Van der Walt, P
Universiteit van Stellenbosch

Flip Theron se beskouinge oor eenheid en verskeidenheid in die kerk as “nuwe skepping”. Waardering van ’n oudstudent.

ABSTRACT

Flip Theron’s views on unity and diversity in the church as “new creation”.

Professor Flip Theron taught his students that the church is a “new creation”, which is understood as “re-creation” (Noordmans). As a “new creation” the church is a “sign” of the kingdom of God. The church is not to be identified with the eschatological kingdom, but in the church’s existence and deeds, something of the kingdom breaks through. One of the central things that confirm this “sign”-character is the relationship between people of different race, social status and gender within the church. Where the sola gratia has leveled us with the ground we are one. Refusal of the communion of the saints is a betrayal of the gospel. This does not imply a secular strife for (sterile) uniformity. But diversity does not have to mean dividedness. Natural differences are not absolute in the one body of Christ, into which the church are incorporated by the one Creator Spiritus, one baptism and one faith.

1. INLEIDEND

Toe ons as eerstejaarstudente vir die eerste maal kennis gemaak het met sistematies teologiese studie het Flip Theron ons vertel dat teologiebeoefening is om God lief te hê met die verstand (Berkhof). Hy het ons ook vertel dat jy God nie kan begryp, bedink of redelik verklaar nie. God is nie die resultaat van ons teologiese handvaardigheid nie. Jy kan Hom nie in jou greep kry nie1. En tog, het hy vir ons gesê, is onbegryplikheid iets anders as onkenbaarheid. Ons ken God. Maar ons ken Hom omdat Hy Hom laat ontdek as ’n Vader vol verrassings. Kennis van God ontspring aan die gelowige luister na die Woord, waar die gesag van ’n ander die ruimte kry om op te tree2.

Hierdeur is ons destyds as studente werklik aangespreek. Ons het die waarskuwing ter harte geneem om ons te weerhou van “ortodokse kettery”, of te wel die pretensie dat ’n mens God kan deurskou. As jy jou lewe aan die beoefening van die teologie waag, moes jy jou voorstel dat kewers die mens en sy doen en late bestudeer en dit “humanologie” noem – iets wat jou eerder sou amuseer as irriteer. ’n Mens sou maar hoop dat God daar net so oor voel (Buechner)3.

Die Heilige Gees, het ons by Theron geleer, is die Een wat ons bewaar daarvan om onsself te ernstig te neem (Barth4) . Soos egte humor, relativeer die christelike dogma alles en bring dit so terug tot hulle juiste proporsies5 . Sonder om in relativisme te verval, dien die dogma die vryheid, in plaas van verknegting. Dit help jou om alles op God te waag terwyl die “valse self, die arrogante, opgeblase self, die seker self, die ydel self” aan die kaak gestel word. Die dogma help jou om in God se beloftes te belê. Dit “relativeer jou eie belangrikheid en herstel God tot die middelpunt”6 .

Flip Theron het ook baie met ons gepraat oor die Christelike hoop wat gewortel is in die Paasfees, die “fees van hemelse humor … die fees van ’n traan (Goeie Vrydag) met ’n lag (Paassondag)” 7. Hy het met ons gepraat oor die triomf van vreugde oor hartseer8 , oor die oorwinningsroep van Jesus aan die kruis: “Dit is volbring!” Ons moes verstaan dat hierdie oorwinning, hoewel reeds behaal, nog geopenbaar moet word9 . Ons het in sy lesings die opgestane Lasarus hoor lag en onder die indruk gekom van die diepte van Paulus se uitdrukking: “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” (1 Kor 15: 55).

Ons sou insien dat dit tot die Christen se posisie behoort dat hulle dit in die wêreld moeilik sal hê. Hul situasie herinner aan dié van die nasate van Abraham, wat geleef het soos vreemdelinge in Egipte (Hand 7:6). Hulle is ’n gemeenskap van “vreemdelinge en bywoners” in die wêreld (1 Petrus 2:11)10. “Vreemdeling-wees en bywoner-wees is ’n ander manier om te praat van kerk-wees”11. In die lig hiervan is ons helder herinner aan Christus se woorde: “…hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin” (Joh 16: 33). Die bestaan van die kerk in die wêreld is niks minder nie as ’n profesie van die beloofde vrede en ’n teken van God se oordeel oor die chaos, stryd en vyandskap van hierdie verbygaande bedeling. Die kerk het ’n eskatologiese karakter12.

