Coertzen, P
Universiteit van Stellenbosch

Kerk en staat: Die optimum verhouding vir godsdiensvryheid

ABSTRACT

Church and state: An optimum relationship for freedom of religion

Some of the most important questions that church law and church government has to answer in our time regards the relationship between church and state and freedom of religion. This article looks at the inevitability of a church state relationship, tries to give a working definition for freedom of religion and looks at various models for a church state relationship in order to identify an optimum relationship for freedom of religion.

1. TER INLEIDING

1.1 Wat hier volg is die navorsing en nadenke van ’n teoloog-kerkregtelike oor die verhouding tussen kerk en staat, godsdiensvryheid en welke verhouding tussen die kerk en die staat die mees ideale is om die optimum mate van godsdiensvryheid te bevorder. Gedurende die jongste jare in Suid-Afrika het die verhouding tussen kerk en staat – veral soos dit in die Grondwet van die land verwoord word– wetgewing, die beleid van die regering en die posisie van kerke as gevolg hiervan van die belangrikste velde van navorsing vir kerkreg geword. Die veranderinge in die arbeidswette van die land, nuwe belastingwetgewing, die wet op die toegang tot inligting en die juridiese toepassing van die Grondwetlike Handves van Regte met gewaarborgde godsdiensvryheid as een van die regte, was en is steeds maar net ’n paar van talle nuwe situasies wat aanleiding is dat kerke opnuut moet besin oor hulle kerkregtelike posisie tov van hierdie en ander aangeleenthede. Dat dit sake is wat nie net in Suid-Afrika aktueel is nie blyk ook uit die talle publikasies oor godsdiensvryheid wat tans in Europa verskyn nav die voorgestelde Grondwet vir die Europese Unie en die hantering van minderheidsregte binne talle lande van Europa; die voortgaande debat oor “establishment” en “free exercise” in die Verenigde State van Amerika en omvangryke publikasies soos Religious Human Rights in Global Perspective – Legal Perspectives en Religious Perspectives. In Suid-Afrika lê die uniekheid ondermeer daarin dat baie kerke vir die eerste keer in hulle bestaan werklik met die vrae betreffende baie van hierdie aangeleenthede te doen kry. Die Staat met sy wetgewende organe het self ook nie ’n lang tradisie waarop daar teruggeval kan word nie en dit dra ewe eens by tot die uniekheid en dringendheid van die debat in hierdie land.

1.2 Dat die verhouding tussen kerk en staat baie belangrik is, kan skaars betwyfel word. Karl Barth het al die noodsaaklikheid vir die kerk om sy verhouding tot die staat te reël, beklemtoon toe hy die kerk se verhouding tot “the existing and authoritative state and its laws, organs and measures” beskryf het as “the most outstanding and comprehensive” verhouding van alle sosiale verhoudinge waarin die kerk te staan kan kom (Barth,sj,678). Uit die geskiedenis van die wêreld weet ons ook dat talle oorloë, vervolgings, martelings en onderdrukking al in die naam van godsdiens gevoer is. Godsdiens is ’n krag in enige samelewing wat kan verwoes en vernietig maar ook kan verander en opbou; mense kan martel en doodmaak maar ook aan mense die vryheid en ruimte kan bied om hulle skeppende vermoëns en Godgegewe gawes tot volle ontplooiing te laat kom. Die erkenning en beoefening van vryheid van godsdiens kan inderdaad ’n bydrae lewer om hierdie geweldige krag in mense en ’n samelewing se bestaan in die regte en beste bane te stuur. Gegewe die belangrikheid van godsdiensvryheid vir kerke is dit dus ook vir kerke belangrik om te probeer vasstel welke verhouding met die staat die optimum moontlikheid vir godsdiensvryheid bied.

1.3 In hierdie voordrag gaan daar getrag word om in die lig van navorsing kortliks iets te sê oor godsdiensvryheid, ’n aantal moontlike verhoudinge tussen kerk en staat te identifiseer na aanleiding van die standpunte van bepaalde outeurs, asook te probeer vasstel welke verhouding die grootste moontlikheid tot godsdiensvryheid bied. Tenslotte sal daar getrag word om ’n aantal gevolgtrekkinge te maak met betrekking tot die situasie in Suid-Afrika en wat dit vir kerke beteken.

