Theron, J
Universiteit van Stellenbosch

Verraad

ABSTRACT

Betrayal

This article is about Judas and the betrayal of Jesus. In the discussion it is shown that Judas, contrary to the common belief in the church that he had a Satanic character and purpose, was seemingly a responsible church leader with good intentions. Against the humanitarian sympathy for Judas the depth of his betrayal is shown exactly in the fact that it was done with good intentions. Judas was confronted by Jesus’ strange pronouncements about the nation, the temple and the law as well as his incomprehensible behaviour when the woman anointed his feet in Bethany. He experienced these things as a betrayal. The name and person of Judas reveal the ambiguous nature of the act of betrayal. The use of the word “betrayal” and related concepts in the Word of God explain its ambiguous character even further. The disturbing conclusion of the article is that Judas betrayed Jesus through his good intentions and in service of God.

Hierdie artikel is opgedra aan my pa, wat weet hoe duur is sy genade wat genoeg is.

INLEIDING

Dis al te maklik om sulke netelige probleme soos dié van Judas uit mens se gedagtes te probeer hou. Die naam Judas laat jou noodwendig dink aan verraad en roep al wat negatiewe gedagte is op oor die donker dieptes waarin bose mense kan verval. Wanneer ons verplig word om aan hom te dink, pas dit ons natuurlik goed om hom in die kerk onbereikbaar boos voor te stel of om hom te verontskuldig deur hom as ’n tragiese en edele figuur te sien soos in die sekulêre humanisme (Philips 1980:30). Die humanistiese beskouings wat ook duidelik in die kerk aanwesig is, poog om hom vanuit sy motiewe te begryp en sy skuld te relativeer.

Teenoor die algemeen aanvaarde opvatting in die kerk toon die artikel dat Judas nie ’n slegte mens was nie. Teenoor die humanistiese beskouing wys dit dat hy juis met sy edele motiewe vir Jesus verraai het.

Daar word gewys hoedat Judas gekonfronteer was met die vreemdheid van Jesus se uitsprake rakende die verkore volk, die tempel en die wet asook Jesus se onverstaanbare optrede by sy salwing deur die vrou in Betanië. In die bespreking van die naam en persoon van Judas sal die dubbelsinnigheid van verraad aan die lig kom. Die betekenis van “verraad” en die gebruik daarvan in die Woord sal verder die konklusie ondersteun dat Judas ’n verantwoordelike kerkleier met goeie bedoelings was, maar dat hy juis hierdeur vir Jesus verraai het.

JUDAS – MENS

Die skrikwekkendste van Judas is dat hy ten spyte van die bose voorstellings van hom in die kerk oor die eeue, werklik nie as boos herken is deur sy mededissipels nie en ook nie deur enige van hulle verdink is nie, soos Origenes reeds opmerk (Laeuchli 1953:255). Die Woord praat nie uitvoerig van sy slegte dade nie; inteendeel, hy was die een wat genoeg vertrou is om die geldsake te hanteer. Nog meer as dit - hy was die een wat oor die armes besorg was (Joh 12:5). As ’n mens effens noukeuriger na die Woord kyk, besef jy dat behalwe vir Johannes wat sê dat hy geld sou afskep (Joh 12:6), hy werklik niks noemenswaardig sleg gedoen het nie. Hy het nie ’n slegte karakter gehad of ’n geneigdheid tot misdaad nie. Hy was ’n goeie Christen - een van die verkorenes wat Jesus self uitgekies het (Joh 6:70). Hy het voorgekom as ’n goeie kerkleier.

