D’Assonville, VE
Universiteit van die Vrystaat

Woordverkondiging by Calvyn – enkele implikasies vir die opbou van die kerk in Afrika1

ABSTRACT

The kerygma of the Word according to Calvin – a few implications for church growth in Africa

An analysis of Calvin’s use of the concept of “doctrina” corrects the false image of Calvin being a doctrinal or intellectual theologian. Simultaneously it revises the negative perceptions about “doctrina”. This has some important consequences for the reformed religion as well as for the reflection on church growth in Africa. Calvin uses the concept of “doctrina” in a dynamical way. Thereby he accentuates the reformed truth to acknowledge dependence on God and his Word. The “doctrina” on the pulpit, the “doctrina” in the catechetical teaching, “the doctrina” in the pastoral care (or the “doctrina” in the theological classroom for that matter) should always relate to God as the speaking God (Deus loquens) as well as to his Word. Hence Scripture as the Word of God and the ministering of this Word is crucial for church growth. God uses the offices in ministering this “doctrina”, that is his Word; and He builds his church (that is the ecclesiae aedificatio) with this “doctrina” – also in Africa.

Africa is searching for God (Kayayan 2002:3).

“... ek het uiters baie [van my landgenote] gesien wat na Christus honger en dors ...”

“... permultos esurire et sitire Christum videbam ...” (Calvyn).2

“Neque enim verebor fateri,

hic me summam fere eius ipsius [sanae] doctrinae complexum esse …” (Calvyn).3

1. INLEIDING

Ofskoon ’n tema soos hierdie die gevaar inhou dat dit twee – op sigself selfstandige – sake op ’n geforseerde wyse aan mekaar sou kon verbind, is daar ’n bepaalde ratio agter die koppeling van Woordverkondiging by Calvyn aan die een kant met Afrika en die opbou van die kerk aan die ander kant.

Eerstens is dit algemeen bekend dat Calvyn se teologie as ’n “teologie van die Woord” bekend staan (Neuser 1976:18; Opitz 1994:99 ev; vgl ook D’Assonville 1998:13) en hy self as ’n Woord- teoloog. By hom staan die Woord en Woordverkondiging primêr, in die sentrum van kerkwees.

In die tweede plek staan die opbou van die kerk, oftewel gemeentebou (ecclesiae aedificatio), die afgelope dekades nie net in die wêreld sterk op die voorgrond nie (vir literatuur kyk Van ‘t Spijker 1990:309-311; vgl ook Coertzen 1981), maar ook in Suid-Afrika, in so ’n mate dat daar selfs gepraat word van die “ontwikkeling van ’n teologie van gemeentebou” (Erasmus 1994:9).4 Kombineer ’n mens hierdie teologiese fokus op die ecclesiae aedificatio met die eise waarvoor die kerk van Jesus Christus in Afrika aan die begin van die 21ste eeu te staan kom, is dit voor die hand liggend om te vra hoe die verband tussen die opbou van die kerk aan die een kant binne die Afrika-konteks aan die ander kant is of behoort te wees.5

’n Sleutel vir die samehang tussen die Woordverkondiging en die opbou van die kerk in Afri- ka lê in Calvyn se gebruik van die begrip doctrina. Dit is immers so dat Woordverkondiging (prediking), die vraag oor wát en hóé aan wie gepreek moet word, reeds vanaf die vroegste tye in die geskiedenis van die Nuwe-Testamentiese kerk ten nouste saamhang met doctrina, met dít wat verkondig en geglo moet word (Van ’t Spijker 1977:263).

Vervolgens gaan hier aandag gegee word aan Calvyn se gebruik van die begrip doctrina ten einde vas te stel watter insig dit bied oor sy siening van Woordverkondiging. Daarna word – binne die raamwerk van die onderwerp – enkele lyne getrek met verwysing na die konsep ecclesiae aedificatio, om dan ten slotte die betekenis van Woordverkondiging by Calvyn vir die opbou van die kerk in Afrika uit te lig.

2. DOCTRINA IN DIE ALGEMEEN

Ondanks die feit dat die begrip doctrina (as die Latynse weergawe van onderskeidelik didachê en didaskalía) in die Nuwe Testament op ’n positiewe wyse gebruik word (kyk D’Assonville 2001:33-36), het doctrina (of leer, soos hierdie Latynse begrip meestal in Afrikaans vertaal word) egter met verloop van tyd in die kerkgeskiedenis ’n negatiewe (en selfs omstrede)6 konnotasie verkry. Ook werk die wyse waarop begrippe soos leer, prediking, preek of verkondiging in die algemeen (sowel teologies as in die omgangstaal) gebruik word eerder verswarend mee as wat dit help om die begrip leer of doctrina beter te verstaan. In die Theologische Realenzyklopädie word byvoorbeeld gesê dat die onnoukeurige omgang met hierdie begrippe direk verbind kan word aan die negatiewe houding wat daar heers oor die sogenaamde droë “leer” (Ritschl 1990:608).

