Tolmie, DF
Universiteit van die Vrystaat

Tyd in die brief aan die Galasiërs

ABSTRACT

Time in the Letter to the Galatians

The issue addressed in this article is the way in which time is presented in the Letter to the Galatians. Taking the reference to the “fullness of time” in Galatians 4:4 as point of departure, this investigation focuses on three eras: time before the fullness of the time, the fullness of the time and the future. The characteristics of each of these eras are discussed. In the final section the interrelatedness of the three eras is discussed, as well as the importance attached to the central era (the fullness of time) and the theological implications this has.

1. INLEIDEND

Hoe word tyd in die Nuwe Testament uitgebeeld? Dit was die fokus van ‘n onlangse navorsingsprojek waarby ‘n aantal Suid-Afrikaanse en internasionale Nuwe-Testamentici onder leiding van Prof. Jan van der Watt van UP betrokke was. Dit was my voorreg om dié vraag vanuit Paulus se Brief aan die Galasiërs te probeer beantwoord. In hierdie artikel word dus gefokus op die navorsingsvraag “Hoe word tyd in die Brief aan die Galasiërs uitgebeeld?”1

As ‘n mens die vraag na die uitbeelding van tyd in Galasiërs probeer beantwoord, is daar geen beter plek om te begin as Galasiërs 4:4 nie. Nie net is dit een van slegs enkele plekke in hierdie brief waar Paulus spesifiek na tyd verwys nie; die uitdrukking, die “volheid van die tyd”, wat hy hier (en slegs hier in al sy briewe) gebruik, is beslis ook een van die treffendste uitdrukkings wat hy in hierdie verband gebruik: o{te de; h\lqen to; plhvrwma tou` crovnou, ejxapevsteilenmyoJ qeo; to;n uiJo;n aujtou` ... Dat tyd “vol” kon word, was ‘n idee wat nie onbekend binne die Judaïsme was nie (Kyk byvoorbeeld Mussner 1977:268-269), maar dat die “volheid van die tyd” onherroeplik aan Jesus Christus verbind was, was ‘n oortuiging wat nie deur baie ander mense in Paulus se tyd gedeel is nie. Dit is egter presies wat hy geglo het in Christus gebeur het.

Die uitdrukking “die volheid van die tyd” funksioneer as een van die fokuspunte in Galasiërs 4:1-7. In hierdie perikoop beklemtoon Paulus verskeie fundamentele perspektiewe ten opsigte van die Christusgebeure. Die belangrikste hiervan is dat dit God self is wat die inisiatief geneem het en ‘n spesifieke tydstip in die geskiedenis bepaal het om vir Christus na die wêreld te stuur, dat die belangrikste kenmerk van die “volheid van die tyd” geestelike vryheid is, en – vir die doeleindes van hierdie artikel waarskynlik die belangrikste – dat Christus se koms na die wêreld as ‘n eskatologiese gebeure (Delling 1959:303-304) verstaan moet word.

‘n Mens sou dit selfs ‘n apokaliptiese gebeure kon noem indien die begrip “apokalipties” gebruik word op die manier waarop Christiaan Beker2 dit interpreteer. Paulus het Christus se koms as die deurslaggewende draaipunt in die wêreldgeskiedenis beskou en dit het ‘n nuwe verstaan van tyd tot gevolg gehad. Hierdie gedagte word uitstekend deur Martyn (1997:104) verwoord:

If God’s apocalyptic invasion of the cosmos in Christ creates a radically new perception of God himself, of God’s Christ as the crucified criminal, of Christ’s crucifixion as an incorporative event, of Sin, of the Law, and so on, it also creates a radically new perception of time ... What time is it? It is the time after the apocalypse of the faith of Christ.

Deur Christus se koms is die tyd inderdaad verdeel in ‘n v.C. en n.C. – vóór Christus en ná Christus – of, as ‘n mens Paulus se eie uitdrukking in Galasiërs wil inspan, in die tydperk vóór die volheid van die tyd en die tydperk van die volheid van die tyd. Vervolgens word die uitbeelding van die tyd in Galasiërs aan die hand van hierdie tweedeling ondersoek.

2. DIE TYD VÓÓR DIE VOLHEID VAN DIE TYD

Paulus se perspektief op die situasie waarin mense hulleself vóór die volheid van die tyd bevind het, word deur twee aspekte gekenmerk:

Enersyds word dit uitgebeeld as ‘n situasie van geestelike slawerny. Om hierdie gedagte uit te druk, gebruik Paulus die woord uJpov verskeie keer in Galasiërs 3 en 4. In die onmiddellike konteks waarbinne die uitdrukking “volheid van die tyd” voorkom, kom uJpov drie keer voor: “onder” voogde en bestuurders (4:2: uJpo; ejpitrovpou kai; oijkonovmou), “onder” die elemente van die wêreld (4:3: uJpo; ta; stoicei`a tou kovsmou) en “onder (die) wet” (4:5: uJpo; novmon). In 4:2 word uJpov gebruik om ‘n situasie te beskryf waarmee die lesers goed bekend moes gewees het: ‘n erfgenaam wat nog minderjarig is en wie se erfdeel gevolglik deur voogde en bestuurders beheer word. Om “onder” hulle te wees, is volgens Paulus niks anders nie as om

‘n slaaf te wees. Dié situasie word dan as analogie vir die tydperk vóór die volheid van die tyd gebruik. Die mensdom was “onder” die elemente van die wêreld (ta; stoicei`a tou kovsmou). Paulus gebruik die uitdrukking stoicei`a tou’ kovsmou op ‘n figuurlike manier om te verwys na beperkende godsdienstige praktyke “waaronder” die mensheid hulleself bevind het voordat Christus gekom het.3 Die metafoor wat hy kies, is wyd genoeg om sowel die Judaïsme as enige ander vorm van godsdiens in sy tyd te beskryf (Hartman 1993:146). In hierdie perikoop verwys hy spesifiek na die situasie van die Jode, aangesien hy die wat deur Christus losgekoop is, as mense “onder” die wet tipeer (4:5). Dat hulle situasie in beginsel nie verskil het van die van die heidene, kan uit die volgende perikoop (4:8-11) afgelei word. Daar praat hy van die Christene in Galasië as mense wat vroeër geestelike slawe was van wesens wat in werklikheid glad nie gode was nie, en wat nou voornemens was om die “evangelie” van die opponente te aanvaar. Hierdie voorgenome optrede van hulle word met dieselfde begrip as in 4:3 beskryf, naamlik ‘n terugkeer (ejpistrevfw) na die elemente van die wêreld.

