Vosloo, RR

Universiteit van Stellenbosch

Neem, lees … vertolk, bely! Kantaantekeninge by die teologie van Dirkie Smit

ABSTRACT

Take, read ... interpret, confess! Some remarks on the theology of Dirkie Smit

This article focuses on the importance of the notions of reading, interpretation and confession in the thought of Dirkie Smit. It is argued that the reading of Scripture is central to Smit’s understanding of the nature and task of theology. Scripture, however, is for Smit to be read and listened to in communion. The article also highlights Smit’s concomitant emphasis on the importance of interpreting the Word responsibly, as well as his call to confess our faith in the light of the Word through timeful embodiment.

“Die sáám-lees en sáám-luister na die Woord wat ’n lamp is vir die voet en ’n lig vir die pad is nie ’n blote spel nie, is nie ’n gesprek waarin álles uiteindelik geduld word en álles ook uiteindelik gehuldig kan word, dikwels met ’n beroep op die Skrif, nie. Daarom kom daar inderdaad vir die kerk oomblikke van beslissing, oomblikke van ingrypende erns, oomblikke van belydenis ... Dit is oomblikke wanneer gevra word na die grense van wat moontlik is in die naam van die boodskap van die Bybel, die waarheid van die evangelie, en die geloofwaardigheid van die kerk. Dis oomblikke wanneer gevra word na die reëls van verantwoordelike uitleg van die Skrifte, na ware teologiese hermeneutiek, na die lees van die Bybel volgens die reël van die geloof, aldus die vroeë kerk, wat die reël van die liefde en die reël van die hoop op die drie-enige God insluit. Dis oomblikke wanneer die kerk sáám bid om die verligting en leiding van die Heilige Gees van die Vader en die Seun” (Dirkie Smit, Neem, lees! Hoe ons die Bybel hoor en verstaan, 2006a: 230).

1. DIRKIE SMIT AS LESER

As ’n doktorale student van Dirkie Smit het ek die voorreg gehad om baie boeke by hom te leen. Ek is deel van ’n groot groep studente wie se studies, en latere nadenke, gemotiveer en gedra is deur hierdie geleende boeke (waarvan hopelik die meeste darem al teruggegee is!). Dikwels was dit resente boeke wat nog nie in boekwinkels of in biblioteke beskikbaar was nie. Vir baie van ons was dit juis dié boeke wat ons passie vir die teologie verder aangewakker het. Die omgang met boeke en artikels wat deur Dirkie Smit gelees is en deur hom aan ons uitgeleen is, het een ding duidelik gemaak: Dirkie Smit is ’n goeie leser. Naas die vermoë om vinnig en met begrip te lees, is hy ook ’n uiters oplettende leser. Hiervan getuig die manier waarop hy in die teks onderstreep, sekere gedeeltes se belangrikheid aandui en kort kantaantekeninge maak. Smit het verder die vermoë om tussen die lyne te lees, om die intensie en etos van die skrywer te probeer verstaan na aanleiding van stigwoorde, aanhalings en terloopse opmerkings. Daar word ook graag onder die lyne, in die voetnote, noukeurig gelees en dikwels staan daar langs die verwysde literatuur die woordjie “kry” – ’n aanduiding dat hy meer wil lees, beter wil verstaan en die gesprek deur middel van die lees van ander tekste wil voortsit. Lees is dus vir Dirkie Smit ’n handeling wat laat blyk dat jy deel van ’n gesprek is – ’n gesprek wat voor jou daar was, én wat na jou deelname ook voortgaan. Waarskynlik is van een die redes waarom Smit se teologiese werk so invloedryk is in Suid-Afrikaanse en internasionale teologiese kringe, omdat sy lees- en skryfgewoontes duidelik toon dat hy die rykheid én kompleksiteit van Christelike gesprekke oor die eeue heen, en in verskillende kontekste, respekteer. Die lees en vertolking van tekste word ’n manier om aan hierdie gesprekke deel te neem. Dit is egter gou duidelik dat Dirkie Smit se leesgierigheid nie te make het met die nuuskierigheid van ’n verbruiker nie, maar dat dit saamhang met die soeke om tekste te verstaan, te vertolk en met die lewe te integreer.

Die nadenke oor Dirkie Smit se leesgewoontes bring ’n mens gou by die vraag aangaande sy siening van die aard en taak van die teologie. In sy belangrike intreerede as professor by die Universiteit van Stellenbosch, “In diens van die tale Kanaäns? Oor sistematiese teologie vandag” (2000b ook 2002b) begin Smit self ook met die vraag: “Wat doen teoloë nou eintlik?” Hy vervolg dan dadelik: “’n Eenvoudige antwoord is nie so maklik nie” (2000b:3). Die geleentheid om oor die teologie van Dirkie Smit te reflekteer, bied die ruimte om te vra: Wat doen Dirkie Smit nou eintlik? Ook na aanleiding van hierdie vraag moet ’n mens vinnig byvoeg: ’n eenvoudige antwoord is nie maklik nie. Daar is immers talle invalshoeke as ’n mens oor die teologiese metode van Dirkie Smit wil nadink. In hierdie artikel word een aspek daarvan van naderby beskou, naamlik die belangrike plek wat die leeshandeling in sy teologie inneem. Wanneer ’n mens “lees” as ’n kernwerkwoord uitlig, word dit ook gou duidelik dat dit verder gekwalifiseer moet word. Die lees van tekste staan immers nie vir Smit los van die vertolking daarvan nie. Lees en vertolking vra voorts ook om gestaltegewing. Dit kan nie van belydende beliggaming geskei word nie. Lees, vertolk, bely … iets van Dirkie Smit se teologiese logika klop myns insiens met die samehang en interspel tussen hierdie handelinge. In hierdie artikel word hierdie drie werkwoorde op ’n soekende wyse as lense gebruik om ’n paar kantaantekeninge by die teologie van Dirkie Smit te maak.

2. LEES! OM SÁÁM NA DIE WOORD VAN GOD TE LUISTER

2.1. Teologie en die lees van die Bybel

In ’n bydrae vir ’n huldigingsbundel vir Willie Jonker (uitgegee onder die titel Koninkryk, Kerk, Kosmos) skryf Dirkie Smit dat Jonker sou verkies om as Skrifteoloog bekend te staan en dat hy bewustelik aan die studente wou oordra dat hulle self ook Skrifteoloë moet wees (1989:11). As student van Willie Jonker het Dirkie Smit iets hiervan uitgeleef, nie in die eerste plek deur lang pleidooie vir die onfeilbare gesag van die Bybel te lewer nie, maar veral deur sy poging om op ’n verantwoordelike wyse eksegeties, hermeneuties en homileties met die Skrif om te gaan. Hiervan getuig sy talle bydraes tot die invloedryke Woord teen die Lig-reeks (waarvan hy met Coenie Burger en Bethel Müller mederedakteur is). Vir baie predikante was dit juis hierdie deeglike studies wat bevestig het dat die prediking nie sonder behoorlike eksegese en verantwoordelike hermeneuties arbeid kan geskied nie. In hierdie opsig was Dirkie Smit se werk eksemplaries van ’n poging om voortgesette teologiese opleiding te doen op ’n wyse wat Skrif en teologie ten nouste koppel. Selfs ’n oorsigtelike lees van Smit se tientalle bydraes tot Woord teen die Lig (oor die 90 preekstudies en ten minste 9 inleidingsartikels) reflekteer sy patos om die Skrif te lees, asook die werk van hulle wat die Skrif lees. Daar word dikwels vir bladsye onderhoudend en toeganklik geskryf oor die eksegetiese werk van Skrifverklaarders en die interpretasies van teoloë en ander lesers. In die proses bied hy ’n motivering en uitnodiging vir predikante en lidmate om self ook wyer en dieper te lees. Voortvloeiend vanuit sy prediking in gemeentes, skryf Smit ook talle boeke oor teksgedeeltes uit die Bybel (vgl. Smit 1986, 1987b, 1988c, 1994g, 1998b). Uit hierdie boeke, asook uit sy preekmeditasies (ook in teologiese tydskrifte, dikwels saam met ander) en sy talle optredes in gemeentes, blyk duidelik dat Smit die lees en interpretasie van die Bybel ten nouste met die verstaan van sy taak as teoloog in verband bring.

