Coertzen, P
Universiteit van Stellenbosch

Kerkorde of Arbeidswet: die posisie van predikante en ander persone wat in die NG Kerk werk

ABSTRACT

Church Order of Labour Law: the position of ministers and other persons working in the Dutch Reformed Church

The article discusses changes that have taken place in the labour relations of the Dutch Reformed Church. It contents the view that the Church through the changes accepted the Labour Laws as the regulating laws for labour relations in the Church. In the light of freedom of religion and the essence of being church, the church formulates the rules for its labour relations in the Church Order.

1. DIE KERKORDE EN NUWE ARBEIDSWETGEWING

Die Algemene Sinode van die NG Kerk 1994 het hoofstuk 5 van die Kerkorde, die Tugreglement en die Reglement vir die Beslegting van Kerklike Geskille na die Algemene Regskommissie verwys vir studie en herformulering. “Dit het geblyk dat die hele diensverhouding van die bedienaar van die Woord in die gemeente na aanleiding van die nuwe arbeidswetgewing hierby in berekening gebring moet word. Daar moes ook na artikel 7, 9, 12 en 13 van die Kerkorde, asook die Reglement vir die reëling van bevoegdheid en die Verlofreglement, gekyk word” (Addendum Agenda, Algemene Sinode 1998:49). Die onversoenbaarheid van die huidige Kerkorde met die nuwe arbeidswetgewing dwing die kerk om vars te dink oor die arbeidsverhouding in die gemeente ten opsigte van sy werknemers. Uit ’n regsoogpunt gesien, is dit onaanvaarbaar dat ’n bepaalde gemeente ’n werkgewer is en die kerkverband (ring en sinode) die finale sê het ten op sigte van uitdiensstelling. Dit is noodsaaklik dat die diensbeëindiging soos dit tans verwoord word in artikel 12 en 13 duideliker omskryf en teenoor tugoptrede soos dit in hoofstuk 5 vervat is, verantwoord word. Terselfdertyd moes die Bybelse vereistes vir die kerk en amp steeds gehandhaaf word (my kursivering, PC).

2. WYSIGINGS

Hierdie motivering met die gepaardgaande aanbevelings het gelei tot ’n groot aantal wysigings in die Kerkorde wat neerslag gevind het in die Kerkorde van 1998. Die wysigings het veral betrekking gehad op die Kerkorde-artikels en reglemente wat hier bo genoem is. Dit het ook gelei tot die daarstelling van die Bestuursgids vir Diensverhoudinge in die NG Kerk.

3. VRAE OOR DIE REËLINGS VAN 1998

Kort na die Algemene Sinode van 1998 het verskeie vrae oor die reëlings van 1998 na vore gekom:

3.1 Vrae is byvoorbeeld gevra oor die aard van die verhouding tussen die predikant en die gemeente – is dit bloot ’n werkgewer-werknemer-verhouding wat net by wyse van ’n dienskontrak tussen die twee partye bepaal word of staan die predikant primêr in diens van God met die roeping van die predikant deur God en sy Woord wat ’n baie belangrike rol speel? Hierdie vraag is onder meer gevra na aanleiding van die feit dat daar konflikterende uitsprake van howe was en is oor die aard van hierdie verhouding (sien punt 5). In sommige uitsprake is daar uitdruklik uitgegaan van die standpunt dat die kerkraad die predikant se werkgewer is (Schreuder vs Nederduitse Gereformeerde Kerk, Wilgespruit en ander (1999) 20 ILJ 1936), terwyl daar in ander uitsprake gesê is dat die predikant nie in diens van die kerkraad staan nie maar in diens van God (Church of the Province of Southern Africa (Diocese of Cape Town) vs CCMA & others [2001] 11 1213 (LC), Arbeidshof, Kaapstad, 7/9/2001, C619/2000).

