'n Goddelike God en menslike mense. Aksente uit die Ou Testament1
ABSTRACT
A divine God and human people. Emphases from the Old Testament
The relationship between God and human beings is always part of theological discourse. Who God is and what human beings are, are the kind of theological questions that will always be asked. This article argues for a more comprehensive view of God to include also the more problematic aspects of God. The article argues also for a more comprehensive view of human beings rather than to reduce human beings to be only sinful people. The divine God and human people meet because the divine God is painted in human colours while the human people are described as Imago Dei.
INLEIDING EN PROBLEEMSTELLING
Die vraag na God en mens in verhouding met mekaar bly die opgaaf vir teologiese besinning. Hoe praat 'n mens verantwoordelik oor God? Wie is God? Wat is die mens? Hoe moet die verhouding tussen God en mens verstaan word? Watter relevante en daarom aktuele aksente uit die Ou Testament sou 'n mens in die verband kon noem?
Die Ou Testament is 'n boek wat met name handel oor God. Dit maak fundamentele uitsprake oor mense en dit handel oor die verhouding tussen God en mens. Dat die verhouding tussen God en mens 'n belangrike tema in die Ou Testament is blyk uit die uitdrukking "Ek is die Here jou God" wat soveel kere voorkom en wat 'n verhouding tussen God en mens veronderstel (Davies 2006:179-181). Die Ou Testament sê meer oor God en praat anders oor God as wat die Dogmatiek dit doen. Die Ou Testament sê meer oor God as wat ons dink ons van God weet. Daar is 'n diversiteit in die Ou Testament wat nie deur dogmatiese kategorieë getem kan word nie. Die Ou Testament moet waardeer word vir sy eie teologiese integriteit waarmee daar oor en met God gepraat word. Hierdie artikel wil op die problematiese aspekte of fasette van God fokus en op die manier 'n ruimer visie en begrip van God open. Tegelykertyd wil die artikel ook 'n perspektief op die mens vanuit die Ou Testament ondersoek en op so 'n manier die verhouding tussen God en mens in die Ou Testament belig. In 1995 het Brueggemann (1995:455-469) "a reflection about God" en 'n "second reflection on human personhood" aangebied waarmee God en mens in verhouding gebring is.
Naas die terrein van die akademie en die publieke ruimte van die samelewing, funksioneer die Ou Testament ook en veral in die kerk. Die Ou Testament as deel van die kanon van die Christelike kerk, staan ook in 'n bepaalde verhouding met die kerk en daarop is dit gepas dat Ou Testamentiese uitsprake van en oor God deel word van kerklike nadenke oor teologie. Brueggemann (1997:106-107) skryf verhelderend hieroor. Volgens hom is dit die werk van die ernstige teologiese interpreteerder van die Bybel om noukeurige aandag te gee aan dit wat in die teks staan ongeag daarvan hoe die teks saamhang en verweef is met die teologie van die kerk. Dit, voeg hy dan by, is veral waar van die kerke van die Reformasie wat in die tradisie van sola scriptura staan. 'n Noukeurige lees van die Ou Testament toon aan dat die teologiese artikulasie van die Ou Testament hom nie aanpas by die vasgelegde kerklike geloof nie (Brueggemann 1997:107; Brueggemann 2003:xii). Die interpretasie van tekste uit die Ou (en Nuwe) Testament het niks minder as die verandering van mense in die oog na hulle ontmoeting met die teks en deur die ontmoeting met die teks ook 'n ontmoeting met God van die tekste getuig (Birch 1999:25).
METODOLOGIESE OORWEGINGS
Die interpretasie van die Ou Testament vind nie konteksloos plaas nie. Die konteks van die interpretasie wat hier aangebied word is dié van 'n postmoderne tyd. Dit beteken dat die voorlopigheid van interpretasie erken en eintlik waardeer word. Die interpretasie wat gebied word is ook kontekstueel bepaald onder andere deur die skrywer se eie teologiese voorveronderstellings, politieke oortuigings, agtergrond, ouderdom, geslag ens. Dit beteken dat die "waarheid" van die aanspraak van die teks nie op 'n positiwistiese "bewys" kan of moet word nie. Daar word dus veel meer klem gelê op die literêre wêreld van die Ou Testament eerder as op die historiese aanduibare werklikheid waarna die teks verwys. Metodologies word daar uitgegaan van 'n post histories-kritiese era maar wat nie beteken dat daar a-histories met die Ou Testament omgegaan word nie. Die fokus val dus nie op die groei en die ontwikkeling van die teks nie maar eerder op die sogenaamde Endgestalt van die teks wat met al sy vreemdheid gelees word as deel van die kanon van die kerk. Die vraag wat hier aan die orde gestel word is 'n teologiese vraag. Hiermee word bedoel dat daar uitgegaan word van die standpunt dat die teks aanspraak maak daarop om uitsprake te maak oor 'n ontmoeting en 'n verhouding met God (Birch 1999:17).
