Versoeningsrituele: tipologieë en prosesse. Insigte vanuit ’n beskrywende verkenning van die rituele mark.
ABSTRACT
Reconciliation rituals: typologies and processes. Insights from a descriptive exploration of the ritual market.
In this article a descriptive exploration of reconciliation rituals is undertaken. Reconciliation rituals are firstly described under ten headings based on the subjects involved in the reconciliation process. Thereafter six typologies are derived from the description and compared to the grieving process as well as Victor Turner’s notion of the Social Drama. From a comparison between these distinct phenomena, it is concluded that typologies of reconciliation rituals have a dual significance concerning the reconciliation process. On the one hand they give insight into where within the process of reconciliation an individual or community finds itself and on the other hand it is helpful in ascertaining which type of reconciliation rituals fit where in the process. These insights can be inculturated into the liturgy in order to help the church in being an agent of reconciliation.
1. INLEIDING
Die doel van hierdie artikel is om ’n oorsigtelike beskrywing te maak van die rituele mark ten opsigte van versoeningsrituele en sodoende die kerk se eie versoeningsrituele binne ’n globale perspektief te plaas. Só ’n beskrywing van hierdie rituele repertoire help onder andere om enkele tipologieë met betrekking tot versoeningsrituele in kaart te bring1. Die tipologieë wat hier afgelei word vanuit die beskrywing word vervolgens vergelyk met twee prosesse, te wete Victor Turner se Sosiale Drama en die rouproses. Vanuit die vergelyking van hierdie data word tot die gevolgtrekking gekom dat hierdie tipologieë van versoeningsrituele insig verleen in die prosesmatige aard van versoening sowel as die plek van rituele in hierdie proses. Hierdie insigte kan binne elke plaaslike situasie op eie wyse geïnkultureer word in die liturgie om sodoende die kerk te help om ’n agent van versoening te wees. Vervolgens sal eerstens ’n beskrywing gedoen word van ’n seleksie van versoeningsrituele ten einde ses tipologieë aan te toon.
2. BESKRYWENDE VERKENNING VAN VERSOENINGSRITUELE
Hierdie beskrywende verkenning word gedoen deur die rituele in te deel in kategorieë gebaseer op die verskillende agente betrokke in die versoeningsproses.
2.1 Kontinente
’n Eerste voorbeeld van ’n versoeningsritueel wat plaasgevind het na aanleiding van kolonisasie, is die begrafnis van Saartjie Baartman 2. Saartjie Baartman, ’n lid van die Griekwa-stam van die Khoisan-bevolking van Suider-Afrika, is in 1789 naby die huidige dorp Hankey in die Oos-Kaap van Suid-Afrika gebore. In 1810 is sy verkoop aan ’n geneesheer van die Britse vloot wat haar na Londen geneem het. In Londen is sy uitgestal in ’n hok. Sy is daarna aan ’n dieretemmer verkoop en naak uitgestal in Parys. Die Europeërs het haar groot genitalieë as ’n kuriositeit beskou. Op 27- jarige ouderdom is sy as ’n verarmde prostituut oorlede, en ’n geneesheer het ’n gipsafdruk van haar liggaam gemaak, haar lyf gedissekteer en haar brein en genitalieë in formalien gepreserveer. Die afdruk van haar liggaam is in Parys in die Musee de l’Homme tot en met 1974 uitgestal, waarna dit gestoor is in ’n agterkamer van die museum saam die ander oorblyfsels van haar liggaam.
Sedert die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika in 1994 het die Suid-Afrikaanse regering gepoog om Baartman se oorblyfsels terug te kry, maar ’n emendasie aan die Franse wetboeke was nodig voordat sodanige proses op dreef kon kom. Na vele onderhandelinge is Saartjie Baartman se oorskot op 9 Augustus (Nasionale Vrouedag) 2002 op seremoniële wyse naby Hankey begrawe. Baartman wat ’n simbool was van al die onderdrukking en verkleinering wat die inheemse volkere van Suid-Afrika onder Westerse kolonialisme moes deurmaak, is terugbesorg aan haar mense. Voor die begrafnis is kruie gebrand as deel van ’n tradisionele seremonie om haar oorskot te reinig. Regeringsamptenare en mans in lendedoeke wat pyl-en-boë gedra het, het toegekyk hoe haar kis stadig afgesak het in die grond van Afrika. In die agtergrond het kore gesing en op die kis was alwynblare.
Tydens die begrafnisritueel is ’n aantal toesprake gemaak. So het Thabo Mbeki, die staatspresident van Suid-Afrika, gesê: “The story of Sarah Baartman is the story of the African people”, en later “it is the story of the loss of our ancient freedom ... It is the story of our reduction to the state of objects who could be owned, used and discarded by others”. En die inheemse regte “aktivis” Willa Boezak het gesê: “I hear the cry of Sarah Baartman. Her soul cries out with relief that at last the pain and humiliation are gone”3. Saartjie Baartman se begrafnis kan dus dien as ’n voorbeeld van ’n versoeningsritueel. ’n Ritueel wat die pyn wat kolonisasie veroorsaak het aanspreek, en in en deur die ritueel Frankryk en Suid-Afrika op ’n sekere vlak versoen, maar meer nog, om die identiteit van die inheemse volkere van Suid-Afrika te herskryf. Om Robert Schreiter se terminologie hier te gebruik, om die narratief van die leuen4 te vervang met ’n nuwe menswaardige narratief waarin alle mense voor God gelyk is.