2. GODSDIENSVRYHEID

Godsdiensvryheid is ’n veelkantige saak waaroor baie mense verskillende menings het en waarvan hulle verskillende kante beklemtoon (vgl. Vermeulen&Kanne 2004:76-77; Sap 2004:114-117; Blei 2003:2-3; Van Drimmelen,sj,199). In die hoofstuk oor The Essential Rights and Liberties of Religion (Witte 2000:39-55) in sy boek Religion and the American Constitutional Experiment. Essential Rights and Liberties identifiseer John Witte jr ses essensiële regte en vryhede wat volgens hom die wesenlike van godsdiensvryheid uitmaak tw. vryheid van gewete; vrye beoefening van godsdiens, godsdiens pluralisme, die gelykheid van godsdienste, die skeiding van kerk en staat en die nie-bevordering van ’n bepaalde kerk of godsdiens deur die staat of te wel “disestablishment”. Hierdie ses elemente is inderdaad nie ’n definisie van godsdiensvryheid nie en fynere onderskeidinge en uitwerkinge tov van elkeen van hierdie elemente is moontlik sommige, waarvan in hierdie referaat ter sprake sal kom. Die elemente kan klaarblyklik ook verskillend funksioneer binne verskillende kontekste – dit hang dikwels baie nou saam met geskiedenis, kultuur en tradisie. Dit kan egter nie betwyfel word dat dit baie nuttige onderskeidinge is om te verstaan wat godsdiensvryheid is en waaraan aandag gegee moet word ten einde die optimum mate van godsdiensvryheid binne ’n bepaalde opset te help vestig nie.

3. KERK EN STAAT

Godsdiensvryheid en van die aangeleenthede wat daarmee in verband staan figureer hoofsaaklik binne die verhouding tussen die staat en kerk-/godsdiensgemeenskappe of anders gestel binne die verhouding tussen die staat as die wettige gesaghebber oor ’n bepaalde gebied en die kerke/godsdiensgemeenskappe wat binne die gesagsgebied van die staat hulle godsdiens beoefen. Godsdiensvryheid figureer egter nie uitsluitlik net binne ’n verhouding tussen kerk en staat nie aangesien dit ook ingrypende implikasies kan hê vir kerke as sodanig: die wyse waarop hulle hulself struktureer asook die wyse waarop hulle binne die samelewing funksioneer. Die Duitse kerkregtelike Peter Krämer het tereg gewys op die interne gevolge wat godsdiensvryheid vir kerke kan hê en die feit dat kerke dit in ag moet neem (Krämer 1981:12). Van sy kant af kan die staat op verskillende maniere reageer met betrekking tot kerke en godsdienste binne sy gesagsgebied.

3.1 K Blei wys op die volgende moontlikhede:

• eerstens totalitêre en outoritêre state waar die staat absolute mag oor godsdienste uitoefen dikwels omdat hy hulle as ’n bedreiging vir sy eie gesag sien. Hulle is Korea en Vietnam val volgens hom binne hierdie kategorie.

• Tweedens is daar state wat slegs een kerk of godsdiens erken, gewoonlik die kerk/godsdiens van die meerderheid van die bevolking en as gevolg daarvan vyandig staan teenoor ander kerke/godsdienste. Lande waar dit die geval is volgens Blei o.m. Iran, Saoedi-Arabië en Soedan.

• Derdens is daar lande wat formeel godsdienstige diskriminasie en vervolging verbied. Omdat die bevolking egter godsdienstig gemengd is, ontstaan interne probleme wat self tot burgeroorlog kan lei – voorbeelde hiervan is Egipte, Indonesië en Indië.

• Vierdens is daar lande wat formeel godsdiensvryheid erken maar waar ’n sekere kerk/godsdiens tog bevoordeel word – gewoonlik die meerderheidsgodsdiens – terwyl minderheidsgodsdienste in benadeelde posisies is. Formeel dus godsdiensvryheid, maar in praktyk benadeling. Lande wat Blei onder hierdie kategorie plaas, is Belarus, Bulgarye, Georgië, Roemenië, en Rusland. Dit is almal lande waar die Ortodokse Kerk die amptelik erkende Kerk is.

