Hagg, AG
Theologische Universiteit in Kampen
(Broederweg)

Die bydrae van die sendeling en die kerkverband tot kerkverbandelike samewerking in die gereformeerde sendingsituasies1

ABSTRACT

The contribution of the missionaries and the ecumenics to ecumenical co-operation in the reformed mission context

This article will try to answer the questions on how the missionary in a reformed mission situation can lead the mission church in her current and future understanding of cooperation within a reformed bond of churches, and which role the bond of churches herself can play in leading the mission church to cooperation within the bond of churches. The missionary can do this by preaching and educating the principle of Christ’s church government from Scripture and the reformed confessions and by showing them the need for cooperation due to the characteristics (one, holy, catholic and apostolic) of the church. The bond of churches on the other hand can help the mission church by continuously inviting them to ecclesiastical assemblies. A historical situation from the Netherlands and a current situation within the Free Reformed Churches in South Africa are given as examples.

1. INLEIDING

1.1 Probleemstelling

Situasieskets: “Kan ons pastoor N van daardie kerk vra om volgende Sondag die nagmaal by ons te kom bedien nie?” ’n Onskuldige vraag van ’n broeder in ’n sendinggemeente aan die sendeling. Wat sou die sendeling dan antwoord? Hoe verduidelik jy die saak van kerkverband aan lidmate met ’n beperkte kerkbegrip? En hoe kan ’n sendeling aan die sendinggemeente duidelik maak dat hulle eintlik deel van ’n kerkverband is en na selfstandigwording in meerdere vergaderings behoort saam te kom? Is dit nie soveel moeiliker wanneer daar nog nie ouderlinge en diakens in die sendinggemeente bevestig is nie? Is dit nie beter om die moeilike saak van kerkverband maar liewer van die sendinggemeente af weg te hou nie? Wat sal hulle in hul konteks tog van kerkverbandelike sake, wat dikwels ’n Europese historiese agtergrond het, verstaan? Dra die sendeling nie ’n stuk Europese kerkgeskiedenis in waarvan die sendinggemeente in hulle eie konteks niks verstaan nie? Moet hul eie konteks nie hul eie denke oor die verhoudings tussen kerke bepaal nie? En watter rol kan die kerkverband self in hierdie situasie speel?

Dis ’n paar vrae wat na vore kan kom as daar binne ’n gereformeerde sendingsituasie oor kerkverband nagedink word. Dit is nou nie die bedoeling om al die bogenoemde vrae in hierdie lesing te beantwoord nie. Om egter rigting aan die gesprek oor bogenoemde vrae te gee, kan twee basiese vrae gestel word:

Vraag: Op watter wyse kan ’n sendeling die sendinggemeente begelei in sy huidige en toekomstige verstaan van en samewerking binne ’n gereformeerde kerkverband?

Vraag: Watter rol kan ’n kerkverband speel om ’n sendinggemeente tot kerkverbandelike samewerking te lei?

Ter wille van ’n deeglik aanpak van die vrae, is ’n Skriftuurlike verantwoording op sy plek en is dit nodig dat bepaalde terme eers kortliks gedefinieer word.

2. VERANTWOORDING EN DEFINIËRING VAN DIE BEGRIPPE: KERK, KERKVER- BAND, SENDING, SENDENDE GEMEENTE, SENDINGGEMEENTE.

2.1 Verantwoording

Jesus Christus is die enigste Hoof van sy kerk en regeer hom deur sy Woord en Gees. Dit is die onvoorwaardelike uitgangspunt van hierdie akademiese bydrae. Dit is ’n geloofstandpunt wat op die Heilige Skrif en die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) artikel (art) 27-32 en die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag (Son) 21, gegrond is. Dit geld onverkort vir die diens van die Woord op die sendingterrein.

2.2 Definisies

2.2.1 Kerk

Vir die omskrywing van die kerk, gaan ons uit van wat die kerk in NGB art 27-29 en in HK Son 21, v/a 54 en 55 bely. Kort saamgevat kan ons die kerk as volg definieer:

Die kerk is een, heilige, katolieke en apostoliese vergadering of eenheid van gelowiges, saamgebind deur ’n ware geloof in Christus.2 Die woord vir kerk (ekklèsia) dui in die Nuwe Testament sowel die kerk as geheel, as die plaaslike kerk of samekoms van die gemeente aan (vgl Matt 16:18 met Matt 18:17; Ef 3:10 met 1 Tess 11; Kol 1:18 met Kol 4:16). Ook die meervoud (ekklèsiai) staan vir die kerk as geheel (1 Kor 11:16). Dit wys daarop dat die hele kerk nie ’n optelsom van ’n aantal dele of ’n vereniging met plaaslike afdelings is nie. Ekklèsia is nie ’n kwantitatiewe, maar ’n kwalitatiewe begrip. Die kerk is dus daar waar die Here sy volk in ’n bepaalde plek, streek, land of die hele wêreld vergader.3 Die ware kerk het ook bepaalde kenmerke, naamlik die suiwer prediking van die evangelie, die suiwer bediening van die sakramente en die uitoefening van die kerklike tug. Die ware kerk kan maklik uitgeken en van die valse kerk onderskei word (NGB Art 29).Die terme “kerk” en “gemeente” sal in hierdie lesing afwisselend gebruik word. Daarmee word dieselfde verskynsel aangedui. Aangesien daar uitgegaan word van die plaaslike selfstandige gemeente of kerk, word hierdie twee terme nie gebruik om institusionele kerke of kerkgroepe aan te dui nie. Waar daar wel van meerdere plaaslike kerke of gemeentes in een kerkverband sprake is, sal die meervoudsvorm “kerke” gebruik word.