Judas en die ander dissipels het hulleself vanuit hul Joodse agtergrond, in ’n moeilike situasie bevind. As ons met ’n wyer perspektief na Judas kyk, mag sy optrede vir ons selfs meer verstaanbaar lyk. Jesus het onaanvaarbare uitsprake teenoor sy Joodse volksgenote oor die tempel, die wet en die verkore volk gemaak. Hierdie dinge was allerheiligs en onaantasbaar vir ’n Jood. Jesus het al die godsdienstige opvattings wat oor eeue aankom en by die dissipels van kleins af ingeprent is, onder verdenking geplaas. Hy sal die tempel afbreek (Joh 2:19) en ag homself groter as die Tempel (Matt 12:6). Van die wet sê Hy dat die een wat die minste van die gebooie daarvan breek en die mense so leer, die minste in die koninkryk sal wees. Hy breek egter self die gebod oor die Sabbat (Matt 12:8) en leer vir die dissipels ’n nuwe gebod (Joh.13:34). Verder sê hy dat die koninkryk van God van die volk weggeneem sal word en aan ’n ander volk gegee sal word (Matt 21:43). Hy word amper by ’n krans afgegooi nadat hy die verkore volk van God in die gesig gevat het deur daarop te wys dat Elia na ’n weduwee in Sarfat eerder as na ’n weduwee in Israel gestuur is tydens die droogte in die tyd van Koning Agab (Luk 4: 26).

Dit alles moes vir die Joodse dissipels uiters vreemd gewees het. Hoeveel keer is hulle nie ontstel en verontwaardig deur sy uitsprake nie (Matt 19:25; Joh 6:52-71)? Hy kondig die verlossing van die armes aan in Lukas 4 en hou deurentyd die lot van die armes voor oë. Tog laat Hy Maria sy voete was in Betanië. Hoe kan Hy dan verbaas wees as Judas verontwaardig is oor hierdie verkwisting? Interessant dat in die ander Evangelies ál die dissipels verontwaardig is, maar dat net Judas in Johannes sy misnoeë uitspreek oor die vermorsing. Nog vreemder is die feit dat Judas juis in Matteus 26 net ná hierdie episode na die owerpriesters gaan om Jesus te gaan verraai. Judas is skynbaar op dié stadium volgens alle Christelike oorwegings heiliger as Jesus. Judas is besorg oor die armes – Jesus nie. Judas sou nou wel sy klein deeltjie afknip, maar dit maak nie van hom ’n booswig nie. Sy eerste gedagte is aan die armes en ’n arbeider soos hy verdien sy loon (Luk 10:7). Anders as Jesus, is hy ’n verantwoordelike leier in die kerk.

JUDAS ISKARIOT – VERRAAIER?

Die moontlike betekenisse van sy naam gee heel interessante perspektiewe op die persoon van Judas. Daar is taamlik uiteenlopende teorieë oor die betekenis van sy naam. Party meen dat die naam Iskariot sy oorsprong het in die Latynse sicarius (in Grieks σικαρις) wat na die Sikarii of dolkmanne verwys (Morin 1973:351); ander sê dat dit van die Latyn scortea af kom wat na ’n leerbeurs verwys wat hy sou dra (Cane 2000:45). Iskariot kan ook na ’n dorp חויק in Juda ver- wys, wat van Judas die enigste dissipel uit Judea sou maak (Derret 1980:9). Derret wys verder op die moontlikheid dat sy naam afkomstig is van קשצ(קםצ) wat “besigheid” en צר wat “vriend” beteken. Judas sou dan iemand wees wat besigheid uit vriendskap maak (Derret 1980:10).

Morin noem ’n moontlikheid wat al voorgestel is wat mens voor die bors stuit nl. dat sy naam kan kom van die Hebreeuse woord רכש wat “betaling” of “beloning” beteken (Morin 1973:350). Dit pas goed by die beloning vir sy arbeid wat hy uit die beurs sou geneem het, sowel as by die 30 silwerstukke waarvoor hy Jesus oorgelewer het. Die geld wat hy uit die beurs sou neem en die 30 silwerstukke lyk ook meer na ’n bedrag vir ’n salaris as ’n dief se buit. Geen goeie dief sou maar die prys vir ’n slaaf, ’n skamele 30 silwerstukke vir sy diens aan die owerpriesters aanvaar nie. Jesus se aankondiging dat die vrou hom salf vir sy begrafnis sou egter niks goeds beteken vir Judas se salaris nie. Waar sou hy heengaan as Jesus sou sterf en wie sou vir sy vrou en kinders sorg? Nou is die vraag of ’n mens hom sou kon verkwalik dat hy eerder na die gevestigde kerk gegaan het om sy toekoms te verseker. Sou elkeen van ons nie maar dieselfde doen nie?