2.2 Lande en volke
Rituele of simboolhandelinge na afloop van ’n oorlog is al dikwels uitgevoer. So byvoorbeeld wys Lukken (1999:268) op ’n rituele handdruk tussen Kohl en Mitterand wat op ’n indrukwekkende wyse plaasgevind het in die oorlogskerkhof van Verdun, asook die handdruk van Yasser Arafat en Yitzak Rabin in Washington in 1996 met die sluiting van die Olso-akkoord. Benewens lande is daar ’n oorvloed voorbeelde van etniese groeperinge wat versoen. Hier kan as voorbeeld dien die bekende Neurenberg-verhore na afloop van die Tweede Wêreldoorlog wat gepoog het om geregtigheid te bewerk tussen Jode en Duitsers. Die verskillende Waarheidskommissies wat in die tweede helfte van die twintigste eeu voorgekom het, het ook dikwels gedien as versoeningritueel tussen etniese groepe, of gewoon tussen oortreder en slagoffer (watter verskille daar ook al tussen hulle mag gewees het).
In Afrika is daar ook ’n oorvloed voorbeelde van versoeningsrituele wat ingespan word ná konflik tussen verskillende etniese groepe plaasgevind het. Rituele wat offerhandelinge bevat waarin ’n onskuldige (dier) vir die skuldiges sterf en afsluit met saam eet en drink is redelik algemeen (vergelyk Mbiti 1999:1-12).
2.3 Strukturele ongeregtigheid
Hier gee Lukken die voorbeeld van ’n oproep van die kerke om hulle teen die armoede in Nederland te verset. Verder kan mense se skuldigheid vanweë hulle deelname in hierdie strukture uitgedruk word in gesamentlike belydenisse of in publieke skuldbelydenisse van groepe, volke of instellings (Lukken 1999:268). Die klem lê hier dus op skulderkenning deur middel van belydenis. Soms word die skuld egter nie erken nie, maar die skuldige partye op rituele wyse uitgedaag. Kellerman (1991) beskryf weer in sy boek Seasons of Faith and Conscience rituele waaraan hyself deelgeneem het wat die hele kernwapenkultuur van Noord-Amerika uitgedaag het. Sy voorbeelde bou voort op die tradisie van die 1960’s waar dikwels van eksorserende rituele (veral protesoptogte) gebruik gemaak is om strukturele ongeregtigheid uit te daag. Meer resente hedendaagse voorbeelde van hierdie tipe protesrituele is die aksies teen globalisering en kapitalisme.
Antjie Krog (2003:114) beskryf haar eie deelname aan só ’n optog as volg: “We linked arms. We stood arm in arm. Suddenly it was as if the whole landscape stopped breathing. Then we started walking. It was a march in complete stillness. Your heart started to spin dully inside you like an overripe pear. But after a few steps, we felt the power flowing through us. We marched, therefor we were”.
2.4 Godsdienste
’n Voorbeeld wat hier uitstaan is die pous wat tydens die Jubeljaar skuld beken het vir leed wat die kerk aan die wêreld gedoen het (Nauta 2001:11). Verskeie godsdienste het ook in Suid-Afrika voorleggings gedoen by die WVK om hulle aandadigheid aan apartheid te bely (sien De Gruchy 2001:121-127).
2.5 Christelike denominasies
Hier sou gedink kon word aan die Samen op Weg Kerke in Nederland, maar nader aan eie huis sou die VGK ’n goeie voorbeeld wees. Die NGSK en NGKA het in 1994 verenig om die VGK te vorm en by die geleentheid waar die besluit geneem is, het Nelson Mandela saam met die teenwoordiges die Nagmaal gebruik. ’n Betekenisvolle versoeningsritueel tussen twee Christelike denominasies. In 2001 en 2004 is daar ook sogenaamde konvente gereël tussen die VGK en NGK, en het leraars wat die geleentheid bygewoon het ook die geleentheid gekry om hulle visualisering van die vereningingsproses met kuns uit te beeld. Die belangrikste was egter gewoon om te praat en om te soek na oplossings vir die eenwordingsproses in die NG Kerk-familie. Volgens Coenie Burger (2002:7) is, “Die belangrikheid van ’n konvent juis dat dit ’n praatgeleentheid is, waar ’n klomp goed uitgepraat kan word met die oog op die eenheidsproses” 5.
