Burger C W
BUVTON, Universiteit Stellenbosch

Die predikantsamp. Deel 5: Kan die drie- ampteleer ons help om ’n Bybelse fokus aan die predikantsamp te gee?

ABSTRACT

The office of the minister. Part 5: Can the munus triplex help us to give a Biblical focus to the office of the minister?

In this last article in the series of five on the office of the miniter, the line of the first four articles is taken up and synthesised into one systematic model for looking at this office. Without giving the pretence of having a final answer to all the problems that the office of the minister is currently facing, the munus triplex is scrutinised in order to see whether it can be used to formulate a new Biblical understanding of this office and its task. Firstly previous attempts at such a systemisation will be looked at and thereafter an own attempt at such a model will be presented.

1. INLEIDING

Hierdie artikel is die laaste in ’n reeks van vyf waarin gekyk is na probleme en onduidelikheid ten opsigte van die predikantsamp en predikantswerk. In die eerste van die artikels is die probleem van nader beskou deur te wys op die uitdagings wat ons huidige konteks bied. In die tweede artikel het ons na die Bybel gegaan vir antwoorde betreffende die sentrale eienskappe van die predikantsamp en is daar gewys op enkele aspekte waaroor die Bybel konsekwent is in hierdie verband. In die derde is gekyk na hoe die predikantsamp in die Gereformeerde tradisie en wêreld omskryf is en word, en in die vierde artikel is op nuwe tendense en uitdagings ten opsigte van hierdie amp in die Gereformeerde tradisie gewys.

In hierdie artikel gaan die moontlikheid ondersoek word om ’n nuwe verstaan van predikantswerk te bou rondom die munus triplex, of te wel die tradisionele drie-ampteleer. Hoewel die munus triplex in die tyd van die Reformasie hoofsaaklik gebruik is as ’n manier om die rykdom van Christus se werk te verduidelik, was daar al pogings om dit ook te benut vir die ampte van die Nuwe Testamentiese kerk. Daar gaan in hierdie artikel gekyk word na enkele van hierdie pogings.

2. DIE PROBLEEM: GEBREK AAN ’n DUIDELIKE BYBELSE DEFINISIE EN FOKUS VIR DIE PREDIKANTSAMP

Daar is heelwat studies wat aantoon dat hedendaagse predikante nie altyd duidelikheid het oor wat die kern van hulle werk is nie. Dit is nie moeilik om die probleem te verstaan nie. Die moeilike tye wat die meeste gevestigde kerke die laaste paar dekades deur is, die ineenstorting van die sogenaamde Christendom-paradigma en die verlies aan lidmate, het die meeste gemeentes is ’n situasie van deurlopende selfondersoek en nuwe eksperimentering geplaas. In die laaste drie dekades verskyn daar feitlik jaarliks boeke met nuwe planne en raad vir predikante en gemeentes. Feitlik al hierdie boeke het een of ander eier te lê oor predikantswerk. Die uiteinde van die saak is dat ’n redelik lang lys van pligte en take opgestel kan word van wat skrywers meen predikante moet doen. Dit veroorsaak by alle ander probleme ook nog ’n totale versnippering van die predikantsamp. Predikantswerk word ’n lang lys van take waarin die fokus of kern en die onderlinge verband van die take met mekaar nie altyd duidelik is nie.

Daar is ’n tweede probleem wat besig is om groter en groter te word. Van die gemeentes waar dit skynbaar beter gaan, opereer baie sterk met gemeentemodelle en leierskapsmodelle wat ontleen is aan die sekulêre wêreld. Hoewel daar sekerlik nie fout is daarmee om uit die sekulêre wêreld en van die sosiale wetenskappe soos die organisasie- en bestuurswetenskap te leer nie, raak dit gevaarlik as hierdie modelle en selfs taal ons Bybelse taal en modelle begin oorneem. Ons identiteit as kerk het alles te doen met die taal en metafore waarmee ons leef en werk. As ons nie meer wat ons is en doen kan verbind aan Bybelse taal nie, gaan ons moeilik ons unieke identiteit as Christelike geloofsgemeenskappe handhaaf. Die hoop agter hierdie artikel is dat die munus triplex ons met beide van hierdie probleme kan help.

3. DIE BENUTTING VAN DIE MUNUS TRIPLEX TEN OPSIGTE VAN DIE WERK VAN CHRISTUS

Hoewel daar van tyd tot tyd pogings was om ’n Nuwe Testamentiese ampteleer te bind aan die munus triplex of die drie Ou Testamentiese ampte van profeet, priester en koning (vergelyk Berkouwer 1949:499), was die munus triplex in die eerste plek gebruik ten opsigte van Christologie. Dit was Calvyn (Inst. 2.15) wat sy verduideliking van die werk van Christus gebou het rondom die drie ampte van profeet, priester en koning. Die drie ampte het Calvyn die geleentheid gebied om reg te laat geskied aan die rykdom en geskakeerdheid van Christus se verlossingswerk en om dit baie sterk te bind aan die Ou Testamentiese bedeling, iets wat ons weet vir Calvyn baie belangrik was. Dit is ook interessant dat Calvyn nie net die drie ampte gebruik het om Christus se verlossingswerk tydens sy aardse lewe te verduidelik nie, maar as ’n verduideliking van wat Christus as ons Verlosser nou besig is om vir sy kerk te doen. Christus as Profeet openbaar die wil van God aan ons en lei ons in die waarheid oor ons verlossing; Christus as Priester het ons deur sy soendood aan die kruis met God en met mekaar versoen en tree vir ons in by die Vader; Christus as Koning sorg vir ons en regeer oor ons deur sy Woord en Gees en bewaar ons in die verlossing wat Hy vir ons verwerf het (vergelyk ook die Heidelbergse Kategismus Vraag 31 en Westminster Konfessie Vrae 23-26).

