Coertzen, P

Universiteit van Stellenbosch

Regsverteenwoordiging en kerklike ondersoeke

ABSTRACT

Legal representation and church inquiries

This article is about the theological and confessional reasons why the Dutch Reformed Church does not allow legal representation in its church inquiries. The article argues that for the church to allow professional legal representation of parties in church enquiries will be in contradiction with the faith and confessional character of church inquiries, specifically disciplinary inquiries. Parties in a church inquiry can be assisted by a person who helps them but not by a legal representative who speaks for them.

1. Sedert 1994 waarborg die Grondwet van Suid-Afrika in art 15 “Vryheid van godsdiens, oortuiging en mening” (Grondwet,Wet 108van 1996, art 15). Uit die aard van die saak is daar ’n wye verskeidenheid van menings oor wat godsdiensvryheid behels (sien o.m. Vermeulen & Kanne,2004,76-77; Sap,2004,114-117; Blei,2003,2-3 en Van Drimmelen,sa,199). ’n Redelik algemeen aanvaarde omskrywing is die van die Universele Deklarasie van Menseregte (1948) wat in art 18 soos volg lees: ”Everyone has the right to freedom of thought, conscience, and religion; this right includes freedom to change his religion or belief, and freedom, either alone or in community with others and in public or private to manifest his religion or belief in teaching, practice, worship, and observance.” (Van der Vyver,1996, Religious Perspectives XXIV). Artikel 9 van die Europese Konvensie vir die Beskerming van Menseregte en Vryhede, met sy byna identiese eweknieë in die Internasionale Konvensie oor Burgerlike en Politieke Regte (1966) en die Amerikaanse Konvent van Menseregte (1969); lees soos volg: (1) “Everyone has the freedom of thought, conscience, and religion; this right includes the freedom to change his religion or belief and freedom either alone or in community with others and in public or private, to manifest his religion or belief, in worship, teaching practice, and observance.” (2) Freedom to manifest ones’s religion or beliefs shall be subject only to such limitations as are prescribed by law and are necessary in a democratic society in the interest of public safety, for the protection of public order, health or morals, or for the protection of the rights and freedoms of others.” (Van der Vyver,1996, Legal Perspectives, 26).

In die Suid-Afrikaanse Grondwet word vryheid van godsdiens, oortuiging en mening in art 15 (1) in die volgende woorde omskryf: “Elkeen het die reg op vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening.” Art 15 (2) maak voorsiening vir die beoefening van godsdiens by staats- of staatsondersteunde instellings onder bepaalde voorwaardes terwyl art 15 (3) voorsiening maak vir wetgewing vir spesifieke soorte huwelike gegewe sekere voorwaardes.

In sy poging om die wesenlike regte en vryhede van godsdiens te peil, onderskei John Witte die volgende as wesenlike elemente van godsdiensvryheid :

1. vryheid van gewete;

2. die vrye beoefening van godsdiens;

3. die erkenning van godsdiens-pluralisme;

4. godsdiensgelykheid;

5. die skeiding van kerk en staat en

6. die nie–vestiging (disestablishment) van enige godsdiens deur die staat (Witte,2000,37).

2. Bogenoemde is inderdaad handige onderskeidinge wat ons help om te verstaan wat godsdiensvryheid alles behels. Uit die aard van die saak is die omskrywing van godsdiensregte in grondwette en internasionale deklarasies ook baie fundamenteel vir die verstaan van godsdiensvryheid. Die relevante vraag vir hierdie artikel is of die gewaarborgde reg tot godsdiensvryheid in die geval van kerklike ondersoeke en meer spesifiek tugondersoeke, dit vir kerke moontlik maak om lidmate se reg op ’n regspraktisyn te beperk.

