Strauss, PJ
Universiteit van die Vrystaat

Kerkreg, ’n dienende reg?

ABSTRACT

Church polity a serving polity?

The core argument in this article is that a reformed church polity aims to serve the church by supplying the orderly channels through which the Word of God can flow freely and actually govern the church. The fruit of a reformed church polity as reflected in a reformed church order, should be based on the Scriptures. This condition serves to ensure that the order serves it purpose. A church order differs from a confession of faith by aiming at practical measures for the life of the church. It has therefore much more of a temporary nature. In essence: a reformed church polity should strengthen the church to be church of the Word of God.

INLEIDEND

Die gereformeerde Nederlander Jan Plomp bied die woordjie “dienstrecht” as één van die kenmerke van ’n verantwoorde kerkreg aan. Wat Plomp betref, is die kerkreg ook liturgiese, lewende en eksemplariese reg.

Tog blyk dit uit sy verduideliking van die laaste drie moontlikhede dat Plomp ook op hierdie punte die kerkregtelike kante daarvan as dienende reg beskou. So wil hy dat die kerkreg die erediens dien deur dit te orden, dat die kerkreg diensbaar of lewend bly vir veranderinge wat deur Biblische Weisungen of Bybelse riglyne gestimuleer word en in sy intern-kerklike gestalte vir die samelewing ’n voorbeeld is van ’n regsorde. ’n Eiesoortige regsorde of ’n kerkorde wat aan die kerk noodsaaklike diens lewer (1992: 40).

Plomp koppel sy siening van kerkreg as ’n dienende reg aan die opvatting dat daar in die gemeente geen plek vir die heerskappy van “wie ook” is nie. Hiervoor bou hy op Markus 10:44: “… elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees.”

Hierdie siening van Plomp van kerkreg as ’n dienende reg lê ingebed in sy betoog dat die kerkreg as ’n eiesoortige reg Christologies-ekklesiologies gefundeer moet word. Volgens hom moet die Christokrasie die “Grundrecht” vir die kerkreg en daarom vir die ordening van die gemeente wees. In sy gebruik van Biblische Weisungen as kernpeilers oefen die kerkreg Christus se gesag uit omdat Christusgesag Woordgesag is en die Skrif geen klaargemaakte kerkorde bevat nie. So bedien of dien die kerkreg die kerk (1992:38-40).

Met hierdie standpunt sluit Plomp aan by die evangeliese kerkreg van die Duitsers Karl Barth en Erik Wolf (Barth 1967:679vv; Wolf 1961:8,24,73vv).

Volgens hom is kerkreg ’n dienende reg omdat hy in sy poging tot die ordening van die kerk van Bybelse gronde as maatstaf uitgaan en so die Skrif aan die kerk bedien. Smit sluit hom hierby aan as hy die kerkorde as ‘n dienskneg van die Woordverkondiging beskou (1984:57).

In sy benadering kies Plomp teen twee bekende verskynsels of rigtings in die kerkreg.

Die eerste is die Luthers-georiënteerde bewering van die Duitse juris Rudolph Sohm in die laat negentiende eeu dat die wese van die reg met die wese van die kerk in stryd is (Sohm 1923:1). ’n Standpunt wat steeds navolgers vind (Barth 1967:679). Plomp vind dit meer aanvaarbaar as Sohm se “reg” met algemene reg of “swak kerkreg” vervang word (1992:37).

Die tweede rigting waarteen Plomp dit het is wat hy die burokratisering van die kerkreg noem. Dit gebeur wanneer die reëls van die kerkreg en die organisasie van die kerk ’n selfstandige mikpunt word én die kerkreg sy gestalte van ’n dienskneg – in diens van die heerskappy van die Woord – verloor.

Plomp se reaksie op Sohm is ’n reaksie teen die charismatiese neiging om die ordening van die kerk ná die boek Handelinge as onkerklik en ongeestelik – en los van die leiding van die Heilige Gees – af te maak (1992:34-35).