2. ’N NUWE SKEPPING

Een van die eerste oortuigings wat Theron in sy proefskrif stel oor die “ekklesia as kosmies-eskatologiese teken”13, is dat die gemeente deur die Heilige Gees deel gemaak is van die liggaam van die Christus14. Die Creator Spiritus, wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie tot stand bring (Rom 4:17), laat die slapende gemeente wakker word en maak die gemeente tot die voorlopige realisering van die eschaton15. Hierdie inskakeling van die kerk by die heil word in die Bybel volgens Theron in skeppingskategorieë beskryf soos “lewendmaking”, wedergeboorte”, “nuwe skepping”16.

“Heil” bestaan daarin dat die stukkende werklikheid weer “heel” gemaak word 17, soos saamgevat in die bekende Ou-Testamentiese woord sjalom, ’n begrip “tot aan die rand gevul met inhoud”, wat ook die natuur en dierewêreld insluit18. Die sjalom van die skepping korrespondeer met die eenvoud van die Skepper, sy onverdeeldheid, sy simplicitas 19. Dit is daar waar alles goed

is, ongeskonde, wel, heel. Dit is ’n toestand wat heers waar die Godgewilde orde bestaan, waar die relasie tussen God en mens, mens en medemens, mens en natuur in ooreenstemming is met die Skepper se bedoeling. Dit is nie te vereenselwig met ’n subjektiewe gevoel nie20, ook nie met die “Pax Romana”, die vrede van hierdie wêreld wat eintlik bloot neerkom op “organisierte Friedlosigkeit” (Moltmann) nie. Dit is ’n vrede wat bewerkstellig word deur die Vredevors, in Wie die verbrokkelde werklikheid weer ’n integrasiepunt vind wanneer God die volheid van die tye reël met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig (Ef 1:10)21. En dit neem gestalte aan in die kerk22.

“Heil”, “lewendmaking”, wedergeboorte”, “nuwe skepping” is verlossing uit die sonde. Dit beteken nie verlossing uit die skepping nie. Die skepping word in die eschaton nie “weggewerveld” nie, maar gered (Van Ruler)23. Die Bybelse teenstelling is nie tussen natuur en genade nie, maar tussen sonde en genade. Die werklikheid wat ons ken, is die gebroke werklikheid wat staan onder die oordeel van God24. Die “natuurlike mens” van die Nuwe Testament is die “tans konkrete sondige mens, daardie ’natuurlike mens’ wat die dinge van die Gees van God nie aanneem nie (1 Kor 2:14)”25. Die sonde is “privatio” – geen fisiese werklikheid of substansie wat as ‘t ware “van die skepping afgeskraap kan word en dan is alles weer in orde nie”nie, maar eerder die totaal afvallige rigting van die goeie skepping (Bavinck), ’n etiese wat ontspring aan die wil (Van Ruler)26

Die totale verdorwenheid van die skepping (corruptio totalis) beteken die goed geskape mens staan in ’n negatiewe relasie tot God, in ’n totaal afvallige rigting, met sy rug na God27. Die wonder van die genade van God, is dat Hy deur die konfrontasie van die kruis weer die relasie herstel. God red sy skepping, maar Hy doen dit deur die oordeel heen.

Die tipering van die gemeente as ’n “nuwe skepping”, impliseer dat die kerk verstaan moet word vanuit die “herskepping”. Herskepping is iets anders as nova creatio. Daar bestaan geen aanknopingspunt vir die verlossing in die geskape werklikheid nie. Daar loop geen reguit lyn van skepping na voleinding nie. Die redding kom nie op uit die skepping nie, maar oorkom die skepping28. Hierdie verganklike moet immers met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word (1 Kor 15:33). Christologies gesien, verkry ons hierdie insig reeds uit die aankondiging van die maagdelike geboorte: “Die Heilige Gees sal oor jou kom …” (Luk 1:35). En wanneer Jesus later self plaasvervangend biddend worstel in Getsemane, verkry ons nogmaals ons plek: “Sit hier onder terwyl Ek gaan bid” (Mark 14:32). Dít is ons posisie: “rustig zitten op een afstand, terwijl de Middelaar op z’n eentje het werk volbrengt” (Van Ruler)29.

Die kerk is die ruimte waarin God alles is, die ruimte gevul met die belydenis van Vader, Seun en Gees (Noordmans)30. In die kerk kom hierdie Woord eensydig tot ons – anders sou ons immers self te swaar dra en die troos verdwyn uit die evangelie 31. Die Gees voltrek sy oordeel en laat as die Herskepper ’n nuwe wêreld tot stand kom. Daar is met ander woorde diskontinuïteit tussen skepping en voleinding. “In die koninkryk van die hemele is ’n mens nie salig nie, jy word salig gespreek. Die saligheid bestaan in die saligspreking. Hierdie geregtigheid van God, hierdie vrye genade, hierdie verkiesing sonder enige rede in iemand self behalwe sy ellende, roep ’n wêreld uit die niks te voorskyn in veel strenger sin as wat by die skepping die geval kon wees. Elke kind van God vind hierin sy vreugde en krag, dat hy deur God gehou word vir wat hy nie is nie”32.