2.1 Artikel 35(3) van die Grondwet van SA (1996) lees: “Elke beskuldigde persoon het die reg op ’n billike verhoor, waarby inbegrepe is die reg – soos verwoord in art 35(3)(f), “op ’n regspraktisyn van eie keuse en om deur daardie regspraktisyn verteenwoordig te word, en om onverwyld van hierdie reg verwittig te word.” (sien Currie & De Waal, 2005, 760vv). Dit is interessant om daarop te let dat die Handves van Regte praat van “’n regspraktisyn” en nie ’n regsverteenwoordiger nie. Die Verklarende Handewoordeboek van die Afrikaanse Taal beskryf ’n regspraktisyn soos volg “Regsgeleerde wat praktiseer; advokaat, prokureur wat sy beroep uitoefen” (Verklarende Handwoordeboek,1981,889).

2.2 Artikel 63.8.4 van die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (2004) lees soos volg met betrekking tot die “Vereistes vir ’n tugondersoek”: “Die partye is nie geregtig op iemand wat namens hulle optree nie, maar kan bygestaan word deur ’n lidmaat van ’n eie of ander gemeente.”

2.3 Dit gebeur meer kere dat aangeklaagdes en ook klaers in kerklike tugondersoeke hulle op die gemelde grondwetlike reg beroep en aanspraak maak op “regsverteenwoordigers”. Net om te hoor dat hierdie reg nie in die NG Kerk geld nie en dan verwys te word na KO(2004) art 63.8.4.

2.4 Dit laat die vraag ontstaan of die kerk die reg het om hierdie grondwetlike reg van burgers van SA wat ook lidmate van die NG Kerk is te beperk deur uitdruklik te bepaal dat die partye in kerklike tugondersoek nie geregtig is op iemand wat namens hulle optree nie. Hulle kan wel bygestaan word deur ’n lidmaat van die eie of ’n ander gemeente.

2.5 Artikel 36 van die Grondwet, die sg “Beperking van Regte” klousule maak dit moontlik vir beide die staat en enige instelling van die burgerlike samelewing om sekere regte, vervat in die Handves van Regte te beperk mits dit gebeur in ooreenstemming met die vereistes van die Grondwet. Die Grondwet skryf sekere prosedures voor waarvolgens regte beperk kan word in sowel die staat as in die burgerlike samelewing.

Regte kan intern, deur die Grondwet self beperk word deurdat die grondwetartikel wat dit verskans, dit (i) kwalifiseer (a. 17-regte mag bv slegs vreedsaam en ongewapen uitgeoefen word) óf (ii) aan ’n verdere beperkende bepaling onderhewig stel (die a.16(1)-reg op vryheid van uitdrukking sluit bv ingevolge a. 126 (2), nie beskerming van sogenaamde “haatspraak” in nie). Regte kan ook ekstern, deur algemeen geldende regsreëls anders as grondwetbepalings, beperk word mits sodanige beperking (i) redelik is en regverdigbaar in ’n oop demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid en (ii) aan sekere proporsionaliteitsvereistes voldoen (a. 36 (1).

Instellings van die burgerlike samelewing (soos bv kerke) kan deur die formulering van interne grondwette, statute, kerkordes, bepalinge en reglemente die beperkingsmoontlikhede wat die Grondwet bied, benut om elkeen van die bepalinge van die Handves van Regte te interpreteer of te herinterpreteer binne die konteks van die interne grondwet van die instelling. In die geval van kerke sal dit neerkom op ’n interpretasie of herinterpretasie na aanleiding van die geloofsaard van die kerk soos dit onder meer neerslag vind in die belydenis en orde van ’n kerk. So ’n herinterpretasie sal, veral waar dit op beperking van die regte van die Handves van Regte deur ’n kerk, in die lig van art 36, telkens baie goed gemotiveer moet kan word met inagneming van die geloofsaard van die kerk. Sodanige beperking sal ook moet voldoen aan die vereistes gestel in art 36 (vgl. Du Plessis,1999,204-206).