Daarby is ons almal reeds jare lank stille getuies van hoe die leer van die kerk (en daarmee saam die dogmatiek) in die beskuldigdebank staan. Hoe gereeld gaan daar nie oproepe op van diegene wat daarvoor pleit dat ons tog net nie doktrinêr moet wees nie. “Christus mag verkondig word, maar tog net nie dogmaties nie.” “Ons moet sendingwerk doen, maar verkieslik sonder dogma.” Ook uit die onderwys word alle “dogma” of “leer” verban.7

3. METODOLOGIE

3.1 Begrippe, semantiek en die sentrale plek van doctrina by Calvyn

Die vraag ontstaan of ons nog begrip het vir dít wat gedurende die Reformasie onder die begrip doctrina, oftewel leer, verstaan is. Is dit enigsins korrek om met ’n teenstelling tussen “lewende geloof” en “dooie leer” te werk? En die beskuldigings van intellektualisme en dogmatisme – wat vandag nog selfs in gereformeerde kringe teen Calvyn ingebring word – hou dit water? Ten einde antwoorde op hierdie en soortgelyk vrae te kry was dit die moeite werd om ondersoek in te stel na die wyse waarop Calvyn die begrip doctrina gebruik het. Terselfdertyd kon die wydverspreide beskuldigings, wat altyd weer die rondte doen, dat Calvyn “doktrinêr” sou wees in die lig van só ’n ondersoek beoordeel word.

Behalwe vir die feit dat Calvyn bekend is vir sy noukeurige gebruik van taal en begrippe – hy word in belangrike literatuurstudies oor die Franse taal as een van die baanbrekers vir die geskrewe en akademiese waarde van Frans gereken (Kayayan 1993) en was beroemd vir sy keurige beheersing van Latyn – is daar met só ’n ondersoek terselfdertyd ook aansluiting gevind by die internasionale Calvynnavorsing. In die afgelope jare word daar groot klem gelê op ’n in diepte teologiese analise van bepaalde begrippe in Calvyn se werke (vir literatuur, vgl D’Assonville 2001:16),8 met die tendens om wyer as die Institusie (maw ook na sy preke, briewe, kommentare en ander werke van hom) te gaan kyk. Só word probeer om dieper te delf, ’n meer gebalanseerde en deegliker gedokumenteerde insig in Calvyn se teologie te verkry en ook nie net blote algemene uitsprake na aanleiding van (slegs) die Institusie te maak nie.

Ofskoon bepaalde navorsers hierdie laasgenoemde (conditio) sine qua non vir Calvyn- navorsing (nl om al die verskillende genres van sy geskrifte in die navorsing te betrek) uitdruklik beklemtoon (bv Muller 2000:4 ev; 189; Selderhuis 2000:23; Neuser 2002), is daar ongelukkig nog te veel voorbeelde van studies, artikels of voordragte oor Calvyn wat net of hoofsaaklik op ’n ontleding van sy Institusie gebaseer is. Muller is skerp in sy kritiek teen die leemte van sodanige navorsing wanneer hy praat van “many contemporary analyses of Calvin’s theology – typically based on the Institutes with little more than collateral or confirmatory reference to his commentaries, sermons and treatises ...” (2000:4).9

Doctrina is só ’n sentrale begrip in die geskrifte van Calvyn dat die ontleding daarvan van hulp kan wees vir die verstaan van sy grondliggende bydrae tot die gereformeerde teologie. Dit blyk naamlik nie net uit die lees van Calvyn se eie werke en uit die sekondêre Calvynliteratuur van die twintigste eeu nie, maar reeds uit die beroemde inleidingsin van sy Institusie van 1536 watter besondere waarde die begrip doctrina by Calvyn inneem. Daar sê hy naamlik: “Nagenoeg die som van die heilige ‘doctrina’ bestaan uit hierdie twee dele: kennis van God en van onsself” (OS 1,37).10

3.2 Literatuuroorsig

Daar is talle gevalle waar daar deur die loop van die twintigste eeu, veral in die Duitse en Nederlandse literatuur, verwys is na die betekenis van Calvyn se gebruik van die begrip doctrina en die verband daarvan met die begrip preek/prediking.11 In meer as een studie het hierdie aspek selfs primêr onder die soeklig gekom, byvoorbeeld in dié van Hedtke (1969), Van ’t Spijker (1978) en Opitz (1994). Ofskoon daar in verskillende van hierdie ondersoeke mooi insigte na vore gebring is, was daar steeds die behoefte aan ’n meer omvattende, sistematiese ondersoek oor die gebruik van hierdie begrip by Calvyn, veral met inagneming van bepaalde, metodologies belang- rike aspekte, soos onder meer die genre van die bepaalde tekste waarin doctrina voorkom, asook die tydvak van hulle totstandkoming. Boonop kry ’n mens ook nog altyd navorsers wat nie blyke gee dat hulle bewus is van bogenoemde studies nie (bv Jones 1995:32-34, 199, 200) en wat gevolglik die begrip doctrina by Calvyn verkeerd vertaal – iets wat sodoende tot eensydige, bevooroordeelde oordele oor Calvyn en sy teologie kan lei (bv Bouwsma 1999).12

3.3 Die sestiende eeu en ons

Kyk ’n mens van naderby na Calvyn se gebruik van die begrip doctrina, moet daar in gedagte gehou word dat dié begrip in die sestiende eeu algemeen en gereeld gebruik is, sowel deur Calvyn as deur ander. Omdat Calvyn, met sy noukeurige ingesteldheid, dit nooit nodig geag het om die term verder te omskryf of nader te kwalifiseer nie, kan daar aanvaar word dat daar vir die destydse leser geen onduidelikheid of dubbelsinnigheid oor doctrina se betekenis binne sy kontekstuele en intratekstuele verband sowel as met inagneming van die breër konteks was nie.

