Van Coller, H
Rhodes Universiteit

Die regspersoonlikheid van kerke: ‘n Juridiese perspektief

ABSTRACT

The legal personality of churches: a Legal perspective

The powers of religious bodies largely depend on whether they are entrusted with legal personality or not. If a church has been entrusted with legal personality, it has the capacity to acquire rights or incur liabilities; it can own property, enter into legal transactions or sue and be sued in its own name. The nature of the association, together with its constitution and objects, determine whether an association possesses legal personality or not. From a legal point of view, it is clear that the church is viewed a legal person, constituted on its own internal rules. The courts have however not been consistent in their application and views on recognizing and defining the legal personality of churches. It seems clear however that churches are seen by the law as associations with legal personality, which are the lawful owners of their assets, property and funds and that legal personality can also vest in the different constitutent congregations, circuits or synods.

ABSTRAK

Die bevoegdhede van religieuse liggame hang grootliks saam met die feit of hulle oor regspersoonlikheid beskik, al dan nie. Indien ‘n spesifieke kerk met regspersoonlikheid beklee is, beskik dit oor verskillende regte en verpligtinge en kan onder meer eiendom besit, deelneem aan regshandelinge en dagvaar en gedagvaar word in eie naam. Die aard van die vereniging, te same met die konstitusie en doel van die betrokke vereniging, bepaal dus of dit wel ‘n regspersoon is, al dan nie. Vanuit ‘n juridiese oogpunt gesien, staan dit vas dat die kerk ‘n regspersoon is met ‘n eie interne reg, maar die howe het geensins ‘n konsekwente benadering gevolg ten opsigte van die omskrywing en erkenning van die regspersoonlikheid van kerke nie. Dit blyk egter duidelik dat kerke wel gesien word as verenigings met regspersoonlikheid, wat die wettige eienaar van sy goedere, eiendomme en fondse is en dat regspersoonlikheid in die kerk as instelling in die algemeen kan vestig, of in die verskillende organe, soos gemeentes, ringe en sinodes.

1. INLEIDING

Net soos ander entiteite, is die kerk ook gegrond op sy eie interne reëls en regulasies. Volgens Appèlregter Jansen, in die toonaangewende saak van Theron v Ring van Wellington van die NG Sendingkerk in SA,1 is die geldigheid en effek van sodanige reëls en regulasies nie afhanklik van die regspersoonlikheid van die betrokke liggaam nie, en vind toepassing op gelyke grond binne die religieuse liggaam, ongeag of die liggaam oor regspersoonlikheid beskik al dan nie. Hierdie bespreking sal fokus op die uitgangspunt dat die bevoegdhede van kerke en ander religieuse liggame egter grootliks saamhang met die feit of hulle oor regspersoonlikheid beskik al dan nie. Indien ‘n spesifieke kerk met regspersoonlikheid beklee is, beskik dit oor verskillende regte en verpligtinge en kan onder meer eiendom besit, deelneem aan regshandelinge en dagvaar en gedagvaar word in eie naam.

Hierdie bespreking sal fokus op bogenoemde regte en verpligtinge deur eerstens ‘n uiteensetting te gee van die verskillende kategorieë regspersone en die verdere erkenning en benadering van die howe ten aansien van die kerk as regspersoon. Ter afsluiting sal die bespreking kortliks fokus op die posisie van die kerkraad, ring en sinode as afsonderlike regspersone en draers van sekere regte en verpligtinge.

2. DIE VEREISTES EN BEPALINGS VAN REGSPERSOONLIKHEID

Regspersone kan gesien word as assosiasies van persone, oftewel sosiale entiteite, wat onafhanklike bestaansreg het binne die reg. Sodanige regspersoon bestaan apart van sy lede en is in eie reg die draer van regte, kompetensies en regsverpligtinge (Davel & Jordaan 1994:3). Die regspersoon het verder die vermoë om eiendom te besit en om as eiser of verweerder in enige regsaksie op te tree. Op grond van sekere formaliteite wat nagekom moet word, word hoofsaaklik tussen drie kategorieë van regspersone onderskei. In die eerste geval kan ‘n regspersoon ontstaan deur middel van toestemming vanaf owerheidsweë wat hoofsaaklik in wetgewing vervat is (Van der Vyver 2003:151). Hier word spesifiek gedink aan universiteite, soos die Universiteit van Pretoria2 of instansies soos Eskom3 en Yskor.4

In die geval van verskeie kerkverbande word daar op dieselfde statutêre wyse bepaal dat die kerk ‘n regspersoon is. So word gesien dat die Apostoliese Geloofsending Van Suid- Afrika in terme van artikel 3 van die Private Wet op die Apostoliese Geloof Sending van Suid- Afrika 24 van 1961, soos gewysig deur Wet 4 van 1970, as regspersoon omskryf word:

Die kerk is ‘n regspersoon met ewigdurende regsopvolging, bevoeg om in sy eie naam as eiser en verweerder in regte op te tree en om afsonderlik van sy lede regte te verkry en verpligtings aan te gaan.

