Philander, NC
Universiteit Stellenbosch

Enkele opmerkings oor die gestaltes en oorsake van die morele probleme in Suid-Afrika

ABSTRACT

A few remarks on the forms and causes of the moral problems in South Africa

This article should be read as a review article in which the forms and causes of a number of moral problems in South Africa are discussed. The purpose of this article is to provide churches with a clear definition of the forms and causes of the moral issues in modern South African society. This article also attempts to offer some assistance in this regard. The argument is approached from a Christian ethical paradigm. In the article it is acknowledged that there are conflicting opinions within the broader Christian paradigm about matters such as what is to be seen as sexual morality. One of the duties of the church is that of moral development; to achieve this, churches have to develop a thorough understanding of moral problems.

1. INLEIDING

Die volgende onderafdelings word in die artikel aangebied: Eers word ’n breë oorsig oor veral populêr-wetenskaplike stof gegee een daarna word enkele morele probleme, naamlik seksuele verval, met spesifieke verwysing na prostitusie en geweld, as gesig van die morele krisis onder bespreking gebring. Die groot vraagstukke soos korrupsie en immoraliteit in die sake-etiek word nie vir die doeleindes van hierdie artikel ondersoek nie.

2. BREË OORSIG OOR ONDERWERP

As gemeentepastoor kry ek daagliks te doen met die morele verval wat duidelik waarneembaar is in post-apartheid Suid-Afrika. Volgens skrywers soos Van der Ven (1998), Newbigin (1989), Anckaert (1991), Burger (2000), De Villiers (2003), en Smit (1993) is morele verval nie ’n tendens wat eie is aan Suid-Afrika nie, maar een wat wêreldwyd waargeneem word. In die negentigerjare is reeds gemeld dat daar wêreldwyd oor ’n baie lang tydperk ’n onrusbarende morele agteruitgang te bespeur was, veral onder die jeug. Lickona (1991:13). Dié morele agteruitgang by die jeug nie kan nie los van die situasie in die samelewing gesien word nie. Wat dus by die jeug waargeneem word, is ’n refleksie van wat in die samelewing aan die gebeur is.

Die talle ingrypende verskuiwings en veranderings in Suid-Afrika, sowel as in die res van die wêreld, gee aanleiding tot ’n verskeidenheid morele probleme wat deur verskillende faktore veroorsaak word. Hierdie probleme stel groot eise aan die kerk se funksie van morele opvoeding en morele vorming.

Daar is verskeie redes agter die morele krisis wat ons tans in Suid-Afrika ervaar. Onder die skoolgaande jeug kan die volgende redes onder andere aangevoer word: swak selfbeeld, die onvermoë om probleme te identifiseer en op te los, die gebrek aan hulpdienste binne onmiddellike bereik, die gebrek aan positiewe rolmodelle in gemeenskappe, ’n gebrek aan ontspanningsaktiwiteite en sportvelde, grootskaalse werkloosheid, en ’n gebrek aan dissipline in skole en binne gesinsverband.

Misdaad het ook ’n uitwerking op die samelewing: Dit skep ’n kultuur van vrees waarin agterdog en bitterheid, eerder as sorg en gasvryheid, mense se verhoudings kenmerk. Die voortdurende spanning en vrees wat deur geweld en misdaad meegebring word, sou deel kon wees van die oorsaak van padwoede, sport- en gesinsgeweld, geweld teenoor vroue en kinders, weerwraak, rassisme, moedeloosheid en immigrasie. Die negatiewe invloed wat misdaad op die landsekonomie het, skrik voornemende beleggers af. Die gevolg is groeiende werkloosheid en armoede. Misdaad het ook ’n negatiewe impak op buurmanskap. Al hoe meer mense beveilig hulleself met hoë mure en elektriese hekke(Burger, Meiring, Van Niekerk & Wepener 2005:88 e.v.).

Die volgende psigologiese oorsake vir die morele krisis is oa: die voortgaande swart woede en wanhoop oor die nalatenskap van apartheid, die voortdurende armoede en ontneming deur swak dienslewering, die wanhoop en woede van bruin mense en Indiërs oor ’n hiërargie van lyding, wat sê dat swart mense meer as hulle gely en ’n groter aan­spraak op regstelsels het, asook wanhoop en woede oor die verlies aan mag en status by blankes wat nou, op ongeveer elke vlak in die samelewing, aan die agterspeen moet suig.