Aan die ander kant is dit opvallend dat doctrina ’n wye spektrum van gebruiksmoontlikhede met onderskeidelike betekenisimplikasies het. Hierdie aspek moet teen die agtergrond van Calvyn se uitgesproke oogmerk gesien word, naamlik om eenvoudig en verstaanbaar te wil skryf.13 Hoe meer ’n mens naspeur hoe Calvyn die doctrina-begrip in sy eie geskrifte gebruik het, hoe meer kom jy onder die indruk dat sy hantering daarvan in werklikheid op ’n natuurlike manier voortvloei uit sy gebruik van Bybelse teksgedeeltes binne hulle samehang.

Die vermoë om vandag in ons tyd die begrip doctrina binne sy konteks te begryp, word nie net bemoeilik deur die feit dat sowat 450 jaar of meer ons skei van die spraakgebruik van Calvyn tydens die Reformasie nie, maar ook dat teologiese begrippe, waaronder doctrina, aan ingrypende semantiese verskuiwings onderhewig was tydens die tyd van die Ortodoksie (Lutherse en Gereformeerde Skolastiek), die Piëtisme (op hoofsaaklik Duitse gebied), die Metodisme (op veral Engelse bodem) en natuurlik die Aufklärung (Verligting). Ook die Suid-Afrikaanse teologiese en kerklike ontwikkeling is direk deur hierdie stromings en hulle invloede geraak. Dit maak dit vir ons, wat reeds geografies en chronologies ver verwyder is van ons Reformatoriese wortels, buitengewoon moeilik om begrippe, soos dit in geskrifte uit die Reformatoriese tyd figureer, te deurgrond.

3.4 Historiese agtergrond en genre

In ’n teologies-sistematiese ondersoek van die werk van ’n skrywer soos Calvyn moet daar ten opsigte van die seleksie van tekste veral twee aspekte in die oog gehou word: eerstens, die tydperke waarbinne die betrokke tekste tot stand gekom het – met inagneming van die historiese konteks – en tweedens, die genres van die betrokke tekste (bv preke, kommentare, apologetiese geskrifte of briewe).

Vir die betrokke ondersoek wat gedoen is, is daar om bepaalde redes tekste gekies uit twee verskillende tydperke: eers uit die pennevrug van ’n jeugdige Calvyn (vóór 1536) en dan weer uit ’n latere tydperk (1548-1550), toe hy reeds ’n ervare prediker en pastor was en hom so te sê op die kruin van sy teologiese arbeid as erkende teoloog bevind het. Die onderskeid tussen die twee tydperke is aan die een kant daarin geleë dat daar vir Calvyn persoonlik twaalf hoogs spanningsvolle jare tussen die twee tydperke gelê het; aan die ander kant het die Reformasie en die historiese gebeure wat daarmee verband hou ook ’n ingrypende ontwikkeling ondergaan.

Die eerste groep geskrifte van Calvyn wat vir hierdie studie ondersoek is, 14 kom dus uit die tydperk toe hy nog onbekend was, uit die tyd vóór sy eerste verblyf in Genève, voordat hy beroemd geword het op grond van die eerste uitgawe van sy Institusie (’n topverkoper by 1536 se boekeskou in Frankfurt am Main).

Calvyn moes byvoorbeeld intussen beleef hoe hy as jong man as ’t ware vanuit sy ideaal van ’n lewe, toegewy aan die “rustige” akademiese bestudering van God se Woord, geruk word na die hoogs veeleisende roeping van bedienaar van die Woord in ’n vyandige, buitelandse omgewing. ’n Instrument in die hande van die Here hiervoor was die onverskrokke, onwrikbare Farel se bykans gebiedende appèl op Calvyn se Godgegewe roeping om die Woord te verkondig.

Sy ontwikkeling as herder, prediker en teoloog is ingrypend gesmee en gevorm deur sy ervaring in die Franssprekende, vrye stad Genève (1536-1538; 1541 ev), maar ook in die klein Franssprekende vlugtelinggemeente van die beroemde Duitse stad Straatsburg (1538-1541). Sy denke as woordvoerder vir die evangelie en as advokaat vir die Bybelse beginsels van die nog jong Protestantse beweging is geslyp op die internasionale verhoë en in die raadsale van die belangrikste kerklike samesprekings en godsdienstige diskussies van sy tyd. As verteenwoordiger van die gereformeerde geloofsoortuigings en -insigte by die godsdiensgesprekke van Hagenau, Worms (1540) en Regensburg (1541), waar daar op die hoogste vlak met Roomse teoloë diskussie gevoer is, het hy die agting en erkenning geniet van beroemde en leidinggewende Protestantse teoloë.

