Kloppers, EC
Universiteit van Pretoria

Die invloed van ’n postmoderne tydsgees op die kerklied – enkele rigtingwysers 1

ABSTRACT

The influence of a postmodern culture on hymns and hymnals – a few guidelines

The worship service is surrounded by a postmodern culture, which may influence the singing of hymns, the compilation of hymnals and the reception of new hymns and hymnals. Aspects of postmodernism, such as a spirit of anti-authoritarianism, anti- foundationalism, pluralism and the postmodern “global village” are discussed. The broader notion of rationality and anthropology which provides for the ethical, emotional and social side of human nature, as well as a renewed recognition of rituals, symbols, images, metaphors and experience as indispensable human needs, are reflected upon. The theological challenges posed by this cultural environment are discussed and related to the influence on hymns, hymnals and the singing of hymns.

1. INLEIDING

Die praxis van die kerk en teologiebeoefening is in ’n bepaalde samelewingsverband en tydsgees ingebed. Die postmoderne of krities-moderne (vgl Welsch 1988 wat praat van ons postmoderne moderne) bied ’n moontlikheid vir die beskrywing van aspekte van die huidige samelewing en tydsgees, sonder dat daarmee die voortgang van die moderne en die oorblyfsels van die premoderne wat nog in die samelewing en die kerk aanwesig is, ontken word. In hierdie artikel word sekere prominente kenmerke van die postmoderne bespreek en die moontlike invloed van so ’n denkklimaat op die kerk en die teologiebeoefening aangetoon. Daar word geargumenteer dat ’n postmoderne geestesklimaat ’n wesenlike invloed op die kommunikasie van die geloof deur middel van die kerklied kan hê. Die postmoderne bied verskeie uitdagings aan die himnologie en die verskillende aspekte wat daarmee verband hou, soos onder meer die skryf en keur van liedere, die samestelling van liedboeke, die optrede van kommissies en die ontvangs van kerkliedere.

2. DIE RASIONALISERING VAN DIE SAMELEWING: ’N WESENSKENMERK VAN DIE MODERNE

Die huidige tydvak word deur verskillende ontwikkelings in die kultuurgeskiedenis voorafgegaan. Die gees van die moderne is veral deur die denke van die Aufklärung of Verligting bepaal. Die Aufklärung was ’n periode in die Europese kultuurgeskiedenis wat min of meer vanaf die sestiende tot die agtiende eeu ontwikkel het. In dié tyd vind ’n ingrypende proses van bewuswording plaas wat tot vandag toe deurwerk. Hiervolgens word die verligte mens as subjek van die eie ervaring in die sentrum geplaas, maar weliswaar subjek gedefinieer as die onafhanklike denkende subjek. Hierdie siening spruit veral uit Descartes (1596-1650) se bekende uitspraak Cogito, ergo sum of res cogitans. Sedert Descartes word die subjektiewe rede oorbeklemtoon. Rasionalisering word so ’n wesenskenmerk van die moderne.

Rasionalisering vorm onlosmaaklik deel van die samelewing en beïnvloed die geheel van die maatskaplike lewe (vgl Van der Ven 1993:17-31, in aansluiting by Weber 1980). Drie dimensies van rasionaliteit kan veral onderskei word: die kognitief-instrumentele rasionaliteit, die normatiewe of praktiese rasionaliteit en die ekspressiewe rasionaliteit. Die kognitief-instrumentele rasionaliteit het betrekking op waarheidsuitsprake oor die stand van sake en die effektiwiteit van metodes en middele om veranderings in die stand van sake aan te bring; die normatiewe of praktiese rasionaliteit het betrekking op uitsprake oor die juistheid en regverdigheid van handelings of optrede, en die ekspressiewe rasionaliteit het betrekking op die outentisiteit van uitsprake wat ervarings, belewenisse, gevoel of houding tot uitdrukking bring. Die dryfveer van die modernisering is primêr of bykans eksklusief dié van die kognitief-instrumentele rasionaliteit (vgl Habermas 1982). Dit beteken dat alles wat nie volgens die kognitief-instrumentele rede volkome rasioneel verantwoordbaar of beheerbaar is nie, nie kan aanspraak maak op waarheid, geldigheid of juistheid nie, en dus uit die diskoers uitgesluit word. Dit beteken ook dat net proposisies oor die werklikheid wat empiries bewysbaar is en van waaruit logies afleibare stellings en gevolgtrekkings gemaak kan word, as wetenskaplik en waar aanvaar word. Vanuit dié model van kennis is sake én mense gemarginaliseer op terreine waar ander dimensies van rasionaliteit sou funksioneer. Die postmoderne is krities ten opsigte van hierdie eensydige klemtone.

