Janse van Rensburg, J
Universiteit van die Vrystaat

Pastorale integriteit

ABSTRACT

Pastoral integrity

Recent events caused quite a stir and an embarrasment for the pastoral profession. The consequences of conduct unbecomming by pastoral therapists not only discredit the profession, but may cause serious damage to the client, already plagued by some ailment or deep-rooted problem. Although much research has been done on professional integrity within psychotherapy, pastoral integrity is almost suggested and expected but not really defined. This article calls for the need of a code of ethics in order to sustain pastoral integrity.

1. INLEIDING

In kerk en samelewing is daar ’n ernstige behoefte aan integriteit. Nie alleen voer korrupsie hoogty nie, maar die geloofwaardigheid van mense het in die algemeen ’n geweldige knou gekry. Vanweë ’n verskeidenheid redes is dit veral professionele integriteit wat onder groot druk gekom het. Dit sluit natuurlik alle professies in (Epstein 1994:1-5), maar in hierdie artikel word uitsluitlik op pastorale integriteit gefokus.

2. PROBLEEMSTELLING

In die afgelope dekade was daar talle insidente wat vir die pastoraat ’n verleentheid geword het. Die openbare pers het ’n besondere bydrae gelewer om die algemene en kerklike publiek van onpastorale gedrag bewus te maak (Volksblad, 11 Januarie 2002:3). Na een só ’n voorval het Luttig en Du Plessis (2002) voornemende kliënte gewaarsku om eers van die kwalifikasies en registrasie van die terapeut, sowel as die gehalte van die berading seker te maak, alvorens hulle hulleself aan die terapie onderwerp. Kliënte is gemaan om nie by terapeute hulp te soek wat nie deur ’n professionele etiese gedragskode gemoniteer word nie. Die vraag is natuurlik: Is daar ’n duidelike Christelike en veronderstelde pastorale etiese kode? Hieruit vloei verdere vrae voort. Is die pastor ten opsigte van die integriteitsvraagstuk bó verdenking? Op watter moontlike wyses kan die pastor deur sy gesindheid, optrede of versuim die pastorale integriteit in die gevaar stel? Wat is die effek wanneer die pastorale integriteit van ’n individu of van die pastorale praktyk in die algemeen in duie stort? Kan die pastor se geloofwaardigheid weer herstel word?

3. HIPOTESES

Die navorsing word deur die volgende hipoteses gerig:

3.1 Die integriteit van die pastorale professie word op velerlei wyses bedreig.

3.2 Die vertrouensbreuk w at hierdeur veroorsaak word, het ’n negatiewe uitwerking op die pastorale proses en die uitkomste.

3.3 Maatreëls en daadwerklike optrede kan help om die pastorale integriteit te herstel, maar dit kan nooit deurslaggewend wees nie.

3.4 Die paradigmatiese fundering van die pastorale proses kan in vele opsigte tot ’n vertrouensbreuk aanleiding gee.

4. NAVORSINGSMETODOLOGIE

Ten einde bogenoemde hipoteses te toets, sal van die volgende navorsingsbronne gebruik gemaak word:

4.1 Vanuit ’n diakoniologiese vertrekpunt word Skriftuurlike riglyne wat met pastorale integriteit verband kan hou, verreken.

4.2 Pastorale en ander teologiese literatuur wat in die algemeen integriteitsbeginsels postuleer wat vir die pastoraat relevant is, of wat pertinent op die vraagstuk van integriteit konsentreer, sal krities geëvalueer word.

4.3 Dit is onafwendbaar dat meta-teoretiese bronne ook in die versameling van inligting en perspektiewe benut sal word, aangesien daar binne die pastorale teologie nog nie indringend genoeg aandag aan die probleem gegee is nie. Navorsing binne die studieveld van kliniese terapie (sielkunde en psigiatrie) het in hierdie verband al veel meer gedoen.

4.4 Verskeie pastorale en terapeutiese benaderings, sowel as die onderliggende paradigmas, sal in die konteks van die navorsingsprobleem ontleed word.

4.5 Navorsing oor hierdie onderwerp het die potensiaal vir sowel ’n kwantitatiewe as ’n kwalitatiewe ondersoek. Dit sou egter ’n meer uitgebreide studie verg wat nie in die bestek van hierdie opdrag geakkommodeer kan word nie.

5. DOELWITTE VAN DIE NAVORSING

Die navorsing beoog om die begrip “pastorale integriteit” te ondersoek. Deur die toetsing van die genoemde hipoteses word verwag dat groter duidelikheid sal ontstaan oor die wyses waarop die pastor deur sy gesindheid, optrede of versuim die pastorale integriteit in gedrang kan bring. Merkers vir die handhawing van pastorale integriteit word in die vooruitsig gestel. Die tema van die navorsing is egter geweldig omvangryk. Dus word nie op volledigheid in hierdie artikel aanspraak gemaak nie. Dit word egter in die vooruitsig gestel dat die tema verder ondersoek sal word, moontlik met die oog op die publikasie van ’n boek.

6. SEMANTIESE ONTLEDING

6.1 Professioneel

Die begrip “professioneel” word in hierdie navorsing gebruik as ’n aanduiding van ’n hulpverleningsberoep waarvoor akademiese en professionele opleiding ’n voorvereiste is en wat aan bepaalde standaarde en vereistes moet voldoen. Die professionele karakter mag egter nooit die diensmotief in die pastoraat verdring of oorheers nie. Die pastor bly in laaste instansie die”herder” en vriend wat die kliënt tot heelheid (Clinebell) en heil (Louw) wil begelei.

6.2 Kliënt

Uit die pastorale proses behoort die onderskeid tussen ’n pastorale en ’n kliniese proses baie duidelik uit te staan. Die pastor is nie ’n sielkundige nie, tensy hy natuurlik daarvoor gekwalifiseer en geregistreer is. Omdat die meeste “kliënte” van die pastor waarskynlik lidmate van sy eie of ander gemeentes is, is daar ’n ander verhouding as die kliniese verhouding tussen ’n sielkundige/psigiater en sy kliënt. Die term “kliënt” dreig om hierdie onderskeid te laat vervaag. Hoewel die navorser dus nie aan die term “kliënt” voorkeur gee nie, word die term tóg gebruik omdat dit in die teologies-pastorale en sielkundige vakliteratuur wyd gebruik word. Die probleem word verder gekompliseer omdat nie almal wat die pastor of pastorale terapeut om hulp nader, lidmate is nie. Om van “die persoon in beraad” te praat, sou meer inklusief wees, maar dit is in Afrikaans redelik lomp. In Engels word die term “counselee” (teenoor “counselor”) met gemak as alternatief vir “client” gebruik.