KERK EN GELOOF NEEM REG IN DIENS

Vanuit ’n Christelik-normatiewe of Bybels-reformatoriese visie op die samelewing word dit aanvaar dat alles in die lewe met alles of elke aspek met elke ander aspek van die lewe saamhang. Dit lei tot die insig dat die skepping waaronder die mens se kultuurlewe, ’n aspekteverskeidenheid binne ’n samehangende eenheid vertoon. Hierbinne word die kerklike struktuur deur die geloofsaspek (as Christelike geloof) gekwalifiseer, het dit ’n eie aard as geloofsinstelling en funksioneer dit in samehang met die ander aspekte van die lewe. ’n Samehang wat norme vir die kerklike lewe blootlê deurdat die geloof telkens die kern van die ander aspekte in diens neem (Dooyeweerd 1968:11vv).

So neem die geloof die kern van die liefdesaspek, naamlik trou, in diens en ontwikkel dit die eise van Woord- en belydenisgebondendheid of -getrouheid as norme vir geloof. Net so impliseer kerkreg as geloofsreg die eise van regverdigheid of regsewewig vir kerklike optrede. Dit verklaar die Bybelsverantwoorde siening van gereformeerde kerkregtelikes dat die kerklike tug regverdig en billik toegepas word en dat die reëls vir natuurlike geregtigheid noodsaaklik in kerklike tugsake as pastoraalgekwalifiseerde sake is (Du Plooy 2007:18vv) Al is die kerk met sy dankoffergeld in die eerste plek nie op finansiële nie, maar evangeliese wins ingestel, moet hy gemeet aan sy geloofsoogmerke ook nie met geld mors nie, maar evangeliese waarde daarvoor kry. Sosiale omgang en verkeer in geloofsdiens stel die eis van geloofsgemeenskap aan ’n goedfunksionerende gemeente; harmoniese of estesties-verantwoorde gestaltes is nodig by die ontwerp van ’n kerkgebou met sy simboliese gerigtheid op God en die sprekende uitleg van sy liturgiese ruimte; histories-verantwoorde taal en ’n historiese beheersing van die dogma is noodsaaklik vir die korrekte verwoording van geloofsbelydenisse; en analitiese geloofsdenke blyk die aanhang van die ware teenoor die valse leer (Kock 1975:144-147).

Geloof en reg is nie dieselfde nie. Tog staan dit as aspekte van die verskeidenheid in die skepping komplimentêr en nie téénoor mekaar nie (Fowler 1988:28). Toegepas op die strukture van die samelewing beteken dit dat die staat as regsgekwalifiseerde instelling die kern van die geloof, naamlik vertroue, in diens neem en dit as vertroue in die reg in sy uitoefening van die reg moet vestig. Terselfdertyd neem kerkreg as geloofsreg die kern van die regsaspek in diens om die beginsels van ’n verantwoorde ekklesiologie reg en ewewigtig toe te pas.

Direk teenoor pogings om “kerk” en “reg” as vreemd teenoor mekaar te verklaar, staan ’n verjuridisering of verstaatliking van die kerkreg.

Eerstens bring dit mee dat die kerk die staat naboots in sy aanwending van die reg. Dan verword kerklike tugsake tot siviele hofsake met ’n koue kliniese regsbasis en verloor hulle hulle pastorale karakter (Sadler 1989:144). ’n Pastorale karakter wat daarvan ’n liefdeshandeling in plaas van ’n vergeldingsaksie wil maak met die oog op die eer van God en die berou, inkeer en behoud van die sondaar (Kleynhans 1988:142)1.

Tweedens dwing die staatsowerheid en -howe die kerk – deur die dwingende karakter van die staatsreg – om staatsopgelegde interpretasies van die reg intern na te volg. So kan die staat se verstaan van die implementering van die akte van menseregte in hoofstuk 2 van die Suid-Afrikaanse grondwet op die kerk afgedwing en intern-kerklike praktyke daaraan ondergeskik gestel word. Hierdie benadering ontneem die kerk die reg op ’n Skriftuurlike basis vir al sy aksies en verabsoluteer die staatsinstellings se interpretasie van die interne reg van ander selfstandige lewenskringe. Gevolglik ontneem die staat die kerk sy breed erkende vryheid en reg om sy geloofstaak aan die hand van beginsels wat uit die Skrif en die kerkreg as ’n geloofsreg opkom, selfstandig uit te voer (vgl Jonker 1965).

