Spiritualiteit in die NG Kerk van die 21ste eeu teen die agtergrond van Calvyn en die Nadere Reformasie
ABSTRACT
Spirituality in the NG Church of the 21st century against the background of Calvin and the Second Reformation
In this article the focus will briefly be on the spirituality of John Calvin and on that of the 17th century movement known as Dutch Pietism (Nadere Reformatie). Against that background the attention moves to the spirituality of the NG Church in the 19th and 20th century and how it among other factors paved the way for the split between the NG Church and the Gereformeerde Church. Finally the focus is more extensively on the different movements or spiritualities present in the NG Church in the 21st century. Though still somewhat tentative it is argued that the NG Kerk is currently entangled in a serious identity struggle as regards the major dimensions of its spirituality and character. This calls for great vision and leadership for the sake of the future of the NG Church.
1. INLEIDING
Johannes Calvyn staan in hierdie herdenkingsjaar van sy geboorte 500 jaar gelede uiteraard sterk in die fokus. Baie standpunte pro en contra Calvyn word tans ingeneem en verdedig. Die doel van hierdie artikel is nie om ’n standpunt ten gunste van of in teenkanting tot Calvyn en sy fenomenale bydrae in te neem nie, maar veel eerder om die aandag te vestig op die rol van sy spiritualiteitserfenis ook via die Nadere Reformasie in die spiritualiteit van die NG Kerk.
Een van die belangrike teologiese en kerklike aspekte maar ook modewoorde van ons tyd is die van spiritualiteit. Ook in die NG Kerk staan dit tans baie sterk in fokus. Vroomheid is verder beslis nie ’n konstante of onveranderlike saak nie. Die Middeleeuse vroomheid het anders daar uitgesien as die moderne uitlewing daarvan; die Rooms-Katolieke vroomheid lyk anders as die Reformatoriese; die gereformeerde vroomheid lyk anders as die van die Lutherse of Anabaptistiese gelowiges. Binne die gereformeerde wêreld word daar wel onderskei tussen die Puriteine se gevoelsmatige vroomheid en die Nadere Reformasie se konventikel-tipe vroomheid. Gereformeerdes het verder 'n diep eksistensiële betrokkenheid by dit waarin hulle glo. Dit beteken dat hulle nederig en dankbaar voor God staan en hulle lê dus nie soveel nadruk op hulle eie ervaring en belewing nie.
Baie definisies kan vir die term spiritualiteit gegee word. Die definisies penduleer egter grootliks tussen 'n meer enge begrip van spiritualiteit en 'n ruimer betekenis wat daaraan toegevoeg word. Beide hierdie enger en ruimer betekenisse word ondervang ook deur die definisies van verskillende Suid-Afrikaanse teoloë, wat uiteraard rekening hou met die breër internasionale gesprek hieroor. Vir Willie Jonker verwys die term spiritualiteit na die geestelike lewe van die mens in sy verhouding tot God. “Die moderne begrip spiritualiteit verwys na vroomheid …. dit wil sê na die beleweniskant of ervaringskant van die religie, of nog breër gestel, na die subjektiewe kant van die religie. Ons sou dit kon weergee met geloofsbelewing, geloofservaring, geloofsbeoefening en geloofspraktyk” (Jonker 1989: 288). Dirkie Smit op sy beurt lê klem op die feit dat hierdie begrip deur die eeue baie betekenisveranderinge ondergaan het. Soms word dit in 'n tegniese sin gebruik, terwyl dit andersyds weer ongedefinieerd en vaag gebruik is. Terwyl dit by sekere groepe positiewe assosiasies opgeroep het, het dit vir andere weer negatiewe konnotasies ingehou. “In verskillende verbande word dit deesdae gebruik as 'n sinoniem vir begrippe soos toewyding (‘devotion’), aanbidding, mistiek, innerlikheid, vroomheid, godsdienstigheid, of sommer die Christelike of die geestelike lewe as geheel”(Smit 1989: 85). Rian Venter dui aan dat die term spiritualiteit in die laaste dekades meer algemeen gebruik word. Alhoewel hierdie term vroeër eintlik veel meer in Rooms Katolieke kringe gebruik is, is die saak waaroor dit gaan ook in gereformeerde kringe nie wesenlik nuut nie. Alhoewel dit volgens hom 'n term is wat ook gebruik word vir piëteit, vroomheid, godsaligheid, godvresenheid en godsvrug kan dit ook in 'n ruimer sin verstaan word. Hy beskryf dit opsommend soos volg:” Spiritualiteit is die dinamiese ervaring/belewing deur die mens van sy/haar fundamentele godsdienstige oortuigings wat die karakter van die hele lewe van die mens bepaal”(Venter 1996: 2). As dit dus oor die ruimer betekenis van die woord gaan, handel spiritualiteit in wese oor 'n lewe voor die aangesig van God of hoe God deur mense in hulle geloof beleef en ervaar word.
In gelowiges se aanbidding of spiritualiteit het hulle egter nog altyd onderling van mekaar verskil. So is daar in die geskiedenis min of meer vyf na ses “spiritualiteitsoorte” geïdentifiseer. En hoewel almal in mindere of meerdere mate by alle gelowiges voorkom, plaas ons tog afhanklik van ons konteks op party meer klem as op ander. Dit kan byvoorbeeld op die intellektuele besigwees met God (kop-of intellektuele spiritualiteit) gegrond wees, of meer op die belewenis van God (hart-of evangeliese en charismatiese spiritualiteit) terwyl 'n ander hom meer besig hou met die misterie van God (mistieke of asketiese spiritualiteit). Ander weer wil God se Woord omsit in dade (hand-spiritualiteit of aktivistiese spiritualiteit) terwyl 'n laaste groep weer meer op die godsdienstige handeling voor God (sakramentele spiritualiteit) klem wil lê.
Hierdie studie is van wesenlike belang omdat die NG Kerk tans waarskynlik in een van sy grootste identiteitsworstelings in sy onlangse geskiedenis vasgevang is. Moontlik kan nadenke oor en 'n moontlike herwaardering van onder andere sy spiritualiteitsontwikkeling die NG Kerk uit sy huidige dilemma van onsekerheid en 'n ernstige identiteit-soeke help. Wat wel in die proses goed verstaan moet word is dat so 'n groot en histories-lankbestaande kerk soos die NG Kerk nie net 'n enkelvoudige modaliteit of identiteit vertoon nie maar wel veelkleurige kante het.
