Smit, D J
Dept Sistematiese Teologie en Ekklesiologie
Universiteit van Stellenbosch

Oor die kerk en maatskaplike uitdagings in ons land

ABSTRACT

On the church and social challenges in our country

The way people see the role of the church regarding public and social challenges, including poverty, inevitably depends on which form (“gestalte”) of the church they regard as primary. The church as congregation is called to worship and pray – with important implications for social needs and problems, including the formation and motivation of moral agents. These worshipping believers are called to join hands as members of congregations – making new kinds of joint activities and initiatives possible. Congregations are called to join one another in the koinonia of the fellowship of the church – including, within Protestantism, denominations, which makes even more comprehensive forms of activity, response and service possible. Denominations are called to express the even fuller unity of the church ecumenically – allowing attempts to address the more widespread and fundamental roots of the social problems, as well as to play advocacy roles on behalf of the voiceless. In the last resort, the church consists of individual believers, the salt of the earth, who are called to follow Jesus – practising the Christian life in all aspects of public sphere, politically, economically, civil society, everywhere. These disciples are called to join hands with one another and also with others not sharing their faith – in order to work for specific purposes and tasks in society, for example, by initiating and supporting programmes and forming partnership and networks. Taken together, these six different emphases provide a fuller picture of what church really means and what the role and calling of the church, also in the face of poverty, could be.

INLEIDING

Wat is die rol en roeping van die kerk in die aangesig van die maatskaplike uitdagings van ons samelewing?1 Talle mense wonder en praat daaroor – en huldig uiteenlopende menings, afhangende van wat hulle onder “kerk” verstaan. Hoe die rol en roeping van die kerk gesien word hang altyd saam met die vorm of gestalte van die kerk waaraan voorrang verleen word vanuit die bepaalde perspektief. Ekklesiologiese nadenke – nadenke vanuit die ryke, komplekse werklikheid wat die kerk deur die eeue was en steeds is2 – kan daarom help om groter bewuswording te bevorder van sowel wat die kerk dalk reeds doen, en ook wat die kerk dalk beter of algeheel nuut sou kon doen. Ook só kan die teologie die kerk dien om die samelewing te dien – en daardeur dalk die Godsryk dien.

1. Biddend om die ryk

Die eerste, wonderbare roeping van die kerk is om te mag bid, om te mag sug om die koms van die Godsryk. Die Ons Vader-gebed, het die Noord-Afrikaanse kerkvaders Tertullianus en Cyprianus al gesê, is ’n kort samevatting van die hele evangelie, van alles wat ons glo en alles wat ons doen, van alles wat ons ontvang en van alles waartoe ons geroep word.3

Die Gereformeerde tradisie was altyd diep onder die indruk hiervan – by Calvyn, wat gebed en die Christelike lewe ten nouste verbind;4 by die Heidelbergse Kategismus, wat die Ons Vader uitlê as die vernaamste vorm van dankbaarheid en rigsnoer vir die Christelike lewe;5 by die 20ste eeuse Karl Barth, wat sê die hart van die Christelike lewe is die aanroep van God, die droom van, die verlange na, die sug om die koms van Gods ryk.6

Die hart van die kerk is daarom die erediens, die liturgie, die aanbidding van die Godsvolk op die opstandingsdag. In die Kerkorde van die VGKSA word dié oortuiging oor die wese en die roeping van die kerk duidelik verwoord. Aanbidding is die sentrale daad van geloof, en alle ander diens, aan mekaar, aan ons naaste, en aan die wêreld, vloei daaruit (Artikel 4).7

En in die hart van dié aanbidding klop die nood van die wêreld, die sugte van die skepping, die vrae, swaarkry en sorge van elke samelewing en van alle mense. Christelike aanbidding word gebore uit die ervaring van die nood van die lewe. They cried to the Lord – só vat die Ou Testamentikus Patrick Miller die diepste dryfveer agter gebede in die Bybel en die Psalms saam, dié boek wat die leerskool van gebed vir die kerk sou bly. 8 Uit die dieptes roep die kerk tot God as Vader, Seun en Gees, om verlossing, bevryding, hulp uit die nood. Petisie vorm die hart van die Christelike gebed, sou Karl Barth sê.9

Juis omdat die kerk leef van die beloftes van die liefde van die Vader, die verlossing in die Seun, die nuwe lewe deur die Gees, en omdat die kerk reeds ervaar, iets smáák, sê Paulus, van dié wonderbare verlossing, dáárom ervaar die kerk die nood van die wêreld, die sugte van die skepping, die swaarkry van elke samelewing selfs méér intens as mense wat dié beloftes nie ken nie – en dáárom roep die kerk in aanbidding tot dié God om bevryding.10

In die hart van die Christelike aanbidding klop die nood van die wêreld, in die lofsange, die danksegging, die skuldbelydenis, die toewyding, die voorbidding.

In die lofsange op Gods goedheid klop die roem vir die wonderbare beloftes van die Godsryk, van die nuwe hemel en die nuwe aarde waarop geregtigheid woon, van gemeenskap met God as God Self alle trane van die oë sal afvee, waar daar geen droefheid meer sal wees nie, nie langer geweld en onreg nie.

In die danksegging vir Gods gawes klop die diepe erkentlikheid vir die seëninge wat ons nou reeds in soveel oorvloed ontvang en daagliks geniet, gawes en seëninge te talryk om te tel, van mense om ons, van liefde en gemeenskap en vriendskap, van gesondheid en lewe, van kos en klere en besittings – alles gawes wat ons ontvang om dit weer te deel met ánder, wat ook na vriendskap, gesondheid en versorging verlang.

In die skuldbelydenis klop die erkentenis dat ons dié erkentlikheid nie altyd ken nie en dié liefde aan ander nie altyd uitleef nie.

In die toewyding gee ons onsself opnuut tot diens van dié God en van ons naaste.

