Cronje, SI
Universiteit van Suid-Afrika

Koning Sanherib van Assirë se derde veldtog en die Ou Testament: ‘n Kultuurhistoriese perspektief

ABSTRACT

King Sennacherib of Assyria’s third campaign and doing theology in South Africa

Jerusalem’s miraculous escape from annihilation by the Assyrian army during the reign of king Sennacherib of Assyria and king Hezekiah of Judea is a well known biblical story amongst Christians, pastors and lay people alike (Is 36-39). Also well known to biblical scholars are the numerous Assyrian sources excavated (e.g. the Taylor Prisma and Lagish Relief ), amongst other sites, at Kuyunjik (Nineveh). In this paper the Assyrian sources are presented with the purpose of making pastors and lay people aware of their existence, content and possible benefits for teaching and preaching in the church context. This paper must be seen as an attempt to bring pastors and lay people in contact with some of the results in the field of biblical archaeology and it’s benefits for Bible study in general.

1. INLEIDING

In drie vorige studies het ek my aandag aan Jesaja 36-39 gewy.1 In die proses het ek bewus geword van die feit dat ons as Bybelnavorsers in die bevoorregte posisie is dat ons ook oor buitebybelse bronne2 beskik wat verband hou, of in verband gebring word met die gebeure waarvan Jesaja 36-39, maar dan veral Jesaja 36-37 berig. In die eerste twee van genoemde studies is daar op Jesaja 36-39 gefokus. Daar is wel van verwante tekste in sowel die Christelike kanon as die Assiriese bronne en Herodotos kennis geneem. Dié verwante Bybelse en buitebybelse bronne is egter hoofsaaklik as toeligting gebruik en nie op sigself bestudeer nie. In die derde van genoemde studies is daar gefokus op die feit van die bestaan van parallelle bronne betreffende die beleg van Jerusalem3 in die jaar 701 vC. In genoemde studie word voorgestel dat alle beskikbare bronne in ag geneem behoort te word wanneer daar gepoog word om ‘n historiese konstruksie van gebeure uit vervloë tye te maak.

In hierdie artikel word daar voort gebou op vorige navorsing, maar met die fokus op die geskiedenis en argeologie van die ou Nabye Ooste. Dit spruit onder meer uit die oortuiging dat die geskiedenis en argeologie van die ou Nabye Oosterse en Mediterreense lande ons kennis van die Bybelse wêreld en verstaan van Bybelse tekste onteenseglik verryk. Wanneer Bybelstudie, kategese en prediking onder andere ook deur die geskiedenis en argeologie onderlê word, kry die teks dimensie en die karakters lewe.

Ongelukkig, anders as wat die geval met die Bybel is, is die buite-Bybelse bronne nie onder predikante, lidmate en ander belangstellendes óf hoegenaamd, óf goed bekend nie. Dit terwyl byvoorbeeld Sanherib se weergawes van die beleg van Jerusalem waarskynlik die mees bespreekte Neo-Assiriese inskripsies is (Cogan 2000:302).4 Myns insiens is dit tekenend van predikante en lidmate oor die algemeen se gebrek aan historiese aanvoeling wanneer hulle met die Bybel besig is. Die Bybel word oor die algemeen in genoemde kringe hoegenaamd nie as historiese produk waardeer, of met historiese sensitiwiteit gelees nie. Die gevolg is dat nie alleen die Bybel nie, maar ook die karakters wat daarin aan die orde kom, ahistories verstaan word. Ja, die karakters en gebeure word wel letterlik gelees en verstaan, maar los van hul sosio-historiese konteks uitgelê en verkondig. Eerder as om moeite te doen met die sosio- kulturele en historiese konteks, word eietydse waardes, ideologieë en etiese oortuigings in die Bybeltekste in gelees.5

Vir hierdie ongelukkige toedrag van sake moet, myns insiens, beide die teologie en die kerk6 verantwoordelikheid aanvaar. Enersyds is dit nie altyd duidelik of die teologie regtig moeite doen om sigself vir die breë en kerklike publiek toeganklik te maak nie. Andersyds is dit ewe onduidelik of die kerk nog hoegenaamd daarin belangstel om deur die teologie en dan met name resultate op die gebied van die Bybelwetenskappe en verwante velde ingelig wil word. Hierdie bydrae is ‘n poging om gesprek in die verband te stimuleer.

2. DIE BELEG EN BEVRYDING VAN JERUSALEM – DIE BYBEL SE WEERGAWES

Volgens Jesaja 36-37 het koning Sanherib van Assirië (705-681 vC)7 gedurende die regering van Hiskia, koning van Juda (727-699),8 dié land binnegeval, al sy vestingstede verower en teen Jerusalem stelling ingeneem (701 vC). In sy nood wend Hiskia hom tot Jahwe. Die profeet Jesaja kondig aan dat Hiskia en die volk op Jahwe moet vertrou, want Hy sal hulle verlos.

Volgens Jesaja 37:36-37 trek die engel van die Here deur die Assiriese kamp en verslaan 185 000 man. Vervolgens het Sanherib kamp opgebreek en, sonder om Jerusalem in te neem, na Nineve toe teruggekeer.

Nog twee narratiewe uit die regeringstyd van Hiskia word in die boek Jesaja aan hierdie verhaal gekoppel. Volgens Jesaja 38 het Hiskia tot die dood toe siek geword. Die profeet Jesaja kondig aan dat hy gaan sterwe. Wéér wend Hiskia hom tot Jahwe. Sy gebed word verhoor, 15 jaar word by sy lewe gevoeg en hy ontvang die versekering dat Jahwe Jerusalem teen die Assiriërs sal beskerm. Jesaja 39 vervolg deur te vertel van ‘n Babiloniese afvaardiging wat by koning Hiskia besoek afgelê het en dat hy sy krag, prag en praal met trots aan dié ten toon gestel het. Die profeet Jesaja veroordeel hierdie optrede in die naam van Jahwe. Hy kondig aan dat alles wat die Babiloniese afvaardiging gesien het, in die toekoms na dié land toe weggevoer sal word. Dit sal egter nie in Hiskia se tyd gebeur nie.