Dit is welbekend dat Calvyn nie sy invloedryke Institusie van die lees van die Bybel wou losmaak nie. Dit is as leeshulp tot die Bybel geskryf, nie as boek om in plaas van die Bybel te lees nie. Aangesien Smit se verstaan ten opsigte van die belangrikheid van die Bybel op ’n diepliggende wyse deur Calvyn beïnvloed is, is dit nie ’n verrassing om in die voorwoord van sy resente boek Neem, Lees! Hoe ons die Bybel hoor en verstaan (2006) te lees dat die boek as uitnodiging vir mense wil dien om self die Bybel te lees en daarna te luister: “Dis ’n boek óór die Bybel wat lesers uitnooi ná die Bybel” (2006:8). In Neem, Lees! – waarskynlik een van die belangrikste teologiese boeke wat die afgelope aantal jare in Afrikaans verskyn het – bied Smit ’n deeglike bespreking van hoe die Bybel deur die eeue gelees is (’n historiese deel), hoe tekste gelees word (’n sistematiese deel), hoe die Bybel vir die lewe betekenis het (’n etiese deel), en hoe ons oor die Bybel kan dink in die lig van ’n aantal metafore wat uit Bybeltekste na vore beur (’n praktiese deel). Dit is egter betekenisvol dat hierdie boek óór die Bybel, wat ook mense wil uitnooi ná die Bybel, self ook in die laaste deel ’n aantal preekmeditasies na aanleiding van Bybelgedeeltes bevat. Hierdie aksent, tesame met sy meer sistematiese werk in die boek, dien as bevestiging dat ’n teologiese hermeneutiek in Smit se denke werksaam is wat teologie en Skrifuitleg ten nouste met mekaar in verband bring. Ook van Smit kan ’n mens – soos van Jonker – sê dat hy Skrifteoloog is.

2.2 Om die Bybel sáám te lees

Dit blyk ook gou uit nadere beskouing van Dirkie Smit se werk dat die lees van die Bybel, en die lees van teologie, nie vir hom die aktiwiteit van ’n geïsoleerde individu of van ’n navorser in afsondering is nie. Smit verwys dan ook dikwels na die titel van Gregory Jones and Stephen Fowl se boek Reading in Communion. Die saak is duidelik vir hom belangrik: Bybellees is sáámlees. Die belangrikheid van “lees in gemeenskap” vind ten diepste by Smit ’n teologiese fundering. In bg. huldigingsartikel vir Willie Jonker verwys Smit (1989a) na die manier waarop Jonker se werk gestempel word deur wat ’n ekumeniese waarheidsoeke genoem kan word.1 Daar kan ’n sterk saak daarvoor uitgemaak word dat so ’n ekumeniese waarheidsoeke ook tot die hart van Smit se verstaan van die wese en taak van die teologie behoort. (ek haal die voetnoot uit – word hier herhaal, of verkies jy dit in voetnootvorm?) Smit is duidelik ’n ekumeniese teoloog. Sy hermeneutiek is ’n ekumeniese hermeneutiek en sy ekklesiologie is ’n ekumeniese ekklesiologie. Mens sou selfs kon argumenteer dat sy oortuiging aangaande die belangrikheid van die ekumene deur die jare geïntensiveer het. In hierdie verband kan na sy talle besprekings van ekumeniese dokumente (vgl. byvoorbeeld 2003d, 2006a) asook na sy waarderende skrywes oor ekumeniese teoloë soos Geoffrey Wainwright (1999) en Bernard Schlink (2006f) verwys word. Sowel Smit se ekumeniese hermeneutiek as sy ekumeniese ekklesiologie is egter ten nouste met ’n “katolieke” waarheidsoeke verweef. Die fokus op die belangrikheid van die saamlees van die Bybel, en die kommunale beoefening van die teologie, word gedryf deur die diep verstaan van die eenheid van die kerk, van die belangrike interspel tussen waarheid en eenheid. Wat hy oor Jonker skryf, geld ook van homself:

“Die patos vir die eenheid is nie maar ’n algemeen-filosofiese uitgangspunt nie, maar in diens van die patos van die waarheid. Met ’n eenheidsoeke op grond van nie-teologiese belange, soos die eenheid van die volk, of die sosiaal-politieke belange van die groep, of die algemene gees van versoening in die samelewing, het dit niks te make nie. Ook spruit dit nie uit ’n algemene houding van verdraagsaamheid, relativisme en pluralisme nie. Dit is deur en deur ’n soeke na eenheid in die waarheid van die evangelie” (1989:22).

Hierdie aksent van Smit op die belangrikheid van “lees in gemeenskap in die soeke na die waarheid” kan sekerlik nie losgemaak word van die konteks van Suid-Afrika in die apartheidsjare nie. Dit was juis die realiteit van apartheid dat mense die Bybel op hulle eie gelees het. Die dramatiese wyse waarop die Bybel verder gebruik is om sowel apartheid te regverdig as te beveg, het gou laat blyk dat die Bybel self ’n “site of struggle” is. Smit sou deeglik besin hieroor in talle geskrifte (vgl. Smit 2006a, 2006e, 2005a). Ten diepste is die vraag vir hom hoe om, te midde van diverse en dikwels uiteenlopende interpretasies, op ’n teologies-verantwoordelike wyse met die Bybel om te gaan. ’n Belangrike deel van die antwoord op hierdie vraag is die oortuiging dat ons mekaar nodig het om die Bybel verantwoordelik te lees, veral in die lig van ’n na-Babelse spraakverwarring wat maak dat mense mekaar nie hoor nie.2

Wat geld ten opsigte van Bybellees, is ook van toepassing op die beoefening van teologie. Teologie is ’n kommunale aktiwiteit. Smit skryf dan ook dat dit juis hierdie waarheid is wat vir hom, en sy generasie, in apartheid Suid-Afrika toenemend belangrik geword het:

“(W)e learnt that theology is something we do in communion, together – with the mothers and fathers of the tradition, with the brothers and sisters of the ecumenical church, with the victims of our communities and societies, with ‘the destitute, the poor, and the wronged’” (Smit 2007:8).

Deur die jare sou Smit dan ook telkens beklemtoon dat ’n mens nie teologie op jou eie beoefen nie. Teologiese navorsing, byvoorbeeld, doen jy in gesprek met ander. Daarom neem hy ook dikwels leiding om mense bymekaar te bring om tekste te bespreek en boekvoorstelle saam te deurdink. Hierdie gemeenskapstigtende kwaliteit van Smit se werk is waarskynlik een van sy groot bydraes en dit hang ten nouste met ’n ekumeniese waarheidsoeke saam.

2.3 Om die Bybel vir vandag te lees

Voor die inhoudsopgawe in Dirkie Smit se boek Neem, Lees! is ’n aantal onthullende aanhalings. Een van die aanhalings is uit Robert Louis Wilken se boek The Spirit of Early Christian Thought: Seeking the Face of God (2003) en bevat die woorde:

“Any effort to mount an interpretation of the Bible that ignores its first readers is doomed to end up with a bouquet of fragments that are neither the book of the church nor the imaginative wellspring of literature, art, and music. Uprooted from the soil that feeds them they are like cut flowers whose colors have faded” (Smit 2006a:19).

