Van Rensburg, A en Van der Merwe, CHJ

Universiteit van Stellenbosch

’n Nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans: die praktiese aanvaarbaarheid van ’n nuwe vertaalmodel1

ABSTRACT

A new translation of the Bible in Afrikaans: the practical acceptability of a new model of translation

Work is currently under way on a new translation of the Bible in Afrikaans. The new translation model that is being used is Ernst-August Gutt’s direct translation that is applied as translation strategy within the framework of Christiane Nord’s rendering of the functionalist Skopos theory. A fundamental requirement of the functionalist approach is that a translation must facilitate successful communication between the author and the receptor. The new Bible translation should, therefore, be so practically acceptable that the receptor can use it as a religious document. Trial translations were done according to this translation model and submitted to readers in Gordon’s Bay, Pniel and Stellenbosch. The readers completed a structured questionnaire as part of a quantitative study in which a random sample test was done to determine the practical acceptability of the translated products. This article provides details of the questionnaire as well as of the results obtained in the survey.

1. INLEIDING

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het na aanleiding van versoeke van kerke wat die Afrikaanse Bybel gebruik met ’n nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans begin. Dit is voorafgegaan deur ’n ondersoek na die behoefte aan so ’n nuwe vertaling in 2001 en 2002,2 asook die maak van proefvertalings in 2002 en 2003.3 Kenners in Stellenbosch het na aanleiding van ’n ondersoek na die nuutste ontwikkelinge in die taal- en vertaalkunde4 geargumenteer dat a) Christiane Nord se weergawe van die funksionalistiese Skoposteorie (Nord 1991a, 1997b, 2001)5 ’n breë raamwerk bied waarbinne Bybelvertaling kan plaasvind, en b) Ernst-August Gutt (1991, 2000) se vertaalbenadering perspektief bied op die kompleksiteit van Bybelvertaling as sekondêre kommunikasie (Van der Merwe & Basson 2003:554-558). Hierdie twee benaderings tot vertaling is gekombineer en die nuwe model, naamlik Gutt se direkte en indirekte vertaalstrategieë binne die raamwerk van Nord se funksionalistiese benadering, is tydens die maak van die proefvertalings in Stellenbosch toegepas.6 Die Bybelgedeeltes wat vertaal is, is Eksodus 33, Psalm 16, Jesaja 1, Matteus 5:1-20, Romeine 7:7-25 en Openbaring 4.7

2. TEORETIESE ONDERBOU

Nord se spesifieke weergawe van die Skoposteorie is as raamwerk vir die proefvertalings in Stellenbosch geneem, juis omdat sy die bronteks se rol in die vertaalproses meer beklemtoon as wat Vermeer (1996) in sy algemene Skoposteorie doen. Vermeer noem wel kortliks dat die vertaler nie oordrewe vryheid het nie en dus nie onverantwoordelik met die bronteks moet omgaan nie, maar tog plaas hy die klem hoofsaaklik op die vertaler se verantwoordelikheid teenoor die doelteks en sy skopos (1998:51-54). Nord verwys na die vertaler se verantwoordelikheid as “lojaliteit” en spesifiseer dat dit vir die doelteks sowel as die bronteks geld. Hierdie konsep van lojaliteit is deel van die vertaalopdrag wat ’n sentrale rol in Nord se benadering speel: Die vertaalopdrag dien as raamwerk vir ’n vertaalprojek waarbinne punte soos die funksie of skopos van die vertaling, die tipe doelgehoor en die vertaalstrategieë beskryf kan word. Met die vertaalopdrag as raamwerk kan daar dus, afhangend van die skopos van die vertaling, uiteenlopende tipes vertalings gemaak word. Dit beteken dat daar ’n onbeperkte aantal funksies vir ’n spesifieke vertaling kan wees. Nord plaas ’n beperking hierop deur die konsep lojaliteit: Die vertaler het ’n etiese verantwoordelikheid teenoor die bronteks sowel as teenoor die doeltekssituasie (1991b:28). Die konsep lojaliteit is veral in Bybelvertaling van belang, aangesien dit beteken dat die grondteks nog steeds ’n prominente rol speel, terwyl die klem ook op die doelleser se behoeftes geplaas word.

Lojaliteit en funksionaliteit vorm die twee bene waarop Nord se benadering staan (1991b:28-30; 1997a:47-48; 2001:194-201). Deur hierdie twee konsepte aan mekaar te koppel, beteken dit dat die vertaler enersyds die kommunikatiewe bedoeling van die bronteksouteur getrou moet weergee, en andersyds die behoeftes van die doelgehoor in ag moet neem deur ’n prakties bruikbare Bybelvertaling met ’n teoreties verantwoorde vertaalstrategie te skep.

Gutt het Sperber en Wilson (1986) se beskrywing van die Relevansieteorie op vertaling toegepas. Gutt sien vertaling as sekondêre kommunikasie en baseer sy direkte en indirekte vertaling onderskeidelik op direkte en indirekte aanhaling.8 Volgens hom word effektiewe kommunikasie deur relevansie bepaal en moet die vertaler die doelleser se kognitiewe omgewing in ag neem wanneer hy/sy kommunikatiewe leidrade verskaf wat vir die doelleser relevant is om sodoende die boodskap van die bronteks oor te dra.

Nord en Gutt se benaderings tot vertaling is deur kenners in Stellenbosch geïdentifiseer as benaderings wat belofte inhou vir die vertaling van die Bybel op grond van teoreties verantwoordbare raamwerke. Die versoek van die Kerklike Advieskomitee van die Bybel in Afrikaans om ’n projek te loods waartydens proefvertalings van die Bybel in Afrikaans gemaak moes word, is dus as gulde geleentheid gesien om hierdie vertaalbenaderings op die vertaling van die Bybel te toets. ’n Nuwe vertaalmodel is geformuleer deur Nord se funksionalistiese benadering as raamwerk te gebruik waarbinne Gutt se direkte en indirekte vertaling as vertaalstrategieë aangewend is.

