Lategan, L O K
Sentrale Universiteit vir Tegnologie, Vrystaat

Die kerk as kragsentrale vir die wêreld: Opmerkings oor die kerk se advies en dienswerk1

ABSTRACT

The church as powerstation for the world: Remarks on the church’s advice and service work.

This article asks the question whether the church makes any difference to the world. The author argues that the church can be a powerstation for the world through the church’s advice and service. The purpose of this article is therefore to outline the role of the church in society through its (the church’s) advice and service. The author argues that since the church is the body of Christ it cannot isolate itself from society. The church has the responsibility to advise its community to the alternative of God’s kingdom. In addition, service to the kingdom of God is synonymous with the church. It is therefore obvious that both service and advice should be defined in Christ.

Paragraph one outlines the reason why the church is part of the society. The second paragraph provides the focus for the article. The third paragraph gives historical reasons for the church’s involvement with society. Paragraph four and five debates the theological and Biblical foundations for the church’s service and advice. In paragraph six a modern day confession for the church’s advice and service is suggested.

1. PROBLEEMSTELLING: MAAK DIE KERK ’n VERSKIL AAN DIE WÊRELD?

’n Bekende gesprek binne kerklike kringe is wat die verhouding van die kerk tot die wêreld moet wees. By wyse van taalhandeling word dan geantwoord dat die kerk nie van die wêreld is nie maar tog ’n verskil in die wêreld moet maak. Sonder om die meriete hiervan te beoordeel, is dit juis die laaste deel van die opmerking wat geen kerklidmaat se aandag mag ontsnap nie. Maak die kerk ’n verskil in die wêreld?

Die onmiddellike antwoord is Ja. Om dit te bevestig word verskillende beelde gebruik. Twee bekende beelde is die kerk as ’n vreemde geloofsgemeenskap en die kerk as proeftuin van God (formulerings uit die Ope Brief, sien Bosch, König & Nicol, 1982). Die bedoeling van die kerk as vreemde geloofsgemeenskap is dat die geloof is in ’n Iemand en sy leer wat nie gerasionaliseer kan word nie. Geloof is belangriker as wete en vertroue groter as kennis. Die betekenis van die kerk as proeftuin is dat die kerk die ideale gemeenskap moet wees soos die bedoeling voor die sondeval was.

Maar, is hierdie verskil genoeg? Maak hierdie beelde enige verskil aan die kerk se rol in die wêreld? Tot my teleurstelling bely die kerk te min dat sy die liggaam van Christus is, is haar dade te flou en haar eienskap as geloofsgemeenskap te onsigbaar. ’n Rits voorbeelde kan genoem word: Die dominee-amp word lankal nie meer gesien as die “onaantasbare gesalfde van God nie”. Die lidmaat word as kliënt beskou; kerklike prediking moet meeding met die televisie en massabyeenkomste; die pastoraat moet kompeteer met ’n reeks van terapeute wat beskikbaar is; die kerk is nie meer staatskerk nie; die kerklike koffers word al hoe kleiner maar die behoeftes al hoe groter; vrae word gevra oor geloof, God, die postmoderne wêreld en wat die karakter en persoonseienskappe van die dominee nou moet wees.

Naas hierdie rolverandering het daar by die kerk ook ’n klemverskuiwing plaasgevind. Waar die kerk, by name die N G Kerk, gedurende die tweede helfte van die vorige eeu veral deur politieke gedienstigheid gekenmerk is, het die klem nou verskuif na maatskaplike betrokkenheid (sien Rossouw 1991). Eers is regverdiging in die preke gevind vir die owerheid se optrede; nou word die regering aangespreek oor wat dit doen/behoort te doen.

Onderliggend aan hierdie rolverandering en klemverskuiwing, lê die postmoderne geloof en die belewenisekonomie. Om dit kortliks te staaf:

Du Toit (2000) en Strauss (2002) is reg as hulle daarop wys dat die gees van die postmoderne geloof die mens se geloofsekerhede kom bevraagteken het. Reg of verkeerd, maar rasionaliteit word as “voorwaarde” vir geloof gestel.

Piët (2003) wys daarop dat in die belewenisekonomie gaan dit oor die menslike emosie wat ’n mens se verbuikersbehoeftes beïnvloed. Dit het onder meer na die kerk deurgevloei met die resultaat dat lidmate hulle toenemend as kliënte beskou en dieselfde vereistes aan die kerk as besigheid stel as wat hulle van die bedryfslewe verwag (sien Lategan 2004) of dat die kerk (as kliënt) ook ’n belang het by die bekamping van onbeheerste verbruikersbehoeftes (sien Conradie & Pauw 2002).

Die aktuele vraag is dus hoe moet die kerk ’n verskil maak in die wêreld te midde van al hierdie uitdagings en behoeftes? Hoe funksioneer die kerk in ’n samelewing waar die Christelike godsdiens moet kompeteer met ander godsdienste? Hoe gereed is die kerk vir die Afrika Renaissance? Kan die kerk Nepad ’n realiteit maak? Is die kerk bewus van die uitdagings wat op haar wag? Kan die kerk tegelyk haar profetiese stem laat hoor maar ook haar priesterlike diensfunksie voltooi? Loop die kerk nog soos die Leviet en die priester by die gewondes van die samelewing verby? Maak die kerk ’n verskil in die wêreld?

