Van der Linde, HH
Universiteit van Pretoria

NG Kerkfamilie: kerkvereniging in ’n doodloopstraat of nie?1

ABSTRACT

Dutch Reformed Church family: unification process at a dead end or not?

The Dutch Reformed Church family presently finds itself in an impasse and the progress on the road to ecclesiastical unity has, to a large extent, come to a standstill. Although contact on local level and new potential for dialogue was cultivated on synodical level, little progress was made. This article raises the question if the unification process is at a dead end or not. More than only theological, ecclesiastical and church polity factors often play a role in the progress of the unification processes of the church. This article presents a dynamic, bifocal reconciliation model for the unification process. This model aims at bringing about dynamic growth in mutual relationships, simultaneously also creating an opportunity for establishing authentic, accountable relationships. Reconciliation forms the basis for renewed growth on the road towards unity.

HISTORIESE OORSIG

Die eenheid van die kerk is ’n Skriftuurlike werklikheid. Hierdie eenheid is nie alleen ’n geestelike eenheid nie, maar moet ook uitgroei tot ’n konkrete, sigbare eenheid. Die NG Kerkfamilie in Suid- Afrika worstel met die vraag oor hoe hierdie eenheid sigbaar vergestalt moet word. Die NG Kerkfamilie bevind homself tans in ’n impasse en die vordering op die pad na kerklike eenheid het in groot mate tot stilstand gekom. Hernude hoop het egter opgevlam met die suidelike en noordelike konvente vir eenheid wat onderskeidelik gedurende 2001 en 2002 gehou is.

Vir bykans 200 jaar was die NG Kerk één kerk. Hierna het daar verwydering gekom en het dit gegroei vanaf die hou van aparte dienste tot die stigting van eie kerke op rassegrondslag. Die NG Kerkfamilie het die moeisame pad na kerklike eenheid begin stap. Hierdie proses is gekenmerk deur ’n wisselwerking tussen toenadering of ’n soeke na eenheid aan die een kant en verwydering of verskeurdheid aan die ander kant.

Die NG Kerk het die staatsbeleid van apartheid ondersteun en dit Skriftuurlik regverdig (Van der Watt 1987:84). Met reg kan gepraat word van “apartheid as ’n kerklike beleid” (Die Kerkbode, 22 Sep 1948:664). Hierdeur het die kerk hom geïsoleer en het die verskeurdheid in die NG Kerkfamilie groter geword. Die NG Sendingkerk het ’n status confessionis afgekondig en dit het aanleiding gegee tot die Belydenis van Belhar (Acta Synodi, NG Sendingkerk 1982:706; 1986:719, 914-917). Hiermee het die NG Sendingkerk die verdeeldheid ook in ’n belydenis verwoord. Die NG Kerk het veral sedert 1990 ’n hand van versoening uitgereik en gekies vir een kerkverband. Eenheid het tot stand gekom tussen die NG Sendingkerk en die NG Kerk in Afrika met die stigting van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (1994). Ongelukkig het interne weerstand in die hofsaal geëindig en het ’n deel van die NG Kerk in Afrika bly voortbestaan. Tans is verskeie sake tussen hierdie twee kerke nog nie afgehandel nie.

Die kerkverenigingsproses het verval in ’n slakkepas en het uiteindelik in ’n impasse beland. Hoewel kontak op plaaslike vlak en nuwe gesprekspotensiaal op sinodale vlak ontgin is, is weinig vordering gemaak.

Wat in hierdie artikel aangebied word, is hoofsaaklik die bevindings van my proefskrif soos in voetnoot 1 aangedui. In die proefskrif handel veral oor die Bybelse en kerkregtelike eise vir kerkvereniging asook die historiese prosesse en die struikelblokke op pad na kerkvereniging.

Die NG Kerkfamilie moet tans eerlik die vraag beantwoord of die kerkverenigingsproses hom in ’n doodloopstraat bevind of nie. In die lig hiervan is die volgende opmerkings van belang.

1. MEER FAKTORE SPEEL ’N ROL IN DIE VORDERING AL DAN NIE VAN DIE KERKVERENIGINGSPROSES

Meer as net die teologiese, kerklike en kerkregtelike faktore speel ’n rol in die vordering al dan nie van die kerkverenigingsproses. Die struikelblokke wat wel ’n rol speel, gaan veral oor sake soos die Belydenis van Belhar en die onafgehandelde hofsake tussen die NG Kerk in Afrika en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika. Die jongste terugslag in die kerkverenigingsproses is moontlik die besluit van die Algemene Sinode van die NG Kerk in Afrika om steeds nie die legitimasie van predikante van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider- Afrika te erken nie (Die Kerkbode, 23 Mei 2003:1).

