Snyman, AH
Universiteit van die Vrystaat

’n Retoriese analise van 1 Korintiërs 3:1-9b

ABSTRACT

A rhetorical analysis of 1 Corinthians 3:1-9b

The approach in this article differs from that of Betz and others who tend to force ancient rhetorical categories on the Pauline letters. The analysis is done in terms of what is called “a grounded theoretical approach”. This approach is briefly summarised, followed by a description of the rhetorical situation of the letter and a systematic analysis of 1 Corinthians 3:1-9b. The focus of the analysis is on the manner in which Paul argues, the types of argument he uses and the rhetorical techniques that could enhance the impact of his communication. It is shown that all these strategies and techniques enable him to achieve his rhetorical objectives in this part of the letter.

The conclusion is that such a text-based and functional approach provides a fairly accurate understanding of Paul’s persuasive strategy in this important part of the letter, without forcing rhetorical categories from outside on the text.

1. INLEIDING

’n Retoriese analise beskryf die wyse waarop ’n spreker/skrywer probeer om sy hoorders/lesers te oorreed deur middel van sekere retoriese strategieë en tegnieke. Sedert die verskyning van H. D. Betz se kommentaar op Galasiërs in 1979 is die analises gewoonlik gebaseer op die klassieke retoriese sisteem wat hy gebruik het. Volgens hom is Galasiërs ’n voorbeeld van die sg. apologetiese brief, wat geanaliseer kan word in terme van kategorieë ontleen aan die forensiese toesprake van die tyd – kategorieë soos die exordium, propositio, probatio, ens. (1979:16-23). In sy gedetailleerde kommentaar verwys Betz telkens na die klassieke retoriese teorie en ander antieke literatuur om Paulus se argument in die brief te verduidelik.

Die kommentaar het gemengde reaksie ontlok. Barrett (1980:414-417), byvoorbeeld, beskrywe dit as ’n besondere mylpaal in die retoriese analise van die Skrif, maar wys tegelyk daarop dat Betz te veel maak van die Grieks-Romeinse retoriese sisteem en dat ander faktore ook in berekening gebring moet word. In sy voordrag by die Heidelbergse konferensie oor retoriek en die Nuwe Testament in 1992, het die bekende klassikus Joachim Classen Betz se benadering op ’n soortgelyke wyse beoordeel en ’n aantal indringende vrae gevra, wat tot ’n insiggewende gesprek gelei het. Hy het onder andere beklemtoon dat Betz se benadering nie nuut is nie, maar reeds deur Melanchton, Luther en Lightfoot gebruik is in hulle kommentare op Galasiërs. Sy konklusie was dat klassieke retoriese kategorieë met omsigtigheid gebruik moet word, omdat Galasiërs ’n brief is en nie ’n toespraak nie (1993:288-289). Later het hy self van die klassieke kategorieë gebruik gemaak in sy publikasie Rhetorical Criticism of the New Testament (2000), maar ook duidelik aangetoon hoe dit nie alles in die brief kan verklaar nie.

Feit is dat Betz se benadering breë navolging gevind het. Die gevolg was dat alle retoriese analises van die Skrif sedert 1979 hulleself in meerdere of mindere mate ten opsigte van sy voorstel moes posisioneer. Wat 1 Korintiërs betref, is sy voorstel onder andere gevolg (en soms ietwat aangepas) deur Mitchell (1991), Smit (1993) en Witherington (1995), met verskillende resultate. Om hierdie rede het navorsers begin soek na alternatiewe benaderings tot retoriese analise. As dieselfde benadering lei tot soveel verskillende resultate, plaas dit die teoretiese regverdiging daarvan onder verdenking (sien 4.1.1 hieronder).

Een alternatief op Betz se benadering is die werk van Francois Tolmie: Persuading the Galatians, wat in 2005 deur WUNT gepubliseer is. Die doel van hierdie artikel is om sy alternatiewe (funksionele) benadering tot retoriese analise op 1 Kor 3:1-9b toe te pas en die waarde daarvan te bepaal deur die proses van oorreding in die gedeelte aan die hand daarvan te beskrywe.

2. ’n Teksgebaseerde benadering tot retoriese analise

Tolmie verstaan retoriek as ’n beskrywing van al die middele in die teks (appélle, tipes argumente, ondersteunende tegnieke, ens.) wat die skrywer gebruik om sy lesers tot sy standpunt te oorreed. ’n Model word nie van buite op die teks afgedwing nie, maar alles in die teks wat bydra tot die proses van oorreding, word geïdentifiseer en hulle funksies binne konteks beskrywe. Hierdie sogenaamde teksgebaseerde benadering behels saaklik die volgende:

• ’n Beskrywing van die retoriese situasie van die brief, dit is, ’n samevatting van wat aanleiding tot die brief gegee het of wat Paulus in die brief wil bereik.

