Strauss, PJ
Universiteit van die Vrystaat

Skrif, belydenis en die aard van kerkverband

ABSTRACT

Scriptures, creed and the nature of ecumenics

The church as a denomination is part of the church in general and therefore – as it is the case with the church – also church. Both from a sociological and an ecclesiological view the church as a denomination should be seen as an institution whose own character is and should be qualified by the Christian faith. That is why confessions as the most basic documents in the response of the church to the message of the Bible is called confessions of faith or credo’s. That is also why a true church should be a confessing and unified community of Christian believers. The article concludes that the denomination as a bond of congregations should also play its role in helping these congregations to serve society with the Word of God.

INLEIDEND

Indien kerkverband óók kerk is, spreek dit eintlik vanself dat kerkverband ook die tipiese aard van die kerk sal vertoon. Indien kerkverband kerk is, sal hy na sy aard óók onderskeibaar wees van ander samelewingskringe met ander bestemmings- of leidende funksies as die kerk. Verskillende, onderskeibare funksies wat die aard en struktuur van verskillende samelewingskringe bepaal.

Waar byvoorbeeld die staat uit ’n Christelike sosiologiese oogpunt as ’n regsverband, die gesin as ’n liefdesverband en ’n bepaalde kultuurgroep as ’n volksgemeenskap getipeer kan word, word die kerk nie sonder rede nie as ’n geloofsverband omskryf. En, omdat die benaming “kerk” vir die geloofsgemeenskap alleen in die Christelike tradisie voorkom, beteken dit op hierdie standpunt dat die kerk ’n Christelike geloofsverband is. ’n “Onchristelike kerk” – so lui die argument – is ’n contradictio in terminis en kanselleer die bestaansrede of oorspronklike bestemmingsfunksie van die kerk .1 As geloofsverband is die kerk prinsipieel beskou gerig op of bestem vir die op- en uitbou van die Christelike geloof .2 ’n Sosiologiese standpunt wat in hierdie artikel aanstons ook vanuit ’n ekklesiologiese perspektief ontleed en getoets word.

Die aard van kerkverband in onderskeiding van die aard van ander samelewingskringe is egter nie die enigste hoek van waaruit hierdie verband getipeer kan word nie. Kerkverband het binne ’n gereformeerde verstaan van die kerk ook ’n eie plek naas die gemeentes of, soos dit soms popular uitgedruk word, die “plaaslike” kerke .3 In hierdie opsig is daar sprake van die aard van kerkverband in onderskeiding van die aard van die gemeentes. ’n Beskouing wat die aard van kerkverband vanuit ’n intern kerklike hoek en meer ekklesiologies en, spesifiek, kerkregtelik benader.

Dit is op hierdie tweërlei aard van kerkverband dat hierdie artikel ingaan met die vraag: Wat is die aard van kerkverband? ’n Vraag wat – om die twee kante van die antwoord te belig – deurgaans struktureel-normatief beantwoord word. Tipies gereformeerd en daarom geïntegreerd hiermee word ’n ander vraag ook gevra: Watter rol speel die Skrif en die belydenis van die kerk in dié antwoord? Wat is die normatiewe en reële plek van die Skrif en die kerklike belydenis in hierdie verband en watter invloed het dit op sy beurt op die vasstelling van die normatiewe aard van kerkverband?

Ons begin by die oorsprong van die kerk as die sigbare, georganiseerde gestalte van die Christusgelowiges. ’n Saak wat ten diepste vanuit die Bybel en die gereformeerde belydenisskrifte gesien die geloofs- en kerklike posisie van skrywer deses beperk ons ons tot die Drie Formuliere van Eenheid soos aanvaar by die Sinode van Dordrecht van 1618-16194 – belig moet word. So ’n ondersoek na die oorsprong van die kerk kan ook die rede vir die bestaan daarvan blootlê en daarom ook lig werp op die aard van die kerk en kerkverband.

