Prins, JMG
Universiteit van Stellenbosch

Kinders aan die nagmaaltafel in die NG Kerk – ’n evaluering van ’n aantal praktiese aspekte

ABSTRACT

Children at the Lord’s Table in the Dutch Reformed Church – an evaluation of some practical aspects

Since April 1999 baptised children who believe in Jesus Christ, meet the conditions of 1 Corinthians 11 and wish to partake in Holy Communion, may be allowed to the Lord’s Table. This research was undertaken to evaluate the extent to which the decisions of the Synod and the implications thereof were fulfilled. Questionnaires were sent to 307 congregations, which were evenly distributed over the whole country. Of the questionnaires 128 were completed and returned. Important findings were that 16% of the congregations have not yet admitted children to the Lord’s table; that 72% left the investigation of the child’s readiness to participate in as well as the admittance to the Lord’s table in the hands of the parents; that an ongoing process of teaching and accompaniment of both parents and children in this regard is lacking in a majority of congregations, and that there is not enough clarity on how to handle the situation in cases where children are keen to participate while the parents are not interested. An important need of teaching materials has also been identified

INLEIDING

Die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk het op Donderdag 15 Oktober 1998 besluit dat kinders tot die nagmaal toegelaat kan word. Enkele jare daarna lyk dit of die proses in die meerderheid van gemeentes redelik glad verloop het. Daar is egter ook gemeentes wat nog nie daartoe oorgegaan het om kinders tot die nagmaal toe te laat nie en blykbaar is daar ook verskillende interpretasies van die rol wat die plaaslike kerkraad in die toelatingsproses moet speel. ’n Ondersoek is dus gedoen om vas te stel op watter wyse die besluit van die Algemene Sinode oor die toelating van kinders tot die nagmaal in die gemeentes van die kerk uitgevoer is, watter knelpunte daar mag bestaan en watter hulp en leiding deur die Algemene Jeugkommissie van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (AJK) gebied kan word.1

1. ONDERSOEKGEGEWENS

’n Vraelys is in die lig van die onderliggende uitgangspunte van die sinodebesluit en die implikasies daarvan opgestel om deur middel van ’n kwalitatiewe en ’n kwantitatiewe ondersoek die nodige inligting in te win. Die gemeentes in die ondersoekgroep is op ewekansige wyse bepaal en wel so dat gelyke persentasies van die getal gemeentes in drie verskillende kategorieë van gemeentegroottes betrek is. Die getal gemeentes wat in elke kategorie getrek is, is pro rata volgens die aantal lidmate onder die verskillende streeksinodes binne die Republiek van Suid Afrika verdeel.

Vraelyste is aan die begin van 2002 aan die leraar, die leier van die kategese en die voorsitter van die Jeugkommissie van 307 gemeentes gestuur. Antwoorde is hoofsaaklik van predikante ontvang. Die getal vraelyste wat terugontvang is en waarvan die data gebruik kon word, is voldoende om te kan aanvaar dat die ondersoekresultate ’n redelik getroue weergawe bied van die werklike situasie in die kerk.2 Tabel 1 toon die aantal vraelyste wat uitgestuur en terugontvang is.

Tabel 1: Getal vraelyste uitgestuur en terugontvang3

Gemeente se lidmaattal

Aantal gemeentes in kerk

Persentasie gemeentes in ondersoekgroep

Aantal vraelyste terugontvang

Persentasie van gemeentes

Persentasieuitgestuur

< 600

347

97 (28%)

30 (8,6%)

30 (31%)

601-1 200

420

113 (27%)

55 (13,9%)

55 (49%)

> 1 200

359

97 (27%)

43 (12%)

43 (44%)

Totaal

1 126

307 (27%)

128 (11,4%)

128 (41%)

2. TYDSTIP WAAROP KINDERS IN GEMEENTES TOT DIE NAGMAAL TOEGELAAT IS

Die verslag van die ad hoc-kommissie, aan die hand waarvan die besluite oor die toelating van kinders tot die nagmaal geneem is, het vermeld dat gemeentes nie ewe gereed sou wees vir ’n verandering van die gevestigde praktyk van toelating tot die nagmaal na die aflê van belydenis van geloof nie (Agenda 1998:118). Die Sinode het dan ook besluit dat “ter wille van die goeie orde en eenheid van die kerk … kerkrade besluit wanneer die gemeente daarvoor ryp is” (Handelinge 1999:434). Daar is ook ’n beperking gestel dat die besluite oor die kindernagmaal eers van krag sou word wanneer die Acta van die Sinode verskyn het. Die Acta het op 22 April 1999 verskyn. Tabel 2 toon aan op watter tydstip gemeentes kinders tot die nagmaal toegelaat het.

Uit die ontleding van hierdie inligting blyk dit dat nie alle gemeentes op dieselfde tydstip vir hierdie stap gereed was nie. Sommige gemeentes was gereed om die besluit dadelik te implementeer. Ten spyte van die feit dat kinders eers vanaf die verskyning van die Acta toegelaat kon word (Handelinge 1999:434), was daar 13% van die responderende gemeentes wat reeds ses maande tevore, met die neem van die Sinode se besluit, daarmee begin het. Hierdie tendens was die sterkste onder die groter gemeentes waarneembaar. Hierdie gegewens kan ’n aanduiding wees van ’n tendens by gemeentes om op individualistiese wyse met sinodebesluite om te gaan.

