Van der Merwe, W C1
Dept Praktiese Teologie en Missiologie
Universiteit van Stellenbosch

Geroep om te dien: Suider-Afrika en al sy mense – ’n perspektief op die implementering van die NG Kerk se Verklaring (2002)

ABSTRACT

Called to serve: Southern Africa and all its people – a perspective on the implementation of the Declaration 2002 of the Dutch Reformed Church

The General Synod of the Dutch Reformed Church issued a declaration in 2002 in which the Church committed herself to be involved in the healing and the socio-economic needs of Southern Africa and all its people. The article addresses the question of how to put such a commitment into practice. The author suggests that a programme of action should rest on six fundamentals or pillars: a theology of poverty alleviation needs to be developed, the voice of the poor themselves should be heard, congregations should be transformed into serving communities, united structure is necessary, the ministry of caring of the Church should focus on development and the Church should enter into ecumenical partnerships as well as partnerships with other organisations, the state and business.

1. INLEIDING

“Suid-Afrika, hoe gaan dit regtig met jou … en wat kan ons as Kerk by jou leer en vir jou doen?” Dié vraag was die tema vir die onderlinge pastorale gesprek tydens die jongste vergadering van die Algemene Sinode van die N G Kerk wat in 2002 gehou is. Dit is betekenisvol dat die Kerk by die eerste vergadering van haar algemene sinode in die nuwe millennium hieroor wonder, maar die eintlike betekenis lê in die besluit wat op die gesprek volg naamlik dat “dit dringend noodsaaklik is dat ons as vergadering onsself namens ons Kerk verbind aan ons roeping ten opsigte van die heling en sosio-ekonomiese nood in ons land” (Handelinge, 2002:583). Hierdie verbintenis word dan verwoord in ’n verklaring wat teen die einde van die sinodesitting goedgekeur is. Die verklaring behels drie verbintenisse: eerstens aan die Here, dan tot die vasteland, in die besonder Suider-Afrika en derdens tot groter eenheid met ander kerke. Die verklaring eindig met ’n oproep aan die gemeentes van die Kerk om by die genesing van die land betrokke te raak.

Dit is ’n leemte dat die Algemene Sinode nie spesifieke besluite oor die implementering van die verklaring geneem het nie, waarskynlik omdat die Sinode gemeen het dat dit as ’n visie of rigtingaanduider vir die Kerk moet dien. Die uitdaging vir die N G Kerk is nou om die hernude verstaan van haar roeping tot betrokkenheid by die heling en sosio-ekonomiese nood in die land om te skakel in volhoubare programme. In hierdie artikel wil die skrywer ses pilare wat nodig is vir ’n implementeringsplan voorstel. Maar om die voorstel in konteks te plaas is enkele opmerkings oor die NG Kerk se betrokkenheid by die nood in die land in die verlede en die nood van die land vandag, eers nodig. Aan die einde van die artikel is ’n gevallestudie wat enkele van die pilare illustreer.

2. ’N GESKIEDENIS VAN DIENS

Wanneer die NG Kerk haar opnuut verbind om mee te werk aan die oplossings vir ons samelewing is dit nie asof die Kerk vir die eerste keer so ’n verbintenis maak nie. Daar is baie verhale uit die verlede wat juis vertel van die N G Kerk se betrokkenheid by die probleme van Suid-Afrika. Een van hierdie verhale is die verhaal van die Kerk se barmhartigheidsdienste. Dele van die verhaal is opgeteken in notules, verslae, artikels, boeke, tesisse en proefskrifte (byvoorbeeld Botha 1957; Greyling 1939; Lindeque 1985; Nieuwoudt 1990; Van der Schyff 1977; Van Aarde 1999; Zeeman 1957) en groot dele van die verhaal is waarskynlik nog nie opgeteken nie, maar leef in die harte en lewens van baie duisende mense wat God se omgee en barmhartigheid deur die kerk se barmhartigheidsdienste ervaar het.

Uit die verhaal blyk dit dat die N G Kerk nog altyd haar roeping om te dien probeer uitvoer het. Die verhaal strek terug tot die aankoms van Jan van Riebeeck aan die Kaap in 1652 en vertel hoe die Kerk telkemale gereageer het wanneer daar groot nood in die land was en mense gely het as gevolg van rampe, oorloë en siekte-epidemies. Die ontstaansgeskiedenis van ’n groot aantal kinderhuise illustreer dit: byvoorbeeld die Langlaagte-weeshuis wat in 1902 na die Anglo- Boereoorlog opgerig is en so ook die kinderhuise in Ladybrand, Brandfort, Winburg en Bethlehem. Na die griepepidemie van 1918 ontstaan die Ugie-weeshuis, die Piet Retief-weeshuis te Mooimeisiesfontein en nog ander (De Klerk, 1990:300).

Maar die stuk van die verhaal wat vandag nog voorop in die geheue lê is die N G Kerk se rol in die oplossing van die Armblankevraagstuk aan die begin van die vorige eeu. Nie alleen het die Kerk ’n leidende rol gespeel in die verskillende Volkskongresse nie, maar daar is ook daadwerklik opgetree deur Christelike Maatskaplike Rade oral in ringe en gemeentes tot stand te bring. Hierdie rade het begin om opgeleide maatskaplike werkers aan te stel wat oor ’n breë front diens kon lewer om die maatskaplike probleme wat met armoede gepaard gaan, byvoorbeeld kinderverwaarlosing, die verbrokkeling van die gesinstrukture en alkoholmisbruik te bekamp. Verder is groot werkver- skaffings- en opheffingsprogramme ingestel, waarvan die Kakamasprojek waarskynlik een van die bekendstes is. In ’n historiese oorsig oor die maatskaplike betrokkenheid van die N G Kerk beskryf De Kock die tydperk 1915 tot 1952 as die periode van die wetenskaplike benadering van die vraagstuk van verarming en van die planmatige organisasie van die kerklike maatskaplike sorg, veral met die oog op die snelle verstedeliking van die Afrikaner (1986:30).