3. Oor die proses in ’n hof, of te wel die “billike verhoor” (Grondwet,1996,art 35) in teenstelling met die ondersoek in ’n kerklike tugondersoek, skryf Sadler soos volg: “’n Regter is iemand wat opgelei is om met wetenskaplike presiesheid feite en argumente te ondersoek en te weeg, en om dan met onpartydige objektiwiteit reg te spreek, sonder om die gevolge in ag te neem. Só mag die ampsdraer homself nie in die tughandeling sien nie. Hy moet eerder vervul wees met die gesindheid van ’n vader teenoor sy kind, wat die kind lief het en hom van sy dwaalweg wil bekeer.” (Sadler,1979,13). Wat Sadler hier van ’n regter skryf, geld ook in ’n sekere sin van ’n “regspraktisyn”. Prof Lourens du Plessis skryf oor advokate die volgende: “Advokate is gedingspesialiste en mag in enige hof in die land verskyn. Hulle werk bestaan merendeels daaruit dat hulle pleitstukke opstel, in die hof verskyn en skriftelike regsmenings (meesal met die oog op gedingvoering) aan kliënte gee.” Van prokureurs geld dit ook dat hulle pleitstukke in siviele gedinge opstel en verskyn in straf- en siviele gedinge in landdroshowe (Du Plessis,1992,113,114). Hierby sou sekerlik ook nog gevoeg kan word dat die regspraktisyn námens die aangeklaagde praat – toegepas op die kerklike tugondersoek sal dit beteken dat die persoon wat van ’n sonde aangekla word, eintlik nie self aan die woord kom nie. Daar kom nie ’n gesprek tot behoud van die sondaar tot stand nie. Op hierdie wyse word die hele doel van die kerklike tugondersoek dus verydel en ontaard dit in ’n gesprek met ’n regsgeleerde wat met groot regskennis, vernuftigheid, en die aanvoer van allerlei regsargumente sal probeer om sy “kliënt” “los” te kry afgesien daarvan of daar gesondig is of nie. Voeg hierby die kommerwekkende verskynsel dat dit klaar al gebeur dat aangeklaagdes in kerklike tugondersoeke regsgeleerdes kry om hulle by te staan én dat hierdie persone geldelik vergoed word. Hier brand baie groot gevaarligte vir die geestelike aard van die kerklike tug en daar sal iets hieraan gedoen moet word. Dit is nie ’n probleem as ’n regsgeleerde iemand bystaan in ’n kerklike tugondersoek nie maar sekerlik nie teen vergoeding nie. Uiteindelik sal dit gebeur dat die een wat die meeste betaal die beste bystand sal kry ten koste van die een wat nie kan betaal nie. Die bystaan van iemand deur ’n regsgeleerde moet ook nooit daartoe meewerk dat die doel van die kerklike tug ondermyn word nie.

4. Dit is belangrik om daarop te let dat tugmaatreëls in die kerk nie toegepas kan word voordat die klag waarom dit gaan nie eers behoorlik ondersoek is nie. Oor hierdie ondersoek bepaal die NG Kerk in sy Kerkorde (2004), art 60.1: “Die kerklike opsig en tug dra ’n geestelike karakter en pas by die kerk as ’n geloofs- en ’n liefdesgemeenskap. Opsig en tug word dus op ’n kerklike wyse en met geestelike middele uitgeoefen.” In art 60.3 staan daar: “Amptelike kerklike opsig en tug is pastoraal kerkregtelik van aard en moet uit ’n Bybelse en geestelike oogpunt billik en regverdig toegepas word.

5. Oor tugondersoeke skryf dr T H N Sadler in sy boek Die Kerklike Tughandeling soos volg “Dit is van kardinale belang om te begryp dat die handeling wat verrig word ’n tugondersoek is, en nie ’n verhoor nie. Die klaer kom nie reg soek teen die aangeklaagde nie, maar verlang slegs dat “alles onderhou moet word in gehoorsaamheid aan God” ( in Hofmeijr N.J., De Kerk en de Regbank,38). Daar kan en mag geen sprake wees van ’n vervolging van een lidmaat deur ’n ander nie. Die tughandeling is primêr nie gerig op ’n skuldigbevinding van en ’n tugmaatreël teen ’n aangeklaagde nie, maar op sy bekering. Daarom is die ondersoek geen “proses” nie maar eerder

’n gesprek met die sondaar om hom met sy sonde te konfronteer en hom tot inkeer te bring. Dit is die kerk self wat deur sy kerkvergaderinge optree om die sonde uit sy boesem te weer, en daarom dra die kerk die verantwoordelikheid daarvoor om ondersoek in te stel na die waarheid al dan nie van die klag” (Sadler,1979,120).