Tabel 2: Gemeentes se aanvangsdatum van toelating van kinders tot die nagmaal

Datum van toelating van kinders

Grootte van gemeentes

< 600 601-1 200 > 1 200

Totaal

Oktober 1998 (besluit van Sinode)

2 (7%)

7 (13%)

7 (16%)

16 (13%)

Verskyning van Acta (April 1999)

7 (25%)

11 (20%)

10 (22%)

28 (22%)

Later in 1999

5 (18%)

14 (25%)

14 (32%)

33 (26%)

Sedert 2000

2 (7%)

10 (18%)

9 (20%)

21 (16%)

Sedert 2001

2 (7%)

4 (7%)

3 (6%)

9 (7%)

Nog nie

10 (34%)

9 (17%)

2 (4%)

21 (16%)

Totaal

28

55

45

128

Op die tydstip dat die Acta verskyn het, het net 22% van die kerkrade kinders tot die nagmaal toegelaat. Saam met die aantal wat reeds vroeër met die gebruik begin het, was daar dus 35% van die gemeentes in die kerk wat vanaf April 1999 met die kindernagmaal begin het. Daar was wel 26% van die gemeentes wat deur die loop van 1999 daarmee begin het sodat daar binne ’n jaar na die inwerkingtreding van die besluit 61% van die gemeentes was wat kinders tot die nagmaal toegelaat het. Daar was 16% wat van een en ’n half tot twee jaar later begin het en 7% het eers na meer as twee jaar daarmee begin. Ten tyde van hierdie opname, drie en ’n half jaar na die besluit, het 16% van die gemeentes nog nie kinders tot die nagmaal toegelaat nie.4 Die persentasie is besonder hoog in die klein gemeentes, naamlik 34%.

In die geval van die gemeentes wat tussen 600 en 1 200 lidmate het, is die persentasie ook verrassend hoog, naamlik 17%. Dit is moontlik daaraan toe te skryf dat die tendens sterker in die meer konserwatiewe platteland is en dat ’n aantal groter plattelandse gemeentes in hierdie kategorie van gemeentegrootte val.

As die gegewens wat deur middel van die twee vraelyste verkry is op die groottotaal van gemeentes in die NG Kerk toegepas word, beteken dit dat ten tyde van die opname ongeveer 176 gemeentes nog nie kinders tot die nagmaal toegelaat het nie en dat moontlik 69 kerkrade daarteen besluit het. In die lig daarvan dat die Sinode van 2002 (552:15/16) besluit het dat kerkrade ’n verantwoordelikheid het “om die besluit van die Algemene Sinode 1998 oor die toelating van kinders tot die nagmaal uit te voer”, beteken dit dat hierdie gegewens die kerk se aandag moet geniet.

3. SPANNING EN ONTEVREDENHEID IN GEMEENTES

Van die 107 responderende gemeentes wat kinders tot die nagmaal toegelaat het, was daar net 10 (9%) wat van geringe probleme melding gemaak het. Die enkele opmerkings wat in hierdie verband gemaak is, dui daarop dat dit meestal ’n kleiner aantal van die bejaardes in die gemeentes en ook van die minder meelewende lede is wat nie met die reëling tevrede is nie.

4. REËLINGS IN VERBAND MET DIE TOELATING VAN KINDERS

4.1 Vereistes vir toelating

Die besluit van die Sinode het gelui dat “gedoopte kinders wat in Jesus Christus glo, aan die vereistes van 1 Korintiërs 11 voldoen, en die begeerte het om nagmaal te gebruik, tot die nagmaal toegelaat mag word” (Handelinge 1999:432). Daarmee is dus duidelik verklaar dat kinders nie slegs op grond van die feit dat hulle gedoop is tot die nagmaal toegelaat kan word nie. Daar is ook ander vereistes. Die Sinode van 2002 het hierdie standpunt weereens bevestig.5

’n Belangrike element in die besluit is dus die vereistes van 1 Korintiërs 11. Hierdie vereistes is nie deur die Sinode uitgespel nie. Die probleem is nou dat daar verskillende interpretasies van hierdie Skrifgedeelte is. Aan die een kant is daar die standpunt dat dit hier uitsluitlik gaan om die bestryding van die verdeeldheid wat daar in die gemeente geheers het. Hiervolgens sê Paulus vir die gemeente dat as hulle in ’n gesindheid van onderlinge verdeeldheid die nagmaal vier, dit nie in ooreenstemming met die betekenis van die nagmaal is nie. Dit gaan om ’n oortreding wat deur volwassenes begaan is en volwassenes word dus aangespreek en nie kinders nie. Clasen (1989:195) konkludeer byvoorbeeld: “Dieselfde kan byvoorbeeld van 2 Tessalonisense 3:10 gesê word: ‘As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.’ Daar word tog nie van klein kindertjies, wat nie kan werk vir hulle kos nie, verwag om daarom honger te ly nie. Dit is gewoon ’n vermaning wat met klein kindertjies niks te doen het nie.” Enkele respondente was dan ook van mening dat die voorskrifte van 1 Korintiërs 11 geen verband hou met die kind se betrokkenheid by die nagmaal nie en dat hierdie bepaling nie in die besluit van die Sinode pas nie.

1 Korintiërs 11 en 2 Tessalonisense 3:10 kan egter nie op hierdie wyse met mekaar vergelyk word nie. Dit gaan in 2 Tessalonisense 3 wel om die feit van “brood verdien”, iets wat klein kindertjies nie kan doen nie. In 1 Korintiërs 11 gaan dit egter om die gebruik van die nagmaal, iets wat klein kindertjies wel kan doen. Dan is die voorskrif dat dit op gepaste wyse gedoen moet word – iets wat die klein kindertjies ook moet doen. Die belangrike saak is dus om uit te maak wat met “gepaste” wyse bedoel word.

