Burger, CW en Wepener, CJ

Universiteit van Stellenbosch

Die lang pad van bekering. Deel 3. Die Reformasie se reaksie op die verval van die kategumenaat en doop- en leringspraktyke in die Middeleeuse Kerk

ABSTRACT

The long road of conversion. Part 3. The Reformation’s reaction to the decline of the catechumenate, baptismal and teaching practices in Medieval Church

In this third part of our series on the catechumenate we will be giving an historical overview of how the Reformation reacted to the situation in the Roman Catholic Church regarding baptism, catechesis and confirmation. We will concentrate on the work of four reformers, to wit Luther, Zwingli, Calvin and Bucer. At this stage in the history of the church it becomes necessary to look at baptism, confirmation as well as teaching in order to grasp the reforme’s reaction to this ritual-didactic need.

In hierdie derde deel van ons reeks sal ’n kort oorsig gegee word van die ontwikkelinge ten opsigte van die kategumenaat1 in die tyd van die Reformasie. Ons sal konsentreer op die bydraes van Luther, Zwingli, Calvyn en Bucer. So ’n beskrywing belig die (dis)kontinuïteit wat die praktyk in hierdie tydgleuf vergeleke met die voorafgaande periodes. Dit help ook om te verstaan hoe daar met hierdie praktyk (of beter gesê: wat van die praktyk oor was) in die Gereformeerde tradisie omgegaan is. So ’n beskrywing is onontbeerlik ten einde ons huidige ritueel-didaktiese praktyke met betrekking tot Christelike inlywing in die kerk beter te verstaan.

1. INLEIDING: ’N SITUASIE VAN VERVAL

Ons het reeds in die tweede artikel oor die geskiedenis van die kategumenaat gesien dat die vestiging van die Christendom as amptelike staatskerk en die gepaardgaande aanvaarding van die kinderdoop as die gebruiklike manier waarop mense in die kerk ingewy word, gelei het daartoe dat die kategumenaat tot ’n baie hoë mate in onbruik verval het.

Die kategumenaat het in só ’n mate vergete geraak dat dit nie eens seker is dat die teoloë van die Middeleeue en daarna ’n duidelike prentjie van die vroeë kategumenaat – sy betekenis en intensie – gehad het nie. Dit is daarom onmoontlik om te sê wat die Reformasie met die kategumenaat gemaak het – wat hulle geken het, was maar dele en stukkies van die oorspronklike proses. Osmer (1996:49) gebruik ’n goeie beeld om die situasie in die Middeleeue en Reformasietyd te beskryf. Dit is soos ’n skip wat op die rotse geloop het en verwoes is deur die golwe. Wat oorgebly het is net los stukke wat ronddryf op die water: hier ’n romp, daar ’n mas en daar ’n deel van die dek. So het die kategumenaat in die tyd van die Reformasie uiteengeval in drie dele: die doop, die kategese en die bevestiging of konfirmasie. As ons die geskiedenis van die kategumenaat in die tyd van die Reformasie wil nagaan, moet ons gaan kyk wat met die drie elemente gebeur het.

Wat presies was die situasie rondom doop, kategese en konfirmasie voor die tyd van die Reformasie? Ons weet dat die Middeleeue in vele opsigte nie ’n goeie tyd vir die kerk was nie, soos dit ook geblyk het uit deel 2 van die reeks. Nie net die kategumenaat het verval nie, maar dit wat in die plek daarvan gekom het, het op min plekke werklik geestelike substansie gehad (vgl Osmer 1996:60-63 vir ’n kort oorsig). Hoewel daar hier en daar uitsonderings was (vgl Charlemagne se pogings) het die doop ’n meganiese proses geword, het daar min tereggekom van kategese en het die bevestiging van lidmate weinig insig of insette van hulle gevra. Sover ons weet was daar op min plekke formele onderrig in die geloof van die kerk se kant af gegee: dit was aan die genade van die ouers oorgelaat. Die gebruiklike vereistes was dat lidmate die Ons Vader moes kon opsê, dalk nog een of twee gebede en die Credo ken, en nou en dan die mis moes bywoon.

Die teoloë van die Reformasie het groot probleme met die situasie gehad. Eerstens het hulle nie saamgestem met die sakramentele definisie van die konfirmasie nie. Hoewel die Reformatore nie sonder meer negatief was oor die konfirmasie nie, het hulle nie soveel waarde daaraan geheg as die Rooms Katolieke Kerk nie en het hulle veral probleme gehad met die sakramentele betekenis wat daaraan gegee is. Tweedens het hulle ook probleme gehad met die rol wat die biskop in die verband gespeel het (soos gesien is in deel 2 kon net die biskop die konfirmasie doen). Hulle derde probleem was dat die hele manier waarop die proses van konfirmasie hanteer is, gelei het tot

’n verswakking van die betekenis van die doop. Die skerp formele skeiding tussen doop en konfirmasie het gelei tot die geloof dat lidmate eers die Heilige Gees ontvang het wanneer hulle tydens konfirmasie die hande opgelê is. Daar was ’n vierde probleem wat die Reformatore met die praktyke gehad het – dalk die belangrikste. In die hele proses het daar van die kategetiese onderrig eintlik niks oorgebly nie. Die belangrikste bydrae van die Reformasie ten opsigte van die inlywing van kinders in die kerk, was waarskynlik die werk wat hulle gedoen het rondom die kategetiese arbeid.

