Verster, P

Universiteit van die Vrystaat

Geweld in die versoening: Vrae aan 2 Korintiërs 5:11-21

ABSTRACT

Violence in reconciliation: Questions put to 2 Corinthians 5:11-21

Presently, it is once again important to look at 2 Corinthians 5:11-21. Challenges posed by Waever (2001) and Vos (2005) on the violence of reconciliation and atonement should be answered. In this article, the methods of Grice (1989) and Tolmie (2005) as well as a Semiotic analysis are utilised to come to a conclusion about non-violent atonement. From these analyses, certain conclusions are drawn. It is clear that violence by God is not an intrinsic part of reconciliation. Substitution and participation are essentially part of reconciliation, but, in conclusion, people’s sin disrupted the relationship with God. It is God, in his grace, who rectified this through his Son, Jesus Christ.

1. INLEIDING

Voortdurende besinning oor 2 Korintiërs 5:11-21 noop ons op opnuut na die verhouding tussen plaasvervanging, voldoening, offer en heil te kyk. Die voorstanders van nie-gewelddadige versoening het ’n nuwe uitdaging aan die tradisionele versoeningsteologie gestel. Tradisionele eksegetiese metodes soos die histories-kritiese metode kan nou uitgebrei word om ook besondere aandag vir oorredingstrategieë te vra. Nie alleen word gevra na die strategie van oorreding nie, maar ook na die implikasies van oorreding in die teks. Vrae wat hier aan die orde moet kom, is: Hoe wend Paulus sy oorredingstrategieë aan om sy saak aan die gemeente oor dra? Wat is die wesenlike saak wat hy wil oordra? Die hermeneutiese vraag moet egter ook aan die orde gestel word: Watter implikasies hou die plaasvervanging vir die huidige verstaan van die Evangelie in?

2. VRAAGSTELLING EN METODOLOGIE

Die vraagstuk wat hier aan die orde gestel word, is of God gewelddadig optree binne die konteks van die versoening. Daar is wel vakkundiges wat meen dat die wyse waarop die versoening geskied, God aandadig aan ’n geweldsmisdaad maak. Christus se lyding en sterwe, en God se aanvaarding daarvan, so word aangevoer, plaas God self in die beskuldigdebank; mens kan byna sê dat God as ’n geweldenaar beskou word.

Dit is vanselfsprekend dat ’n Christen intuïtief terugdeins vir so ’n aanname. Dit is egter noodsaaklik dat daar objektief na die kwessie gekyk word, in soverre dit moontlik is. Dus wil ’n mens vra: verteenwoordig die veronderstelling/oortuiging dat God geweld goedkeur en daaraan deelneem ’n geregverdigde beoordeling van die verskillende aspekte van die versoening? Hoe kan daar op eksegetiese wyse ’n diepgaande ontleding gemaak word van dit wat in die versoening gebeur? Hoe kan 2 Korintiërs 5:11-21 help om die bostaande aanklag te ontleed indien dit hoegenaamd as aanklag gestel kan word? Kan menslike konsepte soos gewelddadigheid enigsins op God van toepassing gemaak word?

Die metodologie wat gevolg word, is om die versoeningsgebeure aan die hand van die versoening in 2 Korintiërs 5:11-21 te ontleed. Die mees resente metodes word gebruik om tot ’n gevolgtrekking te kom oor die aanklag van gewelddadigheid in die versoening.

3. DIE UITDAGING AAN DIE PLAASVERVANGINGSTEOLOGIE

In sy boek “The Non-violent Atonement” daag Weaver (2001) die plaasvervangingsteologie, soos dit veral deur Anselmus hanteer is, uit. Hy is van mening dat die plaasvervangingsteologie geweld as onderliggende teologiese stramien het en dat dit nie meer gehandhaaf kan word nie. Hyself wil die gedagte van Christus Victor verder ontwikkel. Die klassieke Christus Victor-model bepaal dat die losprys dan aan die duiwel betaal word en nie aan God nie. Hy sluit aan by verskeie teoloë wat juis die gewelddadige element uit die plaasvervanging wil weer.