6.3 Integriteit

Die term “integriteit” dui in hierdie navorsing op persoonlikheid, gedrag en professionele optrede wat met die verwagte en veronderstelde norme en etiese gedragskode wat in die pastorale professie veronderstel word, ooreenstem. Dit fokus veral op die gedrag van die terapeut binne en buite die pastorale proses, maar, soos navorsing aandui, hou dit ook verband met die optrede van die kliënt.

6.4 Pastor en pastorale terapeut.

De Klerk (1978:39-41, 45;1981) word gelyk gegee dat die pastorale karakter nooit vir ’n sielkundige karakter ingeruil mag word nie, iets waaroor veral Adams baie sterk gevoel het (Adams 1973:1-19; sien ook Rebel 1981:253; Heitink 1979:275). Vir Adams impliseer dit dat terapie wat nie evangelies is nie, nie Christelik en dus ook nie pastoraal kan wees nie. Dit verg dus dat die pastorale terapeut, wat op ’n ander vlak meer gespesialiseerde hulp verleen, steeds pastor moet bly en nie die rol van ’n kliniese terapeut moet probeer speel nie. Daarom sou dit heeltemal gepas wees om die term “pastor” ook op die pastorale terapeut van toepassing te maak. Waar in die navorsing dus na die pastor verwys word, word die pastorale terapeut ook daarby veronderstel, en omgekeerd.

7. PASTORALE INTEGRITEIT IN GEDRANG

Die verband tussen integriteit en verwagte werksprestasie (Ones, Viswesvaren en Schmidt 1993:696) veronderstel ook ’n verband tussen pastorale integriteit en die antisipering van ’n betekenisvolle pastorale proses. Smith en Smith (2001:438) wys op die gevaar dat terapeute se optrede ernstige skade aan kliënte kan aanrig. Daarom word etiese gedrag van terapeute vereis. Die probleem, wat uit die genoemde navorsingsresultate van Ones, Viswesvaren en Schmidt gedokumenteer is, is egter dat dit nie so eenvoudig is om integriteit te toets nie, aangesien daar ’n hele aantal veranderlikes (“moderators”) is wat die meetbaarheid van integriteit kan beïnvloed.

7.1 Professionele integriteit

Professionele integriteit is die ononderhandelbare vertrekpunt vir alle ander vorme van pastorale integriteit. Integriteit kom in gedrang wanneer daar ’n diskrepansie is tussen dit wat die kliënt as die korrekte gedrag beskou en die gemanifesteerde gedrag by die terapeut. Die meeste kliënte het ’n goed-ontwikkelde gewete (Stone, Wiegand, Cooper en Aronson 1997:55-57) As integriteit vir die kliënt so belangrik blyk te wees, spreek dit vanself dat die kliënt dieselfde verwagting van die terapeut se optrede sal hê.

Professionele integriteit staan onder andere in ’n direkte verband met die metodes wat terapeute gebruik om kliënte terapeuties te begelei of die wyse waarop professionele integriteit in kliniese navorsing gehandhaaf kan word (Miller, Rosenstein en DeRenzo 1998:1449-1454). Nie alle metodes is met die kode van professionele integriteit korrelerend nie. As daar byvoorbeeld by die kliënt skuldgevoel ontstaan oor ’n buite-egtelike verhouding, kan dit ernstige geloofsworsteling en psigiese skade berokken as die terapeut die kliënt adviseur: “Los jou ringe by die huis, gaan Durban toe en gaan geniet jouself”.1

Waltz, Addis en Koerner (1993:620-630) is juis besorgd oor die integriteit van terapeutiese metodes en strategieë in psigoterapie. Smith en Smith (2001:438) veroordeel die tendens by terapeute om onprofessionele gedrag deur rasionalisering te probeer regverdig. Die kompetensie van die terapeut speel hierin ’n belangrike rol. Hulle stel voor dat terapeute se professionele optrede gemoniteer word deur ’n aantal riglyne (1993:624-625). Die eerste riglyn is vir ons tema relevant: Die optrede van die terapeut moet in ooreenstemming wees met die handleiding wat gebruik word (byvoorbeeld die DSM IV). Dit gaan egter nie net om kennis oor so ’n professionele gedragskode nie, maar oor die gees van die kode, dus oor ’n sensitiwiteit, “a sense of intuitive consciousness, of whether the behavior is beneficial to the client” (Smith & Smith 2001:438-439). So ’n etiese kode hoef nie, soos Steere (1984:xi) vra, tot in die fynste besonderhede gedetailleerd te wees nie, aangesien dit byna onmoontlik sal wees om elke denkbare misbruik of wangedrag te antisipeer en te beskryf. Tóg noem Koocher en Keith-Spiegel (1998:4-5) nege beginsels wat in ’n professionele etiese kode behoort te wees. Hulle is:

• Professionele optrede moet nie tot nadeel van mense wees nie.

• Die kliënt se outonomie moet gerespekteer word.

• So veel as moontlik moet deur die optrede bevoordeel word.

• Wees altyd regverdig.

• Wees betroubaar.

• Tree met waardigheid op en respekteer die kliënt.

• Behandel die kliënt met empatie (“compassion”).

• Streef na uitnemendheid in die professionele proses.

• Aanvaar verantwoordelikheid.