’n Massabyeenkoms van etlike duisende Christene op die Nuwelandse rugbystadion ’n aantal jare gelede, illustreer die punt. Regeringslui het die byeenkoms as diskriminerend veroordeel omdat toelating die Christelike geloof veronderstel en mense van ’n ander geloof sou uitsluit. ’n Standpunt wat artikel 9 van die Grondwet verabsoluteer wat bepaal dat die staat – as ’n regsverband natuurlik – in sy juridiese of regshantering van mense nie op grond van hulle geloof teen hulle mag diskrimineer nie. ’n Artikel wat nie na nie-staatlike lewensvorme met ander oogmerke verwys nie. In die proses het dié regeringslui artikel 18 van die Grondwet wat vir die vryheid van assosiasie met eie geloofsgenote voorsiening maak, totaal en al geïgnoreer (Kleyn en Viljoen 1999:268-269).

Sadler verwys na die swaar klem op die regsprosedure wanneer Suid-Afrikaanse howe kerklike tugsake hersien. Hierdie klem sleep hierdie sake in die formalistiese sfeer van die burgerlike regspleging in en ontneem hulle van hulle regmatige pastorale karakter. Dit verydel die kerkreg en sekere kerkordes as die neerslag daarvan. Die kerk word gedwing om van sy kerklike hantering van die reg af te wyk en dit staats- of burgerregtelik te hanteer (Sadler 1989:144).

KERKREG ’n DIENENDE REG

Teen hierdie agtergrond van hierdie beredenering word Plomp se tipering van een van die kenmerke van die kerkreg as ’n “dienstrecht” dus gehandhaaf. Sy Markusvoorbeeld in die konteks van sy argument dui daarop dat hierdie diens vir hom bestaan uit diens aan die heerskappy of koningskap van Christus deur die ontwikkeling en gebruikmaking van ’n Bybelsgetroue kerkreg wat bou op “Biblische Weisungen”.

Tereg ook, want Christusgesag is immers Woordgesag (Jonker 1965:12).

Terselfdertyd kan kerkreg as dienende reg nie van die reg in die algemeen of die reg van die staat losgemaak word nie. Hierby beteken sy diens nie dat dit wat hy aanbied, ondergeskik gestel word aan ander sake in die kerk nie, maar dat dit die kerk in sy samehang met die reg dien om sy eintlike roeping as geloofsinstelling uit te leef. Dit beteken dat die kerkreg in situasies waarin die grondlyne van die Bybel in die regering en orde van die kerk as samelewingsverband erken word, die deurslag gee.

Die kerkreg word geroep om die kerk in die uitvoering van sy taak te dien, naamlik as ’n Skrifgefundeerde en geloofsmatige hantering van die regering en reg van die kerk. Dit is ’n nie-gepredikte, toegespitsde bediening van die Woord. ’n Diens wat die normatiewe eie aard van die kerk erken en self deel is van die kerk as geloofsverband (Smit 1984:1).

Sohm se aversie van die reg vanuit ’n kerklike hoek kan gedeel word as die reg eensydig geassosieer word met die kliniese, onpersoonlike en dwingende aard van die staatsreg wat met reg beskou word as vreemd aan die kerk. Gesonde of Woordgetroue kerkreg word hier egter aangedui as ’n verkerklikte reg wat die kerk in die uitvoering van sy roeping dien.

Net so word ander nie-kerklike sake of voorwerpe verkerklik of in kerklike diens gestel. Geld word verkerklik deur dit aan te wend vir die uitbreiding van die Evangelie en die geloofsbou van gemeentelede; sosiale saamverkeer word verkerklik tot geloofskoinonia wat ook ver verwyder is van sosiale wanpraktyke en wangedrag; mooi ontwerpe word in kerkboukuns verkerklik en omvorm tot harmoniese geloofsimbole; moderne tale word verkerklik tot vertaalde Bybeltale (Kock 1975:142-144).