In die Heidelbergse Kategismus word die benutting van die drie ampte nog ’n rondte verder geneem wanneer in Sondag 12 Vraag 32 nie net die verlossingwerk van Christus nie, maar ook die lewe en getuienis van elke gedoopte gelowige verbind word aan die drie ampte.

Die gebruik om die ampte van die kerk direk te probeer koppel aan die munus triplex is nooit sterk ontwikkel in die kerk van die Reformasie nie. In die Rooms Katolieke tradisie was dit amper meer gebruiklik om dit te doen (Wainwright 1997:114). Waar dit wel in die Protestantisme gedoen is, is die drie verskillende ampte van predikant, ouderling en diaken gekoppel aan onderskeidelik die profeetamp, die koningsamp en die priesteramp.

4. WAINWRIGHT SE PLEIDOOI VIR ’n WYER BENUTTING VAN DIE MUNUS TRIPLEX

Nadat daar vir ’n hele klomp jare relatief min geskryf is oor die munus triplex het Geoffrey Wainwright met sy boekie For our Salvation (1997) weer die aandag gefokus op die aktualiteit en waarde van die drie-ampteleer. Dit is basies ’n boek oor die Christologie en die verlossingsleer en Wainwright se eerste oogmerk met die boek was om iets van ’n sisteem te probeer bring in die wye debat oor die verlossingsleer. In die eerste deel van die boek benader hy die Christologie vanuit die sintuie. In die tweede deel van die boek kom hy dan by die munus triplex en maak ’n sterk pleidooi vir die benutting van die kategorie in die teologie. Wainwright argumenteer dat die drie ampte ons nie net help ten opsigte van die Christologie en die verlossingsleer (heilsleer) nie, maar ook ten opsigte van die ekklesiologie, die kerklike amp en die dienswerk van die gedoopte gelowiges. Hoewel hy nie elkeen van die vyf kategoriee volledig uitwerk nie, gee hy genoeg informasie om die geldigheid en waarde van so ’n benadering bo alle twyfel duidelik te maak. Dit is egter veral die verbinding aan die kerklike amp wat ons hier interesseer.

Die voordele van so ’n benadering is voor die handliggend:

• Dit lê ’n sterk en logiese verband tussen die werk van Christus en die werk van die kerk, sy ampte en die gelowiges;

• Dit maak dit makliker om ons menslike dienswerk te verduidelik as ’n verlengstuk en ’n onderdeel van Christus se werk. Veral vir Gereformeerdes is hierdie ’n baie belangrike wins.

• Dit help ons om die eenheid van God se werk in die twee testamente te handhaaf;

• En dit help ons om oor die rykdom en geskakeerdheid van die heil en van ons dienswerk te praat sonder dat die eenheid of onderlinge verband daarvan verlore gaan.

Wainwright speel in sy boek selfs ’n bietjie verder met die driedeling en poog – meesal verbasend oortuigend – om konneksies te maak met ander bekende Bybelse driedelings:

• So byvoorbeeld meen hy dat ons die munus triplex dalk in verband kan bring met die Johannese weg, waarheid en lewe. Profete fokus op die waarheid, priesters op die lewe en konings probeer ’n weg vind en aanwys.

• Hy probeer ook die munus triplex verbind aan die 1 Korintiërs 13 se geloof, hoop en liefde. Hy verbind profetiese werk aan geloof, priesterlike werk aan liefde en koninklike werk aan hoop.

• Hy meen verder dat ’n mens ook die drie ampte van Christus liturgies in verband kan bring met die kerklike jaar. Christus se profetiese werk word herdenk in die eerste deel van die kerklike jaar tot en met lydenstyd; daarna word sy priesterlike werk herdenk tot en met die Opstanding; waarna gefokus word op sy koningsheerskappy.

• Wainwright doen ook die moeite om te probeer terugvra na die probleemstelling agter elkeen van die drie ampte veral soos wat dit tot uiting kom in die verlossingsleer. Van watter groot probleem (of sonde) wil Christus as profeet, as koning en as priester ons verlos? Op hierdie punt roep hy die hulp in van Kardinaal Newman en verbind die drie ampte aan die problem van kennis en sin (profeet), die probleem van menslike vervreemding (priester) en die probleme rondom mag en gesag (koning).