Vroeër in sy brief, in hoofstuk 3, gebruik Paulus die woordjie uJpov ook verskeie keer om die situasie vóór die volheid van die tyd negatief te tipeer. In 3:23-25 word die situasie “onder” die wet op ‘n treffende manier beskryf as hy die wet as ‘n paidagwgov” personifieer (3:23-25). Alhoewel ‘n paidagwgov” destyds nie per definisie negatief geïnterpreteer sou word nie, gebruik Paulus dit hier beslis op ‘n negatiewe manier, naamlik om die situasie van die mense “onder” die wet as ‘n (tydelike) situasie van gebondenheid te tipeer (Kyk Tolmie 2005:139-143 vir ‘n gedetailleerde beskrywing). In dieselfde konteks word die situasie onder die wet (uJpov word weer gebruik4) ook as “gevangenskap” en “bewaking” getipeer (3:23: uJpo; novmon ejfrourouvmeqa sugkleiovmenoi). Die werkwoord wat hy gebruik (frourevw), beteken om iemand in gevangenskap te hou (Kyk BDAG) en word dus metafories gebruik om die situasie onder die wet te beskryf as ‘n situasie soortgelyk aan gevangenskap. In die vorige vers gebruik hy dieselfde werkwoord om die situasie van die mensdom in die algemeen5 vóór die volheid van die tyd te beskryf – weer eens in negatiewe sin: Die Skrif het alles onder die sonde “toegesluit.” Bruce (1982:180) verwoord dit pragtig: “The written law is the official who locks the law-breaker up in the prison-house of which sin is the jailor.”

Daar is nog ‘n “onder”-uitdrukking wat Paulus gebruik wat aandag verdien. In 3:10 praat hy van mense wat op die wet vertrou6 en gevolglik “onder ‘n vloek” is. Alhoewel hy die huidige situasie in Galasië (d.w.s. tydens die volheid van die tyd) in gedagte het, is dit nietemin uit 3:13 duidelik dat dieselfde waar is van die situasie vóór die volheid van die tyd aangesien hy sê dat Christus “ons van die vloek van die wet losgekoop het”. Om “onder” die wet te gewees het vóór die volheid van die tyd, was dus dieselfde as om onder God se vloek te wees.7

Gelukkig is geestelike slawerny nie die volle verhaal wat die tydperk vóór die volheid van die tyd betref nie. Die ander kant van die saak is dat dié tydperk ook gekenmerk is deur ‘n belofte van ‘n toekomstige seën. Volgens Galasiërs 3:8 is die evangelie vooruit (d.w.s. lank vóór die volheid van die tyd) aan Abraham verkondig: Omdat8 die Skrif vooruit gesien dat die wat glo geregverdig sou word, het dit die evangelie vooruit aan Abraham verkondig dat al die nasies in hom geseën sou word (3:8). In 3:14 word hierdie seën wat aan Abraham beloof is, as die belofte van die Gees geïnterpreteer, en van hier af word “belofte” een van die sleutelbegrippe in Paulus se argument (3:16, 17, 18, 19, 21, 22, 29; 4:23, 28). Die belofte wat aan Abraham gemaak is, word dus retrospektief deur die vervulling in Christus gelees (Hays 1989:107) sodat die hele era vóór die volheid van die tyd deur die belofte van ‘n toekomstige seën in Christus gekarakteriseer word. Verder vind Paulus – as gevolg van die spesifieke retoriese situasie – dit nodig om belofte en wet teenoor mekaar te stel (Kyk Tolmie 2005:124vv. vir ‘n volledige bespreking hiervan). Dit kry hy byvoorbeeld reg deur die a minori ad maius-argument in 3:15-18 waar hy sekere eienskappe van ‘n menslike diaqhvkh (= testament) uitlig en dit dan op die goddelike diaqhvkh (= verbond) van toepassing maak: Wanneer ‘n menslike diaqhvkh eers bekragtig is, kan niemand dit tot niet maak of iets byvoeg nie. Toegepas op die goddelike diaqhvkh beteken dit dat God dit reeds vooraf bekragtig het en dat die wet wat eers 430 later gekom het, dit nie kragteloos kon maak en so die belofte kon vernietig nie.

Om saam te vat: Die situasie vóór die volheid van die tyd word in Galasiërs op twee maniere beskryf: Enersyds was dit vir die mensdom ‘n situasie van geestelike slawerny. Hulle het hulleself “onder die elemente van die wêreld” bevind, dit wil sê onder elementêre en beperkende godsdienstige praktyke. Die Jode was “toegesluit” onder die wet wat beteken het dat hulle onder God se vloek was en die heidene was uitgelewer aan gode wat eintlik glad nie gode was nie. Almal – Jode en heidene – was “toegesluit” onder die sonde. Aan die ander kant was daar egter die belofte van ‘n toekomstige seën wat aan Abraham gegee is: Omdat die Skrif vooruit “gesien” het dat God heidene deur geloof sou regverdig, het Abraham die evangelie vooruit ontvang, naamlik dat die mensdom in hom geseën sou word.

3. DIE VOLHEID VAN DIE TYD

Met die koms van die volheid van die tyd het die situasie dramaties verander. In Galasiërs beskryf Paulus die geweldige verandering wat met Christus se koms plaasgevind het op verskillende maniere, waarvan die belangrikste in terme van die oorkoepelende argument in die brief waarskynlik die “loskoop”-metafoor is, met ander woorde die teenoorgestelde van die situasie van geestelike slawerny wat kenmerkend van die tyd vóór die volheid van die tyd was. In 4:4-7, wat gedeeltelik op voor-Pauliniese tradisie gebaseer is (Kyk byvoorbeeld Hahn 1963:314-315), beskryf hy dit wat gebeur het toe Christus gestuur is, as volg: God het sy Seun gestuur, Hy het die wat onder die wet was, losgekoop, hulle het aanneming tot kindskap ontvang, en, omdat hulle God se kinders geword het, het hulle die Gees ontvang. Dit wat dus volgens Galasiërs 3 deur God belowe is, het waar geword toe Christus in die volheid van die tyd gekom het.

In 3:13, wat ook voor-Pauliniese tradisie reflekteer (Kyk byvoorbeeld Becker 1981:381), vind ‘n mens twee van die elemente wat in 4:4-7 geïdentifiseer is: eerstens, loskoping van die wet, nou beskryf as loskoping van die vloek van die wet, en, tweedens, die ontvangs van die Gees. Volgens Galasiërs hang die grootste verskil tussen die situasie vóór die volheid van die tyd en tydens die volheid van die tyd dus saam met twee basiese konsepte: geestelike vryheid en die Gees. Toe die volheid van die tyd aangebreek het, is mense deur God vrygemaak en het hulle die Gees van Hom ontvang. Dit is egter nie die enigste manier hoe Paulus die verandering wat deur die “stuur” van die Seun teweeggebring is, beskryf nie.