Die ontwikkeling van ’n kerklike maatskaplikewerkdiens het verder momentum gekry nadat die staat ’n volwaardige departement vir Volkswelsyn in 1938 ingestel het. Nie alleen het hierdie departement beleid en wetgewing begin ontwikkel wat hulpmiddele kon wees in die stryd teen armoede nie, dit het ook begin om fondse beskikbaar te stel vir maatskaplikewerkposte en ander programme. Die vorige eeu was ’n bloeitydperk vir die N G Kerk se maatskaplike dienste en die verslae van die Algemene Kommissie vir Diens van Barmhartigheid (AKDB) aan die Sinode vertel die verhaal hoe die werksaamheid van die Kerk gegroei het. By die jongste Algemene Sinode rapporteer die AKDB dat dié deel van die kerk se werk by die draai van die eeu soos volg daar uitgesien het:

PERSONEEL

DIENSTE AANTAL

KLIËNTE PERMANENT VAKKUNDIG VRYWILLIGERS

Tuistes vir Ouer Persone

113

8 191

2 531

717

2 664

Behuisingskemas

Dienssentrums

32

11 743

77

19

892

Kinderhuise

55 2 588

601 79

524

Rehabilitasiesentrums

2

376

52

12

-

Tuistes vir Ongehude

Moeders

4

2 491

17

6

57

Maatskaplikewerk- dienskantore

141

1 144 798

576

361

2 595

TOTAAL

347

1 170 187

3 854

1 194

6 732

Bron: Agenda vir die 11de sitting van die Algemene Sinode 2002

Die tabel hierbo sluit nie die statistiek van enige gemeenteprojekte in nie, maar bevat slegs die statistiek van sinodaal-georganiseerde maatskaplikediens-programme. Volgens die tabel is die drie grootste komponente van die N G kerk se maatskaplike dienste tans residensiële versorging en dienssentrums vir ouer persone (145 programme), residensiële versorging vir kinders (55 kinder- huise) en vakkundige maatskaplikewerkdienste (141 kantore).

3. DIE NOOD VAN DIE LAND

In die Verklaring word verwys na die “tragiese verhale van die allerverskriklikste vorms van geweld, die geweldige omvang van armoede en gevolglike hongersnood, die gevolge van die vigs- pandemie, die gebrek aan respek vir mense, diere en die omgewing”. Inderdaad ’n allerverskriklike prent. Maar hoe sien ander die prent? EFSA het verlede jaar ’n studie onderneem waaraan verskillende ekonome en ontwikkelingskundiges meegewerk het. In die probleemstelling ter aanvang van die studie word dit gestel dat “two distinct problems characterise South Africa ten years after democracy: poverty and inequality” (EFSA, 2003:3). Hierdie woorde is egter nie nuut nie. May (2000:2) merk op, “Although South Africa has undergone a dramatic economic, social and political transition in the last decade, many of the distortions and dynamics introduced by apartheid continue to reproduce poverty and perpetuate inequality.”

Die definisie van armoede is nie so eenvoudig nie en ’n studiegroep van BUVTON het vyf verskillende benaderings geïdentifiseer (2002:28). Armoede kan as ’n konflik verstaan word, ’n konflik of ’n stryd teen die onmenslike magte van die lewe, ’n stryd om mens te bly te midde van aanslae op fisieke, psigologiese en geestelike gebied. Nog ’n benadering is om te praat van die twee dimensies van armoede, naamlik absolute en relatiewe armoede waar absolute armoede verwys na ’n gebrek aan inkomste of ’n vlak van inkomste wat meebring dat mense ly en ontbering beleef. Relatiewe armoede verwys na die geestelike en sielkundige aspekte van armoede. ’n Derde benadering is dié van relatiewe verlies wat armoede beskryf as die mate waartoe mense nie basiese standaarde soos wat algemeen as “gewoon” aanvaar word en wat dieet, lewenstandaard, geriewe en ontspanning betref, kan handhaaf nie. ’n Vierde benadering is die deelnemende benadering wat armoede op ’n meer geïntegreerde manier verstaan veral ook mense se eie belewenis van armoede.

Die een benadering wat egter vry algemeen gebruik word, is inkomste of die bestaans- minimum-benadering. Maar onmiddellik ontstaan die vraag: wat is ’n aanvaarbare bedrag? Die EFSA-studie stel voor dat die MLL (“minimum living level”) as instrument gebruik word. Hierdie bedrag was in Maart 2003 vasgestel as R1 871 vir ’n huishouding van 4,7 persone. Met hierdie instrument gemeet leef 46% Suid-Afrikaners of anders gesê, 20,5 miljoen mense in 2000, in armoede. Sonder verdere bespreking behoort aanvaar te word dat armoede inderdaad een van die knellendste probleme in die land is. Dit maak dus baie sin dat die Algemene Sinode van die N G Kerk in nog ’n besluit onderneem om armoede as ’n prioriteitsaangeleentheid te beskou en mede- verantwoordelikheid saam met ander rolspelers te neem vir die soeke na oplossings vir die vraagstuk (Handelinge: 2002:497).

Alhoewel die bestaansminimum-benadering wyd gebruik word as definisie vir armoede, is dit ’n statistiese benadering wat nie die ervaring van die mense in armoede kan verwoord nie. Dit wil voorkom asof daar nog nie ’n finale definisie van armoede is nie, wat juis die kompleksiteit van die saak onderstreep.

Die ander groot probleem is die ongelykheid in die land. May (2000:6) stel voor dat ongelyk- heid in terme van gelykheid gedefinieer moet word wat sou beteken dat al die mense in die land gelyke toegang tot hulpbronne en geleenthede het. Die Gini-koëffisiënt is een van die instrumente wat gebruik word om ongelykheid te meet en volgens die EFSA verslag (2003:3) is Suid-Afrika met 0,6 van die hoogste in die wêreld. Dit beteken dat die gaping tussen die rykes en die armes in die land buitengewoon groot is. Hierdie feit maak die ontwikkeling van ’n program of ’n plan om betrokke te raak by die sosio-ekonomiese nood in die land net baie meer ingewikkeld omdat armoedebestryding nie aangepak kan word sonder dat die ongelykheid, en daarom ook geregtigheid, ter sprake kom nie.

