Janse van Rensburg, J
Universiteit van die Vrystaat

Praktiese teoloog van die Woord: ’n beoordeling van die teologie van JS Kellerman

ABSTRACT

Practical theologian of the Word: an evaluation of the theology of JS Kellerman

At his retirement, JS Kellerman has built up an academic legacy that many would be jealous of. In his doctoral thesis and many published articles in credited scientific journals he has addressed three main themes. Preaching has been his main focus, church administration and growth became just as important and spirituality gradually occupied more and more of his time and interest. This article endeavours to highlight and discuss Kellerman’s contribution to Practical Theology in these three fields, particularly with reference to the epistemological principles underlying his theology.

1. INLEIDING EN DOEL

Die aftrede van Jacobus Stefanus Kellerman, hoogleraar in die Praktiese Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat, het ’n einde gebring aan ’n lang, geseënde en vrugbare akademiese loopbaan. Dit is dan ook gepas dat ’n teologiese beoordeling van sy akademiese arbeid aangebied word ten einde ’n oorsigtelike en evaluerende perspektief op sy navorsing op skrif te stel. Hiermee is dan onmiddellik die doel van hierdie navorsingsartikel aan die orde gestel. Die artikel wil nie ’n lewensbeskrywing van professor Kellerman (hierna: Kellerman) gee of ingaan op sy enorme bydrae tot die Nederduitse Gereformeerde Kerk nie. Dit is elders reeds te boek gestel. 1Eerder wil die artikel probeer om Kellerman se akademiese publikasies samevattend en interpretatief te beoordeel, ten einde die grondstrukture van sy prakties-teologiese metodologie en denke te identifiseer.

2. NAVORSINGSMETODOLOGIE

Ten einde die navorsingsdoel te bereik is die belangrikste navorsing en publikasies van Kellerman geraadpleeg. Populêre artikels wat nie in geakkrediteerde tydskrifte verskyn het nie, is nie in ag geneem nie. Vanweë Kellerman se vrugbare arbeid as studieleier en promotor (hy was promotor van minstens 24 doktorale proefskrifte), het ’n hele aantal artikels ook in samewerking met sy studente verskyn. Ook hierdie bydraes is doelbewus nie in berekening gebring nie, aangesien sulke artikels hoofsaaklik die paradigmatiese keuse, metodologie en beredenering (formulering) van die betrokke student bevat. Hierdie soort navorsing weerspieël dus nie altyd en noodwendig en ook nie noukeurig die teologiese uitgangspunte van Kellerman self nie.

In ’n vorige artikel (Janse van Rensburg 2001:342-343) het ek byvoorbeeld verwys na Kleynhans en Kellerman (2000:84-85) se uitgangspunt dat dit in die prediking nie om beginsels gaan nie, maar om die vrae waarmee die hoorders huis toe gestuur word. Hierdie formulering is geskoei op die lees van die student (Kleynhans) se gekose epistemologie, naamlik die Sosiale Konstruksionisme. Daar sal aangetoon word dat Kellerman se epistemologie radikaal van die Sosiale Konstruksionisme verskil, en dat Kellerman, beoordeel teen die agtergrond van uitgangspunte in sy proefskrif en navorsingsartikels, waarskynlik nie sélf die betrokke formulering (dat dit nie om Skrifbeginsels gaan nie) sou gekies het nie. Die teologiese grondbeginsels waarmee Kellerman hoofsaaklik gewerk het, word verder in hierdie navorsingsartikel teen die agtergrond van relevante prakties-teologiese literatuur beoordeel.

