Kruger, HAJ
Universiteit van Durban-Westville

Uitnodiging tot die dans 1: hoe die eierdans miskien nie uitgevoer moet word nie Hermeneutiese défaitisme? en die voorlegging: Die gesag van die Skrif 2 – Deel I

ABSTRACT

Invitation to the dance: how the egg-dance should probably not be done Hermeneutic defeatism? and the submission: The authority of Scripture – Part I

The General Synod of the Dutch Reformed Church has invited comments on the recent submission respecting the authority of Scripture by the Commission concerned, and which are due by 31 December 2003. The present discussion briefly comments on the relationship between the authority of God and the authority of his Word as understood by the submission. The comments also briefly deal with the tension between claims of the natural and historical sciences versus certain biblical notions. In a follow-up (Part II) some aspects regarding the exegesis of biblical passages referred to by the submission will be studied.

INLEIDING

Die voorlegging, wat volgens Du Toit (2002b:1) eenparig deur AKLAS goedgekeur is, streef oënskynlik daarna om die gesag van God te handhaaf ten spyte van beweerde “foute”3 wat in die Bybel sou voorkom. Hierdie foute is na bewering deur natuurwetenskaplike en historiese navorsing uitgewys. Die voorlegging vertoon affiniteite met Du Toit se eie publikasie (Du Toit 2001:63-92), ’n poging wat strawwe kritiek moes verduur (bv Du Rand 2001:10).

Die kommentaar spreek waardering uit vir die feit dat die betrokke dokument probleme in verband met Skrifgesag en kwessies rondom Skrifkritiek nie bloot klinies bekyk nie, maar van ’n pastorale en proklamerende dimensie voorsien. Die kommentaar het egter voorbehoude in verband met aannames wat deur die voorlegging in verband met sekere Bybelpassasies gemaak word. ’n Poging word aangewend om enkele alternatiewe verklarings van sommige van die betrokke passasies te gee (Deel II). Ter inleiding ’n paar opmerkings en vrae oor die verhouding: die gesag van God en die gesag van die Bybel.

1. “FOUTE” EN GESAG?

Die voorlegging gaan van die veronderstelling uit dat werklike gesag slegs in God persoonlik setel (5.3). Hiermee kan voorlopig akkoord gegaan word. Behalwe dat so ’n siening moontlik alreeds ’n ontsnappingsroete beplan soos dit uit verdere stellings in die voorlegging wil blyk. Die aanname van die voorlegging oor die gesag van God word opgevolg deur die stelling dat alle ander aanspraakmakers op gesag, insluitende die Bybel, slegs in afgeleide sin vir hierdie status kwalifiseer (5.3). Daar bestaan egter oënskynlik geen teksgetuienis om te onderskei tussen die gesag van God en die gesag van sy Woord nie.4 Die gesag van God en die gesag van sy Woord oorvleuel.

Die konstatering van die voorlegging in verband met die afgeleide gesag van die Bybel open die weg vir ’n bepaalde gevolgtrekking. Op grond van die eerste stelling word die afleiding gemaak dat die Bybel wat deur swak, sondige mense geskryf is dus ook “foute” bevat (5.4, 7), en “nie aan ons gegee is as ’n onfeilbare (my kursivering) bron van eksakte natuurwetenskaplike en historiese informasie nie”. Enersyds word bibliolatrie wel so vermy. Andersyds bly die vraag in die lug hang of die gesag van God wat aan die mens gekommunikeer word deur ’n Bybel wat na bewering “foute” huisves, nog as geloofwaardig kwalifiseer. Op hierdie punt kan die voorleggers die Sinode behulpsaam wees indien die verhouding tussen gesag en korrekte respektiewelik foutiewe inligting ook in terme van die heilsdade van God gemotiveer kan word. Dié verhouding kom wel in die voorlegging ter sprake, maar dan skynbaar só dat daar onderskeid toegelaat word tussen “foute” in die Bybel in natuurwetenskaplike en historiese sin, en foutlose uitsprake in godsdiensverwante sin. Du Toit (2002a:9) se konstatering dat wetenskap en teologie dieselfde werklikheid wil dien en bedien, kan egter nie verhoed dat hier ’n wig ingedryf word tussen natuurwetenskap en teologie nie. Die kommentaar vra graag of daar sprake van geloofwaardige gesag ten opsigte van godsdiensuitsprake kan wees indien die medium waardeur die gesag gekommunikeer word ten opsigte van fisies waarneembare objekte en gebeure foutief is. Kan die gesag van God deur middel van, by wyse van spreke, ’n geradbraakte vorm (’n Bybel met “foute”) as normgewend en afdwingbaar aan die geloofsgemeenskap voorgehou word? Moet die geloofsgemeenskap aanvaar en met die digotomie saamleef dat die uitsprake van die Bybel in die sfeer van dit wat nie natuurwetenskaplik en histories nagevors kan word nie, naamlik die godsdiens, feitelik waar is, sonder “foute”, maar ten opsigte van genoemde twee sfere wel foutief is? Sal laasgenoemde nie eersgenoemde ondermyn nie? Hoe word so ’n benadering toegepas op die opstanding van Christus uit die dood? Kortom: Kan ’n dokument wat op een gebied (die sigbare wêreld) foutiewe uitsprake maak in ander opsigte (die onsigbare wêreld) korrekte uitsprake gee? Indien positief, wie gaan hieroor besluit en hoe gaan die beslissings gemaak word? Omdat die verslag praat van “foute” wat in die Bybel voorkom, moet daar ook vasgestel word of ander kwalifiserings, naamlik “nie-eksakte” of “nie-korrekte” informasie, of uitsprake soos: “As dit sou gaan om eksakte historiese feitelikheid, kwalifiseer die Bybel klaarblyklik nie as betroubaar nie” (my kursivering) (5.4), ook as “foute” (of foute) verstaan word. Of val laasgenoemde beoordeling in ’n ander kategorie, miskien van ’n minder rigiede aard?

“Sluk of stik?” (5.9; Die Kerkbode 2002:1). Hierdie twee uiterstes akkordeer skynbaar nie met die teologiese en literêre karakter van die Bybel nie, wat sy materiaal op ’n wyse hanteer wat vir sommige moderne lesers teenstrydig en foutief voorkom (kyk Deel II).