2. CALVYN EN SPIRITUALITEIT
Oor Calvyn en spiritualiteit is daar al geweldig baie gesê en geskryf. Op geen manier wil ek die wiel herontwerp nie en daarom sluit ek hier kortliks veral aan by perspektiewe soos geformuleer deur vier Suid-Afrikaners naamlik Rian Venter, Willem Nicol, Dirkie Smit en Callie Fourie wat almal op die hoogte is met die wêreldwye nadenke oor Calvyn in die loop van die geskiedenis.
Wat baie goed besef moet word is dat die Kerkhervorming beslis nie net uit 'n intellektuele bedding voortgekom het nie maar ook uit intense geestelike ervaring gebore is. Groot emosie het inderdaad al die Hervormers aangegryp insluitend Johannes Calvyn, sodat hulle uiteindelik ook alles vir God wou gee.
Die dogmatikus Rian Venter bevestig dit dat “pietas” oftewel gesonde vroomheid, as die regte ingesteldheid van 'n mens teenoor God, een van die hooftemas van Calvyn se teologie is. Die mistieke eenheid met Christus staan sentraal in Calvyn se teologie. Volgens Calvyn moet die totale Christelike lewe een van heiligheid wees en die doel bly die heerlikheid van God. God self bly die fokuspunt van die Christelike lewe. Verder is dit 'n spiritualiteit wat gekenmerk word deur 'n verwondering vir God se transendensie en mag. Baie belangrik vir Calvyn is egter dat kennis van God altyd iets prakties moet wees. Volgens Venter kan spiritualiteit en etos ook nie geskei word in Calvyn se denke nie. Gehoorsaamheid staan sentraal in hierdie piëteit.
Verskillende aspekte is belangrike handelinge van Calvinistiese piëteit. Gebed word as die belangrikste handeling beskou. Vervolgens is skuldbelydenis, selfonthouding en kruisdra kritiese elemente in 'n lewe voor God. Ook Christelike eenvoud, dit wil sê beskeidenheid, nederigheid en vermyding van vertoon het volgens Venter kenmerkende eienskappe van die Calvinistiese spiritualiteit geword. Ten slotte aanvaar piëteit in 'n Calvinistiese sin nie 'n dualisme tussen die gewone en die geestelike lewe nie. Dit alles is 'n geïntegreerde spiritualiteit. Die invloed van piëteit op die gemeenskap was vir Calvyn belangrik, want sy spiritualiteit was sosiaal en inklusief (Venter 2009:1-2).
Interessant is byvoorbeeld dat Calvyn se bekende simbool 'n uitgestrekte hand met 'n brandende hart daarin was, met die leuse daarby: “Uit dankbaarheid offer ek my lewe aan God”. Verder het Calvyn ook gemeen dat geloof “is meer 'n saak van die hart as van die brein.” Calvyn skryf oor sy eie gebedslewe en sê dat as hy nie woorde kan vind om uit te druk dit wat in sy hart roer nie, hy “sy stem verloor”. Sy hoofwerk, die Institusie, kan ook eintlik as 'n vroomheidsboek beskryf word. Die woord pietas (vroomheid) kom byvoorbeeld 180 keer in die Institusie voor. Ook as 'n mens Calvyn met ander teoloë sou vergelyk, verstaan jy waarom hy dikwels “die teoloog van die Heilige Gees” genoem is. Hy benadruk naamlik die werk van die Heilige Gees waardeur die genade in die lewenservaring ingedra word. Vir hom was die beoefening van persoonlike godsdiens (praxis pietatis) 'n ernstige saak waaroor hy dus ook baie geskryf het. (Nicol 2000: 85)
Die Calvinistiese teologie staan grootliks in verband met drie fokuspunte naamlik God, Christus en die Heilige Gees. Eerstens leef die gereformeerde vroomheid in die bewussyn dat die mens voortdurend met die lewende God self te make het (Smit 1988:187). Die Christen se lewe moet gekenmerk word deur 'n bewussyn van eie skuld, nietigheid, afhanklikheid en nood en dit moet dan uitloop op gehoorsame diens en navolging. Verder word die gereformeerde lewe grootliks gedryf deur die eer aan God (Soli Deo Gloria) (Smit 1988:187, 188). God moet dus tot sy eer kom in die redding en heil van die mens (Jonker1989:294).
Van die mens word verwag om te leef volgens die eis van Gods Woord wat eintlik niks anders is nie as heiligmaking. Die Institusie moet verder beskou word as riglyn vir die navolging van Christus (imitatio Christi) in terme van kruisdra en selfverloëning. “Daar is geen sprake hoegenaamd van volmaaktheid wat bereik kan word nie, dog slegs van gehoorsaamheid wat verskuldig is” (Smit 1988:189). Dit is ook nie wêreldontvlugting nie, “maar veeleer die regte toerusting om met albei voete op hierdie aarde te kan leef, maar nuut, anders, vreemd, vanuit 'n visie.” (Smit 1988: 190)
Die Reformasie het beslis nie die uitskakeling van die spiritualiteit van die Christelike kerk as sodanig beteken nie, maar wel 'n suiwering daarvan. 'n Mens sou verder selfs kon sê dat die Reformasie gebore is uit 'n diep geestelike ervaring. Dit was ook nie alleen 'n teologiese beweging nie, maar 'n nuwe vorm van spiritualiteit wat homself verstaan het as 'n suiwerder vorm van lewe voor die aangesig van en in verhouding met God. (Fourie 1997:2-10)
3. DIE NADERE REFORMASIE EN SPIRITUALITEIT
Die Nadere Reformasie as studieterrein het gedurende die afgelope paar dekades opnuut sterk in fokus begin kom en 'n hele aantal uitgebreide studies is daaroor gedoen. Enkele van die belangrikstes is die van S van der Linde, C Graafland, T Brienen, W van ‘t Spijker en WJ Op ‘t Hof. Dit moet in samehang gesien word met die hernude belangstelling in die verskynsel en geskiedenis van vroomheid, piëtisme en die terrein van godsdiensbelewing. Dis alles op sigself baie breë terreine en ons kan hier nie in detail daarop ingaan nie. Wat ons egter wel wil doen is om die Nadere Reformasie kortliks binne hierdie strominge te plaas en om 'n omskrywing en definisie daarvan aan te bied.