Smit se gebruik van hierdie aanhaling onderstreep sy oortuiging dat die Bybel die konteks van die eerste lesers (asook dié van lesers deur die eeue heen) behoorlik moet verdiskonteer. Die eerste deel van Neem, Lees! is dan ook ’n historiese ondersoek na die manier waarop die Bybel in verskille tye en kontekste gelees is. Smit se leesbeskouing is egter nie ’n blote belangstelling in die konteks waarin die Bybel ontwikkel en gestalte gekry het nie. Daar is ook die aksent in sy werk dat die Bybel vandag, in die hede, spreek. Iets hiervan word duidelik weerspieël in ’n ander aanhaling wat voor in Neem, Lees! verskyn, hierdie keer uit Karl Barth se kommentaar op Romeine oor die hervormers se hermeneutiek. Dit is die moeite werd om dit hier volledig aan te haal:

“By genuine understanding and interpretation I mean the creative energy which Luther excercised with intuitive certainty in his exegesis: which underlines the systematic interpretation of Calvin. Place modern work side by side to that of Calvin: How energetically Calvin, having first established with stands in the text, sets himself to re-think the whole material and wrestle with it, till the walls that separate the sixteenth century from the first becomes transparent! Paul speaks and the person of the sixteenth century hears. The conversation between the original record and reader moves around the subject-matter, until a distinction between yesterday and today becomes impossible. If people persuade themselves that Calvin’s method can be dismissed as old-fashioned, they betray themselves as people who have never worked upon the interpretation of Scripture.” (2006a)

Dié aanhaling maak die punt duidelik dat die lees en interpretasie van die Bybel saamhang met die geloof dat die Bybel vir vandag spreek. In ’n bespreking van Calvyn se hermeneutiek, wys Smit daarop dat Calvyn (anders as byvoorbeeld Erasmus en Bullinger) nooit spesifiek oor die hermeneutiek geskryf het nie. As verklaring hiervoor noem Smit dat die rede waarskynlik daarin geleë was dat “hy ten diepste oortuig was dat die lewende, drie-enige God vandag nog met ons praat deur die Bybel” (2006a:48). Hierdie oortuiging behoort tot die hart van Calvyn se teologiese hermeneutiek. In die lig hiervan is teologie die voortdurende luister na die Woord. Die boodskap van die evangelie, die boodskap van die Woord, kan nooit finaal saamgevat word. Nee, die lewende beloftes van die evangelie moet altyd opnuut gehoor word. Vir Calvyn is grammatika en retoriek uitermate belangrik in die soeke na die betekenis van die teks. Daar is egter ook die aksent op die betekenisvolheid van die teks: wat die teks vandág vir die gemeente sê. Hierdie klem op die nut, bruikbaarheid of betekenisvolheid (die usus) van die teks is juis wat die moontlik maak dat die Bybel ons kan verras, dat daar iets nuut kan gebeur. Hierdie belangrike aksent kan nie losgemaak word nie van die geloof in die trou van die lewende God nie: “Dieselfde God praat in sy trou vandag met ons, lewend, deur die lees en deur die luister” (2006a:53).

Calvyn se onderskeiding tussen die betekenis en betekenisvolheid van die Bybel is vir Smit belangrik. Te midde van die erkenning van die kompleksiteit van die lees- en vertolkingsproses, is daar by hom die verwagting dat die horisonne van die destydse teks en die huidige konteks kan versmelt: “Deur al die menslike swakheid en selfs ‘verraad’ heen, hóór die wêreld tog en lééf die gemeente van dié ‘hoor’” (2006a:167).

2.4 Vertolk! – Om verantwoordelik die woord van God te interpreteer

2.4.1 Teologie as bibliografie?

Voordat ’n paar opmerkings oor Dirkie Smit se siening van vertolking gemaak word, is dit dalk eers nodig om iets oor hom as vertolker te sê. Daar is vroeër genoem dat baie studente en kollegas se liefde vir die teologie aangewakker en versterk is deur boeke wat hulle by Dirkie Smit geleen het. Dit was egter nie net die boeke self wat waardevol was nie, maar ook die manier waarop hy die boeke binne ’n breër raamwerk kon plaas. Smit het die gawe om te vertolk, om ’n verstaansbrug tussen tekste en mense te bou.3 In die proses word ingewikkelde argumente en komplekse beskouinge op ’n helder wyse uiteengesit. Smit se indrukwekkende analitiese vermoëns maak van hom ’n sistematiese teoloog in die beste sin van die woord. Daar moet egter onderskei word tussen ’n sistematiese teoloog en ’n sisteem-teoloog, want soos Jaap Durand glo Dirkie Smit ook dat teologie nie met sisteme te maak het nie. Daarom sy opmerking:

“Die Christelike geloof ken geen absolute waarhede nie. Die dogmatiek bestudeer nie dogmas nie. Die sistematiese teologie beskik nie oor sisteme nie. Trouens, daar is waarskynlik min dissiplines aan ’n universiteit wat minder dogmaties is as die dogmatiek, minder sistematies as die sistematiese teologie” (2000b:9).

Ten spyte van die omvattende aard van Smit se werk, vorm dit allermins ’n sluitende sisteem. Dit is eerder, om by ’n titel van ’n bundel N P van Wyk Louw-gedenklesings aan te sluit, ’n “oopgelate kring.”4 Hierdie nie-sluitende aspek van Smit se denke, kan juis soms vir lesers frustrerend wees. Die leser volg die analises en argumente met groot opwindend en instemming, net om gelaat te word met die gevoel dat dit ietwat stomp eindig omdat geen finale antwoord of ontknoping gebied word nie. Waarskynlik hang dit saam met Smit se siening van die dialogiese funksie van die teologie. Hy sien sy eie vertolkingsrol binne die konteks van ’n breër en voortgaande gesprek geplaas. Daarom koop hy graag boeke, lees hy wyd en is hy lief om gespreksgenote uit te vra. In die proses word gepoog om te verstaan, om ’n geheeloorsig te kry, om standpunte binne ’n groter raamwerk te plaas. Sy publikasies is daarom meestal uitgebreide leesbeskrywings – teologie is bibliografie. In die verband kan ook na sy uitgebreide gebruik van voetnote verwys word. In Dirkie Smit se werk is die grens tussen hoofteks en voetnote – om metodologiese redes – uiters poreus.5

Hierdie styl van teologisering stel die teoloog natuurlik bloot aan die versoeking om as ’n tipe panoptikon (om die bekende term van Michel Foucault, wie aansluit by Bentham, te gebruik6) te funksioneer. Ek dink dat dit juis die openheid vir voortdurende gesprek is wat Smit se teologiese metode teen ’n vorm van panoptiese ontsporing beskerm. Dalk is ’n meer gepaste beeld die van die episkopos (oorsiener) wat met ’n wye visie verantwoordelike leiding gee. Dit beteken nie dat beoordeling nie plaasvind nie, maar dat daar in die proses van oordeelsvorming met respek en integriteit met ander standpunte in gesprek getree word. Ook hier is sprake van ’n ekumeniese waarheidsoeke, ’n soeke na ’n verspringende Bybelse of evangeliese logika. In die proses is daar by Smit ’n onderliggende vertroue dat teologie saak maak. In ’n tyd wanneer daar maklik – ook deur teoloë – weggedraai word van teologie, beliggaam Smit ’n soort onberouvolle beoefening van die teologie wat uitgaan van die inherente geloof in die belangrikheid van teologie. Hierdie fokus op die belangrikheid van teologie is nie ’n heldhaftige en arrogante verheffing van die teologie nie. Teen die einde van sy professorale intreerede verwys Smit dan ook na die Duitste geleerde Friedrich Schleiermacher wat tot sy oudag na homself as student-in-die-teologie verwys het. Hy skryf verder:

“Al geld dit nie meer van ander professore nie, geld dit steeds van dié in teologie dat ons in die letterlike sin professore is, mense wat openlik verklaar, met vrymoedigheid en versekerdheid, en hopelik deur leer én lewe, wat hulle glo en waarvoor hulle staan, maar dáárom ook blywend studente-in-die-teologie, vol verwondering en verlange, en vraend na die waarheid. As ons ooit sou dink of voorgee dat ons wéét, moet die teologie van ons bevry word” (2000b:30).