In die pastorale konteks sou hierdie beginsels terugherlei kon word na wat De Klerk (1978: ) tipeer as ’n pastorale optrede in liefde wat die kliënt aanvaar, ongeag die persoon, ’n liefde wat die kliënt respekteer, ongeag die optrede of probleem, ’n liefde wat bereid is om ter wille van die welsyn van die kliënt op te offer en ’n liefde wat die terapeut dring om die kliënt te begelei na wat Clinebell (1987: ) as heelheid (“wholeness”) bestempel. Op grond van die versoeningsoffer van Jesus Christus kan die pastor aanvaar dat God se bedoeling met die kliënt ’n lewe in oorvloed (lewenskwaliteit en geluk) behoort te wees (Joh.10:10). Die pastorale grondhouding van liefde strewe om hierdie belofte binne die bereik van die kliënt te bring. Die pastor wat só optree, sal nie die kliënt geobjektiveer nie en ook nie moraliseer nie (De Klerk 1978)

Pastorale integriteit sluit onder andere die volgende in:

7.1.1 Standaardopleiding en professionele toerusting

Die veronderstelling van die rapport tussen terapeut en kliënt is dat die pastor oor die kennis en vaardigheid beskik om ’n betekenisvolle bydrae tot die proses van heling (Louw 1997:78-80) te maak. Epstein (1994: 29; 120-123) verwys in hierdie verband na die eksplisiete verstandhouding dat die terapie tot voordeel van die kliënt sal wees. Kliënte het die reg om instemming met die proses te betuig (Steere 1984:52-53) en moet dus op die vermoë van die terapeut kan steun.

Professionele integriteit impliseer dat die pastor nie alleen deur ’n basiese opleiding gerugsteun sal word nie, maar ook deur vermeerdering van kennis en verdere opleiding om optimale bekwaamheid te verseker (Steere 1984:37-39). Dit plaas ’n groot vraagteken oor allerlei kursusse in pastorale terapie wat op voorgraadse vlak (sic!) aangebied word. Persone met geen kliniese kennis nie en weinig pastorale vaardighede, word op ’n gemeenskap losgelaat, toegerus met sertifikate en al, om te bewys dat hulle pastorale terapeute is. Hierdie onhoudbare situasie hou ’n ernstige bedreiging vir pastorale integriteit in. Dit is daarom belangrik dat voornemende kliënte navraag sal doen oor die kwalifikasies van die terapeut.

7.1.2 Erkenning van beperkings

Professionele integriteit veronderstel egter ook dat ’n pastor wat daarvan bewus word dat hy/sy nie oor die bekwaamheid beskik nie, dit in alle eerlikheid teenoor homself/haarself en teenoor die kliënt sal erken. Dit sou krimineel wees indien ’n pastor die kliënt aan niksseggende en selfs skadelike prosesse blootstel, net omdat hy/sy te trots is om te erken dat die probleem buite die veld van sy/haar vermoë val. Steere (1984:41) wys egter daarop dat dit soms op die platteland uiters moeilik is om mense weg te wys, aangesien geen sielkundige of psigiater onmiddellik beskikbaar mag wees nie. In so ’n geval behoort die terapeut egter, as dit die plaaslike predikant is, die terapeutiese proses tot pastorale ondersteuning te beperk indien ernstige psigopatologie by die kliënt presipiteer. Die pastor kan ook met die naaste kliniese persoon skakel, hetsy om ’n dringende afspraak gereël te kry of kliniese advies te vra wat in die interim gebruik kan word om te verhinder dat die terapie enige skade sal aanrig.

7.1.3 Verwysing as verpligting

Die erkenning van eie onvermoë moet egter ook met die verantwoordelikheid om te verwys, gepaard gaan (Clinebell 1987: ). Dit veronderstel reeds ’n holistiese benadering waar op ’n interdissiplinêre vlak met ’n professionele span saamgewerk word. Daar word aan ’n interdissiplinêre benadering voorkeur gegee, omdat ’n intradissiplinêre benadering die gevaar loop om die pastor tot optrede te verlei waarvoor hy nie volledig toegerus is nie (oor interdissiplinariteit, sien Janse van Rensburg 2000:79-80). Die integriteit van die pastor hou egter nie by verwysing op nie. Dit sou ewe onverantwoordelik wees om ’n kliënt te verwys na ’n sielkundige of psigiater wat nie aan die pastor bekend is nie. Dit behoort byvoorbeeld vir die pastor belangrik te wees om te weet wat die kliniese benadering van die professionele persoon is na wie verwys word. Sal die sielkundige of psigiater minstens die Christelike konteks van die kliënt respekteer, al sou die sielkundige of psigiater nie self ’n Christen wees nie? Uit die vakliteratuur (sien voorbeelde in die bespreking by Janse van Rensburg 1987:359-360) en die navorser se jare lange ervaring in die gemeentelike bediening is daar ongelukkig talle voorbeelde van behandelingstegnieke wat binne die kliniese veld gegee word wat met die Christelike konteks van die kliënt teenstrydig is. Die pastor wat verwys sonder om hom/haar van hierdie struikelblokke te vergewis, word aan die gevolge mede-aandadig as die verwysing tot groter komplikasies van die probleem lei.

7.1.4 Inmenging met kliniese behandeling

Die ergste vorm van sabotasie, wat inderdaad ook aan kriminaliteit grens, is wanneer die pastor met die medikatiewe behandeling van die kliënt inmeng deur die kliënt te adviseer om medikasie te staak, die dosis te verander of sélf ander medikasie voor te stel. Dit mag wél gebeur dat die pastor deur sy waarneming en kennis van die kliënt onder die indruk mag verkeer dat die medikasie ’n negatiewe effek het. Wanneer dit gebeur, mag die pastor met die kliniese persoon wat die medikasie voorgeskryf het, die aangeleentheid bespreek. Onder geen omstandighede mag die pastor egter met die medikatiewe behandeling inmeng nie. Indien samewerking met die betrokke kliniese persoon onmoontlik blyk te wees, sou dit nie oneties wees nie indien die pastor die kliënt aanmoedig om ’n tweede kliniese opinie te verkry.

7.2 Etiese integriteit

Elke professionele beroep het ’n eie etiese kode. ’n Mens dink hier byvoorbeeld aan die mediese- of regsetiek. Sulke professionele gedragskodes word soms vanuit filosofiese grondmotiewe gefundeer. Mender (2002:1443) is geweldig positief oor die gebruik van Immanuel Kant se kategoriese imperatief vir die regulering van psigiaters se gedrag. Kant se eerste beginsel, dat jy so moet optree soos wat alle ander mense sou optree, behoort ’n belangrike etiese merker te wees, betoog Mender. Voeg hierby dat die kliniese persoon te alle tye volgens die Kantiaanse beginsel tot selfverloëning moet kom en met morele selfdissipline moet optree, en terapeute het ’n maatstaf (“yardstick”) waarvolgens hulle hul gedrag kan meet en selfsugtige motiewe kan temper.