2. DIE REFORMATORE SE REAKSIE

Ons het gesê dat dit eintlik onmoontlik is om aan te dui hoe die Reformatore oor die kategumenaat gedink het aangesien die proses as geheel nie meer bestaan het nie en daar ook nie duidelike getuienis is dat hulle die omvang en impak van die proses geken het nie. Die vraag sal dus anders gevra moet word. Ons sal hoogstens kan nagaan hoe die Reformatore gedink het oor die proses van inwyding van kinders in die kerk, dit is deur die doop, kategese en belydenisaflegging2. Hoe is mense in die kerke van die Reformasie ingebring en wat was die didaktiese en liturgiese prosesse daaraan verbonde, sal ’n beter formulering van die vraag wees vir hierdie periode.

Voordat ons verder in die artikel gaan kyk na wat die Reformasie met elk van bogenoemde drie sake gemaak het, gaan ons kortliks fokus op die eie bydrae van die vier belangrikste Reformatore naamlik Luther, Zwingli, Calvyn en Bucer.

2.1 Luther3

Die sentrale punt van Luther se protes teen die kerk van sy tyd het gegaan oor misverstande en misbruike rondom die evangelie en die bemiddeling van die heil van die evangelie. In die Rooms Katolieke Kerk het die Nagmaal of mis sentraal gestaan en is geglo dat mense die heil outomaties ontvang as hulle deelneem aan die mis. Luther het probleme gehad met so ’n outomatiese proses wat geen ruimte laat vir genade en vir geloof nie. In die plek daarvan het hy ’n erediens voorgestel waarin die evangelie van Gods genade in Christus in ’n verstaanbare taal verduidelik en gepreek word (vgl Steinmetz, 2004:262). In hierdie proses het die Woord ’n sentrale rol gespeel. Die Woord van God moes gelees, gehoor, gepreek, verstaan en geglo word. Dit is deur die Woord dat God self mense tot verlossing bring.

Vir al die Reformatore was ’n dieper verstaan van die inhoud van die evangelie onverhandelbaar vir die vorming van geloof in Christus en vir die vernuwing van die kerk. So belangrik was hierdie saak dat dit naas die prediking by Luther lei tot die skepping van ’n nuwe genre waarin die evangelie verkondig word naamlik die skryf van kategismusse. Hoewel daar in die voor-Reformatoriese tyd hier en daar voorbeelde van sulke werke aangewys sou kon word, kan met reg gesê word dat Luther die vader van hierdie soort literatuur was (Osmer 1996:67). Hy is hierin nagevolg deur al die Reformatore (en later selfs deur die Rooms Katolieke by Trente). Hulle het by mekaar geleen en geleer, maar elkeen van die reformatore (en hulle navolgers!) het mettertyd hul eie kategismusse geskryf. By Luther het die geskrewe kategismus gegroei uit sy preke en klasse en is dit mettertyd verwerk in die vorm van omlynde vrae en antwoorde. Aanvanklik het verduidelikings van die Tien Gebooie, die Geloofsbelydenis en die Ons Vader die kern van die kategismus gevorm maar ná 1520 is dit uitgebrei met dele oor die sakramente en oor die roeping (vocatio) van alle gelowiges (Osmer 1996:68).

Luther het nie net kategismusse geskryf nie, maar ook aandag gegee aan die instansies, institute en persone wat hierdie proses moes dra (Steinmetz, 2004:269). Die reformatore het almal die rol van die ouers en die huis vir die vorming van geloof by kinders bly beklemtoon. Daarby het hulle egter beklemtoon dat die kerk ook ’n rol te vervul het. Verder het veral Luther baie moeite gedoen met die oprigting van skole en universiteite as plekke van lering. Luther het mettertyd ook ’n kategetepos in die gemeentes geskep vir mense wat die taak ontvang het om aan die kinders die kategismus te leer (Osmer 1996:69).

Wat die doop betref het Luther sterk klem gelê op die doop as ’n handeling van God waarin Hy sy beloftes aan ons kom bevestig – vandag nog die hart van die Protestantse leer van die doop (Riggs, 2002:25v). Soos blyk uit sy konsubstansiasieleer het Luther werklik geglo dat daar tydens die doophandeling iets gebeur naamlik ’n beseëling van God se beloftes van vergiffenis en redding aan elke kind.

