Strauss, PJ

Universiteit van die Vrystaat

Die regsposisie van kerke in ’n verenigingsproses: die NG Kerk teen die agtergrond van ontwikkelinge in België

ABSTRACT

The legal position of churches in a process of unity: the Dutch Reformed Church against the background of developements in Belgium

In Belgium three lines of approach by the civic courts of the church developed since the country’s independence in 1831. In the first two lines of approach the autonomy of the assemblies or tribunals of the church – to do things in a just way – is respected and treated as such. The third option remains a possibility but it means that courts may also apply the European Charter of Human Rights as an approach to meet out justice in church affairs.

In South Africa it is believed that in processes of church unity a small minority in a congregation can prohibit and stop the majority by applying the so-called universitas principle by which the church is defined as a society. It means that 1 or more people can keep the church buildings and remain the congregation if they do not want unity. The author argues that by supporting this the courts are not meeting out justice as accepted in general.

INLEIDEND

Die verhouding tussen kerkreg soos vertolk en toegepas deur die kerk en “die reg” soos vertolk en toegepas deur organe van die staat soos die howe, is die afgelope 10 jaar of meer druk in sommige kringe in Suid-Afrika en België bespreek. By eersgenoemde verwys ek na prosesse van kerkvereniging of kerkhereniging wat in die familie van NG Kerke wat vroeër as “apartheidskerke” getipeer is, aan die orde is. By laasgenoemde konsentreer ek op ’n nuwe akademiese en kerklikgerigte belangstelling in die saak aan die Fakulteit Kerkreg van die Katolieke Universiteit van Leuven. Hierdie fakulteit is die enigste hoër onderwysinrigting in België waaraan kerkreg gedoseer word (Torfs 2005:30). Vergelyk hiermee die feit dat 70% van die inwoners van België Rooms Katoliek is – amptelike syfers wil dit hê dat nie-Christene en nie-Jode minder as 350,000 uit 10 miljoen tel (Torfs 2005:9) – terwyl die Christene in Suid-Afrika by die jongste sensus op byna 80% beraam is. In albei lande is geloofsvryheid of die regsposisie van die Christelike kerk dus van kardinale belang.

Hoewel sommige geykte posisies of standpunte onder hierdie tema – soms in ’n verwerkte vorm – nog springlewendig is, wil dit voorkom asof die denkrigting dat die kerk met die hof of die staatsreg – soos ook internasionaal vertolk – in sy vertolking en toepassing van die reg van die kerk moet rekening hou, in breë kerklike kringe aanvaarding geniet.

Dit is egter ook duidelik dat die bekende Duitse geleerde van Leipzig, Rudolph Sohm (1841- 1917) met sy skeiding tussen die sogenaamde suiwer geestelike karakter van die kerk en die reg wat hy wêrelds noem (1923:1,22,26vv), nie net ’n geestelike nasaat van Luther met sy onderskeid tussen wet en evangelie (as God se vreemde werk teenoor sy eie werk) en grondmotief van natuur en genade was nie, maar self ook geestelike nasate het. In die literatuur van sekere outeurs uit Leuven wat origens verdienstelike resultate oplewer, bly die woorde “heilig” en “profaan” as byvoeglike naamwoorde vir onderskeidelik kerkreg en staatsreg vassteek (Torfs 2003a:270). Dieselfde tendens is in die NG Kerk sigbaar. RM Britz is byvoorbeeld ongekwalifiseerd van oortuiging dat dit onmoontlik is om die heerskappy van Christus deur reglemente of ordereëls te handhaaf: “Dit doen hy tog self – deur die bediening van die Woord waarin die Heilige Gees deel” (Die Kerkbode 13:09:1991, vgl Coertzen 2003:222). Coertzen se betoog dat “reg as sodanig” nie tot die reg van die staat beperk kan word of noodwendig profaan of wêrelds is nie, maar dat verskillende soorte reg soos personereg, huweliksreg, verenigingsreg, arbeidsreg en kerkreg elkeen op sy eie terrein uniek en aanvaarbaar (verantwoord) is, lewer ’n argument tot die teendeel. Hy glo dat kerkreg van ander terreine van reg onderskei kan word en verband moet hou met die unieke eie aard van die kerk (2001a:19; 2003:201).

WISSELWERKING TUSSEN DIE KERK EN ’N BREED AANVAARDE KONSEP VAN MENSEREGTE

Dit is weer Coertzen wat aanvoer dat die kerkregtelike gesprek tussen Rooms Katoliek en Protestant talle vrugbare besprekingspunte kan oplewer soos die vraag na die kerk en reg waarby die ordes van “regsprosesse” in die kerk ook betrek is. Die vraag is of hierdie twee sake net hand aan hand en in gesonde spanning met mekaar moet loop en of dit nie moet verenig nie? Die vrug van so ’n vereniging kan help dat mense se regte in die sogenaamde “geestelike bestel”, die kerk, op ’n verantwoorde wyse beskerm word (2003:231). Coertzen word hierin deur Rik Torfs van Rooms Katolieke kant ondersteun. Vanuit Leuven is hierdie kundige daarvan oortuig dat die kerk aan geloofwaardigheid onder die breë publiek wen as hy in sy kerkregtelike of ordelike prosesse aanvaarde regsprosesse verreken. Wat hom betref word kerke in die Europese omgewing in ’n toenemende mate gekonfronteer met ’n onvermydelikheid wat nie teologies van aard is of deur die staat “hardhandig” afgedwing word nie. Dit gaan om ’n morele onvermydelikheid wat gepaard gaan met ’n appél wat van die samelewing uitgaan: dus nie net van die geloofsgemeenskap nie, maar van die samelewing as geheel. Dit gaan nie langer meer net om die gesprek tussen kerk en staat nie, maar tussen kerk, staat en samelewing (2003a:260).