“Narrative Christus Victor is indeed atonement if one means a story in which the death and resurrection of Jesus definitively reveal the basis of power in the universe, so that the invitation from God to participate in God’s rule - to accept Jesus as God’s anointed one - overcomes the forces of sin and reconciles sinners to God. Through identification with Jesus, sinful humankind shares in Jesus’ death and his resurrection. To identify with Jesus is to have life in the reign of God. “ (Weaver 2001:45).

Volgens hom beteken dit egter juis nie dat God die Een is wat Jesus se voldoening in ons plek aanvaar om ons so in Christus vry te skeld nie.

Weaver (2001:197) verduidelik sy standpunt soos volg:

“Similar answers appear when one poses the question in terms of who or what needed the death of Jesus. For Anselm, it is God’s honor that needed the death. For penal substitution the death was needed by divine law. In the moral theory, sinners can be said to need the death in order to see God’s love made visible. Finally, in classic Christus Victor, the devil might be said to need the death in fulfillment of the contract. For narrative Christus Victor, the death is not needed by any divine manifestation, nor can sinners in bondage to sin be said to need the death of Jesus. In fact, being in the service of the powers of evil and causing the death put them into opposition to the reign of God.”

Wie was vir die dood van Christus verantwoordelik? Volgens Waever dui die klassieke Christus Victor aan dat dit die duiwel is wat sy reg opeis. By Anselmus was dit volgens hom God self omdat Anselmus die duiwel uitlaat (Weaver 2001:197).

Die gewelddadigheid van die versoening lê dus by God en Waever wil juis daarvandaan wegbeweeg. Hy wil God onskuldig hou van die dood van Christus. Dat dit nie moontlik is om God uit te skakel uit die eis om geregtigheid nie, sal blyk uit die verdere besinning wat in die artikel aangebied word.

Ook Vos (2005:68-74 en 93-96) wys op die kritiek teen die gedagte dat die versoening die gevolg van plaasvervanging is. Vos wys daarop dat kritiek hierteen reeds volledig deur veral feministiese teoloë uitgewerk is. Wanneer Vos (2005:102-134) self die vraag na die betekenis van die dood van Jesus en die versoening vra, gaan hy in op die perspektief van waaruit Paulus, Markus, Matteus, Lukas en Johannes die dood van Christus verstaan. Hy is van oortuiging dat geen van die evangeliste dieselfde begrip oor die dood van Christus het as Paulus nie. Hy is oortuig dat die plaasvervangende versoening by die evangeliste ingelees word. As voorbeeld kan verwys word na Jesus wat volgens Johannes as die Lam van God die sonde wegneem. Vos (2005:129) is oortuig dat dit nie dui op ’n plaasvervangende versoeningsdood nie aangesien die paaslam nie so ’n rol vervul het nie, maar dat dit veel eerder dui op Jesus wat deur woord en daad mense tot geloof bring (Vos 2005:129).

Vos wil daarmee afreken met die gewelddadige versoening alhoewel die vraag steeds gevra moet word of dit nie by Paulus voorkom nie. Verder is dit werklik onseker of Vos, in die proses om sy saak te stel, reg laat geskied aan sake soos die nagmaalsinstelling in die Evangelies en die wyse waarop die begrip lutron by Markus voorkom..

Die klassieke plaasvervangingsteks is 2 Korintiërs 5:11-21. Daar kan op wetenskaplike wyse aan die teks sekere vrae gestel word op soek na ’n antwoord op Weaver en Vos se vraagstelling.

4. STRATEGIEË IN 2 KORINTIËRS 5:11-21

Om die vrae aan die teks te stel, is dit eers nodig om enkele ontledings te doen.

4.1 Die implikasies waar die minimum oorskry word

Grice (1989:26 e.v.) het met sy baanbrekerswerk oor oorreding en kommunikasie bepaal dat daar ideale omstandighede sou kon bestaan waaronder kommunikasie kan plaasvind. Onder daardie omstandighede sal die kommunikeerder die oordrag van tekens so op die punt af as moontlik, so ekonomies as moontlik, met so soveel relevansie as moontlik en ook sonder enige onsekerheid oordra. Hierdie ideale omstandighede bestaan nie, maar wanneer gekommunikeer word en die ideale oordrag oortree word, ontstaan implikasies. Hierdie implikasies dui op betekenismoont- likhede.