Berkouwer (1954:342) wys daarop dat “ongepas” op die miskenning van die waarde en betekenis van die nagmaal wys. Hier word die nagmaal op onwaardige wyse deur die gemeente van Korinte gebruik, in ’n gesindheid en op ’n wyse wat afbreuk doen aan die betekenis en waarde van die nagmaal. Dit gaan egter nie om ’n geïsoleerde, enkele vorm van “ongepas” nie, maar “om een concreet-historische vorm van wat op zeer gevarieerde manier werkelijkheid kan worden” (Berkouwer 1954:342). Op baie ander maniere kan die nagmaal op ongepaste wyse benut word. Die gedragsreëls wat Paulus hier uitspel, is dus van toepassing op alle vierings van die nagmaal en op almal wat die nagmaal vier.

Op die vraag: “Wat is volgens u kerkraad die vereistes van 1 Korintiërs 11 waaraan voldoen moet word?” het ’n aantal respondente meer as een respons gegee. Berekenings is dus gemaak in terme van die groottotaal van 134 response. Die oorgrote meerderheid van response het nie gebly by die gegewens van 1 Korintiërs 11 nie, maar aangetoon wat die kerkraad as vereistes in die geheel sien. So was daar dan in totaal 36 response (27%) wat meen dat die kerkraad die persoonlike verhouding met Jesus Christus en die lewenswandel wat daaruit voortvloei as vereiste gestel het. Daar was 25% wat verwys het na die besef van waarom dit gaan. Slegs 6% het verwys na die vereiste dat deelname op ’n gepaste wyse moet geskied.

4.2 Die wyse van toelating

’n Paar belangrike vrae moet in hierdie verband gestel word. Wie moet vasstel of die kind aan die vereistes voldoen en op watter wyse word toelating tot die nagmaal verleen?

4.2.1 Die besluit van die Sinode

Die verslag van die ad hoc-kommissie (Agenda 1998:118) meld in hierdie verband: “Dit is moeilik en waarskynlik onmoontlik om ’n spesifieke ouderdom vas te stel wanneer die gebruik van die nagmaal sinvol sal wees vir die kind.” Die verslag wys voorts daarop dat kerke meestal kinders eers vanaf skoolgaande ouderdom toelaat. Die kommissie oordeel dan: “Ter wille van die goeie orde en as ’n praktiese reëling behoort die Ned Geref Kerk ’n minimum ouderdomsvereiste te stel.” Die voorstel in hierdie verband was dan ook: “Kinders word vanaf hulle eerste skooljaar (graad 1) tot die nagmaal toegelaat.” Die Sinode het dit egter nie goedgekeur nie. Dit beteken dus dat kinders op enige ouderdom toegelaat kan word, mits hulle aan bogenoemde vereistes voldoen.

Die verslag het verder aanbeveel dat (as deel van die toelatingsproses) ’n gesprek met kinders gevoer word waarin die volgende basiese geloofswaarhede aangeraak word: die brood en die wyn wys op die middelaarswerk van Jesus Christus wat vir ons gesterf het; deur die genadetekens verseker die Here ons van sy liefde en die vergifnis van al ons sondes; deur deel te neem aan die nagmaal sê ons dat ons glo dat Jesus vir ons sondes gesterf het en dat ons God liefhet en vir Hom wil lewe.

Van hierdie aanbeveling het die Sinode net kennis geneem. Die daaropvolgende aanbeveling, wat in verband staan met bostaande aanbevelings, en wat wel deur die Sinode aanvaar is, lui soos volg: “Dit is die verantwoordelikheid van elke kerkraad om spesifieke reëlings te tref oor die wyse waarop die toelating plaasvind” (Agenda 1998:121). Die woord spesifieke dui aan dat die reëlings sou insluit deur wie, wanneer en hoe vasgestel word of kinders gereed is. Dit impliseer ook dat die kerkraad op ’n aktiewe wyse betrokke sal wees in die proses van toelating. 6Dit is immers ’n tipies gereformeerde standpunt dat die nagmaal nie sonder meer vir enigeen toeganklik is nie. “Het recht om avondmaal te vieren werd uitdrukkelijk verleend” (Van’t Spijker 1980:366). Dit is ’n funksie wat die kerkraad namens die gemeente behoort te vervul.

4.2.2 Die uitvoering van die Sinode se besluit

Daar is dus probeer om vas te stel watter spesifieke reëlings kerkrade getref het met die oog op die toelating van kinders tot die nagmaal. Respondente is versoek om aan te dui watter een van die volgende modelle die gemeente aanvanklik gevolg het om vas te stel of die kinders wat aan die nagmaal kom deelneem, “in Jesus Christus glo, aan die vereistes van 1 Korintiërs 11 voldoen en die begeerte het om die nagmaal te gebruik”: ouers wat wil hê die kind moet deelneem, meld slegs aan by ouderling; ouers wat wil hê die kind moet deelneem, meld aan by die ouderling en die ouderling/leraar voer ’n gesprek met die kind; die saak is geheel en al in die ouers se hande; ander moontlikhede.

Die onderstaande tabel dui aan wat die response was.