3. PROBLEEMSTELLING EN HIPOTESE

Die navorsingsprobleem van die artikel is die vraag na die teologiese grondmotiewe wat Kellerman se akademiese arbeid onderlê. Die vermoede bestaan dat ’n aantal duidelike grondbeginsels geïdentifiseer sal kan word wat op die een of ander wyse in al sy navorsing figureer. Kellerman se navorsingsvelde was hoofsaaklik die prediking en gemeentebediening. In hierdie artikel word daar doelbewus gekies om nie hierdie dissiplines afsonderlik aan die orde te stel nie, aangesien die vermoede bestaan dat dieselfde grondmotiewe ten grondslag lê van sy basisteorie vir homiletiek en gemeentebediening. Hoewel hy ook vir die dosering van ’n dissipline soos Diakoniek en Kategetiek verantwoordelik gemaak is en daar ’n betekenisvolle Bybelkorkursus in eersgenoemde verband verskyn het (Kellerman 1991c), was daar nie werklik akademiese bydraes waarin Kellerman sy teologiese vertrekpunte in hierdie prakties-teologiese rigtings kon uitwerk nie.

4. GRONDMOTIEWE VAN KELLERMAN SE TEOLOGIE

4.1 ’n Diakoniologiese epistemologie

Met sy proefskrif in 1978 het Kellerman ’n belangrike stap geneem in die rigting van die gebruik van metateoretiese wetenskapskennis toe hy die benutting van die kommunikasiewetenskap vir die prediking ondersoek het. Die vraag ontstaan of Kellerman nie hier reeds by ’n kommunikatiewe handelingsteorie (J Habermas) aangesluit het nie. ’n Ondersoek van sy proefskrif laat egter gou blyk dat die epistemologiese vraagstelling (Diakoniologie of Praktiese Teologie) in hierdie tyd nog nie op die spits gedryf was nie en hoegenaamd nie in die proefskrif funksioneer nie. Kellerman self het ook nooit in hierdie epistemologiese debat betrokke geraak nie.

Dat dit Kellerman se bedoeling is om diakoniologies te werk blyk uit sy aansluiting by Skrifbeginsels oor die prediking (1978:26-30, 51-58), die Trinitariese fundering vir die vormgewing aan die preek (1978:32) asook by die reformatoriese vereistes vir die prediking (1978:11). Hy identifiseer die kernprobleem van die kommunikasie van die Woord as die gevaar dat wat God in sy Woord sê nie noodwendig via die preek sinvol, aktueel en verstaanbaar by die hoorder uitkom nie (1978:41). Styl en vorm kan die effektiewe kommunikasie van die Woord in die prediking bevorder, maar daar is ongelukkig ook ’n wesenlike gevaar dat hierdie hulpmiddels in kommunikasie belangriker as die Woord word en só die Woord in die skadu stel. Slegs waar vorm en inhoud ’n eenheid vorm, kan effektiewe kommunikasie in diens van die Woordbediening staan (1978:42-50). Kommunikasieteorieë kan gebruik word om die kommunikasieproses beter te verstaan (1978:85-112).

Hiermee is alreeds ’n belangrike merker in die epistemologiese debat rondom ’n diakoniologiese metodologie aangedui. ’n Diakoniologiese metodologie neem sy uitgangspunt in die diens van die Woord, maar neem ook deeglik kennis van die menswetenskaplike kennis wat in diens van die Woord gebruik kan word. Die karikatuur wat van ’n diakoniologiese benadering gemaak word, as sou hierdie benadering net met Bybeltekste opereer en die menswetenskappe ignoreer, is hiermee aan die kaak gestel (sien verder Janse van Rensburg 2000:78-80).

Aan hierdie diakoniologiese metodologie het Kellerman in sy latere akademiese arbeid getrou gebly. Hy erken die waarde van verskillende preekvorme, maar dit is duidelik dat hy aan die analities-sintetiese (tekstematiese) vormgewing voorkeur gee. Daarvan getuig byvoorbeeld die bespreking van 1 Korintiërs 12:12-31 en die voorstel van ’n preekstruktuur vir hierdie Skrifgedeelte (1987:75-81).