So word kerkreg as ’n dienende reg binne ’n gereformeerde of Christelike visie op die samelewing geplaas. ’n Visie wat verband hou met ’n Christelike koninkryksvisie waarin niks inherent sondig geskape is nie, maar die sonde agterna in die goedgeskape wêreld ’n omvattende impak gehad het waardeur geloof omgesit is in klein– en ongeloof; liefde in haat; reg in onreg; goeie kommunikasie in misverstande en so meer. ’n Visie wat die samehangende eenheid in die verskeidenheid van God se skepping deeglik verreken en buite-Bybelse en nie-kerklike gegewens nie wil prysgee aan die kategorie van on-Bybelse gegewens of die Bose nie.

’n Kerkorde as die praktiese neerslag of reëlings vir die regering en reg van die kerk as geloofsverband moet natuurlik binne bogenoemde vereistes bly (Bouwman 1985a:327).

KERKORDE NEERSLAG VAN ’n KERKBEGRIP2

Omdat die kerk op die op- en uitbou van die Woordgebonde Christelike geloof toegespits is – ’n onchristelike kerk is ’n contradictio in terminis (Kock 1975:143) – is ’n kerkorde met te veel detailbepalings deformerend. ’n Gereformeerde kerkorde moet aan die hand van vaste uitgangspunte bevrydend werk en net die “ordelike” kanale vir die uitlê van ’n Woordgehoorsame kerklike lewe verskaf. Te veel tyd- en plekgebonde detail in die vorm van reëlings of bepalings (Rutgers 1971:44) strem die geloof wat Woordgebonde deur kerkordebepalings as blote kanale tot wasdom moet kom (Smit 1984:99; Ned Geref Kerk 1964:2).

Uit ’n gereformeerde hoek moet ’n kerkorde as reëlings vir die reg en regering van die kerk al die tekens van ’n Woordgetroue kerkbegrip in hom omdra (Smit 1984:75vv). Hierdie kerkbegrip sal blyk uit die verwoording van sy kerkorde met sy ordening van die kerkregtelike kante van sake soos die ampte, kerkvergaderings, die inrigting van die kerk en kerklike arbeid, tug, betrekkinge na buite en die ekumene. Almal sake wat in die verlengde van die Dordtse kerkordelike tradisie voorkom (Van der Watt 1973:158).

Die begrip “kanale” toon ook dat die kerkorde vloei aan die Woordgebonde kerklike lewe wil gee en daarom in sigself nie juridies-dwingend is nie (Smit 1984:86). Dit verklaar die gebruik in gereformeerde kerke dat kerkordebepalings gesuspendeer kan word as kerklike geloofsbelang dit noodsaak. Om dit eenvoudig te stel: die kerkorde as uitvloeisel van die dienende kerkreg is daar ter wille van ’n gesonde kerklike lewe en nie andersom nie.

Die handhawing van bepaalde ordemaatreëls in die kerk het geen sin as hierdie maatreëls gesonde geloofsaksie belemmer nie. Laasgenoemde is juis die roeping van die kerk. Al voorwaarde vir die suspendering van kerkorde-artikels is dat dit ’n behoorlike en bevoegde kerklike proses volg om willekeur en die relativering van die kerkorde in sy ordening van die kerklike lewe te verhoed.

Die kerkbegrip wat in die huidige Kerkorde van die Ned Geref Kerk (NGK-KO 2007) deurskemer, kom uit daardie begrip wat die Algemene Sinode vanuit Skrif en belydenis vorm van die kerk. Daarom bepaal sy artikel 1 dat die Ned Geref Kerk gegrond is op die Bybel as die “heilige en onfeilbare Woord van God”. Verder word bepaal dat die Ned Geref Kerk sy leer soos vervat in die Drie Formuliere van Eenheid en vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619 in ooreenstemming met die Woord bely (NGK-KO 2007:1).

