Potgieter, PC
Universiteit van die Vrystaat

Ekonomiese riglyne by Calvyn

ABSTRACT

Economic guidelines in Calvin

A number of factors in sixteenth century Geneva caused John Calvin to apply his mind to economic matters. He stated clearly that there is a moral side to economy and trade and developed clear guidelines in this regard, dealing with issues such as affluence and poverty, social justice, trade and labour relations, the right of ownership, credit and interest on loans. He did not hesitate to condemn malpractices such as extravagance, usury, fraud and corruption. This article explores to what extent Calvin’s thought on economic matters may still be relevant for present-day issues. By sound exegesis of relevant Scripture passages he came to conclusions that was new to philosophical and theological thought of his day. He has left a rich heritage of economic guidelines that may even today be applied as a solution to vexing problems of current society.

1. INLEIDEND

Dit is merkwaardig hoe Calvyn se teologiese insigte indertyd rigtinggewende en praktiese betekenis vir 'n wye verskeidenheid van lewensterreine gehad het. Sy empatie met sy medemens het meegebring dat hy in sy preke, traktate en korrespondensie, maar ook in sy kommentare op die Heilige Skrif, dikwels riglyne gebied het vir allerlei kwessies van sosiale en ekonomiese belang. Daarom is Singer korrek as hy sê dat Calvyn op 'n besondere wyse sy merk gelaat het op die maatskaplike en ekonomiese lewe van Genève maar ook op gereformeerde kerke wêreldwyd (Singer1992:227).

Sy insigte was inderdaad rigtinggewend vir volgende geslagte – en weereens nie net vir die teologie as wetenskap en vir die Christelike geloofslewe nie. In 'n artikel van die Nederlandse Eerste Minister, Jan Peter Balkenende, wat onlangs met die 500ste herdenking van Calvyn se geboortejaar in Trouw gepubliseer is, wys hy op die geweldige invloed wat die hervormer van Genève op talle Europese lewensterreine gehad het. Dit geld nie net die kultuurterrein en die internasionale gerigtheid nie, maar bepaald ook die markekonomie. Dit het selfs aktuele betekenis vir die huidige (2008/2009) wêreldwye kredietkrisis. Die korttermynbelang van die individu is in die Calvinistiese tradisie altyd ondergeskik aan die langtermynbelang van die samelewing.

Van dit morele uitgangspunt is het maar een kleine stap naar de huidige financiële en economische crisis. In de kern is dat immers ook een morele crisis, die is veroorzaakt door hebzucht, gelddenken en egoïstisch handelen, gericht op de korte termijn, door mensen en financiële instellingen die in hun streven naar alsmaar méér onverantwoord grote risico’s namen (Balkenende 2009).

In die vyftiende eeu het daar diepgaande en belangrike veranderinge op sosio-ekonomiese terrein in Europa plaasgevind. Reid wys byvoorbeeld op die humanisme van die Renaissance wat dit benadruk het dat die individu soveel wêreldse besittings as moontlik moet verwerf om ten volle te ontwikkel en vreugde te vind.

An even stronger stimulus was the rise of national governments which were now operating on a cash rather than a feudal-service basis (Reid 1984a:76).

Teen die helfte van die sestiende eeu het duisende vlugtelinge – soos Calvyn self ook – na Genève gestroom. Die gevolg was dat die beskikbare fasiliteite van behuising en werksgeleenthede onder geweldige druk geplaas is. Dit het uit die aard van die saak spanning meegebring met die bestaande burgers van die stad (Douglas 1992:77).1 Dit is ook duidelik dat Protestantse vlugtelinge wat 'n toevlug gesoek het in Genève, klaarblyklik 'n beduidende invloed op ekonomiese aktiwiteite in die stad gehad het. Calvyn was dus eintlik genoodsaak om duidelike standpunte oor hierdie kwessie in te neem. Hy het dit dan ook herhaaldelik in sy preke aangeraak – veral in die oor Deuteronomium.

2. PRAKTYKGERIG

Calvyn was allermins ’n blote boekgeleerde. Hy het goed kennis geneem van die lewe rondom hom en het dit as 'n roeping beskou om mense voor te lig oor hoe hulle geloof praktiese konsekwensies vir hulle hele leefwêreld en optrede het. In sy geskrifte is daar byvoorbeeld aanwysings en bepalings vir ’n brandweerafdeling in Genève, vir nagtelike patrollies, vir die skoonmaak van die stad se strate, en ook vir ’n behoorlike markekonomie (Singer 1992:236). Dit het selfs nog verder gestrek. So wys Praamsma daarop dat Calvyn ’n oop oog gehad het vir die vraagstuk van werkloosheid en “in het algemeen voor de economische problemen van zijn plaats en tijd en dat hij naar een oplossing daarvoor heeft gestreefd”. Hy het byvoorbeeld op 29 Desember 1544 'n voorstel in die Raad van Genève gemaak om weë te soek waarlangs werkloses aan werk gehelp kon word. Hy was ook lid van 'n kommissie van die Raad wat moes oorweeg of 'n linnewewery of ander tekstielnywerheid in Genève gevestig kon word (Praamsma s.a.:133).

Juis omdat hy so deeglik bewus was van sosio-ekonomiese omstandighede, blyk sy praktiese sin vir die werklikheid rondom hom veral uit sy kommentaar op die vyftiende Psalm, wat inderdaad 'n locus classicus geword het vir die bespreking van allerlei onregmatige ekonomiese praktyke waardeur mense uitgebuit is. Sonder aarseling het hy enige ekonomiese transaksie waarin billikheid na beide kante nie geëerbiedig is nie (ubi mutua aequitas non colitur, CO 31,147), aan die kaak gestel (Bouwsma 1988:202). Alhoewel hy dus nooit 'n spesifieke traktaat oor ekonomiese aangeleenthede gepubliseer het nie, kom die saak self telkens weer in sy geskrifte prinsipieel aan die orde.

In sy proefskrif oor Calvyn en die ekonomie kom Diepenhorst tot die slotsom dat hy “met genialen blik het wezen van onderscheidene economische verschijnselen doorzag” sodat sy lewensbeskouing van besondere waarde vir die ekonomie – ook van later tye – was (Diepenhorst 1904:334).