Vir die pastor is die Skrifbeginsels normerend vir sy gedrag en professionele optrede. Dit het ’n hele aantal konsekwensies wat hier kortliks toegelig word.

7.2.1 Waarheid as pastorale beginsel

Talle Skrifuitsprake (Lev 19:11; Spr 14:5; Joh 3:21; 1 Kor 13:6; Ef 4:15,25; Kol 3:9, om enkeles te noem) beklemtoon die ononderhandelbare vereiste van waarheid in die Christelike spiritualiteit. Dit spreek dus vanself dat die pastor in sy pastorale optrede nie hierby uitgesluit is nie. Die integriteit van die pastor kan op velerlei wyse in die pastorale konteks in gedrang gebring word indien die waarheidsbeginsel gerelativeer word. Mender (2002:1443) verwys byvoorbeeld na die versoeking vir psigiaters om die diagnose van die kliënt aan te pas ten einde meer vergoeding te kan eis. Waar pastorale terapeute ook op vergoeding geregtig is, kan dieselfde versoeking geld, al sou dit dan nie wees om die diagnose te verander nie, maar byvoorbeeld deur die kliniese proses onnodig uit te rek.

Wanneer die pastor stellings maak wat nie waar is nie of waarvan die egtheid nie deur homself/haarself gekontroleer is nie, word verdraaide feite of verkeerde inligting aan die kliënt gebied waarop die kliënt mag reageer. Die pastor se spekulasie word soms as feite aangebied, terwyl eie oortuigings van die pastor met wetenskaplike kennis teenstrydig mag wees. ’n Mens dink hier aan ’n goed-bedoelende Adams (1973:26-40) wat met sy morele model die fenomeen van sielkunde, met alle moontlike patologieë wat daardeur beskryf is, verwerp en alles gewoon as sondige gedrag verklaar. In dieselfde trant wil Alma (2000:285-318) ’n Bybelse beraad as alternatief vir psigoterapie stel. Die depressiewe persoon moet met die Skrif gekonfronteer word. Met verwysing na 1 Joh 1:3-4 verklaar Almy: “Don’t assume that, armed with the latest psychological techniques, you are able to offer more than does the apostle John in this passage”. Só word ’n hele wetenskap van diagnose en noodsaaklike behandeling van die tafel gevee.

7.2.2 Eerbaarheid as pastorale beginsel

Waarheid veronderstel eerbaarheid. Eerbare optrede impliseer kongruensie tussen sê en doen. Die pastor moet wees wat hy/sy in die uitvoering van sy taak voorgee om te wees: herder, dienskneg, parakleet, vader, vriend of voog (Louw 1997:60-77). ’n Betroubare persoon is dus iemand wat vertrou kan word, iemand wat geglo kan word, ’n vriend (Odendal 1994:83). ’n Pastor mag dalk nie ’n leuen aan sy kliënt vertel nie, maar kan tog die waarheid deur oneerbare optrede in gedrang bring. Wanneer die pastor byvoorbeeld maak asof hy/sy empaties meeleef maar tog so deursigtig is dat die kliënt sy/haar onbetrokkenheid raaksien, kan daar nie langer van integriteit sprake wees nie, terwyl die effektiwiteit van die terapie ook deur die afwesigheid van empatie benadeel kan word (Steere 1984:47). ’n Sekere kliënt vertel byvoorbeeld van ’n pastorale terapeut wat in sy laaie rondkrap, opstaan en ’n boek in sy boekrak soek terwyl hy die kliënt aanhoudend aanmoedig om te praat, met die versekering “Ek hoor wat jy sê”. Onnodig om te sê dat die kliënt geweier het om ooit weer na die betrokke terapeut terug te gaan.

7.2.3 Kuisheid as pastorale beginsel

Die terapeutiese konteks is van so ’n aard dat die grens van welvoeglikheid na seksuele verhoudings met kliënte redelik maklik oorskry kan word. Epstein (1994:2) verwys na navorsing tussen 1973 en 1986 wat aandui dat tussen 5.5% en 13.7% van manlike terapeute seksuele verhoudings met hulle kliënte in daardie tydperk aangeknoop het. In ’n kwalitatiewe ondersoek wat onder predikantsegpare by ’n huwelikseminaar gedoen is, het Hulme, Brekke en Behrens (1985:57-58) bevind dat 54% van die aanwesige predikante nooit oorweeg het om aan hulle huweliksmaats ontrou te wees nie. Dit reflekteer 46% wat dit wél oorweeg het of by wie dit as moontlikheid opgekom het! Die probleem blyk onder predikante so algemeen te wees, dat Rassieur (1976:19-35) in hierdie verband verwys na “the problem clergymen don’t talk about”. In ’n openhartige boek bespreek Lloyd Rediger die seksuele probleme en afwykings wat by predikante voorkom. Dit blyk dat byna elke denkbare probleem of afwyking met predikante in verband gebring kan word. Lloyd Rediger bespreek hierdie probleme en afwykings aan die hand van werklike gevallestudies en kom tot die gevolgtrekking: “The reality is that clergy are sex offenders” (1990:27). Waar die pastor se roepingsbesef getaan het, word makliker tot sulke gedrag oorgegaan (Lloyd Rediger 1990:114-115).

Dit gebeur seker dikwels dat terapeute tot seksuele verhoudings verlei word, maar Epstein (1994:22) meen dat sulke verhoudings ook deur gewetenlose terapeute geïnisieer word, wat die kliënt se behoefte aan omgee en aanvaarding uitbuit om hulle emosioneel afhanklik te maak en vir gunste af te pers. Dit geskied deur geleidelike oortredings van die welvoeglikheidsgrense, deur oormatige en intieme selfopenbaring, die gee of ontvang van geskenke, die vra van gunste en die ontmoeting met kliënte buite terapie. Binne hierdie omlynde en wedersyds-aanvaarde grense kan die professionele proses gemaklik verloop. Epstein vergelyk dit met ’n verbondsverhouding wat as “a sacred promise” omskryf kan word (1994:15-18).

