Lukas 18:1-8 – Eksegetiese en homiletiese aantekeninge
ABSTRACT
Luke 18:1-8 – Exegetical and homilectical notes
The parable of the unjust judge teaches disciples the proper response to the delay of the parousia alluded to by Jesus in Luke 17:22–37. The a peiore ad melius reasoning of the parable is that if the unjust judge yielded to the continuous cries of the widow, who was a stranger to him, and granted her the vindication she sought, how much more will God, who is just, hear the cries of his chosen ones who cry out to him day and night. In his application of the parable Jesus emphasizes that during the delay of the parousia it was important for the disciples to follow the example of the persevering widow by continuing to pray for God's vindication. The idea is of continual prayer, not continuous, non-stop prayer. Jesus also emphasizes that even though God is patient and longsuffering he will not delay the vindication of the elect much longer.
1. Inleiding
Die gelykenis oor die onregverdige regter en die volhardende weduwee is een van drie gelykenisse oor gebed in die Evangelie van Lukas (11:5-8; 18:1-8; 18:9-14) (Liefeld 2000:240).1 Dit handel oor die aard van gebed, die karakter van God en die noodsaak van volhardende geloof tot en met die wederkoms van die Seun van die mens. Dit vorm deel van jaar C van die Revised Common Lectionary, asook van die Rooms Katolieke en Anglikaanse leesroosters.
2. Literêre konteks
Lukas 18:1-8 vorm die afsluiting van 'n reeks eskatologiese uitsprake wat Jesus vanaf 17:22 tot sy dissipels2 rig. Die inclusio gevorm deur die verwysings na die Seun van die mens in 17:22 en 18:8, gee 'n eskatologiese toespitsing aan die gelykenis wat verreken moet word in die prediking daarvan (Green 1997:637; Liefeld 2000:253).
Die eerste deel van die eskatologiese diskoers (17:22-37) veronderstel 'n situasie van vervolging waartydens die dissipels sal smag na die koms van die Seun van die mens (17:22). In dié wagtyd moet die dissipels hulle nie laat mislei deur gerugte dat die Seun van die mens reeds gekom het nie (17:21), want hulle moes volgens Jesus eers 'n tyd van vervolging en lyding deurleef vóór sy koms (17:25).
Die tweede deel van die eskatologiese diskoers (18:1-8) sluit by die eerste deel aan deurdat dit die gevaar aanspreek dat die dissipels in hulle wag op die Here moed kon verloor (Nolland 1993:865; Green 1997:638). Vir Lukas is moedverloor die teenpool van egte geloof (τη πίστίν), terwyl volgehoue gebed om God se geregtigheid vir hom as 'n metonomie vir vertroue in God funksioneer (vgl Green 1997:638-639).3
3. Opbou
Die gedeelte bestaan uit die inleidende woorde van Lukas (18:1), gevolg deur die gelykenis (18:2-5) en die toepassing daarvan deur Jesus (18:6-8). Die gelykenis bevat 'n dubbele analogie: 'n negatiewe tussen die regter en God en 'n positiewe tussen die weduwee en gelowiges. Die gelykenis moet vervolgens verstaan word na aanleiding van Lukas en Jesus se kommentaar daarop (vers 1 en 8b), asook Jesus se beskrywing van die weduwee en die regter in die gelykenis self (Green 1997:638, 641).4
4. Toepassing van die gelykenis deur Lukas
In vers 1 stel Lukas dit dat Jesus dié gelykenis vertel het om te verhoed dat die dissipels moed verloor deur hulle aan te spoor om voortdurend tot God te bid. Die gevaar van moedeloosheid waarvan Lukas in vers 1 praat, is nie maar bloot 'n algemene toestand wat herlei kan word na 'n verskeidenheid van alledaagse faktore nie. Dit is spesifiek die moedeloosheid wat veroorsaak kan word deur die vertraging van die wederkoms van Christus, en die daarmee gepaardgaande regverdiging van gelowiges, wat daartoe kan lei dat hulle hul roeping versaak (Nolland 1993:867).5 Daarom wil Jesus sy dissipels verseker dat God wel aan hulle reg sal laat geskied ondanks die vertraging in die koms van sy koninkryk.