• ’n Deskriptiewe analise van hoe hy probeer om sy lesers te oorreed, en wel op die basis van ’n begronde teoretiese raamwerk wat uit die volgende aspekte bestaan: die identifisering van die dominante retoriese strategie in elke gedeelte deur die primêre retoriese doel daarvan te beskrywe en te bepaal hoe hy dit probeer bereik. In die proses word veral gefokus op die tipe argumente wat hy gebruik en die wyse waarop hy argumenteer om sy lesers te oorreed.

• Ten slotte word die sogenaamde retoriese tegnieke wat dien om die impak van die kommunikasie te verhoog, geïdentifiseer en hulle funksies beskrywe (Tolmie 2005:27-30).

Eksegetiese kwessies word wel aangespreek, veral waar Skrifverklaarders verskil oor die betekenis van ’n frase of uitdrukking van retoriese belang. Die fokus is egter op die retoriese funksie van die segging, nie op die eksegese as sodanig nie.

3. Retoriese situasie

Die retoriese situasie wat aanleiding tot die brief gegee het, kan kortliks soos volg gerekonstrueer word:

Paulus is mondelings en skriftelik ingelig oor die situasie in Korinte. Eerstens het die mense van Chloë hom vertel van die onderlinge twiste in die gemeente (1:11), wat implikasies vir sy apostoliese gesag gehad het. Dit is onwaarskynlik dat ’n groep anti-Paulus betogers die probleme veroorsaak het, soos Marshall (1987:23-27) beweer. Die probleme was hoofsaaklik intern en het uitgeloop op partyskappe tussen die gemeentelede onderling (soos Schüssler Fiorenza 1987:397-398; Witherington 1995:74 en veral Pogoloff 1992:237 aantoon). Skrifverklaarders stem saam dat die belangrikste verskilpunt geleë was in wat dit beteken om pneumatikos te wees. Die Korintiërs het die spreek in tale as die basiese kriterium vir spiritualiteit beskou, terwyl hulle belangstelling in sophia (wysheid) en gnosis (kennis) hulle besondere wysheid en meerdere kennis gegee het. Dit alles het uitgeloop op kauchesis (selfverheffing of roem) tussen die verskillende partye, wat radikaal ingedruis het teen Paulus en sy boodskap, en reggestel moes word.

In die tweede plek reageer Paulus op sekere praktiese aangeleenthede waaroor die Korintiërs aan hom geskrywe het (7:1). Die belangrikste hiervan was die huwelik en seksualiteit (hoofstukke 5-7), vleis wat aan die afgode geoffer is (8:1-11:1), aanbidding en die gawes van die Gees (11:2-14:40), die opstanding (15:1-58) en die insameling vir die heiliges in Jerusalem (16:1-4). ’n Addisionele doel van die brief is om leiding oor hierdie – hoofsaaklik etiese – kwessies te gee.

Samevattend: Aangesien Paulus verneem het van partyskappe onder die Korintiërs probeer hy om sy lesers te oorreed om sy gesag as apostel (insluitend die waarheid van sy kruis-evangelie en die aard van die kerk) te erken en so hulle partyskappe te laat vaar. Hy bespreek ook – op hulle versoek – verskeie probleme waarmee hulle worstel en probeer hulle oorreed om sy instruksies te volg ten einde hulle nuwe lewe in Christus te verwerklik. Deur die brief heen gebruik hy verskeie effektiewe argumente en oorredingstegnieke om sy doelwitte te bereik. Om dit te ondersoek en te beskrywe in 3:1-9b, is die doel van hierdie artikel.

4. Analise van 1 Kor 3:1-9b

4.1 Inleiding

Twee sake verdien aandag voordat die proses van oorreding in besonderhede bespreek word:

4.1.1 Daar is nie eenstemmigheid onder geleerdes – wat Betz se benadering gebruik – oor die afbakening van 1 Korintiërs nie. Byvoorbeeld: Mitchell (1991:1) beskou 1 Kor 3 as deel van die sogenaamde “proofs”, wat strek van 1:18-15:57 en ingebed is in die liggaam of deliberatiewe argument van die brief, nl. 1:10-15:57. Sy onderskei vier seksies in die probatio, te wete 1:18-4:21; 5:1-11:1; 11:2-14-40 en 15:1-57. Witherington (1995:94) weer, beskou 1:18-16:12 as die probatio van die brief en verdeel dit in nege argumente. 1 Kor 3 is deel van die eerste argument, wat strek van 1:18-4:21. Die primêre doel van die probatio is om argumente ter ondersteuning van die redenaar se saak, soos gestel in die propositio, te bied (Witherington 1995:44). Mitchell en Witherington stem saam dat die propositio van die brief te vind is in 1:10: “Ek doen ’n beroep op julle almal, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, om almal eensgesind te wees en dat daar geen verdeeldheid onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en met dieselfde oortuiging”.