DIE OORSPRONG EN AARD VAN DIE KERK

Volgens Skrif en belydenis is die ontstaan van die kerk terug te voer na God se besluit of sy raad. In daardie onvergeetlike klein loflied op God se genadige uitverkiesing gebruik Paulus in Efesiërs 1:3-14 die woorde “uitverkies”, “beskik”, “besluit” en “bestem” vir God wat alles laat gebeur volgens sy “raadsbesluit”. Hierdie besluit wat “vooruit” geneem is, nog “voordat die wêreld geskep is”. ’n Besluit wat in praktyk deurgevoer word “in” en “deur” Christus en deur die Heilige Gees wat die evangelie van “julle5 verlossing” so aan “julle” oordra dat “julle” tot geloof kom. ’n Besluit wat daarop gemik is dat mense hierdie Boodskap – die waarheid wat aan “julle” verkondig word – sal glo. ’n Besluit wat mense op ’n onsigbare manier deur die geloof wil verbind aan God-Drieënig.

In dieselfde trant praat Romeine 8:28-39 van die kerk as diegene wat “volgens sy besluit geroep is”, wat Hy “lank tevore verkies” en “bestem” het om te glo. Die uitverkorenes wat Hy in sy vrye genade vrygespreek het sodat niemand hulle meer oor hulle skuld by God kan aankla nie. Hulle, so sê Romeine 1:1-7, vir wie God liefhet en wat aan Hom behoort. Hulle wat deur sy genadige beskikking gelowig gereageer het op die “evangelie van God”.

Dieselfde toespitsing op geloof kry ons ook in die opsomming van die doel van die Evangelie van Johannes. In Johannes 20:31 word dit omskryf as iets wat beskrywe is “sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê”.

Die hele saak – verkiesing-verkondiging-geloof – word in antwoord 54 van die Heidelbergse Kategismus sistematies opgesom. Die vraag waarom dit hier gaan is wat met die belydenis van een, heilige, algemene Christelike kerk in die Apostolicum bedoel word? ’n Deel van die antwoord lui dat die Seun van God vir Hom uit die hele menslike geslag ’n gemeente vergader, beskerm en onderhou. ’n Gemeente wat, let wel, vooraf tot die ewige lewe uitverkies is en wat Hy deur sy Woord en Gees in die eenheid van die ware gelóóf van die begin van die wêreld af tot aan die einde toe byeenbring. In sy belydenis van en ook sy omskrywing van die kerk maak die Kategismus daarvan onproblematies ’n instelling wat deur die Christelike geloof gekwalifiseer word.

Ook die Nederlandse Geloofsbelydenis voer die oorsprong van die kerk terug na die uitverkiesing van God. Artikel 16 bely dat God die verlostes uit “louter goedheid” en sonder om hulle werke in aanmerking te neem, “in sy ewige en onveranderlike raad uitverkies” het in “Jesus Christus ons Here”. Hierdie belydenis word aangevul met onder andere artikel 27 wat handel oor die algemene Christelike kerk. Hier word die kerk ’n “heilige vergadering van almal wat in Jesus Christus glo”, genoem. Geloof in Christus is hier dus ook die kwalifiserende element. Anders gestel: in die kerk gaan dit om hulle wat vooraf gekies is om te kan glo.

Die Dordtse Leerreëls handhaaf ook die relasie “verkiesing-verkondiging-geloof” vanuit God, in en deur Christus deur die Heilige Gees. In die eerste leerstuk weerklink dit soos ’n refrein: “Om mense tot geloof te bring, stuur God uit louter goedheid verkondigers van hierdie vreugdevolle boodskap na wie Hy wil en wanneer Hy wil”. Die wat in Hom glo, sal nie verlore gaan nie. Maar die wat dié evangelie nie glo nie, die toorn van God bly op hulle. Verder: “Dat God aan sommige mense in die tyd die gawe van die geloof skenk en aan ander dit nie skenk nie, volg uit sy ewige besluit.” Volgens hierdie besluit “buig” God die uitverkorenes uit genade om tot geloof. ’n Besluit “nog voor die skepping” waardeur Hy deur sy Woord en Gees aan die uitverkorenes die “ware geloof’ in Christus te gee. Wat die Leerreëls betref, gaan dit in die kerk dus om hulle wat in Christus glo. Om die geredde Christengelowiges wat die oorsprong van hulle geloof kan terugvoer na die ewige besluit van die Vader.