Die Gees se herskeppingswerk, die “lewendmaking”, “wedergeboorte”, “nuwe skepping” beteken egter ook kontinuïteit tussen skepping en voleinding33. Die skepping gaan onder die oordeel van God deur die dood heen, maar dit gaan ook deur die dood heen34. Wanneer die opgestane Jesus die littekens in sy hande wys, word die bewys gelewer dat God die werk van sy hande nie uit sy hande laat glip nie (Ps 138:8)35. God is die Een wat trou bly tot in ewigheid (Ps 146:6). Dwarsdeur die dood hou Hy die werk van sy hande vas. Die herskepping is dus voluit skepping; weliswaar nie uit die niks nie, maar nog wonderliker, uit die dood.

As Theron dan die kerk ’n “teken” van die eskatologiese ryk noem, is dit om te voorkom dat kerk en koninkryk geïdentifiseer word. Ons bly mense. God lewer sy saak oor en uit in die hande van die sondaars en vyande (Van Ruler). Wat hier deurbreek, is net iets van die koninkryk (Heyns)36. Die gemeente het nog nie gearriveer nie. Die hede is te waar om so mooi te wees (J M De Jong). Die gemeente is slégs ’n teken van die koninkryk.

Maar al het die gemeente nog nie gearriveer nie en is die moontlikheid van ’n theologia gloriae onmoontlik, tref jy in die kerk realiteite aan wat met niks in die wêreld vergelyk kan word nie. Jy sien dit in die handelinge van die kerk. Waar die kerk probeer om van hierdie wêreld ’n leefbaarder, vriendeliker, veiliger plek te maak, is die Gees besig om te midde van die winter van hierdie wêreld lentebloeisels te laat uitbot, tekens wat verkondig: “God se somer kom!”37 Die tekenkarakter van die kerk word ook bevestig in die bestaan van die kerk. Die verskeurdheid wat pas by die “ou mensheid” (Kol 3:9) moes byvoorbeeld binne die gemeente plek maak vir die “nuwe mensheid” wat met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek het en nou die lewe van die nuwe mens leef, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper, waar dit nie van belang is of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie, maar waar Christus alles is en in almal. As teken van die eschaton relativeer die gemeente die ganse werklikheid en alle vorme van eksistensie. Verskil in ras, maatskaplike status en geslag het hulle deurslaggewende betekenis verloor, want “in Christus Jesus is julle almal één” (Gal 3:29).

Die gemeente is “skildwag van die ewigheid” (Calvyn)38. Dit ontmitologiseer die hede as die laaste werklikheid39. Hierin is die gemeente ’n “durende anachronisme”, ’n “eksemplariese vreemdeling”, “te vroeg vir die hemel en te laat vir die aarde” (Noordmans)40 en dus nooit ’n “plesierboot met driedubbel fluweel vir kultureel hoogstaande mense” nie, maar ’n “noodgetimmerde, ’n ark van behoudenis”.41

3. DIE EENHEID VAN DIE KERK AS ’N NUWE SKEPPING

Hierdie Bybelse perspektiewe op die kerk het Flip Theron vir ons geleer in die vroeë tagtigerjare, ’n tyd toe die Suid-Afrikaanse samelewing as gevolg van “natuurlike” verskeidenheid gedreig het om in chaos te val42. Dit was die tyd van die struggle en die noodtoestand. Baie van ons het op verskillende wyses begin worstel met die ideologie van apartheid43 en die “gees van ’n selftevrede nasionalisme”44 waarbinne ons opgegroei het en wat wyd geheers het. Ons het begin wonder of ons ons leiers kan vertrou. Ons het begin nadink oor die effek van hoe die woorde “skepping”, “ras”, “bloed” en “volk” gebruik is, hierdie woorde waarmee maklik gespeel word in handboeke, “kragsentra, magte op die oorlogspad, wat na die sondeval kryg voer teen God”45.

Daar was diep meningsverskil in die NG Kerk oor die betekenis van die versoening in Christus vir die eenheid van die kerk. Ras Volk en Nasie en Volkereverhoudinge in die lig van die Skrif is as beleidstuk deur die NG Kerk aanvaar tydens die sitting van die Algemene Sinode in 1974. In hierdie dokument is nou wel nie meer soos vroeër gesê dat afsonderlike ontwikkeling die wil van God is nie, maar die onderskeiding van die mensheid in verskillende rasse en volke is steeds as die wil van God uit die Bybel bewys. Die afsondering van Israel van die ander nasies is ook op ’n “analogiese” wyse op die situasie van volke in die hede van toepassing gemaak. Die eenheid van die kerk is as ’n geestelike eenheid gesien wat nie versteur word deur die pluriforme gestalte van die kerk onder die verskillende volkere nie46. Nieteologiese faktore, soos rassegevoel, het meesal in die kerk die toon aangegee47.