• ’n Vyfde moontlikheid is waar godsdiensvryheid in gevaar is. Godsdiensvryheid is altyd onderworpe aan sekere wetlike beperkinge – ook in Suid-Afrika. Daar is egter situasies waar hierdie beperkinge akuut kan raak en godsdiensvryheid as gevolg daarvan in gevaar kan kom. Dit kan gebeur twv openbare veiligheid, openbare orde, gesondheids- en/of morele oorwegings, of wanneer die regte van ander burgers bedreig word. Blei meen dat Frankryk tans (2003) ’n land is waar sodanige beperkings geld terwyl heelparty ander Europese lande na 11/9 ook beperkend is tov Moslems (Blei 2003:3).

3.2 Die regsgeleerde en internasionaal erkende kenner op die gebied van godsdiensvryheid W. Cole Durham jr. onderskei agt moontlike verhoudings wat daar tussen kerk en staat kan bestaan.

3.2.1. Die eerste wat Durham aan die een uiterste van die moontlike verhoudings tussen kerk en staat onderskei is sg absolute teokrasieë. Hy vind hedendaags voorbeelde van hierdie verhouding veral in bv fundamentalistiese Islam-state (Durham 1996:19). Teokrasie as ’n bepaalde vorm vir die verhouding tussen kerk en staat kan ’n wye reeks van vorme inneem. Binne die Gereformeerde wêreld is dit ook bekend, soos bv verwoord in die NGB art 36 – waarvolgens die owerheid o.m. die taak het “om die heilige Woordbediening te beskerm om sodoende alle afgodery en valse godsdiens teen te gaan en uit te roei, die ryk van die Antichris te vernietig en die koninkryk van Jesus Christus te bevorder en orals te laat verkondig sodat God deur elkeen geëer en gedien word, soos Hy in sy Woord beveel.” (Nederlandse Geloofsbelydenis art 36).

3.2.2. ’n Tweede vorm vir die verhouding wat Durham onderskei is dié van sg “Established Churches”. Gildenhuys vertaal “established churches” met staatskerke – dit is m.i. ’n vraag of dit heeltemal korrek is en of iets soos “bevestigde kerke” nie meer korrek sal wees nie – toegegee in sommige gevalle is dit inderdaad staatskerke. Ook by hierdie kategorie is daar volgens Durham ’n wye reeks moontlike verhoudinge tussen kerk en staat met baie verskillende implikasies vir die godsdiensvryheid van minderheidsgroepe.

• Een moontlikheid, wat nou verwant is aan teokrasie is dié van ’n regime met’n staatskerk wat ’n monopolie in alle godsdiens aangeleenthede het – Spanje en Italië gedurende sekere tye van hulle bestaan, is volgens Durham klassieke voorbeelde hiervan. Die bewind aan die Kaap tussen 1652 en 1795 sou sekerlik ook binne hierdie kategorie val.

• ’n Volgende moontlikheid in hierdie kategorie is dié van lande met ’n “staatskerk” maar wat terselfdertyd ’n beperkte aantal van ander geloofsoortuiginge toelaat. Durham verwys in hierdie verband na ’n Islamitiese land wat tog ook wel “People of the Book” toelaat maar geen ander godsdiens nie. Miskien sou Nederland van die sewentiende eeu wat talle vlugtelinge van verskillende geloofsoortuiginge toegelaat, maar bv nie die Remonstrante nie, ’n goeie voorbeeld binne die Protestantse wêreld wees.

• ’n Derde moontlikheid sou ’n land wees met ’n “bevestigde kerk” maar wat gelyke behandeling vir alle ander geloofsoortuigings waarborg – Brittanje sou’n voorbeeld van sodanige stelsel wees (Durham 1996:20).