2. FOKUS VAN DIE ARTIKEL

Die fokus van hierdie artikel is om kortliks vanuit ’n literatuurstudie te argumenteer dat die kerk in hierdie wêreld is en dat die kerk ’n verskil in hierdie wêreld moet maak. Dit kan die kerk doen deur haar advies- en dienswerk. Hierdeur kan die kerk ’n kragsentrale vir die wêreld wees.

3. BEVESTIGING: DIE KERK AS DEEL VAN DIE WÊRELD

“Aan de andere kant kan ik als predikant het wereldgebeuren niet negeren. Daar kan geen kerk omheen” (Blenk, 1988:13).

Die kerk, die universiteit en die owerheid is die drie oudste sosiale instellings. Die geskiedenis van die kerk in die algemeen loop parallel naas hierdie twee instellings. Wie mooi kyk na die pad van hierdie drie instellings kan dikwels net een lyn sien – so vervleg is hulle met mekaar se wel en weë. So byvoorbeeld het ’n instelling dikwels die invloed van die ander twee instellings verreken wanneer oor die instelling se eie betrokkenheid in die samelewing nagedink is. Byvoorbeeld: Uit kerklike kringe is seker die bekendste voorbeelde die N G Kerk se (her)siening van onder meer volkere/ras verhoudings in Kerk en Samelewing (1986, 1990); die gewetensklousule aan universiteite en kerklik-gefundeerde teologiese opleiding in kweekskole en Teologiese Fakulteite. Dat die kerk se bande met die owerheid soms te heg was, is ook ’n feit. As voorbeeld kan maar net genoem word die verwysing na die “Nasionale Party as die N G Kerk in gebed”, die wyse waarop Afrikaanse kerke Artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis verstaan het (die verhouding tussen kerk en owerheid) (Heyns 1989:333 e.v.) en die politieke rol van die kerk gedurende die Apartheidsregering (sien Meiring 2003). Binne die konteks van die universiteit was dit nie anders nie. So is kommer uitgespreek oor die min predikante op byvoorbeeld die destydse Universiteitsraad van die UKOVS omdat dit nie bevorderlik vir die Christelike moraal was nie! (sien Lategan 1989:117-118).

Die teendeel is natuurlik ook waar: Hierdie instellings was ook nie altyd ten gunste van so ’n intieme verhouding nie. ’n Bekende voorbeeld uit die verlede is die stigting van die Vrije Universiteit van Amsterdam in 1880 met die uitsluitlike doel om universiteit te wees sonder die inmenging van die kerk en die owerheid2.

Uit hierdie enkele voorbeelde wat nie tot die owerheid en die universiteit beperk kan word nie, kan baie afleidings gemaak word. Die een waarvoor ek kies, is seker die bekendste afleiding maar ook die belangrikste: Die kerk is deel van die geskiedenis van die wêreld: Wat in die wêreld gebeur, beïnvloed die kerk; wat in die kerk plaasvind, het ’n invloed op die wêreld. Soms is die invloed van die kerk sterker op die wêreld en soms weer omgekeerd; dit is nie noodwendig in balans nie (sien byvoorbeeld Blenk 1988 vir ’n bespreking hiervan).

Die rede hiervoor is tog voor die hand liggend: Ons is die kerk (lede van die liggaam van Christus) maar ook die wêreld (as lede van die liggaam van Christus deel ons in verskeie samelewingsvorme, -verbande en -verhoudings).

Wie dit so sien, sal weet dat die kerk die wêreld moet verstaan en ook haar lidmate moet toerus om in die wêreld te staan. Ek sou daarom die kerk graag as die kragsentrale vir die wêreld wou sien. Christus het immers na ons as die sout van die aarde en die lig van die wêreld verwys (Matt 5:13-14). Dit is veral die sout-metafoor wat belangrik is. Sout is onder meer gesien as helende en preserverende middel en simbool van getrouheid en konstantheid (Van der Walt et al. 2003:600). Al hierdie eienskappe van die kerk moet in die wêreld teruggevind word. Volgens my kan ons dit net wees as die kerk ’n belydende kerk is en dat hierdie belydenis in dade omgesit moet word. Jakobus 2:14-26 herinner ons daaraan dat ons geloof uit ons dade spreek en ons dade moet ons geloof bevestig.

Die probleem vraag is steeds hoe kan die kerk hierdie uitdaging ontmoet?