2.2.2 Kerkverband

Kerkverband is die resultaat van gehoorsaamheid aan die opdrag van die Here wanneer selfstandige gemeentes wat een in geloof, leer en lewe is, mekaar soek en ondersteun in hul Koning, Jesus Christus. Hulle doen dit vanweë hul, heilige, algemene en apostoliese eienskappe. Hierdie gemeentes voer dit konkreet uit deur ’n gemeenskaplike kerkorde te handhaaf waarvolgens hulle mekaar hou by die regering van Christus van sy kerk deur sy Woord. Die inhoud en betekenis van die kerkverband sal in die onderstaande verder bespreek word.

2.2.3 Sending

Verkuyl4 beskryf sending of missiologie as die heilshandeling van die Vader, die Seun en die Heilige Gees, wat in die hele wêreld gerig is op realisering van die ryk van God. Hy definieer sending as primêr missio Dei (God se sending). Verkuyl plaas egter nie die kerk nie, maar die koninkryk sentraal. Christus se sending staan egter nooit los van sy kerk nie, en daarom kan kerk en sending nooit van mekaar geskei word nie. Bavinck, in lyn met Voetius,5 beskryf sending meer volledig: die sending is die werksaamheid van die kerk, waardeur hy in blye en nederige gehoorsaamheid aan die bevel van Christus, die evangelie van God se genade aan alle volke preek.6 Hy beskryf sending ook as die werksaamheid van Jesus Christus, waardeur Hy in en deur sy kerk, homself bekend maak aan alle volke en hulle opneem in die grootheid van sy verlossingswerk. Sendingwerk is dus nie ’n menslike instelling nie, maar ’n Goddelike roeping en bevel aan sy kerk. Dis die bevel van Christus met die kerk as uitvoerder van die bevel (Matt 28).

Haak7 voeg hierby dat daar ook ’n vorm van kommunikasie tussen die plaaslike (sending)kerke kom. Sending beteken dat daar ook gewerk word aan ’n netwerk van kerke wat saamwerk, gesamentlike belange kan behartig en as ’n verband van kerke kan optree. Vanaf die begin van die sendingwerk moet die sendeling een of ander vorm van nasionale of regionale kerkverband in die oog hou.

Sending wil ek dan ook beskryf as die verheerliking van God se Naam deur die verkondiging van die evangelie aan heidene wat God nouliks of heeltemal nie ken nie en die plant van gemeentes wat van die begin af met mekaar en ander gemeentes, met wie hul een in leer en lewe is, ’n band vorm.

2.2.4 Sendende gemeente

Die sendende of missionêre gemeente is die plaaslike selfstandige gemeente wat namens en in opdrag van sy Koning, Jesus Christus, as draer en bewaarder van die Woord van God, die evangelie na die wêreld uitdra. Elkeen in die gemeente doen dit persoonlik in sy of haar eie direkte omgewing (evangelisasie), of die gemeente doen dit saam deur ’n predikant na ’n bepaalde gebied of groep mense te stuur om daar die Woord te verkondig met die oog op gemeente-stigting. In hierdie werkstuk word slegs die laasgenoemde missionêre aspek bespreek.

Die meer tradisionele term “sendende” word bo die hedendaagse term “missionêre” verkies, aangesien laasgenoemde term die afgelope jare ’n sterk sosio-ekonomiese assosiasie gekry het. “Missionêr”, as uitdra van die evangelie (kerugma), is verbind aan en afgeskaal tot ’n posisie naas of selfs onder die gemeenskap (koinonia) en diens (diakonia) van die gemeente. In die missionêre taak van die kerke het die sosio-ekonomiese opheffing van armes en minderbevoorregte mense die sentrale plek begin inneem. Voorbeelde hiervan sien ons by Hendriks8 en Van Niekerk.9 Dit het vandag makliker geword om ’n gevoel van gemeenskaplikheid oor te dra en armes van lewensmiddele te voorsien, as om hulle te konfronteer met die evangelie. Nie dat die koinonia en die diakonia ’n onbelangrike saak is nie. Maar sending gaan primêr oor Woordverkondiging (kerugma), en daardeur oor koinonia of diakonia.

2.2.5 Sendinggemeente

’n Sendinggemeente is ’n vergadering van mondige gelowiges wat deur die werk van die Heilige Gees tot geloof gekom het en gedoop is. Hulle vergader in gehoorsaamheid onder die ware Woordverkondiging, sakramentsbediening en tug met die doel om deur die instelling van die besondere ampte tot ’n selfstandige gemeente geïnstitueer te word.10 Die sendinggemeente is dus nie ’n groep wat bymekaar kom op grond van gelyke stand, ras, geslag of gelykdenkendheid nie, maar ’n volwaardig-mondige gemeente van Christus op grond van hul geloof in Hom.

Die sendinggemeente is mondige gemeente, en is aanspreekbaar vir sy reaksie op dieWoordverkondiging.11 God vra dat hy moet glo, en die Woord moet naspreek. Prakties beteken dit dat die sendeling nie as ’n “pater” alles in en vir die sendinggemeente hoef te besluit nie. Die jong sendinggemeente behoort, kragtens hul verantwoordelikheid voor God, met inagneming van hul finansiële posisie, vir die onderhouding van die erediens te sorg.12 ’n Sendinggemeente staan op beide geestelike en materiële gebied voor God verantwoordelik.

3. DIE TAAK VAN DIE SENDELING OM DIE KERKVERBANDELIKE BEGINSEL BY DIE SENDINGGEMEENTE TUIS TE BRING DEUR PREDIKING EN LEIDING IN DIE PRAKTYK

3.1 Die Skriftuurlike onderrig van hierdie beginsel aan die sendinggemeente.

Kerkverband is meestal ’n onbekende saak in die sendinggemeente. Daarom behoort die sendeling vanuit die Skrif op moontlike vrae wat uit die sendinggemeente kan kom ingaan: Wat is kerkverband? Is kerkverband ’n opdrag van God aan sy kerk, of mag daar meer soorte kerke wees?13 Of is die samewerking tussen kerke slegs die resultaat van menslike ekumeniese behoeftes, eenvormigheid of gelyksoortigheid?