3.2.3. Goedgekeurde Kerke (“Endorsed Churches”). Hier beteken die verhouding tussen kerk en staat dat daar nie ’n amptelik-formele staatskerk is nie maar ’n bepaalde kerk word tog gesien as sou dit ’n spesiale plek in die betrokke land se geskiedenis en tradisie het. Volgens Durham is dit veral die situasie in lande waar die Rooms Katolieke Kerk ’n baie sterk rol en invloed het maar waar daar in die jongste verlede ’n nuwe Grondwet aanvaar is. Die goedgekeurde kerk word spesiaal erken terwyl ander kerke kragtens die Grondwet van die land tog ook wel op gelyke beskerming kan aanspraak maak. In sommige gevalle behels die besondere erkenning van ’n bepaalde kerk nie veel meer as’n erkenning dat die kerk ’n besondere rol in die land se geskiedenis en kultuur gespeel het nie. Aan die ander kant gebeur dit ook dat die goedkeuring van ’n bepaalde kerk in werklikheid die voortsetting van dié kerk as “staatskerk” is terwyl dit voorgedoen word asof die verhouding tussen kerk en staat meer liberaal van aard is en ’n groter skeiding van kerk en staat behels (Durham1996:20).

3.2.4. ’n Vierde moontlike verhouding tussen kerk en staat wat Durham onderskei is dié van sg ko-operatiewe regimes of te wel samewerkende bewinde. In hierdie gevalle word daar geen spesiale status aan enige van die hoofstroom kerke gegee nie maar die staat werk op verskeie manier saam met alle kerke. Duitsland is ’n voorbeeld van sodanige bewind. Die staat voorsien bv fondse vir allerlei aksies wat verband hou met kerke soos godsdiensonderrig, die onderhoud van kerke, die salarisse van kerklike ampsdraers ens. In die geval van Duitsland help die staat ook met die invordering van kerkbelasting. Dit gebeur dikwels dat die verhouding tussen kerk en staat in hierdie gevalle deur allerlei ooreenkomste en konkordate gereël word. Durham noem Spanje, Italië en Pole as voorbeelde van lande waar daar sodanige ooreenkomste bestaan. Duitsland sou ook bygevoeg kon word. Verskeie Latyns-Amerikaanse lande volg ook hierdie patroon. Hoewel die samewerkende bewinde alle godsdienste gelyk behandel en geen spesifieke godsdiens onderskryf nie is daar dikwels bepaalde vorme van hulp en ondersteuning aan groter denominasies. Dit is dikwels moeilik vir die staat om alle godsdienste gelyk te behandel weens verskillende behoeftes wat die onderskeie godsdienste en kerke het. Dit gebeur ook maklik dat bepaalde bevoordeling ontstaan of dat die outonomie dat in bepaalde gevalle ’n besondere samewerking tussen ’n staat en kerke/godsdiensgemeenskappe nodig is vir ’n bepaalde periode soos bv na die val van Kommunisme in Oos Sentraal Europa en in die USSR toe dit nodig was om o.m. eiendomme aan kerke terug te besorg.

3.2.5. Akkommoderende (inskiklike) bewinde. Binne die raamwerk van die skeiding tussen kerk en staat is dit moontlik dat ’n staat kan kies vir ’n verhouding van welwillende neutraliteit ten opsigte van kerke en godsdiensgemeenskappe. Hoewel Durham die begrip welwillende neutraliteit (benevolent neutrality Durham 1996:21) gebruik sou dit heelwaarskynlik beter wees om te praat van welwillende onpartydigheid. Dit verskil van ko-operatiewe bewinde daarin dat dit gewoonlik geen direkte finansiële subsidies vir godsdienste of bv godsdiensonderwys behels nie. Aan die anderkant het ’n akkommoderende bewind gewoonlik geen probleem daarmee om die belangrikheid van godsdiens as deel van die nasionale kultuur of plaaslike kultuur te erken nie, godsdienstige simbole in die openbare opset te akkommodeer en ook belastingvoordele, dieëtreëlings, godsdienstige vakansiedae, die Sabbat, en allerlei ander kwytskeldings ens. vir kerke en godsdiensgemeenskappe toe te laat nie. Durham wys ook daarop dat namate ’n staat groei die behoefte aan akkommodering deur die godsdienstige gemeenskappe al hoe groter word terwyl die groeiende invloed van die staat terselfdertyd weer al hoe meer maatreëls nodig maak en die weiering om akkommoderend te wees maklik kan oorgaan in vyandigheid.

