Van Niekerk, D
Universiteit van Stellenbosch

Mosterd na die maal? Belydenisaflegging ná toelating tot die Nagmaal – ’n prinsipiële besinning

ABSTRACT

Confession of faith after admission to the Lord’s Supper – a principal reflection

The confession of faith by young members of the church at the end of their formal catechetical instruction has long been the custom in our church. The sense and meaning of this confession should, however, be reconsidered in the light of the admission of younger baptised members to the Lord’s Supper before their confession. In this article the confession of faith is interpreted anew by returning to the established reformed grounding of catechetical instruction. The focus falls not on the outcome of it – namely confession of faith – but on the steadfast promises of God granted in infant baptism. The way that the Lord’s Supper can serve as a preparation and strengthening of faith is likewise investigated, along with the intrinsic character of confessing faith.

1. PROBLEEMSTELLING

Belydenisaflegging en gevolglik die status as belydende lidmaat van ’n gemeente was tot en met die besluit van die Algemene Sinode in 1998 die enigste manier waarop toegang tot die nagmaal in die NG Kerk verkry kon word. Dit kom dus as geen verrassing nie dat toe dooplidmate ook tot die tafel uitgenooi word ná 1998, daar opnuut vrae ontstaan het oor die betekenis en sin van ons jare lange gebruik van belydenisaflegging as formele afsluiting van die kerklike kategese, en gevolglike toelating tot die nagmaal. Hoe moet belydenisaflegging nóú verstaan word as dooplidmate in elk geval rééds toegang tot die nagmaal ontvang het? Jare lank het die woorde van die Formulier vir die Openbare Belydenis van Geloof in die kerk weerklink, naamlik dat “die kerkraad met blydskap toestemming verleen dat julle in die openbaar julle geloofsbelydenis mag aflê en so toegang kry tot die nagmaal1. Die vermoede bestaan dat daar nog gemeentes is – dalk nie te min nie! – waarin dit steeds die bestaande praktyk is wat gevolg word, waar dit as’t ware as ’n deug beskou word om te wag tot belydenisaflegging voordat nagmaal gebruik word, waar die implisiete voorwaardes vervat in die besluit van die Algemene Sinode só vertolk word dat dit beter, veiliger, vromer is om liewers te wag tot “volle” lidmaatskap verkry is2.

Nagmaalsdeelname en belydenisaflegging was altyd ten nouste gekoppel – deur dooplidmate tot die nagmaal toe te laat, het niks minder nie as ’n voluit paradigmaverskuiwing tot gevolg, ’n herinterpretasie van belydenisaflegging (en die nagmaal) en die begronding van kategese, ja, selfs die onderskeiding tussen doop- en belydende lidmate raak al meer van relatiewe belang. Ons sal in die ondersoek na hierdie vraagstuk onderskeidelik kyk na 1) die rol wat die doop as sakrament in ons kerk speel as begronding van die kategese (al dan nie) en die lig wat hierdie verstaan op belydenisaflegging werp; 2) enkele perspektiewe op die aard en betekenis van belydenisaflegging binne die gereformeerde teologie; en 3) ’n moontlike ontwikkeling oor die rol wat die nagmaal as sakrament in die voorbereiding tot belydenisaflegging mag speel.

2. DOOP AS BEGRONDING VIR DIE KATEGESE?

Die doelstellings van kategese wat reeds in 1986 deur die Algemene Sinode aanvaar is, en nog steeds geld (met ’n enkele aanpassing in 2002), lui onder andere as volg:

Om in die kerk van Christus katkisante deur onderrig te begelei tot

• ontdekking van eie geestelike identiteit as verbondskind in die Koninkryk van God;

• persoonlike geloofsverbintenis … aan Jesus Christus;

• volwaardige lidmaatskap;

• openbare belydenis van geloof en toegang tot die nagmaal vir diegene wat nog nie toegelaat is nie”3 (eie kursivering).

Met die verloop van tyd het die siening in die kerk gegroei dat kategese sy betekenis verkry deur waarop dit gemik is, dit waarop dit moet uitloop, naamlik die “persoonlike geloofsverbintenis”, “volwaardige lidmaatskap” en “belydenis van geloof” ten einde “toegang tot die nagmaal” te kan verkry. Daarmee sou die rol van kategese dan ook uitgespeel en afgehandel wees. Kategese moet tog uitloop op ’n resultaat, ’n lidmaat wat sy geloof in die openbaar bely. Min, indien enige, aandag word spesifiek op die doop as sakrament gevestig en die rol wat die toeseggings van God in die doop as motivering, as oorwegende prinsipe en begronding, as beweegrede in die kategese moet speel. Ja, wel, die inhoud van die doop kry in die algemeen aandag, omdat die inhoud van die evangelie weliswaar in die kategese oorgedra word. Maar die rol van die doopbeloftes as dit waaruit die kategese sy vertrekpunt kry, sy inhoud as dooptoeseggings, as die eintlike beweegrede vir kerklike onderrig – DIE REDE HOEKOM ONS IN DIE EERSTE PLEK KATEGESE MOET HÊ – word onderspeel, selfs nagelaat in die kategese. In die amptelike doelstellings van kategese word doop nie eers by die naam genoem nie, slegs by implikasie in die verwysing na die identiteit van die verbondskind.4 ’n Sterk piëtistiese inslag is hier te bespeur. W Verboom (1991:42) toon in ’n kerkhistoriese voëlvlug oor die ontwikkeling van die openbare geloofsbelydenis aan hoe daar in die versubjektivering van die Piëtisme en Nadere Reformatie algaande ’n afstand – “een zekere zelfstandigheid” – ontwikkel het tussen kinderdoop en belydenisaflegging5. Dit is moontlik deel van die rede hoekom die verdwyning van belydenisaflegging as toelatingsvereiste tot die nagmaal tans ’n probleem geword het. Want daarmee is vir baie ’n groot deel van die sin van belydenisaf- legging ook aangetas – kategese word hier immers gefokus op die uiteinde daarvan: bely- denisaflegging, en dan as toegang tot die nagmaal. Kategese word nie eksplisiet voluit – nie eers enigsins nie – in die doop begrond nie. En nóú?! “Hoekom nog ’n belydenisaflegging as die kinders dan al reeds kan nagmaal gebruik … waarop moet die kategese dan uitloop?”