4. GEROEP TOT BETROKKENHEID – MAAR HOE?

Die bekamping of bestryding van armoede is ’n komplekse saak en net soos die definisies van armoede nie eenvoudig is nie, is die antwoord ook nie eenvoudig nie. Dit is ook ’n hoogs emosionele saak, want dit gaan oor mense en hulle bestaanskrisisse. Daar is mense wat meen dat ’n nuwe ekonomiese beleid vir Suid-Afrika nodig is, ander meen dat versnelde ekonomiese groei die antwoord is, terwyl nog ander meen dat die ontwikkeling van die mensekapitaal van die land nou die prioriteit behoort te wees. Daar is ook nog ander voorstelle soos een miljoen werksgeleenthede binne die volgende vyf jaar, of om weer groot openbarewerkeprogramme te begin. Hierdie debatte val buite die skopus van die artikel en daarom word dit nou hier gelaat. Die vraag wat die artikel aan die orde wil stel is: Hoe wil die N G Kerk die roeping ten opsigte van die heling en sosio-ekonomiese nood in die land uitleef soos dit in die sinode besluit is? Sommige sou kon redeneer dat die kerk ’n unieke instelling met ’n besondere roeping en taak is wat in die eerste plek gerig is op God en die koms van sy koninkryk. Armoede is eerder ’n saak vir die ekonomie. Ander sou wou wys op die oorweldigende omvang van armoede en dan angstig vra: Kan die kerk regtig iets noemenswaardig doen? Die “Hoe”-vraag kan inderdaad problematies word. Muller en Van Deventer (2001:86) waarsku dan tereg dat die kerk in die slaggat kan trap om so besig te raak om die verskynsel te bestudeer, in plaas van mee te leef met die mense wat in armoede leef. In ’n preek na aanleiding van die broodvermeerdering van Matteus 14 met die opskrif, Die broodevangelie van die kruis, waarsku Piet Naude (1994:66) dat ’n kerk wat nie betrokke is by die uitdeel van brood nie, die openbaring van Jesus Christus blokkeer in die wêreld. Hy toon dan vyf redes aan wat daarop dui dat juis dit in die N G Kerk aan die gang is.

Die Algemene Sinode van die N G Kerk het opnuut die roeping ten opsigte van die sosio- ekonomiese nood van mense in die land gehoor en ’n verbintenis daartoe aangegaan soos verwoord is in die Verklaring. Wat nou nodig is, is dat die besinning oor die roeping van die kerk uitgebrei sal word oor ’n wye front in die kerk. Nie net in sinodale vergaderings nie, maar ook in die prediking in gemeentes en in kleingroepbesprekings tot in elke huis in elke gemeente. Dit is belangrik dat hierdie saak nie sal wegraak in die argiewe nie, maar dat elke lidmaat hiermee gekonfronteer sal word. En dat elke lidmaat sal hoor as Naude waarsku (1994:66) dat “nie een van ons maar kan sê ons kies om dalk brood uit te deel nie, want in ons keuse staan die openbaring van God in Christus self op die spel”.

Die voorveronderstelling waarop hierdie artikel rus is dat die kerk se betrokkenheid by armoede en ongelykheid om meer behoort te gaan as net die uitdeel van brood, d w s noodleniging, maar dit ook moet help om mense in staat te stel om self hulle brood te kan bak. Daarvoor is nie net ’n plan van aksie nodig nie, maar ’n totale nuwe denke en ingesteldheid. In die taal van die sinodebesluit, ’n roeping. Verder sal die Kerk ook moet help dat ’n gunstige omgewing vir die bak van die brood geskep word. Die suggestie in die artikel is dat die implementering van die verklaring op minstens die volgende ses pilare behoort te rus:

4.1 ’n Teologie vir armoedeverligting en -bestryding

Die implementering van ’n program of plan vir die Kerk se betrokkenheid by die sosio- ekonomiese nood in die land behoort gedra te word deur ’n teologiese besinning oor armoede en die bestryding daarvan. Dit is miskien nodig om op die punt kortliks te verduidelik waarom die begrip armoedeverligting en -bestryding verkies word bo ’n begrip soos noodleniging. Die konsep armoedeverligting en -bestryding is wyer as versorging en noodleniging en daarmee word bedoel dat die betrokkenheid van die kerk by arm mense nie net korttermynversorgingsaksies kan wees nie, maar ook moet fokus op die bestryding en verwydering van die oorsaaklike faktore wat tot die nood aanleiding gegee het. Dit is immers hoe die Formulier vir die Bevestiging van die Diakens die diakonaat verstaan: As diaken moet u vir die lidmate ’n voorbeeld van onselfsugtige diens wees. U moet die materiële en geestelike nood van mense fyn aanvoel en daadwerklik help. Verlig ook die omstandighede wat tot die nood aanleiding gegee het …

In die Bybel is daar talle tekste wat oor die armes, armoede, regverdigheid, gelykheid, gereg- tigheid, versoening, vrede en barmhartigheid handel. Verder leer die Bybel dat die Koninkryk van God inklusief van aard is, dat geen onderskeid tussen ryk en arm gemaak word nie en dat die Koning van die koninkryk op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die verontregte is (vergelyk die Belhar Belydenis). Die vraag wat egter telkens na vore kom is hoe om die tekste te verstaan en te vertolk in die konteks van Suid-Afrika aan die begin van die een en twintigste eeu, wat soos hierbo aangedui is, oorheers word deur armoede en ongelykheid.

