O’Kennedy, DF
Universiteit van Stellenbosch

Sagaria 1-8: ‘n Algemene oorsig

ABSTRACT

Zechariah 1-8: A general survey

There is a renewed interest in the book Zechariah, the second last in the Book of the Twelve. Several prominent commentaries were published in the last decade: Hanhart (1998); Floyd (2000); Sweeney (2000); Clark & Hatton (2002); Merril (2003); Boda (2004); O’Brein (2004); etcetera. This is the first of two articles on the book of Zechariah and focuses on chapters 1-8 or Proto-Zechariah. The aim of the article is to provide a general survey of Zechariah 1-8 and the major issues are discussed under the following headings: Relationship with the rest of the Bible; Unity of the book; Authorship, dating and socio-historical background; Structure and division; Literary features; Theological message. Proto-Zechariah is one of the most diverse and interesting books in the Old Testament. In some instances the message is clear with precise historical detail while in other passages the message is mysterious with several visions and symbols. Zechariah 1-8 had a message for the post-exilic community in Yehud/Judah and it has a message for the people of South Africa that live in a time of reconstruction and development. Therefore, the study of this book cannot be neglected.

1. INLEIDING

Die bestudering van die boek Sagaria en die ander profetiese literatuur in die Boek van die Twaalf1 is vir baie jare deur geleerdes afgeskeep. Daar is egter nuwe belangstelling in hierdie Bybelboek.2 Talle kommentare het die afgelope dekade verskyn: Hanhart (1998); Floyd (2000); Sweeney (2000); Clark & Hatton (2002); Merril (2003); Boda (2004); O’Brein (2004).3

Die bedoeling van hierdie artikel is nie om ‘n detail bespreking van al die inleidingsvraagstukke weer te gee nie. Daar word gepoog om ‘n kort oorsig oor Sagaria 1-8 in Afrikaans aan te bied waarin die belangrikste inleidingskwessies opgesom word.4

2. VERHOUDING MET ANDER BYBELBOEKE

Daar is ‘n bepaalde verhouding tussen die boeke Haggai en Sagaria 1-8 of Proto-Sagaria.5

Die profeet Sagaria was ‘n tydgenoot van Haggai en die twee word in Esra 5:1 vermeld as die profete wat gehelp het met die herbou van die tempel in 520 vC. Geleerdes huldig verskillende opinies oor die aard van hierdie verhouding: (a) Sommige geleerdes glo dat hierdie twee boeke oorspronklik een boek was wat deur dieselfde finale redaktor of skrywer geredigeer is (Meyers & Meyers 1987:xliv-xlviii; Sykes 1997:124); (b) Ander geleerdes reken dat Proto-Sagaria ‘n respons op Haggai is en daarom deur verskillende redaktors in verskillende tye geskryf is (Petersen 1985:124-125).

Daar is verskeie ooreenkomste tussen Sagaria en Daniël 7-12, veral met betrekking tot die visioene en die boodskappe oor die eindtyd. ‘n Verdere kenmerk van Sagaria se werk is dat hy dikwels na die geskrifte van vroeëre profete soos Jesaja, Jeremia, Esegiël, Hosea, Amos en Miga verwys (Clark & Hatton 2002:65; Sweeney 2005:203).

Die verhouding tussen Sagaria en die res van die kanon is nie net tot die Ou Testament beperk nie. ‘n Mens vind talle Sagaria aanhalings en -verwysings in die Nuwe Testament. In die Nuwe Testament word daar slegs twee keer vanuit Sagaria 1-8 aangehaal (Judas 9 = Sag 3:2; Ef 4:25 = Sag 8:16)6 terwyl daar ten minste 41 keer vanuit Sagaria 9-14 aangehaal word (Saebo 1999:666-667).

3. EENHEID VAN DIE BOEK

Die siening dat Sagaria 9-14 (as geheel of gedeeltes daarvan) apart van Sagaria 1-8 ontstaan het, word vir jare beredeneer.7 Verskeie redes word hiervoor aangevoer: (a) In Sagaria 1-8 vind ‘n mens geen verwysing na die profeet Sagaria, enige ander identifiseerbare persoon of gebeure van die sesde eeu vC nie; (b) In hoofstukke 1-8 kom opskrifte voor waar daterings en boodskapper formules gekombineer word. In Sagaria 9-14 kom die opskrif acm (‘n Uitspraak van die Here) twee keer voor; (c) Die bestaan van die tweede tempel word in Deutero-Sagaria veronderstel (9:8; 11:13; 14:16-21); (d) Daar is ‘n drastiese verskil in literêre genre tussen die twee gedeeltes (bv daar is geen visioene in Sagaria 9-14 nie); (e) Daar is nuwe taalgebruik by Sagaria 9-14 (oa die gebruik van militêre taal); (f ) In teenstelling met hoofstukke 1-8 word verskeie plekname in Sagaria 9-14 gebruik (bv Griekeland in 9:13) (Redditt 1995:93; Boda

2003a:390; O’Brein 2004:231).8

‘n Mens moet egter erken dat daar ten spyte van al die verskille ook die volgende tematiese ooreenkomste tussen Sagaria 1-8 en 9-14 voorkom: die sentraliteit van Jerusalem en die Sion tradisie (1:12-16; 2:1-13; 9:8-10; 12:1-13:6); die reiniging van die volk (3:1-9; 5:1-11; 13:1-2; 14:20-21); alle nasies is welkom om Jahwe te aanbid (2:11; 8:20-23; 9:7; 10:14; 14:16-19); ‘n beroep op die gesag van vroeëre profete (1:2-16; 7:12 en verskeie teksgedeeltes in Sag 9-14); ‘n besorgdheid oor die probleem van leierskap (klem op Jesua en Serubbabel in 1-8; 9:9-10; 11:4-17; 13:7-9) (Mason 1977:78-79); die oortuiging dat nasies wat Jerusalem teenstaan, gestraf sal word; sinspelings op ‘n moontlike spanning tussen Jerusalem en die res van die provinsie Jehud (O’Brein 2004:232).

Bogenoemde geleerdes beklemtoon ooreenkomste tussen Proto- en Deutero-Sagaria met betrekking tot teologiese inhoud of tradisie-historiese kenmerke. Daar is ook geleerdes wat ander benaderings gebruik om die eenheid van die boek na te vors. Sommige geleerdes soos Floyd (2000) gebruik ‘n vormkritiese benadering om die eenheid te “bewys”. Sagaria 9-11 word as ‘n herinterpretasie van Sagaria 1-8 beskou en Sagaria 12-14 ‘n herinterpretasie van Sagaria 1-11. ‘n Derde benadering fokus op die verhouding tussen die finale vorm van die teks en die leser. Sweeney (2000:566) skryf die volgende hieroor: “Although the authorship of the book of Zechariah is in question, it is clearly designed to be read as a single work that depicts both the visions and the oracles or pronouncements of the prophet Zechariah.” Sweeney (2000:636) reken dat die struktuur bepaal word deur die kronologiese verwysings in Sagaria 1:1, 7 en 7:1. Hiervolgens word hoofstuk 7:1-14:21 as die laaste hoofdeel van die boek gesien.