Dié benadering word geknel deur twee punte. Die eerste is natuurlik die gebrek aan eenstemmigheid tussen geleerdes wat dieselfde kategorieë gebruik. Soos aangetoon, begin Mitchell en Witherington se probatio albei by 1:18, maar eindig eersgenoemde s’n by 15:57 en laasgenoemde s’n by 16:12. Verder verskil hulle ook wat betref die afbakening van die peroratio van die brief. Vir Mitchell (1991:291-293) is die insameling vir die heiliges in Jerusalem in 16:1-12 deel van die afsluiting van die brief (wat strek van 16:1-24) en onderskei sy nie ’n afsonderlike peroratio nie, terwyl Witherington (1995:76) die insameling vir die heiliges as die laaste argument van die probatio beskou en ’n aparte peroratio afbaken, nl. 16:13-18. Die gebruik van dieselfde retoriese kategorieë met verskillende resultate, plaas ’n vraagteken oor die teoretiese regverdiging van die benadering en is een van die belangrikste redes waarom geleerdes begin soek het na ander maniere om die oorredingskrag van Paulus se briewe te beskrywe.

’n Tweede knelpunt is dat die propositio in 1:10 nie die hele brief dek nie. Die probleem van verdeeldheid kom slegs in hoofstukke 1-4 aan die orde (Fee 1988:47). In die res van die brief is geen verwysing daarna nie en word ook nie melding gemaak van Apollos of Petrus se rol in enige partyskappe nie. Die klassieke propositio is dus moeilik om op die brief as geheel toe te pas (soos die klassieke sisteem vereis), omdat dit net ’n gedeelte van die probatio dek. In plaas daarvan om die debat verder te voer en te begin redeneer oor die formele afbakening van die brief in terme van klassieke kategorieë, lyk dit vir ons meer produktief om Paulus se oorredingstrategieë in die brief self te identifiseer en te beskrywe.

4.1.2 Wat die afbakening van die brief in hierdie artikel betref: dit is duidelik dat die eerste vier hoofstukke handel oor partyskappe in die gemeente. In die vorige deel van die argument, naamlik. 1:18-2:16, verduidelik Paulus die evangelie aan die hand van die kontras tussen goddelike en menslike wysheid. In 3:1-4 verander hy sy retoriese strategie van ’n verduideliking na ’n berisping. Die skeiding tussen 2:16 en 3:1 word ook gemerk deur die verandering van die eerste persoon meervoud na die sterk kagō (“wat my betref”) aan die begin van 3:1. Hoofstuk 3 word afgesluit met twee aansporings in verse 18-22 en ’n doksologie in vers 23, wat ’n duidelike aanduiding is dat die argument tot ’n einde gekom het. Hoofstuk 4 benader die verdeeldheid in die gemeente vanuit ’n ander hoek, nl. die gesindheid van die Korintiërs teenoor Paulus self. Naas die doksologie in 3:23 word die skeiding tussen 3:23 en 4:1 ook gemerk deur ’n nuwe analogie, naamlik dié van ’n huishouding (4:1-3). Hoofstuk 3 vorm dus ’n onderskeidende fase in Paulus se hele argument.

Hoe kan die oorhoofse retoriese strategie in hoofstuk 3 beskrywe word? Die saak waaroor dit in hierdie fase gaan, is, soos genoem, die verdeeldheid onder die Korintiërs – met name die vraag hoe dit reggestel kan word. Retories word die fase as geheel gekenmerk deur die gebruik van twee analogieë, met 3:1-4 wat ’n oorgang vorm tussen 1:18-2:16 aan die een kant, en die twee analogieë in 3:5-9b en 3:9c-17 aan die ander kant. Die analogieë is ontleen aan die landbou en die bouwêreld onderskeidelik en word gebruik om die aard van leierskap en die kerk te verduidelik. Gevolglik kan die oorhoofse retoriese strategie in die fase beskrywe word as ’n poging om die Korintiërs te oorreed om hulle partyskappe te laat vaar deur die aard van leierskap, sowel as die aard van die kerk, reg te verstaan.

Hierdie fase kan in vier seksies verdeel word, ook afgebaken op grond van retoriese oorwegings: 3:1-4; 3:5-9b; 3:9c-17 en 3:18-23. Slegs die eerste twee seksies, wat handel oor leierskap in die kerk, is vir ons doel ter sake. Redes vir die verdeling van die eerste (oorgangs)seksie is ’n verandering van ’n verduideliking van die evangelie (2:1-16) na ’n berisping in 3:1-4 en die retoriese vrae in 3:3-4. Die soort retoriese vrae in 3:3-4 verskil van dié wat in 3:5 gebruik word (sien hieronder by 4.2.1) en dien dus om hierdie eerste seksie van die volgende een te onderskei. Die ondersteunende retoriese strategie in 3:1-4 kan beskrywe word as: “Berispe die Korintiërs oor hulle partyskappe deur geestelike en wêreldse mense te kontrasteer”.

Die tweede seksie (3:5-9b) word ingelei deur die spesifieke soort retoriese vrae aan die begin van 3:5 en die treffende analogie met saaiers, wat gebruik word om te verduidelik dat kerkleiers net dienaars is, en dat dit in die kerk om God gaan. Die ondersteunende strategie in die seksie kan beskrywe word as: “’n Analogie met saaiers om die taak van kerkleiers te verduidelik”.