Wat betref neutraliteit of te wel onpartydigheid onderskei Ronald, F Thiemann tussen “streng neutraliteit”, “nie-diskriminerende neutraliteit” en “welwillende neutraliteit”. Streng neutraliteit impliseer ’n nie-betrokkenheid van die staat se kant af in godsdienstige aangeleenthede. Dit behels ’n beleid van geen hulp aan godsdiens nie. Nie-diskriminerende neutraliteit laat ’n sekere openbare akkommodasie van godsdiens toe met dien verstande dat die godsdienstige simbole en gebruike wat deur die owerheid ondersteun word nie-sektaries en nie-diskriminerend van aard moet wees. Welwillende neutraliteit wil die raamwerk waarbinne die vrye beoefening van godsdiens kan geskied, uitbrei deur ook die openbare domein in te sluit (Thiemann 1996:61). Die implikasie hiervan is dat benewens die twee beperkende beginsels van, geen dwang wat betref godsdiens nie en geen direkte bevoordeling van godsdiens nie, die owerheid vry is om ’n atmosfeer te bevorder waarbinne die vrye beoefening van godsdiens kan gedy. Voorstaanders van hierdie standpunt verwerp die idee dat die owerheid ’n neutrale houding tussen godsdiens en nie-godsdiens moet inneem. Vir hulle beteken neutraliteit dat die owerheid neutraal of te wel nie-partydig of onpartydig moet wees in sy houding tussen en die hantering van verskillende godsdienste (Thiemann 1996:61-62). Blei beskryf die tipiese Westerse opvatting van neutraliteit as dat die staat homself daarvan moet weerhou om kant te kies in enige ideologiese of religieuse debat. Die staat se taak is om die ruimte te skep waar almal volgens hulle geloofsoortuiging kan leef en werk. In die mate wat dit nodig is moet die staat ook hiervoor die nodige administratiewe infrastruktuur daar stel. Self is Blei van mening dat sodanige neutraliteit nie moontlik is nie omdat die staat deur verskillende ideologiese standpunte uitmekaargeruk kan word. Volgens hom moet die staat eerder net die ruimte skep waar ideologiese gesprekke kan plaasvind en om dit te kan bewerkstellig, is godsdiensvryheid van die primêre belang (Blei 2002:12-14).

3.2.6. Separatistiese bewinde. Separatistiese bewinde, wat figureer binne die beginsel van die skeiding tussen kerk en staat, behels ’n baie streng skeiding van die twee entiteite. Binne sodanige bewind mag daar hoegenaamd nie sprake wees van enige godsdiens binne die openbare terrein nie. Daar mag geen openbare ondersteuning van godsdiens wees en enige openbare uitstalling van godsdienstige simbole is onaanvaarbaar. Enige indirekte subsidiëring van godsdiens deur middel van belastingaftrekkings of belastingvrystellings is of ontoelaatbaar of word met suspisie bejeën netsoos wat enige kwytskelding van algemene openbare wette op grond van godsdiensbesware of ontoelaatbaar is of as godsdienstige begunstiging gesien word. Geen openbare godsdienstige onderwys of indoktrinasie van enige aard word toegelaat nie behalwe wanneer toestemming gegee word dat onderrig oor godsdiens, volgens sg. objektiewe standaarde, mag plaasvind. Gods- dienstige veronderstellinge in openbare debatte word gesien as strydig met die beginsel van die skeiding van kerk en staat en godsdienstige ampsdraers mag nie enige openbare amp beklee nie. In sommige gevalle word selfs probeer om godsdiens uit die openbare lewe te ban deur bv die staat se beheer oor onderwys en sosiale hulpverlening te versterk. Wat betref die onderwys kan dit gebeur dat tuisskoling en privaatskole heeltemal verbied of daar kan sulke streng vereistes tov akkreditasie ingestel word dat onafhanklike gods- diensonderwys in werklikheid onmoontlik raak. Daar kan ook allerlei beperkinge ingestel word op die mate waarin godsdienstige huwelike erken word. Netso kan daar dermate beperkinge op sosiale dienste gestel word dat dit baie moeilik raak vir godsdienstige organisasies om hulle bedieninge in dié verband uit te voer. Die ironie is dat terwyl separatisme eis dat godsdiens ontrek aan enige gebied wat die staat wil beset dit geen beswaar het teen die mate waarop die staat die gebied van godsdiens binnedring en inmeng in godsdienstige aangeleenthede nie (Durham 1996:22).

