Hofmeyr, JW (Hoffie)
Universiteit van die Vrystaat
Kruger, Pieter
NG Gemeente Nigel-Suid

Die NG Kerk en die era van verandering sedert 1990: Betekenis vir die NG Kerk se identiteit (Deel II)1

ABSTRACT

The Dutch Reformed Church (DRC) and an era of change since 1990: Effects for the identity of the DRC (Part II)

The recent state of affairs in the DR (NG) Church is complicated. The reason for this can be ascribed to a variety of historical incidents that underlies the numerous and diverse phenomena in the church, in particular the political and cultural change since 1990 and the change in dominant social thinking and behaviour. While studying these historical incidents it is possible to identify the causality and cohesion of these ecclesiastical phenomena. What the church in future will become depends besides its own thinking and theologising and various other factors, on the church’s comprehension of the meaning of these phenomena for its existence.

1. INLEIDING

Moltmann (1989:327) wys daarop dat geskiedenis hoofsaaklik in twee vorms tot ons kom: as die gebeurtenis soos dit werklik plaasgevind het en as die beskrywing en rekonstruksie van daardie gebeurtenis. Hy onderskei die twee gestaltes met die woorde Geschichte en Historie – in Afrikaans Geskiedenis en Historie (Geskiedkunde). Historie (Geskiedkunde) verleen betekenis aan gebeure deur die oorsaaklike verbande en samehang van gebeure en verskynsels te bepaal. ’n Gebeurtenis of verskynsel het ook 'n samelopende verstaanshorison wat die betekenis van daardie gebeurtenis of verskynsel begrens (Schillebeeckx, 1989:310).

In hierdie artikel word gefokus op die betekenis van die Historie(Geskiedkunde) en die verskuiwing van verstaanshorisonne sedert 1990 en wat dit vir die NG Kerk inhou. Die jaar 1990 verteenwoordig gebeure wat ’n onomkeerbare effek sou hê op Suid-Afrika. Dié jaar lewer die destydse staatspresident, mnr FW de Klerk, ’n opspraakwekkende toespraak wat die merker is van die geweldige verandering in Suid-Afrika. Die Algemene Sinode in Oktober dieselfde jaar sou die NG Kerk ook in ’n nuwe rigting stuur.

Verandering kenmerk sedertdien die Suid-Afrikaanse samelewing. Die NG Kerk is ook nie van hierdie verandering uitgesluit nie. In die broederlike onderhoud van prof JA Heyns tydens die Algemene Sinode van 1994, dui hy aan dat “te veel ingrypende onverwerkte veranderinge die oorsaak is van angs en onsekerheid, van onbetrokkenheid en doelloosheid onder ons mense” (Handelinge van die Algemene Sinode, 1994:530).

2. DIE IMPLIKASIES VAN DIE POLITIES-KULTURELE SITUASIE SEDERT 1990 VIR DIE IDENTITEIT VAN DIE NG KERK.

Van der Walt (1999:25-26) identifiseer drie prominente samelewingsvisies in die Suid-Afrikaanse samelewing: die ou apartheidskollektivisme, Afrikakommunalisme en Westerse individualisme. Ingewikkelde politieke- en sosiale verandering het tot hierdie situasie aanleiding gegee.

Die ou apartheidskollektivisme en Afrikakommunalisme as nuwe samelewingsvisie verteenwoordig twee pole van die veranderde polities-kulturele situasie in Suid-Afrika. Hierdie situasie word deur sy eie verstaanshorisonne begrens wat mense (lidmate) se waardes en begrip vir hulle leefwêreld bepaal. Dit word deur lidmate in die kerk ingedra en het daarom implikasie vir die identiteit van die NG Kerk.

2.1 Die historie van die apartheidsteologie

In die Nuwe Suid-Afrika het die apartheidsbeleid moeisaam tot ’n einde gekom. Die NG Kerk het ook nie maklik afgesien van die regverdiging van hierdie beleid wat dit teologies help vorm gee het nie. Van der Merwe (2002:103-104) beskryf wat die geval was: “In die beoordeling van apartheid staan die kerk voor sterk emosiebelaaide verskille. Terwyl ’n deel van die wit bevolking dit sien as ’n regverdige weg om die identiteit en...belange van die verskillende bevolkingsgroepe in die land te beveilig, sien ander dit as ’n rassistiese en onderdrukkende stelsel wat die belange van die...wit mense ten koste van die meerderheid van die bevolking beskerm en bevorder. Talle kerke veroordeel dit gevolglik as onchristelik en sondig.” Tydens die Algemene Sinode van Oktober 1990 distansieer die kerk hom amptelik van apartheid en die apartheidsteologie (Handelinge van die Algemene Sinode, 1990:595-597).

Die Historie van die apartheidsteologie bring vir die NG Kerk betekenisvolle lesse na vore:

• Die gevaar van die kerk se vereenselwiging met politieke modelle:

In die kroniek Die verhaal van die Ned Geref Kerk se reis met apartheid, skryf Gaum (1997:72) dat die NG Kerk besef het dat dit nie die taak het om politieke modelle aan die owerheid voor te skryf nie, maar om politieke modelle aan Bybelse beginsels te toets. Apartheid was aanvanklik beskou as ’n oplossing vir ’n komplekse situasie, maar die beleid het uiteindelik eerder in ’n ideologiese politieke sisteem ontwikkel waarin mense se menswaardigheid nie in ag geneem is nie. Die destydse noue verhouding tussen die staat en die NG Kerk het veroorsaak dat die kerk nie ’n aanvaarbare afstand tot die owerheid gehandhaaf het nie. Daarom het die kerk slegs teoreties na die reëling van rasseverhoudinge gekyk en nie die tragiese omvang van die maatskaplike- en sosiale implikasies van apartheid raakgesien nie (Gaum 1997:73).

• Waaksaamheid teen ’n sekulêre evangelie:

De Villiers (1986:152) meen dat die NG Kerk se teologiese onderskrywing van die apartheidsideologie en -beleid veroorsaak het dat die kerk ’n pseudo-religieuse ideologie of sekulêre evangelie bedryf het. Nie-religieuse kriteria het religieuse waardes en oortuigings bepaal. Omdat die kerk hom met die Afrikaner vereenselwig het, het dit aan die nasionalistiese en ideologiese doelstellings van die Afrikaner godsdienstige sanksie gegee. Esterhuyse (2001:187-188) meen dat die apartheidsideologie en -teologie by die aanhangers daarvan ’n geslote wêreldbeeld en beperkte uitkyk op die lewe daargestel het. Hierdie wêreldbeeld is deur religie omgewe as gevolg van die sanksionering daarvan deur die Afrikaanse kerke (NG Kerk ingesluit). Die godsdienstige sanksionering is die rede hoekom die apartheidskollektivisme se waardes en kultuur tog nog aanwesig is in die psige van baie Afrikaners al is dit institusioneel afgeskaf. Daar behoort vir die toekoms dus ’n waaksaamheid te wees om nie aan nie-religieuse sake en politieke oortuigings godsdienstige sanksie te verleen nie.