2.4.2. Die kompleksiteit van vertolking

’n Poging om oor Dirkie Smit se rol as vertolker na te dink, vra ook dat aan sy beskouing van vertolking as sodanig aandag gegee word. Dalk lê die groot waarde van Dirkie Smit se bydrae ten opsigte van die vraag na die vertolking van die Bybel daarin dat hy nie goedkoop en oorvereenvoudigde antwoorde probeer bied nie. Eerder sou hy die vrae vermeerder. Die volgende aanhaling is verteenwoordiging:

“The question is: to which community-of-interpretation, to which tradition, to which group, to which ‘polis’does the Bible properly belong? Where can we expect to learn how to read and interpret die Bible properly, responsibly? Who are the real readers of the Bible? To whom does the Bible belong – to the church, as many would claim? or to the academy, and biblical scholarship? or to the society as a whole, as a classic of human orientation, wisdom and life? And if the answer is indeed the church, then which church, which faith community, which denominational tradition – if they are also disagreeing, even struggling with each one another, over the message of the Bible?” (2005a:24)7

Daar is dus ’n deeglike bewustheid by Smit van die feit dat die beroep op die Bybel ’n omstrede saak is. Tydens die apartheidsera is die Bybel juis op konflikterende wyses gebruik. Hieruit het dit duidelik geblyk hoe moeilik dit is om ’n standpunt met ’n beroep op die Bybel te regverdig. In Nuwe Testamentiese kringe is hierdie komplekse sake uitvoerig bespreek en Smit sou self ook aan hierdie gesprekke deelneem. Uit sy bydraes in hierdie verband, blyk sy oortuiging dat die vraag na ’n etiek van interpretasie belangrik is (vgl. bv. Smit 1988b,1990b,1990a,1991e,1991d,1994b,2006d). In Neem, Lees! verwys hy weer eens na die belangrikheid van ’n etiek van interpretasie met die onderliggende aanname dat enige interpretasie van die Bybel

“ … ’n sosiale of politieke handeling is, wat gevolge het vir die lewe van mense, en daarom met etiese verantwoordelikheid beoefen moet word, en dat enige vorm van praat namens die Bybel of skryf oor die Bybel – preke, geestelike literatuur, dagboeke, teologie – ook met etiese verantwoordelikheid gepaard moet gaan, met agterdog en selfkritiek bejeën moet word, en slegs in groot beskeidenheid, ootmoed, versigtigheid en openheid vir raad en kritiek van ander kan geskied” (2006a:85).

Die saak van verantwoordelike interpretasie is vir Smit belangrik.8 Daarom ook sy belangstelling in die retoriek van interpretasie en die belangrikheid van vrae soos: Wie lees? Namens wie word daar gelees? Waarom word daar gelees? Hoewel Smit telkemale skepties sou staan teenoor ’n sekere gebruik van ’n hermeneutiek van suspisie en sommige maniere waarop modernistiese (en postmodernistiese) leesstrategie inslag gevind het, is hier sprake van ’n kritiese hermeneutiek. Hier is dus nie sprake van ’n verblindende naïewe lees van die Bybel nie. Daarom sy opmerking:

“Die vraag is hoe verstáán ons wat ons lees? Ook die Bybel praat baie tale. Die Bybel is ’n komplekse getuie, ’n biblioteek van boeke, oor eeue heen geskryf, onder verskillende omstandighede, deur tallose skrywers, in uiteenlopende genres, gerangskik na verskillende vorme van logika, gesaghebbend verklaar langs komplekse weë en met onnaspeurlike motiewe, op verskillende wyses gekanoniseer – en dit alles geld nog net vir die ontstaan van die Bybel, sonder dat nog iets gesê is oor die nog ingewikkelder geskiedenis van sy uitleg” (2000b:15).

Dit is ’n rede waarom die teologie meer leef van luister en hoor, as van weet en praat.

2.4.3. ’n Teologiese hermeneutiek?

Tesame met hierdie opmerking moet egter ook genoem word dat hermeneutiek ten diepste vir Smit ’n teologiese aktiwiteit is. In ’n baie interessante artikel, “Rhetoric and Ethic? A Reformed Perspective on the Politics of Reading the Bible” (2006), vra Smit na ’n Gereformeerde perspektief ten opsigte van die lees van die Bybel en fokus hy spesifiek op Calvyn se hermeneutiek. Oor Calvyn skryf hy: “Hermeneutics, for Calvin, is theology, not merely its preparation, and theology, for Calvin, is hermeneutics, not merely its material” (2006e:3).

Sonder om in die detail van Smit se boeiende bespreking in te gaan, kan genoem word dat hy teen die einde van die artikel duidelik maak dat Calvyn se teologiese hermeneutiek glad nie met dit wat vandag fundamentalisme, literalisme, biblisisme, legalisme of moralisme genoem word, gelyk gestel kan word nie. Daar is wel die vraag na die sogenaamde eenheid van die Bybel. Smit skryf:

“There can be no doubt that for Calvin , exegesis is not only free, but in fact called to concentrate on the meaning, the sense, of the pluriform and complex detail of the biblical texts with all possible human skills, methodologies and knowledge … But then, according to Calvin, all this detail must somehow be assembled again, gathered … The crucial question is, therefore, how this gathering takes place, if at all?” (ibid 23 – kursivering Smit).

Dit is seker makliker om te sê hoe so ’n bymekaarmaak van die fragmente nie plaasvind nie. Smit handhaaf, soos Calvyn, egter die siening dat dit wel moontlik is. Hoe is dit vir Calvyn moontlik? “Clearly, because of his theological conviction that the same living Triune God is still speaking through these words, because of his trust that the same faithful God of the covenant of grace, because of his faith in the real presence of Christ, is still fulfilling, through spoken and visible words, his three-fold office, promising, exhorting, and (trans)forming readers until today, through this message” (ibid, 25).

Hier is dus sprake van ’n transformatiewe, teologiese hermeneutiek. Tans is daar toenemend stemme wat ’n pleidooi lewer vir ’n teologiese interpretasie van die Bybel. Smit self verwys in die bibliografie van Neem, Lees! (onder die veelseggende titel “Nóg stories oor ánder se stories”) na ’n aantal kommentaar-reekse wat doelbewus teologies wil wees, byvoorbeeld N T Wright se Everyone-reeks, die Brazos Theological Commentary on the Bible en Eerdmans se Two Horizons- kommentare (Smit 2006a:320). Volgens Smit is dit nog te vroeg om te oordeel of hierdie produkte ’n blywende bydrae gaan lewer. Dit is wel reeds duidelik dat die term “teologiese hermeneutiek” op talle wyses geïnterpreteer kan word. Dit sal nie verrassend wees nie indien Smit vorentoe, soos wat hierdie benaderings ontvou, ook na die onderliggende etiek van interpretasie van ’n teologies- hermeneutiese lees van die Bybel sal vra nie.

5. Bely! – Om die Woord van God vandag te beliggaam

5.1 ’n Konfessionele hermeneutiek?

Vir Dirkie Smit is die lees en vertolk van die Bybel, en die lees en vertolk van die lesers en die vertolkers daarvan, deel van ’n komplekse hermeneutiese proses waarin gepoog word om op ’n verantwoordelike wyse die evangelie vir vandag te hoor. Hierdie proses is egter nie ’n oefening wat los van respons en toe-eiening kan geskied nie. “Lees” en “vertolk” hang ten nouste saam met “bely.” Die gedagte van belydenis funksioneer dan ook sentraal in Smit se verstaan van die kerk en die teologie. Teologie is nie bloot die herhaling van gister se waarhede nie. Hy skryf:

“Met dié wete, dat dit nie genoegsaam is om bloot te herhaal wat ander, insluitend die Heilige Skrifte, voorheen gesê het nie, en ook nie moontlik is om die inhoud van die Skrifte te herlei en te sistematiseer tot ’n korpus van tydlose, ewig waar proposisies, wat soos ’n juridiese kodeks of ’n opslagplek van waarhede en bewysplase net geraadpleeg kan word nie, maar hulle leef met die noodsaak, die uitdaging, om – ja, op grond van wat die Skrifte en sy uitleggers voor hulle getuig het – in elke nuwe situasie weer die tekens van die tye te lees, en self oor die uitdagings en geleenthede van elke nuwe dag te praat in die tale Kanaäns, worstel die kerk deur die eeue” (2000b:11).