Hierdie bepaling word ook gevind in artikel 3 van die Private Wet op die Metodiste Kerk van Suider-Afrika 111 van 1978, waar die Metodiste kerk as volg omskryf word:

Die Kerk soos oorspronklik ingestel en saamgestel ingevolge die wette in die aanhef hierby genoem, bly, ondanks die herroeping van gemelde wette, voortbestaan onder die naam “Die Metodiste Kerk van Suider-Afrika”, en is ‘n regspersoon met ewigdurende regsopvolging .[my kursivering]

Die Kerk kan as eiser en as verweerder in regte optree en kan sowel los- as vasgoed verkry, besit en vervreem, en kan alle ander handelinge verrig en dinge doen wat regspersone regtens kan verrig en doen, behoudens die bepalings van hierdie Wet op enige ander wetsbepaling.

In die tweede geval kan ‘n regspersoon tot stand kom deur te registreer in terme van parlementêre wetgewing, soos die Maatskappyewet 61 van 1973. Volgens Pienaar (2003:462), verwys beide bogenoemde gevalle na die tipe vereniging wat geklassifiseer word as ‘n statutêre vereniging. Hierdie statutêre verenigings sluit instansies in soos onder andere banke, bouverenigings, sekere professionele verenigings en verenigings sonder winsoogmerk, soos byvoorbeeld verenigings ingelyf in terme van artikel 21 van die Maatskappywet 61 van 1973.

As daar na ‘n kerklike organisasie gekyk word, kan die Christelike Seemansorganisasie as voorbeeld dien. Hierdie organisasie het begin as ‘n interkerklike organisasie. Sedert 1978 staan hierdie organisasie bekend as die Christelike Seemansorganisasie en is ‘n voorbeeld van

‘n organisasie sonder winsoogmerk, wat ingevolge die bepalings van die Wet op Organisasies sonder Winsoogmerk 71 van 1997 geregistreer is. Die Grondwet van hierdie organisasie maak dit ook duidelik dat die organisasie beklee is met regspersoonlikheid, met verwysing na artikel 2:

2. Regspersoonlikheid en regsaanspreeklikheid

2.1 Die CSO is ‘n (fiktiewe) regspersoon, staan apart van sy lede en ampsdraers, met die vermoë om regte te bekom en om as eiser of verweerder in enige regsaksies op te tree.

2.2. Die voortbestaan van die CSO as regspersoon word nie geaffekteer deur ‘n verandering in sy lidmaatskap of ampsdraers nie.

2.3 Lede en werknemers van die CSO het geen regte in die eiendom of enige bates van die organisasie, uit hoofde van die feit dat hulle lede of werknemers van die CSO is nie.

‘n Derde moontlikheid, wat dan veral van belang is tot hierdie bespreking, is die verkryging van regspersoonlikheid deurdat daar aan die gemeenregtelike vereistes vir die totstandkoming van regspersone voldoen is. In geval van laasgenoemde, het dit betrekking op die gemeenregtelike regspersoon, oftewel universitas. Op hierdie punt tref Pienaar (2003:462) verder onderskeid tussen sodanige gemeenregtelike regspersone as verenigings wat korporatiewe liggame is in terme van die Gemenereg (universitas) en oningelyfde verenigings. Hoewel ‘n universitas nie ingelyf is deur middel van wetgewing of deur registrasie nie, bly dit ‘n korporatiewe liggaam en kan daar nie na verwys word as ‘n oningelyfde vereniging nie (Pienaar 2003:462). Volgens die hof in Shillings CC v Cronje,5 verwys “oningelyf ” na “an association which does not have legal persona separate from its constituent”.

Wat die gemeenregtelike regspersoon betref, word daar gevolglik na die aard van die vereniging te same met die konstitusie en doel van die betrokke vereniging gekyk om te bepaal of dit dus wel ‘n gemeenregtelike regspersoon is, al dan nie. Dit is deur die hof as volg uitgedruk:

An association of individuals does not always require the special sanction of the State in order to hold property and to sue in its separate name in South Africa. In order to determine whether an association of individuals is a corporate body, which can sue in its own name, the court has to consider the nature and the objects of the association as well as the constitution, and if these show that it possesses the characteristics of a corporation or universitas, then it can sue in its own name.6

Dus is ‘n blote verwysing na die onderskeie organe as regspersone in die kerkorde of konstitusie voldoende vir die entiteit om met regspersoonlikheid beklee te word (Van der Vyver 2003:150). Die howe het egter geensins ‘n konsekwente benadering gevolg ten aansien van die erkenning van die regspersoonlikheid van verskeie kerke en religieuse liggame nie, en dit is dus noodsaaklik om verdere ondersoek in te stel na die benadering van die howe ten aansien van die kerk as regspersoon.

3. DIE HOWE SE BENADERING TEN AANSIEN VAN DIE KERK AS REGSPERSOON

3.1 Die regsaard van die kerk en ander religieuse liggame

So vroeg as 1908, in die saak van Cassim v Molife7 is aangevoer dat “… being a religious body, the authorities are unanimous that it is ipso jure a universitas”. Dit blyk egter duidelik uit vroeëre en latere beslissings deur die hof, dat hierdie siening nie konsekwent of selfs eenvormig toegepas is nie. Howe is ook geensins eenvormig ten aansien van die regsimplikasies en eienskappe van sodanige regspersoon nie.

In dieselfde jaar, in die saak van Webb & Co Ltd v Northern Rifles,8 beskryf die hof ‘n universitas as:

An universitas personarum in Roman-Dutch law is a legal fiction, an aggregation of individuals forming a persona or entity, having the capacity of acquiring rights and incurring obligations to a great extend as a human being.