As algemene vereiste vir die prediking stel Kellerman dat die prediker weer met die Woord erns moet maak. Die tema moet uit die teks kom en die preek moet die teks verklaar voordat dit toegepas word. Dit gaan in die prediking om Skrifuitleg (1993:181). In ’n artikel oor narratiewe prediking definieer Kellerman (1991b:473) prediking as “die bekendmaking van die goeie nuus wat God vir die mens het, dit is die woorde van die evangelie van Jesus Christus wat vertel van versoening en verlossing, van nuwe en ewige lewe. Deur die prediking van hierdie evangelie, soos opgeteken in die Woord van God, word mense en hulle wêreld verander en word die geskiedenis van volke gestuur”.

Met hierdie siening van Kellerman moet weer erns gemaak word, aangesien die postmoderne aanslag op die teologie, kerk en wêreld nie die tekstematiese prediking onaangetas laat nie. Clements (1999:174-182) se indringende bespreking van die postmoderne aanslag op “expository preaching” is in hierdie verband uiters relevant. Teenoor die postmoderne antroposentriese subjektivisme, wat meer op die metaforiese vlak kommunikeer en die preek in ’n “geselsie” laat ontaard, staan die Skrifprediking onwrikbaar as die enigste wyse waarop God se Woord effektief gekommunikeer kan word. Die vormgewing aan die preek en die inhoud is hiervan ’n onontbeerlike en onlosmaaklike deel. Daarsonder is prediking ondenkbaar (Kellerman 1993:177-178). Kellerman se sterk beklemtoning van die eenheid tussen vorm en inhoud kom neer op die verwerping van ’n soort prediking wat sonder ’n gestruktureerde vorm is, iets wat deesdae onder postmoderne invloed onder sommige predikers gewild geword het.

Beginsels vir narratiewe prediking word allereers in die verhale van die Ou en Nuwe Testament gesoek (1991b:477-480) voordat ’n teorie vir narratiewe prediking ontwerp word. Hierdie verhale is egter nie maar net narratiewe nie. Dit is heilsgeskiedenis wat ten doel het dat mense tot geloof moet kom of dat hulle geloof deur die narratiewe gebeure versterk moet word. Nog later (in 1995) word die prediker se verantwoordelikheid teenoor God beskryf as ’n verantwoordelikheid dat die Woord in die preek tot sy reg moet kom. “Deur die prediking wil God met sy Woord en Gees die lewe van die mens betree” (1995:62).

Gemeentebou word by Kellerman nie anders gefundeer nie. Sy basisteorie vir gemeentebou word opgebou uit die Skrifbeginsels van die uitverkiesing, die skepping, die geloof in Christus en die Hoofskap van Christus oor sy kerk (1993b:333). Gemeentebou is dan afgestem op vernuwing volgens God se doel met die gemeente. God tree hierin op as die handelende subjek terwyl die vernuwingsproses binne die konteks van die verbond en deur die krag van die Heilige Gees geskied (1993b:335-338). Binne hierdie gemeentebedieningsbenadering het die ampte nog ’n onontbeerlike funksie en is die roeping tot die amp en die toerusting deur die Heilige Gees (1991c:11-24) nog belangrik. Die wegbeweeg van die herdermetafoor en die amptelike benadering na ’n liggaamsmetafoor wat al hoe meer radikaal en finaal van besondere ampte afstand wil doen (Heyns 1993:126-136), figureer nie in Kellerman se diakoniologiese benadering nie.

Só ’n teologiese basisteorie sluit ook nie belangrike menswetenskaplike insigte uit nie. Daar is immers ook ’n sistemiese dimensie wat verreken moet word (1993b:339). Ook hierdie sistemiese dimensie word egter in die Woord gefundeer en nie in die sisteemteorie nie. Die gemeente is nie maar net ’n sosiologiese verskynsel nie. Die unieke karakter van die gemeente as liggaam van Christus bestaan daarin dat die samestelling en funksionering, die doelwitte en einddoel van die gemeente se bestaan in die eenheid met Christus en met mekaar teruggevind word (1993b:339).