Hierdie drie verhale word byna woordeliks in 2 Konings 18:13, 17-20:19 herhaal, terwyl 2 Kronieke 32:1-33, 31 en Sirag 48:18-22 na Hiskia se siekte, die wonderbaarlike bevryding van Jerusalem en 2 Kronieke 32 na die besoek van die Babiloniese gesante verwys. In 2 Konings 18(13)14-16 vind ons egter ‘n ander weergawe. Hier is geen sprake van bevryding deur goddelike ingrype nie. Die teks meld net dat Sanherib aan Hiskia swaar belasting opgelê het en dat hy dit wel betaal het.

Om uit hierdie weergawes een deurlopende verhaal te rekonstrueer, is die volgende metode gevolg: Dit het gebruiklik geword om na 2 Konings 18(13)14-16 as Weergawe A te verwys. Dié weergawe kom glad nie in Jesaja voor nie. Jesaja 36:1-37:38 (2 Kon 18:13, 17-19:37) het bekend geword as Weergawe B. Stade (1886)9 het op sy beurt Weergawe B in twee verhale verdeel, te wete 2 Konings 18:17-19:9a, 36-37 (Jes 36:1-37:9a, 37-38), bekend as Weergawe B1 en 2 Konings 19:9b-35 (Jes 37:9b-36), bekend as Weergawe B2 (Seitz 1991:66-67).

Die vraag is: Veronderstel Weergawe B twee veldtogte wat Sanherib na Juda sou onderneem het, of is dit maar net twee tradisies oor dieselfde gebeure wat in Jesaja 36-37 (2 Kon 1813, 17-19:37) gekombineer is?

In ‘n poging om die Bybelse verhale met mekaar te versoen, het sommige met die gedagte van twee veldtogte na vore gekom. Dié gedagte kon moontlik reeds by Rawlinson sy ontstaan gehad het [Grabbe (2003:21); vgl ook Bright (1981:298) en Shea (1999:36-64)].

Volgens dié hipotese sou Sanherib twee veldtogte na Palestina onderneem het: een in 701 vC (2 Kon. 18:13-16) waartydens Hiskia tribuut sou betaal het en Jerusalem gevolglik nie deur Sanherib ingeneem is nie. Tirhaka, wat intussen die Egiptiese troon bestyg het, kom in opstand teen Assirië en gevolglik onderneem Sanherib ‘n tweede veldtog na Palestina en wel gedurende die jaar 688 vC. Sanherib dwing spoedig die een na die ander koning tot oorgawe, val Juda binne en neem stelling in teenoor Jerusalem. Hiskia verlaat hom wéér op die profetiese woord van Jesaja. Teen alle verwagting in, hef die Assiriërs die beleg baie skielik op.

Daar is inderdaad meer standpunte oor die saak (Clements 1980b:14 ev). Die belangrikste punt van kritiek teen die een-veldtog-hipotese is dat die Egiptiese koning Tirhaka eers in 690/689 vC koning geword het (Horn 1966:3-11) en dus nie in 701 vC teen Assirië as koning van Egipte kon optrek nie (Bright 1981:306). Dit hoef egter nie ‘n probleem te wees nie, aangesien die Bybel se beskrywing van gebeure rondom 701 vC waarskynlik eers lank na die gebeure self neergeskryf is. Tirhaka was bekend vanweë sy oorloë teen die Assiriërs. In die Bybel se weergawe word die naam van ‘n minder bekende Egiptiese koning uit 701 vC met sy naam vervang (Tadmor 1976:143-145).

Tawil (1982):195) belig ‘n verdere probleem met die een-veldtog-teorie en wel op grond van die vertaling van 2 Konings 19:24 (Jes. 37:25) waar die Rabsake in sy toespraak verwys na רוצמיראי׃ Hierdie woorde word in die meeste vertalings vertaal weergegee as: “vreemde waters/waters van vreemde (ander) lande/waters van vreemdelinge”, wat kommentators dan met die Nylrivier in Egipte in verband bring. Tawil (1982:201) vertaal dit egter as “die strome van berg Masor”. Berg Masor identifiseer hy met ‘n plek net noordoos van Nineve. Sanherib het in die jaar 694 vC kanale van hier af aangelê na Nineve (Tawil 1982:200). Die Rabsake het waarskynlik nog nie gedurende die beleg van Jerusalem in 701 vC van Sanherib se groot ingenieurswerke geweet nie, aangesien dit nog nie voltooi was nie. Dus kon daar ‘n tweede beleg van Jerusalem gewees het.

Hierteenoor kan gestel word dat Sanherib se bouwerk alom bekend was. ‘n Alom bekende feit word hier deur die outeur/redaktor(s) in die Rabsake se mond gelê, om Sanherib se aansien te verhoog. Ook hierdie interpretasie oortuig nie.

Shea (1999:36-64) het onlangs ‘n verdere argument ten gunste van die twee-veldtog- hipotese geopper. Hy noem die grootskaalse afwesigheid van annale van Sanherib uit die tydperk tussen 688-681 vC. Hy meld ook ‘n teks van Tirhaka wat Egiptiese ondersteuning bied aan die twee-veldtogte-hipotese (Shea 1999:38). Hy wys ook daarop dat die voorstelling van die beleëringswal wat by Lagis opgegrawe is, op die reliëf van die verowering van Lagis wat in die troonkamer van Sanherib se paleis te Nineve gevind is, ontbreek (Shea 1999:40-41). Hy is van mening dat dié reliëf na die eerste veldtog gemaak is, maar dat dit sake grootliks oordryf en dat Sanherib eers met sy tweede veldtog na Palestina die beleëringswal gebou en Lagis totaal verwoes het (Shea 1999:41).