‘n Onderskeid word verder getref tussen sodanige universitas en ‘n blote vereniging van persone, deurdat ‘n universitas ‘n entiteit is, apart van die lede wat dit vorm en gevolglik besit dit die bevoegdheid om regte te verkry en verpligtinge aan te gaan wat apart bestaan van dit van die lede en wat aangegaan word namens die liggaam as geheel en nie ten gunste van die individue nie9. Verder word gesien dat onder invloed van die Engelse reg, die Nederduits Gereformeerde Kerk in wetgewing van die Britse koloniale regerings ook verder beskou is as ‘n “vrywillige vereniging”. In die 1922 - saak van Bredell v Pienaar and others10, word die Nederduits Gereformeerde Kerk deur Regter Watermeyer omskryf as ‘n vrywillige vereniging, uit hoofde van par. 8 van die Ordonansie,11 en gevolglik moet die reëls en regulasies van die kerk gesien word as synde dié van ’n vrywillige vereniging (Van der Vyver 2003:150-151).

Geldenhuys (1951:341) is van mening dat die kenmerke van sodanige vereniging is dat lede kontraktueel verbonde naas en teenoor mekaar staan en dat regte en verpligtinge van die lede onderling bepaal word deur die akte van oprigting, of die ooreenkoms waardeur die vereniging in die lewe geroep word. Die vereniging bestaan voort, ongeag die wisseling van lede en goedere en besittings van die vereniging kom die lede toe en behoort aan hulle. Hierdie siening word by herhaling deur die Suid-Afrikaanse regspraak bevestig, veral as gekyk word na beslissings soos Jockey Club of South Africa12 en Theron v Ring van Wellington.13 In laasgenoemde bevestig die hof dat kerke nog altyd in ons regspraak op dieselfde grondslag as vrywillige verenigings behandel is en baseer sy beslissing op ‘n 1843 Ordinansie, waar die NK Kerk in Suid-Afrika se reëls en regulasies:

…shall be regarded in law in like manner as the rules and regulations of a merely voluntary association, and shall be capable of affecting the persons or properties of such persons only as shall be found in the course of any action or suit before any competent Court to have subscribed, agreed to, adopted or recognised the said rules and regulations or some of them in such manner as to be bound thereby in virtue of the ordinary legal principles applicable to cases of express or implied contract [my kursivering].

Van der Merwe (1999:14), is egter van mening dat om die kontrakteregbeginsels op die kerk van toepassing te maak, gesien word as ’n totale miskenning van die soewereiniteit en wil van God. Die siening dat die kerk ‘n vereniging is, tas ook die wese van die kerkregeringstelsel aan. Volgens hom is dit duidelik dat die kerk nie as ’n vereniging behandel kan word nie en dat die beginsels van die verenigingsreg en/of kontraktereg nie daarop van toepassing gemaak kan word nie. Daar is ook geen sprake van “vrywillige” vereniging nie, want as God die mens roep en hy die Here na harte aanneem, is hy verplig om hom by die kerk aan te sluit en is daar geen sprake van vrywilligheid nie (Van der Merwe 1999:16).

Of hierdie kritiek van Van der Merwe regverdig is al dan nie, verander niks aan die wyse waarop die howe die kerk beskou nie, en op grond van die howe se siening dat die kerk ‘n vrywillige vereniging met regspersoonlikheid is, voer D’Oliveira (1976:212) aan dat die kerk oor dieselfde kam geskeer moet word as ander vrywillige verenigings, soos bv. jokkieklubs en sportliggame. Pienaar (1991:401) vind aansluiting by Van der Merwe in soverre dit die kwessie van die kontraktuele aard van die kerk se reëls en regulasies betref. Hy steun op vroeëre regspraak, waar die howe aansluiting gesoek het by die Romeins-Hollandse reg ten aansien van die regsposisie van verenigings. Hieruit blyk dit dat die howe duidelik onderskei tussen ‘n verenigingsregspersoon as universitas en ‘n kontraktuele vennootskap as societas.14

Een van die belangrikste eienskappe van ‘n universitas, is die reg om eiendom te verkry en te besit. Hierdie reg bly bestaan ongeag die wisseling van lede, solank as wat daar ten minste een lid bestaan in wie hierdie regte van die universitas kan vestig. Hierna word ook verwys as ewigdurende erfopvolgingsreg15. Hierdie eienskappe van ‘n universitas of verenigingsregspersoon vind gestalte in wat na verwys word as die interne verbandsreg van die betrokke universitas, terwyl die societas op kontrak berus. (Pienaar 1991:402).

Wanneer daar dan weer na die Theron-beslissing16 gekyk word, blyk Pienaar (1991:403) korrek te wees in sy siening dat die beslissing voortspruit uit ‘n verkeerdelike interpretasie van die Jockey Club-beslissing,17 waar die uitgangspunt was dat die reëls en regulasies van verenigings met of sonder regspersoonlikheid op kontrak berus. Dit sou dus ‘n verkeerde siening wees om die kerkorde van kerke as kontraktueel van aard te klassifiseer.

