Viljoen, F P en Floor, L (Bert)
Noordwes-Universiteit

Gloria in excelsis as liturgiese model vir die Christelike lied

ABSTRACT

Gloria in excelsis as liturgical model for the Christian song

In his Gospel the evangelist Luke describes a heavenly liturgy that took place at night in the open air. Angels sang a song of praise. A few issues with regard to the event itself, its form, text and content of the Gloria ask for an answer. Is it a historical fact that this song was sung in the fields of Ephrata? Who composed this song? In what language did the angels sing or say the song? What is the thought structure of this song? What is the meaning of the text? Along with this the important question arises whether the church could draw liturgical principles for its worship services from this unique event.

Die bekende Gloria in excelsis wat in Lukas 2:14 opgeteken is, het deur die eeue heen intensiewe aandag ontvang. Die kerk het al vroeg besef hoe essensieel hierdie woord vir die kerkmusiek is (vgl Ingelse 1996:13). In die liedereskat van die Christelike kerk is die Gloria in excelsis in die een of andere vorm opgeneem. Hierdie lied kom in een of ander vorm in die meeste gesangbundels en liedboeke van kerke voor. In die kantates van Johann Sebastian Bach hoor ’n mens telkens in ’n ryk geskakeerde musikale vorm die Gloria in excelsis. ’n Uitstaande voorbeeld is die Gloria aan die begin van die derde deel van sy Weihnachtsoratorium. In menige Requiem byvoorbeeld van Pergolesi, Mozart, Schubert, Gounod, Haydn, Faure het die Gloria sy vaste plek in die geheel van die stuk.

In sy Evangelie beskryf die evangelis Lukas ’n hemelse liturgie wat in die nag in die oop lug plaasvind. Engele tree op as liturge. Daar is ’n aantal vrae wat in verband met die gebeurtenis self, die vorm en ook die inhoud van die Gloria om ’n antwoord vra. Is dit ’n historiese feit dat hierdie lied in die velde van Efrata geklink het? Wie het hierdie lied gekomponeer? In watter taal het die engele die Gloria uitgespreek of gesing? Wat is die gedagte-opbou die van lied? Wat is die betekenis van die teks? Daarby kom die belangrike vraag of die Christelike kerk uit hierdie unieke gebeurtenis liturgiese beginsels vir die erediens kan aflei.

2. DIE HISTORISITEIT VAN DIE LIED

Vanuit histories-kritiese benadering word onmiddellik gevra na die historisiteit van die lied. Het herders in die nabyheid van Betlehem werklik ’n ervaring gehad van engele wat voor hulle gesing het? Deur die eeue heen is hierdie wonderlike gebeurtenis as ’n historiese feit aanvaar. Maar toe die bestaan van engele sedert die Aufklärung in twyfel getrek is, is ook hierdie gebeurtenis bevraagteken (Rengstorf 1972:43).

Brown (1977:246-255) bespreek vier teorieë oor die oorsprong van hierdie lied (en van die ander Lukaanse liedere). Volgens die eerste teorie is die Glora in excelsis oorspronklik deur engele gesing. Volgens Brown hoort hierdie teorie egter tot die voor kritiese wetenskap. Die tweede teorie impliseer dat Lukas die lied (saam met die ander liedere) gekomponeer het toe hy die res van sy narratief geskep het. Brown wys egter daarop dat die styl van die liedere nie goed by die narratiewe inpas nie en “the narrative would read more smoothly without them” (Brown 1977:346). ’n Derde teorie is dat Lukas die liedere gekomponeer het, en by ’n bestaande narratief ingevoeg het. Brown kies egter vir ’n vierde opsie: “The canticles were pre-Lucan or non-Lucan and were added by Luke to an already existing Lucan narrative” (Brown 1977:347).

Die liedere in Lukas 1 en 2 en ook die lied van die engele sou hulle bakermat in die Jodedom of Joodse Christendom gehad het. Die Gloria sou waarskynlik uit die Joods-Christelike dampkring van die Anawim kom en moet daarom as ’n vertaalde Hebreeuse strofe beoordeel word. Volgens Brown (1977:350) was die Anawim die “poor ones”, mense “who could not trust in their own strength but had to rely in utter confidence upon God: the lowly, the poor, the sick, the down trodden, the widows and orphans”. Die Anawim sou hulle beroep en appèl tot God om bevryding uitgedruk het in sodanige psalms, himnes en lofprysing met gebede en offers. Joodse Anawim wat tot die Christelike geloof bekeer is, sou dan vir Jesus beskou as “the fulfilment of their messianic expectations and have used hymns to hail what God had accomplished in Jesus”, maar Lukas “applied them with a specificity that was not in their original purview” (Brown 1977:350).

Hierbenewens wys Jeremias op die vreemde styl van die Gloria: “Lobsprüche ohne Kopula … bildet Lukas nicht von sich aus” (Jeremias 1980:83). Jeremias gaan dan voort deur na ’n aantal bronne te verwys waar soortgelyke begrippe voorkom as dié wat in die Gloria voorkom. In die lig daarvan voer hy aan dat die Gloria in Lukas 2:14 as oorgelewerde stof en nie as eg Lukaans beskou moet word nie. Freed (2001:62) verwys ook na sodanige inhoudelike ooreenkoms van die Gloria met ’n aantal bronne. Die implikasie van sodanige teorieë is dat die beskrywing in Lukas 2:13-14 histories nie betroubaar is nie.