Dit is daarom ook nie vreemd dat die belydenisse van die kerk – as ’n antwoord op die vreugdevolle evangelie – deur die eeue as geloofsbelydenisse bekend geword het nie .6 Die feit dat die Christelike geloof die bestemmingsfunksie van die kerk is, het noodwendig tot gevolg dat die kerk ’n belydeniskerk is en moet wees .7

Natuurlik gaan dit in die kerk ten diepste om die eer van God. Maar dan die eer van God vanuit die op- en uitbou van die “ware” Christelike geloof as invalshoek of leidende funksie van die kerk. Met die Skrif as die eerste norm en die belydenis as tweede norm vir hierdie geloof. Die belydenis wat van die Skrif afgelei en daarom objektiewe norm vir die geloof is, maar wat in sy ontstaanstyd as geloofsantwoord op die Bybel boonop ’n “gepositiveerde norm” vir die geloof is .8 Daarom dat gereformeerdes daarop staan dat Skrif en belydenis die hele inrigting en bediening van die kerk moet bepaal. Dat daar ’n aantoonbare lyn vanuit die Bybel deur die belydenis na die hele kerklike inrigting en bediening moet deurloop .9

Ietwat breër uitgewerk gaan dit in die kerk dus om hulle wat in God-Drieënig glo en sy Naam en die verlossings- en herskeppingsimplikasies van sy Boodskap bely en beleef. Dit beteken dat die identiteit van die kerk in sy kern ’n geloofs- of belydenisidentiteit is. ’n Identiteit wat deur God aan hom gegee word en wat opkom uit sy geloofsverbintenis met God10 . Hierdie uitgangspunt steun ook op Christus se reaksie in Matteus 16 op Petrus se belydenis dat Hy die Christus, die Seun van die lewende God is. Volgens die Here Jesus sou Hy sy kerk op hierdie man en sy belydenis bou, omdat dié belydenis nie deur ’n mens nie, maar sy Vader in die hemel bewerk is.11

Dit alles beteken dat kerkverband as deel van die kerk ook in diens van God en daarom van hierdie leidende (geloofs-)funksie van die kerk moet staan. Dat die aard van kerkverband – binne die raamwerk van kerkwees én teenoor ander samelewingskringe – onder andere óók bestempel kan word as ’n Christelike geloofsverband. In sy goedgefundeerde eksegetiese studie oor Skrif en kerkorde ’n jaar of twee gelede, verwys Celliers ook na die belydenis- of geloofsidentiteit van die kerk as hy sê dat dit basis vorm vir alle strukture wat die gelowiges en die gemeentes aan mekaar verbind: die kleingroep, die gemeente, die kerkverband en die universele kerk. Hy noem die geloofsidentiteit van die kerk die “basiese” struktuur van kerkwees12.

Op hierdie punt is dit miskien nodig om opnuut te bevestig dat kerkverband kerk is, ten spyte van die gereformeerd kerkregtelike oortuiging dat die gemeente volledig kerk of ecclesia completa is. Dat die gemeente om bepaalde redes – ons kom aanstons daarby – volledig kerk is, beteken nie dat dit die hele of die algemene kerk is nie13. En as kerkverband ’n noodsaaklikheid is en omskryf word as ’n verband van gemeentes wat binne die verband – onder andere – saamkom in meerdere vergaderings, wat anders kan dit wees as ’n bepaalde uitdrukking van kerkwees? ’n Uitdrukking soos ook geïmpliseer in die belydenis van die een, heilige, algemene Christelike kerk?14

GEMEENSKAPLIKE BELYDENIS EN GELOOFSGEMEENSKAP

Vir die gelowiges beteken hulle geloofsverbintenis en -gemeenskap met Christus egter ook dat hulle in gemeenskap met mekaar verkeer. Dit gaan in die kerk om geloofsgenote wat mekaar in geestelike gemeenskap vind omdat God hulle gevind en tot ’n gemeenskaplike geloofsbelydenis gebring het. ’n Gemeenskap wat saamgebind is deur hulle geloof in God-Drieënig. ’n Gemeenskap wat mekaar aan dieselfde belydeniswaarhede uitken en mekaar vanuit Christus deur sy Gees en as kinders van dieselfde Vader opsoek: ’n belydende eenheidsgemeenskap15.

Daarom dat gereformeerdes tradisioneel ook na kerklike belydenisskrifte verwys as die akkoord van kerklike gemeenskap16 . Kerkeenheid is ten diepste – in die grond van die saak – belydeniseenheid en ’n negering hiervan in pogings tot groter kerkeenheid of in die najaag van kerklike ekumene, lei nie tot ’n genesing nie, maar ’n verergering van die kwaal17.