In 3:23 verwys hy na die situasie vóór Christus gekom het as die tydperk “voordat die geloof gekom het/totdat geloof openbaar sou word”: Pro tou` de ejlqei`n th;n pistin ... eij th;n mevllousan pistin ajpokalufqh`nai. Soos algemeen bekend is, is “geloof ” een van die ander sleutelbegrippe in Galasiërs. In hierdie geval is Paulus se argument dat mense deur geloof geregverdig word, dit wil sê dat hulle deur God in die regte verhouding tot Homself geplaas word. As Paulus na “die” geloof in 3:23 verwys, bedoel hy ‘n spesifieke soort geloof, naamlik die geloof in9 Christus waarna hy so pas in die vorige vers verwys het (Dunn 1995:197). Dit is ook belangrik om op die eskatologiese aspek te let. Paulus beeld die koms van “die geloof ” hier as ‘n eskatologiese gebeure uit. Die uitdrukking wat hy gebruik, die “openbaring van die geloof ” is dus ‘n ander manier om die eskatologiese klem wat reeds vroeër in hierdie artikel uitgelig is, te verwoord.

Daar is twee ander belangrike beelde wat Paulus in Galasiërs gebruik en wat al twee ook die Joodse eskatologie as agtergrond het, wat ook uitgelig moet word. In 1:4 verwys hy na die huidige bose bestel waarvan Christus se dood gelowiges gered het (waarskynlik weer voor- Pauliniese tradisie; kyk byvoorbeeld Lührmann 1988:16): o{pw ejxevlhtai hJma` ejk tou` aijw`notou` ejnestw`to ponhrou`. Dié uitdrukking herinner aan Joodse sieninge (Dunn 1995:36) waarvolgens die tyd in twee bedelings (“eeue”) ingedeel word, die huidige swak, bose bedeling en die komende bedeling. Dit is weer eens duidelik dat Christus se koms in eskatologiese terme beskryf word. In 1:4 noem Paulus net die “huidige bose bedeling” waarvan Christus gelowiges gered het sonder om die teenoorgestelde (dat die nuwe bedeling aangebreek het), eksplisiet aan te dui, maar dat die nuwe bedeling reeds aangebreek het, is duidelik uit gedeeltes soos 4:1-7.

Naby aan die einde van die brief gebruik hy wel ‘n uitdrukking wat fokus op dit wat teenoor die bose bedeling staan, naamlik “nuwe skepping”: ou[te gar peritomhv ti ejstin ou[te akrobustia ajlla kainh; ktisi (6:15). Die agtergrond is weer eens Joods (Kyk Hubbard 2002:11-77 vir ‘n goeie bespreking hiervan). Paulus gebruik hierdie begrip om die radikale nuutheid van dit wat deur Christus bewerkstellig is, aan te dui (Martyn 1997:565). Myns insiens is dit nie korrek om die “nuutheid” wat Paulus in gedagte het, te beperk tot ‘n individuele, antropologiese, nuutheid wat individueel deur gelowiges ervaar word soos wat Hubbard (2002:224) dit interpreteer nie. Dit is wel gedeeltelik die geval, maar Paulus dink definitief groter as bloot individuele kategorieë: Die ou bedeling is vervang deur die nuwe bedeling. Wright (2005:114) stel dit tereg as volg:

[T ]he crucifixion of the Messiah means that everything has been turned inside out, not simply his own self, not simply Israel, but the entire cosmos .... Paul is not just speaking of the individual Christian as new creation, though of course that is true as well, but of the entire renewal of the cosmos in which the Christian is invited to be a participant, in the sense both of beneficiary and of agent.

Die probleem is egter dat daar nie veel van hierdie eskatologiese nuutheid in Paulus se tyd ervaar is nie. Die meeste mense het nie in Christus geglo nie en was dus nog steeds “onder” die elemente van die wêreld. Selfs onder die in Galasië wat wel geglo het en wat dus verlos was van die huidige bose bedeling (1:4), kon ‘n mens nie veel van die nuutheid sien nie. Paulus skryf byvoorbeeld dat hulle besig was om afvallig te raak van God wat hulle in die genade van Christus geroep het (1:6), dat hulle wat die Gees ontvang het, nou met die vlees aan die eindig was (3:3), dat hulle wat van die verslawende elemente van die wêreld bevry is, dit oorweeg om terug te keer na daardie elemente (4:9), dat hulle selfs besig was om mekaar onderling te “byt” en te “verskeur” (5:15) – alles gedrag wat kenmerkend van die ou bedeling was. Kortom, die eskatologiese volheid van die tyd het aangebreek, maar die ou bedeling het nie verdwyn nie.

Volgens die Joodse eskatologie was daar ‘n duidelike breuk, as’t ware ‘n reguit lyn, tussen die huidige en die toekomende bedeling (Dunn 1998:462), maar hierdie skema was nie meer bruikbaar nie. Die volheid van die tyd het gekom, Christus het gesterf en is opgewek, die lyn is oorgesteek, maar die ou bedeling is nie agtergelaat nie. Hoe kon ‘n mens hieraan sin gee? Een moontlikheid was natuurlik om te ontken dat die volheid van die tyd inderdaad gekom het; om te ontken dat daar werklik iets betekenisvol in Christus gebeur het. Vir Paulus was dit egter onmoontlik, en, in plaas daarvan, is die tipiese Joodse skema verander en beide hede en toekoms is in die lig van dit wat reeds in Christus gebeur het, herbedink (“re-imagined”; aldus Wright 2005:130). In plaas van ‘n duidelike breuk tussen die twee bedelings, is die twee bedelings verstaan as tegelyktydig aanwesig – ‘n situasie wat dikwels as die oorvleueling van die twee bedelings beskryf word (byvoorbeeld Dunn 1998:464). Martyn (1997:104) stel ‘n ander interessante beeld voor om dit te beskryf, naamlik “ongebalanseerde bifokale visie”: ‘n Mens kan al twee bedelings “sien”, maar die nuwe bedeling is ‘n groter werklikheid as die ou bedeling. Hierdie situasie sou volgens Paulus egter nie onbepaald voortduur nie. Eendag sou die oorvleueling van die twee bedelings beëindig word; bifokale visie sou deur mono-fokale visie vervang word.

Vervolgens word aandag gegee aan die derde tydperk, dit wat volgens Paulus nog in die toekoms gewag het.

