Brits, HJ

Vaal Universiteit van Tegnologie

Swanepoel, HJ

NG Kerk, Melkbosstrand

Die nagmaal: ’n narratiewe her-innering

ABSTRACT

The eucharist, a narrative re-membering

Jesus furnishes his followers a ‘gift of remembrance’ by means of the Holy Communion. This article wishes to explain how there are tangent points between the narrative approach towards bereavement counseling and a fresh focus on the Holy Communion with reference to the concept re-membering. This approach ensures that the Holy Communion, like the narrative approach towards bereavement counseling may contribute to the ‘healing’ process of believers that seeks positive dominant narratives.

Gire (1992:57) skryf:

“Of all I could give to make their lives a little fuller,

A little richer,

A little more prepared for the journey ahead of them,

nothing compares to the gift of remembrance -

pictures that show they are special

and that they are loved.

Pictures will be there when I am not.

Pictures that have within them a redemption all of their own.”

1. INLEIDING

In die nagmaal het Jesus aan sy volgelinge ’n “gift of remembrance” gegee waardeur Hy onthou kan word. Die momente van die nagmaal is soos metaforiese foto’s wat die lewe van Jesus op aarde hede maak. Op hierdie wyse wou Hy altyd vars in hulle gedagtes leef. In die narratiewe hantering van rou speel die onthou of her-inneringe (Meyerhof 1982) van die afgestorwene ook ’n nominale rol. Her-inneringe is meer as herinnering omdat eersgenoemde dui op ’n weer- ontmoetingservaring. Epston gebruik die woord nalatenskap tydens sy berading met persone wat rou (White & Epston 1994:30). ’n Persoon se persoonlikheid en positiewe her-inneringe is vir Epston ’n nalatenskap (“legacy”) van daardie persoon.

Vanuit ’n postmoderne siening behoort die onthou van ’n persoon egter nie as enigste wyse vir die hantering van rou beskou te word nie, maar kan dit wel soms bruikbaar geïmplementeer word. Dit is deur middel van die nagmaal dat gelowiges die lewe, Persoon en dood van Jesus herroep. In sekere dele van die gereformeerde wêreld word die klem in die nagmaal veral op die sonde van die mens en die dood van Christus geplaas. Sonder om die sentrale saak in die nagmaal, naamlik die kruis, te misken word aspekte soos die werk, lewe en Persoon van die “lewende” Here minder beklemtoon. Hierdie artikel argumenteer dat daar raakpunte tussen die nagmaal as gedagtenismaal of her-inneringsmaal en die narratiewe hantering van rou bestaan.

2. DIE NAGMAAL

Tradisioneel word die instelling van die nagmaal, net soos die sakrament van die doop, herlei tot die persoon en die werk van Jesus Christus (Heyns 1981:345). Die nagmaal vind ook aansluiting by die paasmaal as herdenking van die uittog van die Jode uit Egipte. Die paaslam wat tydens die pasga geslag is, se bloed moes teen die altaar gesprinkel word, en dit is gevolg deur die gaarmaak van die vleis. Die bloedoffers van die Ou Testament was almal simboliese handelinge, die laaste Paaslam het ’n finale einde gebring aan alle simboliese bloedstortings. Die Paasfees was eintlik ’n herinneringsfees waartydens die Jode herinner moes word aan hul verlossing uit Egipte. Die pasga was die profetiese voorsegging (Heyns 1981) van die nagmaal, en die nagmaal was die vervulling van die pasga. Wanneer Jesus Christus tydens ’n Paasmaaltyd die “nagmaal” instel, dan kommunikeer Hy aan almal wat teenwoordig is dat soos die slagting van die paaslam eintlik vir Israel bewaar het van God se oordeel, en vir hul verlossing gebring het, die offerbloed van Christus ook plaasbekledend ’n soenoffer is sodat almal deur Hom verlos kan wees en deel kan vorm van die nuwe volk Israel. Die gelowige word tydens die nagmaal herinner aan die verlossing van die oordeel, maar ook aan die weerkoms van die Lam, terwyl die lewende teenwoordigheid van Christus in die herontmoetingsgebeure van die nagmaal minder klem ontvang. Dit is binne hierdie herontmoeting wat deur middel van die nagmaal as herinnerings en gemeenskapsmaal plaasvind dat gelowiges meer kan word soos Christus, hulself deur die oë van die Lewende Here kan ervaar. Die volgende bied kortliks ’n oorsig oor die simboliese waarde van die instellingswoorde en sommige perspektiewe op die nagmaal voordat ’n verband tussen die nagmaal en narratiewe rouberaad bespreek word:

2.1 Simboliese waarde van die instellingswoorde

Die verband tussen brood en wyn as tekens en Jesus Christus as betekende saak word vanuit verskillende interpretasies van die nagmaal verskillende antwoorde gebied. Die artikel wil nie die reële teenwoordigheid van Christus (praesentia realis) bespreek nie, maar eerder vanuit ’n gereformeerde beskouing (N.G.B. artikel 35, H.K.S. 28-30) van die nagmaal dit met die hantering van rou in verband bring.

Eksegese van die instellingswoorde dui op die simboliese of oordragtelike verstaan daarvan. Nadat Hy die brood gebreek het en aan die dissipels gegee het, sê Hy: “Neem en eet; dit is my liggaam” en terwyl Hy na die wyn verwys as sy “bloed”, “drink almal daarvan, want dit is my bloed” (Matt 26:26). Dit moet tot sy gedagtenis gedoen word (Luk 22:19, 1 Kor 11:24). Daar word ook ’n verband gelê tussen Jesus en die brood, want Hy verwys na Hom as die brood wat lewe gee. Wie na Hom toe kom sal nooit weer honger kry nie, en dié wat in Hom glo sal nooit weer dors kry nie (Joh 6:35, 47). Hy is ook die lewende brood uit die hemel. As iemand daarvan “eet” sal daardie persoon vir ewig lewe (Joh 6:51). Eintlik wys Jesus deur middel van die instelling vooruit op sy komende dood. Hy wil vir sy dissipels sy verworwe weldade deur sy dood skenk en Homself aan hulle gee.

2.2 Perspektiewe op die nagmaal

Die nagmaal kan as ’n verbondsmaal, gemeenskapsmaal, verkondigingsmaal, versoeningsmaal, herinneringsmaal, voedingsmaal en toekomsgerigte maal beskou word. Nog meer aspekte van die nagmaal kan dalk nog genoem word. Vir die doel van hierdie artikel word die volgende perspektiewe kortliks omskrywe en word die klem veral gelê op die nagmaal as gemeenskapsmaal en herinneringsmaal sonder om daarmee te kenne te gee dat hulle belangriker as die ander geag word:

Verbondsmaal: Die gelowiges wat die nagmaal vier, ervaar wat die Here deur middel van die profeet Jeremia gesê het, naamlik dat Hy sy wet in hulle binneste gee, dat dit op hulle harte ingeskryf word, en dat Hy vir hulle ’n God sal wees terwyl hulle vir Hom ’n volk sal wees. Die bloed van Jesus is die verseëling van die verbond (Matt 26:28). Die dood van Jesus was die offer wat Hy vir baie moes betaal. Die verbond met God is moontlik gemaak omdat daar aan God se reg voldoen is, omdat mense as sondaars gereinig is. Die ontmoeting met die God van die verbond kan realiseer omdat Christus die bemiddelaar is.

Verkondigingsmaal: Deur middel van die nagmaal gee die gemeente dankbaar uiting aan hul geloof in die betekenis van die soendood van Christus (Mark 10:45). Die verkondiging van die nagmaal word nie net gehoor nie, maar ook gesien en beleef.

Versoeningsmaal: Ten opsigte van die breek van die brood en die uitgiet van die wyn waarsku Heyns (1981:349) dat ons nie hierdie handelinge binne die nagmaalsviering deel moet laat vorm van die simboliek van die viering nie. Die nagmaal is nie ’n simboliese offermaal nie. Die klem val juis nie op die lyding van Christus nie, maar op die vrug van sy dood.

Ons wil dit waag om te sê dat die nagmaal mense nie slegs aan die dood van Jesus wil herinner nie, maar aan sy ganse verlossende lewe op aarde. Van die begin af was sy lewe soos brood wat op die aarde geval het sodat mense gered kan word. Hy het immers self gesê dat Hy die Brood van die lewe is en Hy het self water in wyn verander.