Paulus se oorhoofse retoriese strategie in dié fase (hoofstuk 3) word dus ondersteun deur ’n berisping in 3:1-4 en ’n analogie met saaiers in 3:5-9b. Die res van die artikel sal gewy word aan ’n beskrywing van hoe hy in die twee seksies probeer om sy lesers tot die regte siening van kerkleierskap te oorreed en so hulle partyskappe te laat vaar.

4.2 Analise

4.2.1 1 Kor 3:1-4: Berispe die Korintiërs oor hulle partyskappe deur geestelike en wêreldse mense te kontrasteer.

Paulus se berisping lees soos volg:

Wat my betref, broers, (kagō, adelfoi), kon ek nie met julle praat soos met geestelike mense nie (hōs pneumatikois), maar soos met wêreldse mense (all’ hōs sarkinois), soos met klein kinders in Christus (hōs nêpiois en Christōi). Ek het julle met melk gevoed (epotisa), nie met vaste kos nie; want julle was nie daartoe in staat nie en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, omdat julle nog wêrelds (sarkikoi) is; want aangesien daar onder julle jaloesie en twis is, is julle nie nog wêrelds nie en gedra julle julle nie nog wêrelds nie? As iemand sê: “Ek is van Paulus” en ’n ander “Ek is van Apollos” – is julle nie nog wêrelds nie? (3:1-4).

Vier sake is belangrik vanuit ’n oorredingsperspektief. Die eerste is die aanspreekvorm adelfoi in 3:1, wat gebruik word om die besondere band tussen Paulus en sy lesers te beklemtoon. Al gaan hy hulle berispe, is hulle steeds sy broers en susters in die Here (Thiselton 2000:27). Op hierdie wyse word ’n besondere basis vir gesprek geskep.

Die tweede saak van retoriese belang, handel oor die kontras aan die einde van vers 1 (nie soos met geestelike mense nie, maar soos met wêreldse, soos met klein kinders in Christus). Die teologiese vraag wat kommentatore hier besig hou, is hoe die Korintiërs gelowiges kon word sonder om die Gees te ontvang. En is dít wat Paulus hier bedoel? Verskillende oplossings is voorgestel. Volgens Grosheide (1954:7) impliseer pneumatikoi nie dat die Korintiërs nie geestelik is nie, maar dui dit op hulle huidige toestand: hulle moet nog groei na geestelike volwassenheid. Groenewald (1967:4) is dieselfde mening toegedaan: die Korintiërs is eintlik geestelike mense, maar die ou natuur beheers hulle lewe tot so ’n mate dat hulle nog nie geestelike volwassenheid bereik het nie. Fee (1988:122) argumenteer weer dat dit nie hier gaan om grade van spiritualiteit nie, maar dat Paulus sy lesers probeer oorreed om nie soos wêreldse mense te dink en te leef nie. Hulle moet leef soos mense wat die Gees ontvang het. Vir Barrett (1992:79-80) beteken pneumatikoi hier dieselfde as teleioi (volwassenes) en word dit nie met sarkinoi nie, maar met nêpioi gekontrasteer. (So ook Thiselton 2000:290).

Wat Skrifverklaarders oor die hoof sien, is die oorredende krag van die byvoeging “soos klein kinders in Christus”. Paulus kontrasteer pneumatikoi so skerp as moontlik met sarkinoi (soos blyk uit die kontrasterende alla), maar korrigeer homself dadelik deur sarkinoi te beskrywe as “klein kinders in Christus”. Hierdie retoriese tegniek staan bekend as metabolê of correctio en is in die klassieke retoriek onder meer gebruik vir beklemtoning. Tegelyk dien dit hier – soos Tolmie (2005:108) in sy bepreking van Gal 3:4 aantoon – om ’n vorige stelling te versag en die gedagte oor te dra dat die situasie nog kan verander. Die terme pneumatikoi en nêpioi staan dus nie teenoor mekaar nie – soos gesuggereer word in kommentare waar geestelike volwassenes en onvolwassenes met mekaar gekontrasteer word. Die teenoorgestelde van pneumatikoi is sarkinoi, maar laas-genoemde. term word versag deur “soos klein kinders” by te voeg – met die implikasie dat die situasie nog kan verander: hulle kan nog pneumatikoi word en so hulle partyskappe laat vaar.

Derdens gebruik Paulus ’n metaforiese kontras om sy argument verder te voer: as klein kinders het hy hulle met melk gevoed, nie met vaste kos nie. Hiermee sluit hy breedweg aan by 2:6-16, waar hy die evangelie verduidelik het aan die hand van die kontras tussen goddelike en menslike wysheid. Volgens Tolmie (2005:99) is ’n metafoor ’n effektiewe oorredingsmiddel, omdat dit die lesers voorsien van ’n nuwe, vars siening en so hulle aandag vestig op die saak onder bespreking – hier die kontras tussen die vaste kos van die evangelie en melk, wat verwys na die Korintiërs se voorliefde vir menslike wysheid (Fee 1988:125-126). Met die metaforiese kontras berispe Paulus sy lesers en lê tegelyk die vinger op die eintlike oorsaak van hulle partyskappe: hulle was nie daartoe in staat om die vaste kos van die evangelie te verteer nie, en hulle is nou nog nie daartoe in staat nie (3:2d). Met laasgenoemde. stelling herhaal Paulus die moontlikheid dat die situasie nog kan verander: hulle hoef nie klein kinders te bly nie, maar op die oomblik is hulle dit nog. Dít word bewys deur die partyskappe onder hulle.