In die tydperk waaruit die tweede groep geselekteerde tekste 15kom, 1548-1550, was Calvyn nie net reeds ’n ervare herder en leraar nie, maar ook al ’n deurwinterde teoloog. Juis die objek van die ondersoek, sy gebruik van die begrip doctrina, maak Calvyn se kommentare op die Pastorale Briewe ’n voor die hand liggende keuse vir die analise. In hulle Latynse vertalings bevat hierdie drie geskrifte immers vyftien van die 21 gevalle waar doctrina in die Nuwe Testament voorkom.

Die twee teksgroepe verskil egter nie net ten opsigte van die tydperke waarin hulle geskrywe is nie, maar ook ten opsigte van hulle genres. Só sluit die eerste teksgroep onder meer voorredes (by ander publikasies) en die Institusie in, terwyl die tweede teksgroep die genre van kommentare bevat (vgl D’Assonville 2001:29, 30).

4. ENKELE BELANGRIKE RESULTATE

4.1 Algemeen

Nadat die gebruik van die begrip doctrina in die twee onderskeie teksgroepe (vgl 3.4) ondersoek is, is daar ’n ryk geskakeerde spektrum van resultate wat op verskillende vlakke funksioneer en in hierdie opsig ook bepaalde wysigings van die algemene Calvynbeeld meebring.

Die ondersoek het byvoorbeeld aan die lig gebring dat verreweg die meerderheid van Calvyn- interpretasies sowel as baie Calvynvertalings glad nie rekening hou met sy genuanseerde gebruik van die begrip doctrina nie; gevolglik word daar nie net dikwels tot verkeerde oordele gekom wat sy teologie betref nie, maar gaan die impak van belangrike uitsprake deur hom verlore, sowel in vertalings van sy werke as in analises daarvan.

’n Mens word verras deur die wye spektrum van veelvoudige skakerings in Calvyn se gebruik van die begrip (bv as aanduiding vir onder meer onderrig, preek, samevatting/skopus van die Skrif, geloofsinhoud, uitleg, heilsverkondiging, pastorale sielsorg, belydenis, leerstelling, dogma, leer). Met hierdie gedifferensieerde gebruik word duidelikheid, deursigtigheid of ondubbelsinnigheid glad nie ingeboet nie. Die belangrike plek wat die begrip doctrina in Reformatoriese geskrifte en spesifiek in geskrifte van Calvyn inneem, kan aan die hand van die primaat van die Woord in daardie geskrifte verklaar word. Die groot greep van die Reformasie was juis dat nie meer die (sewe Roomse) sakramente (as middele waardeur die lidmate direk die reddende genade sou ontvang) nie, maar die Woord sentraal staan (vgl die vervanging van die altaar deur die preekstoel in die gereformeerde kerke). Die Reformatore het ingesien dat God ’n sprekende God (Deus loquens) is (Calvyn, Institusie 1,7,4) en die kerk dus ’n kerk van die Woord is, met God se Woord in die sentrum.

Soms gebruik Calvyn doctrina meer in tetiese, kategetiese sin en soms meer in apologetiese of selfs polemiese sin. Opvallend is die wyse hoe hy by die Bybelse woordgebruik aansluit; ook wat doctrina betref, is daar aansluiting by tôrah in die Ou Testament en onderskeidelik didachê en didaskalía in die Nuwe Testament.

’n Verdere besondere kenmerk van Calvyn se doctrina-gebruik is die direkte verband tussen die doctrina en die Heilige Skrif. Terwyl hy wel tussen doctrina en die Heilige Skrif onderskei, stel hy konsekwent juis die gesag en die oorsprong van die Skrifgebonde doctrina op die voorgrond. Van ’n skeiding tussen die Woord en die doctrina kan daar dus nie sprake wees nie. Enige antipatie teen die sogenaamde “droë leer” berus op ’n vals teenstelling tussen Woord en doctrina, ’n teenstelling wat vreemd is aan die Reformasie.

4.2 Implikasies vir die kerk in Afrika

In die lig van die tema ter sprake en teen die agtergrond van Calvyn se Woord-van-God-teologie behoort die volgende vrae nou aan die orde te kom: Wat is die betekenis van só ’n ondersoek oor die gebruik van doctrina? Op watter wyse raak dit die kerk van Christus, ook hier in Afrika? Watter lyne kan getrek word na aanleiding van Calvyn se gebruik van die begrip doctrina, spesifiek met verwysing na die opbou van die kerk in Afrika?

4.2.1 “Ecclesiae aedificatio”

Onder meer twee aspekte vang die oog wanneer ’n mens tekste begin lees waar Calvyn van die ecclesiae aedificatio praat.16

• Calvyn koppel die (ecclesiae) aedificatio direk aan die doctrina (vgl bv CO 52,304, kommentaar op 1 Tim 4:16); die aedificatio deur die doctrina is ’n instelling van Christus, dit is ooreenkomstig sy onderrig (CO 52,324, kommentaar op 1 Tim 6:3). Diegene wat probeer slim wees (die sg “sofiste”), wat die Woord van God verdraai om hulle met allerhande fynsinnige betoë en spitsvondighede besig te hou, is dieselfde mense wat die aedificatio minag (CO 52,325, kommentaar op 1 Tim 6:4, 5). Die doctrina waarvan daar in Titus 1:9 sprake is (vgl D’Assonville 2001:186 ev), is die doctrina wat die ecclesiae aedificatio dien (CO 52,412).