Beide die NGK-KO se verwysings na die Skrif en die belydenis funksioneer in ’n breër konteks.

Die omskrywing van die Bybel as die onfeilbare, objektiewe Woord van God is gekoppel aan die belydenis dat dit hiervoor nie van menslike erkenning afhanklik is nie. Die Bybel is onfeilbaar in die deurgee van God se Woord of Heilsboodskap en as sodanig kanon vir die lewe van die kerk. Dit is God se Woord wat nie eers in ’n bepaalde menslike situasie sy subjektief-erkende Woord word of bloot kwesbare menslike getuienis oor God en sy Openbaring is nie (vgl Heyns 1992:79).

NGK-KO sluit hiermee aan by daardie oortuiging wat oor die laaste dekades in die Ned Geref Kerk in die debat oor Skrifgesag en –gebruik gegroei het naamlik dat die gesag van die Bybel geleë is in die feit dat dit ’n tendensboek is (NGK 1986:611; 2002:548). Dat die gesag van die Bybel setel in sy bedoeling om ’n “heldere en magtige” Boodskap by die mens te kry. Die Boodskap wat handel oor God se lewensomvattende verlossing en vernuwing in Christus deur die Heilige Gees (NGK 2002:548; Heyns 1973:145-147). ’n Vernuwing waarin die regte verstaan van die kerk ’n belangrike rol speel. ’n Vernuwing wat die kerk as die “moeder” van die gelowiges of verlostes en draer van die Boodskap in perspektief plaas.

Dit spreek eintlik vanself dat ’n kerkorde nie ’n belydenis moet herhaal nie en dat ’n kerklike belydenis as ’n uitdrukking van die kernwaarhede van die geloof nie praktiese kerkordelike reëlings moet bevat nie. Laasgenoemde is tyd- en plekgebonde en voldoen nie aan een van die eise vir ’n belydenis naamlik dat dit kernwaarhede bevat wat oor tye heen uitgesê of bely word nie. Kernwaarhede in ons verhouding tot God en sy wêreld wat in meer as een tyd geldig is en nie ligtelik reformeerbaar wees nie (vgl vir ’n bespreking hieroor vgl Jonker 1994:6; Heyns 1977:156; Durand 1984:45).

As ’n kerkorde ’n blote oorskryf van Skrif en belydenis word, verloor dit sy noodsaak.

Daarby mik kerklike belydenisse op kernwaarhede oor God en sy Woord wat vir elke tyd geld en nie deur ’n relativerende post-modernisme ongedaan gemaak kan word nie. Om die drie-enige God deurgaans as die enigste ware God te bely, is Bybels gesien die geloofsantwoord van daardie mense wat in die kern van hulle persoonlikheid deur Woord en Gees gegryp is en nie ’n stuk rasionalistiese modernisme nie (vgl Du Toit 2000:90vv).

Daarom werk gereformeerde kerkordes met afgeleide Skrif- en belydenisbeginsels. Dit wil nie die Skrif of belydenis oorskryf nie, nie tot in die fynste detail reglementeer en so die werking van Woord en belydenis in die kerk “verduister” nie en bondige, “duursame” (rigtinggewende, praktiese lyne) maatreëls daarstel wat as kanale vir die deurvloei of heerskappy van die Woord in die kerk dien (Kleynhans 1991:44vv).

Die swaartepunt in gereformeerde kerkregering lê dus nie in die kerkorde nie, maar in die Woord en, daaruit voortvloeiend en daaraan ondergeskik, die kerklike belydenis. Die kerkorde kan niks meer wees as ’n instrument wat vanuit ’n kerkregtelike en kerkordelike kant die heerskappy van die Woord dien nie (Strauss 2008:107).

OORTREDING VAN KERKORDE TUGWAARDIG?

Die vraag of ’n oortreding van die kerkorde tugwaardig is, het ’n geskiedenis in die Ned Geref Kerk. Aanvanklik het die eerste Kerkorde (1962) sonde vir die aandag van kerklike vergaderings omskryf as “openbare ergerlike sondes” wat indruis teen die “Woord van God en die Belydenis” (NGK 1964:12). By die Algemene Sinode van 1978 is die woorde “en die Kerkorde” aan die betrokke kerkorde artikel toegevoeg (NGK 1978:831,832).