3.2.7. Onagsame onsensitiwiteit. In die verhouding tussen kerk en staat kan dit binne die skeiding van die twee entiteite gebeur dat daar ’n onagsame onsensitiwiteit in wetgewing en burokratiese optredes tov spesifieke godsdienstige behoeftes kan voor kom. Daar is weinig of geen begrip vir die onderskeid tussen reëlings wat sekulêre aangeleenthede reël en reëlings wat soortgelyke handelinge mbt godsdienstige aangeleenthede moet reël nie en juis daarom van ’n ander aard moet wees nie – bv reëlings tov grondgebruik, arbeidsaangeleenthede, belasting ens., ens. Dit is dikwels aangeleenthede wat maklik deur onderlinge akkommodasie opgelos kan word. Dit is ook dikwels so dat reëlings wat ingestel word nie van die begin af ’n antigodsdienstige animus/bedoeling het nie, daar is net nie ’n besef van of begrip vir die godsdienstige implikasies van bepaalde reëlings nie. Die implikasie van sodanige reëlings moet dan deur hulle wat daardeur geraak word onder die aandag van die owerheid gebring word. Indien daar nie ’n akkommodering van mekaar gevind kan word nie kan dit dikwels die kleur van godsdienstige vervolging verkry. Binne hierdie situasie kan dit ook gebeur dat onsensitiewe amptenare openlik of verskuild sekere kerke of godsdiensgemeenskappe kan bevoordeel terwyl die behoeftes van ander genegeer word (Durham, 1996, 22-23).

3.2.8. Vyandigheid en openlike vervolging. Dit kan ook gebeur dat daar openlike vyandigheid en vervolging van die staat se kant af tov kerke en gods- diensgemeenskappe is. Dit kan die vorm aanneem van die gevangeneming van suiwering en in uiterste gevalle van menseslagting. Van minder ingrypende aard kan daar sovéél burokratiese struikelblokke in die weg van godsdienste gelê word dat enige vorm van godsdiensvryheid eintlik onmoontlik raak.

4. TEN SLOTTE

4.1 Volgens bogemelde onderskeidinge blyk dit dat die beste verhouding tussen kerk en staat – sommige mense verkies om deesdae eerder te praat van “godsdiens en staat” (Thiemann 1994:166 v.v.)- vir die optimum mate van godsdiensvryheid dié is van ’n welwillend-onpartydige en akkommoderende staat. Daar sou geredeneer kon word dat die verhouding ook elemente van samewerking (ko-operasie) behoort te bevat omdat daar baie terreine is waar die staat en kerke/godsdienste kan en behoort saam te werk tot die beswil van die burgers van die land.

4.2 Volgens Gildenhuys het die opstellers van die Suid-Afrikaanse Grondwet doelbewus die streng skeiding van staat en kerke/godsdienste vermy – daar is nie ’n muur van skeiding tussen die staat en kerke/godsdienste soos in die VSA nie. Die teks van die finale Grondwet dra dit trouens aan die Staat op om positiewe maatreëls te tref wat sal sorg vir die gelykberegtiging van godsdienstige belange in die land - Artikel 7(2) van die Grondwet verplig bv die Staat om die regte in die Handves van Regte te eerbiedig, te beskerm, te bevorder en te verwesenlik. Artikel 15(2) maak uitdruklik voorsiening vir godsdiensbeoefening by staats- of staatsondersteunde instellings met dien verstande dat daar aan bepaalde voorwaardes voldoen word (artikel 15(2) a,b en c). Die Grondwet van Suid-Afrika verbied dus nie staatsondersteuning vir godsdiens nie en bevat ook geen verklaring betreffende sekularisme nie; Dit beklemtoon inteendeel die belangrikheid van godsdiens in die samelewing. Dit laat Gildenhuys tot die gevolgtrekking kom dat die Suid- Afrikaanse staat as semi-sekulêr of te wel as akkommoderend beskryf kan word in terme van Durham se kategorisering (Gildenhuys 2001:199-201). Dit beteken dat die staat wel godsdiens (kerke en godsdiensgemeenskappe) ondersteun maar onderworpe aan sekere voorwaardes (Gildenhuys 2001:194).