En in die voorbidding, die pleitbedes, die intree vir onsself, vir mekaar, vir andere, vir diegene in nood, vir ons samelewing, ja, vir ons vyande, in die voorbidding, verál, klop die nood van die sugtende skepping, as ons pleit om daaglikse brood, om vergiffenis en versoening, om oorwinning oor die talle gestaltes van die bose.11

In die hart van die Christelike aanbidding klop die nood van die wêreld. In die viering van die doop verseël dié drie-enige God aan ons dat ons aan Hom behoort, veilig is as sy eiendom, en daarom bevry van ons eie sorge, vrese en selfsoeke, bevry om vir Hom en vir ons naaste in hul nood te lewe, sonder aanneming van die persoon, vrymens of slaaf, Griek of barbaar, man of vrou.12

In die viering van die nagmaal smaak dié gedooptes reeds die gawes van die ryk, roep saam Maranata, Here kom!, en gaan dan uit na diegene met nood, om hulle ook iets te laat smaak van die beloftes en die goedheid van die teenwoordigheid van Jesus Christus. In die geskiedenis was die weeklikse nagmaalsviering daarom die oomblik waartydens daar konkreet, spesifiek, by die naam, vir die behoeftes van die wêreld gebid is, en waarvandaan die diakens as dienaars uitgestuur is met konkrete liefdesgawes vir diegene in nood.13

In die hart van die Christelike aanbidding klop die nood van die wêreld. Dis daarom geen wonder dat sovele etici deesdae weer sê dat ons in die erediens leer hoe om te sien nie. Ware aanbidding leer ons om in die regte rigting te kyk, om met die oë van Christus te leer sien, om met nuwe prioriteite te leer onderskei wat werklik saak maak. Die liturgie leer ons hoe om te lewe. En in die hart van dié lewe, van dié sien, staan mense in hulle nood.14

Dié nood is ’n komplekse, omvattende nood, met talle gestaltes en gesigte, sommige opvallend, sommige verborge en selfs verbloem. Ons moet leer om die kompleksiteit van dié nood raak te sien, en dit nie alte gou te verskraal tot enkele gesigte daarvan nie. Christus verskyn aan ons op verrassende wyse in die nood van mense, leer die Evangelies. Hy roep ons om mense “in elke vorm van lyding en nood” raak te sien, sê Die Belydenis van Belhar. En omdat die nood kompleks is, is die bediening van die kerk – die diakonaat, soos die Nuwe Testament dit noem, wat in die erediens gebore word en vanuit die erediens die samelewing ingaan – eweneens kompleks. Die Nuwe Testament noem dit ’n diakonaat van vryheid, ’n diakonaat van geregtigheid, ’n diakonaat van versoening. Dis ’n dienswerk van solidariteit in elke vorm van lyding en nood.15

Die diakonaat van die kerk wortel in die kerk se versugting na die Godsryk, sê die Duitse teoloog Jürgen Moltmann, in die gebede van die kerk wat pleit dat die wêreld tog verlos mag word. Diakonaat is diens aan die komende ryk van God, en aan geen ander ideaal of strewe nie, sê hy.16

Dis daarom ’n dienswerk wat ménse raaksien en ernstig neem, ás mense – nie as statistiek en getalle, probleme en uitdagings, toestande en ontwikkelinge, gevalle en beddens nie, maar as ménse. Volgens Wolfgang Huber, Biskop van die Evangeliese Kerk in Berlyn-Brandenburg, is dit die énkele grootste bydrae van die kerklike diakonaat. Dit leer ons om ménse te ontdek agter al die statistiek en die strominge, en in hul menswaardigheid te respekteer en by te staan.17

Ons leer mense ás mense sien wanneer ons bid, wanneer ons hulle leer sien as voorwerpe van die ewige liefde van die drie-enige God, maar gebed is nooit al nie, nooit alleen nie.

2. Lewend as gemeente

Mense wat God só as Vader, Seun en Gees aanroep, staan op, gaan uit, en leef as nuwe mense. Hulle word ’n gemeente, gemeentes, oral en op elke plek. Dis hul ware erediens, sê Paulus (Rom 12:1-2), hul egte dienswerk, wat pas by die ontferminge van God, as hulle sáám begin vra na sy welgevallige liefdeswil vir hulle alledaagse lewens, en as hulle hul eie liggame, alles wat hulle is en het, tot beskikking stel van dié diens.

Hulle ontdek mekaar as broers en susters, as mense wat almal verskil maar juis daarom verskillende gawes bring, hulle aanvaar mekaar soos Christus hulle ook aangeneem het, hulle vat hande, en hulle begin leef en werk sáám op elke plek, as gemeentes van die Here.

Deur die eeue was dit so, van die vroegste tye af. Nie dat gemeentes altyd eenders lyk nie. Die eeue ken talle vorme van gemeentelike lewe en organisasie. Dit verskil van plek tot plek en tyd tot tyd. Dikwels is dit geografiese gemeentes, maar nie altyd nie. Dikwels is dit georganiseer rondom mense se woonplekke, maar nie altyd nie. Soms is hulle klein, soms is hulle groot. Soms bou hulle eie geboue, soms nie. Daar is nie net een gestalte wat Christelike gemeentes behoort aan te neem nie. Maar oral waar gelowiges die drie-enige God aanbid, word hulle deur dié God aan mekaar verbind tot gemeentes.18

In en deur gemeentes kry die bediening hande en voete, word dit lewend en werksaam, sigbaar en aktief. Ook dit gebeur nie altyd op dieselfde maniere nie, maar op tallose wyses word die naaste as mense in konkrete, alledaagse nood in en deur gemeentes gedien en ondersteun.

Dis verstommend hoe baie mense, insluitende geleerdes, ingeligte waarnemers, sosiale en politieke kommentators, mense wat beter behoort te weet, die omvang, krag en bydrae van dié onderlinge dienswerk in en deur Christelike gemeentes nie genoegsaam raaksien en waardeer nie. Dis vandag die geval in baie samelewings, ook in ons eie. Die bydrae van die alledaagse, gewone lewe in en deur gemeentes tot die versorging van mense in nood, is veel groter as wat ons dikwels vermoed of begryp. Die regterhand weet inderdaad dikwels nie wat die linkerhand doen nie.

Indien ons ook maar net benaderd ’n indruk sou hê van die onderlinge liefdesbetoon – in en deur gelowige gesinne, families en groter familieverbande; in en deur die alledaagse Christelike lewe in strate, buurte, dorpe, omgewings; in en deur kringe van vriende, kennisse, kollegas; in en deur georganiseerde wyke, of omgeegroepe; in en deur spesifieke inisiatiewe, aksies, projekte, programme binne gemeentes; in en deur die ampte wat werksaam is in gemeentes, en die amptelike dienste en dienswerk – selfs net ’n vae besef van die reikwydte hiervan, sou ons dalk verbaas staan, ook in ons samelewing, waar dié dienende rol van die kerk dikwels misgekyk word.

In en deur gemeentes kry die bediening van die kerk hande en voete, en daarom is dit van groot waarde dat daar vandag allerlei inisiatiewe is, elders in die wêreld maar óók in Suid-Afrika, wat opnuut die klem wil lê op die belang van gemeentes, van diakonale en missionale gemeentes, van dienende en getuigende, lewende gemeentes – want dit is inderdaad waar biddende gelowiges oorgaan tot alledaagse dade van liefde.19 Maar dis nie genoeg nie, en dit word uiters gevaarlik vir die Christelike lewe wanneer mense begin dink dis genoeg, soos wat baie, ook onder ons, vandag entoesiasties begin verkies om te dink.