5. Die gelykenis
Die gelykenis handel oor twee karakters: 'n onregverdige regter en 'n verontregte weduwee. Die eerste karakter wat aan die orde kom is die onregverdige regter (ό κρίτης της αδικιας ). In alle waarskynlikheid is hy 'n gewone Joodse magistraat (Scott 1990:184; Green 1997:639), en nie 'n sekulêre Hellenistiese magistraat nie (so Liefeld 1984:1000), aangesien eersgenoemde in die reël met Romeinse sankie alle sake behalwe die wat die doodstraf verlang het, hanteer het (Bock 1996:1447). Dié regter word bekendgestel as iemand wat nóg vir God nóg sy medemens respek het, met die gevolg dat hy nie die geregtigheid wat van 'n regter verwag word, verleen nie.
Die beskrywing van die regter as iemand wat hom aan niemand steur nie, dui nie in die gelykenis op die positiewe Westerse ideaal van 'n neutrale regbank nie. In 'n antieke Joodse milieu is dit 'n negatiewe tipering deurdat die verwagting daarin eerder was dat regters vir God moes vrees en aan weduwees en wese reg moes laat geskied (contra Derrett 1971-1972:179, 187).6 Vrees vir die Here het vir die Jode teenoor onreg gestaan (Lev 25:17, 36, 43). Regters moes ook nie neutraal teenoor weduwees en wese wees nie, maar hulle eerder bevoordeel het (Lev 19:9-10; 23:22; Deut 14:28-29, 24:19-22; 26:12) deur hulle regte ten alle tye te beskerm (Eks 22:21-23; Deut 24:17-18; Ps 68:6; 82:2-7 en 146:9). Weduwees was immers onder die besondere beskerming van God (Maier 1992:376). Lukas deel dan ook dié besorgdheid oor weduwees (sien 2:37; 4:25-26; 7:12; 20:47; 21:2-4; Hand 6:1; 9:39, 41) (Green 1997:639; Bock 1996:1448).
Die tweede karakter verteenwoordig 'n teenoorgestelde posisie op die sosiale spektrum ten opsigte van mag en eer as die regter s'n (Scott 1990:182; Green 1997:639). As weduwee was sy sonder enige mag of invloed en gevolglik weerloos vir die misbruik deur ander. Die weduwee in die gelykenis is dan ook deur haar teenstander (αντιδικος) benadeel – moontlik oor geld – met die gevolg dat sy haar tot die regter wend om reg aan haar te laat geskied (Hultgren 2000:254). Sy vra nie om wraak nie, maar dat die regter geregtigheid sal laat geskied deur haar as onskuldige te beskerm (Stein 1992:445).
Dat sy haarself in die hof verteenwoordig dui daarop dat sy geen manlike familie gehad het om haar te verteenwoordig nie (Malina & Rohrbaugh 1992:381, 397; Green 1997:640). Al wat sy kon doen was om te volhard in haar pleidooi om geregtigheid. Die imperfektum ηρχετο beklemtoon haar volharding deur dit duidelik te maak dat sy herhaaldelik by die regter om geregtigheid gevra het (Johnson 1991:269; du Plessis 1995:573). Vir 'n geruime tyd (επιχρονον) het die regter hom nie aan haar gesteur nie. Waarom word nie vermeld nie. Moontlik leef hy bloot getrou aan sy selfgesentreerde karakter (Bock 1996:1449).
Tog slaag die weduwee daarin om deur haar volgehoue versoeke aan die regter hom eers tot introspeksie te beweeg en dan tot 'n uitspraak in haar guns. Die regter het naamlik gevrees dat die weduwee hom "op die oog sou slaan". Die subjunktief υπώπαζή in vers 5b is 'n boksterm wat letterlik beteken "om iemand met die vuis onder die oog te slaan" (Marshall 1978:678; Green 1997:641). Figuurlik gesproke dui dit op die volgehoue emosionele uitputting van iemand (Bock 1996:1449), en in terme van eer en skaamte op die skaad van iemand se reputasie (Malina & Rohrbaugh 1992:381; Nolland 1993:868; Liefeld 2000:256). In alle waarskynlikheid word dit hier figuurlik gebruik deur Jesus (Louw & Nida 1988:315; Hultgren 2000:255-256). Omdat die weduwee die regter uitgeput het, besluit hy om die weduwee haar sin te gee deur 'n uitspraak in haar guns te lewer om sodoende te verhoed dat sy hom verder sou lastig val. Hy handel nie omdat hy vir sy reputasie of eer gevrees het nie. Hy het immers nie omgegee wat mense van hom dink nie (18:2, 4) (Scott 1990:185; Stein 1992:445; contra Nolland 1993:868).