Judas word uiteindelik gevra om nie net teen die gevestigde tradisies van sy volk, wet en tempel te kies nie, maar teen die wet en tempel van God soos deur die geestelike leiers van die uitverkore volk verteenwoordig. Jesus is deur hulle as ’n opstoker en moeilikheidmaker gesien, wat godslasterlike uitsprake (Joh 10:33,36) maak.

Judas se gesprek met die geestelike leiers lyk ook soos ’n bekering (Luk 22:5,6), waar hy bely ( εξωμολογεω) en hulle bly is (χαιρω) oor die verlore skaap se terugkeer. Vreemd dat die naam Judas onder andere ook “bely” kan beteken (Derret 1980:14). Met sy geloofsbelydenis teenoor die hoëpriester verraai hy Jesus.

Wat skrikwekkend vir enige kerkleier is, is die besef dat ’n mens self in die situasie werklik nie anders as Judas sou optree nie. Hy het die kerkleiding van die hoëpriester, wat deur God self aangestel is, gevolg. Hy het uit respek vir die heilige wet, die tempel en die verkore volk opgetree ter wille van die armes. Hy wou ’n Jaar van Hoop hê, maar Jesus wou sterf. Hy het soos ’n goeie dominee (die Leviet in Rigters 19) vir die groter goed, Jesus uitgestamp in die nag van Sodom in.

Morin se interessante artikel beskou Judas as ’n seloot saam met Simon die Seloot (1973:337,357). Morin bespreek hoedat die selote meedoënloos die aantasters van God, wet en tempel gedood het. Hy verwys na Pinehas (1973:357) in Numeri 25:6-13, wat die Israeliet en sy Midianitiese vrou deurboor het met ’n spies – in diens van God. Die plaag onder die volk het daarna opgehou en God se woede is van die volk weggekeer.

Jesus self het in Joh 16:2 gesê dat die mense wat die dissipels uit die sinagoges sal ban en doodmaak, sal dink dat hulle dit in diens aan God doen. As ’n mens Judas vanuit dié perspektief sien en vir ’n oomblik al die vooropgestelde idees oor hom opsy skuif, besef ’n mens die vreeslike implikasies hiervan – Judas het Jesus in diens van God oorgelewer om te sterf.

As ’n mens vir ’n oomblik dié verontrustende moontlikheid oorweeg en die hele verloop van die gebeure vanuit ’n streng Joodse perspektief beskou, besef ’n mens dat dit nie werklik Judas is wat Jesus verraai het nie, maar dat dit eerder Jesus is wat Judas verraai het. Jesus het met sy uitsprake teen die wet, tempel en verkore volk van God die Jode verraai.

Volgens die artikel van Pinchas Lapide “Verräter oder verraten?” het Judas tot die besef gekom dat Jesus nie die Messias is nie, maar hom en die Jode verraai het en dat “Jesus kein Messias, sondern ein Volksverführer sei,…Nicht Judas sei hier der Verräter, sondern Jesus – und deshalb habe ihn Judas verraten…”(1977:79). Soos dit een betaam wat met ywer vir die wet, tempel en volk stry, het Judas Jesus verraai.