Oor konfirmasie het Luther nie sterk gevoelens gehad nie. Hy was van oordeel dat daar ’n gesprek met die kinders oor hulle geloof behoort te wees voor hulle eerste Nagmaal, maar hyself het nie veel klem gelê op konfirmasie as ’n formele, aparte handeling nie. Hy het beslis nie die Rooms Katolieke Kerk se sterk siening daarvan as ’n sakrament gedeel nie. Tog was hy ook nie sonder meer negatief daaroor nie en het in positiewe terme geskryf oor ‘n konfirmasie-praktyk wat Melancton en ander wou invoer in die kerk.

Zwingli4

Zwingli, ’n tydgenoot van Luther, se bydrae het gefokus op ’n nuwe verstaan van die doop en op die belangrikheid van kategetiese onderrig. Dit is aan Zwingli te danke dat die doop in die meeste Gereformeerde kerke vandag nog sterk verbind word aan die verbond. Hy het van meet af moeite gedoen om die doop baie sterk binne ‘n verbondskonteks te verstaan. Binne hierdie verband het Zwingli nie net God se genadige verbintenis aan die mens beklemtoon nie, maar oor voortdurend gewys op die mens se gelowige respons op die genade. Veral in sy gesprek met die Anabaptiste het hy voortdurend beklemtoon dat die doop ook ’n persoonlike geloofsbelydenis vra van ons (Riggs:25v).

Anders as Luther het Zwingli egter totaal gebreek met die substansiasieleer van die Rooms Katolieke en het hy die sakramente as blote tekens gesien. As tekens was dit nie onbelangrik nie, maar dit moes nooit verwar word met die eintlike saak, naamlik die werk van die Gees waarheen dit voortdurend gewys het nie. In die opsig het Zwingli veel verder gegaan as Calvyn wat steeds geglo het dat die Gees in en deur die sakrament en sy gebruik sy werk doen. Zwingli het sterk navolging gevind in sy verstaan van die sakramente – in so ’n mate dat daar ’n groeiende oortuiging by teoloë is dat die meeste gereformeerde kerke in hulle sakramentsbeskouing vandag waarskynlik meer Zwingliaans is as Calvinisties.

Zwinlgi het ook baie aandag gegee aan lering en geglo dat dit ’n sentrale rol speel in die vorming en groei van die geloof. Hy het ook sy deel aan skryfwerk hieroor gedoen en veral die rol van die Credo en die Onse Vader beklemtoon. Nes Luther het hy weinig aandag gegee aan die rol van belydenisaflegging of konfirmasie.

2.3 Calvyn5

Calvyn volg in ’n hoë mate die inisiatiewe wat Luther ingebring het. Sy belangrikste werk in die verband lê ook op die vlak van lering en kategese. Nog meer as Luther glo hy dat die regte verkondiging, hoor en verstaan van die evangelie fundamenteel is vir geloof in die drie-enige God van die Bybel. Hy skryf self twee kategismusse en belangriker nog sy Institusie wat eintlik niks meer as ‘n uitgebreide pastorale verduideliking van die Christelike geloof wil wees nie.

Hy het net so goed soos Luther verstaan dat ’n mens nie net kategismusse nodig het vir kerkhervorming nie, maar ook instansies, institute en kerklike prosesse wat die lering van die kerk kan borg en begelei (vgl. Osmer 1990:107-135 hieroor). Veral deur sy kontak met Bucer ontwikkel hy ’n helderder verstaan van die rol van die gemeente en die geloofsgemeenskap – ook rondom die inbring van die nageslag in die gemeente. In sy onderhandelings met die stadsvaders beding hy gereeld meer plek vir lering en kategese, byvoorbeeld dat dit verpligtend gemaak sal word vir almal. Hy gee ook heelwat aandag aan lering in die eredienste, aan die inrigting van die kategeseklasse wat tussen dienste gehou is en aan die ontwikkeling van die Akademie wat ‘n sentrale rol sou speel in verband met die leeramp van die kerk. Ook sy inbring van die pastorale en dissiplinêre konsistoriegesprekke met lidmate kan verbind word met sy erns oor die leer van die kerk. Die leer is nie ’n ligte saak nie, maar iets waarin ons mekaar lewenslank moet begelei.

Calvyn het heelwat oor die doop geskryf en dit as ’n wesenlike en belangrike deel van die kerk se geloofsgoedere beskou. Oor die jare het hy by verskeie geleenthede oor die doop geskryf en ‘n mens sou ook kon praat van ’n bepaalde ontwikkeling in sy verstaan van die doop (Riggs, 2002:39-51). Sy sakramentsbeskouing lê iewers tussen die van Luther en Zwingli. Hy beskou die sakramente as tekens, saam met Zwingli, maar glo, saam met Luther, dat die sakramente meer is as maar net blote tekens (vgl. Gerrish, 1993). Kenmerkend van Calvyn se beskouing is dat hy vas geglo het dat die Gees in en deur die sakramente in ons werk, maar hom weerhou het daarvan om te spekuleer oor presies hoe die Gees dit doen. In sy ontwikkeling het Calvyn voortdurend die feit dat die doop primêr ’n aksie van God is bly beklemtoon, maar gaandeweg meer en meer aandag gegee aan die aspek van menslike respons. Hy het ook aansluiting gevind by Zwinlgi se verbondsteologie, maar meer aandag gegee aan die verband tussen doop en verkiesing. In lyn met sy verstaan van die verkiesing as ’n verkiesing in Christus, het hy meer en meer die doop in verband gebring met Christus en sy gawes en die doop verstaan as ’n inlywing in Christus.

