Coertzen, P
Universiteit van Stellenbosch

“Laat u koninkryk kom” Die publieke getuienis van die kerk

ABSTRACT

“Let your King Come” – The public witness of the church.

The article is about the public witness of the church – a topic which is much discussed in theological literature in these days. It is argued that the church must give a public witness. Various reasons can be given why churches must give public witness: for the sake of the Kingdom of God; because of the power of religion; the reality of pluralist societies and the opportunities guaranteed by freedom of religion. There are however certain conditions for the public witness of the church i.e. the church must always retain its own identity, not only the church as an institution must give public witness but all the members must also be equipped to give such a witness. There must be clarity on who speaks on behalf of the church, theology must help the church to give an informed witness, churches and religions will have to talk to each other. Lastly a case study on the public witness of the church is given.

1. PUBLIEKE GETUIENIS: JA OF NEE?

1.1 In ’n vroeëre sangbundel van die NG Kerk was daar ’n lied met die woorde “Laat U koninkryk kom in Christenland en heidendom” Met hierdie lied wou die Kerk klaarblyklik iets sê oor die wydheid van sy opdrag – God se koninkryk moet ’n gestalte kry nie net in verre heidenlande nie maar in die wêreld hier en nou waar die kerk elke dag leef en werk en dan ook nie net deur vroom moralistiese uitsprake nie maar deur geloof wat dade word – dit is waaroor sg. publieke teologie of te wel die publieke getuienis van die kerk gaan. In sy werk Constructing a Public Theology. The Church in a Pluralistic Culture skryf Ronald Thiemann die volgende oor die uitdaging van sogenaamde publieke teologie: “The real challenge to a [North American] public theology is to find a way within [the] social, cultural and religious pluralism of [American] politics - to influence the development of public policy without seeking to construct a new Christendom or lapsing into benign moral relativism.” (Thiemann,1991,173).

In sy onlangs verskene boek Ons weet aan Wie ons behoort - nuut gedink oor ons gereformeerde tradisie skryf Coenie Burger onder meer “Die God van die Bybel voer ons nie uit die wêreld weg nie, maar rig ons juis daarop. Daar is baie mense wat dink dat hierdie beklemtoning miskien gereformeerdes se belangrikste bydrae tot die breër kerk se gemeenskaplike geloof is.”

1.2 Aan die anderkant is daar ook baie probleme met die Kerk se betrokkenheid by die samelewing.

In ’n radioberig ’n tyd gelede beweer die SABC dat Afrikaanssprekendes – hulle is tot ’n groot mate lidmate van gereformeerde kerke in Suid-Afrika – nie ’n sosiale gewete het nie. Die radio grond sy bewering daarop dat as hulle ’n vraag vra na luisteraars se mening oor sport reageer ’n baie groot persentasie Afrikaanssprekende luisteraars, as hulle daarenteen luisteraars se mening vra oor sake soos vigs of ander sosiaal brandende kwessies is dit maar ’n baie klein persentasie Afrikaanssprekendes wat reageer.

In ’n artikel in Rapport van 3 Februarie 2002 skryf prof Stephan Joubert van die Universiteit van Pretoria dat mense die kerk, wat dikwels baie te sê het oor sogenaamde sosiale euwels maar min gestalte gee aan sy teenwoordigheid in die samelewing, as tam ervaar. Dit is onder meer die rede waarom meer as 100 000 mense per jaar die kerk in Duitsland verlaat terwyl die syfer van kerkverlaters in die VSA meer as I miljoen per jaar is. Ook in Suid-Afrika, skryf prof Joubert, word die kerk toenemend as ongeloofwaardig ervaar. Die rede hiervoor is volgens hom dat die kerk dikwels so besig was en is met interne krisisse, teologiese binnegevegte, skandale in sy eie “heilige ruimtes” en blote moralisties gekleurde verbale protes teen openbare euwels dat probleme soos die ekonomiese uitbuiting van armes, die vestiging van norme wat aan individue en groepe groter menswaardigheid verleen en sosiale geregtigheid, onaangeraak deur die vingers van blote kerklike protes geglip het. Ten spyte van al die godsdiens in Suid-Afrika – ’n amptelike Christendom van meer as 70% van die bevolking – sit ons volgens Joubert vasgevang in ’n ernstige morele maalkolk met meer misdaad, armoede, sedelike krisisse en ekonomiese korrupsie as ooit tevore en dit terwyl kerke grootliks die reg verbeur het om ’n morele gewete vir die bevolking te wees.