3.2 Die hele vraag oor die gesag van staatswetgewing in kerke het ook na vore gekom en daarmee saam die vraag na die reikwydte van die gewaarborgde vryheid van godsdiens in die nuwe staatsbedeling van Suid-Afrika. Dit het gou duidelik geword dat nóg die staat nóg kerke in Suid- Afrika die omvang van die vryheid van godsdiens soos gewaarborg deur die nuwe Grondwet van 1996 al werklik gepeil het. Verskeie slypskole en konferensies wat hieroor gehou is, het onder meer aangetoon dat vryheid van godsdiens in ander demokrasieë van die wêreld beteken dat dit vir kerke die reg tot eie inrigting in terme van ’n eiesoortige reg (ius sui generis) inhou. In die geval van arbeidsverhoudinge is die vraag in ander demokrasieë én ook in Suid-Afrika of die Arbeidswet met al die gepaardgaande wette sonder meer net so van toepassing is op die kerk en of die kerk die reg het om besondere vereistes te stel veral ten opsigte van diensverhoudinge met leraars terwyl daar aanvaar kan word dat ander werknemers in diens van die kerk wel onder die Wet op Arbeidsverhoudinge val. Maar selfs in die geval van ander werknemers, met die uitsondering van predikante, is dit nog altyd ’n vraag of die kerk geregtig is om in hulle geval vereistes te stel ten opsigte van byvoorbeeld vertroulikheid, werksure, lidmaatskap van die kerk, die geslag van die werknemer, ensovoorts, wat andersins in stryd sou wees met die Arbeidswet. In Duitsland, byvoorbeeld, is die verhouding tussen kerk en staat van so ’n aard dat die groot kerke, sommige met meer as 600 000 persone in diens, as openbare entiteite gesien word en nie net as privaatinstansies nie. As openbare bestuursentiteite kan kerke dan ook openbare ampte toestaan. “This means that they are able to have employees who are considered to be civil servants; reciprocally the Church administrations are structured along the same lines as their State counterpart. The Churches orient their own civil service law along the same lines as the public civil service law, even in respect to salaries and benefits. For priests and ministers, there is in force a separate service law that also copies, so far as possible considering the special context, the public civil service law. However, for the large majority of the employees in a Church’s service, the normal labour laws are in effect. It is nevertheless in many circumstances modified, on the basis of the Church’s right of selfdetermination and its particular religious relationship. Freedom of religion demands that the special conditions which result from the duties of the Churches must be taken into consideration when examining the Churches’ labour status” (Robbers 1996:66-67).

3.3 Dit is opvallend dat min hedendaagse kerkordes inskrywings bevat wat hulle posisie ten opsigte van die gesag en werking van staatswetgewing in die betrokke kerk duidelik uitspel. Vanaf 1962 het Die Kerkorde van die NG Kerk die volgende inskrywings bevat oor die Kerk se verhou- ding tot die staat en die wetgewing van die staat: (67.2) Die kerk as instituut onderwerp hom aan die gesag en wette van die staat, in soverre dit sy deelname aan die regsverkeer en uitoefening van burgerlike regte betref en in soverre genoemde regsverkeer en burgerlike regte nie met die Woord van God in stryd is nie. (67.3) Die kerk aanvaar met dankbaarheid die beskerming deur dieowerheid asook die erkenning van sy onvervreembare reg tot die beoefening van vryheid van godsdiens in belydenis en byeenkoms, met dien verstande dat genoemde vryhede nie misbruik word om die fondament van die staatsgesag te ondergrawe of om wanorde op publiekregtelike terrein te veroorsaak nie. In 1998 is hierdie inskrywings verander en daar is tans nie sulke duidelike inskrywings oor hierdie aangeleentheid nie. Die vraag is of dit nie wel nodig is nie.

3.4 Na die Algemene Sinode van 1998 is die vraag ook mettertyd gevra of die blote feit dat die kerk van die verhouding tussen predikant en gemeente praat as ’n werkgewer-werknemer- verhouding wat in terme van ’n dienskontrak gereël word, nie al klaar die kerk verplig om hom te hou aan al die bepalings van die Arbeidswet en alle verbandhoudende wetgewing nie. Indien dit wel so is, moet daar hierna gekyk word omdat dit ’n aantasting van die kerk se interne bevoegdheid as kerk van Jesus Christus kan wees.

3.5 Die kerk het gehoop dat met die duidelike omskrywing van die kerkraad as die werkgewer van die predikant enige moontlikheid van die aanspreeklikheid van meerdere vergaderinge in terme van skadevergoeding of hofkostes in die geval van appèlle teen die handelinge van die werkgewer verminder sou kon word. Dit het geblyk nie die geval te wees nie. In terme van die Kerkorde en die aard van presbiteriaal-sinodale kerkregering is die betrokkenheid van meerdere vergaderinge en hulle gevolmagtigdes op die oomblik nog altyd van so ’n aard dat hulle aanspreeklikheid sowel in terme van skadevergoeding as hofkostes nie uitgesluit kan word nie. Hier sal gekyk moet word na meganismes om te verhoed dat diensgeskille gelyktydig binne kerklike strukture en burgerregtelike strukture dien. Wanneer so iets gebeur, bring dit gewoonlik baie koste vir kerkver- gaderinge mee terwyl bestaande kerklike strukture wel by magte is om kerklik toe te sien dat daar nie onbillike arbeidspraktyke in die kerk plaasvind nie.