Hy het nie te veel aandag gegee aan konfirmasie nie, maar ruimte gelaat vir ’n gesprek met die kinders oor hulle geloof voordat hulle die eerste keer Nagmaal gebruik. Hoewel die fokus in die kategetiese onderrig geval het op die regte verduideliking en verstaan van die evangelie, het Calvyn se eie kategismus ook vrae bevat oor die kinders se persoonlike geloof in Christus.

2.4 Bucer6

Bucer het in ’n hoë mate die lyn van die ander reformatore gevolg wat betref hulle standpunte oor die doop en oor die belangrikheid van kategese. Maar dit was Bucer wat – meer as die ander reformatore – die belangrikheid van persoonlike geloof beklemtoon het en ruimte gesien het vir ’n eie Protestantse rite van konfirmasie.

Bucer het in sy totale teologie ’n sterk klem geplaas op die werk van die Heilige Gees in die gemeente en in die lewe van gelowiges (Osmer 1996:70). Die Gees was die Een wat die heilsgawes wat Christus vir ons verwerf het in ons lewe moes indra sodat dit sigbaar gestalte kon kry in die lewe van die gelowige en in die onderlinge lewe van die gemeente. Daarom het Bucer ook ‘n dinamiese verstaan van die werk van die gemeente gehad. Die gemeente is ’n skepping van God en ’n belangrike instrument wat die Gees gebruik vir sy werk op aarde. Terwyl Bucer geen twyfel gehad het dat dit net God deur sy Gees is wat mense kan verander nie, het hy geglo dat die Here die kerk, verhoudings en praktyke van die gemeente gebruik om lidmate se gedagtes, gevoelens en dade te help vorm nie (Osmer 1996:78). Hy skryf in sy Korter Kategismus in 1537: “The Holy Spirit make those who believe in Jesus Christ our Lord unite and hold to one another as members of one body. It is by using word, sacrament and discipline in the church that the Spirit builds up Christians in faith”.

Dalk is dit omdat hy helder verstaan het dat die Gees in sy werksaamheid nie menslike aktiwiteit uitsluit nie, maar juis insluit dat hy in die kerklike prosesse waardeur gedoopte lidmate ingebring word in die kerk ruimte wou maak, nie net vir ’n erkenning dat mense die evangelie verstaan nie, maar dat hulle ook daadwerklik in Christus en sy evangelie glo. Hy was die een reformator wat ten gunste was van ’n formele konfirmasie – weliswaar nie ’n sakrament nie, maar ’n baie spesifieke rite waardeur lidmate geleentheid kry om hulle persoonlike geloof in Christus te bely en dan as volwaardige lidmate van die gemeente toegelaat te word. Oor hoe hy hierdie geloofsbevestiging verstaan het skryf Osmer: “By this he meant a heartfelt profession of faith and pledge of obedience in which the essential tenets of the faith are not merely grasped intellectually but are appropriated personally” (Osmer 1996:78).

In later jare sou die nodigheid van so ’n eie rite vir hom nog duideliker word. Hy skryf in Regno Christi: “A confession of faith should be required of such a kind as might be judged not to originate in the mouth and not be merely a preparation of human teaching: it should be accompanied by the signs in the conduct and manner of life of the candidate which the churches might accept as proceeding from the heart which truly believes the gospel and from the teachings of the Holy Spirit.”

3. DIE REFORMASIE SE STANDPUNTE OOR DOOP, KATEGESE EN BEVESTIGING

3.1 Doop

Die Reformasie se breuk met Rome het nie in die eerste plek met hulle verstaan van die doop saamgehang nie. Daarom is die meeste gebruike met betrekking tot die kinderdoop wat tydens die Middeleeue algemeen ingeburger geraak het, in ’n hoë mate net so oorgeneem deur die Reformasie7. Klein kinders is steeds deur middel van die doop, wat nou een van slegs twee sakramente was, in die gemeenskap van gelowiges opgeneem (sien onder andere Wegman, 1991:323). Met sekere spesifieke aspekte en gebruike van die Middeleeuse doop is egter doelbewus gebreek. Fischer (1992:155) wys daarop dat slegs die water en die Trinitariese formule as essensieel beskou is en dat al die ander elemente as bykomend en vatbaar vir bygeloof gesien is. Verder was die ekklesiale dimensie baie belangrik vir die Reformasie. Dit het beteken dat die doop in die midde van die gemeente moes plaasvind, dat geskikte peetouers gekies moes word en dat alles in ’n verstaanbare taal moes geskied.