’n Laaste oorredingsmiddel in die seksie is die twee retoriese vrae aan die einde daarvan: “want aangesien daar onder julle jaloesie en twis is, is julle nie nog wêrelds nie en gedra julle julle nie nog wêrelds nie? As iemand sê: ‘Ek is van Paulus’ en ’n ander ‘Ek is van Apollos’ – is julle nie nog wêrelds nie?” Die twee vrae lewer bewys dat die Korintiërs nie die evangelie verstaan soos geestelike mense dit moet verstaan nie, omdat daar nog jaloesie en twis onder hulle is. Dit bevestig dat hulle nog klein kinders in Christus is.

In plaas van direkte stellings gebruik Paulus doelbewus retoriese vrae om sy punt te maak. Om die twee vrae, asook die vrae aan die begin van die volgende seksie (3:5-9b) reg te verstaan, is dit belangrik om te let op die verskillende soorte retoriese vrae wat in die klassieke tyd gebruik is. Cronjé (1992:417-419) onderskei basies vier soorte:

• die erōtêma, waar die vraag so gestel word dat dit nie ontken kan word nie. Die fokus val op die inhoud van die vraag en geen antwoord word verwag of verskaf nie. Dit word hoofsaaklik gebruik om die emosies van die spreker/skrywer uit te druk en die soort emosie moet telkens uit die konteks bepaal word;

• die dialektikon, waar die vraag gevolg word deur ’n antwoord wat die spreker/skrywer self verskaf. Die soort vraag was baie gewild in antieke redevoerings waarin rasionele argumentasie aan die orde was. Die spreker/skrywer ontwikkel sy argument op ’n lewendige manier deur ’n gesprek te stimuleer, hetsy met homself of met iemand anders;

• in die geval van die diaporêsis is die spreker/skrywer onseker hoe hy sy argument verder moet voer en waar dit gaan eindig, en

• in die anakoinōsis gee hy voor om sy lesers/hoorders te raadpleeg oor sy huidige en/of toekomstige gedrag in ’n gegewe situasie.

Dit is duidelik dat die twee vrae in 3:3b en 3:4 onder die eerste kategorie val. Die vrae word nie beantwoord nie en die fokus val op Paulus se eie emosies. Watter emosies word deur die vrae oorgedra? Skrifverklaarders stem saam dat Paulus hier besig is om die Korintiërs te berispe of tereg te wys (Grosheide 1954:79; Groenewald 1967:48; Barrett 1992:81.). Die emosie onderliggend aan berisping en teregwysing is waarskynlik Paulus se droefheid oor of teleurstelling in sy medegelowiges (adelfoi in vers 1). Deur middel van die retoriese vrae dra hy sy teleurstelling met krag en emosionele effek oor as deur gewone positiewe stellings te formuleer (Tolmie 2005:99).

Nie almal stem saam met hierdie funksie van ’n retoriese vraag nie. Grosheide (1954:81), byvoorbeeld, beskou die retoriese vraag in 3:4 as ’n “device which contains less sharpness than a positive statement and which suits the cautious type of argument used here and throughout the letter”. En Bratcher (1982:27) stel voor dat die retoriese vrae in 3:3b en 4 vervang word met stellings: “There is jealousy among you and you quarrel with one another. This proves …” En: “one of you says, ‘I follow Paul’ and another says ‘I follow Apollos’. You are acting like worldly people.” Indien dit sou gebeur, sou die emosionele impak van die berisping verlore gaan en die oorredingskrag daarvan verswak. Die funksie van twee vrae is juis om Paulus se ontsteltenis oor hulle wêreldse gedrag op ’n kragtige manier oor te dra – die gedrag wat een van die belangrikste oorsake van hulle partyskappe was.

Twee retoriese tegnieke versterk Paulus se argumentasie in 3:1- 4 en is reeds deur Skrifverklaarders uitgewys. Barrett (1992:78-9) wys op die emfatiese posisie van kagō aan die begin van 3:1 en vertaal: “as far as my own experience of you goes”, terwyl Conzelmann (1975:70) die zeugma met epotisa in 3:2 tereg beskou as kenmerkend van Paulus se gedronge styl. Die werkwoord epotisa word in twee betekenisse gebruik: die drink van melk en die eet van vaste kos. As sodanig het dit ’n beklemtonende funksie.

Saamgevat: Paulus se ondersteunende retoriese strategie in 3:1- 4 kan beskrywe word as: “Berispe die Korintiërs oor hulle partyskappe deur geestelike en wêreldse mense te kontrasteer”. In die proses van oorreding maak hy hoofsaaklik van vier middele gebruik: die aanspreekvorm adelfoi; correctio of metabolê; ’n metaforiese kontras en twee retoriese vrae. Retoriese tegnieke wat die effek van sy kommunikasie verhoog, sluit in die plasing van woorde en zeugma.