Gemeenskapsmaal: Die nagmaal as gemeenskapsmaal bring die intiemste gemeenskap tussen Christus en gelowige en gelowiges onderling tot stand (Heyns 1981:346). Om aansluiting te vind by die vorige beskouing van die nagmaal as her-inneringsmaal, stel Bavinck (1930:525) dit dat die nagmaal nie net ’n herinneringsmaal is nie, maar “dat heel het avondmaal, hetwelk in zijn wezen een offermaal is en eene gemeenschapsoefening met Christus, geschieden moet tot gedachtenis aan Hem”. Die gelowige wat die brood eet, het volgens Paulus gemeenskap met die liggaam van Christus. Wie die wyn drink het gemeenskap met die bloed van Christus (1 Kor 10:16). In Johannes 6:56 sê Jesus Christus self “Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.” 1 Korintiërs 10:17 wys daarop dat omdat dit een brood is, “... is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood”. Juis daarom behoort eienskappe van ’n liggaam, naamlik eenheid, liefde vir mekaar, en vrede onderling, deel te vorm van mense wat deelgenote van Christus se liggaam geword het.

Herinneringsmaal (gedagtenismaal): As die nagmaal plaasvervanging van die Paasfees is, is dit dus ’n herinneringsfees waarin die verlossingsgedagte sentraal staan. Dit kan nie sonder die werk en persoon van Christus verstaan word nie. As herinneringsmaal word die lewe van Christus, sy persoon en werk in herinnering geroep. Laasgenoemde word op aarde tot ’n hoogtepunt gevoer met sy sterwe aan die kruis, sy opstanding, en sy hemelvaart, sodat ons nou wagtende is totdat Hy weer kom. Die nagmaal skep die geleentheid vir die gemeente om as ’n gemeenskap van gelowiges nie net die gebeure vanaf die kruis nie, maar ook voor die kruis, in herinnering te roep. Dit is meer as net ’n herinneringsmaal, dit is ’n her-inneringsmaal. In 1 Korintiërs 11:17 word verwys na die destydse probleme (verdeeldheid) wat in eredienste opgeduik het tydens die viering van die nagmaal.

Deur middel van herinnering, gedagtenis, herdenking of anamnese (anamimneskein) onthou die gelowiges vir Jesus. Dit is die herroep of terugdink aan Hom wat gesterf het. Dit herinner die gelowige aan Jesus wanneer die brood en die wyn bedien word. Deur die brood en die wyn stig Christus in werklikheid self ‘n “gedagtenis” vir sy heilsdaad aan die kruis (Burger et al 1982:40). Anamnese of herinnering speel ’n sentrale rol binne die Nuwe Testamentiese erediens en die Nagmaalsviering. Die tekens van die Nagmaal herinner aan die verlossende handelinge in die eksodus uit Egipte sowel as aan die verlossende handelinge van Christus aan die kruis. Die tekens is lewende tekens omdat die lewende, teenwoordige God self as die werkende God agter die tekens staan. Hy is op ’n misterieuse wyse self in die wyn en brood teenwoordig (Bruger et al 1982:42). God is immers Deus actuosis wat as werkende God volgens Psalm 111 vir ons sorg. Hy sorg ook dat ons nie Sy dade vergeet nie. Die tekens herinner aan sy kruisdood vir die versoening van almal wie se sonde nie vergewe sal word nie, maar uit genade klaar vergewe is. Dit herinner gelowiges aan die Brood van die lewe waardeur mense gered word; aan sy gebroke liggaam (brood) en vergote bloed (wyn): “Want in het eten en drinken van het brood en den wijn als teekenen van Jezus’ gebroken lichaam en vergoten bloed ligt het doen tot zijn gedachtenis vanzelf opgesloten; het eerste is zonder het laatste niet mogelijk” (Bavinck 1930:524). Bavinck stel dit verder duidelik dat in Christus se “afwesigheid” die nagmaal die voortdurende verkondiging van sy dood is. Hierdie herinneringsmaal moet gevier word totdat Hy weer “teenwoordig” is: ”Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom” (1 Kor 11:26). In laasgenoemde teksgedeelte sê die Here dus dat ons deur middel van die herinneringsmaal dit wat Hy gedoen het moet beleef, in her-innering moet roep.