Kerkregtelike faktore spreek ook mee in die situasie en plaas verdere spanning op die vordering van die proses. Hoewel LTC Harms in sy uitspraak van die appèlsaak tussen die NG Kerk in Afrika en die Verenigende Gereformeerde Kerk dit duidelik gestel het “dat kerkvereniging of -ontbinding regtens [nie] onmoontlik is nie”, het hy tog bygevoeg: “slegs dat dit moeilik is” (Die Hoogste Hof van Appèl van Suid-Afrika: Saak 536/96: Uitspraak op 27 Nov 1998:11). Dit het wel duidelik geword dat die kerkregtelike pad tot kerklike eenheid ’n moeilike, moeisame en somtyds onbegaanbare pad is.

Baie meer faktore oefen ’n belemmerende uitwerking op die proses van kerklike eenheid in die NG Kerkfamilie uit. Hierdie bepaalde faktore word nie altyd duidelik uitgespel of eerlik op die tafel geplaas nie. Die indruk word gewek dat van die faktore verswyg word en somtyds nie deel van die gesprek vorm nie. Baie van hierdie struikelblokke is uniek aan die situasie in Suid-Afrika. Die beleid van apartheid het die totale samelewing van Suid-Afrika só beïnvloed dat die impak daarvan nog nie volledig begryp of verstaan word nie. Hierdie invloed geld vandag nog en beïnvloed nie alleen die agtergeblewe gemeenskappe nie, maar alle rassegroepe in Suid-Afrika. Agterdog en verwydering is aan die orde van die dag. So het apartheid die ewige albatros om die nek geword van elkeen wat nie onaangeraak deur hierdie geskiedenis gestap het nie. Ons lei voorwaar almal aan die “Albatros- sindroom” van apartheid, soms in meerdere en soms in mindere mate.

Die NG Kerk het ’n aktiewe rol gespeel om apartheid as ’n Skrifgefundeerde politieke en kerklike model te regverdig. Dié kerk het wel apartheid in 1986 verwerp en in 1990 tot ’n sonde verklaar. Vir sommige lede van die NG Kerkfamilie was hierdie stap op die pad na versoening in die NG Kerkfamilie voldoende. Ongelukkig word dit nie in dieselfde lig deur die ander lede van die NG Kerkfamilie aanvaar nie en leef daar bepaalde verwagtings dat nog meer gedoen sal word. Verskillende verwagtings bestaan en dit lei rondom die onderhandelingstafel tot frustrasie. Hierdie situasie is ’n duidelike remskoen in die pad na kerklike eenheid.

Suid-Afrika het sedert 1994 ’n nuwe era in sy geskiedenis betree. Politieke omwenteling het plaasgevind, maar ongelukkig het daaglikse ervarings en realiteite die optimisme laat afplat. Ekonomiese onsekerheid, geweld, werkloosheid, misdaad, die heropbouprogram van die staat, regstellende aksie en die wyse waarop dit toegepas word, het meegewerk tot ’n gevoel van frustrasie, onsekerheid en agterdog. Die blankes het dit meer spesifiek as ’n bedreiging ervaar. Omgekeerde diskriminasie het ’n nuwe teelaarde vir rasse-agterdog geskep. Dit wat by die werkplek en in die samelewing ervaar word, is ingedra in sommige se denke oor kerkeenheid. Veralgemening en rassestereotipering is kenmerkend van hierdie denke. Resente realiteite in die werkplek, in die samelewing en in die gemeenskap speel beslis ’n prominente rol in die feit dat daar weinige vordering op die pad na kerklike eenheid is.

’n Ambivalente gevoel in veral die NG Kerk lei tot onsekerheid. Die hunkering op twee gedagtes lei daartoe dat die kerk verlam word om sinvolle besluite te neem. Aan die een kant is sommige lidmate oortuig dat die Woord van die Here na eenheid in die kerk vra en tog worstel hulle met die vrese en onsekerheid ten opsigte van ’n kerkverenigingsproses. Onsekerheid ten opsigte van taal, liturgie, struktuur, die moontlikheid van kerkskeuring, finansies en nog talle ander faktore dra by tot die ambivalente gevoel in die kerk. Kerke in die NG Kerkfamilie, met name die NG Kerk, plaas nie altyd kerkeenheid eerste op sy agenda nie en laat die indruk dat die saak nie altyd hoë prioriteit geniet nie (Beeld, 19 Feb 2001:6).