Daarmee saam, belydenisaflegging self blyk ook tans iets van sy sin te verloor het. Want as dit dan nie op die nagmaal uitloop nie, dan nie meer ’n “volwaardige lidmaat” tot gevolg kan hê nie (want kinders sit reeds om die nagmaalstafel), as kinders nie kan promoveer tot ’n hoër vlak van lidmaatskap nie, watter rol moet dit dan speel? Só klink die stemme op.

By die kerkhervormers staan sake presies andersom. Dáár word kategese gemotiveer nie vanuit die einde daarvan nie, maar vanuit die begin, naamlik uit die sakrament van die doop. Be- lydenisaflegging kry ’n heeltemal ondergeskikte posisie met betrekking tot die doop wanneer dit kom by die waarom van kategese. Dit kom doodeenvoudig vir die hervormers hiérop neer: kinders móét in die evangelie onderrig word, want hulle word deur die doop verseker dat hulle ingelyf ís by die geloofsgemeenskap, en daarmee saam dat hulle al die gawes in Christus deelagtig geword het, en dat dit deur die Gees aktief in hulle lewens bevestig sal word. Hulle word dus onderrig in dit waarvan hulle deel geword het, dit wat hulle inderdaad is deur Christus Jesus6 . Die latere

belydenisaflegging staan in die verlengde van die doopbeloftes – weliswaar nie onbelangrik nie – maar geensins allerbelangriks nie. Die relatiewe ondergeskikte posisie van belydenisaflegging hier kan veral aan twee faktore toegeskryf word: Die sterk afwysing van die Roomse sakrament van die vormsel, en die stryd teen die Anabaptiste (wederdopers).

Uit die hervormers se heftige teenkanting teen die Roomse vormsel (vgl Calvyn se Institusie 4.19.1-14) – in wese ’n konfirmasie (bevestiging) wat ’n sakrament geword het – kan ons ook tans in die NG Kerk ’n blaadjie neem. Want die gevaar bestaan baie werklik dat daar nou met die belydenisaflegging by ons amper soos ’n sakrament gewerk sal word: ’n teken/rite/simbool wat vir die jong lidmaat tot sekerheid en versterking van sy geloof moet dien. Die versoeking is hier ter plaatse nog groter om die belydenisaflegging só te ontwikkel omdat daar by baie ’n verlies aan belangrikheid van dié geleentheid ervaar word. Met só ’n “amper-sakrament “ word die belydende lidmaat se eie geloof sy bron van sekerheid eerder as die vaste beloftes van God soos dit in die doop verseël is. Dit is feitlik groot (belydenis- !) doop in alles behalwe naam. Wanneer die belydenisaflegging nie meer ’n nugtere en sober geleentheid is nie, en allerlei mistieke en simboliese handelinge (op ’n sakramentagtige wyse vreemd aan die gereformeerde tradisie) die diens binnedring, moet daar versigtig te werk gegaan word. Want sodoende kry die belydenis-aflegging al te maklik ’n gróter belangrikheid – een van die jaarlikse gróót feesdae – en die betekenis van die sakramente word onderspeel. Kan dit wees dat ons die toeseggings van God waarvan die Woord en sakramente ons verseker as maar net ’n “gewone” gegewe in die kerk hanteer, maar die “geloofsantwoord” van die mens ophemel tot die buitengewone, dáár waar die “beslissing wat regtig saak maak” val?! Dat eers die mens se geloof die evangelie waar maak wat “voorlopig” in die doop gegee word? Daar is inderdaad niks nuuts onder die son nie!

In die stryd van die hervormers teen die wederdopers is die geskilpunt duidelik: by die weder- dopers word die doop bedien op grond van die geloofsbelydenis, en kan die doop nie die ge- loofsversterkende en versekerende rol speel wat so wesenlik deel van die gereformeerde teologie is nie. Richard Osmer (1996: 72) wys hierop: “… Infant Baptism was widely defended by the early Reformers against the Anabaptists. Catechetical instruction was viewed as entailed by this Sacrament, affording baptized Christians the opportunity to understand and accept the obligations of the covenant into which they were initiated already.” In die baanbrekerswerk van W Verboom, “De catechese van de Reformatie en de Nadere Reformatie”, wat handel oor die kategetiese onderrig van die kerk in die tyd van onder andere die hervormers Luther, Zwingli, Bucer, Calvyn, Ursinus en Olevianus aan die een kant, en die kategese van die Nadere Reformatie aan die ander kant – laasgenoemde ’n tyd toe oordrewe leerstelligheid en piëtisme teenoorgestelde pole in die kerk gevorm het – word die rol van die doop en doopbeloftes in die kategese duidelik uitgewys: “De Doop bezegelt het feit dat kinderen bij het Verbond behoren. Zij behoren daarom tot persoonlijke kennis van God en Zijn verbondsgeheimen te komen” (Verboom 1986: 32). Met hierdie verbondsonderrig gebaseer op die doopbeloftes (van God), sê Zwingli, moet juis die ouers die stryd voer teen die (groot) doopgesindes. “Deze worteling van de catechese in Doop en Verbond verbindt de taak van de ouders met die van de Kerk” (a.w. 33 – my kursivering). Gesinskategese word daarom sterk beklemtoon. Maar ook in die kerklike kategese vloei die onderrig voort vanuit die doop (a.w. 37). Dit gaan daaroor dat die kinders leer om te bely wat hulle ouers by die doop bely het, sê Bucer: “Door middel van de catechese worden de geloofsschatten, die reeds bij de doop van het kind door ouders en peten beleden zijn, door de kinders toegeëigend” (a.w. 49 – my kursivering)7. Calvyn ontwikkel nog sterker die gesinskategese, weer vanuit Gods doopbeloftes. In Heidelberg word die kategese kenmerkend onder invloed van Ursinus en Olevianus gedra deur die verbondsgedagte: “De kinderen behoren tot de verbondsgemeente en dienen in de weldaden van het Verbond onderwezen te worden” (74).