Drie tyddimensies is in die herinneringsmaal teenwoordig. Dit bied ons dus met die gebruik van die brood en die wyn (hede) ? “weer-beleef” ervaring (verlede) en laat ons as gelowiges uitsien na sy weerkoms (toekoms). Die dood van Christus moet verkondig word tot hierdie wederkoms aanbreek, daarom bly die kruis die middelpunt van die gedagtenis of her-innering van die gemeente van Christus. Die kruis is immers die bron van alle genade. As ? “tussentydse maatreël” is die nagmaal as herinneringsmaal ingestel tot gedagtenis aan sy lyding, tot verkondiging van sy dood en as middel tot sy ryke genade. Burger et al (1982:40) wys daarop dat die Nagmaal volgens Calvyn eintlik méér is as blote anamnese, die wonder van Gods heilsdade is dat hulle ’n “nawerking” het. Deur die Gees van God bly hierdie dade lewend en vol krag en staan die Here self deur die kultiese anamnese in vir die voortgang van die geloof van die gemeente, so sorg die Here dat sy magtige dade nie vergeet word nie.

Toekomsgerigte maal: Die nagmaal word gevier tussen Christus se hemelvaart en die wederkoms, die viering vind plaas in ’n wêreld wat deur Christus verlos is, maar wat nog gebuk gaan onder die gebrokenheid wat die sonde bring. By die instelling van die nagmaal noem Jesus dat die dag sal aanbreek wanneer Hy saam met sy dissipels die nuwe wyn binne die koninkryk van sy Vader sal drink (Matt 26:29). Eendag sal Christus nie meer verborge wees onder die sakramentele tekens nie, maar persoonlik as die bruid teenwoordig wees. Heyns (1991:347) verwys daarom na die “nog nie” van die viering van die nagmaal in die “tussentyd”. Dit kry ’n prefiguratiewe karakter: daar is hoop in die wete dat wat nog onafgehandel is, wel voltooi sal word omdat Christus vir ons die waarborg van die hoop is. Binne hierdie komende openbaring van God se ryk sal daar vereniging tussen Christus en sy dissipels wees. Nagmaal en toekoms, volgens Heyns (1981), staan dus nie tot mekaar in die verhouding van simbool en werklikheid nie, maar in die verhouding van begin en vervulling. Daar is dus in die nagmaal ’n samehang tussen die versterking van geloof en die eskatologiese perspektief.

3. DIE NARRATIEWE BENADERING

Volgens White (1998:23) streef mense daarna om sin van hulle lewe te maak en rangskik hulle hulle ervarings met die verloop van tyd op so ’n wyse dat dit vir hulle ’n samehangende beeld van hulleself gee. Spesifieke ervarings of gebeurtenisse van die verlede, asook die hede en verwagtings omtrent die toekoms word in hierdie “selfbeeld” met mekaar verbind, en daar word hierna as ’n storie of selfnarratief verwys. ’n Narratief kan egter nooit die volle rykdom van geleefde ervarings weergee nie. In die strukturering van ’n narratief verwerp ons daardie ervarings wat nie ooreenstem met die dominante ervarings van die narratiewe wat ons en ander omtrent ons het nie. Dit gebeur met die verloop van tyd dat baie van ons opgehoopte ervarings onverteld bly en nooit deel van ons narratiewe word nie. Dit is egter vir mense moontlik om onder sekere omstandighede iets van hulle verwerpte ervarings in onhersiene (“unedited”) vorm te herleef. In sulke tye word die ervarings wat ons met die tyd beleef het vervang deur ooreenstemmende ervarings. White (1998:23) glo dat sulke ooreenstemmende ervarings aangewakker word deur vrae te stel aan ’n persoon wat rou beleef oor wat die afgestorwene se belewenis van hulle sou wees. Deur mense te motiveer om na hulle geleefde ervarings terug te gryp, kan alternatiewe en vorige kennisse vasgestel en herleef word. So kan mense gehelp word om hulleself op nuwe en ander maniere te waardeer. Vanuit ’n postmoderne paradigma behoort die narratiewe hantering van rou nie as die enigste wyse waarop rou hanteer word beskou te word nie. Tóg is dit ’n bruikbare wyse waarop rou hanteer kan word en behoort dit van algemene modernistiese diskoerse oor die hantering van rou onderskei te word.