4. DIE TOEKOMS

Na dit wat nog in die toekoms moes gebeur, kry ‘n mens opvallend min verwysings in Galasiërs. As gevolg van die beklemmende retoriese situasie waarin Paulus homself bevind, kry die onmiddellike toekoms uiteraard baie aandag: Gaan die Galasiërs swig onder die druk van die opponente en hulle laat besny (5:3-4) of sal Paulus se vertroue reg bewys word en hulle uiteindelik soos hy dink (5:10)? Sal hulle ontslae raak van die opponente (4:30)? Dit alles val egter nog binne die oorvleueling van die twee bedelings. Na dit wat aan die einde van die tyd sal gebeur, verwys Paulus nie dikwels in die brief nie. Die enkele gevalle waar dit wel gebeur, word nou ondersoek.

Die eerste verwysing kom in 1:4 voor. In ‘n kort doksologie aan God kom die volgende uitdrukking voor: eij tou; aijw`na tw`n aijwnwn, letterlik “tot in die eeue van die eeue”. Hierdie uitdrukking is ‘n meer beklemtoonde weergawe van die uitdrukking eij to;n aijw`na tw`n aijwvnwn en beklemtoon die oneindige aard van dit wat nog voorlê (Longenecker 1990:9). Dit reflekteer ook die tipiese Joodse gedagte van die opeenvolging van die twee bedelings wat in die vorige afdeling bespreek is, maar, soos reeds aangetoon, het Paulus die twee bedelings in die lig van Christus se koms op ‘n ander manier verstaan.

In 4:19 is ‘n verdere verwysing na die toekoms: tevkna mou, ou} pavlin wjdivnw mevcri ou| morfwqh`/ Cristo ejn uJmi`n. 4:19 is deel van‘n reeks emosionele argumente in 4:12-20 wat in verse 19-20 afgesluit word met ‘n aangrypende uitdrukking van Paulus se sorg en houding teenoor die Christene in Galasiërs. Die vroulike metafoor wat hy hier op homself van toepassing maak (“Ek kry geboortepyne oor julle”) druk sy bekommernis vir hulle op ‘n treffende manier uit. Aan die een kant beeld die frase “totdat Christus in julle gevorm word” verlossing as lewenslange proses van verandering uit, iets wat natuurlik teen die agtergrond van die twee bedelings verstaan moet word. Aan die ander kant verwys dit ook – al is dit bloot implisiet – na dit wat nog eskatologies uitstaande is en beskryf dit die moeilike situasie waarin gelowiges hulleself bevind (Gaventa 1990:189-201). In die lig van die stryd tussen die vlees en die Gees wat in hoofstuk 5 ter sprake kom, is dit duidelik dat die doelwit dat Christus volledig in hulle sal vorm aanneem, nie bereik sal word solank as wat die twee bedelings nog oorvleuel nie.

Dit twee verwysings na eskatologiese gebeure wat tot dusver ondersoek is, vorm nie werklik ‘n integrale deel van Paulus se argument in die brief nie. Die eerste geval in 1:4 is eintlik net ‘n terloopse verwysing na die oneindige aard van dit wat nog op pad is, en in die tweede geval in 4:19 funksioneer eskatologie net op ‘n implisiete wyse. Nie in een van die twee gevalle is dit dus die sentrale gedagte van die spesifieke perikoop nie. In die volgende geval wat ons ondersoek, 4:26, is die situasie egter anders aangesien die verwysing na die “Jerusalem van bo”‘n integrale deel van Paulus se argument in 4:21-5:1 vorm. In hierdie perikoop gebruik hy ‘n allegoriese argument, gebaseer op die gesag van die Skrif, om die Galasiërs op te roep om nie te swig voor die opponente se weergawe van die evangelie nie, aangesien dit volgens hom geestelike slawerny tot gevolg het.

Die konsep “Jerusalem van bo” of “hemelse Jerusalem” was bekend binne die Judaïsme en is gewoonlik gebruik om aan te dui hoe Jerusalem daar sou uitsien aan die einde van die tyd. Dit kom ook elders in die vroeë Christendom voor, byvoorbeeld in Hebreërs 11:10, 14-16; 12:22; 13:14 en Openbaring 3:12; 21:1vv., waar dit telkens as metafoor gebruik word om die finale realisering van God se koninkryk aan die einde van die tyd uit te druk (Kyk Lincoln 1981:18-22 vir ‘n volledige bespreking hiervan). Die feit dat Paulus dieselfde metafoor gebruik, bevestig dat hy hierdie verwagting gedeel het. Aangesien Lincoln reeds die belang van hierdie konsep vir die verstaan van Paulus se eskatologie oortuigend aangetoon het, volstaan ek met ‘n kort samevatting van die belangrikste drie aspekte wat hy uitlig:

• Vir Paulus was die “Jerusalem van bo” ‘n hemelse werklikheid wat as ‘n transendente verwysingspunt vir die kerk funksioneer, ‘n werklikheid wat ‘n dinamiese effek op die kerk het in die sin dat dit geestelike vryheid moontlik maak (Lincoln 1981:29).

• Die kontras tussen die huidige Jerusalem en die “Jerusalem van bo” toon dat Christus se koms vir Paulus ‘n kritiese verskil tot gevolg gehad – iets wat beide kontinuïteit en diskontinuïteit impliseer. Die retoriese situasie waarin Paulus homself in Galasiërs bevind, het tot gevolg dat hy in dié brief die diskontinuïteit beklemtoon. Lincoln (1981:30) stel dit as volg:

[T ]hrough the resurrection and exaltation of Christ, the focus of salvation history has moved from the earthly to the heavenly realm. … The old category has been reinterpreted so that no longer in view is a restored national capital which will be the geographical centre for the ingathering of the nations in the Messianic era but Jerusalem can now designate instead the focal point of the heavenly existence of the new age.

• Die verhouding tussen die kerk en die “Jerusalem van bo” is nie een van identifikasie nie. Paulus beskou eerder die “Jerusalem van bo” as die bron van die kerk se geestelike lewe en vryheid (Lincoln 1981:30).

‘n Verdere belangrike punt is die feit dat die “Jerusalem van bo” in Galasiërs ruimtelik en nie temporeel funksioneer nie. Paulus gebruik dit nie soseer om iets wat iewers in die toekoms lê, te beskryf nie, maar om te verwys na iets wat reeds “daar bo” bestaan. Wat vir sy argument belangrik is, is die feit dat die “Jerusalem van bo” vry is en as die moeder van die gelowiges funksioneer. As ‘n mens hierdie aspek in verband bring met dit wat reeds vroeër in verband met die oorvleueling van die twee bedelings uitgewys is, is dit duidelik dat hy die metafoor nie gebruik om te beskryf hoe die situasie aan die einde van die tyd sal wees wanneer die oorvleueling tot ‘n einde kom nie, maar dat hy dit eerder gebruik om die huidige situasie in Galasië te interpreteer. Dus, alhoewel hy ‘n tipiese Joods/Christelike eskatologiese motief benut, vertel dit nie vir ‘n mens veel oor sy sieninge van wat nog aan die einde van die tyd sal gebeur nie.