4. ’N NUWE UITDAGING AAN DIE KERK

Van Zyl (2003) skryf dat in die verbruikersamelewing die kerk in ’n advies- en diensbesigheid is. Met advies word bedoel dat dit net die kerk is wat deur sy prediking ’n ware visie vir en refleksie van ’n alternatiewe gemeenskap kan wees: Die koninkryk van God. Die bedoeling van diens is dat die kerk vir mense moet omgee en hulle lewens positief moet beïnvloed. Binne die konteks van die kerk as geloofsgemeenskap moet die kerk oor geloof “adviseer” en die geloof van sy lidmate bedien. Hierdie advies- en dienswerk moet in Christus gefundeer wees en het te doen met die koinonia en diakonia van die kerk. Koinonia is die diensbaarheid van gelowiges teenoor mekaar en diakonia die diens van die gelowiges aan die kerk (sien Lategan 2001). Burggraeve (1997:150) verwys hierna as die “etiese moederskap” van gelowiges. Indien Christus nie die vertrekpunt van die advies- en dienswerk is nie, dan kan dit nooit ’n kerklike karakter dra nie en word dit dan tipies van ’n terapeutiese model en/of maatskaplike organisasie. Die kerk is dit nie, maar het wel eienskappe hiervan as liggaam van Christus. Hierdie beeld (naas die ongeveer 20 ander beelde, benamings en aanduidings vir die kerk by Paulus) moet die eiesoortigheid/uniekheid van die kerklike advies- en dienswerk bepaal. Hiervoor is dit nodig om die kerk dan in ’n korporatiewe sin te verstaan. Die Pauliniese ekklesiologie is handig om die korporatiewe sin te verduidelik. Roberts (1984:301-309) merk op dat by Paulus het die korporatiewe sin twee betekenisse: Eerstens dui dit op ’n verbondenheid van gelowiges aan Christus. Christus is hulle Verteenwoordiger en die gelowiges sy verteenwoordigdes. Tweedens beklemtoon dit die onderlinge verbondenheid van gelowiges teenoor mekaar. Hierdie verbondenheid beklemtoon dat die kerk een is en dat dit tot sigbare uitdrukking moet kom.

Wat die kerklike advies- en dienswerk betref, kan die corpus Paulinum nuttig gebruik word om hierdie aksies in perspektief te plaas.

4.1 Advieswerk

Twee perspektiewe kan hier verder ontwikkel word. Eerstens die Christelike leefwyse (etiek) en tweedens die verwagting van ’n nuwe skepping (eskatologie).

Wat die Pauliniese etiek betref, is die nuwe lewe in Christus die vertrekpunt (Lategan 1984:323). Hierdie nuwe lewe word deur ’n indikatief en ’n imperatief bepaal. Neem die volgende twee voorbeelde:

“Ons lewe deur die Gees (heilgewing = indikatief); laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal (etiese oproep = imperatief) (Galasiërs 5:25).

“… julle het gesterwe, julle lewe is saam met Christus verborge in God (heilgewing = indikatief) … Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is (etiese oproep = imperatief) (Kolossense 3:3, 5).

In die Pauliniese etiek vervul die liefde ’n unieke posisie. Hiervan is Paulus se bekende uitspraak dat die liefde die allerbeste uitweg is, seker die beste voorbeeld (1 Kor 13). Soortgelyk is sy opmerking in Romeine 13:10 dat die liefde die naaste geen kwaad aandoen nie. Die liefde hier is ’n liefde wat die liefde van God in Christus tot voorbeeld het (vgl Ef 5:1-2; Fil 2:1vv; Lategan 1984:329). Van hierdie liefde sê Lategan (1984:329):

“Dit is ’n weerspieëling van die kwaliteit van Jesus se eie optrede – sy selfnegerende prysgawe, sy lydingsbereidheid, sy nederigheid en gehoorsaamheid.”

Hierdie liefde moet in die kerk as ’n saambindende en opbouende funksie teruggevind word. Die kerk moet hierdie liefde verkondig om neerslag te vind in temas soos die huwelik (sien Lategan 1984:330).

In die Pauliniese eskatologie is daar verskeie begrippe wat ingespan kan word in advieswerk. Een hiervan is die beloftebegrippe. Met beloftebegrippe word woorde en uitdrukkings bedoel wat direk verband hou met die beloftes van God (Coetzee 1984:336). Die woordgroep “hoop” (elpís- elpízo) is ’n voorbeeld hiervan. By Paulus is hoop die “absoluut sekere, God-geborgde toekomsverwagting van gelowiges” (Coetzee 1984:340). Hierdie hoop transendeer alle logika en berus op die absolute vertroue in dit wat die Here beloof het.

4.2 Dienswerk

1 Korintiërs 12:14 vv verwys na die liggaam wat uit baie lede bestaan. Elke lid behoort aan die liggaam in sy geheel. Die betekenis van hierdie beeld is dat in die liggaam moet almal met mekaar saamwerk en kan die “voet” nie sê omdat hy nie die hand is nie, behoort hy nie aan die liggaam nie. Hoewel die lede elkeen met verskillende gawes (charísmata) toegerus is, behoort dit nie steurend op die liggaam in te werk nie. Inteendeel, die verskillende charísmata behoort juis die veelvuldige dienswerk van die kerk te komplementeer (Roberts 1984:311-312).

’n Belangrike verstaan van die dienswerk van die kerk is nie net dit wat konkreet gedoen word nie, maar dit gaan ook oor die positiewe beïnvloeding van die lewens van mense (Roberts 1984:312-313). Die opmerking is net duidelik wanneer die omstandighede van die vroeë kerk in herinnering geroep word. Die bittere vyandigheid tussen die Jode en die heidene moet plek maak vir die kerk wat bestaan uit Jode en heidene. Hiermee word hulle medelede van die liggaam van Christus (súss_ma Christoû). Hierdie samevoeging in een liggaam het ongetwyfeld ’n groot invloed op ’n strydende en vegtende samelewing uitgeoefen. ’n Verdere saak wat opval, is die kerk se daadwerklike stryd teen alle God-vyandige magte. Hiervan is veral die Efesiërsbrief ’n voorbeeld. ’n Volgende aspek van kerklike dienswerk wat hierop inwerk, is dat die kerk se boodskap altyd ’n versteurende invloed op die samelewing moet hê wanneer dinge/omstandighede nie meer is soos dit behoort te wees nie. Hierdie aksie het met die profetiese stem van die kerk te doen. Die kerk moet ook die blye boodskap van God se teenwoordigheid in die wêreld verkondig.