Deur sy diakoniologiese uitgangspunte behou Kellerman die teologiese karakter van sy basisteorie, hoewel hy deeglik van metateoretiese insigte op ’n interdissiplinêre wyse kennis neem. Só word ook verhinder dat die preek in ’n toespraak en gemeentebou in besigheidsbestuur ontaard.

Dit is min of meer in hierdie trant dat Zink-Sawyer (1999:35-36) teen die agtergrond van die vraag of prediking ’n kunsvorm is of nie, ooreenkomste tussen prediking en kuns uitwys. Soos kuns kan prediking nuwe verstaanshorisonne van die geloof oopbreek en dieper ervaringswerklikhede fasiliteer. Maar die prediking bly uniek in sy eie aard as bediening van die Woord. Die preek is soos ’n kunswerk – dit is ons s’n maar tog ook weer nie ons eie nie. Vir Zink- Sawyer (1999:36-37) is die verklaring vir hierdie dialektiese karakter van die prediking geleë in die vreemde krag van kreatiwiteit. Kellerman verklaar dit fundamenteel vanuit die krag van die Woord en die dinamiese werking van die Gees. Die andersoortigheid van die prediking moet hoofsaaklik uit die onvergelyklike werking van die Heilige Gees verklaar word. Die Heilige Gees word die onsigbare en allerbelangrikste “derde party” in die prediking aangesien dit net Hy is wat geloof, bekering en vernuwing moontlik maak (1978:244-248).

4.2 ’n Narratiewe voorkeur

Dat Kellerman baie sterk tot die narratief as kommunikasiefenomeen aangetrokke gevoel het, blyk daaruit dat hy verskeie artikels aan die rol van die narratief in die prediking (2) en in gemeentebou (1) gewy het, terwyl sy intreerede (1990) eweneens oor die narratief in die prediking gehandel het. Getrou aan sy epistemologiese keuse wil Kellerman ook die narratief binne die Skrifverstaan omskryf. Daarom praat hy van ’n narratiewe teologie wat deur die Skrif genormeer word. Die Bybel is vir Kellerman nie alleen die basis vir sy teologiese denke nie, maar ook die beste eksponent van die narratief en sy gebruik (1996:513). Omdat die Skrif die bron vir die prediking is, kan die prediking nie net uit narratiewe bestaan nie. Die Bybel is immers nie so saamgestel nie (1996:511). Die verskil tussen sekulêre narratiewe en Bybelse narratiewe is dat laasgenoemde nie met fiksie te make het nie, maar met heils- of openbaringsgeskiedenis. Die narratiewe vorm word gebruik om onder leiding van die Heilige Gees God se verlossingswil aan die mens te kommunikeer (1996:514).

Hoewel Kellerman die waarde van narratiewe prediking beklemtoon, gaan hy nie volledig in ’n narratiewe vormgewing aan die preek op nie. Hy waarsku dat die voordele van die narratiewe preekvorm nie mag veroorsaak dat ons die gevare en probleme in hierdie preekvorm onderskat of miskyk nie (1993:184-186). Daarbenewens moet daar ab initio onthou word dat narratiewe prediking geen eenvoudige saak is nie (1993:183).

Vir gemeentebou is die narratiewe benadering waardevol omdat dit die gemeentelike gebeure van verlede, hede en toekoms in ’n duidelike konteks plaas en dit ook maklik en aanskoulik aan die lidmate van die gemeente kommunikeer. Wanneer lidmate met hulle eie (gemeente-)storie gekonfronteer word, help dit hulle om die doel van gebeure te evalueer, om die gemeente se identiteit te verstaan en om hulle koers te bepaal (1996:518-521).

Kellerman verwys in hierdie verband na die unieke karakter van die gemeente wat uit die gemeentelike verhaal afgelees kan word. Daar moet egter met groot omsigtigheid hiermee omgegaan word, aangesien daar soms net te maklik afleidings en gevolgtrekkings gemaak en die ingewikkelde en pluriforme samestelling van die betrokke gemeente geïgnoreer word. Die vertel en evaluering van ’n gemeentelike verhaal moet geloofmatig geskied. Die dieper dimensie van die geloof, die subjektiewe en nie die objektiewe kant daarvan nie, kan immers nie aan empiriese gegewens gemeet word nie (1996:519).