Om hierdie vrae vir die sendinggemeente te kan beantwoord, behoort die sendeling hulle vanuit die Skrif te wys wat God se wil oor kerkverband is . Dit behoort in prediking (indirek) en gesprekke (direk) plaasvind. En daarvoor behoort hy hulle na die kruis van Christus te lei. Christus regeer sy kerk en het sy bloed vir hom op Golgota gestort. Hy regeer sy kerk en is daarom die enigste een wat die reg het om verbande met en vir hom te lê. Hy bring bepaalde verbintenisse tot stand, tussen Homself en sy kinders asook tussen sy kinders onderling. Dus ook tussen kerke onderling. Christus het dus sy bloed ook vir die kerkverband gestort.14 Dit het die ongelowige hoëpriester reeds in Joh 11:50-52 deur die Gees geprofeteer. Hy het gesê dat Christus sy bloed sou stort om die verstrooide kinders van God te vergader. Die kerk se eenheid, sy verband, lê by die kruis van Golgota. Wie die leer van die versoening aantas is ’n gevaar vir die kerk. Kerke wat by die kruis van Christus nie op dieselfde fondament staan nie, mag nie saam vergader nie.15

Die sendeling kan die sendinggemeente ook verder vanuit die Skrif wys hoe apostels hierdie fondament deeglik verstaan en van die begin af self die band tussen selfstandige gemeentesvolgens die eenheid in Christus versorg het.16 Die eerste gemeentes het ’n onderlinge band gehad en het na mekaar omgesien, aangesien hulle onder een hoof in Christus verenig was (Ef 1:10). Dat hierdie tussen-kerklike verhouding reeds by die apostels van groot belang was, lees ons by beide meerdere vergaderings in Handelinge 15 en Galasiërs 2.

Paulus wys die gemeente ook op die ekumeniese band tussen mekaar. Ons lees in 2 Korintiërs 8:1v. dat die Here sy genade aan al die gemeentes in Macedonië geskenk het. Daarom het die gemeente van Korinthe die gemeente in Achaje ywerig bygestaan en daardeur ook die ander gemeentes tot onderlinge hulp aangespoor.

In 1 Tessalonisense 4:10 lees ons dat die gemeente van Tessalonika hul liefde aan al die broeders in die hele Macedonië betoon het. Die gemeente van Jerusalem is in sy finansiële behoeftes deur die ander gemeentes ondersteun (Rom 15:25-26; 1 Kor 16:1v). Die gemeentes word ook opgewek om die sendbriewe wat hulle ontvang het, aan die ander gemeentes te stuur (Kol 4:16, 1 Tess 5:27). Hulle het hulself ook in mekaar se welstand verbly (Hand 15:3) en aan mekaar groete gestuur (2 Joh 1:13, 3 Joh 1:15, Rom 16:16). Paulus het aan al die gemeentes dieselfde riglyne gegee (1 Kor 7:17; 4:17 en 14:33) en waarsku teen individualisme en independentisme (1 Kor 14:36). Bepaalde kerklike reëls is bevele van die Here (1 Kor 14:37) en moet in elke gemeente nagekom word.

Daar was dus duidelik onderlinge kontakte tussen die gemeentes en hulle het wederkerig geestelike en finansiële hulp en bystand aan mekaar gegee. Hulle staan dus in onderlinge kontak, of te wel, in kerkverband met mekaar en moet met mekaar saamlewe en op mekaar ag gee, aangesien hulle as eenheid in die universele kerk, die liggaam van Christus, verbind is (1 Kor 12). Na die sterwe van die apostels moes die gemeentes hierdie onderlinge verband onder een Hoof (Ef 1:22) koester en betrag. Onder leiding van die opsiener-ouderlinge tree die gemeentes nou konkreet in die kerkverband na vore om die gesag van en gehoorsaamheid aan Christus, die Hoof van elke gemeente, met die oog op die goeie orde en welstand van elke kerk te bedien en te laat funksioneer. So is die kerk saam oppad.17

3.2 Die onderrig van die beginsel vanuit die belydenisskrifte (Sondag 21 HK, NGB Art 27-32)

Die kerke van die Reformasie het die eenheid van Christus se liggaam in hulle belydenis verwoord. Dit doen hulle onder andere in NGB art 27, waar hulle die Skrif oor die wesens- eienskappe van die kerk, naamlik sy eenheid, heiligheid, katolisiteit en apostolisiteit naspreek. Dit is eienskappe wat die kerk nou reeds besit en vertoon. Hierdie eienskappe is gawes van God aan sy kerk. Ook aan die sendinggemeente. Hy versier sy bruid hiermee as iemand wat haar waaragtig liefhet.18 Hierdie gawes is terselfdertyd ook ’n roeping, ’n bevel. Die sendinggemeente het die roeping om hierdie eienskappe sigbaar te laat word. Die sendeling kan vanuit hierdie wesens-eienskappe aan die sendinggemeente duidelik maak dat die kerkverband noodsaaklik is,19 en wys hoe Christus kerke deur hierdie eienskappe aan mekaar bind. Dit kan gebeur in prediking, veral kategismuspreke en in gesprekke tydens Bybelstudies.

Die volgende beginsels kan aan die sendinggemeente oorgedra word:

3.2.1 Die eenheid van die kerk noodsaak kerkverbandelike samewerking

Die kerk is één. Daar is slegs één kerk, want daar is net één God en één Hoof van die kerk, naamlik Jesus Christus en Hy het net één liggaam, sy gemeente. Deur en in Christus is die eenheid van die gemeente: “Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is.” (Ef 4:4-6).