• Die ecclesiae aedificatio kan enersyds nie losgemaak word van die dienswerk deur die ampte nie, en is andersyds verbind aan die gesonde doctrina wat gefundeer is in die Skrif en die regte gebruik daarvan (CO 52,343, Argumentum by kommentaar op 2 Tim). Met verwysing na 2 Timoteus 2:14 word die aedificatio gekoppel aan die dienswerk van ’n “goeie dienaar” (bonus minister), ’n “goeie leraar” (bonus doctor). Net so ook in sy kommentaar op Titus 1:5, waar Calvyn die dienswerk van die “herder” (“pastor”) direk met die ecclesiae aedificatio (CO 52,408) verbind.

4.2.2 “Doctrina” en “aedificatio”

Met bogenoemde beeld wat na vore tree oor die verband tussen die doctrina en die ecclesiae aedi- ficatio word hier nou op enkele implikasies gewys:

• Calvyn se begrip van die besondere dienste of ampte kongrueer met die onskeibare, di- rekte verband waarin doctrina staan tot Skrifuitleg en Evangelieverkondiging,vermaning en barmhartigheidsdiens. Daarby is die opbou van die gemeente deur die Woord en die pastorale versorging van die lidmate ten diepste verbonde aan dienswerk deur die besondere dienste en onderlinge meelewing tussen die lidmate.

Waar die doctrina egter nie tot sy reg kom nie, ly die ampswerk van die besondere dienste of ampte noodwendig daaronder, of ook andersom: waar die ampswerk nie na behore geskied nie, ontbreek dit aan die (gesonde) doctrina. Vanselfsprekend bly die opbou van die kerk (ook in Afrika) dan ook in die slag. ’n Tipiese voorbeeld hiervan is die “onmondigheid” (om ’n Roomse en Aufklärung-term te gebruik) van die lidmate en selfs van sommige ouderlinge of diakens, in soverre alles maar gerieflikheidshalwe aan die “dominee” oorgelaat word. Die “dominee” moet ’n “bestuurder”, ’n “besturende direkteur” wees, in plaas van die Bybelse opdrag dat hy ’n dienaar van die Woord, ’n herder en leraar (van die doctrina) is. Van selfstandige, roepingsvervulde ampswerk in gehoorsaamheid aan Christus en sy Woord bly daar maar min oor. Dan is die noodwendige eindresultaat ’n gedeformeerde “domineekrasie” met die regeeramp wat terugtree; ouderlinge wat nie meer alles, ook nie die dominee se doen en late, aan die Woord toets nie.

Waar die stryd vir die Waarheid en teen die valse leer in die Skrif ’n direkte opdrag aan alle lidmate, en in die besonder aan die ouderlinge (en natuurlik dienaars van die Woord) is – en waar hierdie stryd vir die Waarheid as sodanig by Calvyn en in die Reformasie nog prominent sigbaar is – beroep te veel lidmate sowel as ouderlinge en diakens hulle in 2003 nog op uitsprake van dominees of teoloë, in plaas daarvan om ook húlle uitsprake (dié van dominees en teoloë) aan die Woord te meet. Die beroep op sogenaamde “kundiges” is tipies Rooms, en vreemd aan die Reformasie en aan die gereformeerde kerkbeskouing.

• By Calvyn soek ’n mens tevergeefs na ’n doktrinêre doctrina-begrip. Eksegese en dogmatiek is by hom nie geskei nie; die dogmatiese en pastorale aspekte soos dit na vore tree in die Woord van God is by Calvyn nog ’n eenheid. Dit maak natuurlik ’n groot appèl op die dienste, maar veral op die bedienaars van die Woord. Dit onderstreep ook die belangrikheid van huisbesoek deur herders en ouderlinge.

• Die vraag kan dus tereg gestel word of hierdie Reformatoriese uitgangspunt in ons prediking tot sy reg kom – ’n gereformeerde beginsel wat ook in die opleiding van herders en leraars sy regmatige erkenning behoort te vind.

• Om maar een praktiese toepassing te noem: Hierdie insig, dat die “leer” nooit losgemaak kan word van die verkondiging en van die evangelie en van die eksegese nie, bied nie net nuwe perspektief op die eis na ’n tweede (of meer) erediens(-te) nie, maar fundeer Skriftuurlik op ’n organiese (gereformeerde) wyse die “leerprediking” (of liewers “onderrigprediking”) tydens die tweede diens op Sondae (vgl die Dordtse Kerkorde, art 68) – spesifiek as wyse waarop die kerk opgebou word. Die beweerde teenstelling tussen vryestofprediking en kategismusprediking blyk dan ’n vals teenstelling te wees; en die argumente, as sou daar nie Skrifgronde vir twee (of meer of inderdaad so baie moontlik) eredienste op ’n Sondag wees nie, blyk Biblistiese antwoorde te wees op die verkeerde vraagstelling.