Maar, in teenstelling met Thiemann en Burger se roep om die openbare betrokkenheid van die kerk, is Joubert se eie voorstel vir die oplossing van hierdie dilemma waarin die kerke in Suid- Afrika op die oomblik verkeer dat kerke eerder moet “begin stilbly en stilweg uittree uit die openbare arena”. ’n Selfopgelegde swye, saam met die risiko van irrelevansie daaraan verbonde, is dalk die enigste eerbare uitweg, volgens Joubert (Joubert, Rapport 3 Februarie 2002,30).

1.3 Die vraag is inderdaad of kerke in Suid-Afrika en met name kerke van gereformeerde belydenis, daadwerklik moet aandag gee aan hulle openbare getuienis binne die nuwe Suid-Afrika en of selfopgelegde swye met die gepaardgaande risiko van irrelevansie nie dalk die enigste eerbare uitweg is nie.

Ek noem graag die volgende ter oorweging vir die publieke getuienis van Kerke.

2. OORWEGINGS TEN GUNSTE VAN DIE PUBLIEKE GETUIENIS DEUR KERKE

2.1 Ter wille van die Koninkryk van God

God se koninkryk is al omskryf as “Gods heerskappy oor en die gehoorsame aanvaarding daarvan deur sy onderdane: stof, plant, dier, mens en engele” of te wel “..... die triomf van God se wil” (Heyns, 1977, 6). Orals waar mense buig voor die Drie-enige God, die koningskap van Jesus Christus bely en onder vervulling met die Heilige Gees in gehoorsaamheid aan Sy Woord leef, dáár word die koninkryk van God sigbaar – word die koninklike krag en die koninklike reg van God gehandhaaf – nie maar net as ’n algemene tydlose konstatering van God se mag en regering nie, maar as die heilshistoriese effektuering en vergestalting daarvan (Ridderbos,1972,36).

Hoewel daar die allernouste verbintenis tussen die kerk en die koninkryk van God is, is die kerk nie gelyk aan die koninkryk van God nie, en is die kerk ook nie die enigste gestalte van die koninkryk van God nie.

Die kerk kan getipeer word as almal wat deur die verkondiging van die evangelie tot ’n eenheid vergader. Anders gestel is die kerk die vergadering van hulle wat aan Jesus Christus behoort, hulle aan Sy Woord en wil onderwerp. Die kerk is ’n gemeenskap van mense wat vergader om na die verkondiging van God se Woord te luister, die sakramente te gebruik soos Christus dit ingestel het en na mekaar omsien in die Naam van die Here Jesus. Daar is die lede van hierdie gemeenskap van mense en diegene uit die lede wat die ander lede moet toerus en lei in die diens wat almal moet lewer hetsy binne die kerk as ’n gemeenskap of daarbuite op al die terreine van die koninkryk van God. Terreine soos die staat, die huisgesin, die ekonomie, die regspleging die akademie, die onderwys, die gemeenskap, sport en ontspanning, krisistye en noodsituasies. Orals waar hulle ookal leef behoort die burgers van God se koninkryk, hulle wat Christus as hulle Here en Koning aanvaar diens te lewer. Benewens die diens en getuienis wat deur die lidmate van die kerk op alle terreine gelewer moet word, kan die kerk as ’n instelling, ’n instituut self ook kragtens sy aard om die evangelie te verkondig optree ter wille van die Koninkryk van God. Benewens die kerk se funksie om die lidmate van die kerk toe te rus vir hulle funksie in die koninkryk van God moet die kerk ook deur woord en daad die boodskap van die koninkryk verkondig. Hetsy deur die lidmate of deur sy optrede as ’n instelling kan ons saam met Ridderbos sê die kerk is “— the canal and medium by which the renewing forces of God’s Kingdom are going into and are taking shape in the world.” (Ridderbos,1978,2). Heyns praat in hierdie verband van die kerk as “ … ’n goed toegeruste lanseerbasis van mense wat soos vuurpyle afgeskiet word om die wêreld aan die brand te steek vir die saak van die koninkryk. Die kerk is ’n goedtoegeruste militêre basis waar troepe hulle opleiding ontvang vir hulle aanval op en oorwinning oor die wêreld (Heyns,1977,195). By hierdie beskrywing van Heyns sou, soos hierbo aangedui, bygevoeg kan word dat die kerk as instelling self ook die taak het om die evangelie van die koninkryk onverskrokke in die Naam van die Here te verkondig. Die kerk stuur nie net mense uit nie – hy bring self ook die Woord van die Here. Juis hierom kan die kerk hom nie onttrek aan die lewe nie, mag hy nie stilbly en stilweg eenkant met sy lewe voortgaan nie. Die kerk, ook as ’n instelling, moet getuie wees van Jesus Christus en mense leer om alles te onderhou wat Jesus Christus gekom het om te leer.