Alhoewel daar verskil van mening oor die eenheid en samestelling is, moet lesers besef dat al veertien hoofstukke in een boek saamgevoeg is. Hierdie eenheid kom in die Hebreeuse teks sowel as ander antieke weergawes voor. Die gemeenskappe wat die Hebreeuse teks versamel en oorgedra het, het gevolglik die een of ander eenheid tussen die verskillende dele aanvaar (Clark & Hatton 2002:223). Sagaria 1-14 vorm een boek in die Hebreeuse- en Christelike kanons, maar die duidelike literêre-, historiese- en teologiese verskille tussen Sagaria 1-8 en 9-14 kan nie ontken word nie. In die volgende bespreking sal daar slegs op Sagaria 1-8 gefokus word en in ‘n opvolgartikel sal Sagaria 9-14 bespreek word.

4. DIE PROFEET SAGARIA

Die profeet Sagaria was ‘n tydgenoot van Haggai en dié twee word in Esra 5:1 vermeld as die profete wat die herbou van die tempel in 520 vC aangevoer het. Daar is min oor die persoon Sagaria bekend. Al wat ons werklik weet is dat hy die “seun van Berekja, seun van Iddo” was (Sag 1:1). In Esra 5:1 en 6:14 word hy net die “seun van Iddo” genoem. Sommige geleerdes meen dat laasgenoemde die regte lesing is en dat “seun van Berekja”‘n latere byvoeging is na aanleiding van Jesaja 8:2 (vgl Mason 1977:27). Iddo was die hoof van ‘n belangrike priesterlike familie (Neh 12:4); daarom laat Esra doelbewus die naam van sy onbekende vader uit. Dit was nie ongewoon in Hebreeuse geslagslyste om ‘n naam uit te laat nie (Redditt 1995:38; Willi- Plein 1998:539; Clark & Hatton 2002:65). Wilson (1980:289) reken dat Sagaria moontlik ‘n afstammeling was van die Iddo wat in 2 Kronieke 9:29 en 12:15 as ‘n profeet genoem word. Die boek Sagaria sê bloot dat die profeet geassosieer word met die tempelbou proses. Dit is moontlik dat hy saam met Serubbabel en Jesua van Babilon teruggekeer het.

In die konteks van die Ou Testament is dit nie vreemd dat ‘n profetiese stem vanuit ‘n priesterlike agtergrond kom nie (vgl Jer 1:1; Eseg 1:3). Die algehele toon van die boek Sagaria gee die indruk van ‘n toenemende spanning tussen Sagaria se profetiese gemeenskap en die leierskap in Jerusalem. Alhoewel Sagaria 3:1-10 en 6:9-15 die Sadokitiese priesterskap bevestig, word hulle rol beperk en eerder na die dienaar Loot (חמצ) verwys. Besorgdheid oor die priesters kom na vore in hoofstukke 7 en 8 wanneer Sagaria sy huidige generasie veroordeel omdat hulle die sondes van die verlede herhaal (7:5) (Boda 2004:33).

5. DATERING EN SOSIO-HISTORIESE AGTERGROND

Sagaria 1-8 het in die na-eksiliese gemeenskap van Jerusalem ontstaan.9 Dit is moeilik om die presiese historiese agtergrond te rekonstrueer, maar die Bybelse teks en buite-Bybelse materiaal verskaf ‘n paar leidrade. Die Babiloniese koning Nebukadnesar het Jerusalem in 586/7 vC ingeneem, die stadsmuur op sommige plekke afgebreek en die tempel en ander belangrike geboue afgebrand. Dit is nie duidelik wat die presiese omvang van hierdie skade was nie, maar dit wil voorkom asof aanbidding by die altaar van die tempel in die eksiliese tyd voortgeduur het. In 539 vC het die internasionale toneel drasties verander toe koning Kores van Persië die mag van die Babiloniërs gebreek het. In 538 vC het Kores ‘n dekreet uitgevaardig waarin die ballinge toegelaat is om na Jerusalem terug te keer (vgl Esra 1:1-4). Hy het die Jood Sesbassar as eerste goewerneur aangestel en hom in beheer van die tempelbou geplaas. Esra 5:16 getuig dat Sesbassar die fondamente van die tempel gelê het, maar dit is moeilik om sy presiese rol vas te stel. Die boek Esra noem nie verder sy naam nie en die boeke Haggai en Sagaria verwys na die rol van Serubbabel in die tempelbou proses (Coggins 1987:10-11; Reddit 1995:4-10; Ollenburger 1996:738).

Sagaria 1-8 speel af in die tyd kort voor die inwyding van die tweede tempel in 515 vC. Die Bybelse teks verwys na ten minste drie daterings in die tyd van koning Darius: Oktober 520 vC (Sag 1:1); 15 Februarie 519 vC (Sag 1:7); en 7 Desember 518 vC (Sag 7:1).10 Die Persiese ryk het waarskynlik tydens die regering van Darius (522-486 vC) sy hoogtepunt bereik met talle oorwinnings in veldslae en die bou van koninklike paleise in Susa en Persepolis. In die beginjare van Darius se regering (522-520 vC) was daar egter ‘n ernstige krisis. Ná die dood van Kambuses het Gaumata of Bardiya homself as koning verklaar. Met die hulp van die koninklike leër het Darius sy teenstander van die troon verwyder. Daar was egter talle opstande teen sy koningskap (Briant 2005:12-14). In Babiloniese dokumente maak Darius daarop aanspraak dat hy in een jaar negentien veldslae gevoer en nege konings gevange geneem het (OP 131, §52).11 Die onrus in Babilon was moontlik ‘n aanmoediging vir sommige Jode om na Jerusalem terug te keer. Die politieke en militêre stryde van Darius is opgevolg deur sy pogings om ‘n effektiewe administratiewe stelsel in die Persiese ryk op die been te kry. Darius het sy Persiese ryk in verskillende “protektorate” of satrapies georganiseer wat ook kleiner eenhede of provinsies ingesluit het. Die provinsie het nou in Aramees as Jehud bekend gestaan en was deel van die vyfde satrapie wat genoem is Abar Nahara (oorkant die rivier). Darius se spesifieke belangstelling in detail administrasie het as aansporing gedien vir sy spesifieke belangstelling in die Jerusalem kultus. Dit is moontlik dat die Perse se aanmoediging om wette in die verskillende provinsies neer te skryf die ontstaan van die boek Sagaria aangehelp het (Miller & Hayes 1986:450-456; Meyers & Meyers 1987:xxxi-xxxvii).

Darius se beleid teenoor die ballinge is nie eerstens deur “goedhartigheid” gemotiveer nie. Hierdie beleid is ontwerp om lojaliteit in die provinsies te kweek, om effektiewe maniere van kontrole te skep en om belastings in te vorder. Darius het die herstel van provinsiale instellings onder goedgekeurde plaaslike leierskap ondersteun. Dit mag moontlik Darius se toegeeflike beleid teenoor Jehud en sy mense verklaar. In die provinsie Jehud was die Jerusalem tempel meer as ‘n godsdienstige sentrum. Dit was die administratiewe, kultiese en finansiële sentrum van ‘n landbougebaseerde ekonomie. ‘n Herboude tempel sou meer kultiese personeel in diens neem en gevolglik meer mense na Jerusalem lok. Meer mense met meer vaardighede sou beslis die ontwikkeling van teologiese denke en literatuur in Jerusalem en omgewing bevorder (Kessler 2001:157-158; Wessels 2003:510-511).