Leierskap en die ontplooiing daarvan in die NG Kerkfamilie het ’n aandeel in die skaakmatposisie waarin die kerke hulleself bevind. Die onsensitiewe en ondeurdagte optrede en uitsprake van sommige dien nie die strewe na eenheid nie. Hierdie uitsprake lei daartoe dat verwydering en agterdog toeneem en ’n negatiewe invloed op die eenheidsproses het.

Leierskap in die NG Kerkfamilie skiet te kort aan innoverende en kreatiewe inisiatiewe om die proses vlot te laat verloop. Sedert 1998 het die proses bykans tot ’n stilstand gekom. Etikettering van die leiers het tot gevolg dat persepsies van mekaar negatief op die soeke na eenheid inwerk. Inisiatief moet van alle leiers uitgaan en nie net vanuit een bepaalde kerkverband nie.

Voorbehoude en vooroordele teenoor mekaar, apartheid en die gevolge daarvan, resente realiteite in die werkplek en samelewing, finansies, interpersoonlike verhoudings en leierskap het medebepalend in die proses geword.

2. DIE BEWUSTELIKE OF ONBEWUSTELIKE UITSONDERING VAN FAKTORE DIEN NIE DIE EENHEIDSPROSES NIE

Deelnemers aan die proses van kerkvereniging in die NG Kerkfamilie sonder somtyds bewustelik of onbewustelik faktore uit in die gesprek. Hierdie faktore dien dan as ’n verskoning om nie die eenheid van die kerk ernstig te neem nie.

Die Algemene Sinodale Kommissie van die Verenigende Gereformeerde Kerk het op 25 Oktober 1996 aan die Algemene Sinodale Kommissie van die NG Kerk in ’n brief geskryf dat die aanvaarding van die Belydenis van Belhar ’n ononderhandelbare vereiste is vir die voortgang al dan nie van die gesprek oor kerklike eenheid (Die Kerkbode, 20 Feb 1998:9; Brief van die ASK, 25 Okt 1996). Hiermee is alle verdere gesprekke getermineer. Hoewel die Algemene Sinode van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika dit wel in 1997 duidelik gestel het dat die gesprek moet voortgaan, het die gesprekvoering nie gevorder nie.

Ds James Buys (Die Kerkbode, 9 en 10 Apr 1999:1) stel dit egter duidelik dat die aanvaarding van die belydenis steeds ’n vereiste bly. Hy gaan sover om te sê dat kerkvereniging nie haalbaar is tensy alle lede in die NG Kerkfamilie die belydenis aanvaar nie. Die NG Kerk, die NG Kerk in Afrika en die Reformed Church het nie die bepaalde belydenis as deel van hulle belydenisgrondslag nie. Die uitsondering van die aanvaarding van die Belydenis van Belhar al dan nie as voorwaarde vir die vordering van die gesprek dien nie die eenheid nie. Die uitsondering van hierdie bepaalde faktor wek die vraag of dit nie om baie meer as die bepaalde vereiste gaan nie. Daar moet met Jonker (1998:218) saamgestem word dat “’n mate van soepelheid in hierdie verband en ’n sterker klem op die geestelike eenheid moontlik veel meer (kan) bereik as ’n onbuigsame houding oor die formele status van hierdie belydenis”.

Die problematiek rondom die kerkregtelike implikasies in die kerkverenigingsproses word somtyds uitgesonder as die een enkele groot faktor. Die feit dat die debat rondom hierdie bepaalde saak nog nie afgehandel is nie en nie genoegsame studie hieroor gedoen is nie, lei daartoe dat sommige dit as ’n onoorkomelike probleem beskou. Selfs taal- en kultuurverskille word op die tafel geplaas en nie as verskeidenheid gesien nie, maar as ’n probleem wat geen oplossing het nie. Kerkvereniging is wel moontlik, maar dit gaan beslis baie van ons vra! Daar kan nie volstaan word met die status quo nie. Die problematiek moet aangespreek word. Eerlikheid oor hoe daar gevoel word en wat werklik die problematiek is, sal ’n voorvereiste vir vordering wees.