Grice se uitgangspunte kan baie vereenvoudig word. Daar kan gevra word wat die minimum is wat die teks of voordrag wil oordra en watter implikasies dan ontstaan wanneer die minimum oorskry word.

Hier word dus na die minimum gevra: Wat sou die minimum wees wat die teks voordra? Implikasies volg dus uit alles wat meer as die minimum is.

Uit die teks kan sekere minimum elemente geselekteer word

1. Die liefde van Christus dring.

2. Een sterf vir ander.

3. God versoen mense met Hom.

4. God reken oortredinge nie toe nie.

5. Gesante doen ’n beroep.

6. Christus word as sondaar behandel.

7. Ons is een met Christus.

Elke keer wanneer hierdie minimum elemente uitgebrei word, ontstaan daar implikasies.

Die verband tussen een en twee word deur die “omdat” gelê. Die “omdat” lê die verband tot insig en dit word weer verbind met twee, die Een wat vir ander sterf. Drie word uitgebrei om die verband met die nuwe wat gekom het, te lê. Die versoening word uitgebrei met God wat versoening met die mens bring. Vier word uitgebrei om aan te toon dat God die oortredinge nie toereken nie deur die bediening van die versoening daar te stel. Die besondere betekenis van die boodskap wat toevertrou is, kry so klem. Dit skakel met ses. Gesante word gekoppel met die beroep wat gedoen word, wat terugskakel met drie.

Ses word uitgebrei met die beklemtoning dat Christus sonder sonde was. Hierdie uitbreiding lê groot klem op die staat van Christus. Die vryspraak volg uit die eenheid met Christus, sewe.

Die implikasies wat telkens op die minimum sake volg, lei tot die gevolgtrekking dat die versoening bepaal word deur Een wat sonder sonde was, maar in wie die eenheid tot versoening gevind word.

Die vraag aan die teks – of hier sprake is van gewelddadige versoening – moet uit die impli- kasies negatief beantwoord word Hier is geen duidelike aanduiding van gewelddadige versoening nie. Die analise, gegrond op die vertrekpunte onderliggende aan gespreksvoorwaardes, dui op opoffering en plaasvervanging as sleutelbegrippe.Dit dui nie op gewelddadigheid nie. Die klem val op die EEN ter wille van die ander en die plek wat Hy ter wille van hulle inneem in hulle partisipasie met Hom.

4.2 Strategieë uit die teks self

Tolmie (2005) lê klem op die teks self en vra wat in die teks self beklemtoon word Daar moet volgens hom nie vooraf vasgestel word wat die teks sê nie of vooraf besluit word hoe die teks saamgestel is nie

Hier is die vraag: Wat is die oorredingstrategie wat gebruik word om die hoofsaak oor te dra en om dan die gevolgtrekking te maak?

Tolmie (2005) verduidelik sy metode soos volg. Hy wil die retoriese strategie uit die teks self aflei. Ten opsigte van Galasiërs, waarop hy sy metode toepas, wil hy “a text-centred descriptive analysis of the way in which Paul attempts to persuade the Galatians” uitvoer (Tolmie 2005:28).

Om dit te bereik, maak hy veral van ’n bepaalde strategie gebruik: “ In order to achieve this, I formulated what could be called a minimal theoretical framework to guide the analysis” (Tolmie 2005:28). Die eerste stap is om die beslissende retoriese strategie in die gedeelte te bepaal. Hy probeer twee vrae beantwoord: “Wat is Paulus se primêre retoriese bedoeling in die spesifieke afdeling? Hoe probeer hy die bedoeling bereik?” Die beslissende strategie word in ’n enkele sin vasgevang.