Daar moet egter in ag geneem word dat die posisie in Engeland grootliks die beslissings en koloniale wetgewing ten opsigte van die regstatus van kerke in Suid-Afrika beïnvloed het. Die Church of England in Suid-Afrika word gevolglik beskryf as vrywillige verenigings, sonder regspersoonlikheid wat kontraktueel van aard is. Dit is dan ook in die lig van bogenoemde dat ‘n beslissing soos Theron geïnterpreteer moet word, waar grootliks gesteun is op ‘n Ordonansie van 1843, wat grootliks gebaseer is op die Engelse denkrigting. As mens egter na die Romeins-Hollandse interpretasie van die kerk as regspersoon gaan kyk, blyk dit duidelik dat die kerk wel ‘n regspersoon is en die eienaar van kerkeiendom kan wees. Die kerk word duidelik gesien as ‘n vereniging met regspersoonlikheid.

Wat die kontraktuele aard van die verhouding betref, sien ons egter dat die howe steeds in sy beslissings op hierdie verkeerde interpretasie steun en dit blyk duidelik uit die 1998 uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl in die saak van die Nederduits Gereformeerde kerk in Afrika (OVS); Nederduits Gereformeerde kerk in Afrika (Phororo) v Verenigde Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika18, waar die hof hom as volg uitlaat:

Eerstens wys ek daarop dat ons howe al meermale beslis het dat die NG Kerke vrywillige of onderlinge verenigings is waarvan die lede kontraktueel gebind word deur die betrokke kerkordes.

3.2 Die ontwikkeling van regspersoonlikheid deur wetgewing en regspraak

Vanuit ‘n juridiese oogpunt gesien, staan dit vas dat die kerk ’n regspersoon is met ‘n eie interne reg. Dit was egter nie altyd die siening van die Suid-Afrikaanse howe nie. In die Verenigde Koninkryk word kerke nie as korporatiewe liggame met regspersoonlikheid beskou nie en kerkeiendom vestig in eienaarskap in ‘n statutêre liggaam. Die posisie in Engeland het grootliks die beslissings en koloniale wetgewing ten opsigte van die regstatus van kerke in Suid-Afrika beïnvloed.

Dit was dan ook aanvanklik die praktyk binne die Nederduits Gereformeerde Kerk, soos gesien kan word in die saak van Rescue Committee Dutch Reformed Church v Mertheze19, waar die Kaapse Provinsiale Afdeling die Nederduits Gereformeerde Sending Kerk nie as ‘n regspersoon erken het nie en bepaal het dat “such an association [unincorporated association] is not regarded as having any legal personality”.20 Die howe het dit ook toegepas ten aansien van ander denominasies soos die African Mission Society, waar die hof in Cassim v Molife21 beslis het dat “I am not satisfied that the society thus formed was a universitas. There is nothing to show that it was intended that the society should hold property apart from its members”.22

Ons sien egter die erkenning van die regspersoonlikheid van die kerk en sy onderskeie organe in verskeie vroeëre beslissings. Ten aansien van die Gereformeerde Kerk, beslis die hof in 1879 as volg:

Met die oog op de hierboven aangehaalde autoriteiten [Voet] heb ik geenen twijfel dan dat the Gereformeerde Kerk van Bethulie een geldelijke lichaam is, of eene corporatie; en dat zoodanige corporatie gene uitdrukkelijke outorisatie nodig heft. Naar mijn oordeel dus is de kerk van Bethulie eene corporatie, en as zulks kunnen de goedere dier corporatie niet aan aan de leden, door wien zijn bijdragen sijn, trug worden gegeven.23

In 1893 is die Nederduits Hervormde Kerk ook as ‘n regspersoon beskou in die saak van The Nederduitsche Hervormde Church v The Nederduitsche Hervormde of Gereformeerde Church.24 Die hof het ook erkenning gegee aan die Joodse Gemeente van Johannesburg25 as regspersoon.

‘n Keerpunt in die howe se opvatting ten aansien van regspersoonlikheid van

kerke kan waarskynlik saamgevat word in die obiter dictum van Regter Brink in De Vos v Die Ringskommisie van die Ring van die NG Kerk Bloemfontein,26 waar hy sê dat “veel aangevoerkan word ten gunste van die stelling dat die NG Kerk wel ‘n regspersoon is”. Daaropvolgende wetgewing,27 hoewel in die aanhef, het voortgegaan uit hoofde van die veronderstelling dat die Nederduits Gereformeerde Kerk wel ‘n outonome regspersoon is (Van der Vyver, 2003:150).

‘n Verdere duidelike voorbeeld van die hof se benadering kan gesien word in die 1968-saak van die Gemeente van die Apostoliese Kerk,28 waar die hof uitdruklik die gemeente van die Johanneburgse Apostoliese Kerk as ‘n universitas personarum verklaar het, wat bevoeg is om eiendom te verkry en te besit in sy eie naam en apart van sy lede. Die hof bevestig ook die posisie ten aansien van die kerk as gemeenregtelike regspersoon in die volgende woorde:

It is not necessary that an association should be created by statute or registered in terms of a statute to possess the attributes of a juristic person. It can derive that quality from the common law, and the answer as to whether it does possess the haracteristics of a juristic person which exists apart from its members must always be sought in the rules or constitution. These will show the nature and objects of the association. If it has perpetual succession, that is to say if the association continues to exist although the members may change from day to day and the governing body may change from time to time, and if the constitution provides that it may own property apart from its members, then it will be a universitas.29

In ‘n onlangse uitspraak deur die Hoogste Hof van Appèl in die saak tussen die Nederduits Gereformeerde Kerk in Afrika en die Verenigde Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika,30 is bevestig dat die howe tot dusver gemeentes van verskillende denominasies konsekwent as regspersone beskou het; gevolglik dat die plaaslike gemeentes van die NG Kerk in Afrika ook as regspersoon gesien word, wat dus die wettige eienaar van sy goedere, eiendomme en fondse is.