Daarvoor moet ‘n mens wag tot Galasiërs 5 – die deel van die brief waar hy die lesers probeer oortuig om op ‘n bepaalde manier op te tree, naamlik om nie te swig onder die druk om besny te word nie, om die opponente te vermy en om onder beheer van die Heilige Gees te lewe (5:2-6:10). In hierdie gedeelte vind ‘n mens verskeie verwysings na dit wat hy aan die einde van die tyd verwag het: 5:5; 5:10; 5:21; (miskien) 6:5 en 6:7-10.

Uit Galasiërs 5:10 is dit duidelik dat Paulus die algemene Christelike verwagting van sy tyd gedeel het dat daar aan die einde van die tyd ‘n finale oordeel sal wees. Nadat hy in 5:10a sy oortuiging verwoord het dat die Galasiërs met hom sal saamstem, verwys hy as volg na die opponente: oJ de; taravsswn10 uJma`bastavsei to krivma, o{sti eja;n h\/. Die uitdrukking to; krivma verwys na die eskatologiese oordeel (Arzt 1992:179). Dit is nie moeilik om Paulus se retoriese oogmerk in hierdie vers te bepaal nie. Hy beeld die opponente uit as mense wat by die finale oordeel deur God gestraf sal word en dit dien as ‘n indirekte waarskuwing aan die Galasiërs dat dieselfde lot hulle sal tref as hulle die opponente volg. Vir die vraag wat in hierdie artikel ondersoek word, is die belangrike saak Paulus se verwagting van die finale oordeel en die manier waarop hy dit aan sy evangelie verbind.

In 5:21 verwys hy nie na die finale oordeel nie, maar na ‘n saak wat nou daaraan verwant is, naamlik die mens se ewige lot. Ná die lys van die werke van die vlees, herinner hy die Galasiërs aan sy vroeëre onderrig: oi ta; toiauta pravssonte basileivan qeou` ouj klhronomhvsousin. Soos wat kommentatore dikwels uitwys (Kyk byvoorbeeld Longenecker 1990:258), is die taalgebruik on-Paulinies. Dit stem meer ooreen met Sinoptiese seggings oor die “ingaan in die koninkryk van God” waarmee ewige lewe saam met God bedoel word, byvoorbeeld in Markus 9:47. In hierdie geval waarsku Paulus die Galasiërs dat hulle nie die ewige lewe sal beërwe as hulle die werke van die vlees beoefen nie. Vir die doeleindes van hierdie artikel is dit belangrik om daarop te let dat hy dus die destydse Christelike oortuigings oor die ewige bestemming van die mensheid gedeel het.

In die geval van 6:5 (e{kasto ga;r to; i[dion fortivon bastavsei) kom dit voor asof Paulus weer na die finale oordeel verwys. Dit is egter nie heeltemal seker nie, aangesien to; fortivon op verskillende maniere verstaan kan word: as ‘n verwysing na sonde en swakheid in die algemeen (Burton 1962:334), ‘n ironiese verwysing na to; kauvchma van vers 4 (Harnisch 1987:295) of selfs as die finansiële bydrae wat elke gelowige in die lig van vers 6 bereid moet wees om te dra (Witherington 1998:429). Nietemin is baie eksegete nog steeds oortuig dat dit wel na die finale oordeel verwys11 en dit lyk inderdaad na die beste opsie aangesien die werkwoord (bastavsei) wat hier gebruik word, ook in 5:10 (ook in die toekomende tyd) gebruik word en daar in 5:10 geen twyfel kan wees dat dit oor die finale oordeel gaan nie. Verder, as ‘n mens 6:5 as ‘n verwysing na die finale oordeel interpreteer, sluit dié vers baie goed aan by die res van die gedeelte (6:1-4), aangesien dit dan die hoogtepunt van 6:1-5 vorm (Kuck 1994:294). Indien hierdie interpretasie korrek is, is Paulus se bedoeling met 6:5 om positiewe gedrag by die Galasiërs aan te moedig deur hulle daaraan te herinner dat hulle by die finale oordeel verantwoordelik gehou sal word vir hulle optrede.

‘n Soortgelyke gedagte kom in verse 7-9 voor, maar, anders as in die geval van 6:5, kan daar geen twyfel wees dat Paulus in eskatologiese terme dink nie, want hy gebruik die begrippe fqorav en zwhv aijwvnio”. Die saak wat hy in hierdie geval beklemtoon, is dat ‘n mens se optrede gedurende die oorvleueling van die bedelings jou ewige lot bepaal. Sy vertrekpunt is ‘n spreuk (o} ga;r eja;n speivrh/ a[nqrwpo, tou`to kai; qerivsei) wat dan vir beide ‘n waarskuwing (oJ speivrwn eij” th;n savrka eJautou` ejk th` sarko; qerivsei fqoravn) en ‘n belofte (oJ de; speivrwn eij to; pneu`ma ejk tou` pneuvmato qerivsei zwh;n aijwvnion) gebruik word. Die onderskeid tussen die “saai in die vlees” en die “saai in die Gees” herinner ‘n mens aan gedagtes wat 5:16vv. oorheers, asook die onderskeid tussen die vlees en die Gees wat vroeër in die brief gemaak word (3:1-5). Vir die doeleindes van hierdie artikel is dit belangrik dat Paulus die Christelike oortuigings van ‘n finale oordeel en ‘n ewige bestemming gedeel het, en dat die aard van hierdie ewige bestemming bepaal word deur ‘n mens se reaksie op die evangelie van Jesus Christus.

Tot dusver het die verwysings na die toekoms wat ondersoek is, gefokus op die donker kant van die prentjie aangesien almal as waarskuwings funksioneer. In die laaste geval wat ter sprake kom, verander die prentjie egter. In 5:5 verklaar Paulus met vertroue: hJmei` ga;r pneuvmati ejk pivstew ejlpivda dikaiosuvnh ajpekdecovmeqa. In hierdie kort sin bring hy verskeie begrippe wat ‘n sleutelrol in sy argument speel, saam: Gees, regverdiging en geloof. Die verskil is egter dat hy dit nou binne die konteks van dit wat nog in die toekoms moet gebeur, plaas: Deur die Gees en deur geloof wag gelowiges reikhalsend op die “hoop van geregtigheid”. dikaiosuvnh” moet hier as ‘n objektiewe genitief (geregtigheid waarop ons hoop) of selfs as ‘n genitief van apposisie (hoop, dit wil sê geregtigheid) verstaan word ( Woschitz 1979:547) en nie as ‘n subjektiewe genitief nie (Silva 1996:182).