Indien die verskyning van die herout-engel wat die gebeurtenis in Betlehem aan herders verduidelik en daarby die singende of sprekende engele nie op ’n historiese feit berus nie moet Lukas se opmerkings in sy proloog ook bevraagteken word. Wat is dan die waarde van sy historiese ondersoek? Die geloofwaardigheid van Lukas as historikus is by hierdie twyfelvrae in geding (vgl. Van Bruggen 1998:62). Die vraag is ook dan watter rede Joodse Christene sou gehad het om uit hulleself ’n Gloria te komponeer en dit dan aan engele toe te skryf?

Ons aanvaar egter dat engeleverskynings ’n begeleidende gebeure was by die heilsfeite soos die geboorte van Christus, sy opstanding en sy hemelvaart. “De hemel der hemelen daalt hier met zijn schittering van glorie af tot de donkere aarde” (Knap s.j.:120). As vrug van Christus se werk smelt die hemel en aarde ineen. “Wij zien op de vlakte van Efratha, … hoe de door de zonde veroorzaakte scheiding principieël opgeheven is; en hoe het zwarte veld als een brok van den hemel in de glorie ligt” (Knap s.j.:120). Die engele prys God vir die magtige werk van sy versoening (Viljoen 2003:202). Dit is wel opvallend dat die rol van engele afneem namate die heilsgeskiedenis hom verder ontvou. By die uitstorting van die Heilige Gees op Pinkster was daar nie engele teenwoordig nie.

Engele leef in die onmiddellike nabyheid van die troon van God. Hulle is intens bewus van die glorie en geregtigheid van God. Hulle is ook vol verwondering oor God se genadige verlossingsplan ter wille van die gevalle mensdom. Met heilige ontroering sit hulle die lied van verwondering en lofprysing in. Hoe nader aan God, hoe eerder begin hulle sing (Viljoen 2003:221). “En waar de aarde nog zwijgend en onbewogen beneden hen ligt, daar breken zij uit in de verheelijking van God, om Hem allereerst voor dat ongelooflijke wonder van genade te prijzen” (Knap s.j.:122).

3. DIE LITERATUUR

Daar is ’n baie omvangryke stroom van literatuur oor die Gloria. Schwartz (1971:260) en Nolland (1981:96) gee ’n oorsig van die groot aantal publikasies oor die Gloria wat toe al verskyn het. Opvallend is dat die meeste literatuur gekonsentreer is op die begrippe vrede (είρήνη en welbehae (εὐδοκία), terwyl die mees prominente begrip gloria (δόξα) minder aandag kry. Die fokus is meer op die mensdom in sy soeke na vrede op aarde.

Wanneer die navorsing oor die Gloria ondersoek word, is daar talle punte waaroor navorsers min of meer eenstemmig is, maar ’n aantal waaroor hulle verskil. Ten einde hierdie standpunte te oorweeg, is dit nodig om die teks van die lied van naderby te ondersoek.

Δόξα ἐν ὑψίστος θεω

καὶ ἐπὶ γης εἰρήνη ἐν ἀνθρώποις εὐδοκία(ς)1

Daar is by navorsers oor ’n wye front konsensus oor bepaalde aspekte van hierdie lied.

• Dit word omtrent algemeen aanvaar dat die lied ’n Semitiese oorsprong het of ten minste gemodelleer is op ’n Semitiese patroon (vgl Breytenbach 1994:272; Bovon 1977:404; Jeremias 1980:83).

• Die meeste aanvaar die Semitiese oorsprong van die lied op grond van die feit dat werkwoorde in die kort strofe ontbreek (vgl Grundmann 1971:84).

• Die Gloria vertoon die bekende patroon van die Hebreeuse parallelismus membrorum (vgl Plummer 1969:57v).

• Navorsers aanvaar dat idiomatiese uitdrukkings letterlik uit ’n Semitiese taal in Grieks vertaal is (vgl Breytenbach 1994:273).

Daar is egter ook punte waaroor navorsers verskil.

• Die indeling van die lied roep probleme op. Is daar sprake van ’n tweedeling of ’n driedeling?

• Daar is by kommentatore verskil oor hoe die Griekse preposisie ἐν voor ἀνθρώποις verstaan moet word.

Die tweedeling word soos volg gedoen:

Δόξα ἐν ὑψίστος θεω

Eer aan God in die hoogtes

καὶ ἐπὶ γης εἰρήνη ἐν ἀνθρώποις εὐδοκίας

en op aarde vrede onder die mense van

(God se) welbehae

Die driedeling lyk so:

Δόξα ἐν ὑψίστος θεω

Eer in die hoogtes vir God

καὶ ἐπὶ γης εἰρήνη

en op die aarde vrede

ἐν ἀνθρώποις εὐδοκία(ς)

by die mense welbehae

Hoewel die meeste verklaarders kies vir die tweedeling van die lied, is daar, soos later aangetoon sal word, verskeie faktore wat daarvoor pleit om ’n driedeling te aanvaar.

Die meeste verklaarders beskou ἐν as die element of plek waar die welbehae te vind is. Welbehae is onder die mense (ἐν ἀνθρώποις) te vind (Schrenk 1935:746; Nolland 1989:102; Van Bruggen 1996:80).