Wainwright se boek het baie mense weer met nuwe oë na die munus triplex laat kyk. Daar kan geen twyfel wees dat die driedeling ons op meer as een vlak in ons teologiese refleksie kan help nie. Die waarde van die driedeling vir die Christologie en vir die verlossingsleer staan lankal vas. Die benutting van die driedeling vir die werk van die kerk, die amp en die gelowige maak ook sonder meer sin. Dalk is die meer problematiese een die amp. Die grootste probleem is waarskynlik dat veral die amp van koning nie sonder probleme of heelwat verduideliking oorgedra kan word na die amp van die predikant nie. Dit staan oënskynlik in direkte spanning en selfs in kontras met die Nuwe Testamentiese beskrywing van die ampte as (nederige) dienste. ’n Verdere probleem is dat die drie ampte nie altyd en oral in die Skrif so helder gefokus en afgebaken word nie. Die waarheid is dat die grense op sekere punte dof raak. Dit raak ’n meer realistiese opsie as ’n mens daarmee rekening hou dat die drie ampte nie teenoor mekaar staan nie en waarskynlik ’n meer algemene leierskapsvulling met mekaar deel nie. Heelwat van die Ou Testamentiese teoloë wys op die probleem om iemand soos Moses te kategoriseer. Op ’n manier het Moses iets van al drie die ampte in hom gedra. Sy voorbeeld leer ons dat ’n mens nooit moet dink dat jy die drie ampte op ’n waterdigte manier van mekaar kan onderskei nie. As ’n mens hierdie uitgangspunt van meet af aanvaar, naamlik dat dit hier oor perspektiewe gaan wat onderskei kan word, maar nooit heeltemal geskei kan of moet word nie, dan kan die munus triplex ons dalk tog help om ’n beter visie te kry op die komplekse en veelkantige werk van die predikant as leier van die gemeente.

Voordat ons Wainwright se suggesties verder neem, is dit belangrik dat ons eers kyk hoe die Ou Testament oor die kernfunksies van elkeen van die drie ampte praat.

4.1 Die Ou Testament oor die profeetamp

Die profeetamp is die een waarvan ons dalk die duidelikste beeld in die Ou Testament kry. Die algemene prentjie wat die Bybel ons gee van ’n profeet is iemand wat deur God gestuur word met ’n duidelike Woord of boodskap vir die volk (of vir dele van of verteenwoordigers van die volk).

’n Paar aspekte is hier van belang:

• Op ’n manier staan die Woord of boodskap in die kern van die profeet se werk. Dit is ’n boodskap van waarheid, van kennis, van insig wat die bedoeling het om die volk te lei na verlossing en heil. Die profete het in tye van chaos en deurmekaarheid mense probeer help om te verstaan wat aangaan rondom hulle – gewoonlik deur die gebeure van die geskiedenis te plaas binne die groter raamwerk van die werklikheid van God en sy betrokkenheid by ons geskiedenis.

• Anders as die priesters het die meeste profete op ’n manier buite die institusionele sisteem gestaan. Hulle roeping was dikwels nie deur die kanale van die bestaande religieuse sisteem van destyds nie, maar het sonder institusionele mediasie “direk” van God gekom. Hoewel die profete soos alle ampte brugfigure of tussengangers was, het hulle op ’n manier baie naby aan God gestaan. Hulle was op ’n besondere manier “profete van God”.

• Dit was Gerhard van Rad (1965) wat ons bewus gemaak het van die feit dat reeds in die Ou Testamentiese tyd al, die boodskap van die profeet waarskynlik vir ten minste ’n deel ’n herinterpretasie van die tradisie en van vorige woorde van God aan die volk was. Dit beteken dat profete nog altyd mense was in wie se werk die oorgelewerde woorde van God in die sentrum gestaan het. Hoewel ons nie hulle kontak met God kan reduseer tot hulle kontak met die woorde van God nie, is dit ongetwyfeld so dat hierdie oorgelewerde woorde ’n uiters sentrale deel van hulle kontak met God was.

• Walter Brueggemann (1978) het met sy term “prophetic imagination” ’n naam probeer gee aan hierdie kreatiewe herinterpretasie wat die profete van die oorgelewerde boodskap gegee het onder leiding van die Gees. Die term beklemtoon ook die feit dat die profete telkens met mense gepraat het oor God en oor die toekoms wat Hy graag aan hulle wil gee (“God’s preferred future”). In hierdie sin sou ’n mens kon sê dat die profete draers van ’n nuwe visie was. Hulle het die horisonne oopgeskuif, mense gehelp om op te kyk en vorentoe te kyk en weer ’n breër en groter prentjie te sien. Daarom was hul boodskap ook altyd ’n boodskap van hoop – al was dit soms hoop waarin die oordeel heen gebring sou word.

As die profeetamp op Christus oorgedra word, is dit die aspek van nuwe kennis, of openbaring wat gewoonlik voorop staan. Christus is die groot profeet in wie se woorde en lewe ons nie net sien wie God werklik is nie, maar by en in wie ons ook hoor waaroor die wêreld en die lewe in werklikheid gaan.