6. Toepassing van die gelykenis deur Jesus
Die toepassing van die gelykenis deur Jesus geskied na aanleiding van 'n reeks van retoriese vrae wat dit duidelik maak wie God werklik is, in kontras met die gelykenis self wat verklaar hoe God nie is nie (Klein 2006:580). Die gelykenis self is dus in terme van God 'n ongelykenis.
Die eerste retoriese vraag in vers 7a is 'n crux interpretum vir die verstaan van die gelykenis. Jesus vra of God sy uitverkorenes (εκλέκτών) se geroep (βοάώ) om geregtigheid sal antwoord? Die inleidende όύ μη saam met die subjunktief (ποιήσή) maak dit duidelik dat Jesus 'n emfatiese positiewe antwoord verwag – "Ja, God sal die uitverkorenes se gebede verhoor" (Fitzmyer 1985:1180; du Plessis 1995:574; Hultgren 2000:256). Volgens vers 7 is die vergelyking tussen God en die regter dus 'n negatiewe een. God is nie soos die regter nie. Jesus argumenteer daarom hier a peiore ad melius - van die slegte na die goeie (Marshall 1978:670; Fitzmyer 1985:1177). As 'n onregverdige regter wat vir niemand omgee nie, tog uiteindelik geregtigheid laat geskied aan 'n vrou wat geen verbintenis met hom het nie, hoeveel te meer sal God nie geregtigheid verleen aan sy uitverkorenes nie?
Die punt van die vergelyking tussen God en die regter is hulle uitgestelde antwoorde op onderskeidelik die noodkreet van gelowiges en die hulpkreet van die weduwee. Daar is egter 'n duidelike verskil tussen die beweegredes vir God en die regter se optredes (Viljoen 2007:715). God handel nie omdat Hy soos die regter ongeduldig is nie. Hy verleen eerder geregtigheid omdat Hy regverdig is. Anders as die onregverdige regter, luister God daarom geduldig na gelowiges se herhaalde versoeke om geregtigheid (Nielsen 1983:108; Klein 2006:580). Hy handel ook nie soos die regter uit selfsug nie, maar uit liefde vir sy uitverkorenes (Kistemaker 2002:206).
Hierop volg 'n tweede retoriese vraag in vers 7b wat vra of God sal talm om die gebede van die uitverkorenes te verhoor. Die werkwoord μάκροθυμέώ, wat 'n verskeidenheid van betekenisse (onder andere "om te vertraag", "om geduld te hê" en "om lankmoedig te wees") kan hê (sien Marshall 1978:674-675; Fitzmyer 1985:1180),7 dui volgens Johnson (199:270) en Nolland (1993:871) in die gelykenis op die genadige karakter van God deurdat Hy nie gou toornig word nie (vgl Matt 18:26). Hy is eerder lankmoedig met sondaars deur hulle nie spoedig te straf nie. Die tweede retoriese vraag vra volgens dié lesing of God se lankmoedigheid met sondaars sal veroorsaak dat Hy nooit op die geroep van die uitverkorenes sal antwoord nie (Stein 1992:446).
Dit is egter 'n vraag of God se verhouding teenoor ongelowiges hier ter sprake is aangesien die gelykenis aan die dissipels gerig is. Marshall (1978:675), Nielsen (1983:107) en van Bruggen (1993:327) neem die vraag daarom eerder as 'n verwysing na God se verhouding ten opsigte van sy uitverkorenes. Meer spesifiek sy verhoring van sy uitverkorenes se gebede, en nie van sy vergewing van hulle sondes nie. Die retoriese vraag in vers 7b vra met ander woorde of God se toets van gelowiges se geloof, deur hulle gebede nie onmiddellik te verhoor nie, sal veroorsaak dat Hy nooit aan hulle reg sal laat geskied nie (Marshall 1978:675). Vers 8a antwoord vervolgens ontkennend op die vraag – "Nee, Hy sal nie". (Hultgren 2000:256). Nóg méér – God sal hulle gebede spoedig beantwoord. Dié versekering word twee maal herhaal (vers 7-8).