Wanneer hierdie vertrouensverhouding deur die pastor se seksuele wangedrag geskend word, is die konsekwensies vir die kliënt veelvuldig en destruktief. Só ’n kliënt voel verraai en daar is ’n gevoel van verlies aan selfrespek, geloof en aan God. Daar is verwarring en skaamte. Huweliksprobleme ontstaan dikwels uit sulke seksuele insidente. Die kliënt is in werklikheid in ’n etiese dilemma vasgevang. Dit voel soos verraad teenoor die predikant as hulle die teistering of misbruik aanmeld. Daarbenewens is daar nog die gesin van die kliënt wat in die proses seergekry het. Loyd Rediger (1990:28-31) verwys in hierdie verband na die “secondary victims”.

Die pastor moet erotiese gevoelens dus te alle tye en onvoorwaardelik beheer. Niks mag gedoen word om die weerloosheid en afhanklikheid van die kliënt uit te buit nie. Nog minder mag die pastor reageer op die flirtasies en suggesties wat die kliënt verbaal of met liggaamstaal mag kommunikeer. Die pastor se roepingsbewustheid, gepaardgaande met ’n streng professionele gedragskode (Rassieur 1976:27) behoort te verhinder dat ’n situasie kan ontwikkel wat die pastorale proses kan verongeluk, die pastorale beroep onherroeplik skade kan berokken en die pastor finaal kan kelder. In laaste instansie bly dit die pastor se verantwoordelikheid om in hierdie delikate saak te sorg dat die pastorale optrede en proses onberispelik verloop. Die terapeut is immers die keuses wat hy maak (Harbaugh 1984:34-37). Vriendskappe met kliënte, liggaamlike kontak en die aanvaarding of gee van geskenke moet ten alle koste vermy word, aangesien dit juis aanleiding tot verhoudings kan gee. Dit verg ’n pastorale volwassenheid (Kemme 1974:58) wat beide integriteit, vaardigheid en kundigheid veronderstel.

7.2.4 Leiding oor etiese aangeleenthede

Etiek is ’n onafskeidbare deel van pastoraat. Tog word dit in die resente tyd al hoe moeiliker om ’n eenvormige standpunt daaroor te formuleer. Een van die redes waarom die etiek in die pastoraat ongewild geraak het, is dat terapeute ’n vrees vir moralisering ontwikkel het. Etiese begeleiding wat moontlik deur die kliënt as veroordelend ervaar kan word, is dan vir empatie ingeruil. Pattison (1988:33-46) meen dat die pastorale verlede wél deur die karakter van veroordeling getipeer kan word. Sodanige veroordeling het natuurlik in die weg van die pastorale proses gestaan. Al is dit dan so, betoog Pattison, dat die morele aspekte van ’n pastorale konteks voorlopig tussen hakies geplaas moet word, sodat die terapeutiese proses nie ondermyn of onderbreek word nie, moet die etiek tóg weer sy regmatige plek in die pastoraat inneem.

’n Oorontwikkelde empatie kan die kliënt binne sy/haar eie horison van skuld of bitterheid gevange hou en só die pastorale proses ontmagtig (Pattison 1988:49-50). Waar daar nie ’n moontlikheid vir vergifnis, versoening en “closure” geskep word nie, kan ernstige skade aangerig word (Patton 1993:180-181). Dit spreek egter vanself dat die hantering van konfrontasie met aanvaarding, takt en sensitiwiteit gepaard moet gaan ten einde te verhinder dat die kliënt aan verdere misbruik blootgestel word (Patton 1993:182-183).

Die afwesigheid van die etiek in die pastoraat kan inderdaad daaraan toegeskryf word dat ’n hermeneutiese (induktiewe) benadering in die pastoraat al hoe meer die konteks van die individu verreken, eerder as om op ’n deduktiewe wyse na etiese normering vir gedrag te soek (Janse van Rensburg 1999:158-167; 2000:64-75). Die gevolg is dat ’n nondirektiewe en kliëntgesentreerde benadering, waarin die kliënt die “expert” is (Anderson en Goolishian 1992), al hoe minder met die Christelike etiek omgaan. Hoe die pastor dus berading oor etiese vraagstuk doen, sal grootliks van die paradigmatiese vertrekpunt afhang.

Die vraag is egter of die pastor se pastorale integriteit nie in gedrang kom as ’n Skrifgefundeerde Christelike etiek plek moet maak vir ’n subjektief-kontekstuele etiek, waarin die kliënt sélf die unieke uitkoms bepaal waarmee die beste saamgeleef kan word nie. Louw (1997:469) is tog reg as hy in sy pastorale antropologie die sedelike dimensie toevoeg. Die mens is as ’n morele wese geskape en in die ontmoetingsgebeure tussen God en mens, waarin daar ’n fusie tussen God se verhaal en die kliënt se verhaal moet kom, kan die etiese dimensie nie buite rekening gelaat word nie. Hoe kan die pastor, as hy/sy werklik ’n ontmoetingsgebeure wil fasiliteer (Louw 1997:92-96; Klein Kranenburg 1988:141), oor belangrike etiese kwessies swyg? Meer nog, hoe kan die pastor die kliënt in ’n unieke uitkoms steun, as daardie uitkoms lynreg teen die etiese normering van die Skrif ingaan?

Toegegee, daar is situasies waarbinne ’n nondirektiewe, kliënt-is-die-”expert”-benadering, wenslik is (Epstein 1994:145-149). Daar is ook die moontlikheid dat ’n direktiewe benadering deur die terapeut vir persoonlike gewin of onsuiwer motiewe misbruik kan word (Epstein 1994:154-155). Dit sluit onder andere in dat die terapeut sy/haar posisie en invloed, gepaard met die verleentheid en afhanklikheid van die kliënt, mag gebruik om sy/haar eie godsdienstige, morele en ander oortuigings op die kliënt af te dwing. Weliswaar veronderstel dit nie dat die pastor sy/haar waardes en beginsels in die terapeutiese proses moet opskort en sy terapie “neutraal” moet beoefen nie. Pastorale direktiewe behoort egter deurgaans met respek teenoor die kliënt se reg tot keuse en besluitneming plaas te vind (Steere 1984:29-32).