3. DIE HEILIGE SKRIF AS NORM

Dit is opvallend hoe Calvyn altyd erkenning gee aan die soewereiniteit van God in alles wat die mensdom raak: daarom is dit ook die geval as hy oor sosio-ekonomiese kwessies handel in sy kommentare en preke (vgl. Singer 1992:228). Alhoewel Calvyn primêr 'n Skrifgefundeerde teologie ontwikkel het, het sy nadenke veel wyer gegaan:

Tegelijkertijd heeft het in zijn maatschappelijke consequenties grote betekenis gehad, vooral voor de ontwikkeling van de democratie en de moderne markteconomie (Balkenende 2009).

Vir Calvyn was daar net een deurslaggewende norm – sola Scriptura. Dit is juis in die Woord van God waar hy die beginsels gevind het vir die praktyk van alle lewensterreine. Daarom kon hy ’n profetiese getuienis lewer deur die geopenbaarde kennis van God oor watter vraagstuk ook al by die hoorders en lesers tuis te bring. Gelowiges moes weet hoe hulle geloof ook die gang van hulle daaglikse lewe bepaal. Dit was nie menslike ervaring of die wil van die meerderheid wat beginsels moes bepaal nie, maar slegs die geopenbaarde wil van God. Calvyn wou steeds die gangbare ekonomiese praktyke van sy dag toets aan wat die Bybel leer (vgl. Douglas 1992:78).

4. ONGELYKHEID IN DIE SAMELEWING

Calvyn erken dat daar binne die voorsienigheid van God ruimte is vir ongelykheid in mense se aardse besittings en vermoëns. Die wat ryker is, moet egter hulle verantwoordelikheid teenoor die minder bevoorregte nakom. Daarom sê hy in sy kommentaar op 2 Korintiërs dat dit nie onwettig (nihilo nitidius fas, CO 50,102) is vir die rykes om in groter swier as die armes te leef nie, maar terselfdertyd moet toegesien word dat niemand broodsgebrek ly nie, en dat niemand sy oorvloed so moet opberg dat ander te kort gedoen word nie (sed eatenus servanda aequalitas, ut nemo esuriat, nemo abundantiam suam supprimat, alios fraudando). Al is dit so dat die arm man min het en growwe brood eet terwyl die ryke meer as genoeg het, moet almal matig lewe (nobis commendata est frugalitas et temperantia) (CO 50,102; Comm 2 Kor 8:15). In sy kommentaar op Genesis 26 waarsku hy teen 'n te groot begeerte na rykdom. As die rykes allerlei bekommernisse het, moet hulle weet dat dit die Here is wat hulle daaraan herinner dat hulle nie aan die slaap moet raak vanweë hulle genietinge nie. Die armes het egter weer die troos dat hulle armoede nie sonder voordele is nie (pauperes hoc solatio fruantur, quod inopia suis etiam commodis non caret). 'n Mens moet dit nie ligtelik opneem as jy vry van afguns, rumoer en twis kan leef nie (CO 23,362; Comm Gen 26:14).

Dit is ook nie nodig dat almal in luuksheid moet leef nie: handearbeiders stel tog net soveel prys op hulle vark- en beesvleis, hulle kaas en dikmelk, hulle uie en kool, as die meeste rykes op hulle weelderige spyse (Comm. Num 11:5)2. Dit laat Bouwsma opmerk dat

some of these sentiments may suggest a closer acquaintance with books, especially of Stoic provenance, than with the realities of lower-class life (Bouwsma 1988:196).

In sy kommentaar op 2 Kor 8:13 en 143 en met verwysing na Kolossense 4:14 sê Calvyn dat dit klaarblyklik nie die bedoeling is dat almal gelyk moet wees nie, maar wel dat werkgewers aan hulle werknemers menslikheid, genade en vriendelike behandeling verskuldig is. In die mate dat iemand se vermoëns dit toelaat, moet hy hulp aan die behoeftige verleen. Wanneer liefdadigheid betoon word, moet voorsien word in dit wat op daardie tydstip noodsaaklik is (praesenti necessitati consulendum, CO 50,101). Douglas som Calvyn se siening hieroor netjies op:

There will be richer and poorer people, for example. But great inequalities in the social sphere, between men an women, between rich and poor, are legacies of the Fall and the deformation of God’s creation by sin; they are a sign of God’s wrath and punishment for sin (Douglas1992:75, vgl CO 49,474v; CO 49,718vv).

Calvyn spreek hom in die derde boek van sy Institusie baie duidelik uit oor die gebruik en misbruik van God se fisiese gawes aan die mens. Rykdom kan 'n gawe van die Here wees, maar uitspattigheid onder die dekmantel van Christelike vryheid staan veroordeel.

As ons dan nadink oor wat sy doel was toe hy voedsel geskep het, sal ons vind dat hy nie alleen ons behoefte nie, maar ook ons genot en vrolikheid in ag geneem het (oblectamento quoque ac hilaritati, CO 2,529). So was sy doel in die geval van ons klere benewens noodsaaklikheid ook versiering en eerbaarheid (Inst 3,10,2).

Nêrens word ons verbied om te lag of versadig te wees of nuwe besittings by die ou besittings van ons voorvaders te voeg of om wyn te drink nie. … Maar waar daar 'n oorvloed is waarin jy jou aan plesier kan oorgee en waarin jy kan verswelg, waarin jy jou verstand met die genietinge van hierdie wêreld beskonke kan maak en altyd na nuwes hyg – sulke dinge is ver van die regmatige gebruik van die gawes van God (haec a legitimo donorum Dei usu longissime absunt, CO 2,618; Inst. 3.19.9).

5. NAASTELIEFDE

Calvyn se lesers moes weet dat die hoogste norm vir eerbare optrede altyd gegrond is in die liefde van Jesus Christus (vgl Bieler 1961:467).5 Die oplossing vir die mens se sondeprobleem is nie geleë in 'n nuwe oriëntasie of beter opvoeding of 'n nuwe omgewing of selfs 'n nuwe doel met die lewe nie, maar in ’n nuwe geboorte – totale lewensvernuwing. In sy studie oor maatskaplike orde by Calvyn, stel Singer die konsekwensie van die hervormer se benadering: “Only a reconciled society can attain any degree of harmony within itself and among its members on earth” (1992:229).