Dié twee-veldtogte-hipotese geniet huidig egter nie baie steun nie. Al hoe meer navorsers aanvaar dat die Bybelse weergawes dit nie met mekaar eens is oor die redes waarom Sanherib, sonder om Jerusalem in te neem, teruggekeer het na sy hoofstad, Nineve toe nie. Die huidige studie sluit aan by Schoors (1972:13) en Cogan (2000:302) se standpunt naamlik dat daar geen enkele positiewe historiese en argeologiese gronde bestaan vir die veronderstelling dat Sanherib van Assirië gedurende die eerste helfte van die sewende eeu vC ‘n tweede veldtog teen Juda onderneem het nie.

3. DIE BELEG EN BEVRYDING VAN JERUSALEM – BUITE-BYBELSE WEERGAWES

3.1 Die taal

Koning Sanherib van Assirië (705-681 vC) na wie bogenoemde Bybelse tekste verwys, het ‘n verskeidenheid bronne in die vorm van kleitablette, muurpanele en inskripsies op beelde, rotse en dies meer nagelaat. Hierdie bronne staan as die “koninklike annale van Assirië” bekend (Mayer 2003:168). Dit handel hoofsaaklik oor Sanherib se militêre oorwinnings en besondere bouwerk. Dié koninklike annale is in Akkadies opgeteken.

3.2 Assirië en die omvang van die ryk

Assirië was geleë in die noordelike gebied van die hedendaagse Irak, aan die oewers van die Tigris- en Eufraatriviere. Daar word algemeen aanvaar dat die neo-Assiriese ryk met die regering van Tiglat-Pileser III (745-727 vC) ‘n nuwe fase betree het wat sou verseker dat Assirië vir min of meer ‘n eeu ‘n formidabele mag sou bly (Noth 1983:253), maar dat dit in 612 vC, tydens die regering van Ashuruballit II (612-609 vC) finaal tot ‘n val gekom het. Die Assiriese ryk het die grootste gedeelte van die gebied bekend as die Vrugbare Halfmaan, beslaan. Dit het vanaf Egipte in die suidweste, deur Siro-Palestina, ‘n gedeelte van wat vandag bekend is as Turkye, tot aan die Persiese Golf gestrek (Russell 1999:88).

3.3 Assirië se heerskappy oor Israel en Juda

Gedurende die agste eeu voor die Christelike era breek daar ‘n nuwe tydperk van wêreldryke in die ou Nabye Ooste en omgewing aan, wat sou duur tot en met die einde van die Romeinse ryk10 (Miller & Hayes 1986:314). Die Assiriese, Babiloniese, Persiese, Griekse en Romeinse ryke het mekaar opgevolg as leiers van ‘n wêreldryk. Die tydperk van die Assiriese heerskappy (745- 612 vC) is vir hierdie studie van belang. Gedurende hierdie periode val Samaria, hoofstad van Israel (Noordryk), in 722 vC en word Juda se grondgebied ná Sanherib se derde veldtog in 701 vC dramaties ingekort. Beide gebiede was belastingpligtig aan die Assiriese koning.11

3.4 Sanherib se derde veldtog

Hierdie studie fokus spesiaal op koning Sanherib van Assirië se sogenaamde derde veldtog na die Weste van sy ryk (Gallagher 1999:1), naamlik die verowering van Juda en beleg van Jerusalem in 701 vC. Die feit dat berigte betreffende hierdie veldtog in beide die Assiriese en Bybelse bronne behoue gebly het, maak dit waarskynlik die Neo-Assiriese berig wat die meeste aandag trek.

Met die afsterwe van Sargon II (722-705 vC), Sanherib se pa, breek daar oral in die Assiriese ryk opstand uit. Nadat hy die orde in die ander dele van sy ryk herstel en sy heerskappy gevestig het, wend Sanherib hom in die jaar 701 vC na die Weste. Hierdie veldtog staan huidig bekend as Sanherib se sogenaamde derde veldtog. In dié opstand van die westelike vasalstate, het Juda waarskynlik geen geringe rol gespeel nie. Dié state moes egter die een na die ander die knie voor Sanherib se leër buig. Baie van die dorpies en stede in Juda word dan ook verower en in 701 vC word Jerusalem beleër (vgl Soggin 1993:246). Sanherib keer egter sonder opgawe van redes onverrigter sake na Nineve terug. Hy ontvang egter belasting van koning Hiskia van Juda.

‘n Presiese rekonstruksie van die roete en volgorde van gebeure gedurende hierdie veldtog is nie moontlik nie, aangesien gebeure in Sanherib se annale volgens onderwerp en nie as kronologie nie georden word. Die nieAssiriese konings word byvoorbeeld onder die hofies “onderdanig” en “verower” gerangskik [Cogan (2000:302); vgl. egter Mayer (2003:174- 175)].

Koning Hiskia van Juda word in hierdie Assiriese bronne as ‘n verslane vasalkoning geskets wie se grondgebied dramaties ingekort is, terwyl hy self saam met van sy lojale ondersteuners en ander mense in Jerusalem vasgekeer sit. Jerusalem is beleër, maar nie ingeneem nie.

Daar is huidig geen Assiriese bron wat ‘n moontlike tweede veldtog wat Sanherib na die Weste sou onderneem het steun nie. Totdat nuwe inligting na vore kom, kan met redelike sekerheid gesê word dat Sanherib slegs een maal gedurende sy regeringstyd ‘n veldtog na die Weste van sy ryk onderneem het.12

4. DIE ASSIRIESE BRONNE – ‘N OORSIG

‘n Groot hoeveelheid afskrifte van Sanherib se annale is gevind (Gallagher 1999:10). Van hierdie artefakte is die Taylor en Chicago prismas, die Rassam silinder13 en die Lagis reliëfs die bekendste. Ander, miskien minder bekende, inskripsies is die Bul- en Aseka-inskripsies en die Nebi Yunus-tablet. Vervolgens word enkele opmerkings oor dié bronne gemaak.