Tweedens moet die stellinginname van die voorlegging waarskynlik gelees word teen die agtergrond van sekere opvattings wat oënskynlik deur ’n bepaalde denkraamwerk van die moderne natuur- en historiese wetenskappe vasgestel en onder meer aan die Bybelwetenskappe opgedring word. 5 Aanhangers van hierdie opvattings glo dat sekere stellings in die Skrif wat op sigwaarde verband mag hou met sekere natuurwetenskaplike waarnemings en historiese perspektiewe as feitelik foutief beskou moet word, en dus onwaarhede huisves (Engelbrecht & Van Dyk 1987:2-34; Du Toit 2001:63-92, 77). In verband met laasgenoemde wil dit voorkom of die belang en betekenis van die geskiedenisbegrip inkonsekwent in die voorlegging hanteer word. Enersyds word gestel dat die Bybel nie aanspraak sou maak op historiese juistheid nie, en andersyds dat die geskiedenis van deurslaggewende belang vir die verstaan van die Bybel sou wees. Daar word byvoorbeeld van “die geskiedenis van sy skepping” gepraat (vgl bv 5.7; 5.10.4; 10.5). Hoe rym hierdie frase met die aanname dat die Ou-Testamentiese voorstelling van die hemelruim van twyfelagtige aard is? Tensy die onderskeie stellings respektiewelik met eersgenoemde die Bybelse verwysings in gedagte het en met laasgenoemde moderne historiese navorsing. As die voorlegging oordeel dat die Bybel nie baie maak van of ernstig rekening hou met die feitelike van geskiedkundige gebeure nie, kan so ’n evaluering aanvaar word indien die bedoeling is dat die geskiedenis van Israel en die nasies op ’n bepaalde manier deur die Bybel verstaan en hanteer word (Hayes & Miller 1977:xv-xvi, 1-69). Daarmee word bedoel dat die lewensloop van Israel geïnterpreteer en teologies deurdink word (Miller & Hayes 1986:19-20, 62-63). Maar dit hou nie in dat die manier waarop die Bybelskrywers na geskiedkundige gebeure verwys en daarmee omgaan uiteraard foutief is nie (Wenham 1976:13-75). En, in elk geval, daar bestaan nie iets soos objektiewe geskiedskrywing nie (vgl Miller 1978:1-19). Dit geld vir die antieke tyd (Hallo & Simpson 1971:3-5; Miller & Hayes 1986:58-63) én die afgelope millennium (Fernández-Armesto 1995:xiii-xvi, 3-11).6 Om hierdie siening wat moontlik ’n dualistiese trek vertoon lewensvatbaar te hou deur ’n meer energieke geloofstandpunt in te neem ondanks beweerde foute in die Bybel (Van Wyk 2002:11), of deur ’n nuwe spiritualiteit na te jaag, gevoed deur die onlangse eklips en skynbaar buite die Skrif om (Müller 2002:9), lyk ook nie belowend nie.

2. BENADERING

Die belangrikste saak wat in die kommentaar aan die orde kom, hou verband met die skynbare onderwaardering van eksegeties-hermeneutiese perspektiewe (vgl Gunneweg 1978; Silva 1987; Barton 1998; Gunton 1998)7 wat as basis vir gevolgtrekkings oor Skrifgesag in die voorlegging behoort te dien en soos dit in die voortgaande debat in die media in die algemeen na vore kom. Onder hierdie hofie ressorteer veral die verhouding tussen (natuur-) wetenskap en godsdiens respektiewelik teologie (bv Gregersen & Van Huyssteen 1998; Barrett 2000); die verskille tussen navorsingsmodelle soos deur die natuur- of historiese wetenskappe respektiewelik die teologie beoefen word (wetenskap en hermeneutiek) (bv Poythress 1988; Conradie 1995:1-278); die verskille tussen antieke en huidige metodes of style van geskiedskrywing (oa Alter 1981; Edelman 1991; Long 1994); die impak van sosiologiese, antropologiese, politieke, godsdienstige en mitologiese faktore op die gedagtewêreld van die Bybel (bv Gottwald 1987; Clements 1995; Pritchard 1969:4-322) en die reaksie van die Bybelskrywers op sommige van hierdie sake (vgl Kruger 2001a:47-75; 2001b:214-234); die rol wat verskillende literatuursoorte in die interpretasieproses van die Bybel speel (bv Coats 1983, 1985; Alter & Kermode 1989; Walton 1989; Ryken & Longman III 1993; Dillard & Longman III 1994; Goldingay 1995); studies oor die skepping (bv Anderson 1984) en veral Genesis 1-11 (bv Hess & Tsumura 1994). Verder het die studie van die ikonografie (bv Keel 1977; 1978; Keel & Uehlinger 1998), die verhouding beeldmateriaal versus geskrewe materiaal (Van der Toorn 1997:229-248), die jongste argeologiese ontdekkings en die interpretasie daarvan (bv Bartlett 1997:1-50; Finkelstein & Silberman 2001; Dever 2001), en om nie meer te noem nie, ou vertaalprobleme en nuwe vertaaltegnieke (Naudé & Van der Merwe 2002) betekenisvolle invloed op die verstaan van die Bybel uitgeoefen. Skrifbeskouings behoort seker deur sulke studies gerig te word. Die voorlegging gee wel blyke van die belang van enkele aspekte van hierdie inligting vir die verklaringsproses (5.10.8), maar dui nie aan hoe dit ingeskakel moet word in verband met die bepaling van die betekenis van tekste wat as problematies voorgestel word nie.

Die voorstel dat soveel aspekte moontlik van bogenoemde netwerk van hermeneutiese referente geaktiveer en in die voorlegging verdiskonteer word, vorm deel van ’n poging om die Skrif binne die Ou Nabye-Oosterse wêreld te lees en te verstaan (vgl Von Soden 1994; Deel II). Dit wil die Bybel lees met behulp van hulpmiddels wat uit sy eie omgewing en die eie aard daarvan na vore kom, in plaas van metodes wat deur die moderne natuur- en/of historiese wetenskappe opgestel en vanuit die huidige tydsgewrig op die Bybel geprojekteer word. Vóór daar dus gekapituleer word voor wat miskien ’n “défaitistiese hermeneutiek” genoem kan word, behoort soveel moontlik hermeneutiese moontlikhede eers ingespan te word om sogenaamde probleemtekste te probeer verklaar. Daar moet seker in terme van ’n hermeneutiese suspisie na Bybeltekste gekyk word, maar billikheidshalwe ook vir herwinningshermeneutiek ruimte gemaak word (kyk Goldingay 1987:132). Dit val op dat weinig eksegetiese insette gelewer word in verband met sogenaamde foutiewe stellings in die Bybel in die betrokke diskussies oor Skrifgesag (vgl vir verwysings Britz 2002:354-367). Daar bestaan ook nie duidelike getuienis hiervan in die betrokke voorlegging nie, ten spyte van Du Toit (2002b:1) se versekering dat “die doel van die verslag is om konsensus te kry oor die vertolkingsbeginsels ten opsigte van die Bybel”. Hiermee kan slegs akkoord gegaan word indien die skopus van die Bybelse hermeneutiek (Watson 1998:65-80) die omvang van die studie bepaal. ’n Uitvoerige bespreking van die relevante probleme kan uiteraard nie in hierdie kommentaar aan die orde kom nie. Laasgenoemde word beperk tot ’n paar eksegetiese opmerkings in verband met enkele van die Skrifgedeeltes wat in die stuk aangehaal word (kyk Deel II).