Calvyn het die saamhorigheid van die mensdom sterk benadruk. Die wat in nood is, behoort gehelp te word deur die wat daartoe in staat is (Douglas 1992:76; vgl CO 50,100). Die regte benadering is dat elkeen sy naaste as sy broer erken (et qu'un chacun cognoisse son prochain comme son frere, CO 27,321). Waar Calvyn daarop wys dat liefde tot die naaste alle mense insluit omdat hulle na die beeld van God gemaak is, sê hy dat jy geen rede het om te weier om iemand, wie hy ook al is (quisquis hominum), te help wanneer hy op jou pad kom en jou hulp nodig het nie (CO 2,510; Inst 3,7,6).

Wat die digter van Psalm 112 bedoel as hy sê dat die mens wat die Here dien, mildelik gee aan die armes, is dat hy nooit te suinig is om wat hy het, na sy vermoë met ander te deel nie. Hulpbetoon aan die wat noodlydend is, was vir Calvyn 'n prioriteit wat onder sekere omstandighede swaarder moet weeg as blote ekonomiese oorwegings en eiebelang (CO 32,174; vgl. Kommentaar Jes. 39:86 en Inst. 4.13.6 – CO 2,937).

Dit het egter nie vir Calvyn gegaan om 'n onverantwoordelike uitdeel aan die behoeftiges nie: dit moes met gesonde oorleg gebeur. Die regverdige gee nie maar lukraak nie. Hy help die behoeftige versigtig en oordeelkundig (prudentiam et delectum, CO 32,176; Comm. Ps. 109:12). Ook in sy kommentaar op 2 Korintiërs 8:13 sê hy dat ons berekend moet gee: blymoedig, maar ook net soos ons vermoëns toelaat (quantum ferunt nostrae copiae, CO 50,101).

Ook Bouwsma vind 'n besonder gebalanseerde uitkyk by Calvyn ten opsigte van hulpverlening (1988:193). Wanneer ons aan iemand gee, moet daar rekening gehou word met menslike onbetroubaarheid. Ons mag inderdaad op ons hoede wees waar ons te doen het met mense wat aan ons onbekend is (Komm Gen 12:12). Dit sou, trouens, onnosel wees om nie ag te slaan nie op sekere tekens wat jou noop tot oordeelkundigheid (notae discretionis, CO 50,129; Comm. 2 Kor 11:14). Calvyn was – aldus Bouwsma – “particularly opposed to plundering the rich in order to deal humanely with the poor” (Bouwsma 1088:197). Dieselfde sentiment kom ook na vore in sy kommentaar op Psalm 31:19: iemand wat verstandig oordeel sal sy vrygewigheid so bestuur dat hy nie sy kinders of gesin laat gebrek ly, of homself verarm deur sy besittings op 'n spandabelrige wyse aan ander uit te deel nie (nec prodige largiendo exhauriat domum suam, CO 31,310).

6. VERANTWOORDELIKHEID

’n Kernpunt van Calvyn se denke is die persoonlike verantwoordelikheid wat die mens het ten opsigte van sy keuses en gedrag voor God (coram Deo)7. Met waardering vir Calvyn sê Balkenende (2009)

de basis voor een krachtige democratie ligt in verantwoordelijke, zelfstandige en geëmancipeerde burgers die maatschappelijke verantwoordelijkheid kunnen en willen dragen.

Calvyn het 'n sterk standpunt gehad oor die mens se verpligting om vlytig te werk. In sy kommentaar op Genesis 2:15 sê hy dat die aarde aan die mens gegee is met die uitdruklike voorwaarde dat hy homself sal besig hou met die bewerking daarvan (ut se in ea colenda occuparet, CO 23,44). Daaruit volg dus dat die mens geskep is om met werk besig te wees en nie te gaan lê in passiwiteit en ledigheid nie. Niks is dus in groter stryd met die natuur, as 'n lewe wat opgaan in eet, drink en slaap, terwyl jy nie aandag gee aan wat jy eintlik moet doen nie (Comm Gen 2:15). In sy preek oor Deuteronomium 5:8-10 stel hy dit onomwonde: werk is waarvoor ons gebore is (que nous sommes nais à, CO 26,296) – God wil nie hê dat ons moet leeglê terwyl ons in sy wêreld leef nie, want hy het ons hande en voete gegee vir arbeidsaamheid (il leur a donné industrie; CO 26,296; vgl. Bouwsma 1988:199).

God wil ons ook nie sien as stokke en blokke, of dat ons ledig met die arms gevou sit nie; ons moet die talente en voorregte wat Hy ons gegee het, gebruik. Dit is wel so dat die grootste deel van ons arbeid die gevolg is van die vloek van God oor die sonde; maar selfs as ons nog in die oorspronklike staat van regtheid was (si tamen maneret primi status integritas), sou God ons steeds besig wou sien – soos Adam wat in die tuin van Eden geplaas is om dit te bewerk (excoleret, CO 32,321; Comm. Ps 127:1).

Die mens het van die begin af 'n verantwoordelikheid vir die aarde en die versorging daarvan gehad. So is dit, sê Calvyn, aan Adam opgedra omdat die Bybel daarmee wil aantoon dat ons iets besit wat deur God in ons hande gestel is op voorwaarde dat ons daarvoor sal sorg deur tevrede te wees met 'n spaarsamige en matige gebruik daarvan. Hy het vir seker ook 'n gevoel vir die ekologie gehad:

Laat hom wat grond besit, elke jaar die vrug daarvan so gebruik dat hy die aarde nie beskadig deur nalatigheid nie; laat hy poog om dit aan die volgende geslagte oor te gee soos hy dit ontvang het, of selfs bewerk tot 'n beter toestand (ne patiatur fundum per incuriam decidere, sed posteris qualem accepit, vel etiam melius excultum, tradere studeat). Hy moet die opbrengs so gebruik, dat hy dit nie met 'n weelderige leefwyse verkwis, of toelaat dat dit deur nalatigheid beskadig word nie. Wat meer is: laat die ekonomie en vlyt by ons opbloei by die goeie dinge wat God ons gegee het om te geniet (cogitet quisque se in omnibus quae possidet esse Dei oeconomum). Elkeen moet homself beskou as rentmeester van God oor alles wat hy besit. Dan sal hy homself ook nie losbandig gedra of die dinge wat God wil bewaar, deur misbruik bederf nie (abusu corrumpat quae Deus vult servari, CO 23,44; Comm. Gen 2:15).