Omdat hierdie bydra spesifiek teologies wil wees word daar gevra na wat bepaalde gedeeltes uit die Ou Testament oor God sê. Hier is verskillende opsies beskikbaar. Die opsie wat hier gekies word is om na te gaan wat God sê en wat Hy doen. Dat God praat en handel is twee van die mees fundamentele kenmerke van God in die Ou Testament. In die heel eerste hoofstuk van die Ou Testament ontmoet die leser God wat praat en handel in, met en deur die skepping. Westermann (1978:11-21) gebruik die tweedeling van handeling (das Handeln) en spreke (das Reden) van God as die struktuur van sy teologie van die Ou Testament verwysende na Ps 33:4 "Wat die Here sê gebeur, alles wat Hy doen, staan vas". In 'n artikel oor God in die Pentateug oorweeg Clines (1995:187-188) drie moontlikhede waarmee hy 'n beeld van God sou kon konstrueer: Wat sê die karakter God oor Homself? Wat sê die verteller oor Hom? Derdens is daar die moontlikheid om na te gaan wat die verteller God laat doen en sê. Hoewel nie een van die moontlikhede vir Clines sonder probleme is nie, is dit die derde moontlikheid wat hy die bruikbaarste vind (Clines 1995:188-189). Clines (1995:202) kies dan uit die relevante literatuur oor die Pentateug vyf temas wat God beskryf: God is teenwoordig, Hy praat, belowe, red en seën. Die vyf temas kan egter gereduseer word tot die twee temas van God wat handel (God is teenwoordig en Hy red) en God wat praat (belowe en seën). In 'n publikasie waar Fretheim (1997:10) die handeling(e) van God in die Ou Testament beklemtoon, ontkom hy nie aan dit wat God ook sê nie. Rendtorff (2005:6) gebruik ook die onderskeid as hy die onderskeid maak tussen God wat primêr handel in die Tora, God wat praat in die Profete en mense wat met God praat in die Geskrifte, die derde deel van die kanon.
Daar word selde in abstrakte terme oor God in die Ou Testament gepraat. Selfs waar daar in abstrakte terme oor God gepraat word (soos byvoorbeeld in Eks 34:6-7) is dit 'n uitspraak wat gemaak word na aanleiding van 'n verhouding tussen God en sy volk by Sinai. God is by uitstek 'n relasionele God wat telkens praat en handel in-verhouding-met. "It is always God in relationship with humans, involved in the events of family or national history" sê Clines (1995:203) van God in die Pentateug. God is 'n sosiale wese wat by geleentheid met Homself te rade gaan (Gen 1:26-27; Ps 103:20-21; Jer 23:18-22) en wat in verhouding tree met die skepping en met mense in die besonder (Fretheim 1997:9). In die eerste hoofstukke van Genesis word God voorgestel as 'n relasionele God, 'n God wat teenwoordig en aktief in die wêreld is (Birch 1999:42). Anderson (2000:33) wat die tema van die verbond as uitgangspunt vir sy aanbieding van die Teologie van die Ou Testament neem beskou die verbond as God se spesiale verhouding met die volk.
Om oor God te praat loop altyd die gevaar van om reduksionisties te wees. So is dit ook hier. Hierdie is geen poging om omvattend, finaal of afdoende oor God te praat nie.
'n GODDELIKE GOD
Dit spreek byna vanself dat die Ou Testament 'n boek of versameling van boeke oor God is. Verskillende Ou Testament teologieë het dit al by herhaling as uitgangspunt gestel:
• Von Rad (1975:105) het dit gesê: "The subject-matter which concerns the theologian is ... simply Israel's own explicit assertations about Jahweh".
• Westermann (1978:5) formuleer die uitgangspunt in die tweede sin van sy teologie van die Ou Testament: "Eine Theologie des Alten Testaments hat die Aufgabe, zusammenzufassen und zusammenzusehen, was das Alte Testament als ganzes, in allen Teilen von Gott sagt".
• Vir Childs (1985:9) lê die taak van die teologie van die Ou Testament daarin om die Ou Testament se eie teologiese getuienis oor die God van Israel wat die kerk ook aanbid, te hoor.
Meer resent is Brueggemann (1997:117 vgl ook Brueggemann 2003:9) wat sê: "The primal subject of an Old Testament Theology is of course God".
• Vir Anderson (2000:40) "it is evident that what is basic is Israel's witness to divine revelation: the self-disclosure of the Holy One so that people may call on God by the personal name, YHWH".
• Gerstenberger (2002) gee volledig erkenning aan die diversiteit van die Ou Testament se uitsprake oor God, maar stel dit tog ook dat "Old Testament theology should be content with the contextual images of God in the Hebrew Bible..." (Gerstenber 2002:2).
• Rendtorff (2005:1) se heel eerste sin in sy "Canonical Hebrew Bible" stel dit duidelik: "The Old Testament is a theological book".
Die andersheid van God
Die navorsing oor die verhouding tussen God en die gode verteenwoordig 'n navorsingsgebied opsigself. Alhoewel God aan die een kant name en selfs eienskappe deel van gode soos die Kanaänitiese god El of Baäl (Mondriaan 2004:580-594; Noll 2001:10-13; Davies 2006:175-194), is dit tog die getuienis van die Ou Testament dat God fundamenteel anders is as die gode. Die andersheid van God word dus hier beredeneer nie in terme van God se verhouding met mense nie, maar in terme van God en die gode van die Umwelt van die Ou Testament.
Dit is opvallend dat die Ou Testament nie 'n teogonie bied nie, anders as byvoorbeeld die Enuma Elish wat die verhaal van die ontstaan van die gode Bel en Marduk voor die skepping van die wêreld vertel (Collins 2004:31-34). Soortgelyke verhale of mites word ook gevind in die Kanaänitiese en Egiptiese godsdienste. In die Ou Testament word God veronderstel sonder dat enige inligting gegee word oor die herkoms of ontstaan van God. Waar daar wel aanduidings is van God se herkoms (Hab 3:3) gaan dit om 'n aanduibare lokaliteit (Paran byvoorbeeld) en verwys dit nie 'n buite-wêreldse herkoms of ontstaan van God nie.
Die eenheid van God word gewoonlik gemotiveer uit die bekende Deut 6:4. Hoe die teks ook al geïnterpreteer word, dit bly een van die fundamentele uitsprake oor God in die Ou Testament en in die Judaïsme en word gesien as 'n belydenis van die eenheid van Jahwe, die God van Israel. Teenoor die baie gode van die omringende volke is daar die een God van Israel. Terwyl die gode van die omringende volke deel van 'n panteon van gode is, word Jahwe nie so voorgestel nie.