Tabel 3: Wyses waarop kinders in gemeentes tot die nagmaal toegelaat is

Gemeente se grootte

Slegs aanmeld

Aanmeld en gesprek

In ouers se hande

Ander

Totaal

< 600

1 (5%)

4 (21%)

14 (74%)

0 (%)

19

601-1 200

>1 200

3 (7%)

1 (2%)

6 (15%)

10 (25 %)

30 (71%)

30 (71%)

3 (7%)

1 (2%)

42

42

Totaal

5 (5%)

20 (19%)

74 (72%)

4 (4%)

103

’n Totaal van 103 gemeentes het op hierdie vraag reageer. Uit hierdie tabel blyk dit dat daar nie veel verskil is tussen die grootte van gemeentes en die opsie wat hulle uitoefen nie. Die vasstelling of kinders gereed is om nagmaal te gebruik en die toelating tot die nagmaal word in ’n groot meerderheid van gevalle (72%) in die hande van die ouers gelaat. Net in 19% van die gevalle word daar deur leraar, ouderling of kategeet ’n persoonlike gesprek met die kind gevoer. In die vier gevalle waar daar van ’n ander model sprake was, word verskillende variasies van aanmelding en gesprekvoering met die ouer en/of die kind vermeld.7

Een van die belangrike winspunte van die toelating van kinders tot die nagmaal is beslis dat die verbondsouer se verantwoordelikheid ten opsigte van die kind se geloofsvorming daardeur beklemtoon word. Die Sinode het dan ook die twee aanbevelings aanvaar (Acta 1998:432) in verband met die ouer se verantwoordelikheid om die kinders tot deelname aan die nagmaal te begelei 8 en die kerkraad se verantwoordelikheid om die ouers vir hierdie taak toe te rus. 9 Daarby is ook ’n derde besluit geneem wat in wese dieselfde bevat het as bogenoemde twee.10

Die gereformeerde teologie het nog altyd beklemtoon dat die nagmaal nie ’n bloot individuele saak is nie. Aan die een kant gaan dit om die individuele gelowige se persoonlike betrokkenheid in die nagmaalviering, maar aan die ander kant is dit ook ’n saak van die gemeente (Prins 1994:311). Met verwysing na 1 Korintiërs 11:26 toon Hendriks (1986:109) aan dat die gemeente deur die gebruik van die nagmaal haar geloof in die heilsbetekenis van Christus se dood en opstanding bely. Aan hierdie belydenis moet die kind ook deelneem. Die kollektiewe karakter van die nagmaal beklemtoon die noodsaak dat daar by die deelnemers ’n bekendheid met die doel en vorm sal wees (Van Heere 1974:90). Van Ruler (1972:91) beklemtoon ook die aktiewe betrokkenheid van die nagmaalganger. Die mens ondergaan nie maar net die sakrament op passiewe wyse nie, maar is aktief en handelend daarby ingeskakel. Hy waarsku dat as die belydende karakter van die nagmaal verwaarloos word, die struktuur van die genade en heil verwring kan word.

Bogenoemde beklemtoon dat daar met omsigtigheid omgegaan moet word met die toelating van dooplidmate tot die nagmaal. Dit is die kerkraad wat namens die gemeente moet vasstel of die dooplidmate wat te kenne gegee het dat hulle aan die nagmaal wil deelneem, gereed is om dit te kan doen. Tereg sê Welker (2000:71): “The Church of Christ, the Christians who compose that church, must take care that this meal is celebrated in accordance with the meal’s identity.” Die gemeente, en dan in laaste instansie die kerkraad, moet sorg dra dat dit ook by die nagmaal “gepas en ordelik” (1 Kor 14:40) daaraan toegaan.

Dit is dus ’n ernstige vraag of die verlening van die reg om nagmaal te gebruik aan die ouers gedelegeer kan word. Waar baie gemeentes ook min doen ten opsigte van spesifieke toerusting van ouers11 word die “alleenreg” van die ouers nog meer problematies. Die vraag kan gestel word of die wyse waarop die toelating tot die nagmaal in die meeste gemeentes gereël word nie ’n geval is van die pendulum wat van die een uiterste na die ander een deurgeswaai het nie. Terwyl daar voorheen ’n streng beleid was van kategese, ondersoek en toelating deur die leraar en kerkraad en belydenisaflegging voor die gemeente voordat deelname aan die nagmaal moontlik was, kan die hele proses van toelating in die meeste gemeentes nou geheel en al, sonder verantwoording aan die kerkraad, deur die ouer hanteer word. Hierdie tendens is waarskynlik ook tiperend van die individualisme van ons tyd.

Deur die saak van ondersoek en toelating feitlik volledig in die hande van die ouers te laat, trap die kerk weer in dieselfde soort slaggat as wat met die kategese die geval was. Daar word naamlik met ’n veronderstelde in plaas van met die werklike beginsituasie gewerk.12 Die veronderstelling is dan dat die verbondsouers daartoe in staat is om hulle kinders in die verbond op te voed en inderdaad ook daarmee besig is. Terwyl dit van baie ouers waar is, is dit ook van baie ouers nie waar nie. Buitendien lê verskillende ouerpare verskillende maatstawwe aan die dag. Nie alle ouers sal ook ewe goed kan besluit of hulle kind gereed is vir deelname aan die nagmaal nie. Primêr is die ouer verantwoordelik vir die verbondsopvoeding van die kind, maar die proses van ondersoek na gereedheid en toelating tot deelname aan die nagmaal sal op vaster voet staan as kerkrade ’n daadwerklike betrokkenheid daarby het.

Die Algemene Sinode van 2002 het ’n verdere besluit in verband met die toelating geneem (Handelinge 2002:552): “Met betrekking tot die toelating van dooplidmate tot die nagmaal tref elke kerkraad toepaslike reëlings in die lig van plaaslike omstandighede. Wykskerkraadslede en/of kategete kan ook in die opsig saam met die ouers betrek word.” Hierdie besluit beklemtoon dat kerkrade reëlings moet tref, maar is nog steeds te vaag en laat die deur nog oop vir die opvatting dat ’n kerkraad kan reël dat die saak geheel en al by die ouers berus.