Naas die identifisering van die beslissende retoriese strategieë word die gedeelte ontleed vir die detailanalise in die gedeelte. Die soort argumente word beskryf vir die ontleding van die gedeelte, byvoorbeeld in Galasiërs 1:1-5 waar Paulus sy apostelskap bevestig omdat hy deur God geroep is. Dit is ’n argument gebaseer op goddelike gesag. In Galasiërs 3:1-5 word ’n argument gebaseer op ondervinding gebruik. Soms gebruik Tolmie egter die wyse waarop Paulus argumenteer eerder as die soort argument, bv. Galasiërs 3:15-18 (Tolmie 2005:29). Verder is dit soms nodig om die beslissende retoriese strategie te onderskei van “supportive” (ondersteunende) retoriese strategieë (Tolmie 2005:29). Retoriese tegnieke soos byvoorbeeld metafore en retoriese vrae word egter ook aangedui.

Met Tolmie se metode kan na die teks gegaan word om steeds die vraag, wat aan die begin van die artikel geformuleer is, aan die teks te stel.

Die oorkoepelende retoriese strategie in dié gedeelte kan soos volg saamgevat word:

Witherington 111 (1995:393) toon aan dat Paulus die Korintiërs wil oortuig en nie slegs ’n aantal opdragte en bevele wil uitreik nie. Die retoriese middele wat hy aanwend bestaan uit die reeks retoriese vrae en ethos bevestigende peristasis, die lys van ontberings. Witherington 111 (1995:393) stel dit soos volg: “Paul believes that he can stand up to scrutiny and that he should be examined closely by the consciences of his audience. A rhetor expected the audience to judge him and his art, and thus this statement would come as no surprise to the Corinthians.”

Paulus bevestig self sy roeping, maar maak dit juis duidelik dat hy nie besig is om homself aan te prys nie. Hy doen dit sonder om aanstoot te gee en juis op retoriese, maar nie op sofistiese wyse nie.Hy wil juis sy bediening wat God se groot daad van versoening veronderstel, bevestig

(Witherington 111 1995:393).

• Dit handel dus primêr oor Paulus se selfverstaan (ethos)

• Hy ken die vrees van die Here (vers 11)

• Hy is voor God openbaar (vers 11)

• Hy gee aanleiding tot roem oor hom/ons (vers 12)

• Die eer van God word gesoek (vers 13)

• Maar hy is ook by sy verstand om julle/hulle ontwil (vers 13)

• Gedring deur die liefde van Christus (vers 14)

(Daarop volg die motivering: Hy het gesterf vir almal)

Binne dié raam word die implikasies van dié gedeelte duidelik. Sampley (2003:337) verduidelik dit mooi: “Inherent in the use of such terminology is the implication that God has transformed Paul into his friend and entrusted him with the task of bringing God’s gift of friendship to others.”

Die retoriese strategie kan dan in een sin uit die voorafgaande saamgevat word:

Die liefde van Christus dwing die apostel om te verklaar dat Een vir ander gesterf het sodat hulle vanweë die Plaasvervanger, Christus, deur God van hulle sonde vrygespreek word.

Tolmie gee dan aandag aan die analise van retoriese middele. Martin (1986:138) toon aan hoedat Paulus hom van ’n meer poëtiese struktuur bedien om sy standpunt tuis te bring. Ook Du Rand (1983:22) toon aan dat daar chiasmes hier voorkom. Martin (1986:138) is ook van mening dat ’n goed gestruktureerde soteriologiese credo, wat by die geloofsbelydenisse van vroeëre Christene aansluit, voorkom.

Verse 18-21 word soos volg gestruktureer:

v.18.

God se werk

1a versoen ons met Homself deur Christus

1b gee bediening van versoening

2a God het wêreld met homself versoen in Christus

2b gee bediening van versoening

3b v20 Ons is verteenwoordigers van Christus, God pleit deur ons

3a v21 Hy wat geen sonde geken het nie (a)

vir ons (b)

sonde (c)

gemaak (d)

ons (a’)

word (d’)

geregtigheid van God (c’)

in Hom (b’)

’n Vaste simmetrie kom egter nie voor nie (Martin1986:139). Die teks bou duidelik op tot die gevolgtrekking in vers 21. Die teks self ondersteun bediening, en daarmee saam plaasvervanging en partisipasie. Die selfverstaan van Paulus lei tot sy diepgaande insig in die versoening in Christus. Vanuit sy eie belewing van versoening wil hy ook andere onderrig in die versoening wat slegs in Christus met God verkry word. Weer eens val die klem nie op gewelddadigheid nie, maar op Christus wat die heerlike versoening d.m.v. Sy dood aan die kruis teweegbring. Die teks staan allermins beskuldigend teenoor Christus en God, maar bevestig juis die triomf van die versoening.