• Godsdiens ’n gevaarlike bondgenoot vir die rassewese:

Heuvel (1999:28) vind dit vreemd dat Suid-Afrika as ’n Christelike land beskou word, hoewel rassisme uiters ‘suksesvol’ was en in ’n mate steeds bestaan. Die rede: Die apartheidsideologie met sy sterk antropologiese argumente het verweef geraak met die Christelike geloof. In die apartheidsideologie gaan dit oor groeponderskeiding op grond van kleur of ras. Dit is ’n impuls vir rassisme (Kinghorn, 1986:143). Rossouw (2001:90-91) voeg by dat daar soms die verskynsel is dat rassisme in vennootskap met godsdiens gaan, sodat ’n spesifieke volksgroep die hermeneutiese beginsel word vir Bybelinterpretasie. Wanneer dit gebeur word godsdiens verwring tot ’n pseudo-godsdiens. “History is costing ‘the oldest church in the country’ dearly” (Lubbe, 2001:48), want die foute wat die NG Kerk begaan het ten opsigte van die bogenoemde saak, knaag aan die geloofwaardigheid van sy profetiese rol in die gemeenskap.

Terwyl die transformasieproses in Suid-Afrika en die NG Kerk aan die gang is en die kerk uitgedaag word om alternatiewe omtrent sy relevansie en aard te bedink, is dit egter die geval dat die oorgrote meerderheid lidmate van die NG Kerk steeds Afrikaners is wat ’n behoefte het aan ’n kerk wat solidariteit toon met sy mense. Die NG Kerk erken ook hierdie verantwoordelikheid (Gaum, 1997:75). Aangesien die idees van die apartheidsideologie nie sondermeer in die psige van die Afrikaner tot ’n einde gekom het nie, moet daar gelet word op die wyse waarop uitdrukking aan hierdie solidariteit gegee word sonder om weer die foute (soos hierbo bespreek) te begaan. Gaum (1981:36) wys daarop dat die kerk in sy betrokkenheid by die volk kritiese solidariteit behoort te toon wat impliseer dat terwyl die kerk betrokke is by die volk se wel en wee, die kerk ook krities behoort te staan teenoor die volk en sy sondes.

Die Historie van die apartheidsteologie is nie al polities-kulturele faktor wat implikasies vir die identiteit van die NG Kerk het nie. Die politieke transformasie ná 1994 is ook ’n baie belangrike vormingsfaktor.

2.2 Die historie van die politieke transformasie ná 1994

Schreuder (2002:226) skryf dat 1994 - die jaar van die bewindsaanvaarding van die ANC - vir die Afrikaner in die algemeen en die NG Kerk ’n toekomsskok was. Apartheid is as deel van die Afrikaners se lewens- en wêreldbeskouing afgetakel en gediskrediteer. Staatsmag is hulle ontneem (Durand, 2002:51). Die nuwe grondwet het ook ’n duidelike afstand tussen kerk en staat geplaas, sodat die kerk se prominente en bevoorregte posisie in die samelewing dramaties verander het. Sedertdien is dit vir die NG Kerk moeilik om sy stempel direk af te druk op die openbare sedelike lewe (Hofmeyr, 2002:3). Gevolglik het groot veranderinge op sedelike en godsdienstige vlak plaasgevind.

Hierdie dramatiese veranderinge het reeds ’n eiesoortige Historie en die NG Kerk behoort begrip vir die invloed hiervan te hê. Esterhuyse se nadenke in dié verband is insiggewend:

• In Suid-Afrika is twee duidelike reaksies op die idee van transformasie. ‘Transformasie’ is onaangenaam vir dié wat volgens die ‘ou orde’ (menende apartheid as samelewingsvisie en -ordening) funksioneer. Vir ander is ‘transformasie’ die sleutel tot mag en voorregte wat voorheen hulle nie beskore was nie. Dié reaksies het te doen met tweede orde-verandering - ’n radikale transformasie-strategie wat diskontinuïteit tot gevolg het. Hierdie tipe transformasie bring konflik en onsekerhede mee. (Dit is waarna Heyns in sy broederlike onderhoud, soos aangehaal in die inleidingsparagraaf, verwys.) Dié transformasie-strategie verander die strukture, kultuur en waardes van ’n politieke bestel of sosiale instelling in so ’n mate dat daar nuwe instellings en ’n nuwe kultuur deur die transformasie tot stand kom (Esterhuyse, 2001:189-192).

• Diegene wat vorige denkraamwerke, perspektiewe en waardes wil behou, bied weerstand teen tweede orde-verandering. Weerstand vind op twee vlakke plaas: op die vlak van sisteme en op ’n individuele vlak. Op die vlak van sisteme: Sosiale instellings het ’n ingeboude ‘konserwatisme’ wat ten doel het om bestaande praktyke en gedrag te handhaaf ter wille van stabiliteit. Daarom is daar weerstand as bestaande maniere ‘afgeleer’ moet word en nuwes ‘aangeleer’ moet word om sinvol binne ’n veranderde sisteem te bestaan (Esterhuyse, 2001:194-195). Individue se reaksie het te doen met die verstaan van hulle ‘eie-belang’ ten opsigte van die politieke of sosiale instelling waarmee hulle solidariteit toon. Verander sodanige instellings beleef individue dat hulle ‘belange’ kollektief in gedrang kom en ontstaan daar spanning tussen die instelling en die individue wat daaraan verbonde is (Esterhuyse, 2001:195-196). Dit is onderliggend aan Heyns se waarneming oor hoekom “te veel ingrypende onverwerkte veranderinge die oorsaak is van angs en onsekerheid”.