3. OOREENSTEMMING IN TERME VAN DIE EINDDOELWIT IS BELANGRIK

’n Belangrike vraag wat uitgeklaar moet word tussen die gespreksgenote om die tafel rondom die eenheid in die NG Kerkfamilie is die volgende: Waarheen is ons op pad? Of anders gestel: Wat is die einddoelwit van hierdie gesprek oor kerklike eenheid? Dit het geblyk dat daar nie ooreenstemming is in terme van hierdie belangrike saak nie. Natuurlik is ons met ’n proses besig en moet verskillende standpunte of modelle voortdurend op die tafel geplaas word. Ook mag een bepaalde gespreksgenoot nie sy voorstel afdwing op die ander kerke asof hulle nie ook mag deel in die gesprekvoering nie. Die indruk mag ook nooit gelaat word dat daar net een oplossing tot die probleem is of slegs een wyse is waarop kerklike eenheid tot uiting kan kom nie. In die proses sal die einddoelwit ook somtyds verskuif of geherformuleer moet word.

Die Algemene Sinode van die NG Kerk het daarop gewys dat “die daarstelling van een kerkverband” in die vooruitsig gestel word (Acta Synodi, NG Kerk 1994:440). Tog is daar ook meningsverskille oor wat hierdie “een kerkverband” sou beteken. Sommige sien dit as ’n nouer eenheid en aanvaar daarmee die moontlikheid dat die Federale Raad van die NG Kerke kan herleef of net in ’n ander vorm daarvan weer bruikbaar gemaak kan word. ’n Bond van kerke in die NG kerkfamilie word ook as ’n moontlikheid aangebied (Beeld, 13 Okt 1998:13). Die wysiging van die kerkverband in terme daarvan dat die federale struktuur verander na ’n hegte sinodale struktuur verteenwoordig ook die standpunt van sommige (Strauss 1999:34). Ander verwys weer na kerkvereniging of kerkhereniging en dit word bepaal deur ’n juridies of historiese uitgangspunt.

4. FOKUSSE EN UITDAGINGS OP DIE PAD VORENTOE

Die NG Kerkfamilie bevind hom in ’n skaakmatposisie op sy pad na kerklike eenheid. Vordering het bykans tot ’n stilstand gekom. Tog is dit beslis nie ’n doodloopstraat nie. Ons staan in werklikheid voor nuwe uitdagings. Diepgaande besinning en verandering is ononderhandelbaar. Die kerke sal deur studie, gesprek en vars denke saam moet worstel en soek na oplossings. Ecclesia reformata semper reformanda – die kerk, met name die NG Kerkfamilie, moet bly reformeer! Op hierdie pad is daar verskeie uitdagings en dit is van kardinale belang dat die kerke in die NG Kerkfamilie nou gefokus na oplossings moet soek. Die volgende sake is van belang en kan rigtinggewend wees in die moeilike en moeisame proses tot eenheid.

4.1 ’n Sinodale vorm van kerkverband word in die vooruitsig gestel

Die Algemene Sinode van die NG Kerk het in 1994 sy ernstige begeerte uitgespreek om “saam te werk met ander lede van die Familie van Ned Geref Kerke aan die daarstelling van een kerkverband …” (Acta Synodi, NG Kerk 1994:440-441). Hierdie besluit verteenwoordig ’n belangrike mylpaal in die proses. Vanuit ’n kerkregtelike perspektief is dit belangrik dat daar duidelikheid sal wees oor watter vorm die een kerkverband moet aanneem. Die besluit van die Algemene Sinode wys onteenseglik daarop dat ’n sinodale vorm van kerkverband vir ten minste die kerke van die NG Kerkfamilie in Suid-Afrika as uitdrukking van ’n sigbare kerkeenheid hier in die vooruitsig gestel word.

In die lig van die intieme aard van die historiese, geloofs- en belydenisband tussen die kerke in die NG Kerkfamilie het die NG Kerk gekies vir ’n toekomstige sinodale vorm van kerkverband. In hierdie kerkverband neem die meerdere vergaderings besluite wat formeel-juridies bindend is vir sy mindere vergaderings en die deelnemende gemeentes.

Die sinodale vorm van kerkverband is dus die strukturele gestaltegewing van die reeds aanwesige en meer fundamentele uitdrukking van die geloofseenheid tussen die kerke. In hierdie model word gekies vir ’n nuwe kerkverband in die NG Kerkfamilie wat in sy proses tot kerkvereniging sal lei.