3. AANSPRAKE VAN DIE NATUUR- EN HISTORIESE WETENSKAPPE

In die diskussie oor die gesag van die Skrif soos dit in die voorlegging en elders na vore kom, word die indruk gewek dat die natuurwetenskappe onder meer kritiekloos ingespan en klakkeloos nagevolg word om die Bybel as antieke godsdiensgeskrif te interpreteer en te beoordeel. Dit wil voorkom asof daar ongenuanseerd met antieke en hedendaagse begrippe gewerk en met argumente tussen die antieke tyd en die moderne tyd gependel word, sonder om byvoorbeeld rekening te hou met die gaping tussen antieke en hedendaagse kulture. Skynbaar word daar ook geen navraag gedoen of die antieke mens nie miskien oor ’n eie wetenskapsbegrip (paradigma of model) beskik het met ’n unieke eiendomlikheid nie. En dat die Bybel teen daardie agtergrond gelees en verstaan behoort te word. Die vraag is of daar ’n wesenlike aansluitingsmoontlikheid tussen die twee groothede bestaan, naamlik die antieke Bybel in eie omgewing enersyds en die moderne wetenskappe andersyds, indien daar slegs met ’n eenrigtinginterpretasie vanuit huidige natuurwetenskaplike en histories wetenskaplike paradigmas na die beweerde probleme gekyk word.

Die aansprake van sommige hedendaagse wetenskapsbeoefenaars in verband met sogenaamde ongetwyfelde resultate is nie onaanvegbaar nie (vgl Haikola 2003). Ons ken almal ten dele, die moderne wetenskappe ingesluit. Maar hoe outeurs tot die gevolgtrekking en opvatting gekom het dat die natuurwetenskaplike en/of historiese navorsingsmetodes voortaan sal bepaal wat reg of verkeerd is in die Skrif, is nie heeltemal duidelik nie.

Die onderskeid tussen verskillende soorte feite waarna die voorlegging verwys, naamlik onder meer “historiese”, “(on-)heils”-, “harde”, “blote”, en “naakte” feite (5.7), kan inderdaad deel vorm van die diskussie oor Skrifgesag. Maar die vraag bly wat wetenskaplike feite behels. Daar bestaan voorbeelde van teenstrydige gevolgtrekkings in die geskiedenis van die moderne natuurwetenskaplike navorsing insake die sterrekunde, om te hou by die belangrikste voorbeeld wat hierdie bespreking raak. In hierdie verband herinner Silva (1987:17-19) ons aan die vasstelling dat alle wetenskaplike teorieë, selfs dié wat algemeen aanvaar word, slegs paradigmas verteenwoordig, modelle wat pogings aanwend om van soveel moontlik data rekenskap te gee. Maar geen teorie kan al die data bevredigend verklaar nie. Navorsers stuit voortdurend op anomalieë, te wete feite wat nie by ’n teorie inpas nie. Nie al die weerstand teen die Kopernikaanse heliosentriese planetêre stelsel het dogmatiese oorsake gehad nie. Talle voorstanders van die Ptolemeïese geosentriese stelsel (die kerk het vroeër amptelik vir hierdie siening gekies) het wal gegooi teen die nuwe teorie gewoon omdat die nuwe interpretasie nie vir al die feite voorsiening kon maak nie. Selfs sogenaamde “harde feite” moet geïnterpreteer word. Soos bekend, is die geosentriese deur die heliosentriese siening vervang. Volgens huidige sienings bestaan daar egter geen sentrum in die heelal nie (Joubert 1997:48). Voortaan kan enige sonnestelsel(s) of planeet/planete dus as sentrum van die heelal dien. Die leserspubliek verneem nie eintlik van ’n erkenning dat vorige wetenskaplike uitsprake in hierdie verband foutief, of nievolhoubaar, of ten minste as verouderd beskou moet word nie. Die siening van Alberts (1996:16-22) kan hier as riglyn geld. Volgens hom bestaan daar geen wetenskaplike teorie wat kan aanspraak maak op die volle waarheid nie. Daar kan slegs gepraat word van goeie, middelmatige en swak teorieë.

In hierdie verband behoort daar ook kennis geneem te word van die soms twyfelagtige en ontstellende tendens waarvolgens na bewering die resultate (feite) van sogenaamde “suiwer” wetenskaplike navorsingsprojekte by geleentheid gemanipuleer word (Kies 1997:13). Dit gebeur om ’n sekere vooraf ingeneemde standpunt of vereiste, of teorie, of selfs in uiterste gevalle ’n (politieke) ideologie, te ondersteun (Brueggemann 1993:1-25). Alberts (1996:21) oordeel dat ’n kategoriese geloof in ’n bepaalde teorie van die wetenskap aan ’n kwasigodsdiens grens.

Dit het seker betekenis dat die natuurwetenskappe onlangs die denkwêreld van ten minste een afdeling van die filosofie betree het en dat die grens tussen die twee studievelde onduidelik geword het. Moderne fisika (kwantumfisika) bestudeer metafisies verwante vrae, naamlik die aard van die werklikheid, die aard van lewe en die oorsprong van die heelal. Dit laat ’n mens wonder of daar ’n behoefte by natuurwetenskaplikes begin ontwikkel om meer oor die onverklaarbare in die natuur na te dink. Dit is nogal verstommend om kennis te neem van die hoogs spekulatiewe aard van die beoefening van fisika en kwantumfisika-navorsing (Gribbin 1992:vii-x, xiii-xviii).