2.2 Die krag van godsdiens

Die krag van godsdiens in die samelewing moet nie onderskat word nie. In haar boek Godsdienstvrijheid in Europees Perspectief (1998,1) verwys Prof Sophie van Bijsterveld na die werk van Stephen Carter The culture of disbelief. How American law and politics trivialize devotion waarin hy aantoon dat in Amerika godsdiens enersyds as iets van buite gesien word terwyl dit baie duidelik aanwesig is as ’n simbool in die Amerikaanse politiek (Bijsterveld,1998,1). Samuel Huntington in sy artikel The clash of civilizations (Foreign Affairs [Summer] 1993, 22-49) is oortuig daarvan dat dit nie ideologiese of ekonomiese verskille is wat wêreldvrede bedreig nie maar kulturele verskille met godsdiens as die grootste bepalende faktor van kultuur. Bijsterveld verwys ook na die volgende werke wat oortuigend aantoon hoe dat godsdienste oor die wêreld heen besig is om te herleef, wat die sosiale rol is wat godsdienste speel en watter kragte godsdiens in ’n samelewing kan ontketen - M Juergensmeyer, Violence and the sacred in the modern world. London1992; id., The New cold war? Religious nationalism confronts the secular state. Berkley, 1993; G Kepel, The Revenge of God: The Resurgence of Islam, Christianity and Judaism in the modern world. Cambridge, 1994; R. Wuthnow, Rediscovering the Sacred: Perspective on Religion in Contemporary Society, Eerdmans,1992; G Aijmer (ed), a Conciliation of Powers: The force of religion in Society. Gothenburg, 1991.

Enige samelewing sou dwaas wees om nie rekening te hou met die krag van godsdiens en godsdienstige oortuigings nie. Godsdiens is ’n uiters belangrike medebepalende en dikwels die mees bepalende faktor in die lewe van individue, groepe, die reg, die politiek, die samelewing as geheel, vir kuns en kultuur; kortom vir die totaliteit van die lewe. Dit is dus baie belangrik vir enige samelewing om met godsdiens rekening te hou. Terselfdertyd is dit net so belangrik vir die kerk om bewus te wees van die krag van godsdiens in die samelewing en om alles in werking te stel om daardie krag ten goede te laat ontplooi in ’n diverse samelewing.

2.3 Die realiteit van pluralistiese samelewings

Daar is nie ’n land in die wêreld wat nie te doen het met ’n diversiteit nie. In ons dag en konteks raak die erkenning van diversiteit en die vind van maniere om daarmee saam te leef toenemend belangrik vir almal wat op een of ander manier daarby betrokke is. Owerhede, kerke, godsdienste, kultuurgroepe, belangegroepe, individue – almal kry te doen met pluraliteit. Verskeidenheid in ’n samelewing kan baie vorme aanneem. Dit kan byvoorbeeld bestaan uit ’n diversiteit van rasse of etnisiteite in die samestelling van ’n nasie, taaldiversiteit binne dieselfde landsgrense, politieke diversiteit, verskeidenheid in standpunte betreffende sake soos die posisie van vroue in die samelewing of in ’n bepaalde godsdiens, seksuele oriëntasie, ekologiese aangeleenthede, ens. En dan is daar uit die aard van die saak die godsdienstige diversiteit waarmee samelewings in ons dag te doen het. Daar is die diversiteit van die sg. groot godsdienste – die Christendom, Judaïsme, Islam, Hindoeïsme en Boeddhisme – dikwels binne die grense van een land. Dan is daar ook nog die diversiteit van al die sg. kleiner godsdienste. Binne die Christendom self is daar ook nog die groot verskeidenheid van verskillende denominasies waarmee rekening gehou moet word.