Die Nadere Reformasie word deur een van die vroeëre topkenners van hierdie beweging naamlik prof S van der Linde beskryf as 'n radikale gereformeerde reformasie wat “preciesheid wenst in plaats van vrome(onvrome) algemeenheden, een piëtisme dus, een bewust wijden van het hele leven aan God”(Hofmeyr1989:21). Met hierdie omskrywing slaan Van der Linde 'n duidelike band na Calvyn wat met goeie reg as die geestelike vader van die spesifiek Nederlandse Nadere Reformasie beskou kan word. Die Nadere Reformasie, soos ook deur Van Ruler aangedui, met sy klem op 'n persoonlike geestelike vroomheid, 'n kerkwaardering en 'n teokratiese blik op die maatskappy is inderdaad in breë lyne van Calvyn afkomstig. Dit is veral die vroeëre klassieke fase van die Nadere Reformasie wat duidelike verwantskappe met Calvyn toon. (Hofmeyr 1989:22)
In die Nederlandse gereformeerde tradisie ontwikkel daar dus van vroeg in die 1600’s af die sogenaamde Nadere Reformasie wat as “gereformeerde piëtisme” beskryf kan word. In reaksie teen die eensydige beklemtoning van die objektiewe leer in die Ortodoksie, word die subjektiewe belewenis van die geloof benadruk. 'n Uitloper hiervan was 'n breë opwekkingstroming genaamd die Revivalisme wat ongeveer van die 1750’s af deur Europa beweeg het en 'n ietwat romantiese vorm van vroomheid en mistiek in die gereformeerde kerke ingedra het. Volgelinge van hierdie tipe bewegings het dikwels in klein groepe byeengekom en die persoonlike belewing van die geloof benadruk.
Om spiritualiteit binne die Nadere Reformasie in 'n kort bestek te omskryf is ongetwyfeld geen eenvoudige onderneming nie. Waarskynlik een van die beste onlangse pogings in die verband is afkomstig van die Amerikaner Paul Schrotenboer wat in
resensie oor 'n publikasie van W van’t Spijker “De Nadere Reformatie” dit so omskryf: “ De Nadere Reformatie (the Further Reformation) [Second Reformation or Dutch Pietism JWH] … sought to complete what the sixteenth-century reforms had left unfinished. The earlier Reformation made improvements in doctrine; the second sought to make improvements in life … It sought by stressing piety and experience to sanctify the Christian life in its entirety, but in its endeavor it exposed itself to the charge of subjectivism, individualism, and legalism.” Wanneer hy ten slotte op die relevansie van hierdie spiritualiteitstroming vir ons tyd fokus stel hy dit myns insiens besonder akkuraat: “… we may learn to avoid the path of excessive introspection, of isolation from the community of believers, of coming down hard on the do’s and the don’t’s of legalism. But we can also learn, (remember(ing) the renewed emphasis on spirituality in the past few years) that the practice of godliness, while it does not come easy, may not be neglected”(Schrotenboer 1987:353-355)
4. SPIRITUALITEIT IN DIE 19de EN 20ste EEUSE NG KERK
Die Suid-Afrikaans kerkgeskiedenis het natuurlik soos enige ander geskiedenis nie in 'n waterdigte kompartement afgespeel nie. Dit geld ook die spiritualiteitsontwikkeling binne die NG Kerk. Juis hierdie ontwikkeling is in 'n groot mate ook gevorm deur internasionale strominge soos byvoorbeeld die Nadere Reformasie, Piëtisme, Puritanisme en die Reveil.
Volgens Willie Jonker maar ook verskillende ander denkers soos byvoorbeeld David Bosch, Adrio König en Willem Nicol bestaan daar beslis twee duidelike vroomheid- of spiritualiteitstradisies in die NG Kerk, naamlik die gereformeerde en die evangelies-metodistiese. Vir talle in die NG Kerk is die gereformeerde belydenis aanvaarbaar, maar wanneer dit kom by die uitlewing daarvan, bestaan daar 'n aangetrokkenheid tot die “evangelikaliese spiritualiteit” met sy metodistiese en revivalistiese eienskappe soos deur die Skotse en Amerikaanse elemente beïnvloed is.
Wat duidelik uit die kort oorsig oor die Nadere Reformasie hierbo geblyk het, is dat die teologiese ontwikkelinge in Nederland na die Sinode van Dordt nie meer ongekwalifiseerd suiwer gereformeerd was nie. Soos bekend het daar 'n bepaalde post-Dordtse Ortodoksie ontwikkel wat in werklikheid nie meer gelyk gestel kon word met die teologie en gees van Calvyn nie. Uit dit alles vloei dan voort die opkoms van die Nadere Reformasie met sy duidelike vroomheidskarakter wat weer gelei het tot die opkoms van die subjektivisme van die sogenaamde konventikel-beweging met sy sterk aksente op uitverkiesing en bevinding. Graafland verduidelik dit baie goed wanneer hy sê dat diegene wat in verset was teen die gees van die eeu (soos dit na vore gekom het in die liberale denke) hulle aan Dordt gebind het. Op die manier was hulle egter weer vasgevang in 'n geestesontwikkeling wat in spanning gestaan het met die teologiese posisie van Calvyn en die gereformeerde belydenisskrifte (Graafland 1987:257-273).
Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) wat beslis ook onder die invloed van hierdie gebeure gestaan het, het dus van hier uit met 'n bepaalde kerkbegrip gefunksioneer. Baie waardevol is die verduideliking wat Jonker in die verband gee en ook waarom die GKSA uiteindelik in 1859 rondom 'n identiteitsworsteling in die NG Kerk 'n eie pad in Suid-Afrika begin loop het: “Rypgemaak in die gees van die konventikels met hulle eie soort vroomheid, was dit vir hulle [die GKSA JWH] uiteindelik nie so moeilik om te breek met die kerk nie. Die Afskeiding van 1834 [in Nederland JWH] het uiteraard geestelik en saaklik gelyk gehad in hul worsteling teen die vrysinnigheid in die Nederlandse Hervormde Kerk en sy groeiende onvermoë om uit die ban van die bestuursapparaat van 1816 weg te breek ten einde die ware leer te handhaaf. Dit het egter te weinig besef gehad van wat Calvyn verstaan het onder die katolisiteit van die kerk. Die gees van die eeu was te individualisties om te verstaan dat 'n mens aan die verwording van die kerk kan ly, en tog nog aan die eenheid van die kerk moet vashou.”(Jonker 1990:39)
Interessant is dit om te besef dat die afskeiding van die GKSA uit die NG Kerk deels voortvloei uit die gees van afskeiding wat vanuit Nederland oorgedra is na ander kontinente. Andersyds is die moontlikheid verder versterk deur die geskrifte van die sogenaamde “oude schrijvers” uit die Nadere Reformasie-beweging. Die kern van die oorspronklike lidmate van die GKSA was nie net sosiaal 'n eie groepering met 'n duidelike konserwatiewe karakter nie, maar hulle het terselfdertyd ook 'n eie vroomheidstipe gehad wat aansluiting by die Afskeidingsgees in Nederland moontlik gemaak het. Wat egter baie duidelik is, is dat die GKSA oorspronklik beïnvloed is deur 'n swaarder vorm van vroomheid as die van die NG Kerk.
Die gees en klimaat in die NG Kerk veral in die 19e eeu was weer opvallend anders. Die NG Kerk was aan die een kant nog duidelik binne die invloedsfeer van die Nederlandse Hervormde Kerk gesetel. Aan die ander kant was die NG Kerk sterk geïnfiltreer deur die invloede van die Skotse evangeliese vroomheid met duidelike elemente van die metodistiese revivalisme. Gedurende die 20e eeu het die NG Kerk egter meer gereformeerd begin word. Dit kan onder andere herlei word na sy kontak met die Gereformeerde Kerke in Nederland asook met die meer behoudende deel van die Nederlandse Hervormde Kerk. Al is dit so dat die NG Kerk steeds worstel met 'n neiging tot 'n soort spiritualiteit soos dit te vinde is in die Skotse en Amerikaanse evangelikalisme, is dit duidelik dat die kerk intussen ook selfkritiek beoefen het en probeer wegkom het van die invloed van die metodistiese revivalisme.
Jonker vat die spanninge tussen die NG Kerk en die GKSA in die 19e eeu baie goed saam wanneer hy stel dat daar “ 'n stuk tragiek (sit) in die geskiedenis van die negentiende eeu. Faktore en invloede het van verskillende kante af op kerk en volk ingewerk. Veral is dit duidelik dat twee verskillende tipes geloofsbelewing, twee vorme van bevinding, twee variasies van piëtisme op mekaar gestuit het – die een swaar en streng, die ander gemoedelik en baie meer oppervlakkig”(Jonker 1990: 41)
Interessant is die opmerkinge van Jaap Durand oor die NG Kerk van die laat 19e en die 20e eeu. Hy sê dat drie groeperinge onderskei kan word naamlik 'n kleiner piëtistiese en revivalistiese groep; vervolgens 'n groter groep wat minder revivalisties in sy benadering was en derdens 'n groep wat evangelikalies was en met 'n sterk sendingbewussyn gefunksioneer het (Durand 1985: 43). David Bosch weer onderskei in 'n studie oor kragte wat die identiteit van die Afrikaner help vorm het, verskillende elemente. Naas andere wat nie hier ter sake is nie, beskou hy die bestaan van 'n gereformeerde evangeliese lyn wel as betekenisvol. Binne hierdie kringe onderskei hy ook 'n sterk sendingbewussyn wat gefunksioneer het. (Bosch 1984: 25-26).
Interessant is dit ook om ten slotte daarop te wys dat daar veral in die 20e eeu duidelike tekens was van die merkwaardige kombinasie van 'n gereformeerde inslag met 'n duideliker Nadere Reformasie evangelikaliese neerslag by 'n aantal invloedryke teoloë. Behalwe op verskillende ander plekke is dit ook sigbaar by verskeie eietydse teoloë van die NG Kerk soos Ben Marais, Beyers Naude, David Bosch, Ferdinand Deist en Johan Heyns. Dit was juis uit hierdie kringe waaruit meeste van die sleutelspelers in die kerklike en teologiese kritiek teen apartheid voortgekom het.
Wat ten slotte gesê moet word is dat daar dalk uit hierdie stuk geskiedenis van die NG Kerk in die 19e en 20e eeu, juis in samehang met ander kerke en strominge, veel deur die NG Kerk in sy huidige worsteling rondom identiteit geleer kan word met die oog op sy toekoms.
5. SPIRITUALITEIT IN DIE NG KERK van die 21ste eeu
Ons wil vervolgens die huidige spiritualiteitsontwikkeling in die NG Kerk en wel veral in samehang met die kerk se verskillende modaliteite aan die orde stel. Kritiese nadenke oor die NG Kerk se spiritualiteit is van die allergrootste belang juis met die oog op die bepaling van sy huidige identiteit. Wat presies in die 21e eeu met die ontwikkeling van spiritualiteit binne die NG Kerk aan die gebeur is, is nie altyd ewe duidelik nie. Wat 'n mens ook moet onthou is dat die reis deur die geskiedenis met verskillende spiritualiteite ook nooit verby gaan nie: trouens dit bly eintlik 'n nimmereindigende pad. Ook die kombinasie van verskillende elemente in verskillende spiritualiteite bly eweneens 'n moontlikheid. Dit wil egter vir my wel voorkom of die NG Kerk tans rondom spiritualiteitsontwikkeling in 'n taamlike ernstige identiteitskrisis vasgevang is en die kritiese vraag gaan wees of en hoe hy uiteindelik hieruit gaan uitbeweeg en 'n taamlike duidelike toekomstige rigting gaan inslaan.
'n Populêre en kontemporêre begripsomskrywing, analise en beoordeling van die huidige debat oor spiritualiteit in die NG Kerk het onlangs in die populêre tydskrif “Lig” verskyn. Omdat dit waardevol vir die diskussie is en baie eietydse aspekte na vore bring word dit kortliks hier saamgevat.