Boesak (2006:17) sê verder dat die Suid-Afrikaanse publiek net op hierdie geweldplaag reageer as dit hulle raak. Geweld, sê hy, “is ’n plaag wat ons hele land treiter, ’n leed wat ons almal soos ’n klam-koue miswolk bedek, ’n wond waaraan ons almal ons doodbloei, maar ons reageer in kampe daarop. Rassekampe, sosiale kampe, belangekampe. Ons verskans ons agter die gebarste mure van ons geld, ons geskiedenis, ons vooroordele, ons gebrek aan menslikheid, en loer oor dié mure heen na die plae wat op ons val.” Die taal van wanhoop, van radeloosheid, onredelikheid, die taal van vereen­saamde verbrokkeling, van liefdelose, losgeraakte menslikheid, sê Boesak (2006:17), is: “Die moetiemoorde laat ons gril: Moet dié nou oor ons regeer? Hang hom op! Bring terug die doodstraf! Moenie nog oor die hof worry nie, ons vat hom sommer self!”

Boesak (2006:17) skryf: “ons messel die pyn wat ons moet saambind in lae en vergelyk wie se laag die diepste, die ergste, die seerste is. Pleks van mekaar omarm en te troos en die geweldenaars hand in hand, skouer aan skouer in hul spore te stop, staan ons vanuit ons kampe op mekaar en gil. Dít is wat Martin Luther King bedoel, dít is wat ons moet leer, en dít is waarvoor ek pleit. Dit is die aanvaarding van ons lotsverbondenheid. Dit het niks te make met die ubuntu van politieke korrekheid, of die geforseerde bonhomie van ons ‘trots Suid-Afrikaans-wees’ nie. Dit is die onontvlugbare netwerk van ons menslike verbondenheid. Dit is een van die sterkste wapens waarmee ons die geweld in ons land die stryd kan aansê”.

Orkin en Everatt (1993) verwys na ’n ‘gebroke ekologie’ waarin die jeug grootword. ‘Gebroke ekologie’ dui op ’n situasie waarin die tradisioneel-behouende gesin, skool, kerk en die groter samelewing permanent deur ’n pluraliteit van godsdienstige en sekulêre oortuigings verander is. Laasge­noemde veran­derings het tot gevolg dat tradisioneel-gesaghebbende instellings nie meer ’n vormende bydrae tot die waardes en gedragswyses van die samelewing kan lewer nie. Van der Ven (1998:1) maak inleidend opmerkings oor hoe twee seuns, ouderdomme 10 en 11, in die herfs van 1994 te Chicago, Amerika, ’n vyfjarige seun met die naam Eric Morris van die veertiende verdieping gegooi het toe hy nie vir hulle lekkers wou steel nie. Derrick Morris, agjarige broer van Eric, het tevergeefs probeer keer dat hulle sy broer van die veertiende verdieping afgooi en kon net wanhopig toekyk. Volgens die verklaring van die polisie het Eric desperaat aan die relings vasgegryp, maar tevergeefs. Die ironie van die verhaal is dat beide seuns ’n lang kriminele rekord gehad het. Boonop was beide se vaders in die gevangenis. Die gruwelike optrede van die twee seuns is met afgryse en skok begroet. Die voormalige president van Amerika, Bill Clinton, het tydens sy jaarlikse ontmoeting met die International Association of Chiefs of Police in Albuquerque, soos volg gereageer: “Dis na volwassenes in die land dat kinders opkyk vir voorbeeld en leiding, en waar bly hulle?”

Vervolgens gaan ondersoek ingestel word na die volgende gestaltes, seksuele verval met spesifieke verwysing na prostitusie, asook geweld as gesig van die morele krisis.