Die omvang en impak van pluralisme in ’n samelewing kan nie geïgnoreer word nie en die gevolge daarvan moet ook nie onderskat word nie. Te midde van soveel stemme en soveel standpunte weet mense nie meer wat reg en verkeerd Is nie en neem die opvatting pos dat elkeen maar net kan maak wat hy of sy wil. Te midde van al hierdie verskeidenheid, en nog baie meer as wat hier genoem is, moet kerke in Suid-Afrika ’n getuienis lewer maar dan nie net ’n getuienis wat in woorde bewyse van openbare verklarings of algemene veroordelings bestaan nie, maar ’n getuienis wat te midde van al die sosiale, kulturele en godsdienstige verskeidenheid van ons land werklik die openbare beleid sal beïnvloed en substantiewe inhoud daaraan sal gee. Wat Thiemann oor Amerika skryf in hierdie verband geld ook vir Suid-Afrika “Our Society desperately needs people who will bring a commitment to justice into the public sphere, people who have both the intelligence and the patience to bring together a vision of righteousness with the careful analysis of public policy. We have enough prophets who fire their moral broadsides against the evils of society; we have enough policymakers who determine our future through efficiency studies and cost effective analyses. What we lack are those who combine prophetic vision with carefull analysis.” (Thiemann,1991,41-42).

2.4 Die geleentheid van gewaarborgde vryheid van godsdiens

Beide die Interim en die finale Grondwet van Suid-Afrika (Wet 108 van 1996) waarborg in artikel 15 vir die eerste keer in die land se geskiedenis vryheid van Godsdiens beide vir individue en ook vir gemeenskappe. Dit is nie asof daar nie voor 1994 vryheid van godsdiens in Suid-Afrika was nie. Wat wel gebeur het, was dat die wesenlike regte en vryhede van godsdiens vanweë baie historiese faktore nie voldoende beskerm was nie (Gildenhuys, 2002,64). Die nuwe Grondwet van die land het hier ’n positiewe verandering aangebring en tans is daar ’n waarborg in die Grondwet van Suid Afrika wat die reg op godsdiensvryheid beskerm vir alle individue en alle godsdienste in die land.

Kerke van gereformeerde belydenis het lankal besef dat die teokratiese posisie - waar die staat eintlik net een kerk se oortuigings bevorder – soos verwoord in die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 36 nie meer volhoubaar is nie. Daarom het die Gereformeerde Ekumeniese Sinode al in 1949 ’n interpretasie aan artikel 36 gegee wat daarop neerkom dat kerke van gereformeerde belydenis godsdiensvryheid daarin sien dat die staat vir hulle die reg sal waarborg om die evangelie te mag verkondig, om met vryheid van gewete God te mag dien volgens die vereistes van Sy Woord en dat die kerk toegelaat sal word om sy bediening – ook sy bediening van publieke getuienis – te mag uitoefen sonder dat hy bedreig word deur antichristelike magte (Acts of the Reformed Ecumenical Synod of Amsterdam, 1949, article 66, 29-30). Terselfdertyd besef kerke van gereformeerde belydenis dat hierdie vryhede nie net vir een godsdiens of een kerk kan geld nie; dit moet van toepassing wees op die verskeidenheid van kerke en godsdienste binne de grense van die staat. WD Jonker is reg as hy skryf: “Die moderne demokratiese staat kan feitlik nie anders as om van die skeiding van kerk en staat uit te gaan en die vryheid van godsdiens vir alle burgers te waarborg nie” (Jonker,1994,86).

Hierdie siening van die vryheid van godsdiens verminder op geen manier die verantwoordelikheid van gereformeerde kerke om te midde van ’n situasie van vryheid van godsdiens vir alle burgers en ’n verskeidenheid van kerke en godsdienste:

• sy oortuiging met krag te stel dat die hele lewe, ook die politieke en openbare lewe van die land, gevoer behoort te word in ooreenstemming met die Woord van God want slegs daarin sal ware geregtigheid en vryheid lê;

• om te bely en te getuig dat die owerheid deur God daargestel is om die kwaad te beteuel en te straf,

• om te bely en te getuig dat dit met reg van die staat kan verwag om ook aan kerke van gereformeerde belydenis die ruimte tot kerkwees te bied en ook met erns te luister na die publieke getuienis van hierdie kerke en om daardeur ook mee te werk aan die koms van die koninkryk van God.