In 1982, die jaar voordat ons met teologiese studie begin het, het die World Alliance of Reformed Churches by sy vergadering in Ottawa die lidmaatskap van die NG Kerk opgeskort weens hulle “regverdiging van apartheid wat die gereformeerde belydenis weerspreek en verloën” 48. Kort daarna het die Sinode van die NG Sendingkerk die konsepbelydenis opgestel

waarin onder andere die boodskap oor die versoening en die implikasies daarvan vir die eenheid van die kerk duidelik uitgespel is. Die Belydenis van Belhar (1986) handel met ryke formulering hieroor. Die NG Kerk kon nie die saak van die eenheid van die kerk langer ontwyk nie49.

In hierdie onstuimige jare sou die implikasies van Flip Theron se kritiese teologiese denke en sy leer oor die kerk mettertyd vir ons duidelik word. Dit was nie eenvoudig en maklik om self keuses te maak nie. Daar was veel suspisie en verdagmakery. Daarom was dit goed om te bly vra na die voorstellinge en eise van die Woord, na die wesenlik teologiese. Ons het suspisieus geraak oor die konstituering van die kerk in terme van die skeppingsverskeidenheid. Teenstand teen die beleid van kerk-apartheid wat bloot deur ’n politieke agenda gemotiveer is, was ook nie bo verdenking nie. Politieke vrede is nie te verwar met die eskatologiese vrede nie. Die Bybelse droom van eskatologiese vrede, wanneer wolwe en skape saam sal bly en luiperds tussen bokkies sal lê (Jes 11:6), word immers gekwalifiseer: “Op my heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie, want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die see vol water is” (Jes 11:9). Die nuwe skepping, die herskepping van die gevalle skepping, is onlosmaaklik verbind met die kennis van God 50.

Daarom het Theron dit altyd jammer gevind dat die beleid van kerk-apartheid nie beveg is vanuit teologiese nadenke oor die “tweeling leerstukke” van regverdiging en verkiesing nie51. Die extra nos, wat wil sê dat ons totaal afhanklik is van God se genade buite onsself, is ’n onmisbare onderdeel van hierdie dogmas en is immers in opstand teen enige vermenging van die geloof met ’n intieme Romantiese weefsel van volk, geskiedenis, taal, bloed en geboortegrond. Wanneer die Christelike geloof die eiendom word van die volk, is die gevolge katastrofies. Die geloofsgemeenskap word die spits van die kulturele en etniese gemeenskap en koester die verlange na gemeenskap wat die volk verenig. Die geloof verkry ’n kulturele en politieke funksie.

Verkiesing beteken vir Theron dat God nét mense kies wat dit nie verdien nie. Hy kies diegene wat deur die wêreld verwerp word. Hy kies die goddeloses – die tollenaars en die sondaars. Hy kies die ellendiges – die blindes en die bedelaars. Dit is ’n keuse vir diegene wat voor God staan sonder enige kwalifikasies en prestasies. Hieroor kla die Skrifgeleerdes en Fariseërs. Hulle gee voorkeur aan verdienste en sou verkies dat God meer kieskeurig sou wees. Maar daarmee sluit hulle hulself uit die koninkryk van God uit52.

Die regverdiging deur die geloof alleen, die “waarheid waarby die kerk staan of val”53, kom eweneens neer op die verlossing van sondige selfbesef en vreesbevange selfhandhawing. Die geloof kan die genade alleen maar ontvang. Die mens lewer geen selfstandige bydrae nie, ook nie deur sy geloof nie. Diegene wat die genade ontvang, aanvaar die radikale oordeel wat God in die Gekruisigde oor die mens uitgespreek het. Hy is deur die genade vernietig, maar ook vernuwe. Hy is verlos van eiewaan en terselfdertyd bevry van vrees. Sy bestaan rus nie meer in sy eie hande nie, maar in die veilige Hand van God 54. Dit is die vreemde van die evangelie: dat ons alleen deur die geloof en nie ook deur ons eie bloed en bodem geregverdig word nie. As daar maar iets aan die geloof toegevoeg word, is die geloof weg (Niemöller) 55.