5. TOERUSTING VAN OUERS

Daar is reeds by 4.2.2 verwys na die Sinode se besluite in verband met die ouers se verantwoordelikheid om die kind tot deelname aan die nagmaal te begelei en kerkrade se verantwoordelikheid om ouers in hierdie verband toe te rus. In die lig daarvan dat kerkrade die verantwoordelikheid van toelating tot die nagmaal op so ’n groot skaal geheel en al in die hande van ouers gestel is, is die hulp aan ouers van nog groter belang. Dit word ook eksplisiet deur die sinodebesluite vermeld. Veral die woord deurlopend is belangrik. Daar is deurlopend kinders wat toegelaat word. Maar die kinders wat reeds nagmaal gebruik, groei ook in hulle insig en ervaring en moet ook deurlopend begelei word. Daartoe moet die ouers toegerus word. Op die een of ander manier sal kerkrade voorsiening moet maak vir ’n deurlopende proses van onderrig aan ouers. Die deelname van kinders aan die nagmaal stel die kerk voor die noodsaaklikheid van ’n doelgerigte aanpak van die vorming en toerusting van ouers.

Op hierdie onderwerp het 85 gemeentes reageer. Dit blyk dat die grootte van die gemeente geen verband hou met die metode of frekwensie van toerusting wat aan ouers verleen word nie. Daar was 42 gemeentes (49% van die respondente) wat op ’n gereelde basis daaraan aandag gee. Daarteenoor gee 32% nie gereeld aandag aan die saak nie.13 ’n Verdere 19% voer sulke gesprekke slegs wanneer ouers daarom aansoek gedoen het.14

Daar is groot variasie in die geleenthede en maniere waarop die voorligting plaasvind. Erediens en prediking (23%) word die meeste genoem en dan volg huiskerk of wyksbyeenkomste (15%), gesprekke met individuele ouerpare (14%) en toerustingsgeleenthede met groepe (14%).15 Daar was 41 verwysings na materiaal wat gebruik word.16

6. DIE VOORTGESETTE TOERUSTING VAN KINDERS

Die Sinode van 1998 se besluite oor hierdie aspek is beperk tot die oproep aan ouers om hulle kinders te onderrig en te begelei en tot kerkrade om die ouers toe te rus vir hulle verantwoordelikheid. Daar is geen oproep tot kerkrade om self ook kinders toe te rus vir deelname aan die nagmaal nie. In die vraelys is die vraag gestel of die kerkraad voorligting en leiding aan kinders gee met die oog op hulle deurlopende deelname aan die nagmaal. Hierop het 54 ja geantwoord en 51 nee.

In sekere sin sal dit vanselfsprekend geskied deurdat die saak van die nagmaal in die kategesemateriaal van die AJK opgeneem is. Daar was 43% van die respondente wat gewys het op die voorligting wat in die kategese gedoen word. Hierbenewens wys 24% op die voorligting wat tydens die nagmaalviering plaasvind.

Dieselfde argumente wat ten opsigte van ouers se toerusting geld, is ook hier van toepassing. Kinders moet deurlopend begelei word. Nie alleen is daar deurlopend kinders wat vir die eerste keer tot die nagmaal toetree nie, maar ook diegene wat reeds deelneem, het verdere onderrig nodig sodat hulle dieper kan ingroei in die verstaan en belewing van die sakrament.

Die Sinode van 2002 (Handelinge 2002:552) het ’n duideliker besluit oor die kerk se onderrig aan die kinders geneem. Daarin word verwys na die verantwoordelikheid van kerkrade om in die proses van toelating tot die nagmaal ook aan die kinders “deurlopende begeleiding” te gee.

7. DIE EERSTE NAGMAAL

Slegs vyf gemeentes het vermeld dat hulle iets spesiaals doen ten opsigte van kinders wat vir die eerste keer nagmaal gebruik.17 Enkele gemeentes noem dat hulle juis nie iets besonders daarvan maak nie, want hulle wil nie die eerste nagmaalgebruikers uitsonder en ’n ophef van die saak maak nie.

Die vraag kan egter gevra word of hier nie ’n geleentheid is wat op ’n sinvolle manier benut kan word nie. Dit is immers die eerste keer wat die betrokke kinders hierdie bewuste stap van deelname aan die sakrament neem.

8. AKKOMMODERING VAN KINDERS

Op die vraag: “Is daar spesifieke dinge wat u by die nagmaal doen om die kinders te akkommodeer?” was daar vier gemeentes wat nee en 64 wat ja geantwoord het. Sake wat die meeste vermeld is, is die verkorting of vereenvoudiging van die formulier (31%), die deelname van die gesin wat byvoorbeeld as groepie om ’n tafel sit (29%), die ouers (veral dan die pa) wat die brood vir die gesin breek en uitdeel (18%), kinders wat betrek word deur met die uitdeel van die elemente te help en ook deur self die brood af te breek.

Uit hierdie beperkte gegewens blyk dit dat daar met die toelating van kinders belangrike veranderings in die wyse van bediening plaasgevind het, soos die aksent op die gesin se deelname en die wyse van uitdeling. Die Sinode van 1998 het nie voorsiening vir ’n meer kindervriendelike formulier gemaak wat afwisselend met die gewone formulier gebruik kan word nie. Uit die ondersoek blyk egter dat baie gemeentes hulle eie aanpassings aan die formulier maak of ’n ander formulier gebruik. 81% van die responderende gemeentes het die behoefte aan ’n geskikte formulier uitgespreek. Die Sinode van 2002 (Handelinge 2002:538) het dan ook so ’n formulier goedgekeur.18

9. AFSONDERLIKE NAGMAAL VIR KINDERS

Die ad hoc-kommissie het in 1998 aanbeveel dat “geen aparte nagmaalbyeenkomste vir kinders gereël word nie, omdat die nagmaal ’n gesamentlike byeenkoms is wat tydens ’n erediens, waar gesinne betrokke is, gevier word”. Die Sinode het die voorstel egter net as ’n riglyn aanvaar. Op die vraag of die nagmaal soms bedien word by byeenkomste waar hoofsaaklik kinders teenwoordig is, het 10% van die respondente positief geantwoord.19

10. DIE MATE VAN KINDERDEELNAME AAN DIE NAGMAAL

Daar is probeer om ’n beeld te kry van die mate waarin kinders aan die nagmaal deelneem in die gemeentes waar hulle tot die nagmaal toegelaat is. Respondente moes hulle mening gee op die vraag: “Watter deel van die kinders van u gemeente in die verskillende ouderdomsgroepe neem na raming deel aan die nagmaal?” Hulle moes ’n aanduiding gee volgens die kriteria en groepe soos in tabel 4 aangedui.