Dat God hom bekend maak as die God wat sy volk uit Egipte bevry het is uniek. Gewoonlik word die god/e voorgestel as die stigter/s en instandhouer/s van die heersende koninklike dinastie soos wat Marduk in Babilonië en Baäl in Kanaän gemaak het. In Eks 20 maak God hom bekend as die beskermer van die armes en verdruktes en dit is hoogs ongewoon indien nie uniek nie (Pixley 2002:10).
Dat daar geen beeld van God gemaak mag word nie is merkwaardig. In ander godsdienste manifesteer die teenwoordigheid van die godheid hom/haarself juis in 'n sigbare beeld. Vir Mussner (2006:53) kan die beeldloosheid van God selfs tot by Genesis 1:1 terug gevoer word omdat die vers die ontologiese verskil tussen creator en creatura fundamenteel getrek word. Van God kan en mag nie 'n beeld gemaak word nie en wanneer dit gebeur (Eks 32) word dit as 'n buitengewoon erge oortreding van Israel gesien. Mettinger (1997:173-204) het oortuigend geredeneer dat die Jahwistiese kultus waarskynlik van die begin af anikonies was wat in die eksiliese en na-eksiliese tyd ontwikkel het tot 'n aktiewe verbod op die maak van beelde van Jahwe. Die Naam van Jahwe het die plek van beelde ingeneem. Die debat en navorsing oor die kwessie van monoteïsme is 'n komplekse een waarin daar weinig eenstemmigheid bestaan (Human 1999: 491-505; Snyman 2006:676-691). Die bestaan van ander gode word erken (byvoorbeeld die eerste woord van die dekaloog) maar daar is tog sprake van 'n toenemende ontwikkeling van 'n monolatrie na 'n monoteïstiese Godsbeskouing wat sy hoogtepunt vind in Jesaja 40-55. Dit is merkwaardig dat Jahwe ander gode soos Baäl, El, Dagon, Astarte oorleef en selfs vandag nog aanbid word terwyl die gode wat aanbid is in die tyd van die Ou Testament nie meer aanbid word nie.
Die veelkantigheid van God
God se heilsdade in die geskiedenis van sy volk is goed bekend en is klassiek geformuleer in die teologie van von Rad (1975:129-354) en wat ook weerklank gevind het in die teologieë van Zimmerli (1975), Westermann (1978) en Brueggemann (1997): God is die Skepper van die skepping, Hy tree in 'n verhouding met die aartsvaders, Hy verlos sy volk uit Egipte met die gebeure van die uittog, Hy sluit 'n verbond met sy volk by Sinai, Hy lei sy volk deur die woestyn, Hy bring hulle in die land wat as gawe aan die volk verstaan moet word, Hy beloof 'n ewige dinastie aan Dawid en Sion – die plek waar die tempel staan – is die aardse woonplek van God waar sy teenwoordigheid in die besonder beleef word. God handel so omdat Hy dit so wil en nie omdat mense Hom daartoe oortuig of dwing nie. Dat God Skepper is en in verhouding met sy volk leef, beteken ook dat Hy optree teenoor ander nasies as sy volk. God se handelinge met sy volk is ook nie net kollektiewe handelinge nie, telkens tree God met indiwidue in 'n verhouding en handel Hy met hulle.
Die onbegryplikheid van God
Dit is juis God se optrede teenoor indiwidue wat 'n probleem skep - meer so as sy spreke en handelinge in die skepping, teenoor ander nasies en teenoor sy eie volk. Die baie klaagpsalms is 'n aanduiding daarvan dat individue se verhouding met God nie probleemloos verloop het nie. Sake soos die jaloersheid, bekering, wraak, woede en heiligheid van God is nie sonder meer probleemloos nie (Peels 2003). Dit in die verband dat Mussner (2006:53) die stelling maak: "Gewiss ist Gott, ist JHWH der unbegreifliche und unergründliche Gott". God is alomteenwoordig soos wat Ps 139:7-12 dit sê maar Hy moet ook afbuk om te kyk wat die mense van Sinar doen as hulle die toring van Babel bou (Gen 11:5). Die Here het die vermoë om na die innerlike van 'n mens (soos met Dawid in I Kon 16:7) te kyk, maar vind dit tog nodig om Abraham en Job aan 'n uiterste toets bloot te stel.
Wat Abraham betref wonder 'n mens of God nie 'n raps te ver gegaan het nie. Volgens Gen 22:6 stap Abraham en Isak saam om die brandoffer op die berg te gaan bring. In vers 19 lees ons net van Abraham wat terug is na sy slawe toe. Het Isak dalk nie saam terug gekom nie? Daar vind ook nie weer in die res van die geskiedenis van Abraham 'n gesprek plaas tussen Abraham en Isak nie. Ons lees dat Isak vertroos moes word na sy ma se dood (Gen 24:66) maar wanneer Abraham sterf begrawe Isak hom sonder dat daar iets gesê word oor sy hartseer. Na Genesis 22 lees ons ook nie weer van 'n gesprek tussen God en Abraham nie. Abraham het die toets van gehoorsaamheid geslaag, maar het daar nie ander belangrike sake soos sy verhouding met sy seun en met God skade gely nie?
Volgens Deut 29:29 is die toekoms bekend aan die Here en volgens I Kon 13:2 blyk dit ook so te wees as daar 'n voorspelling gemaak word van die koms van koning Josia. In Jeremia 26:3 lyk dit asof die Here nie weet wat die reaksie van die volk gaan wees op die prediking van die profeet nie: "Miskien sal hulle luister en hulle van hulle verkeerde lewe bekeer".