3. DIE POSTMODERNE: ’N KRITIESE REAKSIE OP ASPEKTE VAN DIE MODERNISME

Die postmoderne kan beskryf word as enersyds ’n kritiese reaksie op die modernisme, of andersyds as om die beginsels van die modernisme in die verste konsekwensie deur te voer. Die term is moeilik definieerbaar en word in die onderskeie vakwetenskappe op verskillende wyses gebruik – betekenis wissel van konteks tot konteks sodat selfs binne vakgebiede ook nie eenstemmigheid oor die betekenis en gebruik van dié term bestaan nie. Teenstrydigheid is egter juis ’n kenmerk van dié beweging (Hutcheon 1988:46). Volgens sommige skrywers het die postmodernisme ontwikkel uit die proteskultuur van die 1960’s en ook uit die poststrukturalistiese reaksie van Franse filosowe en literatuur-teoretici soos Derrida, Foucault en Lyotard (Van Heerden 1997:24-33). Hans Küng (1988:2-3) argumenteer egter dat die postmoderne ’n geestesklimaat karakteriseer wat dekades tevore reeds ingetree het. Hy is van mening dat die draaipunt van die modernisme veral in die tyd rondom die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) gekom het, omdat die ineenstorting van die bourgeois maatskappy en Eurosentriese wêreld in dié tyd plaasgevind het. Volgens Umberto Eco (1984:65-66) is die postmoderne eerder ’n geestesklimaat as ’n bepaalde tydvak.

Tracy (1994) wys daarop dat die oorheersing van die Cartesiaanse epistemologie in die Europese filosofie en teologie in die twintigste eeu tot ’n einde begin kom het. “The belief of the great moderns from Descartes through Husserl that philosophy can secure some sure, certain, presuppositionless ‘foundation’ for all thought and thereby for all reality has collapsed. This peculiarly modern temptation – now named ‘foundationalism’ – is in widespread dispute” (Tracy 1994:133). ’n Gees van anti-foundationalism en antifundamentalisme (Adam 1995:122) is dus ’n kenmerk van die postmoderne. Hiervolgens word ’n onaantasbare basis van waaruit kennis en waarheid sou ontstaan, ontken. Die postmoderne toon ’n wantroue teenoor metaverhale of grootverhale wat aangebied word as ’n onaantasbare basis van kennis en waarheid – vergelyk in dié verband Lyotard (1979/1984) se onderskeid tussen grootverhale en kleinverhale. Die kleinverhale van die postmoderne word vertel téén die oorheersende grootverhaal van die moderne in.

Die diskoers van die postmoderne is dus krities ten opsigte van die veronderstelling dat daar slegs één korrekte wyse is waarop die wêreld verstaan kan word. Objektiwiteit, of die “denkende subjek” as bron van finale outoriteit, word ontken (Hutcheon 1988:75). Die kompleksiteit van menslike ervaring word eerder erken en ’n pluraliteit van interpretasiewyses word toegelaat (Degenaar 1995:3). Daar word toenemend besef dat waarheid nie ééndimensioneel is nie, maar meerdimensioneel. Waarheid is ook nie tydloos of konteksloos nie, maar dit hou onder meer verband met die tydvak in die geskiedenis; mense se kultuur, woonplek, posisie in die samelewing en geletterdheid. Waarheid is altyd geïnterpreteerde waarheid. Dit word ook beïnvloed deur die beperkings van taal en die spesifieke taal waarin kennis weergegee word (vgl Swidler 1997:276-279). Vanweë die gegewe dat waarheid altyd deur wisselende perspektiewe en kontekste beïnvloed word, word daar ook toenemend besef dat tekste en interpretasies van waarheid onvermydelik deel vorm van strategieë van mag en beheersing in die samelewing. “One strategy is to disguise the will to power in the language of truth and knowledge” (Degenaar 1995:13).