Die Kategismus – ons het reeds daarna verwys – voer in antwoord 54 aan dat Christus sy kerk of gemeente deur sy Woord en Gees in die eenheid van die ware geloof vergader, beskerm en onderhou. Op dieselfde noot verklaar die Nederlandse Geloofsbelydenis in artikel 28 dat almal verplig is om die eenheid van die kerk te bewaar deur hulle aan die leer en tug van Christus te onderwerp. Dit gaan hier dus om ’n eenheid in die waarheid soos deur God in sy Woord geopenbaar. ’n Eenheid in belydenis omdat die Heilige Gees hulle met dieselfde waarheid in die hart gegryp het. In die woorde van JA Heyns: “Die kerk het nie ’n belydenis nie, maar die belydenis het die kerk”. Daarom moet die kerk nie net ’n belydeniskerk wees nie, maar ook ’n belydende kerk. ’n Kerk wat voortdurend tot belydenis as ’n daad oorgaan.18

Nader ontleed beteken belydenisgemeenskap geestelike eenheid rondom sekere kernwaarhede van die geloof en nie noodwendig konsensus of eendersheid in alle kerk- of geloofsake nie. As eendersheid oor alle sake die basis was waarop kerkverband moes vorm, was dit die begin van die einde van alle reformasie in die kerk. Want dan sou dit instemming met elke stukkie detail van elke besluit van elke vergadering of kerklike praktyk impliseer en enige bevraagtekening of positiewe verandering inhibeer. Meer nog, dan het kerklike verdelings op kern- sowel as periferiese waarhede geloop wat tradisioneel ’n sektariese manier van doen is en boonop ontken dat die waarhede van die gereformeerde belydenis van ’n algemene aard is19.

Jonker toon oortuigend aan dat die reformatore in hulle belydenisskrifte kontinuïteit wou soek met die algemene belydenisse van die vroeë kerk. Daarmee wou hulle hulle tydgenote oortuig dat hulle in hulle kerkwees ’n legitieme voortsetting was van hierdie kerk. Soos die vroeë kerk wou hulle ook die essensiële inhoud van die Christelike geloof weergee. Met een verskil: hulle het nie meer op belydenisse oor God nie, maar op uitgebreide belydenisse oor die soteriologie – die groot twispunt in die breuk met Rome – gekonsentreer. Volgens Jonker is die verskynsel van belydenisskrifte in hierdie tyd uit die praktyk gebore om die vervalle kerklike lewe opnuut te orden rondom die diens en die tug van die Woord 20. Heyns21, Pont22, Smit23 en Durand24 sluit hulle aan by hierdie standpunt dat belydeniswaarhede essensiële of kernwaarhede is.

Reeds op die Dordtse Sinode in 1619 is daar versoek dat die vergadering naas die Dordtse Leerreëls die – tot in daardie stadium – sogenaamde Twee Formuliere van Eenheid oorweeg ten opsigte van die dogmata of essentia doctrinae van hierdie geskrifte. Dit was die Nederlandse Geloofsbelydenis en Heidelbergse Kategismus25 . Twee tendense hier is opvallend. Die eerste is die uitdrukking of naam “Formuliere van Eenheid” (in Nederlands destyds “eenigheid”). Dit sluit aan by Kategismus antwoord 54, maar illustreer ook dat hierdie geskrifte as ’n gesaghebbende verwoording van die konsensus oor kernsake van die geloof in die ou Gereformeerde Kerk beskou is. Die tweede is dat geglo is dat dit hier om die dogmata of essentia doctrinae gaan wat ooreenstem met die Skrif. Op dieselfde lyn het die Algemene Sinode van 1998 van die NG Kerk geoordeel dat die gesag van die erkende belydenisskrifte van hierdie kerk setel in hulle verwoording van die “gereformeerde geloofsoortuiging”. Hulle is hierin gesagvol en bindend omdat (quia) hulle hierin ooreenstem met die Skrif. Hulle het gesag in die “saak wat hulle volgens die Skrif wil bely”26. Dit is dus tipies reformatories om belydenisskrifte enersyds te beskou as ’n aanvaarde getroue weergawe van die eenheid van die geloof wat as gawe van God ontvang is, maar andersyds ook as gesagvolle stukke wat hierdie geloofseenheid bevorder. ’n Effek wat ten diepste slegs moontlik is as en omdat hierdie geskrifte met die Woord van God ooreenstem – as en omdat die gesag van Woord en Gees van God agter hulle staan en deur hulle werk.