3. DIE VERTAALOPDRAGTE EN PROSES GEVOLG

Die aanvanklike beskrywing van die vier onderskeie weergawes, soos deur die Kerklike Advieskomitee van die Bybel in Afrikaans verskaf, lui soos volg (Van der Merwe & Basson 2003:550):

• Weergawe 1: ’n Vertaling wat in hoë mate konkordant en brontaal-georiënteerd is, met behoud van die brontaalidioom.

• Weergawe 2: ’n Vertaling in eenvoudige, vloeiende en duidelike taal, bedoel as Leesbybel vir die breedste spektrum gebruikers, konkordant waar dienlik en dinamies waar nodig.

• Weergawe 3: ’n Vertaling wat bedoel is vir voorlesing in die erediens, vir kategese en vir Bybelstudie, met besondere aandag aan letterkundige gehalte.

• Weergawe 4: ’n Taalkundige hersiening van die 1983-vertaling.

Op grond van Nord se siening van ’n vertaalopdrag is hierdie beskrywing van die onderskeie weergawes baie vaag. Dus het proff. Christo van der Merwe en Ilse Feinauer in konsultasie met die sameroepers van die vertaalspanne meer gedetailleerde vertaalopdragte beskryf (Van der Merwe & Basson 2003) wat dan in die vertaalprojek aangewend is. Gutt se indirekte vertaling is as vertaalstrategie in die opdrag vir weergawe 2, en sy direkte vertaling as vertaalstrategie in die opdrag vir weergawe 3 voorgestel. Weergawe 1 (konkordante vertaling) en 4 (hersiening van 1983- vertaling) word nie as tipes binne Gutt se raamwerk beskryf nie, maar tog is daar probeer om ook vir hierdie twee weergawes noukeurige opdragte te formuleer.

Teoloë, vertaal-, taal- en letterkundiges het in spanne saamgewerk: Die teoloë het ’n brontaalgerigte teks met uitgebreide voetnote geskep (weergawe 1), die vertalers het weergawe 1 as uitgangspunt gebruik om ’n formele9 teks in die doeltaalidioom te skep (weergawe 3), die vertalers het aanpassings aan weergawe 3 gemaak om ’n informele teks te skep (weergawe 2), en die vertaalprodukte is by ’n vergadering deur die betrokke vertaalspan bespreek waartydens die taal- en letterkundiges ook hulle bydraes ten opsigte van idiomatiese doeltaalgebruik gelewer het.

4. DIE EMPIRIESE ONDERSOEK

Die sukses van ’n Bybelvertaling hang nie net daarvan af of ’n teoreties verantwoordbare vertaalmodel gebruik is nie. Dit is veral belangrik dat die behoeftes van die doelgehoor in ag geneem behoort te word en dat die vertaling dus bruikbaar sal wees.

4.1 Metodologie, teikenpopulasie en steekproefraamwerk

Die tipe empiriese studie wat uitgevoer is, is die “opname”. Volgens Mouton (2001:152) is die opname ’n kwantitatiewe studie waarin daar gepoog word om ’n oorsig te verkry oor ’n verteenwoordigende steekproef wat deel is van ’n groter teikenpopulasie. Die proses van statistiese inferensie word dan gebruik om resultate wat op die steekproef gebaseer is, te veralgemeen ten einde ’n oorsig oor die mening van die teikenpopulasie te verkry (Bless & Higson-Smith 1995:86). Die teikenpopulasie is vir die doel van hierdie studie Afrikaanssprekende persone wat ’n Afrikaanse vertaling van die Bybel gebruik. Die betrokke steekproefraamwerk bestaan uit Afrikaanssprekende persone tussen die ouderdom van 16 en 76 jaar wat ’n Afrikaanse vertaling van die Bybel gebruik, en wat in een van die drie dorpe Gordonsbaai, Pniel of Stellenbosch woon. Die opname in elke dorp is in een Nederduits Gereformeerde gemeente en een gemeente van ’n ander denominasie uitgevoer, asook onder lede van die breër publiek ten einde ’n meer verteenwoordigende steekproef te probeer bewerkstellig. Let daarop dat die steekproef as verteenwoordigend van die menings van persone in die teikenpopulasie beskou kan word, maar nie noodwendig as verteenwoordigend van alle Afrikaanssprekende persone nie.

Die gestruktureerde vraelys is as die mees praktiese en kostedoeltreffende meetinstrument vir ’n studie van hierdie omvang gebruik. Die vraelys is ook gekies omdat dit volgens Bless en Higson-Smith (1995:102) as meetinstrument gebruik kan word om ’n moontlike verband tussen twee veranderlikes te bepaal. Een van die doelwitte in hierdie opname was om te bepaal of daar ’n duidelike verband tussen die aard en die funksie van ’n spesifieke vertaling sou wees.

Ongeveer 150 vraelyste is in elk van die dorpe Gordonsbaai, Pniel en Stellenbosch versprei, aangesien hierdie drie onderskeie gemeenskappe verteenwoordigend van die teikenpopulasie behoort te wees. Die minste voltooide vraelyste wat uit ’n spesifieke dorp ontvang is, is 75. Ten einde ’n gebalanseerde steekproef te verkry, is die eerste 75 voltooide vraelyste uit elke dorp gekies om deel van die steekproef te vorm. Die totale getal voltooide vraelyste wat deel vorm van hierdie steekproef is dus 225.