5. SLOT

Die ondersoek oor Calvyn se gebruik van die doctrina-begrip korrigeer die vals beeld van ’n doktrinêre of intellektualistiese teologie by Calvyn. Daarmee saam korrigeer dit die negatiewe persepsies oor “leer”, wat waarskynlik wyer implikasies het vir ons beoordeling van die Reformasie en in die besonder vir ons gereformeerde godsdiens en die opbou van die kerk in Afrika. Calvyn gebruik doctrina op ’n dinamiese wyse, wat net weereens die gereformeerde en uitstaande waarheid beklemtoon: vir hom gaan dit in die ware doctrina altyd oor God – of dit nou op die preekstoel of in die kategese is, en of dit in huisbesoek of pastorale sorg is (of op die kateder van die teologiese lesinglokaal) – in die bediening van die Woord deur die ampte gaan dit altyd oor God, God wat spreek, Deus loquens. En daarom staan die Woord van God, Verbum Dei, en die bediening daarvan deur die ampte sentraal – ook vir Afrika. Want God het immers sy Woord gestuur. En die Woord het mens geword … En die kerk moet gebou word deur die Woord ... veral en juis in Afrika ...

BIBLIOGRAFIE

Bronne

Calvyn, J 1863-1900, in Ioannis Calvini Opera Quae Supersunt Omnia, Vol I-LIX [= CO 1-59]. Ediderunt G[W]. Baum, E Cunitz & Reuss, E. Vol I-LIX, in Corpus Reformatorum, Vol XXIX-LXXXVII. Brunsvigae/ Berolini: CA Schwetschke et filium.

Calvyn, J 1926 [1536]. Ioannis Calvini Opera Selecta, Vol I, in Joannis Calvini Opera Selecta, Vol. I-V [= OS I-V], ediderunt P. Barth, Niesel G (W) & Scheuner, D 1926-1962. Monachii in Aedibus [München]: Chr Kaiser.

CO [= Calvini Opera]

kyk

Calvyn, J 1863-1900.

OS [= Opera Selecta]

kyk

Calvyn, J 1926 [1536]. Ioannis Calvini Opera Selecta.

Sekondêre literatuur

Battles, FL & Hugo, AM. Calvin’s Commentary on Seneca’s De Clementia, Part Two: Text, Commentary, Translation and Notes. Leiden: EJ Brill, 1-448.

Böttger, PC 1990. Calvins Institutio als Erbauungsbuch – Versuch einer literarischen Analyse. Neukirchen: Neukirchener.

Bouwsma, WJ 1989. John Calvin: A Sixteenth-Century Portrait. New York: Oxford University Press.

Brunner, P 1925. Vom Glauben bei Calvin. Tübingen: JCB Mohr.

Büsser, F 1950. Calvins Urteil über sich selbst. Zürich: Zwingli-Verlag.

Coertzen, P 1981. Die regering en die opbou van die kerk. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers (Stellenbosse Teologiese Studies, Nr 7).

D’Assonville, VE (jr) 1998. Die Heilige Skrif as Woord van God: met spesifieke verwysing na die Petrusbriewe en soos vertolk in Artikel 3 van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Potchefstroom: PU vir CHO.

D’Assonville, VE (jr) 2001. Der Begriff “doctrina” bei Johannes Calvin – eine theologische Analyse. Münster: LITVerlag.

De Boer, EA 1984. Geloof onder woorden: Over de betekenis van en het theologisch onderzoek naar belijdenis en dogma. Radix 10:68-102.

De Greef, W 1989. Johannes Calvijn: zijn werk en geschriften. Kampen: De Groot Goudriaan, 236.

Erasmus, LM 1994. Sola ecclesia? ’n Kritiese verantwoording van die kerkbegrip van die gemeentebouteologie in die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat (DTh-proefskrif).

Hedtke, R 1969. Erziehung durch die Kirche bei Calvin: Der Unterweisungs- und Erziehungsauftrag der Kirche und seine anthropologischen und theologischen Grundlagen. Heidelberg: Quelle & Meyer.

Jones, S 1995. Calvin and the Rhetoric of Piety. Louisville, Kentucky: Westminster John Knox Press (Columbia Series in Reformed Theology).

Kayayan, E 1993. Relevance of John Calvin for today. Potchefstroom (ongepubliseer).

Kayayan, E 2002. Africa needs Reformed Theology: Churches and Spirituality. (Introduction to a seminar on the theological training for Africa, held at the Reformed Church Rietvallei on September 9, 2002.) (Ongepubliseer.)

Kolfhaus, DW 1941. Die Seelsorge Calvins. Neukirchen: Buchhandlung des Erziehungsvereins. (Goeters, W, Kolfhaus, DW, Lang, A & Weber, O (Hrsg). Beiträge zur Geschichte und Lehre der Reformierten Kirche, 5. Band.)

Krusche, W 1957. Das Wirken des Heiligen Geistes nach Calvin. Berlin: Evangelische Verlagsanstalt.

Lange van Ravenswaay, JMJ 1990. Augustinus totus noster: Das Augustinverständnis bei Johannes Calvin. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht (Forschungen zur Kirchen- und Dogmengeschichte, Bd. 45).

Louw, JP & Nida, EA (reds) 1988. Greek-English Lexicon of the New Testament based on Semantic Domains, Vol 1: Introduction and Domains. New York: United Bible Societies.