4.3 J D van der Vyver is die mening toegedaan dat die Suid-Afrikaanse Staat na 1996 ’n neutrale staat is wat nie noodwendig beteken dat dit sekulêr is nie. Uit die voorafgaande sou daar tot die gevolgtrekking gekom kon word dat die Suid-Afrikaanse staat as welwillend-onpartydig, binne die kategorie van akkommoderend getipeer kan word hoewel Van der Vyver self net praat van ’n neutrale staat. Dit beteken dat die staat aan alle godsdienste ’n gelyke geleentheid gee om hulle geloof te beoefen en uit te dra, ook in die openbare sfeer, terwyl die staat self nie kies vir die een of ander godsdienstige belydenis nie. Godsdiens-neutraliteit berus volgens Van der Vyver veral op die beginsel van gelykberegtiging wat vir hom nie dieselfde is as gelykskakeling nie maar wat vra om proporsionaliteit in die toedeling van regte en verpligtinge. In die geval van bv. godsdiensonderrig op skool sal dit beteken dat alle godsdienste binne ’n bepaalde skoolgemeenskap geakkommodeer moet word ooreenkomstig die persentasie steun wat die bepaalde godsdiens binne daardie gemeenskap het. As die skoolgemeenskap bestaan uit 80 persent Protestantse Christene, tien persent Rooms Katolieke en tien persent Mohammedane behoort die godsdiensonderrig in daardie skool in die verhouding van 80:10:10 aan Protestants Christelike, Rooms Katolieke en Moslemse onderwysers toegesê word (Van der Vyver 2000:4-5).

4.4 Dit moet egter tog ook opgemerk word dat ten spyte van die positiewe evaluering wat daar gemaak kan word van die Grondwetlike reëlings oor godsdiensvryheid in Suid-Afrika, kerke en godsdienste en ook die owerheid tog deurentyd op hulle hoede moet wees dat die weg van separatisme en onagsame sensitiwiteit nie opgegaan word nie. Daar moet bv baie seker gemaak word dat daar aan die basis van godsdiensonderrig op skool nie nog steeds ’n benadering van onderrig oor godsdienste ten grondslag lê nie (Sien R Malherbe 2005:paragraaf 4.2.2). Dit is ook’n saak vir gesprek tussen kerk/godsdienste en die owerheid dat die Wet op nie-Winsgewende Organisasies (Wet 71 van 1997) – en kerke moet as nie-winsgewende organisasie registreer om vir kwytskelding van Inkomste belasting in aanmerking te kom - van ondermeer kerke vereis om in die geval van enige wysiging aan ’n Kerkorde die hele Kerkorde aan die Direkteur van nie Winsgewende Organisasies voor te lê of die gevaar te loop om hulle registrasie as nie- Winsgewende organisasie te verloor (Wet op nie-Winsgewende Organisasies,(Wet 71 van 1997) paragrawe 19-21). So ’n vereiste is eintlik heeltemal in stryd is met reg op die vrye beoefening van godsdiens. Dit is ook opvallend dat die verhouding tussen die Handves van Regte in die Grondwet en kerke/godsdienste se reg op vryheid van godsdiens in baie gevalle eintlik glad nie verreken word nie, nog deur die owerheid, die burgers of kerke/godsdienste nie. Dit blyk bv duidelik uit baie van die standpunte wat ingeneem word in die huidige debat tov homoseksualisme – in die mate wat dit gaan om vryheid van gewete, werkgewer-werknemer verhoudinge en die reg op diskriminasie tov seksuele oriëntasie.