Torfs maak sy gevolgtrekking op grond van sy waarneming van die stand en status van die Europese Verdrag van Menseregte (lees EVRM) in die Belgiese gemeenskap, sowel as sy implisiete oortuiging dat ’n aanvaarbare standpunt oor die regte en verpligtinge van die mens nie deur die kerk verontagsaam kan word nie (2003a:271). Hy kom tot die gevolgtrekking dat die EVRM as die hoogste wet – dit staan ook bo die Belgiese grondwet wat in sy oorspronklike vorm in 1831 aanvaar is – emosioneel en andersins in België beskou word (2003b:3). Hierdie toedrag van sake gee verdere hefboomkrag aan Torfs se aanduiding van die EVRM as ’n onvermydelikheid.1 Hy voer aan dat ’n kerklidmaat in hierdie klimaat vandag redelikerwys moet kan verwag dat kerklike liggame voldoende “rechtsmiddelen” of kerklike maatreëls het om die eventuele aantasting van sy persoonlike regte teen te gaan (2003a:271). Op sy beurt oordeel Coertzen dat billike en regverdige kerklike prosesse deel van aanvaarde kerklike of Christelike norme moet wees. Daarom voer hy uit die Kerkorde van die NG Kerk aan, gekomplementeer met sy betoog van ’n unieke eie aard van die kerk en sy reg, dat amptelike kerklike opsig en tug “pastoraal-kerkregtelik van aard is” en uit ’n “Bybelse en geestelike oogpunt billik en regverdig” toegepas moet word (2003:223). Op ’n ander plek beweer hy dat teoloë moet kennis neem van die belangrike rol wat menseregte en ander tendense vandag in die regswetenskap – waarskynlik ook by die vasstelling van dit wat billik is – speel, maar die gebruik daarvan in die kerk beide teologies en juridies/ordelik/regtelik behoort te fundeer (2003:201).

Albei skrywers is dus daarvan oortuig dat die breë opvatting in gemeenskappe dat die reg bou op die idee van menseregte, nie deur die kerk geïgnoreer kan word nie. Albei laat hulle ook gunstig uit oor die samewerking of wedersydse beïnvloeding van die teologiese toepassing van die verstaan van die kerk en die toepassing van die reg. Coertzen is daarvan oortuig dat die kerke, selfs al sou hulle in vryheid sui generis regspersone met ’n eie interne verbandsreg wees, nie net op interne regsbeginsels aangewese is nie, maar dat die geldigheid van hulle besluite – ekstern – in die burgerlike hof beregbaar bly (2001b:121; vgl Sadler 1989:137vv vir ’n tipering van die eie verbandsreg van die kerk).

Op sy beurt stel Torfs die oortuiging dat teologie, kerkreg en “profane reg” nie uit mekaar se vaarwater kan bly nie, omdat dit nie in alle gevalle glashelder van mekaar onderskei kan word nie. Teologie het volgens hom normaalweg te make met helder konsepsies wat op die rede ingestel is, terwyl die reg meer pragmaties is en op ’n billike resultaat ingestel is. Hy opper grondige besware teen ’n skeiding. ’n Keuse vir teologiese konsepte is ’n keuse vir ’n afgeslote diskoers en ’n implisiete keuse vir die intellektuele supremasie van deduktiewe denke. Vir hom beteken regsbeskerming met aandag vir menseregte in die kerk dat ’n vreemde faktor ingebring word wat ’n eksterne korreksie op kerklike handelinge kan wees en die “verlatenheid” van die kerk in hierdie opsig blootlê. Die teologiese verantwoording van internkerklike regsbeskerming vind hy wel belangrik. Kerkreg wat van teologie losgemaak word, verval in ’n regspositivisme. Aan die ander kant verwerp hy ’n eksklusiewe of suiwer teologiese verantwoording van regsbeskerming as gevaarlik. So kan die helder konsep ten koste van die billike resultaat seëvier. Die kerk het syns insiens voldoende regsmiddele nodig om die aantasting van persoonlike regte teen te gaan (2003a: 259vv). Op hierdie basis bly Torfs dus ’n oortuigde voorstander van ’n onderlinge wisselwerking en afhanklikheid tussen kerk en staat.

Op voetspoor van Koffeman (2003b:114vv) meen Torfs – hy beredeneer dit ook – dat die EVRM se vereistes vir die kerk ten opsigte van billikheid op 7 sake neerkom: hieronder tel hy toegang tot die regter, ’n openbare behandeling van die saak, onafhanklikheid en onpartydigheid van die regter, gelykberegtiging van die partye in die saak en die motivering van die uitspraak. Hy wys veral op die geldigheid van twee reëls wat spruit uit sogenaamde natuurlike geregtigheid, uit die Middeleeue kom en beslis moet figureer: nemo iudex in re/causa sua en audi et alteram partem (Niemand is regter in sy eie saak nie en die anderkant van die saak moet ook gehoor word) (2003a:259vv).

Sowel Koffeman as Torfs poog dus om te kom tot ’n verantwoorde beïnvloeding van die kerk deur die reg en ’n gesonde wisselwerking tussen die twee.