Vir die reformatore (altans vir beide Luther en Calvyn) was die sakrament van die doop ’n ernstige saak. Hulle het geglo dat dit deur die Here self ingestel is en ’n belangrike heilsmiddel was wat deur die Gees gebruik is in die proses van geloofsvorming. Albei het geglo dat die doop nie maar net heenwys na die heilswerk van die Gees nie, maar dat die Gees ook in en veral deur die doop werk.

Wat het in die doop gebeur? In die doop word al die genadebeloftes van God in Christus aan ons bevestig. Ons kan weet dat die belofte vir ons en vir ons kinders geld en dat die Here nooit op hierdie belofte sal teruggaan nie (vgl Riggs, 2002:49). Tweedens word ons deur die doop daadwerklik ingelyf in die geloofsgemeenskap en word ons in Christus ingegraveer en gereken as deel van sy kinders (Riggs, 2002:48).

Die Reformatore was egter ook duidelik daaroor dat hoewel die sakrament van die doop buite ons geloof om geldigheid het, dit nie sonder geloof vanself werk of buite geloof om mense kan saligmaak nie. Dit gee aanleiding tot die reformatoriese interpretasie dat hoewel ons onsself nie deur geloof binne die verbond kan plaas nie – ons is daar alleen op grond van God se verlossingsgenade in Christus – ons tog deur ons weiering om te glo onsself buite die verbondsgenade kan plaas.

Op die manier word die volle krag, geldigheid en werking van die sakrament gehonoreer – sonder dat die belangrikheid van geloof en belydenis wat van ons gevra word ondergrawe word.

Die reformatore se sterk klem op kategese en lering moet juis in die hierdie verband verstaan word. Die doop plaas die onus op die ouers en die gemeente om die kind van die Here te leer en groot te maak in die Here se weë. By Luther was die teenwoordigheid van die ouers of peetouers by die doop dié van geloofsplaasvervangers. Die kinders is as’t ware op grond van hulle ouers se geloof gedoop. Calvyn sien die saak anders. Daar hoef nie geloof te wees vir die doop om bedien te word nie. Die rol van die ouers en peetouers by die doopgeleentheid is nie dié van geloofsplaasvervangers nie, maar dié van mense wat onderneem om hierdie kind ’n verbondsopvoeding te gee. Sonder hierdie onderneming kan die doop nie bedien word nie.

3.2 Kategetiese onderrig

Van die belangrikste ontwikkelinge wat ons in die tyd van die reformasie sien is die nuwe beklemtoning van lering of kategese. Dit is ook die mees wesenlike verskil met die praktyke van Rome oor hoe nuwe lidmate in die kerk ingebring word. Daar was onderlinge verskille tussen die Reformatore oor die doop en oor konfirmasie, maar oor die belangrikheid van kategetiese onderrig was hulle eenstemmig.

Vanweë die ontdekking van die boekdrukkuns het die moontlikheid van ’n dieper en uitgebreider kategese moontlik geraak – iets waarvan die Reformasie dankbaar gebruik gemaak het (Dingemans, 1986:171 & Bijlsma, 1962:65). Die Bybel is in die landstale vertaal en feitlik al die Reformatore het kategismusse geskryf. Die kategismusse was bondige opsommings van die Bybelse boodskap met klem op helderheid en oortuigingskrag en dikwels gegiet in ’n didaktiese vraag-en-antwoord styl. Alhoewel kategese ’n besondere sterk leerklem gekry het en ook bedoel was om katkisante te leer om die erediens te kan volg, was die bedoeling van kategese nie net om geloofsinsig te verskaf nie, maar om die katkisant te lei tot ’n persoonlike geloofskeuse (Dingemans, 1986:172). Bijlsma (1962:62-77) praat van ’n revolusie in die kategese wat op veral drie vlakke vernuwing gebring het: die Bybel is sentraal geplaas is; die hele volk moes teologiese kennis verkry (gegrond op die leer van die priesterskap van alle gelowiges); en die geloofskennis moes persoonlik verstaan en verwerk word. Die kategese van die Reformasie het dus ’n goeie en nodige korreksie op die Middeleeuse praktyke gebring en so die Woord van God in die sentrum van die gemeentelewe geplaas. Nie alleen die kerk en predikant moes hierdie geloofsonderrig verskaf het aan gedoopte kinders nie, maar dit moes ook in die gesin en op skool plaasvind.

Die tradisionele didaktiese inhoud is in ’n groot mate behou, te wete die vierslag van geloof, gebod, gebed en sakramente, wat Bijlsma (1962:60)8 “een voortreffelijke en bruikbare samenvatting van de leer der heilige Schrift” noem. Luther sowel as Calvyn het dit in hulle kategetiese stof gebruik. Saam met hierdie tradisionele inhoud het die Reformasie ’n veel sterker klem aan die Bybel gegee. Kinders moes die Bybelse verhale leer, maar meer nog die lewende verkondiging van die Woord hoor (Bijlsma, 1962:63). “Het kennen met het verstand en het kennen met het hart behoorden hand in hand te gaan” (Bijlsma, 1962:73).