Hierdie wete word vir Dirkie Smit verwoord in die gedagte dat geloof om belydenis vra. Om te bely is om instemming te verleen aan wat in die Skrif en tradisie gehoor word en dit met ons eie woorde en lewens na te sê.

Baie van Dirkie Smit se werk konsentreer op hierdie gedagte van belydenis. Hy skryf dan ook heelwat oor die geloofsbelydenisse en belydenisskrifte. Hy hou byvoorbeeld by ’n aantal geleenthede Pinksterreekse wat dele van die geloofsbelydenis van Nicea as uitgangspunt neem.9 Hy sou ook deur die jare deeglik nadink oor die aard en funksie van Gereformeerde belydenisskrifte (vgl. o.a. Smit 1984a,1984b,1984c,2000c,2002a,2003d,2006b,2006c,2002c ). Die Gereformeerde tradisie is vir hom ’n belydenistradisie. Die kerk is ’n belydende kerk. Die kerk het nie maar net belydenisse nie, maar moet uit die belydenisse leef.10

Vir Smit is dit egter belangrik dat die belydenisse en belydenisskrifte nie as ahistoriese dokumente wat uit tydlose stellinge bestaan, beskou moet word nie. Nee, die gereformeerde omgang met belydenisse “neem historisiteit en kontekstualiteit baie ernstig” (Smit 2006h:6). Daar is dus in Smit se denke ’n sekere temporaliteit en ruimtelikheid aan die werk wat nie geloof met tyd- en konteksloosheid verwar nie. Net soos in die geval van die Bybelse geskrifte self, vra die belydenisse ook vir verantwoordelike interpretasie wat historisiteit en kontekstualiteit ernstig neem. Soos Smit dit stel: “’n hermeneutiek van die tradisie is nodig, juis om die kragtige en lewende getuienis van die belydenisse steeds in die te hede te kan hoor en gehoorsaam” (2006h:6). Belydenis is daarom ook vir die hier en nou, vir ons tyd, vir en in Afrika (sien Smit 2000b:22).

Hierdie fokus op die historiese konteks waarin belydenisse ontstaan, asook die konteks waarin belydenisse toegeëien word, beteken nie dat die gesag van die belydenisse in die sosiale en historiese konteks geleë is nie. Tye van sosiale transformasie kan die rede vir belydenis wees (dit was in Gereformeerde belydenisse eintlik altyd die geval gewees), maar dan kan die belydenisse nooit hierdeur bepaal word nie. In aansluiting by Barth, skryf Smit:

“The historical context is present in the confession, sometimes implicitely, in the form of the No embedded in the Yes, but it never becomes the authority to which confession appeals. The intention and claim of Reformed confession is always to witness to truth that is above the historical context and to faith that properly belongs to the whole church, and will remain so. The reason is that Reformed confession rests on the authority of the living God who speaks through Word and Spirit … What is ultimately at stake is the characteristic reformed way of seeing the Word of God, the way Reformed believers think about reading, interpreting, hearing an preaching the God’s Word” (2000c:81).

In Smit se nadenke oor die Gereformeerde belydenistradisie is Karl Barth dan ook ’n belangrike gespreksgenoot. In ’n artikel “Social Transformation and Confessing the Faith: Karl Barth’s views on confession revisited” (2000), gee hy ’n uitvoerige beskrywing van Barth se denke oor belydenis. Hy verwys na ’n aantal belangrike toesprake van Barth, soos dié in September 1923 voor die volle vergadering van die Reformierter Bund in Emden oor die onderwerp “Refromierte Lehre, ihr Wesen und ihre Aufgabe”11 en die klassieke toespraak voor die World Alliance of Reformed Churches se vergadering in Cardiff in 1925 oor die moontlikheid en wenslikheid van die opstel van ’n nuwe belydenis. In die lig van Barth se nadenke oor die aard van Gereformeerde belydenisse, meen hy dat hierdie vergadering nie ’n nuwe belydenis kan en moet opstel nie. Beide hierdie toesprake van Barth bevat insigte wat Smit deur die jare deeglik sou oordink en met sy eie beskouings oor Gereformeerde identiteit sou integreer. In die Cardiff toespraak gee Barth sy bekende definisie van ’n Gereformeerde belydenisskrif:

“A Reformed confession of faith is the spontaneously and publicaly formulated presentation to the Christian church in general of a provisionally granted insight from the revelation of Jesus Christ attested to in Holy Scripture alone by a geographically circumscribed Christian fellowship which, until further notice, authoritatively defines it character to outsiders and which, until futher action, gives direction to its own doctrine and life” (aangehaal deur Smit, 2000c:72).

In Dirkie Smit se talle publikasies en toesprake oor Gereformeerde teologie speel hierdie gedagtes van Barth ’n belangrike rol. Hy beklemtoon hoe hierdie definisie die bindende krag van die belydenis onderstreep. Smit wys ook op die betekenisvolheid van die frase “until further notice” in Barth se definisie. Soos Barth meen Smit dat die belydenisskrifte ’n relatiewe gesag (met nadruk op beide woorde) besit. Dit het gesag want dit verteenwoordig die manier waarop vorige geslagte die Woord van God gehoor het, maar dit is ook ’n relatiewe gesag aangesien dit aan die gesag van die Skrif onderworpe is. Belydenisse moet voortdurend gemeet word aan die Skrif. Smit skryf:

“Die belydenis het gesag ómdat dit die Woord van God se eie gesag agter hom het, ja, maar dit is alles tot tyd en wyl, tans, op die oomblik, met huidige leiding en lig, met huidige geestelike insig en onderskeidingsvermoë. Dis in beginsel altyd moontlik dat die Gees en die Woord die geloofsgemeenskap tot ánder insig en oortuiging mag bring” (2006h:5).

Alle belydenisse is op ’n fundamentele wyse onderworpe aan die eintlike gesag van die lewende Woord.

Dit gaan dus in Smit se beskouing van belydenis oor die (historiese) oomblik, maar dit gaan ook oor hierdie oomblik as die oomblik van waarheid.12 En hierdie waarheidsoeke hang ten nouste saam met hoe ’n mens dink oor die lees, interpretasie, hoor en preek van die Woord. Die oomblikke van beslissing en waarheid, is juis die oomblikke wanneer daar gevra word na ’n verantwoordelike lees en interpretasie van die Bybel, na ware teologiese hermeneutiek.

5.2 Bely en beliggaam

In Barth se bekende definisie van Gereformeerde belydenisse verwys hy na die feit dat belydenisse rigting gee aan die kerk se leerstellinge en lewe. Smit merk ook op dat: “’n Besondere karaktertrek van gereformeerde belydenis is die innige en wedersydse verband tussen waarheid en lewe, tussen geloof en etiek, tussen bely en doen, tussen uitspreek en uitleef” (2006h:9).

Die daad van belydenis is dus ook ’n oproep tot beliggaming. Die belydenis moet uitgeleef word. Dit het alles met die praktyk van die Christelike en kerklike lewe te make.

“Die belydenis strek uit oor die vormgewing, die strukture, die gestalte, die institusionalisering van die kerk wat die evangelie só hoor en bely, en die belydenis strek uit oor die etiek, die lewe, die gedrag, die persoonlike, sosiale en politieke lewe van diegene wat die evangelie só hoor en bely”(2006h10).