Daar word melding gemaak van twee prominente leiers in hierdie tyd, Jesua en Serubbabel. Talle skrifgedeeltes in Sagaria 1-8 verwys direk of indirek na hulle. Jesua, die hoëpriester was die leier van die Sadokitiese priesters wat in konflik was met die Levitiese priesters wat tydens die ballingskap in Jerusalem agtergebly het. Serubbabel was een van die agterkleinkinders van Dawid en is deur die Persiese Ryk as goewerneur in Jerusalem aangestel. Die presiese tyd van Serubbabel se aankoms in Jehud is moeilik om te bepaal. Hy het waarskynlik kort na Kores se dekreet in 538 vC sy aktiwiteite begin en word vir die laaste keer in 520 vC vermeld. Serubbabel was waarskynlik leier vir ‘n periode van 17-18 jaar tydens die regerings van Kores, Kambuses en Darius (Japhet 1982:71; Tollington 1993:125-126; O’Kennedy 2007:6-9).

Die teks van Proto-Sagaria verskaf geen leidrade dat dit veel later saamgestel is as die historiese konteks wat dit veronderstel nie. As ‘n teks vanuit die Persiese periode weerspieël dit baie van dieselfde temas en gedagtes wat ook in die boeke Haggai en Maleagi voorkom. Soos Haggai beklemtoon dit die herbou van die tempel en soos Maleagi beklemtoon dit die sentraliteit van die tempel in die provinsie Jehud (O’Brein 2004:165).

6. STRUKTUUR EN VERDELING

Sweeney (2005:2004) wys op die literêre samehang van die boek, veral as die strukturele rol van die dateringsformules in Sagaria 1:1, 7 en 7:1 in aanmerking geneem word. Volgens hom word die tradisionele twee- of driedeel struktuur gebaseer op ‘n diakroniese interpretasie van elke boek terwyl ‘n sinkroniese benadering nuwe insigte bied. Sweeney (2005:204-205) wys op die volgende breë verdeling:

• 1:1-6 (Inleiding tot die boek: Jahwe se aanvangswoorde)

• 1:7-14-21 (Narratiewe aanbieding van Jahwe se latere woorde aan Sagaria: Visioene en orakels)

• 1:7-6:15 (Visioene)

• 7:1-14:21 (Orakels)

Sweeney se benadering help om die eenheid te verstaan, maar daar is nog ‘n paar onbeantwoorde vrae, veral die gebruik van die Hebreeuse woord אשמ (‘n Uitspraak van die Here/Orakel) in 9:1 en 12:1. In aansluiting by die meerderheid geleerdes word verder gekyk na ‘n moontlike struktuur en verdeling van Sagaria 1-8. Die meeste navorsers aanvaar dat Proto- Sagaria in drie groot literêre eenhede verdeel kan word:

• 1:1-6: Inleiding: Oproep tot bekering

• 1:7-6:15: Visioene en orakels

• 7:1-8:23: Oproep tot bekering: van vas tot fees

Hierdie breë verdeling word gemaak op grond van die drie hoofopskrifte wat elk ‘n datum en die inleidingsformule “het die woord van die Here/Jahwe tot Sagaria gekom” bevat (1:1; 1:7; 7:1).12 Alhoewel die drie dele in omvang en literêre aard verskil is daar ‘n herhaling van belangrike woorde en motiewe. Met betrekking tot genre en retoriek is daar ‘n duidelike verskil tussen 1:1-6 en 7:1-8:23 aan die een kant en 1:7-6:15 aan die ander kant. Beide 1:1-6 en 7:1-8:23 bevat mondelingse materiaal wat in ‘n prosastyl as deel van ‘n narratief geskryf is.1313 Hierdie twee gedeeltes het dieselfde taalgebruik en het waarskynlik in dieselfde tradisie ontstaan. In teenstelling hiermee bestaan Sagaria 1:7-6:15 uit ‘n reeks visioene wat deurspek is met orakels en simboliese dade (Fourie 1991:276-277; Boda 2004:38).

Die verhouding tussen die visioene en orakels in Sagaria 1:7-6:15 word deur geleerdes verskillend geïnterpreteer. Sommige geleerdes reken dat die orakels latere byvoegings is en selfs die boodskap van die visioene uitdaag. Ander geleerdes reken weer dat die orakels ‘n integrale deel van die visioene vorm. Ons sluit by laasgenoemde standpunt aan en reken dat die orakels oorspronklik deel van die visioene was (vgl Redditt 1995:42; Petersen 2002:208). Daar is geen rede om die orakel materiaal van die visioene te skei nie. Die visioen genre in die profetiese literatuur bevat gewoonlik verduidelikings en hierdie verduidelikings neem telkens die vorm van ‘n orakel aan (vgl Am 8:1-3; 9:1-4; Jer 1:11-16; 24:1-10; Eseg 37:1-14, ens).

Geleerdes verskil oor die presiese rol wat Sagaria 3 in die struktuur van die visioene vorm. Die meeste geleerdes erken die egtheid van Sagaria 3, maar het verskillende menings oor die plek en samestelling van hierdie visioen.1414 Navorsers se standpunte kan soos volg opgesom word: (a) Diegene wat reken Sagaria 3 is een van die ag visioene al verskil hul oor die redaksionele proses of struktuur (Beuken 1967:282-316; Petersen 1985:199; Hanhart 1998:205-213; ea); (b) ‘n Geleerde soos Reventlow (1993:52) wat meen dat daar slegs sewe visioene is en dat hoofstuk 3 ‘n latere byvoeging is; (c) Geleerdes wat Sagaria 3 as ‘n visioen erken, maar dit nie as die vierde visioen beskou nie. Hulle verwys na ‘n volmaakte getal van sewe visioene met ‘n ekstra profetiese visioen wat in die sentrum ingevoeg is (Meyers & Meyers 1992:1063; Willi- Plein 1998:540). Al verskil geleerdes oor die presiese aard van Sagaria 3 kan daar wel erken word dat hoofstukke 3 en 4 die literêre en teologiese kern van Proto-Sagaria vorm weens die volgende redes: hierdie visioene dien as strukturele middelpunt; al die teologiese konsepte van Proto-Sagaria word hierin saamgevat; al die belangrikste karakters in Proto-Sagaria word hier gevind (Van der Kam 1991:554; O’Kennedy 2003b:386-387).

Die visioene is noukeurig gerangskik met ‘n paar karaktertrekke. Daar is drie visioene aan die begin, drie visioene teen die einde en twee visioene wat die sentrum vorm. ‘n Mens vind ooreenkomste tussen die eerste drie en die laaste drie. Hierdie ooreenkomste is onder andere ‘n gemeenskaplike tema (bv perde in eerste en laaste visioen); gemeenskaplike stilistiese eienskappe (bv tweedelige struktuur in 2:1-4 [1:18-21] en 5:5-11).15 Die oorkoepelende struktuur het ook ‘n geografiese dimensie wat soos volg voorgestel kan word:

1. Jahwe en die hele aarde (Sag 1:7-17)

2. Internasionaal: die imperiale magte (Sag 2:1-4 [1:18-21])

3. Nasionaal: Jehud/Juda (Sag 2:5-9 [2:1-5])

4. Tempel en leiers (Sag 3:1-10)

5. Tempel en leiers (Sag 4:1-14)

6. Nasionaal: Jehud/Juda (Sag 5:1-4)

7. Internasionaal: die imperiale magte (Sag 5:5-11)

8. Jahwe en die hele aarde (Sag 6:1-15) (Van der Woude 1984:95-96; Meyers en Meyers16 (1987:lv-lvi; 1992:1063; Fourie 1991:285).