’n Ander Suid-Afrikaanse Gereformeerde voorbeeld is die skuldbelydenis van Willie Jonker by Rustenburg in 1990 waar hy die NG Kerk se skuld aan die sonde van apartheid bely het6. En ’n soortgelyke versoeningsritueel van belydenis van die NG Kerk is dié van die Ring van Stellenbosch se voorlegging aan die WVK in die Paarl op 15 Oktober 1996, namens die Ring van Stellenbosch. Drie teoloë, te wete Bethel Müller, Hannes Koornhof en Frederick Marais, het die voorlegging van hulle verklaring behartig. Die rituele hoogtepunt van die geleentheid was egter, vir die skrywer van hierdie artikel wat self ook daar teenwoordig was, toe aartsbiskop Desmond Tutu vir professor Bethel Müller simbolies omhels het. Dit was ’n roerende gebeurtenis, aangesien daardie omhelsing in der waarheid ’n omhelsing van vergifnis was wat aangereik is na elke lid van die NG Kerk7.
In Mei 2003 het ’n pragtige ritueel afgespeel in die Paarl, Suid-Afrika. Daar sou gepraat kon word van ’n hele liturgie van versoening wat voltrek is. Na aanleiding van die Groepsgebiede wetgewing van 1961 van die apartheidsjare, het die Anglikaanse gemeente van St. Stephen’s, wat hoofsaaklik uit bruin lidmate bestaan, hulle reg om in ’n sekere gebied te aanbid verloor. Sodoende kon hierdie gemeente nie voortaan meer in hulle kerkgebou wat na die wetgewing in ’n blanke area sou val aanbid nie. In 1979 het die Gemeenskapsontwikkelingsraad die kerkgebou van hierdie Anglikaanse gemeente gekoop vir die bedrag van R 50 000. En in 1980 het hierdie raad die kerkgebou aan die NG Kerk vir R 20 000 verkoop wat die gebou vir troues en gemeenskapsprojekte gebruik het. Die Anglikaanse kerk ’n grondeis ingestel wat toegestaan is en sodoende hulle ou kerkgebou weer herower, deurdat die staat ’n bedrag van R 780 000 (huidige markwaarde van die gebou) aan die NG Kerk betaal het.
Die terugbesorging van die eiendom aan sy regmatige eienaar is ritueel bevestig tydens ’n erediens in die kerkgebou wat onder andere bygewoon is deur die Anglikaanse aartsbiskop van Kaapstad Winston Ndungane (wat gepreek het en die altaar en kerkgebou met heilige water gekonsekreer het) en die moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk, Coenie Burger (Botha 2003:1, sien ook Botha 2003:4). Tydens die seremonie het ’n predikant van die betrokke NG Kerk in die Paarl, ds Pieter van der Walt, gesê: “Our children want to know how we could have allowed it, why we didn’t say or do anything about it – and we don’t have answers. Today I want to thank the people of St Stephen’s – you have shown that we can begin anew. This makes us very humble. This sets us free’’8. En volgens Beverly Jansen, Kommisaris van Grondeise in die Wes-Kaap, was die dag ’n groot dag vir vryheid, ’n dag waarop die mense van die Paarl versoen het9.
As ’n geheel het hierdie versoeningsritueel die vorm van ’n erediens aangeneem met verskeie liturgiese momente soos preek en weiding. Daar was egter ook heelwat geleentheid gewees vir verskillende betrokkenes om hulle verhale, hulle waarhede aangaande die verlede, te lug. Dit was ’n geleentheid waartydens die waarheid oor die verlede in geen ondubbelsinnige terme op die tafel geplaas is nie, maar waartydens ook verder gegaan is deurdat restitusie gekoppel is aan versoening. Iets tasbaar is gedoen om versoening te bewerk, naamlik ’n eiendom wat op onregmatige wyse afgeneem is, is terugbesorg.
2.6 Die mens en God
Vroeëre voorbeelde van rituele wat gemik was daarop om versoening tussen God en mens te bemiddel is onder andere verskillende soorte offers. In die Christelike tradisie sou bykans alle rituele of liturgiese handelinge as versoeningsrituele gesien kan word. Die meeste van die rituele in die Christelike liturgie is inderwaarheid gemik op versoening tussen God en die mens. Hier kan ’n mens gewoon dink aan die prediking, doop, Nagmaal, skuldbelydenis en genadeverkondiging, asook rituele wat meer voorkom in denominasies soos die Rooms Katolieke Kerk soos die privaatbieg, pelgrimstogte en heiliges (vergelyk Wepener 2003). Met betrekking tot die ritueel wat by uitstek in die geskiedenis van die kerk bekend gestaan het as die ritueel van versoening naamlik die boete kan opgemerk word dat dit prosesmatig vorm aangeneem het en oor vier fases, te wete bekendmaking/belydenis, boete, versoening en deelname aan die Nagmaal, verloop het.
2.7 Lewendes en dooies
Nauta gee hier ook voorbeelde van huidige geslagte wat verskoning aangebied het vir misdrywe wat vorige geslagte aangedoen is, “de Amerikaanse president bood zijn verontschuldigengen aan voor het grootste kwaad in de geschiedenis van zijn land, de slavernij; in ons land heeft de minister-president, zij het met enige tegenzin, excuses aangeboden voor de ellendige opvang van degenen die terugkeerden uit de concentratiekampen” (Nauta 2001:11).