4.1 Taylor en Chicago prismas

Dit word vandag redelik algemeen aanvaar dat die beroemde Taylor Prisma (691 vC), wat in die Britse Museum bewaar word, die finale weergawe van Sanherib se annale verteenwoordig (Luckenbill 1968:115). Dié prisma is ‘n seskantige klei prisma waarop die eerste agt veldtogte van Sanherib neergeskryf is. Dit is in 1830 deur kolonel R Taylor van Brittanje in Nineve gevind (Mitchell 1988:59). Die Oriental Institute of the University of Chicago verkry egter in 1920 ‘n beter kopie van hierdie teks. Dit staan vandag as die Chicago Prisma (689 vC) bekend. Sulke prismas en silinders is dikwels in die mure van paleise toe gepleister (Russell 1999:140). Weergawes en vertalings van hierdie twee prismas is tot navorsers se beskikking.14

4.2 Rassam-silinder

In die Britse Museum is daar ook ‘n silinder bekend as die Rassam silinder. Hierdie teks is ‘n opsomming van Sanherib se eerste drie veldtogte en sluit die berig oor die beleg van Jerusalem in 701 vC in. Dié silinder, wat uit 700 vC dateer, is huidig die oudste beskikbare weergawe van Sanherib se derde veldtog. Met die uitsondering van die laaste paragraaf, sou dit as basis dien vir alle toekomstige weergawes van Sanherib se eerste drie veldtogte (Luckenbill 1968:136).

Die gedeelte van genoemde prismas en silinder wat van belang is vir Bybellesers, is die volgende:

In my third campaign, I marched against Hatti. … As for Hezekiah, the Judean, I besieged forty-six of his fortified walled cities and surrounding smaller towns, which where without number. Using packed-down ramps and applying battering rams, infantry attacks by mines, breeches, and siege machines, I conquered (them). I took out 200 150 people, young and old, male and female, horses, mules, donkeys, camels, cattle, and sheep, without number, and counted them as spoil. He himself, I locked up within Jerusalem, his royal city, like a bird in a cage. I surrounded him with earthwork and made it unthinkable for him to exit by the city gate. His cities which I had despoiled I cut off from his land and gave them to Mitinti, king of Ashdod, Padi, king of Ekron and Silli-bel, king of Gaza, and thus diminished his land. I imposed dues and gifts for my lordship upon him, in addition to the former tribute, their yearly payment. He, Hezekiah, was overwhelmed by the awesome splendour of my lordship, and he sent me after my departure to Nineveh, my royal city, his elite troops (and) his best soldiers, which he had brought in as reinforcements to strengthen Jerusalem, with 30 talents of gold, 800 talents of silver, choice antimony, large blocks of carnelian, beds (inlaid) with ivory, armchairs (inlaid) with ivory, elephant hides, ivory, ebony-wood, boxwood, multicoloured garments of linen, wool (dyed) red-purple and blue-purple, vessels of copper, iron, bronze and tin, chariots, siege shields, lances, armour daggers for the belt, bows and arrows, countless trappings and implements of war, together with his daughters, his palace women, his male and female singers. He (also) dispatched his messenger to deliver the tribute and to do obeisance. (Cogan 2000:302-303).

Vergelyk ook Mayer (2003:168-200).

4.3 Bul-inskripsie

Bul-inskripsies uit Sanherib se paleis in Nineve bevat ook inligting van dié koning se vroeëre veldtogte en maak melding van die beleg van Jerusalem en Hiskia se belasting (Luckenbill 1968:140). Talle van die Bul-inskripsies is bekend, maar die identifikasie daarvan en die aard van publikasies tot op datum, skep verwarring. So, byvoorbeeld, identifiseer Russel (1999:129) Fasade Bul 3 in Hof H as waarskynlik Smith se Bul 2 en Fasade Bul 12 in Hof H as Smith se Bul 3. Gallagher (1999:130) merk op dat die weergawe van Bul 4 by Luckenbill verkeerd is.

Die bulfigure is gewoonlik by die ingang van ‘n gebou of stad opgerig. Die koning se annale en bouprojekte is dikwels breedvoerig hierop weergegee, maar soms ook net as opsomming. Sanherib se figure verskil van dié van sy voorgangers in dié sin dat hulle net vier en nie die tradisionele vyf bene het nie (Russell 1999:128). Daar was gevolglik meer plek om ook tussen die bene te skryf. Hier volg as voorbeeld ‘n vertaling uit Smith se Bul 1, 2 en 3:

I installed Ethbaal (Tubalu) upon his royal throne and imposed upon him the tribute (due to) me (as his) overlord. I laid waste the large district of Judah (Ia-u-dai) and made the overbearing and pride Hezekiah (Ha-za-qi-a-a-a), its king, bow in submission. (ANET 1950:288)15

4.4 Nebi Yunus-tablet

Dit verteenwoordig ‘n tablet bestaande uit opsommings van Sanherib se agt militêre veldtogte en sy roemryke bouwerk. Dit is by Nebi-Yunus (Nineve) gevind (Luckenbill 1968:148, 153-156, 181-182). In verband met Sanherib se derde veldtog lees ons die volgende:

I deprived Luli, king of Sidon, of his kingdom. I installed Ethbaal (Tubalu) upon his throne and imposed upon him the tribute (due to) me (as his) overlord. I laid waste the large district of Judah and put the straps of my (yoke) upon Hezekiah, its king. (ANET 1950:288)

4.5 Lagis reliëf-inskripsie

Die Lagisreliëfs wat in Sanherib se paleis in Nineve gevind is, asook die waarde en betekenis daarvan, veral vir Bybelnavorsers, is oorbekend.16 Die reliëfs wat te Kuyunjik (Nineve) opgegrawe is, beeld die aanval op en verowering van die Judese stad, Lagis, uit. Die panele is ongeveer 250 cm hoog, terwyl al die panele saam 18.9 meter lank is. Dit val op dat die verowering van Lagis in geeneen van die weergawes van Sanherib se annale vermeld word nie (Cogan 2000:204).