Die postmoderne bejeën aansprake op waarheid met agterdog en beskou sodanige aansprake as ’n moontlike verborge bevestiging van mag deur die elitistiese groep wie se magsbasis deur die aanspraak op waarheid bevestig en versterk sou word (vgl Hutcheon 1988:40 ev). Die postmoderne is in wese dus ideologiekrities. Dit ontbloot hoe ideale – ook godsdienstige ideale – dikwels gegrond word in eie belange. Hierdie ideologiekritiek beteken dat oortuigings wat selfs “goddelike sanksie” verkry het in die postmoderne paradigma as ideologies ontbloot word. Die postmoderne staan dus ’n anti-outoritêre en antitotalitêre (Adam 1995:122) posisie voor, waarvolgens die verskynsel dat ’n bepaalde groep absolute mag het om te besluit wat absoluut waar en betekenisvol is, en die teorieë wat daarop aanspraak maak om die volle waarheid in pag te hê, ondermyn word. Die postmoderne kultuur ontken ’n bevoorregte posisie waarvolgens slegs diegene met ekspertkennis besluite mag neem. Ekspertkennis word nie meer as die enigste bepaler in die proses van besluitneming beskou nie. Diegene wat geraak word deur besluite het ook ’n bydrae om te maak, selfs al word hulle as “nie-eksperts” of selfs as “ongeletterd” beskou. Daar word geëis dat kundigheid verryk en ingelig moet word deur die ervaring van diegene aan die ontvangkant van ekspertkennis (vgl Rossouw 1993:896).

Jean Baudrillard (1988) en Jean-Francois Lyotard (1984) verskuif die grense van die postmoderne debat tot die uiterste konsekwensie, naamlik tot ’n kultuur van nihilisme en ’n volledige afbreking van die grense tussen hoë en populêre kultuur. “Baudrillard se teorieë is tegnologies deterministies ... ons vind hier ’n ontwikkeling van die society of the spectacle tot die siening van ’n kultuur van die simulacrum” (Hambidge 1995:Voorwoord). In haar definiëring van MTV as postmodernisties, sluit Kaplan (1987, vgl Kloppers 1997:43-47, 287-294) by Baudrillard en Lyotard se sienings aan. Die postmodernisme daag die modernisme se hooghartige houding teenoor die massakultuur uit. Kaplan toon hoe die postmodernisme modernistiese en avant garde- strategieë vir populêre genres aanwend en so eerder ’n skeppende verhouding met die populêre kultuur vorm.

Volgens Hutcheon (1988:57) bevraagteken die postmoderne konsepte soos “outonomie”, “transendensie”, “sekerheid”, “outoriteit”, “samehang”, “totaliteit”, “sisteem”, “universaliteit”, “sentrum”, “kontinuïteit”, “teleologie”, “binding”, “hiërargie”, “homogeniteit”, “oorspronk- likheid” en “oorsprong”. In die bemiddeling en oorlewering van die Christelike geloof (en trouens in die meeste godsdienste) funksioneer die meeste van bogenoemde konsepte juis sterk. Wanneer daar ’n tydsgees ontwikkel waarin hierdie konsepte bevraagteken word, stel dit besondere eise aan die kommunikasie en oordra van die geloof.

4. DIE UITDAGING VAN DIE POSTMODERNE AAN GELOOFSKOMMUNIKASIE EN DIE TEOLOGIE

Our ancestors didn’t know about particle physics, but they spoke with angels. Let it be stipulated that through the knowledge of particle physics we have gained a new measure of truth. But could it be that we have lost truth when our conversation with angels came to a stop? Can we be sure that the truths of modern physics necessarily imply the untruth of angels? I’m strongly inclined to believe the opposite (Berger 1992:13).

Die eensydigheid van die kognitiewe rasionaliteit van die modernisme en die ontkenning van ander dimensies van rasionaliteit, het daartoe bygedra dat in die postmoderne ’n hersiening plaasvind ten gunste van ’n breër rasionaliteitsbegrip om die sogenaamde nierasionele en niemeganiese dimensies van die lewe in te sluit (vgl Habermas 1982 II:35-51). Daar word toenemend erken dat die menslike subjek nie net ’n onafhanklike, rasioneel-denkende subjek is nie, maar dat die emosionele en affektiewe aspekte net so deel is van die mens as subjek. Die mens word meer as ’n geheelwese beskou. Dit beteken ook ’n verruimde antropologiebegrip wat ’n positiewe invloed kan hê op die geloofsverstaan in die breë en op die teologiebeoefening.

Vanuit ’n verruimde antropologiebegrip verkry sosialisasie (vgl Habermas 1982 II:420-444), kultuur, ekspressie, emosies en gesindhede groter erkenning. Die oordra van die geloof word al minder gesien as ’n “aflaai van godsdienstige informasie” (Schwehn 1997:88) deur die prediking en outoritêre leersituasies. Daarteenoor word die rol van sosialisering in die geloofsgemeenskap baie meer beklemtoon. Die erkenning van die subjektiewe menslike ervaring open die ruimte daarvoor dat die invloed van waardes, simbole, rites en rituele op menslike gedrag groter prominensie verkry. Die postmoderne bied ruimte aan die metafoor, en aan uitbeelding en verbeelding (Kearney 1998), om so selfs die onbewuste, irrasionele en prekonseptuele te akkommodeer en as interafhanklikes saam te snoer.