Op ’n meer persoonlike vlak is dit dikwels nodig dat iemand versoen moet word met ’n naasbestaande of vriend(in) wat dood is. Hier is ’n voorbeeld van so ’n situasie waarvoor ’n versoeningsritueel ontwerp is om ’n dogtertjie met haar oorlede ma te versoen:
“Rituals of reconciliation are designed to finish business. They allow individuals to accept or to extend forgiveness to complete a necessary act. Tanya had highly ambivalent feelings toward her mom, an HIV drug user who eventually died of complications related to AIDS. When asked where her mother was, the nine-year-old girl said she was a ghost. Queried, Tanya said that if you were good you became an angel. If you were bad, you went to hell and burned to a skeleton. In between you become a ghost. As she worked through her ambivalence, she announced that her mother could now become an angel. We developed a ritual whereby she gave her mother angel wings. Other rituals of reconciliation can be as simple as writing a note to the deceased”10 .
So ’n ritueel beoog dus om versoening tussen die oorledene en lewende te bewerk, maar ook om die oorlewende met sy/haar eie emosies te laat versoen. In Chili is daar weer ’n reinigingseremonie gereël in die Nasionale stadion in Santiago nadat ongeveer 900 mense daar om die lewe gebring is en vele meer verdwyn het. “The purification was a way of remembering those who had died there; it also provided the opportunity to excorcise, in some measure, the horrors that occured there” (Schreiter 1992:74).
In Afrika is hierdie aspek dikwels teenwoordig in versoeningsrituele deurdat die voorvaders oftewel lewende dooies ook geken word in en deur die rituele. So byvoorbeeld bestaan daar die gebruik om in die groot drom umqombothi wat in ’n versoeningsritueel gebruik word een beker vol oornag vir die voorvaders te los of om kos te eet waarvoor ’n spesifieke voorvader baie lief was.
2.8 Families
’n Voorbeeld van ’n versoeningsritueel uit Zimbabwe wat veral gebruik word vir familielede wat verskil het, is die sogenaamde “Ukukhumelana umlotha”:
In Sindebele, when two people quarrel one may want to apologise. He goes to the relative of the other and relates the problem, and requests the relative to mediate. A sangoma is sought to bring herbs for this coming together. The herbs, rapoko, ash and blood from the toe of a chicken, are cooked to make porridge. With one inside the gate, the other outside, the porridge is then poured on broken ground. The sangoma stands in the centre separating the two antagonists, while the two draw near and eat the porridge with the tips of their fingers. They shake hands and the sangoma takes the other muti i.e. the mixture of herbs, rapoko, ash and uncooked chicken blood and sprinkles it on them while they are shaking hands. They say to each other our enmity ends today. The sangoma breaks the gourd and goes back to his home without uttering a word to them11.
2.9 Individue
Wanneer ’n persoon se dood nader, ontstaan daar dikwels ’n behoefte om met vriende of familielede wat van hulle vervreemd geraak het, om watter rede ook al, te versoen. Met die oog hierop word daar dikwels versoeningsrituele ontwerp. Suster Jean Roche wat in ’n hospitium werk gee ’n voorbeeld van só ’n ritueel waartydens vergifnis geritualiseer is in ’n gebedsdiens rondom die sterwende se bed en die sterwende die geleentheid kry om met familie te versoen.
One case involved a dying man whose alcoholism had been a source of great pain to his wife and eight children. During the bedside service, each of the nine blessed the patient, expressing forgiveness and praying for his peace. Then, all laid hands on the man and listened to a tape of Carey Landrey’s song, ‘Lay Your Hands’. As the last note sounded, the man died - peacefully. Rituals like this one can be a source of healing for both the patient and the family12.
In Zimbabwe word die sogenaamde “Ukugezisana” (om mekaar te was) aangetref was as ’n versoeningsritueel getipeer kan word. Hierdie ritueel is bedoel vir twee mense waartussen daar onmin was:
The one who wants to apologise goes to an elder and asks the elder to go and seek forgiveness on his behalf. If the other accepts, the one seeking forgiveness brings a hen and they come together to the mediator. One holds the feet, while the other holds the head. The mediator takes a knife and cuts the throat of the hen and sprinkles blood on them. The other blood is put in a container of water, then the two wash their hands in it, shake hands and start talking to each other. The mediator takes the meat. The anger/hatred ends there although the injured party may ask for payment 13.