5. SKRIFTUURLIKE TOELIGTING VIR DIE KERK SE ADVIES EN DIENSWERK

Die kerk as die liggaam van Christus moet haarself ook Skriftuurlik kan verantwoord oor haar advies en dienswerk. Hiervoor is dit nodig om die advies en die diens in konteks te plaas. Die volgende Skrifgedeeltes bied toeligting op die rol hiervan in die wêreld.

5.1 Perspektiewe vir die kerk se advieswerk

5.1.1 Christus is die fondament van die kerk

Christus vra aan sy dissipels wie die mense en hulle sê Hy is (Matt 16:13,15). Sonder huiwering antwoord Petrus dat Jesus die Christus, die Seun van die lewende God is (Matt 16:17). Hiermee sê Petrus dat Jesus Messias en Verlosser is, dat Hy self God is, dat Hy die Waarmaker van God se beloftes is, dat Hy Ou en Nuwe Testament aan mekaar kom verbind. In ’n neutedop bely Petrus die Godheid van Jesus en ook sy sending na hierdie wêreld. Jesus se reaksie hierop is duidelik dat die belydenis in die kol is. Jesus sê aan Petrus dat op hierdie belydenis die kerk gebou sal word (sien Combrink 1985:85,95-97; Guthrie 1985:23-24). Die Griekse woordjie vir rots kan ook met belydenis vertaal word. Jesus sê eintlik “Jy is Petrus, en op hierdie belydenis sal ek my kerk bou” (sien Joubert 1994:88). Hiermee sê Jesus aan Petrus dat sy belydenis die enjinkamer van die kerk moet wees – sy belydenis moet die rede vir die kerk se bestaan wees. Die belydenis dat Jesus die Christus, die Seun van die lewende God is, word die boodskap waarmee die kerk na die wêreld moet gaan. Hierdie boodskap moet die vertrekpunt van alle advies en dienswerk wees.

5.1.2 Die verhouding met die Here moet herstel word

’n Belangrike boodskap uit die boek Haggai is dat kerkvernuwing eers moontlik kan wees as die verhouding met die Here herstel is; as die Here en sy beloftes vertrou word. Die veelvuldige verwysings na die “huis van die Here” in hierdie boek, veronderstel nie net ’n kerkgebou nie, maar ook die verhouding met die Here. Teenoor die huise van die mense staan die huis van die Here – daar waar Hy by sy volk woon. Die mense se huise is spoggerig, maar die van die Here is in puin. Dit op sigself sê iets van die verhouding met die Here. Die Here vra dat die verhouding met Hom herstel moet word. Hierdie herstelde verhouding moet sigbaar wees (sien Verhoef 1989). Binne die konteks van die Ou Testament is die tempel die simbool van God se teenwoordigheid (Psalm 84). Dit moes sigbaar herstel word. Die Nuwe Testamentiese volk weet dat die Here oral teenwoordigheid is. Hiervan moet die kerklike advies- en dienswerk ook getuig.

5.1.3 Die Here wil hê dat gelowiges deel van sy huishouding moet wees

Die boodskap van Lukas 15:11-32 gaan nie primêr oor die oudste en/of die jongste seun en wie van hulle, indien nie albei nie, die verlore seun was nie. Die sentrale boodskap van die gelykenis is die vreugde van God wanneer sy verlore seuns/dogters hulle bekeer en deel word van sy huishouding. Hoewel die opskrif van hierdie perikoop aangegee word as die gelykenis van die verlore seun, kan ’n mens dit eerder vervang met die opskrif “die gelykenis van die blydskap van God.” Hierdie Skrifgedeelte gaan immers oor die Vaderliefde, die wagtende Vader en die vreugde van die Vader wanneer daar ’n bekeerling is.

“… want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore en ons het hom teruggekry” (Luk 15:32).

Die betekenis van hierdie gelykenis is dat God wagtend op ons is en dat Hy feesvier wanneer die verlore seun weer deel van sy huishouding is. Die gelykenis waarsku teen die gesindheid van die oudste broer. Hy het geen vreugde oor ’n bekeerling gehad nie. Die vraag waarmee hy ons laat, is of ek God net vir myself wil hou? (sien Du Toit et al. 1987). Die kerk moet ook hierteen vermaan.

5.2 Perspektiewe vir dienswerk

5.2.1 Die Here sorg vir my

Psalm 23 sê dat tevredenheid met die lewe te doen het met vertroue in God. Derhalwe word ’n lied van vertroue gesing. ’n Lied wat getuig dat God se sorg voldoende is en daarom is daar geen gebrek nie. Dit stem die digter tot dankbaarheid. Hiervoor gebruik die psalmdigter die beelde van die herder (Ps 23:1-4) en gasheer (Ps 23:5) (Vos 2003:590).