3. MORELE PROBLEME

3.1 Prostitusie as gesig van die morele krisis

Die meeste navorsing wat met betrekking tot prostitusie onderneem word, is sosiologies, sielkundig en antropologies van aard. Crausse en Botha (1977) het byvoorbeeld prostitusie as subkultuur in die hawegebied van Port Elizabeth bestudeer. Visser (1985) het prostitusie as maatskaplike verskynsel in Kaapstad bestudeer, terwyl Killian (1982) ’n psigo-sosiale ondersoek na die leefwêreld van die haweprostituut in Port Elizabeth gedoen het. Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing het sedert 1977 talle navorsingstudiestukke die lig laat sien, byvoorbeeld Schurink 1979a, 1979b, 1983, 1986, 2000, ensovoorts. Suid-Afrikaanse teologiese navorsing is uiters beperk. Slegs enkele Suid-Afrikaanse teologiese bydraes is gedoen, onder meer Spoelstra (1897), Grobler (1979), Victor (1983) en Plaatjies (1998) . Verskeie etiologiese faktore vir prostitusie, soos swak behuisingstoestande, armoede, lae moraliteit, alkoholisme, seksuele molestering, werkloosheid, gebroke en onstabiele ouerhuise, kinderverwaarlosing, lae selfbeeld en verkragting, kan volgens Plaatjies (1998:46) aangedui word. Redes vir prostitusie sluit dus in: vroeë skoolverlating, ’n gebrek aan effektiewe veiligheidsmaatreëls en beskerming van kinders, ’n gebrek aan dissipline, emosionele aftakeling, seksuele misbruik van kinders, die hoë vlak van gesinsgeweld, grootskaalse verstedeliking, die onbe­trokkenheid van ouers, armoede en disfunksionele gesinne.

Wanneer ons na prostitusie as verskynsel kyk, kan ons baie van ons samelewing leer. ’n Samelewing wat dinge soos pornografie, los sedes, ensovoorts, duld (met ander woorde ’n samelewing waar morele waardes gedeeltelik of grootskaals afwesig is), word ’n teelaarde vir prostitusie. Volwasse vrouens wat tot prostitusie toetree, is gewoonlik in ’n vroeër stadium in hulle lewe seksueel getraumatiseer. Dieselfde geld tieners wat tot prostitusie toetree. Vir die reeds getraumatiseerde individue bring prostitusie net verdere liggaamlike en sielkundige skade mee. Die sigbare skade aan die liggaam is soms grusaam, maar die onsigbare emosionele en psigiese skade is dikwels baie erger en neem baie langer om te heel.

Plaatjies (1998:73) toon aan dat daar in 1996 ongeveer 6 000 prostitute professioneel in Johannesburg werksaam was, terwyl daar dwarsdeur die land 50 000 professionele prostitute werksaam was, wat neerkom op ongeveer 36 miljoen dade van prostitusie per jaar teen ’n frekwensie van drie kliënte per dag uit ’n nasionale bevolking van 9 miljoen mans ouer as 18 jaar.

Volgens Plaatjies (1998:74) staan die moraal in Suid-Afrika op ’n helling. Sy is van mening dat daar ’n verskuiwing in die seksuele moraal plaasgevind het en dat ’n groter swaai na ’n beleid van praktiese verdraagsaamheid met betrekking tot prostitusie as verskynsel plaasgevind het. Daar word groter klem gelê op die feit dat moraliteit ’n integrale deel van ’n mens se waarde­sisteem is. Die handhawing van moraliteit word, aldus Plaatjies, dus nie primêr as die wetgewer se verantwoordelikheid beskou nie (1998:74).

3.2 Geweld as gesig van die morele krisis

MacMaster (2003:59) is van mening dat bendegeweld ’n alledaagse realiteit in die Kaapse Skiereiland is. Omdat dit veral in minder gegoede woongebiede voorkom, bepleit MacMaster (2003:69) ’n pastorale perspektief en ’n eko-hermeneutiese benadering wat rekening moet hou met die sosiale konteks. Pedro (2001:44) konstateer dat bendegeweld die gevolg van alkoholmisbruik is. Hy is van mening dat geweld aan die orde van die dag is. Dit kom daagliks voor en gemeenskappe het geen ander keuse nie as om saam te leef met die hoë misdaadsyfers, moorde, verkragtings, ensovoorts.

Dames (1999:3)is op sy beurt van mening dat die verkragting en sinlose moord op Valencia Farmer met afgryse bejeën moet word. Hierdie moord het skokgolwe deur die hele land gestuur. Dames (ibid.) vra vrae soos: “Watter veilige buffer het ons teen die bende-invloed van ons omgewing?” en “Hoe kon Valencia se moeder as enkelouer wat skofte gewerk het, haar kind teen dié omgewings­invloede beskerm het?” Die slotsom waartoe hy kom, is dat die kerk ’n roeping en taak het om die krisis aan te spreek. MacMaster (2003) en Pedro (2001) vra dat die kerk in ‘lewensveranderende’ programme moet belê. Die vraag waarmee egter geworstel word, is: Hoe moet die kerk hierdie roeping en taak uitvoer?