Later, in 2002, sou een van Kellerman se doktorale studente die belang van die gemeente se narratief in gemeente-analise verder uitbou. Op ’n kundige en gebalanseerde wyse bespreek Schoeman (2002:115-119, 200-203) die voordele, maar ook die swak punte van ’n narratiewe benadering tot gemeente-analise.

4.3 ’n Spiritualiteit coram deo

In Kellerman se teologie het dit al hoe sterker na vore gekom dat die spiritualiteit wat aan alle kerklike en teologiese dissiplines onderlê is, die wesensaard en koninkrykswaarde van daardie dissipline bepaal. In sy artikel oor die oorsake van werkstres by predikante (1991:296-297) wys Kellerman op die verband tussen geloof en lewe. Vanweë die sondeval kan die mens nie sy lewe volledig tot eer van God inrig nie. Dit is eers in ’n lewende verhouding met Christus dat daar in die mens se lewe orde en standvastigheid kom. Christus is die rots waarop ons bou. In en deur Hom word ons in staat gestel om oorwinning en rus te verkry en kan predikante stres oorwin.

Die teologiese wortels van Kellerman se beskouing oor spiritualiteit word reeds in sy proefskrif teruggevind (1978:30). Die geheim van geseënde en vrugbare prediking is volgens Kellerman nie in die eerste plek in die kommunikatiewe vaardighede te vind nie, hoe belangrik vormgewing en kommunikasie ook al mag wees (1993:179). Dit is God se skeppende en inkarnerende Woord en Gees wat self die vernuwingsgebeure konstitueer. Die inverbasie van hierdie logos bewerk ’n magtige skeppende gebeure wat ook in die prediking tereg kom. Die preek word ’n Goddelike instrument om die Here se kerk toe te rus om in die wêreld vir Hom te leef (1993:178). Alle prediking, ook die narratiewe preekvorm, wil die mens in ’n lewende verhouding met Jesus Christus plaas (1993:186). Olson (1999:51-52) praat in hierdie verband van Christus se immanensie in die preekgebeure.

Hierdie pneumatologiese uitgangspunt wat so inherent deel van Kellerman se teologie is, vind ook in sy prakties-teologiese ekklesiologie ’n neerslag. Gemeentebou kan maklik ontaard in die byna paniekerige implementering van hierdie of daardie model of plan. Maar vir Kellerman staan dit voorop as uitgangspunt dat dit God se Gees is wat sy gemeente bou. Die Gees wek lewe en rus die lidmate toe om gemeente vir die Here te wees. “Gemeentebou is diep ingebed in die kragveld van die Gees en sy Woord. Wie dit ignoreer is met ’n menslike en sinlose aktiwiteit besig” (1993b:338). Sonder ’n spiritualiteit van diepe ootmoed en geloofsafhanklikheid word alle gemeentelike aktiwiteit (ook prediking as deel van gemeentebediening en -bou) dus ’n hopelose saak.

Die spiritualiteit van die prediker teenoor die Woordverkondiging en gemeentebou speel in Kellerman se teologie dus ’n rigtinggewende rol. Dit veronderstel ’n verantwoordelikheid wat behels dat die prediker sy taak goed moet verstaan, naamlik om God in en deur die Woord aan die woord te laat kom. Dit veronderstel dat die prediker deeglike eksegese moet doen, maar ook dat die Woord met eerbied hanteer sal word. Hierdie verantwoordelikheid dra dan ook ’n reikwydte na die prediker se verhouding tot God en tot die hoorder (1995:62-63).