6. Die karakterisering van die kerklike tug as ’n saak wat ’n “geestelike karakter” dra wat “pas by die kerk as ‘n geloofs- en ’n liefdesgemeenskap” (KO 2004, art 60.1), en die ondersoek as ’n gesprek wat die sondaar met sy/haar sonde wil konfronteer en hom/haar tot inkeer wil bring, het ’n duidelike en diep geestelike oorsprong in die Heilige Skrif. Daarvan kan gelees word in Skrifgedeeltes soos Esegiël 3:16–20; Matteus 18:15-17; Johannes 20:22-23 en 1 Korintiërs 5:1-5.

6.1 Uit Esegiël 3 is dit duidelik dat Esegiël aangestel is as ’n wag om die goddelose en die mens wat die regte weg verlaat het, te waarsku sodat hy/sy gered kan word. As hy dit nie doen nie sal hy skuldig wees aan die bloed van die persoon wat verlore gaan.

6.2 Matteus 18 gebruik eksplisiet in die 1983-vertaling die woord “teruggewen”(vs 15) om aan te toon dat dit die rede is waarom daar met die “broer” gepraat word.

6.3 Johannes 20 het dit oor die dissipels (as kerk) wat met die Heilige Gees bekragtig word en die gesag ontvang om sondes te vergewe of nie te vergewe – ’n gesag wat eintlik ontsagwekkend is.

6.4 1 Korinties 5:1-5 het dit oor ’n lidmaat wat ’n verskriklike sonde pleeg. Die gemeente van Korinte word opgeroep om hulle oor die sonde in hulle midde te verootmoedig, eintlik te treur en om hulle verantwoordelikheid in hierdie verband na te kom. Paulus skryf in 1 Korintiërs 5:3-4 van: “Julle daar, en ek in die gees teenwoordig, saam met die krag van ons Here Jesus het vergader om hierdie man aan die satan oor te gee. So sou sy sondige aard vernietig word, sodat sy gees gered kan word op die dag wanneer die Here kom”.

7. Die diepe geestelike aard van ’n kerklike tugondersoek en tughandeling kom op ’n besondere manier na vore in al die bogemelde teksgedeeltes, veral in 1 Korintiërs 5:3-5.

7.1 Hierdie Skrifwaarhede en ander het o.m. neerslag gevind in die Nederlandse Geloofsbelydenis waar daar in artikel 30 die volgende staan: “Ons glo dat hierdie ware kerk ooreenkomstig die geestelike bestuurswyse wat ons Here ons in sy Woord geleer het (my beklemtoning PC), geregeer moet word. Daar moet naamlik dienaars of herders wees om die Woord van God te verkondig en die sakramente te bedien; ook ouderlinge en diakens om saam met die herders ’n kerkraad te vorm. Deur hierdie middel moet hulle sorg dra dat die ware godsdiens onderhou word, die ware leer oral versprei, die oortreders op geestelike wyse vermaan en in toom gehou en dat ook die armes en beproefdes volgens hulle nood gehelp en getroos word (my beklemtonings PC)(Nederlandse geloofsbelydenis art 30). Artikel 32 van die Nederlandse Geloofsbelydenis het dit oor “Die orde en die tug van die kerk” en sluit af met die volgende paragraaf: “Ons aanvaar derhalwe slegs wat kan dien om eendrag en eenheid te bewaar en te bevorder, en om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou. Daarvoor is nodig die ban en alles wat daarmee saamhang, toegepas ooreenkomstig die Woord van God (my beklemtoning PC) (Nederlandse Geloofsbelydenis art. 32).