Te midde van die verskillende spiritualiteite wat wêreldwyd maar selfs ook binne die NG Kerk bestaan, is dit interessant dat die mistieke nou besig is om meer as ooit tevore op die voorgrond te tree. Dit word veral gesien in 'n groter behoefte by mense vir dinge soos stilte, afsondering en meditasie in hulle aanbidding.
As teken hiervan is daar 'n toenemende aantal stadsgemeentes ook in die NG Kerk wat deesdae, naas hul gewone eredienste, 'n meditasiediens vir hulle lidmate aanbied. Hierdie behoefte kring egter al wyer uit soos die lewenstempo van gelowiges toeneem, meer gejaagd raak en die behoefte daar is om net weer voor God tot rus te kom. Daarom word dit nie meer net in spesiale meditasiedienste aangebied nie, maar begin ons al meer van hierdie elemente van stilte en meditasie ook in gewone eredienste kry.
Nie almal aanvaar hierdie skuif na die mistieke egter ewe gelate nie. Sommige kritici bestempel die klem op die mistieke spiritualiteit as “’n wolf in skaapklere” en wys op die gevare en ooreenkomste met soortgelyke gebruike by Zen-Boeddhiste, Hindoes, Moslems en ander Oosterse gelowe.
Tog is die gelowe se “stiltes” nie dieselfde as by die Christendom nie. Die doel by Oosterse gelowe was altyd om die aanbidder se bewussyn van alle inhoud en kontak met die werklikheid te ledig, en hom in 'n beswyming te laat verval sodat hy een met sy godheid kan word. Daarteenoor fokus Christelike meditasie juis op God en sy Woord om so gelowiges se gedagtes te vul met 'n betrokke Skrifgedeelte, en uiteindelik ook die implikasie daarvan vir hulle lewe.
Dit sou onverstandig wees om hierdie toenemende behoefte aan 'n aanbidding waarin stilte en meditasie 'n groot rol speel ook in Suid-Afrika te ontken, of selfs teë te gaan. Die byna ongekende gewildheid van Oosterse gelowe in die Weste is 'n bewys van die groot behoefte daaraan. In lande soos Duitsland en Amerika groei Boeddhisme ongekend, veral onder die intellektueles.
Dit word ook beweer dat 'n mistieke spiritualiteit geneig is om na vore te kom in tye van onsekerheid en maatskaplike onstabiliteit, en ook wanneer mense nie meer gesagsfigure vertrou nie. Dan is mense geneig om meer aan God te dink uit die oogpunt van die misterie, die grootsheid en onverklaarbaarheid van God in plaas van sy meer bekende eienskappe.
Dit word egter deur sommiges gesien as 'n reaksie op die modernisme – 'n tydsgees waar veral die logika, die wetenskap en feite geseëvier het. Dit is ook 'n moontlike verklaring vir die ontstaan van die New Age-beweging. Waar mense voorheen in niks geglo het wat hulle nie met hulle sintuie of rede kon toets nie is hulle nou bereid om enigiets te glo (Greeff 2004: 36-37).
Ek wil vervolgens na twee onlangse baie waardevolle artikels van die Nuwe Testamentikus Gert Steyn verwys wat oor die NG Kerk en sy huidige identiteitskrisis handel. Hierdie artikels vat myns insiens die huidige situasie so goed saam dat hoofsaaklik net hierdie ontleding sonder vrees vir baie teëspraak hier aan die orde gestel word.(Steyn 2005 en 2006)
Soos die geval was met sy studie en selfs nog meer in my geval vanweë die nuutheid van tendense, word waarnemings deur my gemaak wat so objektief as moontlik weergegee word maar vanweë die eietydse interpretasie daarvan sekerlik ook subjektief van aard is. Die subjektiwiteit lê onder andere vas aan die subjektiwiteite van die waarnemer en die resente aard van patrone en ontwikkelinge. Ook soos by Steyn is dit egter gebou op jare van lojaal-kritiese blootstelling aan en ervaring van baie geledinge van die kerk dwarsdeur Suid-Afrika. Verder is dit ook gebou op insigte verkry vanuit 'n ryke verskeidenheid van studies, uitsprake asook resente beriggewing in die media. Dat dit soos by Steyn die gevaar loop om op enkele punte dalk voorlopige waarnemings te wees, is sekerlik moontlik.
Hierdie identiteitskrisis is grootliks in ooreenstemming met Steyn, teweeg gebring deur 'n hele aantal faktore: die politieke oorgang van 1994, die outonomie van gemeentes, die opkoms van die Nuwe Hervormingsbeweging, charismatiese invloede, die realiteit van die postmodernisme, regstellende aksie en blanke verarming, verstedeliking en veranderende gemeentelike geografie, oorweldigende maatskaplike behoeftes, en die homoseksualiteit- en kerkherenigingsdebatte. Nuwe faktore wat egter myns insiens naas die van Steyn bygevoeg behoort te word is die huidige worstelinge rondom teologiese opleiding, die ernstige worsteling in die geledere van die NG Kerk rondom basiese geloofskwessies soos die kruisiging en opstanding van Christus en die rol van die NG Kerk-leierskap om gemoedere te kalmeer en die debat op die wesenlike geloofskwessies te laat fokus. Hierdie kwessies kry veral in die afgelope aantal jare 'n neerslag in 'n haas onoorsienbare verskeidenheid van mediaberigte en media-korrespondensie beide in die kerklike media (Kerkbode) maar ook in die dagpers (Beeld, Volksblad, Burger en By).
In ooreenstemming met Steyn meen ek ook dat die bogenoemde faktore 'n besliste effek gehad het op verskillende terreine in die NG Kerk naamlik op Skrifbeskouing, op die belydenisskrifte en –karakter van die NG Kerk, op die Godsbegrip, op die liturgie en op die etiek.