Waar Paulus dus vroeër in die brief geregtigheid beskryf het as iets wat gelowiges reeds in die hede het (byvoorbeeld 2:16), verwys hy nou daarna as iets wat hulle in die toekoms sal kry. Hierdie stand van sake moet nie geïnterpreteer word in die sin van ‘n dubbele geregtigheid soos wat Jeremias (1954:370; Kyk ook die kritiek van Stuhlmacher 1966:229 hierop) maak nie. Dit help ook nie om soos Kwon (2004:51-77) te probeer om al die ander verwysings na geregtigheid in Galasiërs te probeer interpreteer as uitsprake wat net oor ‘n toekomstige realiteit handel nie. Inteendeel, die manier waarop Paulus na geregtigheid verwys as tegelykertyd ‘n alreeds en ‘n toekomstige realiteit, reflekteer die feit dat gelowiges tegelykertyd in beide bedelings leef. Gevolglik is geregtigheid tegelykertyd iets wat ‘n mens in deur die geloof besit en iets wat gedurig deur die vlees aangeval word (Käsemann 1970:183), wat maak dat die finale verwerkliking van geregtigheid na die toekoms uitgestel word. Wat verder belangrik is, is dat ‘n mens Paulus se vertroue oor dit wat in die toekoms gaan gebeur, moet raaksien. Dié aspek word deur die gebruik van die woorde ejlpiv en ajpekdevcomai12 aangedui. Ten opsigte van ejlpiv” is dit belangrik om daarop te let dat hy dit nie op die tipies Griekse manier gebruik as ‘n verwysing na iets wat realisties gesproke binne ‘n spesifieke situasie moontlik is nie, maar dit primêr verstaan as ‘n verwysing na vertroue op God – waardeur die begrip ‘n totaal ander oriëntering kry ( Woschitz 1979:440vv., 764-765). Dit is die rede hoekom 5:5 so oorloop van vertroue. Stuhlmacher (1997:347) sê tereg: “Hoffnung ist ein Strukturmoment des Glaubens”! Die ander begrip wat Paulus gebruik, ajpekdevcomai, bring die dringendheid van die verwagting na vore. Soos Dunn (1995:270) dit tereg stel: “ The word expresses the character of Christian existence as one of suppressed excitement, as of an adolescent awaiting her/his coming-of-age birthday …” Om saam te vat: Galasiërs 5:5 fokus nie soseer op gebeure wat saamhang met die einde van die tyd nie, byvoordeel die laaste oordeel en die ewige lewe nie, maar wel op Paulus se houding teenoor dit wat in die toekoms lê, ‘n houding van ‘n tegelyk dringende en vertrouensvolle afwagting oor dit wat God aan die einde van die tyd sal doen.

4. TYD IN DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS

Hoe word tyd in die Brief aan die Galasiërs uitgebeeld?

Hierdie ondersoek het aangetoon dat al drie die bedelings wat gewoonlik in Nuwe-Testamentiese geskrifte ter sprake kom, ook in hierdie brief voorkom: die verlede – die tyd vóór Christus se koms, die hede – die tyd sedert Christus se koms, en die toekoms – die einde van die tyd.

Die aard van elkeen van hierdie drie bedelings word ook duidelik in die brief uitgebeeld. Die verlede word volledig vanuit die perspektief van die hede verstaan, spesifiek vanuit die perspektief van die Vader se “sending” van Christus na die wêreld. Gevolglik word die tyd vóór Christus se koms primêr negatief verstaan: Dit was ‘n tydvak gekenmerk deur geestelike verslawing aan die elemente van die wêreld. Die enigste positiewe aspek van hierdie bedeling is dat dié bedeling ook gekenmerk is deur God se belofte van ‘n toekomstige seën. Die hede word primêr positief verstaan. Paulus beskryf dit as die volheid van die tyd, ingelui deur ‘n eskatologiese gebeurtenis wat deur God bepaal is en alles radikaal verander het. Dié verandering word deur middel van verskeie metafore aangedui, waarvan die een van (geestelike) loskoping een van die belangrikstes is. Soos egter ook aangetoon, het die hede ook ‘n donker kant: Ten spyte van Christus se koms het die vorige, bose, bedeling nog nie tot ‘n einde gekom nie, en daarom word die hede gekenmerk deur die oorvleueling van twee bedelings, deur bifokale visie. Ten opsigte van die toekoms het dit geblyk dat die brief verskeie van die tipiese Christelike verwagtings van die Nuwe-Testamentiese era reflekteer, byvoorbeeld dat daar ‘n laaste oordeel sal wees en dat mense ewige lewe of ewige verdoemenis sal beleef. Dit het ook duidelik geword dat Paulus daarvan oortuig was dat dit wat by die laaste oordeel gebeur en ‘n mens se ewige bestemming bepaal word deur jou reaksie op die evangelie van Christus. Byvoorbeeld, die wat die evangelie teenstaan, sal veroordeel word (5:10) of die wat volgens die vlees lewe, sal nie die Koninkryk beërwe nie (5:21).

Uit bogenoemde blyk die interafhanklikheid van die drie bedelings ook duidelik. Die verlede word byvoorbeeld uitgebeeld in terme van die huidige bedeling – meer spesifiek, in terme van minderwaardigheid teenoor die huidige bedeling. Verder word die aard van die toekoms wat ‘n mens sal beleef, bepaal deur ‘n mens se reaksie op die evangelie in die hede. Verder het dit ook geblyk dat, van die drie bedelings, die een in die middel – die volheid van die tyd – die fokuspunt vorm. In hierdie sin is Christus inderdaad die “die Mitte der Zeit” (Cullmann 1962:117vv.). Dit is ongetwyfeld die geval dat hierdie bedeling die meeste aandag in die brief kry, nie net in terme van die tyd wat Paulus daaraan in sy brief afstaan nie, maar ook omdat dit die basiese argument is wat hy gebruik om die Galasiërs te oortuig: Met Christus se koms het die volheid van die tyd aangebreek; dit het ‘n radikale verandering tot gevolg gehad waaraan die gelowiges in Galasië deel gekry het; deur die “evangelie” van die opponente te aanvaar, loop hulle nou egter gevaar om dit alles te verloor en weer geestelike slawe te word.