’n Uitstaande Suid-Afrikaanse ikoon van versoening is oudpresident Nelson Mandela 14. Sy hele lewe sedert sy vrylating uit die tronk ná 27jaar gevangenisstraf spreek van versoening. Daar is alreeds in die inleiding van hierdie proefskrif verwys na die 1995 Rugby Wêreldbeker oorwinning van die Springbokke waar hy met Springboktrui en -pet die kaptein, Francois Pienaar, en sy span gelukgewens het. Verskeie lande het al Nelson Mandela se hulp ingeroep om konflikterende partye te help bemiddel. ’n Ander versoeningsritueel van die kant van Nelson Mandela wat hier uitgesonder kan word is sy besoek aan Betsie Verwoerd in 1995. Me Verwoerd was die weduwee van Hendrik Verwoerd, een van die eersteministers van Suid-Afrika tydens die hoogbloei van apartheid. Nelson Mandela het haar by haar huis in Orania, vesting van die Afrikaners wat pleit vir selfbeskikking, gaan besoek en saam met haar tee gedrink.
2.10 Self
Versoening word benodig wanneer ’n verhoudingsbreuk tussen twee partye ingetree het aangesien een of albei die ander op een of ander wyse te na gekom het. Die oortreder en slagoffer moet dan versoen word. Dit is egter ook so dat die oortreder ook met sigself moet versoen. Verder is dit ook soms vir die slagoffer moeilik om te vergeef. Volgens ’n webruimte 15 kan kristalle gebruik word te help met sake soos vergifnis, woede en geduld. Wat opval hier is hoedat elke probleem met die eerste persoon enkelvoud “I” begin, en alles gemik is op die welsyn van die individu. Nietemin sou die gebruik van kristalle op rituele wyse om versoening te bemiddel as ’n voorbeeld van ’n hedendaagse individualistiese versoeningsritueel kon dien.
’n Ander voorbeeld van die gebruik van rituele waar ’n individu met sigself moet versoen kom voor in die sogenaamde “Vrouerituele van versoening”. In hierdie rituele is die versoening gemik op aspekte in die individu se lewe wat verwyder geraak het van mekaar. Dit het te make met die herstel van digotomieë of binêre opposisies wat op vroue afgeforseer is, en wil sake soos gees en materie; individu en gemeenskap; manlik en vroulik; seksualiteit en spiritualiteit; jongmense van bejaardes en dood en geboorte versoen. Ten einde hierdie versoening te bewerkstellig is genesing nodig en vir die doeleinde word gedans, gekontempleer, ontdek en dít saam met ander vroue. ’n Uitnodiging na so ’n geleentheid lui onder andere, “Drinking from the Well of Renewal: The grief of the female lineage lives in our bodies, we will honor our Ancestors and our body wounds through rituals of grief and reconciliation”16.
3. SES TIPOLOGIEË
Die sogenaamde tipes van versoeningsrituele wat hier volg is gebaseer op die verskillende soorte funksies of dimensies wat sentraal staan in rituele data en nie op die subjekte betrokke in die versoeningsproses nie17. Binne die rituele repertoire van versoeningsrituele, bestaan daar verskeie moontlike wyses waarop hierdie data ingedeel kan word. Die klassieke tipologie vir ritueel behels die vier basiese repertoires van jaarlikse rituele, oorgangsrituele, krisisrituele en alledaagse rituele (Post et al 2003:42). Benewens hierdie basiese indeling bestaan daar nog heelwat ander voorbeelde van indelings. Die tipologieë wat vanuit hierdie data na vore gekom het pas, net soos die sogenaamde rituele na rampe (vergelyk Post et al 2003:42), nie binne een spesifieke genre van rituele nie, maar is versprei oor ’n hele aantal. Die tipes wat hier onderskei kan word, alhoewel uiteenlopend in hoe hulle daar uitsien en nie opgedeel in waterdigte kompartemente nie, behels:
• Protesrituele – optogte; geskrifte soos verklarings; handelinge van onthouding soos vas, nie koop nie of sanksies
• Belydenisrituele – verbale skuldbelydenisse; dokumente soos skulderkennings en verklarings; tyd vir stilte
• Helings- of terapeutiese- of reinigingsrituele – uitpraat; vertel van stories; die maak van kunswerke (klei; papier; gedigte ens.); plak van papiertjies teen kruis en verbranding daarvan; eksorsismes soos byeenkomste op plekke waar ongeregtigheid plaasgevind het
• Aanvaardings- of vergifnisrituele – omhelsings; handeskud; gebede; rook; seën;
• handewas; gebruik van kristalle
• Herintegrerende- of saambindende rituele – saam eet en drink; verklarings; register van versoening; simboliese begrafnis; besprinkeling (met byvoorbeeld bloed); dans
• Reparasierituele – simboliese gradeplegtighede; teruggee van eiendom
Elkeen van hierdie tipes is ’n soort wat pas binne die repertoire van versoeningsrituele, alhoewel daar in elke tipe op ’n ander aspek van die proses van versoening gefokus word.