HANTERING VAN KERK DEUR STAATSORGANE

Vanaf Belgiese kant is daar in die onlangse verlede voortdurend aandag gegee aan die saak met die gepubliseerde bydraes uit Leuven van die Fakulteit Kerkreg opvallend. In hierdie opsig wil ek verwys na Warnink wat die saak goed opsom en Torfs wat rigtinggewend probeer wees. Hoewel die klem van hierdie artikel op die regsposisie van kerke in kerklike eenheidsprosesse val, word die moontlikheid dat “Suid-Afrika” hierin iets van “België” kan leer, deurgaans oopgehou.

Warnink toon aan dat die howe in België sedert sy onafhanklikwording in 1830 en die promulgasie van sy grondwet in 1831 drie verskillende posisies ten opsigte van kerk se interne (regs-) outonomie ingeneem het.

In die eerste geval was daar die minste kontrole of inmenging in die “interne” aktiwiteite van die betrokke godsdienstige gemeenskap. Dit was die situasie tot 1967 toe die Appèlhof van Liege ’n ander moontlikheid ingevoer het. Tot op daardie stadium het die howe net probeer vasstel of die betwiste besluit deur ’n bevoegde kerklike liggaam geneem is. Met ander woorde, het die betrokke kerklike liggaam die reg gehad om sy besluit te neem? Daar is nie nagegaan of beoordeel of hierdie liggaam sy eie kerklike prosedure reg nagekom het nie. Warnink noem dit ’n formele toets in die engste sin van die woord waarin die “secular judge” uiters behoedsaam was om enigsins die gebied van die godsdiens te betree.

Die Appèlhof van Liege het in 1967 ’n tweede posisie ingeneem (Torfs sa:2). Hierdie benadering het verdere stimulus ontvang toe die hoogste of Hoërhof in België, die Cour de Cassation, in 1994 en 1999 ook besluit het dat die hof nie net moet besluit of die betrokke kerklike liggaam die bevoegde liggaam in die saak is nie, maar ook of hierdie liggaam binne sy eie intern- opgelegde reëls opgetree het. Dit bly dus ’n formele beginsel, maar word breed aangevoor.

Daar is tans ook ’n derde moontlikheid wat tot dusver nog nie ingang by die Cour de Cassation gevind het nie. Hierdie benadering is deur die Appèlhowe van Mons (1993) en Liege (1997) gevolg, maar deur die Cour de Cassation verwerp. Dit kom daarop neer dat die hof ook moet beslis of die betrokke kerklike prosedures met die waarborge soos uiteengesit in artikel 6 van die EVRM ooreenkom en deur die betrokke kerklike instansie toegepas is. Eie interne prosedurereëls en kerklike outonomie ten opsigte van die bepaling van kerklike of religieuse standaarde kan hiermee in gedrang kom (Warnink 2001:160-162). Dit bring ook twyfel oor die bestaan van ’n gesonde wisselwerking tussen kerk en staat waarin elkeen vanuit sy eie interne bevoegdheid as gelyke, maar andersoortige vennoot mekaar se interne bevoegdheid erken en respekteer. ’n Saak wat godsdiensvryheid en die reg op godsdiensbepaalde waardes – deur sommige ’n fundamentele reg genoem (Coertzen 2001:116) – kan beperk.

Hoewel die amptelike kant hierdie drie posisies vertoon, oordeel Torfs dat die howe in België al minder beskroomd word om in kerklike sake in te meng. Dit skryf hy toe aan drie faktore. In die eerste plek is daar die magsverlies van kerke in die Wes-Europese samelewing. Waar hulle boodskap onder groot dele van die bevolking nog hoog aangeslaan word, is dit nie meer die geval met hulle strukture nie. Tweedens het die kerke deel geword van drukgroepe wat die samelewing kenmerk en met sekere tendense geassosieer word. Dit bring mee dat hulle in die publiek met talle vrae gekonfronteer word: hoe behandel julle julle eie werknemers? Hoe moet priesters wat seksuele misbruik pleeg, behandel word? Derdens is daar die simbool van 11/9 of 11 September 2001 (New York, VSA) wat aandui dat godsdiens ook ’n belangrike politieke faktor geword het. ’n Skerper en beter kontrolering van godsdiens met die oog op die veiligheid van die samelewing, lyk onvermydelik (Torfs 2003a:281-282). Torfs, wat ’n uitgesproke voorstander van godsdiensvryheid is, staan daarby dat religieuse groepe teen hierdie agtergrond die reg het om hulleself vrylik te organiseer ≤in accordance with national law, their convictions and statutes≤ (2003c:23vv). Daarmee gee hy terselfdertyd ’n kernopsomming van die opvatting deur die howe in België en die reg op godsdiensvryheid soos gestel in die EVRM en die Belgiese grondwet (2003b:2).

Die wisselwerking tussen kerk en staat kan natuurlik ook vanuit ’n erkende Christelik- prinsipiële kyk of visie op die samelewing soos gehuldig in sekere reformatoriese kringe in die wêreld, benader word. Dit bly in elke geval ’n vraag of iemand soos Torfs se afwysing van ’n totale skeiding tussen die twee nie op die Godgeskape werklikheid stuit dat alles met alles saamhang sonder dat iets soos die eie aard van indiwiduele modaliteite en eventuele individualiteitstrukture van die samelewing ontken word nie. Dit is in die bekende Nederlandse reformatoriese wysgerige en sosiologiese tradisie (geskoei op die Wysbegeerte van die Wetsidee, ala Vollenhoven en Dooyeweerd) dat die soewereiniteit sowel as die universaliteit in eie kring van samelewingskringe erken en in talle dele van die wêreld breedweg aanvaar word. Hiervolgens is die kerk ’n geloofsinstituut wat tegelykertyd in alle aspekte van die werklikheid funksioneer, maar dan as iets wat moet geskied aan die hand van en in diens van sy geloofsfunksie as sy bestemmings- of kwalifiseringsfunksie. Dit beteken kortweg dat die kerk hom nooit aan die reg of die liefde of watter ander aspek van die lewe ook al kan onttrek nie, maar dat sy deelname aan hierdie aspekte deur die geloof gestempel of bepaal moet word. Die kerk kan dus nie tipies kerklik van tug of vermaning praat sonder dat hy regverdigheid en billikheid daarby verreken nie. Ook nie van ’n onderlinge, tipies kerklike liefdesgemeenskap as die geloof in God nie bepalend is nie (Strauss 2001:198vv).