Daar sal billikheidshalwe ook erken moet word dat die geskiedenis van die interpretasie van die Bybel soms of dikwels van ongesonde Skrifhantering getuig (Grant & Tracy 1984:181-187; Burrows & Rorem 1991:1-186). Hierdie situasie het byvoorbeeld nie alleen tot die grootskaalse en kunsmatige ontstaan van sekere Christelike tradisies aanleiding gegee nie (Fernández-Armesto & Wilson 1996:22-48), maar dikwels radikale (politieke) interpretasies vertoon (Katz & Popkin 1999:3-288).

Die voorlegging postuleer: “Die bedoeling van die Skrif is nie geleë in korrekte historiese of natuurwetenskaplike informasie nie, maar in die heilskarakter daarvan” (5.10.1). Miskien moet daar weer hieroor nagedink word, veral die eerste gedeelte van die formulering.

4. ’N VÓÓRWETENSKAPLIKE WÊRELDBEELD?

Die diskussie rondom Skrifgesag gaan van die veronderstelling uit dat die Bybel met ’n sogenaamde vóórwetenskaplike wêreldbeeld werk (Du Toit 2001:79). En dat Bybellesers nie meer met so ’n (foutiewe) wêreldbeeld kan of hoef rekening te hou in hulle hantering van die Bybel nie (vgl Du Toit 2001:63-92).

Wetenskaplike kennis van veral wiskunde, sterrekunde en medisyne in die Ou Nabye-Ooste strek ver in die verlede terug (oa Hallo & Simpson 1971:167; Murray 1984:189-193; Wasserman 1997:16). Sterrekunde was moontlik die eerste wetenskap wat professioneel beoefen is (Gribbin & Rees 1991:xii). Vir die huidige bespreking is die bevindings in verband met die ouderdom van natuurwetenskaplike kennis, veral van die sterrekunde, dus van beduidende belang. Die Bybelouteurs was nie onbekend met hierdie sfeer van kennis nie (bv Job 9:9, 38-41; Am 5:8). Hoe diepgaande hierdie kennis was, is egter nie duidelik nie.

Maar niemand weet skynbaar hoe oud die natuurwetenskaplike kennis van die mens is nie. (Verworwe kennis gaan verlore wanneer beskawings ondergaan.) Tog word die begrip vóórwetenskaplik in die huidige diskussie ongemotiveerd gebruik in die oënskynlike betekenis van die onderskeid tussen ’n era waartydens die Bybel geskryf is en ’n wetenskaplike era wat dié periode opgevolg het en sedertdien in swang sou wees. Die voorlegging kan miskien die Sinode behulpsaam wees deur vóórwetenskaplik te omskryf en indien moontlik die einde van so ’n era te dateer.

Ook die ontstaanstyd van mites is onseker (James 1998:158-160). Hier kan veral aan die mitologies verwante drieverdieping-lugruim gedink word wat later ter sprake sal kom (Deel II).

Uit hoofde van wat tot dusver gesê is, moet daar volgens sommige rekening gehou word daarmee dat sekere voorstellings van die hemelruim in die “oertyd” in terme van ’n mite uitgedruk is, en in die moderne tyd deur ’n (wetenskaplike) teorie vervang is (Couper & Henbest 1997:26-27). Dit is dus net moontlik dat natuurwetenskaplike kennis en mitologiese opvattings in die gryse verlede op ’n manier in ’n bepaalde verhouding tot mekaar gestaan het. ’n Verband tussen hierdie twee sake word gesuggereer deur die vasstelling dat mites in die verlede as voertuie vir wetenskaplike (onder meer sterrekundige en wiskundige) informasie gedien het (De Santillana & Von Dechend 1969). Teen hierdie agtergrond wil dit voorkom asof wetenskaplike kennis – weereens veral in verband met die sterrekunde wat hierdie bespreking in besonder raak – en mitologiese voorstellings van die hemelruim, waar gode en hemelliggame met mekaar vereenselwig word, gelyktydig, dit wil sê, neweskikkend, in die antieke tyd bestaan het. Die ou gebruik om hemelliggame in mitologiese styl as gode uit te beeld kom gereeld in ikonografiese voorstellings in die Ou Nabye-Ooste voor (Keel 1978:15-60). Dit beteken onder meer dat die era van die beoefening van die natuurwetenskappe skynbaar nie ’n tydperk of kultuur van mitologiese denke opgevolg het nie. Dit wil voorkom asof natuurwetenskap en mite in dié tyd op ’n bepaalde geïntegreerde wyse of langs mekaar bestaan het. Dié twee denkrame was egter nie kongruent nie.

Daar kan seker aanvaar word dat die skrywer(s) van Genesis 1 en Eksodus 20:4 (veral lg passasie word in die voorlegging as problematies voorgestel) wel wetenskaplike kennis gehad het van hemelliggame en hulle bewegings ten tye van hulle nadenke oor en neerskryf van genoemde gedagtes. Maar om bepaalde redes het die outeur(s) in onderskeiding van eersgenoemde by die mitologiese struktuur van ’n drieverdieping-lugruim aangesluit. Op hierdie basis sal Genesis 1 en Eksodus 20:4 ondersoek word (Deel II). Die opvatting dat die uitsig van die Bybel tot ’n sogenaamde vóórwetenskaplike era beperk moet bly, moet miskien weer bekyk word.

5. VERBASING

In die voorlegging word verbasing uitgespreek dat daar nog hoegenaamd oor die vraag gedebatteer word of die Bybel volgens moderne standaarde aan wetenskaplike eksaktheid voldoen of nie (vgl hier bo). Hierdie stelling gee die indruk dat die voorlegging die skrywerstegniek van ou Israel met betrekking tot onder meer die ombuiging van gedagtes en realiteite in die literêre aanbieding van materiaal onderskat of verbygegaan het. Dit is dus nie duidelik of hiermee ’n bepaalde hantering van wetenskaplike feite bedoel word, of ’n verdraaiing of afwyking daarvan, of onkunde oor sake nie. Indien laasgenoemde, moet daar gestel word dat die laaste woord oor die onderhawige saak seker nog nie gespreek is nie. Enige uitsprake van hierdie aard moet as voorlopig beskou word, omdat daar nog baie gegewens kan bestaan waarvan Bybelverklaarders op die oomblik nie bewus is nie, dit wil sê, as daar reële gevalle van twyfelagtige aard in die Bybel uitgewys kan word. Verder word nog steeds ontdekkings gemaak (deur onder meer argeologiese opgrawings) wat nuwe lig op die verstaan van die Skrif werp. Eksegetiese studies weerlê telkens gevolgtrekkings wat uitsprake van die Skrif as sogenaamd foutief uitwys (Verhoef 2002:43-45), maar vertroebel ook soms ander verklarings (Finkelstein & Silberman 2001).