3.6 Dit was duidelik dat daar nog talle sake in verband met diensverhoudinge was waaraan die NG Kerk moes aandag gee. Dit is van baie groot belang dat die kerk billike en regverdige diensverhoudinge moet hê. ’n Belangrike vraag wat egter beantwoord moes word, is of die kerk net so al die bepalings van die Arbeidswet van die land moes oorneem ten einde billike arbeids- verhoudinge in sy eie geledere te verseker. Die Skrif self is op baie plekke baie duidelik oor wat van Christene, sowel werkgewers as werknemers, in arbeidsituasies verwag word. Juis daarom behoort die kerk vanuit sy roeping tot Woordverkondiging aandag te gee aan wat die Skrif oor arbeidsverhoudinge leer en dit self ook konsekwent binne sy eie geledere toe te pas. Natuurlik kan en behoort die kerk ook op hoogte te wees van die arbeids-en aanverwante wetgewing van die land – en ook ander tersaaklike wetgewing van die land – en dit selfs ook gebruik in sy eie diensverhoudinge. Dit is en bly egter ’n prinsipiële vraag of die kerk, gegewe sy reg tot vryheid van godsdiens wat onder meer die reg tot selfinrigting impliseer, elke nuwe wet wat deur die staat ingestel word holis bolis moet implementeer. As die gebruik van sekere woorde en begrippe uit ’n wet, soos “werkgewer” en “werknemer”, beteken dat die kerk homself daardeur geheel en al verbind aan elke stipulasie van die wet en die staat dus op hierdie wyse eintlik seggenskap in die kerk verkry, is dit ’n saak waarna weer gekyk moet word en die kerk sal sodanige woorde en begrippe moet vermy. Die kerk moet gehoorsaam wees aan die wette van die land solank die wette nie van die kerk vra om ongehoorsaam te wees aan die Woord van God nie – hieroor is daar geen saak nie. Daar behoort egter ook, in die lig van die gewaarborgde reg tot die vryheid van godsdiens, voorsiening gemaak te word dat kerke die reg het om in tersaaklike gevalle, soos die diensverhoudinge van predikante, hulle eie interne orde te reël in ooreenstemming met hulle belydenis en teologiese oortuigings – dit wil sê, as kerke dit wil doen. ’n Kerk sou natuurlik ook kon kies om sy interne diensverhoudinge geheel en al in terme van die Arbeidswet te reël. ’n Kerkbehoort egter die reg te hê om sy interne orde in ooreenstemming met sy wese en belydenis as kerk te reël. Sodanige belydenis en oortuigings mag uit die aard van die saak nie die vrede van ’n gemeenskap en die staat bedreig nie. Hierdie interne reëlings kan uit die aard van die saak nie uitgesluit word van die jurisdiksie van die howe nie. In ooreenstemming met die reg van kerke om hulle eie interne orde te reël, behoort daar ook erkenning te wees dat die interne middele van kerke tot die oplossing van geskille eers benut moet word voordat partye hulle tot die burgerlike reg wend.

4. TEOLOGIESE OF FUNKSIONELE GRONDSLAE VIR DIENSVERHOUDINGE IN DIE KERK?

’n Baie belangrike vraag om te beantwoord is waarom die kerk daarop aanspraak kan maak dat hy in terme van die reg op vryheid van godsdiens die reg behoort te hê om sy eie diensverhoudinge en dan veral die diensverhoudinge met sy predikante te reël. Van die antwoorde wat op hierdie vraag gegee kan word, is byvoorbeeld dat dit ’n praktyk is wat algemeen voorkom in lande waar vryheid van godsdiens heers dat kerke hulle interne diensverhoudinge reël. Daar sou ook gewys kon word op talle hofuitsprake in baie lande van die wêreld wat erken dat ’n kerk se diensverhouding met sy leraars nie ’n gewone arbeidsverhouding is waarin daar van ’n werkgewer-werknemer-verhouding sprake is in die sin soos ’n arbeidswet dit sou bedoel nie. Die vraag is egter of daar ook teologies-kerkregtelike redes is waarom diensverhoudinge in die kerk en dan spesifiek die diensverhouding met predikante nie as ’n arbeidsverhouding in terme van ’n arbeidswet gesien moet word nie.

Johannes Smit meld in sy artikel “Die predikant: ’n werknemer van die kerkraad?” (wat gekeur is vir publikasie in ’n volgende uitgawe van die NGTT) die volgende as redes waarom die predikant na sy mening nie as werknemer van die kerkraad gesien moet word nie: die kerk kom deur die uitverkiesing van God tot stand (bl 3); die diens van ’n predikant is ’n diens tot opbouing van die plaaslike kerk (bl 3); die diens van die predikant is nie onderhewig aan die gesag van die gemeente of die kerkraad nie, maar aan dié van Christus (bl 4); die inwendige en uitwendige roeping van die predikant speel ’n baie belangrike rol (bl 4); die feit dat die predikant ’n gestuurde is, dra by tot die feit van ’n verhouding wat anders is as ’n blote werkgewer-werknemer- verhouding (bl 5); die predikant se diens aan die plaaslike kerk is soos dié van ’n soldaat wie se taak sy hele menswees omvat en wat daarvoor nie ’n salaris ontvang nie, maar die nodige versorging – hier is dus baie meer as ’n blote werkgewer-werknemer-verhouding op die spel. Na aanleiding van die argumente wat Smit aanvoer, is dit die slotsom waartoe hy kom: “Die predikant se verbintenis moet volgens die regeringswyse wat Christus deur sy Woord instel, plaasvind. Hiervolgens is dié verbintenis ’n uitsluitlik kerklike aangeleentheid wat onder die reëlingsbevoegdheid van die kerk val” (Smit 2003:15).