Dat Christus vir ons tot sonde gemaak is, lei tot Martin (1986:157) se gevolgtrekking: “ It is twofold: on the one side, God identified his Son with the human condition in its alienation and lostness; on the other side, God declared that believers might become righteous with a righteousness that is his own.”

4.3 Komposisie: Semiotiese analise

Die vraag na die komposisie van die teks kan ook die implikasie dat die versoening gewelddadig is verkeerd bewys.

Wat is die komposisie van die teks?

In die komposisie is die aktante van groot belang. Die wyse waarop die aktante in die gang van die argument optree, bepaal ook hoe die argument verder gevoer word. EJ Van Wolde (1989:80-118) toon in haar werk oor Genesis, “A symiotic analysis of Genesis 2-3”, aan hoedat die aktante of subjekte ’n duidelike rol speel in die bepaling van die implikasies van die teks.

Om die rol van die aktante te evalueer, beteken dat die gang van die perikoop bepaal moet word met die fokus op die aktante.

Die Here/God Christus julle /hulle Ons/ek

Eenheid met Christus

Hieruit volg duidelik dat die opbou van die teks die gevolgtrekking ondersteun dat die versoening juis by God en Christus lê. Vanaf die erkenning dat God geken word en dat God die bedoeling van die apostel deurskou, word beweeg na die gevolgtrekking dat die bediening van die versoening aan Hom toevertrou is. Maar hierdie versoening bestaan daarin dat God Christus in ons plek as sondaar behandel. Tussen God en Christus vind die versoening plaas ter wille van die mens. Weaver is dus nie korrek dat die mens as eie persoon in die versoening, in plaas van God, bygebring moet word nie. Alhoewel daar nie hier duidelik sprake van gewelddadige versoening is nie, is dit tog duidelik dat God die eis van die voldoening van sonde na Christus verplaas. Dit is uit die komposisie van die perikoop duidelik.

Die aktante in die betrokke gedeelte verkeer nie in gewelddadige interaksie met mekaar nie. Die aktante bevestig juis dat Christus die versoening bewerk sodat dit volkome is in Hom. Die fokus is op die geregtigheid in Hom wat deur God tot sonde gemaak is, en die geregtigheid wat Hy toesê aan die persoon wat in Hom tot versoening kom.

5. GEVOLGTREKKING

Die vraag aan die orde is: Wat is die kern van die versoening in Christus in die lig van die beskuldiging dat dit gewelddadigheid veronderstel en daarom ’n skaduwee oor God se persoon werp.

Dit is uit die voorafgaande analise duidelik dat God wel Christus as sondaar behandel in die plek van die ander. Hierdie aspek van plaasvervanging en substitusie kan geensins ontken word nie. ’n Analise volgens Grice se gespreksvoorwaardes, Tolmie se teksanalise en narratiewe komposisie bevestig dit.

Gaebelein (1980:354) is van mening dat drie verskillende interpretasies kan volg uit die feit dat Christus tot sonde gemaak is.

(a) Christus het die voorwerp van God se toorn geword en so die sonde weggeneem.

(b) Dit dui op die inkarnasie, want in die menswording het Hy die sondige bestaan deelagtig geword. Al was Hy sonder sonde, deel Hy in die menslike bestaan.

(c). Christus het ’n offer vir die sonde geword.

Die eerste dui op substitusie, die tweede op partisipasie en die derde op die Ou Testamentiese offer.