Die inligting wat uit die voltooide vraelyste verkry is, is aan die Sentrum vir Statistiese Konsultasie aan die Universiteit Stellenbosch voorgelê. Die nodige statistiese toetse is gedoen om die resultate van die steekproef deur statistiese inferensie te veralgemeen, ten einde ’n oorsig oor die mening van die teikenpopulasie te verkry (sien § 4.3). Alle statistiese toetse is met ’n betekenispeil van 5% gedoen.

4.2 Samestelling van vraelys

Die vraelys (sien Van Rensburg 2005) bestaan uit twee gedeeltes: Vraag 1 tot 6 handel oor die respondent se demografiese inligting, terwyl die respondent se mening oor die gegewe tekste in vraag 7 en 8 getoets word. In die eerste gedeelte is die respondente gevra om hulle ouderdom en moedertaal aan te dui (vraag 1 en 2), aangesien dit deel vorm van die spesifikasies van die steekproefraamwerk (sien § 4.1). Verder is sommige aspekte van die respondente se Bybelleespatrone bepaal deur te vra by watter geleenthede hulle die Bybel gebruik (vraag 3), hoe gereeld hulle die Bybel lees (vraag 4), watter bestaande vertalings van die Bybel hulle gebruik (vraag 5) en watter een vertaling hulle die gereeldste lees (vraag 6). Hierdie inligting is nodig sodat daar ’n verband getrek kon word tussen die funksie van die Bybel en die tipe vertaling wat die respondente verkies.

Die tweede gedeelte van die vraelys bestaan uit dieselfde tien vrae vir vraag 7 en 8: vraag 7 handel oor Jesaja 1:1-9 (teks A en B), en vraag 8 handel oor Matteus 5:13-15 (teks C en D).10 Daar is doelbewus twee verskillende tekstipes as voorbeeldtekste in die vraelys gebruik, naamlik ’n profetiese boek uit die Ou Testament (Jesaja) en ’n evangelie uit die Nuwe Testament (Matteus). Deur twee verskillende tekstipes te gebruik, is probeer om die kanse te beperk dat die aard van een spesifieke teks die respondente se reaksie sodanig sou beïnvloed dat dit ’n vals beeld van hulle voorkeur vir ’n informele of formele vertaling sou skep. Dieselfde vrae word by albei teksgedeeltes gebruik en handel oor aspekte soos leesbaarheid, beeldspraak, voetnote, watter een van die twee tipes vertalings die respondent in ’n betrokke situasie sal wil gebruik, en watter een van die twee tipes vertalings by ’n nuwe vertaling van die Bybel ingesluit moet word.

Volgens weergawe 2 (DT2) se vertaalopdrag moet hierdie vertaling in so ’n mate doeltaalgeoriënteerd en informeel wees dat dit makliker lees en makliker verstaanbaar is as weergawe 3 (DT1). (Die rede hiervoor is dat weergawe 3 op ’n doelgehoor met ’n hoër akademiese kwalifikasie gemik is.) Die respondent se keuses by vraag 7.1 en 7.3 behoort ’n aanduiding te wees of daar aan hierdie vereiste voldoen is: Eersgenoemde handel oor die leesbaarheid van die teks, terwyl laasgenoemde op die duidelikheid van die beeldspraak fokus.

Aangesien daar talle respondente in SENIS se ondersoek (2002) was wat hulle mening oor “die oorspronklike Woord van God” uitgespreek het, is daar in hierdie ondersoek besluit om respondente se persepsie hieroor te toets. Dit word gedoen deur in vraag 7.2 te vra watter teks die respondent voel ’n nader weergawe aan die oorspronklike Woord van God is (sien § 4.3.7).

In vraag 7.4 tot 7.8 word daar op die behoeftes van die respondent gefokus, met ander woorde in watter situasies hy/sy ’n spesifieke tipe vertaling sal wil gebruik. In weergawe 3 se vertaalopdrag word die aanname gemaak dat hierdie formele vertaling in die erediens en vir Bybelstudie gebruik sal word (vraag 7.4 en 7.6), terwyl die aanname in weergawe 2 se vertaalopdrag gemaak word dat hierdie informele vertaling hoofsaaklik vir persoonlike stiltetyd aangewend sal word (vraag 7.5). Hierdie aannames word aan die hand van bogenoemde vrae getoets. Die respondent se behoefte ten opsigte van voetnote word met vraag 7.7 getoets. Die persepsie dat die deursneeleser nie voetnote wil lees nie, word hierdeur getoets.

Aangesien die doelgehoor so ’n belangrike rol in die daarstel van ’n funksionalistiese vertaling speel en hulle behoeftes in ag geneem behoort te word, word die respondent spesifiek gevra om aan te dui watter teks hy/sy as ’n nuwe Afrikaanse Bybelvertaling sou verkies (vraag 7.8). By vraag 7.9 word probeer bepaal of die deursneeleser ’n behoefte het aan slegs een tipe vertaling en of meer as een Bybelvertaling gebruik sal word, terwyl die respondent by vraag 7.10 voorstelle vir die vorige vraag of enige ander kommentaar kan invul.

4.3 Resultate en bevindinge

Die resultate van die empiriese ondersoek berus op die voltooide vraelyste van 225 respondente – 75 elk uit Gordonsbaai, Pniel en Stellenbosch. Die resultate word vervolgens op grond van elke vraag afsonderlik bespreek.

4.3.1 Vraag 1: ouderdom

Die ouderdom van die respondente wissel tussen 16 en 76 jaar, en soos in figuur 1 gesien kan word, is die steekproef verteenwoordigend ten opsigte van hierdie veranderlike.