Die eenheid van die ware kerk bestaan in die eenheid van die ware geloof.20 Dit beteken dat die eerste vraag in die ekumeniese binding die vraag na die waarheid moet wees. Die eenheid en waarheid kan egter nie teen mekaar uitgespeel word nie. Albei is in Christus gegee. Hy is die Hoof van die een liggaam en al die lede van die een liggaam bely Hom as Hoof (Joh 17). Daarom is dit die roeping aan almal wat in Hom glo, om aan hierdie eenheid gestalte te gee.

Ons is dikwels skuldig aan die ontbreking van hierdie eenheid. Daarom moet ons Christus op die regte manier bely, Hy wat die verantwoordelikheid vir die eenheid van die kerk aan ons opdra. Dit vra gedurige bekering. Wie werklik een in Christus is, en dit bely, moet ook sigbaar een in hul kerklike omgang met mekaar wees. Dit geld ook vir die sendinggemeente. Hy is volledig kerk van Christus, ook al is hy nog nie selfstandig nie. As hy een in geloof met die sendende gemeente is, het Christus hulle as susterkerke verbind. Die sendinggemeente is tot ’n groot mate nog van die sendende gemeente afhanklik, maar dit op homself bepaal nie hulle eenheid nie. Dit sou kan gebeur dat die sendinggemeente sy band met die sendende gemeente kan verbreek as dit duidelik sou blyk dat die sendende gemeente nie meer ware kerk van Christus is nie. Die geloofsband is dan verbreek. Daarom moet die sendinggemeente ook by instituering besluit of hulle ’n susterkerk van die sendende gemeente wil wees. Hulle doen dan daarvoor aansoek in die kerkverband as hulle oortuig is dat daar ’n eenheid in geloof tussen hulle en die sendende kerk is. Dit is waartoe Christus hom roep. En binne hierdie band stel gemeentes hul saam onder Christus se regering.

Dit beteken ook dat indien die sendinggemeente tot kerkverbandelike samewerking met gemeentes, wat nie een in geloof, leer en lewe met hulle is nie, uitgenooi word, hulle hierdie aanbod behoort te weier. Sigbare eenheid word nie in een groot “wêreldkerk”, wat as ’n eenheidsinstituut saamgestel word, vergestalt nie. Die Nuwe Testament wys eerder daarop dat die plaaslike gemeentes in noue verband met mekaar moet lewe en na mekaar moet omsien. Kerkverband is nie allereers institusioneel van aard nie. Spoelstra21 waarsku tereg dat ons nie van die kerkverband in die sin dat kerke “as kerkverband” institusioneel bestaan, moet praat nie, maar dat hulle “in kerkverband” gesamentlik moet en kan lewe. Kerke in kerkverband skep nie ’n nuwe eenheidsinstituut nie.22 Dit is eerder ’n manier van lewe wat wesenlik eie aan die kerk is, sodat elke gelowige altyd kan weet en ervaar dat hy werklik deel van die een (universele) liggaam van Christus is wat in hierdie wêreld bestaan.

3.2.2 Die heiligheid van die kerk noodsaak kerkverbandelike samewerking

Die kerk is ’n gemeenskap van heiliges. Dit beteken dat gelowiges mense is wat toegewy is aan, bestem is vir en verbonde is met God die Heilige, wat die heiligheid self is. Hierdie gelowiges is ook vervul met die Heilige Gees. Hulle is vol van die heiligheid en liefde van God.

Wat is hierdie heiligheid? Is dit iets bonatuurliks, iets bo-aards? Met die heiligheid van die kerk word nie ’n geestelike hemelse werklikheid bedoel nie. Heiligheid word nie in twee gedeel, naamlik ’n natuurlike en ’n hemelse heiligheid nie. Die stoflike en sigbare wêreld as die geskape werklikheid van God en die lewe en werk van die mens daarin, is nie per se onheilig nie. Niks wat God geskape het is in beginsel onheilig nie. Slegs die sonde, die heerskappy van die duiwel oor God se wêreld is onheilig. Daarom is die sendinggemeente ook heilig omdat Christus hom weer uit die mag van die Satan gehaal het. Hy is op die lewe, wat na die wil van die heilige God geleef moet word, gerig.23

As dit oor die heiligheid van die kerk gaan, gaan dit dus nie oor die heiligheid van die “instituut” nie, maar oor die geestelike vernuwing van die lede van die kerk. Die heiligheid waarvan die Twaalf Artikels praat, verwys nie onmiddellik en allereers na die sedelike aspek van die kerk as bepaalde kwaliteit nie, maar na die roeping van die kerk om heilig te wees. “Heilig” is sinoniem vir “gelowig”, afgesonder deur die geloof. Daarom is gemeentes van Christus wat in een kerkverband is, almal saam heilig. Dit beteken nie dat die gemeentes sondeloos is nie. Die eis tot heiligmaking vloei voort uit die gegewe dat die kerk heilig is. Gemeentes wat met mekaar in verband staan, is nie net heilig nie, maar moet na mekaar se heiligheid omsien (1 Tess 4:3) en mekaar help om te word wat hulle reeds deur God verklaar is.

Die indikatiewe en imperatiewe karakter van die heiligheid van die kerk beklemtoon die feit dat die kerk in sy geheel en afsonderlik ’n stryd na binne en buite het. Na binne, omdat die harte van elke gelowige en elke plaaslike kerk hulle daagliks moet bekeer, en na buite, omdat die heiligheid van die kerk beteken dat hy antiteties teenoor die sonde en die wêreld staan en weerstand moet bied.

Vir die sendingsituasie het dit buitengewoon groot implikasies, aangesien die sendinggemeente nog in sy kinderskoene staan en die opdrag tot heiligmaking ’n nuwe taak is wat hy moet uitvoer. Christus het hom egter reeds heilig verklaar en daarom kan dit hom vrymoedigheid gee om ander gemeentes in kerkverbandelike opsig te soek.