Suid-Afrika is ’n jong demokrasie en soos gesê is dit die eerste keer in sy geskiedenis dat vryheid van godsdiens in sy Grondwet gewaarborg word. Hierdie situasie het klaarblyklik kerke (godsdienste) enersyds en ook die owerheid andersyds onvoorbereid betrap. Kerke (godsdienste) is nie altyd presies seker wat vryheid van godsdiens alles vir hulle as instellinge en vir hulle lidmate beteken nie en die owerheid het tot dusver by die maak van wette ook nog nie deurentyd daarin geslaag om rekening te hou met al die implikasies van die Grondwetlike waarborg van godsdiensvryheid nie. Voeg hierby die Grondwetlike Hof van Suid-Afrika wat self ook nog ’n baie ’n jong instelling is en gevolglik nie die voordeel van ’n lang ry regsprake oor vryheid van godsdiens het nie en dit is duidelik dat daar van beide die kerke (godsdienste ) en die owerheid se kant af nog baie gedoen moet word om inhoud te gee aan vryheid van godsdiens in Suid-Afrika.

Om inhoud te gee aan die gewaarborgde vryheid van godsdiens in SA op al die terreine van die samelewing is ’n ongelooflike geleentheid wat kerke op die oomblik het. As hulle hierdie geleentheid laat verbygaan deur in stilswye te verval sal hulle moeilik later die reg kan opeis. Deur wel vryheid van godsdiens toe te eien en te help om inhoud daaraan te gee dra kerke baie beslis by om ’n bepaalde waardesisteem – en dit kan die waardes van die koninkryk van God wees – in die land te vestig en openbare beleid in ’n bepaalde rigting te stuur.

Daar is egter bepaalde voorwaardes waaraan kerke sal moet voldoen as hulle ’n publieke getuienis wil lewer.

3. VOORWAARDES VIR DIE PUBLIEKE GETUIENIS VAN DIE KERK

3.1 Die kerk moet sy eie identiteit behou

Karl Barth het dit baie duidelik gestel dat een van die grootste gevare wat die kerk kan bedreig in sy verhouding tot die staat daarin bestaan dat die kerk homself kan begin sien soos die staat hom sien en gevolglik ook so kan begin praat en optree (Barth,1969,p.687). Die kerk se publieke getuienis moet altyd gekenmerk word deur die geloofswaarheid dat Jesus Christus sy enigste Here en Hoof is wat sy kerk deur sy Woord en Gees regeer en deur die ampsdienste wat Hy aan sy kerk gegee het. Karl Barth het gepraat van die onomkeerbare Christologies-ekklesiologiese verhouding wat deurentyd die bestaan van die kerk moet kenmerk.

Dit beteken onder meer dat die publieke getuienis wat die kerk lewer gekenmerk moet word deur dit wat die primêre taak van die kerk is nl. die verkondiging van God se Woord in al sy verskillende gestaltes van woord en daad. Die kerk moet ook voortdurend daarop bedag wees om getrou te bly aan sy belydenis en sy orde.

3.2 Kerke moet nie net self as instellinge ’n openbare getuienis lewer nie maar hulle moet ook hulle lidmate met die evangelie toerus om sodanige getuienis te lewer.

As instellinge het kerke die taak om ’n publieke getuienis te lewer – die stem van die kerk moet gehoor word. Daar is egter ook meer om te doen. Die kerk moet deur sy prediking en bedieninge sy lidmate toerus om op al die terreine van die lewe waarby hulle betrokke is en waarmee hulle in aanraking kom hulle publieke getuienis te lewer. Te dikwels verkondig die kerk net ’n na binne gerigte evangelie, ’n evangelie wat net die heil van die betrokke individu op die oog het. Die Bybel daarenteen leer dat die gelowiges toegerus met word om in alles – die volle spektrum van die lewe – te kom tot die mate van die volle grootte van Jesus Christus (Efes 4:12-17). Die kerk moet Christene met die Woord van God toerus om hulle persoonlike lewe, huwelike, gesinslewe, hulle werk en hulle ontspanning, hulle politiek en sosiale lewe deurentyd voor die aangesig van God te leef.

3.3 Duidelikheid oor wie praat en hoe

Daar sal duidelikheid moet wees oor wie namens die kerk as instelling praat en hoe die getuienis gelewer word. Almal kan nie namens ’n kerkverband of denominasie praat nie. Die eenheid van ’n kerkverband/denominasie is ewe eens baie belangrik. Ons leef in ’n tyd dat die gesag van meerdere vergaderinge betwyfel word en baie gemaak word van die priesterskap van gelowiges. As die kerk egter ’n geloofwaardige publieke getuienis wil lewer, sal dit noodsaaklik wees om ooreen te kom wie namens die kerk daardie getuienis lewer.