’n Samelewing wat gebuk gaan onder misdaad, leef in ’n kultuur van vrees, agterdog en bitterheid waar gasvryheid en sorg ontbreek. Dit spreek dus vanself dat daar geen sprake van goeie buurman­skap kan wees nie (Burger, et al 2005:87). Daarby het misdaad ’n negatiewe invloed op die ekonomie van die land en dit lei tot grootskaalse werkloosheid en armoede. Volgens Jones (2006:9) is die buitengewone hoë vlakke van misdaad en geweld ’n groot bron van kommer.

In Die Burger van 3 Julie 2007 word onder die opskrif, Misdaadsyfers styg én daal, berig dat die aantal moorde wat tussen April verlede jaar en Maart vanjaar gepleeg is, met 2,4% gestyg het, terwyl aangemelde pogings tot moord met 3% gedaal het. Sommige mense sou sê dit is omdat moordenaars deesdae suksesvol is. Die aantal verkragtings wat aangemeld is, het ook met 5,2% gedaal en kan daarop dui dat verkragtings verminder het, of dat vroue deesdae banger is om verkragtings aan te meld, of voel dat dit nie help om verkragtings aan te meld nie omdat die hofproses te intimiderend is, of omdat hulle reken die verkragters sal nooit aan die pen ry nie.

Volgens Esterhuyse (2000) is misdaad nie net in Suid-Afrika ’n probleem nie, maar wêreldwyd. Om dit te staaf, noem hy ’n paar voorbeelde, soos die opkoms van georganiseerde misdaadsindikate met opgeleide mense aan die hoof daarvan, die omvang en karakter van korrupsie en witboordjie­misdaad, die verval van die sosio-ekonomiese orde en die sigbare toename in ongelykhede.

Plaatjies-van Huffel is van mening dat daar in die postapartheidsera in Suid-Afrika meer waarde geheg word aan ’n sellulêre telefoon as aan die lewe van ‘n mens. Sy wys daarop dat daar ’n moratorium op die statistiek oor geweld en misdaad in Suid-Afrika geplaas is. Dit is daarom nie moontlik om ’n volledige oorsig van misdaad en geweld in Suid-Afrika te skets nie. Die situasie in dié era is volgens haar ’n indirekte oorlog teen gewone burgers. Daar is ’n nasionale stryd tussen die magte van duisternis, misdaad en geweld aan die een kant en die magte van stabiliteit, sekerheid en ekonomiese vooruitgang aan die ander kant. Die uiteindelike doelwit van die magte van die duisternis is om Suid-Afrika onregeerbaar te maak – om die Suid-Afrikaanse politieke, ekonomiese en maatskaplike orde omver te werp.

In dié referaat konstateer sy: “In post-apartheid Suid-Afrika loop burgers ’n hoë risiko om voorvalle van misdaad te beleef. Die opname oor die slagoffers van misdaad het getoon dat in 1997 21% van alle huishoudings ten minste een huishoudingsmisdaad beleef het en 15% van individue 16 jaar of ouer een individu-misdaad beleef het. Die algemeenste huishoudingsmisdaad in Suid-Afrika is, ook soos in die meeste ander lande, huisbraak en inbraak, wat in 1997 deur 7% van huishoudings beleef is. Byvoorbeeld, van die 2,4 miljoen huishoudings wat in 1997 motorvoertuie besit of toegang daartoe gehad het, het ongeveer 105 000 (4%) ten minste een voorval van motorvoertuigdiefstal beleef. Driehonderdduisend huishoudings (3% van die algehele getal van 9,1 miljoen huishoudings in die land) het ’n poging tot huisbraak beleef. Drie persent van individue 16 jaar of ouer ( 809 000) het ten minste een voorval van bedrog beleef en een uit vyftig individue (2%) het in 1997 ten minste een voorval van korrupsie beleef. Een en twintig persent van huishoudings in Suid-Afrika het in 1997 ten minste een misdaad beleef. Huisbraak en inbraak was die algemeenste misdaad en is in hierdie tydperk deur 7% (652 000) van die huishoudings ten minste een keer beleef. Een uit elke 200 huishoudings het in 1997 ten minste een voorval van opsetlike dood of moord beleef. Die algemeenste soort misdaad teenoor individue was diefstal van persoonlike eiendom; 5% (1,3 miljoen) het ten minste een voorval van hierdie soort beleef. Een uit elke 250 individue van 16 jaar of ouer (0,4%) het in 1997 ten minste een seksuele misdryf beleef. Aangemelde misdaad in Suid-Afrika het vir die tydperk Januarie 1996 tot Desember 2000 met 5% per jaar toegeneem. Die grootste persentasie toename in aangemelde misdaad in Suid-Afrika in hierdie tydperk was 13% vir sowel ontvoering as algemene roof. Verkragting en gepoogde verkragting het van 1996 tot 2000 met 1% toegeneem. Die grootste persentasie toename in aangemelde misdaad in die Wes-Kaap was in vragmotorkaping (34%) en ontvoering (23%). ”