In die lig hiervan kan ’n mens op die nou verband tussen belydenis aan die een kant en ekklesiologie en etiek aan die ander kant dui. Dit is dus heel moontlik om in die nadenke oor ’n prakties-teologiese ekklesiologie en ’n kontekstuele teologiese etiek op byvoorbeeld die Barmen- verklaring of die Belydenis van Belhar te bou. Dit versterk die verband tussen teologiese oriëntasie en kerklike of etiese gestaltegewing. In Smit se denke hang sy beskouing van ekklesiologie en etiek ten diepste met ’n verstaan van die verhouding tussen belydenis en beliggaming saam.

Telkens sou Smit, byvoorbeeld, verwys na Calvyn wat, nadat hy deur Farel in 1536 oortuig is om in Genève te bly, binne enkele maande drie dokumente skryf om tot die hervorming van die gemeente by te dra, te wete ’n memorandum met die hoofpunte vir ’n kerkorde, ’n kategismus, en ’n belydenis waartoe alle lede hulle moet verbind as grondslag vir die lewe in die stad (vgl. bv. 2002c). Die orde word vir Calvyn gereël op die grondslag van die belydenis. Ook weer in 1541 skryf hy drie geskrifte: ’n kategismus, ’n liturgiese handleiding, en ’n paar ordereëlings. Bely en beliggaming gaan dus saam. Vernuwing in belydenis lei tot kerkorderlike vernuwing.

Belydenis vra gestaltegewing. Soos Smit dit stel:

“Dit is gevolglik nie verbasend nie dat daar in die gereformeerde tradisie ook telkens pogings was om nuwe kerkordes op te stel wat dié nuwe insigte in die evangelie en nuwe belydenisse van hulle geloof moes beliggaam. Die belydenis het geroep om vergestalting, om méér as net ad hoc-, momentele dade van dankbare gehoorsaamheid, te wete om openbare, sigbare en blywende kerklike strukture, organisasievorme, wat die daadwerklike lewe van dankbaarheid blywend sou moontlik maak en bevorder” (2002c 358).

Die vraag na hoe die kerk georden moet word is dus ook ’n belydenisvraag. Dit hang ten nouste saam met die verstaan van die kerk as ’n belydende gemeenskap.

Hierdie vergestalting van die belydenis in kerklike strukture en reëlings, vorm deel van ’n erkenning dat belydenis en lewe ten nouste saamhang. Teen die einde van sy belangrike artikel “Bely en beliggaam” skryf Smit dan ook: “Ná belydenis, en ná die eerste beliggaming in die kerkorde, volg vir die gereformeerde geloof die eintlike beliggaming, in die lewe” (ibid 371).

5.3 Bely en behoort

In ’n artikel “On Belonging: Doing Theology Together” wys Smit daarop dat tot die hart van die apartheidsteologie ’n apartheidsekklesiologie behoort het. Ten diepste hang dit saam met die vraag aan wie die kerk behoort: “Radically put, is the church the church of the volk, or the church of the Triune God?” (Smit 2007:5). Sedert Calvyn is dit immers ’n sentrale aanspraak van die Gereformeerde geloof dat die kerk nie aan haarself behoort nie. Dit staan direk teen oor die gedagte van “ons eie.” Soos wat die eerste vraag en antwoord van die Heidelbergse Kategismus duidelik maak: ons diepste troos is daarin geleë dat ons nie aan onsself behoort nie, maar aan Jesus Christus. Vir Smit is hierdie feit dat die kerk nie aan haarself behoort nie, maar in Christus aan die drie-enige God, van deurslaggewende belang vir die denke oor die kerk. Hy wys verder daarop dat feitlik alle Christene hiermee sal saamstem, maar dat die toets gaan kom ten opsigte van konkrete ekklesiologieë, in elkedagse praktyke en in spesifieke historiese omstandighede. Smit vervolg dan dat die toets in Suid-Afrika (wat soms na verwys word as “the acid test”) in die vorm van die vraag kom of die kerk sigbaar een moet word, en hóé dit moet geskied. Vandag, te midde van gesprekke oor kerkhereniging, is die belangrik om op Smit se herinnering te let dat die gesprekke oor die proses van sigbare eenheid ten nouste saamhang met die vraag aan wie ons ten diepste behoort.

Die Christelike lewe gaan oor die beliggaming van die waarheid dat ons aan die drie-enige God behoort. Christen-wees en kerkwees het met behoort te make. Dit het ook wesentlike implikasies vir hoe daar oor teologie gedink word. Teologie doen ’n mens in gemeenskap: “Theology is the ongoing work of the church of Jesus Christ, and this church does not belong to any nation or to the arbitrary wishes, needs and interests of particular groups who may decide to form a congregation or denomination, but to the Triune God of the whole church, history and the world. It is in belonging to this community that we can do theology together” (Smit 2007:8).

Hierdie aanhaling klop weer eens met Smit se grondoortuiging oor die noodsaak en aktualiteit van ’n ekumeniese waarheidsoeke.

6. TEN SLOTTE

Willie Jonker eindig sy boek Selfs die kerk kan verander (1989) met die volgende diepsinnige en waarskynlik profetiese kommentaar:

“Waar die stryd die afgelope veertig jaar hoofsaaklik om die deurbreking van die volkskarakter van die NGK, sal dit in die volgende dekades waarskynlik om die uitbouing van die eenheid van die NG familie van kerke gaan, sowel as om die bewaring van die gereformeerde karakter van hierdie kerke en hulle profetiese roeping in die samelewing” (1989:221).

In hierdie aanhaling word baie gesê. Dit vra om getroue en kreatiewe teologiese respons. ’n Kritiese en indringende gesprek met die teologie van Dirkie Smit kan vir hierdie proses van ontsettende groot waarde wees. Te midde van die uitdagings vir die teologie en kerk vandag, dien Smit se teologie as ’n hoopvolle herinnering aan die belangrikheid van lees, vertolk en bely … die belangrikheid dat ons sáám na die Woord van God moet luister, dat ons die Woord verantwoordelik moet interpreteer en dat ons die Woord vandag moet beliggaam.

BIBLIOGRAFIE

Jonker, W. D. 1998. Selfs die kerk kan verander. Kaapstad: Tafelberg.

Rabinow, P (red) 1984. The Foucault Reader. New York: Pantheon Books.

Smit, D.J. 1984a. “A status confessionis in South Africa?” JTSA Vol 47, pp. 2146.

– 1984b. “... op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte...” In Cloete, G.D. & D.J. Smit (reds). ’n Oomblik van waarheid. Kaapstad: Tafelberg, pp. 6275.

– 1984c. “Wat beteken status confessionis?” In Cloete, G.D. & D.J. Smit (reds). ’n Oomblik van waarheid. Kaapstad: Tafelberg, pp. 1640.

– 1985. “Die droom van Bybelse geregtigheid.” Scriptura, No 15, pp. 5170.

– 1986. Christus is die Heer! Oordenkings en Bybelstudie uit die Kolossensebrief. Kaapstad: Lux Verbi.

– 1987a. Hoe verstaan ons wat ons lees? ’n Dink en werkboek oor die hermeneutiek. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

– 1987b. Die geloof dan is.... Oordenkings en Bybelstudie uit Hebreërs. Kaapstad: Lux Verbi.

– 1988a. “Wat is Gereformeerde spiritualiteit?” NGTT, April 1988/2, pp. 182193.

– 1988b. “Responsible hermeneutics. A systematic theologian’s response to the readings and readers of Luke

12:3548.” Neotestamentica, 22 (1988), pp. 441484.

– 1988c. “Hoop in lewe en lyding. Oordenkings en Bybelstudie uit 1 Petrus.” Kaapstad: Lux Verbi.