3.4 Die teologie sal die kerk moet help: dit beteken

Ten einde inderdaad gefundeerde en kundige insette te lewer in sy openbare getuienis sal die teologie die kerk moet help. Kerk en teologie het mekaar werklik nodig in hierdie opset. Die teologie sal ook ’n baie sterk intra-teologiese gesprek moet voer. Dit is egter net so belangrik dat daar met ander wetenskappe in gesprek getree moet word. Gesamentlike navorsingsprojekte moet onderneem word sodat daar uiteindelike verantwoorde getuienis gelewer kan word. Om byvoorbeeld vryheid van godsdiens met positiewe inhoud te vul is intra-teologiese samewerking nodig maar ook samewerking met verskillende ander wetenskappe soos byvoorbeeld regte, geskiedenis, politieke wetenskap, arbeidswetenskap, ens. So sal daar telkens afhangende van die veld van getuienis wat gelewer moet word, samewerking binne die teologie maar ook tussen wetenskappe tot stand kan kom.

3.5 Kerke in SA sal met mekaar moet praat

Die openbare getuienistaak van kerke maak dit noodsaaklik dat kerke in Suid-Afrika met mekaar sal praat oor die aard van hulle getuienis. Daar is baie dinge wat kerke gesamentlik raak en waaroor hulle ’n eenstemmige getuienis kan lewer. Daar moet egter fora geskep word waar kerke kan saampraat oor die sake en vanwaar dit op ’n gestruktureerde wyse verder gevoer kan word.

3.6 Godsdienste is SA sal met mekaar moet praat

Soos dit vir kerke noodsaaklik is om met mekaar te praat in Suid-Afrika, so is dit ook nodig dat die verskillende godsdienste met mekaar sal praat ter wille van godsdiensvryheid in die land. Daar is dikwels sake wat die godsdienste gesamentlik raak en waaroor hulle gesamentlik die owerheid sou kon nader ter wille van die openbare beleid in die land.

3.7 Kerke en die owerheid sal strukture moet kry om met mekaar te praat

Daar is ’n behoefte aan vaste strukture vir gesprekvoering en standpuntstelling tussen kerk en owerheid in Suid-Afrika. Strukture waar kerke (godsdienste) hulle insette tot komende wetgewing kan lewer. Tans is daar dikwels agterdog en vermoedens van kwaadwilligheid na beide kante toe terwyl dit nie noodwendig so is nie. Geordende strukture kan baie daartoe meehelp om vertroue te help skep en samewerking te bevorder.

4. ’N GEVALLESTUDIE: GODSDIENSONDERRIG OP SKOOL

Die onderrig van kinders in godsdiens op skool sou as ’n tipiese voorbeeld genoem kon word van die soort publieke getuienis wat kerke en lidmate in ’n pluralistiese samelewing kan lewer op grond van die reg tot vryheid van godsdiens. In Duitsland, een van die leidende demokrasieë in die wêreld, is godsdiensonderrig ’n standaardvak op skool, behalwe in daardie skole wat verkies om dit nie aan te bied nie. Hoewel die staat die reg tot toesig oor die onderwys het en daarom ook oor godsdiensonderrig, word die onderrig en inhoud van die vak bepaal deur die betrokke denominasie waaraan die leerders behoort. Wanneer daar ’n minimum aantal leerders – 6 tot 8 – van ’n bepaalde denominasie in ’n skool is, is die skool verplig om voorsiening te maak vir die godsdiensonderrig van daardie leerling, mits hulle natuurlik daarvoor vra. Tot op ouderdom 12 jaar kan Duitse ouers besluit oor hulle kinders se godsdiensonderrig, na ouderdom 12 mag die ouers se besluit nie in stryd met dié van die kind wees nie en vanaf 14 jaar kan die kind self besluit. Omdat godsdiensonderrig ’n standaardvak op skool is mag dit ook nie as ’n minderwaardige of opsionele vak beskou word nie Robbers,1996,65).

In SA het ’n verslag van 1999 oor Kurrikulum 2005 voorgestel dat beheerliggame by skole die reg gegee word om godsdiensonderrig in skole aan te bied in ooreenstemming met wat hulle onder godsdiensonderrig verstaan, dit is of die onderrig van ’n bepaalde godsdiens of onderrig oor godsdiens en godsdienste. Hierdie verslag was volgens baie ’n bevestiging van die gesag wat reeds in die Skole Wet van 1996 aan die beheerliggame van skole toegeken is – nl. die gesag om die godsdiensbeleid en etos van ’n skool te mag bepaal (Claassen,2004,1).