Cogan (2000:304) meen dat die besluit om die verowering van Lagis as verteenwoordiger van die veldslae in Juda uit te kies, te make het met die feit dat koning Sanherib persoonlik daar teenwoordig was. Prinsloo (2000:360) is egter van mening dat die imposante uitbeelding van die verowering van Lagis bedoel was om Sanherib se eer te herstel, wat hy verloor het toe Jerusalem nie ingeneem is nie. Mayer (2003:179-181) en Dalley (2004:392) wys egter daarop dat “earthworks”‘n foutiewe vertaling van die Assiriese teken URU. HAL-SU.MES is. Dit behoort eerder met “fort”of “fortress” vertaal te word. Jerusalem is dus nie beleër nie. Hiskia en die inwoners van Jerusalem kon egter nie kom en gaan soos hulle wou nie (Mayer 2003:181 en Dalley 2004:392).

Hoe dit ook al sy, vir hierdie studie is die teks bestaande uit vier reëls, in ‘n reghoekige blok net links van die koning wat op sy troon sit, van belang.

Sennacherib, king of the universe, king of Assyria, seated upon a sedan chair, the spoils of Lachish passed before him. (Cogan 2000:304)

4.6 Die Aseka-inskripsie

Daar is ook ‘n verdere tablet. Dit bestaan uit drie fragmente met 21 lyne daarop geskryf en is by Kuyunjik gevind. Dit verteenwoordig die middelste gedeelte van ‘n groter oorspronklike teks (Mitchell 1988:68). Volgens Mayer (2003:170) behoort dit tot die “letter-to-god-genre”. Die verband tussen dié drie fragmente is in 1973 opgemerk. Die Assiriese koning se naam kom nie op een van die drie dele wat behoue gebly het voor nie en daarom kan nie met sekerheid bepaal word wie die koning is wat hier ter sprake is nie. Tot en met 1973 is een fragment aan Tiglat-Pileser III en ‘n ander een aan Sargon II toegeskryf (Cogan 2000:304).

Daar is egter weinig twyfel dat Juda wel hier ter sprake is. Die Aseka waarna hier verwys word, word ook algemeen aanvaar as ‘n verwysing na die Judese stad met dieselfde naam.

Die Judese koning se naam het slegs gedeeltelik op die inskripsie behoue gebly. Daar is drie Judese konings wat tydens die Assiriese weswaartse uitbreiding regeer het en wie se name op “-iah” (-yāhu) eindig. Die name is Amasia gedurende die tyd van Adad-nirari III, Asariah (Ussia) gedurende die tyd van Tiglat-Pileser III en Hiskia gedurende die regerings van Sargon II en Sanherib (Mitchell 1988:68). Die onvolledige naam op die Aseka-inskripsie kan na enige van genoemde drie Judese konings verwys.

Na’aman (1974:25-39) het die fragmente saamgevoeg en tot die gevolgtrekking gekom dat die beskrywing daarop Sanherib se derde veldtog gedurende 701 vC weerspieël. Mayer (2003:170) ondersteun hierdie standpunt en oordeel dat weens die feit dat hierdie inskripsie in Nineve, Sanherib se hoofstad, gevind is genoemde standpunt versterk word. Daar is egter steeds navorsers wat meen dat dit nie ‘n verwysing na Sanherib is nie. Cogan (2003:304) verwys in dié verband na Frahm (1997) wat van mening is dat hierdie tablet gedurende Sargon II se regeringstyd gedateer moet word en wel rondom 712, of selfs 720 vC. Hoe dit ook al sy, vir die doeleindes van hierdie studie is die derde tot vyfde en elfde lyne van belang.

3[ Ashur, my lord, support]ed me and to the land of Ju[dah I marched. In] the course of my campaign, the tribute of the ki[ngs of ... I received].

4[ by the mig]ht (?) of Ashur, my lord, the district [of Hezek]iah of Judah, like [ ]

5[ ] the city of Azekah, his stronghold, which is between my [ ] and the land of

Judah [ ]

11[ the city X] a royal [city] of the Philistines, which He[zek]iah had taken and fortified for himself [ ]

(Cogan 2000:304)

5. OPGRAWINGS BY NINEVE

Oor die algemean assosieer Bybellesers die Assiriese stad Nineve met die profeet Jona, maar dan veral met die boek wat sy naam dra. Wat die vertelling in die boek Jona betref, is die Jona-in-die-vis-episode en die wonderbaarlike bekering van die Nineviete vir die deursnee gelowige waarskynlik die twee mees geliefde momente. Akademici weer, assosieer Nineve met die besondere groot versameling argeologiese fondse wat sedert die middel van die negentiende eeu daar gevind is. Harrison (1985:180) oordryf waarskynlik nie wanneer hy beweer dat opgrawings by Nineve meer lig gewerp het op Assiriese geskiedenis, literatuur en kultuur as enige ander Assiriese argeologiese terrein.

Vandag lê die ruïnes van Nineve ongeveer 1 km oos van die Tigris rivier, oorkant die stad Mosul in die noorde van Irak. Die Khosr-rivier verdeel die ou stad Nineve in twee dele, elk met ‘n tell. Aan die noordweste kant is Kuyunjik en aan die suidooste Nebi-Yunus.17

Kuyunjik, die grootste van die twee ruïneheuwels, is die plek waar die koninklike paleise en tempels opgegrawe is. Volgens Islamitiese tradisie is die Nebi-Yunus, die kleiner een van die ruïneheuwels, die plek waar die profeet Jona begrawe is. Vandaar dan ook die naam. By Nebi- Yunus kan daar nie juis opgrawings gedoen word nie, aangesien die grootste deel van die tell se oppervlakte deur ‘n moskee, begraafplaas en Moslem dorpie in beslag geneem word (Harrison 1985:181).