Die woorde “en die Kerkorde” is in 1998 weer weggelaat (NGK 1998:459vv).

Juis omdat die kerkorde – gereformeerd beskou – deel uitmaak van wat die kerkreg aan die vrye loop van die Woord in die kerk bied, wys Jonker daarop dat die kerk onder die invloed van die liberale kerkreg lidmate tugwaardig ag wat bepalinge wat nie noodwendig op die Woord van God gegrond is nie, oortree. Die grens van die Woord as die grens van die gesag waarmee die kerk optree, word so oorskry en die aanspraak van die kerk dat hy met Woordgesag in die Naam van Christus optree, vernietig (1965:26-27).

By gereformeerdes val die klem op Woord en belydenis met laasgenoemde die akkoord van kerklike gemeenskap in kerk en kerkverband (Bouwman 1985a:325vv), maar by kollegialiste val die klem op die kerkorde as die kontrak tussen die lidmate wat hulle onderling teen ’n skending van mekaar se regte beskerm (Kleynhans 1982:85vv).

Bouwman skink waarskynlik klare wyn oor hierdie saak as hy aanvoer dat ’n oortreding van die kerkorde tugwaardig is as dit die eer van God en die heil van die gemeente op die spel plaas (1985b:608). Wat dan as maatstaf vir oortredings geld, is nie die bepalings van die kerkorde nie, maar in hoeverre ’n oortreding hiervan die eer van God en daarmee die heil van die gemeente aantas. Die eer van God soos bepaal deur sy Woord en Wet. Die “openbare ergerlike” aard van tugwaardige sondes is daarby van toepassing omdat so ’n oortreding(s) die vrye loop van die Woord in die kerk moet strem.

Dit alles beteken dat ’n gereformeerde kerk nie van ’n uitgewerkte reglynige sondelysie in tugsake uitgaan nie, maar die tugwaardigheid van oortredings meet aan die skending van die Woord en Wet van God in die bepaalde situasie. Ook in hierdie sake moet die kerkreg sy (Woord-)dienende karakter behou (vgl Kleynhans 1991:43 wat wel nie die woordjie “diens” gebruik nie, maar by wie die saak duidelik aanwesig is).

KERKORDE EN KERKBEGRIP IN DIE NGK-KO

Natuurlik bied ’n kerkorde met sy kerkregtelike of kerkordelike inslag by tipies kerklike sake soos die ampte, kerkvergaderings, die arbeid van die kerk, die tug en die betrekkinge van die kerk met ander kerke en ander instellings in die samelewing nie ’n sistematiese kerkbegrip nie. Tog bevat dit die neerslag of spore van ’n kerkbegrip wat uit ’n bepaalde tradisie of verstaan van die kerk kom. Dit is ook die geval met NGK-KO.

By die ampte gaan NGK-KO uit van die reformatoriese anti-hiërargiese beginsel as dit in artikel 3 stel dat die ampte van predikant, ouderling en diaken gelykwaardig is, maar in opdrag en werk onderskei word (NGK-KO 2007:1). Die fokus van die bedienaar van die Woord in die uitvoering van sy dienswerk is die bediening van die Woord. Dit gebeur in verskillende gestaltes van die Woordbediening as Skrifuitleg en -toepassing (NGK-KO 2007:21)

By kerkvergaderings gaan NGK-KO ook van ’n anti-hiërargiese én anti-kollegialistiese beginsel uit. Daarom verskil kerkrade, ringe, sinodes en die Algemene Sinode in opdrag, maar is hulle volgens artikel 20 gelyk in status en werk elkeen op sy eie terrein – direk – met ’n van Christusverleende gesag. Daar is nie ’n hiërargiese “opklim” van die kerkraad “op grondvlak” na die Algemene Sinode as “hoogste gesag” nie, maar elke vergadering werk op sy terrein of na sy “eie aard”. Die struktuur is eerder ’n plat uitwaaierende struktuur met die kerkraad waarby net een gemeente betrokke is, as mindere vergadering en die res as meerdere vergaderings omdat daar meer gemeentes by betrokke is. Die mindere of meerdere dui dus nie op mindere of meerdere gesag nie, maar minder of meer gemeentes betrokke (Strauss 2005:305).