VOLKSVERRAAD

In sy bespreking van die Hebreeuse ekwivalente vir παραδιδωμι (verraai of oorlewer) nl. תנ en in latere Hebreeus רםמ , wys Derret daarop dat die oorlewering van ’n persoon van “binne” die groep na “buite” die groep net geregverdig is as die hele gemeenskap in gevaar gestel word en die persoon die dood verdien. As voorbeeld gebruik hy 2 Samuel 20. Seba ’n rebel teen koning Dawid word uitgelewer van binne die stad, wat deur Joab beleer word, na buite. Sy verraad teen die koning en die gevaar waarin hy die hele stad stel, regverdig sy oorlewering (1980:3).

Om ’n skuldige Jood aan die Joodse owerhede uit te lewer is as die plig van enige ywerige (selotiese) Jood gesien. Morin wys in sy bespreking van die selotiese ywer vir die volk en die tempel, hoedat die Jode die stort van die bloed van ’n afvallige gesien het as die bring van ’n offer (1973:342), soos ’n mens wel kan sien in dit wat Pinehas gedoen het (Num 25). Het Judas nie met sy oorlewering ’n offer aan God gebring nie?

Die oorlewering van ’n Jood aan heidene was gereken as ’n groot oortreding en het slegs by hoë uitsondering gebeur. Dawid se oorlewering van Saul se nageslag aan die Gibeoniete (2 Sam

21) kon die Rabbyne moeilik regverdig (Derrett 1980:3,4). Dit was verraad van die hoogste graad; en dit nogal teen kinders van die Gesalfde van Here, Saul (2 Sam 21:6). Dit is dieselfde Saul wat Dawid uit eerbied nie om die lewe wou bring nie al het hy vele kanse gehad. Seba was self ook ’n Benjaminiet en ’n dienskneg uit die huis van Saul, die uitverkorene van God.

In 2 Samuel 15-23 lees ’n mens van Absalom wat sy eie pa, Dawid, verraai en die koningskap by hom afvat. Dawid se getroue raadgewer Agitofel neem deel aan die sameswering (15:31). Om na Agitofel se raad te luister was soos om die Woord van God self te hoor (2 Sam 16:23). Sy raad aan Absalom was om slegs Dawid dood te maak en dit eers nadat sy manskappe op die vlug geslaan het (17:2). Dit herinner sterk aan Kajafas se woorde dat dit beter is dat een man vir die volk sterwe (Joh 11:50). Agitofel se raad is egter nie gevolg nie en hy het homself gaan ophang (2 Sam 17:23). Hy het die gesalfde van die Here soos Judas verraai en sterf op dieselfde wyse (Matt 27). Dit is die enigste twee selfmoordgevalle in die Woord.

Absalom self eindig deur tussen hemel en aarde te hang aan die takke van ’n boom met ’n spies deur die lyf (2 Sam 18:9-14). Heel opvallend word Dawid se dienskneg glad nie aangetrek deur Joab se aanbod van 10 silwerstukke om Absalom te dood nie. Hy gaan selfs so ver om te sê dat hy dit nie eers vir duisend sou doen nie (18:12). God se Seun het soos Dawid se seun aan ’n boom gehang met ’n spies deur die lyf. Sou Jesus nie sy Vader verraai deur sy tempel, sy wet en sy volk te ontheilig nie? Wie verraai vir wie? Garland wys hoedat Judas ook Jesus se optrede as verraad teen God sien (1994:340).

In 2 Sam 20 volg dan die rebellie van Seba. Amasa, wat tydens Absalom se opstand oor sy weermag aangestel is, het met Absalom se dood skynbaar weer met Dawid versoen geraak. Hy word toe deur Dawid gestuur om Juda te gaan haal om te help in die stryd teen Seba. Hy vertoef egter te lank en Dawid vermoed onraad. Joab wat op pad is om Seba te gaan vang, loop dan vir Amasa raak en met ’n “Gaan dit goed met jou, my broer” en ’n soen steek hy hom in die onderlyf (soos die selotiese Pinehas) en word Amasa se ingewande op die grond uitgestort soos Judas s’n in Hand 1:18.