Dat ’n egte spiritualiteit vir die uitvoering van die roeping in God se diens onontbeerlik is, staan vir Kellerman onbetwisbaar vas. Dieselfde erns waarmee die bedienaar van die Woord sy verantwoordelikheid moet uitvoer, geld byvoorbeeld ook vir die diaken. Dit is nie maar ’n werk met sekere verpligtings wat uitgevoer moet word nie. Die diaken word gemaan om onbesproke en toegewy te wees. Die vrug van die Gees (Gal 5:22-23) word as ideaal vir ’n egte spiritualiteit voorgehou (Kellerman 1991c:25-34).

’n Belangrike aspek van Kellerman se spiritualiteitsbeskouing is dat spiritualiteit ’n dinamiese krag verteenwoordig wat deur die werking van die Heilige Gees gedryf word. Die motief vir alle dienswerk in die kerk is dat mense met die Verlosser Jesus Christus in aanraking sal kom, dat God in die lewe van mense sal deurbreek om ’n verskil te maak, dat die lewe anders kan wees omdat Christus regeer (sien Kellerman se eie uitsprake in hierdie verband soos dit hier bo aan die orde gekom het). Spiritualiteit is in hierdie perspektief dus nie bloot gesindheid of gevoel of meditasie nie. Dit is geloof in aksie! Waar ’n deurleefde en egte spiritualiteit in God se diens aan die werk is, gebeur daar altyd iets merkwaardigs.

Vanweë Kellerman se sensitiewe aanvoeling vir die strategiese belang van spiritualiteit in teologie en gemeentebediening is daar ’n onmiskenbare pastorale karakter in sy teologie. Kellerman skryf nooit klinies-teologies nie. Daar is altyd ’n merkbare of aanvoelbare pastorale grondhouding in sy akademiese bedryf. Carr (1989) se idees oor die verband tussen pastor en teologiese aktiwiteit is hier nogal relevant, terwyl Elford (1999) se bespreking van die pastorale karakter van die teologie op Kellerman van toepassing gemaak kan word. Elford (1999:3) tipeer die studie van alle aktiwiteit en gesindhede voor God se aangesig (“under God”) as pastorale teologie. In hierdie sin van die woord dra al Kellerman se teologiese bedryf ’n pastorale karakter. Hy is ’n teoloog wat die Here en die kerk liefhet. Hy is ’n prediker wat God se Woord vreugdevol en vreesloos wil oordra, maar altyd ook weer ’n pastor wat met bewoënheid die hoorders as gemeente van die Here ken en liefhet. Hy is ’n gemeentebestuurder (1991:291-293), maar nooit sonder empatie en begrip nie.

Dit is werklik jammer dat Kellerman nie sy gedagtes oor ’n gereformeerde spiritualiteit in akademiese vorm te boek gestel het nie. Die laaste vyf jaar van sy bediening is veral ook gekenmerk deur die geseënde retraites wat hy in verskeie gemeentes in ons kerk en dwarsdeur ons land en selfs in Namibië aangebied het. Hoewel dit nie ’n akademiese bydrae verteenwoordig nie, was Kellerman hoofsaaklik die argitek van ’n retraite-kampterrein (Menuha) buite Bloemfontein, waar gelowiges “tot hulle self kan kom” en geloofsversterking en geestelike opbou kan beleef. Die spiritualiteit wat onderliggend aan Kellerman se teologie is, het ook op hierdie wyse in diens aan die Here se kerk praktiese gestalte gekry. Moontlik en hopelik kan ’n publikasie oor die benutting van ’n gereformeerde spiritualiteit tydens die aftreejare die lig sien!

5. SAMEVATTENDE GEVOLGTREKKING

Kellerman het as praktiese teoloog eerlik met die Skrif, die kerk en die teologie omgegaan. Aan die epistemologiese vertrekpunte wat hy gekies het, het hy deurgaans in sy akademiese arbeid getrou gebly. Daar is geen aanduiding dat hy koerswysigings ondergaan, van standpunt verander of hom in enige paradigmaskuif laat insuig het nie. Dit beteken natuurlik nie dat hy in sy teologiese arbeid gestagneer het nie. Hy het egter praktiese teoloog van die Woord in diens van die kerk en koninkryk gebly.