Terreine van kennis ten opsigte van die algemeen menslike, die natuur, die samelewing, die godsdiens en die kunste is in groot mate benadeel deur die eensydig rasionele opvatting van kennis, omdat net proposisies van waaruit logies afleibare stellings en gevolgtrekkings gemaak kan word as wetenskaplik en waar aanvaar is. Dit het tot gevolg gehad dat op al die voorafgenoemde terreine sisteme van kennis deur middel van logiese afleidings en kenstrukture gevorm is wat dikwels irrelevant was ten opsigte van die unieke aard van die saak self, of die kultuur en plek waarin dit beoefen is. Die breër opvatting van rasionaliteit het egter reeds die teologiese en algemene wetenskapsdenke begin beïnvloed, soos Ricoeur (1981:145-181) aantoon met dit wat hy die logika van die subjektiewe waarskynlikheid noem. Hiervolgens word daar in die wetenskapsbeoefening ruimte geopen vir die unieke of die gemarginaliseerde ten opsigte van dít wat as wetenskap beskou sou kon word. So word die menslike ervaring ook erken as konstitutief in oordeelvorming, en in die bepaling van betekenis en waarheid ten opsigte van sake van die geloof, godsdiens, die natuur, die kunste en dies meer. Die rol van eie sienings, ideologieë en magsverhoudings, ook binne die godsdiens en teologiebeoefening, word ook baie meer erken. Die verruimde rasionaliteitsbegrip open dus nie net besondere ruimte vir die estetiese ervaring (vgl Schillebeeckx 1986) as sodanig nie, maar bied ook indringende nuwe moontlikhede vir die selfverstaan van kuns, musiek en estetika as wetenskap. Binne so ’n verruimde begrip van wetenskap kan ook nuwe ruimte vir die himnologie as wetenskap geopen word.

Moderne tegnologie het verskillende en voorheen geïsoleerde dele van die wêreld bymekaargebring. Daardeur is die wêreld tot die sogenaamde global village (wêrelddorp) gereduseer, of geopen. Dit het die wye verspreiding van nuwe idees en denkrigtings tot gevolg. Mense word blootgestel aan ander kulture, idees, waardes, godsdienste en invloede. Hierdie pluraliteit van invloede stel besondere uitdagings aan die tradisionele geloof (vgl Wuthnow 1988:314-317). Die groot vraag is hoe om verskeidenheid te erken, ’n situasie van sowel ... as te akkommodeer en tog te ontkom aan ’n situasie van totale relativisme waar “everything goes”. ’n Middeweg tussen radikale relativisme en fundamentalisme is belangrik. Tracy (1994:133, 134) verwys na die alternatief vir fundamentalisme as “some form of postmodern relativism, whether explicit or implicit, whether self-confident or modest”. Hy toon dat die hermeneutiek ’n belangrike alternatief vir fundamentalisme én vir relativisme vorm, omdat die hermeneutiek daarin geslaag het om die historiese konteks met volle erns in berekening te bring en sodoende weggedoen het met fundamentalisme, maar sonder om toe te gee aan relativisme. Dit geld veral vir ’n hermeneutiek wat verbind is met ’n vorm van die kritiese teorie en ’n hermeneutiek van suspisie (Ricoeur 1991:270). Die groot uitdaging vir die teologie, en veral vir ’n hermeneuties-kritiese teologie (vgl Kloppers 2001), is om konkreet en indringend aandag te gee aan al bogenoemde aspekte wat deur die postmoderne geopen of beklemtoon is.