In Lukas 19:38b kom ’n parallel van die Gloria voor. Daar word die preposisie ejn telkens lokaal gebruik:

Εὐλογηένος ὁ ἐρχόμενος,

ὁ βασιλεὺς ἐν ὀνόματι κυρίου.

Geseënd is die Koning wat kom in die naam van die Here,

ἐν οὐρανῳ εἰρήνη

καὶ δόξα ἐν ὐψίστοις.

Vrede in die hemel

Eer aan God in die hoogste hemel.

Die aanname dat ἐν as aanduiding van lokaliteit beskou moet word, word volgens Hatch & Redpath (1975:98) gesteun deur die gebruik van ἐν ἀνθρώποις in die Griekse vertaling van Psalms (Ps 37:7; 68:19; 78:60). Op grond van hierdie aanname is dit aanvaarbaar om ἐν ἀνθρώποις in die Gloria net soos ἐν ὐψίστοις en daarby ook ἐπὶ γης as lokaliteits- aanduidings te verstaan. Volgens hierdie aanname het ons in Lukas 2:14 drie aanduidings van lokaliteit waarby “op aarde” en “by die mense” sinonieme parallelle is wat antiteties staan teenoor “in die hemel”.

Die patroon is dan:

a

Δόξα ἐν ὑψίστος θεω

Eer in die hoogtes vir God

b

καὶ ἐπὶ γης εἰρήνη

en op die aarde vrede

c

ἐν ἀνθρώποις εὐδοκία

by die mense welbehae

Uit de woordorde sowel as die semantiese velde is dit duidelik dat b en c parallel is. Die voegwoord kai is dan die skeidingspunt tussen dié deel wat na die hemel verwys en dié deel wat na die aarde verwys (Breytenbach 1994:275). Daar is ’n gedeeltelike chiasme tussen a en die twee parallelle sinsnedes b en c.

Dat hierdie indeling logies is, bewys die Hebreeuse poësie waar die struktuur a//(b//c) ’n bekende patroon is. As voorbeelde kan Psalm 146:1-2; 105:1-2 en 143:1 genoem word.

Lofprysing aan God is die eerste element van die Gloria. Hierin is ’n belangrike liturgiese beginsel aangedui. Die mens is geneig om by homself te begin, die mens se behoefte en God se behae in mense. Die volgorde is egter omgekeerd. God moet eerste en die mens daarna. Wanneer die engele die weldade van God besing, dink hulle eers aan God en dan aan die mens. Die parallel van hierdie volgorde kom onder andere voor in die lofprysings by die troongesig in Openbaring 4 en 5 (Viljoen 2003:221v).

4. DIE TEKSKRITIESE PROBLEEM

Op grond van tekskritiese oorwegings is dit ’n vraag hoe die laaste frase van die teks lui. Drie moontlikhede bestaan op grond van teksgetuienis:

ἐν ἀνθρώποις εὐδοκίας

ἀνθρώποις εὐδοκία

ἐν ἀνθρώποις εὐδοκία

Hierdie probleem is baie moeilik om op te los, omdat die oorspronklike idioom waarskynlik Galilese Aramees was (Schwartz 1971:260). Die Lukaanse teks bied reeds ’n vertaling. Die vraag moet nou beperk word tot watter teksgetuies die beste teks bied.

Volgens die tekskritiese inligting in die UBS III-teks, word die lesing ἐν ἀνθρώποις εὐδοκίας deur die beste Griekse manuskripte gesteun. Die genitief vorm word εὐδοκίας ondersteun deur die oudste verteenwoordigers van die Alexandrynse en Westerse families. Daar bestaan egter ook goeie ondersteuning vir die lesing ἐν ἀνθρώποις εὐδοκία by Bisantynse manuskripte, ’n aantal ou vertalings en kerkvaders. Lesings waar die ontbreek is nie op goeie teksgetuienis gebaseer nie (vgl Metzger 1975:133).

Schwartz (1971:260-264) is van mening dat die begrip (in die nominatiefvorm) steurend inwerk op die metrum van die lied. Hy pas eenvoudig emendasie toe en skrap daardie woord. So willekeurig kan daar egter nie met ’n teks omgegaan word nie.

Dit wil voorkom asof die genitiefvorm εὐδοκίας in de algemeen sterk verteenwoordig word by teksgetuies waar ’n antignostiese tendens aanwysbaar is. In die stryd teen die gnostici sou hierdie lesing waarskynlik meer aanvaarbaar wees (Barkhuizen 1989:3), aangesien dit gunstig is teenoor die mense deur op hulle deugde te wys. Die genitief kwalifiseer in die geval die ἀνθρώποις.

In die milieu waarin Palestynse en Siriese tekste oorgelewer is, sou εὐδοκία geen probleem opgelewer het nie. Die term kom 56 keer in die Griekse vertaling van die Ou Testament voor. In die meeste gevalle het die woord dan betrekking op God. In die Septuaginta, Nuwe Testament en in die geskrifte van Qumran is εὐδοκία ’n attribuut van God (Kilpatrik 1988:474). Hansack (1977:118) wys die vertaling in die Vulgaat met ’n genitief (bonae voluntatis) met ’n beroep op Hieronymus af: “Er hat verstanden was gemeint wart: die lateinische Version denkt nicht `an den menschlichen guten Willen’ sondern an das göttliche ‘Wohlgefallen’”.