4. FASES VAN VERSOENING
Volgens Arbuckle is daar verskeie redes waarom ’n persoon, ’n groep of ’n kultuur rou, waarvan die wegbeweeg vanaf ’n voorspelbare lewenspatroon na ’n onbekende een so ’n rede is (Arbuckle 1991:19,32). “Few people or organizations can relate to the unknown, the unpredictable or chaos without feeling anxiety, apprehension or fear” (Arbuckle 1991:19). Arbuckle sien rou as die prys wat mense betaal vir liefde. So byvoorbeeld kan ’n kultuur só lief of verknog raak aan hulle eie tradisie dat ’n verandering daarvan rou tot gevolg kan hê. Laasgenoemde waarheid kan tot ’n sekere mate teruggevind word in die proses waardeur vele voorheen bevoorregte wit Suid- Afrikaners vanaf 1994 en tot op hede (2004) gaan, en wat na alle waarskynlikheid nog ’n aansienlike tyd sal voortduur. Antjie Krog (1998:195-196) wys hierop in haar boek The Country of My Skull oor die WVK en die eerste reaksie wat sommige Suid-Afrikaners gehad het op die bevindinge van die WVK. Die feite uit die geskiedenis wat na vore gekom het tydens sittings van die WVK is deur die voorheen eksplisiet bevoorregtes dikwels ontken en verdag gemaak. Krog haal dan die psigiater Kaliski aan volgens wie só ’n reaksie eintlik ’n eerste stap is om die waarheid te hanteer. “Previously people said nothing, now at least they are denying the information” (Krog 1998:196). Dít vergelyk hy met die eerste fase van terminale pasiënte, naamlik ontkenning, wat ’n noodsaaklike stap is om by die volgende stappe uit te kom. Met ander woorde, kort na die afloop van die WVK-sittings, was ’n deel van die Suid-Afrikaanse bevolking besig om ’n rouproses te betree as gevolg van die radikale veranderinge wat Suid-Afrika deurgemaak het vanaf ’n apartheidstaat na ’n volwaardige demokrasie. Soos Krog (1998:54) self tereg opmerk, “Yes. Piece by piece we die into reconciliation”.
Indien dit ’n akkurate observasie is om aan te voer dat (dele van) die Suid-Afrikaanse bevolking deur ’n rouproses gaan, ook die NG Kerk, dan is insig in die prosesmatige aard van rou waardevol ten einde die proses van versoening in Suid-Afrika te verstaan. So wys Arbuckle op die algemeen aanvaarde stadia in die rouproses te wete, (1) Die gevoel van verdowing of selfs ontkenning dat die verlies gebeur het. (2) ’n Mengsel van sterk gevoelens soos nostalgie, wanhoop en woede, en dan depressie. (3) ’n Gevoel dat jy dryf waarin gesoek word na waardevolle dinge in die verlede wat saamgeneem kan word na die toekoms, met die gevaar om verknog te bly aan die verlede en ’n weiering om die toekoms tegemoet te gaan. (4) Die herstel of heropname waarin ’n losmaking met die verlede plaasvind en die beste van die verlede saam na die toekoms geneem word (sien Arbuckle 1991:20). Vir ’n individu of groep is dit gesond om deur al die verskillende fases te werk en kan só ’n proses help om by herstel en uiteindelik by versoening uit te kom. Ongelukkig is die grootste krisis aangaande die dood in die Westerse samelewing nie soseer doodsangs nie, maar die ontkenning en onderdrukking van die bestaan van die werklikheid van die dood 18.
Victor Turner se werk waarin hy sy “Social Drama” uiteensit is gebaseer op die rituele van die Ndembu mense van Zambië wie se kultuur ook grootskaalse veranderinge ondergaan het in die tyd toe hy sy observasies gemaak het (vergelyk Hay 1997:150)19. “Turner asserts that society is a process, not something static; it is created over and over again out of the effort to resolve the tensions between order and creativity” (Arbuckle 1991:32). ’n Belangrike deel van laasgenoemde proses is die sogenaamde sosiale drama. Hierdie sosiale drama beskik oor ’n bepaalde patroon met vier (4) fases, te wete: (1) Breuk. (2) Krisis. (3) Herstel en (4) Herintegrasie of skeuring. Na ’n verlies of breuk in ’n samelewing word die normale lewenswyse opgehef en die groep gedwing om op sy eie optrede te reflekteer in die lig van sy dominante waardes (sien Arbuckle 1991:32). Skematies sien dit as volg daaruit20:
Elke fase het sy eie unieke karakteristieke.