Genoeg gesê; dit is duidelik dat in die bloeityd van die gereformeerde tradisie kategese gedra is deur die besef van wat deur God aan gesinne en kinders in die doop toegesê is. Teologies gesproke is die heilstoesegging in die doop dalk nog nooit weer presies so helder gesien as juis in hierdie tyd van ons kerk nie.

3. DIE AARD VAN BELYDENIS VAN GELOOF

In die Formulier vir die Openbare Belydenis van Geloof wat in die NG Kerk gebruik word, word onder andere twee aparte vrae oor die geloof aan die jong lidmaat gevra: “Glo jy dat die leer soos in die Ou en Nuwe Testament en in die artikels van die Christelike geloof vervat is … die ware en volkome leer van die verlossing is?” en “Bely jy dat die Here Jesus Christus jou persoonlike Ver- losser is …?” Is hierdie twee vrae met twee aparte sake besig, bely jy dat jy die leer glo maar dan moet jy ook nog Christus as jou persoonlike Verlosser bely? Want die leer, dít kan jy met jou verstand doen, in Christus moet jy met jou hart glo, dáárvoor is geloof nodig … Eersgenoemde is ’n natuurlike, kognitiewe saak, vir die tweede is genade nodig – só word dikwels hieroor gedink.

En tog het jy met die belydenis van die leer reeds jou geloof in Christus bely; beide is saak van hart en verstand. Want die “leer” is maar sinoniem met “evangelie” – en dit is beslis tog nie iets dor en intellektueels nie – wat anders is die inhoud van die Skrif en die “artikels van die Christelike geloof” dan? En die “evangelie”… wel, dit is Christus! Jy kan dus nie die “leer” glo, en nie jou “persoonlike” geloof in Christus bely nie 8. Omgekeerd, wanneer jy jou geloof in Christus bely, bely jy ook in dieselfde asem die leer (van verlossing). Só is ons dit in elk geval by ons gerefor-meerde vaders geleer, met name Calvyn9.

Nou, hoe moet hierdie “persoonlike” geloof in Christus verstaan word? Is die belydenisafleg- ging die belydenis van jou “persoonlike” geloof? Is dit die geleentheid waar jy vir die kerk jóú geloof – die daad, die klinkklare bewyse van jou geloof – kom wys? Banaal gestel: Is dit die “kom- spog-geleentheid” van jong lidmate, die uitstalvenster van ontwikkelde (ontwikkelende) geloof, die jaarlikse geloofskou van die kerk? Word dit nie dalk so hanteer in ons kerk nie …? En watter wesenlike verskil is daar dan hoegenaamd tussen só ’n aanpak van die belydenisaflegging en die “grootdoop” (respektiewelik belydenisdoop)10? En wie kan by hierdie standaarde byhou? Die vraag waarmee ons hier besig is, is dus: Kry die belydenisaflegging sy spesifieke betekenis en rol in die kerk daaruit dat dit die één geleentheid is waar jongmense kans kry om hulle “persoonlike geloof” te kom bely? ’n “Sakrament” van die mens aan God sodat Hy van óns kan seker wees, om s´y geloof in ons te versterk, om Hóm hoop te gee vir ons toekoms…

Dit kan tog kennelik nie só hanteer word nie! Voor ons by teologiese redevoering kom, is daar ’n baie belangrike psigologiese rede hoekom belydenisaflegging nie hanteer kan word soos in die vorige paragraaf (weliswaar ietwat karikatuuragtig, maar tog …) beskryf is nie: jongmense hét eenvoudig nie sulke wonderlik afgeronde geloof nie. Trouens, baie van hulle is nog onseker, of weet nie eers dat hulle onseker mag of selfs behoort te wees nie (so vol bravade kan hulle raak!). Om hulle belydenisaflegging as die Groot Beslissingsmoment in hulle lewens te hanteer, is om aan hulle valse grond onder hulle voete te gee. Hulle is psigologies gesproke nog onafgerond, nog besig met adolessensie se laaste (paar) jaar van stuiptrekkings. Maar wie van ons het in elk geval ’n “afgeronde” geloof, sonder onsekerhede … soos die jare aanstap, raak die twyfel amper al meer …

Wat doen die jong lidmate as hulle hulle geloof bely? Hulle bely Christus. Nie die eie geloofs- daad is die grond onder hulle voete nie, maar dit waarop die geloof gerig is, waarop die geloof rus, naamlik die belydenis aangaande die evangelie van Jesus Christus: ja, op Jesus Christus self 11. Daarom is daar ook wesenlik geen verskil tussen die jaarlikse geloofsbelydenis en die weeklikse liturgiese moment in die erediens wanneer die kerk (meestal) die 12 Artikels saam bely nie – ’n saak wat P F Theron telkens met soveel oortuiging beredeneeer12. Want as ons die Apostolicum bely, bely ons ons (persoonlike) geloof. Maar “persoonlik” word hier nie verstaan as enigiets waarop ons enige vertroue kan bou nie. “Geen mens het dus iets om op te roem voor God nie … ‘Dié wat wil roem, moet in die Here roem.’” (1 Kor 1:29 en 31). Ons geloof is ons persoonlike geloof, want die belofte is aan ons persoonlik gegee, nie (net) aan ander nie, maar spesifiek aan my, persoonlik. Dit is een van die besondere beklemtonings van die Reformasie wat ons na aan die hart lê, dat die evangelie pro me, dit beteken aan my persoonlik afgelewer word, aan m´y adres gerig, ék mag dit glo, want dit is vir m´y. “Het geloof ‘mijnt’” sê J G Feenstra, “Wij moeten kopen zonder prijs en zonder geld, wijn en melk ... Wij moeten ‘mijn’ roepen. Kopen!”13 Daarom kan ek my geloof persoonlik bely. Sou ek egter my belydenisaflegging so verstaan dat ek sekerheid het omdat ek op my persoonlike belydenis – op m_ geloofsdaad – reken en dáárop vertrou, glo ek ’n valse evangelie. Want dan bou ek op my geloofsdurf en -prestasie en -wil, op dit wat in myself gesetel is, in plaas van die heil in Christus wat buite myself – extra nos – lê. En ons weet tog dat die hart van die mens bedrieglik is. “Wie sy sekerheid probeer bou op sy bekering moet juis tot bekering kom en die evangelie glo”14. Ons geloof is op sigself niks, dit bestaan net in en deur Christus.