Omdat die individu se oordeel en lewensbeskouing deel van 'n gebroke werklikheid is, was dit vir Calvyn 'n uitgemaakte saak dat die staat daarvoor verantwoordelik was om gehoorsaamheid aan sowel die laaste ses as die eerste vier van die Tien Gebooie af te dwing. Die gebooie geld gelowiges en ongelowiges en dien die welwese van die samelewing as geheel (Singer 1992:231). Brouwer wys daarop dat billikheid (aequitas) 'n sentrale kriterium was by die daarstel van wette wat in die Genève van Calvyn die nuwe kapitalistiese ekonomie moes reguleer (Brouwer 2009:7).

Waar Calvyn die voorsienigheid van God aan die orde stel, sê hy met verwysing na Spreuke 16:98:

Daarmee gee hy te kenne dat ons hoegenaamd nie deur die ewige besluite van God aan bande gelê word om onder sy wil vir onsself voorsiening te maak en al ons sake te behartig nie (omnia nostra dispensemus) … Want God, wat ons lewe met grense beperk het, het terselfdertyd ook die versorging van die lewe aan ons toevertrou (CO 2,157; Inst 1,17,4).

Die mens mag egter in die nakom van sy verantwoordelikheid nog steeds vreugde in die lewe vind. In sy proefskrif oor Calvyn en die ekonomie toon Diepenhorst oortuigend aan dat die hervormer nie 'n lewe in weelde veroordeel nie, maar dit selfs uitdruklik verdedig (1904:222).

Vermaken, genoegens, genietingen van weelde zijn volkomen goed te keuren, indien zij maar niet in buitensporigheden ontaarden; en de menschen niet afleiden (Diepenhorst 1904:225).

7. ARBEIDSVERHOUDINGE

Calvyn laat hom telkens uit oor arbeidsverhoudinge. Hy toon op verskillende plekke in sy geskrifte 'n gesindheid van besondere ontferming teenoor die minderbevoorregte. So byvoorbeeld in sy kommentaar op Jeremia 22:13: Niks kan wreder wees as om die loon op die arme se arbeid van hom te ontneem nie, want dit is die onderhoud waarvan hy dag na dag afhanklik is (CO 38,383).9 Die ryk man wat 'n arme in afwagting hou nadat hy van sy sweet (inspanning) misbruik gemaak het (cuius sudore abusus est), ontneem hom eintlik van die lewe deurdat hy hom ontneem van sy daaglikse brood. Menslikheid beteken dat niemand onderdruk moet word of skade moet ly omdat sy loon van hom weerhou word nie (Comm. Lev 19:11,13; CO 24,670v).

Hy vind onder meer die duidelike beginsel van billikheid in wat die Skrif leer deur die geskiedenis van Laban. By die meeste mense is daar minstens 'n gevoel dat wedersydse geregtigheid gekweek moet word; dit is net blinde hebsug wat mense in 'n ander rigting laat neig. Hier het Calvyn inderdaad God se algemene genade in gedagte as hy sê dat Hy 'n wet van billikheid (aequitatis iudicium, CO 23,401) ingegraveer het in die mens se natuur. Daarom is daar hoegenaamd geen verskoning as iemand deur 'n ongebreidelde begeerte na persoonlike voordeel daarvan afwyk nie. Anders as Laban moet ons leer om onsself in toom te hou, sodat 'n begeerte na eie gewin nie die oorhand kry oor offervaardige geregtigheid nie. Daarom, sê Calvyn, is die spreekwoord reg wat wil hê dat dit niemand pas om regter in sy eie saak te wees nie (neminem in sua causa idoneum esse iudicem): juis dan vergeet iemand al te gou wat reg is (CO 23,402; vgl Gen 29:14).

Dit is nie net die wat heimlik van ander steel, wat diewe is nie, maar ook die wat hulleself verryk ten koste van ander (qui ex aliorum damno lucrum captant), wat vir hulleself deur onwettige slenters (illicitis artibus) rykdom verwerf en wat meer verknog is aan eie voordeel as aan billikheid (Comm Eks. 20:15; CO 24,669).

8. ORDE EN REG

Oor privaatbesit en eiendomsreg was daar nie bedenkinge by Calvyn nie. Hy stel dit onomwonde dat elkeen reg het op dit wat aan hom behoort, maar ook dat die wat oorvloed het, bereid moet wees om hulle hand oop te maak vir die behoeftiges. Die armes moet egter geduldig wees; hulle het nie die reg om die rykes te beroof nie.10 God het die goedere van hierdie wêreld verdeel soos Hy dit goedgevind het, en selfs die rykstes van alle mense – hoe sleg hulle ook al is – mag nie van hulle besittings beroof word deur diegene wat in nood is nie (CO 23,199v). Die behoud van 'n ordelike samelewing maak dit noodsaaklik dat elkeen moet besit wat aan hom behoort (ut quisque quod suum est possideat, CO 24:171). Schulze interpreteer Calvyn dus korrek as hy stel dat hy privaatbesit sien as die vrug van Goddelike voorsienigheid en noodsaaklik vir 'n ordelike samelewing (Schulze 1992:223). Eiendom kan bekom word deur aankoop of deur erflating, en elkeen het die reg om sy besittings te vermeerder deur vlytigheid en op ander eerbare wyse (vgl CO 26:62611). Goeie regering van owerheidsweë beteken dat elkeen die voorreg moet hê om te geniet wat aan hom behoort (Denique politicus ordo flagitat, a quoque teneri quod suum est, CO 24,171; Comm Eks 16:17).

Vir Calvyn was die individu – gelowig of ongelowig – vir sy hele optrede altyd onderhewig aan die beperkings wat die wet van God hom oplê. Daarom het daar ook ’n verantwoordelikheid op die rykes gerus om die Goddelike norme, soos in die Heilige Skrif uiteengesit, te gehoorsaam in die verwerwing en gebruik van hulle rykdom. “The law of God ... placed restrictions on the individual’s economic activity (Reid 1984b:11).

Prakties soos hy was, wou Calvyn sien dat elkeen se grond duidelik beveilig moet wees deur landmerke wat die verdeling van grond aandui (terminos finiendis agris positos). Niemand mag op 'n slinkse en heimlike wyse sulke landmerke verskuif nie: dit sal die misdryf dubbel so ernstig maak, omdat hy sy diefstal ook nog verberg. Weereens: diewe is nie net diegene wat iemand anders se besittings wegdra, wat geld uit sy kas neem, of wat uit sy kelders en graanskure steel nie, maar ook die wat onregmatig sy grond okkupeer (sed etiam qui fundos alienos iniuste occupant, CO 24, 676; Comm. Deut 19:14). Hier sê Calvyn iets wat grondbesetters van vyf eeue later gerus ter harte kan neem.