Dit sou onmoontlik wees om werklik aan Kellerman se teologiese en kerklike bydrae in ’n artikel van hierdie omvang reg te laat geskied. Sy lang arbeid in die Here se diens was geseënd. Hy het ’n akademiese bydrae gelewer wat in die Nederduitse Gereformeerde Kerk betekenisvol, vernuwend en behoudend was. Ons kan die Here dank dat Hy sulke toegewyde en opregte diensknegte in sy koninkryk en aan sy kerk beskikbaar stel. Kellerman sou self geen lof of erkenning vir sy akademiese en kerklike bydraes wou hê nie. In sy eie woorde: “Al die eer aan Hom wat moed, krag en genade verleen het om in dikwels moeilike omstandighede te kon bly voortgaan met die taak wat ek aangepak het” (voorwoord tot die doktorale proefskrif 1978).

BIBLIOGRAFIE

Carr, W 1989. The Pastor as Theologian. Londen: SPCK.

Clements, R 1999. Expository Preaching in a Postmodern World. World Evangelical Fellowship (23) 2:174-182.

Elford, RJ 1999. The Pastoral Nature of Theology. Londen: Cassel.

Heyns, LM 1993. Bestuur van die gemeente as organisasie van vrywilligers. Praktiese Teologie in Suid-Afrika 8(2):126-136.

Janse van Rensburg, J 2000. The Paradigm Shift. Pretoria: Van Schaik.

Janse van Rensburg, J 2001. The influence of post-modern epistemology on preaching. NGTT 42(3&4):340-347.

Kellerman, JS 1978. Vormgewing van die prediking as kommunikasieprobleem. Stellenbosch: Ongepubliseerde doktorale tesis.

Kellerman, JS 1987. 1 Korintiërs 12:12-31. Fax Theologica 7(2):75-81.

Kellerman, JS 1990. Narratiewe prediking: ’n homiletiese ondersoek en beoordeling. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat. Rede by die aanvaarding van die amp van hoogleraar op 16 Mei 1990.

Kellerman, JS 1991. Die oorsaak van werkstres by die predikant. NGTT 32(2):290-298.

Kellerman, JS 1991b. Narratiewe prediking: ’n Homiletiese ondersoek en beoordeling. NGTT 32(3):473-485.

Kellerman, JS 1991c. Diaken vir Christus. Wellington: Bybelkor.

Kellerman, JS 1993. ’n Praktykteorie vir die vormgewing van die preek. Praktiese Teologie in Suid-Afrika 8(2):175-189

Kellerman, JS 1993b. Gemeentebou: Vertrekpunte vanuit ’n basisteorie. NGTT 34(3):331-344.

Kellerman, JS 1995. Prediking as narratiewe intermediêr. NGTT 36(1):57-64.

Kellerman, JS 1996. Gemeentebou binne ’n narratiewe paradigma. NGTT 37(4):509-522.

Kellerman, JS 2000. Teologiese opleiding in die jare 2000. Spiritualiteitsvorming van die teologiese studente en die predikante. Kaleidoskoop 2000. Acta Theologica (Feesuitgawe). Supplementum 1:26-44.

Kleynhans, DJB & Kellerman, JS 2000. Die sosioale konstruksiemodel en die spanning tussen hoor en doen as reaksie op die prediking. Acta Theologica 20(1):73-89.

Olson, R 1999. Proclaiming Salvation: Preaching Jesus as Savior. St Paul, Minneapolis: Luther-Northwestern Theological Seminaries no 19:49-57.

Schoeman, WJ 2002. ’n Prakties-teologiese basisteorie vir gemeente-analise. Bloemfontein: Ongepubliseerde doktorale proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.

Zink-Sawyer, B 1999. Art as preaching. Journal for preachers 22(3):30-38.

1 Voorwoord tot die huldigingsbundel aan JS Kellerman in Acta Theologica 21(2):1-4.