Plaatjies-van Huffel is verder van mening dat kindermishandeling ’n ernstige probleem is in ons samelewing . Kinders word aan hoë vlakke van geweld blootgestel. Die Suid-Afrikaanse situasie is nie uniek nie. Ander lande wat dieselfde transformasieproses as Suid-Afrika deurmaak, soos Sierra Leone, Liberië en lande in Sentraal-Amerika, ondervind ook hoë vlakke van geweld. In post-apartheid Suid-Afrika is die gevaar dat burgers slagoffers van misdaad kan word, groot. Met verwysing na die teologiese modelle in die Kairosdokument stel Plaatjies voor dat die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika verskillende teologiese modelle ontwikkel wat die soort aktiwiteite bepaal waaraan dié kerk moet deelneem om te help om die probleme van misdaad en geweld op te los. Hierdie modelle is ’n staats­teologie, ’n kerkteologie en ’n profetiese teologie.

3.3 Armoede

Om armoede te definieer, is ’n komplekse taak wat verband hou met hoe die persoon oor sy/haar eie situasie voel. Mampela Ramphela en Francis Wilson (1989:302) is van mening dat die kerk die beste toegerus is om die uitdagings rondom armoede aan te spreek: “The Christian church has a remarkable record down the centuries in creating and nurturing organisations aimed at serving and harnessing the energies of people in need. We believe however that there is still room for church initiatives in setting up new structures appropriate to the needs of the situation.” Daar is byvoorbeeld mense wat hulleself as ‘arm’ beskou, maar in werklikheid baie meer het as ander. Hulle sal dit egter eers besef wanneer hulle met ander in aanraking kom wat armer as hulle is (Potgieter 1998:197-198).

Rwiza (2001:36) beweer: “Poverty in modern Africa has a lot to do with deformation of conscience and identity crises. Poverty refers to the lack of means to provide the basic material needs. This is what Gustavo Gutierrez means by the lack of economic goods necessary for human life worthy of the name. In this sense poverty is considered degrading and rejected by conscience of contemporary person. Material poverty is a social problem. For many, being poor means to be of no value, to count for nothing, to be insignificant and an out-cast. It is a scandalous condition and leads to identity crises and deformation of conscience”. Potgieter (1998:197-198) definieer armoede as ’n vlak van inkomste wat so laag is dat ’n gemeenskap se lewenstandaard remediërende aksie van die openbare maatskaplike beleid verg.

Die voormalige aartsbiskop van Kaapstad, Njongonkulu Ndungane (2003:32) sê: “Julius Nyerere, a president of Tanzania, said in his address to the Maryknoll Sisters in New York in 1970 that poverty is not the real problem of the modern world. For we have the knowledge and the resources which could enable us to overcome poverty. The real problem, the thing which creates misery, wars and hatred among men, is the division of mankind into rich and poor. The same is true in South Africa. There are so many destitute people amidst plenty. One only has to drive through the northern suburbs of Johannesburg to Alexandra Township to see that this situation exists”.

Volgens Veeran (2000:175-176) kan armoede in gemeenskappe wat ekonomiese ontneming ervaar, gemeet word aan die bronne wat nodig is om ’n minimale lewenstandaard te handhaaf. Veeran (2000:177) sê verder dat ‘arm mense’ se definisie van armoede is om stemloos, magteloos en afhanklik te wees en blootgestel te wees aan uitbuiting. Kgarimetsa (1992:8) reken dat armoede op drie vlakke lê: Op ekonomiese vlak word armoede gesien in terme van ’n tekort aan hulpbronne, land-infrastruktuur en produksiemateriale en geen of mini­male toegang tot krediet-, bemarkings- of produksiebates. Op maatskaplike vlak word armoede gesien in terme van toegang tot fasiliteite vir gesondheid, opvoeding, sanitasie, ontspanning en behuising. Op politieke vlak word armoede gesien as mense se gebrek aan mag en ’n verlies aan beheer oor hulle lewens.