4.2.2 1 Kor 3:5-9b: ’n Analogie met ’n saaiers om die taak van kerkleiers te verduidelik.

Aan die hand van twee verdere retoriese vrae sit Paulus sy argument voort en verander hy sy retoriese strategie van ’n berisping na ’n verduideliking as hy skrywe:

Wat is Apollos dan (ti oun estin Apollōs)? En wat is Paulus (ti de estin Paulos)? Dienaars deur wie julle gelowig geword het. En dit soos die Here aan elkeen gegee het (kai hekastōi hōs ho kurios edōken). Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei. So is nóg hy wat plant, nóg hy wat natmaak, iets, maar God wat laat groei (hōste oute ho phuteuōn estin ti oute ho potizōn, all’ ho auxanōn theos). Maar hy wat plant en hy wat natmaak, is een, maar elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang. Want ons is medewerkers in diens van God (theou gar esmen sunergoi), die saailand van God … is julle (theou geōrgion … este) (3:5-9b).

In hierdie fase probeer Paulus die Korintiërs se foutiewe siening van kerkleiers regstel. Hulle het geroem in sekere persone en dit was een van die grootste oorsake van partyskappe onder hulle. Deur middel van die volgende middele probeer hy nou om hulle tot die regte siening te oorreed:

Eerstens die retoriese vrae aan die begin van 3:5. Dit verskil van dié wat aan die einde van die vorige seksie gebruik is. Dit is duidelik dialektika, waar vrae gevolg word deur antwoorde wat die skrywer self verskaf. Conzelmann (1975:73) en Fee (1988:130) beskrywe dit tereg as ’n voorbeeld van die sogenoemde. diatribe-styl. Die funksie van die dialektika hier is tweërlei. In die eerste plek dien die verandering in die soort retoriese vrae die twee seksies van mekaar onderskei. En in die tweede plek lei die vrae ’n seksie van rasionele argumentasie in, waar Paulus sy standpunt verduidelik deur vrae te vra en antwoorde te verskaf. Op dié wyse stimuleer hy die gesprek tussen hom en sy lesers en betrek hy hulle daarby (Cronjé: 1992:419).

Die tweede oorredingsmiddel is die gebruik van ti (i.p.v. tis) aan die begin van albei vrae. Dit is retories belangrik met die oog op vertaling. ’n Standaard vertaling soos die TEV, byvoorbeeld, vertaal dit persoonlik: “After all, who is ... ?” , terwyl Bratcher (1982:28) se voorstel dat die vraag net sowel met ’n positiewe stelling vervang kan word, ook die oorredende krag daarvan verswak. Die onsydige vorm is sterker as die persoonlike tis en fokus nie op Apollos en Paulus as persone nie, maar op hulle betekenis of funksie in die kerk. Op dié wyse word die leser voorberei op die antwoord wat gaan volg.

Die antwoord self bestaan uit twee dele. In die eerste verklaar Paulus dat hy en Apollos net dienaars is deur wie die Korintiërs tot geloof gekom het (3:5c). Hiermee word die Korintiërs se foutiewe siening oor kerkleiers reggestel: Paulus en Apollos is nie heersers nie, maar dienaars met bepaalde take. Gevolglik is partyskappe, wat voortvloei uit hulle as persone, onsinnig.

Die tweede deel van die antwoord hang saam met die eerste, en is retories belangrik: kai hekastōi hōs ho kurios edōken. Dit is ’n voorbeeld van ’n argument gebaseer op God se handeling of ingryping: dit wat elkeen van hulle as dienaars doen, is deur God self beskik. Hulle take is dus gemeenskaplik (om die Korintiërs tot geloof te bring) en onderskeie (aan elkeen word sy eie taak gegee). Omdat God dit self gewil het, moet die Korintiërs hulle onderskeie take erken en as sodanig eerbiedig. Wie fokus op hulle as persone in plaas van op dit wat elkeen van hulle doen, handel teen God self.

Wat hulle as dienaars doen, word in 3:6-9 verduidelik aan die hand van ’n analogie met saaiers Dit is die derde en belangrikste oorredingsmiddel wat Paulus in die seksie gebruik en die vergelyking bestaan uit vier dele: (i) die een wat plant, is Paulus, wat die kerk in Korinte gestig het; (ii) die een wat natmaak is Apollos, wat sý bediening voortgesit het; (iii) die een wat laat groei, is God aan wie hulle almal behoort; (iv) die saailand is die kerk in Korinte (Fee:1988:132).