5. DIE MOONTLIKE INVLOED VAN DIE POSTMODERNE OP DIE KERKLIED

Die hermeneutiek is besonder relevant waar die kerklied ter sprake kom, omdat in die kerklied tekste op ’n veelheid van vlakke ter sprake kom – literêre tekste, teologiese tekste, musiektekste, kultuurtekste en dies meer – wat op elke vlak interpretasie verg. Volgens eietydse resepsieteorieë (vgl Jauß 1970; Iser 1972) ken die leser betekenis aan die teks toe. Die vertolking van ’n teks verander met elke ontvanger of leser wat dit in die hand neem, omdat die hermeneutiese konteks, die ideologiese posisie, vorige leeservarings, verstaanshorison (Gadamer 1960/1975:250-274) en verwagtingshorison telkens uniek en anders is. Vir die kerklied beteken dit dat die “teks” op verskillende vlakke dus nie die enigste saak is waarom dit gaan nie, maar dat die sanger van die lied (die gebruiker) medebepalend is vir die proses van betekenisgewing. Ondanks die estetiese, literêre, teologiese en musikale norme wat gestel mag word, verkry ’n lied eers deur die konkrete handeling, deur die sing van die lied, betekenis, of word betekenis aan die lied gegee. Hiervolgens ken die sanger van die kerklied ook eers betekenis daaraan toe wanneer sy of haar bepaalde situasie ook in die wêreld van die lied verreken word, of die eie wêreld daarin herken word. Soos deur die hermeneutiek en resepsiekritiek aangetoon is, behoort die gebruiker/leser/sanger en sy of haar konteks en leefwêreld dus ook in ag geneem te word by die skep en daarstel van liedere. Die blote nasê van ’n oorgelewerde teks beteken nie ’n suksesvolle versmelting van verstaanshorisonne nie. Dit kan die horisonversmelting of verstaan trouens eerder belemmer (vgl Kloppers 2000a; 2002a.)

Die postmoderne begrip van waarheid bring die besef dat die ontstaan en resepsie van literêre produkte altyd binne ’n bepaalde konteks en vanuit ’n bepaalde ideologiese posisie plaasvind. Soos aangetoon, is die postmoderne in wese ideologiekrities. Vanuit ’n ideologiekritiese posisie behoort die rol wat die “toekenning van betekenis” speel by kommissies en individue tydens die evaluering en keuring van geskikte liedere dus ook ondersoek te word. Daar moet krities gevra word na die magsverhoudings en ideologiese posisies wat ’n rol speel in besluitnemingsprosesse. ’n Hermeneutiek van suspisie is dus ook noodsaaklik by die hantering van die kerklied op verskillende vlakke (vgl Kloppers 2002c). Vrae soos die volgende kom ter sprake: Wat is die gangbare “meesterverhaal” met betrekking tot die kerklied op ’n bepaalde tydstip en binne ’n bepaalde konteks, en waar kom dit vandaan? Watter standpunte word aangebied asof dit “goddelike sanksie” het wat vir tyd en ewigheid vasstaan? Watter ideologiese faktore het bygedra tot die vorming daarvan en wie of wat is verantwoordelik vir die instandhouding daarvan? Wie definieer die situasie en wie bepaal prioriteite? Is daar ’n bereidheid om mag af te staan? (vgl Zerfaß 1994:126). Die himnologie was trouens nog nooit ’n waardevrye wetenskap nie en die onderwerp van ondersoek is dikwels beperk tot dít waarteenoor die vakgebied simpatiek gesind was (vgl Marti 1994). Die vermeende objektiewe kriteria behoort in ’n wye, interdissiplinêre diskussie ondersoek te word. Slegs só kan die himnologie gevrywaar word van ’n wetenskaplik esoteriese posisie waar dit misbruik kan word vir die deurvoer van bepaalde persoonlike of ideologiese standpunte (vgl Nipkow 1999:101).

Die vraag na die kanonisering van liturgiese geskrifte en die ondersoek na tradisionele standpunte wat geld, is ook wesenlik (vgl Deist 1995:71). Dieselfde kritiese vraag geld ook vir die kanoniseringsproses met betrekking tot liedere en ’n liedboek (vgl Kloppers 2002b). Binne ’n postmoderne tydsgees waar ’n gees van pluralisme en antifundamentalisme heers, is dit ’n vereiste dat die kanon van die kerklied oop moet wees. ’n Liedboek staan tog nie vir tyd en ewigheid vas nie. Daar moet egter ook met versigtigheid te werk gegaan word voordat liedere verwyder word, omdat werke en liedere wissel in belang ooreenkomstig die smaak en denke van ’n bepaalde tyd. Daar is kerkliedere wat vanweë die smaak of “gevoel” van ’n tyd miskien nie so dikwels gesing word nie, maar wat nie beteken dat hulle eenvoudig uit die kanon verwyder mag word nie – toekomstige geslagte kan sekere liedere opnuut ontdek.