4.2 ’n Prosesmatige benadering word vereis

Ten einde ’n sinodale kerkverband tot stand te bring in die NG Kerkfamilie is dit duidelik dat ons met ’n proses te make het. Die proses waarin hierdie nuwe kerkverband tot stand moet kom, vereis ’n bepaalde benadering.

In die proses mag die indruk gewek word dat die vordering somtyds eenvoudig te stadig is. Hoewel dit soms waar mag wees, vereis ’n prosesmatige benadering dat die verloop van die proses nie getoets word aan die spoed waarteen dit verloop nie, maar wel aan die kwalitatiewe nader beweeg aan mekaar. Tog moet daar gewaak word teen die gevaar dat ’n lang tyd verloop waarin daar nie werklik gevorder word nie. ’n Voorbeeld van so ’n proses is die sogenaamde “Samen op weg” in Nederland. Die Nederlandse Hervormde Kerk, die Gereformeerde Kerken in Nederland en die Evangeliese Lutherse Kerk in Nederland het saam besluit tot ’n proses van eenwording. Hierdie proses het in groot mate gesloer en vordering is nie altyd soos verwag is nie. Na afloop van ’n aantal dekades moet daar erken word dat min gekom het van die saamgaan op die pad (prof JA van Oort, persoonlike onderhoud, 14 Aug 2000). Myns insiens moet ons ’n belangrike les hieruit leer, naamlik dat die proses aan tydperke gekoppel moet word, anders word dit bloot oop gelaat en kan selfs dekades verloop voordat enige vordering plaasvind. ’n Balans tussen die tydsverloop en die bereiking van doelwitte is belangrik. Nicol (Beeld, 22 Aug 1995:6) sê dat ons in die proses op twee bene moet staan, naamlik “bene van sterk oortuiging en geduld ... Sterk oortuiging dat ons behoort te verenig, en geduld om mekaar daarin te neem”.

Die fokus in die NG Kerkfamilie moet gerig bly op die einddoelwit, naamlik ’n sinodale kerkverband. Almal moet saam op pad wees na hierdie doelwit. Bepaalde doelwitte moet op hierdie pad gestel word en dit kan goedskiks aan tydperke gekoppel word.

4.3 Doelgerigte hantering van die belydeniskwessie is onafwendbaar

Een van die moeilikste struikelblokke in die pad na kerklike eenheid in die NG Kerkfamilie is sekerlik die feit dat die debat juis vasgeval het by die aanvaarding al dan nie van die Belydenis van Belhar. Ook die feit dat eenheid in belydenis die saambindende faktor by kerkverband is.

“Die huidige impasse oor die plek en funksie wat die Belydenis van Belhar in ’n sinodale vorm van kerkverband tussen die betrokke kerke moet inneem, is besig om die hele proses van kerkvereniging in die kiem te smoor. Alle pogings om die kerke nader aan mekaar te bring, kan wat kerkvereniging betref futiel wees, as daar nog stryd is oor watter geloofsgoed gemeenskaplik vir die kerkverband moet wees” (dr Johan Ernst, Sevto-seminaar, 11 Mei 2000). Selfs die prysenswaardigste saamwerkprojekte of samewerkingstrukture sal kerkregtelik gesproke nog nie ’n kerkverband daar kan stel nie. Die belydeniskwessie moet nou doelgerig hanteer word.

Een van die volgende drie moontlikhede kan ’n oplossing bied:

• Die oortuiging dat die Belydenis van Belhar as vierde belydenisskrif aanvaar moet word, vervaag mettertyd of verval. Dit sou egter ’n onvergenoegdheid tuisbring en die indruk laat dat hier slegs ’n restourasieproses plaasvind, wat die foute van die verlede wil herstel.

• Die Belydenis van Belhar word wel as vierde belydenisskrif in die kerk- verenigingsproses aanvaar. Dit sal egter meer studie en kommunikasie op gemeentevlak vereis. Die proses sal doelgerig en dinamies aangepak moet word. Gesindhede sal verander moet word, kommunikasie en om opreg te luister na mekaar sal ’n voorvereiste wees. Tog is daar geen waarborg nie. Hierdie proses mag dalk tydrowend wees en dit bied geen onmiddellike vooruitsigte nie.