’n Bespreking moet nou volg om die saak te beoordeel. Eerstens:

Dit is God wat die reg vereis. Die regverdiging is dus sentraal (Gaebelein 1980:354). Uit die analise is dit duidelik dat dit om God gaan wat Christus tot sonde maak. Die oorgang na Christus is dus die oorgang na die sondaar en dié oorgang is ook ’n oorgang na die oordeel (Strecker 2000:130-131). ’n Mens sal moet vashou aan die Joodse agtergrond waarin daar sprake is van versoening, plaasvervanging en die kollektiewe persoon (Nielsen 1995:76). Dit is duidelik dat God die persoon wat in Christus opgeneem word so behandel dat die oordeel oor die sonde op Christus oorskuif. Die substitusie spruit voort uit hoe Christus behandel word. Dit spruit ook voort uit die wyse waarop God wel by die mens uitkom deur Christus se substitusie in die plek van die mens, wat in Christus met God versoen word. Guthrie (1981:466) toon duidelik aan dat die teks (2 Kor 5:21) nie wil aandui dat Christus ’n sondaar geword het nie, maar wel dat Hy die sonde op Hom geneem het. Hy meen Christus is as sondaar gereken (regarded). Guthrie (2005:466) stel dit soos volg:

“Paul is clearly thinking of an action by God and his Son on man’s behalf and in all probability also in man’s place. The substitutionary element is more clearly expressed in 2 Corinthians 5:15, in which the statement ‘He died for all’ is immediately followed by a statement of the consequence that those who live might live ‘for him who for their sake died and was raised.’ There is an identification of the believer with Christ in his death and resurrection.”

Daar kan nie by die kruis van Christus verby beweeg word nie. Dit is uitgesluit. Die kruis is sentraal in die versoening. Wie dit nie raaklees nie, verstaan die versoening nie (vgl. Pop 1971:162 e.v.) Hahn (2002:220) beskryf hoe belangrik en universeel die heilbrengende dood van Christus vir die sondaars is. Die dood van Christus het universele betekenis, maar dit hang saam met die heilsboodskap waarin verkondig word dat die dood van Christus heil bring.

’n Mens kan nie uit hierdie teks die oordrag beskou as ’n oorgang om die losprys aan Satan te betaal nie. In 2 Korintiërs 5 speel hy op dié vlak geen rol nie. Die oorgang word deur God bepaal.

Pickett (1997:158) toon duidelik aan hoedat die kruis sentraal staan in die gebeure (vgl. ook Zeilinger (1992:66) wat aantoon hoedat Paulus juis die kruis teenoor die teëstanders voorhou as beslissend in die versoening). Dit is God wat die bediening van die versoening gee en die versoening aanvaar, en die oproep tot versoening kom juis van God (Harris 2005:451). God het Hom tot sonde gemaak. Best (1987:65) stel dit soos volg: “It suggests the transfer of our sin to Christ. Christ who is sinless, in some way, is made sin; we who are sinful consequently becomes righteous.” Juis omdat die sonde op Christus oorgaan, word Hy gemaak tot of behandel as sonde. Dit, hoewel Hy geen sonde geken het nie. Hall (2003:154) stel dit soos volg: “ Through his death God was reconciling the world to himself, not reckoning their sins against them (2 Co5.19). It was this gospel of reconciliation and forgiveness through the death of Christ that the apostles had been commissioned to proclaim (2 Co5.18-21)”. (Vgl. ook Bultmann (1985:166) wat die vergifnis sentraal stel in die versoeningsgebeure.) Murphy-O’Connor (1991:62) beskryf Christus se rol baie duidelik: “None the less Christ suffered and died, even though he was not a sinner. In other words, he was subject to the consequences of sin. Only in this sense is the extraordinary phrase ‘he made him sin’ intelligible. Christ entered into the human situation so totally that he accepted the lot of all members of a falllen humanity.

Paulus se bediening is dus juis die bediening van die versoening. Wright (1997:105) stel dit goed:

“What Paul is saying is that he and his fellow apostles, in their suffering and fear, their faithful witness against all odds, are not just talking about God’s faithfulness; they are actually embodying it. The death of the Messiah has taken care of their apparent failure; now, in him, they are ‘the righteousness of God’, the living embodiment of the message they proclaim.”

Tweedens:

Gewelddadigheid word nie in die teks veronderstel nie. Daar is immers geen aspek van gewelddadigheid primêr in die teks self nie. Die teks dui egter aan dat Een vir ander sterf. In die substitusie of die oorgang van die Een na die ander is daar sprake van die dood en die lewe wat prysgegee word – Een gee Homself prys ter wille van die ander. Deur die dood van die Een ter wille van die ander is daar wel sprake die ander se oordeel opgeneem word (Marshall 2004:441). Die dood waarna verwys word, is die kruisdood van Jesus Christus. Hierdie kruisdood lei ook tot die lewe, want hulle wat lewe moet nie meer vir hulleself lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het. Hy het vir hulle gesterf en daarom moet hulle nie meer vir hulle self lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het (Hahn 2002:220).