Hier is dus sprake van geloofsgemeenskap omdat die kern van hierdie geloof vanuit die harte van die gelowiges – dit is wat egte belydeniskwessies moet wees – saam of kollektief bely word.

’n Uiteensetting van die rol, relevansie en gesag van belydenisskrifte in kerkverband bevestig of onderstreep dus die geloofsaard van hierdie verband in onderskeiding van die aard van ander same- lewingskringe. Maar, juis vanuit die Skrif, die belydenis en die ekklesiologie kom daar ook gegewens om die strukturele aard of inhoud van hierdie verband in onderskeiding van die gemeente te begrond.

SKRIF EN BELYDENIS EN DIE AARD VAN KERKVERBAND

Daar leef ’n breë eenstemmigheid onder gereformeerdes in die Dordtse tradisie dat kerkverband ’n verband van gemeentes is. Of dit ’n losser federale of ’n nouer sinodale verband is. Kerkverband is ’n verband van gemeentes as volledige kerke of ecclesiae completae. Dat gemeentes volledig kerk is, beteken nie dat hulle die hele kerk of volmaak kerk is nie. Dit beteken alleen dat die merktekens of kenmerke van die ware kerk slegs in die gemeente aangetref kan word. Hierdie merktekens of notae ecclesiae is die suiwere prediking van die Woord en sakramente en die handhawing van die kerklike tug. Die begronding hiervoor word gevind in Skriflyne soos saamgetrek in artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis of Confessio Belgica. Histories gaan hierdie benadering terug tot op Calvyn. Die gemeente bly kerk – volledig kerk – selfs al bly daar net een gemeente op aarde oor.27

Maar, juis omdat die gemeente in hierdie sin en teen hierdie agtergrond volledig én belydend kerk is, tree hy gewillig en vrywillig met ander gemeentes van dieselfde belydenis en hoofsake van kerkinrigting toe tot kerkverband28. In die woorde van Heyns: “’n Kerk tree tot die verband toe,nie met die doel om kerk te word nie, maar omdat hy kerk is”29. As die belydenis die kerk of die gemeente hét, soek dit spontaan verband met ander kerke wat in die greep van dieselfde belydenis verkeer. Waar die Gees deur die Woord mense tot ’n belydenis van Christus bring, waar die Woord en die belydenis die inrigting en bediening van die kerk bepaal, daar word die kerk van Christus gebou. Die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk van 1998 stel dit so;

“… die behoud van die gereformeerde karakter van die Ned Geref Kerk (staan) in direkte verband met die wyse waarop daar in die kerklike lewe, liturgie, prediking en onderrig aangesluit word by die verstaan van die evangelie soos dit in die historiese gereformeerde belydenisskrifte neerslag gevind het”30 .

Die rol en relevansie van die belydenisse van die kerk word deur Jonker en andere goed saamgevat as hulle dit die spreekreëls vir die verkondiging van die Woord – deur die handhawing van die notae ecclesiae – noem. Daardie verkondiging en onderrig wat sentraal in ’n gereformeerde kerk se totale bediening moet staan. Die kerk se belydenisse word so ’n stok om dwaling mee te slaan,’n staf om op die pad van die Woord te gaan én daarom ’n stem wat ’n lied vir God sing 31.

Hoewel die gemeente wat tot kerkverband toetree volledig kerk is, moet sy toetrede tot kerkverband hom in sy kerkwees versterk. Meer nog, die verband as die verband van die betrokke gemeentes gesamentlik, moet daarby óók hulle gesamentlike “verkondiging van of diens aan die Woord” opneem. Daardie verkondiging wat hulle nie alleen of elkeen op sy eie kan onderneem nie. Hierdie aksie moet die verkondiging deur elke gemeente ondersteun en aanvul en nie vervang nie. Dit setel immers óók in die aard en daarom die funksie van kerkverband as ’n geloofsverband om die welwese van die gemeentes – indiwidueel én gesamentlik – te dien en nie om hulle “oor te neem” nie 32.

Dit alles beteken dat die Skrif as norma nomans (eerste norm) en die belydenis as norma normata (tweede norm)33aan elke handeling van die kerk en van kerkvergaderings – ook meerdere vergaderings of die vergaderings van die verband – vooraf moet gaan.