Die pluraliteit van invloede in die wêrelddorp, en die wêrelddorp self as “ekumeniese gemeenskap”, dwing eietydse liedboeke tot ’n pluraliteit van style en vorme (vgl Marti 1991) en ’n sterk ekumeniese gerigtheid waar die wêreldwye kerk en die band met gelowiges oor die wêreld heen in ag geneem word. ’n Gees van individualisme (’n kenmerk van die postmoderne, vgl Kunneman 1996) en ’n anti-outoritêre houding, het in praktyk egter reeds weer die teenoorgestelde werking tot gevolg: individue maak liedere vir eenmalige gebruik in ’n enkele gemeente of vir gebruik deur die individu, sonder enige ekumeniese binding, of binding aan die tradisie of oorgelewerde kanon. Een aspek van die postmoderne ondermyn dus ’n ander aspek daarvan – ook ’n kenmerkende eienskap van die postmoderne (vgl Taylor 1992:6).

Die uitdaging wat die postmoderne tydsgees stel, is dat ekspertkennis nie aanvaar word as die alleengeldende kennis nie. Die vraag is hoe die eis om medebesluitneming deur niekundiges ook by die daarstel van nuwe liedere en liedboeke geakkommodeer kan word. Is dit moontlik om verantwoordelike kriteria of hoegenaamd enige kriteria in ’n hoogs pluralistiese situasie aan te lê? Watter rol speel die nivelleringsproses met betrekking tot high art en massakultuur op die bepaling van esteties (en teologies) aanvaarbare norme vir die kerklied? In watter mate het ’n kultuur van die simulacrum dalk al die erediens en die kerklied in so ’n mate beïnvloed dat daar dalk reeds geheel ander norme heers as dié wat vir die oorgelewerde kanon van kerkliedere en in die breë vir die liturgie sou geld?

Kerkgangers is blootgestel aan ’n pluraliteit van invloede op alle terreine. Hulle wil self uit die pluraliteit van die “aanbod” besluit wat hulle aanspreek en wat hulle wil gebruik. Dit maak ’n blote aanvaarding van outoritêr aangegewe “feite” nie meer moontlik nie – die “meesterverhaal” geld nie sonder meer nie. Dit wil trouens voorkom asof enige vorm van outoritêre spreke in dié verband juis ’n negatiewe reaksie tot gevolg het. Daar moet dus ook gevra word na die psigologiese faktore wat ’n rol kan speel by nuwe, amptelik gekanoniseerde liedboeke. ’n Amptelike liedboek kan gewoon geïgnoreer word (vgl Marti 1994:100-102; Kunneman 1996:272-274 ten opsigte van die wyse waarop die “magsisteem” ondermyn kan word). ’n Antitotalitêre, antifundamentalistiese en anti-outoritêre gees kan ingrypende gevolge hê vir die samestelling en gebruik van nuwe liedboeke, die keuring van kerkliedere, die bepaling van kriteria wat aangelê moet word, die kanon van liedere, die veronderstelde “mag van die eksperts”, asook die resepsie en gebruik van nuwe liedere en liedboeke.

Die positiefste aspek van die postmoderne met betrekking tot die liturgie en lied is myns insiens dat daar in die postmoderne denke meer ruimte geopen word vir die affektiewe en ervaringsdimensies van menswees in die kommunikasieprosesse. Musiek kommunikeer tog in groot mate ook op die affektiewe vlak. Die breër antropologiebegrip bied ruimte vir ’n groter klem op die emotiewe en konatiewe aspekte. Daar word erken dat geloof verskeie dimensies van menswees omvat: verstaan én gevoel én handeling. Die mens as geheel word dus baie meer erken. ’n Meer holistiese en integrerende benadering ten opsigte van die liturgie en musiek kan en behoort dus gevolg word.

Gepaardgaande met die breër antropologiebegrip kry simbole, rites, rituele, metafore en musiek groter betekenis en word dié sake erken as konstituerende aspekte van ons menswees. Die sing van die kerklied is ’n ritueel wat deel vorm van ’n ritueel met helende krag. Musiek het egter self helende krag wat die sin vir heelwees kan herstel. Die terapeutiese en pastorale funksie van die kerklied verkry dus ook nuwe betekenis in ’n postmoderne tydsgees (vgl Kloppers 2000b:99-111). Vanuit die breër antropologiebegrip word die rol van sosialisering as die wyse waarop die geloof oorgelewer of “aangegee word” ook baie meer erken. Sosialisering deur die kerklied en die gelowige byeenkom deur middel van praktiese samesang, versterk nie net die onderlinge gemeenskap en koinonia nie, maar dit bied by uitstek geleentheid vir die “modellering” en inoefening in die geloofsgemeenskap (Daiber 1992:18; Kloppers 1997:132-136, 360-366). Só vind ook identiteitsvorming en gemeenskapsvorming deur middel van die kerklied plaas. Deur die gemeenskapstigtende en bindende krag van sang kan die fragmentering en verskeuring as gevolg van die oordrewe individualisme van die modernisme oorkom word.