In ’n ongepubliseerde voordrag van A le R du Plooy, Kerke se interne verbandsreg en die arbeidswetgewing, wys hy daarop dat in die Reformatoriese, spesifiek Calvinistiese tradisie, Gereformeerde Kerke aanvaar dat die kerk as sodaning in terme van die Skrif die reg en die verantwoordelikheid het om homself te regeer. Hierdie siening word onder meer gegrond op die feit dat Christus volgens Matteus 16 en 18 aan die kerk die opdrag gegee het om die sleutels van die koninkryk van die hemel te bedien, en een van hierdie sleutels is die kerklike dissipline, oftewel dan die kerkregering. Omdat die leer van die kerk – die doctrina – en die regering van die kerk – die disciplina – nie van mekaar geskei kan word nie, moet die kerkorde derhalwe ten nouste op die grondslag van die Woord saamgestel word ten einde die kerk in staat te stel om werklik die merktekens van die ware kerk te vertoon, naamlik die suiwere bediening van die Woord, die sakramente en die kerklike tug/dissipline. Vanuit die Skrif as bron, saam met die gegewens van die konfessie van die kerk, waarin die kerk sy verstaan van die Skrif oor kerkregering bely, formuleer kerke dan in gemeenskap met mekaar ’n kerkorde waarvolgens hulle afspreek om mekaar op so ’n basis in die kerkregering by te staan. ’n Deel van hierdie orde handel dan juis oor die diens van die Woord, oftewel die bedienaar van die Woord. Deur die diens van die Woord word die kerk gekonstitueer en derhalwe gaan die diens van die Woord prinsipieel die kerk vooraf. Du Plooy skryf dan verder: “In die kerkorde as die eiesoortige interne reg van en vir die betrokke kerkgemeenskap is daar genoegsame en duidelike artikels of bepalings wat die verbintenis van die predikant aan sy kerk beskryf; vanaf sy inwendige roeping tot sy bevestiging, asook die toesig en tug oor die dienswerk van die predikant. Daar is dus duidelike bepalings hoe die bedienaar in die diens van die Woord inkom, dit behoort te beoefen, en ook hoe hy ordelik van sy diens en verbintenis losgemaak kan word, of dissiplinêr geskors of afgesit kan word. Die beginsels van billikheid en regverdigheid geld onverswak aangesien alle besluite in die kerk ooreenkomstig die Woord van God en onder leiding van die Gees geneem moet word. Kerke staan mekaar daarin by ten einde toe te sien dat die Koningsreg van Christus in die eerste plek sal geld. En as dit gebeur behoort daar nie nog ander wette soos Arbeidswette ingespan te word om kerklike verhoudinge en verbintenisse te reël nie” (Du Plooy sj:4).