TUG MOET BILLIK EN REGVERDIG WEES

Dit is opvallend dat die Kerkorde van die NG Kerk (hierna NGKO) talle verwysings na of raakpunte met regsbeginsels vertoon. Saam met sy voorkeur vir ’n wisselwerking tussen kerk en reg is dit waarskynlik die rede waarom Coertzen, tot onlangs nog die aktuarius of erkende kerkregtelike spesialis van die Algemene Sinode van die NG Kerk, in ’n artikel positiewe opmerkings maak in sy bespreking van “tugprosesordes” in die NG Kerk (2003:210vv).

Na ’n redelik uitgebreide hersiening van die NGKO in 1998 soos kortliks hersien in 2002, is die tugreglement van vroeër laat vaar om te waak teen ’n “staatsdiensagtige” reglementering van die saak wat in artikel 60.3 as ’n pastoraal-kerkregtelike handeling beskryf word. Daarmee is die eie aard van hierdie handeling wat van ’n strafregtelike handeling deur ’n instansie van die staat onderskei moet word, dus meteens aangedui. In dieselfde artikel (NGKO 2005:24) word bykomend gepraat van kerklike tug as tug met ’n geestelike karakter wat by die kerk as geloofsgemeenskap pas en op ’n kerklike wyse met geestelike middele uitgeoefen moet word. Vanuit ’n Bybelse en geestelike oogpunt, so lui die artikel verder, is dit ook noodsaaklik dat kerklike tug billik en regverdig toegepas moet word.

Hiermee is twee kante of sye van die saak onmiddellik aangedui.

Die tipering van die aard van die tug dui onteenseglik op die eie aard van die georganiseerde kerk, terwyl die bytrek van die eise van billikheid en regverdigheid die samehang van hierdie kerklike handeling met die reg erken. Hoe kan jy van Bybelsgefundeerde tug in liefde praat as jy nie regverdig en billik wil optree nie?

Sonder om alles te behandel of uit te wys, is dit in belang van ons tema duidelik dat van die reëls van natuurlike geregtigheid by implikasie ook in die NGKO se kerkordelike tugprosedures vervat is. Daarom moet die ondersoekliggaam (dit is nie ’n strafhof wat in ’n strafsaak optree nie) van moontlike belanghebbbendes (by die uitkoms van die saak na die een of ander kant toe) of bevooroordeeldes ≤gesuiwer≤ word (verwant aan die nemo iudex in re sua-reël ), klaers en aangeklaagdes voldoende geleentheid kry om hulle saak te stel ( die audi et alteram partem-reël word hierdeur geïmpliseer) en bevindinge met ’n opgaaf van redes gepaard gaan, omdat dit sekerheid en duidelikheid verhoog (NGKO 2005:25vv).

Uit die NGKO is dit dus duidelik dat die NG Kerk erken dat regsbeginsels soos billikheid en regverdigheid teenoor almal ’n erkende Bybels-kerklike beginsel is en daarom in geen situasie waarby die kerk betrokke is, opgehef kan word nie. Hierdie regverdigheid en billikheid word nie net geïmpliseer by sake wat die individuele lidmaat raak nie, maar ook by die kerk of gemeente as ’n groep van gelowiges. Die NG Kerk sou by implikasie of as konsekwensie dus dieselfde benadering van die kant van die staat en die reg – in die beregting van kerklike geskille – kon verwag.

Uit hierdie kort bespreking van die tugartikels van die NGKO is dit duidelik dat die NG Kerk oordeel dat ten minste twee grondbeginsels by ’n definiëring of invulling van sy vryheid van godsdiens soos eerbiedig deur die staat, gehandhaaf moet word. Die eerste is die eie aard van die kerk as geloofsgemeenskap gebaseer op die Woord van God en die tweede dat die kerk bereid is om hierdie aard te integreer of te komplementeer met regsbeginsels wat nie hierteen stry of hieraan vreemd is nie.

Teen hierdie agtergrond bring dit ons by die Suid-Afrikaanse reg en kerkhereniging.

SUID-AFRIKA: REGSREËLS TEN OPSIGTE VAN KERKHERENIGING

Met België in gedagte is dit seker moontlik om te beweer dat die burgerlike hof in die beregting van ’n kerklike saak, in die lig van resente ontwikkelinge moontlik drie, maar beslis twee vrae sou kon vra. Dit is of die kerklike liggaam wat die besluit geneem het wat onder hersiening is, dit volgens die intern-kerklike uitgangspunte en reëlings kon doen; of die voorgeskrewe kerklike prosedure nagekom is; en of hierdie liggaam se optrede – dit is die derde, maar slegs ’n moontlike vraag – strook met die opvattings van die gemeenskap oor persoonlike regte en billikheid soos gebaseer op die EVRM of ander erkende menseregtekodes. By die eerste twee is daar ’n sigbare erkenning en weerhouding van ingrype op die eie reg van die kerk, terwyl die hof in die derde geval van eksterne uitgangspunte in kerksake gebruik kan maak. Dit sou kon meebring dat die hof kerklike besluite wat nie sy eie opvatting van die reg eerbiedig nie, op eksterne gronde kan omkeer.