Voortvloeiend uit ’n Konsep Nasionale Kurrikulum Verklaring op 30 Julie 2001 het die destydse Minister van Onderwys mnr Kader Asmal in die Parlement verklaar dat hy voorsien dat godsdiensonderwys in skole in die toekoms eerder ’n vergelykende studie van verskillende godsdienste sal behels en dat die onderrig in ’n bepaalde godsdiens eerder ná skool óf by huise óf in kerke moet plaasvind (Godsdiens in Skole, Die Burger,12 Junie 2001,bl 9; Asmal, Rapport,16 Desember 2001). Die eerste ontwerp van ’n nuwe godsdiensbeleid vir skole het dan ook daarop neergekom dat die beheer oor die godsdiensbeleid en –etos in skole uit die hande van die beheerliggame geneem sou word en in die hande van die Minister van Onderwys geplaas word.

Hierop het ’n groot aantal petisies van kerke se kant af gevolg met gevolglike lang en intensiewe debatte tussen die owerheid en kerke waarin die kerke onder meer regsmenings ingewin en voorgelê het oor die vraag of die nuwe voorstelle nie in stryd is met die reg op vryheid van godsdiens nie. Voorleggings dat die reg op vryheid van godsdiens wel deur die voorstelle van die regering aangetas sou word, is in die debatte gedoen en uiteindelik ook gerespekteer. Na ’n jaar van debatte en konsultasies kon daar uiteindelik tot ’n aanvaarbare ooreenkoms gekom word. In ’n studiestuk The new Policy on Religion and Education – challenges that faces the implementation toon dr Gustav Claassen van die Algemene Jeugkommissie van die NG Kerk aan dat daar onder meer op die volgende ooreengekom is (i) dat godsdiens ’n belangrike menslike aktiwiteit is waarvan leerders behoort te weet indien hulle enigsins as geskoold geag wil word; (ii) dat die beginsels van die Grondwet die praktyk van opvoeding met betrekking tot godsdiens moet reël; (iii) dat daar duidelike onderskeid gemaak moet word tussen onderrig (instruction), wat die taak van die ouerhuis en die godsdienstige/religieuse gemeenskap is, opvoeding (education) wat objektief, professioneel en niediskriminerend in die skool aangebied moet word en godsdiensoefeninge (observances) wat tydens die program van die skool gehou mag word, gegewe die ligging en aard van die skool asook die beleid wat deur die beheerliggaam bepaal is. Godsdiensoefeninge kan ook op ’n vrywillige basis geskied deurdat die skool sy geriewe op ’n gelyke grondslag kan beskikbaar stel aan religieuse groepe in die omgewing. (iv) Daar is verder ooreengekom dat “Religion Education should enable pupils to engage with a variety of religious traditions in a way that encourages them to grow in their inner spiritual and moral dimensions” (Section 9 of the policy). (v) Daar is ook ooreengekom dat die nodige kapasiteit aan opvoeders vir die nuwe program geskep moet word. (vi) Die reg van beheerliggame om die aard en inhoud van godsdiensoefeninge te bepaal, is herbevestig terwyl dit ook bevestig is dat beheerliggame as verteenwoordigers van die gemeenskap ’n breë bevoegdheid ten opsigte van die etos van die skool het – dit behels onder meer keuses ten opsigte van die godsdiensoefeninge by ’n skool; die reg om toegang te verleen tot die skool vir vrywillige godsdiensoefeninge en die reg om godsdiensleiers uit te nooi om deel te neem aan die godsdienstige/religieuse opvoedingsprogramme van die skool met dien verstande dat hulle behoorlik daartoe gekwalifiseer is. Die bevoegdheid van beheerliggame om besluite te mag neem oor sensitiewe aangeleenthede soos die vertoon van godsdienstige simbole en versierings in skole asook besluite oor godsdienstige kleredrag van leerlinge is ewe eens bevestig. (vii) In teenstelling tot vorige besluite is daar ook ooreengekom dat godsdienstige ampsdraers van verskillende godsdienste deur skole genooi mag word om hulle by te staan hetsy as gas fasiliteerders of selfs as ten volle betrokke by die programme van die skool mits hulle hulle by die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders geregistreer is.