’n Baie belangrike teologiese motivering vir die kerk se reg om sy eie orde daar te stel en op grond daarvan sy eie interne diensverhoudinge te reël, vind ons in die artikel “Tweërlei Ekklesiologie” van die Nederlandse teoloog H Berkhof. Hy wys daarop dat daar teen 1960 tweeërlei ekklesiologie aan die opereer was in die kerklike praktyk van Nederland. Die een ’n funksionele ekklesiologie waarin die verhouding tussen die kerk en die wêreld op die voorgrond staan, en die ander, wat hy noem, ’n organiese of korporatiewe ekklesiologie waarin die verhouding tussen die kerk en die wêreld nie afwesig is nie, maar waar dit bepaal word deur die kerk se vehouding tot Christus. Die sogenaamde organiese kerkbegrip is veral op grond van die Efesiërsbrief ontwikkel waarin die beeld van die kerk as die liggaam van Christus ’n baie sentrale uitdrukking is van die innige verhouding tussen Christus en die kerk. In hierdie verband is Efesiërs 1:22-23 baie belangrik: Aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul. Christus word hier enersyds die hoof oor alles genoem en dan ook die hoof van sy liggaam, die kerk. Die kerk word egter verder getipeer as die volheid van Hom wat alles in almal vervul. Oor die betekenis van die kerk as die “volheid” van Christus wys Berkhof dan daarop dat daar eenstemmigheid is by ondersoekers soos Cerfaux, Delling, Mussner en Schlier dat dit beteken die kerk is die gebied waaroor Christus se heerskappy uitgevoer word: “de Kerk is Christus’ lichaam, het domein van Hem die het al in elk opzicht domineert” (Berkhof 1962:154). Die hele punt wat Berkhof wil maak, kom daarop neer dat die hele wêreld, ’n mens sou ook kon sê die hele skepping, die domein is van die verhoogde Christus, maar dit word nog net in die kerk geweet en beleef, en dat dit slegs in die kerk is waar Christus se gesag deur gehoorsaamheid beantwoord word. In die kerk moet die laaste bedoelings van God met die wêreld nou reeds sigbaar word: “Het wordt zichtbaar doordat menschen zich laten incorpereren in het sterven en de verijzenis van Christus en vandaaruit de kracht ontvangen om de machten meer en meer af te zweren, de onmondigheid af te leggen en te groeien naar de volwassen omvang van het pleroma van Christus” (Berkhof 1962:154) Die kerk word hiermee gedefinieer as nie net funksioneel in die wêreld nie, maar as op ’n baie besondere wyse in die wêreld en ook vir die wêreld. Nie net funksioneel in terme van solidêr, getuigend en dienend in die wêreld nie, maar ook eksemplaries-profeties as die volheid van Christus.

Kerkregtelik gesproke beteken dit onder meer dat die kerk in sy orde, ook in sy diensverhoudingsorde, in die eerste plek blyke moet gee van sy verbondenheid aan Christus en wat Hy van die kerk vra. Karl Barth het van die orde van die kerk gepraat as ’n orde wat steeds ’n onomkeerbare Christologies-ekklesiologiese verhouding moet wees (Barth sj:678) en dat hierdie onomkeerbare orde veral moet blyk in die kerk se verhouding teenoor die staat. Die grootste gevaar wat die kerk volgens Barth kan bedreig, is dat hy homself verstaan soos die wêreld en die staat hom verstaan (Barth sj:687). “What the state needs, within the framework of a particular law of Church and state, is a free Church, which as such can remind it of its own limits and calling, thus warning it against falling either into anarchy on the one hand or tyranny on the other. As a free Church, and only as such the Christian community will always allow itself to be integrated, and willingly and gladly integrate itself, into the order instituted by the state” (Barth sj:689).

Rondom die hele diensverhoudingsdebat en ook in ander aangeleenthede ten opsigte van die regering van die NG Kerk, loop ons in Suid-Afrika op die oomblik gevaar om te funksionalisties oor die kerk te dink en die kerk se orde te maklik vanuit die staat of die beginsels van doeltreffende bestuur te wil bepaal. Dit kan net goed wees om weer te besin oor die Skriftuurlike en konfessionele grondslag van ons kerkregering en alles in ons vermoë te doen om dit ook neerslag te laat vind in ons Kerkorde.

5. DIENSVERHOUDINGE IN DIE NG KERK: WAT HET IN 2002 VERANDER?

Die Algemene Sinode van 2002 het ’n hele paar belangrike kerkordelike veranderinge gemaak wat diensverhoudinge in die kerk betref. Dit is baie belangrik dat predikante, lidmate, ander werknemers van kerkvergaderinge en ook die kerkvergaderinge self hiervan moet kennis neem en dit ook moet toepas in hulle diensverhoudinge.

Die kerk het eerstens in artikel 2.3 bevestig dat hy sy eie interne orde reël op grond van sy onvervreembare roeping en interne bevoegdheid as kerk van Jesus Christus en ook op grond van sy reg tot vryheid van godsdiens. Hiermee het die kerk onder meer gesê dat hy die reg het om sy eie diensverhoudinge te reël en veral nie wat die posisie van sy ampsdraers en spesifiek sy predikante betref, gebonde is aan die bepalings van die Arbeidswet en verbandhoudende wetgewing nie. Dit wil nie sê dat hierdie wetgewing nie vir die kerk belangrik is nie. Nee, die kerk neem noukeurig en met verantwoording kennis daarvan en werk dit wat ter sake is in die Kerkorde, reglemente en ander dokumente van die kerk in. ’n Baie belangrike aspek van die nuwe Kerkorde is dus dat die Kerkorde dit duidelik stel dat in sy diensverhoudinge dit primêr die Kerkorde en ander kerklike dokumente is wat geld in die kerk. In die geval van ander werknemers sal die Arbeidswet ’n groter rol speel, maar ook in hierdie gevalle sal die bepalings van die Kerkorde en ander kerklike dokumente voorop staan. Dit is daarom belangrik dat die diensooreenkomste noukeurig geskryf moet word sodat sowel die kerkvergadering as die werknemer kan weet wat die dokumentasie is wat geld ten opsigte van die diensverhouding, veral ten opsigte van aangeleenthede soos diensure, geskilbeslegting, verlofvoorwaardes en dissiplinêre ondersoeke.