In die geskiedenis van die kerk is die profeetamp baie sterk geassossieer met die werk van die Protestantse predikant of prediker. Dit is veelseggend dat die Reformasie die term predikant of leraar gekies het as benaming vir die voltydse “leiers” van die gemeente – teenoor die Rooms Katolieke keuse vir die benaming priester. Dit is ongetwyfeld so in die meeste Protestantse kerke dat vir baie lank die voltydse “leier” van die gemeente se werk in die eerste plek as profetiese werk verstaan is – ten minste in teorie. Of dit in die praktyk werklik die hele storie was, is ’n ander vraag. Ons sou ’n saak daarvoor wou uitmaak dat die beste predikant, die wat hulle profetiese werk goed gedoen het, na alle waarskynlikheid ook baie goeie priesters vir die gemeente was.

4.2 Die Ou Testament oor die priesteramp

Die priesteramp in het in Ou Israel meer kante gehad as wat ’n mens sou dink. Die basiese prentjie wat by ’n mens opkom as jy aan ’n Ou Testamentiese priester dink, is iemand wat diens verrig by die kultus. Terwyl dit inderdaad ’n belangrike deel van die priesters se werk was, was daar veel meer aan. Ons sou ten minste vier belangrike dimensies van priesterwerk kon onderskei:

• Ten eerste is dit belangrik om te verstaan dat die priesters, veel meer as die profete, ’n integrale deel van die institusionele godsdiensbeoefening van Ou Israel was. Hulle was die mense wat verantwoordelik was vir die instandhouding en uitbouing van die erediens en die kultus. Brueggemann (1997:664) noem hulle die “legitimators, enactors en guarantors” van God se heilige teenwoordigheid in die gemeente. Hulle moes bou aan die gemeenskap en was die bewaarders van die tradisie en die identiteit van die Godsvolk. Hulle was ook die bewakers by die grense van die gemeenskap. Die verduidelikings in die Pentateug oor wat heilig en onheilig was, mag vir ons lank en vervelig klink, maar dit het alles te doen gehad met die grense en identiteit van die gemeenskap – en priesters was die mense wat hieroor moes waak. Die priesters was ook tussengangers tussen God en die gemeenskap. Hoewel hulle sekerlik ook verteenwoordigers van God was en in sy Naam moes praat en optree, was hulle diep verbintenis aan die gemeenskap, aan die instandhouding en opbou van die geloofsgemeenskap. Pat Miller (2000:162-163) som dit goed op as hy skryf: “(T)he priest and the priestly community exercized a fundamental role in maintaining the order of life in the community…” en ook “(T)he priestly instruction …insured that the community would not fall apart…”.

• Hulle het die werk gedoen deur die diens wat hulle verrig het ten opsigte van die kultus en in besonder die erediens. Daar is lang en uitvoerige voorskrifte in die Bybel oor hoe die priesters hierdie werk van hulle moes doen. Daaruit is dit duidelik dat hierdie nie net uiters belangrike werk was nie, maar ook werk wat met groot noulettendheid en presiesheid uitgevoer moes word. ’n Wesenlike deel hiervan was die offers wat gereeld gebring moes word en in besonder die soenoffer op die Groot Versoendag.

• Wat minder algemeen bekend is, is dat die priesters ook ’n sterk pastorale funksie gehad het. Hulle moes mense bystaan in nood en hulle ook van praktiese raad en advies bedien met die oog op hulle alledaagse lewe. Hul werk rondom die tummin en die urim (waar God geraadpleeg is vir sy wil) en hulle regspraakfunksie moet ook in hierdie verband verstaan word.

• Nog minder bekend is dat die priesters ook ’n belangrike lerende funksie gehad het (vergelyk onder andere Miller 2000:168-170, asook Childs 1985:150). Ons hoor dit duidelik in tekste soos Deuteronomium 33:10. Per slot van sake moes hulle as die bewakers van die tradisie en van die gemeenskap hierdie leringe oordra aan hulle gemeentelede.

• Ons moet oppas om nie te gou waarde-oordele oor die priesters en hulle werk te vorm nie. In ’n anti-institusionele fase soos die een waarin ons tans in ons geskiedenis is, dink mense baie simplisties en naïef oor die institusionele kant van geloof, ook van ons Christelike geloof. Baie mense dink oor geïnstitusionaliseerde godsdiens as verworde godsdiens. ’n Mens sou dit nouliks met reg van die Bybelse en Christelike geloof kon sê. Volgens die getuienis van die Ou Testament speel God self ’n baie sterk rol in wat mense sou noem die institusionalisering van Israel se geloof. Die hele wetskrywing met al sy bepalings, ook oor die priestersamp en oor hulle werk en diens in die kultus, kom volgens die Pentateug van God self. Ons sal ’n groot fout maak as ons sondermeer aanneem dat God meer en duideliker aan die werk is in die dienswerk van die profete as in die dienswerk van die priesters. In die God van die Bybel se heilsekonomie het beide profeet en priester ’n vaste plek.

Wannneer die priesteramp oorgedra word na Christus is dit veral die offerdiens waardeur Hy sy eie liggaam as ’n soenoffer in die dood gegee het wat op die voorgrond staan. Verder dink ’n mens ook aan sy diep liefde, medelye met en sorg aan mense in nood. Nie net in sy dood nie, maar ook in sy lewe sien ons inderdaad wat dit beteken om ’n priester te wees.