Wat hierdie psalm egter uniek maak, is dat die lied van vertroue gesing word in uiteenlopende omstandighede. In ’n posisie van oorvloed sing hy: Ek word ontvang soos ’n eregas (Ps 23:5). Die lied word ook gesing in ’n situasie van nood: Al gaan ek deur donker dieptes (Ps 23:4). Beide komplementeer die begrip van vertroue (Sien Odendaal & Burger 1988:57; Van Ruler 1973:85).

Die beeld van die Gasheer beklemtoon ook die wyse waarop God sorg. Dit is duidelik dat die psalmdigter dit dood natuurlik vind om God as Herder én Gasheer in sy lewe te hê. Dit is om hierdie rede dat hy kan sê dat omdat God in beheer van sy lewe is, kom hy niks kort nie. Opvallend hier is dan ook dat die eerste persoon (“ek”) as leidende persoon aangebied word. Hy praat nie namens iemand anders nie, maar homself. Die individu beleef in sy alledaagse lewe die sorg van God. Hy het ook die begeerte om deel van God se huishouding te wees (Ps 23:6). Om deel van hierdie huishouding te wees, waarborg die volgehoue sorg van God.

Hoewel die psalm die idee van oorvloed skep, kry ons ook die ondertoon van ’n krisis. Die uitdrukking donker dieptes (Ps 23:4) en teëstanders wat moet toekyk (Ps 23:5) skep die atmosfeer dat daar ook sake is wat die psalmdigter hinder. Ongeag hiervan is die ondertoon van die psalm nog steeds dat dit met hom goed gaan omdat God sy Herder en sy Gasheer is. Hiermee wil hy sê dat wanneer dinge ook hoe sleg gaan, dit eintlik goed gaan omdat sy vertroue in God gestel kan word. God is immers by hom teenwoordig (Ps 23:4): U is by my.

In kerklike dienswerk moet die beeld van die herder en die gasheer voorgehou word as herinnering dat God voortdurend sorg.

5.2.2 Om ’n naaste vir ander te wees

Jesus is ook eenmaal gekonfronteer met die vraag Wie is my naaste? (Luk 10:25). In Sy antwoord het Hy die mees uiteenlopende karakters betrek. Hy het vertel van die kerkmanne wat hulle daaraan gewy het om vroom en opreg te lewe en ook ’n man wie se herkoms as ongewens deur die Jode beskou is. Jesus se antwoord het almal verbaas. So vertel Hy dat die kerkmanne nie hulle pad met die van die beseerde wou kruis nie. Hulle het ’n ander pad geneem as dié een waarlangs hy gelê het. Vorster (1994:191) wys op die verband en herhaling van die priester en die Leviet wat die man sien maar hom ignoreer – beide sien hom, maar gaan by hom verby. In plaas daarvan om hulle na die persoon van die beseerde te haas, gaan hulle juis na die veiligheid van die tempel (Luk 10:31, 32). Hulle sien eerder kans om God te dien binne die dik mure van die veilige plek van aanbidding voordat hulle hulle hande vuil maak met die bloed en stof van hom wat hulpeloos of selfs dood langs die pad lê. Daar bestaan selfs ’n motivering vir hulle optrede! Die reinigingswette (sien Lev 21:1) bepaal dat ’n priester nie aan ’n lyk mag vat nie. Van die Leviet is vereis om tydens diens in die tempel rein te wees (Jeremias 1972:203-204).

In teenstelling met die kerkmanne se gedrag, was dit juis die ongewenste man wat hom na die nood van sy naaste haas. Die teenstelling is dat ’n mens eerder van die priester en Leviet deernis verwag het (Vorster 1994:192). Eerstens was hulle kerkmanne en tweedens was die gewonde ’n volksgenoot. Dit is waarom die Samaritaan se optrede so beskaam. Op die Samaritaan fokus die haat, veragting en godsdienstige wrewel van die Jood (Muller 1987:130). Die ongewenste Samaritaan doen egter wat die kerkmanne nie bereid was om te doen nie: Hy word ’n naaste. Die naaste is nie die een wat gehelp word nie, maar die een wat help. Die naaste is nie die een wat bemin word nie, maar die een wat bemin. Hiervan sê Jeremias (1972:205):

“In this parable Jesus tells his questioner that while the friend is certainly, in the first place, his fellow countryman, yet the meaning of the term is not limited to that. The example of the despised half-breed was intended to teach him that no human being was beyond this range of charity. The law of love called him to be ready at any time to give his life for another’s need.”

5.3 Toepassing

Die kerk is ’n geloofsgemeenskap wat met verskillende beelde/metafore toegelig word. Die bekendste hiervan is die liggaam van Christus (1 Kor 12:14vv); die wingerdstok en die lote (Joh 15) en die bruid van Christus (Op 9, 17). Tolmie (1991:70) sê dat uit hierdie beelde ons belangrike eienskappe van die kerk kan aflei. Hy noem die volgende:

• Tussen Christus en die kerk is daar ’n intieme verhouding.

• Tussen gelowiges moet daar ’n ook ’n hegte verhouding wees.

• Die kerk moet deur die geloofsdade van die gemeenskap van gelowiges gekenmerk word.