’n Houding of aksie wat huiwer op die grens van ingrype in die eie verbandsreg van die kerk of van ’n ingryping van die hof in interne kerklike sake.

Wat uit die geskiedenis van kerkvereniging of -hereniging in Suid-Afrika blyk, is dat die hof hoofsaaklik na aanleiding van vertoë in ’n siviele saak gevra word om in ’n bepaalde saak te bereg. Hierdie vertoë gaan feitlik in alle gevalle om sekere lidmate in die kerk wat die ander “party” in

’n intern-kerklike saak deur die hof wil dwing om nie hulle eie besluit of besluite uit te voer nie (Hoogste Hof van Appél 1998 (2) SA, 156).

As ’n belangrike en rigtinggewende fase in die Suid-Afrikaanse hofgeskiedenis het die Appèlhof as hoogste hof in daardie sake wat nie direk met ’n uitleg van die Suid-Afrikaanse Grondwet verband hou nie, onlangs duidelike blyke gegee dat die hof die interne kerkordelike reëlings van die kerk as ’n sogenaamde vrywillige vereniging ernstig in ag moet neem by die beregting van kerklike sake. Die hof het uit gewoonte na ’n kerkorde as die grondwet van die kerk as ’n vrywillige vereniging verwys. In die appèlsaak tussen die NG Kerk van Afrika (NGKA- Vrystaat) en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA), moes die hof die vraag beantwoord of ’n gedeelte van eersgenoemde na enheidsproses nog wettig voortbestaan. In die proses het die hof hom veral deur die selfverstaan van die kerk laat lei (Hoogste Hof van Appél

1998 (2) SA, 166vv). Die krisisvraag waaroor die hof beslis het was wat die aard van kerkverband en die bevoegdheid van kerkvergaderings in die presbiteriaal-sinodale of gereformeerde stelsel van kerkregering is en hoe dit by kerkvereniging eerbiedig moet word. In sy konklusie het die hof aangevoer dat elke gemeente – in die gereformeerde verstaan daarvan – volledig kerk is en ten minste deur sy verteenwoordigers in die streeksinode inspraak in die moontlike wysiging van die belydenis moet hê. Verder is bevind dat ’n verandering van sy kerkverband nie eensydig of buite om die gemeente kan plaasvind nie (Hoogste Hof van Appél 1998 (2) SA, 170-172). Omdat dit – onder andere – nie by die vorming van die VKSA nagekom is nie, het die Appèlhof beslis dat die NGKA wettig voortbestaan.

Oor een saak het die hof nie beslis nie, omdat ’n beslissing oor die vertoë of die feite in die onderhawige saak dit nie genoodsaak het nie: wat daarvan as ’n deel van ’n gemeente nie deel van

’n nuwe kerk of kerkverband wil word nie? In sy uitspraak het regter Vivier na die bekende Standertonsaak in die Transvaalse Hooggeregshof van 1893 verwys waarin die kerk as ’n soort vereniging beskou is naamlik ’n universitas. Dit is ’n regsfiguur met regspersoonlikheid wat kan voortbestaan onafhanklik van die wisseling van sy lede. Volgens die destydse hoofregter van Transvaal is die gemeente so ’n figuur en sou dit kon beteken dat selfs as daar net 1 lidmaat in die gemeente oorbly wat die ou kerk wil kontinueer, hierdie lidmaat eienaar van die gemeentebates – van die gemeente – kon word. ’n Minderheid lidmate sou dus kon voortgaan om die ou gemeente met sy bates wees. Hierteenoor het Vivier in genoemde appèlsaak obiter of sydelings opgemerk – dus sonder om regskrag daaraan te verleen – dat die uitgangspunt dat die kerkraad die gesagsorgaan is wat namens die gemeente optree (’n kerkregtelike of interne beginsel, PJS), dit kan noodsaak dat die universitas-beginsel (opnuut, PJS) gekwalifiseer moet word (Hoogste Hof van Appél 1998 (2) SA, 174vv). Daarmee het Vivier die uitgangspunt van die hof dat die kerk se selfverstaan aan die hand van sy kerkorde en die konteks waarin dit geformuleer is, ernstig geneem moet word, getrou gebly. Die “selfs al bly daar net 1 oor”-uitgangspunt word ondertussen steeds wyd aanvaar as die weg wat Suid-Afrikaanse howe in so ’n geval sal volg (vgl adviese van Barkhuizen 1995:6vv; De Villiers 1995:1vv). Onnodig om te sê dat die meerderheid in sulke gevalle die gevangenes van die minderheid word en dat kerkvereniging of -ontbinding, in die woorde van Harms, regtens nie onmoontlik nie, maar tog moeilik is (Hoogste Hof van Appél 1998 (2) SA, 179).