Terwyl daar onsekerheid bestaan en die teksgetuienis ietwat onseker is, kan die struktuur soos hierbo aangetoon, moontlik help om die regte keuse tussen εὐδοκίας en εὐδοκία te maak. Dan is daar ’n goeie saak uit te maak vir de lesing εὐδοκία in plaas van εὐδοκίας. In die lig van die merkwaardige gebruik van parallelisme en die feit dat die eerste twee versvoete van die lied (a en b) uit nominale sinne bestaan, is dit volgens Breytenbach (1994: 276) ’n dwingende argument om ook die derde versvoet (c), wat klaarblyklik sinoniem is met die tweede (b), ook as ’n nominale sin te lees.

Dan lui die vertaling van die Gloria so:

a) Heerlikheid is in die hoogtes vir God

b) en op die aarde is vrede

c) by die mense is welbehae.

5. HOE IS DIE GLORIA TE HORE GEBRING?

Oor die algemeen word aanvaar dat die Gloria deur die engele gesing is. Maar die bewyse daarvoor ontbreek. Dit is ’n vraag of hier werklik sprake is van ’n lied. Lukas skrywe in 2:13 dat die engele gepraat (λεγόντων) het. Dit hoef egter nie die moontlikheid uit te sluit dat die engele in sangvorm gepraat het nie. “Whether literally song or not, the words of Luke 2:14 are above all else an outpouring of adoration” (Hendriksen 1978:155).

Tog is dit aanvaarbaar om die Gloria as ’n lied te bestempel. Die liedkarakter van die Gloria blyk meer uit die inhoud as uit die aankondiging van Lukas. Die woorde wat die engele gebruik is psalmwoorde. Hierdie woorde kom op verskeie plekke in die Psalmboek voor. Moontlik het die engele ’n spreekkoor gevorm.

6. DIE TAAL VAN DIE GLORIA

Indien die historiese betroubaarheid van die teks aanvaar word, is dit ongetwyfeld so dat die herders die inhoud van die lied verstaan het, net soos die priester Sagaria en Maria van Nasaret ook die boodskap van die engele in hulle taal verstaan het (Van der Walt 1991:64). Volgens Bybelse getuienis het adressante deur die eeue altyd die boodskappe van engele verstaan. Dit was in ’n taal wat kommunikeerbaar is. Van die eerste tot die laaste Bybelboek word daar telkens berig dat God met mense kommunikeer in ’n taal wat hulle verstaan. So was dit ook in die Kersnag gewees.

Die Gloria, soos Lukas dit oorgelewer het, is ’n Griekse vertaling van ’n Semitiese (meer waarskynlik Hebreeuse) strofe (Breytenbach 1994:274). Black (1954:125) gee ’n nog noukeuriger aanduiding en is van mening dat die oorspronklike taal wat die herders gepraat het en waarmee hulle geluister het, Galilese Aramees was.

Daar is heelwat pogings onderneem om met behulp van Hebreeus en Aramees deur middel van “Textdemontage” tot ’n soort “Urversion” (Berger 1985:122) of “oervorm” (Breytenbach 1994:276) van die Gloria te kom. Die resultate verskil egter heelwat.

7. DIE TYDSTIP WAAROP DIE GLORIA TE HORE GEBRING IS

Wanneer is hierdie lied vir die eerste keer gesing? Lukas skryf dat dit gesing is direk nadat ’n engel die aankondiging van die geboorte van Christus gemaak het. Die bekendmaking aan die skaapwagters bereik sy hoogtepunt wanneer die hemel oopgaan en die menigte engele God prys oor die geboorte van die Redder van die wêreld (Groenewald 1989:49). “Die Offenbarung der Messianität das Neugeborenen erreicht ihre Höhe in der Öffnung des Himmels mit seinem Heerscharen, die Gott über der Geburt Jesu loben” (Rengstorf 1974:41). Eers kom die preek van die engel en daarna volg die lied. Dit blyk dat die lied bedoel is om die preek te ondersteun, toe te lig, en klimakties te bevestig.

Hieruit kan ’n belangrike riglyn vir die liturgie van die kerk getrek word. Sang in die kerk mag nie losgemaak word van die verkondiging nie. Dit moet by die verkondiging aansluit, dit ondersteun, toelig en bevestig. Eers kom die prosa van die kerugma, die verkondiging. Daarna kom die poësie van die beseëling in die lied. Vanuit musikologiese oorwegings kom Kruger (2002:33) tot ’n soortgelyke bevinding deur aan te toon hoe kerkmusiek binne die kerugmatiese modaliteit van die kerk moet funksioneer.

8. DIE INHOUD VAN DIE LIED

Daar is drie kernbegrippe wat in die Gloria deur die engele gebruik word: heerlikheid (δόξα), vrede (εἰρήνη) en welbehae (εὐδοκία). Hiermee gryp die Gloria terug na die Ou Testament waar die begrippe herhaaldelik voorkom. Hierdie kernbegrippe vorm onderskeidelik die sentrale gedagte van die drie frases in die lied.

Heerlikheid (δόξα)

Die eerste frase van die lied handel oor die heerlikheid van God. Heerlikheid dui op die eer wat God toekom, terwyl vrede bedoel is vir die mense waarin God ’n welbehae het. Soos hierbo aangedui, is die gerigtheid op God die vertrekpunt in die loflied. “In deze tekst komen we direct bij de kern, waarom het bij de muziek in de Bijbel draait: ‘Ere zij God’” (Ingelse 1996:13, vgl. Westermeyer 1998:46). Dit gaan om die eer van God.