In baie gevalle het die Reformasie vir ’n werklike deurbraak gesorg. Kinders wat deur die Here se genade in die doop ingesluit is in sy verbond, het daarna op verskeie plekke (huis, kerk, skool) onderrig ontvang in die kernwaarhede van die Christelike geloof sodat hulle dit kon verstaan en ook kon toe-eien, om dan uiteindelik te getuig van die Heilige Gees se werking in hulle lewens op hierdie pad van bekering in die ritueel van bevestiging. In ander gevalle was hierdie proses minder geslaagd en het die kategese van die Reformasie onder invloed van die Humanisme en Renaissance ’n sterk lerende en kognitiewe karakter gekry. Terwyl die ritueel in die Middeleeue oormatige klem ontvang het, sou ’n mens in sekere gevalle kon konkludeer dat die lering (om verstaanbare redes as reaksie) ’n besonder sterk klem, dikwels ten koste van die belewenis, gekry het tydens die Reformasie.

3.3 Die praktyk van Belydenisaflegging

Die Reformatore het gemengde gevoelens oor die praktyk van belydenisaflegging gehad. Hulle het almal gebreek met Rome se verstaan van konfirmasie as ’n aparte sakrament. Oor ’n aparte belydenisgeleentheid en ritueel het hulle verskil van mening gehad. Ons het reeds daarop gewys dat beide Luther en Zwingli nie baie positief daaroor was nie en dit soms as ’n menslike uitvindsel bestempel het. Fischer (1992:161) wys tereg daarop dat so ’n stelling tog gekwalifiseer moet word. Luther in twee preke opgemerk het dat hy bevestiging wel sal toelaat op voorwaarde dat erken word “… that God knows nothing of it, has said nothing about it, and that what the bishop claims for it is untrue”. Ons sien iets van dieselfde huiwering by Calvyn. Volgens Fischer (1992:165, sien ook Inst. 4.19.4.17) het Calvyn geglo dat kinders van gelowiges in apostoliese tye gedoop is as babas, en wanneer hulle hul jare van onderskeiding bereik het hulle voor die biskop gebring is om dieselfde belofte te maak as wat van volwassenes met doop verwag is. Ten einde waarde te gee aan die seremonie is kinders dan die hande opgelê en nadat hulle voldoende getuienis van hulle geloof gegee het, is die kinders met ’n seën weggestuur. “This procedure, Calvin mistakenly believed, was the pure and original form of confirmation before it became corrupted with additions such as chrismation” (Fischer, 1992:165). Nietemin, Calvyn was ’n voorstander van aparte kerklike kategese met die oog op bevestiging, waar die bevestiging behels het dat kinders in die teenwoordigheid van die gemeente op vrae van die predikant moes antwoord (Bijlsma, 1962:66-67).

Hierdie beskrywing van Christelike inlywing moet verstaan word teen die agtergrond van ’n geheel nuwe sakramentsbeskouing, naamlik dat die doop as sakrament nie self die verlossing bewerk waarna dit verwys nie, maar dat dit ’n teken en seël, ’n onderpand, is van God se getroue beloftes dat Hy die mens wat glo uit genade (sola gratia) red. Hierdie belofte bestaan uit die gawe van die Heilige Gees wat aan die mens geloof en sodoende redding skenk en insgelyks die vergifnis van sonde. ’n Kind wat hierdie waarborg kry in die sakrament van doop, en dus geroep is tot geregtigheid, moet in die jare wat voorlê onderrig word in die geloof, sodat hy of sy op ’n latere leeftyd hierdie geloof wat aan hom of haar geskenk is, kan bely in die ritueel van belydenisaflegging.

Deur ons geloof te seël, onderhou, voed, bevestig en vermeerder die sakramente ons geloof en moet diegene wat teen hierdie siening kapsie maak eerder saam met die apostels bid “Gee ons meer geloof” (Inst.4.14.7), aldus Johannes Calvyn. Dat daar dus ’n verband is tussen ’n sakrament soos die doop en geloofsgroei, blyk duidelik ... ook dat hierdie ’n lang pad is wat gelowiges stap, ’n pad waarop onderrig en bevestiging ook hierdie geloofsgroei aanhelp en voed, is nie altemit nie.

Dit was – soos ons vroeër in die artikel gesien het – Bucer wat van meet af gepleit het vir ’n eie Protestantse rite rondom konfirmasie. Sonder om enigsins die betekenis en krag van die doop af te swak het Bucer die waarde van ’n formele konfirmasieplegtigheid gesien. Hy het ook duideliker as die ander gesien dat die konfirmasie nie maar bloot die afronding van die kategetiese onderrig aan gedoopte kinders kan wees waar dit hoofsaaklik gaan om die verwerwing van kennis en insig nie. So belangrik as wat kennis en insig is, het Bucer ten opsigte van konfirmasie ook gevra vir ’n persoonlike geloofsbelydenis en vir duidelike blyke van die Gees se werksaamheid in die persoon se lewe.