Jesus se antwoord (εν τάχεί) beteken in die onmiddellike konteks, en volgens normale gebruik, dat God eerder "gou" as "skielik" gelowiges se gebede sal beantwoord (Marshall 1978:676; Nolland 1993:870; contra Johnson 1991:271).8 Die vraag ontstaan daarom hoe die "gou" van God se verhoring van gelowiges se gebede om die wederkoms verstaan moet word, en hoe dit rym met die wegbly daarvan? Nolland (1993:871) wys daarop dat Lukas die tyd van gelowiges se dood, die vernietiging van Jerusalem, die regverdiging van gelowiges en die universele oordeel verwant aan mekaar, en selfs as uitruilbaar sien. Hulle kan almal weergawes wees van God se finale oordeel. Die spoedige verhoor van gelowiges se gebede kan vervolgens op meer as een wyse geskied as bloot net deur die wederkoms van Jesus. Die verhoring van gebede om geregtigheid deur God kan ook in fases, en op wyses wat nou nie altyd duidelik is nie, geskied voordat dit eendag volkome duidelik word. Die teks praat verder van "gou" en nie "onmiddellik" nie. Jesus beloof met ander woorde, dat al geskied dit nie onmiddellik nie, God nie onnodiglik die wederkoms sal uitstel nie (vgl van Bruggen 1993:327).
Naas die vertroosting vervat in vers 7-8a, bevat dit ook 'n ernstige vermaning in vers 8b in die vorm van 'n derde retoriese vraag waarin Jesus vra of die Seun van die mens met sy koms nog geloof op aarde sal vind (du Plessis 1995:572). Die partikel άρά beklemtoon die kommer van Jesus hieroor deurdat dit impliseer dat Hy dit as onwaarskynlik beskou het dat Hy nog geloof op aarde met sy wederkoms sou vind (Louw & Nida 1989:665; Curkpatrick 2002:111).
Die tipe geloof wat Hy met sy wederkoms sal soek word deur twee infinitiewe - πάντοτε προσευχεσθάί ("om altyd te bid") en μη εγκάλείν ("om nie op te hou nie") - in vers 1 weergegee (du Plessis 1995:570). Hier verwys πάντοτε na volgehoue gebed (Marshall 1978:671; Nolland 1993:867; du Plessis 1995:573). Die gedagte is dus nie die van ononderbroke, aanhoudende gebed nie, maar eerder die van herhaalde, gereelde gebede (Bock 1996:1447). Dit gaan ook nie oor die ydele herhaling van dieselfde gedagte of woorde nie (Green 1997:638-639).
Die voorkoms van die gelykenis in Jesus se eskatologiese diskoers, en die koppeling daarvan aan Jesus se vraag in vers 8b, beklemtoon dat dit vir Lukas spesifiek daaroor gaan dat gelowiges nie moeg moet word om tot God te bid om die koms van sy Seun nie (vgl Nolland 1993:867; du Plessis 1995:573; Bock 1996:1447). Gebed is vir Lukas 'n eskatologiese aktiwiteit wat uitdrukking gee aan die spanning in die afwagting van die volmaaktheid van die koninkryk wat aan die kom is (Viljoen 2007:714). Anders gestel: Dit gaan in die gedeelte oor gebede om geregtigheid9 wat bewys lewer van 'n volhardende geloof in Jesus en in sy wederkoms. Gebede om geregtigheid is vervolgens 'n noodsaaklikheid vir gelowiges (vgl die gebruik van δεί in 18:1) en behoort gelowiges se lewens te tipeer (Green 1997:638; Bock 1996:1447).
Die retoriese vraag in vers 8 maak dit duidelik dat Jesus nie net enige geloof verlang nie (Green 1997:637). Hy soek volhardende geloof soos die van die weduwee wat getuig van 'n lewende verhouding met God (Hultgren 2000:259). Die vraag wat gelowiges hulleself dus moet afvra is nie of God getrou sal wees in die beantwoording van hulle gebede nie, of wanneer die wederkoms sal plaasvind nie, maar eerder of die Seun van die mens met sy wederkoms nog geloof by hulle sal vind (Marshall 1978:670; Maier 1992:380).
7. Homiletiese aantekeninge
In die prediking van die gelykenis moet die dubbele fokus van die gelykenis na aanleiding van die twee kontrasterende karakters daarvan in ag geneem word tesame met die toepassing daarvan deur Jesus (18:8b) en Lukas (18:1).
Eerstens wil die gelykenis gelowiges verseker dat God, anders as die geval met die oneerlike regter, geregtigheid aan hulle sal verleen. Die doel van gebed is nie om God se hart te verander nie aangesien Hy nie soos die onregverdige regter is wat niks vir niemand voel nie. Hy is die regverdige regter wat die beskermer van die weduwee en die weeskind is (Deut 10:17-18a). Hy verhoor nie gebede omdat Hy, soos die regter, ongeduldig raak met gelowiges nie, maar omdat Hy regverdig is. Hy hoef daarom nie moeg gebid te word met ononderbroke, herhaalde gebede nie.