• ’n Konstruktiewe benadering kan gevolg word waarin die gesprek oor die Belydenis van Belhar gesien word as “die embrionale fase” op die weg na ’n “gemeenskaplike eietydse belydenis vir al die kerke” in die NG Kerkfamilie (dr Johan Ernst, Sevto-seminaar, 11 Mei 2000). Hierdie benadering sal dus nóg as revolusionêr nóg as reaksionêr geag kan word. Met nuwe vars denke kan daar konstruktief gekyk word na ’n groter gerigtheid op die toekoms en die rol wat die kerke in die NG Kerkfamilie in ’n ontwakende en tog somtyds duister Afrika en meer spesifiek Suid-Afrika kan speel. Hierdie gesprek kan moontlik lei tot die geboorte van ’n totaal nuwe belydenis waarin almal sonder voorbehoud sal deel.

Myns insiens is die eerste moontlike oplossing slegs wensdenkery. Die tweede bied wel moontlikhede en sou ’n eerlike weg wees om uit die huidige situasie te ontkom. Hierdie oplossing kan kommunikasie tussen die kerke stimuleer. Tog is ek van mening dat die laaste moontlikheid ’n sinvolle oplossing kan bied. Nuwe gesprekke kan oopgemaak word en ons kan saamwerk aan ’n belydenis wat die geskiedenis, hede en die toekoms saamvat. So ’n saamwerk aan ’n nuwe belydenis sal ook ’n getuienis wees vir die eenheid tussen die kerke.

5. ’N DINAMIESE, BIFOKALE VERSOENINGSMODEL

Die model wat hier te midde van baie ander modelle aangebied word, konsentreer hoofsaaklik op die proses tot die bereiking van eenheid in ’n sinodale vorm van kerkverband. Die herstel van verhoudings en die afbreek van bepaalde persepsies is belangrik in die bereiking van kerklike eenheid in die NG Kerkfamilie. Die model wat hierdie proses moontlik tot beweging vanuit die impasse kan bring en stukrag kan gee aan ’n nuwe momentum, noem die skrywer ’n dinamiese, bifokale versoeningsmodel. Hierdie model kan soos volg verduidelik word:

5.1 Dinamiese voortgang

Die verwysing na die dinamiese aspek van die model wil die belangrikheid uitlig dat die proses nooit weer tot stilstand gedwing moet word nie. Alles moet gedoen word om die voortgang van die proses te verseker. Voorbehoude en voorvereistes dien nie die belangrike proses nie en lei tot verdere verwydering.

Progressiewe vordering moet die wagwoord wees. Alle lede in die NG Kerkfamilie sal toegewy moet werk om die proses dinamies te hou.

5.2 Twee groeipunte gelyktydig aan die werk

Uit ’n historiese oogpunt gesien, het die vordering al dan nie van die kerkverenigingsproses grotendeels afgehang van die werk wat gedoen is op sinodale vlak. Min kontak op plaaslike gemeentevlak het plaasgevind. Vanaf die gemeentevlak is doodgewoon gewag op die vordering wat op sinodale vlak bereik is. Die vloei van kommunikasie was ook meestal vanaf die sinodale vlak na die gemeentes toe. Voorbeelde hiervan was die twee dokumente wat in die NG Kerk versprei is onder die titel Sodat almal een kan wees … Nr 1 en 2. Hierdeur is gesprek op plaaslike vlak gestimuleer.

Op die plaaslike vlak het daar egter nuwe belangstelling vir onderlinge skakeling met die kerke in die NG Kerkfamilie gekom. ’n Tendens wat tans duidelik sigbaar word, in veral die NG Kerk, is die sogenaamde “gees van individualisme” (Strauss 2001:398). Hiervolgens ontwikkel ’n gesindheid van meer vryheid om die plaaslike gemeente te organiseer en te laat groei in sy eie omgewing en behoeftes tot ’n unieke gemeente. Alle gemeentes lyk en funksioneer nie meer noodwendig presies dieselfde nie! Natuurlik lê hierin ook potensiaal wat soms negatief kan inwerk op die kerk in sy breë verband en kan lei tot kerklike independentisme en kongregasionalisme.

Tog kan die huidige situasie positief op die groei van onderlinge verhoudings in die NG Kerkfamilie inwerk. Gemeentes kan op hierdie terrein van onskatbare waarde wees ten einde self te bepaal of hulle ’n multikulturele gemeente of ’n bepaalde taal- of kultuurgemeente wil wees. Hoewel gemeentes in hulle bediening normaalweg kultureel gerig is en ook mag wees, mag hulle geensins geslote wees vir gelowiges uit ander kulture nie. Die NG Kerk mag nooit sy bediening tot die Afrikanervolk beperk nie. Dieselfde geld ook vir die ander kerke in die NG Kerkfamilie.