Op hierdie manier het Bucer geglo sal nie net reg gedoen word aan die sakramentele beklemtoning van God se voorkomende genade en liefde nie, maar ook duidelik blyke gegee word dat die genade altyd van ons ’n gelowige reaksie vra.

4. TEN SLOTTE

Dit is duidelik dat die Reformasie daarin geslaag het om van die groot misstande van die Middeleeuse Kerk te korrigeer. Die baie sterk klem op kategetiese onderwys was sekerlik ’n belangrike winspunt waaruit die Protestantisme vir baie jare sou put. Hoewel dit nie sonder foute of komplikasies was nie, het dit vir eeue lank ’n wesenlike rol gespeel om miljoene kinders te bind aan die geloof en aan die kerk. In hierdie sin kan sekerlik gepraat word van kerkherstel in die tyd van die Reformasie.

’n Gebrek was dat die Reformasie nie daarin kon slaag om die noue verband wat ’n mens in die kategumenaat tussen lering en liturgie gehad het te herstel nie. Om ’n verskeidenheid van redes was die reformasie diep agterdogtig teen rituele, sakramente en liturgieë wat gewone mense moes help om met God te kommunikeer al het hulle geen woord of deel daarvan verstaan nie. Hoewel

’n mens die reaksie kan verstaan is dit tog jammer dat die kerke van die Reformasie nie vinniger die waarde van ’n ryk liturgie kon herontdek nie. Dit is vererger deur die feit dat die meerderheid gereformeerde kerke nie Calvyn nie, maar Zwingli se dun en arm interpretasie van die sakramente as blote herinneringstekens nagevolg het.

Hierdie huiwering vir liturgiese rituele was een van die rede waarom hulle nie kon ooreenkom oor wat presies om van konfirmasie te maak nie. Dit is ook die rede waarom in baie gereformeerde kerke nie regtig genoeg van die doop gemaak word nie. As die doop nie meer ernstig geneem word as ’n beseëlde genadeaanbod en definitiewe identiteitsmerker nie, word mense uitgelewer aan die geestestrominge van die tyd en aan hulle eie keuses en smake. Onses insiens is dit ’n fatale fout wat hom op die lang duur op die Protestantisme sou wreek.

So kragtig was die kategetiese onderwys dat dit vir eeue hierdie ander probleme versluier het. Dit was eers met die opkoms van adolessensie as ’n nuwe lewensfase tussen puberteit en volwassenheid dat die krake in die sisteem ernstig begin wys het. Toe heelwat Protestantse kerke verder ook nog die kinderkommunie begin aanvaar, was dit duidelik dat die sisteem van doop-kategese-belydenis- aflegging- Nagmaaltoegang finaal gebreek is en dat Protestantse Kerke van nuuts af sal moet begin dink oor die manier waarop hulle hul gedoopte kinders tot ’n volwasse geloof en verantwoordelike, positiewe kerklidmaatskap begelei.

Dit is waar ons nou is – soekende na goeie antwoorde op hierdie knellende probleem. Dalk kan ’n dieper kyk na die kategumenaat ons tog help?

BIBLIOGRAFIE

Barnard, M. 1998. Doop en belijdenis. In: Oskamp, P. en N. Schuman (reds.). De weg van de liturgie. Tradities, achtergronden, praktijk. Zoetermeer: Meinema. Bijlsma, R. 1962. Kleine Catechetiek. Nijkerk: G.F. Callenbach.

Browning, R.L. en R.A. Reed. 1995. Models of Confirmation and Baptismal Affirmation. Liturgical and Educational Issues and Designs. Birmingham, Alabama: Religious Education Press.

Calvyn, J. 1989. Institutes of the Christian Religion. Translated by Henry Beveridge. Grand Rapids: W.B. Eerdmans.

Dingemans, G.D.J. 1986. In de leerschool van het geloof. Mathetiek en vakdidactiek voor catechese en kerklijk vorming. Handboek Praktische Theologie. Kampen: J.H. Kok.

Fischer, J.D.C. 1992. “Initiation: Lutheran, Anglican, and Reformed Rites”. In: Jones, C. et al (reds.). The Study of Liturgy. Revised Edition. Londen: SPCK.

Fischer, J.D.C. en E.J. Yarnold. 1992. “Initiation: The West from about AD 500 to the Reformation”. In: Jones, C. et al (reds.). The Study of Liturgy. Revised Edition. Londen: SPCK.

Grimes, R.L. 2000. Deeply into the bone. Re-inventing rites of passage. Berkeley/Los Angeles/Londen: University of California Press.

Hinchliff, P (Revised by C. Brock and the editors). 1992. “Initiation: The Modern Period”. In: Jones, C. et al (reds.). The Study of Liturgy. Revised Edition. Londen: SPCK.