3.2.3 Die katolisiteit van die kerk noodsaak kerkverbandelike samewerking

Net soos die eenheid en die heiligheid, is die katolisiteit van die kerk sowel ’n gawe as ’n opdrag aan die sendinggemeente. Die gemeente is katoliek deur die werk van Christus, wat hom deur sy Woord en Gees vergader en regeer. Hy vergader hom van die begin tot die einde van die wêreld en vanuit die hele menslike geslag. Dit is die kwantitatiewe aspek. Hy vergader hom ook in die ware geloof. Dit is die kwalitatiewe aspek (HK Son 21, v/a 54). Universaliteit en waarheid gaan hier saam.24 Ons vind beide hierdie aspekte van die katolisiteit in die omskrywing van Calvyn: “Die universele kerk (ecclesia universalis) is ’n menigte mense wat uit alle volke versamel is; dit is geleë en versprei oor afgeleë plekke maar stem in die enige waarheid van die Goddelike leerooreen en is deur die band van dieselfde godsdiens gebind.”25 Dit staan teenoor die onskriftuurlike Roomse opvatting van katolisiteit wat dit ’n wettiese binding van die kerke aan plekke, persone en instellings maak. In die sin het die Roomse kerk nie reg op die naam “katoliek” nie.

Katoliek beteken dat die sendinggemeente vanuit die volheid wat in Christus gegee is, lewe en dat hy na die volheid saam met alle heiliges wil groei (Ef 3:14-18). As die sendinggemeente sy katolisiteit in ooreenstemming met die Skrif bely, mag hy homself nie in sy eie kring opsluit of van ander afsluit nie. Hy mag geen gelowiges of kerke uitsluit wat Christus self nie uitsluit nie, maar ook niemand insluit wat Hy nie insluit nie. Christus bepaal die grense.

Hy moet egter wel waak om in die strik van die sogenaamde ekumenisme te trap. Hy mag niesy katolisiteit met ekumenisiteit vervang nie. Du Plooy26 probeer myns insiens hierdie begrippe korreleer. “Katoliek” en “ekumenies”, soos dit o.a. deur die WRK gebesig word, kan egter nie gelyk gestel word nie. Die kerk is katoliek deurdat die evangelie alle mense bereik en in alle plekke ware gemeentes van Christus ontstaan, ongeag volk of kultuur. Hierdie gemeentes is katoliek aan mekaar verbind in Christus deur sy Woord en Gees. Vandag se horisontalistiese omgang met ekumenisiteit is daarom nie dieselfde as wat die belydenis met katolisiteit bedoel nie. Katolisiteit is meer as blote ekumeniese samewerking tussen kerke. Slegs kerke wat waarlik kerk van Christus en een in leer en lewe is, is skriftuurlik ekumenies gebonde en dus katoliek. Ekumenisiteit vloei dus nie outomaties uit katolisiteit voort nie, maar moet juis aan Skriftuurlike katolisiteit getoets word. Die sendinggemeente moet dus seker maak dat hy hom katoliek verbind aan gemeentes met wie hy een in geloof, leer en lewe is en nie sy katolisiteit vir ’n bloot organisatories-ekumeniese samewerking met ander gemeentes opoffer nie.

3.2.4 Die apostolisiteit van die kerk noodsaak kerkverbandelike samewerking

Die vierde wesens-eienskap, naamlik dat die sendinggemeente apostolies is, is ewe noodsaaklik vir sy kerkverband. Die kerkverband kan slegs een, heilig en katoliek wees, as dit apostolies is. Daarin is hy aan die Woord gebonde. Apostolies wil dus sê: in ooreenstemming met die leer van die apostels. Die sendinggemeente is dus net apostolies as hy die onderwys van die apostels aanvaar en uitdra in leer en lewe, soos dit in die belydenis vervat is. As die sendinggemeente sy apostolisiteit bely, bely hy dat daar ’n lewendige en historiese band met die leer van die apostels is, soos Christus dit aan hulle oorgelewer het. Daardeur verbind hy homself aan alle kerke en gelowiges wat hulle aan hierdie apostoliese Woord hou.

Dit beteken wel dat kerke onderling op mekaar sal let en mekaar sal dien sodat elke gemeente van Christus altyd die ware kenmerke van die ware apostoliese kerk sal vertoon. Wanneer die kerk waarlik apostolies is en daarom één in hierdie wêreld is, kan hy tot ’n werklike vergestalting kom van wat hy in Jesus Christus is, naamlik ’n een, heilige en katolieke kerk.27

Elke wesens-eienskap van die kerk is ’n gegewe en ’n bevel. Daarom moet die sendinggemeente tot uitdrukking bring wat hy is, naamlik een, heilig, algemeen en apostolies. Hierdie eienskappe noodsaak die gemeente dus tot die soek van onderlinge bande, tot kerkverband met mekaar. Kerkverband gee uitdrukking aan die eenheid, heiligheid, katolisiteit en apostolisiteit. Daarom is ’n neiging tot independentisme, 28waarvolgens ’n kerk homself van ander kerke afsydig hou, teen die wil van God. Uit so ’n houding blyk ongehoorsaamheid, verwaandheid en liefdeloosheid en dit is in stryd met die wese van die kerk. Die sendeling behoort die sendinggemeente deeglik hiervoor te waarsku.

Veral binne die Suid-Afrikaanse konteks waar die groot aantal independentistiese kerke as ’n normale gegewe gesien word. Die pluriformiteit wat aan hierdie independentisme gekoppel is, staan los van die kerkregtelike beginsels waaraan die sendinggemeente hom moet onderwerp. Daarom sal die sendinggemeente in sy eie geledere teen independentisme moet waak, aangesien dit hom ook kan bedreig. Omdat die sendeling meestal alleen in die sendinggemeente werk, kan die gemeente geneig wees om “independentisties” op te groei. Die sendeling sal dus sterk teen hierdie tendens moet waak en deur die oordrag van hierdie beginsel die gemeente moet help om teen hierdie sonde te stry. Deur van die begin af die gemeente op sy kerkverbandelike roeping te wys, en hom aan kerkverbandelike aktiwiteite bloot te stel, sal hy saam met gelowiges en gemeentes met wie hy werklik één in Christus is opgroei.