Korrupsie was klaarblyklik net so eie aan die sestiende eeu as wat dit tans is. Calvyn bespreek dit pertinent in sy kommentaar op Psalm 15:5.12 Alhoewel dit hier duidelik gaan oor regters wat met geskenke en belonings omgekoop word, is dit net so van toepassing op enige persoon wat met omkoopgeskenke gekorrumpeer word (lucro corrumpi, CO 31,148) om diegene met slegte sake te begunstig en te verdedig. Dit gaan dus in hierdie psalm oor alle korrupsie waardeur die waarheid en geregtigheid in gedrang kom (Comm. Ps 15:5).

Daar kan met reg gevra word of Calvyn aandag gegee het aan die kwessie van menseregte. Alhoewel hy dit nie by name en as sodanig bespreek nie, is daar oorvloedige getuienis in sy werke dat hy talle aspekte daarvan telkens prinsipieel aan die orde gestel het. Die moderne denke daaroor het egter eers teen die laat sewentiende eeu gangbaar geword, onder meer in die werke van John Locke (Singer 1992:237).

9. KAPITALISME

Die vraag na Calvyn se rol in die ontwikkeling van 'n kapitalistiese samelewing in Europa, het meermale aan die orde gekom. So verwys Max Weber in sy Protestantische Ethik und der Geist des Kapitalismus na “der Entwicklung des kapitalistischen Geistes von den Schöpfungen Calvins” (Weber 1934:81). Eberle (2009) stel dit duidelik: “Max Weber habe in Calvin einen Wegbereiter des Kapitalismus gesehen.” Vir sy aanname is Weber egter tereg gekritiseer deur Calvynkenners. Neuser meen dat dit 'n ernstige misvatting is om die oorsprong van kapitalisme – soos Weber wou doen – terug te voer op Calvyn (Neuser 1999:331). Dit is ook duidelik dat Weber nie 'n diepgaande studie van Calvyn se werke gemaak het nie, maar hom eerder verlaat het op die siening van latere Calviniste, wat Calvyn waarskynlik nie reg verstaan het nie (Reid 1984a:74v; vgl Reid 1992:19vv).13

Oor die kwessie van gemeenskaplike besit laat Calvyn hom breedvoerig uit in sy kommentaar op Handelinge 2:44 (“Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel”). Hy het veral sterk gereageer op die siening van die Anabaptiste wat van mening was dat daar geen Kerk bestaan as elkeen se besittings nie aan almal saam behoort nie. Dit was egter klaarblyklik Lukas se bedoeling dat gemeenskaplike besit en deelname beperk moet wees tot die heersende omstandighede (ad circumstantiam, quae mox additur, CO 48,60). Daar moes dus in die omstandighede wat geheers het voorsiening gemaak word vir die nood van die behoeftiges. Elkeen het beheer behou oor sy eie huis en huishouding. In hoofstuk 4 word daar, trouens, net van 2 mense tussen al die duisende gewag gemaak wat hulle besittings verkoop het (CO 48,59v). Daar14 skryf Lukas nie 'n wet voor wat deur almal gevolg moet word, asof diegene wat nie hulle besittings verkoop nie, ook nie as Christene gereken is nie (CO 48,96v).

Calvyn het besef dat ’n vorm van kapitalisme in sy tyd besig was om te ontwikkel in Europa. Hy het dit nie sonder meer veroordeel nie, maar hy wou dit beperk en aan bande lê binne die perke van die Goddelike eis van liefde, geregtigheid en billikheid (Reid 1984b:12).

Instead of being the originator of a heartless capitalistic, and exploitive system he was much more inclined to insist that the capitalism of his day should be strictly regulated that it might not be permitted inequitable and unjust practices in the name of freedom (Reid 1984a:80).

10. HANDEL – PROFYT

Dit is duidelik dat Calvyn nie negatief gedink het oor handel as sodanig nie. Al sy geskrifte adem 'n gees wat duidelik aantoon hoe hoog hy die handel aangeskryf het “en hoe dit bedrijf door hem op ééne lijn werd gesteld met den landbouw en andere beroepen” (Diepenhorst 1904:201). Venter vat sy siening daaroor goed saam. Hy meen dat Calvyn daarvan uitgaan dat handel 'n noodsaaklike aktiwiteit is waardeur diens gelewer word aan die samelewing. Hy was egter ook deeglik bewus daarvan dat daar skadelike newe-effekte (vitium accidentale) uit handelspraktyke ontwikkel het. Daaroor het hy sterk krities gestaan.

This emerges from his strong dislike of pride, an obsession for wealth and other malpractices in his discussion of the trading cities Tyre and Sidon (Isaiah 23) and of Babel (Isaiah 47), while the commerce that went on and the profit and prosperity which came about as a result of it are nowhere condemned (Venter 1986:294).

Graafland wys daarop dat Calvyn sekere gevare in die handelswêreld goed ingesien het. In ’n vrye mark waar eiebelang vrye spel het, kry destabiliserende en korrumperende kragte te veel ruimte. Daarop was Calvyn goed bedag (Graafland 2008).

Die waarde en selfs noodsaaklikheid van besigheidsooreenkomste of kontrakte is deur Calvyn ingesien (vgl Comm. Gen 29:14; 47:20). Kontrakte wat nie volgens die reël van welwillendheid (ad caritatis regulam, CO 23,573) opgestel is nie, is boos in die oë van God; daarom moet ons volgens die billikheidsbeginsel wat ons lei deur 'n verborge instink van die natuur (arcano naturae sensu, CO 23,573) teenoor ander optree soos ons begeer dat daar met ons gehandel word.

Daarom moes reëlings wat behoorlik vorm gee aan handelstransaksies na sy mening nie twyfel laat by die verskillende partye nie. Wat hy graag wou sien, was “precise and dependable contracts, so important for reducing the anxieties of doing business” (Bouwsma 1988:198). Vir Calvyn het alle winskope waardeur een van die partye onregmatig (inique, CO 31,147) poog om homself bo die ander te bevoordeel, nie die toets van geregtigheid geslaag nie – onder watter mooi voorwendsel dit ook al geskied.