Ons belydenisaflegging is dus nie ’n geleentheid waar ons jong lidmate die kans kom gee om in die eerste plek te kom wys dát hulle en hóé hulle glo nie – veel eerder is dit ’n belydenis van die trou van die Here wat sy doopbeloftes ook in húlle geval gestand gedoen het, én dit enduit met hulle sal volhard. Dié belydenis kan jy weliswaar nie anders as om persoonlik te glo nie, al is jou gelofie inderdaad maar klein en wankelrig. Die vreugde en bevryding van dié geleentheid lê egter daarin dat jy Christus kom bely, nie kom (nederig) spog met jou geloof nie. En as getuienis van die waaragtigheid van die doopbeloftes dien dit ook tot versterking van die geloof van beide jong lidmate en die res van die gemeente. Die belydenisaflegging het sy volle waarde én bestaansreg net te danke aan dit waarvan die doop getuig, en word dus ten volle bepaal deur die doop. Deur die doop het jy ’n volle lidmaat van die kerk geword – jy mág dit maar glo!

Belydenisaflegging is daarom ’n stasie op die weg. In die tyd toe ons dit nog so sterk aan toe- gang tot die nagmaal gekoppel het, ja, toe dit nog as ‘t ware verstaan is as toelatingsvereiste, kon dit maklik as ’n gebeurtenis van beslissende belang verstaan gewees het. En daarmee het die werklike beslissende belang van die doop, van Gód se ingrype, s´y beslaglegging, dikwels agter die belydenisaflegging weggeraak. Maar nóú, nou kom kinders in gesinne vroeg al aan na die nagmaal – met reg ook, want die nagmaal is sigbare evangelie – en belydenisaflegging het in ’n groter mate ’n simboliese betekenis gekry. Nóú het die toelating van kinders tot die nagmaal ons weer gehelp om die relatiewe waarde van belydenisaflegging vis-à-vis die doop in perspektief te kry. Die groot beslissing val by jou doop en nie by jou belydenisaflegging nie.15 Belydenisaflegging is ’n eggo van die doopbeloftes – God het geroep en sy roeping het weerklank gevind in ons lewens; dis maar wat geloof is…16 Ons sal weer in die kerk moet leer leef met die werklikheid van die vaste beloftes van God, en bevry word van die skyn vastighede van ons eie godsdienstige poginkies. Belydenisaflegging is nie onbelangrik nie, maar dit is van relatiewe belang. Belydenisaflegging sal in die praktyk hanteer moet word as ’n geleentheid wat deur die doopbeloftes van God beheers word. Ons sal ons in dié verband in goeie geselskap bevind: dit is tog presies die pad wat die kerkhervormers gevolg het.

4. NAGMAAL AS OPBOU EN VERSTERKING VAN DIE GELOOF17

Ons was al die jare gewoond aan ’n nagmaal wat bedoel is om gelowiges in hulle geloof op te bou en te versterk. Met die toelating van kinders (sonder ouderdomsbeperking) tot die nagmaal, kom ’n verdere aspek van die nagmaal ter sprake: het die nagmaal as sakrament dan ook die verdere doel om geloof te stig, op te wek, waar dit dalk nog nie bestaan nie? Of nie bestaan soos ons gewoonlik daaraan dink nie? M.a.w. met die toelating van kinders – weliswaar “gedoopte” kinders, maar tog sonder dat ’n ouderdomsperk daarop gesit is – tot die nagmaal, kan die vraag ontstaan of dit nou reg is om nagmaal aan kinders te bedien wat “nog nie (genoeg?) glo nie”. Die Algemene Sinode se besluit van 1998, naamlik “dat gedoopte kinders wat in Jesus Christus glo, aan die vereistes van 1 Kor 11 voldoen, en die begeerte het om nagmaal te gebruik tot die nagmaal toegelaat mag word”, versterk verder die gedagte dat geloof as ’n voorwaarde, as toelatings- vereiste hanteer word by die nagmaal. Dit bring weer ons hele diskussie oor die aard van bely- denisaflegging in hierdie “nuwe” situasie na vore.

Die sinode van Noord-Kaap het by sy vorige sitting (2001) oor juis hierdie aangeleentheid ’n besluit geneem – oor wat ons gevind het ’n onaanvaarbare aspek van die Algemene Sinode se besluit was om nog enigsins verdere voorwaardes aan die toelating tot nagmaal te Koppel 18 – en ’n besluit daaroor is aan AKLAS deurgestuur wat aan 2002 se Algemene Sinode gerapporteer het. Die AKLAS verslag oor ons besluit word hier kortliks aangestip19.

Die hooftrekke van Noord-Kaap se beswaar is só aan die Algemene Sinode verduidelik: “…Noord-Kaap se beswaar is gerig teen die ‘voorwaardelike’ (dws Arminiaanse) opvatting van die toelating van kinders tot die nagmaal. Dit skep die indruk dat kinders (en volwassenes) moet kwalifiseer vir die nagmaal. Daardeur word ’n skadu gewerp op God se genade wat in die verbond (doop) aan ons en ons kinders toegesê (verseël) word as die enigste grond vir toelating tot die nagmaal. … Verbondskinders moet nog steeds aan sekere voorwaardes voldoen om te kwalifiseer vir die nagmaal, hoewel deesdae geoordeel word dat hulle op ’n vroeër ouderdom daartoe in staat is” (Agenda Alg Sinode, p 255, 15.3.1). Ons is deur AKLAS volkome gelyk gegee in ons beswaar, en wel om die volgende redes:

a) Die interpretasie van 1 Kor 11:29 as toelatingsvereiste strook nie met grondige eksegese van die teks nie. Die konteks dui eerder op ’n waarskuwing dat sekere gemeentelede nie uitgesluit mag word van die nagmaal nie, met name diegene – veral ook die kleintjies – wat nie gereken word nie.

b) Geloof kan nooit as ’n voorwaarde dien om aan die nagmaal deel te neem nie – dan sou dieselfde beswaar tog ingebring kan word teen die kinderdoop. “Dit is derhalwe van die allergrootste belang om te verstaan dat die sakrament nie rus op ons geloof nie, maar omgekeerd: dat ons geloof rus op die (inhoud) van die sakrament naamlik God se genade in Christus wat in die Woord aan ons toegesê word” (Agenda, p 257, 15.5.3). Ons moet waak daarteen om indiwidualisties oor ons kinders se geloof te dink, en die verbond sodoende buite rekening te laat.

c) Dit is onsinnig om te vereis dat iemand ’n “begeerte” moet hê alvorens die persoon tot die nagmaal toegelaat word – wie wil in elk geval enigiemand dwing om aan die sakrament deel te hê?! In die lig van die vorige twee aspekte van die Algemene Sinode se besluit, wil dit egter ook na ’n voorwaardelike toelating tot die nagmaal lyk20.