Die ag visioene beskryf ‘n aarde wat aanvanklik vredevol is (1:7-17), wat beweeg deur aksie (2e en 3e visioene), identifiseer sleutel rolle vir die hoëpriester en goewerneur (4e en 5e visioene), artikuleer die nuwe wêreld in beweging (6e en 7e visioene), en keer dan terug na die aarde wat in die eerste visioen voorgestel word (8e visioen). Die simboliek is ryk en divers, van die kosmiese dieptes (1:8) tot die olielamp (4:2) (Petersen 2002:208).

Die laaste twee hoofstukke in Proto-Sagaria bestaan uit ‘n reeks orakels wat elkeen met ‘n variasie van die volgende woorde begin: “die woord van die Here het tot Sagaria gekom” of “so sê Jahwe Seba’ôt” (vgl 7:1, 4, 8; 8:1, 6, 18, 20). Die vraag oor die vas (7:3) word nie direk beantwoord voor hoofstuk 8:18-19 nie. Tussenin vind ‘n mens orakels wat die gedagte ondersteun dat die herbou van die tempel die straf van die ballingskap beëindig en ‘n nuwe glorieryke toekoms vir Juda inlei. Die finale orakel brei uit op die toekomstige beloftes wat in 8:1-8 uitgespreek word en keer ook terug na die woordeskat van 7:1-7. In beide die eerste en finale eenhede word die Here om genade gesmeek (7:2; 8:21) (O’Brein 2004:162-163).

Geleerdes verskil drasties oor die verdeling van die laaste twee hoofstukke. Sommige verdeel dit bloot as twee aparte hoofstukke (vgl Fourie 1991; Redditt 1995) en ander soos O’Brein (2004:162-163) praat van ‘n reeks van sewe orakels. Die Masoretiese paragraafmerkers in die Hebreeuse Bybel dui ook op ‘n verdeling in verskillende kleiner eenhede. Hierdie twee hoofstukke kan moontlik as ‘n eenheid beskou word weens die volgende twee redes: (a) Die uitdrukking “om die aangesig van die Here om genade te smeek” omraam Sagaria 7 en 8 (vgl 7:2 en 8:22); (b) Die frase “so sê die Here Seba’ôt” kom 24 keer hier voor (vgl 7:3; 4, 9, 12 [2x], 13, 8:1, 2, 3, 4, 6 [2x], 7, 9 [2x], 11, 14 [2x], 18, 19, 20, 21, 22, 23). Alhoewel ons die eenheid erken, kan daar wel sekere verdelings gemaak word. Hoofstuk 7 kan waarskynlik in twee dele verdeel word. Die eerste gedeelte (7:1-7) handel oor die vasdae, maar die vraag oor die vas (7:3) word eers in hoofstuk 8:18-19 direk beantwoord. Die tweede gedeelte (7:8-14) bespreek die ontrouheid en ongeregtigheid in die verlede wat tot die ballingskap gelei het. Die volk se reaksie word op vier maniere uitgedruk: hulle het geweier om te luister; hulle was moedswillig; hulle het hulle doof gehou; en hulle harte was soos die hardste klip. Die gedeelte vanaf vers 8 word ingelei met die woorde “Verder het die woord van die Here tot Sagaria gekom en gesê”, dieselfde woorde waarmee die gedeeltes in hoofstuk 8:1 en 18 ook ingelei word. Sagaria 8:1-17 handel oor Jahwe se belofte om goed te doen en terug te keer na Sion/Jerusalem. In die laaste twee verse van hierdie gedeelte (vv 16 en 17) word die volk opgeroep om die waarheid te laat seëvier. Sagaria 8:18-19 beantwoord die vraag in 7:3 en die inwoners van Juda word opgeroep om van die vasdae feesdae te maak. Sommige geleerdes (Smith 1984; Meyers & Meyers 1987; Clark & Hatton 2002; Merril 2003) beskou 8:18-23 as ‘n literêre eenheid, maar ons reken dat daar tog ‘n verdere verdeling moet wees. Daar is ‘n moontlike verband tussen die vrolike feestye en dit wat die ander volke hoor en beleef. Verse 20 tot 23 fokus egter op die ander volke se belewenis terwyl verse 18 en 19 meer op die “huis van Juda” fokus.

In die lig van die voorafgaande bespreking kan die volgende eie verdeling aangebied word:

1:1-6: Inleiding: Oproep tot bekering

1:7-6:15: Ag visioene en orakels

1:8-17: Eerste visioen: die perderuiters oor die aarde

2:1-4 (1:18-21): Tweede visioen: vier horings en vier ystersmede

2:5-9 (2:1-5): Derde visioen: die man met die maatlyn

2:10-17 (2:6-13): Orakel aan die ballinge

3:1-10: Vierde visioen: die hoëpriester Jesua

4:1-14: Vyfde visioen: die kandelaar en twee olyfbome

5:1-4: Sesde visioen: die vlieënde boekrol

5:5-11: Sewende visioen: die vrou in ‘n mandjie

6:1-8: Agste visioen: vier strydwaens wat die wêreld deurkruis

6:9-15: Orakel oor die kroning van Jesua

7:1-8:23: Oproep tot bekering: Van vas na fees

7:1-7: Vrae in verband met vasdae

7:8-14: Ontrouheid in die verlede

8:1-17: Die Here gaan na Sion toe terugkom

8:18-19: Verandering van vas na fees

8:20-23: Ander volke sal na Jerusalem kom

7. LITERÊRE KENMERKE

7.1 Teks

Die Masoretiese teks (MT ) van Sagaria is in ‘n relatief goeie toestand bewaar en oorgedra. Daar is geen groot tekskritiese probleme wat die teks heeltemal “ontwrig” nie. Dit bevat wel ‘n paar van die normale tekstuele probleme soos die uitlating van ‘n woord (6:6) of die byvoeging van ‘n woord (1:7). Daar is problematiese persoonsuffikse en woorde sonder antesedente. Sommige gedeeltes is wel moeilik om te vertaal (Smith 1984:175; Merril 2003:83). In twee gevalle word die Middeleeuse qere tradisie bo die MT verkies (1:16 en 4:2). In die eerste geval word die qere tradisie deur die LXX ondersteun en in Sagaria 4:2 is daar verskeie ander teksgetuies wat dit ondersteun. In Sagaria 2:12 kan ons waarskynlik die teks herstel na die oorspronklike Hebreeus (“my oog” ipv “sy oog”). Die opvallendste verandering in die teks, kom in 6:14 voor waar die enkelvoud “kroon” saam met die LXX en Siriese vertaling (Peshitta) gelees word. Hierdie problematiese lees word ondersteun deur die Hebreeuse sintaks en deur ‘n ou Fenisiese enkelvoud (Meyers & Meyers 1987:lxviii).