In 1995 reeds het Boshoff (1995:1) op die nodigheid gewys dat die kerk oor die effek van transformasie moet nadink en lidmate begelei ten opsigte van die veranderinge wat in hulle leef- en werkswêreld intree. Transformasie in Suid-Afrika het verskillende bevolkingsgroepe in ’n groter mate as voorheen in aanraking met mekaar gebring. Kontak met Afrikakommunalisme as nuwe dominante samelewingsvisie het implikasies vir die identiteit van die NG Kerk.

2.3 Die betekenis van die nuwe sosio-kulturele situasie vir die identiteit van die NG Kerk

Die nuwe sosio-kulturele situasie wat in Suid-Afrika ontwikkel het, het mense uit verskillende agtergronde en kulture in kontak met mekaar gebring. Wêreldwyd (as gevolg van globalisasie) bring soortgelyke kulturele, politieke en ekonomiese prosesse mense nader aan mekaar. Negatief beskou, dra hierdie ‘nabyheid’ in die algemeen by tot wrywing en konflik (Taber, 2002:182). Dit is die geval dat etniese en kulturele ‘nabyheid’ in Suid-Afrika veroorsaak dat mense kollektief toenemend in gespanne verhoudinge opgeneem is.

Vroeër het die NG Kerk in sy verhouding tot Afrikakommunalisme met die swart bevrydingsteologie (wat inslag by die jonger kerke van die NG Kerk-familie inslag gevind het) te doene gekry. Die gevolg was gespanne verhoudinge. Die invloed van Afrikakommunalisme en die nie-Westerse verstaan van kerkwees skep tans ’n nuwe verstaanshorison ten opsigte van die NG Kerk se verhouding met hierdie kerke:

• Kruis-kulturele dialoog raak al hoe meer noodsaaklik. Taber (2002:191) verwys na Schreiter wat meen dat hierdie dialoog twee belangrike dinge bewerk wat vir die kerk tans ten goede is:

• Dié dialoog lê die etnosentristiese wyse van denke in die kerk bloot, wat ’n belangrike gesprek (na alle kante toe) behoort te wees in die NG Kerk-familie se herenigingsproses. Van Niekerk (2001:427) meen dat die NG Kerk die gesprek met die Swart Teologie en Afrika Teologie agterweë gelaat het.

• Voortvloeiend dekonstrueer die kruis-kulturele gesprek die kulture wat betrokke is in die gesprek. In ’n mate word disoriëntasie beleef, maar dit kan in ’n positiewe sin lei tot verandering en ruimte skep vir wedersydse vertroue. Du Toit (2007:115) meen dat die proses van kerkhereniging in die wiele gery word as gevolg van mense se onvermoë om oop te wees vir kulturele diversiteit.

• Daar is kritiek teen die effek van Afrikakommunalisme vanuit die kring van die handhawers van ’n Westers-geörienteerde denksisteem, omdat beweer word dat tradisionele en gevestigde praktyke en insigte ten gronde gaan. Price (2002:111) reageer daarop: “White, Western, mainstream Christianity can no longer maintain that it is normative for all Christians”. Daarom moet daar toenemend in gedagte gehou word dat absolute wysheid en insig nog nooit deur ’n enkele tradisie of tydvak bepaal is nie (Stackhouse, 1995:40). In die Protestantisme word tradisies gerespekteer, die eie en andere s’n, en daarom moet daar gewaak word om nie die eie tradisie as maatstaf te gebruik om andere se lojaliteit en meelewing aan te meet nie (Stackhouse, 1995:41).

• Bogenoemde open die deur om van denominasionaliteit na ekumenisiteit te beweeg. Aleaz (2002:168) meen dat die kerk daarna moet strewe om ’n ‘community of communities’ te wees wat ’n veelvoud van identiteite op ’n nie-bedreigende wyse aanvaar en wedersyds erken. Dit is ’n hermeneutiese konteks waarin gepoog word om ander tradisies en die rol van sosio-politiese-godsdienstige-kulturele werklikhede in mense se lewens te verstaan (Aleaz, 2002:170). Dit behoort ’n gemaklikheid te bring vir verskille. Een van die fokusareas wat deur die Sinode Hoëveld as prioriteit geïdentifiseer is, Ekumene (Een en tesame), gee uitdrukking aan hierdie noodsaaklikheid (Handelinge van die Sinode Suid-Transvaal, 2005:234).

Hoewel die NG Kerk-familie worstel oor hoe hulle verhouding en eenheid in praktyk moet lyk, is die voorafgaande sake belangrik om in gedagte te hou in die wyse waarop gesprekke gevoer word en met mekaar meegeleef word.

In hierdie onderafdeling omtrent die implikasies van die polities-kulturele situasie sedert 1990 vir die identiteit van die NG Kerk, is aandag gegee aan die betekenis van die politieke en kulturele verskynsels in die era van verandering en hoe die NG Kerk daardeur geaffekteer word. Vervolgens word gekyk na hoe die NG Kerk op die invloed van die verandering van wêreldbeskouings reageer. Hierdie veranderings bring die NG Kerk binne die invloedsfeer van die Westerse individualisme as samelewingsvisie en die filosofiese basis daarvan.

3. DIE INVLOED VAN DIE VERANDERING VAN WÊRELDBESKOUINGS (DENKSISTEME) OP DIE IDENTITEIT VAN DIE NG KERK

Smit (2001:120) verwys na Piet Naude wat daarop wys dat die veranderinge in Suid-Afrika nie alleen polities van aard is nie, maar gereken kan word as die invloed van wêreldwye prosesse van kulturele, sosiale, politieke, ekonomiese en tegnologiese transformasie. Suid-Afrika het met die aanbreek van die Nuwe Suid-Afrika byna oornag deel geword van die tipiese [post]modernistiese, demokratiese, sekulêre, vryemark, pluralistiese gemeenskappe wat elders oor eeue ontwikkel het (Smit, 2001:121). Die era van verandering sedert 1990 het te doen met die verandering van heersende denksisteme.