In die lig hiervan én in die lig van die bepaling dat die Suid-Afrikaanse akte van menseregte soos vervat in hoofstuk 2 van die grondwet, die hoogste regsgesag in die land is as ’n sogenaamde regstaat is (Kleyn en Viljoen 1999:244), sal die universitas-beginsel tans waarskynlik in ’n bevoegde Suid-Afrikaanse hof getoets moet word om sy geldigheid opnuut bo alle twyfel vas te stel. Die toepassing daarvan stry teen die algemene demokratiese of menseregte-opvatting dat die meerderheid beslis en voed die gedagte dat dit onbillik is om die kerkgebou en eiendomme van ’n duisend lidmate aan slegs twee of drie oor te dra. België se drie vrae kan dalk hier van hulp wees. By vrae 1 en 2 oor onderskeidelik die bevoegdheid van die betrokke kerklike liggaam en die eerbiediging van die interne kerklike prosedure word die interne eie aard van die kerk deeglik verreken. Dit is by implikasie ook erken in genoemde uitspraak van die Suid-Afrikaanse Appèlhof. Die toepassing van die universitas-beginsel kan egter ’n eksterne ingreep wees wat die kerklike kanale vir besluitneming lamlê en boonop nie appelleer op die gemiddelde mens of gemeenskap se gevoel vir regverdigheid nie. Dit sluit dus aan by vraag 3 van België en by die Suid-Afrikaanse akte van menseregte, maar stuit ook op die billikheidsgevoel van, waarskynlik, die indiwidu en die Suid-Afrikaanse gemeenskap.

’N OPLOSSING VIR DIE SUID-AFRIKAANSE SITUASIE?

Dit is in hierdie stadium duidelik dat die eerste twee vrae in die Belgiese konteks oor hoe ver die hof in kerklike sake kan gaan, ook in Suid-Afrika weinig probleme aan kerklike kant verskaf. Soos in België lê die moontlike probleme by die derde vraag.

In Suid-Afrika is dit oor jare heen aanvaar dat die kerk deur die hof getoets kan word op sy eie interne prosedurereëls. Dit is ook nie waar die kerk se probleem lê nie. In die geval van die NG Kerk sou die Algemene Sinode en die algemene sinodale verband vanuit die oogpunt van die hof byvoorbeeld kon ontbind omdat artikel 37 uitdruklik daarvoor voorsiening maak. Hierin word geïmpliseer dat die algemene sinodale verband ’n verband van sinodes is waaruit die samestellende sinodes kan onttrek as hulle dit in die lig van Gods Woord kan regverdig. Op voetspoor van ’n ou gebruik in die NG Kerk word die verskillende sinodes as die breedste vergaderings van die betrokke “kerke” of sinodale verbande beskou. So kan byvoorbeeld die Vrystaatse Kerk hom uit die algemene sinodale verband onttrek. Omdat dit reeds aan die begin – in 1962 – kerkordelik omskryf is, word dit as moontlik beskou omdat die kerk se eie orde dit moontlik maak en die algemene sinode uit selfstandige sinodes gevorm is. Dit sou dus kon beteken, omdat daar is geen spesifiserende voorskrif op hierdie punt is nie, dat ’n sinode met ’n gewone meerderheidstem uit die algemene sinodale verband van die NG Kerk kan onttrek (die moontlike probleem wat die feit kan meebring dat beide die Kaapse en Transvaalse Sinodes sedertdien onderverdeel het, daargelaat). Dat tweederdes egter vereis kan word, is ook moontlik as daar gelet word op die gebruik in die NG Kerk as dit oor die wysiging van die belydenis en ander gewigtige sake gaan.

Hierdie faset in die NG Kerk val dus onder eie interne prosedurereëls en sal bes moontlik so deur die burgerlike hof eerbiedig word. Omdat daar niks oor die onttrekking van gemeentes in die bepalings van of die algemene sinode of sinodes gesê word nie, kan die hof egter weereens besluit om genoemde universitas-beginsel op gemeentes toe te pas.

Regter Vivier se obiter-opmerking in die uitspraak van die Appèlhof dat hierdie beginsel waarskynlik gekwalifiseer sal moet word, dui egter ook – moontlik – op ’n nuwe besef in Suid- Afrikaanse howe dat die toepassing hiervan nie die kerk of die reg dien nie en dat hierdie beginsel nie sonder meer op die kerk toegepas kan word nie. Veral omdat Vivier na die kerkraad as die gesagvolle besluitnemingsinstansie van ’n gemeente in gereformeerde kerkreg verwys. Die implikasie hiervan kan immers wees dat die kerkraad die hele gemeente kan bind deur ’n besluit deurdat die kerkraad vir die gemeente besluit2. Daarby dui dit op ’n tendens of gewilligheid om die kerk se selfverstaan te erken en te eerbiedig. Boonop kom dit voor asof die hof aan ’n meer gesagvolle of erkende instansie as ’n enkele groepie lidmate die gesagsreg gee om te besluit oor die toekoms van ’n gemeente.

In ’n regsmening aan die Sinode van Noord-Transvaal van die NG Kerk voer adv JW Louw aan dat dit nooit die bedoeling van die opstellers van die Kerkorde en Bepalings van die Algemene Sinode en al die (streek-)sinodes van die NG Kerk kon gewees het dat al die lidmate kop vir kop moet toestem voordat kerkvereniging kan plaasvind nie. Volgens hom lê dit veel eerder daarin dat die minderheid deur ’n besluit van die meerderheid gebind word. Die Kerkorde gee nêrens aan ’n individuele lidmaat die bevoegdheid om namens die gemeente of kerk te besluit nie. “Dit sou een enkele lidmaat van die kerk in die posisie plaas om kerkvereniging te verongeluk”. Deur ’n aanvaarding van die Kerkorde wat as die kontraktuele ooreenkoms tussen lidmate onderling en hulle en die “beheerliggame” van die kerk – sy vergaderings – dien, het die lidmate afstand gedoen van hulle eie besluitnemingsbevoegdheid en is dit aan hierdie vergaderings gegee. Daarom sou ’n besluit oor kerkvereniging deur al die vergaderings van die kerk geneem moet word.