Die teologiese fundering vir die N G Kerk se barmhartigheidsbediening is in die verlede omvattend beskryf deur onder andere Nieuwoudt (1986) en De Klerk (1976,1990). In ’n kritiese beoordeling van hierdie fundering wys Swart (1997:69-70) daarop dat die N G Kerk die vertikale verhouding tussen God en mens begin oorbeklemtoon het. Die barmhartigheidsbediening raak dan

’n metode van Woordverkondiging en is gerig op die uiteindelike doel, naamlik die versoening van die sondige mens met God. Hierdie manier van teologisering het die Kerk by die punt gebring dat die sogenaamde “politieke diakonaat” (soos die N G Kerk dit sien) wat politieke stelsels en strukture uitwys as oorsaak van mense se nood, sterk afgewys is. ’n Ander punt wat Swart na vore bring is die beklemtoning van die uniekheid van die kerk se barmhartigheidsbediening. Volgens Lindeque (1985:21) is die eie identiteit geleë in die feit dat die kerklike welsynsorganisasie funksioneer in die kerklike sisteem, tweedens dat dit funksioneer vanuit Christelike uitgangspunte en derdens in die Christelike belydenis van die maatskaplike werker (en ander personeel). Hiermee het die kerk haarself in ’n eie (geestelike) domein geplaas teenoor die wêreld. Vanuit die posisie raak dit vir die kerk moeilik om direk betrokke te raak in die verandering van die sosio- ekonomiese strukture van die wêreld. Hierdie kritiek beklemtoon dat, alhoewel ’n teologie vir barmhartigheidsbediening omvattend in die N G Kerk beskryf is, dit nie voldoende leiding gee in die spesifieke konteks van armoedebestryding nie. Daar is nog talle vrae wat nie duidelik genoeg deur die N G Kerk geantwoord is nie, byvoorbeeld die uitskakeling van ongelykheid en onreg, die restitusie-vraagstuk, die verstaan van die jubeljaar in die hedendaagse konteks, die herverdeling van rykdom, die Kerk se openbare getuienis wanneer dit kom by wetgewing en beleidvorming, die Kerk se betrokkenheid by ontwikkeling, ensovoorts.

Alvorens lidmate nie duidelik verstaan wat die Bybelse siening oor omgee en sorg vir die armes en die bestryding van armoede in die praktyk behels nie, sal dit vir die lidmate en die gemeentes baie moeilik wees om onbevange te begin saampraat en saamdink oor die bestryding van armoede, ontwikkeling en die benutting van die bates van die kerk verwysende nie net na die mensekapitaal wat in gemeentes is nie, maar ook die fisieke bates van die Kerk. ’n Teologie vir armoedebestryding sal lidmate baie hiermee help en daarom behoort dit die eerste pilaar van die implementeringsplan te wees.

4.2 Hoor die mens in armoede

Net soos ’n teologie vir armoedebestryding en ’n duidelike hoor van die roeping noodsaaklik is om lidmate en gemeentes te help om ’n visie vir armoedebestryding te ontwikkel, is dit belangrik om armoede nie net as ’n makro-ekonomiese verskynsel te verstaan nie, maar om te verstaan wat armoede aan mense en gemeenskappe doen. Armoede is ’n mens, ’n mens met ’n naam en ’n liggaam – hoe krom en vertrek ook al, ’n mens met ’n gebroke wese en ’n verlies aan waardigheid, ’n mens sonder mense en dinge, ’n mens met net ’n maer hoendertjie en oorskietkos. So skryf Muller en Van Deventer (2001:87) as hulle die kerk waarsku om nie veralgemene uitsprake te maak nie, maar eerder die narratiewe benadering te volg wat op klein skaal probeer verstaan hoe mense hulle konkrete lewens ervaar, en te luister na die verhale van die betrokke persone. Wilson en Ramphele (1989:15) het in hulle studie van armoede dikwels gevallestudies gebruik om aspekte van armoede aan te dui wat nie deur statistiek raakgesien word nie en aangrypende verhale is opgeteken hoe arm mense hulle armoede beleef.

Wanneer gemeentes hulle roeping begin besef gebeur dit gewoonlik dat daar ’n dringende behoefte vir aksie is. Dit is egter ’n wesenlike gevaar dat ’n gemeente, gedring deur die erns van haar roeping, te gou ’n plan kan wil maak en nie genoeg luister na die mens in armoede nie. Die geskiedenis van ontwikkeling in Afrika en elders waarsku hard hierteen. Daar is te dikwels in gemeenskappe in beweeg sonder dat gemeenskappe gehoor is en gereed was daarvoor. Wanneer die plan dan nie die gewenste resultaat lewer nie is daar dikwels teleurstelling of beskuldigings van ondankbaarheid en onwilligheid om te verander word gemaak.

Die studiegroep van BUVTON is reg as hulle sê dat die eerste treë op die pad die proses is, en die groep verduidelik dan: dit word ’n proses genoem, want dit gaan nie oor iets vir mense doen nie, ons moet eers saam met verskillende mense dink, bid en beplan, en dan eers doen (2002:25). Veral in ’n samelewing soos die Suid-Afrikaanse samelewing waar mense van verskillende groepe (rasse) vir dekades deur die apartheidstelsel uitmekaar gehou is en van mekaar en mekaar se leefwêrelde vervreem is, is dit krities dat mense mekaar sal leer ken as mense en verhoudings sal ontwikkel. Swanepoel noem die kontakmaakfase, the most important in community development, although, strictly speaking, at this stage community development has not started yet (1993:31).

Wanneer die N G Kerk begin planne maak om haar verbintenis te konkretiseer sal die waarsku- wing van Muller en van Deventer (2001:88) altyd onthou moet word: Sou dit egter bloot gaan oor ryk mense wat op eie stoom oor armoede praat en planne maak, sonder die aktiewe deelname van die armes self, sal die kerk die gevaar loop om weer die punt en geleentheid te mis en, soos in die geval van apartheid, laat en uitasem en met ongeloofwaardige optrede op die toneel verskyn. Daarom behoort die tweede pilaar van die implementeringsplan te wees dat geleenthede geskep word waar arm mense gehoor sal word, waar mense van alle sosiale strata en groepe mekaar sal kan leer ken en liefkry.