– 1989a. “‘...om saam met al die heiliges Christus te ken.’ Persoonlike indrukke van ’n ekumeniese waar- heidsoeke.” In Koninkryk, kerk, osmos: huldigingsbundel ter ere van Prof. W.D. Jonker. Bloemfontein: Pro-Christo Publikasies, pp. 1132.

– 1989b. “Those were the critics, what about the real readers? An analysis of 65 published sermons and sermon guidelines on Luke 12:3548.” Neotestamentica, 1989/23.

– 1989c. “Kan spiritualiteit beskryf word?” NGTT, pp. 8394.

– 1990a. “Ethics and interpretation and South Africa” Scriptura, 33, pp. 2943.

– 1990b. “Ethics and interpretation new voices from the USA.” Scriptura, 33, pp. 1628

– 1991a. “Myth versus myth. Conflicting myths in South African religious discourse on violence.” (With J. C. Adonis), Apologia, pp. 21-38.

– 1991b. “Godsdiens in die openbaar. Tendense in die Afrikaanse godsdiensprogramme van die SAUK.” (Met B. A Müller.). NGTT, 1991/4, pp. 652-665.

– 1991c. “The demythologisation of ideology.” In Nürmberger, K (ed). 1991. A democratic vision for South Africa. Pietermaritzburg: Encounter Publications, pp. 280-296.

– 1991d. “The Bible and ethos in a new South Africa.” Scriptura, 37, pp. 51-67.

– 1991e. “Wat beteken ‘die Bybel sê’? ’n Tipologie van leserskonstrukte.” HTS, 47/1, pp. 167-185.

– 1992a. “South African radio and television as contexts for exegesis: A case-study of interpretive practices in South African public worship.” (With B. A. Müller), Scriptura, S9, pp. 73-86.

– 1992b. “Reformed theology in South Africa: A story of many stories.” Acta Theologica, 12/1, pp. 88-110.

– 1993. “Om lesings te lees ... ’n Kategorieë-sisteem vir die analise van preke en godsdienstige uitsendings as lees- en kommunikasiegebeurtenisse.” (With B. A. Müller) Scriptura, 1993/11, pp. 36-68.

– 1994a. “Hoe Christene in Suid-Afrika by mekaar verby praat ... Oor vier morele spreekwyses in die Suid- Afrikaanse kerklike konteks.” (met D. E. de Villiers) Skrif en kerk, pp. 228-247.

– 1994b. “Reading the Bible and the (un)nofficial interpretive culture.” Neotestamentica, 28 (2), pp. 309-321.

– 1994c. “A story of contextual hermeneutics and the integrity of New Testament scholarship in South Africa.” Neotestamentica, 28 (2), pp. 265-289.

– 1994d. “Etiek na Babel? Vrae rondom moraliteit en die openbare gesprek in Suid-Afrika vandag.” NGTT,

1994/1, pp. 82-92.

– 1994e. “Public worship a tale of two stories.” (With B. A. Müller) In Mouton, J. & B.C. Lategan (eds). 1994.

The Relevance of Theology for the 1990’s. Pretoria: HSRC, pp. 385-408.

– 1994f. “Its name was called Babel ...” (With G.D. Cloete) JTSA, 86, March 1994, pp. 81-87.

– 1994g. “Wat sien ons in die spieël: (Pinkster-)oordenkinge en Bybelstudie oor die brief van Jakobus?” Kaapstad: Lux Verbi.

– 1995a. “‘Met watter gesag sê u hierdie dinge?’ Opmerkings oor kerklike dokumente oor die openbare lewe.” (With D. E. de Villiers) Skrif en Kerk, Jrg 16 (1), pp. 39-56.

– 1995b. “Etiese spraakverwarring in Suid-Afrika vandag.” NGTT, 1995/1, pp. 87-98.

– 1995c. “Oor die skepping van ’n grammatika van saamleef.” HTS, 51/1, Maart 1995, pp. 85-107.

– 1995d. “Het Suid-Afrika ’n gemeenskaplike morele taal nodig?” HTS, 51/1, Maart 1995, pp. 65-84.

– 1996a. “Theology as rhetoric? Or: guess who’s coming to dinner.” In Porter, S.E. & T.H. Olbricht (eds). Rhetoric, Scripture and Theology: Essays from the 1994 Pretoria Conference. Sheffield: Sheffield Academic Press, pp. 400-429.

– 1996b. “Waarom verskil ons so oor wat die wil van God is? Opmerkings oor Christelike morele oordeelsvorming.” (With D. E. de Villiers) Skrif en Kerk, 17 (1), pp. 31-47.

– 1996c. “‘Pidgin or Pentecost?’ On translation and transformation.” Scriptura 58, pp. 305-328.

– 1996d. “An ethics of writing? On writing as a social activity.” (With G. F. Wessels) Scriptura 57, pp. 125- 138.

– 1998a. “Das Bekenntnis von Belhar: Entstehung, Inhalt, Relevanz.” In Das Bekenntnis von Belhar und seine Bedeutung für die reformierten Kirchen in Deutschland. Detmold: Lippische Landeskirche, pp. 17- 33.

– 1998b. Gesigte van die liefde. Om te leef soos God se mense. Meditasies oor die vrug van die Gees. Kaapstad: Lux Verbi.

– 1998c. “Biblical hermeneutics: the 20th century.” Initiation into Theology. The rich variety of theology and hermeneutics. In Maimela, S. & A. König (eds). Pretoria: Van Schaik, pp. 297-317.

– 1998d. “Biblical Hermeneutics: the first 19 centuries.” In Initiation into Theology. The rich variety of theology and hermeneutics. In Maimela, S. & A. König (eds). Pretoria: Van Schaik, pp. 275-296.

– 1999. “Visie, motief, weë – Geoffrey Wainwright oor die eenheid van die kerk.” Skrif en Kerk, 1999/2, pp. 414-440.

– 2000a. “Versoening – en Belhar?” Gereformeerde Theologisch Tijdschrift, 2000/4, pp. 159-174.

– 2000b. “In diens van die tale Kanaäns? Oor sistematiese teologie vandag.” Intreerede. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch.

– 2000c. “Social transformation and confessing the faith? Karl Barth’s views on confession revisited,” Scriptura 72, 2000:1, pp. 76-86.

– 2001a. “Wat Here is en lewend maak. Wat Christene bely oor die Heilige Gees.” Wellington: Lux Verbi.BM.

– 2002a. “‘Christ transforming culture?’ Nagedink oor die aard van die gereformeerde geloof.” In Essentialia et Hodierna. Oblata P C Potgieter (Acta Theologica Supplementum 3), pp. 125-149.

– 2002b. “In diens van die tale Kanaäns? Oor sistematiese teologie vandag.” NGTT 43,1/2, pp. 94-127.

– 2002c. “Bely en beliggaam.” In Coertzen, P (red.) 350 jaar Gereformeerd/350 Years Reformed. Bloemfontein: CLF, pp. 357-371.

– 2002d. Lig uit Lig. Wat Christene bely oor Jesus Christus. Wellington: Lux Verbi.BM.

– 2003a. “Ecumenical hermeneutics? Historical benchmarks and current challenges of a concept.” In Fröchtling, A. & N. Phaswana (eds). 2003. Being (the church) beyond the South-North-divide: Identities, othernesses and embodied hermeneutics in partnership discourses South Africa-Germany. Münster: LIT, pp. 23-48.

– 2003b. Vernuwe! – na die beeld van ons Skepper. Wellington: Lux Verbi.BM.

– 2003c. “Can we still be Reformed? Questions from a South African perspective.” In Alston, W. & M. Welker (eds). 2003. Reformed theology: Identity and ecumenicity. Grand Rapids, MI: Wm. B. Eerdmans, pp. 233-253.

– 2003d. “A time for confession? On the WARC project ‘Reformed faith and economic justice.’” NGTT, 3&4, pp. 478-499.

– 2003e. “‘The conversation that we are …’ – reflections on ecumenical hermeneutics.” (With J.C. Pauw) South African Journal of Philosophy. Vol 22/1, pp. 19-39.