Ongelukkig help die Dooie See rolle ons nie veel met die teks van Sagaria nie. Die volgende teksgedeeltes kom in die Hebreeuse teks voor wat by die Murabba`at grotte gevind is: 4QXIIa (Sag 14:18); 4QXIIe (Sag 1:4-6, 9-10, 13-14; 2:10-14; 3:2-10; 4:1-4; 5:8-11; 6:1-5; 8:2-4, 6-7; 12:7-12); 4QXIIg (Sag 10:11-12; 11:1-2; 12:1-3) (Tov 1997:324-325). Hierdie tekste kom grotendeels met die Masoretiese teks ooreen. Daar is wel eenvoudige foute soos die weglating van ךנל in Sagaria 1:6. Die vroeë verandering van geleerdes in Sagaria 2:12 van “die appel van my oog” (יניע) na “die appel van sy oog” (ךניע) kan nie met sekerheid vasgestel word nie. Weens die slegte toestand van die Dooie See manuskrip is dit onmoontlik om vas te stel of daar oorspronklik ‘n yod of ‘n waw was (Martinez 2004:109). Daar is ook enkele Sagaria verwysings in die Griekse teks wat by Nahal Hever (8HevXIIgr) gevind is (Tov 1990:66-78).

7.2 Literêre vorm of genre

Die boek Sagaria behoort tot die “profetiese genre”17 waarvoor daar geen direkte Afrikaanse of Westerse ekwivalent bestaan nie. Ons moet besef dat die latere profete soos Sagaria hul tekste inbed in bestaande profetiese tekste wat aan hulle bekend was.

Die belangrikste genres in Proto-Sagaria is visioene en orakels of godsprake.18 Die visioene omvat die grootste gedeelte van Sagaria 1:7-6:15 en bestaan uit drie basiese elemente: (a) ‘n Beskrywing van wat in die visioen gesien word; (b) ‘n Vraag van die profeet aan ‘n engel oor die betekenis van dit wat gesien word; (c) ‘n Uitleg van die engel. Die profeet sien alledaagse voorwerpe soos ‘n maatlyn, perde en strydwaens. Hy sien ook meer mistieke beelde soos ‘n vlieënde boekrol en ‘n aanklaer wat die hoëpriester veroordeel (Merril 2003:63; O’Brein 2004:164). Binne die breë genre van visioene kom ‘n paar sub-genres voor. Long (1976:356- 364) wys onder ander op die volgende drie tipes visioene wat ‘n mens in Proto-Sagaria aantref: Orakel visioen (vgl Sag 5:1-4); Dramatiese woord visioen (vgl Sag 1:7-17; 5:9-11); Openbaring van geheimenis visioen (vgl Sag 2:1-4 [1:18-21]); 4:1-6a, 10b-14; 5:5-8).

Die visioene in Proto-Sagaria kan binne die groter konteks van die ander visioene in die profetiese literatuur bestudeer word. Beriggewing van visioene word in die literatuur van vroeëre klassieke profete aangetref (vgl Am 7:1-6; 8:1-3; Jes 6; Jer 1:11-19; Eseg 1:1; 8:2). Die idee van ‘n profeet wat al sy informasie deur middel van ‘n visioen ontvang kom in die inleidings van Amos (1:1), Jesaja (1:1) en Obadja (1:1) voor. Sagaria is deel van ’n profetiese tradisie waar die rapportering van visioene as een van die elemente van sy profetiese rol beskou word. Geleerdes wat latere Bybelse literatuur (bv Daniël) bestudeer, is van oortuiging dat Sagaria se visioene die weg voorberei het van profetiese visioene na apokaliptiese19 visioene (Petersen 1985:111; 2002:208).

In aansluiting by die kenmerkende beelde van die visioene vind ‘n mens ‘n dialogiese styl. Binne die visioene is daar ‘n gesprek tussen die profeet, God, die boodskapper en soms ‘n ander figuur. Hierdie gesprek word telkens ingelei deur die Hebreeuse woord הבע (antwoord). Die woord הבע kom veertien keer in Proto-Sagaria voor, dikwels in opeenvolgende verse (vgl Sag 1:11-13). Die aanverwante woord ךמא (sê of praat) kom meer as 60 keer in Proto-Sagaria voor met God en die ander karakters as sy subjek (O’Brein 2004:164).

Buiten visioene word orakels as die ander groot genre in Sagaria 1-8 aangetref. Orakels kom in twee groot blokke voor. ‘n Aantal orakels kom verspreid in die visioene voor, terwyl ander teen die einde in hoofstuk 7 en 8 voorkom.20 Die orakels funksioneer op twee maniere. Sommige orakels reageer op die visioene deur die implikasies van die visioene uit te stippel of selfs korreksies aan te bring.21 Aan die ander kant versterk die orakels teen die einde van Proto-Sagaria die status van die profeet. Die orakels in Proto-Sagaria hanteer alledaagse sake soos fondsinsameling (6:9-15) en die geskiktheid van verskeie godsdienstige praktyke (7:1-5; 8:18-19) (Petersen 1985:120; Merril 2003:63). Die orakels word ingelei met ‘n verskeidenheid formules: “so sê die Here” (boodskapperformule, 1:14); “spreek/sê die Here” (orakelformule, 4:8); “die woord van die Here het gekom...” (openbaringsformule, 4:8) (Ollenburger 1996:737). Daar is steeds onsekerheid oor die presiese aard van die orakels. Die Hebreeuse Bybel (BHS) beskou die orakel gedeeltes in hoofstukke 7-8 as poësie, terwyl die toonaangewende New Revised Standard Version (NRSV ) alle gedeeltes van Sagaria 1-8 as prosa tipeer (Reddit 1995:43).

8. TEOLOGIESE BOODSKAP

Daar is talle teologiese temas en motiewe wat in Sagaria 1-8 voorkom. Vervolgens sal net enkeles uitgelig word:

8.1 Jahwe se teenwoordigheid en die herbou van die tempel in Sion

Die tema van die tempel en Jahwe se teenwoordigheid vervul ‘n sentrale rol in Proto-Sagaria al is daar relatief min direkte verwysing na die tempel (vgl Sag 1:16; 4:6-10; 6:9-15; 8:9). Sagaria staan midde-in die Sion tradisie. Jahwe is op ‘n spesiale manier teenwoordig in sy tempel in Sion/Jerusalem en sy heerskap word hierdeur bevestig. Die herbou van die tempel word nie beskou as ‘n voorwaarde vir die verlossingstyd nie, maar kan eerder as ‘n “voorteken” gesien word. In die eerste visioen begin Jahwe met ‘n aankondiging dat sy huis herbou sal word (1:16) en dat Sy magtige teenwoordigheid in Sion sal wees (2:9, 17 [2:5, 13]). In Sagaria 3:7 word Jesua as hoëpriester en belangrikste amptenaar in die tempel aangewys nog voordat die tempel voltooi is. Die goewerneur Serubbabel word aangemoedig om die bouwerk te voltooi en sy plek in te neem op die troon van Dawid (4:6-10). In Sagaria 6:12-15 word die beloftes aangaande die tempel weer eens bevestig en word die voltooiing van die tempel ‘n teken van die gesag van die profeet se boodskap (“Dan sal julle weet dat die Here van die leërskare my na julle gestuur het” 1933/53 AV ). Die tempel en sy kultus word gesien as een van die belangrikste boustene vir die vestiging van ‘n nuwe gemeenskap, selfs belangriker as die monargie en wet.