Tipies reformatories gee NGK-KO aan die kerkraad wat vir die gemeente besluit geen “pligtestaat” nie, omdat die kerkraad van die gemeente as ecclesia completa of volledig kerk oor enige kerklike aangeleentheid kan besluit. Daar is een beperking: die kerkraad kan oor alle kerklike sake besluit, maar mag sekere sake nie afhandel nie omdat dit volgens NGK-KO by die meerdere vergaderings van die verband vir afhandeling lê (NGK-KO 2007:11-19). By implikasie het die gemeentes by toetrede tot kerkverband hulle besluitreg oor hierdie sake aan hierdie meerdere vergaderings oorgedra. NGK-KO erken ook die uitgangspunt dat gemeentes as volledige kerke toetree tot kerkverband of kerkverband vorm. Daarom stel artikel 44 dit uitdruklik dat die belydenisgrondslag van die kerkverband deur ’n bepaalde meerderheid van kerkrade wat vir die gemeentes besluit, goedgekeur moet word (NGK-KO 2007:19-20; Strauss 1999:46).

Ander uitgangspunte in NGK-KO werk ook met ’n reformatoriese kerkbegrip.

Die kerklike tug moet kerklik-pastoraal met geestelike middele toegepas word. Op dié punt vertoon NGK-KO ooreenkomste met die Heidelbergse Kategismus wat in vraag 83 oor die sleutels van die hemelryk op dieselfde middele konsentreer. Kerk en staat het ’n roeping teenoor mekaar en ekumene het ’n gradebenadering wat bou op belydenisooreenkomste of -verskille (Strauss 1991:187vv).

SLOT

’n Gesonde gereformeerde kerkreg is ’n dienende kerkreg wat die kerk in die uitvoering van sy Woord- en belydenisgetroue roeping dien. So gesien is kerkreg ten diepste diens aan die Woord gekoppel aan Skrifgebonde ekklesiologiese beginsels.

Afwykings hiervan lei onder andere tot ’n verjuridisering van die kerkreg, ’n kollegialistiese opvatting van kerkvergaderings en ampshiërargie.

Die eie aard van die kerk as ’n Christelike geloofsverband stempel ook sy gebruik van die kerkreg. Daarom is dienende kerkreg ’n geloofs- of pastorale reg. Om kerkreg te tipeer as ’n dienende reg tas dit nie aan nie. Inteendeel, dit erken die eie aard daarvan.

BIBLIOGRAFIE

Barth, K 1967. Church Dogmatics IV. Edinburgh: T en T Clark.

Bouwman, H 1985a. Gereformeerd Kerkrecht I. Kampen: De Groot Goudriaan.

Bouwman, H 1985b. Gereformeerd Kerkrecht II. Kampen: De Groot Goudriaan.

Dooyweerd, H 1968. The Christian Idea of the state. Nutley: Craig Press.

Du Plooy, A le R 2007. Beginsels vir regspraak in die kerk. Die Kerkblad April 2007, 18-20.

Du Toit, B 2000. God? Geloof in ’n postmoderne tyd. Bloemfontein: CLF-Uitgewers.

Durand, JJF 1984. ’n Belydenis – was dit werklik nodig? In: Cloete, GD en Smit, DJ. ’n Oomblik van waarheid. Kaapstad: Tafelberg, 45.

Fowler, S 1988. The state in the light of the Scriptures. Potchefstroom: PU vir CHO.

Heyns, JA 1973. Brug tussen God en mens. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

Heyns, JA 1977. Die kerk. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Heyns, JA. 1992. Inleiding tot die dogmatiek. Halfway House: NG Kerkboekhandel (1988).