Meer onlangs het die howe dit ook toegepas in die saak van die Pinkster Protestante Kerk te Springs,31 ‘n vrywillige vereniging wat tot stand gekom het op 3 Maart 1999, toe vier Pinkster Protestante Kerke (PPK), een vir blankes, een vir swartes, een vir kleurlinge en een vir Indiërs saamgesmelt het en ‘n konstitusie vir die verenigde kerk aangeneem het. Die konstitusie wat so aangeneem is, het woordeliks ooreengestem met die konstitusie van die blanke PPK soos dit op daardie stadium gelees het. Die Springs gemeente van die blanke PPK het voortbestaan as ‘n gemeente van die PPK. Ingevolge die konstitusie van die PPK kon ‘n selfstandige gemeente soos die Springs gemeente eiendom apart van sy lede verkry en hou en onafhanklik van die wisseling van sy lede voortbestaan. Die Springs gemeente was dus ‘n regspersoon.32

Die howe het ook geen probleem gehad om die volgende religieuse liggame as regspersone te erken nie: die Apostoliese Geloofsending; die Bantoe Metodiste Kerk en die African Congregation Church (Van der Vyver 2003:150). Met betrekking tot die Apostoliese Geloofsending, verklaar die hof as volg:

With regard to the first point I have come to the conclusion that the respondent [St John Apostolic Faith Mission] is a legal persona. The tests have been laid down on numerous occasions and there is no need for me to do more than refer to the cases of Webb and Co v Northern Rifles , 1908 T.S. 462, and Morrison v Standard Building Society , 1932 AD 229. The essentials are the holding of roperty apart from the individual members and the possession of perpetual succession. As far as that is concerned it appears to me that the respondent does comply with these requirements.33

Ten aansien van die Bantoe Metodiste Kerk (soos dit toe bekend gestaan het), het die hof sy uitspraak gebaseer op die volgend bepalings van die kerk se konstitusie, naamlik artikel 189, wat bepaal het:

(i) That all movable and immovable property presently owned by the church and held for and on its behalf and all movable and immovable property hereafter acquired by the church shall be transferred into the names of the president and three trustees.

En verder, artikel194, wat bepaal het dat:

The church may sue or be sued in its own name and the authority to institute or defend any legal proceedings, including arbitration F proceedings, shall be signed and executed on its behalf by the president for the time being referred to in clause 189 hereof.

Die hof bevestig gevolglik dat die belangrikste eienskap van ‘n universitas “are the capacity to acquire certain rights as apart from the rights of the individuals forming it, and perpetual succession”.34 Die hof, by monde van Kuper R, bevind dan as volg:

It is quite clear from the provisions of the constitution relating to membership and to expulsion which it is not necessary to set out in full, that the church goes on even although the existing members leave it. I have come to the conclusion that this is a religious body which the individuals created, a body corporate to hold property and that the body continues even if all the members at the present time leave it.35

Die hof verklaar dan ook onomwonde in Jamile v African Congrecational Church36, dat “The respondent Church is a body corporate which, in terms of its constitution, may be sued in any competent court of law in its own name”.37

Uit voorafgaande bespreking blyk dit dus duidelik dat die howe, veral in later beslissings, die kerk en ander religieuse liggame as regspersone erken. Hierdie erkenning vind ook uiting in verskeie wetgewende en kerkordelike bepalings van verskillende kerke. Die verwysing verder na die kerk as vrywillige vereniging, verwys na die kerk as ‘n vereniging met regspersoonlikheid, wat dus die wettige eienaar van sy goedere, eiendomme en fondse is en onafhanklike bestaansreg het in die reg. Die bevoegdhede van ‘n kerklike instelling, spesifiek, moet gevolglik bepaal word in die lig van die reëls en regulasies vervat in die betrokke instelling se konstitusie of statuut, maar ook in die lig van die reg van toepassing op vrywillige verenigings in die algemeen.

Die vraag wat nou tereg gevra kan word, is of die verskillende organe, soos gemeentes, ringe en sinodes ook as aparte regspersone en as die draers van regte en verpligtinge funksioneer. Die volgende bespreking sal kortliks fokus op die regsposisie van die verskillende organe van die kerk.

4. DIE KERKRAAD, RING EN SINODE AS REGSPERSONE?

Wat die regspersoonlikheid van die onderskeie organe binne die NG Kerk betref, bepaal die NG Kerkorde uitdruklik in artikel 3.1 dat “elke gemeente is ‘n regspersoon en die kerkraad of sy gemagtigdes is sy orgaan” [my kursivering]. Verder bepaal artikel 4.1 dat “die NG kerk in ringsverband is ‘n regspersoon” [my kursivering] en artikel 9.11 dat “die NG kerk in sy Algemene Sinode verband is ‘n regspersoon [my kursivering].