3.1 Die era van verandering sedert 1990

Burger (2001:11) meen dat die meeste van die politieke veranderinge in Suid-Afrika te wagte was, aangesien ’n nuwe politieke era aangebreek het. Die veranderinge as gevolg van die verandering van heersende denksisteme is egter ‘n ander saak. Hierop was die NG Kerk nie voorberei nie en “’n bietjie soos ’n skip in die oop see ... wat uitgelewer is aan die winde van die dag”, skryf Burger (2001:11). Dit het implikasies vir die NG Kerk:

• Die NG Kerk se prominente en bevoorregte posisie in die samelewing het dramaties verander (Schreuder, 2002:226). Die invloed wat die NG Kerk in die apartheidsjare op die regering en samelewing uitgeoefen het, was iets van die verlede. Kerklike uitsprake hierna is meestal deur die owerheid (en media) genegeer. Hierdie verlies aan status en seggenskap het die idee geskep dat die NG Kerk ongeloofwaardig geword het en geen bestaansdoel in die Nuwe Suid-Afrika het nie. Dit is selfs as die ‘dood’ van die NG Kerk beskou (Schreuder, 2002:226). Hofmeyr (2002:4) meen ook dat lidmate ervaar dat dié nuwe aanpassings tot ’n verswakking van die kerk se identiteit gelei het. Dit is ’n gevaarlike situasie, want die verlies van identiteit stel die NG Kerk, sy gemeentes en sy lidmate bloot aan die invloede van buite: modernisering en sekularisasie; die nuwe bedeling se klem op die individu; en, die aanvaarding van ’n liberale moraal. Die invloed van sekularisasie en individualisme (privatisme) word later in hierdie afdeling bespreek. Die invloed van hierdie toedrag van sake noodsaak die kerk se nadenke daaromtrent, want dit dring deur tot in die dieptes van die aard van die NG Kerk.

• Die bogenoemde situasie tesame met die ineenstorting van die teokratiese tradisie waaruit die Afrikaner kom, veroorsaak dat baie lidmate onverskillig staan teenoor die roeping van die kerk (Durand, 2002:53). Daar is ’n nuwe geslag lidmate in die NG Kerk. Hulle is, anders as die vorige geslagte, opgeneem in die veranderende konteks van Suid-Afrika en beleef die effek van versnellende globalisering en die sekulariserende gevolg van ’n pluralistiese samelewing. In hulle lewe gaan dit om privaatheid, hulle reg as individue, persoonlike geluk, sukses en voorspoed. Die gevolg is die volledige privatisering van die godsdiens (Durand (2002:58-59).

• Die verdere effek van sekularisasie en privatisme is dat die kerk nie meer beskou word as die beskermer van absolute etiese waardes nie (Durand, 2002:56). Die sekulêre beskouing het ’n pragmatiese benadering tot waardes. Die etiese uitkoms wat deur spesifieke gedrag bereik moet word, bepaal watter waardes nodig is om dit bereik. Die hedendaagse kultuur beskou moraliteit vanuit ’n nuttigheidsperspektief. Waar die kerk in die hedendaagse sekulêre konteks intrinsieke etiese uitsprake maak, word dit soms beskou en afgemaak as dogmaties, arbitrêr of onderdrukkend (Kirk, 2002:122).

• Durand (2002:21) meen dat sekularisasie paradoksaal daartoe gelei het dat nuwe vorme van spiritualiteit in Suid-Afrika bestaansgronde verkry het. Die invloed van privatisme en die feit dat die kommunale basis van oortuigings minder gesag dra vir mense veroorsaak dat die NG Kerk ook hierdie tendens beleef. Lidmate ontwikkel andersoortige spiritualiteite en style as dit waaraan hulle in die NG Kerk gewoond was. In dié verband verwys Steyn (2006:1) na vyf groot bewegings (neigings) omtrent spiritualiteit wat tans in die NG Kerk bestaan: tradisioneel (verwysend na die gereformeerde tradisie), charismaties, rasionalisties (intellektuele bewegings), mistiek (met ’n kontemplatiewe fokus) en sinkretisties (eie gekonstrueerde godsdienssiening). Die NG Kerk se skuif weg van die gereformeerde tradisie is vir Burger (2001:12-13) die rede waarom die kerk in die sleurkrag van die charismatiese invloede (en andere) beland het. Die subjektiewe inslag van hierdie spiritualiteite dra daartoe by dat die konfessionele karakter van die kerk in gedrang kom (Jonker, 1998:214). Wat vir lidmate eerder ’n rol speel, is die bevrediging van hulle persoonlike behoeftes (Schreuder, 2002:226). Daarom vind daar ook ‘n migrering van lidmate na ander kerke plaas - kerke wat skynbaar beter aan die behoeftes van lidmate voorsien. In ‘n poging om hierdie tendens te bestuur, erken die Algemene Sinode van 2004 dat daar in die kerk ’n behoefte is aan ander vorme van spiritualiteit. Lidmate en gemeentes met verskillende vorme van spiritualiteit word aangemoedig om in gemeenskap met mekaar te leef en mekaar te begelei tot die verryking van die hele kerk (Handelinge van die Algemene Sinode, 2004:433).

• Dit is daarom nie vreemd dat Gaum (2002:196) opmerk dat daar in die NG Kerk ’n nadenke is oor wat gereformeerdheid behels en daarmee saam vrae is oor die Skrif en Skrifgesag. Die kerk erken dat daar meningsverskil bestaan oor die gesag en verstaan van die Gereformeerde belydenis en spiritualiteit. Omtrent Skrifgebruik en Skrifgesag word verklaar dat verantwoordelike Skrifuitleg noodsaaklik is, sodat die relevansie van die Woord vir die hedendaagse uitdagende tye aangedui kan word (Handelinge van die Algemene Sinode, 2004:433-435). Vir Durand (2002:13-14) is dit ook nie vreemd dat die NG Kerk met die sake worstel nie, want hy meen dat transformasie juis die geloofslewe van die kerk toets aan die hand van die oerbelydenis van die kerk - dit sluit sekerlik ook sy gereformeerde geloofsbasis in. Burger (2001:7) meen dat ’n nadenke oor die gereformeerde tradisie (van die NG Kerk) positief kan wees, aangesien die kerk nuut kan nadink oor wat dit is en waartoe dit moet bly reformeer.

• Dit is die bepalende invloed van mense se behoeftes omtrent die doel en taak van die kerk wat lei tot die kommodisering van godsdiens. Mense leef stilweg volgens die beginsels van die marksamelewing, wat fokus op die bevrediging van verbruikers se behoeftes. Selfs sfere waarin sosiale goedere versprei word, word só beïnvloed dat dit ook deur die logika van die mark gekontroleer word. Dit bring mee dat die kerk funksioneer soos ander instellings wat goedere en dienste moet lewer in ’n kompeterende mark (Kirk, 2002:123). Hoewel die kerklike praktyk en waardes verwring kan raak deur die invloed van die marksamelewing meen Lategan (2004:71) het die kerk nodig om te weet hoe die taal en beginsels daarvan lidmate beïnvloed, as dit vorentoe wil beweeg in die postmoderne samelewing van vandag: “... the valuable lesson to be learnt is that the church can learn from consumer society how to deliver its product (religious services and pastoral care) and how to service its congregation (customers)”. Waarvan die kerk bewus moet wees, is dat hoewel die evangelie nie verander nie, die manier waarop die evangelie vandag effektief bedien word, gerig moet wees op die omstandighede en behoeftes van lidmate.