Die plaaslike kerk is wel die vertrekpunt in Christus se regering, aangesien die ampte slegs plaaslik gegee en die Woord plaaslik bedien word.29 Maar die sendinggemeente behoort ook sy beperkings te ken. Hy sal ook saam met alle heiliges wys moet word en vir die kerkverband onder Christus se regering moet kies. Dit is daarom ’n teken van gelowige nederigheid en gemeenskapsin as die plaaslike gemeente vir advies en bemoediging by die naburige gemeente aanklop. Dit is ook ’n teken van evangeliese oorwinning as die ras en kultuurgrense deurbreek word en gemeentes mekaar as broeders in Christus aanvaar.30 Dan sal die vraag oor watter predikers die sendinggemeente se kansel mag betree, ook vir die gemeente duidelik wees.

Hierdie beginsel wat die sendeling aan die sendinggemeente moet oordra, het verreikende gevolge, want waar sendinggemeentes mekaar opsoek en ondersteun, gaan daar ook ’n boodskap uit na buite. Sendingkerke moet ook sendende kerke wees. Ook vanuit die sendinggemeente moet die Woord na buite uitgaan. Meerdere preekpunte kan hom help om hierdie taak te aktiveer. So staan hy nie net saam met ander gemeentes in ’n kerkverband nie, maar kan hy vanuit sy plaaslike situasie kerkverbandelik uitbreidend wees. So wil Christus sy kerk uit alle volke en tale versamel en regeer.

4. DIE ROL WAT DIE KERKVERBAND IN KERKVERBANDELIKE SAMEWERKING MET DIE SENDINGGEMEENTES SPEEL.

4.1 Realisties?

Oor die algemeen is sendende en sendingkerke geografies ver van mekaar verwyderd. Kerkverbandelike samewerking kan moeilik wees om te realiseer. Die oorsaak daarvan kan geografies of kultureel van aard wees. Ook al maak die hedendaagse tegnologie dit maklik om te kommunikeer, is dit moeilik vir die sendende gemeente om op ’n goeie manier met die sendinggemeente saam te werk. Meestal geskied die kontak maar hoofsaaklik via die sendeling wat in die sendinggemeente werksaam is.Daar is egter ook situasies waar die sendende kerk en die sendinggemeente slegs ’n paar kilometer van mekaar verwyder is en deel van dieselfde samelewing is. Die sendende gemeente, en daarmee die kerkverband as geheel, kan ’n baie positiewe bydrae lewer in die kerkverbandelike samewerking met die sendinggemeente(s). Die volgende illustrasies wil dit duidelik maak:

4.2 Uit die geskiedenis …

Met die uitbreiding van die 16de eeuse Reformasie in Europa na lande soos Switserland, Frankryk, Engeland, Skotland en Nederland, het geïnstitueerde gemeentes al gou kerkverbandelike samewerking met ander (jong) gemeentes gesoek. Op verskeie plekke het gelowiges hulle van die Roomse kerk losgemaak en in plaaslike gemeentes wat met mekaar in verband getree het, begin vergader. In Genève het Calvyn se kerkregtelike beginsels ten opsigte van die kerkverband nie tot volle ontplooiing gekom nie, omdat daar net een gemeente was. In Frankryk was dit egter anders. Daar was in 1561 reeds verskeie kerke wat van vroeg af hul eenheid in geloof op organisatoriese wyse met mekaar gereël het. Die Gereformeerde kerke in Frankryk het, ondanks die vervolgings, in 1559 in ’n nasionale Sinode saamgekom. Verskeie Franse predikante, wat almal studente onder Calvyn was, het al in 1557 saamgekom om ’n kerkorde te probeer opstel om verskillende kerklike vraagstukke op te los. Dit het daartoe gelei dat in Mei 1559 die eerste sinodale vergadering van die 72 Franse gemeentes in Parys gehou is.31

Tydens hierdie sinode is ’n kerkorde opgestel, die Discipline Ecclésiastique, wat sy oorsprong onder andere in die Ordonnances ecclésiastiques van 1541 gehad het.32 Dit was die eerste pogings om vanuit gereformeerd kerkregtelike denke ’n orde vir ’n kerkverband te skep. Die kerke word in hierdie orde in een, geordende geheel saamgevat, waar Jesus Christus deur middel van die ampsdraers elke gemeente afsonderlik regeer. Verder word die beginsel bevestig dat al die gemeentes sake van gemeenskaplike belang op die sinodale vergadering moet beslis, terwyl die plaaslike gemeente as ’n selfstandige eenheid deur die plaaslike kerkraad onder leiding van die Woord en Gees regeer word. Die sendinggemeente kan uit bogenoemde historiese ontwikkeling leer dat ook jong kerke hul eie verband kan opbou en dit kerkordelik kan vaslê, nie apart van bestaande kerkverbande nie, maar in ’n groeiproses tot ’n kerkverband.

’n Verdere opvallende voorbeeld van hoe daar in Nederland deur die gereformeerde kerke op’n skriftuurlike wyse met kerkverband omgegaan is, lees ons in Rutgers se bekende publikasie oor die funksionering van die kerkverband soos dit “gekend word uit de handelingen van den Amsterdamschen Kerkeraad in den aanvang der zeventienden eeuw”33 . Daarin beskryf hy hoe die kerkraad van Amsterdam vier benaderings vir die kerkverbandelike omgang met ander gemeentes gevolg het. Sommige bande het hulle gehandhaaf, ander afgewys, ander tydelik verbreek en ander soveel moontlik probeer herstel. Dit het afgehang van die vraag of daar geloofseenheid tussen die Amsterdamse gemeente en die ander gemeente was. Sendinggemeentes kan ook hierdie onderskeid in omgang met ander gemeentes gebruik om te verseker dat hy hom slegs met die kerke waarmee hy een in geloof, leer en lewe is, aan Christus se regering onderwerp.