Jonker WD 1965. Om die regering van Christus in sy kerk. Pretoria: Unisa.

Jonker, WD 1994. Bevrydende waarheid. Wellington: Hugenote-Uitgewers.

Kock, P de B 1975. Christelike Wysbegeerte – Inleiding. Bloemfontein: Sacum.

Kleynhans, EPJ 1982. Gereformeerde Kerkreg I. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Kleynhans, EPJ 1988. Gereformeerde Kerkreg IV. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Kleynhans, EPJ 1991. Vereistes vir ’n kerkorde. In: Strauss, PJ (red). Byderwets en gereformeerd. Bloemfontein: Pro Christo.

Kleynhans, HJ 2008. Belydenis, kerkbegrip en kerkorde in die hereniging van die NG Kerkfamilie. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat. Ongepubliseerde DTh-proefskrif.

Kleyn, D en Viljoen, F 1999. Beginnersgids vir regstudente. Kenwyn: Juta (2e druk).

Ned Geref Kerk (NGK) 1964. Kerkorde. Pretoria: NG Kerk-Uitgewers.

Ned Geref Kerk (NGK) 1986,1978,1998,2002. Handelinge van die Algemene Sinode. Sl:sn.

Ned Geref Kerk 2007. Die Kerkorde. Wellington: Bybelmedia.

Plomp, J 1992. Kerk en recht. In: Van’t Spijker, W en Van Drimmelen, LC. Inleiding tot de studie van het kerkrecht. Kampen: Kok, 32-42.

Rutgers, FL 1918. Verklaring van de kerkenordening van de Nationale Synode van Dordrecht van 1618-1619 IV. Rotterdam: Libertas.

Sadler, THN 1989. Die verjuridisering van ons kerkreg. In: Du Rand, JA en Kellerman, JS. Diensknegte van die Koning. Bloemfontein: Pro Christo, 137-145.

Smit, CJ 1984. God se orde vir sy kerk. Pretoria: NG Kerkboekhandel van Transvaal.

Sohm, R 1923. Das Kirchenrecht I. Leipzig: Von Dancker en Humbolt.

Strauss, PJ 1991. Kerkreg en ekumene: ’n Verwaarloosde tema in die Ned Geref Kerk. In: Strauss, PJ (red). Byderwets en gereformeerd. Bloemfontein: Pro Christo.

Strauss, PJ 2005. Watter sake hoort by meerdere vergaderings? In: In die Skriflig 39(2), 293-310.

Strauss, PJ 2008. Die Kerkorde van die Ned Geref Kerk: Uitgangspunte ten opsigte van Skrif, belydenis en kerkorde. In: Acta Theologica 28(2), 104-117.

Van der Watt, PB 1973. Die Loedolffsaak en die Ned Geref Kerk 1862-1962. Kaapstad: Tafelberg.

Wolf, E 1961. Ordnung der Kirche. Frankfurt am Main: Vittori Klostermann

TREFWOORDE

kerk neem reg in diens, kerk en reg in samehang, verjuridisering van kerkreg, kerkorde dien kerkbegrip, kerkorde dien tug

KEY WORDS

justice can serve purpose of church, church and justice not isolated, church polity not law of state, church order serves understanding of church church order serves discipline in church.

KONTAK BESONDERHEDE

Prof PJ Strauss

Fakulteit Teologie

Universiteit van die Vrystaat

Posbus 339

BLOEMFONTEIN 9300

Tel: 051 401 2671

Sel: 082 557 3414

E-posadres: straussp.hum@ufs.ac.za

1 Vgl die vermaarde gereformeerde kerkregtelike FL Rutgers se uitleg van die Dordtse Kerkorde waarin hy betoog dat die “verbetering en terechtwijzing van den geschonden recht alles (moet) beheerst” in tipiese kerklike tugsake, 1918:12.

2 Vir 'n deeglike uitwerking hiervan kyk Kleynhans, HJ 2008. Belydenis, kerkbegrip en kerkorde in die hereniging van die NG Kerkfamilie. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat. Ongepubliseerde DTh-proefskrif.