7.2 Hierdie aanhalings uit die Nederlandse Geloofsbelydenis beklemtoon baie duidelik die geestelike aard van die kerklike tug wanneer daar gepraat word van ’n “geestelike bestuurswyse”, dat dit ’n middel is wat die “ware godsdiens” moet onderhou, dat oortreders op “’n geestelike wyse vermaan en in toom gehou” moet word en dat selfs wanneer daar in artikel 32 van die ban gepraat word dan lees dit dat dit toegepas moet word ooreenkomstig die Woord van God. Dit gaan inderdaad nie om ’n hofsaak of ’n verhoor waarin ’n persoon skuldig of onskuldig bevind moet word nie maar om ’n geestelike ondersoek wat primêr die behoud van die sondaar ten doel het.

8. Dit wat Gereformeerde kerke in die Nederlandse geloofsbelydenis bely, het ook neerslag gevind in Gereformeerde Kerkordes, Kerkordes wat sedert 1652 ook aan die Kaap nagevolg is.

8.1 Artikel 71 van die baie bekende en gesaghebbende Dordtse Kerkorde van 1618/1619 lees soos volg “Censuur. Gelijk de Christelijke straf geestelijk is, en niemand van het burgerlijk gericht of straf der overheid bevrijdt, alzoo worden ook, benevens de burgerlijke straf, de kerkelijke censuren noodzakelijk vereischt, om den zondaar met de kerk en zijnen naaste te verzoenen, en de ergernis uit de gemeente van Christi weg te nemen.”

8.2 Die heel eerste Kerkorde van die algemeen-sinodale verband van die NG Kerk, goedgekeur in 1962 lees in art 57 soos volg wat betref kerklike tugondersoeke “Aangesien die kerklike opsig en tug ’n geestelike karakter dra, moet die opsieners by die uitoefening daarvan die toon van die burgerlike regspleging vermy. Hulle mag hulself nooit as regters beskou nie, maar moet as vaderlike opsieners, met diepe ootmoed voor God en met tere liefde en belangstelling, die oortreders probeer terugbring van hulle dwaalweë, sonder aansien van persoon.” Hierop volg dan art 58 wat lees “Tugmaatreëls mag nie toegepas word voordat ’n klag grondig ondersoek is en sonder dat die beklaagde genoegsame geleentheid gehad het om homself te verdedig nie.” Hierdie bewoording is in opvolgende kerkordes gehandhaaf totdat dit by die Algemene Sinode van 1998 verander is om in artikel 59.1 en 59.3 te lees “Die kerklike opsig en tug dra ’n geestelike karakter en pas by die kerk as ’n geloofs- en liefdesgemeenskap. Opsig en tug word dus op ’n kerklike wyse en met geestelike middele uitgeoefen” (59.1). “Amptelike kerklike opsig en tug is pastoraal- kerkregtelik van aard en moet uit ’n Bybelse en geestelike oogpunt billik en regverdig toegepas word” (59.3). Ook ander kerke van Gereformeerde belydenis beklemtoon die geestelike karakter van die kerklike ondersoek.

8.3 Die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Nederland (1959) lees in artikel 106 “Omdat vermaan en tucht een geestelijk karakter dragen, zullen zij ook op geestelijke wijze geoefend worden, met vermijding van alle wereldse machtsmiddelen.” Oor die wêreldse magsmiddele skryf Nauta in sy Verklaring van die Kerkorde: “Bij die wereldse machtsoefening zullen wij inzonderheid moeten denken aan de machtsmiddelen, die aan de Overheid ter beschikking staan. De kerkelijke ambtsdragers moeten alles vermijden bij hun uitdelen van vermaningen en hun toepassen van de tucht, wat maar eniger mate de herinneringen zou kunnen opwekken aan methoden, die bij een dergelijke machtsoefening te pas komen. Heel hun wijze van optreden moet daarvan principieel en tot in bizonderheden toe verschillen. Alles moet daarbij een heel andere geest ademen. Niemand moet ook maar op de idee kunnen komen, dat men te maken zou hebben met een politioneel optreden of met een vertoon van geweld, dat iemand overdondert.” (Nauta,1971,358). Die kern van die geestelike aard van die kerklike ondersoek vind Nauta in Filippense 2:1-4 (Nauta,1971,359).