Hierdie uitgangspunt roep die vraag op of die Skrif en die gereformeerde belydenisskrifte soos die Drie Formuliere van Eenheid dan ’n bepaalde voorskrif of vorm vir kerkverband deurgee?

SKRIF- EN BELYDENISVOORSKRIFTE VIR VORM VAN KERKVERBAND?

Nie die Bybel of die Drie Formuliere gee ’n bepaalde voorskrif oor die vorm of “model” van kerkverband nie. Tussen die gemeentes van die Nuwe Testament was daar byvoorbeeld geen vorm van strukturele eenheid of ’n kerkverband in die moderne sin van die woord nie. As liggaam van Christus was hulle egter onteenseglik een in ander aspekte soos leer en diens34. Mens sou in hierdie geval kon praat van een geloofsband wat hom op verskeie maniere uitgedruk of vergestalt het. Die feit dat die Bybel nie ’n moderne vorm van kerkverband ken nie 35 en dat daar ook ander vorme van sigbare eenheid tussen gemeentes is, maak eersgenoemde nie oorbodig of minder belangrik nie. Hoewel die Bybel nie direkte spesifiserende eise oor die strukturele kante van kerkeenheid bevat nie en slegs die destydse stande van sake oor die eenheid tussen die gemeentes deurgee, is die Skrif tog baie duidelik oor die noodsaak van sigbare eenheid tussen die gelowiges van alle gemeentes of kerke. ’n Eenheid wat as geloofseenheid bou op gemeenskaplike geloofswaarhede (vgl byvoorbeeld Ef 4:1-16 ens) en wat hom ook uitdruk in gesamentlike besluitneming en onderlinge hulpbetoon (Hand 15 en 11 Kor 9). Selfs die veelbesproke ouderlinge- en apostelkonvent in Jerusalem wat in Handelinge 15 beskryf word, was nie’n meerdere vergadering in die moderne sin van die woord nie.36

Hoewel die Drie Formuliere ook geen direkte spesifiserende voorskrifte vir die inrigting van kerkverband gee nie, kom talle aspekte van die “onsigbare” sowel as die sigbare kante van die een, heilige, algemene kerk wat dit bely, duidelik daarin na vore. Die sogenaamde derde artikel van die Apostolicum wat handel oor die Heilige Gees en daarom die kerk, is die fokuspunt van meer as die helfte van die Nederlandse Geloofsbelydenis naamlik artikel 15 tot 37. Veral in artikel 27 tot 29 word daar op die sigbare eenheid van die kerk gekonsentreer. Hier word die kerk – veelseggend genoeg – in die enkelvoud beskryf as ’n vergadering van die gelowiges rondom die notae ecclesiae waarvan niemand hom in selftevredenheid afsydig mag hou nie. In die Heidelbergse Kategismus noem antwoord 54 die kerk die gemeente van die Here – weer die enkelvoud! – wat Hy deur sy Woord en Gees van die begin van die wêreld af tot aan die einde daarvan in die eenheid van die ware geloof versamel, beskerm en onderhou. Antwoord 55 bou hierop deur na die gemeenskap van die gelowiges te verwys as iets waarin almal aan die gawes van Christus en daarom aan mekaar deel het en waarin hulle hulle gawes tot nut en saligheid van mekaar moet aanwend.

Die Drie Formuliere bely dus die grondstruktuur van die kerk as ’n geloofstruktuur met “sigbare” kante sonder om die strukturele of “uiterlik” georganiseerde kant hiervan vir altyd en onder alle omstandighede in besonderhede te probeer vaslê: die “dat” maar nie die “hoe” van kerkverband nie. Anders gestel: soos in die Skrif is gedetailleerde eise vir die inhoud van kerkverband nie in die Drie Formuliere aanwesig nie. Hierdie toedrag van sake is immers in ooreenstemming met die aard van ’n belydenisskrif as ’n verwoording van die kernsake van die geloof. Daarteenoor was en is kerkverband vir baie gereformeerdes ’n Skrifgefundeerde noodsaaklikheid37 waarvan die praktiese uitwerking egter by omstandighede aanpas en daarom ’n middelmatige saak is.