Die dubbelsinnigheid van verraad blyk hier op vele vlakke. Absalom verraai vir Dawid die gesalfde koning, maar sterf soos Jesus. Amasa verraai Dawid die gesalfde koning, maar sterf soos Judas al word hy met ’n soen verraai soos Jesus. Absalom salf homself as koning teen sy vader en Jesus word deur die prostituut gesalf tot koning teen s´y Vader.

Joab se ywer vir God en Judas se ywer vir God is soos Saulus s’n. Saulus se ywer vir God, tempel, volk en wet het gemaak dat hy die Christene vervolg en die gemeente verwoes het (Gal 1:13,14). Hy het hom beywer vir die oorleweringe (παραδοσεων) van sy voorvaders. Hy moes self egter eers ’n verraaier word en sy Volk en oorleweringe verraai om aan Christus getrou te wees.

Dit is uiters verontrustend om die verloop van die Christene se botsings met die Jode in Handelinge te lees. Net soos Saulus Stefanus in diens van God gedood het, het die Jode die Christene in diens van God vervolg.

Teen die Woord van God wat Paulus en Barnabas verkondig het, het die Jode “vooraanstaande godvresende vroue en toonaangewende burgers opgesweep” (Hand 13:50). Hoeveel keer moes Paulus homself nie verantwoord voor die Joodse volk nie? Hulle het hom beskuldig dat Hy skeuring bring in die Joodse geledere (Hand 24: 5) wat ook die oorweging was vir die moord op Jesus in Johannes 11:50. Paulus, wat in diens van die hoëpriesters en ouderlinge was toe hy die Christene vervolg het (Hand 22:5) ter wille van die tempel, wet en volk, word nou daarvan beskuldig dat hy praat teen dieselfde volk, wet en tempel (Hand 21:28). Die hele volk is in oproer oor Paulus se verraad en smee selfs ’n komplot om hom te vermoor (Hand 23:12-14). Dit alles is gedoen in diens van God. Net soos Judas in diens van God Jesus oorgelewer het aan die hoëpriester van God.

Judas of Juda kom van die Hebreeuse werkwoord הרי waarvan הרהי die grondvorm vir die Joodse volk, ook kom. Die woord Judas kan behalwe “bely” (soos reeds genoem) ook “dankbaarheid” beteken. Dit is die naam wat Lea vir haar seun gegee het (Gen 29:35) uit dankbaarheid teenoor haar Skepper (Lapide 1977:75). Merkwaardig dat dit dieselfde Juda is wat die plan voorstel om sy broer Josef vir die profyt van 20 silwerstukke te verkoop. Die arrogansie van Josef (om te sê dat hy oor sy broers gaan regeer) is die rede waarom hulle hom wou doodmaak en later verkoop het. Dit plaas Judas en die hele Joodse volk se oorlewering van Jesus in ’n interessante lig, want Jesus self maak die mees godslasterlike uitsprake oor sy Godheid (Luk 5:21; Joh 10:36; Matt 27:63-65). Ook is dit opvallend dat Juda en sy broers brood geëet het (Gen 37:25-28) tydens hul besluitneming (Derrett 1980: 13), amper soos die nagmaal waarin Judas uitloop om Jesus te gaan verraai vir 30 silwerstukke. Juda se aanspreeklikheid vir die oorlewering van Josef word deur die ander twaalf gedeel, selfs deur Ruben wat dit goed bedoel het. Judas se oorlewering van Jesus word deur die ander dissipels se weghardloop beaam.

Petrus en Judas se verantwoordelikheid verskil nie werklik nie. Die een het verraai, die ander het verloën. Die een het 30 silwerstukke gekry, die ander het sy lewe behou. Eintlik was Judas nog ’n beter mens as Petrus. Petrus gaan uit en huil oor sy verraad – Judas gaan betaal self.