4.3 Diakonale gemeentes wat rentmeesters is

Volgens die Jaarboek van die N G Kerk (2004) het die Kerk tans 1 173 000 lidmate wat in 1 172 gemeentes saamgevoeg is. Inderdaad ’n groot bate. Wat die bate so besonders maak is die ver- spreidheid daarvan oor die lengte en breedte van die land. Wat moet gebeur om hierdie bate te aktiveer vir armoedebestryding? Die eerste antwoord, so is hierbo geargumenteer, het te make met die verstaan van wat die Bybel leer oor die optrede teenoor armes en die bewustheid van die roeping van die gemeente. Die tweede antwoord is waarskynlik dat gemeentes die diakonale aard van kerkwees sal begryp. Pieterse (2001:100) gebruik die begrip diakonale kerk en verduidelik dat dit ’n kerk is waarvan die wesenlike karakter diakonaal is. Diakonale gemeentes wil die dienskneg-voorbeeld van Jesus Christus navolg in alles. Dit is gemeentes wat verstaan dat hulle nie ter wille van hulleself bestaan nie, maar ter wille van die koninkryk van God en daarom verstaan diakonale gemeentes dat hulle ’n roeping in die wêreld het om met dade en woorde uit te reik na die armes . Hierdie uitreikaksie is nie die taak van ’n klein klompie geroepenes nie, maar die saak van die armes word die saak van die gemeentes.

Gemeentes bestaan uit lidmate. Lidmate wat dalk daagliks in die openbare sektor of die ekono- mie beweeg. Mense wat deel is van besluitnemingsprosesse of prosesse kan beïnvloed. Mense met kundighede en ervaringe oor ’n wye spektrum. Lidmate wat gehoorsaam aan hulle roeping wil wees en na vore kom om betrokke te word. Dit is ’n kosbare bate. Die N G Kerk beskik ook oor geboue wat dikwels baie strategies geplaas is in gemeenskappe. Wanneer die Kerk weer ’n keer haar seëninge tel, een vir een, sal sy ontdek dat die Here haar uitermate geseën het. Diakonale gemeentes sal moet vra hoe al hierdie “bates” aangewend kan word in die stryd teen armoede. Sonder gemeentes wat verstaan dat hulle dienende gemeentes behoort te wees wat as rentmeesters oor ’n hele klomp bates moet beskik, sal die Kerk nie regtig ’n impak op armoede kan maak nie. Daarom sal die ontwikkeling van diakonale gemeentes, eerder as gemeentes met ’n klomp diakonale projekte, die derde pilaar in die implementeringsplan van die N G Kerk se verbintenis moet wees.

4.4 Verenigde leierskapstrukture

Dit is ’n leemte dat die Algemene Sinode (2002) nie so ver gegaan het as om die leier- skapstrukture, wat verantwoordelik moet wees vir die implementering van die verbintenis, aan te wys nie. Die Sinode het waarskynlik aanvaar dat die kerklike struktuur in die kerkverband in geheel hierdie verantwoordelikheid aanvaar. Doelgerigte leierskap sal egter nodig wees vir die implementering van die verklaring. Trouens, in die literatuur wat oor die proses van gemeenskapsontwikkeling handel, word die rol van die aksiekomitee telkens sterk beklemtoon. Swanepoel (1993:11) verwys na die aksiekomitee as een van die “main actors” en Lombard gaan so ver as om te sê, as daar nie struktuur of komitees in ’n gemeenskap is nie, kan dit ook tot frustrasie aanleiding gee omdat geen aksie sal realiseer nie” (1991:271).

’n Kritiese aspek van die komitee is dat dit vir die gemeenskap aanvaarbaar moet wees. Dit gebeur net te maklik dat ’n goeie plan nie werk nie, omdat die bestuurstruktuur of komitee nie vir die gemeenskap aanvaarbaar is nie of onder verdenking staan. In die kerklike konteks is een van die kerkstrukture, gewoonlik ’n kommissie, die aksiekomitee. Maar die Kerk sal moet weet dat hierdie strukture ’n struikelblok kan wees, omdat dit nie noodwendig in die gemeenskap waar die plan uitgevoer moet word, aanvaar word nie en daarom behoort die strukture aangevul te word met gemeenskapsleiers. In die N G Kerk se vakkundige maatskaplikediens is die samestelling van beheerrade vir programme tans ’n lewendige debat en die kernvraag in die debat is hoe om die diversiteit van die Suid-Afrikaanse gemeenskap in die samestelling van die beheerrade te weer- spieël sonder om die kerklike aard en etos te verloor.

’n Gesamentlike diakonaat aan armes deur ’n herenigde en verenigde N G Kerk sal net meer geloofwaardig wees as wanneer die meer gegoede deel van die N G-familie vir die oorwegend arm deel van die familie “iets doen”. Op algemeen-sinodale vlak is dit ’n lank gekoesterde droom, maar in die praktyk blyk dit ’n pad vol struikelblokke en met baie dorings te wees wat veroorsaak dat die reis byna nie vorder nie Die verslag van die Algemene Kommissie vir Diens van Barmhartigheid aan die algemene sinode wat in 1994 vergader het, vertel die verhaal van die ontstaan van die droom. Na twee berade in 1992 het die vier kerke in die familie, die N G Kerk, die N G Sendingkerk, die N G Kerk in Afrika en die Reformed Church in Africa op die volgende beginsels vir die diakonaat van die kerke ooreengekom:

Daar behoort slegs een diakonaat te wees.

Hierdie diakonaat is begrond in die navolging van Christus

Die diakonaat sal uitdrukking moet gee aan ons gesamentlike roeping ten opsigte van die gebroke gemeenskap van Suid-Afrika.

Die diakonaat sal die gebroke gemeenskap aktiveer tot deelname en aktiewe transforma- sie (Agenda 1994:259).

Om uitvoering te kan gee aan die beginsels, is op ’n proses besluit wat uitgeloop het op die goed- keuring van ’n Reglement vir die Algemene Kommissie vir die Diens van Barmhartigheid en Geregtigheid. Hierdie kommissie sou die struktuur wees waardeur die een diakonaat van die kerke in die familie moes ontwikkel. Ongelukkig het hierdie kommissie nog nooit gefunksioneer nie en van die droom van een diakonaat van die kerke, wat die gebroke gemeenskap sou aktiveer tot deel- name en aktiewe transformasie, het toe niks gekom nie.

Die vierde pilaar het dus alles te make met die herenigingsproses in die N G Kerkfamilie. Ter wille van die geloofwaardigheid van die Kerke se betrokkenheid by gemeenskappe wat vasgevang is in armoede sal die proses om verenigde leierskapstrukture te vorm wat die betrokkenheid kan bestuur die hoogste prioriteit moet kry.