Die vraag is dus of die voorlegging uitsprake as bewyse aanneem wat nog bewys moet word. Teen hierdie agtergrond kan voorts gesê word dat die voorbeelde wat in die voorlegging as “foute” in die Bybel aangehaal word, nie oortuig nie. Indien hierdie gevalle die kruks van die probleem verteenwoordig soos die voorlegging dit verstaan, wil dit voorkom of die gepostuleerde probleme nie onoorkomelik is nie. Van hierdie gevalle word later eksegeties nagegaan (kyk Deel II).

6. KONSEPSIE VAN DIE HEELAL

Soos alreeds aangedui, huldig sommige die opinie dat die Bybelskrywers in hulle tekening van die ontstaan van hemel en aarde onderworpe was aan en gebruik gemaak het van ’n (nou) verouderde en foutiewe wêreldbeeld soos dit bekend was by die mense van die Ou Nabye-Ooste. 8 Die voorlegging beaam skynbaar hierdie siening. Die skrywers van die Bybel sou aangesluit het by (vóórwetenskaplike) opvattings gebaseer op waarnemings waarvolgens dit gelyk het of die aarde plat is. Die lug het soos ’n koepel gelyk en sy blou kleur het gesuggereer dat dit uit water moes bestaan. Hierby kom nog dat die antieke mens die aarde gesien het as ’n plat skyf wat op pilare in die see rus. Bo-oor die aarde is ’n koepel (firmament/gewelf) gespan wat rus op die hemelpilare of berge aan die uiteindes van die aarde. Bo die koepel is die hemel wat hoofsaaklik uit water bestaan. Die funksie van die firmament is dus om die hemelwater van die aarde weg te hou (vgl Gen 1:7-8; Jes 40:22, ens). Aan die hemelkoepel is die sterre met rieme of toue vasgeknoop (vgl Job 38:31). Die son word elke dag opnuut gebore en ry met sy wa deur die lug. Onder die aarde is water, wat by sommige plekke uitborrel. In die diepte van die oervloed (die water onder die aarde, vgl Eks 20:4) is die doderyk met sy poorte (gewoonlik sewe) waarheen die mens gaan wanneer hy sterf. Israel sou hierdie wêreldbeeld met sy bure gedeel het en is duidelik in stryd met die moderne wetenskap (Verhoef 1973:1-3).

7. BYBELSE WÊRELDBEELD?

Hierteenoor stel ander outeurs dat die sogenaamde antieke wêreldbeeld streng gesproke nie in die Skrif gevind kan word nie. Die Bybel spreek wel in die taal van die alledaagse, die gewoon menslike waarneming. Billikheidshalwe sou ’n mens nie kon verwag dat die Bybelskrywers bo die vlak van die natuurkennis van hulle tyd verhewe kon wees nie. Hulle het seker gebruik gemaak van die kennis en voorstellingswyses van hulle tyd, maar dit terselfdertyd gedeeltelik omgebuig en vir ’n eie doel ingespan. ’n Wêreldbeeld is egter eintlik die vrug van die wetenskap en kan dus nie in tegniese sin op die gegewens van die Skrif toegepas word nie. ’n Vereenselwiging van die Bybelse met die sogenaamde oud-Oosterse wêreldbeeld is relatief omdat dit wil voorkom of daar nie van ’n bepaalde antieke wêreldbeeld gepraat kan word nie. Volgens hierdie opvatting het ons eerder met ’n verskeidenheid van kosmologiese voorstellings te doen (Pritchard 1969:3-155; Couper & Henbest 1997:26-27). Ook die Bybel bied geen geslote en afgeronde voorstelling in hierdie verband nie. ’n Mens vind hier wel allerlei trekke, maar dan so dat die voorstellings mekaar dikwels wederkerig uitsluit. Op een plek (Job 38:22) is die sneeu en hael in skatkamers, elders kom dit uit die wolke voort (Job 36:27 ev; Spr 25:14). Die uitspansel is soms ’n vaste gewelf (Job 37:18), en ’n ander keer ’n dun doek (Jes 40:22). In Psalm 24:2 word gesê dat God die fondamente van die aarde in die see gelê en dit stewig gevestig het in die waters. By ander geleenthede word ook verwys na die fondamente van die aarde (1 Sam 2:8; Job 38:6) of na sy pilare (Job 9:6), maar dan word daar weer gesê dat God die aarde aan “niks” opgehang het nie (Job 26:7). Die sogenaamde Bybelse wêreldbeeld word verskillend ingedeel: as hemel en aarde, of as hemel, aarde en see, of as hemel, aarde, see en afgronde (Ps 135:6). Dit val op dat in die geval van die sogenaamde Bybelse wêreldbeeld die genoemde verskeidenheid van voorstellings soms in die geskrifte van dieselfde outeurs voorkom (bv in Eksodus, Job en Jesaja). Om op grond hiervan ’n Bybelse wêreldbeeld te probeer rekonstrueer, lyk nie moontlik nie. Die vraag is of ’n mens in hierdie gedagteklimaat hoegenaamd van ’n natuurwetenskaplike voorstelling van die hemelruim kan praat (Verhoef 1973:3-10).

In dieselfde asem moet gesê word dat die vermoede van sommige dat die antieke mens met die idee van onder meer ’n “plat” aarde of dan ’n eenvormige sogenaamd drievoudige heelal geopereer het, kritiek ontlok het van kenners van die Ou Nabye-Oosterse kosmologiese konsepte. Hierdie kritiek is gerig teen die simplistiese sketse en beskrywings gebaseer op afleidings wat gemaak word van ’n sogenaamde geslote (natuurwetenskaplike) heelal. Die Ou Nabye-Oosterse hantering van die heelal soos waargeneem vanaf die aarde word in kontras met hierdie ponering verstaan as ’n entiteit wat na alle kante oop lê (Keel 1978:56-60). Verder, die antieke mens het die heelal, of soveel as wat daarvan waargeneem kon word, as ’n lewende organisme verstaan (daarom die maklike vereenselwiging van gode met hemelliggame). Vir die antieke mens het daar slegs ’n dun membraan tussen dié twee wêrelde bestaan – sodat daar voortdurend osmose tussen die twee sfere plaasgevind het. In dié verband sou dit miskien meer gepas wees om ten opsigte van hierdie sake liefs voorlopige stellings en gevolgtrekkings oor Bybelse voorstellings van die hemelruim te maak.