Calvyn het hom selfs oor die handel deur invoer en uitvoer uitgelaat: daar is niks waardeur 'n land groter word en vinniger verryk word as deur die groot bevaarbare riviere, wat in- en uitvoer van allerlei handelsware vergemaklik (Comm. Jes 8:7). So stel hy ook sy oortuiging dat as handelstede soos Venesië en Antwerpen vernietig sou word, dit tot groot skade van baie nasies sal lei (CO 36,387).

Gesien uit die oogpunt van moderne ekonomiese wetenskappe, is Calvyn se siening oor handel – wat veral gerig was op die morele en geestelike aspekte daarvan – juis 'n bevestiging van wat later wetenskaplik verwoord is.15

11. BANKE – RISIKO EN VERANTWOORDELIKHEID

Graafland (2008) se bestudering van die sakekant van Calvyn bring hom tot die slotsom dat hy inderdaad die ekonomie uit die oogpunt van die sakeman benader. Daarom meen die hervormer van Genève ook dat die finansier 'n nuttige funksie in die samelewing het. Aan die anderkant het hy wel ernstige bedenkinge gehad teen geldskietery as voltydse beroep: die morele gevare daaraan verbonde is na sy mening eenvoudig te groot. Graafland wys egter ook (baie eietyds!) daarop dat Calvyn iets te sê het oor die enorme bonusse wat bankiers deesdae aan hulleself gun: “Dit komt in de buurt van roverij waar Calvijn de bankiers voor waarschuwt”.

Die brandende kwessie in verband met die uitleen van geld teen die helfte van die sestiende eeu was of die Bybel ’n absolute verbod op die hef van rente onder alle omstandighede voorgeskryf het. Die kerkvaders en latere teoloë tot in die Middeleeue het op grond van sekere Ou-Testamentiese voorskrifte gehandhaaf dat dit 'n Goddelike gebod is wat onder alle omstandighede moet geld.

Maar eindelijk kwam er één, die dwars tegen dien stroom inging, en die ééne was Calvijn. Meesterlijk is de wijze, waarop hij in tijden, waarin zijne meening als de meest ergerlijke ketterij moest worden uitgekreten, de wettigheid der rente heeft gehandhaafd. Op onderscheidene plaatsen in zijne werken breekt hij met den geest zijns tijds (Diepenhorst 1904:129).

Calvyn grond sy siening op deeglike eksegese van die tersaaklike Skrifgedeeltes.

In sy kommentaar op Eksodus 22:25 sê hy dat ons op nie op redelike gronde moet aanvaar dat alle renteheffing sonder meer veroordeel word nie. As 'n welgestelde man wat graag grond wil koop, 'n gedeelte van die koopsom leen, behoort die uitlener tog ook deel van die opbrengs van die grond te ontvang totdat die lening terugbetaal is. Daarmee wil hy nie sê dat hy woekerrente onder sy beskerming neem nie, “maar ek waag dit nie om oor so 'n belangrike saak meer te sê as wat God se Woord daaroor aan ons oordra nie” (sed non audeo de re magni momenti plus pronunciare quam Dei verba sonant). Hy aanvaar dat woekerrente vir die Ou-Testamentiese volk van die Here verbied was, “maar ons moet onthou dat dit deel was van hulle politieke orde” (sed hanc fuisse partem ordinis politici fateri necesse est, CO 24,682; vgl ook Comm Eseg 18:8).

Oor Psalm 15:5 sê hy dat die wins wat iemand maak uit geld wat hy teen rente uitleen, nie gesien moet word as onwettige woeker nie, solank hy nie iemand daardeur skade aandoen nie (quod sine cuiuspiam iniuria). Die Hebreeuse woord neshek wat hier vir rente gebruik word, is afgelei uit 'n woord wat beteken om te byt; dit is genoegsame aanduiding dat rente wel veroordeel is wanneer dit neerkom op berowing van ons medemens (CO 31,148).

In sy kommentaar op Deuteronomium 23:19,20 stel hy sy gevolgtrekking duidelik: renteheffing is in ons tyd nie ongeoorloof nie, solank dit met billikheid en broederlikheid gepaard gaan (unde sequitur usuras hodie non esse illicitas, nisi quatenus cum aequitate et fraterna coniunctione pugnant, CO 24,682v). Dit kom ewe-eens uit in sy kommentaar op Esegiël 18:8 en 17, waar Calvyn allerlei slimstreke om ander uit te buit (illa magis occulta genera foenorum, quum scilicet multis integumentis utuntur avari, CO 40,430), veroordeel, maar dit ook duidelik stel dit die neem van rente as sodanig nie verkeerd is nie (Comm Eseg 18:8, 17). Calvyn laat ook in sy kommentaar op die Pentateug-gedeeltes blyk dat diegene wat op grond daarvan 'n renteverbod wou handhaaf, nie rekening gehou het met wat byvoorbeeld in die Psalms en Esegiël gevind word nie (vgl Diepenhorst 1904:145).

Calvyn het dus ’n duidelike onderskeid gemaak tussen “consumptief krediet aan armen en investeringskrediet” (Graafland 2008).16 Bieler merk ook tereg op dat die rente op 'n lening vir Calvyn nie maar bloot 'n ekonomiese saak is nie, maar ook 'n morele kwessie (1961:476).17 In sy monumentale werk oor Calvyn se ekonomiese en sosiale denke gaan hy breedvoerig in op sy siening oor die kwessie van lenings en rente. Veral na aanleiding van sy kommentaar op Esegiël 18:8 en 17 lei hy af dat Calvyn die volgende as essensieel beskou by die toestaan van 'n lening:

• die aard van die lening moet regverdigbaar wees

• geen professionele uitleners moet betrokke wees nie

• die reël van liefde bo alles moet steeds die primêre uitgangspunt wees

• daar is omstandighede waar renteheffing heeltemal wettig kan wees, maar nog steeds teenstrydig met die geestelike en morele vereistes van die Bybel, en

• alhoewel 'n lening met renteheffing eerlik en wettig kan wees, en selfs ekonomies noodsaaklik, moet diegene wat daarby betrokke is deurgaans met omsigtigheid te werk gaan (Bieler 1961:467vv).

In 'n artikel oor Calvyn se teologie en maatskaplike denke kom Neuser tot die slotsom dat hy baie oop was vir ekonomiese vernuwing. Dit blyk veral daaruit dat hy in Genève verskeie voorstelle in dier voege gemaak het . “Thus (unlike Luther) he opposed the medieval prohibition of interest, though he did think that interest rates should not exceed 5 percent” (Neuser 1999: 332). Sy siening oor die beperking van rente tot 5% word gevind in sy preek oor Deuteronomium 23:18-20 (CO 28,121). Vyf persent was op daardie stadium ook die gangbare rentekoers in Genève (Schulze 1992:222), alhoewel die Raad van die stad later die maksimum rentekoers op 6% vasgestel het (Praamsma s.a.:135).