Nog ’n aspek wat deur die pastor in hierdie verband verdiskonteer moet word, is dat ’n nondirektiewe benadering vir die kliënt problematies kan wees, juis omdat die kliënt vanweë sy/haar psigiese, fisiese en geestelike toestand nie in staat is of kompetent voel om self insig te hê of besluite te neem nie. Waar die pastor in sulke omstandighede hardnekkig ’n nondirektiewe “kliënt-is-die-”expert”-benadering volg, kan die pastorale proses maklik misluk. ’n Mens sou kon vra of die terapeut in só ’n geval nie die kliënt in die steek laat nie?

7.2.5 Persoonlikheidsintegriteit

Persoonlikheidsintegriteit staan in die allernouste verband met die pastor se eie persoonlikheidsintegrasie. Volgens Kruijne (s.j.:240) kan intrapsigiese en maatskaplik-kulturele faktore maklik tot identiteitsversteurings aanleiding gee. Pearson is oortuig dat ’n pastor wat nie geestesgesond is nie, se vermoë om ander te help, drasties deur sy eie persoonlikheidsprobleme ingekort word. Hy skryf: “[I]t is not likely that a deseased mind will make other minds healthy, that a twisted heart will set other hearts straight, or that an empty soul will fill other souls with strength and peace” (1959:70). Selfs professionele kundigheid en die vaardigheid om besluite te neem, kan nie kompenseer vir persoonlikheidsgebreke nie (Kaplan 1999:3-17). As die pastor dus nie psigies volwasse is nie (Overduin 1967; Wijngaarden 1959) of nie geloofsvolwassenheid openbaar nie (Louw 1997:248-256), kan allerlei probleme manifesteer wat sy professionele optrede nadelig kan beïnvloed. Harbaugh (1984:71) wys byvoorbeeld daarop dat die pastor vanweë sy persoonlikheidsamestelling of ’n verkeerde verstaan van sy amp altyd in beheer wil wees. Hierdie swakheid in die pastor se mondering kan aanleiding gee tot ongeduld, ’n dominerende benadering of kinderagtige reaksies as hy/sy teengegaan word. Ekstrovertisme, ’n histrioniese persoonlikheid of passiewe aggressie (Oates 1987), om maar enkeles te noem, kan ernstige struikelblokke op die weg na pastorale professionaliteit wees. Selfs net die onvermoë tot selfverloëning (Harbaugh 1984:127), die onvermoë om stres te hanteer (Harbaugh 1984:57-59) of ’n geneigdheid tot perfeksionisme (Harbaugh 1984:70) kan die pastorale prestasievermoë van die terapeut negatief beïnvloed. Daarvoor moet die pastor egter genoeg geestesgesondheid hê om tot selfinsig te kom en tot konstruktiewe optrede in staat te wees om voorkomend op te tree en professionele hulp te soek2 .

7.3 Arbeidsintegriteit

Arbeidsintegriteit beteken dat die terapeut “in die sweet van sy aansig sy brood moet eet”. Anders gesê, terapeutiese arbeid verg toegewyde en harde werk. Hier gaan dit byvoorbeeld oor die plig van die pastor om vir die kliënte beskikbaar te wees en om vir elke ontmoeting deeglik voor te berei. Dit sluit in dat die pastor voor die ontmoeting homself/haarself van die besondere feite en omstandighede van ’n bepaalde kliënt sal vergewis, die geheue oor die bepaalde strategie waarop in vorige ontmoetings ooreengekom is, sal verfris, en vas sal stel waar die vorige gesprek geëindig het, ten einde sinvolle voortgang te bewerk. Indien navorsing oor verwante aspekte van die probleem nodig is, behoort die pastor moeite te doen om die inligting voor die volgende ontmoeting te bekom.

7.4 Vertroulikheidsintegriteit

Almal stem saam dat die vertroulikheidsprivelege ononderhandelbaar is. Epstein (1994:181) stel dit só: “A patient owns his or her thoughts, emotions, and secrets. This is the basic meaning of patient privelege”. Dit impliseer dat die kliënt die reg moet hê om sélf te besluit of inligting oor hom/haar bekend gemaak mag word. Hierdie vryheid vorm die kern van vertroulikheid (Steere 1984:34). Nowell en Spruill (1993:367-369) het met kwalitatiewe navorsing bevind dat, indien die kliënt nie die versekering het dat die terapeutiese proses vertroulik gehou sal word nie, die kliënt om begryplike redes nie maklik met sensitiewe of selfs skokkende inligting vorendag sal kom nie. Dit mag beteken dat die terapeutiese proses tot ’n groot mate tot mislukking gedoem is (Voigt 1995:5).

Baie terapeute is bereid om vir minagting van die hof tronkstraf uit te dien, eerder as om hierdie privelege prys te gee. Epstein (1994:184) wys egter daarop dat regslui in sekere gevalle ’n hofbevel kan aanvra om die terapeut as getuie in ’n hofgeding te roep of om inligting uit die lêer van die kliënt te bekom. Ongelukkig is nie almal so gebonde aan hierdie kode van vertroulikheid nie. Dit gebeur dikwels dat vertroulike inligting oor kliënte uitlek of met ander bespreek word. Daar is selfs die moontlikheid om op ’n onbedoelde of indirekte wyse die beginsel van vertroulikheid te verbreek. Die terapeut behoort egter so radikaal aan hierdie kode verbonde te wees dat kliënte en hulle persoonlike besonderhede selfs (dalk veral) nie met die huweliksmaat bespreek mag word nie. Epstein (1994:188-189) het met kwantitatiewe navorsing vasgestel dat 67.9% van psigiaters in sy ondersoek vertroulike inligting met huweliksmaats bespreek het.

