Beumer (1993:315) “[d]e protestantse variant van de mystiek” noem, kom uit die Nederlandse Nadere Reformasie nav die gebruik van dié woord in die Nederlandse Statenvertaling in Romeine 5:4, waar dit (volgens Vreekamp, 1987:44) slaan op “ervaren van de trouw van Christus te midden van verdrukking.”

6 Ter Schegget wys daarop dat die begrip “bevinding” juis in die Duitse vertaling van Als de goden zwijgen (Wenn die Götter schweigen, 1964) vertaal is met “innere Erfahrung”, en dat dié vertaling deur Miskotte goedgekeur is as korrek (1991:43; sien ook Meyer, 1996:163).

7 Dit is juis die vernaamste punt in Miskotte se bekende werk Bijbels ABC: Die Ou Testament getuig dat God Godself openbaar te midde van ander gode wat op Israel se lojaliteit aanspraak maak (1966a:33). God se Naam – JHWH, “ik zal met u zijn, zoals ik met u zal zijn” – druk God se wese uit (1966a:64; vgl 1946:367). Die Naam is “God zelf gelijk Hij zich in de een of andere verhouding tot de aardse werklijkheid openbaart … Hij wordt gekend als een werkelijkheid, die zich in de wereld van de wereld onderscheid” (1966a:33-34). Die mensdom kan God aanspreek alleenlik omdat God Homself kenbaar en aanspreekbaar gemaak het (1997:542; 1989:349).

8 Vgl 1969:140 (mvn Ps 27:5): “En hier is … de sleutel voor de rechte zin van de bevinding; de bevinding van het geloof, (en niet de bevinding waarop het geloof zou kunnen gefundeerd worden).”

9 Vgl Ter Schegget, 1994:1: “Het is de kennis … die voorafgaat aan alle innerlijke ervaring, aan alle mystiek, aan alle bevinding.”

10 Die ervaring kry dus ’n besondere karakter as ’n “begeleidend verschijnsel” tot die geloof. Dit is hiérdie ervaring wat ons bevinding noem (1951:204).

11 Vgl Miskotte oor bevinding, in teenstelling met wat dikwels gesien word as mistiek: “… in geen geval gaat … [bevinding] om het mystieke ervaringen, religieuse experimenten, dalingen en heffingen van het zelfbewustzijn ten opzichte van een buitenwereld, die niet meespreekt, die nauwelijks bestaan zou” (1969:140). Vgl ook 1969:v: “… bevinding [is] betrokken op onze wereld en op het leven van de wereld”.

12 “Zeker en gewis Gód spreekt in het onweer gelijk hij in de lentebloesems spreekt … in de vlammende bliksem … in de wiegende tak. In het éne is de sprake Zijner liefelijke Nabijheid, in het andere … van Zijn ontzaglijke Majesteit” (1976:146; vgl 1990b:343).

13 Vandaar sy versugting: “Luister naar de stilte. God laat zich daar aan niemand onbetuigd. … belijd uw nood en schuld in de stilte, de Troonzaal Gods” (1976:134-35).

14 Hoewel Miskotte van “Gods Openbaring in natuur en schriftuur” (1976:149) praat, skryf hy dat ons God se heerlikheid “ontmoeten onder de sluier der schepping” (HH Miskotte, 1981:36), en dat die denne rondom Doorn “een schamel, groots teken van de eenvoudigste Tegenwoordigheid” is (1990b:344).

15 Dit is juis die openbaring, die Godgegewe kennis van God, wat Israel kon lei tot hierdie “ja-maars” en “waaroms” van die geloof (sien 1969:172; 1966a:175; 1971:185). Die Verborgene verwag vrae; die Openbaring en die geloof daarin verwag vrae (1984:230; vgl 1976:114; 1983:196).

16 Vergelyk in hierdie verband die mistiekkenner Kees Waaijman (2003:57-79), dat soms “… dringt [die mistieke] zich als het ware van binnenuit op aan de mysticus … wezensmystiek.” Soms, egter, gebeur dit in ontmoetings in die gesin, vriendekring, met kunstenaars (bv vir Martin Buber) of “[s]oms … binnen de grotere sameleving” (in Franciskus van Assisi se ontmoeting met die melaatse), maar ook “in contact met de natuur” (bv in die natuurmistiek van Theilhard de Chardin).

17 Vgl 1984:134: “Wij ontmoeten God in de werkelijkheid van ons leven, in de ruimte der uren, in de dag der kleine dingen …”; 1948:57: “… het onderwerp van den Bijbel moeten we niet uit het oog verliezen, het ééne thema, de ontmoeting van God en mensch in het concrete leven.” Bakker (1984:655) wys daarop dat hierdie “woher” van die bevinding op bykans elke bladsy van Miskotte se werk voorkom, dikwels in die vorm van “de Presentie”, “de Tegenwoordigheid” of, nog intiemer, “het Aangezicht”. Oor laasgenoemde sê Miskotte dan ook: “… het Aangezicht. ‘Wij mogen wandelen in het land der levenden … voor het Aangezicht des Heeren’. Een mystiek woord: Aangezicht. Het is de tegenwoordigheid van Hem die zich tot ons wendt en die wij aanspreken kunnen met: Gij” (1978:46).

18 Sedert die 1970’s woed daar ’n debat onder die sg kontekstualiste en dekontekstualiste oor óf sulke direkte, onmiddellike ervarings hoegenaamd moontlik is. Volgens sommiges ís dit, aangesien mistici soos Meister Eckhart en Pseudo-Dionisius verby enige premistieke beelde, oortuigings en konsepte beweeg (vgl Forman, 1990). Volgens andere, soos Steven Katz (1983:4), “[mystical] experience itself, as well as the form in which it is reported, is shaped by concepts which the mystic brings to, and which shape his experience”. Hiervolgens is enige direkte ervaring van God onmoontlik omdat álle ervarings gemedieer en geïnformeer word deur voorafbestaande, premistieke beelde, simbole, ideologiese waardes, ens. – wat Katz noem “linguistic-theological and social-historic circumstances”. Vir ’n bespreking van en die indrukwekkende lys deelnemers aan en die argumente binne hierdie debat, vgl ook Baers, 2003:189-98, 213-15.

19 Bv August Saudreau en Reginald Garrigou-Lagrange (McGinn, 1994a:280).

20 Miskotte se bedoeling kan dalk beter toegelig word aan die hand van vorme van die Afrikaanse woord “ken”. Vir Miskotte kan ons nooit vir God vanuit onsself “leer ken” nie: Ons kennis van God is volkome afhanklik van God se openbaring aangaande Homself. Maar, vanuit dit wat ons van God “ken”, kan Hy “herken” word as teenwoordig in die werklikheid. Vgl “[God het] zich in Zijn Wóórd geopenbaard … Als de christen God óók vindt in de Natuur is dit een acte van herkenning, niet van kennisname” (1989:410; tov die geskiedenis, vgl 1945:21).