SLOT

Vanuit die oortuiging dat die kerk – en daarom ook die kerkverband – ’n geloofstruktuur is, word dit aanvaar dat kerklike geloofsbelydenisse die akkoord van geloofsgemeenskap in kerkverband is. Hoewel die Skrif en spesifiek die Drie Formuliere van Eenheid nie die inhoud van hierdie verband voorskryf nie, impliseer dit tog die noodsaak daarvan. Histories beskou is hierdie belydenisskrifte by die Nasionale Sinode van Dordrecht van 1618-1619 egter ook so genome omdat dit die akkoord van gemeenskap of die uitdrukking van die eenheid van die geloof in die destydse verband van die Nederlandse Gereformeerde Kerke was 38. Geloofsbelydenisse wat die afspraak vir kerkverband vorm omdat so ’n verband na sy aard ’n geloofsverband is.

BIBLIOGRAFIE

Bavinck, H 1967. Gereformeerde Dogmatiek IV. Kampen: Kok.

Bouwman, H 1985. Gereformeerde Kerkrecht II. Kampen: Kok.

Celliers, A 2003. Skrif en Kerkorde. Bloemfontein: UV (ongepubliseerde DTh-proefskrif).

Donner, JH en Van den Hoorn, SA sa. Acta Nationale Synode te Dordrecht. Leiden: Donner.

Du Plooy, A le R 1988. Die verband tussen Skrif, konfessie en kerkorde volgens die gereformeerde kerkreg. Potchefstroom: PU vir CHO.

Du Plooy, A le R 1989. Ekklesia en meerdere vergaderinge. Potchefstroom: PU vir CHO (ongepubliseerde ThM-verhandeling).

Durand, JJF 1984. ’n Belydenis – was dit werklik nodig? In: Cloete, GD en Smit, DJ. ’n Oomblik van waarheid. Kaapstad: Tafelberg.

Fowler, S 1988. The state in the light of the scriptures. Potchefstroom: PU vir CHO.

Heyns, JA 1974. Kerk en samelewing. In Duvenhage, SCW (red). Reformasie en revolusie. Potchefstroom: PU vir CHO.

Heyns, JA 1977. Die Kerk. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Hill, D 1972. The Gospel of Matthew. London: Oliphants.

Jonker, WD 1994. Bevrydende waarheid. Die karakter van die gereformeerde belydenis. Wellington: Hugenote-uitgewers.

Kleynhans, EPJ 1985. Gereformeerde Kerkreg III. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Kock, P de B 1975. Christelike Wysbegeeerte – Inleiding. Bloemfontein: Sacum.

Kock, P de B sa. Kerkherstel. Sl:sn.

Kuyper, HH sa. De Post Acta of nahandelingen van de Nationale Synode van Dordrecht. Amsterdam: Höveker en Wormser.

Ned Geref Kerk, 1998. Handelinge van die Algemene Sinode. Sl:sn.

Pont, AD 1981. Die historiese agtergronde van ons kerklike reg. Pretoria: HAUM.

Schulze, LF 1978. Geloof deur die eeue. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Smit, DJ 1994. “…Op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en verontregte…” In: Cloete, GD en Smit DJ. ’n Oomblik van waarheid. Kaapstad: Tafelberg.

Strauss, PJ 1992. Die kerkinstituut: akker vir Gods heil? In: Smit, JH, Strauss PJ en Strauss SA (reds). Reformasie in ootmoed. Bloemfontein: VCHO.

Van Wyk, JH 2005. Eenheid nie eendersheid. Volksblad 15:04:2005.

1 Heyns, JA 1974. Kerk en samelewing. In Duvenhage, SCW (red). Reformasie en revolusie. Potchefstroom: PU vir CHO, 37-46. Heyns oordeel dat die taak van die kerk die kultiese viering van die verkondiging van die heilsboodskap behels. Vir die standpunt dat die kerk ’n Christelike geloofsverband is, vgl Kock, P de B 1975. Christelike Wysbegeerte – Inleiding. Bloemfontein: Sacum, 142-144; Fowler, S 1988. The state in the light of the scriptures. Potchefstroom: PU vir CHO, 36-37.

2 Strauss, PJ 1992. Die kerkinstituut: akker vir Gods heil? In: Smit, JH, Strauss, PJ en Strauss, SA (reds), Reformasie in ootmoed. Bloemfontein: VCHO, 43, 47.

3 Kock, P de B sa. Kerkherstel. Sl:sn, 12.

4 Donner, JH en van den Hoorn, SA sa. Acta Nationale Synode te Dordrecht. Leiden: Donner, 307vv, 320, 325.

5 Hierdie “julle” word in Efesiërs 1:1 beskryf met “almal in Efese wat aan God behoort en in Jesus Christus glo”. Kortweg: die gelowiges in Efese.