Figuur 1 Ouderdomverspreiding van respondente

In figuur 2 word aangetoon dat die gemiddelde ouderdom van die respondent wat die formele vertaling verkies het (47 jaar), wel ietwat hoër is as dié van die respondent wat die informele vertaling verkies het (44 jaar). Hierdie verskil van drie jaar is egter nie beduidend nie. Die persepsie dat dit noodwendig jonger mense is wat informele vertalings verkies, en dat ouer mense noodwendig formele vertalings verkies, word dus as onwaar bewys. Die gemiddelde ouderdom van die respondent wat albei vertalings gekies het (43 jaar) verskil te min van die bogenoemde twee kategorieë om statisties beduidend te wees. Die afleiding word gemaak dat die ouderdom van die respondent nie ’n noemenswaardige rol speel in sy of haar keuse ten opsigte van ’n formele en/of informele Bybelvertaling nie.

Figuur 2 Verband tussen gemiddelde ouderdom en keuse van tipe vertaling

4.3.2 Vraag 2: moedertaal

Die moedertaal van 68% van die respondente is Afrikaans, terwyl 32% Afrikaans sowel as Engels by die huis praat. Die verskil tussen hierdie twee groepe ten opsigte van hulle keuse van die tipes vertalings is nie beduidend nie (sien figuur 3). In hierdie steekproef word die keuse van ’n tipe vertaling dus nie sterk beïnvloed deurdat die respondent se moedertaal Afrikaans en/of Engels is nie.

Figuur 3 Verband tussen moedertaal en keuse van tipe vertaling

4.3.3 Vraag 3: geleenthede waar die Bybel gebruik word

By vraag 3, waar die respondente moes aandui by watter geleenthede hulle die Bybel gebruik, was meer as een antwoord toelaatbaar. Dit beteken dat sommige respondente al drie opsies gekies het. Van die respondente het 88% aangedui dat hulle die Bybel by die erediens gebruik, 61% gebruik die Bybel by ’n Bybelstudie- of selgroep, en 93% gebruik die Bybel tydens hulle persoonlike stiltetyd. Hieruit kan afgelei word dat die teikenpopulasie uiteenlopende behoeftes het wat deur een of meer tipes Bybelvertalings vervul moet word.

4.3.4 Vraag 4: frekwensie van gebruik

Daar is met hierdie vraag gepoog om te bepaal hoe gereeld die respondent die Bybel lees. Die oorgrote meerderheid, naamlik 76%, het aangedui dat hulle die Bybel drie of meer keer per week lees; 14% het aangedui dat hulle die Bybel een tot twee keer per week lees; 8% lees dit min maar hoor dit by die erediens; en 2% lees die Bybel een tot drie keer per maand. Die resultate van die ondersoek het getoon dat daar nie ’n beduidende verband bestaan tussen hoe gereeld die respondent die Bybel lees en watter tipe vertaling hy/sy verkies nie: 40% van al die respondente verkies die informele vertaling, 32% verkies die formele vertaling, en 28% wil albei vertalings gebruik.

4.3.5 Vraag 5: bestaande Bybelvertalings11

By vraag 5 moes die respondente aantoon watter Afrikaanse en/of Engelse Bybels hulle tans gebruik. Dit behoort ’n aanduiding te wees van die deursneeleser se voorkeur ten opsigte van bestaande vertalings en kan moontlik impliseer aan watter tipe vertaling daar ’n behoefte in die gemeenskap bestaan. Die Bybelvertalings wat die meeste gebruik word, word in figuur 4 aangedui.

Figuur 4 Bestaande Bybelvertalings deur respondente gebruik

Op die kontinuum van Bybelvertalings (figuur 5) kan hierdie bestaande Bybelvertalings min of meer soos volg voorgestel word:

Figuur 5 Kontinuum van sommige Bybelvertalings

Dit blyk uit figuur 4 en figuur 5 dat die respondente ’n groter aantal formele vertalings gebruik, hoewel die informele vertaling deur die meerderheid respondente by vraag 7.8 en 8.8 aangedui is as die tipe vertaling wat hulle in ’n nuwe Afrikaanse Bybel sou wou sien. In figuur 5 is dit duidelik dat die enigste Afrikaanse Bybel aan die formele kant van die kontinuum die OAV is wat reeds meer as vyftig jaar terug uitgegee is. Daar is dus ’n leemte in die kontinuum van Bybelvertalings wat betref ’n Afrikaanse weergawe.

4.3.6 Vraag 6: Bybel van voorkeur

Hier is die respondente gevra om aan te dui watter Bybelvertaling hulle die meeste gebruik. Die meeste respondente het die NAV gekies (38%), gevolg deur die OAV (25%), en ’n Studiebybel (7%). Aangesien die NAV die huidige, amptelike Afrikaanse vertaling van die Bybelgenootskap is, maak dit sin dat die meeste respondente dié vertaling as Bybel van voorkeur aangedui het. Dit is egter ook opmerklik dat soveel respondente steeds die OAV verkies, en kan ’n aanduiding wees dat daar ’n behoefte aan ’n formele Afrikaanse vertaling in die teikenpopulasie bestaan.

4.3.7 Vraag 7 en 8: spesifieke vrae ten opsigte van teks A tot D

In figuur 6 is ’n voorstelling van die vergelyking tussen die drie dorpe, Stellenbosch (S), Gordonsbaai (G) en Pniel (P), ten opsigte van die verband tussen die spesifieke area en die keuse van die informele of formele vertalings by vraag 7 en 8.

Figuur 6 Vergelyking tussen drie dorpe se voorkeur-Bybel

Op die y-as word formele vertaling deur die waarde 0 verteenwoordig en informele vertaling deur die waarde 2, terwyl die waarde 1 ’n verteenwoordiging is van waar respondente albei tipes vertalings gekies het. Volgens hierdie grafiek verkies die meeste respondente om albei tipes vertalings te gebruik: Die aanduidings vir al drie dorpe lê nader aan die waarde 1 as aan die waardes 0 (formeel) of 2 (informeel). Daar is wel ’n klein verskil tussen Stellenbosch aan die een kant waar ’n sterker voorkeur vir informele vertaling getoon word, en Pniel aan die anderkant waar ’n sterker voorkeur vir formele vertaling getoon word.