Merkwaardig wys Barth daarop dat die woord vir oorlewer (παραδιδμι) ook gebruik word in Lukas 1:2 vir die apostoliese “oorlewering” van die Woord van God (1957:482,483). Om te preek is om te verraai. Met ons sonde getuig ons van God (Noordmans).

Judas was ’n goeie dominee met goeie bedoelings net soos Petrus, maar hy het die volk van God verraai vir sy verkore volk. Hy het die tempel van die liggaam van Christus verraai vir die tempel van God. Hy het die Een wat die wet vervul het verraai vir die wet van God. Hy het die een wat die volmaakte offer gebring het, verraai deur self die offer te bring.

Judas is nie sondiger as Petrus of Paulus nie, maar hy kon nie as sondaar voor God staan nie en het homself probeer heilig. God het hom nie verwerp nie, hy het homself verwerp. Hy kon nie meer glo dat Jesus die volmaakte offer gebring het nie.

Oepke Noordmans wys hoe die koms van die Gees van Waarheid in Pinkster beteken: …een nieuwe volk (1 Pet 2:9), een nieuwe tempel, een nieuwe offerande (Rom 12:1), een nieuwe wet (Rom 7:22) (1990:356).

Christus het die wet vervul, die tempelvoorhangsel geskeur, die volmaakte offer gebring en ’n nuwe volk bymekaar geroep deur sy Gees. God het sy Seun verraai (Rom 8:32) vir ons, Jesus het homself verraai (παραδιδμι), ter wille van ons soos vir Paulus (Gal 2:21). Laat ons dan saam met die verraaier Paulus sê: “Ek verwerp nie die genade van God nie…” (Gal 2:21), al sien ons net Judas se verraad in ons hart.

KONKLUSIE

In die artikel het dit duidelik geword dat Judas ’n gewone mens was en nie ’n lewensvreemde booswig nie. Hy was oënskynlik ’n verantwoordelike kerkleier met goeie bedoelings. Jesus se uitsprake oor die allerheiligste dinge naamlik die verkore volk, die tempel en die wet moes moeilik gewees het vir Judas om te verwerk. Die feit dat hy Jesus gaan verraai het net na die verkwisting van geld wat vir die armes gebruik kon word, ondersteun die feit van sy goeie motiewe. In die bespreking van sy naam en persoon het die dubbelsinnigheid van verraad aan die dag gekom. Die betekenis van die woord “verraad” en die voorkoms daarvan in die Bybel toon verder die dubbelsinnige karakter daarvan.

Wat Judas se verraad so ontstellend maak is dat hy Jesus in diens van God verraai het.

BIBLIOGRAFIE

Barth, K 1957. Church Dogmatics Vol. II, 2. Edinburgh: T&T Clark.

Beukes, G J 1961. Judas van Keriot. Kaapstad:NG Kerk-Uitgewers.

Biblia Hebraica Stuttgartensia 1987. Ellinger & Rudolph (eds). 3de Uitgawe

Bloy, L 1949. Le Salut par des Juifs. Paris: Mercure de France.

Brearly, M 1995. Judas als Sundebock: Eine verhangnisvolle Geschichte von Angst und Vergeltung (Book Review), in Scottish Journal of Theology 1995 vol. 48 no. 1 p.144-146. Edinburgh: T&T Clark. Cane, A Contested Meanings of the Name ‘Judas Iscariot’, in Expository Times 112 no 2 N 2000 p. 44-45

Clivaz, C 2002. Douze noms pour une main: nouveaux regards sur Judas à partir de Lc 22. 21-2, in New Testament Studies 2002 48 p. 400-416. United Kingdom: Cambrige University Press.

Coetzee, J M 1994. The Master of Petersburg. Suid Afrika: Vintage

Davidson, B. The Analytical Hebrew and Chaldee Lexicon. New York: James Pott & Co. Derrett, J D M 1980. The Iscariot, Mesira, and the Redemption, in JSNT 1980 no.8 p.2-23

Dupont, J 1984. Le Douzième Apôtre (Actes 1:15-26) à propos d’une explication récente, in The New Testament Age p.139-145. Macon: Mercer University Press.