3. Dienend as verband

Gemeentes het mekaar nodig. Gemeentes behóórt aan mekaar. Gemeentes staan met mekaar in verband. Dis so eenvoudig soos dit – en oral waar dié eenvoudige, evangeliese waarheid prysgegee word, soos wat dit vandag oral en toenemend gebeur, dreig die gevaar dat gemeentes selfgesentreerd word en selfgenoegsaam, en die hart van die kerk van Christus aangetas word. Dit kan gebeur ondanks, ja, selfs as gevólg van talryke aktiwiteite en inisiatiewe, ook na buite, tot ver in die wêreld in, van sulke selfgesentreerde gemeentes.

Van die Nuwe Testamentiese tye af was dié noodsaaklike verband tussen gemeentes van die allergrootste belang. Ons lees daarvan op talle plekke en maniere.

Die apostels self was ’n baie belangrike gestalte van dié verband tussen die vroeë gemeentes, deur hulle reise en prediking het hulle meegehelp dat die hele kerk, al die huisgemeentes, al die plaaslike gemeentes, dwarsdeur Palestina, dwarsdeur die verstrooiing, dwarsdeur Klein-Asië, tot op die Europese vasteland, één verband sou vorm, één kerk met één Here, één God en Vader, één doop, één hoop in hulle harte, één belydenis, kortom, één apostoliese fondament vir hulle geloof. Deur hulle gesag en deur hul waarskuwings teen dwaalleer, meermale baie skerp en afwysend, het hulle dié verband van die een kerk, gebou op die één evangelie, probeer beskerm en bewaar. Die Briewe wat hulle geskryf het en wat oral gesirkuleer het, gelees is en aanvaar is, het dié verband tussen die gemeentes gedien; so ook die Evangelies wat geskrywe en oral gelees is; die kanon van gesaghebbende geskrifte wat geleidelik oral aanvaar is, ondanks talle ander geskrifte ook in omloop; die sakramente wat gemeenskaplik tussen al die gemeentes gevier is, sodat die Nuwe-Testamentiese skrywers hulle met vanselfsprekendheid daarop kan beroep, omdat almal dit ken; die gemeenskaplike belydenisse, die gemeenskaplike liedere; die gesamentlike besluitnemingsprosesse oor sake van gemeenskaplike belang, soos tydens die baie belangrike kerkvergadering in Handelinge 15; en veral ook, die talle maniere van onderlinge omgee en versorging tussen die gemeentes – deur vriendskapsbesoeke, deur geskenke, deur kollektes vir diegene in nood, deur afgevaardigdes en diensknegte wat gaan hulp en raad gee, deur versekering van voorbede.

Daar bestaan eenvoudig geen twyfel hieroor nie. Op talle maniere, destyds verrassende en ongekende maniere, het Nuwe-Testamentiese gemeentes gestreef om hul onderlinge eenheid, hul gemeenskaplike verband, sigbaar, werksaam en lewend te maak. Die kerk was één, die gemeentes was op ryke maniere aan mekaar verbonde, en dit ondanks alle sosiale, kulturele, tradisionele en politieke verskille, verskille wat ander godsdiensgroepe van dié tyd uitmekaar geruk en verdeel het volgens lyne van klas en status.

Juis in dié innige onderlinge verband het die geloofwaardigheid van die kerk se boodskap geklop. Die wêreld moes kon sien dat hulle één is, soos wat God één is as Vader, Seun en Gees, en soos wat dié God met óns een is.

Diegene wat nie dié eenheid in die Nuwe Testament kan sien nie – en vandag is daar weer talle sulke stemme binne gemeentes en geestelike strominge – en soms beweer dat daar geen sinode in die Nuwe Testament was nie, en daarom geen één kerk nie, net afsonderlike gemeentes, diégene verstaan nie die hárt van die belydenis aangaande die kerk nie.

Deur die eeue was dit telkens vreemde geestestrominge wat die kerk verlei het om die sigbare en lewende eenheid prys te gee. In die dekades van apartheid was dit denke wat beïnvloed was deur Europese volksideologieë. Vandag is dit dikwels denke wat beïnvloed word deur Noord- Amerikaanse individualisme en vrye assosiasie-denke.

Sowel om geloofs- as om praktiese redes is dié soort verleiding, wat ons slegs in gemeentes wil laat glo – in die groei en opbou van die gemeente, in die getuienis en sending van die gemeente, in die dienswerk en aksies van die gemeente, hoe belangrik ook al alles – is dié soort verleiding vandag vir die kerk opnuut ’n wesenlike versoeking.

Die geloofsredes is dalk die moeilikste om te sien, omdat ons so gewoond geraak het aan die sondige, skandalige verdelinge van die kerk van Christus, en omdat ons tydsgees ons wys maak dat fragmentasie, eiewilligheid en verbrokkelende gestaltes van individualisme en pluralisme goed is vir ons, en vanselfsprekend en normaal is, die weg van die wêreld.

Die Christelike geloof het altyd bely dat die eenheid die hart van die kerk is – vanaf die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Belydenis van Nicea, tot by Gereformeerde belydenisskrifte soos die Heidelbergse Kategismus, deur die bydraes van mense soos Willie Jonker, David Bosch, Flip Theron, Allan Boesak, Daan Cloete, Hannes Adonis, Chris Loff, Welile Mazamisa en Jaap Durand in ons eie geskiedenis, tot by die inleidende woorde van Die Belydenis van Belhar, dat die drie-enige God Self ’n kerk verkies, versamel, red en lei – en dat ons nie self kan besluit wie tot dié kerk behoort en nie behoort nie. Kerkverband behoort tot die wese van die kerk, nie maar net tot die welwese, sodat ons eiemagtig kan besluit of dit nodig is, en hoeveel daarvan nodig is nie.20

Die praktiese redes is makliker om te sien. Daar is eenvoudig take wat te groot is vir gemeentes. Daar is roepinge wat nooit nagekom sal word, uitdagings wat nooit aangepak sal word, vrae waarop ons nooit antwoorde sal vind, nood waaraan ons niks betekenisvols sal kan doen, as ons alles net van gemeentes verwag nie. Gemeentes het mekaar nodig om sáám talle gestaltes van die nood in die wêreld te kan aandurf – anders is die oorsake daarvan vir ons te kompleks, die gestaltes daarvan te oorweldigend, die verligting daarvan te ingewikkeld, die langtermyn bestryding daarvan te grootskaals.