Veronderstel dit gewelddadigheid by God?

Uit die analise is dit duidelik dat dit God is wat Christus tot sonde maak en dus die reg opeis wat dan ook die oorgang bewerk. God speel dus wel ’n rol in die dood van die gekruisigde. Jesus se dood moet dus ook in die lig as substitusie verstaan word. Wolff (1989:134-135) toon aan hoedat die versoening universele betekenis verky en daardeur ook begrond word in die liefde van God.

Die vraag is egter of die dood van Christus as gevolg van gewelddadigheid onder mense verstaan moet word. Die sonde lei tot die gewelddadige dood. Dit is egter nie so duidelik die werk van God nie. Hy bring verlossing oor hulle wat Hom dien deur die sonde weg te neem en die versoening mee te bring.

Uit die sonde volg die dood. Hierdie dood is voltrek op Christus in sy substitusie. Daarom kan steeds geen gevolgtrekking gemaak word dat God gewelddadig optree nie. God se genade is juis sigbaar in die voltrekking van die dood van sy Seun, Jesus Christus.

Sentraal is die gedagte dat ’n nuwe tyd aangebreek het. Dit is God wat ’n nuwe tyd inlui. Martin (1986:158) stel dit soos volg:

“The lengthy, weighty passage in vv 16-21 has many facets but one master theme. In it Paul is setting down the Christian conviction that in the Christ event a new world has been born and a new age has supervened on world history. Phrases like ‘a new creation,’ ‘reconciliation’ and ‘righteousness of God’ are virtually synonyms for this new eon which has radically affected both divine-human and all earthy relationships.”

’n Verdere saak wat aan die orde kom, is menslike verantwoordelikheid. Dit beteken dat daar opnuut besin moet word oor menslike verantwoordelikheid. Die skuld lê juis by die mens, nie by God nie. Die skuld vir gewelddadigheid berus dus by die mens en nie by God nie.

Derdens:

Die implikasies wat Weaver (2001) en andere ten opsigte van partisipasie in die dood van Christus trek, is wel geregverdig. Daar is duidelik ook die aspek van partisipasie in die analise. Partisipasie speel dus wel ’n belangrike rol in Christus se dood Die Een wat sterf, sterf saam met Christus en word so ook deel van die lewe in Christus. Partisipasie vervang egter nie die substitusie Die substitusie veronderstel partisipasie. Barret (1979:174) stel dit soos volg: “Just as all died (verse 14) is a universal statement that becomes actually true by individual participation …”

Hierdie samehang beteken dat God juis die liefde wil vertoon (vgl. Best 1987:51). Daarom is die enkele vers waarin gesê word dat die liefde van God ons dwing, sentraal. (Vgl. die bespreking hiervan by Pickett 1997:145 e.v.).

Die substitusie en partisipasie veronderstel God se liefde (Hahn 2002:220). Die God van liefde tree op volgens sy eie beginsels en kan dus nie op menslike vlak van gewelddadigheid beskuldig word nie. Harris (2005:436) beskryf die versoening soos volg: “As a Pauline theological term depicting the relationship of God with humans, ‘reconciliation’ denotes a transformation of relations, not in the sense that the original friendly relations are restored (humans are by nature in enmity with God, Ro 5:10; Eph 2:1-3) but in the sense that friendly relations now replace former hostility. Reconciliation restores humans to a proper relationship with God (the vertical aspect) and with fellow human beings (the horizontal aspect), just as sin produces in humans a twofold alienation, from God and from other human beings.”

6. SLOT

Die heil in Christus is so wonderbaar dat dit nie onder een noemer tuisgebring kan word nie. Paulus se bediening moes die betekenis van substitusie en partisipasie bevestig. Dit het hy deur sy lewe gedoen. Dat hy daaronder verstaan het dat God gewelddadig teen sy eie Seun optree, is nie deel van die implikasies wat hy wou trek nie. Hy wou die oorgang tot die nuwe lewe en die nuwe tyd in Christus vasstel.