• Nog ’n saak wat in die era van verandering na vore tree is, die kongregasionalistiese tendense in die NG Kerk. Durand (2002:61) skryf die sterk klem op die plaaslike gemeente se onafhanklikheid van die breër verband en die onafhanklike funksionering daarvan toe aan die sterk moderniserende en sekulêre inslag van die wêreld waarin die kerk moet bestaan. Gemeentes se invloede en kontekste lyk verskillend, omdat die klem nie meer val op ’n kommunale konfessionalisme wat gehandhaaf word nie, maar op die plaaslike gemeente se konteks, behoefte en bedieningstyl. In die volgende besluit omtrent kerkhereniging word ’n kongregasionalistiese trek bespeur: Gemeentes se reg om oor hul eie werk te besluit, word erken ... Waar meer as een gemeente in dieselfde gebied val, staan dit gemeentes vry om hulle onderlinge sake en samestelling spontaan en sonder voorskrif of dwang te reël volgens plaaslike behoeftes. Kerkrade behou dus die besluitnemingsbevoegdheid oor die inrigting van die gemeente.” [eie kursivering ter wille van nadruk] (Handelinge van die Algemene Sinode, 2004:428). Terwyl dit al meer belangrik word dat die kontekste waarin gemeentes bestaan, verreken word, word die deur geopen dat gemeentes op hulle eie weg gaan. Vir Jansen van Rensburg (2007:11) is die gevolg hiervan dat “diversiteit in denke van lidmaat tot lidmaat, van gemeente tot gemeente en van sinode tot sinode ’n werklikheid” is.

In afsluiting van hierdie gedeelte omtrent die Historie van die era van verandering word gewys op die opmerking van Schreuder (2002:227) dat daar landwyd in die NG Kerk tekens van spontane en dinamiese nuwe lewe is wat aan die hedendaagse eise (en ware kerkwees) voldoen. Die strategiese fokusareas van die Sinode Hoëveld wat bedoel is om gemeentes in sy sinodale gebied te help om weer relevant in hulle onderskeie kontekste te wees, is sprekend hiervan (Handelinge van die Sinode Suid-Transvaal, 2005:234):

• “Om gemeenteleiers te help om ons omgewing en tydsgees te verstaan en hulle toe te rus vir ’n kerk van die toekoms;

• Om gemeentes te begelei om ’n gestuurde kerk vir die samelewing te word deur (a) uit te reik na die gemeenskappe deur (b) te groei na ’n bediening wat vir diversiteit voorsiening maak;

• Om op ’n omvattende wyse betrokke te wees by die genesing van ons land deur te help om nood in die samelewing te verlig;

• Om die proses van kerkhereniging in die NG Kerkfamilie te bevorder;

• Om ekumene te bevorder.”

Die era van verandering het vir die beoefening van die teologie as deel van die lewe van die kerk ook implikasies. Dit word vervolgens bespreek.

3.2 Die implikasies van die era van verandering vir die beoefening van die teologie in die NG Kerk

Volgens Küng (1989:4) is daar in die hedendaagse teologie ’n beweging weg van logiese positivisme en kritiese rasionalisme. Du Toit (2007:35) wys ook daarop: “...[W]e should perhaps speak of a new game. We have reached the end of modern, patriarchalist, metaphysically closed, identity theology.” Gemeet aan die modernistiese manier van teologisering met die klem op die handhawing van ‘absolutes’, veroorsaak hierdie bewegings dat die situasie van die Christelike teologie as ’n krisissituasie beskryf kan word (Welker, 1996:73). Dié situasie in die teologie asook die leefwêreld en perspektief van die hedendaagse mensdom, bring die vraag na vore oor watter rigting die teologie moet neem vir die toekoms. Elke historiese tyd het immers sy eie besondere probleme en gevolglik ook sy eie eise wat dit aan die teologie stel, omdat daar ’n intieme band bestaan tussen die teologie en die tydsgees (Heyns, 1969:8).

Die volgende is ’n paar algemene opmerkings omtrent die sake wat deur die era van verandering vir die teologie op die agenda geplaas word:

• Pluralisme is deel van die konteks van die postmoderne paradigma. Vir die Christendom impliseer dit dat dit in ’n relasie tot ander godsdienste gebring word wat meebring dat essensiële geloofsaspekte gerelativeer word (Brauer, 1989:208). Hierdie relativering word aangehelp deur die postmoderne tendens van dekonstruksie wat daarvan uitgaan dat menslike realiteite omtrent oortuigings, waardes, sosiale gewoontes en gebruike bloot sosiale konstruksies is (Van Jaarsveld, 2001:100). Die dekonstruksie van oortuigings (hetsy kultureel of religieus) lê die struktuur en mag daarvan bloot. Dit skep die geleentheid dat gevolgtrekkings omtrent ‘kennis’ en ‘waarheid’ in die hand van elke interpreteerder gestel word en sodoende word daar wegbeweeg van die kommunale basis van godsdienstige oortuigings en gedrag (Charry, 1996:120). Daarom meen Wainwright (1996:94-95) is dit vir die Christendom belangrik om weens die relativerende effek van toenemende godsdiensverskeidenheid die uniekheid en universaliteit van Christus te handhaaf. Dit is immers die hart van die Christelike geloof. Kennis en waarheid wat persoonlik bepaald is, het geen publieke waarde nie. Dit kan aan geen gemeenskap of samelewing rigting gee nie (Charry, 1996:120). Die teologie word dus uitgedaag om nuwe klem te lê op die handhawing van geloofswaarhede. Dit is die agtergrond waarteen ’n beweging soos die Evangeliese Inisiatief verstaan behoort te word, aangesien dit ten doel het om die skynbare teologiese krisis in die NG Kerk (veroorsaak deur verskuiwings in die teologie) aan te spreek en die kernwaardes van die klassieke hoofstroomteologie te herbevestig - kernwaardes wat juis handel oor die uniekheid en universaliteit van Christus (Oosthuizen, 2007:3).