Dit strek nie tot oneer van AKLAS dat die Algemene Sinode nie hulle uiteindelike aanbeveling aanvaar het nie, inteendeel…21

Wat wel vir ons nou duidelik geword het, is dat soos met die doop ook die nagmaal ’n baie groter rol moet speel in die stigting, opbou en versterking van die geloof van die heel vroegste jare af22. Wat Calvyn van die sakramente sê, is op grootmense én kinders van toepassing: “Dit is ’n uitwendige teken … waarmee die Here sy beloftes van goedgunstigheid jeens ons aan ons gewetens beseël om die swakheid van ons geloof te onderskraag. … Aangesien ons geloof … baie gering en swak is, stort dit dadelik in duie, dit bly vertwyfeld en wankelmoedig en dit kwyn tensy dit van alle kante ondersteun en op elke moontlike manier onderskraag word” (Institusie 4.14.1 en 3, pp 1577, 1579)23. Martin Luther het elders geskrywe dat God ons met die sakramente agterna loop; daarom was dit vir hom so ’n groot troos in die aanvegting van sy geloof24 .

Trouens, toelating van kinders tot die nagmaal op ’n vroeë ouderdom, stel die nagmaal as sa- krament van God se genade van meet af aan in hulle lewens in werking. Die versekering en toe- seggings van die nagmaal móét baie duidelik spreek. Die Heidelbergse Kategismus se vraag en antwoord 66 lui immers dat sakramente “sigbare, heilige tekens en seëls (is) wat God ingestel het om ons deur die gebruik daarvan die belofte van die evangelie nog beter te laat verstaan en dit te beseël.” As dit nie na (doop)kategese klink nie, wat dan?!

Die verstaan van die sakramente as toesegging van die heil in die hand van die Heilige Gees sal bes moontlik ook daartoe lei dat ons prediking daardeur verryk word. Dan sal ons miskien des te beter verstaan dat ook die prediking toesegging van die heil behels, nie ’n blote aankondiging van die verlossing in Jesus Christus nie, maar ’n daadwerklike uitdeel van die Woord, ’n weggee van die genade wat in Jesus Christus ons almal toekom. Want dit is waarvan die sakramente ge- tuig.

5. SLOTOPMERKINGS

Belydenisaflegging sal sy regte plek in die kerklike praktyk inneem en behou as dit baie sterk begrond word in die sakramente van doop en nagmaal. Belydenisaflegging groei oor die jare uit belydenisvorming in die geloofsontwikkeling van die jong lidmaat, en kom eers tot sy reg as dit voluit voortvloei uit dit waarvan die sakramente getuig. Geloofsbelydenis berus op die toeseggings waarvan die sakramente getuig en be-teken, en nie andersom nie. As die sakramente sodoende tot hulle reg kom in die vorming van belydenis, dan rig dit die jong lidmaat op die heilsbeloftes van God, en bevry hom of haar van die sieklike na-binne-gerigtheid van die geloof wat die bediening van soveel jeuggroepe binne en buite ons kerk kenmerk.

Ons moet ernstig aandag skenk daaraan om sover as moontlik weg te doen met die onderskeiding tussen doop- en belydende lidmaat, en die jong gedoopte lidmaat nie as iets voorlopigs in die kerk te beskou nie, maar bloot iemand wie se jong geloof aan die ontwikkel is, en daadwerklik by die kerk ingelyf is. Hierdie onderskeiding het ons in die kerk nog net van die wal af in die sloot gehelp, en is nie inherent aan die gereformeerde teologie nie. Dit sal beteken dat die kinders in die kerk bewustelik met die status van lidmaat hanteer word – en dit sal trouens die geloofsgroei van kinders, soos gevoed deur doop én nagmaal, verder verdiep en aanhelp.

Ten einde die sakramente van doop en nagmaal in die kerklike lewe tot sy reg te laat kom, is die ontwikkeling van ’n effektiewe stelsel van gesinskategese onontbeerlik. Ons navorsing is aanvanklik gebou rondom die verhouding tussen belydenisaflegging en nagmaal, maar die doop moet eweneens deeglike aandag kry, nie net as doopkategese vooraf nie, maar veral ook in die tydperk daarna. Ons doel moet wees om die gesin as verbondsgesin weer in alle aspekte van die kerklike lewe tot sy reg te laat kom. Dit behoort duidelik te wees dat talle probleme rondom belydenisaflegging, met name die verdere betrokkenheid van jong lidmate by die kerklike lewe daarmee baie meer effektief as tans aandag sal kan kry.