Louw oordeel dat die destydse artikel 71.1 van die Kerkorde (tans 70.1) uitdruklik verklaar het dat die NG Kerk daarna strewe om deur sy vergaderings op ’n verantwoorde wyse met ander kerke saam te werk. Die Kerkorde skryf dus nie ’n bepaalde prosedure by kerkontbinding en –vereniging voor nie, maar bepaal tog uitdruklik dat verhoudinge met ander kerke deur kerkvergaderings bepaal word. En omdat die aard of graad van betrekkinge met ekumeniese liggame deur ’n tweederde meerderheid van die algemene sinode beslis word, kom hy tot die gevolgtrekking dat hierdie vergaderings besluite oor eenwording of vereniging met dieselfde meerderheid moet neem (Louw sa:3vv).

Louw beweeg dus by implikasie min of meer op die gebied van al drie vrae wat uit die Belgiese ontwikkelinge afgelei word. In essensie probeer hy egter by vraag 1 en 2 bly. Daarom werk hy met ’n kerklike besluitnemingsbevoegdheid wat hy by wyse van assosiasie van die Kerkorde aflei. Dit is egter ook duidelik dat hy iets van vraag 3 aanvoel deur die minderheid aan die meerderheid te bind. Miskien dui Louw ten minste die rigting tot ’n moontlike uitweg aan deur die interne verbandsreg van die kerk te probeer paar met ’n algemene gemeenskapsgevoel vir billikheid. In hierdie rigting lê ook sy opmerking dat die moontlikheid dat een lidmaat kerkvereniging kan verongeluk, nie in die bedoeling van die oorspronklike opstellers van die Kerkorde tydens die vorming van die een algemene sinodale verband van die NG Kerk kon gewees het nie (sa:10).

Origens gee Louw se benadering blyke van ’n ooreenkoms met die uitspraak van die Appèlhof in die NGKA-VGKSA-saak. Beide probeer om aan die kerk se selfverstaan, soos uitgedruk in die Kerkorde, gevolg te gee. By albei is daar ’n wegbeweeg van die tradisionele standpunt van Suid- Afrikaanse howe wat bou op die universitas-beginsel.

Wat egter uit beide die Belgiese ontwikkeling en sy breër teologiese konteks duidelik is, is dat die kerk as algemeen Christelike of gereformeerde kerk uit ’n prinsipiële oogpunt kerkregtelik korrek – kragtens sy eie interne verbandsreg – moet handel en daarmee in sigself baie naby aan die algemene opvatting van billikheid kan kom. Die algemene gevoel van billikheid sou die kerk kon help om billik te handel, maar as kerk van Christus moet hy dit nie aan aktes van menseregte nie, maar aan die beginsels van Skriftuurlike geregtigheid meet.

Uit die geskiedenis van die gereformeerde kerke is dit ook duidelik dat ’n konsensus of ’n meerderheidstandpunt waartoe onder redelike omstandighede gekom is, nog altyd as billik beskou is (NGK 2005:75, Reglement van Orde 2.1).

BEVINDING: HANDHAAF VRAAG 1 EN 2 MET 3 OP AGTERGROND IN IDEALE SITUASIE

Dat die burgerlike hof in Suid-Afrika kerklike kwessies of (siviele) dispute as ’n soort laaste uitweg kan bereg, word nie ontken nie. Die hof sou egter nie van eksterne norme gebruik kan maak voordat hy nie vasgestel het wat die interne kerkregtelike bepalings (kerkordelik en ekklesiologies) van die betrokke kerk of kerke is nie. Slegs indien hierdie bepalings as onbillik en blatant of doelbewus verontregtend beskou word of daar deur die betrokke kerklike liggaam(e) daarvan afgewyk is, sou die hof die bevinding van so ’n kerklike vergadering kon hersien (vgl Sadler 1979:182). Die tweede besliste en derde moontlike vraag uit die Belgiese ontwikkeling sluit in beginsel hierby aan.

Dieselfde moet geld in gevalle van kerkvereniging of –hereniging. In die lig van die hele betoog van hierdie stuk tot dusver is dit duidelik dat die universitas-beginsel met sy bepaling dat elke lidmaat moet instem, ook nie vir die hof aanvaarbaar kan wees nie. Daarvoor bestaan daar hoofsaaklik twee redes. Die eerste handel oor die gebruik wat in die Reglement vir Orde opgeneem is en wat aansluit by vraag 2 van België: die interne prosedurele bepaling dat ’n geldige kerklike besluit deur ’n kerklike vergadering, as die bevoegde kerklike instansie, met ’n meerderheid geneem moet word. Die tweede is die aanvaarding van ’n meerderheid van die ter sake vergadering as deel van die algemene regsopvatting deur die samelewing van ’n demokratiese regstaat. Dit sluit dus aan by België se vraag nommer 3 en sal, indien dit aanvaar word, Suid-Afrika in hierdie opsig beslis voor België plaas.

Dit alles beteken dat die hof in Suid-Afrika billike en regverdige kerklike prosedure wat geskoei is breed aanvaarde regverdige gedrag, nie sonder meer kan ignoreer in sy beoordeling van aksies vir kerkvereniging of –hereniging nie. In die Suid-Afrika na 1994 waarin die grondwet die hoogste wet is en waarin vryheid, gelykwaardigheid en menswaardigheid die basiese vereistes vir wette en die beregtiging deur die howe is, moet die hof seker wees dat hy nie ’n minderheid bevoordeel ten koste van ’n wettige meerderheid nie.