Tabel 4. Die mate waarin kinders in die verskillende ouderdomsgroepe aan die nagmaal deelneem

Gemeente se grootte

Voorskoolse kinders

Laerskoolkinders

Hoërskoolkinders

Almal

Meeste

Helfte

Min

Nul

Almal

Meeste

Helfte

Min

Almal

Meeste

Helfte

Min

< 600

6%

22%

11%

61%

-

11%

33%

28%

28%

11%

33%

19%

37%

601-1 200

0

26%

5%

58%

11%

2%

37%

17%

44%

12%

30%

21%

37%

> 1 200

4%

25%

13%

56%

2%

13%

47%

17%

23%

15%

51%

17%

17%

Totaal

3%

25%

9%

58%

5%

8%

40%

19%

33%

13%

40%

19%

28%

Voorskoolse kinders

Dit blyk dat wat die voorskoolse kinders betref daar in 58% van die gemeentes min kinders in hierdie ouderdomsgroep deelneem. In 5% van die gemeentes is daar niemand nie. 20 Dit wil dus voorkom of dit meestal kinders van skoolgaande ouderdom is wat aan die nagmaal deelneem en dat in 5% van die gemeentes kinders eers vanaf skoolgaande ouderdom toegelaat word. Daar is nie veel verskil tussen die verskillende grootte gemeentes nie.

Laerskoolkinders

Wat die kinders in die laerskool betref, gebruik die meerderheid van kinders in 48% van die gemeentes die nagmaal. Tog is daar 44% van die middelgroep gemeentes en 33% van die totale getal responderende gemeentes wat sê dat min kinders deelneem.

Hoërskoolkinders

Selfs wat die hoërskoolkinders betref, meld 28% van die gemeentes dat min en 19% dat die helfte deelneem. 57% meld dat die meeste of almal deelneem. In die groot gemeentes is daar die meeste deelname. 66% sê die “meeste” en “almal”. Aan die ander kant is daar 37% van die middelgrootte gemeentes en klein gemeentes wat meld dat min hoërskoolkinders deelneem. Daar sal waarskynlik ’n verskeidenheid redes vir laasgenoemde wees is. Een is dat die jeug wat nie sterk betrokke is in die kerklike lewe nie seker ook nie aan die nagmaal sal deelneem nie. Hierdie gegewens is, wat die voortgesette deelname aan die nagmaal betref, moontlik ’n weerspieëling van wat in elk geval die situasie na belydenisaflegging sou wees. Groot getalle tieners het in die verlede, voordat kinders tot die nagmaal toegelaat was, na hulle belydenisaflegging nie weer aan die nagmaal deelgeneem nie.

’n Ander rede wat deur ’n aantal respondente genoem word, is dat kinders in die hoërskool op grond van die tradisie eers na belydenisaflegging aan die nagmaal deelneem.

11. PROBLEME IN VERBAND MET KINDERDEELNAME

Net 20 respondente het hier iets vermeld en dan is dit ook meestal sake wat van algemeen praktiese aard is en plaaslik opgelos moet word. Twee probleme wat genoem word en waaraan die AJK wel aandag kan gee, is die onsekerheid by leraars en kerkrade of kinders weet waaroor die nagmaal gaan en die feit dat baie kinders en adolessente op grond van die tradisie verkies om eers na belydenisaflegging aan die nagmaal deel te neem.

Tydens die voorligtingskonferensies wat na die sinodebesluit gehou is en waarby die navorser betrokke was, is geantisipeer dat daar kinders kan wees wat graag aan die nagmaal wil deelneem, maar wie se ouers nie kerklik betrokke is nie. ’n Vraag in hierdie verband is dus in die vraelys ingesluit om vas te stel hoe respondente meen hierdie probleem hanteer kan word. Daar was 86 response op die vraag. Slegs 5% vermeld dat hulle nie so ’n probleem het nie en 2% sê dat dit ’n groot probleem is. Daar is 23% wat die kategeet en kategese op die een of ander manier probeer betrek, 15% beklemtoon ’n persoonlike gesprek met die kind en 13% ’n gesprek met die ouer. Dan het 8% vermeld dat hulle probeer om die kind in te skakel by gesinne wat wel deelneem en 6% probeer om ’n ouderling of ander volwassenes by sulke kinders betrokke te kry. Dit wil egter voorkom of die meeste gemeentes die saak nog nie omvattend genoeg benader nie. Dit is ’n aspek waaroor gemeentes beslis met wenke en riglyne gehelp moet word.

12. SAKE WAARMEE HULP BENODIG WORD

Die behoefte aan leiding ten opsigte van die liturgie word genoem. Daar word ook ’n definitiewe behoefte aan die volgende soorte materiaal uitgespreek: riglyne vir ouers om hulle te help met die voorbereiding van die kind vir die eerste nagmaal, sowel as die voortgaande gebruik van die nagmaal, ’n handleiding vir die kategeet met temas oor die nagmaal en preekstof vir kinderprediking oor die nagmaal.