Die diakonaat van die kerkverband, in sy talle vorme, met sy verstommende afmetinge, is eenvoudig onontbeerlik. Dis die diakonaat waarmee BADISA ook besig is, en waarvan die jaarverslag op so ’n indrukwekkende manier vertel, van alles wat gedoen word en alles wat nog gedoen kán word, indien ons hande vat en sáám werk. “Sáám bereik ons meer” – is tereg die slagspreuk van die nuwe armoede- en noodlenigingsdepartement. Om met die maatskaplike uitdagings van Afrika te kan omgaan, is daar geen ander weg nie.21

Hierdie soort gesamentlike dienswerk van die kerkverband is van oneindige belang. Plaasvervangend, sê Huber, doen die dienswerkers van die kerk wat ons almal eintlik moes doen, deeltydse en voltydse personeel is plaasvervangend besig met die werk waartoe ons almal eintlik geroep is, naamlik om tyd te neem, en daar te wees, vir mense in hul nood, en hulle ás mense, met eie waardigheid en reg, te eer en by te staan.22 Maar hoe belangrik hierdie gesamentlike dienswerk ook al is, is dit nog nie genoeg nie.

4. Getuigend as gemeenskap

Kerkverbande het die ekumeniese kerk nodig, óók om praktiese redes, ja, en dié redes is baie sterk, maar verál om redes van die geloof. Daar is slegs één kerk – en die ekumeniese roeping en die ekumeniese strewe behoort tot die hart van dié kerk.

Dwarsdeur die vorige eeu het ons dit geleer. Die name van die groot ekumeniese inisiatiewe van die 20ste eeu herinner ons daaraan.

Soms word die ekumeniese drif gemotiveer deur die verlange dat God se Naam verheerlik sal word vanweë die sigbare eenheid van die kerk – soos in Faith and Order. Soms word die ekumeniese drif gemotiveer deur die verlange dat die kerk se getuienis herkenbaar en geloofwaardig sal wees – soos in Mission and Evangelism. Soms word die ekumeniese drif gemotiveer deur die verlange dat die kerk die gestaltes van nood in die wêreld – van onreg en onderdrukking, van geweld en konflik, van armoede en siekte, van vervolging en lyding, van vlugtelinge en natuurrampe, noem maar op – die gestaltes wat te groot is om op ons eie aan te durf, met meer kennis en beter gevolge kan bekamp – soos in Life and Work. Om al hierdie redes tesame verlang en strewe die kerk na groter eenheid, na koinonia – in geloof, getuienis en diens.23

En waar ’n mens ook al gaan kyk – of dit nou die tallose aktiwiteite van Life and Work reg oor die wêreld is, of die gesamentlike arbeid van ekumeniese liggame in kontinente, streke, lande, spesifieke geografiese gebiede, oral word dit duidelik dat daar talle gestaltes van Christelike dienswerk is wat ondenkbaar is as kerke dit nie sáám doen nie.

“Apartheid was te sterk vir ’n verdeelde kerk,” is een van Aartsbiskop Tutu se gevleuelde aanhalings in die ekumeniese beweging, en vandag geld dit steeds, van die talle maatskaplike probleme waarmee Afrika worstel.24

Dié ekumeniese dienswerk sluit byvoorbeeld profetiese getuienis in – en ’n mens hoef maar net te dink aan die talle maniere waarop kerke saam die stem van stemloses is, diegene wat in die openbaar opkom vir die regte van hulle wat verag en verwerp word; of die maniere waarop die ekumeniese kerk bydra tot publieke debatte, oor menseregte, oor moraliteit, oor misdaad, geweld teen vroue en kinders, armoede, onderwys, vigs, en talle meer.

Hierdie ekumeniese dienswerk sluit egter ook koninklike optrede in – waar onder daadwerklike, moedige stryd teen mensveragtende boosheid in al sy vorme; die organisasie van aktiwiteite, inisiatiewe en groepe, waar niemand anders dalk iets doen nie; die stigting van liggame en instellinge wat lyding en nood die stryd aansê op praktiese, konkrete wyses, vanaf skole tot hospitale tot tallose ander aktiwiteite.

Sulke ekumeniese dienswerk sluit daarby ook priesterlike offergawes in – vanaf die plaasvervangende bring van voorbede en versugtinge namens mense in nood, soms in die stilte van die binnekamer, soms op die markplein en in die openbare oog; tot by die bring van besittings, tyd en geld, in tye van krisisse en rampe, maar ook deurlopend en getrou, om offervaardige, aktiewe hulpverlening moontlik te maak wanneer niemand anders dalk meer omgee of kan help nie; tot by die bring van die praktiese hulp self, die selfopofferende liefdesdade van tallose deeltydse en voltydse werkers wat dáár is vir mense in nood. Onlangse navorsing wys op die verstommende finansiële bydrae van die ekumeniese kerk in Suid-Afrika op dié terreine.

Profeties, koninklik, priesterlik – dié gesamentlike dienswerk is die hart van die kerk se getuienis aangaande die evangelie, soos die uitdrukking “missionêre diakonaat”, wat oral in BADISA se dokumente voorkom, tereg onderstreep.25

Dwarsdeur die vorige eeu het ons dit geleer, in Suid-Afrika, maar ook wêreldwyd. As dit om die nood van mense gaan, is gemeentes en kerkverbande, hoe belangrik ook al, nie genoeg nie. Daar is uitdagings wat te groot is, te diep gryp, waarvan die oorsake te kompleks is, die afmetinge te omvattend, die langtermynoplossings te veeleisend. Daarvoor is die ekumeniese kerk onontbeerlik. Maar ook dit is nie genoegsaam nie.

5. Werksaam as dissipels

Die kerk bestaan ten diepste uit gelowiges, uit kinders van die Vader, navolgers van Jesus, vrugdraers van die Gees. Voor die regterstoel – só leer die aangrypende woorde van Matteus 25 – sal nie gemeentes en kerkverbande staan nie, maar elkeen van ons. Van óns sal gevra word of ons die wil gedoen het van ons Vader in die hemele, of ons Jesus daadwerklik liefgehad het in die lydendes, siekes, armes, gevangenes op ons weg. Die kerk bestaan uit mense, wat as sout van die aarde en lig van die wêreld leef, in die konkrete alledaagsheid, mense wat ons naaste liefhet soos onsself. Dááraan sal die wêreld weet dat ons sy dissipels is.

Uiteindelik is dit konkrete mense, gelowiges, dissipels wat Jesus dien deurdat ons ons naaste dien op die derduisende praktiese maniere van elke dag; deurdat ons nood raaksien – psigies, geestelik, emosioneel, fisies, materieel – en genoeg ómgee, sodat ons iets van onssélf gee. Dis onmoontlik om ons in te dink wat die omvang van dié konkrete liefdesdiens van Christenmense deur die eeue was, en steeds is, ook in ons samelewing.