Bes moontlik moet belydenisaflegging in die kerk nog baie meer ontwikkel word as die “amptelike” (by gebrek aan ’n beter woord) indiensstelling van die jong lidmaat by die projekte en aksies van die kerk. Hierdie aspek is in elk geval in lyn met die beskouing van die Algemene Sinode soos verwoord in die kerkorde van 2002, naamlik dat ’n “belydende lidmaat … aanduiding (is) van ’n lidmaat se gereedheid tot aanvaarding van meerdere verantwoordelikheid in leidinggewende verband in ’n gemeente”, ’n saak wat ook baie sterk deur die invloedryke Richard Osmer, teoloog in Christian Education aan Princeton, beklemtoon word.25

Ons sal moet waak teen ’n Arminiaanse geloofsbeskouing in ons benadering tot belydenis- aflegging in die gemeentes, wat onder andere daartoe lei dat die doop slegs as ’n voorlopige, onvoltooide belofte gesien word wat eers deur die belydende lidmaat se openbare geloofsdaad waar en waaragtig gemaak word. “Confirmation is not the moment when a person is ‘saved,’ for this is something that God has accomplished already in Christ. It is one of the many times when a person wil hear God’s Word anew and respond in trust and obedience” (Osmer 1996:175). Teen hierdie en soortgelyke sienings stry die kerk reeds al lank ’n stryd. Dit is klassiek verwoord in die Dordtse Leerreëls en lidmate behoort beter as tans van die inhoud van hierdie belydenisskrif in die kerk kennis te neem, en dit hulle eie maak. Let veral op wat die Dordtse sinode van destyds afgewys het

Ons sal eweneens daarvoor moet pasop dat belydenisaflegging nie ’n derde sakrament in die kerk word nie. Dit kom veral na vore in allerlei praktyke rondom die simboliese oorlading van die geleentheid en die invoer van vreemde mistieke praktyke. Dit sal ons baat om die geleentheid sober en helder te hanteer – juis wanneer simbool en ritueel aangewend word. Mistieke simboliese en rituele elemente by belydenisaflegging mag miskien in die teken van die tyd staan, maar word dikwels onkrities aangewend en kan maklik die aandag aflei van die helder verkondiging van die Woord soos bevestig en versterk deur die sakramente.

Dit is baie duidelik dat die voorwaardelike formulering wat nog steeds deel is van die Algemene Sinode se besluit, “dat gedoopte kinders wat in Jesus Christus glo, aan die vereistes van 1 Kor 11 voldoen, en die begeerte het om nagmaal te gebruik tot die nagmaal toegelaat mag word”, nie sal kan bly staan soos dit tans geformuleer is nie. Redes daarvoor is hierbo bespreek, en ons moet nog eens ’n poging aanwend om die saak weer op die agenda van die Algemene Sinode te kry.

BIBLIOGRAFIE

Algemene Jeugkommissie, NG Kerk 2002. Besluite van die Algemene Sinode en die Algemene Jeugkommissie vir kategese in die Ned Geref Kerk. Bloemfontein: CLF.

Algemene Sinodale Kommisie, NG Kerk 1983. Handboek vir die Erediens van die Nederduits Gereformeerde Kerk. Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers.

Algemene Sinode 1986. Agenda.

Algemene Sinode 2002. Agenda.

Algemene Sinode 2002. Die Kerkorde van die NG Kerk. Wellington: Lux Verbi.BM.

Barth, K 1956. Church Dogmatics IV, I. Edinburgh: T & T Clark.

Burnett, A N 1995. Confirmation and Christian Fellowship: Martin Bucer on Commitment to the Church. Church History 64, 202-217.

Calvyn, J 1559. Institusie van die Christelike Godsdiens. Vertaling HW Simpson 1984-1991. Potchefstroom: Calvyn Jubileum Boekefonds.

Exalto, K 1993. Kerk en vroomheid. Spiritualiteit (red: Van ‘t Spijker, W ea), 330-341. Goudriaan: Uitgeverij De Groot.

Feenstra, J G 1952. Het eigendom des Heeren. Korte verklaring van de Heidelbergse Catechismus. Kampen: J H Kok.

Hartvelt, G P sa. Tastbaar evangelie. Aalten: De Graafschap.

Nijenhuis, W 1974. Kindercommunie en confirmatie in de Reformatie, bepaaldelijk in het Calvinisme. Kerk en Theologie 25: 297-317.

Osmer, R R 1996. Confirmation. Prysbeterian Practices in Ecumenical Perspective. Louisville, Kentucky: Geneva Press.

Sinode Noord-Kaap 2001. Handelinge.

Theron, P F 1984. Persoonlike geloofsbelydenis en geloofsekerheid. Die Kerk en sy Jeug op weg, 75-87.

Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers.

Theron, P F 1985. Verbond, geloofsekerheid en belydenisaflegging. NGTT XXVI, 3: 299-310.

Van Niekerk, D L 1991. Geloof as cognitio en fiducia by Calvyn en die na-reformatoriese ontwikkeling. U.S.:

ongepubliseerde DTh proefskrif.

Van ‘t Spijker, W 1978. Doctrina naar reformatorische opvatting II. Doctrina bij Calvijn. Theologia Reformata 21, 7-25.

Van ‘t Spijker, W 1983. De leer van de doop bij Zwingli, Bullinger en Bucer. Rondom de Doopvont (red: Van

‘t Spijker, W ea), 221-262. Goudriaan: Uitgeverij De Groot.

Verboom, W 1986. De catechese van de Reformatie en de Nadere Reformatie. Amsterdam: Buijten & Schipperheijn.

Verboom, W 1991. De openbare geloofsbelijdenis. Theologia Reformata 34: 29-53.

1 Handboek vir die Erediens van die Nederduits Gereformeerde Kerk, p 78. Eie kursivering

2 Die Algemene Sinode se besluit van 1998, naamlik “dat gedoopte kinders wat in Jesus Christus glo, aan die vereistes van 1 Kor 11 voldoen, en die begeerte het om nagmaal te gebruik tot die nagmaal toegelaat mag word”, versterk steeds die gedagte dat geloof as ’n voorwaarde, as toelatingsvereiste hanteer word by die nagmaal. Dit is ’n klein denksprong om hierdie “(toelatings-)geloof” as “belydenisaflegging” te vertolk …

3 Agenda Algemene Sinode 1986:175.

4 In die amptelike beleidsdokument van die AJK insake kategese, “Besluite van die Algemene Sinode en die Algemene Jeugkommissie vir kategese in die Ned Geref Kerk”, is daar verstommend genoeg slegs verwysing na die doop wanneer daar eerstens na die ouers se verantwoordelikhede ten opsigte van húlle “doopbelofte” verwys word, en tweedens wat die kerk te doen staan as daar ongedooptes vir belydenisaflegging aanmeld – net sydelingse verwysings dus. In hierdie lywige versameling van 24 bladsye van besluite en beleidstandpunte rakende die kategese is geen verdere verwysing na die betekenis van die inhoud van die doopbeloftes (God s’n, nie die ouers nie …) vir die kategese nie, nie eers in ’n afdeling met die titel “Tienpuntplan vir doeltreffende kategese in die Ned Geref Kerk” nie!