Dieselfde tien vrae word by vraag 7 en 8 ten opsigte van twee verskillende teksgedeeltes gevra. Vraag 7 handel oor Jesaja 1:1-9 (teks A en B), terwyl vraag 8 oor Matteus 5:13-15 (teks C en D) handel. Teks A en C is die informele vertalings, terwyl teks B en D die formele vertalings is. Die respondente se voorkeur vir ’n formele of informele vertaling by vraag 8 het hoofsaaklik ooreengekom met dié by vraag 7, hoewel die persentasiegetalle minimaal verskil. Figuur 7 is ’n voorstelling van die gemiddelde persentasie respondente se voorkeur ten opsigte van die informele of formele tipe vertaling van vraag 7 en 8 saam.

Figuur 7 Voorkeur ten opsigte van formele of informele teks by vraag 7 en 8

In bostaande figuur 7 kan gesien word dat die informele vertaling by vyf uit die agt vrae bo die formele vertaling verkies word. Die persentasieverskille by die meeste vrae is klein, wat beteken dat die teks wat die minste gekies is, wel deur ’n beduidende persentasie respondente as hulle voorkeurteks aangedui is.

Die informele vertaling is gekies as die teks

• wat meer leesbaar is (vraag 7.1 & 8.1),

• waarin die beeldspraak duideliker is (vraag 7.3 & 8.3),

• wat die meeste respondente in die erediens wil hoor (vraag 7.4 & 8.4),

• wat die meeste respondente in hulle persoonlike stiltetyd wil gebruik (vraag 7.5 & 8.5), en

• wat die meeste respondente in ’n nuwe vertaling van die Afrikaanse Bybel wil hê (vraag 7.8 & 8.8).

Na aanleiding van die eerste twee punte in bostaande paragraaf, kan die stelling gemaak word dat die informele vertaling (weergawe 2) geslaagd is in dié sin dat die vertaalopdrag se spesifikasie ten opsigte van leesbaarheid en duidelike beeldspraak nagekom is (sien bylae 1). Die aanname in die formele vertaling (weergawe 3) se vertaalopdrag dat hierdie vertaling juis in die erediens gebruik behoort te word, kan egter na aanleiding van die respondente se voorkeur bevraagteken word. Volgens die reaksie op vraag 7.4 verkies die meeste respondente die informele vertaling (weergawe 2) vir gebruik in die erediens.

Die aanname in die informele vertaling (weergawe 2) se vertaalopdrag dat die deursneeleser hierdie vertaling in sy of haar persoonlike stiltetyd wil gebruik, is deur die respondente se reaksie op vraag 7.5 bevestig. Let egter daarop dat, soos in figuur 7 aangetoon, die persentasieverskil tussen die voorkeur vir die informele teenoor die formele vertaling uiters klein is. Dit beteken dat ’n beduidende aantal respondente ook die formele vertaling vir gebruik in hulle persoonlike stiltetyd gekies het, en dat daar ’n duidelike behoefte bestaan om albei tipes vertalings vir hierdie doel aan te wend.

Die feit dat die meerderheid respondente by vraag 7.8 die informele teks gekies het om deel te vorm van ’n nuwe Afrikaanse Bybelvertaling is teenstrydig met die resultate wat toon dat bestaande formele vertalings volgens figuur 5 meer gewild is. Verder word ’n informele Afrikaanse Bybelvertaling, soos Die Boodskap (2002), nie op groot skaal deur hierdie respondente gelees nie (sien figuur 4).

Die formele vertaling is gekies as die teks

• wat volgens die meeste respondente ’n nader weergawe van die “oorspronklike Woord van God” is (vraag 7.2 & 8.2),

• wat die meeste respondente tydens Bybelstudie wil gebruik (vraag 7.6 & 8.6), en

• wat meer voetnote het en wat die meeste respondente bo die teks met minder voetnote verkies (vraag 7.7 & 8.7).

Volgens SENIS se opname (sien § 4.2) het heelwat respondente kommentaar gelewer oor die belangrikheid daarvan dat die “oorspronklike Woord van God” nie verlore moet gaan nie. Daarom het die navorser besluit om in hierdie opname te toets watter tipe vertaling die deursneeleser as die “oorspronklike Woord van God” bestempel (vraag 7.2). Soos in figuur 7 aangetoon, het 55% respondente die formele vertaling gekies, en kommentaar is gelewer soos dat die “formele taalgebruik” meer gepas is en dat die formele vertaling “meer heilig voel”.

Die aanname in die formele vertaling (weergawe 3) se vertaalopdrag dat die deursneeleser hierdie vertaling tydens Bybelstudie sal wil gebruik, is deur hierdie empiriese ondersoek bevestig. By vraag 7.6 het die meerderheid respondente die formele vertaling vir gebruik by Bybelstudie verkies. Die reaksie op vraag 7.7 wat handel oor die voorkeur vir minder of meer voetnote sluit hierby aan deurdat meer respondente die teks met die meer voetnote, met ander woorde die formele vertaling of weergawe 3, verkies het.

Wat die behoefte van die deursneeleser ten opsigte van die gebruik van ’n tipe vertaling by ’n spesifieke geleentheid betref (vraag 7.4 tot 7.6), moet daarop gelet word dat die persentasieverskille tussen voorkeur vir die formele teenoor die informele vertaling te klein is om statisties beduidend te wees. Dit blyk dus dat die persentasie gebruik van die tipe Bybelvertaling min of meer dieselfde bly, ongeag die geleentheid waar dit gebruik word.