Die volgende slenter kan miskien illustreer met watter probleme moderne wetenskaplikes moontlik in die toekoms te kampe sal hê in verband met teorieë oor die ontstaan en voortbestaan van die heelal. Gribbin & Rees (1991:19-23) het aangetoon dat in die lig van die sogenaamde “oerknal” waarvolgens ruimtemateriaal teen ’n hoë snelheid in alle rigtings van mekaar af wegbeweeg het, die omgekeerde moontlik ook kan plaasvind. Die snelheid waarmee die materiaal beweeg, kan moontlik deur gravitasie verminder word. Uiteindelik kan dit veroorsaak dat die uitdyende heelal weer ineenstort en, in hulle woorde, (’n model van) ’n flat universe tot gevolg kan hê. Maar dit daar gelaat. Die huidige artikel bepleit nie ’n simplistiese struktuur van die heelal nie.

8. VERSOENING TUSSEN BYBEL EN NATUURWETENSKAP?

Baie teorieë is ontwerp om die Bybelse visie van Genesis 1 met ’n natuurwetenskaplike voorstelling van die ontstaan van die heelal te versoen (Wolf 1991:82-97). Skynbaar kan geeneen van hierdie verklaringspogings eksegeties op twee bene staan nie. Want die inkongruensie van die onderneming om twee wyduiteenlopende gegewes op dieselfde vlak met dieselfde metodes te hanteer, het oënskynlik diegene wat hierdie pogings onderneem, ontgaan. Ten spyte van die ongelykvormigheid tussen die Genesis 1-passasie (vgl Eks 20:4) wat ’n bepaalde literêre struktuur en teologiese gerigtheid vertoon en ’n natuurwetenskaplike raamwerk om die ontstaan van die fisiese heelal vas te vang, word genoemde pogings steeds deur bepaalde teorieë gedomineer.

Perspektief: Die Ou Testament hanteer die verwysing na hemelliggame op ten minste die volgende maniere. (Daar sal ander voorbeelde ook voorkom). In die eerste plek dui dit op natuurverskynsels (Gen 19:23a; vgl v 23b), maar word ook as metafoor vir mense gebruik (Gen 37:9b). Verder word natuurverskynsels as instrumente in diens van God verstaan (Ps 29). Laastens word God self in daardie terme beskryf (Mal 4:2), en volgens Deuteronomium, Kronieke, die Profete en die Psalms in assosiasie met die son aanbid (vgl die bespreking by Kruger 1999:1077-1097; ook 2000:137-152).9 Die Bybel praat oor die skepping veral in terme van ’n natuurverskynsel in verhouding tot die godsdiens.

In aansluiting hierby moet gesê word dat die skepping op verskillende maniere in die Ou Testament voorgestel word: as ’n daad van God, ’n stryd, ’n woord, en as aanduiding dat hemel en aarde ontstaan of gebore word (König 1982:1-105; Swanepoel 1995:45-57). Daarby kom nog dat die skeppingsverhaal ’n digterlike struktuur vertoon (vgl Wenham 1987:7; vgl ook Wenham 1994:436-447) wat beswaarlik met ’n natuurwetenskaplike weergawe vergelyk kan word.10

9. ENKELE VOORLOPIGE GEVOLGTREKKINGS

Indien van bogenoemde sake genoegsaam in die voorlegging verreken word, kan daar moontlik met groter stelligheid oor die betekenis van Bybelpassasies gepraat word, en sal veral die formulerings en gevolgtrekkings waarskynlik ook anders daar uitsien.

Die beweging van een wetenskaplike siening (of teorie) na die volgende het implikasies vir die onderhawige bespreking. Indien die sienings van die wetenskap telkens verander, en nuwe sienings telkens gebruik gaan word om die Bybelse voorstellings vanuit daardie kontemporêre oogpunt(e) te beoordeel, het Bybelverklaarders ’n redelik onbevredigende situasie op hande. Die onvermydelike vraag is of dit billik sou wees om van die Bybelwetenskappe te verwag om sekere bevindings van die natuurwetenskappe altyd ernstig te neem, in die lig daarvan dat teorieë so dikwels kom en gaan.

Wat die hermeneutiese vertrekpunte van die huidige voorlegging betref, bly dit ’n vraag of ’n vennootskap tussen natuurwetenskaplike verklarings, onder meer die konkordante benadering (vgl Alberts 1996:9-95) en ’n eietydse (dogmatiese) verstaan (kyk Engelbrecht & Van Dyk 1987:ix), ’n onbelemmerde uitsig op die relevante probleme kan bied. Geeneen van twee posisies om Bybel en wetenskap te versoen, naamlik die letterlike verstaan van die skeppingsverhaal soos dit onder meer in die sogenaamde “kreasionisme” verteenwoordig word (vgl Hayward 1985; Andrews, Gitt & Ouweneel 1986) óf die konkordante verklaring (vgl Alberts 1995; 1996) vind skynbaar groot aanhang nie. Tans neig outeurs eerder om stellings in die skeppingsverhaal as verouder en foutief te beskou. Laasgenoemde verteenwoordig waarskynlik ’n nuwe poging om versoening met die natuurwetenskap na te jaag.

Die rol en betekenis van die matriks van Ou en Nuwe Testament bly onontbeerlik vir die verstaan van passasies wat ter stawing van enige leerstellige uitsprake aangehaal word. Vanuit daardie hoek mag die betekenis van die betrokke passasies miskien tot ander gevolgtrekkings lei. Die beste manier om hierdie saak sinvol te bestudeer behoort binne sy eie bepaalde godsdienstige en kulturele kader plaas te vind.

Hierdie voorlopige, beperkte oorsig word opgevolg in Deel II.

BIBLIOGRAFIE

Agenda vir die elfde sitting van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Pretoria, Sondag 13 tot Saterdag 19 Oktober 2002. Item 5, pp 201-210.

Alberts, L 1995. Die oerknal en Genesis 1, in Swanepoel, FA (red). Die skepping. Pretoria: CB Powell

Bybelsentrum, Unisa, 1-4.

Alberts, L 1996. Geloof versus wetenskap? Perspektiewe op die versoenbaarheid van die Bybel en die bevindings van die natuurwetenskap. Vereeniging: CUM.

Alter, R 1981. The art of Biblical narrative. New York: Basic Books.

Alter, R & Kermode, F (reds) 1989. The literary guide to the Bible. Londen: Fontana Press.