5. KONKLUSIE
’n Vergelyking van Turner se Sosiale Drama, die rouproses en die tipologieë van versoeningsrituele, gee bepaalde insigte met betrekking tot die proses van versoening en die rol en plek van rituele in die proses. Sommige van die versoeningsrituele is in verskillende fases van die versoeningsproses meer prominent is as in ander stadia. Komparatief skematies sien hierdie data as volg daaruit:
Sosiale Drama | Breuk | Krisis | Herstel | Herintegrasie/ Skeuring | ||
Rou | Ontkenning isolasie | Woede en | Onderhande- ling | Depressie | Aanvaarding | |
Boete | Belydenis/ Bekend- making | Boete- doening | Versoening | Deelname aan Nagmaal | ||
Tipologieë | Protes | Belydenis | Terapeuties/ Heling | Aanvaardings/ Vergifnis | Herintegrerende/ Saambindende | Reparasie |
Die waarde van hierdie bevinding setel veral in die feit dat verskillende stadia of fases binne die proses van versoening, verskillende soorte versoeningsrituele benodig. En die soort versoeningsritueel is vergelykbaar met die verskillende tipologieë wat ooreenstem met die fases. Hierdie bevinding kan gemeentes en gemeenskappe help om aan die een kant, aan die hand van die soort versoeninsgrituele wat voorkom insig te verkry omtrent die stand van versoening en aan die ander kant om, indien ’n gemeente of gemeenskap weet in watter fase hulle hulself bevind, ’n bepaling gemaak kan word van watter soort versoeningsritueel benodig word. Hier moet weereens opgelet word dat geen waterdigte kategorieë bestaan nie, en dat die hele proses, gemeentes, kulture, asook rituele dinamiese gegewens is wat nie finaal vaspenbaar is en dan as resep voorgeskryf kan word nie. Hoe dit ook al sy, soos Antjie Krog tereg opmerk sterf ons stukkie vir stukkie in versoening in – in ’n pynlike onontkombare proses waarin goeie gepaste versoeningsrituele onontbeerlik is.
BIBLIOGRAFIE
Bauer, C 2002. “Battle for Sarah Bartmann, ‘Hottentot Venus’”. 11 Augustus 2002. Sunday Times, 8-9.
Botha, Susan 2003. “End of ‘Exile’. St. Stephen’s Church returned”. Paarl Post 30 April 2003, 1.
Botha, Susan 2003. “St. Stephen’s: Real spirit of reconciliation”. Paarl Post 30 April 2003, 4.
Burger, C W 1995. Gemeentes in transito. Vernuwingsgeleenthede in ’n oorgangstyd. Gemeente en bediening 3. Kaapstad: Lux Verbi.
Burger, C W “Ek droom oor ’n kerk wat ’n verskil maak - Burger”. 2002. Die Kerkbode. 169/10, 7.
Coetzee, B 1999. “Saartjie Baartman, ’n Venus uit Afrika”. Rooi Rose 17 Februarie 1999, 112-114.
De Gruchy, J W 2002. Reconciliation. Restoring Justice. Kaapstad: David Philip.
De Klerk, B J 2003. “Nelson Mandela en Desmond Tutu as icons of reconciliation”. Jaarboek voor liturgie- onderzoek. 19, 47-63.
Deflem, M 1991. “Ritual, Anti-Structure, and Religion: A Discussion of Victor Turner’s Processual Symbolic Analysis”. Journal for the Scientific Study of Religion. Vol. 30/1, 1-25.
Grimes, R L 1990. Ritual Criticism Case Studies in Its Practice. Essays on Its Theory. Columbia: University of South Carolina Press
Hay, M 1997. Ukubuyisana. Reconciliation in South Africa. Proefskrif Catholic Theological Union of Chicago.
Jonker, W 1998. Selfs die kerk kan verander. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.
Kellerman, B W 1991. Seasons of Faith and Conscience. Kairos, Confession, Liturgy. Maryknoll, NY: Orbis Books.
Krog, A 1998. Country of My Skull. Londen: Vintage.
Krog, A 2003. A change of tongue. Johannesburg: Random House.
Louw, D J 1994. Illness as crises and challenge. Guidelines for pastoral care. Halfway House: Orion Publishers.
Lukken, G 1999. Rituelen in overvloed. Een kritische bezinning op de plaats en de gestalte van het christelijke ritueel in onze cultuur. Baarn: Gooi & Sticht.
Mbiti, J S 1999. “‘Hearts Cannot be Lent!’ In Search of Peace and Reconciliation in African Traditional Society”. The Princeton Seminary Bulletin Vol. XX/1, 1-12.
Muller, W 2002. “Saartjie Baartman verenig nasie”. Die Burger 10 Augustus 2002.
Nauta, R 2001. “Excuus als excuus”. In: Nauta, R. et al. Excuus, pardon, vergeef me, het spijt me. Exercities in de excuuscultuur. Nijmegen: Valkhof Pers.
Post, P G J et al. 2003. Disaster Ritual. Explorations of an Emerging Ritual Repertoire. Liturgia Condenda 15. Leuven: Peeters.
Welz, S 2002. “Enigiets oor Saartjie is nou ‘hoogs versamelbaar’”. Die Burger 25 Mei 2002.
Wepener, C J 2003. “Liturgie en versoening vóór die Reformasie: 60-312AD”. Praktiese Teologie in Suid- Afrika. 18/1, 231-256.
Wepener, C J 2004. Van vas tot fees. ’n Ritueel-liturgiese ondersoek na versoening binne Suid-Afrikaanse kultuurkontekste. Proefskrif ingelewer ter voldoening aan die vereistes vir die graad Doktor in die Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch.
“Crystal Summary”. http://www.shadesofpassion.net/crystals/crystalsummary.html 02/12/03. “Reconciliation Rituals”. http://www.zimrightsbyo.co.zw/Reconciliation%20Rituals.htm 07/2003.