Volgens die voorgestelde model sal daar in die toekoms nie net vanaf die meerdere vergaderings ’n bepaalde groeipunt uitgaan nie. Twee groeipunte in die proses moet bestaan, naamlik op die meerdere vergaderingsvlak sowel as op die plaaslike gemeentevlak. Die verwysing na “bifokaal” in die benaming van die model wil hierdie uitgangspunt beklemtoon. Bifokaal verwys na “twee fokusse of brandpunte” (Odendal et al 1981:92). Die model stel voor dat die meeste energie in die proses tot kerklike eenheid moet fokus op dié twee vlakke.

Die vraag sal dus nie meer wees: Hoe ver het die bepaalde sinode of sinodale kommissie gevorder met die proses tot eenheid? nie. Die vraag sal nou wees: Hoe kan die sinode of sy kommissies die plaaslike gemeentes ondersteun in hulle pad tot eenheid? Natuurlik word die verantwoordelikheid van die gemeentes hierdeur vergroot. Kerkregtelik, na my oordeel, is dit meer korrek om hierdie weg te gaan. Hierdeur is gemeentes aktief deel van die proses en kan daar nie later namens die gemeentes besluite geneem word nie. Kontak op plaaslike vlak is nou meer as ooit van die uiterste belang en gemeentes moet die gesprek op plaaslike vlak uitbou of aan die gang kry waar dit totaal afwesig is.

Hierdie proses moet nie net by een of twee kerke in die NG Kerkfamilie geïnisieer word nie, maar alle kerke moet hierin saamwerk.

5.3 Skakeling en kontak skep geleentheid vir outentieke, verantwoordbare verhouding- stigting

Vordering op die pad na kerklike eenheid is byna ondenkbaar as die kerke in die NG Kerkfamilie nie geleenthede gaan skep waar lidmate, kerkraadslede en leraars meer gereeld onderling kontak maak nie. Hierdie kontak moet baie meer wees as bloot net gesprek of die saamwerk aan bepaalde projekte. Georganiseerde geleenthede soos konvente, broederkringe of konferensies moet gebruik word om geleenthede te skep waar mense hulle “storie” of “verhaal” met ander kan deel. Natuurlik moet dit nie dieselfde wees as die Waarheids-en-Versoeningskommissie nie, maar ’n unieke geleentheid op kerklike vlak en op ’n kerklike wyse waar medegelowiges die hand uitreik na mekaar en waar daar ware vergifnis en aanvaarding kom. Egte en geloofwaardige verhoudings kan hierdeur opgebou word. In figuur 1 (hier onder) dui die pyltjies op ’n voortdurende vloei en wek die indruk van voortgaande beweging.

Op die pad na kerklike eenheid sal ’n multikontakbenadering gevolg moet word. Op gemeentevlak kan gemeentes self inisiatief neem om onderlinge verhoudings te bou. Hier kan gemeentes besluit of hulle ’n multikulturele of ’n afsonderlike taal- of kultuurgemeente wil wees. Verskeidenheid in eenheid kan hier tot sy reg kom. Die ringe kan die gemeentes hierin steun deur gesamentlike projekte aan te pak soos gesamentlike pinksterfeeste, gebedsgeleenthede, jeugkampe en gesamentlike basaars. Die Streeksinodes en die Algemene Sinode kan veral ’n leidinggewende rol speel in die organisering van gespreksgeleenthede waar eerlike en openhartige gesprek gevoer kan word rondom die verlede, hede en die toekoms. Dit lyk tog meer prakties dat die Streeksinodes in hierdie verband ’n sterk rol kan speel. Die Algemene Sinode of sy kommissies kan op hulle beurt weer leiding gee ten opsigte van die gesprek rondom die belydenis, die kerkorde, bepaalde liturgieë, ensovoorts. Ook hier moet die gedagte van ’n bifokale benadering duidelik blyk. Figuur 1 beeld diagrammaties uit wat die model beoog met ’n multikontakbenadering.