Wat van die toekoms? Is dit vir Paulus minder belangrik as die hede? Met die eerste oogopslag lyk dit asof ‘n mens ‘n saak daarvoor kan uitmaak. ‘n Mens sou byvoorbeeld kon redeneer dat sy verwysings na die toekoms nie werklik ‘n belangrike deel van sy argument in die brief uitmaak nie. Om die waarheid te sê, ‘n mens kan al die verwysings na die toekoms in die brief (5:5; 5:10; 5:21; 6:5, 6:7-10) verwyder sonder dat hulle werklik gemis sou word. As hulle nie daar was nie, sou ons waarskynlik nie gedink het hulle moet daar wees nie. Verder sou die oorkoepelende argument ook nie werklik verander nie. ‘n Mens sou ook kon redeneer dat die feit dat die meeste van die verwysings na die toekoms in die laaste, paranetiese, gedeelte van die brief voorkom, ‘n aanduiding is dat dié aspek vir Paulus van minder belang is. Natuurlik kon hy sy argument in die brief op ‘n ander manier gestruktureer het. Die onderliggende gedagtegang wat ten opsigte van sy verwysing na die finale oordeel in enkele gevalle in die brief geïdentifiseer is, naamlik dat ‘n mens se reaksie op die evangelie jou ewige bestemming bepaal, kon as die primêre argument in die brief gedien het. Dit sou egter onvermydelik tot gevolg gehad het dat Christus se koms na die wêreld in die volheid van die tyd nie meer die sleutelargument kon wees nie. Dit sou ook maklik tot gevolg kon hê dat die fokus van die genade in Christus na die verantwoordelikheid van die gelowiges sou verskuif. Die feit dat die toekoms so min aandag in die brief kry verteenwoordig dus ‘n grond-oortuiging, ‘n teologiese keuse vir dit wat God reeds in Christus gedoen het.

Kan ons hieruit aflei dat die toekoms vir Paulus onbelangrik is? Na my mening sou dit ‘n verkeerde afleiding wees omdat dit op ‘n verkeerde vertrekpunt gebaseer is. As ‘n mens bloot die aantal verwysings na die toekoms in die brief sou tel, kon ‘n mens dalk dink dat die saak daarmee afgehandel is. Daarmee slaan ‘n mens egter die (teologiese) bal heeltemal mis! Teologies gesproke impliseer die aard van die volheid van die tyd dat daar nog iets in die toekoms móét gebeur. In die ondersoek van die uitbeelding van tyd in Galasiërs het die “donker kant” van die volheid van die tyd duidelik na vore gekom, naamlik die oorvleueling van die twee bedelings. Hierdie situasie skep ‘n teologiese spanning, meer presies gestel ‘n eskatologiese spanning, wat maak dat gelowiges nie anders kan as om vorentoe te kyk nie, na dié dag wanneer die oorvleueling van die bedelings tot ‘n einde kom en die spanning ontlont word. Om bloot die aantal verwysings na die toekoms te gaan tel, maak dat ‘n mens hierdie aspek miskyk. Dit is veel beter om die eskatologiese spanning wat op verskeie maniere in die brief verwoord word, as vertrekpunt te neem, veral die spanning tussen die Gees en die vlees. As ‘n mens besef hoe belangrik hierdie spanning is, sal die enkele verwysings na die toekoms hulle regmatige plek binne die teologie van die brief inneem. Hulle is teologies onlosmaaklik deel wat die werklikheid wat met die volheid van die tyd aangebreek het. Nie net reflekteer dié enkele verwysings die eskatologiese spanning waarbinne gelowiges sedert Christus se koms leef nie; hulle reflekteer oor die dringende verlange na dié dag wanneer die spanning deurbreek sal word. Een van dié verwysings kry dan die ereplek, naamlik 5:5: hJmei`” ga;r pneuvmati ejk pivstew ejlpivda dikaiosuvnh ajpekdecovmeqa. Dié vers kry die ereplek, nie net omdat hierdie kort uitspraak so ‘n treffende samevatting van sentrale idees in die brief is nie, maar omdat dit die vertroue waarmee gelowiges vorentoe kyk na dié dag wanneer die spanning deurbreek word, so treffend verwoord – ‘n vertroue wat slegs sin maak vir die wat gesnap het wat reeds in die volheid van die tyd gebeur het, en wat daarom in staat is om met hoop in die volheid van die tyd te leef!

BIBLIOGRAFIE

Arzt, P 1992. Bedrohtes Christsein. Zu Eigenart und Funktion eschatologisch bedrohlicher Propositionen in den echten Paulusbriefen. Frankfurt: Lang. BET 26.

Bauer, W, Arndt W F, Gingrich F W & Danker F W 2000. A Greek-English lexicon of the New Testament and other early Christian literature. Chicago – London: University of Chicago Press. (Afgekort as BDAG.)

Becker, J 1981. Der Brief an die Galater. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht. NTD 8.

Beker, J C 1990. The triumph of God. The essence of Paul’s thought. Minneapolis: Fortress.

Betz, H D 1979. Galatians. A commentary on Paul’s Letter to the Galatians. Philadelphia: Fortress. Hermeneia.

Bruce, F F 1982. The Epistle to Galatians. A commentary on the Greek text. Exeter: Paternoster Press. NIGTC.

Burton, E de W 1962. A critical and exegetical commentary on the Epistle of the Galatians. Edinburgh: T & T Clark. ICC.

Cullmann, O 1962. Christus und die Zeit. Die urchristliche Zeit- und Geschichtsauffassung. Zürich: EVZ.

Delling, G 1959. plhvrwma. TWNT 6:297-309.

Dunn, J D G 1995. The Epistle to the Galatians. Peabody: Hendrickson. Black’s New Testament Commentaries.

Dunn, J D G 1998. The theology of Paul the apostle. Edinburgh: T & T Clark.

Eckstein, H-J 1996. Verheißung und Gesetz. Eine exegetische Untersuchung zu Galater 2,15–4,7. Tübingen: J

C B Mohr. WUNT 86.

Gaventa, B R 1990. The maternity of Paul: An exegetical study of Galatians 4:19. In: R.T. Fortna & B.R. Gaventa (eds.), The conversation continues. Studies in Paul & John. In honor of J. Louis Martyn (Nashville: Abingdon), pp. 189-201.

Hahn, F 1963. Christologische Hoheitstitel. Ihre Geschichte im frühen Christentum. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht. FRLANT 83.

Harnisch, W 1987. Einübung des neuen Seins. Paulinische Paränese am Beispiel des Galaterbriefs. ZThK 84:279-296.