Uit Artikel 3.1 blyk dit duidelik dat elke gemeente ‘n regspersoon is en verder dat die kerkraad slegs optree as ‘n orgaan of gevolmagtigde namens die gemeente en nie oor eie regspersoonlikheid beskik nie. Volgens Pienaar (1991:307.) staan dit dus vas dat “die kerkraad nooit as afsonderlike regspersoon aan die regsverkeer kan deelneem nie, maar hoogstens as bestuursorgaan namens ‘n plaaslike kerk of gemeente.” Regspersoonlikheid setel dus in die kerk in sy onderskeie rings- of sinodale verband, en nie in die afsonderlike ring of sinode as kerkvergaderinge nie (Sadler 1979:46). Waar ‘n kerkraad of selfs ‘n ringskommissie dan as gedingsparty gesiteer word, moet in ag geneem word dat sodanige kerkraad en kommissie slegs ‘n orgaan van die betrokke regspersoon (hetsy gemeente, ring of sinode) is en nie ‘n selfstandige regspersoon nie. Gevolglik kan hulle slegs in verteenwoordigende hoedanigheid optree. Die regspersoonlikheid setel dus nie in die orgaan nie, maar in die regspersoon self. Die verwarring van die howe spreek egter duidelik uit ‘n beslissing soos Van Vuuren v Kerkraad van die Môrelig Gemeente van die NG Kerk in die OVS,38 waar dit wil voorkom of die kerkraad beskou word as ‘n liggaam met eie regspersoonlikheid en nie net bloot as ‘n orgaan nie, en waar die hof as volg opmerk:

…die kerkraad van die Betlehem-Môrelig Gemeente van die NG Kerk in die Oranje Vrystaat [is], ‘n liggaam wat met regsbevoegdheid beklee is ooreenkomstig die Kerkorde.39

Dit is egter duidelik dat dit nie die geval kan wees nie, en dat die kerkraad hoogstens in ‘n verteenwoordigende hoedanigheid kan optree namens die gemeente40. Artikel 6 van die Nederduitse Gereformeerde Kerken Verenigings Akte 23 van 1911 bepaal dat die liggaam of instansie waarin die kerkeiendom setel, die gedingsparty is in enige regsgeding wat verband hou met eiendom:

6. RECHTSGEDINGEN DOOR EN TEGEN PERSONEN BIJ WIE KERKELIK EIGENDOM BERUST.

Het zal wettig zijn voor de persoon of personen in wie, volgens de wetten, reglementen en regulaties van enige van de gezegde zich verenigende kerken alsdan respektievelik het eigendomsrecht of de administratie van gebouwen, landen, fondsen, gelden, goederen of effekten, aan de ene of andere gemeente of Kerkeraad of aan de Synode of Algemene Vergadering behorende, respektievelik gevestigd zal zijn te dagvaarden of gedagvaard te worden in alle rechtsgedingen en processen betreffende enige zaak of aangelegenheid door enige zodanige beambte of beambten respektievelik bezeten of bestuurd, alsof dezelve zijn of hun privaat eigendom ware, en in enige kriminele zaak mag het eigendomsrecht van enige van de zaken of aangelegenheden voorzegd beschouwd worden gevestigd te zijn in de persoon of personen, die in enige civiele zaak of geding zou of zouden kunnen dagvaarden of gedagvaard worden met betrekking daartoe.

Pienaar (1991:304) voer aan dat dit ‘n moontlike rede is waarom daar soveel verwarring heers deur beslissings van die Suid-Afrikaanse howe en waarom die kerkraad dus dikwels as gedingparty beskou word. In ‘n onlangse voorlegging aan die Parlement,41 het die NG Kerk sy ondersteuning gegee aan die herroeping van bogenoemde wet, met die indien van ‘n nuwe herroepings-wetsontwerp.

Met die aanneem van die Private Wet op die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid- Afrika (Herroeping van Wette), 1961, is voorsiening gemaak vir onder ander die herroeping van Ordonnansie No. 7 van 1843, Ordonnansie No. 16 van 1845, Ordonnansie No. 2 van 1851, en Wet No. 9 van 1898 van die Kaap die Goeie Hoop. Terselfdertyd is Wet 23 van 1911 verwerp as grondslag vir kerkhereniging.

Pienaar (1991:305) voer verder aan dat Wet 23 nooit in werking gestel is nie en gevolglik nie op NG Kerke van toepassing is nie. Artikel 342 van die wet bepaal dat 75% meerderheidsbesluit van die kerkraad en sinode verkry moet word vir hierdie wet om toepassing te vind. Sodanige meerderheidsbesluit is nooit verkry nie en gevolglik vind die wet nie toepassing nie. Die Kerkorde van die NG Kerk 43 van 2004 maak egter die posisie van die registrasie van kerkeiendom duidelik. Reglement 9 handel met die reëling van eiendomme, goedere en fondse.