Noll (2001:16) maak die opmerking dat die verandering in die goddelike persoonlikheid die sentrale motief in die Bybelse wetenskap van twintigste eeu geword het. Dit is waarskynlik 'n oorskatting maar dit beklemtoon minstens die belangrikheid van die vraag. Whybray (2000:2) is nader aan die kol as hy opmerk dat die aandag aan teenstrydighede in God se dade en handelinge 'n onderbeklemtoonde aspek van navorsing in die Ou Testament is.
Tree God altyd rasioneel op?
Drie passasies in die Ou Testament word hier as voorbeelde aangebied waar Jahwe se optrede moeilik te rym is met rasionele en redelike optrede. Eks 4:24-26 is 'n enigma in die Bybel. Pas in Eksodus 3 word Moses geroep en willig die aanvanklik onwillige Moses in om met behulp van sy broer sy roeping te gehoorsaam. In Eksodus 4:18-23 maak Moses gereed om terug te keer Egipte toe, onder meer met duidelike opdragte van Jahwe oor wat hy moet gaan doen (verse 21-23). In vers 24 tree God kontra sy woorde van so ewe op en wil Hy vir Moses klaarblyklik sonder enige motief of rede, doodmaak. Danksy die ingrype van Sippora, Moses se vrou, het die Here "Moses met rus gelaat" (vers 26) en Moses oorleef sodat hy kan voortgaan met sy opdrag om die volk uit Egipte te lei. Veronderstel vir 'n oomblik dat Sippora nie gedoen het wat sy gedoen het nie. Die verlossing van die volk uit Egipte en daarmee saam die heilsgeskiedenis van God met sy volk sou totaal anders verloop het.
In 2 Kon 2:23-25 is Elisa op pad na Bet-El toe. Op pad spot daar 'n aantal seuntjies vir Elisa. Elisa vervloek hulle ter stond in die Naam van die Here en die gevolg is dat twee bere uit die bos kom en 42 van die kinders verskeur. Dit is nie die soort van verhaal wat jy aan jou kleuter of kleinkind wil vertel as 'n slaaptyd storie nie! Is die dood van 42 kinders 'n rasionele optrede van God net omdat hulle met Elisa gespot het? Was die oortreding van die kinders van so aard dat hulle verdien het om deur bere verskeur en doodgemaak te word?
In 1 Sam 24 is die Here "vertoorn op Israel" sonder dat die leser 'n rede gegee word waarom die Here kwaad is vir Israel. Omdat die Here kwaad is vir Israel hits hy vir Dawid aan om 'n volkstelling te hou. Dawid doen dit maar sy gewete begin hom pla en hy pleit om vergiffenis vir 'n daad wat die Here hom in die eerste plek beveel het om te doen. Die resultaat hiervan is dat daar 70 000 Israeliete in 'n pes omkom (II Sam 24:15). (Brueggemann 1997:369-372).
Is God altyd regverdig?
'n Paar voorbeelde uit die boek Samuel laat vrae ontstaan oor die vraag of God altyd regverdig is in sy oordeel oor mense (vgl Whybray 1996:89-120 en Trible 1998:198-208 vir addisionele voorbeelde). Die verhaal van die priester Eli en sy seuns is goed bekend uit I Samuel 2:22-26. Eli spreek sy seuns aan (I Sam 2:22-23) maar verneem ons, die seuns het nie geluister na die vermaning van hulle pa nie "want die Here het besluit om hulle dood te maak" (I Sam 2:27). Eventueel sterf Hofni en Pinehas en ook Eli nadat 'n man van God dit so aan Eli kom voorspel het (I Sam 2:27-36). Minder bekend is die feit dat Samuel ook seuns gehad het en dat die seuns volgens I Sam 8:2-3 ook nie sonder vlek of rimpel was nie. Trouens, dit was die korrupte praktyke van Samuel se seuns wat as een van die aanleidende faktore gedien het vir die leiers van Israel se versoek tot 'n koning (I Sam 8:5). Anders as in die geval van Eli, word niks vertel van Samuel se tugtiging van sy seuns nie. Daar word niks gemeld dat Samuel en sy seuns ook geoordeel gaan word soos wat die geval was met Eli en sy seuns nie (Whybray 2000:10).
In I Sam 2:30 word daar by monde van 'n man van God aan Eli gesê dat sy huis en sy nageslag vir altyd die Here in die tempel sal dien. Die Here gaan egter nou terug op sy woord en sê uitdruklik: "Dit sal nie gebeur nie". Hierdie optrede van die Here staan in kontras met I Sam 15:29 wat sê: "Die Ewige van Israel lieg nie en Hy verander nie van gedagte nie, want Hy is nie 'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie".
In I Sam 16:1-4 is dit vir die Here geen probleem om vir Samuel onder valse voorwendsels na Betlehem te laat kom nie. Samuel se eintlike doel is om iemand anders as koning te salf. Samuel is bang Saul bring hom om die lewe as dit bekend word dat die doel van sy koms bekend word. Die Here se raad aan Samuel is om onder die voorwendsel van 'n offer aan Hom Betlehem toe te gaan en om dan een van die seuns van Isai te salf as koning (Brueggemann 1997:368-370; Steussy 2000:147-148).
Saul word veroordeel vir die terughou van die buit wat hy van die Amalekiete geneem het (I Sam 15:1-35) terwyl Dawid dit ook doen maar sonder dat hy veroordeel word daarvoor. Ook in I Sam 15 is Saul berouvol na sy sonde en pleit hy om vergiffenis sodat hy die Here kan aanbid. Samuel is egter nie gretig om Saul te vergewe nie. Wanneer Dawid sondig, hoef hy maar net sy sonde te erken (II Sam 12:13) sonder die appèl op vergiffenis en hy word dadelik deur Natan vergewe (II Sam 12:14) (Brueggemann 1997:369-370).