4. “MODERNISTIESE” DISKOERSE OOR DIE HANTERING VAN ROU

Daar bestaan heelwat modernistiese, alledaagse diskoerse oor hoe rou hanteer behoort te word. Voorbeelde hiervan is die onderstaande:

Die lewe gaan aan.

Jy moet huil, want huil wys hoe belangrik iemand vir jou was. Aanvaar dit.

Jy mag maar kwaad wees. Jy mag maar vra waarom.

Daar bestaan fases in ’n proses van die hantering van rou (ontkenning, onderhandeling, woede, aanvaarding).

Godsdienstige oortuigings oor die dood sê byvoorbeeld: “Dit het God behaag”, of “Hy het die mooiste blommetjie gepluk.”

Sekere kleure word met dood geassosieer, veral swart, pers en soms wit. In die verlede is daar swart roubande gedra.

Kaartjies bestaan uit geykte uitdrukkings en wyses van troos. Met trooswoorde wil ons mense wat rou beter laat voel.

Ons wil mense help om af te handel deur te suggereer: “Laat die persoon agter!”

Die basiese gedagtes van die modernistiese diskoerse handel dus oor die hantering van rou: losmaak, afhandel en klaar maak (Nell, 2000:20). Die modernistiese diskoerse wil hê dat daar aan die afgestorwene totsiens gesê moet word (“saying goodbye”). Die effek hiervan is dat die een wat agterbly ’n gevoel beleef dat die afgestorwene in totaliteit weg is. Verder word daar dikwels deur hierdie diskoerse gepoog om algemene beginsels op individue toe te pas. Sukses van terapie word dikwels gesien as die aanvaarding dat die afgestorwe persoon weg is (Nell, 2000:23). Vanuit ’n postmoderne paradigma behoort algemene beginsels nie op alle individue van toepassing te wees nie. Hieroor maak White (1989:36) die volgende opmerking:

“…I would argue that every experience of loss is unique, as are the steps that are necessary for the resolution of every loss. Any metaphor is only helpful to the extent that it recognises, and facilitates the expression of this uniqueness, and doesn’t subject persons to normative spesifications.”

Dit is belangrik om daarvan kennis te neem dat White (1989:36) in sy keuse vir die “hallo-sê”- metafoor nie noodwendig algeheel teen die gebruik van die “totsiens-sê”-metafoor is nie. Daar is baie wat gegroet moet word, byvoorbeeld materiële dinge, hoop en verwagtings. White glo dat die rouproses ’n “totsiens-sê”-, sowel as ’n “hallo-sê”-fenomeen is. Wat egter baie belangrik is, is dat elke ervaring van verlies uniek is. Net so is die stappe tot die oplossing van die rou ook uniek. Elke metafoor is slegs tot nut as dit hierdie unieke belewenisse van mense in ag neem en nie daarna streef om mense aan normatiewe verwagtings te onderwerp nie.

Wat die nagmaal betref is dit insiggewend dat Jesus nie van algemene rame en diskoerse van afhandeling en “totsiens sê” gebruik gemaak het toe Hy sy dissipels en die kerk geleer het hoe om hulle rou oor Hom te hanteer nie. Hy het die nagmaal as metafoor gegee en dit lyk nie of sy doel daarmee was om mense te leer om van Hom te vergeet nie, inteendeel, dit is juis gegee om Hom te onthou (“re-member”). Dit wat dus voor en tydens die kruis plaasgevind het word in herinnering geroep, dit word in die gemeenskapsmaal intiem herbeleef en deur die gelowige geïnternaliseer sodat dit deel vorm van sy/haar mondering as beelddraer van God. Die narratiewe hantering van rou streef daarna om na geleefde ervarings terug te gryp om op so ’n wyse vorige kennisse vas te stel en te herleef. Die nagmaal kan as ’n narratiewe implement gesien word wat deur Jesus aan sy volgelinge gegee is waardeur hulle sy gevoelens, gedagtes en woorde voortdurend in gedagte geroep kan word.