Die analogie dien eerstens om hulle onderskeie take te verduidelik en die Korintiërs daarvan te oortuig: Paulus het geplant, Apollos het natgemaak. ’n Argument gebaseer op analogie is ’n kragtige oorredingsmiddel en word dikwels deur Paulus gebruik met goeie gevolg – soos Tolmie (2005:145-152) aantoon in sy analise van Gal 4:1-7. Dié soort argument is effektief, omdat dit redelik maklik is om te volg: as die gehoor die konkrete basis van die analogie ken en daarmee saamstem, vind hulle dit maklik om die geestelike toepassing daarvan te verstaan (Tolmie 2005:246). En Cornelius (1998:56) skrywe soos volg oor wat sy noem die “enormous persuasive force” van ’n analogie: “It derives its strength from its … ability to make us see things from a new angle … (and) to crystallize a whole range of problems into a single phrase or image”.

In die seksie word die analogie gebruik om die Korintiërs te oortuig om kerkleiers vanuit ’n nuwe gesigshoek te beskou en hulle siening oor die take van die leiers te verander. In die argument is die fokus op God, wat laat groei. Om dit uit te lig, gebruik Paulus ’n struktuur, wat Tolmie (2005:33-34) “antithetic presentation” noem: hōste oute ho phuteuōn estin ti oute ho potizōn, all’ ho auxanōn theos (3:7). Hierdie antitetiese outeouteall’ struktuur is meer oorredend as ’n gewone positiewe stelling en word in alle tale gebruik vir die doel. Die negatief oute waarmee die sin begin, gevolg deur ’n tweede een, skerp die lesers op vir die hoofgedagte wat nog moet kom. Gevolglik verskuif die aandag toenemend na die “maar” gedeelte van die sin en word dit op ’n besondere wyse beklemtoon.

Die analogie spreek ook die kwessie van beloning aan, wanneer Paulus in 3:8 skrywe dat hy wat plant en hy wat natmaak, een is, maar dat elkeen sy eie loon volgens sy eie arbeid sal ontvang. Hiermee word die gemeenskaplike en die onderskeidende in dit wat die dienaars doen, nogeens uitgelig. Hulle onderskeie take antisipeer die argument in die volgende seksie, waar elkeen gewaarsku word om versigtig te wees hoe hy sy werk doen.

In 3:9 vat Paulus die analogie saam en skep hy tegelyk ’n oorgang na die volgende een as hy skrywe: theou gar esmen sunergoi, theou geōrgion, theou oikodomê este. Kommentatore verskil oor die interpretasie van die frase theou gar esmen sunergoi. Beteken dit: “medewerkers van God” (soos Conzelmann 1975:70,74 en Wolff 2000:65,68 dit het), of “medewerkers in diens van God” (soos Grosheide 1954:82-3; Fee 1988:133-134; Barrett 1992:86 en Thiselton 2000:306 dit verstaan)? Die gang van die argument, met sy fokus op God, bewys dat laasgenoemde interpretasie korrek is. Paulus en Apollos is nie God se kollegas nie, maar werkers in sy diens. Om dit anders te verstaan is om al die oorredingsmiddele wat dié waarheid uitlig en bevestig, mis te kyk.

Iets soortgelyk kan van die Korintiërs gesê word: hulle is God se saailand, sy gebou. Hulle is die saailand wat God (deur sy dienaars) bewerk; hulle is die gebou wat God besig is om (deur sy dienaars) op te rig (Barrett 1992:6). Laasgenoemde. analogie word volledig uitgewerk in die seksie wat volg (3:9c-17).

Retoriese tegnieke wat die argument in 3:5-9b versterk, sluit in:

• die chiasme Paulus – Apollos – Apollos – Paulus in 3:4-5, wat Conzelmann (1975:73) uitgewys het as ’n belangrike tegniek in die diatribe-styl. In die huidige konteks word dit gebruik om die twee hooffigure in die argument te merk;

• die plasing van theos aan die einde van 3:7 om te beklemtoon dat God die Een is wat laat groei;

• die plasing van die genitief theou aan die begin van al drie frases in 3:9 om te bevestig dat alles aan Hom behoort. Veral die eerste sinsdeel (theou gar esmen sunergoi) is retories belangrik. Deur die genitief te skei van sy selfstandige naamwoord en dit eerste te plaas, word dit op ’n besondere wyse beklemtoon. Dié tegniek, bekend as huperbaton, was een van die kragtigste stylmiddele in die klassieke retoriek (Cronjé1993:33–42). Hier beklemtoon dit dat hulle slegs dienaars van God is; daarom is dit so onsinnig van die Korintiërs om te sê: “Ek behoort aan Paulus” of “Ek is van Apollos”.

• geen koppeling tussen die laaste twee frases in 3:9 nie (asundeton), wat dien om die eerste analogie duidelik te onderskei van die een wat volg.

Om saam te vat: Die ondersteunende retoriese strategie in 3:5-9b kan beskrywe word as: “’n Analogie met saaiers om die taak van kerkleiers te verduidelik”. Die oorredingsmiddele wat Paulus in die seksie gebruik, sluit in retoriese vrae en die onsydige vraende voornaamwoord ti; ’n argument gebaseer op God se handeling en ’n argument gebaseer op analogie, waarin hy onder andere gebruik maak van “antithetic presentation” om te fokus op God wat laat groei. Retoriese tegnieke wat sy kommunikasie versterk, sluit in chiasme, die plasing van terme aan die begin en einde van frases en huperbaton en asundeton.