Armoede is volgens De Beer (2000:7) grootliks ’n landelike verskynsel. Van die een miljard armes in die wêreld, woon 85% in landelike gebiede. In Suid-Afrika woon 75% van die armes in landelike gebiede. Mense beskou stede as plekke van geleenthede en verhuis in groot getalle daarheen. Ongelukkig lei dié migrasie tot stedelike armoede. Landelike armoede is inheems aan die arm huishoudings in die Derde Wêreld en manifesteer op verskeie maniere waarvan ondervoeding, honger en siektes ’n deel vorm (2000:19).

Van Niekerk (2005:149) sluit by De Beer (2000) aan: “daar word bereken dat ongeveer 6 miljoen mense in Suid-Afrika in informele nedersettings (dit wil sê plakkerskampe) woon. Ongeveer 40% van Suid-Afrika se bevolking kan hedendaags as arm gereken word, waarmee bedoel word dat hulle ’n jaar­likse inkomste van minder as R10 000 per huishouding van 4,5 mense het. Hoogstens 35% van arm werkende mense werk in die formele sektor van die ekonomie. Ongeveer 70% van arm mense het geen watertoevoer na hul huise nie. Ongeveer 80% van arm mense het geen spoeltoilette nie. Ongeveer 80% het geen elektrisiteit nie. Meer as 35 % van die kinders onder die ouderdom van vyf ly tegnies honger. Hoofsaaklik as ’n gevolg van armoede, is geletterdheidsvlakke in Suid-Afrika besonder laag. Nie minder nie as 41% van Suid-Afrika se volwassenes is funksioneel ongeletterd, en in een derde van die 354 landdrosdistrikte (almal in die platteland) is die ongeletterdheidsyfer tussen 60% en 80%.”

Volgens Kgarimetsa (1992:10-11) kan landelike armoede die beste beskryf word as grootskaalse werkloosheid, ’n tekort aan voldoende grond, ’n toename in die bevolkingsyfer en ongeletterdheid, sowel as migrasie. Stedelike armoede word volgens Kgarimetsa (1992:11) gekenmerk deur ’n hoë werkloosheidsyfer, informele nedersettings, straatkinders en daklose mense. Hierdie faktore lei tot kindermishandeling, jeugmisdaad, alkoholisme, dwelm­misbruik en meer egskeidings (Kgarimetsa, 1992:12).

Koopman en Vosloo (2002:148) is van mening dat die kerk ’n hoopvolle gemeenskap moet wees vir diegene wat gebuk gaan onder grootskaalse werkloosheid, lyding in sy verskeie vorme, onsekerheid, depressie, ensovoorts. ’n Hoopvolle gemeenskap se “hoop is geanker in Christus se kruis en opstanding wat die kerk in staat stel om die moreel goeie na te jaag en uit te leef” (2002:148). Dit beteken dat die kerk nooit moet ophou om ’n gemeenskap van vrede en waarheid te wees in ’n wêreld van valsheid en vrees nie. Die kerk moet sorg vir die armes, die weduwees en die wese. Sulke sorg, vanuit ’n wêreldse perspektief, kan lyk of dit maar weinig bydra tot regverdigheid, maar die skrywers is daarvan oortuig dat tensy ons tyd spandeer aan sulke sorg, nie ons of die wêreld sal weet hoe geregtigheid lyk nie.

Artikel 4 van die Belydenis van Belhar (1986) wil hierdie waarheid bevestig: “… dat die kerk daarom mense in enige vorm van lyding en nood moet bystaan, wat onder andere ook inhou dat die kerk sal getuig en stry teen enige vorm van ongeregtigheid sodat die reg aanrol soos watergolwe en geregtigheid soos ’n standhoudende stroom; dat die kerk as eiendom van God moet staan waar Hy staan, naamlik teen die ongeregtigheid en by verontregtes; dat die kerk as volgelinge van Christus moet getuig teenoor alle magtiges en bevoorregtes wat uit selfsug hulle eie belang soek en oor andere beskik en benadeel”. Dit is die roeping van die kerk om volgens die Belydenis van Belhar te staan waar God staan, naamlik aan die kant van die armes, weerloses, ensovoorts. Die kerk moet op ’n praktiese wyse hulp en bystand verleen waar nodig.