In die postmoderne word die verband tussen metafoor, verbeelding, teologie en die (geloofs)ervaring beklemtoon (Brueggeman 1993). Die uitdaging ten opsigte van die kerklied is om verbeelding, simbole en metafore kreatief en nuut te gebruik. Die relevansie van bestaande en oorgelewerde metafore moet voortdurend getoets word, en indien dit blyk dat dit nie meer funksioneel is nie, moet ander metafore en nuwe kreatiewe wyses van uitdrukking gesoek word (vgl Van der Ven 1998:117). Dit is ’n groot uitdaging vir liedskrywers, maar dit is waarskynlik ’n nog groter uitdaging vir liedboekkommissies wat dikwels droë en strakke tekste vereis uit vrees dat daar van “die regte leer” afgewyk sal word! Die kerklied, die verbinding tussen teologiese teks/geloofsteks én musiek, die lied as verbeelding, as vorm van metaforiese spreke, kan deur ’n postmoderne ingesteldheid veel groter prominensie en diepgaande betekenis verkry.

6. SAMEVATTING

Die geestesklimaat van die postmoderne kan die liturgie en die kerklied wesenlik beïnvloed. Sommige kenmerke van hierdie geestesklimaat is onder meer ’n breër rasionaliteits- en antropologiebegrip, waar ruimte geopen word vir die niemeganiese, niekognitiewe en dus meer affektiewe, emotiewe en sosiale dimensies van die lewe. In dié klimaat word meer ruimte geskep vir mense se ervaring – die religieuse ervaring, die estetiese ervaring en as deel daarvan ook die musiek- en kerkliedervaring. In so ’n klimaat bestaan ’n behoefte aan geloofskommunikasie wat minder rasioneel en méér affektief plaasvind. Musiek bied ’n belangrike geleentheid tot kommunikasie op ’n veelheid van vlakke. Die postmoderne wêrelddorp stel die inwoners bloot aan ’n verskeidenheid van media en ’n pluraliteit van ervarings en inligting, wat onvermydelik ook die kerk, die erediens en die kerklied beïnvloed. Die vraag is nie hoe die kerk aan hierdie invloede kan ontsnap nie, maar hoe die kerk ’n kreatiewe antwoord op hierdie uitdagings kan bied.

Er is een verandering in ons geestelijk klimaat denkbaar die het mensen iets makkelijker zou maken om voor hun behoefte aan innigheid en vervoering op te komen ... De kerken zou nog een bijdrage kunnen leveren aan zo’n klimaatsverandering ... Het moet kunnen, velen hebben toch ook weer leren zingen nadat ze het tussen hun tiende en zeventiende verleerd waren ... (Oosterhuis 1990:154).

BIBLIOGRAFIE

Adam AKM 1995. What is postmodern biblical criticism? Guides to Biblical scholarship. Minneapolis: Fortress.

Baudrillard, J 1988. The ecstacy of communication. New York: Semiotext(e).

Berger, PL 1992. A far glory. The quest for faith in an age of credulity. New York: Free Press.

Bernstein, RJ 1983. Beyond objectivism and relativism. Oxford: Basil Blackwell.

Brueggemann, W 1993. The Bible and postmodern imagination: Texts under negotiation. Philadelphia: Fortress.

Daiber, K-F 1992. Gottesdienst unter den Bedingungen der gegenwärtigen Gesellschaft. Für den Gottesdienst 39/40, 9-20.

Degenaar, J 1995. The text is an episode in an all-encompassing textuality, in Nel & Van den Berg 1995:3-21.

Deist, F 1995. Canonical literature. Some ideology-critical observations, in Nel & Van den Berg 1995:66-80.

Eco, U 1984 [1983]. Postscript to The Name of the Rose. New York: Harcourt.

Gadamer, Hans-Georg (1960) 1975. Wahrheit und Methode: Grundzüge einer philosophischen Hermeneutik, 4. Aufl. Tübingen: Mohr.

Hambidge, J 1995. Postmodernisme. Pretoria: JP van der Walt.

Heitink, G 1993. Praktische Theologie: geschiedenis, theorie, handelingsvelden. Kampen: Kok.

Hoffman, LA & Walton, JR 1992. Sacred sound and social change: Liturgical music in Jewish and Christian experience. Notre Dame: University of Notre Dame Press.