• Die herbevestiging van die bogenoemde saak kan egter nie op ’n fundamentalistiese wyse plaasvind nie, want die hedendaagse sosiale situasie en tydgees sal nie daarvoor ontvanklik wees nie. Sekularisasie voed immers die persepsie dat die lewensvatbaarheid van godsdiens betwyfel word - ook die Christelike godsdiens. Die uitdaging is ’n nuwe nadenke omtrent die sosiale relevansie van die Christendom én sy belydenis. Vir Volf (1996:110-111) bestaan die taak van die teologie daarin dat die betekenis van die Christelike verhaal herbeskryf moet word deur die historiese en teenswoordige bewussyn te verreken. ’n Nadenke oor die betekenis van die Christelike verhaal sal noodwendig ook ’n nadenke omtrent die kernwaardes vereis. Dit is in hierdie herbeskrywing wat kernwaardes herbevestig kan word.

• Die bogenoemde veronderstel dat die teologie meer kontekstueel en buigbaar behoort te wees (Volf, 1996:112). Omdat die kulturele konteks ’n gedifferensieerde netwerk van oortuigings en praktyke is, is daar nie slegs ’n enkele wyse waarop die teologie en die kulturele konteks mekaar wedersyds beïnvloed nie. Hierdie begrip behoort ’n openheid en verdraagsaamheid te skep by hedendaagse teoloë ten opsigte van die verskille in teologiese uitkomste in verskillende kontekste. Teoloë moet daarom ook die voorlopigheid van hulle eie teologie erken.

• Die kerk en teologie se ingesteldheid op hulle konteks bring begrip vir hulle eie gemarginaliseerde posisie binne ’n gefragmenteerde en moreel-verwarde wêreld (Charry, 1996:117). Dit bring ook begrip vir die posisie van lidmate wat in hierdie wêreld moet bestaan. Dit roep die kerk (en die teologie) op om lidmate te versterk sodat hulle publiek hulle lewe as Christene kan gaan leef. Daar is algaande die besef dat die kerk en sy lidmate ’n roeping het op die markplein. Bedford-Strohm meen dat die kerk ’n stuk realisme behoort te hê omtrent die werklikheid waarin dit bestaan. Hierdie realisme sien die verskille tussen hoe die wêreld is en hoe die wêreld in Christus behoort te wees. Christelike realisme wil hierdie verskille oorkom deur sy betrokkenheid in die wêreld (Bedford-Strohm, 2006:11-13).

Cobb meen dat die era van verandering toenemend drie gestaltes van die teologie daar sal stel:

• Die eerste is die gestalte van die akademiese teologie wat sy plek in die toekoms steeds sal moet volstaan. Die beoefening daarvan is egter problematies, aangesien die deursnit kerklidmaat en die wyer publiek min belangstel hierin. Enersyds is die kerk daarvoor te blameer, aangesien daar soms min erkenning is vir die werk van toegewyde akademici. Andersyds is teoloë self te blameer, aangesien die invloed van die postmoderne denkraamwerk op hulle navorsingsuitkomste die persepsie by kerklidmate skep dat die geloofwaardigheid van die teologie in gedrang is (Cobb, 1996:197, 198). Daarom meen Charry (1996:198) is dit die taak van akademiese teoloë om te help vorm aan die oorkoepelende konteks waarin hulle hulle werk doen en waarin die Christelike geloof ’n bydrae kan lewer tot die omvattende verstaan van die hedendaagse realiteit. Dit is waarskynlik wat Müller (2006:5) bedoel deur te sê dat die teologie die uitdaging moet aanvaar om ’n teologie vir mense te wees en verbeeldingryk en waagmoedig nuwe taal te gebruik om die mens se menswees voor die aangesig van God te verwoord.

• Die tweede gestalte noem Cobb (1996:199) kerkteologie. Dit verteenwoordig kwessies wat vir die kerk relevant is en nie noodwendig vir die intellektuele teologie nie. In die verband kan gedink word aan die Algemene Sinode van 2004 se opdrag aan die ASK om saam met die betrokke kommissies/diensgroepe studie te doen oor kwessies soos armoede, die ontwikkeling van mense, die impak van MIV en VIGS, misdaad en geweld, onderwys, moraliteit en die grondkwessie, sodat daar duidelikheid kan wees oor die manier waarop die kerk sinvol bydraes kan lewer (Handelinge van die Algemene Sinode, 2004:358). Kerkteologie se taak is geweldig belangrik, want dit poog om die Christelike geloof relevant te maak vir die werklike lewe van Christene (Cobb, 1996:200).

• Vir Cobb (1996:200-202) sal ’n derde gestalte van die teologie in die toekoms ’n rol speel - die leketeologie (lay theology). Teologie se taak is nie meer bloot net om die gewone man (die leek) in te lig oor wat hy moet glo nie. Dit het vandag eerder die taak om die ontwikkeling van leketeologie te bevorder, sodat mense toegerus word om daar waar hulle woon en werk, hulle Christelike roeping te kan uitleef. Hierdie teologie begin by die bewustelike nadenke omtrent kwessies wat die gewone lidmaat ten diepste raak. Dit hang saam met die noodsaaklikheid dat lidmate versterk moet word om hulle lewe as Christene te gaan leef in ’n gefragmenteerde en moreel-verwarde wêreld. Hierdie toerusting is noodsaaklik as gevolg van die hedendaagse tendense van privatisme, die idee dat ‘kennis’ bloot ’n konstruksie is wat persoonlik of sosiaal bepaald is en die gevaar van subjektiwiteit. Die uitdaging aan elke individu is dan om self-krities sy persoonlike opinies te dekonstrueer, sodat daar ’n bewuswording kan wees van die nodigheid om meerdere kennis te bekom. Dit is ’n proses waarin die kerk dialoog kan bewerkstellig en die geleentheid kan skep om waarderend te luister na wat ander Christene te sê het. In so ’n konteks het die kerk ’n beter kans om werklik kerk te wees (Cobb, 1996:202).

Verandering in Suid-Afrika hou verband met die invloed van wêreldwye prosesse van kulturele, sosiale, politieke, ekonomiese en tegnologiese transformasie. Die NG Kerk getuig ook van die invloed. Die uitdagings wat dit bied gee aan die kerk en teologie ’n nuwe aard. Dit is soos Du Toit (2007:35) opmerk omtrent veranderinge in die lewe van die kerk en teologie: “...[W]e should perhaps speak of a new game”.