Steyn verwys vervolgens na verskillende bewegings, tendense of mutasies waarmee die NG Kerk op hierdie stadium eksperimenteer.(Oosthuizen 2007: 7) Dis juis volgens Steyn hierdie verskillende mutasies wat dit vir die NG Kerk tans moontlik maak om te midde van sy verwardheid en identiteitskrisis te oorleef. Die eerste is die tradisionalistiese sirkel wat beteken ”ek beskerm my identiteit, daarom glo ek”. Die tweede beweging is die charismatiese sirkel wat in wese wil sê “ek ervaar, daarom glo ek”. 'n Derde sirkel is die rasionalistiese sirkel wat beteken” ek verstaan (nie), daarom glo ek (nie).” 'n Vierde beweging is die mistiese beweging wat wil sê: “ek beleef, daarom glo ek”. Dit kan ook as 'n neo-ortodokse beweging beskou word. Die vyfde beweging is die sogenaamde sinkretistiese een wat wil sê: “ek ontwerp self, daarom glo ek”. (Steyn 2006: 663-672)
Hy kom tot verskillende gevolgtrekkings oor hierdie aksente. Volgens hom is dit duidelik dat die NG Kerk beslis muteer in die bogenoemde duidelike waarneembare gestaltes. Hy meen dat nie al hierdie bewegings ewe groot is nie maar dit verteenwoordig volgens hom verskillende onderskeidende gestaltes van die NG Kerk se gereformeerde identiteit. Dit beteken ook nie dat al hierdie kenmerke op 'n gegewe plek en omstandighede funksioneer nie. Verder beteken dit ook volgens hom nie dat al hierdie kenmerke noodwendig negatief beskou behoort te word nie. Interessant is ook die volgende opmerking van Steyn: “As die kern waarvandaan
hierdie bewegings uitgroei gesien kan word as die tradisionele (onderskei van tradisionalistiese) gereformeerde kern van die NG Kerk, wat aanleiding gee tot 'n tradisionalistiese sirkel, dan sou die charismatiese beweging 'n tendens verteenwoordig wat teenoor en in reaksie teen 'n rasionalistiese beweging verder terug beweeg na 'n meer gevoelsmatige godsdiensbelewenis. Dieselfde geld ook vir die omgekeerde. Hoe meer die charismatiese beweging gevoelsmatig fokus, hoe meer rasionalisties ingestel raak die rasionalistiese beweging en beweeg in teenreaksie weer reaktief verder weg van die tradisionele kern van die NG Kerk.” (Steyn 2006: 662)
Volgens Steyn staan hierdie twee bewegings uiteindelik ook lynreg teenoor mekaar en volgens hom het dit ontwikkel uit die verintellektualisering in die na-reformatoriese ortodoksie van die 17e eeu en uit die veremosionalisering in die piëtisme van die 18e eeu. Steyn vervolg en sê dat 'n soortgelyke tendens ook plaasvind tussen die mistiese en die sinkretistiese denkrigtings. “By die mistiese tendens word groot klem gelê op die mistiese kommunikasie tussen God en die gelowige, veral op 'n individualistiese wyse en dikwels met verskraalde behoefte aan ander medegelowiges. Dis 'n beweging wat neig na asketisme en 'n eerlike soeke na die ware identiteit en wil van die Enige en Ware God. Hierteenoor staan die sinkretistiese beweging wat hulle eie god en godsdienssiening konstrueer, veral uit elemente van ander godsdienste soos byvoorbeeld die Boeddhisme. Daar is geen vaste waarheid nie en alles is uiteindelik deel van een groot tipe panteïsme. Dit verteenwoordig dus grotendeels 'n radikale reduksie vanweë die invloede van die modernisme en postmodernisme” (Steyn 2006:662).
Interessant is die opmerkinge van Steyn in terme van die reaksiepatrone rondom hierdie ingrypende veranderinge wat tans besig is om sigself in die NG Kerk af te speel. Ook NG lidmate volg hier “die gewone roetes van ‘veg, vlug of konformeer’. Daar word op nuwe maniere geveg met die Bybel in die hand – òf deur 'n nuwe fundamentalisme òf deur 'n nuwe hervorming. Daar word op nuwe maniere gevlug in die emotiewe skanse van charismatiese skuilvestings, of in die geestelike kloosters van 'n nuwe mistisisme, of terug in die veiligheid van die kerklike tradisie. Daar word ook gekonformeer deur 'n nuwe soort sinkretisme waarin alles aanvaarbaar is, toelaatbaar en vermengbaar is.”(Steyn 2005: 558)
Saam met Steyn is ook ek van oortuiging dat die NG Kerk aan die een kant wat die groeiende charismatiese aanslag in sy geledere aanbetref, besig is om al meer aansluiting te vind met verwante strominge in Amerika. Aan die ander kant lyk dit asof die NG Kerk besig is om wat die tradisionele aksente aanbetref meer aansluiting te soek in Europa. Wat die rasionalistiese invloede aanbetref is dit deels afkomstig van Europa en grotendeels vanuit Amerika met kantlyn-strominge soos die “Jesus Seminar” en verwante groeperinge. Wat die mistiese en sinkretistiese aksente aanbetref is dit grootliks vanuit die Ooste afkomstig.
Om uiteindelik verantwoord oor die NG Kerk as 'n kerk van die Reformasie en sy spiritualiteit na te dink lyk dit vir my essensieel om aan die een kant te besef dat so 'n kerk aspekte sal vertoon van die verskillende spiritualiteite wat hierbo bespreek is maar ook dat Skrif en belydenis steeds 'n sleutelrol daarin behoort te speel. Indien laasgenoemde nie meer die geval sou wees nie ontwikkel daar 'n ernstige probleem.
Dit wil egter voorkom asof die NG Kerk tans in 'n ernstige identiteitsworsteling met betrekking tot sy spesifieke spiritualiteite en die proses van akkommodering vasgevang is.(Kerkbode 2005: 1). Naas die bogenoemde standpunte van Steyn moet daar, weliswaar met groot huiwering, omdat dit hoofsaaklik op subjektiewe waarneming en aanvoeling berus, ook bygevoeg word dat die NG Kerk tans taamlik soekend is na sy werklike staanplek op pad na die tweede dekade van die 21e eeu. Soms wil dit byna voorkom asof hy so ruim met spiritualiteite en mutasies eksperimenteer dat hy nie regtig weet waarheen hy wil gaan nie. Oor al hierdie aspekte word onder andere uitgebreid gehandel in Annes Nel se “Op soek na God…buite die kerk”, Stephan Joubert en andere se “Die Perfekte Storm” asook Adrio König se “Die Evangelie is op die spel”.