13. WAARDE VAN KINDERDEELNAME VIR DIE GEMEENTE

Die sake wat hier die meeste beklemtoon word, is die deelname van die gesin (en die gevolglike opbou en versterking van die gesin) wat deur 33% van die respondente aangedui word, die feit dat dit kinders laat beleef dat hulle deel is van die gemeente en hulle geestelik versterk (32%) en dat dit ouers se verbondsverantwoordelikheid beklemtoon (9%). Ander sake wat vermeld word is: ouers word met hulle eie geloof gekonfronteer, die invloed op die liturgie en prediking, die nadenke oor die betekenis van die nagmaal, die minder formele nagmaalviering en die feit dat gesinne na die kerk getrek word. In slegs 3% van die response is daar aangedui dat dit nie veel vir die gemeente beteken nie en eintlik maar net waarde het vir die betrokke ouers en kinders.

14. GEVOLGTREKKINGS

14.1 Uit die ondersoek blyk dit duidelik dat binne drie jaar nadat kinders vir die eerste keer tot die nagmaal toegelaat kon word, 84% van die gemeentes in die NG Kerk daartoe oorgegaan het. Die 16% gemeentes wat dit nog nie gedoen het nie is hoofsaaklik klein plattelandse gemeentes. Na raming het tussen 60 tot 70 kerkrade in die kerk teen die toelating van kinders tot die nagmaal besluit.

14.2 Die oorweldigende getuienis van predikante is dat die toelating van kinders vir kind en ouer en ander gemeentelede tot seën is. Daar is ook betreklik min ongelukkigheid in gemeentes oor hierdie saak.

14.3 Daar sal besin moet word en duideliker standpunt ingeneem moet word oor die kerkraad se rol by die proses van ondersoek na kinders se gereedheid vir deelname aan die nagmaal en die toelating daartoe.

14.4 Gemeentes sal aangemoedig en gehelp moet word om meer doelgerig en deurlopend ouers en kinders te begelei in die proses om die kind tot die nagmaal toe te laat.

14.5 Daar is ’n behoefte aan duideliker riglyne vir die hantering van die situasie waar kinders graag aan die nagmaal wil deelneem, maar hulle ouers kerklik onbetrokke is en dus ook nie by die nagmaal teenwoordig is nie.

14.6 Daar is ’n behoefte aan onderrig- en liturgiese materiaal vir ouers, kategete en predikante om kinders in die deelname aan die nagmaal te begelei.

BIBLIOGRAFIE

Agenda vir die tiende Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1998.

Berkouwer, GC 1954. Dogmatische studiën. De sacramenten. Kampen: JH Kok.

Clasen, FJ 1989. Die kinderkommunie. ’n Prakties-teologiese studie. Ongepubliseerde DD- proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 2002. Samesteller P Coertzen. Wellington: Lux Verbi.BM.

Handelinge van die tiende Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1998.

Handelinge van die elfde Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 2002.

Hendriks, AN 1986. Kinderen aan de tafel van Christus? Kampen: Uitgeverij van den Berg.

Jaarboek van die Nederduitse Gereformeerde Kerke. Tygervallei: Tydskrifte-maatskappy van die Ned Geref Kerk.

Kerkspieël V. Verslag van die vyfde wetenskaplike opname van die Ned Geref Kerk 1996. 1998. Ongepubliseerde verslag.

Minnema, PJ 1984. Gezinskategese rond het avondmaal. Ouderlingenblad 61, 718, 16-19.

Prins, JMG 1994. Kinders aan die nagmaaltafel – belangrike oorwegings ten opsigte van die implementering daarvan. NGTT 35 (2), 306-317.

Van Ruler, AA 1972. Waarom zou ik naar de kerk gaan? Nijkerk: GF Callenbach.

Van Heere, DB 1974. Enkele sociologische kanttekeningen bij de kindekommunie. Praktische

Theologie 1, 86-90.

Van’t Spijker, W 1980. Het klassieke avondmaalsformulier, in Van’t Spijker et al. Van’t Spijker, W et al 1980. Bij brood en beker. Goudriaan: De Groot.

Welker, M 2000. What happens in Holy Communion? Grand Rapids: Eerdmans.

1 Die ondersoek is met die finansiële steun van die AJK gedoen. Die gevolgtrekkings is dié van die navorser en nie noodwendig die standpunte van die AJK nie.

2 ’n Voorlopige vraelys is per abuis deur die AJK se kantoor saam met ander posstukke aan al die gemeentes van die kerk gestuur. Daar is 256 van hierdie vraelyste terugontvang. ’n Aantal van die vrae het ooreengestem met dié op die finale vraelys en die response kon dus benut word. Die response kon egter nie in die verskillende groottes gemeentes gekategoriseer word nie. Van die data kon wel gebruik word en as dit by die data van die werklike ondersoek getel word, beteken dit dat dit ten opsigte van ’n aantal vrae ’n weergawe bied van die situasie in 37% van die gemeentes van die kerk. Dit blyk ook dat die data van die finale vraelys nie baie van die ooreenstemmende data van die voorlopige vraelys verskil nie. Op grond hiervan kan aanvaar word dat die ondersoek ’n redelik getroue weergawe bied van die werklike situasie in die kerk.

3 Gegewens van kategorieë van gemeentegroottes is uit Kerkspieël V (1996:26) en die getal gemeentes is uit die Kerkjaarboek (2002: 363) verkry. In die stadium van die ondersoek was die nuwe Kerkspieël nog nie beskikbaar nie.

4 Die response op die voorlopige vraelys toon dat 36 (14%) van die respondente nog nie kinders toegelaat het nie. Uit die 384 response op die twee vraelyste was daar dus 57 (14%) van die gemeentes wat nog nie kinders toegelaat het nie.