Gelowiges moet altyd onthou, dat anders as die geval met die weduwee in die gelykenis, hulle in 'n intieme verhouding met God staan. Hy het hulle geroep en het 'n spesiale belang in hulle omdat hulle aan Hom behoort (Kistemaker 2002:206).
Tweedens word gelowiges opgeroep om soos die weduwee te volhard in gebed. Jesus maak dit in die eskatologiese diskoers, wat Hy vanaf 17:22 aan die dissipels rig, duidelik dat gelowiges voor die wederkoms vervolging sal meemaak wat hulle geloof sal beproef. Hulle geloof sal verder getoets word deurdat God nie onmiddellik hulle gebede om geregtigheid sal beantwoord nie. Waarom die Here gelowiges se gebede om die wederkoms nie onmiddellik beantwoord nie, word nie deur die gelykenis weergegee nie. Moontlike redes kan wees dat Hy gelowiges se geloof wil verdiep, hul geduld wil leer, of omdat die tyd daarvoor nog nie aangebreek het nie (sien Viljoen 2007:715).
Gelowiges het egter die versekering dat God aan hulle geregtigheid sal verleen. Op die regte tyd sal Hy hulle gebede verhoor sonder om onnodig te talm. In 2:37-38 het Lukas na die weduwee Hanna verwys wat dag en nag tot God gebid het oor die verlossing van Jerusalem. Soos wat God haar gebede verhoor het, sal Hy ook die gebede van gelowiges om die koms van die Seun van die mens op die bestemde tyd verhoor. Gelowiges hoef dus nie na aanleiding van die vertraging van die wederkoms daarin te begin twyfel in of God hulle sal regverdig nie.
Die vraag wat die gelykenis ten slotte aan gelowiges stel is van watter tipe geloof hul gebede getuig? Getuig dit van 'n gebrekkige of selfs afwesige wederkomsverwagting? Of getuig dit van 'n diep verlange na God se koninkryk soos Jesus sy dissipels leer bid het in 11:2? Gelowiges se gebede moet spreek van 'n verlange na die dag wanneer die Seun van die mens alles finaal sal vernuwe. Dit is slegs dié tipe eskatologiese gebedsgeloof om God se geregtigheid wat volgens die gelykenis die waarmerk van 'n opregte geloof is. Daarom roep die toepassing van die gelykenis deur Jesus gelowiges op om in geloof in gebed te volhard ondanks hulle omstandighede.
Bronnelys
Bock, D L 1996. Luke 9:51-24:53. Grand Rapids: Baker Academic (ECNT).
Curkpatrick, S 2002. Dissonance in Luke 18:1-8. JBL 121, 107-121.
Derrett, J D M 1971-1972. Law in the New Testament: The Parable of the Unjust Judge. NTS 18, 178–91.
Du Plessis, I J 1995. Die Evangelie volgens Lukas. Deel 2. Lux Verbi: Kaapstad.
Fitzmyer, J A 1985. The Gospel according to Luke (X-XXIV). Garden City: Doubleday (Anchor Bible).
Green, J L 1997. The Gospel of Luke. Grand Rapids: Eerdmans (NICNT).
Hultgren, A J 2000. The Parables of Jesus – a Commentary. Grand Rapids: Eerdmans.
Johnson, L T 1991. The Gospel of Luke. Collegeville: Liturgical Press (Sacra Pagina 3).
Kistemaker, S J 2002. The Parables – Understanding the Stories Jesus told. Grand Rapids: Baker Books.
Klein, H 2006. Das Lukasevangelium. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht (Meyers Kritisch-Exegetischer Kommentar Ueber Das Neue Testament).
Liefeld, W L 1984. Luke. Grand Rapids: Zondervan (EBC).
Liefeld, W L 2000. Parables on Prayer – Luke 11:5-13; 18:1-14, in Longenecker, R N (ed). The Challenge of Jesus' Parables. Grand Rapids: Eerdmans, 240-263 (McMaster New Testament Studies).
Louw, J P & Nida, E A 1988. Greek-English lexicon of the New Testament based on semantic domains. Vol 2. New York: UBS.
Malina, B J & Rohrbaugh, R L 1992. Social-Science Commentary on the Synoptic Gospels. Minneapolis: Fortress Press.
Marshall, I H 1978. Commentary on Luke. Grand Rapids: Eerdmans (NIGTC).
Maier, G 1992. Lukas-Evangelium. Teil 2. Neuhausen-Stuttgart: Hanssler (C-Bibelkommentar).