4.5 Die kerk se barmhartigheidsbediening as ontwikkelingsagent

Hierbo is verwys na die omvang van die sinodaal-georganiseerde maatskaplikedienste van die N G Kerk. Die meeste van hierdie dienste was egter tot aan die begin van die negentigerjare jare van die twintigste eeu gerig op die blanke bevolking. Verskeie redes kan hiervoor aangedui word. Een rede is dat die Kerk, wie se lidmate grootliks uit die blanke bevolkingsgroep kom, in die verlede ’n gemeentesentriese benadering gevolg het in haar barmhartigheidsbediening wat die versorging van die huisgenote in die eerste plek beklemtoon het. Verder het die Kerk ’n verdeling tussen haar barmhartigheidsbediening en sendingbediening gevolg wat nie altyd op teologiese gronde nie, maar eerder op rassegronde gebaseer was. Dit het meegebring dat maatskaplike dienste aan swart mense as sendingwerk gesien is en nie as deel van die barmhartigheidsbediening nie. Nog ’n rede vir die fokus op die blanke deel van die bevolking is onderskrywing van apartheid en die naby verhouding wat die N G Kerk met die vorige regering gehad het. Hierdie verhouding het dit vir die Kerk maklik gemaak om toegang tot staatslenings en subsidies te kry. Kritzinger (1994:53) is reg as hy die selfgesentreerde (“vir ons eie mense”) en ideologiese motiewe van die N G Kerk se barmhartigheidsbediening in die vorige eeu uitwys.

Die vraag is nou of gemeentes se barmhartigheidsbediening en die goed ontwikkelde sinodaal- georganiseerde maatskaplikedienste van die N G Kerk benut kan word as “katalisators vir ontwikkeling”. Venter (2001:228) wys daarop dat die moontlike rol wat godsdiens kan speel om sosio-ekonomiese ontwikkeling te bevorder die afgelope tyd in ekumeniese en sekulêre ontwikkelingskringe gedebatteer word en verskeie studies hieroor is reeds in Suid-Afrika gedoen. Volgens August (2000:51) kan die kerk ’n doeltreffende voertuig en waardevolle katalisator vir gemeenskapsontwikkeling in die Suid-Afrikaanse konteks wees.

’n Belangrike subtema wat Venter (2001:228) aan die orde stel is die feit dat die barmhar- tigheidsbediening van kerke meestal op korttermyn noodlening en maatskaplike welsyns- programme fokus. Wat die barmhartigheidsbediening van die N G Kerk aanbetref is Kritzinger (1994) van mening dat daar wel in die N G Kerk ’n skuif aan die gang gekom het om meer te fokus op ontwikkeling. Swart (1997) het hierop gereageer en aangetoon dat dit nie regtig die geval is nie, maar dat die N G Kerk se barmhartigheidsbediening nog grootliks in ’n welsynsparadigma funksioneer.

Om die besluite van die algemene sinode (2002) met betrekking tot die sosio-ekonomiese nood en die Kerk se betrokkenheid by armoede te kan implementeer sal die Kerk doelgerig daaraan moet werk om gemeentelike barmhartigheidsprojekte asook die vakkundige sinodaal- georganiseerde dienste na ’n ontwikkelingsgerigte benadering te lei. Dit hoef nie ’n keuse tussen benaderings te beteken nie. Die werk van Korten (1990) om vier generasies van ontwikkelingstrategieë te identifiseer is hierin besonder tot hulp. Die eerste generasiestrategieë het te make met direkte hulpverlening en Korten merk op dat kerke hierin goed vaar met sy alimentasie. Die tweede generasie strategieë is gerig op die ontwikkeling van mense sodat hulle behoeftes deur plaaslike inisiatiewe vervul kan word. Veral die vakkundige sinodaal- georganiseerde maatskaplikediensprogramme van die N G Kerk, maar ook sekere gemeentelike projekte val in hierdie kategorie. Die derde generasie strategieë behels pogings om plaaslike, nasionale en globale beleid te beïnvloed en te verander. Die werk van die N G Kerk ten opsigte van die Armblankevraagstuk in die dertigerjare van die vorige eeu val in die kategorie, maar dit wil voorkom asof die Kerk hierdie vaardigheid verloor het. Die vierde generasie strategieë gaan oor die mobilisering van mense en organisasies in bewegings rondom ontwikkeling. Ook op hierdie punt is die N G Kerk nie baie aktief nie.

Dit sal vir die N G Kerk nodig wees om in die implementering van die 2002 verklaring daadwerklik aandag te gee aan ’n omvattende ontwikkelingbenadering wat sowel gemeentes as sinodale strukture kan help om katalisators vir ontwikkeling te wees.

4.6 Saam met ander

Die sesde pilaar van die implementeringsplan behoort die aangaan van ekumeniese en strategiese vennootskappe te behels. Die N G Kerk verbind haarself in die derde verbintenis om haar ekume- niese bande te bevestig en uit te bou en saam met alle Christene hande te vat om ons land op te bou en pynlike omstandighede te verlig. Vennootskappe het ’n baie belangrike onderdeel in die groter geheel van ontwikkeling geword. Die studiegroep van BUVTON sien dit as die grondslag waarop enige potensiële projek aangepak moet word (2002:38).

Die voor die hand liggende rede hiervoor is dat ander kerke en gemeenskapsorganisasies ook betrokke is by armoedebestryding en pragtige programme in die gemeenskap aan die gang het. Dit sou gewoon onsensitief wees as die N G Kerk op haar eie nuwe projekte in gemeenskappe wil begin sonder om die werk van ander kerke in ag te neem. Dit sal ook onverantwoordelike rentmeesterskap wees om skaars hulpbronne te gebruik om programme te dupliseer. ’n Ekumeniese vennootskap skep verder die ruimte waar gemeenskappe wat vroeër deur apartheid en kerktwiste van mekaar vervreem is, mekaar kan leer ken, kan saamstry teen armoede en so word dit ook ’n geleentheid vir versoening en heling.