Dit was ’n leemte in die vraelys dat daar nie navraag gedoen is oor die redes waarom die betrokke gemeentes nog nie kinders tot die nagmaal toegelaat het nie. Daar was wel 11 respondente wat ’n verduideliking gegee het. Daar was vyf wat vermeld het dat geen aansoek van die kant van gemeentelede ontvang is nie. ’n Verdere vyf het gemeld dat die kerkraad en gemeente nie ten gunste daarvan was nie en een respondent het gemeld dat die gemeente nog nie gereed is nie.

Van die respondente op die voorlopige vraelys het 35 ’n rede verskaf. Twaalf het aangedui dat daar geen aansoeke van ouers was nie, in tien gevalle was die kerkraad nog in gesprek met die gemeente en sommige van hulle het beoog om gedurende 2002 kinders tot die nagmaal toe te laat. Daar was 13 kerkrade wat teen die toelating van kinders besluit het.

5 Handelinge 552:15/16: “Die Algemene Sinode handhaaf sy besluit van 1998 dat gedoopte kinders wat in Jesus Christus glo, aan die vereistes van 1 Korintiërs 11 voldoen, en die begeerte het om nagmaal te gebruik, tot die nagmaal toegelaat mag word.”

6 By die toelating van kinders tot die nagmaal het die Gereformeerde Kerk in Nederland byvoorbeeld ’n baie duideliker besluit oor die rol van die kerkraad geneem: “De kerkeraad zal de desbetreffende kinderen en jongeren onderwijzen in de viering van de maaltijd des Heren en daarbij nagaan of zij op hun niveau de betekenins ervan zich eigen maken, niet in het minst met het oog op de vragen van geloof en belijden, die zich hier voordoen” (Acta van de Generale Synode van de Gereformeerde Kerken in Nederland, gehouden te Zwolle en Lunteren 1977/1979, 216, soos aangehaal deur Minnema 1984:16).

7 Daar is ook ’n vraag gestel of die werkswyse wat met die aanvanklike wyse van toelating tot die nagmaal gepaardgegaan het, later gewysig is. Daar was sewe gevalle waar die prosedure verander is. Daar was ses gemeentes waar aanmelding by die kerkraad eers moes plaasvind, maar wat dit afgeskaf en die saak geheel en al in die ouers se hande gelaat het. ’n Plattelandse gemeente het ’n afsonderlike kinderdiens ingestel waar die nagmaal aan die kinders bedien word.

8 “Die Algemene Sinode beklemtoon dat ouers hulle kinders moet begelei met die oog op die kinders se deelname aan die nagmaal en om die besondere geleentheid te benut om saam met hulle kinders die nagmaal te gebruik.”

9 “Die Algemene Sinode versoek kerkrade om deurlopend aandag te gee aan die toerusting en begeleiding van ouers sodat hulle hulle kinders kan begelei in die deelname aan die nagmaal.”

10 “Ouers het die verantwoordelikheid om hulle kinders voortdurend te begelei en te onderrig in die volle rykdom van die betekenis van die nagmaal, net soos kerkrade die plig het om volwassenes te begelei.”

11 Dit word onder par 5 aangetoon.

12 Daar is bv baie lank op eensydige wyse daarvan uitgegaan dat kategese die kerklike onderrig aan verbondskinders is. Prinsipieel was dit die korrekte uitgangspunt, maar daarmee is te min rekening gehou met die praktiese realiteit dat baie kinders in die kategese uit huise gekom het waar daar min van ’n verbondslewe en -opvoeding sprake was.

13 Vyf doen dit jaarliks, 15 sporadies, vier glad nie en drie selde.

14 Die response op die voorlopige vraelys het met hierdie gegewens ooreengestem.

15 Daar word ook gewys op doopkategese (2%), gesprekke met nuwe intrekkers (4%) en op die feit dat dit die ouderlinge se verantwoordelikheid is (5%). ’n Paar gemeentes gee dan ook toerusting aan ouderlinge met die oog op gesprekke oor die nagmaal.

16 19 gebruik ’n boekie van Bybelkor, 16 maak melding van eie materiaal wat opgestel is en ses vermeld ander boekies.

17 In twee gevalle is ’n kaartjie of boekmerk oorhandig, in een geval is die ouers en kinders versoek om op te staan, in een gemeente word die kinders spesifiek verwelkom en in een geval deel die kind se pa aan hom of haar die nagmaal uit (net by die eerste geleentheid).

18 Die Sinode moedig ook die skryf en versamel van nuwe formuliere aan wat aan die Algemene Kommissie vir die Erediens vir evaluering en beskikbaarstelling voorgelê moet word. Die Kerkorde (art 48.2) bepaal egter dat liturgiese formuliere deur die Algemene Sinode aanvaar moet word.

19 Dit gebeur een keer per jaar by ’n geleentheid waar net die belydenisklas betrek word (twee gemeentes), by kampbyeenkomste waar ouers teenwoordig is (een), saam met die “gewone” nagmaal by ’n geleentheid in die kerksaal waarheen gesinne kom (een), een of twee keer per jaar by die kinderkerk of kinderdiens (ses), elke kwartaal by die maandelikse jeugdiens (een), twee keer per jaar vir gesinne met skoolgaande kinders (een), een keer per jaar by ’n kinderbyeenkoms wat saam met die “gewone” nagmaal plaasvind, waar volwassenes ook welkom is (een). Die response op die voorlopige vraelys het heelwat verskil deurdat slegs 3% van so ’n afsonderlike byeenkoms rapporteer.

20 Dit is nie duidelik hoe die 3% gemeentes wat meedeel dat al die voorskoolse kinders aan die nagmaal deelneem se inligting geïnterpreteer moet word nie. Voorskoolse kinders sluit byvoorbeeld tog ook klein babas in.