4.3 Uit die praktyk … die kerkverbandelike samewerking binne die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (VGKSA)

Nie net die geskiedenis maak duidelik dat jong gemeentes onderling en saam met die sendende gemeentes ’n kerkverband kan vorm nie. Ook die praktyk binne die VGKSA wys dat dit moontlik is. Die VGK Pretoria doen sinds die begin van die sestiger jare sendingwerk in Mamelodi, ’n swart woongebied oos van Pretoria.34 Hierdie werk het in die begin van die negentigerjare uitgebrei na Soshanguve, ook ’n swart woongebied noord van Pretoria. In die jare wat daarop volg, was daar gereelde samewerking tussen die sendende en die sendinggemeentes. Die sendelinge het in die laaste dekade van die vorige eeu die gemeentes na selfstandigheid gelei, sodat twee selfstandige Sotho-sprekende gemeentes vandag deel van die kerkverband is.

Veral tydens die afronding van die sendingwerk, het die sendelinge die broeders van die sendinggemeentes herhaaldelik in kerkverbandelike werk betrek. Hulle is saamgenooi na sinodale en ander meerdere vergaderings en ampsdraers van die sendende gemeentes en broeders uit die sendinggemeentes het verskeie kontaksessies gehad. Die sendinggemeentes het ook onderling mekaar besoek en kanselruil het gereeld voorgekom. Die broeders van die verskillende sendinggemeentes het ook een keer per jaar ’n konferensie gehou waar verskillende onderwerpe (o.a. ook kerkordelike sake) bespreek is.

In samewerking met die sendende kerke, is daar tussen 2002 en 2003 tot instituering van twee gemeentes oorgegaan.35 Ouderlinge en diakens is self deur die onderskeie gemeentes verkies en deur die sendelinge bevestig. Die gemeentes het ook elkeen sy eie predikant beroep. Ongeag aanvanklike moeite met die ondertekening van ’n gemeenskaplike kerkorde, het die jong gemeentes en hul nuwe kerkrade voortgegaan met hul aansoek by die VGKSA om in die kerkverband opgeneem te word. Dit is toegestaan, en die kerke het by die klassis Pretoria ingeskakel.

Sedertdien neem die gemeentes en hul kerkrade volledig aan die kerkverbandelike werksaamhede deel, en het volledig sitting op alle meerdere vergaderings. Die werksaamhede sluit onder andere ook die klassikale eksaminering van teologiese studente in. Die skrywer van hierdie artikel is byvoorbeeld tydens ’n klassikale vergadering saam met ’n Sotho-sprekende teologiese student geëksamineer en toegelaat tot die amp van predikant. Engels word as voertaal gebruik, en waar nodig, word wedersyds getolk.

Die jong gemeentes en die oorblywende sendinggemeentes, tesame met die sendende kerk(e), ervaar juis in hierdie kerkverbandelike samewerking baie konkreet die eenheid van die gereformeerde geloof. In hierdie kerkverband is hy saam die huis van God waaroor Christus regeer; gemeentes wat mekaar liefhet en dien soos Christus elke kerk van Hom liefhet en versorg.36

5. SAMEVATTING

Juis teenoor die baie sendinggenootskappe wat vandag wêreldwyd “sending” bedryf, moet die sendende gemeentes en kerkverband duidelik op die band waarin Christus hom met die sendinggemeentes verbind, wys. Susterkerke laat mekaar nooit los nie solank hulle in die ware eenheid van Christus verbind is. Dit is van groot betekenis in die opboufase van die sendinggemeente en voorkom dat sendinggemeentes vereensaam of slegs refleksie in die sendeling kan vind. Deur die uitlewing van bande, leer die sendinggemeente ook mettertyd wat sy kerkverbandelike verantwoordelikhede in die toekoms gaan wees. So moet gemeentes mekaar in die ruimte van die verlossing kan vashou om alles wat Christus geleer het te kan onderhou.

Die sendeling en die kerkverband kan ’n positiewe bydrae lewer in hierdie kerkverbandelike samewerking. Die sendeling kan dit doen deur die beginsel van God se regering oor die kerkverband aan die sendinggemeente oor te dra. Dit geskied deur die gemeente deur prediking en gesprekke op die skriftuurlike onderbou van kerkverbandelike samewerking te wys. Ook deur hom daarop te wys dat sy eenheid, heiligheid, katolisiteit en apostolisiteit, kerkverbandelike samewerking noodsaaklik maak.

Die kerkverband moet die sendinggemeentes help groei in die besef dat kerkverband nie net

’n saak van kerke wat hulself op ’n suiwer organisatoriese wyse met mekaar verbind nie. Die eenheid van die geloof, leer en lewe verbind kerke aan mekaar. Binne hierdie band wil die gemeentes mekaar hou by die Woord en ’n gehoorsame lewe met sy Koning Christus hou. Dit bepaal sy fundering.

Die kerke van die Reformasie het hierdie beginsel duidelik verstaan en uitgeleef. Veral die kerkraad van Amsterdam het vroeg in die sewentiende eeu ’n voorbeeld gegee van die wyse waarop sendinggemeentes met die kerkverband behoort om te gaan.

Ook die praktyk binne die VGKSA het uitgewys dat kerkverbandelike samewerking met sendinggemeentes moontlik is. En deur mekaar so in geloof te soek, word Christus gedien en mag sy kerk saamwerk op pad na die dag as Hy terugkeer om sy bruid na Hom te neem.