Millet, O 1992. Calvin et la dynamique de la parole: Etude de rhétorique réformée. Paris: Librairie Honoré Champion (Bibliothèque Littéraire de la Renaissance, Série 3, Tome XXVIII).

Muller, RA 2000. The Unaccommodated Calvin – Studies in the Foundation of a Theological Tradition. New York/Oxford: Oxford University Press (Oxford Studies in Historical Theology).

Neuser, WH 1976. Theologie des Wortes – Schrift, Verheißung und Evangelium bei Calvin, in Neuser, WH (Hrsg). Calvinus Theologus: Die Referate des Europäischen Kongresses für Calvinforschung vom 16. Bis 19. September 1974 in Amsterdam. Neukirchen-Vluyn: Neukirchener, 17-37.

Neuser, WH 1994. Calvins Verständnis der Heilige Schrift, in Neuser, WH (Hrsg). Calvinus Sacrae Scripturae Professor: Die Referate des Internationalen Kongresses für Calvinforschung vom 20. bis 23. August 1990 in Grand Rapids. Grand Rapids, Michigan: William B Eerdmans, 41-71.

Neuser, WH 2002. Einige Bemerkungen zum Stand der Calvinforschung. (Unveröffentlicher Kurzvortrag, am 21. August 2002 während des 8. Internationalen Kongresses für Calvinforschung, Princeton, New Jersey, USA.)

Opitz, P 1994. Calvins theologische Hermeneutik. Neukirchen: Neukirchener. Plomp, J 1969. De kerkelijke tucht bij Calvijn. Kampen: Kok.

Reuter, K 1963. Das Grundverständnis der Theologie Calvins unter Einbeziehung ihrer geschichtlichen Abhängigkeiten. Neukirchen: Neukirchener Verlag.

Ritschl, D 1990. Lehre, in Theologische Realenzyklopädie [TRE], herausgegeben von G Müller. Berlin/New York: Walter de Gruyter. Band XX, 608-621.

Schroten, H 1948. Christus, de Middelaar, bij Calvijn: Bijdrage tot de Leer van de Zekerheid des Geloofs. Utrecht: P den Boer.

Selderhuis, H 2000. God in het midden – Calvijns Theologie van de Psalmen. Kampen: Kok.

Van Genderen, J 1965. Calvijns dogmatisch werk, in Zicht op Calvijn. Amsterdam: Buijten & Schipperhijn, 9-46.

Van ’t Spijker, W 1977. Doctrina naar reformatorische opvatting, I: Het doctrina-begrip in de oude kerk, de

Middeleeuwen en aan het begin van de Reformatie. Theologia Reformata, 20:263-280.

Van’t Spijker, W 1978. Doctrina naar reformatorische opvatting, II: Doctrina bij Calvijn. Theologia Reformata, 21:7-25.

Van ’t Spijker, W 1990. Aspecten van gemeenteopbouw in de Reformatie – Voornamelijk bij Luther, Bucer en Calvijn. Theologia Reformata, 33(4):309-332.

Weber, O 1955. Grundlagen der Dogmatik, Bd 1. Neukirchen: Verlag der Buchhandlung des Erziehungs- vereins.

Weerda, J 1960. Ordnung zur Lehre. Zur Theologie der Kirchenordnung bei Calvin, in Moltmann, J (Hrsg). Calvin-Studien 1959. Neukirchen: Neukirchener.

1 Voordrag gelewer tydens ’n Calvyn-seminaar by die Kweekskool op Stellenbosch, aangebied deur die Departement Ekklesiologie van die Teologiese Fakulteit, US, op 23 Mei 2003.

2 Calvyn, in sy brief (voorwoord by die Institusie) aan koning Francois I van Frankryk, 1536 [1535] (OS 1,21). Die volledige sin lui soos volg: “Tantum erat animus rudimenta quaedam tradere, quibus formarentur ad veram pietatem qui aliquo religionis studio tanguntur. Atque hunc laborem Gallis nostris potissimum desudabam, quorum permultos esurire et sitire Christum videbam, paucissimos, qui vel modica eius cognitione imbuti essent” (OS 1,21). Afrikaans: “My bedoeling was slegs om enkele grondbeginsels oor te lewer, sodat mense wat met ’n mate van belangstelling in die godsdiens deurdrenk is, daardeur tot die waaragtige geloof opgelei kon word. En ek het hierdie taak in besonder vir ons Franse langenote verrig, van wie ek bemerk het dat daar uiters baie was wat na Christus gehonger en gedors het, en ’n baie geringe aantal wat maar net effens in die kennis aangaande Hom opgelei is” (OS 1,21; vgl Calvyn 1980:1).

3 OS I,21: “Want ek sal nie skroom om te erken dat ek hier die som van juis daardie [gesonde] doctrina saamgevat het nie ...”

4 Uiteraard word die begrippe opbou van die kerk of gemeentebou hier nie in eng tegniese sin nie (vgl die definisie by Van ’t Spijker 1990:310, 311) maar in ruim, algemene sin gebruik.