Juis omdat die kwessie soveel vrae by gelowiges opgeroep het, skryf Calvyn 'n breedvoerige traktaat daaroor in sy Quaestiones Iuridicae onder die titel De Usuris (CO 10,140vv). Kernagtig en met goeie argumente toon hy aan hoe renteheffing nie net wettig is nie, maar ook met inagneming van omstandighede moreel te regverdig is. Dit is inderdaad merkwaardig hoe Calvyn uit alle oorde genader is vir advies in dié verband.

Men begrijpt, hoe hoog practisch gewicht de verdediging der rente had door een man van Calvijn's positie, bij wien telkens, ook door gezaghebbenden uit andere landen, om eene leidraad voor hunne handelingen werd aangedrongen (Diepenhorst 1904:139)18.

In 'n advies gedateer 28 April 1556 (CO 10,264) laat hy hom ook redelik breedvoerig uit oor die kwessie van rente, maar hy is klaarblyklik versigtig om nie voorskriftelik te wees nie – “Maior est in nupta difficultas!” Bieler wys ook daarop dat Calvyn van oordeel was dat die laaste woord oor rente nog nie gespreek is nie: “Calvin reconnait, en terminant, que cette question pourrait etre traitee plus en detail” (Bieler 1961:469). Sy siening was egter rigtinggewend vir verdere besinning hieroor. Graafland toon aan waarom Westerse ekonomieë die riglyne wat Calvyn daargestel het vir die uitleen van geld ter harte kan neem. “De beperkingen die Calvijn stelt aan het vragen van rente kunnen ons ook nu nog helpen in de kredietcrisis” (Graafland 2008). Calvyn stel naamlik as voorwaarde dat finansiers voldoende fondse moet beskikbaar hou om ander verpligtinge na te kom.

Dit impliceert dat banken een verantwoord risicobeleid voeren, zodat bij tegenslagen geen andere vitale belangen geschaad worden. Wederom is Calvijns steun van overheidsregulering hier relevant. Niet zozeer in de vorm waarvoor Calvijn pleitte – een maximale rentevoet – maar wel in de vorm van toezicht op risicobeheer.” (Graafland 2008).

Calvyn was – terloops – nogal versigtig by die vraag of predikante rente op uitgeleende geld behoort te ontvang. In 'n brief van 10 Januarie 1562 aan Francois de Morel sê hy dat dit veiliger sou wees as die dominee hom liewer glad nie met sulke praktyke en ooreenkomste inlaat nie. As hy egter byvoorbeeld aan 'n welgestelde besigheidsman geld sou leen en God die koopman voorspoedig maak (selon que Dieu feroit prosperer son labeur, CO 19,246), kan die predikant maar gerus deel in die wins!

12. GEVOLGTREKKING

Omstandighede in die Genève van sy tyd, het Calvyn genoodsaak om na te dink oor die ekonomie en verbandhoudende kwessies. Daar is, trouens, uit verskeie oorde by hom aangeklop om advies oor sulke aangeleenthede omdat daar by sy tydgenote 'n ernstige behoefte aan verantwoorde rigtingwysers hieroor ontstaan het. Dit is duidelik dat hy hom nie net oor 'n breë front daaroor uitgelaat het in sy preke, kommentare, briewe en ander geskrifte nie, maar dat hy ook 'n aktiewe rol gespeel het deur praktiese betrokkenheid by ekonomiese vraagstukke wat deur die Raad in Genève hanteer is. Hy het ernstig benadruk dat die ekonomie altyd 'n morele kant het, wat slegs tot groot nadeel van die samelewing geïgnoreer kan word. Sy gebalanseerde uitkyk op die verhouding tussen ryk en arm, oor mededeelsaamheid en sosiale geregtigheid, oor eiendomsreg en privaatbesit, asook oor arbeidsverhoudinge was rigtinggewend vir sy tydgenote, terwyl daar nou nog met vrug daarna gekyk kan word. Singer is volkome korrek as hy sê

Calvin left to the church and to modern man a rich heritage of economic and social theory which is biblical in its origin, nature, and outlook, and which offers the only possible hope of a satisfactory solution to the many vexing problems which beset modern society on every hand (Singer 1992:241)

Die groot verdienste van sy nalatenskap is egter 'n vars benadering in sy eksegese van die Heilige Skrif. Hy het die moed aan die dag gelê om tradisionele sieninge – byvoorbeeld oor krediet en rente – te deurbreek deur die werklike bedoeling van die Skrif weer te gee. Hy het ook nie geaarsel om wanpraktyke soos verkwisting, uitspattige weelde, woekerrente, bedrog en korrupsie aan die kaak te stel nie, terwyl hy eerlikheid, persoonlike verantwoordelikheid en harde werk aangeprys het. En juis omdat sy riglyne prinsipieel verantwoord was vanuit die geopenbaarde waarheid van die Woord, behou dit betekenis vir ekonomiese denke in die een-en-twintigste eeu en selfs vir die krisistye waarin die wêreld telkens weer gedompel word.

BIBLIOGRAFIE

Balkenende, J P 2009. Dit land dankt zo veel aan Calvijn. Trouw, [Aanlyn.] Bekom van http://www.trouw.nl/opinie/podium/article1942325.ece/Dit_land_dankt_zo_veel_aan_Calvijn__.html [2009, 10 januari].

Biéler’ André 1961. La pensée économique et Sociale de Calvin. Genève:Georg & Cie.

Bouwsma, W J 1988. John Calvin. A Sixteenth Century Portrait. Oxford: University Press.

Brouwer, R R 2009. De actuele politieke en maatschappelijke betekenis van Calvijn. [Aanlyn]. Bekom van http://www.oecumene.nl/Projecten/
Calvijnjaar/Publieksbijeenkomst%20Calvijn.pdf

Calvyn J. Ioannis Calvini opera quae supersunt omnia, ed. G. Braun, E Cunitz, and E. Reuss (Braunschweig 1863-1900) (Corpus Reformatorum 29-87)

Calvyn J. 1988. Institusie van die Christelike Godsdiens 1559. (Vertaal deur H W Simpson). Potchefstroom: CJBF.