Nielsen, J T 1983. Het Evangelie naar Lucas. Nijkerk: Callenbach (PNT).
Nolland, J 1993. Luke 9:21-18:34. Vol. 35B. Dallas: Word (WBC).
Scott, B B 1990. Hear then the Parable – A Commentary on the Parables of Jesus. Minneapolis: Fortress Press.
Stein, R H 1992. Luke. Broadman & Holman Publishers: Nashville (NAC 24).
Van Bruggen, J 1993. Lucas – Het evangelie as voorgeschiedenis. 2de druk. Kampen: Kok. (CNT).
Viljoen, F P 2007. "Here, leer ons bid." Jesus se onderrig oor gebed volgens die Lukasevangelie. NGTT 48 (3&4), 707-718.
TREFWOORDE
Lukas 18:1-8
Gelykenis
Gebed
Geloof
KEY WORDS
Luke 18:1-8
Parable
Prayer
Faith
KONTAK BESONDERHEDE
Dr MJ Nel
Departement Nuwe Testament
Fakulteit Teologie
Universiteit van Pretoria
Posbus 80862
Doornpoort
0017
SEL 083 973 1428
E-pos: marius-nel@lantic.net
1 Daar is ook twee gesegdes (11:9-10, 11-13) oor gebed in Lukas (Liefeld 2000:240).
2 Die gelykenis is gerig aan Jesus se dissipels (die hulle αυτόίς van 17:22) aangesien daar geen verandering van toneel of karakters deur Lukas aangedui word sedert Jesus se voorafgaande uitsprake aan sy dissipels nie (Green 1997:638; du Plessis 1995:569; Bock 1996:1446).
3 Die temas van om nie moed te verloor nie en om in gebed te volhard kom ook in Jesus se eskatologiese uitsprake in 21:34-36 voor, en die van God se vergelding (die toepassing van sy geregtigheid) in 21:22.
4 Curkpatrick (2002:107-121) argumenteer dat daar 'n duidelike dissonansie (sy term) bestaan tussen die raam van die gelykenis (18:1, 6-8) en die gelykenis self (18:2-5). Volgens hom handel die gelykenis oor geregtigheid terwyl die raam oor gebed handel. Die gevolg hiervan is dat die weduwee se energieke najaag van sosiale geregtigheid verplaas word deur 'n oproep tot gebed. Uitleggers moet daarom volgens hom kies of hulle die gelykenis in die lig van ander gedeeltes van Lukas wat daarmee resoneer (wat ook oor geregtigheid aan gemarginaliseerdes handel) wil verstaan, of in terme van Lukas se interpretasie daarvan soos weergegee in die interpretatiewe raam wat hy om die gelykenis plaas. In die artikel word vir laasgenoemde opsie gekies aangesien Curkpatrick die dissonansie tussen die gelykenis en die raam oorbeklemtoon en omdat daar geen tekskritiese getuienis is dat die gelykenis ooit sonder die raam daarvan voorgekom het nie.
5 Die infinitief εγκαλειν dui daarop dat iemand 'n breekpunt bereik het as gevolg van uitputting of moedeloosheid (Nolland 1993:867). Louw en Nida (1988:319) gee die betekenis daarvan as "to lose one’s motivation to accomplish some valid goal -‘to become discouraged, to lose heart, to give up.’"
6 Vgl 2 Kronieke 19:4-7 waar Josafat die regters in Juda beveel dat hulle vrees vir die Here moet hê. Vrees vir die Here is ook van elke Jood verwag (Lev 19:14, 32; Deut 4:10; 6:13; 14:23; 17:13; 19:20), terwyl Lukas in Hand 10:2, 22, 35 en 13:16, 26 diegene wat die Here vrees telkens positief beoordeel.
7 Louw en Nida (1988:646) gee die betekenis van μάκροθυμέώ onder andere as "to extend a period of time on the basis of a particular mental attitude—‘to be slow to, to delay in.’" en vertaal die voorkoms daarvan in 18:5 met "and will he be slow to help them?"
8 Die gedagte dat die koms van die Seun van mens skielik en onverwags sal plaasvind kom wel in 17:22-37 en 21:34 voor. Dit is egter nie die fokus van die gelykenis in 18:2-6 nie.
9 Dat die gelykenis spesifiek om gebede om geregtigheid gaan word duidelik gemaak deur die feit dat daar verskeie keer na geregtigheid (18:7, 8) en die verlening daarvan (18:3, 5) in die gedeelte verwys word (Klein 2006:577).