– 2004a. “‘…The doing of the little righteousness’ – On justice in Barth’s view of the Christian life.” In Welker, M. & C. Jarvis. 2004. Loving God with our minds. Festschrift for Wallace Alston, Grand Rapids, MI: Wm. B. Eerdmans, pp. 120-145.

– 2005a. “On the Christian life.” The Josephine So Lectures on Culture and Ethics, China Graduate School of Theology, Hong Kong, 3-7 Januarie 2005. Ongepubliseerde lesings.

– 2005b. “Transformatiewe hermeneutiek?” Kruisgewys Jrg. 5, Vol. 2, pp. 31-32.

– 2005c. “On learning to speak? A South African Reformed perspective on dialogue.” Scriptura. Vol 88, Nr 1, pp. 183-204.

– 2006a. Neem, lees! Oor die hoor en verstaan van die Bybel. Wellington: LuxVerbi.BM.

– 2006b. “‘Bevrydende waarheid?’ – Nagedink oor die aard van die Gereformeerde belydenis.” Acta Theologica jrg 26, Vol 1, pp. 134-158.

– 2006c. “Barmen and Belhar in conversation – A South African perspective.” NGTT 47, 1&2, pp. 291-302.

– 2006d. “Interpreter interpreted. A readers’ reception of Lategan’s legacy.” In Breytenbach C. & J. Thom (eds). The New Testament interpreted. Leiden: Brill Academic Publishers.

– 2006e. “Rhetoric and Ethic? A Reformed Perspective on the Politics of Reading the Bible”. To be published in: W. Alston, W. and M. Welker (eds). Reformed theology: Identity and Ecumenicity II, Grand Rapids, MI: Wm B Eerdmans.

2006f. “On Edmund Schlink’s ecumenical systematic theology.” Ongepubliseerde toespraak by die Center of Theological Inquiry, Princeton New Jersey, 15 Maart 2006.

2006g. “Not our own: Comfort and Calling in difficult times.” Ongepubliseerde Sprunt Memorial lectures (gelewer met H. Russel Botman by Union Theological Seminary, Richmond, Virginia, 23-25 Januarie 2006).

2006h. “Die Gereformeerde siening van belydenis? Enkele algemene gedagtes”. Ongepubliseerde artikel.

2007. “Belonging: Doing Theology Together”. Ongepubliseerde artikel.

Van Rensburg, F. I. J. (red). 1982. Oopgelate kring: N.P. van Wyk Louw gedenklesings 1-11. Kaapstad: Tafelberg.

TREFWOORDE

Dirkie Smit, Lees, Vertolking, Belydenis, Teologie

KEY WORDS

Dirkie Smit, Reading, Interpretation, Confession, Theology

Dr. RR Vosloo

Fakulteit Teologie Universiteit van Stellenbosch Privaatsak X1

7602 MATIELAND Tel.: (021) 808 3256

E-pos: rrvosloo@sun.ac.za

1 Die titel van Smit se bydrae is reeds betekenisvol: “... om saam met al die heiliges Christus te ken. Per- soonlike indrukke van ’n ekumeniese waarheidsoeke.”

2 Die Babel-metafoor word dikwels deur Smit gebruik as hy oor die hermeneutiek en etiek skryf. Sien bv Smit 1996c; 1995b; 1995c; 1995d, 1994d, 1994f. In ’n stadium was daar ook ’n afdruk van Brueghel se bekende uitbeelding van die toring van Babel teen sy kantoormuur.

3 Dit is waarskynlik ook ’n rede hoekom hy so ’n gewilde spreker vir predikante en teologiesgeïntereseerde lidmate is. In die verband kan ’n mens dink aan sy talle praatjies by kursusse en kerklike byeenkomste – dikwels met ’n stapel boeke by hom waaroor hy met entoesiasme, insig en humor gesels. Sy wye blootstelling aan verskeie teologiese kontekste kan ook in die verband genoem word. So byvoorbeeld is sy grondige kennis, en die deurgee van dié kennis, van veral die Duitse en Amerikaanse teologiese wêrelde vir menige studente en kollegas van groot waarde.

4 Vgl. Van Rensburg 1982.

5 Daarom dat hy tydens die ontvangs van die Andrew Murray-prys vir beste teologiese artikel in 2003 as tema kies om oor die belangrikheid van voetnote te praat. Smit ontvang die prys vir sy intreerede “In diens van die tale Kanaäns? Oor sistematiese teologie vandag” – ’n artikel met 118 voetnote! Smit sou waarskynlik ook nie omgee as ’n mens voetnote by voetnote kon maak nie.

6 Sien Rabinow 1984:206-203.

7 Vir ’n hele reeks verbandhoudende vrae sien ook 2006a:87.

8 Deur die jare sou Smit in talle artikels op hierdie saak van ’n verantwoordelike etiek van interpretasie ingaan. Vgl. byvoorbeeld 1996c oor die verantwoordelikheid van vertaling; 1996d oor die verantwoordelikheid van die teologiese skryfaktiwiteit; 1993 en 1994e as voorbeelde van artikels saam met Bethel Müller oor verantwoordelike prediking; 1991d oor die verantwoordelike rol van die Bybel in etiese oordeelsvorming; en 1994a oor kerklike dokumente.

9 Hierdie preke is ook later versamel en gepubliseer. Sien Smit 2001a,2002d,2003b.

10 Vgl in dié verband sy bespreking, in aansluiting by Eberhard Busch, in Smit 2000c.

11 In hierdie toespraak vra Barth wat dit beteken om die Gereformeerde leer en teologie ernstig op te neem. Hy verwerp egter drie moontlike antwoorde op die vraag, wat hy onderskeidelik as ’n antikwariese reaksie, ’n ideologiese reaksie en ’n emosionele reaksie na die betekenis daarvan om die Gereformeerde leer en teologie ernstig op te neem, noem. Die antikwariese beskouing sien die term “Gereformeerd” as deel van jou verstaan van jou eie identiteit, van jou eie tradisie en praktyke. Volgens hierdie beskouing moet die kerk Gereformeerd “bly,” i.e. bly soos dit is. ’n Ideologiese reaksie, skryf Barth, kies weer spesifieke Gereformeerde temas, gebruike, slagspreke en instellings en noem dit “Gereformeerd.” Hierdie groep wil dan graag hê dat ander “meer Gereformeerd” moet “word”. ’n Derde moontlike manier om Gereformeerd te wees, wat hy ’n emosionele reaksie noem, word ook deur Barth verwerp. Sommige mense wil graag meer Gereformeerd “voel.” Daar is ’n bewondering vir Gereformeerde vaders en helde en “spiritualiteit” (Frömmigkeit) word ’n belangrike woord vir diegene met hiedie reaksie. Hierteenoor verdedig Barth die belangrikheid van wat in die geskiedenis “die Skrif-beginsel” genoem is. Gereformeerde leerstellinge en belydenisse is wat mense sê omdat hulle in die lig van die Skrif geen ander keuse het nie. Hierdie “beginsel” is egter nie ’n formele beginsel nie, maar is ’n teenswoordige realiteit. Dit raak die inhoud van die Gereformeerde leer, naamlik dat God spreek. Daarom Barth se waarneming oor moderne Protestantisme: “they are caught in a prison, built on the four pillars of orthodoxy, pietism, enlightenment and religiosity” (in Smit, 2002c:71).

12 Sien hier ook sy werk oor die gedagte van die status confessionis (1984a, 1984c). Sy eie betrokkenheid by die proses, ook die skryfproses, rondom die Belydenis van Belhar is goed bekend. Sy werk in die verband toon groot kontinuïteit met wat hy later oor die aard van gereformeerde belydenisskrifte skryf. Vir die verband tussen Belhar en Barmen, Barth en ander belydenisskrifte, sien veral Smit 2000c,2006b.