Calvyn J. s.a. The Comprehensive John Calvin Collection 2.0. Rio WI:The Ages Digital Library Series

CO. Calvini Opera. vide Calvyn J. Ioannis Calvini opera quae supersunt omnia

Comm. Kommentaar op Skrifgedeelte soos aangedui.

Corpus Reformatorum. Halle, Braunschweig, Berlin, Zurich, 1834-

Douglas, J D 1992. Calvin’s Relation to Social and Economic Change. In: Gamble, RC (red): Calvin’s thought on economic and social issues and the relationship of Church and State, sine num. New York & London: Garland.

Diepenhorst, P A 1904. Calvijn en de economie. Proefskrif, Vrije Universiteit, Amsterdam. Wageningen: Vada

Eberle, Martin 2009. Calvinismus und Kapitalismus. [Aanlyn]. Bekom van http://www.ekd.de/calvin/wirken/calvinismus_und_kapitalismus.html

Graafland, Johan 2008, “De leefregels van Calvijn bieden actuele handleiding voor ontspoorde bankiers” Me Judice, jaargang 1, 21 november 2008

Neuser, W 1999. Calvin’s Theology. In: Fahlbusch, E; Bromiley, GW; Barrett, DB (red). The encyclopedia of Christianity. Translated by Geoffrey William Bromiley, p.327-332. Grand Rapids: Eerdmans.

Praamsma, L s.a. Calvijn. Wageningen: Zomer en Keunings.

Reid, W S 1984a. John Calvin, early critic of capitalism (1). The Reformed Theological Review, 43:74-81

Reid, W S 1984b. John Calvin, early critic of capitalism (II). The Reformed Theological Review, 44:9-12)

Reid, W S 1992. Jean Calvin: the father of capitalism?. In: Gamble, RC (red): Calvin’s thought on economic and social issues and the relationship of Church and State, sine num. New York & London: Garland..

Schulze, L F 1992. Calvin on interest and property – some aspects of his socio-economic view. In: Gamble, RC (red): Calvin’s thought on economic and social issues and the relationship of Church and State, sine num. New York & London: Garland.

Singer, C G 1992. Calvin and the social order. In: Gamble, RC (red): Calvin’s thought on economic and social issues and the relationship of Church and State, sine num. New York & London: Garland.

Venter, W 1986. Calvin and economics according to the Institutes. In: John Calvin's Institutes – his Opus Magnum, p.266-325. Potchefstroom:IRS.

Weber, Max 1934. Die Protestantische Ethik und der Geist des Kapitalismus. Tubingen: JCB Mohr.

TREFWOORDE

Calvyn, Ekonomie, Rente, Arbeidsverhoudinge, Handel

KEY WORDS

Calvin, Economy, Interest, Labour relations, Commerce

KONTAK BESONDERHEDE

Prof PC Potgieter

Posbus 271

Wildernis

6560

Tel: 044 877 0304

Sel: 083 450 4963

E-posadres: pcpotgieter@telkomsa.net

1 About 5,000 refugees were registered between 1549 and 1560. Whereas Geneva in 1536 had only about 50 merchants, three printrers and no craft guilds, by the 1550s about 1,500 immigrant artisans were present, including cobblers, goldsmiths and textile workers, 180 merchants, 113 printers and booksellers (Douglas 1992:77).

2 Certe rustici homines et opifices suillam vel bubulam carnem, cuneos et lacticinia, cepas et brassicas non minoris aestimant quam magna pars divitum cibos sumptuosos (CO 25,167).

3 Want ek bedoel nie dat daar vir ander verligting moet wees en vir julle verdrukking nie, maar dat volgens gelykheid julle oorvloed in hierdie tyd hulle gebrek kan aanvul.

4 Betoon reg en billikheid, here, aan julle diensknegte, omdat julle weet dat julle ook 'n Here in die hemele het.

5 Calvin ramene toujours le lecteur a la regle supreme de la morale chretienne decoulant de la charite de Jesus-Christ.

6 Ergo ut nobis dulcescant minae Dei, necesse est a nobis concipi aliquam misericordiae spem: alioqui semper mera amarulentia ebulliet ex cordibus nostris (CO 36,670)

7 Die uitdrukking coram Deo kom byvoorbeeld 72 keer voor in die Institusie

8 'n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop.

9 Nihil autem crudelius est, quam fraudare laboris sui fructu miseros homines, qui in diem victitant ex suo labore.

10 Cependant il faut que les povres soyent patiens, qu'ils s'abstiennent de toute malice, de toute rapine, de tout pillage, CO 28,200)

11 Nous voyons, quand Dieu laisse couler l'ordre de nature, que celuy qui est riche, n'estimera pas que le bien luy soit venu du ciel, ne que Dieu y ait mis la main: mais il dira que le tout luy est venu d'heritage, et de succession, ou qu'il l'a acquesté par son industrie (CO 26:626).

12 … wat … hom nie laat omkoop om die onskuldige te kort te doen nie

13 Vgl ook Reid: “To do as Weber does and seek to blame Calvin for Benjamin Franklin’s rationalistic economic views, seems to be a rather large stretch of imagination” (1984b:11).

14 Nie een van hulle het gebrek gely nie, want dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan gebring en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte (Hd 4:34v).

15 Consideree du point de vue de la science economique moderne, la docrine de Calvin sur le commerce, qui s'attache a l'aspect moral et spirituel de cette activite, apporte quelques confirmations a ce qui a ete decrit scientifiquement par la suite (Bieler 1961:453).

16 "consumptief krediet"is 'n lening wat aangewend word vir iets wat nie sy geldwaarde behou nie (bv. 'n voertuig of 'n vakansie), terwyl "investeringskrediet" 'n lening op afbetaling is met 'n redelike lang termyn.

17 Le pret a interet n'est pour lui ni une question economique avant tout, ni un acte relevant de la morale, mais bien un fait mettant l'homme en action personelle devant Dieu avec tout sa responsibilite; un fait dont la juste nature objective ne peut etre decelee et mesuree que dans la charite du Christ, qui rend a toute chose sa veritable identite (Bieler 1961:476).

18 Vgl byvoorbeeld die brief van Sachinus (7 November 1545, wat moontlik 'n aanmoediging was om die traktaat te skryf): Ne vero homini, velut de re certo apud me constituta, secure responderem, obstabat edictum illud divinum quo saepius cavetur de pecunia fratri ad usuram non foeneranda.