Ons het hier egter nie met ’n eenvoudige saak te doen nie. Voigt (1995:1) noem dit “’n besondere turksvy in die etiek van sielkundige behandeling”, vanweë ’n toename in die kompleksiteit van die gemeenskap, wat daartoe gelei het dat die terapeut nie alleen ’n verantwoordelikheid teenoor die kliënt het nie, maar ook teenoor die gemeenskap. Gevolglik word die vraag al hoe meer aktueel: “Is die eis tot vertroulikheid absoluut”? Is daar geen omstandighede waaronder die etiese kode verbreek mag word nie, of dat dit selfs ’n etiese vereiste mag wees om die swyggebod te oortree nie? Gestel ’n kliënt wat ’n laerskoolopvoeder is, sou aan die terapeut erken dat hy ’n pedofiel is, sou dit nie dan juis moreel verkeerd wees as die selferkende pedofiel onder die swyggebod toegelaat word om onder die skoolkinders met sy onheilige praktyke voort te woeker en so kinders se lewe en onskuld te verwoes nie? Word die terapeut deur sy swygsaamheid nie dan mede-aandadig aan die kriminaliteit wat mag volg nie? ’n Hofuitspraak in die saak van Tarasoff teen die bestuur van die Universiteit van Kalifornië het onteenseglik beslis dat die vertroulikheid teenoor die kliënt ondergeskik is aan die plig teenoor die gemeenskap (Voigt 1995:2-3). Saam met Bullis (1990:75-84) moet ons dus konkludeer dat die eis tot vertroulikheid nie verabsoluteer mag word nie. Cooper (1977:20-32) waarsku tereg dat boosheid nie toegelaat mag word om agter die vertroulikheidsreël weg te kruip nie.

Epstein (1994:184-185) gee toe dat daar uitsonderlike omstandighede (soos hierbo) mag wees, waar vertroulikheid nie ten alle koste gehandhaaf behoort te word nie. Smith en Smith (2001:441) verwys na drie uitsonderings:

• As die deurgee van relevante inligting oor ’n kliënt tot die welsyn en voordeel van die kliënt sal strek

• As die deurgee van inligting noodsaaklik is om die welsyn van ander te beskerm (sien ook Steere 1984:37)

• As vertroulike inligting deur die Staat benodig word om misdadigers aan die pen te laat ry.

Ons het hier met ’n etiese kompromie te doen, waarin die besluit van die terapeut om inligting oor ’n kliënt bekend te maak, ’n geringer oortreding sou wees as die oortredings wat uit sy swygsaamheid voort kan vloei. Dit mag nodig wees vir die terapeut om relevante inligting in te win, ten einde met groter stelligheid te kan antisipeer of die kliënt tot skadelike gedrag in staat is of daartoe sal oorgaan (Voigt 1995:28). Smith en Smith (2001) verwys inderdaad na ’n geval waar die terapeut deur die wet verplig was om kinderverkragting aan te meld. Die swyggebod is egter nie sonder die medewete en goedkeuring van die gesin verbreek nie. As algemene beginsel konkludeer Smith en Smith (2001: 439) dat die terapeut die welsyn van al die gesinslede in aanmerking moet neem.

7.5 Geloofsintegriteit

Pastorale terapie is per definisie slegs pastorale terapie as die Christelike geloofsdimensie in die benadering en proses ’n betekenisvolle rol speel. ’n Pastorale terapeut staan dus onder ’n morele verpligting om ook aan sy/haar eie geestelike huis te bou, ten einde ’n geloofsintegriteit uit te straal waardeur kliënte, wat per voorkeur by ’n pastorale terapeut om hulp aanklop, geloofmatig begelei en ondersteun kan word.

Pastoraat binne ’n verbondgefundeerde konteks (Janse van Rensburg 1996) staan immers in die teken van ’n ontmoetingsgebeure, ’n fusie tussen die Godsverhaal en die mens se verhaal, ten einde tot heil en heling te kan kom (Louw 1997:389-390). Waar die geloofsdimensie in die pastorale proses ontbreek of waar die terapie in die weg van so ’n ontmoetingsgebeure staan, word die pastorale integriteit in gedrang gebring. Belangrik in hierdie verband is Louw (1997:213-215) se standpunt dat die pneumatologiese perspektief aan die pastor ’n unieke identiteit gee wat die pastorale karakter van die beraad tipeer. Die pastoraat verkry naamlik ’n priesterlike karakter waarin die pastor God se medelye met die mens kommunikeer. Waar die pastor nie aan hierdie unieke identiteit in sy pastorale aksie getrou is nie, kan die gesindheid van die pastor, die hantering van die kliënt, die inhoud van sy/haar deelname aan die gesprek en die begeleiding van die terapeutiese proses die pastorale integriteit ingrypend beïnvloed.

Tereg is pastorale antropologie en Christologie onlosmaaklik verweef (Van Jaarsveld 2001:24-25). Dit beteken egter nie dat die pastor die pastorale gesprek in bekeringsessies behoort te laat ontaard nie. Waar die pastoraat volledig in sondevergifnis en die proklamering van die genade in Christus opgaan (soos by Thurneysen (1968:186, 195), word die wederkerige aard van ’n pastorale proses ingeruil vir ’n oorvereenvoudigde benadering van “Jesus is die antwoord”, sonder om werklik vas te stel wat die vraag is. Dit neem egter nie weg nie dat as die kliënt ’n behoefte het om oor sondeskuld, berou, bekering en geloof te praat, dit nie geïgnoreer of weggepraat mag word nie (Trimp 1981). Dit is dus ’n wesenlike saak om na die spiritualiteit van die pastor te vra. Ander fasette van die pastor se lewe, soos emosionele en gesinstabiliteit (Southard 1959:41-52) is ook onontbeerlike vereistes om pastorale integriteit te verseker.

Pastorale antropologie is egter ook onlosmaaklik aan die pneumatologie verbind (Rebel 1981). Die pastor se spiritualiteit word immers bepaal deur die wyse waarop hy/sy die Heilige Gees toelaat om sy persoonlike lewe, sy geloofslewe en sy pastorale bediening te rig. Die pneumatologiese dimensie van die pastorale proses fasiliteer die wonder van ’n ontmoetingsgebeure waarin die mens se verhaal met God se verhaal betekenisvol kan saamsmelt. Sonder die Heilige Gees is niks hiervan moontlik nie en ontaard die pastoraat in ’n ekshibisionisme van tegniese vaardighede en vindingryke strategieë.

8. GEVOLGTREKKINGS

Smith en Smith (2001:442) se pleidooi, dat daar ernstig na professionele integriteit gestrewe moet word, mag nie op dowe ore val nie. Elke terapeut sal kennis moet neem van die noodsaaklikheid om professionele integriteit in sy vele dimensies en in alle opsigte na te streef en alles te doen wat moontlik en nodig is om hierdie ideaal te bereik en te handhaaf.

BIBLIOGRAFIE

Adams, Jay E 1973. Competent to Counsel. Presbyterian and Reformed Publishing Company.