Kingdon, R.M. 2004. “Catechesis in Calvin’s Geneva”. In: Van Engen, J (red.). 2004. Educating People of Faith. Exploring the history of Jewish and Christian Communities. Grand Rapids: W.B. Eerdmans. Kreider, A. 1999. The Change of Conversion and the Origin of Christendom. Christian Mission and Modern

Culture. Harrisburg: Trinity Press International.

Moore-Keish, M. 2004. “The Recovery of the Catechumenate and North American Presbyterianism”. Call to Worship. 38/1, 63-71.

Osmer, R.R. 1996. Confirmation. Presbyterian Practices in Ecumenical Perspective. Louisville, KY: Geneva Press.

Rice, H.L. en J.C. Huffstutler. 2001. Reformed Worship. Louisville, KY: Geneva Press.

Riggs, J.W. 2002. Baptism in the Reformed Tradition. An Historical and Practical Theology. Columbia Series in Reformed Theology. Louisville, KY/ Londen: Westminster John Knox Press.

Stenmetz, D.C. 2004. “Luther and Formation in Faith”. In: Van Engen, J (red.). 2004. Educating People of Faith. Exploring the history of Jewish and Christian Communities. Grand Rapids: W.B. Eerdmans. Tripp, D.H. 1992. “Initiation: The Radical Reformation”. In: Jones, C. et al (reds.). The Study of Liturgy.

Revised Edition. Londen: SPCK.

Wandel, L.P. 2004. “Zwingli and Reformation Practice”. In: Van Engen, J (red.). 2004. Educating People of Faith. Exploring the history of Jewish and Christian Communities. Grand Rapids: W.B. Eerdmans. Webber, R.E. 1994. Worship Old & New. A Biblical, Historical, and Practical Introduction. Revised Edition.

Grand Rapids: Zondervan.

Wegman, H.A.J. 1991. Riten en mythen. Liturgie in de geschiedenis van het christendom. Kampen: Uitgeverij Kok.

Wepener, C.J. 2004. “Liturgie en versoening vóór die Reformasie: 500-1550 AD”. Praktiese Teologie in Suid- Afrika. 19/1, 137–152.

Wepener, C.J. 2000. Liturgie en versoening, die inkulturasie van rituele van versoening in Suid-Afrika (‘n ondersoeksvoorstel). Voorgelê ter gedeeltelike voldoening aan die vereistes vir die graad Magister in die Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch.

http://www.elca.org/dcm/worship/publications/worship/pdf/1997/worship_november_1997.pdf

TREFWOORDE

Lering, Belydenisaflegging, Doop, Reformasie

KEY WORDS

Teaching, Confirmation, Baptism, Reformation

CW Burger Fakulteit Teologie Universiteit van Stellenbosch Privaatsak X 1

MATIELAND 7602

Tel.:(021) 8083624

E-pos:cwbu@sun.ac.za

Dr Cas Wepener Fakulteit Teologie Universiteit van Stellenbosch Privaatsak X 1

MATIELAND 7602

Tel.: (021)8083624

E-pos: cwepener@sun.ac.za

1 Wanneer daar hier van kategumenaat gepraat word moet die woord kategumenaat eintlik in aanhalingstekens geplaas word en sluit dit die sakrament van die doop, belydenisaflegging asook onderrig/kategese in, en is dit nie meer presies dieselfde proses wat tydens die Patristiek gefunksioneer het nie.

2 In hierdie afdeling word slegs gefokus op hoofstroom Reformasie en word die gebeure met betrekking tot hierdie rituele soos wat dit by die Anabaptiste en ander strominge vorm gekry het, nie aangeraak nie. Vir ‘n baie kort opsomming en enkele bronne aangaande hierdie praktyke by laasgenoemde groepe sien, Tripp (1992).

3 Vir ’n bondige oorsig oor Luther se standpunte oor die sake kan die volgende bronne geraadpleeg word: Osmer, 1996:67-74; Steinmetz; en Riggs 25-30

4 Vir ’n bondige oorsig van Zwingli se stanpunte oor hierdie sake vgl Osmer (1996:74-77); Wandel (2004:270-293) en Riggs (2002:21-25).

5 Vir ’n bondige oorsig van Calvyn se stanpunte oor hierdie sake vergelyk Osmer (1996:80-86); Kingdon

6 Vir ’n bondige oorsig van Bucer se stanpunte oor hierdie sake vgl Osmer 1996:77-80 en Riggs 30-33

7 Fischer (1992:155) noem vyf teologiese oorwegings, naamlik dat die verbond met Abraham sy nageslag insluit; doop is die besnydenis van die nuwe Israel; Jesus het klein kindertjies verwelkom en geseën; kinders van gelowige ouers is as heilig beskou en laastens is hele huisgesinne in die Nuwe Testament gedoop.

8 Sien Bijlsma (1962:60-62) vir ’n oorsig van die verskeidenheid van kategismusse wat deur verskeie Reformatore geskryf is.