Volgens Harrison (1985:181-182) kan die naam Nineve teruggevoer word tot by ‘n spykerskrif tablet van Kappadosiese oorsprong uit ongeveer 2100 vC, wat by die hedendaagse Kultepe in Turkye (Klein-Asië) gevind is. Op hierdie tablet vind ons die naam Ninē in die vorm van ‘n begripsteken van ‘n vis in ‘n houer. Dié naam word in verband gebring met Ninevitiese godin Ishtar, wie se simbool ‘n vis was (Harrison 1985:182). In die inleiding tot sy wetskode verwys Hammurabi na homself as “die koning wat in Nineve die naam van die godin Ishtar verheerlik het”, terwyl Shamshi-Adad, koning van Assur uit min of meer dieselfde tyd, ook die godin Ishtar met Nineve in verband bring (Harrison 1985:182). Daar is dan ook ‘n tempel van Ishtar, godin van liefde en oorlog by Kuyunjik opgegrawe.

Opgrawings by Kuyunjik het aan die lig gebring dat dié terrein reeds in ongeveer 4500 vC bewoon is (Harrison 1985:182). Nineve is vir die eerste keer in 1820 deur CJ Rich ondersoek. Hy het ‘n plan van die ruïnes geteken en enkele tablette en inskripsies versamel wat niemand egter op daardie stadium kon ontsyfer nie. ‘n Fransman met die naam Paul Emile Botta was die eerste persoon wat, hoewel kortstondig, opgrawings by Nineve gedoen het en wel in 1842. Na aanleiding van ‘n suggestie van ‘n plaaslike inwoner, het hy sy opgrawings na Korsabad verskuif en byna onmiddellik sukses behaal deurdat hy Sargon II se paleis ontdek het. In 1845 kom Austen Henry Layard, ‘n Engelsman in Mosul aan en in 1849 begin hy min of meer op die plek waar Botta opgehou het met opgrawings. Sy ontdekking van reliëfs en die bekende Taylor-prisma in die paleis van koning Sanherib het groot opgewondenheid in Engeland veroorsaak. Die Britse Museum raak nou betrokke by die opgrawings hier en Britse ekspedisies is gelei deur H. Rassam (1852-1854 en 1878-1882), George Smith (1873-1874), wat onder meer die Gilgamesh-epos ontdek het en EW Budge (1888-1891). Ander wat hier opgegrawe het, sluit in: William Loftus (1854-1855), LW King (1903-1904), RC Thompson (1904- 1905), Tariq Madhloom (1965-1971) en D Stronach en J Russell (1989-1990) (Russel 1999:124).

Nineve het eers kort na Sanherib (705-681 vC) se troonbestyging die hoofstad van Assirië geword. Daar is wel aanduidings dat Assiriese konings soos Tiglat-Pileser I (1115-1077), Ashurnasirpal II (883-859 vC) en Sargon II (722-205 vC) soms ook in dié stad gebly het. Sanherib het Nineve egter omskep tot ‘n stad sonder gelyke in die ou Nabye Ooste van sy tyd. Hy verwys dan ook na die paleis wat hy vir homself gebou het as “’n paleis sonder gelyke”. Layard het 71 kamers van Sanherib se paleis opgegrawe waarvan talle met muurpanele en so meer verfraai is. Daar was aan vier kante marmer trappe wat na die paleis toe gelei het. Die ingange van die paleis is versier met gevleuelde sfinkse en bulle met die kop van ‘n mens. In die paleis is ook talle sulke figure gevind. Sanherib het die stad self versterk en verfraai. Hy het onder meer die stad se mure herbou en vyftien hekke (Harrison 1985:187) aangebring. Hy het ‘n botaniese tuin uitgelê met wingerde en vrugtebome van regoor sy ryk. Hy het verder ook parke en ‘n dieretuin aangelê. Hy het ook kanale gebou om die stad van ekstra water te voorsien.

Sanherib is deur sy seun Esarhaddon (681-669 vC) as koning opgevolg. Hy het sy eie paleis op die plek waar Nebi Yunus vandag is, gebou. Ashurbanipal, die laaste van die groot Assiriese konings het in 669 vC in Nineve aan bewind gekom. Rassam, wat na Layard opgrawings in Nineve gedoen het, het in 1853 Ashurbanipal se paleis by Kuyunjik ontdek. Dié koning is veral bekend om sy literêre belangstelling. Rassam het onder meer sy massiewe koninklike biblioteek ontdek en tienduisende kleitablette aan die lig gebring. Die biblioteek het ouer materiaal bevat wat deur van Ashurbanipal se voorgangers opgestel of versamel is, maar daar was ook baie nuwe materiaal wat deur sy skrywers opskrif gestel is (Harrison 1985:188). Sy liefde vir kultuur en sport blyk ook uit die pragtige muurpanele van sy leeu- jagtogte. Dié hang vandag in die Britse Museum. Na sy afsterwe het Assirië egter die kreeftegang gegaan en in Augustus 612 vC val Nineve dan ook en kom die Assiriese heerskappy tot ‘n einde.

6. SLOTOPMERKINGS

Tot onlangs toe nog was die Bybel en antieke geskiedskrywers soos Herodotus ons enigste bron van inligting betreffende die Assiriërs. Sedert opgrawings in die noordelike dele van die hedendaagse Irak begin het en die taal Akkadies ontsyfer is, het ons kennis van die Assiriërs merkwaardig gegroei. Tot en met die ontdekking en ontsyfering van die Assiriese annale het ons die Assiriërs alleen maar deur die bril van Bybelskrywers leer ken en ook beoordeel. Dit was ook die geval wat Sanherib se beleg van Jerusalem en die wonderbaarlik verlossing van dié stad betref.

Argeologiese vondste by Nineve en elders, asook die ontsyfering van Akkadies het dit egter nou vir ons moontlik gemaak om die Assiriërs uit hul eie bronne te leer ken en te beoordeel. Wat die onderwerp van hierdie studie betref, kan ons nou die verhaal van die beleg en bevryding van Jerusalem ook van die Assiriese kant af beskou.