Haggai roep die volk op om self die bouwerk te voltooi. In teenstelling hiermee beklemtoon Sagaria die goddelike rol in die bouproses. In Sagaria 1:16 kondig Jahwe aan dat “my tempel daar gaan herbou word”, maar die teks sê nie wie dit gaan doen nie. Sagaria 6:15 verwag dat persone buite Juda sal help met die bouprojek, maar nêrens in Proto-Sagaria word hulle opgeroep om te bou nie. Die herbou van die tempel word gesien as ‘n teken van Jahwe se liefde wat weer terugkeer na Jerusalem. Die voltooide tempel en Jahwe se teenwoordigheid beteken dat die tyd van oordeel verby is en dat ‘n tyd van verlossing aangebreek het (Fourie 1991:299; Reddit 1995:43-44; Ollenburger 1996:739; Selman 1997:1304; O’Brein 2004:166).

8.2 Bekering (omkeer) en gehoorsaamheid

Volgens Sagaria is die ongehoorsaamheid van die verlede die rede vir die volk se swaarkry in die hede (Sag 1:4-6; 7:7-14). Daarom is dit so belangrik dat die aanbreek van die nuwe tydperk hulle hul tot Jahwe sal bekeer sy voorskrifte sal nakom. Sagaria 1:3 vervul ‘n belangrike rol om die tema in te lei: “Keer terug na my, spreek die Here van die leërskare en Ek sal na julle terugkeer, sê die Here van die leërskare” (1933/53 AV ). Dit is nie net die volk wat opgeroep word tot bekering nie; selfs die hoëpriester word tot bekering en reiniging opgeroep (3:4-7). In die visioen van die vrou in die mandjie word beskryf hoe goddeloosheid uit die land verwyder sal word (5:5-11). Voordat Israel deel aan die verlossing van Jahwe kon verkry, moes hulle hul sonde bely. Vas- en boetedae is van weinig nut, want dit het bloot tot selfverheerliking gelei. Volgens Proto-Sagaria was ‘n hartgrondige bekering noodsaaklik (Sag 8:16-17) (Le Roux 1987:315; Fourie 1991:299).

8.3 Jahwe se genade, liefde en vergifnis

Sagaria 1-8 wys nie net op die bekering/omkeer van die volk nie, maar wys ook op die terugkeer van Jahwe na sy volk (vgl 1:14-17; 8:10-13) (Ollenburger 1996:739). Jahwe was so kwaad vir Israel dat Hy hulle byna vernietig het. Gelukkig het sy liefde en genade oorwin. Daar word uitdruklik gesê dat Hy “baie besorg” is oor sy volk (1:14).

As ‘n mens die vergifnis gedeeltes in Proto-Sagaria bestudeer wil dit voorkom asof die intensiteit van die vergifnis verhoog: Jahwe keer met liefde terug na sy volk (1:16); vergifnis word aan Jesua, die hoëpriester verkondig (3:4); onmiddellike vergifnis vir die hele land (3:9). Jahwe se hart word verander, Hy neem die sonde van ‘n individu weg en later word die skuld van die hele land vergewe. Proto-Sagaria beskryf Jahwe se vergifnis juis omdat Hy ‘n God van genade en liefde is (O’Kennedy 2003a:421).

8.4 Gerealiseerde eskatologie

Sagaria 1-8 verkondig ‘n gerealiseerde eskatologie. Hiervolgens word die verwagtinge van die eindtyd in die hede gerealiseer, die toekomstige verlossing word deur middel van bepaalde mense en instellings ‘n werklikheid in die hede. Sagaria kondig aan dat ongekende verlossing met die bou van die tempel gaan aanbreek. Twee leiers, Serubbabel die goewerneur en Jesua die hoëpriester, word as instrumente gesien waardeur Jahwe die verlossing hier en nou sal realiseer. Volgens Haggai sou Serubbabel die seëlring van Jahwe wees en oor almal reageer. Sagaria 1-8 bou voort op hierdie gedagte en beklemtoon verder dat Jesua as medeleier sal optree (Le Roux 1987:315).

8.5 Ander temas

Buiten bogenoemde temas is daar ook die volgende ander temas wat in Proto-Sagaria aangeraak word:

• Christen geleerdes het nog altyd oor Messianisme in Sagaria geskryf, veral met betrekking tot Deutero-Sagaria. Die verwysings na “Loot” in 3:8 en 6:12 word deur sommige eksegete Messiaans verklaar. Ongelukkig is daar baie onsekerhede oor hierdie en ander sogenaamde Messiaanse teksgedeeltes. Wat ons wel kan sê is dat die profeet Sagaria vir Serubbabel as ‘n nuwe Dawid, die Messias of gesalfde koning in die tipiese Ou-Testamentiese sin beskou het (Redditt 1995:44).

• Jahwe wat Heer van die hele aarde is (4:14). Sagaria verklaar die soewereiniteit van Jahwe teenoor die Persiese ryk.

• ‘n Tweeledige model van leierskap (Jesua die hoëpriester en Serubbabel die goewerneur) word in hierdie tyd voorgestel (3:8-10; 4:10-14; 6:9-15). Hierdie priesterlike en koninklike figure word beskryf as “gesalfdes” (4:14) en beide word geassosieer met die Messiaanse term “Loot”. Jesua en Serubbabel word gesien as simbole van dit wat nog moet kom sowel as kontemporêre leiers (3:8) (Selman 1997:1305).

• Ander nasies sal ingesluit word in die glorieryke toekoms wat aan Juda en Jerusalem beloof word. Hierdie nasies is beroof van hulle destruktiewe mag (1:18-21 [2:1-4]), hulle beleef God se teenwoordigheid en sal ingesluit word as deel van Jahwe se volk (2:15 [11]; 8:20-23).

9. SLOT

Die vroeë kerkvader Hieronimus het Sagaria as een van die mees obskure boeke in die Ou Testament beskou. ‘n Mens kan Sagaria as ‘n “probleemboek” of “obskure boek” sien weens die talle vrae wat die boek oproep. Aan die ander kant kan ons sê dat hierdie boek met sy diverse karakter een van die opwindendste boeke in die hele Bybel is. Die boodskap van die profeet word op verskillende maniere uitgebeeld. Soms is die boodskap helder en duidelik met presies historiese detail. Soms is die boodskap misterieus met talle visioene en beelde. Die bestudering van hierdie boek mag nie afgeskeep word nie. Sagaria het ‘n boodskap vir die volk in die na-eksiliese tyd gehad. Sagaria het ‘n boodskap vir ons wat vandag in ‘n tyd van heropbou in Suid-Afrika leef. Hierdie boodskap beklemtoon dat God teenwoordig is te midde van onseker tye. Hy is ‘n God wat sy liefde, hoop en vergifnis vir almal aanbied. Sagaria beklemtoon verder dat bekering en gehoorsaamheid noodsaaklik is en dat God politieke en geestelike leiers in sulke tye gebruik.

BIBLIOGRAFIE

Beuken, WAM 1967. Haggai-Sacharja 1-8. Assen: Van Gorcum & Comp.