As die priesteramp oorgedra word na dit wat gemeenteleiers in die Nuwe Testamentiese kerk doen, val die hele offerkultus natuurlik weg. In die plek daarvan kom die pastorale werk van die ampte ter versorging van die gemeente en hul werk ter instandhouding van die erediens van die gemeente. Ons sou ook die diens van die gebede hier kon byvoeg. In die Rooms Katolieke Kerk is die naam priester mettertyd gekies as benaming vir die voltydse amp.

4.3 Die Ou Testament oor die koningsamp

Die koningsamp is heelwat later as die priesteramp ingestel en die geskiedenis rondom die instelling van die amp is veel komplekser. As ’n mens 1 Samuel 8-12 lees, is dit asof twee verskillende verhale vertel word rondom die oorsprong van die amp, die een veel meer simpatiek as die ander. Die twee verhale is waarskynlik ’n aanduiding van die spanning en gemengde gevoelens wat daar deurentyd was oor die instelling van die koningsamp (sien onder andere Childs 1985:115-117 hieroor). Terwyl die redes daarvoor evident was, was die gevare verbonde daaraan ook reeds van die begin af duidelik.

Is dit moontlik om ’n prentjie te vorm van wat die kernfunksies van die koning was? Daar is ’n paar perspektiewe waarby ons moet hou as ons die prentjie probeer vorm:

• Die koms van die koningsamp het sekerlik te doen met die getalsgroei van die volk en die feit dat daar vanuit politieke, militêre en ekonomiese redes behoefte was aan ’n sterker sentrale leierskap (Brueggemann 1997:601v). Hierdie sentrale leierskap sou hulle eenheid as volk ook beter en duideliker tot uitdrukking bring. Daarmee wil ons sê dat die instelling van die koningskap waarskynlik heelwat te doen het met kontekstuele oorwegings. Teen die tyd van Saul en Dawid was die volk lank nie meer die uitgebreide familie wat deur die aartsvaders gelei is of die verspreide groepe wat deur die rigters regeer is. Hul situasie het verander en gevra vir ’n ander vorm van leierskap. Hulle getalle was van so ’n aard dat voorsiening gemaak moes word vir ’n komplekser vorm van regering en administrasie. Die huiweringe wat ons reeds in 1 Samuel 8 en 12 hoor, wil vir ons sê dat hoewel hierdie soort skuiwe nie altyd vermy kan word nie, ons moet weet dat dit nie sonder groot gevare vir die geloofsgemeenskap is nie.

• Die bedoeling in Israel was nooit dat die koning ’n magsfiguur sou word soos by ander volke nie. Op ’n manier was dit ’n ontwikkeling wat uit nood gebore is. Die koning was ’n dienskneg wat in die Here se naam die volk moes lei, bestuur en organiseer op so ’n manier dat God se heerskappy duideliker en tot sy reg sou kom in die lewe van die volk. Daarom sou ons die koning eintlik as ’n soort bestuurder, of organiseerder of strateeg kon beskou. Hy moes dinge so reël sê Brueggemann (1997:611-614) dat die heil kon gebeur en gestalte kry in die lewe van die volk. Gabe Fackre (1989:122) sê dat die koning se taak was “to get things done” in ’n tyd waar die bestaande leierstruktuur nie meer goed gewerk het nie en dinge ’n bietjie uitmekaar begin val het. Mag en heerskappy was nie die sentrale motief in Israel se siening van die koningskap nie, maar eerder die motief van beter diens, verantwoordelike bestuur en effektiewe en paslike organisasie.

• Die verhaal van die droom van Salomo en sy versoek daarna (1 Konings 3), kan ons nogal help om ’n meer gefokusde beeld te kry van waaroor die koningskap in Israel gegaan het. Die ideaal was nie dat die koning rykdom, mag en ’n lang lewe vir homself sou begeer nie, maar dat hy sou verstaan dat sy werk was om die volk met billikheid, reg en wysheid te regeer. Dit is duidelik dat die uiteindelike motief met die koningsamp was dat die koning as dienaar sou help om meer van die Here se aanvanklike bedoeling met sy volk tot sy reg te laat kom en konkreet gestalte te laat kry. Brueggemann (1997:611v) lê tereg ’n sterk verband tussen koningskap en die tora. Die hoop was dat die konings, meer as die ander vorme van leierskap wat tot in daardie stadium in gebruik was, sou help om reg, geregtigheid, liefde, trou en vrede onder die hele volk gevestig te kry. Brueggemann (1997:614) skryf na aanleiding van tekste soos Psalm 72 en Jeremia 22: “Here the mandate is made even more specific concerning economic justice and the cruciality of care for the alien, orphan and widow. The tradition affirms that through his human agency (dit is die koning), Jahweh’s sovereign will for well- being in the world, with concrete socioeconomic, political dimensions can be implemented and established.”

• Dat dit inderdaad so was, word bevestig uit die feit dat die Messiasverwagting met sy drome van ’n nuwe vredesryk waar reg en liefde en trou ’n tuiste sal hê, juis groei vanuit die ontnugtering met die konings van Israel. Die hartseer verhaal van Israel se geskiedenis was dat die oorgrote meerderheid van die konings nie gedoen het wat hulle moes doen nie en verval het in ’n wêreldse verstaan van die koningsamp. Die paar wat nader daaraan gekom het, by name Dawid, het die simbole geword waar rondom die Messiaanse verwagting ontwikkel het.