Dink net aan die oneindige potensiaal van gelowige mense om deur hulle alledaagse werk, hulle lewenstaak, hul arbeid, hul naaste te dien – dink aan mense in die onderwys en die regswêreld, in die talle mediese professies, in die finansiële en arbeidsektore, in noodsaaklike dienste, insluitende veiligheid, in die wetenskappe, in kuns en kultuur, in die joernalistiek en die politiek, óral waar mense werk. Dis geen wonder nie dat die Protestantisme soveel waarde sou heg aan die geestelike waarde van ons alledaagse roeping en met soveel klem sou aandring dat gelowiges hul dagtaak sien as vocatio, as iets wat ons doen vir die Here en in diens van ons naaste – en dis geen wonder dat dié soort gesprek vandag weer met nuwe erns gevoer word, ook binne VGK- en NGK-kringe nie.26

Of dink aan die vrywillige diens wat dieselfde mense lewer in hul sogenaamde vrye tyd, deur die gee van hul tyd, energie, krag en gawes in diens van hul naaste – sonder dat dit georganiseer word, sonder dat kommissies daaroor verslag doen, sonder dat dit ooit neergeskryf, gemeet en tot statistiek omgesit word.

Of dink aan die talle sosiale rolle wat dieselfde mense speel, as ouers, as gesinslede, as vriende, as kollegas, as buurtbewoners, as plaaslike inwoners, as burgers – en aan die talle maniere waarop hulle in dié rolle ook hul naaste dien en help.

Dis om dié redes dat Protestante altyd gewone werk, maar ook vrywillige diens én al hierdie natuurlike en sosiale rolle gesien het as tesáme deel van ons geestelike roeping.

Deur dit alles heen lewer lidmate ’n onberekenbare bydrae tot die kwaliteit van lewe in die samelewings waarvan hulle deel is. Veral demokratiese samelewings is ondenkbaar sonder dié, dikwels onsigbare, bydrae. Alhoewel baie mense, ook kritici van die kerke, insluitende die talle dissipels van sekularisasie vandag in Suid-Afrika, dié teenwoordigheid nie raaksien en respekteer nie, is daar toenemend geleerdes wêreldwyd wat begryp hoe ’n sleutelrol gelowiges speel. Hulle help bou aan die pilare, die grondslae waarop vrye, demokratiese samelewings rus, sê die Duitse regskenner Ernst-Wolfgang Böckenförde.27 Hulle verskaf die sosiale kapitaal, die onderlinge vertroue en betroubaarheid, die vermoë en die bereidheid om met andere saam te leef, waarsonder vrye samelewings nie kan opbloei nie, sê die sosiale denker en ekonoom Francis Fukuyama, maar saam met hom ook talle ander wat vandag ernstig nadink oor “sosiale kapitaal”.28

Deur hul bydraes tot die openbare mening wat in ’n samelewing heers, die gesprekke oor wat goed en reg en nodig en aanvaarbaar is, dra gelowige dissipels by tot die openbare kultuur, tot die soort lewe wat moontlik is, tot die common good en die gemeenskaplike waardes. En as dit waar is, soos wat soms gesê word, dat die morele kwaliteit van enige samelewing weerspieël word in die manier waarop omgegee word vir die swakkes en die slagoffers, dan het dissipels van Jesus Christus ’n besondere roeping in dié verband, tot die vorming van ’n openbare mening en breë konsensus.

In tye – soos vandag, wêreldwyd, maar ook by ons – wanneer die openbare lewe gekenmerk word deur ’n kultuur van gierigheid, van toe-eiening, van gryp- en hebsug, wanneer “die sosiale klimaat koud geword het” (Huber), het sulke dissipels ’n besondere roeping om te help vorm aan ’n kultuur van sorg en omgee, van hulpverlening en diens.29

Dis nie nodig om hierdie derduisende gestaltes van naasteliefde te probeer name gee nie. Ons ken dit, en die Gees van Christus maak ons daarvoor fyngevoelig, elke dag. Dis die Christelike lewe. Ons doen dit sonder dat die regterhand weet waarmee die linkerhand besig is. Maar om nét dit te sê is dalk ook nie genoeg nie.

6. Sáám as deel van die burgerlike samelewing

’n Wesenlike deel van ons liefdesdiens, ons barmhartigheid, omgee en hulpverlening, vra dat ons ander se hande vat en dit sáám doen. Almal kan nie alles doen nie, verantwoordelik voel vir alle vorme van barmhartigheid en verantwoordelikheid neem vir alle vorme van noodleniging nie. Dit sou ’n ondraaglike gewetenslas op ons lê en ons waarskynlik so verlam dat ons niks sal doen nie. Nee, die Gees gee gawes, die Gees gee talente, bedieninge, geleenthede. Die Gees maak een se hart híérvoor warm en ’n ander s’n dáárvoor. Só was dit van Nuwe Testamentiese tye af, altyd.

Veral in moderne, demokratiese samelewings is dié insig van deurslaggewende belang. Hulle word juis gekenmerk deur wat die burgerlike samelewing genoem word, civil society, wat beteken dat alles nie net van die staat of ekonomie afhang nie.30 Tussen die verantwoordelikheid van die staat en die kragte van die ekonomie leef burgers saam op ’n groot verskeidenheid van terreine en organiseer hulself op ’n veelvoud van maniere. Die kwaliteit, die menslikheid, die geluk van mense, die common good, is eweveel afhanklik van die kwaliteit van dié talle lewensterreine, aktiwiteite, organisasies, verenigings, assosiasies, verbande en vrywillige werksaamhede as van staat en ekonomie, indien nie meer nie (Kerkorde van die VGKSA, Art 12).

En weer eens is daar nie ’n tydlose resep, net een model nie. Van land tot land verskil die maniere hoe die burgerlike samelewing ingerig word en watter verantwoordelikhede dit nakom, wat op ander plekke byvoorbeeld van die staat, die ekonomie of die kerk verwag word. Die VSA is byvoorbeeld bekend vir die uitsonderlike mate waarop burgers vrywillig by allerlei burgerlike aktiwiteite en assosiasies betrokke raak.31 Sonder sulke inisiatiewe sou die Amerikaanse samelewing nie wees wat hy is nie, maar ander samelewings werk anders.32

Hoe situasies egter ook mag verskil, vandag weet ons dat burgerlike samelewing van oneindige belang is vir die kwaliteit van lewe in alle moderne demokrasieë, óók by ons. En ons weet dat dit daarom ’n wonderbare geleentheid bied vir Christene om ons roeping na te kom en om die maatskaplike uitdagings, die morele vrae, die sosiale krisisse, te probeer aandurf – nie een- een en elkeen op ons eie nie, maar deur hande te vat met almal, wie ook al en ongeag hulle eie motiveringe, oortuigings en agtergronde, wat sáám met ons oor spesifieke sake besorg mag wees.