Meer as 90% van die respondente het by vraag 7.9 aangetoon dat daar wel ’n ander gebruik is vir die teks wat hulle nié by vraag 7.8 (as deel van ’n nuwe Afrikaanse Bybelvertaling) gekies het nie. Voorstelle deur die respondente vir spesifieke gebruike vir hierdie “ander teks” (vraag 7.10) het hoofsaaklik daarop neergekom dat teks B en D (formele vertalings) vir Bybelstudie, en teks A en C (informele vertalings) vir ’n Kinder- of Jeugbybel gebruik sou kon word. Dit bevestig die behoefte aan ’n formele vertaling vir die gebruik by Bybelstudie, terwyl die aanname in die informele vertaling se vertaalopdrag dat hierdie vertaling deur mense met ’n laer akademiese kwalifikasie gebruik sal word, ook bevestig is.

Kommentaar wat by vraag 7.10 gelewer is, kom vanuit die Pniel-gemeenskap wat kapsie gemaak het teen die gebruik van die woord “baas” in Jesaja 1:3. Dit beklemtoon die belangrikheid daarvan om die konteks en (veral in Suid-Afrika) die geskiedenis van die doelgehoor tydens die vertaalproses in ag te neem. Soortgelyke probleme kan voorkom word deur die medewerkers so verteenwoordigend moontlik van die teikenpopulasie te maak.

Nog ’n punt van kritiek was dat die taal waarin die voetnote geskryf is, te hoogdrawend is. Die styl en register van die vertaling self (deel van die enger teks) stem dus nie ooreen met dié van die voetnote (deel van die wyer teks) nie. Die oorsaak hiervan is dat daar tydens die Stellenbosch- projek hoofsaaklik op die enger teks gefokus is. By die vertaalspanne se vergaderings is slegs genoem waar voetnote ingesit moes word, terwyl die aard en styl daarvan glad nie bespreek is nie. Wanneer ’n nuwe Bybelvertaling geskep word, moet die verskeie aspekte van die enger sowel as die wyer teks in die vertaalopdrag gespesifiseer word sodat die fokus op die produk as geheel val.

5. BESPREKING VAN RESULTATE

Die hoofdoel van hierdie empiriese ondersoek was om te bepaal in watter mate die respondente se reaksie op die vertaalprodukte wat tydens die Stellenbosch-projek gemaak is, korreleer met die aannames wat ten opsigte van die deursneeleser se behoeftes in die vertaalopdragte gemaak is. Volgens die aannames in die vertaalopdragte sou daar ’n duidelike verband tussen die aard van die vertaling (formeel/informeel) en die funksie van die Bybel wees: dat die deursneeleser ’n spesifieke tipe vertaling by ’n spesifieke tipe geleentheid sou wou gebruik. Daar is bevind dat die aannames bevestig is, behalwe in die geval waar die respondente nie die formele vertaling soos verwag nie, maar wel die informele vertaling vir gebruik in die erediens verkies het. Die persentasieverskille is egter nie beduidend nie, wat beteken dat daar ’n behoefte aan albei tipes vertalings in enige gebruiksituasie bestaan.

’n Meer spesifieke doel van die empiriese ondersoek was om te bepaal of die deursneeleser een spesifieke tipe vertaling bo die ander sou verkies. Die resultate (sien § 4.3) het getoon dat albei tipes vertalings by die respondente byval gevind het. Daar is wel ’n verband tussen die aard en die funksie van die Bybel gevind: Die informele vertaling (weergawe 2) is aangedui as die teks wat die respondente in hulle persoonlike stiltetyd sou wou gebruik, terwyl die formele vertaling (weergawe 3) vir gebruik tydens Bybelstudie verkies is. Verder het dit geblyk dat die deursneeleser nie die formele vertaling (volgens hierdie spesifieke vertaalopdrag) in die erediens wil gebruik nie, maar eerder die informele vertaling. Volgens die resultate het die meeste respondente ’n voorkeur ten opsigte van die informele vertaling vir ’n nuwe Bybelvertaling aangedui. Daar is egter nie ’n groot verskil in die getal respondente wat die informele vertaling teenoor die formele vertaling verkies het, en selfs dié wat albei vertalings as bruikbaar aangetoon het nie (sien figuur 3). Die verband tussen die aard van die vertaling (formeel/informeel) en die funksie van die Bybel was dus ook nie statisties beduidend nie: Die deursneeleser verkies nie altyd dieselfde tipe vertaling by ’n spesifieke tipe geleentheid nie, maar wil van albei tipe vertalings gebruik maak. Die resultate wys op die uiteenlopende behoeftes van die doelleser en bevestig dat daar ’n behoefte aan verskeie tipes Bybelvertalings in ’n gemeenskap bestaan.

’n Belangrike punt wat in die resultate gesien kan word, is dat bestaande formele Bybelvertalings by die deursneeleser byval vind en gebruik word. Aangesien die enigste Afrikaanse vertaling in dié kategorie meer as vyftig jaar terug uitgegee is, ontwikkelinge in die taal-, vertaalkunde en in die gemeenskap in ag geneem en in ’n Bybelvertaling verdiskonteer behoort te word, blyk dit duidelik dat daar ’n leemte in die kontinuum van Bybelvertalings bestaan wat moontlik deur ’n formele Afrikaanse Bybelvertaling gevul kan word.

6. TOEPASSING OP HUIDIGE BYBELVERTAALPROJEK

Die interdissiplinêre aard van die vertaalkunde het in die Stellenbosch-vertaalprojek neerslag gevind deurdat vertaalbenaderings uit verskillende oorde saamgevoeg is om ’n “nuwe” vertaalmodel te vorm. Hierdie nuwe vertaalmodel word tans toegepas in die maak van ’n nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans. Na aanleiding van die leemte in die kontinuum van Bybelvertalings (sien § 5) is daar besluit om ’n formele Bybelvertaling te maak: Gutt se direkte vertaling word dus as vertaalstrategie binne Nord se funksionalistiese raamwerk toegepas. Daar is veral twee punte van kritiek teen die manier hoe hierdie vertaalmodel in Stellenbosch toegepas is wat, soos dit uit hierdie empiriese studie blyk, in die vertaalopdrag gespesifiseer en omskryf behoort te word. Dit is die hantering van figuurlike taal soos idiome en die fokus op voetnote.