Anderson, BW (red) 1984. Creation in the Old Testament. Issues in relgion and theology 6. Londen: SPCK. Andrews, EH, Gitt, W & Ouweneel, WJ (reds) 1986. Concepts in creationism. Herts: Evangelical Press. Barton, J (red) 1998. The Cambridge companion to Biblical interpretation. Cambridge: University Press. Barrett, P 2000. Science and theology since Copernicus. The search for understanding. Pretoria: Unisa Press. Bartlett, JR (red) 1997. Archaeology and Biblical interpretation. Londen: Routledge.

Botha, W 2002. Foutlose Bybel: sluk of stik? Die Kerkbode 2 Aug, nr 2, 1. (Onderhoud met Botha gevoer – outeur onbekend.)

Britz, RM 2002. Twee standpunte oor die Skrif … en ’n dilemma vir die NG Kerk. NGTT 43/3 & 4, 354-367.

Brown, C (red) 1976. History, criticism and faith. Leicester: IVP.

Brueggemann, W 1993. The Bible and postmodern imagination. Texts under negotiation. Londen: SCM Press Ltd.

Burrows, MS & Rorem, P (reds) 1991. Biblical hermeneutics in historical perspective. Grand Rapids, Michigan: Eerdmans.

Clements, RE (red) 1995. The world of ancient Israel. Sociological, anthropological and political perspectives. Cambridge: University Press.

Coats, GW 1983. Genesis with an introduction to narrative literature. Grand Rapids, Michigan: Eerdmans.

Coats, GW 1985. Saga, legend, tale, novella, fable. Narrative forms in Old Testament literature. Sheffield: JSOT Press. Supp series 35.

Conradie, E (et al) 1995. Op soek na Jona. Verskillende benaderings tot die interpretasie van die Bybel. Teks en konteks 6. Bellville: Die Drukkery UWK.

Couper, H & Henbest, N 1997. The Big Bang. Londen: Dorling Kindersley. De Santillana, G & Von Dechend, H 1969. Hamlet’s Mill. Ipswich: Gambit.

Dever, WG 2001. What did the Biblical writers know and when did they know it? What archaeology can tell us about the reality of ancient Israel. Grand Rapids, Michigan: Eerdmans.

Dillard, RB & Longman III, T 1994. An introduction to the Old Testament. Grand Rapids, Michigan: Zondervan.

Du Rand, J et al 2001. Té min bly oor. Die Kerkbode, 17 Aug, 10.

Du Toit, B 2001. God? Geloof in ’n postmoderne tyd. Bloemfontein: CLF-Uitgewers.

Du Toit, B 2002a. Verstaan ons wat ons lees; weet ons wat om te sê? Die Kerkbode 3 Mei, 9.

Du Toit, B 2002b. Foutlose Bybel: sluk of stik? Die Kerkbode 2 Aug, 1. (Onderhoud met Du Toit gevoer – outeur onbekend.)

Edelman, DV (red) 1991. The fabric of history. Text, artifact and Israel’s past. JSOT 127. Sheffield: JSOT Press.

Engelbrecht J & Van Dyk PJ 1987. Oor skepping en herskepping. Temas uit die Bybel: skepping, geregtigheid, geloof en die kerk. Pretoria: JL van Schaik.

Fernández-Armesto, F 1995. Millennium. A history of our last thousand years. Londen: Bantam.

Fernández-Armesto F & Wilson, D 1996. Reformation. Christianity and the world 1500-2000. Londen: Bantam.

Finkelstein, I & Silberman, NA 2001. The Bible unearthed. Archaeology’s new vision of ancient Israel and the origin of its sacred texts. Londen: Free Press.

Goldingay, J 1987. Theological diversity and the authority of the Old Testament. Grand Rapids, Michigan: Eerdmans.

Goldingay, J 1995. Models for interpretation of Scripture. Grand Rapids, Michigan: Eerdmans.

Gottwald, NK 1987. The Hebrew Bible. A socio-literary introduction. Philadelphia: Fortress.

Grant, RM & Tracy, D 1984. A short history of the interpretation of the Bible. Tweede uitgawe. Londen: SCM.

Gregersen, NH & Van Huyssteen, JW (reds) 1998. Rethinking theology and science. Six models for the current dialogue. Grand Rapids, Michigan: Eerdmans.

Gribbin, J & Rees, M 1991. Cosmic coincidences. Londen: Black Swan.

Gribbin, J 1992. In search of the Big Bang. Quantum physics and cosmology. Londen: Corgi Books.

Gunneweg, AHJ 1978. Understanding the Old Testament. Londen: SCM.

Gunton, CE (red) 1998. The Cambridge companion to Christian Doctrine. Cambridge: University Press.

Haikola, L 2003. Science, religion and the need of a world-view. Word eersdaags in HTS gepubliseer.

Hallo, WW & Simpson, WK 1971. The ancient Near East. A history. New York: HB Javanovich.

Hayes, JH & Miller, JM 1977. Israelite and Judaean history. Londen: SCM. Hayward, A 1995. Creation and evolution. Minneapolis, Minnesota: Bethany House.

Hess, RS & Tsumura, DT 1994. “I studied inscriptions from before the Flood”. Ancient Near Eastern, literary, and linguistic approaches to Genesis 1-11. Winona Lake, Michigan: Eisenbrauns.

James, EO 1998. The beginnings of religion, in Segal RA (red). The myth and ritual theory. An anthology. Oxford: Blackwell, 156-171.

Joubert, G 1997. Die groot gedagte. Abstrakte weefsel van die kosmos. Kaapstad: Tafelberg.

Katz, DS & Popkin, RH 1999. Messianic revolution. Radical religious politics to the end of the second Millennium. Londen: Penguin.

Keel, O 1977. Jahwe-Visionen und Siegelkunst. Eine neue Deutung der Majestätsschilderungen in Jes 6, Ez 1 und 10 end Sach 4. Stuttgart: Verlag Katolisches Bibelwerk.

Keel, O 1978. The symbolism of the Biblical world. New York: Seabury.

Keel, O & Uehlinger C 1998. Gods, goddesses, and images of God in ancient Israel. Edinburgh: T & T Clark.

Kies, J 1997. Bybel moet nooit aan wetenskap ondergeskik gestel word nie. Die Kerkbode, 7 Mrt, 13.

König, A 1982. Hy kan weer en meer. Gelowig nagedink oor die skepping. Deel 3. Pretoria: NG Kerk- Boekhandel.

Kruger, HAJ 1999. Sun and moon grinding to a halt: Exegetical remarks on Joshua 10:9-14 and related texts in Judges, HTS 55/4, 1077-1097.