Van der Ven (1993:436) sluit hierby aan wanneer hy praat van die ‘kerk van die armes’. Daarmee bedoel hy dat dit in dié kerk nie slegs oor geestelike armoede gaan nie, maar ook oor die materiële behoeftes van individuele lede en die kerk as sosiale verband – as ’n “kollektivum”. Anders as in die geval van ryk Westerse kerke, is die ‘kerk van die armes’ ’n kerk in ’n arm gemeenskap. Hendricks (2003) is van mening dat die kerk van die toekoms moet fokus op die nood van die gemeenskap, naamlik armoede, werkloosheid, MIV/Vigs, verslawing aan dwelm­middels, seksuele perversiteite, ens. Dit is die kerk wat restitusie of herstel kan uitleef teenoor almal op wie, op watter wyse ook al, neergesien en teen wie gediskrimineer word.

4. KONKLUSIE

Die ontleding van die gesigte en oorsake van die morele probleme wil die kerk help om ’n indruk te vorm van die omvang van die uitdagings op die morele gebied. As mense wat leef met Christelike hoop, verlam hierdie probleem ons egter, maar ons pak dit in die krag van die opstanding en die Gees aan. Armoede is tegelyk ’n gesig en ’n oorsaak van die morele probleme. Sommige mense se selfsug laat ander in armoede krepeer. Misdaad en prostitusie word deels deur armoede veroorsaak. Die kloof tussen die kerk van die armes in die sogenaamde Derde Wêreld en die kerk van die ryk Westerse samelewing is so groot dat laasgenoemde geen kerk van die armes genoem kan word nie.

BRONNELYS

Anckaert, L. et al. Christenen en samenleving. Kampen: Kok.

Burger, C.W. 2000. Nie goedgelowig nie, maar gelowig en goed: oor die uitdaging van beter morele vorming in gemeentes. In: Skrif en Kerk. Jaargang 21 (2). 2000. 230-242.

Burger, C.W., Meiring, L., Van Niekerk, A. & Wepener, C. 2005. Waar die Kerk werk. Wellington: Lux Verbi.BM.

Bush, L. 1986. The Identity of the Local Church: Biblical Principles. In: The Church. God’s Agent for Change, Bruce J. Nicholls (reds.). The Paternoster Press.

Chapman, M.D. 2004. Pluralism and Moral Regeneration: Building Community in South African Perspective. Journal of Theology for South Africa

Crausse en Botha, 1977. Prostitution: an analysis of the social system centred in the harbour of Port Elizabeth by night. Navorsingprojek 75, SMW 016,Port Elizabeth, Universiteit van Port Elizabeth.

Dames, G.E. 1999. Klein en groot kan nie meer goed en kwaad onderskei nie. In: Ligdraer. Amptelike Nuusblad van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika. Jaargang 60 (5). p. 3.

De Beer, F. 2000. Introduction to development studies. (Second Edition). Cape Town: Oxford University Press.

Dreyer, JS & Pieterse, HJC. Communities. In: Practical Theology in South Africa. 171 (1). pp 102-128

Du Toit, C. 1988. Aspekte van die Postmodernistiese idioom in die teologie. In Theologia Evangelica, Volume 21, no 3, September.

Dykstra, C.R. 1981.Vision and Character: A Christian Educator’s Alternative to Kohlberg. New York: Paulist.

Dykstra, C.R. & Bass, D.C. 2002. A Theology understanding of the Christian Practices. In: Volf, M & Bass, DC (eds.). Practices Theology. Beliefs and practices in Christian life. Grand Rapids: Eerdmans. p13-32.

Esterhuyse, W. 2000. Moraliteit en misdaad in Suid-Afrika: Watter rol vir godsdiens? Referaat gelewer te KKNK tydens Die Burger-lesingsreeks.

Fergusson, D. 2004. Church, State and civil Society. Cambridge: University Press, Cambridge.

Gill, D.W. 2000. Becoming Good. Building Moral Character. Illinois: Intervasity Press.

Gill, R. (red.) 2001. Christian Ethics. Cambridge: Cambridge University Press. Grassie, W. 1997. Postmodernism: What one needs to know. In: Zygon, vol 32, no.1.

Jersild, P. 1990. Making Moral Decisions. A Christian Approach to Personal and Social Ethics. Minneapolis: Augsburg Fortress.

Kallenberg, B.J. 1997. The Master Argument of MacIntyre’s after virtue. In: Murphy, N. et al. (red.) Virtues & Practices in Christian Tradition. Christian Ethics after MacIntyre. Harrisburg: Trinity. Pp 7-29.

Kgarimetsa, M. 1992. The two faces of poverty – urban and rural. In: Social work Practice. (3). 92. pp 8-14.

Killian J.G. 1982. Die haweprostituut in Port Elizabeth: ’n psigo-sosiale studie na die leefwêreld van die haweprostituut met die oog op die daarstelling van ingrypingsraamwerk vir die maatskaplike werker. Ongepubliseerde verhandeling. Universiteit van Port Elizabeth.