Die toenemende verdwyning van God
Daar is 'n motief in die Bybel wat die toenemende verdwyning van God genoem kan word. Met die uittog uit Egipte is God aktief en sigbaar aan die werk. Immers, vir die volk word gesê dat hulle moet kalm bly, die Here sal vir hulle veg (Eks 14:14). By Sinai met die sluiting van die verbond is Hy ook teenwoordig in 'n magtige teofanie soveel so dat die volk vir Moses versoek dat hy eerder met hulle sal praat en nie God nie (Eks 20:18-19). God tree egter mettertyd al meer op die agtergrond. Dit is die rigters wat geroep word, maar hulle moet die werk doen. Konings regeer en word net insidenteel aangespreek deur die profete. Profete word die segspersone vir en namens God, Hy tree al minder self op. Van 'n direkte ingryping van God lees ons al minder. Later as die profetiese stem stil word, word die Tora al belangriker wat prakties daarop neerkom dat God se stem in en deur die Tora gehoor word. Saam met die ontwikkeling is daar ook opbloei van die wysheidsliteratuur (met Prediker as die boek waar God waarskynlik die verste weg is). Eers met die apokaliptiese literatuur (Daniël) word God se direkte en kragtige optrede weer voorsien.
Interessant genoeg volg die Nuwe Testament dieselfde patroon. Met Jesus is God met ons (Immanuel) en Jesus se bediening word gekenmerk deur kragtige wonderwerke van allerlei aard. Na sy hemelvaart kom die Heilige Gees. Wonderwerke kom nog voor, maar word al minder. Ons lees in Handelinge van wonderwerke maar in die briewe van Paulus en ander skrywers van die Nuwe Testament is die tema van wonderwerke prakties afwesig. Later is dit net die Woord (soos die Tora vroeër). Eers met die apokaliptiese literatuur (Openbaring) word God se direkte en kragtige optrede weer voorsien.
God laat ons dus aan onsself oor om innoverend, kreatief en met verantwoordelikheid mens te wees.
Die Goddelike God word toeganklik via menslike metafore
Die Goddelike God wat anders, veelkantig en soms onbegryplik optree is tegelykertyd ook 'n menslike God. Daar word in die Ou Testament op 'n baie menslike (en dus metaforiese en antropomorfistiese) manier oor God gepraat. Hy het ledemate en het sintuie soos wat mense ledemate en sintuie het. God het ook emosies soos haat (Redditt 2000:175-190), woede (Peels, 2003:107-122; Fretheim 2004:365-375), berou soos wat mense emosies beleef. God kan soos mense liefhê (Eks 34:6-7; Hos 11:1-9) en Hy ly (Fretheim 1984). Om op so 'n menslike manier oor die Goddelike God te praat is belangrik want so word die Goddelike en daarom ontoeganklike God toeganklik vir mense sodat 'n mens in staat is om in verhouding met die God te tree en enigsins 'n begrip van God te vorm. Die Goddelike God is dus tegelykertyd ook 'n menslike God. Omdat God ook 'n God is wat in tipiese menslike terme beskryf word, kan daar gepraat word oor God wat hom bekeer (Fretheim 1988:47-70, Peels 2003:57-70).
Die liefde en genade van God is waarskynlik die mees dominante indruk wat die lees van die Ou Testament op 'n mens maak. Die Ou Testament bevat die getuienis van 'n lewende en in die lewe ingrypende God (Ausloos & Lemmelijn 2005:95). Die mens van die Ou Testament leer God veral ken as die barmhartige, genadige, lankmoedige, liefdevolle, getroue God wat sy liefde betoon aan geslagte en geslagte. Hy vergewe ongeregtigheid, oortredinge en sonde maar spreek niemand sonder meer vry nie (Eks 34:6-7). Vir Spieckermann (2000:305-327) is God se self determinasie tot liefde die oorsprong van 'n Ou Testament Teologie. Dit is die gebeure by Sinai wat belangrik is. In die kontras van 'n magtige teofanie en verbondsluiting en die verbreking van die verbond deur Israel rondom die gebeure van die goue kalf bevestig God sy liefde en getrouheid juis met die uitspraak in Eks 34:6-7 (Spieckermann 2000:309-311). God se hesed en emet omvat kwaliteite soos genade, ontferming, goedheid, liefde, getrouheid, waarheid. Hierdie fundamentele uitspraak oor God se liefde en genade eggo deur die res van die Ou Testament (Joël 2:13, Jona 4:2, Ps 86:15, Ps 103:8, Ps 145:8, Neh 9:17) en selfs tot in die Nuwe Testament (Spieckermann 2000:323-327).
MENSLIKE MENSE
Die Ou Testament is 'n diep menslike boek. Haas elke ledemaat en feitlik elke menslike emosie waartoe 'n mens maar in staat is word beskryf (Wolf 1977). Menslike optrede wat getuig van buitengewone heroïese en byna bo-menslike optrede tot die mees laakbare dade word beskryf. Seksualiteit is op geen manier 'n taboe nie. Intriges aan koninklike hofhoudings (Saul, Dawid, Salomo) en in klein familiekringe (Abraham, Isak, Jakob) word (soms in detail) vertel.