Tweedens het die nuwe Kerkorde probeer om die geestelike en teologiese aard van diensverhoudinge in die kerk na vore te bring. Enersyds deur so min moontlik terme soos “werkgewer” en “werknemer” te gebruik en andersyds deur byvoorbeeld die geroepenheid en die amp of bediening van die leraar sterker te laat figureer. Artikel 12.1 lees byvoorbeeld tans: “Predikante word vir die uitvoering van hulle amp of bediening deur ’n kerkvergadering (kerkraad, ring, sinode en Algemene Sinode) beroep en in diens gestel.” In die Kerkorde van 1998 was daar glad nie sodanige inskrywing in artikel 12 nie. Artikel 12.2 lees: “’n Predikant is, as geroepene van die Here deur sy kerk, aan die Here én aan die betrokke kerkvergadering verantwoording verskuldig.” Dit is nogal anders as die vorige artikle 12.1: “Die gemeente of kerkverband (ring, sinode of Algemene Sinode) in wie se diens ’n predikant staan, is die werkgewer van die predikant.” Ook artikel 12.3. is ’n nuwe inskrywing: “Die kerkvergadering gee aan die predikant die respek en ondersteuning wat hulle as geroepenes van die Here en sy kerk in staat kan stel om hulle amp en bediening effektief uit te voer.” Artikel 12.4 bepaal dat die betrokke kerkvergadering ’n persoon in diens neem en ook die dienste beëindig. Voorheen het dit gelui dat indiensneming en diensbeëindiging deur die werkgewer geskied. Weereens is daar probeer om weg te beweeg van die begrippe “werkgewer” en “werknemer”.

’n Derde, en baie belangrike, verandering in die nuwe Kerkorde is die feit dat alle ouderlinge, diakens en predikante, wat emeriti en proponente insluit, weer onder die opsig en tug van die ring val sonder om daardeur die opsig van die kerkraad oor sy ampsdraers uit te sluit (KO, 2002, art 62.2). Van besondere belang vir diensverhoudinge is dat al hierdie persone in die geval van wangedrag deur die ring hanteer moet word en nie meer deur die Kerkraad nie. In die geval van beweerde onbekwaamheid en ongeskiktheid, soos ook by die moontlikheid van diensbeëindiging as gevolg van die finansiële onvermoë van die gemeente, kan sowel die kerkraad as die ring – voorheen was dit net die kerkraad – nou vra dat die saak op die agenda van die kerkraad of betrokke kerkvergadering geplaas word. As daar besluit word tot ’n ondersoek móét die ring ook volgens die nuwe Kerkorde figureer en nie nét meer die kerkraad nie. Indien enige van hierdie ondersoeke tot ’n voorstel van diensbeëindiging lei, geskied dit deur die betrokke kerkvergadering.

’n Vierde baie belangrike wysinginge in die Kerkorde van 2002 is dat die kerk in artikel 23.2 bepaal: “Lidmate, ampsdraers en amptenare van die Nederduitse Gereformeerde Kerk mag hulle nie tot die burgerlike hof wend in hulle beswaar teen ’n kerkvergadering se besluit(e) nie voordat hulle nie éérs die kerklike middele tot hulle beskikking aangewend en uitgeput het.” Die bedoeling van hierdie artikel is hoegenaamd nie om die jurisdiksie van die howe van die land uit te sluit nie, maar net om te keer dat lidmate, ampsdaers en amptenare van die kerk hulle terselfdertyd op kerklike appèlliggame beroep én op die burgerlike hof.

6. WAT SÊ DIE REG?

6.1 In ’n baie insiggewende artikel “The South African Constitution and freedom of religion: some labour law imperatives and implications” (Olivier 2002:530) skryf professor Marius Olivier onder meer die volgende in die “Abstract” van sy artikel oor arbeidsverhoudinge in kerke in Suid-Afrika (in die artikel self werk hy dit breedvoeriger uit): “Some guidance may be obtained from principled approaches adopted in comparative jurisdiction, and increasingly also in the South African jurisprudence. It is now generally accepted that clergy and ministers of religion render services not on the basis of being employees of the church, but on the basis of a particular spiritual relationship. In these cases labour law would, as a matter of principle, not find application, although practical and pragmatic reasons may exist as to why churches may wish to make use of the rich tapestry of labour law tenets to give content to the said relationship.”