By naskoue kan gesê word dat die hele aangeleentheid oor godsdiensonderrig op skool iets is waaruit kerke, godsdienste en die owerheid baie kan leer oor vryheid van godsdiens, die publieke getuienis van kerke en die interaksie tussen kerk en owerheid. As kerke en godsdienste nie die dialoog met die owerheid begin het oor die aanvanklik voorgestelde beleid van godsdiensonderrig nie kon dit gebeur het dat ’n beleid deurgevoer is wat heeltemal in stryd is met die gewaarborgde reg van vryheid van godsdiens. Kerke het gesien wat besig is om te gebeur en het in dade van openbare getuienis namens hulle lidmate die gesprekke begin voer wat tot die uitkoms soos hierbo na verwys, gelei het. Die owerheid moet egter ook erkenning kry dat hulle bereid was om te luister en gehoor te gee. Dit is die tipe openbare getuienis en optrede wat mens graag ook in die toekoms by kerke in Suid-Afrika sou wou sien.

5. TEN SLOTTE: STILBLY EN STILWEG UITTREE OF NA VORE TREE EN GETUIG?

5.1 Dit sal verkeerd wees van kerke en godsdienste in Suid-Afrika om hulle in stilswye te onttrek aan die openbare lewe en beleid van Suid-Afrika. Die opdrag van die Koninkryk, die krag van godsdiens, die pluralistiese aard van ons samelewing en die gewaarborgde vryheid van godsdiens wat vra om invulling, is te belangrike oorwegings vir kerke om nie hulle openbare getuienis te laat hoor nie. Dit moet uit die aard van die saak nie met ’n triomfantlike bravade gedoen word nie, maar steeds met die wete dat dit ’n diens is wat gelewer moet word. Natuurlik sal kerke foute maak in die proses soos hulle ook al in die verlede foute gemaak het. Die gevaar van foute mag kerke egter nie daarvan weerhou om hulle getuienis te laat hoor nie. Dit moet kerke inteendeel juis aanspoor om in biddende soeke na die leiding van die Heilige Gees dieper en fyner te luister na God se wil in Sy Woord. Dit is ’n proses wat ’n kerk as instelling saam met ander kerke en gelowiges moet onderneem.

Kerke in Suid-Afrika vandag het, soos altyd, ’n unieke taak en getuienis om te lewer na binne sowel as na buite. Dit mag nie gebeur dat hulle aan die slaap gevang word nie.

BIBLIOGRAFIE

Acts of the Reformed Ecumenical Synod of Amsterdam, 1949.

Asmal, Kader, “Ek is geen antichris” sê Asmal. In: Rapport, 16 Desember 2001.

Barth, K 1969, The Order of the Community. In: Church Dogmatics , Volume IV, Part 2. T & T Clark, Edinburgh

Bezuidenhout, Ronell, 2001, Some thoughts on a Public Theology for the South African Context. TSSA

Claassen,G F, 2004, The New Policy on Religion and Education – challenges that face the implementation. Studiestuk opgestel namens die Algemene Jeugkommissie van die NG Kerk, Pretoria.

Coertzen, P, 1991, Gepas en Ordelik. ’n Teologiese verantwoording van die orde vir en in die Kerk. RGN, Pretoria.

Draft Revised National Curriculum Statement, 30 Jul 2001.

http://education.pwv.gov.za/DoE/Curriculum/New-2005/draft-revised-national curriculum.htm

Gildenhuys, J L, 2001, An Assessment of Constitutional Guarantees of Religious Rights and Freedoms in South Africa. Thesis presented for the Degree of Doctor Legum at the University of Stellenbosch. December 2001.

Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, Wet 108 van 1996.

Godsdiens in Skole, Die Burger 12 Junie 2001.

Heyns, JA,1977, Die Kerk. Pretoria, N G Kerkboekhandel.

Jonker, WD, 1994, Bevrydende Waarheid. Die karakter van gereformeerde belydenis. Hugenote Uitgewers, Wellington.

Joubert, S, Die Kerk het die Kruis laat val, wie wil dit optel? In: Rapport, 3 Februarie 2002, 30.

Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk met Reglemente en Besluite van kerkregtelike aard soos vasgestel deur die Algemene Sinode in Oktober 1998. Hugenote Uitgewers, Wellington.

Religion in Curriculum 2005. Report of the Ministerial Committee on ReligiousEducation. January 1999

Ridderbos, H, 1972, Het Komst van het Koninkrijk. Jesus’ Prediking volgens de Synoptische Evangeliën. Kampen, Kok.

Robbers, G, 1996, State and Church in Germany. In: Robbers, G, 1996, Baden-Baden.

Thiemann, Ronald F, 1991, Constructing a Public Theology. The Church in a Pluralistic Society. Westminster/John Knox Press, Louisville, Kentucky

Van Bijsterveld, SC,1998, Godsdienstvrijheid in Europees Perspectief. W E J Tjeenk Willink, Deventer.