Die groot uitdaging vir die NG Kerk in hierdie muterende proses gaan myns insiens wees om enersyds akkommoderend te wees maar aan die ander kant tog ook nie, ten spyte van die anti-dogmatistiese gees wat tans los is, sy eietydse gereformeerde kern en karakter (dws sy skrifgebondenheid en sy gebalanseerde waardering vir sy belydenis-grondslag) prys te gee nie.
Aan die ander kant is die NG Kerk ook besig om die risiko te loop om in sy strewe na akkommodering eweneens te ontspoor. Dit gebeur ironies genoeg omdat hy dit juis nie baie goed reg kry om akkommoderend te wees nie. Dit wil soms ook voorkom asof hy in die rigting beweeg van alles vir almal te probeer wees en uiteindelik niks vir niemand te word nie. Myns insiens gaan die antwoord grootliks daarin lê om die hoofstroomkarakter van die NG Kerk te honoreer terwyl daar ruimte en akkommodasie geskep sal word vir aksente wat middelpuntsoekend sal wees in plaas van middelpunt-vliegend. Indien laasgenoemde die oorhand sou kry kan dit moontlik in ons tyd die weg baan na bepaalde disintegrerende moontlikhede soos wat dit in die 19e eeu in die geskiedenis van die NG kerk en die GKSA gebeur het (Malan 2005:1). Ek is saam met Dalferth van oortuiging dat om 'n nuwe identiteit te bou, daar 'n kritiese beskouing behoort te wees van 'n historiese identiteit, sodat bepaal kan word wat behou moet word en wat nadelig is. Laat die kerk die geleentheid na om dit self te doen, skep dit die situasie waarin die kerk se identiteit vir hom deur ander kragte bepaal sal word (Dalferth 1996:129).
Ek wil vervolgens saam met Ben du Toit in sy belangrike boek “Sprakeloos oor God”, wat gerig is aan die adres van predikante, lidmate, dosente en studente in die teologie, toekomsgerig die belangrike vraag vra: Gaan die NG Kerk dit maak al dan nie? Gaan die NG Kerk dit regkry om in die na-1994 periode met die behoud en dalk ook met die herontdekking van sy unieke identiteit 'n boodskap van sekerheid en integriteit na die wêreld uit te stuur. Du Toit maak nogal baie van identiteit, iets waarmee ek baie sterk met hom eens kan wees. Hy sê tereg: “Daar is veiligheid, gerustheid en geloofwaardigheid in identiteit – selfs al stem nie almal altyd in alle opsigte daarmee saam nie” (Du Toit 2005: 215). Hy verwys byvoorbeeld na die oorlewing van die klassieke Christelike geloof en gebruik dan die Rooms Katolieke Kerk as voorbeeld. Volgens hom is hulle akkommoderend ten opsigte van baie sake maar oor die basiese van hulle tradisie is hulle standpunte beslis duidelik. Hy verwys onder andere ook na 'n patroon wat tans breër in die NG Kerk funksioneer naamlik die afwesigheid van 'n konstruktiewe sistematiese refleksie in terme van die dogma van die kerk, iets wat taamlik akuut by die ondersteuners van die Nuwe Hervormingsbeweging funksioneer.(Oosthuizen 2007:7) Sommiges van hulle is volgens Du Toit uitgesproke antidogmaties en diegene beskou die dogma dikwels as die verstarde denke van die tradisie wat die Bybelse waarheid gevange hou. “Die Bybel moet dan bevry word van die slawerny van die kerklike dogma. Dit is jammer. Wat mense dan nie besef nie, is dat die Bybelwetenskaplike ook nooit sonder 'n dogmaraamwerk is nie, al is dit ook 'n antidogma-benadering” (Du Toit 2005: 214).
Du Toit maak 'n paar besonder merkwaardige opmerkings wat myns insiens die huidige krisis van ons tyd en die krisis van die NG Kerk baie duidelik saamvat: “Ek meen dat die pendulum vanaf die een uiterste – van die kritiese benadering en 'n hermeneutiek van suspisie – besig is om terug te swaai na 'n punt waar voldoen moet word aan die behoefte aan die veiligheid van duidelike standpunte binne 'n aanduibare geloofsidentiteit”. Die feit dat daar oor ander (sekondêre) sake nie altyd finale antwoorde is nie ”beteken nie dat daar nie fundamentele waarhede is wat ons geloofsidentiteit kenmerk en waarin ons veilig voel nie”( Du Toit 2005: 214).
En dan vervolg Du Toit: “Ek meen dus dat ons nou in die geskiedenis van die NG Kerk by 'n punt gekom het waar ons duideliker as ooit tevore die fundamentele sake waarin ons glo duidelik behoort te stel. Daarom is 'n herwaardering van ons gereformeerde tradisie nodig binne die konteks van die postmoderne tyd. Die verlies aan en verwarring van ons gereformeerde identiteit is een van die belangrikste oorsake van lidmate se onsekerheid en gepaardgaande wantroue in die vermoë van die kerk om betroubare leiding te gee” (Du Toit 2005: 216).
Hiermee het Du Toit waarskynlik die spyker van die identiteitskrisis van die NG Kerk van ons tyd op die allerbeste moontlike manier op die kop geslaan. Dit is die punt waarby die NG Kerk na my insig en aanvoeling gaan staan of val. Aan die een kant dink 'n mens aan die (ver)wonderlike werk wat die NG Kerk, natuurlik deur die genade van Bo, oor meer as 350 jaar gedoen het ( en dit ten spyte van die feit dat hierdie werk soms deur die geskiedenis van hartseersake soos apartheid of die huidige worsteling verduister is). Aan die ander kant wil 'n mens eintlik ys om aan die verskillende huidige kragte te dink wat negatief in ons tyd op hierdie kerk sou kan inwerk.
6. TEN SLOTTE
Al wat nou oorbly is om te sê hoe dit alles ons veral in die NG Kerk raak vroeg in die postmoderne 21e eeu. Dit is duidelik dat die spiritualiteit van Calvyn en die Nadere Reformasie 'n besondere groot effek en neerslag op die NG Kerk in die 19e en 20e eeu in Suid-Afrika gehad het. Die debat oor hierdie neerslag is ook beslis nog nie afgehandel nie, maar die huidige poging het kortliks aangedui dat die invloede van Calvyn onder andere ook deur die filter van die Nadere Reformasie na Suid-Afrika deurgewerk het.