5 Die begin van hierdie piëtistiese ontwikkeling lê na alle waarskynlikheid reeds by die hervormer van Strassbourg, Martin Bucer. Vgl W Verboom 1991:41, asook A N Burnett 1995: 202-217.

6 Miskien tel die leser ook soos ek onder diegene wat die pragtige formulering van die ou (klassieke) doopformulier misgekyk het of dalk nie meer so goed onthou nie, maar wat daar staan is suiwer evangelie, beloftes van God wat aan die dopeling toegesê, bemaak, geskenk ís. Let op hoe word die afgehandelde feit (van dit wat geskenk is – die indikatief) van die heil beklemtoon: “As ons in die Naam van die Vader gedoop word, betuig en beseël die Vader aan ons dat Hy ’n ewige verbond met ons sluit en dat Hy ons tot sy kinders en erfgename aanneem. Daarom wil Hy ons met alle goeie dinge versorg en alle kwaad van ons afweer of tot ons beswil laat dien. As ons in die Naam van die Seun gedoop word, beseël die Seun aan ons dat Hy met sy bloed al ons sondes afwas en dat Hy ons in die gemeenskap van sy dood en van sy opstanding inlyf. So word ons van ons sondes verlos en voor God regverdig gereken. As ons in die Naam van die Heilige Gees gedoop word, verseker die Heilige Gees ons deur hierdie sakrament dat Hy in ons wil woon en dat Hy ons tot lidmate van Christus wil heilig. Dit doen Hy deur tot ons eie te maak wat ons in Christus het, naamlik die afwassing van ons sondes en die daaglikse vernuwing van ons lewe…” Dít, sê die hervormers dan, is die basis en inhoud van die kategese.

7 Maar dit is tog ook Bucer wat die praktyk van openbare belydenisaflegging van die katkisante invoer ten einde kritiek van die doopgesindes te weerlê, maar hy bly self nie onaangeraak deur die wederdopers se invloed nie: “Hy wou die wind uit die seile haal van die anabaptistiese eis van ’n suiwer gemeente deur alleen diegene tot openbare belydenis van geloof toe te laat by wie die kenmerke van volkome oorgawe aan Christus teenwoordig was, maar sodoende beland hy self in anabaptistiese vaarwaters” (P F Theron 1984:77). Vgl W Nijenhuis 1974:313; W Verboom 1991:38; A N Burnett 1995:202 ev, maar ook W van ‘t Spijker 1983:248-262; K Exalto 1993:336.

8 Dieselfde moontlike interpretasie bestaan ook by vraag 21 van die Heidelbergse Kategismus. “Wat is ’n ware geloof?” word daar gevra, en die antwoord het twee dele. “Nie alleen” is dit ’n “vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons openbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook ’n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus … saligheid geskenk het”. Die wyse waarop die antwoord geformuleer is, kan baie maklik die indruk laat ontstaan dat die kennis van die evangelie verstaan word as voorlopig en ondergeskik aan die “vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk”. Asof dié kennis bloot intellektuele kennis is, en eers aangevul deur die vertroue van die mens, sy werklike betekenis kry. Asof eers die jong lidmaat se persoonlike geloof aan die kennis betekenis gee … Nee, hierdie kennis is reeds die wete van my “persoonlike” vryspraak, dis geloofskennis, nie kennis waarvan jy maar net terloops kan kennis neem nie, dis toesegging soos waarvan die doop getuig, dis Gód wat sy hand op my gelê het. Maar dit is duidelik dat ’n bepaalde verstaan van hierdie antwoord weerklank vind in die onderskeie vrae van die Formulier vir die Openbare Belydenis van Geloof (ASK 1983:78-79). Vgl hieroor verder skrywer se proefskrif, Geloof as cognitio en fiducia by Calvyn en die na-reformatoriese ontwikkeling (U.S. 1991) pp 254-282.

9 W van ‘t Spijker toon aan dat die begrip doctrina by Calvyn ’n aanduiding is van die verkondiging van die lewende Woord van God. Doctrina het ’n eiesoortige evangeliese toespitsing: “... doctrina is bij Calvijn iets anders dan een synoniem voor leerstelligheid ... doctrina is praedicatio verbi divini, gepredikt evangelie, kerugma ... een paedagogische vorm waarin het Woord Gods tot ons komt” (1978:8). Hoe eksistensieel Calvyn die begrip doctrina interpreteer, blyk aangrypend uit ’n brief - aangehaal by W van ‘t Spijker - wat hy aan sy vriend Farel skryf na aanleiding van die siekbed en afsterwe van sy (Calvyn se) vrou: “‘Ik heb woorden gesproken over de genade van Christus, over de hoop van het eeuwige leven, over de pelgrimstent van ons leven en over de thuisreis. Daarna begaf ik me in gebed. In klaar bewustzijn hoorde zij naar het gebed en gaf zij acht op de doctrina.’ Getroost door de leer ontsliep Idelette in vrede” (1978:10 – my kursivering). Uit die evangelie ontvang ons geen blote informasie oor God nie, uit die mond van God word geen spekulatiewe leer oorgelewer nie, maar ’n doctrina wat die koers van ons lewe bepaal: “Daarom gaat het in de theologie ook niet om een kennis van God, quis sit apud se, sed qualis erga nos: niet God op zichzelf, maar in zijn genadige betrekking tot ons, een kennis die meer in een levend gevoel, dan in een lege en hoogvliegende (meteorica) bespiegeling bestaat” (W van ‘t Spijker, 1978:12).

10 Tereg sê W Verboom: “We worden niet pas aangenomen tot lidmaat door onze geloofsbelijdenis, maar zijn dat reeds door de doop. Te veel nadruk op onze keus, onze geloofsbeslissing, bij het belijdenis- doen, kan deze maken tot ‘een volwassendoop zonder doop’” (1991:52).