Juis die “sondige selfbesef en vreesbevange selfhandhawing” versper volgens Theron die pad tot God se genade en gemeenskap met mekaar56. Die natuurlike mens het nou maar eenmaal bloed in sy are en dit bepaal sy bestaan grondiger as die bloed van Jesus Christus wat vir hom gevloei het (Noordmans). Maar Gods genade maak ons gelyk met die grond, en as ons eers gelyk is met die grond, is ons ook gelyk met mekaar. Die kerk is die plek waar die Gees ons saam oorrompel deur God se genade57. Die kerk bestaan uit mense wat met die grond gelyk gemaak is. “Onder God se kinders is daar nie witbroodjies nie, … ook nie swartskape nie”, sê Theron in ’n preek, want God “handel met ons nie volgens wat ons verdien nie, maar uit genade”58. Wie niks meer het om oor te roem voor God nie, het ook niks meer om oor te roem teenoor sy medemens (medegelowige) nie. Daarom is die belydenis van die “gemeenskap van die heiliges” onlosmaaklik verbonde met die belydenis van “die vergewing van sondes”. Weiering van die gemeenskap van die heiliges is dus “verraad van die evangelie”59. Die verskriklike moontlikheid bestaan dat ’n persoon wat uit ’n kerk uitstap omdat ’n persoon van ’n ander bevolkingsgroep teenwoordig is, uitstap uit God se genade60.

Meer subtiel, maar net so verskriklik, is dit wanneer mense hulle beroep op die “onsigbare kerk”, die geestelike gemeenskap van die vromes, wanneer hulle die verdeeldheid pynloos versag en die noodsaak van sigbare kerkeenheid afwys. Sommiges in Suid-Afrika het presies dit gedoen met ’n beroep op Abraham Kuyper. Vir Kuyper was die eintlike kerk nie die instituut nie, maar die organisme, die liggaam van Christus 61

Die instituut het vir hom iets meganies gesuggereer, teenoor die organisme wat op ’n subjektiewe, lewende geloofsgemeenskap gedui het. In sy verset teen Rome het hy die wese van die kerk gesien in die organisme, met die gevolg dat die kerklike instituut by hom dreig om totaal veruitwendig te word. En aangesien die instituut as sodanig iets uitwendigs is, kan institusionele eenheid niks anders as iets uitwendigs wees nie. Eenheid van instituut moet uniformiteit beteken en dit noem hy ’n vloek. Die eenheid van die kerk is met die organiese skeppingsmatige eenheid van die mens gegee.

Flip Theron het geleer dat ons nie ’n teenstelling hoef te sien tussen die kerk en die liggaam van Christus nie. Paulus sê: “Julle is die liggaam van Christus” (1 Kor 12:27). Die kerk as instelling is ’n diep geestelike aangeleentheid. Die Woord en sakramente waardeur die kerk gekonstitueer word is mededelinge van die heil en die kerk as instelling kan dus onmoontlik as iets bloot uitwendigs beskou word. Kuyper se sogenaamde pluriformiteitsleer wil die veelheid van histories gegroeide kerke “verklaar” vanuit die natuurlike verskeidenheid of etniese veelvormigheid (God het die veelvormigheid lief). Die eenheid van die kerk word nie daardeur aangetas nie, want die eenheid is gesetel in die wese daarvan, naamlik in die kerk as organisme.

Saam met Jonker meen Theron hierdie standpunt kom neer op “natuurlike teologie” 62. Soos ds Sikkel vra hy of ’n mens ’n stukkende vaas ’n “pluriforme vaas” kan noem63.

Die institusionele eenheid waarvoor Theron pleit, het “niks te make met wat Hans Küng die mitologiese betowering van die syfer één en die fassinerende van eenheid op sigself noem nie”64. Slagspreuke soos “eendrag maak mag” en die bloot menslike strewe na “one world” vind nie sonder meer ’n teologiese pendant in die verlange na “een kerk” nie 65. Maar waar institusionele gemeenskap geweier word, kom ’n kerk tot stand wat nie meer aan die Gees toegeskryf kan word nie. “Die Gees as die band van gemeenskap tussen Vader en Seun, die Seun en sy liggaam, en die lede van die liggaam onderling, is immers juis die groot Brugbouer”66. Ons is ’n “nuwe skepping”, dit wil sê anders as die kultuur, en daarom is ons een. Die vermyding van onderlinge gemeenskap tussen kerke binne die NG Kerkfamilie is in stryd met die hart van die Reformatoriese geloof, naamlik die sola gratia.

