Coetzee, CFC
Noordwes-Universiteit (Potchefstroom)

Kerk en grondwet in koninkryksperspektief1

ABSTRACT

Church and constitution in the perspective of the kingdom of God

The relationship between church and state is of utmost importance and relevance. In Scripture this importance and relevance is reflected inter alia in the relationship between Israel as the church in the Old Testament and the state of Egypt, and between Daniel and his friends and the state of Babylon in the Old Testament and in texts like Romans 13 and 1 Timothy 2:2 in the New Testament. Churches in the Calvinistic tradition confess the Biblical truth regarding the relationship between church and state inter alia in Article 36 of the Belgic Confession. In Scripture the concept of the Kingdom of God is also a central truth. On the one hand the church is already the manifestation of the kingdom. On the other hand the state as servant of God should serve the Kingdom of God and not serve the kingdom of satan in any way. In the current situation in South Africa, the Constitution with its Bill of rights as well as the implementation of the Constitution in laws and decisions of the Constitutional court and other courts, should be evaluated in the light of the Biblical principles of the Kingdom of God. A preliminary evaluation indicates that the Constitution, the Bill of rights and other laws are interpreted and implemented from a humanistic and liberal world view rather than from the perspective of the Kingdom of God. This fact emphasizes the calling of the church to witness the truth of the Kingdom in society and to the government.

1. INLEIDING

Die verhouding tussen kerk en staat kan allermins as ‘n middelmatige saak afgemaak word. So belangrik is dit, dat dit ook in die Skrif deurlopende en besondere aandag ontvang. In die Ou Testament kom dit onder andere na vore in die verhouding tussen Israel as Verbondsvolk van God (die kerk in die Ou Testament) en die Staat van Egipte. Later kry ons ‘n voorbeeld in die verhouding tussen die Staat van Babel en Daniël en sy vriende as verteenwoordigers van die volk van God. In die Nuwe Testament word die prinsipiële begronding van die owerheidsamp en die gelowige se verhouding tot hierdie owerheid, uitgespel in die bekende Romeine 13. In 1 Timoteus 2:2 word die kerk opgeroep om vir die owerheid te bid.

Op grond van die duidelike verkondiging van die Skrif, het kerke van die Gereformeerde tradisie die waarheid oor die verhouding tussen die kerk en die staat in ‘n geloofsbelydenis vasgelê in die bekende Artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Wat die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika betref, word die verhouding tussen die Kerk en die owerheid op grond van die Skrif en belydenis, ordelik gereël in Artikel 28 van die Kerkorde.2

Die stelling kan verder gemaak word dat daar in die geskiedenis eintlik nooit ‘n tyd was waarin die verhouding tussen kerk en staat “normaal” of Skriftuurlik gebalanseerd was nie. Telkens is daar ‘n skeeftrekking na een of ander kant. Malherbe (2007:8) verklaar: “Hierdie verhouding was waarskynlik nog nooit heeltemal probleemloos nie”.

In Suid-Afrika het die verhouding tussen kerk en staat sedert die aanbreek van die nuwe demokratiese bedeling in 1994 besonder aktueel geword, veral gesien vanuit die oogpunt van die kerk. “Met die oorgang tot ‘n nuwe demokratiese bedeling in 1994 is ‘n regstaat in Suid-Afrika gevestig, wat inhou dat grondwetlike maatreëls daargestel word wat die mag van die owerheid inperk”(Vorster 1999:112). Ideologies het Suid-Afrika egter oorgegaan van ‘n “Christelike” staat na ‘n sekulêre of neutrale staat (Coetzee 2006:151).3 Ons kom later op hierdie saak terug.

Onder ‘n regstaat word verstaan dat die Parlement nie op ‘n pragmatiese wyse wette (behoort te) maak op die basis van die eise van die praktyk volgens norme wat vir daardie situasie alleen bestaan nie, maar volgens ‘n vooraf vasgestelde beginselbasis. Hierdie beginselbasis word dan vervat in ‘n handves van menseregte waaraan wetgewing moet voldoen. ‘n Onafhanklike konstitusionele hof word dan bemagtig om alle wetgewing aan die hand van die beginsels van die handves te toets (vgl Vorster 1997:80). In ‘n regstaat is die Grondwet dus die hoogste gesag. Dit beteken dat grondwetlike waardes voorkeur geniet bo godsdienstige en kulturele waardes indien die verskillende waardes sou bots (Vorster 2000:127). Ons kom later ook op hierdie saak terug.

Wanneer daar besin word oor die verhouding tussen kerk en staat en die konkrete vergestalting van hierdie verhouding in die huidige staatkundige bedeling in Suid-Afrika, is dit van die grootste belang om daarop te let dat die begrip “Koninkryk van God” ook in die Skrif ‘n sentrale begrip is. Die begrip “koninkryk” impliseer ‘n “koning” of ‘n owerheid en ‘n regering. Die kerk van Jesus Christus en die Gereformeerde teologie het daarom die verantwoordelikheid om te besin oor die implikasies van hierdie Koninkryk van God vir die verhouding Kerk/Staat in die aardse bedeling.