Image12546.PNG

5.4 Versoening vorm die basis vir hernude groei tot eenheid

Versoening mag nie langer die NG Kerkfamilie ontwyk nie. Ons sal nie verder die erns van die saak kan ontken of met retoriek kan wegpraat nie. Die ontkenning van hierdie fundamentele aspek van die proses tot kerklike eenheid in die NG Kerkfamilie laat ’n rooi sinjaal al hoe helderder brand om die kerk te waarsku. As daar nie nou daadwerklik beplan en opgetree word nie, gaan dit die proses tot kerklike eenheid ongekende skade berokken!

“’n Christendom wat vrede gemaak het met die feit dat ons deel is van ’n nuwe Suid-Afrika met sy baie uitdagings, en dat ons die evangelie hier moet laat werk saam met ál ons broers en susters in ander kerke, is ’n Christendom wat lewenskragtig sal bly. Wanneer ons egter elke krisis as ’n nuwe bedreiging beskou wat maak dat ons die kerkmure net nóg hoër rondom ons opbou en nóg kommissies van ondersoek aanstel om die ‘bedreigings’ te ondersoek, gaan ons nooit as te nimmer oorleef nie. Dan is die Museum vir Bedreigde Spesies ons voorland! Krisisse en nuwe omstandighede is niks minder nie as uitdagings om op nuwe maniere die Gees se werk in Suid- Afrika gestalte te laat kry.” Met hierdie woorde het prof S Joubert die kern van die probleem aangespreek (Die Kerkbode, 6 Mrt 1998:10).

Die NG Kerkfamilie kan nie langer bekostig om verwyte, bitterheid en selfs haat te koester nie. Ons sal mekaar met vergifnis in die hart moet aanvaar, in liefde die hand moet uitreik en met versoening saam moet werk aan ’n toekoms. Hierdie saamsoek na oplossings sal nie maklik wees nie. “Alleen ’n innerlike verbryseling kan dit bewerkstellig … Ons sal alleen leer saamsoek as ons oorrompel is deur Gods genade. Die druiwekorrels moet eers gepars word, die graankorrels eers gemaal word, voordat daar sprake kan wees van één wyn en één brood” (Theron 1986:210). Dit alles sal in egtheid moet geskied. God vra dit van sy kerk!

Ons gesindheid moet dié een wees wat Antjie Krog (1998:279) so aangrypend beskryf: “I am changed for ever. I want to say:

forgive me

forgive me

forgive me

You whom I have wronged, please take me with you.”

BIBLIOGRAFIE

Primêre bronne

Acta Algemene Sinode van die NG Kerk 1962-1998. Acta Synodi van die NG Sendingkerk 1881-1994.

Hoogste Hof van Appél van Suid-Afrika: Saak 536/96: Uitspraak op 27 November 1998. Sodat almal een kan wees… Amptelike inligtingstuk van die Ned Geref Kerk: 31 Maart 1995. Van Niekerk, A 2000. Waarom het ons nie die Belydenis (1986) as vierde belydenisskrif nie?

Referaat gelewer tydens Sevto-seminaar, 18 September 2000, Universiteit van Pretoria.

Tydskrifte en dagblaaie

Beeld.

Die Kerkbode.

Persoonlike onderhoud

Prof JA van Oort, 14 Augustus 2000.

Sekondêre bronne

Jonker, W 1998. Selfs die kerk kan verander. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers Bpk.

Krog, A 1998. Country of my Skull. Johannesburg: Random House South Africa (Pty) Ltd.

Odendal, FF et al (red) 1981. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Johannesburg: Perskor-Uitgewery.

Strauss, PJ 1999. Die goedkeuring van kerkrade vir ’n nuwe verband in die NG Kerkfamilie? Acta Theologica 2, 32-54.

Strauss, PJ 2001. Kerkverband in die Ned Geref Kerk vandag. Ned Geref Teologiese Tydskrif Deel 42, 395-405.

Theron, PF 1986. Kerklike eenheid en natuurlike verskeidenheid, in Kinghorn, J (red). Die NG Kerk en apartheid. Johannesburg: Macmillan Suid-Afrika, 194-210.

Van der Watt, PB 1987. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1905-1975. Pretoria: NG Kerkboekhandel.Teks van skets:

1 Artikel gebaseer op ’n PhD-proefskrif, ingedien by die Departement Kerkgeskiedenis, Universiteit van Pretoria gedurende 2002, met die titel: ’n Kerkhistoriese en kerkregtelike studie van die kerkverenigingsproses in die NG Kerkfamilie.