Met betrekking tot Algemene sinodale eiendomme, goedere en fondse, bepaal reglement 9.1.2 uitdruklik dat die Nederduits Gereformeerde Kerk die eienaar van alle roerende en onroerende bates is wat deur die Algemene Sinode beheer en verkry kan word. Vaste eiendom word in die naam van Die Nederduitse Gereformeerde Kerk geregistreer. Dit kan wel geadministreer word deur die Algemene Kommissie vir Fondse (AKF). Dieselfde geld vir eiendomme, goedere en fondse van die NG Kerk in sinodale- en ringsverband. Die sinode en die ringsvergadering en/of hulle gemagtigdes, tree bloot op as organe van die NG Kerk as regspersoon. Anders as vroeëre kerkreglemente wat bepaal het dat kerkeiendom in die naam van die kerkraad geregistreer moet word44, bepaal Reglement 9.4 van die Kerkorde uitdruklik dat die afsonderlike gemeentes van die NG Kerk die eienaars is van alle roerende en onroerende bates wat deur die kerkraad beheer en verkry kan word. Alle vaste eiendom word egter in die naam van die betrokke gemeente geregistreer en die kerkraad is bloot verantwoordelik vir die administrasie van hierdie eiendomme, goedere en fondse. Die kerkraad tree slegs op as die gemagtigde van die gemeente as regspersoon.

In die Nederduits Gereformeerde Kerk se konsultasie dokument oor Kerkhereniging van 30 Julie 2007, vind ons ter opsomming van die model wat voorgestaan word, die volgende:

Soos dit in ‘n gereformeerde kerk hoort, is gemeentes regspersone in sigself en behou hulle verantwoordelikheid met betrekking tot besluitneming en bediening. ‘n Algemene Sinode skryf nie aan gemeentes voor hoe hulle hul bediening uitvoer nie45[my kursivering].

Dit is dus duidelik dat regspersoonlikheid in die kerk as instelling in die algemeen kan vestig, of in die verskillende organe, soos gemeentes, ringe en sinodes. Dit is dan ook herbevestig deur die Hoogste Hof van Appèl in die saak tussen die Nederduits Gereformeerde Kerk in Afrika en die Verenigde Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika.46

GEVOLGTREKKING

Uit die voorafgaande bespreking blyk dit duidelik dat die Suid-Afrikaanse howe in hul uitsprake kerke wel as regspersone erken, maar terselfdertyd word hulle ook as vrywillige verenigings beskou (Sadler 1979:47). Dit is egter ook duidelik dat verskillende kerkverbande kerkeiendom op verskillende wyses hanteer en ook verskillende benaderings volg ten aansien van die erkenning van regspersoonlikheid van die onderskeie organe binne die algemene kerkverband. Dit is duidelik dat die bevoegdhede van ‘n kerklike instelling gevolglik bepaal moet word in die lig van die reëls en regulasies vervat in die betrokke instelling se konstitusie of statuut.

Aangesien dit duidelik blyk dat ‘n blote verwysing na die onderskeie organe as regspersone in die kerkorde of konstitusie voldoende is vir die entiteit om met regspersoonlikheid beklee te word, volg dit logies dat daar gevolglik na die aard van die vereniging te same met die konstitusie en doel van die betrokke vereniging gekyk moet word om te bepaal of dit dus wel ‘n regspersoon is al dan nie en welke regte en bevoegdhede daarmee saamgaan. Kerke moet dus seker maak watter regspersoon aanspreeklik gestel behoort te word indien ‘n dispuut ontstaan. Dit word ook verder deur die howe bevestig dat plaaslike gemeentes van verskillende denominasies konsekwent as regspersone beskou behoort te word, wat dus die wettige eienaar van sy goedere, eiendomme en fondse is.

Vanuit ‘n juridiese oogpunt gesien, staan dit dus vas dat die kerk ’n regspersoon is met ‘n eie interne reg.

BIBLIOGRAFIE

CSO 2007. Die Christelike Seemansorganisasie. Beskikbaar by http://www.cso.co.za/info.asp.

Davel, C J & Jordaan, R A 1994. Personereg. Kaapstad: Juta.

D` Oliveira, J A v S 1976. Diskresie, Regsdwaling en die Hersieningshof. THRHR 39, 211-227.

Geldenhuys O’Brien, F E 1951. Die Regsposisie van Kerkraad, Ring en Sinode. Pretoria:J L van Schaik Bpk.

Pienaar, G 1991. Die regsaard van privaatregtelike reëls en regulasies. THRHR 54, 400-413.

Pienaar, G 1991. Wie is eienaar van die Kerkeiendom? Kerkraad van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Gemeente Douglas v Loots 1990 3 SA 451. THRHR 54, 301-307.

Van der Merwe, PC 1999 . Die aard en proses van die kerklike ondersoek in die Nederduits Gereformeerde Kerk. LL M - Skripsie. Bloemfontein : Universiteit van die Oranje Vrystaat.

Van der Vyver, J D 2003. Religion, in: Joubert, WA & Scott, TJ (ed), The Law of South Africa, vol 23, 141-163. Durban: Butterworths.

TREFWOORDE

Regspersoonlikheid, Kerk, Vereniging, Hof, Eiendom, Regte, Verpligtinge

KEY WORDS

Legal personality, Church, Association, Court, Property, Rights, Liabilities

KONTAKSBESONDERHEDE:

Poasadres:

Law Faculty Rhodes University PO Box 94

Grahamstown

6140

Tel nr: 046 603 8427 (werk)

082 382 575 (sel)

e-pos: h.vancoller@ru.ac.za

1 1976 (2) SA 1 (A) op 13.

2 Opgerig kragtens artikel 4(1) van die Private Wet op die Universiteit van Pretoria 106 van 1990.

3 Opgerig kragtens artikel 1 van die Elektrisiteitswet 41 van 1987.

4 Opgerig kragtens artikel 2(1) van die Wet op die Suid-Afrikaanse Yster en Staal Industriële Korporasie Beperk 119 van 1979.