Eltester, W 1962. “Freund, wozu du gekommen bist” (Mt. xxvi 50), in Van Unnik et al (eds.) Neotestamentica en Pratristica. Leiden: E.J. Brill.

Eslinger, M W 2000. Judas Game: The Biology of Combat in the Gospel of John, in JSNT 2000 vol 77 p. 45-73

Garland, J M 1994. The Priest, the Prophet and the Puritan, in Expository Times 1994 vol. 105 no. 11 p.340,341

Gosling, F A 1999. O Judas what have you done?, in Evangelical Quarterly 1999 71:2 p. 117-125. UK: Paternoster Press.

Greek English Lexicon of the New Testament 1914. Vertaling deur Thayer van Grimm’s Wilke’s Clovis Novi Testamenti. Edinburgh: T&T Clark

Jeffers, R 1977. Dear Judas. NewYork: Liveright.

Klassen, W 1996. Judas: Betrayer or Friend of Jesus? Minneapolis: Fortress Press.

Laeuchli, S 1953. Origen’s Interpretation of Judas Iscariot, in Church History Des. 1953 vol. 22 no. 4 p. 253-268

Lapide, P 1977. Verräter oder verraten?, in Lutherishce Monatshefte 1977 vol. 16 p. 75-79. Hamburg: Luterisches Verlagshaus. Lexicon in Veteris Testamenti Libros 1958. Baumgartner (ed)

Lüthi, K 1955. Judas Iskarioth in der Geschichte der Auslegung. Zürich: Zwingli-Verlag.

Manning, R J S 1993. Kierkegaard and Post-Modernity, in: Philosophy Today 1993 p 133-152

Marais, J G 1992. Die Universalisme in Karl Barth se Verkiesingsleer. M-Skripsie. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch.

Mcglasson, P 1991. Jesus and Judas. Atlanta: Scholars Press.

Morin, J 1973. Les Deux Dernièrs des Douze: Simon le Zélote et Judas Iskariôth, in Revue-Biblique 80 Jl 1973 p. 332-358

Munro, J P L 1989. Can Judas be forgiven?, in Expository Times 1989 vol. 100 p. 222,223

Noordmans, O 1955. Gestalte en Geest, in: Verzamelde Werken Deel VIII. Kampen: Kok.

Noordmans, O 1990. Verzamelde Werken Deel VII. Kampen: Kok.

Novum Testamentum Graece 1988. Nestle-Aland (eds). 26ste Uitgawe

Perkins, P 1997. Judas: Betrayer or Friend of Jesus? (Book review), in Bible Review Des. 1997 vol. 13 no. 6 p. 10-12

Philips, D R 1980. We don’t want to Own the Likeness, in Christianity Today April 4 1980 p. 30,31

Pyper, H S 2001. Modern Gospels of Judas: Canon and Betrayal, in Literature & Theology vol. 15 no. 2 p. 111-122. Oxford: Oxford University Press.

Schweizer, E 1958. Miszellen, in Theologische Zeitschrift 1958 no. 14 p.46

Sproston, W 1980. Satan in the Fourth Gospel, in Livingstone, EA (ed), Studia Biblica II, p.307-311

Thatcher, T 1996. Jesus, Judas, and Peter: Character by contrast in the Fourth Gospel, in Bibliotheca Sacra 1996 vol. 153 p. 435-448

Van de Beek, A 2003. The Church and God’s promise to Israel. Ongepubliseerde Artikel.

Van Tilborg, S 1989. Matthew 27:3-10, in Draisma, S (ed), Intertextuality in Biblical Writings. Kampen: Kok. Wangerin W, 1992. Judas and Me, in Christianity Today April 6 1992 p. 18,19

White, J M 1999. “Is it I Lord?”, in Expository Times 1999 vol. 10 no. 5 p. 146-147