Kruger, HAJ 2000. Sun and moon marking time. A cursory survey of exegetical possibilities in Joshua 10:9-14. JNSL 26/1, 137-152.

Kruger, HAJ 2001a. Myth, ideology and wisdom: A brief survey. OTE 14/1, 47-75.

Kruger, HAJ 2001b. Genesis 3 Part II: Myth as vehicle for a polemic against religion, ideology and wisdom. OTE 14/2, 214-234.

Long, VP 1994. The art of biblical history. Foundations of contemporary interpretation. Vol 5. Grand Rapids, Michigan: Zondervan.

Miller, JM 1978. The Old Testament and the historian. Philadelphia: Fortress.

Miller, JM & Hayes, JH 1986. A history of ancient Israel and Judah. Philadelphia: Westminster.

Müller, J 2002. Eklipsvertolking nuwe spiritualiteit. Godsdiens-aktueel. Beeld, 12, 9.12, 9.

Murray, MA 1984. The splendour that was Egypt. (Nuwe en hersiene uitgawe.) Londen: Sidgwick & Jackson.

Naudé, JA & Van der Merwe, CH J 2002. Contemporary translation studies and Bible translation. A South African perspective. Acta Theologica Supp 2. Bloemfontein: Publication office, UFS.

Poythress, VS 1988. Science and hermeneutics. Foundations of contemporary interpretation. Vol 6. Grand Rapids, Michigan: Zondervan.

Pritchard, JB (red) 1969. Ancient Near Eastern texts relating to the Old Testament. Derde uitgawe met supplement. Princeton: University Press.

Ryken, L & Longman III, T 1993. A complete literary guide to the Bible. Grand Rapids, Michigan: Zondervan.

Segal, RA (red) 1998. The myth and ritual theory. An anthology. Oxford: Blackwell.

Silva, M 1987. Has the Church misread the Bible? The history of interpretation in the light of current issues. Foundation of contemporary interpretation. Vol 1. Grand Rapids, Michigan: Academie Books.

Smit, EJ (et al reds) 1974. Reformasie en revolusie. Potchefstroom: Potchefstroom Herald.

Swanepoel, FA (red) 1995. Die skepping. Pretoria: CB Powell Bybelsentrum, Unisa.

Van der Toorn, K (red) 1997. The image and the book. Iconic cults, Aniconism, and the rise of book religion in Israel and the ancient Near East. Leuven: Peeters, 229-248.

Van Huyssteen, JW (hoofred) 2003. Encyclopedia of science and religion. New York: MacMillan. (Vgl US Kampusnuus 24 Jul 2003, 6).

Van Wyk A 2002. Derde benadering van Bybel as Skrif. Godsdiens-aktueel. Beeld, 18.11, 11.

Verhoef, PA 1973. Die astronomiese konsepsie van die heelal. Ongepubliseerde aangetekeninge. US Fakulteit Teologie, 1-19.

Verhoef, PA 2002. Teologiese temas. Só het ek geglo en glo ek nog. Stellenbosch.

Von Soden, W 1994. The ancient Near Orient. An introduction to the study of the ancient Near East. Grand Rapids, Michigan: Eerdmans.

Walton, JH 1989. Ancient Israelite literature in its cultural context. A survey of parallels between Biblical and ancient Near Eastern texts. Grand Rapids, Michigan: Zondervan.

Wasserman, HP 1997. Geneeskunde in die Bybel. Pretoria: JL van Schaik.

Watson, F 1998. The scope of hermeneutics, in Gunton, CE (red). The Cambridge companion to Christian Doctrine. Cambridge: University Press, 65-80.

Wenham, GJ 1976. History and the Old Testament, in Brown, C (red). History, criticism and faith. Leicester: IVP, 13-75.

Wenham, GJ 1987. Genesis 1-15. Vol I. Word Biblical Commentary. Waco, Texas: Word Books.

Wenham, GJ 1994. The coherence of the Flood narrative, in Hess, RS & Tsumura, DT. “I studied inscriptions from before the Flood”. Ancient Near Eastern literary, and linguistic approaches to Genesis 1-11. Winona Lake, Indiana: Eisenbrauns, 436-447.

Wolf, H 1991. Introduction to the Old Testament Pentateuch. Chicago: Moody Press.

1 Met apologie aan Carl Maria von Weber: Aufforderung zum Tanze.

2 Agenda vir die elfde sitting van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Pretoria, Sondag 13 tot Saterdag 19 Okt 2002. Item 5, pp 201-210. Die dokument is nog nie deur die Algemene Sinode goedgekeur nie.

3 Die gebruik van die woord “foute”, dws met aanhalingstekens, skep ’n indruk van dubbelsinnigheid, of dien as eufemisme.

4 Vgl 1 Kor 7:25, 40 waar Paulus skynbaar aanvanklik ’n onderskeid tussen God se bevele en sy eie mening tref, maar die oënskynlike onderskeid kanselleer deur aanspraak te maak op die inspraak van die Gees in verband met sy uitsprake.

5 Daar bestaan ’n moontlikheid dat hierdie neiging ook gevoed word deur die teenswoordige universele gevoel van ongeërgdheid teenoor enige gesag en wat tot uiting kom in die klem op die relativering van alle dinge. Vgl Smit (et al reds) 1974. In gevalle waar slegs ’n datum by ’n outeur se naam verskyn en bladsye weggelaat word, moet die hele boek as relevant beskou word.

6 Vgl veral sy siening van “visie”, “perspektief”, “inisiatief” en geskiedenis as skeppende kuns.

7 Alle werke wat aangehaal word, dien slegs as voorbeelde van hoe skrywers relevante onderwerpe behandel.

8 Hierdie onderwerp kom weer ter sprake in Deel II.

9 In die Nuwe Testament word Jesus as die “blink Môrester” aangedui (Op 2:28; 22:16; vgl 2 Pet 1:19).

10 Ten spyte van talle pogings tot die teendeel, weerstaan die meeste verklaarders steeds ’n interpretasie van die episode van Josua in verband met die son- en maanstilstand vanuit ’n astronomiese oogpunt. Die meeste kommentare handhaaf ’n verklaring in terme van ’n voorstelling wat ’n stryd tussen die Here en die son- en maangode voorstel (Kruger 1999:1077-1097; vgl 2000:137-152). As Job kla oor sy lyding, antwoord God hom wel in terme van die wonders van die skepping, maar die teodisee maak van God se skepping slegs die spreekkamer waar Hy Job ontmoet; geen beskrywing van die fisiese ontstaan van die skeppingskomponente ter wille nie.