Soos reeds genoem stel Bavinck (1930) dit duidelik dat in Christus se “afwesigheid” die nagmaal die voortdurende verkondiging is van sy dood. Ons kan dit ook anders stel: in Christus se “afwesigheid” is die nagmaal as ’n herinneringsmaal ’n onthou-instrument van die kerk. Deur die nagmaal kan die gelowige Christus se handeling in herinnering roep; binne hierdie gedagtenismaal word Christus se lewe en sterwe weer-beleef, vind die herontmoeting plaas, word sy werk, dood en wederkoms geïntegreer in die gelowige se lewe. Her-innering vind dus plaas: Hy word in hierdie tussentyd as die lewende, verlossende Here beleef tot met sy wederkoms. Die herinnering van sy dade as ’n weer-ontmoetingsgebeurtenis sluit aan by die konsep van her-inneringsgesprekke waarna Myerhoff (1982) verwys. Daar is definitiewe raakpunte tussen die nagmaal as her- inneringsmaaltyd en die narratiewe hantering van rou. ? Fokus op hierdie raakpunte behoort ’n verryking vir beide die viering van die nagmaal en die narratiewe hantering van rou in te hou.

5. HER-INNERINGSGESPREKKE

Modernistiese diskoerse oor rou behoort gedekonstrueer te word. White (1997:25) het dit teen sogenaamde “raad” aan persone wat rou. Daar word dikwels aan hulle gesê dat hulle met hulle lewe, sonder die afgestorwe persoon, moet aangaan. In teenstelling met sulke raad en sogenaamde “fases” waardeur persone behoort te beweeg, het White met “Saying hullo again”-gesprekke begin. In sulke beradingsgesprekke word gesprekke met afgestorwenes, en ervarings van hulle, weer in persone se lewe geïnkorporeer. Dit word gedoen deur byvoorbeeld die afgestorwene as gespreksgenoot in gedagte te roep. Dit is moontlik omdat elkeen wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het daardie persoon so goed ken dat sy “mening” of reaksie binne die beradingsgesprek gerekonstrueer kan word. Hy noem dat persone se reaksie op hierdie gesprekke met afgestorwenes, tydens sy berading met hulle, dramaties is. Persone het op hierdie wyse van hulle moedeloosheid, hartseer en gevoelens van alleenheid weggebreek en ’n nuwe sin van vertroosting ontwikkel. Dit het dus ’n terapeutiese waarde. Aanvanklik het White sy vraagstelling “belewenis van belewenisse” (“experience of experience”) genoem, maar later het hy al hoe meer van “her- inneringsvrae” begin praat.

Tydens sy eerste kennismaking met persone wat rou het White (1998:18) ontdek dat hulle nie net ’n geliefde nie, maar ook hulleself, in die proses verloor het. Volgens hom skroom hulle nie om oor hulle gevoelens van leegheid, waardeloosheid en “depressie” te praat nie. White vertel dat hy dikwels deur hierdie persone uitgenooi word om aan hulle “saying goodbye”-gesprekke deel te neem. Hy is van mening dat ’n normatiewe model wat rou in fases indeel en dit met ’n “totsiens sê”-metafoor verbind, die situasie net verder sal kompliseer, eerder as om mense eie seggenskap te gee waardeur hulle lewe verryk behoort te word. Aangesien dit vir White (1998:18) lyk asof die gemis in die lewe van mense wat rou ervaar baie groot is, meen hy dat dit meer betekenis sal inhou as daar tydens berading ’n konteks herstel word waarin die verlore verhouding herstel word, eerder as verdere pogings om oor die verlies van die verhouding uit te wei. As gevolg van hierdie aanname het White met ’n ondersoek na ’n “hallo-sê”-(“saying hullo again”) metafoor begin. Vrae is ontwikkel om persone by te staan in die proses waartydens hulle verlore verhoudings weer na vore geroep kon word. Die gevolg was dat baie van die negatiewe gevoelens wat mense ervaar het, verdwyn het. Dit het White (1998:22) aangespoor om die metafoor nog verder te ondersoek.