BIBLIOGRAFIE

Balke, W. 1990. De eigenschappen van de kerk, in: De Kerk (van’t Spijker, W. red.), Uitgeverij De Groot Goudriaan, Kampen.

Balke, W. 1996. Kuyper, Hoedemaker en Schilder over de eenheid van de kerk, in: Kerklijke eenheid, (Hagoort, red.), Kok, Kampen.

Bavinck, J.H. 1948. Zending in een wereld in nood, Zomer&Keuning, Wageningen.

Boersema, J.A. 1984. Wie is mondig? Mondigheid en missionaire benadering, in: Bezield verband, Uitgeverij Van den Berg, Kampen.

Calvyn, J. 1992. Institusie, Deel 4, in Afrikaans vertaal deur Simpson, H.W. CJBF, Potchefstroom. De Vries, W.G. 1993. De zegen van het kerkverband. De Reformatie, Jg. 68, no. 43, 7 Aug.

Deddens, D. 1991. Calvijn en de kerkorde van Genève I – IV. De Reformatie, Jg. 67, no. 7-10, Nov. –

Des. Du Plooy, A. le R. 1982. Kerkverband: ’n Gereformeerd-kerkregtelike studie, Pretoria, (proefskrif).

Greijdanus, S. s.j. Schriftbeginselen van kerkrecht, Uitgeverij J. Boersma, Enschede.

Haak, C.J. 1994a. Zending op wereldmaat I-III. De Reformatie, Jg. 69, no. 39 – 41, Jul.

Haak, C.J. 1997. Weldoen én omzien. Over de methodiek in de zending. De Reformatie, Jg. 72, no. 26, April.

Haak, C.J. 2002. Metamorfose, Intercultureel begeleiden van kerken in een niet-christelijke omgeving, Uitgeverij Boekencentrum, Zoetermeer.

Hendriks, H.J. 1994. Missionêre gemeentebou. Praktiese teologie in Suid Afrika, Jg. 9, no. 2.

Heyns, J.A. 1977. Die Kerk. NGkerk-boekhandel, Pretoria

Kamphuis, J. 1966. Verkenninge 3: Opstellen over kerk en kerkrecht, Oosterbaan en Le Cointre, Goes.

Meijer, J. W. 2000. Tog ’n lig…! Kroniek van die Vrye Gereformeerde Kerk Pretoria AD 1950-2000. Uitgegee deur die VGK Pretoria, Pretoria.

Pont, A.D. 1984b. Die invloed wat Calvyn uitgeoefen het op die samestelling van die eerste kerkordes van die Franse, Skotse en Nederlandse Kerke gedurende die sestiende eeu. Hervormde Teologiese Studies, Jg. 40, no. 2, Mei.

Rutgers, F.L. 1882. Het kerkverband der Nederlandsche Gereformeerde Kerken, gelijk dat gekend wordt uit de handelingen van den Amsterdamschen Kerkeraad in den aanvang der 17e eeu, J.H. Kruyt, Amsterdam,

Spoelstra, B. 1977. Die taak in die wêreld vandag. In die Skriflig, Jg. 11, no. 43, Sep.

Spoelstra, B. 1989. Gereformeerde kerkreg en kerkregering. ’n Handboek by die Kerkorde, Hammanskraal.

Van Andel, H.A. 1912. De zendingsleer van Gisbertus Voetius, Kok Kampen.

Van Genderen, J. & Velema, W.H. 1993. Beknopte Gereformeerde Dogmatiek, Kok, Kampen.

Van Niekerk, A. 2002. Ons geestelike toerusting vir mission ere diakonaat in kultuurkonteks. NGTT, Deel. 43, no. 3&4, Sep. & Des. 2002.

Verkuyl, J. s.j. In Ieiding in de Nieuwere Zendingswetenschap, Kok, Kampen.

1 Lesing by die Kerkreg-werkgemeenskap soos gehou op 7 September 2005 by die Noordwes Universiteit (Potchefstroom).

2 Spoelstra, B. 1989, p. 5.

3 Van Genderen, J. 1993, p. 621.

4 Verkuyl, J. s.j. p. 19.

5 Van Andel, H.A. 1912, p. 60, 73, 126, 141.

6 Bavinck, J.H. 1948, p. 5.

7 Haak, C.J. 2002, p. 240.

8 Hendriks, H.J. 1994, p. 187vv.

9 Van Niekerk, A. 2002, p. 616-629.

10 Haak, C.J. 1997, p. 559.

11 Boersema, J.A. 1984, p. 16, 28.

12 Boersema, J.A. 1984, p 35.

13 Balke, W. 1996, p. 50.

14 Vergelyk Kamphuis, J. 1966, p. 59-130.

15 De Vries, W.G. 1993, p. 868.

16 Du Plooy, A le R. 1982, p. 218-223.

17 Spoelstra, B. 1989, p. 170.

18 Heyns, J.A. 1977, p. 114.

19 Du Plooy, A le R. 1982, p. 130.

20 Balke, W. 1990, p. 261.

21 Spoelstra, B. 1977, p. 25.

22 Greijdanus, S. s.j. p. 11.

23 Balke, W. 1990, p. 269.

24 Van Genderen, J. 1993, p. 652.

25 Calvyn, J. 1992, Institusie, IV, 1, 9.

26 Du Plooy, A. le R. 1982, p. 180.

27 Du Plooy, A. le R. 1982, p. 180.

28 Spoelstra, B. 1989, p. 12.

29 Greijdanus, S. s.j. p. 12, 15-16.

30 Haak, C.J. 2002, p. 251

31 Pont, A.D. 1984b, p. 125v.

32 Rutgers, F.L. 1882, p. 19.

33 Deddens, D. 1991, p. 179v.

34 Meijer, J.W. 2000, p. 46

35 Sien ongepubliseerde Sinodale verslae van die VGKSA, 2002 en 2003

36 Du Plooy, A le R. 1982, p. 183.