Die ontwikkeling van die twee besliste en die moontlike derde vraag soos toegepas op die regsposisie van kerke in België kan ook op Suid-Afrika in die eenheidsproses in die familie van NG Kerke toegepas word. In dié opsig vorm België egter bloot ’n vergelyking en nie die rede of inspirasie vir Suid-Afrika nie.

Toegepas op die NG Kerk waarin kerkverband beskou word as ’n verband van gemeentes as ecclesiae completae, beteken dit dat die huidige besluit dat ’n tweederde meerderheid van tweederdes van die kerkrade, plus ’n tweederde meerderheid van elke sinode én die Algemene Sinode in die NG Kerk moet beslis oor die moontlike belydenisgrondslag sowel as die inhoud van ’n nuwe kerkverband in die NG Kerk, waarskynlik meer as billik genoeg is indien die hof oor die billikheid en daarom wettigheid hiervan sou wou oordeel. Dit is ook duidelik dat die kerk hom in hierdie stadium nie gaan wend tot ’n verklarende bevel van die hof of ’n wet van die parlement nie, omdat die NG Kerk die saak internkerklik wil afhandel.

BIBLIOGRAFIE

Barkhuizen, JNW 1995. Memorandum insake kerkvereniging. Ongepubliseer.

Coerzen, P 2001a. The position of churches in South Africa under a New Constitution. In: Warnink, H (red). Legal position of churches and church autonomy. Leuven: Peeters, 35-54.

Coertzen, P 2001b. Die regsposisie van kerke in Suid-Afrika. Ned Geref Teologiese Tydskrif, 42(1 en 2), 115- 122.

Coertzen, P 2003. Regbeskerming in die kerk. In: Torfs, R, Martens, K, Koffemans, L en Coertzen, P. Recht op recht in de kerk, Leuven: Peters, 199-258.

De Villiers, IWB 1995. Memorandum. Ongepubliseer.

Hoogste Hof van Appél 1998 (2) SA. Saaknommer 536/96.

Kerkbode, 13:09:1991.

Kleyn, D en Viljoen, F, 1999. Beginnersgids vir regstudente. Kenwyn: Juta (2e druk).

Louw, JW sa. Regsmening re kerkvereniging. Ongepubliseer.

NG Kerk Kerkorde (NGKO) 2005. Wellington: Lux Verbi.BM.

Sadler, THN 1979. Die kerklike tughandeling. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Sadler, THN 1989. Die verjuridisering van ons kerkreg. In: Du Rand, J en Kellerman, K(reds). Dienskengte van die Koning. Bloemfontein: Pro Christo, 137-145. Sohm, R 1923. Kirchenrecht I. Die geschichtliche Grundlagen. Leipzig: Von Duncker en Humblot.

Strauss, PJ 2001. Die NG Kerk: kerk en staat in die kerkorde. Ned Geref Teologiese Tydskrif 42(1 en 2), 192- 202.

Torfs, R sa. Religieuse gemeenschappen en interne autonomie. Fluwelen evolutie? Ongepubliseer.

Torfs, R 2003a. Rechtsbescherming in de kerk. Nabeschouwingen. In: Torfs, R, Martens, K, Koffemans, L en Coertzen, P. Recht op recht in de kerk. Leuven: Peeters, 259-284.

Torfs, R 2003b. Restrictions of religious freedom in Belgium. Ongepubliseer.

Torfs, R 2003c. Europe and religion. Laïcité, neutrality, co-operation. Feuille de liaison de la conférence Saint- Yves, 13-25.

Torfs, R 2005. Church and state in Belgium. In; Robbers G (red). State and church in the European Union.

Trier:Nomos, 9-33.

Warnink, H 2001. Ecclesiastical tribunals – procedures – and the state. Ned Geref Teologiese Tydskrif 42(1 en 2), 158-166.

TREFWOORDE

Verenigingsproses in die NG Kerkfamilie, Kerk en reg, Kerk en regsprosesse, Gebrek aan regsekerheid ten opsigte van kerkvereniging in Suid-Afrika, Howe en aanvaarde opvattings oor billikheid, Huidige klimaat van menseregte

KEY WORDS

Unification process in the family of Dutch Reformed Churches, Church and justice, Church and processes of law, Lack of security about the law and the unification of the churches in South Africa, Concepts of the courts on just procedures, A climate of human rights.

Prof PJ Strauss

Fakulteit Teologie

Universiteit van die Vrystaat

Posbus 339

BLOEMFONTEIN 9300

Tel.: (051)401 9111

E-pos: straussp.HUM@mail.uovs.ac.za

1 Koffeman, L 2003:113 verwys hierna: ≤”Dat neemt niet weg, dat de in de EVRM overeengekomen criteria voor rechtsbescherming geacht mogen worden uitdrukking te zijn van wat in de westerse samenleving als wenselijk wordt ervaren, ook in andere verbanden dan die van de staat. In zoverre loont het zeker de moeite binnenkerkelijke procesgangen in het licht hiervan nader te analyseren en te evalueren”.

2 Artikel 18, 19 en 20 van die Kerkorde van die NG Kerk bepaal byvoorbeeld dat die regering, opsig en tug van hierdie kerk aan die vier vergaderings van die kerk naamlik kerkraad, ring, sinode en algemene sinode toevertrou is. Hiervolgens het elke vergadering kragtens sy eie aard ’n kerklike gesag wat deur Christus aan hom verleen is (Christokrasie). Sommige verwar die toekenning van die reg op approbasie aan die gemeente met ’n mede-besluitnemingsbevoegdheid of ’n kerklike demokrasie.