Hartman, L 1993. Galatians 3:15–4:11 as part of a theological argument on a practical issue. In: J. Lambrecht (ed.), The truth of the Gospel (Galatians 1:1–4:11) (Rome: Benedictina, BSMES 12), pp. 127–158.

Hays, R B 1989. Echoes of Scripture in the Letters of Paul. New Haven: Yale University Press.

Hubbard, M V 2002. New Creation in Paul’s letters and thoughts. Cambridge: Cambridge University Press. SNTS.MS 119.

Jeremias, J 1954. Paul and James. ET 66:368-371.

Käsemann, E 1970. Exegetische Versuche und Besinnungen. Zweiter Band. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Kuck, D W 1994. ‘Each will bear his own burden.’ Paul’s creative use of an apocalyptic motif. NTS 40:289-297.

Kwon, Y-G 2004. Eschatology in Galatians. Rethinking Paul’s response to the crisis in Galatia. Tübingen: Mohr Siebeck. WUNT 183.

Lincoln, A T 1981. Paradise now and not yet. Studies in the role of the heavenly dimension in Paul’s thought with special reference to his eschatology. Cambridge: Cambridge University Press. SNTS.MS 43.

Longenecker, R N 1990. Galatians. Dallas: Word Books. Word 41.

Louw, J P & Nida E A 1988. Greek-English lexicon of the New Testament based on semantic domains. Volume 1. Introduction and domains. New York: United Bible Societies.

Lührmann, D 1988. Der Brief an die Galater. Zürich: Theologischer Verlag. ZBK.

Martyn, J L 1997. Galatians. A new translation with introduction and commentary. New York – London – Toronto – Sydney – Auckland: Doubleday. Anchor Bible 33A.

Mussner, F 1977. Der Galaterbrief. Freiburg – Basel – Wien: Herder. HThK 9.

Schlier, H 1971. Der Brief an die Galater. Berlin: Evangelische Verlag. KEK 17.

Schweizer, E 1988. Slaves of the elements and worshipers of angels: Gal 4:3, 9 and Col 2:8, 18, 20. JBL 107:455-468.

Silva, M 1996. Explorations in exegetical method. Galatians as a test case. Grand Rapids: Baker.

Stuhlmacher, P 1997. Biblische Theologie des Neuen Testaments. Band 1. Grundlegung. Von Jesu zu Paulus. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Synofzik, E 1977. Die Gerichts- und Vergeltungsaussagen bei Paulus. Eine traditionsgeschichtliche Untersuchung. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht. GTA 8.

Tolmie, D F 2005. Persuading the Galatians. A text-centred rhetorical analysis of a Pauline letter. Tübingen: Mohr-Siebeck. WUNT 190.

Vouga, F 1998. An die Galater. Tübingen: Mohr–Siebeck. HNT 10.

Witherington, B 1998. Grace in Galatia. A commentary on St Paul’s Letter to the Galatians. Edinburgh: T & T Clark.

Woschitz, K M 1979. Elpis. Hoffnung. Geschichte, Philosophie, Exegese, Theologie eines Schlüsselbegriffes. Wien – Freiburg – Basel: Herder.

Wright, N T 2005. Paul. In fresh perspective. Minneapolis: Fortress.

TREFWOORDE

Pauliniese literatuur, Brief aan die Galasiërs, Tyd, Eskatologie, Gal 4:4: Volheid van die tyd

KEY WORDS

Pauline literature, Letter to the Galatians, Time, Eschatology, Gal. 4:4: Fullness of time

KONTAKBESONDERHEDE:

Prof DF Tolmie Fakulteit Teologie

Universiteit van die Vrystaat

Posbus 339

BLOEMFONTEIN 933

E-pos: tolmief.HUM@ufs.ac.za

1 Verwerkte weergawe van ‘n referaat gelewer by die International Colloquium on the New Testament (Universiteit van Pretoria) op 21 Augustus 2007.

2 Beker (1990:19-20) bedoel nie daarmee dat Paulus van die Joodse apokaliptiek as genre gebruik gemaak het of dat hy van Joodse apokaliptiese bronne gebruik gemaak het nie, maar wel dat ‘n mens belangrike Joodse apokaliptiese motiewe in Paulus se denke kan aantoon, naamlik dat God getrou is en uiteindelik sorg dat geregtigheid geskied, asook die klem op universalisme, dualisme en die nabyheid van die eindgebeure.

3 Die woord στοιχεîα is destyds gewoonlik gebruik om te verwys na die basiese elemente waaruit mense gedink het die wêreld saamgestel is (vuur, water, grond en lug). Kyk byvoorbeeld Schweizer (1988:455-468). Paulus gebruik dit egter in Galasiërs op ‘n figuulike manier.

4 ὑπο en die akkusatief word gebruik om die situasie te beskryf as “[u]nter der Gewalt und Herrschaft des Gesetzes” (Eckstein 1996:214).

5 Dit word deur τα πάντα geïmpliseer. Kyk Longenecker (1990:144).

6 Die uitdrukking ὃσοι ἐξ ἔργων νόμου εἰσίν verwys na “die Menschen, die das Prinzip ihrer Existenz in den Gebotserfüllungen haben” (Schlier 1971:132).

7 Daar is sommige eksegete, byvoorbeeld Burton (1962:164) en Martyn (1997:321) wat ‘n onderskeid tref tussen die vloek van die wet en die vloek van God, asof die vloek van die wet nie ook die vloek van God sou wees nie, maar dit is myns insiens nie korrek nie. Kyk Becker (1981:38).

8 Die partisipium πïδουσα moet kousaal verstaan word. Kyk Burton (1962:160).

9 Ek interpreteer die uitdrukking ἐκ πίστεως’ Ιησου Χρισου as geloof in Jesus Christus. Vir volle besonder-hede, kyk Tolmie (2005:90).

10 oJ taravsswn moet as ‘n generiese enkelvoud verstaan word. Kyk Mussner (1977:358) en Becker (1981:79).

11 Kyk byvoorbeeld Mussner (1977:401), Synofzik (1977:44), Bruce (1982:263), Betz (1979:267), Longeneck-er (1990:232), Arzt (1992:181) en Vouga (1998:148.)

12 Louw en Nida (1988:§25.59, 64) plaas beide woorde in dieselfde semantiese domein, naamlik “Attitudes and emotions”, en ook in dieselfde semantiese sub-domein, naamlik “Hope, look forward to”. Volgens hulle word hierdie sub-domein deur die volgende drie eienskappe gekenmerk: “[A] future orientation, a desire and a benefi” (Louw & Nida 1988:296, vn. 8). ἐλπίς word verduidelik as “to look forward with confidene to that which is good and beneficia” en ajpekdevcomai as “to wait eagerly or expectantly for some future event”.