'n Mens is 'n mens tussen mense
Die Tora bevat die reëlings van die lewe van die volk van God binne die ruimte van die verbond. Breedweg gesien handel die Tora oor die regte aanbidding en verering van Jahwe en oor die hantering van menseverhoudings. Die implikasie van die strukturering is dat die verhouding met Jahwe die verhouding met die naaste bepaal. Alle nadruk val eers op die juiste verering van Jahwe (Houtman, 1997:80). Die verbond is in die eerste plek 'n verbond wat tot stand kom tussen Jahwe en die volk en daarom sal die bepalings rondom die reëling van die verhouding tussen Jahwe en sy volk en hulle aanbidding van Hom voorrang kry. Die bepalings wat betrekking het op die verhouding met die naaste dien as aanmoediging tot 'n lewe van moreel hoogstaande en barmhartige gedrag (Houtman, 1997:81). Die Bondsboek kan dus nie beskou word as 'n wetboek nie, maar eerder 'n instrument om die samelewing te orden. Sprinkle (1994:84-88) toon aan hoedat die bepalings wat betrekking het op mense en mense verhoudinge die klem eerder plaas op morele en humane reëlings as 'n streng wettiese nakom van 'n bepaling in 'n wetboek. Die aksent wat in die Tora gelê word op die reëling van menseverhoudings is belangrik. Daardeur word die "gewone" aardse lewe binne die kader en invloedsfeer van die verhouding met Jahwe geplaas. Naastediens word dus ook godsdiens. Die Tora beskryf en reël die verhouding tussen mense. Dit is gerig op 'n menslike samelewing waarin mense menslik, verdraagsaam, versorgend, liefdevol teenoor mekaar optree. Dit kan gesien word in die bepalings wat gegee word in verband met armoede, korrupsie, die hantering van vreemdelinge, die ideale wat gekoester is van die jubeljaar. Die Tora moet herlees en herinterpreteer word in terme van die menslike samelewing wat dit wil skep. In die profetiese literatuur word waardes soos geregtigheid, vrede, hesed, liefde, wedersydse sorg en omgee, wysheid as 'n styl van lewe aan gelowiges voorgehou.
Menslike verantwoordelikheid
'n Verwaarloosde aspek van menswees in die Ou Testament is 'n sin van verantwoordelikheid wat mense aan die dag moet lê. Wanneer Josef weet daar gaan droogte wees, tref hy maatreëls om die effek van die droogte teen te werk. Die twee boeke in die Ou Testament wat vroue name dra – Rut en Ester - is ook toonbeelde van mense (vroue in die geval) wat inisiatief neem, verantwoordelikheid dra, planne maak en sukses behaal, trouens in die geval van Ester is daar geen verwysing na God se aktiwiteit nie. In groot dele van die Ou Testament lees ons weinig van God se ingrype en veel van menslike optrede, motiewe, besluite en intriges wat hom tussen mense afspeel (vgl byvoorbeeld die Josefsgeskiedenis in Gen 37-50, die optrede van die rigters, die sg Troonopvolgingsgeskiedenis van II Sam – II Kon 2, Nehemia).
Goddelike gebeure gebeur deur menslike mense. Die verhaal van die uittog is nie die verhaal van 'n passiewe menslike wag op die handeling van God in die bevryding van sy volk nie. God bevry nie sy volk sonder om van mense gebruik te maak nie en Hy werk in en deur die gawes en tekortkominge van doodgewone mense (Birch 1999:127). Goldingay (1987:51) het dieselfde standpunt: Die Eksodus verhaal kombineer 'n geloof in die aktiewe krag van God met 'n geloof in kreatiewe menslike inisiatief. Terwyl daar onverkort gewerk word met die uitgangspunt van God se aktiewe betrokkenheid in die geskiedenis, is daar ook 'n beklemtoning van menslike verantwoordelikheid en inisiatief (Fretheim 1997:12-13)
Menslike mense is ook Imago Dei
Menslike mense is ook goddelike mense. Mense vertoon iets van God in hulle menslike menswees (Herring 2008:494). Gewoonlik word die hoë waarde wat aan mense geheg word verbind aan die bekende Gen 1:26-27, Psalm 8 en Ps 139. Daar is ook ander aanduidings van die hoë waarde van mense. In sommige gedeeltes van die Ou Testament word daar 'n positiewe, optimistiese beeld van mense geteken. In die Josefsverhaal van Genesis 37-50 word daar weinig negatief oor Josef gesê. Oor Rut, Ester, Daniël en oor die geliefdes van die boek Hooglied word daar niks negatief gesê nie. Van Job hoor ons uit die mond van God self "hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad" (Job 1:8). Aan die einde van hoofstuk 1 van Job word daar gesê: "Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie". In die Psalms is die onskuld verklarings van gelowiges in hulle spreke met God bekend. Die hoë waarde van mense word aangrypend geïllustreer in die tweelingpsalms 111 en 112. Wat in Psalm 111 van God gesê word, word in Psalm 112 van die regverdige mens gesê. Die Wysheidsliteratuur het ook 'n merkwaardig optimistiese beskouing van die mens: om met wysheid te lewe is nie 'n onbereikbare ideaal nie maar word prakties geleef.
Die beeld van mense in die Ou Testament is dus meer as net sondige mense. Die sondige mense van die Ou Testament is nie 'n volledige tekening van mense nie. Die sondigheid van mense hef nie hulle status as beeld van God op nie. “Gottes ebenbildigkeit ist durch das Bösesein des Menschen nicht aufgehoben, eingeschränkt oder gebrochen. Beide Aussagen stehen nebeneinander und löschen sich nicht gegenseitig aus” (Klement 2004:72). In die meeste gevalle is gelowige mense 'n mengsel van sonde en geloof, aanbidding en afval, sleg en goed. Die gelowige Abraham is ook die twyfelende Abraham. Die aartsvader Jakob is ook die een wat sy familie bedrieg. Dawid is 'n man na God se hart maar loer ook 'n vrou af as sy bad. Konings word deur die Here self uitgekies maar stel tog telkens teleur. Profete word deur die Here geroep maar is soms onwillige en selfs opstandige profete. In die boek Prediker ontmoet ons 'n gelowige wat op sy beste 'n skeptiese gelowige is.
Ten spyte van die hoë waarde van mense bly mense mense en word hulle (anders as in omringende kulture) nie gode nie. God en mens ontmoet mekaar dus omdat die Goddelike God in terme van menslike metafore beskryf word en omdat die menslike mense ook beeld van God is wat iets van God vertoon. In die Ou Testament is mens-wees nie los te dink van 'n verhouding met God nie. Mens-wees in die Ou Testament kan ook nie losgedink word van 'n gemeenskap van mense waarin hy/sy hom/haar bevind nie.