4. SLOT

In hierdie artikel is gepoog om betekenis te verleen aan die gebeure en verskynsels wat as gevolg van die verandering in die Suid-Afrikaanse samelewing na vore getree het. Die implikasies daarvan vir die kerk in die algemeen (en die NG Kerk in die besonder) is ook aangedui. In ’n neutedop kan die betekenis en bedoeling van hierdie artikel saamgevat word met die woorde van Dalferth (1996:129): “We are what we have become”. Hiermee bedoel hy dat die lewe, ook die gemeenskapslewe (ingeslote die kerk), die gevolg is van ’n reeks keuses wat gemaak word op grond van belewenisse en gebeure. Dit bepaal die historiese identiteit. Om ’n nuwe identiteit te bou, behoort daar dus ’n kritiese beskouing van die historiese identiteit te wees, sodat bepaal kan word wat behou moet word en wat nadelig is. Laat die kerk hierdie geleentheid na, skep dit weer die situasie waarin die kerk se identiteit en rol vir hom bepaal sal word (Dalferth, 1996:129). Daarom is daar gepoog om gebeure en verskynsels in die Suid-Afrikaanse konteks en die implikasies daarvan vir die kerk te probeer verstaan, sodat die kerk (NG Kerk) die groots moontlike geleentheid het tot selfverwesenliking.

BIBLIOGRAFIE

ALEAZ, K.P. 2002. The globalization of poverty and the exploitation of the Gospel. (In Foust, T.F., Hunsberger, G.R., Kirk. J.A. & Ustorf, W., eds. A scandalous prophet. The way of mission after Newbigin. Grand Rapids, MI : Eerdmans Publishing Co. p. 165-173.)

BEDFORD-STROHM, H. 2006. Public Theology and the Global Economy. Ecumenical Social Thinking between Fundamental Criticism and Reform. (Voordrag gelewer tydens ’n openbare lesing by die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria op 31 Julie 2006.) Pretoria. 16 p. (Ongepubliseer.)

BOSHOFF, H. 1995. Die kerk in die nuwe Suid-Afrika. Potchefstroom.

BRAUER, J. 1989. A paradigm for theology? Introductory remarks. (In Küng, H. & Tracy, D., eds. Paradigm change in theology - A symposium for the future. New York, NY : The Crossroad Publishing Company. p. 205-211.)

BURGER, C. 2001. Ons weet aan wie ons behoort. Nuut gedink oor ons gereformeerde tradisie. Wellington : Lux Verbi.BM.

CHARRY, E.T. 1996. Reviving theology in a time of change. (In Volf, M., Krieg, C. & Kucharz, T., eds. The future of theology. Grand Rapids, MI : Eerdmans Publishing Co. p. 114-126.)

COBB, J.B. jnr. 1996. The multifaceted future of theology. (In Volf, M., Krieg, C. & Kucharz, T., eds. The future of theology. Grand Rapids, MI : Eerdmans Publishing Co. p. 196-204.)

DALFERTH, I.U. 1996. Time for God’s presence. (In Volf, M., Krieg, C. & Kucharz, T., eds. The future of theology. Grand Rapids, MI : Eerdmans Publishing Co. p. 127-141.)

DE VILLIERS, E. 1986. Kritiek uit die ekumene. (In Kinghorn, J., red. Die NG Kerk en Apartheid. Johannesburg : Macmillan Uitgewers (Edms.) Bpk. p. 144-164.)

DURAND, J. 2002. Ontluisterde wêreld: Die Afrikaner en sy kerk in ’n veranderde Suid-Afrika. Wellington : Lux Verbi.BM.

DU TOIT, C.W. 2007. Seasons in theology. Inroads of postmodernism, reference and representation. Pretoria : Research Institute for Theology and Religion, UNISA.

ESTERHUYSE, W.P. 2001. Before the next rains: from apartheid to transformation. (In Hofmeyr, J.W., Lombaard, C.J.S. & Maritz, P.J., eds. Perspectives on Christianity: 1948 plus fifty years. Theology, Apartheid and Church: Past, Present and Future). Pretoria. p. 187-200. (Series 5, Volume 1: Institute for Missiological and Ecumenical Research.)

GAUM, F.M. 1981. Die kerk en die toekoms van Suid-Afrika. Pretoria : NG Kerkboekhandel Transvaal.

GAUM, F.M., samesteller. 1997. Die verhaal van die Ned Geref Kerk se reis met apartheid 1960 - 1994. Wellington : Hugenote-Uitgewers (Algemene Sinodale Kommissie).

GAUM, F.M. 2002. Vierde era: 1962-2002. (In Hofmeyr G., red. NG Kerk 350 - Eenhonderd bakens in die geskiedenis van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1652-2002. Wellington : Lux Verbi.BM. p. 196-197.)

Handelinge van die agste Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Bloemfontein. 16-25 Oktober 1990. (p. 457-748.)

Handelinge van die negende Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Pretoria. 11-20 Oktober 1994. (p. 347-609.)

Handelinge van die twaalfde Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Hartenbos. 10-15 Oktober 2004. (p. 270-452.)

Handelinge van die sewentiende Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk Suid-Transvaal in Alberton. 18-20 Oktober 2005. (p. 216-343.)

HEUVEL, M.C. 1999. Rebuilding our nation - Participating in the political process from the perspective of a Biblical Christian worldview. Potchefstroom. (Series F2: Brochures of the Institute for Reformational Studies, 1999:71.)

HEYNS, J.A. 1969. Sterwende Christendom? Kaapstad : Tafelberg-Uitgewers.

HOFMEYR, J.W., 2002. Die NG Kerk en kerkwees in ons tyd. (In Du Toit, P.R., Hofmeyr, J.W., Strauss, P.J. & Van der Merwe, J.M. Moeisame pad na vernuwing. Die NG Kerk se pad van isolasie en die soeke na ’n nuwe relevansie 1974-2002. Bloemfontein : Barnabas. p. 1-50.)

JANSEN VAN RENSBURG, N. 2007. Diversiteit en diskresie merk nou die NG Kerk. Kruisgewys, 7(2):10-11. Aug.

JONKER, W.D. 1998. Selfs die Kerk kan verander. Kaapstad : Tafelberg-Uitgewers.

KINGHORN, J. 1986. Konsolidasie, rasionalisasie en dogmatisering. (In Kinghorn, J., red. Die NG Kerk en Apartheid. Johannesburg : Macmillan Uitgewers (Edms.) Bpk. p. 117-143.)