Nog ’n punt wat in die vertaalopdrag gespesifiseer kan word, is dat die medewerkers behoort te let op die taal waarin die voetnote geskryf is. Soos dit uit hierdie studie blyk, is dit maklik om só op die enger teks te fokus, dat daar nie genoeg aandag aan die wyer teks (soos voetnote) geskenk word nie. Die voetnote behoort ’n toeganklike en gebruikersvriendelike hulpmiddel vir die lesers te wees sodat hulle die teks beter kan verstaan.

Die vertaalspanne in die Stellenbosch-projek het uit teoloë, vertaal-, taal- sowel as letterkundiges bestaan. Hierdie samewerking tussen brontaal- en doeltaalkenners is baie belangrik wanneer die nuutste ontwikkelinge in die vertaalkunde op Bybelvertaling toegepas word: Die multidissiplinêre aard van so ’n vertaalprojek bied die geleentheid om ’n kwaliteitvertaling te skep wat aan die behoeftes van die doelgehoor voldoen. Die medewerkers behoort egter deeglike opleiding in die toepaslike vertaalteoretiese agtergrond en die praktiese implikasies daarvan te ontvang. Dit is belangrik, omdat die vertaalstrategieë afhang van die teoretiese benadering wat tydens die vertaalprojek gevolg word. Terselfdertyd behoort die medewerkers ook deeglike opleiding in die toepaslike kulturele agtergrond van die Bybel te ontvang, aangesien die betekenis van die bronteks afhang van die konteks waarin dit geskryf is, en die medewerkers tot ’n mate daarvoor verantwoordelik is om die vreemde Bybelse kultuur vir die doelgehoor toeganklik te maak.

7. SLOT

In die funksionalistiese vertaalbenadering word dit beklemtoon dat daar nie net een korrekte wyse is waarop ’n teks vertaal kan word nie, en dat die aard van ’n spesifieke vertaling veral deur die tipe doelgehoor beïnvloed word. Hierdie klem wat al hoe meer op die uiteenlopende behoeftes van die doelgehoor val, word nie net in die vertaalkunde waargeneem nie, maar ook in Bybelvertaling waar verskeie tipes Bybels in ’n spesifieke taal in die mark beskikbaar is. In die steekproef wat in hierdie studie gedoen is, is bevind dat die Afrikaanse deursneeleser nie net ’n indirekte (of informele) nie, maar ook ’n direkte (of formele) vertaling verlang. Ten spyte van die menigte Engelse Bybelvertalings wat reeds in die mark is, word daar steeds menings uitgespreek dat daar nog vertalings nodig is, soos Van Leeuwen (2001) wat ook die maak van ’n direkte vertaling voorstaan.

Op die vraag watter impak hierdie talle vertalings het, antwoord Eugene Nida tydens ’n onderhoud (Neff 2002) dat dit uiters belangrik is om onderskeie vertalings te hê omdat dit mense aan die dink sit. Deur ’n nuwe formele Bybelvertaling in Afrikaans beskikbaar te stel, kan die doelgehoor die geleentheid gegun word om hierdie vertaling saam met bestaande informele vertalings te gebruik ten einde die wêreld en kultuur van die Bybel, en daarmee saam die boodskap van die Bybel, beter te kan verstaan.

BIBLIOGRAFIE

Bless, C. & Higson-Smith, C. 1995. Tweede uitgawe. Fundamentals of social research methods: an African perspective. Kenwyn: Juta.

Boodskap, Die 2002. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.

Good News Bible 1976. Glasgow: William Collins.

Gutt, E-A. 1991. Translation and relevance: cognition and context. Oxford: Blackwell.

Gutt, E-A. 2000. Translation and relevance: cognition and context. Tweede uitgawe. Oxford: Blackwell.

King James Version 1611. Londen: Samuel Bagster.

Living Bible 1971. Cambridge: Tyndale House.

Mouton, J. 2001. How to succeed in your Master’s & Doctoral Studies: a South African guide and resource book. Pretoria: Van Schaik.

Neff, D [Intyds]. 2002. Meaning-full translations. Christianity Today 46(11): 46. Beskikbaar by http://www.christianitytoday.com/ct/2002011/2.46.html. [2004, 23 September].

New International Version 1978. Grand Rapids: Zondervan.

Nida, E. 1964. Toward a science of translating. Leiden: Brill.

Nida, E. 1972. Communication and translation. The Bible Translator, 23(3):309-316.

Nida, E. 1979. Translating means communicating: a sociolinguistic theory of translation II. The Bible Translator, 33(3):318-325.

Nida, E. & Taber, C. 1969. The theory and practice of translation. Leiden: Brill. Nord, C. 1991a. Scopos, loyalty, and translational conventions. Target, 3(1): 91-109. Nord, C. 1991b. Text analysis in translation. Amsterdam: Rodopi.

Nord, C. 1997a. A functional typology of translation, in A. Trosborg (red.). Text typology and translation. Amsterdam: John Benjamins. 43-66.

Nord, C. 1997b. Translation as a purposeful activity: Functionalist approaches explained. Manchester: St Jerome.

Nord, C. 2001. Loyalty revisited: Bible translation as a case in point. The Translator, 7(2):185-202.

Nuwe Afrikaanse Bybel 1983. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Ou Afrikaanse Vertaling 1933. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Revised Standard Version 1952. New York: Thomas Nelson.