Die prosesse van globalisering – kultureel, ekonomies, polities – het oor die afgelope jare radikaal nuwe uitdagings en geleenthede gebring.33 Ook die diakonie van die kerk word in die afgelope dekade radikaal herdink in feitlik elke samelewing. Afrika, en Suid-Afrika, is deel van hierdie prosesse van heroriëntasie. Dis nie moontlik om te bly hunker na wat vroeër was nie. Nuwe weë moet gevind word – en oor enkele jare sal dié nuwe weë ook weer hersien moet word. Daar is nie tydlose formules nie, slegs kreatiewe, vernuwende denke en organisasie wat die uitdagings van die tyd raaksien en die geleenthede aangryp.

Met globalisering verander die rol van state oral, veral óók ten opsigte van sosiale versorging. Daarmee saam verander die roeping van die kerk. Die kerk staan nie slegs meer in ’n verhouding met die staat nie, maar – en baie sosiale denkers sê primêr – ook in verhouding met ander instellinge van die burgerlike samelewing en die ekonomie. Om dié rede word daar vandag oral nagedink oor nuwe vorme van vennootskappe en samewerking, insluitende vennootskappe met staatsdepartemente, met nieregeringsorganisasies, met die besigheids- en privaatsektore, met ander godsdienstige groepe, en met sekulêre organisasies. Ten einde ons bediening te kan vervul, móét ons betrokke raak by sulke vennootskappe.34

Ook die sogenaamde ontwikkelingsdebatte verander ingrypend, die gesprekke oor hoe mense self in staat gestel kan word om hul volle potensiaal en menswees uit te leef, sodat hulle nie ewig afhanklik bly nie, maar met selfrespek aktiewe deelnemers aan die lewe word.35 Ook binne die denke oor sulke ontwikkeling word toenemend gepraat oor die belang van netwerke, selfs van regionale en groter netwerke ver oor nasionale grense heen, waardeur mense bemagtig kan word, van ’n soort globale burgerlike samelewing. En indien dít inderdaad die weg van die toekoms is, sal gelowiges ook dié geleenthede moet aangryp.

7. Dus, die rol van die kerk?

Teen dié agtergrond is dit hopelik moontlik om oor die rol van die kerk – en ook die spesifieke rol van die VGK en die NGK – ten opsigte van die maatskaplike vraagstukke in ons land na te dink. Daar is geen finale antwoorde nie, slegs ’n voortdurende proses van saam-droom en saam-besin – soos wat die jaarvergadering van BADISA reeds aan die doen is, en soos wat die indrukwekkende jaarverslag reeds laat blyk. Diaconia semper reformanda, die diakonaat hervorm voortdurend, skryf Jürgen Gohde, die President van die groot Diakoniese Werk van die Evangeliese Kerk in Duitsland.36

Hopelik sal ons antwoorde egter altyd kompleks genoeg wees om al dié verskillende gestaltes van die kerk in ag te neem – biddend-om-die-ryk, lewend-as-gemeente, dienend-in-verband, getuigend-as-gemeenskap, werksaam-as-dissipels, sáám-as-mense-wat-omgee.

Die kerk, óók die VGK en NGK, sal ons roeping verloën as ons nié in ons eredienste verlangend sug namens diegene in nood nie; as ons nié in ons gemeentes op allerlei konkrete maniere omgee vir mekaar nie; as ons nié met erns strewe na inniger kerkverband sodat ons méér effektief die nood om ons kan aandurf nie; as ons nié ekumenies met andere sáámwerk sodat ons van Gods genadige liefde kan getuig nie; as ons nié as dissipels van Jesus bydra tot ’n kultuur van omgee in plaas van gryp- en hebsug nie; as ons nié betrokke raak as burgerlike samelewing en die talle nuwe geleenthede tot aksies, tot vennootskappe, tot netwerke aangryp nie.

Wat nodig is, is dat die kerk sal bly vra wat ons juis as kerk kan doen wat pas by ons eie aard, identiteit en roeping. En die eenvoudige antwoord is dat die evangelie ons oë kan oophou vir ménse, agter al die armoede, geweld, statistiek, beddens, bedrae, getalle, vir lewende, werklike ménse, geskape na Gods beeld en voorwerpe van Gods ewige, verkiesende liefde. Die verstommende goddelikheid van die Drie-enige God straal uit sy onbegryplike menslikheid – dís die wonder van die vreemde evangelie wat ons bely en verkondig.

1 Hierdie bydrae is ’n geannoteerde verwerking van ’n voordrag wat oorspronklik op 16 September 2003 tydens die eerste Jaarvergadering van BADISA gelewer is. BADISA is die naam van die gesamentlike barmhartigheidswerk van die VGKSA (Kaapland) en die NGK (Wes-Kaap). Die titel van die voordrag, op versoek van BADISA, was “Oor die VGK en die NGK – en maatskaplike uitdagings in ons land.” Die oorspronklike praatstyl is grootliks behou.

2 Sien my “Deel van ‘kerk’ deur die eeue? – die werklike kerk op soek na die ware kerk,” Draers van die waarheid, reds. I Nell & C W Burger, Matieland: Buvton, 2002, 243-258.

3 Sien Tertullianus, De oratione, P L 1, 1153-1165, waar hy praat van die Ons Vader as die breviarium totius evangelii. Vir Tertullianus se gedagtes, sien A Okechukwu Ogbonnaya, On communitarian divinity. An African interpretation of the Trinity, New York: Paragon House, 1994. Cyprianus van Kartago, in sy De dominica oratione, PL 4, 535-562, dink soortgelyk oor gebed, geloof en lewe, maar praat van coelestis doctrinae compendium, die samevatting van die hemelse leer. Vir ’n bespreking van dié werkingsgeskiedenis van die gebed, sien U Luz, Das Evangelium nach Matthäus. 1. Teilband. Neukirchen-Vluyn: Neukirchener, 337e.v.

4 Sien byvoorbeeld J Kelsey, “Prayer and ethics: reflections on Calvin and Barth” Harvard Theological Review 82:2, 1989, 169-184. Vir primêre bronne, sien die goedgekose uittreksels uit sy werk van E A McKee (ed), John Calvin. Writings on pastoral piety, Classics of Western Spirituality, New York: Paulist Press, 2001.

5 Vir ’n uitstekende inleiding oor die aard en inhoud van die Protestantse belydenisskrifte uit die Nederlandse tradisie, insluitende die teologie van die Heidelbergse Kategismus, sien W D Jonker, Bevrydende waarheid, Wellington: Hugenote Uitgewers, 1914; en vir ’n interessante en ingeligte hedendaagse gesprek met die Kategismus self, E. Busch, Der Freiheit zugetan. Christlicher Glaube heute – im Gespräch mit dem Heidelberger Katechismus, Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag, 1998.