“Saartjie Baartman. Tragic Venus”. 2002. Special South Africans. www.insanetree.com/images...artjie.htm
02/12/03.
Doka, K J 2001. “Using Ritual with Children and Adolescents”. http://www.hospicefoundation.org/publications/using_ritual.htm 02/12/03.
Pantaleon, R “The path of fire and water. Women’s rituals and the sacred”. http://www.rowenapantaleon.com/womensrituals_2002_calif.html 02/12/03.
Roche, J 1994. “Creative Ritual in Hospice”. http://www.chausa.org/PUBS/PUBSART.ASP?ISSUE=HP9412&ARTICLE=C 02/12/2003.
Truth and Reconciliation Commission. “Day 2 – Tuesday 15 October 1996. Submission by Dr Hannes Koornhof, Dr Bethel Müller & Frederick Marais”. http://www.doj.gov.za/trc/hrvtrans/Wineland/ngk.htm 31/07/2003.
Truth and Reconciliation Commission. “Register of Reconciliation”. http://www.doj.gov.za/trc/ror/index.htm 31/07/2002.
1 ’n Oorsigtelike beskrywing soos hierdie is uiteraard voorlopig en gevolglik sal die tipologieë wat uit hierdie beskrywing afgelei word ook voorlopig wees. Dit is nietemin ’n eerste aanset wat uitgebrei en genuanseer kan word. Sien ook Wepener (2004:242-260).
2 Hieroor is daar heelwat geskryf in die Suid-Afrikaanse media ten tyde van die gebeure, asook daarna. Vir enkele koerant en tydskrif berigte vergelyk die volgende, Muller (2002), Welz (2002), Coetzee (1999) asook, Bauer (2002).
3 Sien, www.insanetree.com/images...artjie.htm, asook, http://allafrica.com/stories/200205170044.html wat die voorafgaande gebeure in Parys, die verpakking en vervoer van haar oorskot, beskryf.
4 Vergelyk, Schreiter (1992: hoofstuk 2).
5 ’n Ander voorbeeld van ’n versoeningsritueel wat gemik was op kerkeenheid is ’n protesoptog wat ’n artikel in Die Kerkbode getiteld “Vrystaat vra kerkeenheid ná protesoptog” as volg beskryf. “’n Groepie predikante en lidmate van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) in die Vrystaat, het op 6 Mei tydens ’n betoging onder meer gesê dat die NG Kerk in die Vrystaat doelbewus probeer om die proses van eenheid te vertraag en agter die verdeeldheid van die VGKSA en die NG Kerk in Afrika (NGKA) sit”. “Vrystaat vra kerkeenheid ná protesoptog”. 2002. Die Kerkbode.168/10, p 2. Hier is dus ’n optog of prosessie gebruik om protes aan te teken op rituele wyse ten einde struikelblokke (aldus die deelnemers) in die weg van kerkeenheid te benoem. Hulle optrede het dan ook inderdaad ’n verklaring van die Moderamen van die Vrystaatse Sinode van die NGK ontlok wat onder andere lui, “Die Moderamen van die Vrystaatse Sinode van die NG Kerk sien die ideaal van groter kerkeenheid in die NG Kerk-familie as ’n opdrag van die Here wat hulle graag wil gehoorsaam”.
6 Vergelyk hier, Jonker (1998:199–205), asook, De Gruchy (2002:38).
7 Vir ’n verbatim verslag van hierdie geleentheid sien, http://www.doj.gov.za/trc/hrvtrans/Wineland/ngk.htm
8 Ibidem
9 Ibidem
10 http://www.hospicefoundation.org/publications/using_ritual.htm Sien ook die roerende beskrywing van ’n aborsie ritueel in Grimes (2000:320-323).
12 Die artikel is van Roche is getiteld, “Creative Ritual In a Hospice”. A Bit of Imagination Can Help the Dying, Their Families, and Even the Hospice Staff”, en is te vinde by, http://www.chausa.org/PUBS/PUBSART.ASP?ISSUE=HP9412&ARTICLE=C in hierdie artikel is ook ’n voorbeeld van ’n ritueel vir die hantering van woede sowel as ’n ritueel waarin ’n inheemse Amerikaanse vredespyp gebruik is.
14 Vergelyk oor Mandela as ikoon van versoening De Klerk (2003).
17 Post et al (2003:42) wys op die verskillende tipologieë wat gebruik kan word in die indeling van rituele, en verwys onder andere na ’n indeling gebaseer op die “actors and participants”.
18 Sien, Louw (1994:167-168), asook, Arbuckle (1991, hoofstuk 3 getiteld “Denying loss in Western cultures”).
19 Turner ontwikkel hierdie konsep in sy proefskrif wat gepubliseer is onder die titel Schism and continuity in an African society: A study of Ndembu village life.
20 Vergelyk onder andere, Arbuckle (1991:35), Burger (1995:29-31), Hay (1997:151–158), asook, Deflem (1991:2–3).