Eer het ’n wye verskeidenheid van betekenisse (Louw & Nida 1988:66). Dit kan beteken: heerlikheid, eer, lof, prys, roem, helderheid, glans, grootheid. Soms het die woord selfs die betekenis van wins of voordeel. Die Hebreeuse woorde wat die Septuaginta as δόξα vertaal is, is “sabach” en “kabood”. Schwartz (1971:264) is van mening dat die betekenis van “sabach” in hierdie lied die interpretasie moet bepaal. God trek uit die gebeure profyt of voordeel. Tog is daar geen rede waarom heerlikheid nie as “kabood” verstaan moet word nie.

“Heerlikheid” of “eer” is Afrikaanse vertaalwoorde van δόξα wat in die Nuwe Testament dikwels gebruik word om verskillende nou verwante maar moeilik vertaalbare betekenisse van die woord in die Griekse teks weer te gee.

• In die eerste plek is δόξα ’n statusterm wat dui op verhewe grootheid en wonderbaarheid (soos in Open 7:12). Dan word δόξα gebruik om die majestueuse mag en heerskappy van God te beskryf (vgl Joh 11:4, 40).

• Tegelyk is δόξα ook die wonderbaarlike ligglans van God wat Hom omstraal en waardeur Hy by geleentheid sy teenwoordigheid openbaar (vgl Luk 2:9).

In Lukas 2 is daar twee keer sprake van δόξα, op aarde sowel as in die hemel. Lukas skryf dat skaapwagters in die omgewing van Betlehem in die oop veld gebly het en in die nag oor hulle skape wag gehou het. Meteens staan daar ’n engel van die Here by hulle, en die δόξα (die heerlikheid) van die Here het rondom hulle geskyn (Luk 2:10). Die δόξα is hier die uitstraling van goddelike majesteit. Daar is in die Kersnag δόξα op aarde. Dan kom daar ook ’n menigte engele uit die hemel en hulle prys God en sê: “δόξα aan God in die hoogte hemel” (Luk 2:14). “Ihr Preis gilt beidem, Gottes Herrlichkeit, wie sie im Himmel offenbar ist, und seinem Wirken auf der Erde” (Rengstorf 1974:41). Daar is in die Kersnag dus ook Image144807.PNG in die hemel.

Die vraag is hoe hierdie tweërlei δόξα verstaan moet word. Dit wil voorkom dat die eerste δόξα vertaal moet word met “heerlikheid”. Heerlikheid is God se majesteit. Heerlikheid het God in Homself. Die tweede δόξα moet dan vertaal word met “eer”. Eer word aan God deur mense en engele toegebring, toegeroep en toegesing. Aan God word hulde toegebring. Heerlikheid is daar vir God in die hemel. Engele aanbid en prys Hom, omdat God sy Seun na die aarde gestuur het. “God (is) heerlijk boven alles, en wordt door die engelen die heerlijkheid uitgesproken, erkend, en aldus geprezen” (Greijdanus 1941:65). Die skrywer van die brief aan de Hebreërs sluit daarby aan: “En wanneer God die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: ‘Al die engele van God moet Hom aanbid’” (Hebr. 1:6). “These angels … knew something about his glory, riches and majesty … They had also become aware of man’s fall. And they had been informed that God had provided a way of salvation for man” (Hendriksen 1978:155).

Daar is ’n innige samehang tussen God se heerlikheid in die hemel en sy werke op aarde (Schilder s.j.:105). Die geboorte van Christus laat engele uitroep dat daar heerlikheid vir God is. Tegelyk kom aan God eer toe in die hoogste plekke. In die koms van die Verlosser sien die engele God se liefde en genade en daarom loof en prys hulle Hom. Hulle lof is gerig op die heerlikheid van God soos dit in die hemel bestaan, en op die openbaring van daardie heerlikheid onder die mense (Groenewald 1989:49; Hendriksen 1978:155).

Vrede (εἰρήνη)

Die tweede frase van die lied handel oor vrede. Vrede (εἰρήνη) is binne die Jodedom baie sterk verbind met die koms van die Messias. In sy verhewenheid buig God Hom neer na die aarde en ontferm Hom oor die mense in nood (Groenewald 1989:49). Die verwagting dat die Messias vrede sal bring, is onder andere ’n belangrike motief in die profesieë van Jesaja2 . In teenstelling met die stryd, magsmisbruik, geweld en bloedvergieting, bring Hy versoening, dienswilligheid, nederigheid en liefde – ’n ryk van vrede. Vrede in die volle sin van die woord word hier bedoel.

Dit impliseer vrede met God deur die versoening van die mens se sondes en daarom vrede in ’n mens se hart, en ten slotte ook vrede met die wêreld (Greijdanus 1941:66). Met die koms van die Messias sou hierdie vrederyk aanbreek. In die Talmoed en Midrash-literatuur kom dieselfde tendens voor (Strack & Billerbeck 1924:118). Ingesit deur die engele, word mense opgeroep om saam te sing oor hierdie vrede.

Deur die eeue soek mense na vrede, maar hoofsaaklik na vrede tussen mense. Maatskaplike en staatkundige vrede is egter afhanklik en sekondêr aan vrede met God. Twiste en verskeurdheid in die wêreld veroorsaak dat sosiale vrede helaas op baie plekke uitbly. Daarom dien hierdie deel van die lied ook as smeekgebed teenoor God in die hoogste hemele. Saam met die engele smeek mense dat God deur Christus vrede met die mens sal bewerk en op grond daarvan ook vrede op aardse sal stig deur genadiglik ’n einde te maak aan alle verstoring daarvan.