• Wat leer ons hieruit? Vir die doel van hierdie artikel is dit belangrik om te sien dat ons nie reg laat geskied aan die Ou Testamentiese beeld van die koningskap as ons daaroor dink in terme van ons gewone wêreldse beeld van ’n koning nie. Dit was nooit die bedoeling in die Ou Testament nie. In die Ou Testament is die koning ’n dienskneg van God wat voor sy oë inherent geen hoër status as enige ander persoon in die gemeenskap gehad het nie. Die koning moes ’n werk verrig en die werk het te doen gehad met die beter – dit is getrouer en effektiewer – funksionering van die geloofsgemeenskap. Die koning was ’n bestuurder, ’n organiseerder, ’n administrateur, ’n strateeg wat die groterwordende geloofsgemeenskap só moes lei en inrig dat meer van God se heil en genade in en deur hulle lewens sigbaar sou word.

Wanneer die koningsamp in die Nuwe Testament op Christus toegepas word, sien ons ’n koning van ’n totaal ander orde. Hy is ’n koning in meer as een sin van die woord. Hy is die een aan wie alle mag en heerskappy op die aarde behoort en wat die eer en lofbetuigings van alle mense waardig is. Maar dalk belangriker nog is dat Hy ook die Ou Testamentiese droom van koningskap vervul deurdat Hy nie vir homself regeer nie, maar vir ander. Hy het die reg lief en het mense lief; Hy wil en kan die heil van God gestalte laat kry in mense se lewens.

In die geskiedenis van die kerk, was dit altyd moeiliker om die koningsamp oor te dra op die gemeente, die amp en die gelowige – om redes waarna ons reeds vroeër verwys het. Soms is die gesag van die kerk en die amp daarmee verdedig1 – ’n argument waarmee ons baie versigtig moet wees. In die Heidelbergse Kategismus word die toepassing gemaak na die kant van ’n regte lewe, dit is heerskappy oor die sonde en verkeerde van die lewe – ’n meer verantwoordelike soort toepassing wat ook in die verlengstuk lê van die Ou Testamentiese ideaal dat die koningsamp uiteindelik dienstig moet wees aan die gestaltegewing van reg, geregtigheid, vrede en liefde.

5. ’N KONKLUDERENDE VOORSTEL OOR HOE DIE MUNUS TRIPLEX BENUT KAN WORD VIR ’N DEFINIËRING VAN DIE LERAARSAMP VANDAG

Sonder om voor te gee dat dit die enigste of beste manier is om dit te doen, sou ’n saak daarvoor uitgemaak kan word dat die drie-ampteleer ons in ’n tyd van identiteitsonsekerheid kan help om meer gefokus te dink oor die predikantsamp. Soos in die begin van die artikel gesê is, help die munus triplex ons veral op twee vlakke. Dit kan ons help om die kernfunksies van die predikantsamp Bybels en teologies te verstaan. Ter wille van die unieke identiteit van die kerk en van ons denke oor die predikantsamp is dit ’n wesenlike wins. Dit beteken nie dat ons glad nie eietydse sekulêre begrippe kan gebruik as ons oor die kerk en oor predikantswerk praat nie. Daar is plek daarvoor en op ’n manier vra die evangelie na die soort vergelykings. Maar ons help onsself nie as ons nie ook op ’n duidelike Bybelse manier oor die amp en oor die inhoud van ons werk dink en praat nie.

Die tweede probleem waarmee die munus triplex ons kan help, is die huidige versnippering van die amp. Die drie ampte kan ons help om die inhoud van die predikantsamp te fokus. Dit is ook baie goed dat daar nie net ’n enkele fokus gegee word nie. Ons weet dat die evangelie veelkantig is en die drievoudige amp ons kan help om met die veelkantigheid rekening te hou sonder om fokus te verloor.

As daar nou samevattend gevra word wat ons uit die drie ampte kan leer oor die inhoud van predikantswerk in ons tyd, sou die volgende riglyne gegee kon word. Die voorstel is dat ons met ’n breë indeling werk waarvolgens die priesterlike werk gefokus word op nabyheid aan mense en hul lewens, profetiese werk gefokus word op nabyheid aan God, sy woord en die beloftes van sy evangelie en die koninklike werk gefokus word op die organisasie en bestuur van die “huishouding van God” ter wille van die beliggaming van die evangelie in die gesamentlike lewe van die gemeente.

5.1 Priesters wat met groot deernis naby mense lewe

Die kernsaak hier is dat priesters mense raaksien, hul lewens met sy lief en leed ernstig neem en daarmee iets van God se troue en liefdevolle verbintenis aan mense reflekteer.

• Dit vra van priesters dat hulle tyd spandeer met mense, dink aan mense, luister na mense – dit is: om die lewe, mense se lewens, in sy detail en konkreetheid absoluut ernstig neem. Predikante dink nie net aan God nie (profete), of aan planne, prosesse en gemeentestrategieë nie (koningsamp), maar spandeer tyd met mense omdat hulle weet dat Christus sy lewe gegee het om mense te red.