5 Die klem van hierdie voordrag lê op Woordverkondiging by Calvyn. Vanuit ’n ondersoek oor bepaalde aspekte rakende Woordverkondiging by Calvyn word die opbou van die kerk in Afrika dan vry algemeen benader. Hier word dus nie beoog om die kerk as sodanig of spesifiek die kerk in Afrika in sy diversiteit te ontleed nie; wel word gekonstateer dat Afrika as geheel en spesifiek die inwoners van Afrika op ’n besondere wyse in nood verkeer, waarvan die belangrikste die honger en dors na die Woord is (vgl OS 1,21 – “esurire et sitire Christum”). (Tov Afrika, vgl in hierdie verband Kayayan 2002.)

6 Weber, O 1955. Grundlagen der Dogmatik, Bd. 1 (Neukirchen: Verlag der Buchhandlung des Er- ziehungsvereins), 13: “Die Existenz christlicher Lehre ist keineswegs unumstritten. Das gilt auch von der Predigt, sofern sie ‘lehrt’.”

7 Dat hierdie en soortgelyke standpunte self ook dogmaties is, word natuurlik nie ingesien nie.

8 ’n Blote blik in die kongresbande van die Internasionale Kongres vir Calvynnavorsing sedert 1978 dui op die prominente plek wat aan hierdie teologiese en filologiese begripsontleding afgestaan word.

9 Hy praat ook van “the failure to examine any of Calvin’s writings beyond the Institutes” (Muller 2000:189).

10 “Summa fere sacrae doctrinae duabus his partibus constat: Cognitione Dei ac nostri” (OS 1,37).

11 Vgl oa Brunner 1925:106-111; Kolfhaus 1941:162; Schroten 1948:354 ev; Büsser 1950:107-114; Krusche 1957:218; Weerda 1960:144-171; Reuter 1963:78-87; Van Genderen 1965:15 ev; Hedtke 1969:40-51; Plomp 1969:96-99; Van ’t Spijker 1978; De Boer 1984:78-81; Böttger 1990:140-142; Lange van Ravenswaay 1990:124-127; Millet 1992:557-562; Neuser 1994:54 ev; Opitz 1994:104-108.

12 In sy bekende werk John Calvin – A Sixteenth-Century Portrait interpreteer Bouwsma Calvyn se gebruik van die term doctrina eenvoudig asof dit ’n ekwivalent is van die Engelse begrip doctrine (soos doctrine tans, maw in die 20ste/21ste eeu, gebruik word). Daarom kan hy by twyfelagtige gevolgtrekkings (gebaseer op sy vertaling van doctrina met doctrine) uitkom, soos dat “such sentiments point to a tendency in Calvin to understand faith less as trust in God’s promises than as intellectual assent to a body of propositions” (Bouwsma 1989:99).

13 Die appèl op die eis van simplicitas (die eenvoud van die evangelie) vind ’n mens deurlopend in Calvyn se geskrifte. Volgens Calvyn is die evangelie “eenvoudig”; dit moet as sodanig “eenvoudig” oorgedra word (vgl bv CO 52,304).

14 Hierdie groep tekste sluit die volgende in: “Praefatio”, in Nicolas Duchemin, Antapologia ([1531] – CO 9,785 ev); L. Annei Senecae, Romani Senatoris, ac philosophi clarissimi, libri duo de clementia, ad Neronem Caesarem: Iohannis Calvini Nouiodunaei commentariis illustrati. ([1532] – CO 5,1.162: Calvyn se kommentaar op Seneca se boek De Clementia; vir ’n kritiese uitgawe van die teks, vgl Battles & Hugo 1969:1-448); Concio Academica (Paryser Rektorsrede) deur Nicolas Cop, gelewer op 1 November 1533. (CO 9,873-876; 10b,30-36; OS I,4-10. Volgens die mees resente navorsing was Calvyn na alle waarskynlikheid betrokke by die formulering van hierdie rede); “Praefatio Ioannis Calvini ad amicum quendam” by sy boek, Psychopannychia. ([1534] – CO 5,169-172. Die Psychopannychia is in 1542 en toe weer in 1545 gepubliseer – vgl De Greef 1989:153; die voorwoord is gedateer 1534 – vgl CO 5,171). Net die Praefatio by die Psychopannychia (sowel as die tweede voorwoord, “Lectoribus” – CO 5,173-176) is vir die ondersoek in ag geneem, omdat die teks van die Psychopannychia wat voor hande is uit die jaar 1542 stam (vgl CO 5,165); Franse voorwoord by die Olivétanbybel; die Latynse voorwoord by die Olivétanbybel (CO 9,787-822); die Institusie (eerste uitgawe, 1536; OS 1); die brief aan koning Frans I van Frankryk, wat as ’n voorwoord saam met die Institusie gepubliseer is (OS 1,21 ev).

15 Calvyn se kommentare op die Pastorale Briewe; telkens saam met die “Argumentum” (CO 52).

16 Op grond van metodologiese oorwegings het Calvyn se kommentare op die Pastorale Briewe vir hierdie ontleding onder die soeklig gestaan. Van ’t Spijker (1990) wat ook aandag aan die aspek van die ecclesiae aedificatio by Calvyn geskenk het, het in sy studie veral na die Institusie en ook na preke deur Calvyn verwys.