6 Vgl Schulze, LF 1978. Geloof deur die eeue. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

7 Kock 1975, 143.

8 Bouwman, H 1985. Gereformeerd Kerkrecht II. Kampen: Kok, 569.

9 Du Plooy, A le R 1988. Die verband tussen Skrif, konfessie en kerkorde volgens die gereformeerde kerkreg. Potchefstroom: PU vir CHO.

10 Kock 1975, 142 het dit in wysgerige terme oor die tradisionele onderskeid tussen die sigbare en onsigbare kerk en sê dan van die onsigbare kerk: “Hierdie kerk kan ons ook nie organisatories ‘maak’ nie. Dit is die seun van die mens self wat deur sy Woord en Gees die uitverkorenes tot die ewige lewe tot ’n gemeente vergader.” Die “kerkinstituut” of sigbare kerk is ’n direkte uitdrukking hiervan en kan vir geen oomblik daarvan losgemaak of -gedink word nie. Die Here organiseer dit deur “menslike bemiddeling” of dan deur mense wat in “geloofsgehoorsaamheid” optree, “tot ’n eiesoortige samelewingstruktuur binne die horisonte van ons kosmiese ervaring”.

11 Hill, D 1972. The Gospel of Matthew. London: Oliphants, 261.

12 Celliers, A 2003. Skrif en kerkorde. Bloemfontein: UV (ongepubliseerde DTh-proefskrif), 307-312.

13 Heyns, JA 1977. Die kerk. Pretoria: NG Kerkboekhandel, 170.

14 Vgl Heyns se dogmaties-ekklesiologiese betoog, 1977, 170-175.

15 Heyns 1977, 157.

16 Bouwman, 556.

17 Kock 1975, 143.

18 Heyns 1977, 158-159.

19 Van Wyk, JH 2005. Eenheid nie eendersheid. Volksblad 15:04:2005, 8.

20 Jonker, WD 1994. Bevrydende waarheid. Die karakter van die gereformeerde belydenis. Wellington: Hugenote-Uitgewers, 6, 19, 49

21 Heyns 1977, 156.

22 Pont, AD 1981. Historiese agtergronde van ons kerklike reg I. Pretoria: HAUM, 9.

23 Smit, DJ 1984. “… Op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en verontregte …” In: Cloete, GD en Smit, DJ. ’n Oomblik van waarheid. Kaapstad: Tafelberg, 66.

24 Durand, JJF 1984. ’n Belydenis – was dit werklik nodig? In: Cloete, GD en Smit DJ. ’n Oomblik van waarheid. Kaapstad: Tafelberg, 45.

25 Kuyper, HH sa. De Post Acta of nahandelingen van de Nationale Synode van Dordrecht. Amsterdam: Höveker en Wormser, 325.

26 Ned Geref Kerk, 1998. Handelinge van die Algemene Sinode. Sl:sn, 414.

27 Bavinck, H 1967. Gereformeerde Dogmatiek IV. Kampen: Kok, 356.

28 Bouwman, 16-17.

29 Heyns 1977, 173.

30 Ned Geref Kerk, 465.

31 Jonker, 8-9.

32 Kleynhans, EPJ 1985. Gereformeerde Kerkreg III. Pretoria: NG Kerkboekhandel, 7vv.

33 Bouwman, 566

34 Du Plooy A, le R 1989. Ekklésia en meerdere vergaderinge. Potchefstroom: PU vir CHO (ongepubliseerde ThM-verhandeling), 83 noem dit ’n “duidelike dogmatologiese en diakoniologiese eenheid ... en tog nie ’n ‘vereniging’ nie”. Op ’n ander plek noem hy dit ’n “sigbare geloofsband en gemeenskapsband”, 80. Op sy beurt praat Kleynhans van ’n bibliologiese, konfessionele en diakoniologiese eenheid tussen die gemeentes van die Nuwe Testament, 2.

35 Celliers, 80 beweer dat die gemeentes in die Nuwe Testament nie deur formele kerklike bande of gesag aan mekaar verbind was nie.

36 Celliers, 79; vgl Kleynhans, 2-5 wat beweer dat die “wortels” van presbiteriale kerkregering in Hand 15 te vinde is.

37 Kleynhans, 1vv

38 Kuyper, 133; Bouwman, 569.