5 1988 2 SA 402 (A) op 419F.

6 Morrison v Standard Building Society 1932 AD 229.

7 1908 TS 748 op 750.

8 1908 TS 462 op 464-465.

9 Supra op 464-465.

10 1922 CPD 578 op 581.

11 Ordonansie nr 7 van 1843.

12 Jockey Club of South Africa v Feldman 1942 AD 340 op 350-351.

13 Theron v Ring van Wellington van die NG Sendingkerk in SA 1976 2 SA 1976 2 SA 1 (A) op 25G.

14 Sien byvoorbeeld Venter v Den Kerkeraad der Gereformeerde Kerk te Bethulie 1879 OVS 4 op 6.

15 Webb & Co Ltd v Northern Rifles 1908 TS 462 op 465.

16 Theron v Ring van Wellington van die NG Sendingkerk in SA 1976 2 SA 1 (A) op 23F-G.

17 Jockey Club of South Africa v Feldman 1942 AD 340 op 347.

18 Saaknommer 536/96, op 13.

19 1926 CPD 298 op 300.

20 Supra op 300.

21 1908 TS 7op 48.

22 Supra op 752.

23 Venter v Den Kerkeraad der Gereformeerde Kerk te Bethulie 1879 OVS 4 op 6.

24 1893 CLJ 327 op 335. Sien ook Van der Vyver 2003:151, voetnoot 7.

25 Sien Peach & Co v The Jewish Congregation of Johannesburg 1894 SAR 345.

26 1952 (2) SA 83 (O) op 84 & 93.

27 Soos Wet 22 van 1961 – Die Private Wet op die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (Herroeping van Wette), 1961, wat bepaal dat: Nademaal die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika ‘n outonome regspersoon is en as sodanig geregtig is om wette en regulasies vir die beheer en bestuur van sy eie sake te maak [my kursivering].

28 Ex Parte Johannesburg Congregation of the Apostolic Church 1968 3 SA 377 (W)

29 Supra op 377.

30 Nederduits Gereformeerde Kerk in Afrika (OVS) en Nededuits Gereformeerde Kerk in Afrika (Phororo) v Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider Afrika, Saaknommer 536/96.

31 Pinkster Protestante Kerk, Pinkster Protestante Kerk Springs Gemeente en Herlewingsentrum Springs, Die Registrateur van Aktes Johannesburg, Saak Nr 273/04. Ongerapporteerde saak in die Hoogste Hof van Appèl.

32 Supra op 3 par 2.

33 By monde van Murray R in Moloi v St John Apostolic Faith Mission 1954 3 SA 940 (T) op 942.

34 Sien Webb & Co. Ltd v Northern Rifles 1908 T.S. 462 op 465; Morrison v Standard Building Society 1932 AD 229 op 238.

35 Malebjoe v Bantu Methodist Church of SA 1957 4 SA 464 (W) op 467.

36 1971 SA 836 (D).

37 Supra op 836.

38 1979 4 SA 548 (O).

39 Supra op 552G-553A.

40 Sien ook De Vos v Die Ringskommissie van die Ring van die NG Kerk, Bloemfontein 1952 2 SA 83 (O) waar die ringskommissie namens die gemeente as orgaan opgetree het en Smith v Ring van Keetmanshoop van die NG Kerk, Suidwes-Afrika 1971 3 SA 353 (SWA), waar die Ring van Keetmanshoop en die Sinode van die NG Kerk in Suidwes-Afrika tereg as afsonderlike regspersone omskryf word.

41 Dokument voorgelê aan die Parlement, getiteld “Presentation of the Dutch Reformed Church regarding the Dutch Reformed Churches Union Repeal Bill” 14 Augustus 2007, JJ Gerber & BJ du Toit.

42 2. Synode gemachtigd om besluit te bevestigen en naam van de verenigde kerk te verklaren.

Zodra niet minder dan drie-vierden van de gezegde Kerkeraden de gezegde Moderatuur van de Synode van hun kerk van hun goedkeuring van het gezegde besluit hebben onderricht, na ten gunste daarvan besloten te hebben door meerderheid van stemmen op een behoorlik bijeengeroepen vergadering, zal het wettig zijn voor de gezegde Synode bij besluit, aangenomen door een meerderheid van minstens drie-vierden van de leden alsdan en aldaar tegenwoordig op een behoorlik bijeengeroepen vergadering:

(a) Om het besluit tevoren als voorzegd aangenomen te bevestigen;

(b) Na toestemming tevoren verworven met behoorlik gemachtigde vertegenwoordigers van de andere gezegde Nederduits Gereformeerde Kerken, of enige ervan welke van plan zijn zich als voorzegd te verenigen, de naam te verklaren die gezegde verenigde kerk dragen zal.

43 Die Kerkorde, met Reglemente, Kerkordelike Riglyne en Funksionele Besluite soos vasgestel deur die

Algemene Sinode in Oktober 2004.

44 Sien Pienaar 1991: 304.

45 Soos gevind in die volledige Achterberg II-dokumente.

46 Nederduits Gereformeerde Kerk in Afrika (OVS) en Nededuits Gereformeerde Kerk in Afrika (Phororo) v Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider Afrika, Saaknommer 536/96.