Kretzschmar, L. & Hulley, L. (reds.) 1998. Questions about Life and Morality: Christian Ethics in South Africa today. Pretoria: JL van Schaik Religious Books.

Louw, D.J. 1993. Moraliteit of Mensekrisis. Referaat gelewer tydens ’n konferensie te George. (Gepubliseerd.)

MacMaster, L.L.M. 2003. ’n Pastoraal-teologiese perspektief op trauma van gangsterim op die Kaapse Skiereiland. In: Praktiese Teologie in Suid- Afrika. Vol 18 (2). Pp 59-78.

Murphy, N. et al. (reds.) 1997. Virtues & Practices in Christian Tradition. Christian Ethics after MacIntyre. Harrisburg: Trinity.

Musschenga, A.W. 1989. De universele moraal als opdracht. In: Gäbler, et al (reds.) Geloof dat te denken geeft. Opstellen aangeboden aan prof dr HM Kuitert. Baarn: Ten Have. Pp 152-178.

Nelson, J.B. 1996. Moral Nexus: Ethics of Christian Identity and Community. Louisville: John Knox.

Newbigin, L. 1989. The Gospel in a pluralist society. Grand Rapids: Eerdmans.

Niebuhr, H.R. 1963. The Responsible Self. An Essay in Christian Moral Philosophy.New York: Harper & Row Publishers.

Ndungane, N. 2003. A World with a Human Face – A voice from Africa. Londen: MPG Books Ltd.

Pedro, S. 2001.Gemeentewees in ’n geweldskonteks (Elsiesrivier). In: Kruisgewys. Jaargang 1. Vol 1. Pp 44-45.

Pityana, B.N. & Villa-Vincensio, C. (reds.) 1995. Being the Church in South Africa Today. Johannesburg: SACC.

Plaatjies, M.A.1998. Is die Kerk Middeleeus? ’n Kritiese studievan die kerklike- en Geloofspraxis ten opsigte van prostitusie in die NG-Kerk-Familie Kaapse Skiereiland. Ongepubliseerde M.Th.-verhandeling. Universiteit van Wes-Kaapland.

Plaatjies-van Huffel, M.A. 2006. Geweld en misdaad in post-apartheid Suid-Afrika. Referaat gelewer voor die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider Afrika Streeksinode, Kaapland.

Potgieter, M.C. 1998. The Social Work Progress Development to empower people. South Africa: Prentice-Hall.

Ramphela, M. & Wilson, F. 1989. Uprooting Poverty. Cape Town: David Phillip. Rwiza, R.N. 2001Formation of Christian Conscience in Modern Africa. Kenya: Paulines Publications Africa.

Smit, D.J. 1994. Morality and Individual Responsibility. In: Journal of Theology for South Africa. 98. 19-30.

Smit, D.J. 1996a. Reformed ethics and economic justice. In: NGTT.17, 3. 439-455.

Smit, D.J. 1996b. Oor die kerk as ’n unieke samelewingsverband. In: Tydskrif vir Geesteswetenskappe. (2) p 124.

Strommen, M.P. 1979. Five Cries of Youth. San Francisco: Harper & Row.

Van der Ven, J.A. 1998. Formation of the moral self. Grand Rapids: Eerdmans.

Van Niekerk, A.A. 200. Geloof Sonder sekerhede. Besinning vir eietydse gelowiges. Wellington: Lux Verbi. BM.

Van Gerwen, J. 1991. De Kerk als Morele gemeenskap. In: Anckaert, L. et al. Christenen en samenleving. Kampen: Kok.

Victor, P. 1983. Naglewe. Brakpan: Verenigende Gereformeerde Uitgewers.

Visser, A.D.M. 1985. Prostitusie as maatskaplike patalogiese verskynsel in Kaapstad bestudeer met die klem op die hantering daarvan deur die maatskaplike werker en belangstellende organisasies. Ongepubliseerde M.A.-verhandeling. Universiteit van Stellenbosch.

TREFWOORDE

Morele krisis, Morele probleme, Morele vorming, Gestaltes, Samelewing

KEY WORDS

Moral crisis, Moral problems, Moral formation, Figures, Society

KONTAKBESONDERHEDE

Dr NC Philander

Fakulteit teologie

Universiteit van Stellenbosch

Privaatsak X1

7602 MATIELAND

E-posadres vgk@sun.ac.za