BIBLIOGRAFIE

Barret, C.K. 1979. A commentary on The second Epistle to the Corinthians. (2nd Edition) London: Adam and Charles Black.

Best, E. 1987. Second Corinthians. (Interpretation). Atlanta: John Knox.

Bultmann, R. 1985. The second letter to the Corinthians. (Translated by RA Harrisville). Minneapolis: Augsburg.

Du Rand, J.A. 1983. Die bediening van die versoening (2 Kor. 5) en enkele implikasies vir sosiale geregtigheid In Sosiale Geregtigheid 3(1). Referate aangebied by die opening van die Fakulteit Teologie van die UOVS. Bloemfontein: UV.

Grice, H. P. 1989. Studies in the way of words. Cambridge: Harvard University Press.

Gaebelein, F.E. 1980. Romans-Galatians. The Expositor’s Bible Commentary. Vol.10. Grand Rapids, Mi.: Zondervan.

Guthrie, D. 1981. New Testament Theology. Leicester: Inter-varsity.

Hahn, F 2002. Theologie des Neuen Testaments Band 1 Tübingen: Mohr Siebeck.

Hall, D.R. 2003. The unity of the Corinthian correspondence. London: T and T Clark International.

Harris, M.J. 2005. The Second Epistle to the Corinthians. TNIGTC. Grand Rapids, Mi.: Eerdmans.

Marshall, I.H. 2004. New Testament Theology.Downers Grove Ill.: InterVarsity.

Martin, R.P.1986. 2 Corinthians. WBC. Vol. 40. Waco, Texas: World Books.

Murphy-O’Connor, J. 1991. The theology of the Second Letter to the Corinthians. (New Testament Theology). Cambridge: Cambridge University Press.

Nielsen, J. T. 1995. 2 Korintiërs: Een praktische bijbelverklaring. Kampen: Kok.

Pickett, R. 1997. The cross in Corinth: The social significance of the death of Jesus. Sheffield: Sheffield Academic Press.

Pop, F.J. 1971. De tweede brief van Paulus aan de Corinthiërs. Nijkerk: Callenbach.

Sampley, J.P. Paul in the Greco-Roman world: a handbook. Harrisburg:Trinity.

Strecker, G. 2000. Theology of the New Testament. (Translated by E Boring) New York: De Gruyter.

Tolmie, D.F. 2005. Persuading the Galatians. Tübingen: Mohr Siebeck. (WUNT2. Reihe 190).

Van Wolde, E.J. 1989. A symiotic analysis of Genesis 2-3: a semiotic theory and method of analysis applied to the story of the Garden of Eden. Assen: Van Gorcum.

Vos, J. 2005. De Betekenis van de dood van Jezus: Tussen seculiere exegese en christelijke dogmatiek. Zoetermeer: Meinema.

Weaver, J. Denny. 2001 The Non-violent Atonement. Grand Rapids, Mi.: Eerdmans.

Witherington 111, B. 1995. Conflict and commmunity in Corinth: a socio-rhetorical commentary on 1 and 2 Corinthians. Grand Rapids, Mi.: Eerdmans.

Wolff, C. 1989. Der zweite Brief des Paulus an die Korinther. THNT: 8. Berlin: EVB.

Wright, N.T. 1997. What Saint Paul really said: Was Paul of Tarsus the real founder of Christianity? Grand Rapids, Mi.: Eerdmans.

Zeilinger, F. 1992. Krieg und Friede in Korinth: Kommentar zum 2 Korintherbrief des Apostels Paulus. Teil 1. Köln: Böhlau.Verlag Wien.

TREFWOORDE

Geweld, Versoening, Voldoening, Plaasvervanging, Deelname, Sonde

KEY WORDS

Violence, Reconciliation, Atonement, Substitution, Participation, Sin

Prof. P Verster

Fakulteit Teologie

Universiteit van die Vrystaat

Posbus 339

Bloemfontein 9300

Tel.: (051) 401 9111

E-pos: versterp22@mweb.co.za