Hieruit volg dat die NG Kerkfamilie saam moet soek na ’n gepaste struktuur wat uitdrukking sal kan gee aan die gelykmakende genade van God. Organisatoriese eenheid sal nie net op “oorkoepelende” sinodale vlak nie, maar ook op ringsvlak moet bestaan. Die verskillende gemeentes in ’n spesifieke gebied ken mekaar se omstandighede en kan direk by mekaar betrokke raak. In sommige gebiede kan dit ook die beste reëling wees om op gemeentevlak institusioneel een te word. Dit kan egter nie oral as eis gestel word nie, want dit sal moet plek maak vir uniformiteit en dan maak dit die egte gemeenskap dood en kom daar van eenheid niks tereg nie.

Uniformiteit beteken die “dwingelandy van die meerderheid”. Bereidheid tot gemeenskap (eenheid) impliseer juis jou bereidheid om gemeenskap met die ander in sy andersheid te beoefen. Die genade van God stel nie die eis dat die manier waarop ander in die erediens hulle geloofservaring uitdruk (waarby taal en kultuur ’n belangrike rol speel), laat vaar moet word nie. So ’n eis sal die evangelie vermink tot ’n nuwe wet. Die sola gratia vrywaar ons van steriele uniformiteit. Hoe dan ook anders indien die eenheid van die kerk ’n “analogie, parallel, weerspieëling, gelykenis van die Trinitariese geheimenis” moet wees67?

Die sola gratia vrywaar ons ook van gedwonge pluriformiteit of verskeurdheid. Eenheid is iets anders as enersheid en verskeidenheid hoef nie verskeurdheid te beteken nie. Die eenheid van die kerk as liggaam van Christus, is gefundeer in sy gebreekte liggaam. Op Pinksterdag word die verskeidenheid nie opgehef nie, maar het dit opgehou om verskeurdheid te wees. Die eenheid van die kerk staan teenoor die verskeurdheid van die wêreld, waarin die “natuurlike” verskille altyd weer dreig om verabsoluteer te word.68 Deur die “een doop” en die aanvaarding van die “een geloof” en die deelname in die “beker van danksegging” en die “een brood” word die gemeente ingelyf in die “een liggaam”69.

4. SLOTOPMERKINGS

Die kwessie van eenheid binne die NG Kerkfamilie is na soveel jare steeds op die agendas van die sinodes van die betrokke kerke. Dit bly vir die werk aan hierdie dringende aangeleentheid belangrik om helder te dink oor die wese van die kerk en die implikasies daarvan vir kerkeenheid.

Flip Theron het ons die kerk leer sien as die plek waar die Gees ons saam oorrompel deur God se genade. Hy het ons gehelp om te sien dat die eenheid van die kerk objektief in Christus veranker is en dat die gemeente subjektief daaraan deel kry deurdat die Heilige Gees ons vorm tot die een liggaam wat ons in Christus is. Dit beteken dat die verskeidenheid binne die een kerk nie ’n bedreiging vir die eenheid mag inhou nie (1 Kor 12:12). Pluriformiteit staan eerder binne die een kerk in diens van die eenheid.

Die eenheid van die kerk kan baie beteken vir die wêreld. In die woorde van Theron: Dit kan “daartoe meewerk dat die skerp kante van die verskille tussen individue, groepe, volke, rasse, wat altyd weer dreig om vyandige verskeurdheid te word, versag tot verskeidenheid. Só is die kerk die sout van die aarde en die lig van die wêreld … So dien die kerk tot voor-beeld van die eschaton vir die kosmos” 70.

Na hierdie gawe van God “kan alleen gejaag word indien met ootmoed en skuldbelydenis daarom gebid word. Wie waarlik bid, sal ook vol verwagting daaraan werk. As ons maar waarlik kon leer bid: Veni Creator Spiritus”71.

BIBLIOGRAFIE

Jonker, W D 1998. Selfs die kerk kan verander, Tafelberg.

Theron, P F 1978 (1). Die Ekklesia as Kosmies-eskatologiese teken – Die Eenheid van die Kerk as “Profesie”

van die Eskatologiese Vrede, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Theron, P F 1978 (2). “Die Ekklesia as Kosmies-eskatologiese Teken”, in NGTT 1978, 133-147.

Theron, P F 1984. God se somer kom, Lux Verbi.

Theron, P F 1986. “Kerklike eenheid en natuurlike verskeidenheid”, in Kinghorn, J (red), Die NG Kerk enApartheid, MacMillan Suid-Afrika Uitgewers, 194-210.

Theron, P F 1987. “Dogma en Humor.” Rede gelewer by geleentheid van die toekenning van die Andrew Murray-prys aan prof JWV van Huyssteen, in NGTT (28/4), 263-265.

Theron, P F 1988. Ekklesiologie. Ongepubliseerde klasnotas.