In aansluiting hierby skryf Myerhoff (1982:111) oor her-inneringsgesprekke en meen dat dit ’n doelbewuste, betekenisvolle hereniging is. Dit is anders as die gewone vae oplewings en gedagtes van dinge wat gebeur het. Her-inneringsgesprekke het dikwels die hersamevoeging van die lede van persone se “lewensklub” ten doel. Hierdie lede kan ander betekenisvolle persone wees wat deel van die verhaal vorm. Volgens Myerhoff (1982:100) bestaan lidmaatskap (“membership”) uit inligting oor agtergronde. Grammatikareëls is hiervan ’n voorbeeld.

Volgens White (1997:23) suggereer die metafoor van ’n klub en die gedagte van her-innering dat mense die lidmaatskap van hulle lewensklubs mag hersien. Dit kan aan hulle ’n groter sê gee oor die lidmaatskap van sekere persone in hulle lewens. Op hierdie wyse kan sekere persone uit die verhaal verban word en ander weer uitgelig en bevoordeel word. Daar kan aan sekere mense erelidmaatskap toegeken word. Deur her-inneringsgebruike kan persone daartoe gelei word om sélf te besluit watter stemme hulle as deel van hulle identiteit wil hê. Só kan daar aan sekere stemme outoriteit verleen word om aan die gesprek deel te neem. Ander persone wat voorheen nie deel van ’n persoon se lewe was nie, kan ook uitgenooi word om lidmaatskap te verkry.

Myerhoff (1982:109, 111) sê die volgende oor her-innering:

“Time is abolished not only by myth and dream but occasionally also by memory, for remembering the past fully and well retains it. Life experiences are not swept away as if they had never been. They are rewoven into the present…memory is a continuum ranging from vague, dim shadows to the most bright vivid totality.”

en

“A life is given a shape that extends back in the past and forward into the future. It becomes a tidy edited tale … Without re-membering we lose our histories and our selves.”

In sy mees ekstreme vorm laat her-inneringe ’n mens nie slegs onthou nie, maar laat dit ’n mens ook iets herleef. Al die sensasies, emosies en assosiasies van die eerste gebeurtenis word só herstel en die verlede word herwin (Myerhoff, 1982:109). Die integrasie met vroeëre belewenisse skep volgens Myerhoff (1982:110) ? sin van kontinuïteit en volledigheid. Deur dit wat verlore was/is te herstel en in die hede te inkorporeer, kan rou draagliker gemaak word. Momente kan deur die sintuie na vore geroep word. Dikwels kan fisiese bewegings, soos gebare, sang, danse, rituele en gebede wat hulle wortels in die verlede het, ook instrumente wees.

Die ooreenkomste tussen hierdie her-inneringsgedagte en die nagmaal is opvallend. Die nagmaal wil ons nie net laat onthou (herinnerings of gedagtenismaal) nie, maar ook laat herleef (her-inner). Dit is ’n multisensoriese metafoor waardeur Jesus se lewe in gedagte geroep kan word. Ál die sintuie word hierby betrek. Daar word gehoor, gesien, geruik, geproe en gevat. Op hierdie wyse word Hy geher-inner (“re-membered”) en as teenwoordig ervaar en word Hy op ’n manier deur die eet van die brood en die drink van die wyn deur die betrokkenes geïnternaliseer.

Voorts gee narratiewe her-inneringsgesprekke aan persone die geleentheid om meer direk aan belangrike bydraes in hulle lewe erkenning te gee (White, 1997:23). Deur erkenning aan sulke bydraes te gee kan mense gehelp word om hulle lewenservaringe ryker te beskryf. Hulle kan ook weer met sekere persone in hulle verlede her-verbind word. Stories kan op hierdie wyse met ander se stories verbind word en spesifieke temas, waardes en verbintenisse kan na vore geroep word. White (1997:23) glo dat her-innerringspraktyke mense help om ’n groter bewustheid van ander se teenwoordigheid in hulle alledaagse lewens te ontwikkel, al is daardie persone nie fisies teenwoordig nie. Dit kan veral van nut wees waar iemand gesterf het of waar daar fisiese skeiding is. Om só met iemand herenig te word en om ryker beskrywings van ’n mens se lewe te kry, kan nuwe handelingsmoontlikhede in die wêreld geskep word. Dit maak mense minder kwesbaar vir gevoelens van alleenheid. Binne die nagmaal word die gelowige aan die dade van Jesus herinner en vind ’n intieme ontmoetingsgebeurtenis plaas.