• Die kerk is op pad na die tweede koms van Christus. Derhalwe moet die kerk deur haar vreugde en blydskap gekenmerk word.

Al hierdie eienskappe kan in die kerk se advies- en dienswerk teruggevind word. Om dit te illustreer:

Eienskappe van die kerk

Tussen Christus en die kerk is daar ’n intieme verhouding.

Advies- en dienswerk

Die kerk kan nooit kerk wees as dit nie ’n verhouding met Christus het nie. Daarom mag die profetiese stem van die kerk nie stil wees nie (advies). ’n Herstelde verhouding sal lei tot die koinonia en diakonia van die kerk (diens).

Tussen gelowiges moet daar ’n ook ’n hegte verhouding wees.

Die gelykenis van die barmhartige Samaritaan stel dit duidelik dat ons mekaar moet aanspreek oor ons onbetrokkenheid by en liefdeloosheid teenoor mekaar (advies). Gelowiges moet verantwoordelikheid vir mekaar neem ongeag die omstandighede en herkoms (diens).

Die kerk moet deur die geloofsdade van die gemeenskap van gelowiges gekenmerk word.

Soos Christus die goeie Herder en Gasheer is, moet gelowiges sy voorbeeld volg (diens) en die Herder- en Gasheerskap van die Here verkondig en leef (advies en diens).

Die kerk is op pad na die tweede koms van Christus. Derhalwe moet die kerk deur haar vreugde en blydskap gekenmerk word.

Die gelykenis van die verlore seun maak dit duidelik dat God vir elke sondaar wag. Die kerk moet in sy evangelisasie en sendingwerk hiervan getuig (advies). Die kerk kan egter nie die houding hê dat sondaars nie ook welkom in die kerk is nie. Hiervan moet die kerklike leefwyse getuig (diens).

Hierdie benadering tot die kerklike advies- en dienswerk maak dit nodig dat die kerk weer oor haar koionia en diakonia aan die wêreld moet nadink. Hierdie kerklike advies- en dienswerk kan nie sonder ’n etiese dimensie gaan nie. Vir doeleindes van hierdie artikel wil ek dit plaas binne die konteks van wat Burggraeve (1997:146) noem ’n etiek van barmhartigheid:

“Wat wij als Kerk misschien veel te weinig doen, is binnen het spreken over barmhartigheid, ook een ethiek van barmhartigheid te ontwikkelen, een ethiek van het haalbare voor gekwetste mensen, die het radicale, het wenselijke niet aankunnen”.

So ’n etiek sal die kerk se advies- en dienswerk ondersteun. ’n Etiek van barmhartigheid sal gelowiges voortdurend daaraan herinner dat Christus as Kneg van die Here (Ebed JHWH) na die wêreld gekom het. As Kneg van die Here was Hy die dissipels se voete (Joh 13:1-17); huil Hy oor die dood van Lasarus (Joh 11:35); gaan Hy aan by die tollenaars en sondaars (Luk 19:1-10); voed Hy die honger skares en word Hy die brood en die wyn (die nagmaal) vir almal wat dors na die koninkryk van God. In elkeen van hierdie optredes kan advies- en dienswerk weer teruggevind word (sien weer die Pauliniese etiek, paragraaf 4.1).

6. ’N VOORGESTELDE CRI DE COEUR3 AS UITDRUKKING VAN DIE KERK SE ADVIES EN DIENSWERK

Vir die kerk se advies- en dienswerk word die volgende cri de coeur voorgestel: Hierdeur kan lidmate tydens die liturgie gesensitiseer word vir die kerk se rol in advies- en dienswerk enersyds en elke lidmaat se rol hierin andersyds.

Here, ons bely dat U die enigste God is. U is kenbaar deur u Woord in mensetaal, deur u openbaring in die wêreld en deur die getuienis van die Heilige Gees in ons hart. Ons weet dat daar baie godsdienste in die wêreld is en dat hierdie godsdienste almal verkondig dat net hulle die waarheid beet het. Ons weet ook dat daar baie ooreenkomste in godsdienstige gebruike is en dat baie geestelike leiers, profete, dominees en volgelinge vertel dat ons almal maar dieselfde god aanbid – net elkeen in sy eie gedaante. Maar ons glo dat U die enigste lewende God is en dat net U die ewigheid in U hand hou.

Here, ons bely dat U ons tot geloof bring. Ons geloof is ’n antwoord op u heilsame bemoeienis met ons. U skenk ons die geloof. Saam met Calvyn bely ons dat die saad van die religie in ons hart geplant is en dat U tot ons spreek deur tyd en omstandigheid. Ons bely dat om U te ken, oortref alles in waarde. Daarom glo ons dat U, o Gees van Christus, in ons lewe sal bly getuig dat U ons enigste weg tot saligheid is. Saam met die Johannes-evangelie bely ons dat die ewige lewe nie eers begin na afloop van hierdie lewe nie maar dat ons deur die geloof nou reeds daaraan deel mag kry. Ons weet dat U nie ’n vêraf God is nie, maar dat U is soos u Naam ons leer – Immanuel, God by ons.