Horsley voer aan dat Lukas se motief met die geboorteverhale van Jesus hoofsaaklik bevryding van politieke magte was. Die verhale sou “focus on the redemption of Israel from its rulers” (Horsley 1989:33) en “the gospel of liberation … (from) Roman military might” (Horsley 1989:40). Die vrede van Christus sou die afgeforseerde Pax Romana uitdaag. Hierdie frase oor vrede in die lied sou daardie doel moes dien. Dit blyk egter dat Lukas se begrip van die goeie nuus veel meer as dit ingehou het (vgl Luk 1:19; 2:10). Die Joodse tradisie van goeie nuus soos uit Jesaja 40 en 52-53 blyk, het bevryding van militêre oormag ingesluit, maar nog meer as dit; “it also included a subsequent era of peace, justice and righteousness for all. The peace Jesus come to bring … was not just peace from hostile conflict” (Freed 2001:96).

Die tema van “vrede” kom herhaaldelik in Lukas se geboorteverhale en in die res van die evangelie voor. Hoewel “vrede” in sommige gevalle na die afwesigheid van oorlog verwys (bv Luk 11:21; 14:32; 19:42), word dit meer dikwels gebruik in die sin van menslike bestaan van vrede in verhouding met God (Freed 2001:142). Soos wat die skare engele by die geboorte van Jesus met die Gloria vrede en glorie aan die herders verkondig het, so verkondig die skare volgelinge van Jesus met sy intog in Jerusalem: “Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel!” (Luk 19:38). Hiervolgens is vrede en eer albei hemelse kwaliteite (Fitzmyer 1981:1251). Volgens Handelinge 10:36 het “God aan Israel sy woord gestuur, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het”. Jesus is die Messias en die verpersoonliking van vrede in die volle sin van die woord. Paulus druk dit ook uit in sy brief aan die Efesiërs: “Christus is ons vrede … Hy (het) die vyandskap afgebreek … en deur vrede te maak, het Hy … verenig … ’n einde gemaak aan die vyandskap en … versoen en tot een liggaam verenig. Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle … vrede ook … vrye toegang tot die Vader (Ef 2:14-18).

Die volkomenheid van die vrede sal eers kom met die wederkoms van Christus op die wolke. Deur hierdie frase van die Gloria oor te neem en oor vrede te sing, hef gelowiges hulle siel op tot die vredevors met ’n verwagting van die koms van die toekomstige eeu, waarin die hele aarde gevul sal wees met God se volle vrede.

Welbehae (εὐδοκία)

Binne die Jodedom word die begrip εὐδοκία (“rason”) ook in verband gebring met die person van die Messias (Strack & Billerbeck 1924:118). Die vrede op aarde is ’n bewys van die welbehae van God in die mense.

Hierdie frase word op verskillende maniere verklaar en vertaal. In die Vulgaat is die frase vertaal met die woorde bonae voluntatis. Hierdie vertaling vertolk die interpretasie van die frase soos die Rooms Katolieke Kerk handhaaf. Dit impliseer dat mense hulle moet beywer om die guns van God te verkry. “Dadurch würde jedoch Gottes gnädiges Handeln van der Haltung der Menschen abhängig gemacht werden” (Rengstorf 1974:42). God se genadevolle optrede word afhanklik gestel van die optrede van die mense. So ’n interpretasie stry egter met die konteks waarbinne dit staan. Dit blyk ook uit hoe dié woord elders in die Nuwe Testament gebruik word (Matt 11:26; Luk 10:21; Ef 1:4,5,9). Met die geboorte van Christus bloei die aardse vrederyk weer op. Die gevalle menslike geslag word weer die voorwerp van God se welbehae (Knap s.j.:120). Die engele prys God, omdat Hy hierdie versoening bewerk het.

Verdere toeligting van die betekenis van die begrip kan gevind word deur te let op die voorkoms van die uitdrukking in ’n aantal Qumran-himnes in die Dooie See-rolle (1 QH IV, 32v; VIII, 6; XI, 9) (Metzger 1975:133; Wolters 1994:291). In die Qumran-himnes het die uitdrukking betrekking op die welbehae van God in sy uitverkiesende genade. Dié liedere besing dat God mense in sy soewereine genade gekies het om aan hulle die heil van die laaste dae te bied (Groenewald 1989:49). Die uitdrukking blyk tipies Semities te wees waar eujdokiva verband hou met die uitverkiesing van God. Lukas beskryf die engeleboodskap dat die uitwerking van hierdie uitverkiesing in Christus realiseer. So verkondig eujdokiva God se liefde in Christus Jesus. “The angels are not glorying in man and his merits but in God and his grace” (Hendriksen 1978:156).