8.4 Die Christian Reformed Church van Noord Amerika bewoord die doel van kerklike vermaning en tug soos volg: “The purpose of admonition and discipline is to restore those who err to faithful obedience to God and full fellowship with the congregation, to maintain the holiness of the church, and thus to uphold God’s honor.” (Manual of Christian Reformed Church Government,2001,433).

8.5 Die nuwe Protestantse Kerk in Nederland bepaal in sy Kerkorde van 2003 in artikel XII (1) die volgende oor die kerklike opsig: “De gemeente is geroepen te blijven in de weg van het belijden van de kerk. Het opzicht, gegrond in de barmhartigheid van Jezus Christus, geschiedt tot eer van God, tot bewaring van de gemeente en tot behoud van hen die dwalen.” Hierdie Kerkorde- artikel word dan verder uiteengesit in Ordinansie 10 (10) (1), derde subparagraaf met die volgende: “Een besluit tot toepassing van een middel van kerkelijke tucht kan slechts genomen worden nadat (subparagraaf 3) betrokkene in het gelegenheid is gesteld zich – in een vergadering van het college van predikant(en) en ouderlingen respectievelijk het regionale college voor het opzicht - te rechtvaardigen, desgewenst bijgestaan door een raadsman of –vrouw. Kerkorde PKN,

2003,art.XII,Ordinantie 10 (10 (1)); sien ook Van den Heuvel,2004,239, 251 en 256). Die voorsiening vir ’n raadsman of raadsvrou wat die beskuldigde kan bystaan word ook herhaal in die Generale Regelingen behorende bij de Kerkorde van de Protestantse Kerk in Nederland, Procedure bij Colleges die Belast zijn met een Beslissing over het toepassen van een middel van Kerkelijke Tucht, Artikel 14 (2).

9. Kerklike opsig en tug met die gepaardgaande tugondersoek as ’n diepliggende geestelike aangeleentheid hoort tot die wesenlike geloofsidentiteit van ’n gereformeerde kerk. Dit word ook onomwonde bely in die Nederlandse Geloofsbelydenis art 29: “Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken is die volgende : wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sonde te bestraf.” Die NG Kerk het, soos ander gereformeerde kerke, die geestelike aard van die kerklike tug ook in sy Kerkorde verwoord. Wie deur regsverteenwoordiging van die kerklike tug iets wil maak wat dit nie moet wees nie doen hierdie belydenis en die geestelike aard van die tug geweld aan. Die kennis, vaardigheid en integriteit van regspraktisyns word hoegenaamd nie bevraagteken as die kerk sê dat hy nie regspraktisyns as verteenwoordigers van aangeklaagdes by tugondersoeke wil toelaat nie. Die rede is geleë in die besondere aard van die kerklike tugondersoek en die doel wat die kerk met dusdanige ondersoeke wil bereik – die behoud van die sondaar. Die metode en doel van regspraktisyn wat iemand verteenwoordig met die primêre doel om die persoon “los” te kry, verskil sover van die metode en doel van die kerklike tugondersoek dat dit nie met mekaar versoen kan word nie. Die kerk maak egter wel voorsiening dat ’n tugondersoek billik en regverdig moet geskied en dat die aangeklaagde deur iemand bygestaan kan word.

In die lig van sy geloofsidentiteit – soos verwoord in Skrif, Belydenis en Kerkorde - die geestelike aard van die kerklike opsig en tug en die gewaarborgde reg tot godsdiensvryheid soos hierbo uiteengesit en beredeneer, kan daar tot die slotsom gekom word dat die NG Kerk die reg het om verteenwoordiging deur ’n regspraktisyn in kerklike tugondersoeke, geregverdigd te mag beperk. Dit beteken nie dat daar nie billike en regverdige ondersoeke moet plaasvind nie of dat lidmate nie deur iemand bygestaan mag word nie.