Theron, P F 1989. “Corpus Christi, Katolisisme en Kuyper”, in Theron, P F en Kinghorn, J (reds), Koninkryk, kerk en kosmos. Huldigingsbundel ter ere van Prof W D Jonker, Pro-Christo Publikasies, Bloemfontein, 87-100.

Theron, P F 1990. “Die pastorale dogmatiek van Oepke Noordmans”, in NGTT (31/4), 568-576.

Theron, P F 1991. “Noordmans se social gospel”, in NGTT (32/4), 591-601

Theron, P F 1995. “Liberating Humour – Calvinism and the comic vision”, in NGTT (36/4), 593-603.

Theron P F, 1996. Die somer kom saggies, J L van Schaik.

Theron, P F 1997. “The church as a paroikia and “higher critical” theological training”, in NGTT (38/3), 256-267.

Theron, P F 2001 (1). “Blooming or Bleeding? The “South-African Dream” in the Light of Eschatological Peace”, in Van Egmond, A and Van Keulen, D (eds), Christian Hope in Context Volume 2 (Studies in Reformed Theology, Volume 5), Meinema, Zoetermeer, 73-94.

Theron, P F 2001 (2). “Sunday Morning Service”, in Van Egmond, A and Van Keulen, D (eds), Christian Hope in Context Volume 2 (Studies in Reformed Theology, Volume 5), Meinema, Zoetermeer, 264-270.

Theron, P F 2002. “One Bible, two Testaments: covenant, ethnicity and new creation”, in NGTT (43/1-2), 128-139.

Theron, P F en Jonker W D, 1979. Vreemde gemeenskap. Preke rondom die tema: die kerk in die wêreld, NG Kerkboekhandel Transvaal, Pretoria.

Theron, P F en Jonker W D, 1983. Vreemde geregtigheid. Oor die regverdiging uit die genade alleen, NG Kerk-Uitgewers.

Treurnicht, A P 1957. “Twee Lewenskringe” in Die Kerkbode 80 (18), 770-771, 779.

Van de Beek, A 1994. “To be created precedes our creativity”, in Louvain Studies 129, 34-45.

Van de Beek, A 1996. Schepping. De wereld als voorspel voor de eeuwigheid, Callenbach, Baarn.

1 Nie eers die “logiese konklusie” van sy onbegryplikheid dien die legitieme kennis van die werklikheid van God nie. Theron 1996:21-22.

2 Hierdie reseptiwiteit is kenmerkend van die teologiese posisie van Flip Theron. Die ervaring van die ontmoeting met God as die geheimenisvolle Ander is altyd die ervaring van ’n ontvangende subjek. Theron is dit eens met Bram van de Beek (1996: 116). Teologie begin met “het doordenken van deze ontmoeting”, wat in ’n Christelike teologie beteken “het doordenken van het woord Gods. Want het horen van de Schrift is de wijze waarop wij door God worden aangesproken.” Van de Beek 1994:34-45, voer aan da tons reseptief is in die opdoen van alle kennis.

3 Theron 1987:264

4 Theron 1995:601

5 Theron 1987:263

6 Doris Donnely oor humor, aangehaal deur Theron 1996:37

7 Theron 1996:37

8 Theron 1995:594

9 Theron 2001 (2):267

10 Theron 1997:256

11 Theron en Jonker 1979:2

12 Theron 1997:257

13 Theron 1978 (1). Die volledige titel is: “Die Ekklesia as Kosmies-eskatologiese teken – die Eenheid van die Kerk as “Profesie” van die Eskatologiese Vrede.”

14 Theron 1978 (1):40

15 Theron 1978 (1):42.

16 Theron 1978 (2):140

17 Hierdie “heelmaking” moet nie verstaan word in die sin van ’n blote herstel van ’n oorspronklike sondelose oertoestand nie. Theron 1978 (1):211

18 Theron 1978 (1):16

19 Theron 1978 (1):129. Anders as die ingewikkelde wêreld wat vol teenstrydighede is, sê Theron, word God gekenmerk deur integriteit: jy kan Hom vertrou. Die woord integriteit beteken immers om heel te wees. Met die onbegryplikheid van God word nie sy ingewikkeldheid nie, maar sy grootheid bedoel. Daarom dat die kerk reeds eeue lank naas sy onbegryplikheid ook sy eenvoud bedoel. Daar is geen teenstrydigheid in God nie. God is net goed. Hy is die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is (NGB). Hy is so goed soos sy Woord, Christus wat vlees geword het. Sy eenvoud beteken dus: Hy is een stuk liefde (1 Joh 4:16). Theron 1996:13-14.