God bied sy heil aan mense op grond van die mens Jesus Christus. Van Hom het God uit die hemel bevestig: “Jy is my geliefde Seun, in Wie Ek ’n welbehae het” (Luk 3:22). “Eén is er slechts, in wiens aanschouwing de heilige God zich kan verlustigen met diepe en zuiwere vreugde, omdat Hij hier niets ontmoet dat zijn vlekkelooze wezen beleedigt” (Knap s.j.:127). In en deur Hom word sondaars weer mense in die oorspronklike sin van die woord – mense in wie God ’n welbehae kan hê. Hieroor jubel die engele dat die goddelike welbehae, wat op die mens Jesus Christus as hoof rus, afvloei op die lede van sy liggaam, wat deur die geloof deel kry aan sy heiligheid en geregtigheid. God duld die mens nie net voor sy oë nie, Hy verdra ons nie maar slegs geduldig nie, maar Hy verlustig Hom in die mense, wat in Christus vrede met Hom gevind het! Dit is volgens menslike begrip ondenkbaar dat dít van sondaars gesê kan word. Hoe meer ’n gelowige onder die indruk van sy eie sonde kom, hoe groter word sy welbehae in Christus. Hoe meer hierdie welbehae in Christus groei, hoe voller klink ook die stem van die mens saam met die koor van engele wat die welbehae van God besing.

Dit is opvallend dat vrede en welbehae gawes is wat God gee aan sy uitverkorenes in die Messiaanse tyd. Volgens Lukas 2:14 word aan God lof toegesing, omdat die Messias wat God se vrede en sy liefdevolle wil verpersoonlik, nou op die aarde by die mense is (Breytenbach 1994:278).

9. DIE LOFPRYSING AAN GOD AS FOKUS EN VERTREKPUNT

Al die begrippe, “heerlikheid”, “vrede” en “welbehae” wat verspreid in die Ou Testament voorkom, kom in die Gloria as ’n fokuspunt by mekaar.

Δόξα vind ons 165 keer in die Ou Testament, εἰρήνη 250 keer en εὐδοκία 25 keer. In die Nuwe Testament keer hierdie begrippe weer terug. In die Ou Testament is die begrippe gelaai met ’n sterk Messiaanse verwagting. In die Nuwe Testament word hulle aangewend in verband met Christus se sterwe, opstanding, hemelvaart en veral met sy koningskap.

Só berei hierdie lofprysing van die engel met sy heenwysing na God wat die lof verdien die werk van Jesus Christus voor. Hy sou die genade van God aanbied.

10. DIE REAKSIE VAN DIE SKAAPWAGTERS

Die skaapwagters is deur die boodskap en lofprysing van die engele oortuig van die betroubaarheid van die berig. Daarom tree hulle op as die eerste getuies van die geboorte van Christus. Mense wat hulle verhaal hoor, staan verwonderd en Maria word opnuut verseker dat haar Seun werklik die Seun van die Allerhoogste is. Die herders keer vol blydskap na hulle skape terug. Hulle bring aan God lof en prys toe. Hulle het gehoor en gesien dat God getrou bly aan sy beloftes deurdat die heilstyd aangebreek het. Hulle keer terug na hulle daaglikse werk, terwyl die goeie tyding van die groot boodskap in hulle leef.

11. LITURGIESE BEGINSELS

Uit die Gloria in excelsis kan ’n aantal liturgiese beginsels afgelei word vir die kerk en erediens.

Engele sit die lofprysing in. Die Gloria word in die Kersnag deur engele uitgespreek of gesing met die bedoeling dat die kerk hulle lied sal oorneem. In die heilsgeskiedenis tree die engele steeds meer op die agtergrond. Daar is nog engele aanwesig by die opstanding van Christus en ook by sy hemelvaart. Op Pinkster is geen engel te sien nie. Mense moet die liedere van die engele oorneem. Engele kom straks met basuine en met bakke. Daarom is oefening om hierdie lied te sing vir die kerk en vir elke gelowige so belangrik – oefening om soos die engele op die verkondiging lofprysend te reageer.

Kerklike liedere moet, soos die Gloria, in die eerste plek God-georiënteerd wees. Hom kom alle eer en hulde toe, ook in die lied. Die verwesenliking van God se raad van verlossing, wat God bedink en voorberei het, moet die basis en vertrekpunt van hierdie liedere vorm. Lofprysing moet

’n integrerende deel van die liedere wees. Daarnaas volg die verwondering oor die heil wat God vir mense bewerk.

Uit die Gloria blyk dit ook dat die lied in die erediens in noue verbinding met die verkondiging aangewend behoort te word. Die lied moet die verkondiging (prosa) poëties ondersteun, verduidelik, besing en klimakties bevestig.

Tegelyk moet die lied self ook verkondiging wees. Met die lied word mense oortuig van die betroubaarheid van God se boodskap en word hulle geloofsoë oopgemaak om getuies te wees van die genadige optrede van God onder mense in die wêreld.

In die lied moet die christologiese elemente sy regmatige plek kry. Christene moet hulle oefen in die bring van hulde aan Christus. Hy is hul vrede. In Hom betoon God aan mense sy welbehae. Behalwe God-georiënteerd, moet kerklike liedere ook Christus-gesentreerd wees.

Die lied wil ons leer om die regte siening op vrede te behou. Volgens menslike standaarde bestaan vrede hoofsaaklik uit die afwesigheid van konflik. Bybelse vrede begin met ’n versoende verhouding tussen God en die mens, wat oorvloei na die mens se verhouding met homself en sy omgewing.

Uit die lied van die engele blyk dit dat hoe meer ’n mens onder die indruk kom van die verwoestende werking van die sonde, hoe meer staan hy in verwondering oor die genade van God – en hoe intenser sal hy tot lof van God sing.