Here, saam met die Psalmdigter bely ons dat die wêreld en die volheid daarvan aan U behoort. Ons is maar net die rentmeesters van u Skepping en ook van mekaar. Ons bely dat daar geen duimbreedte in hierdie wêreld is wat nie aan U behoort nie. Ons is teleurgesteld dat ons met ons megastede, lugbesoedeling, mynbou, landbou en wetenskaplike eksperimente die aarde siek gemaak het. Maar ons glo dat ons u skepping sal vertroos en bewaar. Ons weet net U kan die aarde vrugbaar en die riviere vol water maak. Ons glo dat die koring welig sal groei en die velde wemel van kleinvee. Ons glo dat U wat die rots in waterkuile verander en die harde klippe in fonteine (Ps 114) plesier in u skepping sal vind. Dat u skepping u grootheid sal bly verkondig.

Here, soos Kain wil ons nie na ons naaste omsien nie. Ons kan nie ’n barmhartige Samaritaan wees nie. Ons weet u verafsku oë wat straal van hoogmoed, ’n tong wat lieg, hande wat met bloed bevlek is, gedagtes wat met komplotte besig is, voete wat net een pad ken en dit is na die kwaad, ’n getuie wat jok en iemand wat rusie stook (Sper 6:16-19). Ons wil nie soos die Fariseër wees wat so goed in sy eie oë is dat hy U nie nodig het nie. Ons glo dat U ons sal help om nie soos die priester en die Leviet wye draaie om die nood van die wêreld te loop nie. Ons glo dat U ons sal toerus om ’n vredemaker te wees, want dan sal ons u kinders genoem kan word.

Here, as gelowiges bely ons dat U alles bestier en beskik. Hoe U dit doen, kan ons nie altyd rasioneel of wetenskaplik verklaar nie. Niemand kan reguit maak wat U krom gemaak het nie. En tog is U nie doof vir ons begeertes nie. U hou ons lewe in u hande. Elke dag sterf mense – oud en jonk, siek en gesond. U Woord leer ons dat die dood van u getroue dienaars geen geringe saak vir U is nie. U ween by elke graf soos U by dié van Lasarus geween het. En tog is ons lewe soos die Namakwalandse blomme – dit gaan verby. Ons erken dat ons niks hiervan begryp nie. Al wat ons kan bely, is dat ons vashou aan u belofte in die Matteus-evangelie dat U met ons is al die dae van ons lewe.

Here, as U liggaam het ons saamgekom. Elkeen van ons het sy eie gawes waarmee U ons toegerus het. Ons glo dat ons as liggaam van die Here een sal wees in belydenis en geloof. Al ons baie kerke en gestry oor dogmatiese leerstellings kan nooit die eenheid van u kerk bevorder nie. U het immers self gebid dat ons een in daad en gesindheid moet wees. Maar nou verskil ons so oor dit wat ons bely dat daar nie tyd is om teenoor mekaar te getuig wat U vir ons doen nie. Ons moet nie ’n strydende kerk wees nie, maar ’n getuienis kerk. Ons glo dat ons een in die gawe van die liefde moet wees. Ons glo dat ons as u liggaam sigbaar in hierdie wêreld moet wees. Ons sigbaarheid moet nie deur die haan op die kerktoring wees nie, maar ons sigbaarheid moet wees hoe ons vir mekaar ’n klein heiland kan wees. U kerk is daar waar ons die koninkryk laat kom – in ons huise, werk, skole, tennisbane, restaurante en koopsentrums.

7. SAMEVATTING

Die bedoeling van hierdie artikel is om die kerk se rol in die samelewing aan die hand van kerklike advies en dienswerk te beskryf. Die artikel het daarop gewys dat die kerk nooit buite die gemeenskap kan staan nie. As liggaam van Christus moet dit die gemeenskap adviseer oor die alternatief wat die kerk in terme van die koninkryk van God bied (advieswerk) en dat dit tot die wese van die kerk behoort om diens aan die wêreld te lewer (dienswerk).

8. BIBLIOGRAFIE

Bezuidenhout, L C 1991. Betekenis van die natuur in God se antwoord aan Job (Job 38-39). In Vos, C & M_ller, J (Reds). God, mens en wêreld: Mens & Omgewing. Halfway House: Orion. 81-91.

Blenk, C 1988. Kerk en wereldgeschiedenis van de 20e eeuw. Kampen: J H Kok.

Bosch, D J, König, A & Nicol, W D (Reds.) 1982. Perspektief op die Ope Brief. Kaapstad: Human & Rousseau.

Burggraeve, R 1997. Een christelijke ethiek van het haalbare. In Wuyts, B De geest rust nooit: Gelovigen in beweging. Kapellen: Patmos. 143-151.

Coetzee, J C 1984. Paulus se eskatologiese prediking. In Du Toit, A B (red). Handleiding by die Nuwe Testament. Deel v. Pretoria: NGKB. 332-364.

Combrink, H J B 1985. Die evangelie volgens Matteus: Inleiding en teologie. In Du Toit, A B (red). Handleiding by die Nuwe Testament. Deel iv. Pretoria: NGKB. 59-103.

Conradie, E M & Pauw, J C 2002. Dialogiese, ekologiese en teologiese perspektiewe ten opsigte van ’n verbuikerskultuur (“consumerism”). Ned. Geref. Teologiese Tydskrif. 43 (3 & 4): 376-390.