Navorsers het reeds gou agtergekom dat die spanning wat daar tussen die Bybel se weergawes, onderskeidelik bekend as Weergawe A en Weergawe B is, nie deur die Assiriese bronne opgelos, maar eerder vererger is. Aanvanklik was die antwoord eenvoudig: die Bybel is tog reg. Dit is immers “die Woord van God” (Mayer 2003:169). Dat dit vandag nog die standpunt is onder navorsers, lidmate en predikante wat die Bybel letterlik verstaan, spreek vanself. Die histories-kritiese metodes het egter die pendulum weer na die teenoorgestelde kant toe laat deurswaai. In dié geledere is daar in die geval van teenstrydighede tussen Bybelse en Assiriese bronne, meestal ten gunste van laasgenoemde gekies (vgl Cronjé 2002:33). Laato (1995) toon egter oortuigend die gevaar van so ‘n standpunt aan.

Na my oordeel, lê die oplossing in die ernstige oorweging van beide groepe bronne deur dit te lees vir wat dit bedoel was om te wees. Dit is juis omrede dit nie bedoel was as eksakte, objektiewe geskiedskrywing in die post-Aufklärung sin van die woord nie, dat ons nie daarin kan slaag om dit met mekaar te versoen nie.

Die Bybelse weergawes van Sanherib se derde veldtog na Palestina het reeds baie aandag van navorsers gekry. Dieselfde geld die Assiriese annale. Dit is egter nie so duidelik of veral die Assiriese annale al op so ‘n wyse aangebied is dat predikante en gelowiges oor die algemeen, dit sonder (geloofs)spanning met hul verstaan van die Bybelse teks kan integreer nie. Dit sal waarskynlik die moeite loon om die argeologiese vondste wat verband hou met genoemde derde veldtog van Sanherib deeglik te bestudeer, met die oog daarop om dit meer toeganklik vir predikant en lidmate te maak. In die proses kan kerk en teologie in ons Suid- Afrikaanse konteks nie alleen moontlik weer nader aan mekaar beweeg nie, maar kan die Bybelse figure ook vir Bybellesers oor die algemeen, karakters van vlees en bloed in tyd en ruimte word.

BIBLIOGRAFIE

Bright, J 1981. A History of Israel (3rd Edition). London: SCM Press.

Cary, M and HH Scullard 1979. A History of Rome. (3de ed). London: MacMillan Press.

Clements, RE 1980b. Isaiah and the Deliverance of Jerusalem: A Study of the Interpretation of Prophecy in the Old Testament. JSOTS 13. Sheffield Academic Press.

Cogan, M 2000. Sennacheribs Siege of Jerusalem, in Hallo, WW (ed), The Context of Scripture: Monumental Inscriptions from the Biblical World. Vol 2. Leiden: Brill.

Cronjé, SI 2002. Jesaja net een boek? Die pendulum swaai terug. DD proefskrif, Universiteit van Pretoria. Cronjé, SI & Le Roux, JH 2002. Jesaja 36-39 – Sinkroniese en diakroniese lees van ‘n teks. Verbum et Ecclesia 23(2), 305-318

Cronjé SI & Boshoff, WS 2003. Jesaja 36-39 en parallelle bronne: Enkele kantaantekening. OTE 16/2, 216-232.

Dalley, S 2004. Recent Evidence from Assyrian Sources for Judean History from Uzzaih to Manasseh. JSOT 28(4), 347-401.

Galil, G 1996. The Chronology of the Kings of Israel & Judah. Leiden: E.J. Brill. Gallagher, WR 1999. Sennacheribs Campaign to Judah. Leiden: Brill.

Grabbe, LL 2003. Like a Bird in a Cage. The Invasion of Sennacherib in 701. (JSOT Supp 363) London: Sheffield.

Harrison, RK 1985. Major Cities of the Biblical World. Nashville, Tennessee: Thomas Nelson Publishers.

Hayes, JH & PK Hooker 1988. A New Chronology for the Kings of Israel en Judah and its Implications for Biblical History and Literature. Atlanta: John Knox Press. Herodotus 1996. The Histories. (rev ed) London: Penguin Books.

Horn, HS 1966. Did Sennacherib Campaign Once or Twice against Hezekiah? Andrews University Seminar Studies 4, 1-28.

Laato, A 1995. Assyrian propaganda and the falsification of history in the royal inscriptions of Sennacherib. VT 45(2), 198-226.

Luckenbill, DD 1968. Ancient Records of Assyria and Babylonia. (Vol. II) New York: Greenwoord Press. Masom, C & Alexander, P (eds) 1987. Picture Archive of the Bible. Lion Publishing: Tring, Herts, England. Mayer, W 2003. Sennacheribs Campaign of 701 BCE: The Assyrian view. In Like a Bird in a Cage. The Invasion of Sennacherib in 701. (JSOT Supp 363) London: Sheffield, 168-200.

Miller, JM & JH Hayes 1986. A History of Ancient Israel and Judah. Philadelphia: The Westminster Press. Mitchell, TC 1988. The Bible in the British Museum. Interpreting the Evidence. London: British Museum Press. Naaman, N 1974. Sennacheribs “Letter to god”on his Campaign to Judah.” BASOR 214:25-39.

Noth, M 1983. The History of Israel. London: SCM Press.

Olmstead, AT 1968. History of Assyria. Chicago: The University of Chicago Press. Prinsloo, GTM 2000. Sennacherib, Lachish and Jerusalem. OTE 13/3, 348-363. Reade, J 1998. Assyrian Sculpture. (2nd ed). London: British Museum Press. Russell, JM 1999. The Writing on the Wall. Winona Lake, Indiana: Eisenbrauns. Saggs, HWF 1984. The Might that was Assyria. London: Sidgwick & Jackson. Schoors, A 1972. Jesaja. Roermond: J.J. Romen & Zonen-uitgevers.

Seitz, CR 1991. Zion’s final destiny. Minneapolis: Fortress Press.

Shea, WH 1999. Jerusalem under siege. Did Sennacherib attack twice? BAR 25/6, 36-64.