SLOT
Die vraag wat aan die begin van die bydra gestel is, moet weer gevra word: Hoe word daar verantwoordelik oor God gepraat? Hoe praat ons oor God ook wanneer die kontraste in die uitsprake oor God en van God ernstig geneem word?
'n Eerste opsie sou wees om by die tradisionele en gevestigde dogmatiese en ook verpersoonlikte Godsbegrip te hou. Die opsie het die geskiedenis en die ortodoksie aan sy kant en is ook 'n veilige opsie. Die gevaar en daarom ook die onhoudbaarheid van die opsie is 'n eng, beperkte, reduksionistiese, “makgemaakte” beskouing van God.
'n Tweede opsie is om te sê dat die Ou Testament eintlik die verhaal vertel van meer as een Jahwe. Dit is die opsie wat Noll (2001:1-24) voorstel. Die manier waarop die kanon van die Ou Testament tot stand gekom het, het noodwendigerwys diskrepansies tot gevolg gehad. Die gevolg hiervan was dat die saamgevoegde tekste wat Bybelse tekste sou word verskillende Jahwes huisves wat "an eclectic blend of variant deities" verteenwoordig (Noll 2001:12).
'n Derde opsie wat Birch ea (1999:29-30) voorstel is om die veelkantigheid en selfs teenstrydigheid van Jahwe te erken. Daar is onopgeloste spannings in die identiteit, persoon en karakter van God (Brueggemann 1995:457). Die Ou Testament bied nie 'n eng harmonie van stemme aan sy lesers nie. Die God van die Ou Testament is en bly egter een God wat op baie verskillende maniere en deur 'n veelheid van beelde en ervarings beleef is deur gelowiges. Die verskillende uitsprake oor en van God moet in verhouding met mekaar gesien word sodat daar 'n dialoog tussen die verskillende konflikterende gedeeltes kan plaasvind. Daar moet in die terminologie van Brueggemann ruimte wees vir die getuienis en die teen-getuienis. Daar is onteenseglik 'n spanning tussen verskillende gedeeltes in die Ou Testament maar dit is 'n vraag of dit 'n spanning is wat opgelos moet word.
Daar is ook 'n vierde opsie wat saam met die derde opsie uitgeoefen kan word en dit is om ook doodgewoon te erken: ons weet nie. Teoloë is nie en hoef ook nie God se advokate te wees nie. Daar is 'n ontoeganklikheid, 'n onbegryplikheid, selfs 'n teenstrydigheid aan God anders sou God nie God wees nie. God bly vir mense onbegryplik. Omdat ons mense is, kan ons nie anders as om in menslike kategorieë oor God te dink en te praat nie. Daarom is ons nadenke oor God voorlopig, spreek ons ons in die Teologie uit oor die Onuitspreekbare maar wat aan ons in die openbaring van sy Naam Hom tog toeganklik, aanspreekbaar gemaak het sonder om die onbegryplike misterie van sy God-wees prys te gee. Die Bybelse teks laat ons sien dat ons as mense God net as mense binne ons ervaringswerklikheid kan ontmoet (Dohmen 2008:12).
Ons sou ons ook veel meer kon laat informeer deur die Ou Testament se mensbeskouing. Mense is nie net sondige mense nie. Mense is ook kreatief, verantwoordelik, neem inisiatief, leef die lewe – altyd in verhouding met God al is God nie onmiddellik sigbaar teenwoordig nie en altyd in verhouding met medemense. Die Ou Testament veral deur die Tora doen ook baie om 'n menslike samelewing te skep. Die mens se sosiale verantwoordelikheid teenoor ander mense om die gemeenskap 'n aangename en leefbare ruimte te maak is 'n belangrike aksent in die Ou Testament.
Hierdie artikel is 'n pleidooi om ruimer oor God te dink. God is meer as ons denkbeeld van God. Daar is ook problematiese aspekte van God se openbaring wat moeilik inpas by gevestigde opvattings oor God. Hierdie artikel is 'n pleidooi om ruimer te dink oor mens-wees. Om 'n mensbeskouing te hê wat van 'n mens net sondige mens maak is te eng. 'n Mens is meer as net sondige mens. 'n Derde aksent van die artikel is dat God en mens minstens in die Ou Testament nie los van mekaar gedink kan word nie. God en mens leef in verhouding met mekaar.
Die Ou Testament is 'n boek van mense wat in haas elke moontlike situasie getrag het om waardevol mens te wees, dit is 'n boek aan mense wat vandag in totaal ander kontekste as destyds poog om sinvol as mense te leef, dit is 'n boek oor God wat alle begrip te bowe gaan en ons met liefde omring (Ausloos & Lemmelijn 2005:96).
BIBLIOGRAFIE
Anderson, B W 2000. Contours of Old Testament Theology. London: T & T Clark.
Ausloos, H & Lemmelijn, B 2005. De Bijbel: een (g)oude(n) gids. Bijbelse antwoorden op menslijke vragen. Leuven: Acco.
Birch, B C; Brueggemann, W, Fretheim, T E & Petersen, D L 1999. A Theological Introduction to the Old Testament. Nashville: Abingdon Press.
Brueggemann, W 1995. "In the image of God"...Pluralism. Modern Theology 11(4), 455-469).
Brueggemann, W 1997. Old Testament Theology. Testimony, Dispute, Advocacy. Minneapolis: Fortress.
Brueggemann, W 2003. An Introduction to the Old Testament. The Canon and Christian Imagination. Louisville: Westminster John Knox Press.
Childs, B S 1985. Old Testament Theology in a Canonical Context. London: SCM.