6 Vir ’n oorsig van sommige van die sentrale werke van Barth waarin gebed ’n sleutelrol speel, sien byvoorbeeld my “‘The doing of the little righteousness’ – On justice in Barth’s view of the Christian life,” in die Festschrift vir Wallace Alston, Grand Rapids, MI: Wm B Eerdmans, binnekort.

7 Vir die sentrale plek van die reëling van gemeentelike aanbidding en lewe as die hart van die vroeg- Gereformeerde kerkordes, vanaf Calvyn se Geneve, sien my “Bely en beliggaam”, in 350 jaar Gereformeerd/350 Years Reformed, red P Coertzen. Bloemfontein: CLF, 357-371. Vir die VGKSA- Kerkorde se struktuur en logika en die plek van aanbidding daarbinne, sien my “Oor Lofprysing - en die VGKSA,” NGTT, XXXIX, 1998, 389 – 396 en “Oor misverstande rondom die funksie van die erediens en die VGKSA,” NGTT XXXIX/4, 1998, 334 – 343.

8 P.D. Miller, They cried to the Lord, Minneapolis: Fortress, 1994.

9 Sien byvoorbeeld die onlangse herdruk van K Barth, Prayer, Louisville, KE: Westminster John Knox, 2002, met nuttige opstelle van John Hesselink, Daniel Migliore en Donald McKim.

10 Vir interessante besinning oor die sosiaal-etiese implikasies van die kerklike versugtinge, sien die Berlynse Nuwe Testamentikus W Bindemann se Die Hoffnung der Schöpfung. Rom. 8:18-27 und die Frage einer Theologie der Befreiung von Mensch und Natur, Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag, 1983.

11 Talle bekende skrywers het in die onlangse jare sleutelbydraes gelewer tot die nadenke oor die verhouding tussen liturgie en lewe, waar onder Don Saliers, Geoffrey Wainwright, Nicholas Wolterstorff en Theodor Jennings, en in Suid-Afrika ook Bethel Müller en John de Gruchy. Vir Suid- Afrikaanse literatuur, sien die ongepubliseerde doktorale dissertasie van I J van der Merwe, Liturgie en lewe. ’n Sistematies-teologiese ondersoek, Stellenbosch, 1999; asook my opstelle (met uitgebreide literatuur), “Politieke erediens? Vrae oor liturgie as lewensvorm,” Praktiese Teologie van Suider-Afrika 2002, Vol 17/2, 126-153; “Seeing things differently: on prayer and politics,” Theology in dialogue, eds Holness, L & Wüstenberg, R Cape Town: David Philip, 2002, 271-284; “Liturgy and life? On the importance of worship for Christian ethics,” Scriptura 62, 1997/3, 259-280; “On learning to see? A Reformed perspective on the church and the poor,” in Poverty, suffering and HIV-AIDS, Pamela D. Couture et al eds, Cardiff: Cardiff Academic Press, 2003, 55-70; “Spirituality, Worship, Confession, and Church Unity: A Story from South Africa,” in D S Cunningham, R Del Colle & L Lamadrid (eds.). Ecumenical theology in worship, doctrine, and life. New York: Oxford, 1999; Liturgy and life?. Scriptura 62, 1997, 259 – 280; Om nie te vergeet nie, in B A Müller et al (reds), Riglyne vir prediking oor die Christelike deugde. Kaapstad: Lux Verbi, 1997.

12 Oor die noue verband tussen die doop en die beoefening van die Christelike lewe, insluitende bamrhartigheid, sien die belangrike ekumeniese konsensus-teks Baptism, eucharist, ministry, Geneva: WCC, 1982, en die literatuur daaromheen, asook die werk van G Wainwright, veral Worship with one accord, New York: Oxford University Press, 1997.

13 Sien die literatuur in die vorige voetnoot, asook reeds G Wainwright, Eucharist and eschatology, London: Epworth , 1971, en die opstelle in hierdie bundel van J Cilliers & C Wepener, en A Taljaard.

14 Onder die talryke literatuur, vergelyk S Hauerwas se Gifford Lesings, With the grain of the universe, Grand Rapids, MI: Brazos, 2001.

15 Sien byvoorbeeld A de Oliviera, Die Diakonie der Gerechtigkeit und der Versöhnung in der Apologie des 2. Korintherbriefes, Münster: Aschendorff, 1990; ook A Gotzelmann, V Hermann & J Stein, (Hrsg.), Diakonie der Versöhnung, Stuttgart: Quell, 1998.

16 J Moltmann, Diakonie im Horizont des Reiches Gottes, Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag, 1984.

17 W Huber, “Den menschen entdecken. Zukunftsaufgaben der Diakonie,” in M Welker, (Hrsg.), Brennpunkt Diakonie, Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag, 1997, 39-48.

18 Vir die belang van gemeentes binne die Protestantse ekklesiologie, vergelyk slegs die reeks werke van C.W. Burger oor die kerk, deur onlangse jare, waar onder Dinamika van ’n Christelike geloofsgemeenskap, Lux Verbi, 19XX; Gemeentes in transito, Lux Verbi, 1995; Gemeentes in die kragveld van die Gees, Lux Verbi, 19XX; en “Wat leer ons uit die Nuwe Testament oor praktiese gemeentewees vandag?,” in I Nell & C W Burger (reds.), Draers van die waarheid, Matieland: Buvton, 2002, 259-274.

19 Daar is talle sulke inisiatiewe, veral in die VSA, maar toenemend ook elders, waar onder ook Suid- Afrika. Die denke van Lesslie Newbigin speel dikwels ’n sleutelrol in sulke inisiatiewe. Vir een hiervan, sien byvoorbeeld die “gospel and culture”-netwerk onder inspirasie van Darrell Guder en George Hunsberger, soos in A scandalous prophet. The way of mission after Newbigin, T F Foust et al (eds), Grand Rapids, MI: Wm B Eerdmans, 2002; D L Guder, The continuing conversion of the church, Grand Rapids, MI: Wm B Eerdmans, 2000; D L Guder (ed.), Missional church. A vision for the sending of the church in North America, Grand Rapids, MI: Wm B Eerdmans, 1998; G R Hunsberger, Bearing the witness of the Spirit. Lesslie Newbigin’s theology of cultural plurality, Grand Rapids, MI: Wm B Eerdmans, 1998; G R Hunsberger & C. Van Gelder (eds), The church between gospel and culture. The emerging mission in North America, Grand Rapids, MI: Wm B Eerdmans, 1996.

20 Rondom die aard van kerklike eenheid is veral in die apartheidsjare baie in Afrikaanse kringe nagedink, navorsing gedoen en geskryf. Sien byvoorbeeld net die doktorale dissertasies van J J F Durand, G D Cloete, P F Theron, J C Adonis en J C Loff wat almal oor die eenheid van die kerk gehandel het, alhoewel uit verskillende invalshoeke.