BIBLIOGRAFIE

Blei, K, 2002, Freedom of Religion and Belief: Europe’s Story. Koninklijke Van Gorcum BV, Postbus 43, 9400 Assen, Nederland.

Currie, Ian , De Waal Johan, 2005, The Bill of Rights Handbook, (fifth edition), Juta, Landsdowne. Du Plessis, Lourens M, 1999, Inleiding tot die Reg (derde uitgawe). Juta en Kie, Beperk.

Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, Wet 108 van 1996.

Generale Regelingen behorende bij de Kerkorde van de Protestantse Kerk in Nederland, 2003, Uitgeverij Boekencentrum, Zoetermeer.

Kerkorde en ordinanties van de Protestantse Kerk in Nederland inclusief de overgangsbepalingen, 2003, Uitgeverij Boekencentrum, Zoetermeer.

Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1962, In: Agenda van die eerste vergadering van die Hoogeerwaarde Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika, gehou te Kaapsta op 11 Oktober 1962 en volgende dae. Nasionale Handelsdrukkery, Elsiesrivier.

Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk met Reglemente en Besluite van Kerkregtelike aard soos vasgestel deur die Algemene Sinode in Oktober 1998, saamgestel deur prof P Coertzen, Aktuarius van die Algemene Sinode. Hugenote-Uitgewers, Wellington.

Kerkorde 2004, Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk met Reglemente, Kerkordelike Riglyne en Funksionele besluite soos vasgestel deur die Algemene Sinode Oktober 2004. Saamgestel deur Dr Nelus Niemandt, Aktuarius van die Algemene Sinode. Lux Verbi.BM, Wellington.

Manual of Christian Reformed Church Government, 2001 Revision, CRC Publications, Grand Rapids. Nauta,D, 1971, Verklaring van de Kerkorde van de Gereformeerde Kerken in Nederland. J H Kok, Kampen. Nederlandse Geloofsbelydenis (Die). In: Handboek vir die Erediens van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1988. N G Kerk-Uitgewers, Kaapstad.

Sadler,T H N ,1979, Die Kerklike Tughandeling. N.G. Kerkboekhandel Transvaal, Pretoria.

Van de Heuvel, P, 2004, De Toelichting op de Kerkorde van de Protestantse Kerk in Nederland, Uitgeverij Boekencentrum, Zoetermeer.

Van der Vyver, J D & Witte, J (eds), 1996, Religious Human Rights in Global Perspective, Legal Perspectives. Marthinus Nijhoff Publishers, The Hague, Boston, London.

Van der Vyver, J D & Witte, J (eds), 1996, Religious Human Rights in Global Perspective, Religious Perspectives. Marthinus Nijhoff Publishers, The Hague, Boston, London.

Van Drimmelen, L.C., s.j., Kerk en Staat. In Van’t Spijker, W & Van Drimmelen, L. C. s.j. Inleiding tot de Studie van het Kerkrecht. J H Kok, Kampen.

Vermeulen,, B.P.,2004, Kerk en Staat en de Mensenrechten. In: Van Drimmelen & L.C.Van der Ploeg, T.J., 2004, Kerk en Recht. Lemma, Utrecht

Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT), 1981, Perskor-Uitgewery.

Witte, John, 2000, Religion and the American Constitutional Experiment. Essential Rights and Liberties. Westview Press.

TREFWOORDE

Kerk Kerkreg Tug Regsverteenwoordiging Regspraktisyn Godsdiensvryheid

KEY WORDS

Church Church Law Discipline Legal representation Legal representative Freedom of religion

P Coertzen

Fakulteit Teologie

Universiteit van Stellenbosch

Privaatsak X1

STELLENBOSCH 7602

Tel. Huis: (021) 887 2619 e-posadres: pc@sun.ac.za