11 Karl Barth het gloeiend oor die onderwerp van geloof geskryf, oa in sy Church Dogmatics IV, I:740- 779. “Faith is simply following,” sê Barth, “following its object. … Faith does not realise anything new. It does not invent anything. It simply finds which is already there …” (742). “Faith consists in the orientation of man on Jesus Christ. … The man who believes looks to Him, holds to Him and depends on Him. He renounces all self-determination in His favour. … In faith man ceases to be in control” (743). “It is the supreme pride and therefore the supreme fall of man if he undertakes to believe of himself, as though he could do so, as though he could make himself do it and move to it. … a self- fabricated faith is the climax of unbelief” (745). “Faith is the simple discovery of the child which finds itself in the father’s house and on the mother’s lap” (! – 748; my kursivering).

12 Vgl oa P F Theron, “Verbond, geloofsekerheid en belydenisaflegging” in NGTT XXVI, 3 (Julie 1985).

13 J G Feenstra, 1952:35.

14 P F Theron, 1985:300.

15 Die betekenis van belydenisaflegging kom ook na vore in die onderskeid wat tussen doop- en belydende lidmate getref word, en in die 2002 Kerkorde (ietwat omslagtig) opgeneem is: “Die term kerklidmaat of lidmaat is ’n aanduiding van ’n bepaalde band tussen ’n gemeente en ’n indiwidu waarvolgens die gemeente van Jesus Christus die indiwidu as deel van daardie gemeente se verbondsverhouding met die drie-enige-God aanvaar en waarvolgens die indiwidu deelneem aan die diens van die gemeente aan God, medemens en skepping. ’n Dooplidmaat in hierdie verband is ’n lidmaat wat gedoop is, maar nog nie belydenis van geloof afgelê het nie. ’n Belydende lidmaat is ’n lidmaat wat in ’n erediens belydenis van geloof afgelê het. Hierdie onderskeiding dui nie op dubbele lidmaatskap nie, maar is slegs aanduiding van ’n lidmaat se gereedheid tot aanvaarding van meerdere verantwoordelikheid in leidinggewende verband in ’n gemeente as belydende lidmaat.

16 As ons praat van doopbeloftes dan moet dit nie so verstaan word dat dit iets is wat nog “net voorlopige” beloftes is, en nog later eers waargemaak (of nie waargemaak) sal word (deur ons geloof) nie. Nee, die doopbeloftes is vas en seker soos die evangelie, soos Golgota. Die beloftes word aan ons bemaak, en nie eers “regtig waar gemaak” deur ons geloof nie. Wat van die verkiesende liefde van God waar is, is ook waar van hierdie beloftes: Dit word nie gemaak “op grond van vooruitgesiene geloof, geloofsgehoorsaamheid, heiligheid of enige ander goeie hoedanigheid of geskiktheid van die mens … nie.” Ook die doopbeloftes “is immers die oorsaak van geloof en geloofsgehoorsaamheid, heiligheid, ens.” (Dordtse Leerreëls, I:9). Om te glo, beteken om te leer leef met die werklikhede van God se werking in jou lewe, om te reken op die vastigheid van s_ beloftes. Die groot versoeking is altyd om aan jou eie geloofsdaad en -ervaring groter waarde toe te ken, om dit as ’n groter werklikheid te reken.

17 Ons sal nie hier ten volle op die problematiek van die toelating van (doop)lidmate tot die nagmaal kan ingaan nie, maar slegs dié sake aanraak wat betrekking het op die onderwerp van hierdie artikel, naamlik in soverre dit betrekking het op ’n nuwe manier waarop ons oor belydenisaflegging moet dink.

18 Die besluit het gelui: “Die Sinode versoek AKLAS om rondom die besluit van die Algemene Sinode van 1998 ten opsigte van kinders by die Nagmaal uitsluitsel te gee oor die voorwaardelike karakter van deelname aan die Nagmaal.

19 Hierdie verslag van AKLAS is voorberei deur P F Theron.

20 Toelating tot die nagmaal is weliswaar nie “onvoorwaardelik” nie, en dit is miskien nie die regte woordkeuse nie. Beide doop én nagmaal word bedien binne die konteks van die verbond wat God met ons en ons kinders gemaak het en steeds onderhou.

21 Die aanbeveling was: “Die Algemene Sinode besluit om punt 1 van die Algemene Sinode 1998 se besluit ten opsigte van Kinders by die Nagmaal te vervang met die volgende: Aangesien ons kinders deur die doop opgeneem is in Gods genadeverbond en derhalwe deel is van die kerk as liggaam van Christus, bestaan daar geen rede om hulle te weerhou van die nagmaal nie, en kan hulle daarom met vreugde uitgenooi word na die nagmaal.”

22 In die gereformeerde teologie bestaan die volgende welbekende onderskeid tussen die sakramente van doop en nagmaal: doop is die sakrament van die inlywing in die verbond, terwyl nagmaal die sakrament van die inblywing in die verbond is. Jürgen Moltmann het dit skerp geformuleer: “Just as baptism is the eschatological sign of starting out, valid once and for all, so the regular and constant fellowship at the table of the Lord is the eschatological sign of being on the way” (The Church in the Power of the Spirit, p 243; aangehaal by Osmer 1996: 175).

23 Ons hoor Calvyn se uiteensetting ook in die NGB, Art 33 raak: “Ons glo dat ons goeie God, omdat Hy met ons stompsinnigheid en swakheid rekening hou, die sakramente vir ons ingestel het om sy beloftes aan ons te beseël, om tekens van sy goedheid en genade teenoor ons te wees en om ons geloof te voed en in stand te hou. Hy het dit by die Woord van die evangelie gevoeg om vir ons uitwendige sintuie des te beter voor te stel wat Hy aan ons deur sy Woord te kenne gee en wat Hy inwendig in ons hart doen. So bekragtig Hy in ons die heil wat Hy aan ons meedeel” (gedeelte – my kursivering). Die gebruik van Nagmaal deur kinders is nie aan die Reformasie onbekend nie, inteendeel: “De kindercommunie op zichzelf betekende voor de Reformatie geen probleem. Zij werd gepraktiseerd in Zürich, Wittenberg, Straatsburg en Genève” (W. Nijenhuis, 1974:304).

24 Vgl G P Hartvelt, sa:19.

25 R R Osmer 1996. Vgl sy praktiese voorstelle, pp 194-218.