• Om mense en die konkreetheid van hul lewens ernstig te neem, beteken veral dat ons die pyn en seer van hul lewens sal raaksien en verstaan. Op ’n manier is dit die toets van egte besorgheid oor mense.

• Priesterlike liefde vir mense is meer as ’n natuurlike affiniteit vir mense of om ’n ekstrovert te wees en te hou van geselskap. Dit is veranker in die hart van die evangelie, dit is God se liefde vir mense. Priesters verstaan dat God nie net van ons vra dat ons Hom sal liefhê en gehoorsaam nie, maar dat ons vanuit sy liefde vir ons ook kan leer om ander mense lief te hê soos Hy hulle liefhet.

• Wesenlik aan die werk van die priester, het ons gesien, is dat die fokus op mense nie individualisties is nie, maar juis op mense se verband met die geloofsgemeenskap. Priesters bou gemeenskap. Hulle weet dat as hulle mense regtig wil help hulle veranker moet word aan die geloofsgemeenskap.

Die sentrale plek of lokus waarvanuit priesterlike werk gedoen word, is die kultus – in ons tyd: die erediens.

• Priesters spandeer baie tyd om na te dink oor die erediens en mee te werk daaraan dat mense hulle erediensdeelname sinvol en geseënd beleef. Die kern van ’n sinvolle en geseënde eredienservaring is dat ’n mens weet dat jy in die teenwoordigheid van die lewende en seënende God was.

• Die sentrale menslike aktiwiteit in die erediens is gebed. Priesters spandeer tyd in gebed en ’n groot deel van hulle hulpdiens aan mense is om mense te leer bid.

• Priesterlike aktiwiteit rondom die erediens vra dat die institusionele kant van geloof baie ernstig geneem moet word. Dit vra dat die totale tradisie met sy rituele, simbole, verhale, woorde met sorg en onderskeiding hanteer word in die lewe van die gemeente – omdat ’n groot deel van die identiteit van die gemeente hier gevorm word.

• Hoewel priesterwerk op ’n manier sentreer in die erediens beteken dit nie dat dit al plek is waar priesterwerk gedoen word nie. Die Gereformeerde tradisie se suggestie dat mense by hul huise besoek word, getuig van ’n diepe verstaan van wat priesterskap beteken naamlik dat ons naby aan mense kom waar hulle werklik leef. As ons getroue priesters wil wees sal ons onsself voordurend moet afvra hoe ons dit die beste kan doen.

5.2 Profete wat naby aan God leef en ons voortdurend herinner aan die hoopvolle beloftes van die evangelie

Die kernsaak hier is dat die profeet na aan God leef, met Hom en sy Woord tyd spandeer en die gemeente telkens weer teruglei na die Geheim van sy bestaan2 .

• Profete se bemoeienis het te doen met die teenwoordigheid van die Lewende in die midde van die gemeente en van die wêreld. Heenwyse na God is heenwyse na die Lewende God. Dit beteken dat ’n wesenlike deel van profetewerk is om met mense oor God te praat.

• Die Lewende God het ’n wil vir die lewe van sy gemeente en vir die wêreld. Die profeet se bemoeienis gaan oor die verstaan en implikasies van God se wil vir die gemeente. Profete moet so praat oor God se planne en toekoms dat mense dit as’t ware moet kan sien. Ons sou kon sê dat profete ’n sterk visionêre funksie het.

• God se wil is ’n heilswil, ’n evangelie. Daar is beloftes aan gekoppel wat hoop en uitsig wil bring. Die inbring en instandhouding van hoop is ’n wesenlike deel van profetiese werk.

As profete ’n taak het om na die Lewende God heen te wys en te herinner aan sy teenwoordigheid en wil, beteken dit dat profetewerk werk met die Bybel is.

• Die omgang met die woord is ’n meerkantige proses waarin ten minste drie vrae telkens aan die orde kom: 1) wie God is? 2) wat Hy van ons verwag? en 3) wat sy uiteindelike plan met die lewe is? Profete behoort in hul omgang met die Woord voortdurend rekening te hou met hierdie drievoudige funksie van die Woord.

• Die kern van die profetiese arbeid rondom die Woord gaan egter daaroor dat die gemeente gehelp word om oor God se teenwoordigheid, wil en aktiwiteit in die wêreld na te dink aan die hand van die verhale in die Skrif. Die fokus is nie op die verlede of op reëls of wette nie, maar op die verstaan en “sien” van God se aktiwiteit en wil vir die hede en toekoms.

• Die prediking van die Woord tydens die erediens is deel van hierdie breër proses en is dienstig daaraan.

• Daar behoort besondere aandag gegee te word aan lering vanuit die Woord. Die doel van lering is om aan kinders en volwassenes ’n vertroudheid met die verhale van die Skrif te gee sodat hulle self kan leer om oor God, die lewe, en oor hulself na te dink vanuit die Woord.

• Die Woord moet “tydig en ontydig” verkondig word wat beteken dat die Woord aan die orde behoort te kom in die meerderheid van die aktiwiteite of byeenkomste van die gemeente.