Du Toit, A B; M_ller, B A & Smit, D J 1987. Lukas 15:11-32. In Burger, C W; M_ller, B A & Smit, D J (Reds). Woord teen die Lig 11/2: Riglyne vir die prediking oor die gelykenisse en wonderverhale. Kaapstad: NGK Uitgewers. 161-169.

Du Toit, B 2000. God: Geloof in ’n postmoderne tyd. Bloemfontein: CLF.

Guthrie, D 1985. New Testament Introduction. London: Inter-varsity Press.

Heyns, J A 1989. Teologiese Etiek 2/2. Pretoria: NGKB.

Jeremias, J 1972. The parables of Jesus. London: SCM Press.

Joubert, S 1994. Matteus vandag. Halfway House: Orion.

Kuyper, A 1930 (derde druk): Soevereiniteit in eigen kring. Kampen: J.H. Kok.

Lategan, B C 1984. Die Pauliniese etiek. In Du Toit, A B (red). Handleiding by die Nuwe Testament. Deel v. Pretoria: NGKB. 320-331.

Lategan, L O K 1989. Die wese van die universiteit: ’n Histories-strukturele perspektief. Bloemfontein: VCHO.

Lategan, L O K 2001. Pastoraat as geloofsorg: Insette vanuit die Reformatoriese Wysbegeerte. Tydskrif vir Christelike Wetenskap. 37 (3 & 4): 161-175.

Lategan, L O K. 2004. The church in the consumer society. Acta Theologica. (in druk).

Meiring, P 2003. Versoening in Suid-Afrika na die Waarheids- en Versoeningskommissie: die rol van die N G Kerk. Ned. Geref. Teologiese Tydskrif. 44 (1 & 2):112-121.

Müller, B A 1987. Lukas 10:25-37. In Burger, C W; M_ller, B A & Smit, D J (Reds). Woord teen die Lig 11/2: Riglyne vir die prediking oor die gelykenisse en wonderverhale. Kaapstad: NGK Uitgewers. 126-139.

Ondendaal, D H & Burger, C W 1988. Psalm 23. In Burger, C W; M_ller, B A & Smit, D J (Reds). Woord teen die Lig 11/4: Riglyne vir die prediking oor die Psalms. Kaapstad: NGK Uitgewers. 56-64.

Piët, S 2003. De emotie-markt: De toekomst van de beleveniseconomie. Rotterdam: Prentice Hall.

Poort, J J Credo als cri de Coeur. 1997. In Een en anders: Schrijvers over God. Christelijke Lektuurkontakt.

Roberts, J 1984. Die kerk by Paulus. In Du Toit, A B (red). Handleiding by die Nuwe Testament. Deel v. Pretoria: NGKB. 282-319.

Rossouw, P J 1991. Die tuiskoms van die Nederduitse Gereformeerde Kerk? ’n Visie op gemeente-wees in Suid-Afrika in die jare ‘90. ’n Visie van die bediening. UV Teologiese Studies No 5. Bloemfontein: Pro- Christo. 33-47.

Strauss, D F M 2002. Voorvrae rondom die Bybel in ’n “postmoderne tyd”. Ned. Geref. Teologiese Tydskrif. 43 (3 & 4):570-592.

Tolmie, D F 1991. Enkele metafore vir kerkwees in die Nuwe Testament. In Snyman, S D & Tolmie, D F (Redakteurs). ’n Visie van die bediening. UV Teologiese Studies No 5. Bloemfontein: Pro-Christo. 66-71.

Van Ruler, A A 1977. Over de Psalmen gesproken. Nijkerk: Uitgeverij G.F. Callenbach.

Van der Watt, J (Redakteur). 2003. Die Bybel A-Z. Vereeniging: Christelike Uitgewers Maatskappy. ‘

Van Zyl, H C 2003. Kerklike migrasie: Kerk in advies en diensbesigheid. Volksblad. 15 Julie: 6.

Verhoef, P A 1989. Die boek Haggai. Kaapstad: NGK Uitgewers.

Vorster, W S 1994. Lotgenote in God se wêreld. In Vos, C & M_ller, J (Reds). God, mens en wêreld: Menswaardig. Halfway House: Orion. 186-198.

Vos, C J A 2003. Psalm 23 as liedteks. Ned. Geref. Teologiese Tydskrif. 44 (3 & 4): 590-595.

1 Prof Laetus O K Lategan, Dekaan Navorsing & Ontwikkeling, Sentrale Universiteit vir Tegnologie, Vrystaat, Bloemfontein. E-pos: llategan@tfs.ac.za

2 Kuyper (1930:22) het die volgende hieroor te sê gehad: “ze (de wetensschap – LL) kan nie opkomen tenzij de kerk eerst geestelijk inzonk … Voorhands moet de staat wel blijven steunen; mits, en hier staan we op mits het streven slechts in de richting van vrijmaking gee.”

3 Poort (1997) gebruik die term in onderskeiding van credo. Hy sê dat ’n credo gaan daaroor dat ek glo, maar in die cri de coeur gaan dit daaroor dat ’n mens nie anders kan as om te glo nie. Lg hang saam met sy beskouing dat die Christelike geloof nie uit sigself is nie, maar uit genade alleen. Binne die konteks van die kerk se advies en dienswerk, pas dit perfek in.