Clines, D J A 1995. God in the Pentateuch: Reading against the grain, in Clines D J A Interested Parties. The Ideology of Writers and Readers of the Hebrew Bible. Sheffield: Sheffield Academic Press. (JSOT SS 205).
Collins, J J 2004. Introduction to the Hebrew Bible. Minneapolis: Fortress.
Davies, G 2006. "God" in Old Testament Theology, in Lemaire, A (red) Congress Volume Leiden 2004, Leiden: Brill, 175-194.
Dohmen, C 2008. Gottes unerkennbare Gengenwart. Der Spannungsbogen zwischen Offenbarung und Mysterium. Bibel und Kirche 63, 6-12.
Fretheim, T F 1984. The Suffering of God: An Old Testament perspective. Philadelphia: Fortress.
Fretheim, T F 1988. The Repentance of God. A Key to evaluating Old Testament God-Talk. Horizons in Biblical Theology 10(1), 47-70.
Fretheim, T F 1997. The God who acts. An Old Testament perspective. Theology Today 54, 6-18.
Fretheim, T F 2004. "I was only a little Angry". Divine Violence in the Prophets. Interpretation Oct, 365-375.
Gerstenberger, E S 2002. Theologies in the Old Testament. London: T & T Clark.
Goldingay, J 1987. Theological Diversity and the Authority of the Old Testament. Grand Rapids: Wm B Eerdmans.
Herring, S L 2008. A "Transubstansiated" Humanity: The Relationship between the Divine Image and the Presence of God in Gen i 26f. Vetus Testamentum 58(4-5):480-494.
Houtman, C. 1997. Exodus II Een praktische bijbelverklaring. Kampen : Kok. (Teks en toelichting)
Human, D J 1999. Aspects of monotheism: A continued debate. Old Testament Essays 12(3), 491-505.
Klement, H H 2004. Mensch und Sünde in der Urgeschichte, in Hille, R & Klement H H (Hrsg). Ein Mensch – was ist das? Zur theologischen Antropologie. Wuppertal: R. Brockhaus Verlag, 60 – 88.
Mettinger, T N D 1997. Israelite Aniconism: Developments and Origins, in Van der Toorn, K (red) The Image and the Book. Iconic cults, Aniconism and the Rise of Book Religion in Israel and the Ancient Near East. Leuven: Peeters, 173 – 204.
Mondriaan, M E 2004. Yahweh and the origin of Yahwism: A critical evaluation. Old Testament Essays 17(4), 580-594.
Noll, K L 2001. The Kaleidoscopic nature of divine personality in the Hebrew Bible. Biblical Interpretation 9(1), 1-24.
Mussner, F 2006. JHWH, der nicht einleuchtende Gott Israels. Eine Überlegungen. Trierer Theologische Zeitschrift 115:50-59.
Peels, H G L 2003. Shadow sides. The Revelation of God in die Old Testament. Carlisle: Paternoster.
Pixley, J 2002. God, a bone of contention in the Hebrew Bible, in Freyne, S & van Wolde E (eds) The Many voices of the Bible. London: SCM. (Concilium 2002/1).
Redditt, P L 2000. The God who loves and hates, in Penchansky, D & Redditt, P L (eds) Shall not the Judge of all the earth do what is right? Studies on the Nature of God in tribute to James L Crenshaw. Wiona Lake: Eisenbrains, 175-190.
Rendtorff, R 2005. The Canonical Hebrew Bible. A Theology of the Old Testament. Leiden: Deo Publishing.
Snyman, D 2006. Die ontwikkeling van monoteïsme in Israel as agtergrond vir die verstaan van die JHWH-mlk-psalms. Verbum et Ecclesia 27(2), 676-691.
Spieckermann, H 2000. God Steadfast Love. Towards a New Conception of Old Testament Theology. Biblica 81:305-327.
Sprinkle, J M 1994. The Book of the Covenant - A literary approach. Sheffield : Sheffield Academic Press. (JSOT SS 174)
Steussy, M J 2000. The Problematic God of Samuel, in Penchansky, D & Redditt, P L (eds) Shall not the Judge of all the earth do what is right? Studies on the Nature of God in tribute to James L Crenshaw. Wiona Lake: Eisenbrains, 127-161.
Trible, P 1998. Divine Incongruities in the Book of Jonah, in Linafelt, T & Beal, T K (eds) God in the Fray. A Tribute to Walter Brueggemann. Minneapolis: Fortress.
Von Rad, G 1975. Old Testament Theology. Vol I. London: SCM.
Westermann, C 1978. Theologie des Alten Testaments in Grundzügen. Göttingen: Vandenhoeck & Rupprecht. (Das Alte Testament Deutsch Ergänzungsreihe Band 6).
Whybray, R N 1996. The Immorality of God: Reflections on some passages in Genesis, Job, Exodus and Numbers. Journal for the Study of the Old Testament 72: 89-120.
Whybray, R N 2000. "Shall not the Judge of All the Earth Do What Is Just?" God's Oppression of the Innocent in the Old Testament, in Penchansky, D & Redditt, P L (eds) Shall not the Judge of all the earth do what is right? Studies on the Nature of God in tribute to James L Crenshaw. Wiona Lake: Eisenbrains, 1-19.
Wolf, H W 1977. Anthropologie des Alten Testaments. München: Kaiser Verlag.
Zimmerli, W 1975. Grundriss der alttestamentlichen Theologie. Stuttgart: Kohlhammer.
TREFWOORDE
God, Onbegryplikheid van God, Teenstrydighede in God, Mensheid, Menslike verantwoordelikheid
KEY WORDS
God, Incomprehensibility of God, Contradictions in God, Humanity, Human responsibility
KONTAK BESONDERHEDE
1 'n Verwerkte weergawe van 'n referaat gelewer tydens die Teologiese dag van die Fakulteit Teologie op 2 Februarie 2009, in Bloemfontein.