Alma, G L 2000. How Christian is Christian counseling? Wheaton: Crossway Books.

Anderson, H & Goolishian, H 1992. The client is the expert: a not-knowing approach to therapy. In: McNamee, S & Gergen, K J (Eds), Therapy as social construction. London: Sage.

Bullis, R K 1990. When confessional walls have ears: the changing clergy privileged communications law. Pastoral Psychology, 39:75-84.

Capps, D 1990. Reframing – a new method in care. Minneapolis: Fortress Press.

Clinebell, H 1987. Basic Types of Pastoral Care and Counseling. Nashville: Abingdon Press.

Cooper, R M 1977. Confidentiality. Anglican Theological Review, 59:20-32. De Klerk, J J 1978. Herdekunde. Pretoria: N G Kerkboekhandel.

De Klerk, J J 1981. Pastoraat en die ander “pastorale” wetenskappe. Professorale intreerede. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat.

Epstein, R S 1994. Keeping Bounderies. Maintaining Safety and Integrity in the Psychotherapeutic Process. Washington: American Psychiatric Press.

Harbaugh, G L 1984. Pastor as person. Minneapolis: Augsburg Publishing House.

Heitink, G 1979. Pastoraat als hulpverlening: Inleiding in de pastorale theologie en psychologie. Kampen: Kok.

Hulme, W E, Brekke, M L en Behrens, W C 1985. Pastors in Ministry. Minneapolis: Augsburg Press.

Janse van Rensburg, J 1987. ’n Kritiese ondersoek na die moontlike gebruik van hipnose in die psigo-pastorale arbeid. UNISA: Ongepubliseerde doktorale proefskrif.

Janse van Rensburg, J 1996. Verbond en pastoraat. NGTT 37(1):152-165.

Janse van Rensburg, J 1999. Etiek en pastoraat in hermeneutiese konteks. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 39(2):158-167.

Janse van Rensburg, J 2000. The Paradigm Shift. Pretoria: Van Schaik.

Kaplan, D 1999. Models of ethical decision making in marriage and family counseling. In: Stevens, P (Ed), Ethical casebook fot the practice of marriage and family counseling. Alexandria, V A: American Counseling Association:3-17.

Kemme, B J A 1974. Psychohygiéene en zielzorg. Lochem: Tijdstroom.

Klein Kranenburg, E S 1988. Trialoog: De derde in het pastorale gesprek. s’Gravenhage: Boekencentrum.

Koocher, G P en Keith-Spiegel, P 1998. Ethics in Psychology. Oxford: Oxford University Press.

Kruijne, T s j De pastor en zijn identiteit in het geding…..

Lloyd Rediger, G 1990. Ministry and sexuality. Minneapolis: Fortress Press.

Louw, D J 1997. Pastoraat as vertolking en ontmoeting. Kaapstad: Lux Verbi.

Luttig, R M & Du Plessis, P 2002. Let op gehalte van berading. Volksblad 14 Februarie 2002.

Mender, D 2002. Moral dilemmas faced by Psyciatrists. American Journal of Psychiatry, vol.159(8):1443.

Miller, F G, Rosenstein, D L en DeRenzo, E G 1998. Professional Integrity in Clinical Research. JAMA 280(16):1449-1453.

Nowell, D & Spruill, J 1993. If it’s not absolutely confidential, will information be disclosed? Professional Psychology:Research and Practice, 24:367-369.

Oates, W 1987. Behind the mask. Louisville: The Westminister Press.

Odendal, F F (red) 1994. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Doornfontein: Perskor.

Ones, D S; Viswesvaren,C en Schmidt, F L 1993. Comprehensive meta-analysis of integrity test valitities:: Findings and Implications for Personnel Selection and Theories of Job Performance. Journal of Applied Psychology, Vol.78(4):679-703.

Overduin, J 1967. Worden als een man. Wageningen: Zomer & Keunings Uitgeversmaatschappij. Patterson, S 1988. A Critique of Pastoral Care. London: S C M Press.

Patton, J 1993. Pastoral care in context. Louisville: Westminister Press.

Pearson, R 1959. The ministry of preaching. New York: Harper & Brothers.

Rassieur, 1976. The problem clergymen don’t talk about. Philadelphia: Westminister Press.

Rebel, J J 1981. Pastoraat in pneumatologisch perspektief. Kampen: Kok.

Smith, J A en Smith, A H 2001. Dual Relationships and Professional Integrity: An Ethical Dilemma Case of a Family Counselor as Clergy. The Family Journal: Counseling and Therapy for Couples and Families, Vol. 9(4):438-443).

Southard, S 1959. The pastor as a marriage counselor. In: Oates, W E (red) An introduction to pastoral counseling. Nashville: Broadman Press.

Steere, J 1984. Ethics in clinical psychology. Cape Town: Oxford University Press.

Stone, J, Wiegand, A W, Cooper, J en Aronson, E 1997. When Exemplification fails: Hypocrisy and the Motive for self-integrity. Journal of Personality and Social Psychology, Vol.72(1):54-65.

Thurneysen, E 1968. Seelsorge im Vollzug. Zürich: EVZ-Verlag.

Trimp, C 1981. Media Vita. Groningen: De Vuurbraak.

Van Jaarsvel, F J 2001. Die rol van Godskonsepte vir pastorale terapie: ’n Konstrukteoretiese benadering. Bloemfontein: Ongepubliseerde doktorale proefskrif.

Voigt, C M 1995. Die hantering van vertroulike inligting in hulpverlenende professies: ’n vergelykende ondersoek. Bloemfontein: Ongepubliseerde Magisterskripsie.

Waltz, J, Addis, M E, Koerner, K 1993. Testing the integrity of a psychotherapy protocol: assessment of adherence and competence. Journal of consulting and Clinical Psychology, vol.61(8):620-630.

Wijngaarden, H R 1959. Hoofdproblemen der volwassenheid. Utrecht: Bijleveld.

1 Twee sulke gevalle is aan die navorser bekend.

2 Louw (1997:253-254) tipeer geestesgesondheid as ’n kombinasie van psigiese en geloofsvolwassenheid. Dit veronderstel ’n dinamika van selfinsig, konstruktiewe gedrag, kommunikasie en gesonde verhoudings.