20 Theron 1988:8

21 Theron 1978 (2):137

22 Theron 1988:9

23 Theron 1978:8

24 Ook wat hierdie basiese vertrekpunt betref, is Theron dit eens met sy Nederlandse kollega Van de Beek. In sy werk oor die Skepping dink Van de Beek vanuit die “gebroke” werklikheid, vanuit “de empirie van een lijdende wêreld, waarin kinderen gemarteld worden en de natuurwetenschappen ons voor problemen stellen die we niet beheersen kunnen of die ons huiver aanjagen”. Vóór alles, voer hy aan, het God nie met die heelheid nie, maar met die gebrokenheid van die skepping te doen. Gods presensie in die wêreld is gewoonlik in die paradoks van die kruis, soos Luther gesê het. Van de Beek, 1996:47

25 Theron 1978:24

26 Theron 1978:7

27 Theron 1978:8

28 Theron 1978 (1):11

29 Theron 1978 (1):44. Die plaasvervanging as sentrale kategorie van die Christologie hou die onmenslike en ergerlike van die evangelie in. Wie hierdie diepe ergernis aan die Middelaar nooit ondervind nie en nog nie oorwin het nie, is geen egte Christen nie (Van Ruler).

30 Theron 1990:572

31 Meermale verwys Theron na die woorde van GK Chesterton: “Angels can fly because they take themselves lightly; the devil fell because of the force of gravity.” Theron 1996: 36; Theron 1987:263.

32 Noordmans aangehaal deur Theron 1990:576. Hierin is die Heilige Gees volgens Noordmans ons Trooster en is ons Vader-God ook moederlik. Die Gees se werk is trane afdroog en troos. Hy gee jou name en uitdrukkings wat heeltemal nie op jou pas nie. Dit is troetelname van ’n moeder wat haar kind toespreek.

33 Pinkster vorm die ekklesiologiese parallel van die inkarnasie. Theron 1978 (1):127

34 Theron 1978 (1):11

35 Op die Paasmôre het ’n ontmoeting plaasgevind tussen twee wêrelde: die een “waarin ons vrees” (skepping) en die ander “waarop ons hoop” (voleinding). Christus staan in die wêreld “waarin ons vrees” op in die ander wêreld “waarop ons hoop” (Noordmans). Theron 1978 (1):12

36 Theron 1978 (2): 42. “Teken” dui die “nog nie” én die “reeds” van die koms van die koninkryk aan. Sedert hemelvaart en Pinkster het die grens tussen hemel en aarde vloeiend geword. Nou is ’n stukkie aarde (ons vlees) in die hemel, en ’n stukkie hemel (die Heilige Gees) op die aarde. Theron 1984:32

37 Theron 1984:32-33

38 Theron 1991:599

39 Theron 1978 (2):144-145

40 Theron 1978 (2):146

41 Theron 1986:210

42 Theron 1986:210

43 Theron 1995:598, meen dieselfde puriteinse gees wat destyds van die “rus” op die Sondag (Sabbat) soms harde werk vir die kinders gemaak het, het aan die basis gelê van die ideologie van apartheid. Hy verwys na WA de Klerk, The Puritans in Africa (New York: Penguin 1975) wat aanvoer dat presies die besliste strewe na definitiewe sosiale geregtigheid ongeregtigheid geword het. “Here lies the tragi- comedy of history. By the same token, here lies the tragi-comedy of puritan man.”

44 Jonker 1998:141

45 Theron 1986:207

46 Jonker 1998:140

47 Jonker 1998:184

48 Jonker 1998:160

49 Jonker 1998:163

50 Theron 2001 (1):91

51 Theron 2002:128-130

52 Theron 1996:19-20

53 Theron 1986:196

54 Theron 1986:196-197

55 Theron 1986:197

56 Aangehaal deur Theron 1978 (2), 133

57 Theron 1986:210

58 Theron en Jonker 1983:76

59 Theron 1986:197

60 Theron 1986:198

61 Theron 1989:90-91

62 Theron 1989:97. A P Treurnicht het gemeen om by Kuyper aan te sluit toe hy ’n eie volks- en kultuurgemeenskap en die “anders wees as ander” bepleit het en geformuleer het: “God is wet-steller, en in hierdie wetstelling is nie alleen die grens tussen God en skepping aangedui nie, maar ook tussen alle geskape dinge onderling. God het alle dinge na hulle aard geskep.” Treurnicht 1957:779

63 Theron 1988:14

64 Theron 1986:203

65 Theron 1978 (1):48

66 Theron 1986: 203

67 Theron 1978 (1):48

68 Theron 1978 (1):118

69 Theron 1978 (1):49

70 Theron 1978 (1):118

71 Theron 1978 (2):147. Met hierdie woorde sluit Flip Theron ’n NGTT-opstel in 1978 oor sy proefskrif af.