Boda, MJ 2003a. From fasts to feasts: The literary function of Zechariah 7-8. CBQ 65, 390-407.

Boda, MJ 2003b. Haggai and Zechariah research: A bibliographic survey. Leiden: Deo Publishing. (Tools for biblical study series 5.)

Boda, MJ 2004. Haggai, Zechariah. Grand Rapids, Michigan: Zondervan. (The NIV application commentary.)

Briant, P 2005. History of the Persian empire (550-330 BC), in Curtis, J & Tallis, N (eds), Forgotten empire: The world of ancient Persia, 12-17. London: The British Museum Press.

Clark, DJ & Hatton, HA 2002. A handbook on Haggai, Zechariah and Malachi. New York: United Bible Societies.

Coggins, R 1987. Haggai, Zechariah, Malachi. Sheffield: JSOT Press. (OTG.)

Delkurt, H 2000. Sacharjas Nachgeschichte: Zur Aufnahme und Abwendlung prophetischer Tradition. Berlin: Walter de Gruyter. (BZAW 302.)

Edelman, D 2005. The origins of the ‘second’ temple: Persian imperial policy and the rebuilding of Jerusalem. London: Equinox.

Floyd, MH 2000. Minor prophets: Part 2. Grand Rapids: Eerdmans. (FOTL 22.)

Fourie, LCH 1991. Die struktuur en kerugma van Sagaria 1-8. D Th proefskrif, Universiteit van Stellenbosch.

Gese, H 1973. Anfang und Ende der Apokalyptik, dargestellt am Sacharjabuch. ZTK 70, 20-49.

Hanhart, R 1998. Sacharja. Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag. (BKAT 14.)

Hanson, PD 1979. The dawn of apocalyptic. Philadelphia: Fortress Press.

Japhet, S 1982. Shesbazzar and Zerubbabel – Against the background of the historical and religious tendencies of Ezra-Nehemiah. ZAW 94, 66-98.

Kessler, J 2001. Reconstructing Haggai’s Jerusalem: Demographic and sociological considerations and the search for an adequate methodological point of departure, in Grabbe, L & Haak, RD (eds), ‘Every city shall be forsaken’: Urbanism and prophecy in Ancient Israel and the Near East, 137-158. Sheffield: Sheffield Academic Press.

Le Roux, JH 1987. Die boek Sagaria, in Tweegesprek met God, Burden, J J & Prinsloo, W S (reds), 297-328. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers. (Die literatuur van die Ou Testament 3.

Long, BO 1976. Reports of visions among the prophets. JBL 95/3, 353-365.

Martinez, FG 2004. The text of the XII prophets at Qumran. OTE 17/1, 103-119.

Mason, R 1977. The books of Haggai, Zechariah and Malachi. Cambridge: Cambridge University Press. (The Cambridge Bible Commentary.)

Merril, EH 2003. An exegetical commentary: Haggai, Zechariah, Malachi. L L C: Biblical Studies Press.

Meyers, C & Meyers, EM 1987. Haggai, Zechariah 1-8. New York: Doubleday. (AB 25B.)

Meyers, C & Meyers, EM 1992. s v Zechariah, Book of. ABD 6, 1061-1065.

Meyers, C & Meyers, EM 1993. Zechariah 9-14. New York: Doubleday. (AB 25C.)

Miller, JM & Hayes, JH 1986. A history of Ancient Israel and Judah. Philadelphia: Westminster Press.

NBV Toelichting bij de vertaling van Zacharia. Ongepubliseerde inligtingstuk van Nederlands Bijbelgenootschap.

O’Brein, JM 2004. Nahum, Habakkuk, Zephaniah, Haggai, Zechariah, Malachi. Nashville: Abingdon Press. (Abingdon Old Testament Commentaries.)

O’Kennedy, DF 2003a. The theological portrayal of forgiveness in Zechariah 1-8. Scriptura 84, 410-422.

O’Kennedy, DF 2003b. Zechariah 3-4: Core of Proto-Zechariah. OTE 16/2, 370-388.

O’Kennedy, DF 2006. Die Boek van die Twaalf: ‘n Oorsig. NGTT 47/3 & 4, 620-632.

O’Kennedy, DF 2007. Haggai and Zechariah 1-8: Diarchic model of leadership in a rebuilding phase. Artikel goedgekeur vir publikasie in Scriptura, 1-17.

Ollenburger, B 1996. s v The book of Zechariah. The New Interpreter’s Bible Vol 7, 733-840.

Petersen, DL 1985. Haggai and Zechariah 1-8. Philadelphia: Westminster Press. (OTL.)

Petersen, DL 1992. s v Zechariah 9-14. ABD 6, 1065-1068.

Petersen, DL 2002. The prophetic literature: An introduction. Louisville: Westminster John Knox Press.

Press, R 1936. Das erste Nachgesicht des Propheten Sacharja. ZAW 54, 43-48.

Redditt, PL 1995. Haggai, Zechariah, Malachi. Grand Rapids: Eerdmans. (NCB.)

Redditt, PL 2000. s v Zechariah, Book of. Eerdmans dictionary of the Bible, 1412-1413.

Reventlow, HG 1993. Die Propheten Haggai, Sacharja und Maleachi. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht. (ATD 25/2.)

Saebo, M 1999. s v Zechariah, Book of. Dictionary of Biblical Interpretation K-Z, 666-669.

Selman, M 1997. s v Zechariah, Theology of. NIDOTTE 4, 1303-1307.

Smith, RL 1984. Micah-Malachi. Nashville: Thomas Nelson Publishers. (WBC 32.)

Sweeney, MA 2000. The twelve prophets Vol 2. Collegeville, Minnesota: Liturgical press. (Berit Olam.) Sweeney, MA 2005. The prophetic literature. Nashville: Abingdon Press. (IBT.)

Sykes, S 1997. Time and space in Haggai-Zechariah 1-8. JSOT 76, 97-124.

Tollington, JE 1993. Tradition and innovation in Haggai and Zechariah 1-8. Sheffield: Sheffield Academic Press.

Tov, E 1990. The Greek Minor Prophets scroll from Nahal Hever (8HevXIIgr). Oxford: Clarendon Press.

(Discoveries in the Judean desert VIII.)

Tov, E et al 1997. Qumran Cave 4 X: The prophets. Oxford: Clarendon Press (Discoveries in the Judean desert XV.)

VanderKam, JC 1991. Joshua the high priest and the interpretation of Zechariah 3. CBQ 53, 553-570.

Van der Woude, AS 1984. Zacharia. Nijkerk: G F Callenbach. (POT.)

Wessels, WJ 2003. The tip of the iceberg: Leadership and leader interaction in the book of Haggai in a time of resettling and reconstruction. OTE 16/2, 502-518.

Willi-Plein, I 1998. s v Sacharja/Sacharjabuch. TRE 29, 539-547.

Wilson , R 1980. Prophecy and society in Ancient Israel. Philadelphia: Fortress Press.