Naas ekumeniese vennootskappe is vennootskappe tussen die kerke, die owerhede en die sakesektor ook baie belangrik. Daar is meer as een rede waarom sulke vennootskappe nodig is en Koegelenberg (2000:101) wys daarop dat naas pragmatiese redes soos dat kerke die same- lewingstruktuur is wat die naaste aan mense is of dat kerke ’n goed ontwikkelde infrastruktuur het, daar ook fundamentele redes is. Die belangrikste hiervan is dat die kerk ’n waardevormer is. Wanneer owerhede en die sakesektor by maatskaplike problematiek betrokke wil wees sal dié instansies altyd moet onthou dat die kerk in die gemeenskap ’n belangrike rolspeler is en net so sal die kerk moet besef dat sy nie alles op sigself kan doen nie.

5. ’N GEVALLESTUDIE: DIE VERHAAL VAN BADISA

Die N G Kerk in Suid-Afrika (Wes- en Suid-Kaapland) en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (Kaapland Sinode) wat in 1994 ontstaan het met die vereniging van die N G Sendingkerk en die N G Kerk in Afrika, het na aanleiding van die proses op algemeen-sinodale vlak ook op streekvlak met ’n proses begin om een diakonaat te vorm en ’n soortgelyke reglement is in 1994 deur die Verenigende Gereformeerde Kerk (Kaapland Sinode) en in 1995 deur die N G Kerk in Suid-Afrika (Wes en Suid-Kaapland) goedgekeur. Die Kommissie vir Samewerking op die Terrein van Barmhartigheidsbediening soos die gesamentlike struktuur geheet het, moes die voertuig vir die een, gesamentlike diakonaat word. Alhoewel die nuwe kommissie wel enkele kere vergader het, het dit ook spoedig doodgeloop.

In 1999 het die Sinodale Kommissie vir Diakonale Dienste (SKDD) van die VGKSA (Kaapland) op Worcester vergader en ’n indringende gesprek gevoer oor die voortbestaan van sy vakkundige maatskaplikewerkprogram. Die kommissie het besluit om ’n aantal opsies verder te ondersoek waarvan een was om weer die gesprek met die Sinodale Kommissie vir die Diens van Barmhartigheid van die N G Kerk (SKDB, Wes- en Suid-Kaapland) te hervat met die oog daarop om die deel van die SKDD se werksaamhede aan die SKDB oor te dra. Vroeg in 2000 het die Uit- voerende Komitees van die twee sinodale kommissies vergader en besluit dat die tyd gereed is om weer te werk aan ’n gesamentlike diakonale program, eerder as dat ’n deel van die SKDD se werk- saamhede aan die SKDB oorgedra word. In die Verklaring van Voorneme wat by die geleentheid opgestel is, onderneem die SKDB (N G Kerk) en die SKDD (VGKSA) om te streef na ’n gesamentlike kerklike barmhartigheidsdiens op die terreine van professionele maatskaplikewerk- dienste, inrigtingsorg en gemeenskapsontwikkeling. Op 28 Januarie 2003 is BADISA bekendgestel. Die naam is afgelei van die drie kernbegrippe: Barmhartigheid, Dien en Saam, maar dit is ook ’n Tswana woord wat herder of versorger beteken. Die vakkundige maatskaplikedienste van die twee kerke is toe in die nuwe organisasie saamgevoeg.

BADISA is geregistreer as ’n organisasie sonder winsoogmerk met die volgende doel:

• Die organisasie wil graag gemeentes bystaan in hulle barmhartigheidsbediening, deur noodlenigingsnetwerk, maatskaplikediensprogramme en gemeenskapsontwikkelings- programme in gemeenskappe, in samewerking met die gemeentes van die N G Kerk (Wes- en Suid-Kaapland) en die VGKSA (Kaapland) te ontwikkel. Die programme kan gemeenskapsontwikkelings-, maatskaplikewerk- en/of residensiëlesorgprogramme wees.

• Die organisasie voorsien ’n organisatoriese raamwerk wat voldoen aan al die huidige statutêre vereistes, asook vakkundige-, administratiewe- en bestuursondersteuning.

• Sodoende wil die organisasie ’n voertuig wees waarmee die opdrag van Christus, dat sy kerk vanuit sy liefde en barmhartigheid mense en gemeenskappe in nood sal bedien, kan uitvoer.

Mettertyd is besef dat die kommissies verder sal moet gaan om ook die oorhoofse strukture, naam- lik die sinodale kommissies te verenig. Die proses om die barmhartigheidstrukture van die twee kerke te verenig, is voltrek toe die Gekombineerde Kommissie vir Diakonaat van die N G Kerk (Wes- en Suid-Kaap) en die VGKSA (Kaapland) aan die begin van Februarie 2004 gekonstitueer het. Naas die feit dat die verenigde sinodale strukture op die terrein van barmhartigheid nou uit een mond aan gemeentes en die Kerk leiding en advies kan gee oor maatskaplike kwessies, is dit ook so dat armoedeverligting en -bestryding op ’n nuwe manier op die N G Kerk se agenda gekom het en ’n ons-saak geword het. In BADISA is selfs ’n departement geskep om hieraan aandag te gee. Nog ’n winspunt is dat die gesamentlike bediening onder die leiding van die Gekombineerde Kommissie vir Diakonaat makliker in die ekumeniese wêreld kan uitreik om vennootskappe aan te gaan.

6. SLOT

Die verbintenis van die Algemene Sinode van die N G Kerk (2002) om sy roeping ten opsigte van die heling en sosio-ekonomiese nood in Suid-Afrika ernstig op te neem, is inderdaad prysens- waardig. Dit is egter ’n leemte dat die Kerk nie verder gegaan het deur ’n plan van aksie of ’n program goed te keur nie, maar gegewe die aard en konteks van die algemene sinode as ’n beleid- makende instelling, is dit verstaanbaar. Die verklaring wat aan die einde van die sinode uitgereik is, het wyd ’n verwagting geskep en dit is nou die uitdaging vir die N G Kerk om die besluite van die algemene sinode “hande en voete” te gee. ’n Omvattende program of implementeringsplan is nodig en in die artikel is gesuggereer dat so ’n program op minstens ses beginsels of pilare behoort te rus: ’n teologie vir armoedeverligting en -bestryding moet ontwikkel word, die arm mense self moet gehoor word, die gemeentes moet diakonale gemeentes word en hulle rentmeesterskap begin uitleef deur die bates tot hulle beskikking aan te wend om die effek van armoede te verlig en die oorsake vir armoede te bestry, verenigde strukture is nodig, die barmhartigheidsbediening van die Kerk moet sterker fokus op ontwikkeling en vennootskappe is noodsaaklik.