5.3 Gemeenteleiers (konings) wat met wysheid die gemeentelike lewe so begelei en bestuur dat die heil van God (liefde, reg en vrede) konkreet gestalte kry in die gesamentlike lewe van die gemeente.

Die kernsaak hier is dat die predikant as leier van die gemeente strategies en prosesmatig moet leer dink oor gemeentelike prosesse sodat die gemeente begelei kan word om sy geloofspotensiaal te verwesenlik.

• Kennis van gemeentes en hulle eiendomlike werking, hulle prosesse, planne en strukture speel ’n belangrike rol in hierdie deel van die predikante se werk. Predikante moet nie net iets weet van God (profeet) en van mense (priester) nie, maar moet ook iets verstaan en weet van gemeentes, van hul unieke moontlikhede en dinamika.

• Dit is belangrik om die verband tussen die werk van die profeet en koningleier raak te sien. Terwyl die profeet die nuwe visie of droom van die koninkryk aanwys, is dit die taak van predikant as begeleier om planne te maak hoe die geloofsgemeenskap kan begin beweeg op pad na die droom. Colin Williams (1986:149) het die punt baie raak geformuleer: “We know that a coherent minority with a strong vision can have an inordinate effect on the life of an institution in which the majority lives in comparative aimlessness. There is a political responsibility for that minority to turn its vision into an ordered program. To wait for the Spirit without accepting organizational responsibility is a theological failure”. Profetiese visie is nie genoeg nie; daar is ook iemand nodig wat gaan planne maak oor hoe daar konkreet gestalte gegee kan word aan die visie.

• Hoewel ons sekerlik ook uit die sekulêre wêreld en uit die sosiale wetenskappe iets hieroor kan leer, gaan dit veral oor ’n dieper verstaan van die logika van die Gees en sy werking.

• Konings is Israel was nooit bedoel om heersers in die wêreldse sin van die Woord te wees nie. Hulle was diensknegte van God en van die geloofsgemeenskap moes help om “goed gedoen te kry”. Omrede begeleiding en nie heerskappy hier in die sentrum staan, is dit waarskynlik beter om ’n ongekwalifiseerde gebruik van die woord koning te vermy. Ons sou die gebruik van die woord leier, begeleier of bestuurder wou voorstel. Ander (onder andere Brohom 1984:156) het weer in hierdie verband die woord administrateur voorgestel.

Die bedoeling van hierdie deel van predikant se werk is dat die heil van God beliggaam sal word in die manier waarop die gemeente daagliks leef met mekaar en met ander mense.

• Die intensie hier is dat God se bedoeling van ’n geloofsgemeenskap wat as lig en sout in die wêreld leef verwesenlik sal word deurdat die gawes van God se koningsheerskappy soos reg, liefde en vrede sigbaar sal word in die lewe van die gemeente.

• Vir die bereiking van die ideaal is bemiddelende programme, prosesse en strukture altyd nodig. Ons moet egter verstaan dat daar ’n tydelikheid aan die meeste programme, prosesse en strukture kleef. Hulle vervul ’n diensfunksie – om te help om gestalte te gee aan ’n vrugbare en geseënde lewe van die gemeente. Die fokus kan nooit val op spesifieke prosesse en strukture nie, maar moet val op die effektiwiteit en vrug daarvan – dit is of dit die gemeente help om gestalte te gee aan die reg, liefde en vrede van God.

BIBLIOGRAFIE

Berkouwer, G C (red) 1949. Het Dogma der Kerk. Groningen: Jan Haan NV.

Brohom, R R 1989. “Toward claiming and Identifying our Ministry in the Work Place” in The Laity in Ministry (red Peck, G & Hoffmann, J S). Valley Forge: Judson Press.

Brueggemann, W 1997. Theology of the Old Testament: Testimony, Dispute, Advocacy. Minneapolis: Fortress Press.

Brueggemann, W 1978. The Prophetic Imagination. Philadelphia: Fortress Press.

Calvyn, J 1991. Institusie van die Christelike Godsdiens. Deel 2. Vertaal deur prof dr H W Simpson. Potchefstroom: CJBF.

Childs, B S 1985. Old Testament Theology in a Canonical Context. Philadelphia: Fortress Press.

Fackre, G 1989. Christ’s Ministry and Ours” in The Laity in Ministry (red Peck, G & Hoffmann, J S). Valley Forge: Judson Press.

Heidelbergse Kategismus, die

Miller, P D 2000. The Religion of Ancient Israel. Louisville: WJK.

Von Rad, G 1965. Old Testament Theology. Volume 2. New York/ Evanston: Harper & Row, Publishers.

Wainwright, G 1997. For our Salvation: Two Approaches to the Work of Christ. Grand Rapids: Eerdmans. Westminster Konfessie, die

Williams, C W 1968. New Directions in Theology Today: The Church (Vol IV). Philadelphia: Westminster Press.

Zimmerli W 1978. Old Testament Theology in Outline. Edinburgh: T&T Clark Ltd.

1 In baie gevalle is die ouderling of opsieniersamp verbind aan die koningsamp – met die gedagte dat daar ’n bepaalde soort mag of gesag in die amp gesetel is.

2 Vergelyk Berkhof (1949).