TREFWOORDE

Sagaria, Sagaria 1-8, Proto-Sagaria, Profetiese literatuur

KEYWORDS

Zechariah, Zecharia 9-14, Proto-Zechariah, Prophetic literature

Dr DF O’Kennedy

Posbus 337

Somerset-Wes

7129

e-pos: danieok@nghelder.co.za

1 Benaming vir die profetiese boeke wat strek vanaf Hosea tot Maleagi. Daar is in die verlede al talle name vir hierdie profetiese boeke gebruik: Klein profete, Twaalf klein profete, Twaalf profete, ens. Die benaming “Boek van die Twaalf” word deur die skrywer in die lig van onlangse navorsing verkies.

2 Daar was nie net hernude belangstelling in Sagaria nie, maar ook in die Boek van die Twaalf as geheel (vgl O’Kennedy 2006:620).

3 Daar het ook ‘n onlangse boek van Boda (2003b) verskyn waarin hy ‘n bibliografiese oorsig van Haggai en Sagaria navorsing aanbied.

4 Die laaste oorsig of inleiding in Afrikaans waarvan die skrywer bewus is, was die hoofstuk van Le Roux (1987:297-328) in die reeks “Literatuur van die Ou Testament”.

5 In hierdie artikel word Proto-Sagaria as ‘n sinoniem vir Sag 1-8 gebruik en Deutero-Sagaria as ‘n sinoniem vir Sag 9-14. As hierdie woorde gebruik word dui dit nie op ‘n persoon met die naam “Proto-Sagaria” nie, maar op ‘n korpus profetiese materiaal met soortgelyke eienskappe en temas wat saamgevoeg is (vgl Meyers & Meyers 1993:29).

6 Alhoewel daar nie veel direkte aanhalings in Proto-Sagaria voorkom nie wys Boda (2004:59) daarop dat die boek Openbaring baie van die beelde gebruik (bv beeld van die lam op die troon wat sewe horings en sewe oë het; Sag 4:10/Op 5:6).

7 Hierdie siening het na alle waarskynlikheid by Joseph Mede (1653) ontstaan. Mede het die aanhaling van Sag 11:12-13 in Matt 27:9-10 bestudeer en tot die slotsom gekom dat Sag 9-11 deur Jeremia geskryf is (Petersen 1992:1065; Redditt 2000:1412).

8 ‘n Geleerde soos Hanson (1979) het hierdie literêre waarnemings gebruik om ‘n sosiologiese analise te maak. Hy reken dat daar ‘n verdeelde gemeenskap in die Persiese periode was met twee verskillende sienswyses: die een teokraties wat die status quo wou behou (Sag 1-8); en die ander eskatologies en rewolusionêr (Sag 9-14) (vgl ook die bydraes van vroeëre geleerdes soos Welhausen en Plöger).

9 Geleerdes gebruik verskillende name as hulle na hierdie gemeenskap en sy mense verwys: Jode; provinse Jehud; Israeliete; Jerusalem gebaseerde gemeenskap; na-eksiliese gemeenskap in Jerusalem; volk van God/Jahwe; ens. Verskillende name sal in hierdie artikel gebruik word en hulle almal verwys na die Jerusalem gebaseerde na-eksiliese gemeenskap wat in die Persiese provinsie Jehud gewoon het.

10 Daar was die afgelope jare konsensus onder geleerdes dat die boeke Haggai en Proto-Sagaria in die tyd van Darius I ontstaan het. Hierdie konsensus is in ‘n onlangse boek deur Edelman (2005) uitgedaag. Edelman (2005:13-79) maak ‘n deeglike studie van die genealogiese inligting in Nehemia en kom tot die volgende gevolgtrekkings: Serubbabel en Nehemia was óf tydgenote óf slegs een geslag uit mekaar en nie 65 jaar nie. Dit wil sê Serubbabel en die tempelbou proses moet geskuif word na die regering van koning Artaserkses I (465-425/4 vC) óf Nehemia en die herbou van die stadsmure moet geskuif word na die regeringstyd van Darius I (522-486 vC). Edelman (2005:332-351) glo dat die tempel in die tyd van Artaserkses I gebou is. Die redaktor van Haggai en Sagaria het verkeerdelik die gebeure in die tyd van Darius geplaas, omdat hy beïnvloed is deur die vervulling van die 70 jaar profesie in Jeremia en Darius se wydverspreide outobiografie. Edelman se resente hipotese laat ‘n paar vrae ontstaan wat nog verder nagevors en getoets moet word.

11 Kent, RG 1950. Old Persian: Grammar, Texts, Lexicon. New Haven: American Oriental Society.

12 Die drie inleidings wys moontlik op die hand van ‘n redaktor (vgl Boda 2004:38).

13 Hierdie gedeeltes kom so met mekaar ooreen dat ‘n geleerde soos byvoorbeeld Press (1936:44) voorgestel het dat dit onafhanklik van Sag 1:7-6:15 gesirkuleer is.

14 Sien Delkurt (2000:147) vir ‘n gedetailleerde bespreking van die redes hoekom sommige geleerdes Sag 3 onafhanklik van die ander visioene bestudeer of hoekom hulle dit problematies vind.

15 Op sommige plekke verskille die Hebreeuse teks van die Afrikaanse teks. Die Hebreeuse teks word eerste geplaas. Die volgende afkortings word vir die Hebreeuse teks gebruik: MT (Masoretiese teks); BHS (Biblia Hebraica Stuttgartensia), die spesfieke Hebreeuse weergawe van die MT wat gebruik word.

16 Meyers en Meyers (1992:1063) verteenwoordig die standpunt dat die 8 visioene as 7 visioene plus ‘n ekstra profetiese visioen gerangskik moet word. Hulle numerering vanaf visioen 4 verskil dus van ander geleerdes s’n.

17 Floyd (2000:309) tipeer die boek as “prophetic historical exemplum”.

18 Dit is moeilik om die Engelse woord “oracle” in Afrikaans te vertaal. Floyd (2000:633) verskaf die volgende definisie vir “oracle”: “A divine revelation communicated through a human intermediary. Such a revelation may be communicated in response to an inquiry conducted by an intermediary, in which case there may be some formal divinitory procedure involved, but an intermediary may also receive a revelation spontaneously without its having been solicited.”

19 Verskeie geleerdes (oa Eissfeldt, Amsler, North, Seybold) het die visioene al as proto-apokaliptiek gedefinieer. Dit wil ook voorkom asof die genre van die visoen met die hemelse interpreteerder later deur die apokaliptiese skrywers as stylvorm oorgeneem is. Gese (1973:24) beskryf selfs die visioene in Sag 1-8 as die oudste en bekendste apokalips. Alhoewel die visioene apokaliptiese eienskappe vertoon wil dit tog voorkom of Sag 1-8 nie volledig in die apokaliptiese tradisie staan nie (Fourie 1991:303).

20 Merril (2003:63) meld dat die orakels in die volgende gedeeltes aangetref word: 1:16-17; 2:6-13; 3:8-10; 4:6b-10a; 6:9-15; 7:4-14; 8:1-23.

21 Die orakels in hoofstukke 1-2 vorm ‘n integrale deel van die visioene deur die interpretasie of uitbreiding van die visioene. Die orakel in die slotgedeelte van hoofstuk 3 (vv 6-10) is gerig aan Jesua, terwyl die orakel in die slot van hoofstuk 4 (vv 6-10) gerig is aan Serubbabel. Die orakel wat dien as slot van al die visioene (6:9-15) vertoon nie ‘n naby verhouding met die voorafgaande visioen nie (Ollenburger 1996:737-738).