SENIS (Sentrum vir Interdissiplinêre Studie aan die Universiteit Stellenbosch). 2002. ’n Ondersoek na die behoefte aan ’n nuwe Afrikaanse vertaling van die Bybel.

Sperber, D. & Wilson, D. 1986. Relevance: communication and cognition. Oxford: Blackwell.

Van der Merwe, C. & Basson, C. 2003. ’n Nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans: ’n teoretiese en praktiese oriëntering. Nederduits Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 44(3&4), September & Desember: 550-567.

Van Leeuwen, R [Intyds]. 2001. We really do need another Bible translation. Christianity Today,

45(13):28. Beskikbaar by http://www.christianitytoday.com/ct/2001/013/5.28.html. [2004, 23 September].

Van Rensburg, A. 2005. ’n Nuwe Vertaling van die Bybel in Afrikaans: ’n perspektief op die teorie en praktyk. Ongepubliseerde meesterstesis. Stellenbosch, Universiteit Stellenbosch.

Vermeer, H. 1996. A skopos theory of translation (some arguments for and against). Heidelberg: TEXTconTEXT.

Vermeer, H. 1998. Starting to unask what translatology is about. Target, 10(1):41-68.

TREFWOORDE

Afrikaanse Bybelvertaling, Skoposteorie, Funksionalisme, Direkte vertaling, Indirekte vertaling

KEY WORDS

Afrikaans Bible translation, Skopos theory, Functionalism, Direct translation, Indirect translation

Mev. Alta van Rensburg Tel. 021 808 2231 (w) avrens@sun.ac.za

Prof. Christo van der Merwe Tel. 021 808 3655 cvdm@sun.ac.za

1 Die finansiële bydrae deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS) wat hierdie navorsing moontlik gemaak het, word hiermee erken. Die menings wat in hierdie publikasie uitgespreek is en gevolgtrekkings wat gemaak is, is dié van die outeurs en nie noodwendig dié van die NNS nie.

2 Hierdie ondersoek is deur die Sentrum vir Interdissiplinêre Studie (SENIS) aan die Universiteit Stellenbosch in opdrag van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika geloods. SENIS se naam het sedertdien verander na Sentrum vir Navorsing oor Wetenskap en Tegnologie (SENWET).

3 Vertaalspanne in Bloemfontein, Potchefstroom, Pretoria en Stellenbosch is gevorm in opdrag van die interkerklike komitee van kerke wat die Bybel in Afrikaans gebruik (die Kerklike Advieskomitee van die Bybel in Afrikaans), waarna proefvertalings van spesifieke Bybelgedeeltes gemaak is.

4 Dit sluit in Sperber en Wilson (1986) se beskrywing van die Relevansieteorie wat deur Gutt (1991, 2000) op vertaling van toepassing gemaak is. Sien Van Rensburg (2005:30-44) vir ’n meer gedetailleerde bespreking.

5 Dit is belangrik om te onderskei tussen Eugene Nida se linguisties-georiënteerde funksionele vertaling wat die kodemodel van kommunikasie op vertaling toepas (sien oa Nida 1964, 1972, 1979; Nida & Taber 1969), en funksionalistiese benaderings tot vertaling soos dié van Nord wat op die funksie van die doelteks fokus, soos in die vertaalopdrag gespesifiseer (sien § 2).

6 Die agtergrond, teoretiese onderbou van, en proses wat tydens hierdie projek gevolg is, word kortliks in § 2 en 3 uiteengesit. Sien egter Van Rensburg (2005) asook Van der Merwe en Basson (2003) vir ’n meer gedetailleerde beskrywing.

7 Die vertaalprojek in Stellenbosch het onder leiding van proff Bernard Combrink en Christo van der Merwe plaasgevind. Die vertaalkundiges vir die projek was prof Ilse Feinauer en mnr Walter Winckler. Die twee spanne vir genoemde gedeeltes was soos volg: Jesaja 1 – prof Christo van der Merwe (sameroeper en brontaalkenner), proff Johann Cook en Paul Kruger (brontaalkenners), mev Alta van Rensburg (vertaler), prof Henning Snyman en dr Frikkie Lombard (taalkundiges); Matteus 5:1-20 – prof Bernard Combrink (sameroeper en brontaalkenner), dr Pieter van Staden (brontaalkenner), mev Alta van Rensburg (vertaler), prof Frank Hendricks (taalkundige) en dr Rensia Robinson (letterkundige); Romeine 7:7-25 – dr Francois Wessels (sameroeper en brontaalkenner), proff Jan de Villiers, Elna Mouton, mnr Francois Pauw (brontaalkenners), mev Alta van Rensburg (vertaler) en prof Henning Snyman (taalkundige).

8 Sien Van Rensburg (2005:35-39) vir ’n vollediger uiteensetting.

9 David hanged (hlt) the murderers of Ishbosheth (2 Sa 4:12) and Absalom also hanged (hlt) in this way (2 Sa 18:10). The ten sons of Hamman, who tried to exterminate the Jews, were also hung in the same manner in Esther 2:23.

10 Omdat dieselfde vrae by vraag 7 en 8 gevra is en om verwarring te voorkom, word daar vervolgens net na vraag 7 verwys, hoewel dit vraag 8 ook insluit. Bv: “vraag 7.4 tot 7.8” moet verstaan word as “vraag

11 Die verklarings van afkortings wat in § 4.3.5 gebruik word,is soos volg:GNB (TEV) - Good News Bible (Today’s English Version); KJV - King James Version; NAV - Nuwe Afrikaanse Vertaling (1983); NIV - New International Version; NKJV - New King James Version; OAV - Ou Afrikaanse Vertaling(1933/1953); RSV - Revised Standard Version