21 Sien byvoorbeeld die oorsigartikel in hierdie bundle deur die Direkteur van BADISA, Willie van der Merwe, asook the gedrukte Jaarverslag.

22 W Huber, “Den menschen entdecken. Zukunftsaufgaben der Diakonie,” in M Welker (Hrsg.), Brennpunkt Diakonie, Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag, 1997, 39-48.

23 Vir eenvoudige inleidings oor die doelstellinge, ontstaan, groei en strukture van die Ekumeniese Beweging, sien steeds die ouer populêre werke A J van der Bent, What in the world is the World Council of Churches?, Geneva: WCC, 1979, en L Howell, Acting in faith, Geneva: WCC, 1983. Vir meer inligting, sien die informatiewe Dictionary of the Ecumenical Movement, N Lossky et al (eds), Geneva: WCC, 2001 (tweede uitgawe).

24 D Tutu, “Towards koinonia in faith, life and witness,” in T F Best & G Gassmann (eds), On the way to fuller koinonia, Geneva: WCC, 1994, 96. Hy het weer gesinspeel op die spreuk tydens die eerste Life and Work-konferensie in Stockholm (1925) dat die wêreld te sterk is vir ’n verdeelde kerk.

25 Sien G Wainwright, For our salvation, Grand Rapids, MI: Wm B Eerdmans, 1997, vir ’n baie nuttige bespreking van die funksies van die driedeling profeet, priester en koning in die Christelike teologie. Hy toon aan hoe ’n fundamentele rol Calvyn in hierdie proses gespeel het, maar wys ook hoe dié driedeling vandag toenemend gewild raak in breë ekumeniese kringe, insluitende Katolieke denke, om ’n wye verskeidenheid van funksies te vervul, waar onder ’n komplekse beskrywing van die

26 Sien byvoorbeeld J G Botha (ed), Work as calling and worship, Lux Verbi.BM, 2001; B A Müller et al (reds), Riglyne vir prediking oor Christelike roeping, Lux Verbi.BM, 2003; en selfs D Schuurman, Vocation: Discerning our callings in life, Grand Rapids, MI: Wm B Eerdmans, 2004, waarvan dele in Suid-Afrika voorgedra en intensief bespreek is.

27 E-W Böckenförde, “Fundamente der Freiheit,” in E Teufel (Hrsg.), Was hält die moderne Gesellschaft zusammen?, Frankfurt: Suhrkamp, 1996, 89-99.

28 F Fukuyama, Trust: Social virtues and the creation of prosperity, New York: Free Press, 1995.

29 W Huber, “Den menschen entdecken. Zukunftsaufgaben der Diakonie,” in M Welker (Hrsg.), Brennpunkt Diakonie, Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag, 1997, 41e.v.

30 Vir die uitsonderlike belang van die burgerlike samelewing – en die kerk se rol as deel daarvan – sien P Gifford, African Christianity. Its public role, London: Hurst & Co, 2001. Die teoretiese literatuur oor civil society het in onlangse jare onoorsigtelik geword. Vir bekende inleidings, sien steeds A Shanks, Civil society, civil religion, Oxford: Blackwell, 1995; R Wuthnow, Christianity and civil society. The contemporary debate, Valley Forge, PA: Trinity Press, 1996; R L Petersen (ed.), Christianity and civil society, Maryknoll, NY: Orbis, 1995; A Seligman, The idea of civil society, New York: Macmillan, 1992.

31 Sien byvoorbeeld die omvattende en informatiewe S W Carlson-Thies & J W Skillen (eds.), Welfare in America, Grand Rapids, MI: Wm B Eerdmans, 1996.

32 Sien byvoorbeeld vir die totaal ander plek en funksie van sosiale versorging in Duitsland die omvattende en verhelderende versamelbande, M Welker (Hrsg), Brennpunkt Diakonie, Neukirchen- Vluyn: Neukirchener Verlag, 1997; A Gotzelmann, V Hermann & J Stein (Hrsg), Diakonie der Versöhnung, Stuttgart: Quell; en P Philippi & T Strohm (Hrsg), Theologie der Diakonie, Heidelberg: Heidelberge Verlagsanstalt, 1989; K Kremkau (Hrsg), Christliche Glaube und soziale Verantwortung, Frankfurt; Verlag Otto Lembeck, 1986; G Röckle (Hrsg), Diakonische Kirche: Sendung – Dienst – Leitung. Versuch einer theologischen Orientierung, Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag, 1990. In byvoorbeeld Nederland is die situasie nogeens ingrypend anders, soos wat die literatuur vandaar laat blyk, al sedert Abraham Kuyper se opspraakwekkende idees!

33 Die literatuur is onoorsigtelik, maar vir baie goeie inleidende werke, sien P Berger & S Huntington, Many globalizations. Cultural diversity in the contemporary world, Oxford: OUP, 2002, 16; D Held, A globalizing world? Culture, economics, politics. New York: Routledge, 2000; D Held et al (eds.), Global Transformations, Stanford: Stanford University Press, 1999; en vir ’n spesifiek Gereformeerde perspektief uit Suider-Afrika, sien my “Theologische Ansätze für kirchliches Engagement in Fragen der Globalisierung – Reformierte Perspektiven aus dem Südlichen Afrika,” Ökumenische Rundschau 2004/2, binnekort.

34 Sien byvoorbeeld die netwerke, die projekte, die konferensies, die publikasies en die inisiatiewe van sowel EFSA (The Ecumenical Foundation of Southern Africa) as NRASD (The National Religious Association for Social Development) wat in onlangse jare veel gedoen het om vennootskapsdenke in kerklike en algemeen-godsdienstige kringe in Suid-Afrika te bevorder, sowel wat die sakesektor as die regeringsektore betref.

35 Sien byvoorbeeld die opstelle in hierdie bundel van onderskeidelik K August & N Bowers en van I Swart, wat albei berus op hulle onlangse ongepubliseerde doktorale dissertasies oor ontwikkelingsvraagstukke en die kerk. In Swart se opstel oor “community-centred congregational ministry in South Africa” lewer hy veral skerp kritiek op vroeëre, ontoereikende maniere van kerklike omgang met veral armoede, wat net op hulpverlening gekonsentreer het, maar nie by magte was om die waarlike oorsake aan te spreek en omvattende en langtermyn-uitweë te vind, saam met ander nie.

36 J Gohde, 1998. “Diaconia semper reformanda,” in A Gotzelmann, V Hermann & J Stein (Hrsg.), Diakonie der Versöhnung, Stuttgart: Quell, 237-245.