Wat die 21e eeu aanbetref moet dit bygevoeg word dat die huidige intense worsteling rondom die NG Kerk se identiteit 'n mens weer eens bewus maak hoe belangrik historiese kennis, aanvoeling en bewustheid ook oor die ontwikkeling van spiritualiteit in hierdie kerk in die verdere uitbalansering en voortsetting van die eietydse gesprek is. As die historiese bewussyn en aanvoeling van teoloë en predikante van ons dag dalk beter gefunksioneer het in hierdie worsteling, was bepaalde eensydighede miskien nie so aan die orde van die dag soos wat wel tans die geval is nie. Die feit egter dat die NG Kerk beslis 'n spesifieke spiritualiteit dwarsdeur sy geskiedenis gehandhaaf het, maak 'n mens bewus daarvan dat dit nie so eenvoudig is om van hierdie en ander wortels te ontkom nie. Tereg sê Ben du Toit dan ook: “Aan die een kant hoef ons, as die kerk, dus nie slagoffers te word van die postmoderne nihilisme waarin alles maar kan gaan en niks meer seker is nie. Aan die ander kant maak dit nie van ons moderniste wanneer ons vanuit bepaalde oortuigings leef nie.”(Du Toit 2005: 215)
Die hoop kan alleen maar uitgespreek word dat die wortels asook die fundamentele geloofsoortuigings waaraan ons behoort vas te hou, alles sal meehelp om die huidige onrustigheid in die NG Kerk te kalmeer en die rigting en identiteit vir hierdie kerk vir die toekoms te help aandui, 'n identiteit wat uiteindelik in die oorkoepelende liefde van God geleë is.
BIBLIOGRAFIE
Bosch, DJ 1984. The roots and fruits of Afrikaner civil religion, in Hofmeyr, JW & Vorster, WS, New Faces of Africa, Pretoria: Unisa, 14-35
Brienen, T ea 1989. De Nadere Reformatie en het Gereformeerd Piëtisme. ‘s-Gravenhage: Boekencentrum
Cottret, B 2000. Calvin: a biography. Grand Rapids: W Eerdmans.
Dalferth, IU 1996. Time for God’s presence, in Volf, M., Krieg, C & Kucharz, T(eds) The Future of Theology. Grand Rapids: W Eerdmans, 127-141
Durand, JF 1985. Afrikaner piety and dissent, in Villa-Vicencio, C & De Gruchy, JW(Eds), Resistance and hope: Essays in honour of Beyers Naude, Cape Town: D Philip, 39-51
Du Toit, B 2005. Sprakeloos oor God: hoe ek bly glo in 'n vreemde wêreld. Wellington: Lux Verbi
Fourie, CK 1997. Aspekte van Gereformeerde Spiritualiteit in die NG Kerk(1850-1950): 'n Kerkhistoriese studie. Universiteit van Pretoria: Ongepubliseerde Ph D-verhandeling
Graafland, C 1987. Van Calvijn tot Barth. ‘s-Gravenhage: Boekencentrum
Greeff, M 2004. God praat in stilte. Lig, 69/2, Feb 2004, 36-37
Hofmeyr, JW 1989. Die Nederlandse Nadere Reformasie en sy invloed op twee kontinente. Pretoria: Unisa
Jonker, WD 1989. Die eie aard van die gereformeerde spiritualiteit. NGTT, 30/2, 288-299
Jonker WD 1990. Verdeeldheid onder broers, in Du Toit, H & Kruger, P Geroep tot eenheid. Pretoria: NG Kerkboekhandel
Joubert, S (Red) 2007. Die Perfekte Storm. Vereeniging: CUM
Kerkbode 2005. Beswaardes is verontrus oor NG Kerk se identiteit. Kerkbode, 11 Maart 2005, p1
König, A 1998. Vernuwe of verdwyn. Kaapstad: Lux Verbi
König, A 2009. Die Evangelie is op die spel. Wellington: Lux Verbi
Malan, M 2005. NG Kerk kan skeur. Rapport, 15 Mei 2005, p1
Nel, A 2003. Op soek na God…buite die kerk. Wellington: Lux Verbi
Nicol, W 2000. Godsdiens wat werk. Wellington: Lux Verbi
Oosthuizen, J 2007. NG Kerk gons oor teologiese strominge. Kerkbode, 10 Aug, p 7
Op ‘t Hof, WJ 2005. Het Gereformeerd Piëtisme. Houten: Den Hertog
Schrotenboer, PG 1987. Book Review of “De Nadere Reformatie”(W van’t Spijker ea). Calvin Theological Journal, 22/2, 353-355
Smit, DJ 1988. Wat is gereformeerde spiritualiteit? NGTT, 29/2, 182-193
Smit, DJ 1989. Kan spiritualiteit beskryf word? NGTT, 30/1, 83-94
Steyn, GJ 2005. Die NG Kerk se identiteitskrisis: Aanloop, terreine van beïnvloeding en reaksies(Deel 1). NGTT, 46/3-4, 550-559
Steyn, GJ 2006. Die NG Kerk se identiteitskrisis: Huidige bewegings, tendense of mutasies(Deel 2). NGTT, 47/3-4, 661-676
Van der Linde, S 1954. De betekenis van de Nadere Reformatie voor Kerk en Theologie. Kerk en Theologie, 5/1, 215-225
Van der Watt, JG 2000. Die Christen, die Bybel en die toekoms. Vereeniging: CUM
Venter, R 1996. Gereformeerde spiritualiteit onderweg. Sinode NG Kerk Midde-Afrika. 15 September 1996.
Venter, R 2009. Pinkster-riglyne, NG Kerk Vrystaat, Mei 2009
TREFWOORDE
Calvyn, Nadere Reformasie, Spiritualiteit, NG Kerk, Identiteitskrisis
KEY WORDS
Calvin, Second Reformation, Spirituality, NG Church, Identity Crisis
KONTAK BESONDERHEDE