6.2 Dit is ook belangrik om daarop te let dat as die kerk sy diensverhouding met sy predikante in terme van die Wet op Arbeidsverhoudinge sou reël en nie in terme van sy Kerkorde nie, al die ander wetgewing en bepalings in verband met arbeidsverhoudinge óók as gevolg daarvan op die kerk van toepassing is. Dit geld byvoorbeeld vir aangeleenthede soos die bepalings oor ontslag en onbillike arbeidspraktyke soos vervat in die Wet op Arbeidsverhoudinge en die bepalings oor antidiskriminasie en regstellende aksie soos vervat in die Wet op Arbeidsgelykheid (Employment Equity Act) (Olivier 2002:540).

6.3 Benewens begenoemde gevolge sal ’n verdere gevolg van die aanvaarding van die Wet op Arbeidsverhoudinge as bepalend vir die diensverhouding tussen predikant en gemeente (kerk) wees dat enige bepaling van die Kerkorde of ander kerklike besluite wat in stryd is met die Wet op Arbeidsverhoudinge, vanuit ’n statutêre oogpunt, as ongeldig beskou sal word (Olivier 2002:540).

6.4 Daar is reeds daarop gewys dat hoewel die besluite van die Sinode van 1998 daarop gemik was om die regsaanspreeklikheid van meerdere vergaderinge by die ontslag van leraars uit te skakel, dit nie gebeur het nie. Die kerk se struktuur is net van sodanige aard dat daar moeilik weg te kom is van meerdere vergaderinge as sekondêre werkgewers (die “composite employer concept”) van predikante. Dit beteken dus dat kerkrade en meerdere vergaderinge steeds aanspreeklik gehou kan word vir koste en skadevergoeding indien daar byvoorbeeld bevind word dat ’n kerkraad skuldig is aan ontslagprosedures wat in stryd is met die Wet op Arbeidsverhoudinge (Olivier 2002:540-541). Hierdie toedrag van sake was onder meer die rede waarom daar besluit is om wéér die funksie van opsig en tug oor ampsdraers aan die ring terug te gee.

6.5 Daar moet ook gewys word daarop dat hoewel daar inderdaad op grond van getuienis wat van die klaer se kant gelewer is in die Schreudersaak bevind is dat die beroepsbrief die dienskontrak tussen die predikant en die gemeente (kerkraad) is, die verteenwoordigers van die kerk nie hieroor getuienis tot die teendeel gelewer het nie.

7. ANDER WERKNEMERS VAN DIE KERK

Daar moet terselfdertyd gesê word dat diensverhouding van ander werknemers in die kerk bo en behalwe predikante wel onder die bepalings van die Arbeidswet val, behoudens die feit dat die kerk, gegewe die aard van sy diensverhouding, die reg sou hê om vereistes ten opsigte van sodanige werknemers te stel wat nie normaalweg voldoen aan die vereistes van die Arbeidswet en ander tersaaklike wetgewing nie (vgl Olivier 2002:530, 539, 541).

8. ENKELE GEVOLGTREKKINGS

a. Uit die voorafgaande behoort dit duidelik te wees dat die NGK in 1998 die bedoeling gehad het om sy diensverhoudinge deeglik te hersien. Dit het veral betrekking gehad op die wyses waarop die band tussen predikante en hulle gemeentes losgemaak kan word. Samehangend hiermee is daar ook aandag gegee aan die reëlings ten opsigte van die beroeping van leraars, opsig en tug oor predikante, die Bevoegdheidsreglement, die Reglement vir die Beslegting van Geskille, ensovoorts. Daar het ook ’n Bestuursgids vir Diensverhoudinge tot stand gekom. Die ervaring sedert 1998 het aangetoon dat hier in baie opsigte deeglike en goeie werk gedoen is. Dit is egter inderdaad ’n vraag of dit die bedoeling van die Sinode van 1998 was om die NG Kerk se diensverhoudinge met sy predikante volledig in terme van die Wet op Diensverhoudinge te reël. Juis die feit dat daar in die motivering vir die voorstelle gesê is dat die “Bybelse vereistes vir die kerk en die amp steeds gehandhaaf” moet word, dui daarop dat die kerk steeds bedoel het dat die diensverhoudinge soos dit in die Kerkorde en ander kerklike dokumente gereël word, die primêre dokumentasie in verband met sy diensverhouding tot predikante is, en nie die Wet op Arbeidsverhoudinge nie. Daar is ook al in hofuitsprake daarop gewys dat die feit van die bestaan van ’n kontrak nie noodwendig beteken dat dit aangegaan is met die bedoeling om ’n regsverhouding in terme van ’n landswet daar te stel nie (Olivier 2002:533). Die implikasie hiervan is dat al die ooreenkomste/kontrakte met betrekking tot diensverhoudinge met predikante wat na 1998 aangegaan of herbevestig is, nie kontrakte in terme van die Wet op Arbeidsverhoudinge daarstel nie; dit is ooreenkomste of kontrakte in terme van kerklike diensverhoudinge.