KIRK, J.A. 2002. Mission in the West: On the calling of the Church in a postmodern age. (In Foust, T.F., Hunsberger, G.R., Kirk. J.A. & Ustorf, W., eds. A scandalous prophet. The way of mission after Newbigin. Grand Rapids, MI : Eerdmans Publishing Co. p. 115-127.)

KÜNG, H. 1989. Paradigm change in theology: a proposal for discussion. (In Küng, H. & Tracy, D., eds. Paradigm change in theology - A symposium for the future. New York, NY : The Crossroad Publishing Company. p. 3-33.)

LATEGAN, L.O.K. 2004. Remarks on the church in the consumer society: similarities and dissimilarities. Acta Theologica 24(2):68-80, Desember.

LUBBE, J.J. 2001. A tale of fear and faith. (In Hofmeyr, J.W., Lombaard, C.J.S. & Maritz, P.J., eds. Perspectives on Christianity: 1948 plus fifty years. Theology, Apartheid and Church: Past, Present and Future). Pretoria. p. 29-50. (Series 5, Volume 1: Institute for Missiological and Ecumenical Research.)

MOLTMANN, J. 1989. The interlaced times of history: some necessary differentiations and limitations of history as concept. (In Küng, H. & Tracy, D., eds. Paradigm change in theology - A symposium for the future. New York, NY : The Crossroad Publishing Company. p. 320-339.)

MÜLLER, J. 2005. My teologiese geloof en gelowige teologie. Kruisgewys, 5(2):19-21.

OOSTHUIZEN, J. 2007. NGK gons oor teologiese strominge. Kerkbode:7, Aug. 10.

PRICE, L. 2002. Churches and postmodernity: Opportunity for an attitude shift. (In Foust, T.F., Hunsberger, G.R., Kirk. J.A. & Ustorf, W., eds. A scandalous prophet. The way of mission after Newbigin. Grand Rapids, MI : Eerdmans Publishing Co. p. 107-114.)

ROSSOUW, G.J. 2001. Essentials of apartheid. (In Hofmeyr, J.W., Lombaard, C.J.S. & Maritz, P.J., eds. Perspectives on Christianity: 1948 plus fifty years. Theology, Apartheid and Church: Past, Present and Future). Pretoria. p. 88-104. (Series 5, Volume 1: Institute for Missiological and Ecumenical Research.)

SCHILLEBEECKX, E. 1989. The role of history in what is called the new paradigm. (In Küng, H. & Tracy, D., eds. Paradigm change in theology - A symposium for the future. New York, NY : The Crossroad Publishing Company. p. 307-319.)

SCHREUDER, N. 2002. 1994. Toekomsskok of toekomsvisie? (In Hofmeyr G., red. NG Kerk 350 - Eenhonderd bakens in die geskiedenis van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1652-2002. Wellington : Lux Verbi.BM. p. 226-227.)

SMIT, D.J. 2001. Has there been any change? On the role of the Dutch Reformed Church 1974-1990. Scriptura, 76:119-126.

STACKHOUSE, M.L. 1995. Christian social ethics in a global era: Reforming Protestant views. (In Stackhouse, M.L., ed. Christian social ethics in a global. Nashville TN : Abingdon Press. p. 11-73.)

STEYN, G.J. 2006. Die NG Kerk se identiteitskrisis. Deel 2: Huidige bewegings, tendense of mutasies. [E-pos aan:] Kruger, P., 30 Sept. 2006.

TABER, C.R. 2002. The Gospel as authentic meta-narrative. (In Foust, T.F., Hunsberger, G.R., Kirk. J.A. & Ustorf, W., eds. A scandalous prophet. The way of mission after Newbigin. Grand Rapids, MI : Eerdmans Publishing Co. p. 182-194.)

VAN DER MERWE, J.M., 2002. Die NG Kerk en die samelewing. (In Du Toit, P.R., Hofmeyr, J.W., Strauss, P.J. & Van der Merwe, J.M. Moeisame pad na vernuwing. Die NG Kerk se pad van isolasie en die soeke na ’n nuwe relevansie 1974-2002. Bloemfontein : Barnabas. p. 51-130.)

VAN DER WALT, B.J. 1999. Godsdiens en samelewing - Christelike betrokkenheid op die markplein. Potchefstroom. (Reeks F3: Versamelwerke van die Instituut vir Reformatoriese Studie, 1999:51.)

VAN JAARSVELD, F.J. 2001. Die rol van Godskonsepte vir pastorale terapie: ’n konstrukteoretiese benadering. Bloemfontein : UOVS. (Proefskrif - Phd)

VAN NIEKERK, A.S. 2001. “But where’s the bloody horse?” Die NG-teologie in Afrika. Verbum et Ecclesia, 22(2):418-433.

VOLF, M. 1996. Theology, meaning and power. (In Volf, M., Krieg, C. & Kucharz, T., eds. The future of theology. Grand Rapids, MI : Eerdmans Publishing Co. p. 98-113.)

WAINWRIGHT, G. 1996. Back to the future. (In Volf, M., Krieg, C. & Kucharz, T., eds. The future of theology. Grand Rapids, MI : Eerdmans Publishing Co. p. 89-97.)

WELKER, M. 1996. Christian Theology: What direction at the end of the Second Millennium? (In Volf, M., Krieg, C. & Kucharz, T., eds. The future of theology. Grand Rapids, MI : Eerdmans Publishing Co. p. 73-88.)

TREFWOORDE

Betekenis van geskiedenis, Politieke transformasie, Verandering van denksisteme, Proses van teologisering, Identiteit van die NG Kerk, Veranderinge in NG Kerk

KEYWORDS

Meaning of history, Political transformation, Change of paradigms, Process of theologising, Identity of DR(NG) Church, Changes in DR(NG) Church

KONTAK BESONDERHEDE

Prof JW (Hoffie) Hofmeyr

Universiteit Vrystaat

Posbus 339

9300 BLOEMFONTEIN

E-posadres: linhof@mweb.co.za

Ds P Kruger

Posbus 570

1490 NIGEL

011 814 4848

082 686 9217

E-posadres: pkkruger@telkomsa.net

1 Artikel gebaseer op ‘n hoofstuk uit ’n MA-verhandeling(Teologie) by UP(2008) getitel “ ’n Dowwe spieël: ’n Kerkhistoriese ondersoek na die resente stand van die NG Kerk, 1990-2006” en ingedien deur ds P Kruger onder die studieleiding van prof JW Hofmeyr.