Met die verklaring het die Algemene Sinode van die N G Kerk in 2002 gesê:

Ek hoor U roep; ek ken u stem;

ek luister na u woord. (Nou sal die Kerk hard en uit die hart moet sing).

Laat, Here, ons gehoorsaam wees; U dien soos wat dit hoort.

Waar kan ’n groter vreugde wees, O Vader, Seun en Gees?

Deur omgee en met uitreik, Heer,

Gaan ons met blydskap (in Suider-Afrika) voort .”

(Liedboek 524:3)

BIBLIOGRAFIE

August, K T 2000. Facilitating people-centered participatory development as a faith-based organization – the ecclesiastical community for and on behalf of the civil society. NGTT xxxx1 (1+2).

Botha, J en Naude, P 1998. Op pad met Belhar. Pretoria: JC van Schaik Godsdiensboeke.

Botha, L N N 1957. Die Maatskaplike Sorg in die N G Kerk in Suid-Afrika (1928-1953). Paarl: Paarlse Drukpers.

BUVTON-navorsingsgroep vir gemeente en gemeenskap: 2002. Raak betrokke by Armoede. Wellington: Lux Verbi.BM.

De Klerk, J J (red) 1990. Die Diens van Barmhartigheid en die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers.

De Kock, M G W 1986. Die Maatskaplike Betrokkenheid van die Ned Geref Kerk. In Studia Historiae Ecclesiasticae XII. Pretoria: Kerkhistoriese Werkgemeenskap in Suid-Afrika.

EFSA. 2003. Poverty and Inequality in South Africa 2004-2004. Current trends, issues and future policy options. Ongepubliseerde studiestuk.

Greyling, P F 1939. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk en Armsorg. Kaapstad: Nasionale Pers.

Jaarboek van die N G Kerk. 2004. Wellington: Tydskriftemaatskappy van die N G Kerk.

Koegelenberg, R A 2001. Social Development Partnerships Between Religious Communities and the State: Perspectives from the National Religious Association for Social Development (NRASD). Journal of Theology for Southern Africa 110:97-109.

Korten, D C 1990. Getting to the 21 st Century. Voluntary Action on the Global Agenda. West Hartford: Kumarian Press.

Lindeque, R C 1985. Gaan maak jy ook so. Die Maatskaplike werk van die Ned.Geref. Kerk. Pretoria: N G Kerkboekhandel Transvaal.

Lombard, A 2000. Social Development Training and Practice Integrated: Partnerships for Transformation at Grass Roots Level. Social Development Issues 22 (1):50-57.

Lombard, A, Weyers, M L, Schoeman, J H 1991. Gemeenskapswerk en Gemeenskapsontwikkeling. Pretoria: Haum Tersiêr.

Kritzinger, J J 1994. The Dutch Reformed Church (N G Kerk) and Development: Three Models. Journal of Theology for Southern Africa, 87:49-61.

May, J (ed). 2000. Poverty and Inequality in South Africa: Meeting the Challenge. Kaapstad: David Phillips Publishers.

Müller, J en Van Deventer, W 2001. Armoede, Armes en Arm Mense. ’n Praktiese Teologiese Narratiewe Perspektief. Acta Theologica Jg 21.2.

Naude, P 1994. Brug na Môre. ’n Kruisevangelie vir gewone mense. Kaapstad: Lux Verbi.

Niewoudt, M M 1990. Praktiese Implementering in die Vaderlandse Kerkgeskiedenis. In: J J de Klerk. Die Diens van Barmhartigheid en die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers

Pieterse, H J C 2001. Prediking in ’n konteks van Armoede. Pretoria: UNISA Uitgewers. Pieterse, H J C 2001. ’n Diakonale Kerk. Acta Theologica 21:2.

Swanepoel, H 1993. Community Development. Kenwyn: Juta & Kie.

Swart, I 1997. The Dutch Reformed Church and Development: A Response to J J Kritzinger. Journal of Theology for Southern Africa 98:64-80.

Swart, I en Venter, D 2001. NGOs and Churches : Civil Society Actors and the Promise of Fourth Generation Development in South Africa. In Coetzee, J, Graaff, J., Hendricks, F. and Wood, G. (eds). Development: Theory, Policy and Practice. Cape Town: Oxford University Press.

Van Aarde, R B 1999. Die Barmhartigheidsbediening van die Ned Geref Kerk van Natal. Ongepubliseerde DD proefskrif. Universiteit van Pretoria.

Van Der Schyff, E S P 1977. Die rol van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die inisiëring van maatskaplike en ander dienste in die Kaapse Skiereiland 1844-1937. Ongepubliseerde D Phil proefskrif. Universiteit van Pretoria.

Venter, D 2001. Moving Beyond Welfare? Development Programmes in Selected Methodist Congregations in Cape Town. Society in Transition 32 (2):228-245.

Wilson, F en Ramphele, M 1989. Uprooting Poverty – The South Africa Challenge. New York: WW Norton & Company.

Zeeman, M T S 1957. Die Armesorgwerk van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, met spesiale verwysing na die werk van die Vrystaatse kerke. Bloemfontein: SACUM.

Ander:

Liedboek van die Kerk. 2001. Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers

Agenda vir die negende vergadering van die Algemene Sinode 1994. N G Kerk.

Agenda vir die elfde vergadering van die Algemene Sinode 2002. N G Kerk.

Handelinge Algemene Sinode 2002. N G Kerk.

1 Die skrywer is ingeskryf vir doktorale navorsing aan die Departement Praktiese Teologie, Universiteit van Stellenbosch. Die navorsing word finansieel ondersteun deur die National Research Foundation. Die menings en gevolgtrekkings is dié van die skrywer en die National Research Foundation kan nie daarvoor aanspreeklik gehou word nie.