4.5 Godsdiensvryheid in die verhouding tussen kerk en staat is ’n baie belangrike aangeleentheid vir kerke en godsdienste. Dit is daarom tog kommerwekkend dat kerklike ampsdraers en kerkvergaderings dikwels die weg van “separatisme” - mens sou in hierdie geval ook kon praat van Erastianisme – wil opgaan deur sondermeer bepaalde reëlings eie aan en in ooreenstemming met die identiteit van die kerk aan die reëlings van die owerheid te wil prysgee. Talle voorbeelde uit die gebied van arbeidsverhoudinge of te wel diensverhoudinge in die kerk sou hier as voorbeeld genoem kon word waar kerke dood tevrede is om die reëlings van die Arbeidswet te aanvaar sonder om ’n oomblik na te dink oor wat die implikasies daarvan vir die eie geloofsaard van die kerk is nie. Kerke wat die reg tot gewaarborgde godsdiensvryheid wil gebruik, het ’n groot verantwoordelikheid om hulle te vergewis van die aard en omvang daarvan in hulle verhouding tot die staat netsoos wat hulle baie goed op hoogte moet wees van hulle eie identiteit in Christus.

BIBLIOGRAFIE

Barth, K, sj, Church Dogmatics, Vol IV, Deel 2. T&T Clark, Edinburgh.

Blei, K, 2002, Religious Freedom, the Basis of all Freedom. IARF World Congress 2002, Budapest, July 30, 2002. Verkrybaar by http://www.iarf.net/AboutUs/Congress2002/co_Blei.html

Blei, K, 2003, Freedom of Religion:Principle and Practice. Lesing gehou Macedonia, Helsinki Committee for Human Rights/IKV, local meetings, August 15-20, 2003. Artikel verkrygbaar by http://www.antenna.nl/ikvoud//docs/div/presentation-blei.html.

Durham, Cole W., 1996, Perspectives on Religious Liberty: a Comparative Framework. In: Johan D van der Vyver & Witte, 1996, Religious Human Rights in Global Perspective. Legal Perspectives. Martinus Nijhoff Publishers. The Hague, Boston, London.

Gildenhuys,J L, 2001, An Assessment of Constitutional Guarantees of Religious Rights and Freedoms in South Africa. Doctoral Thesis, University of Stellenbosch.

Krämer, Peter, 1981, Religionsfreiheit in der Kirche. Das Recht auf religiöse Freiheit in der kirchlichen Rechtsordnung. In die reeks: Canonistica – Beitrage zum Kirchlichen Recht. Paulinus Verlag,Trier.

Malherbe, R, Enkele vrae oor die Grondwetlike Beskerming van die Reg op Godsdiensvryheid. Referaat gelewer by die Kerk-Staat Konferensie aangebied deur die Fakulteit Teologie, Universiteit van Stellenbosch, 25-27 Oktober 2005.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis. In: Handboek vir die Erediens van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1988. NG Kerk-Uitgewers.

Sap, J W, 2004, Kerk en Staat vanuit het Staatsrecht. Meer respect voor de publieke dimensie van godsdienst. In: Van Drimmelen L C en Van der Ploeg, T J, 2004, 2004, Kerk en Recht. Lemma, Utrecht.

Thiemann, Ronald F, 1996, Religion in Public Life: A Dilemma for Democracy. A Twentieth Century Fund Book. Georgetown University Press, Washington DC.

Van der Vyver, J D, 1999, Constitutional Perspective of Church-State Relations in South Africa. Brigham Young University Law Review, Volume 1999, number 2. J Reuben Clark Law School.

Van der Vyver, J D, 2000, Godsdiensvryheid: sekularisasie of politieke neutraliteit? In: Woord en Daad, Somer 2000, no 374.

Van Drimmelen, L C,sj Kerk en Staat, In:Van’t Spijker, W en Van Drimmelen, L C, sj, Inleiding tot de Studie van het Kerkrecht. J H Kok, Kampen.

Vermeulen,B P, en Kanne, M J, 2004, Kerk en Staat en de mensenrechten. In:Van Drimmelen, L C en Van der Ploeg, T J, 2004, Kerk en Recht. Lemma, Utrecht.

Verkuyl, 1958, Godsdiensvijheid. In: Christelijke Encyclopaedie.dl 3, bl 266 – 268. J H Kok, Kampen.

Wet op nie-Winsgewende Organisasies, Wet 71 van 1997

Witte, John JR, 2000, Religion and the American Constitutional Experiment. Essential Rights and Liberties.Westview Press.

TREFWOORDE

Kerk, Staat, Kerk en Staat, Godsdiensvryheid, Modelle vir Kerk en Staat verhouding

KEY WORDS

Church, State, Church and State, Freedom of Religion, Models for Church and State relation