Smith, G 1875. Assyrian Discoveries; an account of explorations and discoveries on the site of Nineveh, during 1873 and 1874. (2nd ed.). London: Sampson Low, Marston, and Searle.

Soggin, JA 1993. An Introduction to the History of Israel and Judah. (2nd rev and updated ed). London: SCM Press. Tadmor, A 1976. A History of the Jews People, ed. H. Ben-Sasson. Cambridge.

Tawil, H 1982. The historicity of 2 Kings 19:24 (= Isaiah 37:25): The problem of YE ORE MASOR. JNES 41, 195-206.

TREFWOORDE

Hiskia, Sanherib, Taylor prisma, Derde veldtog, Jesaja 36-39

KEY WORDS

Hezekiah, Sennacherib, Taylor prism, Third campaign, Isaiah 36-39

KONTAKBESONDERHEDE

Dr. SI Cronjé

Kontraknavorser, Universiteit van Suid-Afrika

Posbus 28922, Sunnyside, 0132

e-pos: sicronje@mweb.co.za

1 Cronjé, SI 2002. Jesaja net een boek? Die pendulum swaai terug. Ongepubliseerde DD-proefskrif, Universiteit van Pretoria; Cronjé, SI & Le Roux, JH 2002. Jesaja 36-39 – Sinkroniese en diakroniese lees van ‘n teks. Verbum et Ecclesia 23(2), 305-318; Cronjé SI & Boshoff WS 2003. Jesaja 36-39 en parallelle bronne: Enkele kantaantekening. OTE 16/2, 216-232.

2 Hier word met buite-Bybelse bronne bedoel die Assiriese berigte oor koning Sanherib se derde veldtog na die Weste van sy ryk, asook ‘n verwysing van Herodotus (ca 490-420 vC), “die Vader van Geskiedskrywing” (vgl Herodotus 1996), van ‘n muisplaag wat by geleentheid die Assiriese leër weerloos gelaat het (Herodotus 1996:138). Laasgenoemde gaan egter nie hier aan die orde kom nie.

3 Wat die vertaling “beleg van Jerusalem” betref, later meer.

4 ‘n Goeie voorbeeld om hierdie punt te staaf is die gesamentlike kongres van die European Seminar on Methodology in Israel’s History en die European Association of Biblical Studies wat in Augustus 2000 gehou is waarin daar uitsluitlik op Sanherib se derde veldtog na Palestina in die jaar 701 vC gefokus is. Van die bydraes by genoemde kongres is ook in 2003 in die JSOT Supplement Series (nr. 363) gepubliseer.

5 Die sogenaamde “gay-debat” in die Ned Geref Kerk is ‘n sprekende voorbeeld van waar talle lidmate, predikante en selfs sommige akademici nie die historiese bedding van Bybeltekste respekteer nie. ‘n Goeie en mees onlangse voorbeeld is die Oggendseminaar in dié verband wat vroeër vanjaar (2005) by die Ned Geref Gemeente Moreletapark, Pretoria gehou is.

6 Met “teologie” word hier bedoel daardie instellings en mense wat hulself vanuit die formele akademie met Bybel en verwante navorsing besig hou. Met “kerk” word bedoel daardie vergaderings, gelegitimeerdes en lidmate wat die Bybel gebruik om hulself te organiseer, hul werk en lewens te rig en hul standpunte in die algemeen te legitimeer. Hierdie is uit die aard van die saak nie twee kategorieë wat mekaar noodwendig uitsluit nie. ‘n Lidmaat of gelegitimeerde kan betrokke wees by die formele, akademiese beoefening van teologie, terwyl ‘n teoloog volledig in die kerk kan tuiskom.

7 Vir die doeleindes van hierdie artikel word, wat die datums van die Assiriese konings betref, van Reade (1998) se datering gebruik gemaak.

8 Die datering van die konings van Israel en Juda is problematiese. Wat die aard, omvang en voorgestelde oplossings vir dié problematiek betref, kan Galil (1996) en Hayes & Hooker (1988) met vrug gebruik word. Wat die konings van Juda betref, word daar in hierdie bydrae van Galil (1996) se datering gebruik gemaak.

9 Stade, B. Miscellen. Anmerkungen zu 2 Kö. 15-21. ZAW 6 (1886), 156-192.

10 Die westelike deel van die Romeinse ryk het nie veel langer as 451 nC bly voortbestaan nie (Cary & Scullard 1979:551), terwyl die Bisantynse ryk in die oostelike deel van die ryk bly voortbestaan het as die Romeinse ryk op ‘n beperkte skaal (Cary & Scullard 1979:556).

11 Wat die geskiedenis van Assirië betref, kan Olmstead (1968) en Saggs (1984) vir meer inligting geraad- pleeg word.

12 Ek sou wou waag om te sê dat die behoefte om twee veldtogte wat Sanherib na die Weste sou onderneem het aan te toon, gebore is en gevoed word deur pogings om die Bybelse weergawes van die beleg van Jerusalem ten alle koste met mekaar en met die Assiriese weergawes te versoen.

13 Gallagher (1999:10) maak, buiten vir die Rassam silinder (700 vC) en Taylor (691 vC) en Chicago (689 vC) prismas, ook nog melding van Silinder C (697 vC) en dan die Heidel (694 vC), Koning (694 vC), en Jerusalem (691 vC) prismas.

14 Sien onder andere ANET (1950:287-288), Luckenbill (1968:118-121) en Mayer (2003: 186-192)

15 Vergelyk Mayer (2003:193-197) vir die inskripsies op Bul 1-4, volgens sy numering.

16 Die Lagis-reliëfs is reeds in talle boeke deur middel van foto’s en sketse weergegee en beskryf. Die leser word in dié verband verwys na Mitchell (1998:60-64) en Reade (1998:65-71).

17 Harrison (1985:181) sê Kuyunjik beteken “baie skape”, terwyl Nebi Yunus “die profeet Jona” beteken.