Met lofprysing word die vreugdevolle boodskap van God in die lewe van gelowiges vasgelê sodat hulle, soos die skaapwagters, daarvan kan getuig en met nuwe perspektief en blydskap kan terugkeer na hulle dagtaak.

Waar liedere vir die erediens gedig word, verdien dit aanbeveling om die Gloria as liturgiese model te gebruik.

BIBLIOGRAFIE

Barkhuizen, J H (red) 1989. Hymni Christiani. Pretoria : HTS Supplementum no 1.

Berger, P-R 1985. Menschen ohne `Gottes Wohlgefallen’ Lk 2.14? Zeitschrift für neutestamentliche Wissenschaft und die Kunde der älteren Kirche, 76(1 & 2):119-122.

Black, M 1954. An Aramaic Approach to the Gospels and Acts. Oxford: Oxford University.

Bovon, F 1989. Das Evangelium nach Lukas (Lk 1,1-9,50). Zürich: Benziger.

Breytenbach, A P B 1994. Lukas 2:14 vanuit ’n Joods-Christelike perspektief. Hervormde Teologiese Studies, 50 (1 & 2):273-279).

Brown, R E 1977. The Birth of the Messiah. New York : Doubleday.

Fitzmyer, J A 1981. The gospel according to Luke. New York : Doubleday.

Freed, E D 2001. The stories of Jesus’ birth. A critical introduction. Sheffield : Academic Press.

Greijdanus, S 1941. Het evangelie naar Lucas. Kampen : Kok.

Groenewald, E P 1989. Die evangelie volgens Lukas. Kaapstad : NG Kerk-Uitgewers.

Grundmann, W 1971. Das Evangelium nach Lukas. Berlin : Evangelische Verlagsanstalt.

Hansack, E 1977. Luk 2,14: Friede den Menschen auf Erden, die guten Willen sind? Ein Beitrag zur Übersetzungstechnik der Vulgata. Biblische Zeitschrift, 21(1):117-118.

Hatch, E & Redpath, H A 1975. A concordance in the Septuagint, Vol I. Graz : Akademische Druck- und Verlagsanstalt.

Hendriksen, W 1978. The Gospel of Luke. Edinburgh : The Banner of Truth.

Horsley, R A 1989. The liberation of Christmas: The infancy narratives in social context. New York : Crossroad.

Ingelse, C 1996. Bijbelse gegevens oor muziek. In Ingelse, C, Van Laar, J D, Sanderman, D & Smelik, J (reds.). Nieuw Handboek voor de kerkorganist. Zoetermeer : Boekencentrum. p. 11-24.

Jeremias, J 1980. Die Sprache des Lukasevangeliums. Göttingen: VandenHoeck & Ruprecht.

Kilpatrik, R S 1988. The Greek Syntax of Luke 2.14. New Testament Studies, 34(3):472-475.

Knap J J s.j. Kerstlicht. Kampen : Kok.

Kruger, D. 2002. Die funksionaliteit van die laat twintigste-eeuse kerklied. In die Skriflig, 36(1):19-44.

Louw, J P & Nida, E 1988. Greek-English Lexicon of the New Testament based on semantic domains Vol. 2. New York : United Bible Societies.

Metzger, B M 1975. A Textual and Commentary on the Greek New Testament. London and New York : United Bible Societies.

Nolland, J 1989. Luke 1-9:20. Dallas : Word Books.

Plummer, A 1969. A critical and exegetical commentary on the gospel according to St. Luke. Edinburgh : T & T Clark.

Rengstorf, K H 1974. Das Evangelium nach Lukas. Göttingen : Vandenhoeck & Ruprecht.

Schilder, K s.j. ‘t Hoogfeest naar de Schriften. Goes : Oosterbaan & Le Cointre N.V.

Schwartz, G 1971. Der Lobgesang der Engel. Biblische Zeitun, 15:260-264.

Strack, H L & Billerbeck, P 1924. Kommentar zum Neuen Testament aus Talmud und Midrasch. Band II. München : C H Beck.

Van Bruggen, J 1996. Lucas, het evangelie als voorgeschiedenis. Kampen : Kok.

Van Bruggen, J 1998. Christ on earth. The Gospel narratives as history. Grand Rapids : Baker Books.

Van der Walt, T 1991. Openbaringsgeskiedenis van die Nuwe Testament. Potchefstroom : Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.

Viljoen, F P 2002. Die betekenis en funksie van die himnes in Openbaring 4-11. Acta Theologica, 23(1):213-237.

Viljoen, F P 2003. Luke, the Gospel of the Saviour of the world. Nederduits Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 44(1&2):199-209.

Westermeyer, P. 1998. Te Deum. The Church and Music. Minneapolis : Fortris Press.

Wolters, A M 1994. Anthropoi Eudokias (Luke 2:14) and “Nsy Rswn” (4Q416). Journal of Biblical Literature, 113:291-292.

TREFWOORDE:

Gloria in excelsis

Lofprysing en aanbidding

Himne / lied

Engele

Litrugie

KEY WORDS:

Gloria in excelsis Deo Praise and Worship Hymn / song

Angels

Liturgy

1 Die tekskritiese probleem word later bespreek.

2 Byvoorbeeld:

• “So sê Hy wat hoog en verhewe is, Hy wat ewig leef en wie se Naam die Heilige is: Ek woon in ’n hoë en heilige plek en Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee nuwe krag …” (Jes. 57:15).

• “… die Here het my gesalf om ’n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat in nood is op te beur … (Jes 61:1 vv).