Hutcheon, L 1988. A poetics of postmodernism. Londen: Routledge. Iser, W 1972. Der Impliziete Leser. München: Fink.

Jauss, H-R 1970. Literaturgeschichte als Provokation der Literaturwissenschaft. München: Fink.

Kaplan, EA 1987. Rocking around the clock. Music Television, postmodernism, and consumer culture. New York/Londen: Routledge.

Kearney, R 1998. The wake of imagination: Toward a postmodern culture. Londen: Routledge.

Kloppers EC 1997. Liturgiese musiek as kommunikatiewe handeling in ’n postmoderne era. DTh-proefskrif, UNISA.

Kloppers, EC 2000a. ’n Nuwe Psalmomdigting in Afrikaans: uitgangspunte, beleid, probleme. HTS 56(1), 192-204.

Kloppers EC 2000b. Ubi caritas et amor deus ibi est: Die pastorale funksie van die kerklied. Praktiese Teologie in Suid-Afrika 15(2), 99-111.

Kloppers, EC 2002a. ’n Perspektief op die nuwe Psalmomdigting – reaksie op ’n reaksie. HTS 58(1), 235-249.

Kloppers EC 2002b. “Woorde in die mond gelê?” Psalmomdigting en die proses van kanonvorming. Acta Theologica 22/1, 42-56.

Kloppers EC 2002c. Die God is onse God ... Hymns, hymnals and the national identity of the Afrikaner – A critical assessment. Religion and Theology 2002/3.

Küng, H 1988. Theology for the third millennium: An ecumenical view. New York: Doubleday.

Kunneman, H 1996. Van theemutscultuur naar walkman-ego: contouren van post-moderne individualiteit. Amsterdam: Boom.

Lyotard, JF 1984. The postmodern condition: A report on knowledge. Minneapolis: University of Minnesota Press.

Marti, A 1991. Chancen für den Pluralismus/Problemanzeigen. MuG 45(3), 130-131.

Marti, A 1994. Verordnet aus dem Volk? Kirchengesang zwischen Herrschaftsinstrument und Mittel der Emanzipation. IAH-Bulletin 22, 93-110.

Nel, PJ & Van Den Berg, DJ (reds) 1995. Concepts of textuality and religious texts. Bloemfontein: UOVS (Acta Academica, Supplementum I).

Nipkow K-E 1999. Practical theology and contemporary culture – Paradigms for present and future, in Schweitzer & Van der Ven, 93-112.

Oosterhuis, H 1990. Licht dat aan blijft: 30 jaar liturgie-vernuwing. Kampen: Kok Agora. Ricoeur, P 1981. Hermeneutics and the human sciences. Cambridge: Cambridge University Press.

Ricoeur, P 1991. From text to action. Essays in Hermeneutics II. Evanston: Northwestern University Press.

Rossouw, GJ 1993. Theology in a postmodern culture: Ten challenges. HTS 49/4, 894-907.

Schillebeeckx, E 1986. Als politiek niet alles is ... Jesus in onze Westerse cultuur. Baarn: Ten Have.

Schwehn, M 1997. Toward a postmodern Christian faith: faith and knowledge in a postmodern context. Dialog 36, 86-90.

Schweitzer, F & Van der Ven J 1999. Practical Theology – International Perspectives. Frankfurt am Main: Peter Lang.

Swidler, L 1998. The age of global dialogue, in Waardenburg, J (red). Islam and Christianity: Mutual perceptions since the mid-20th century. Leuven: Peeters, 271-292.

Taylor, MC 1992. Disfiguring: art, architecture, religion. Chicago: University of Chicago Press.

Tracy, D 1994. On naming the present: Reflections on God, hermeneutics, and the church. Mary Knoll, New York: Orbis Books.

Van Heerden, E 1997. Postmodernisme en prosa. Kaapstad: Human & Rousseau. Van der Ven, JA 1993. Ecclesiologie in context. Kampen: Kok.

Van der Ven, JA 1998. God Reinvented? A Theological Search in texts and Tables. Leiden: Brill.

Weber, M 1980. Wirtschaft und Gesellschaft. Grundriss der Verstehenden Soziologie, 1. Halbband. Tübingen: Mohr.

Welsch, W 1988. Unsere postmoderne Moderne. Weinheim: VCH Verlagsgesellschaft.

Wuthnow, R 1988. The restructuring of American religion: Society and faith since World War II. Princeton: Princeton University Press.

1 Hierdie artikel is ’n verwerking van ’n referaat wat gehou is tydens ’n Musikologie Kongres by die Universiteit van Pretoria, 16-18 Mei 2002.