Konklusie

Die doel van die studie was om Tolmie se voorstel vir ’n teksgebaseerde retoriese analise van Paulus se briewe op 1 Kor 3:1-9b toe te pas en sy waarde te bepaal deur al die oorredingsmiddele in die gedeelte aan die hand daarvan te beskrywe. Daar is gefokus op die manier waarop Paulus argumenteer, op die tipe argumente wat hy gebruik en op die retoriese tegnieke wat die trefkrag van sy kommunikasie verhoog. Aandag is veral gegee aan die funksies van die verskillende oorredingsmiddele, omdat dit ’n leemte in verskeie standaard kommentare verteenwoordig.

Die konklusie is dat so ’n teksgebaseerde, funksionele benadering ’n sinvolle alternatief bied op bestaande benaderings met hulle fokus op die formele aspekte van die teks.

BIBLIOGRAFIE

Barrett, CK 1980. Galatians as an ‘Apologetic Letter’. Interpretation, 24(4):414-417.

Barrett, CK 1992. A Commentary on the First Epistle to the Corinthians. London: Black. 2nd ed.

Betz, HD 1979. Galatians. A commentary of Paul’s Letter to the churches in Galatia. Hermeneia. Philadelphia: Fortress.

Bratcher, RG 1982. A Translator’s Guide to Paul’s First Letter to the Corinthians. Helps For Translators Series. New York: UBS.

Classen, CJ 1993. St Paul’s Epistles and Ancient Greek and Roman Rhetoric. In: S.E.Porter & T.H.Olbricht (eds.) Rhetoric and the New Testament. Essays from the 1992 Heidelberg Conference. Journal for the Study of the New Testament Supplement Series 90. Sheffield: JSOT Press, 264-291.

Classen, CJ 2000. Rhetorical Criticism of the New Testament. WUNT 128. Tübingen: Mohr-Siebeck.

Conzelmann, H 1975. 1 Corinthians: A Commentary on the First Epistle to

the Corinthians (Trans.). Hermeneia. Philadelphia: Fortress.

Cornelius, EM 1998. The effectiveness of 1 Thessalonians – A rhetorical-critical study. Ph.D dissertation, Stellenbosch.

Cronjé, JvW 1992. The Strategem of the Rhetorical Question in Galatians 4:9-10 as a Means towards Persuasion. Neotestamentica 26(2):417-424.

Fee, GD 1988. The First Epistle to the Corinthians. Grand Rapids: Eerdmans. (Reprint).

Groenewald, EP 1967. Die Eerste Brief aan die Korinthiërs. Kaapstad – Pretoria: NG Kerk Uitgewers.

Grosheide, FW 1954. Commentary on the First Epistle to the Corinthians. London: Marshall, Morgan & Scott, Ltd.

Marshall, P 1987. Enmity in Corinth. WUNT 2/23. Tübingen: Mohr-Siebeck.

Mitchell, M 1991. Paul and the Rhetoric of Reconciliation: An Exegetical Investigation of the Language and Composition of 1 Corinthians. HUT 28. Tübingen: Mohr-Siebeck.

Pogoloff S M 1992. Logos and Sophia: The Rhetorical Situation of 1 Corinthians. Atlanta: Scholars.

Schüssler Fiorenza, E 1987. “Rhetorical Situation and Historical Reconstruction in 1 Corinthians”. NTS 33, 386-403.

Smit, J 1993. Argument and Genre of 1 Corinthians 12-14. In: S.E.Porter & T.H.Olbricht (eds.) Rhetoric and the New Testament. Essays from the 1992 Heidelberg Conference. Journal for the Study of the New Testament Supplement Series 90. Sheffield: JSOT Press, 211-243.

Thiselton, AC 2000. The First Epistle to the Corinthians. A Commentary on the Greek Text. NIGTC. Grand Rapids, Michigan, Cambridge: WB Eerdmans Publishing Company.

Tolmie, DF 2005. Persuading the Galatians. A Text-Centred Rhetorical Analysis of a Pauline Letter. WUNT 2/90. Tübingen: Mohr-Siebeck.

Witherington, B 1995. Conflict and Community in Corinth: A Socio-Rhetorical Commentary on 1 and 2 Corinthians. Grand Rapids: Eerdmans.

Wolff, C 2000. Der erste Brief des Paulus an die Korinher. ThHK 7. Leipzig: Evangelische Verlagsanstalt.

TREFWOORDE

Retoriese situasie, Funksionele benadering, 1 Kor 3:1-9b, Retoriese tegnieke, Pauliniese literatuur

KEY WORDS

Rhetorical situation, Functional approach, 1 Cor 3:1-9b, Rhetorical techniques, Pauline literature

KONTAK BESONDERHEDE

Prof AH Snyman

Navorsingsgenoot: Departement Nuwe Testament,

Universiteit van die Vrystaat,

Posbus 339,

Bloemfontein.

9300.

Tel 051-4363405

Sel 0836513070

E-posadres: ahs@cknet.co.za