b. Dit is duidelik dat die NGK in die jare sedert 1998 se voorstelle en besluite nog meer en duideliker tot die gevolgtrekking gekom het dat die kerk nie sy diensverhoudinge in terme van die Arbeidswet wil reël nie, maar in terme van sy Kerkorde en ander geldende dokumente; vandaar die voorstelle voor die Sinode van 2002.

c. Uit studies wat oor die kerk en die Wet op Arbeidsverhoudinge en ander verbandhoudende wette gemaak is, die situasie in ander demokrasieë en ook hofuitsprake in Suid-Afrika sowel as in ander lande soos Australië, Nieu-Seeland, Engeland en Duitsland, het dit duidelik geblyk dat die NG Kerk – soos ook ander kerke in Suid-Afrika, indien hulle dit verkies – die reg het om sy interne diensverhoudinge met sy predikante te reël. Wat ander werknemers van die kerk betref, het die Arbeidswet groter gesag, maar ook in hulle geval kan die kerk(e) reëlings tref wat in lyn is met die eie aard van die kerk en nie noodwendig heeltemal voldoen aan die bepalings van die Wet op Arbeidsverhoudinge nie.

d. Daar kan ook gesê word dat nie een van die ander kerke in die familie van NG Kerke, die twee susterskerke, die APK of ander hoofstroomkerke in Suid-Afrika hulle diensverhoudinge met hulle predikante in terme van die Wet op Arbeidsverhoudinge reël nie.

e. Diensverhoudinge met predikante en ook ander werknemers van die kerk is ’n baie belangrike saak. Die kerk moet steeds daarna treef om die billikste en regverdigste diensverhouding met persone in sy diens te hê. Daarom is dit noodsaaklik dat daar indringend aandag gegee word aan diensverhoudinge in die kerk, maar dan met in agneming van die eie aard en wese van die kerk. Hierdie oefening verg die inset en kundigheid van sowel teoloë as arbeidskundiges wat met mekaar moet saamwerk en mekaar moet aanvul. Uiteindelik behoort die resultaat van hulle werk neerslag te vind in sowel die Kerkorde van die kerk as in ’n Bestuursgids vir Diensverhoudinge. Myns insiens skryf Olivier tereg: “(a) possible approach ... is to incorporate or introduce on a voluntary basis relevant labour law principles into the relationship between clergy and the relevant church structures, even though the basis of the relationship remains outside the realm of labour law. This has the advantage that the church and its office-bearers, in particular clergy, could rely on basic tenets of equity developed over years within the framework of labour law. This should contribute to a view that churches are sensitive to widely acceptable norms of what constitutes fair treatement of those who work” (Olivier 2002:539).

f. ’n Laaste gevolgtrekking wat gemaak kan word, is dat die hele siening dat die kerk sy eie interne diensverhoudinge met sy predikante mag reël, ten diepste berus op die beginsel van die reg tot vryheid van godsdiens en dat dit ’n universeel aanvaarde beginsel is.

BIBLIOGRAFIE

Addendum Agenda van die Tiende Vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Pretoria 1998. Bloemfontein: CLF-Drukkers.

Agenda van die Elfde Vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Pretoria 2002.

Barth, K sj. Church Dogmatics, Vol IV, Part II. Edinburgh: T&T Clark.

Berkhof, H 1962. Tweerlei Ekklesiologie, in Kerk en Theologie. Voortzetting van “Onder Eigen Vaandel”.Dertiende Jaargang 1962. N V-Wageningen: H Veenman & Zonene.

Church of the Province of Southern Africa (Diocese of Cape Town) vs CCMA & others [2001] 11 1213 (LC).Arbeidshof, Kaapstad, 7/9/2001, C619/2000.

Du Plooy, A le R sj. Kerke se interne verbandsreg en die arbeidswetgewing. Ongepubliseerde voordrag, PUvir CHO, Potchefstroom.

Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1998. Wellington: Hugenote-Uitgewers.

Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 2002. Wellington: Lux Verbi-BM.

Olivier, M 2002. The South African Constitution and freedom of religion: some labour law imperatives and implications, in Nederduits Gereformeerde Teologiese Tydskrif, Deel 43, nommers 3 & 4, Sep & Des 2002, 530-542.

Robbers, G 1996. State and Church in Germany, in State and Church in the European Union. Baden-Baden: Nomos Verlagsgesellschaft.

Schreuder vs Nederduitse Gereformeerde Kerk Wilgespruit en ander (1999) 20 ILJ 1936 (LC). Arbeidshof (J273/97), Johannesburg.

Smit, J 2003. Die predikant: ’n werknemer van die kerkraad? Artikel goedgekeur vir publikasie in die Nederduits Gereformeerde Teologiese Tydskrif , Mrt & Jun 2004