In hierdie artikel word gevolglik gepoog om binne die konteks van die tema “Kerk en Grondwet” enkele prinsipiële lyne te trek oor die Bybelse leer aangaande die Koninkryk van God en die verhouding van die Kerk en die owerheid tot die Koninkryk van God. Uiteindelik sal gepoog word om enkele konsekwensies vir die prakties-konkrete situasie uit te spel.

2. DIE KONINKRYK VAN GOD: ALLESOMVATTEND EN ALLESBEPALEND

Dit is uit die Skrif sonder meer duidelik dat die koninkryk van God ‘n baie sentrale plek inneem. Alhoewel die woord koninkryk in hierdie besondere sin glad nie in die Ou Testament voorkom nie, is dit in die Nuwe Testament geheel anders.4 En vanuit die Nuwe Testament word dit duidelik dat dit ook telkens in die Ou Testament ‘n beslissende rol speel (vgl Van der Walt 1985:4,5). So begin die Nuwe Testament met die prediking van die wegbereider Johannes die Doper: “Bekeer julle want die koninkryk van die hemele het naby gekom”(Matt. 3:2). En as Jesus self begin preek, verkondig Hy presies dieselfde waarheid (Matt. 4:17). “Trouens, Jesus verkondig niks anders as die koninkryk van God nie (Mark 1:14)” (Van der Walt 1985:5). Dit is die tema van baie van sy gelykenisse (bv. Mark. 4; Matt. 13; Luk. 13). In sy wonders breek die koninkryk deur (Matt. 12:28; Luk. 11:20). Aan sy kerk vertrou Hy die sleutels van die koninkryk toe (Matt. 18:18). En die klimaks van sy hele prediking is die onbeskryflik-heerlike toekoms wanneer die volkomenheid van sy ryk daar sal wees (Luk. 13:29)(vgl. Van der Walt 1985:6).

Alhoewel ons nêrens in die Skrif ‘n definisie gegee word van wat ons onder die koninkryk van God moet verstaan nie, en ons die ryke verskeidenheid van wat onder hierdie begrip verstaan moet word in ag moet neem, is daar tog veral drie kernbetekenisse wat volgens Van der Walt (1985:9) duidelik onderskei moet word. Die eerste en die belangrikste is dat God Koning is, dat Hy regeer. Die tweede is die gebied waaroor God regeer en die mense van wie Hy die Koning is. Dit sien op sy magsfeer en die burgers van sy heerskappy. En die derde is wat daar in sy ryk gebeur en wat Hy aan sy onderdane laat toekom. Hier gaan dit dus oor die vrugte of gevolge en die seëninge van sy regering.

In besondere sin behoort die koningskap aan Jesus Christus. Hy is die Hoof van die kerk en die Koning van die koninkryk. Daartoe is Hy gesalf met die Heilige Gees. Na sy opstanding, proklameer Hy as die Oorwinnaar oor dood en graf: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde” (Matt. 28:18). Na hierdie proklamasie het Hy die troon bestyg. Hy sit aan die regterhand van God as die Een deur Wie die Vader alles regeer (vgl. Heidelbergse Kategismus, vraag en antwoord 50).

Hierdie koningskap van Christus was egter nie vanselfsprekend nie. Dit is ook tot vandag nie altyd en vir alle mense sigbaar en duidelik nie. Ewemin word dit deur alle mense erken en bely. Daar is naamlik ook ‘n teëkoning, die duiwel of die Satan. Hy is nie net teen die Koning, Jesus Christus nie, maar hy wil ook in die plek van Christus koning word en sy koninkryk vestig (Van der Walt 1985:11). “Van die begin van die geskiedenis af probeer Satan en sy bose geeste die werk van God vernietig deur ‘n eie koninkryk te stig en dit op intensiewe wyse in die lewe van mense en op ‘n ekstensiewe wyse oor die ganse mensheid uit te brei (Matt. 13:25, 39, vgl. 1 Tess. 2:18; 1 Tim. 4:1). In sy organisasie en metodes is Satan volledig die teendeel van die Godsryk: hy heers nie met en deur die waarheid nie, maar deur die leuen; nie reg en geregtigheid geskied daar nie, maar ongeregtigheid; nie orde nie, maar chaos is die doel, nie die lewe nie, maar die dood is die gevolg” (Heyns 1978:167). Onder aanvoering van die teëkoning is daar dus ook “terroriste” in die Koninkryk van God.

En alhoewel Satan Christus nie kon oorwin nie en hy en sy magte verpletterend verslaan is aan die Kruis van Golgota en in die graf van Josef van Arimatea, sal die volkomenheid van God se ryk dus eers aanbreek met die wederkoms van Christus “wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het” (1 Kor. 15:24). Ons leef dus in die tussentyd, tussen die eerste koms en die wederkoms van Christus. Ons beleef die spanning tussen die “reeds” en die “nog nie” van die koninkryk van God (vgl. Van der Walt 1985:13).Ons is op pad na die volkomenheid van God se ryk wanneer Hy alles sal wees en in almal (1 Kor. 15:28). “Nou is sy koninkryk nog verborge, maar straks sal sy koninkryk openlik sigbaar wees” (Snyman 1977:223).

In die lig van Christus se oorwinning oor die magte van Satan en op grond van die duidelike verkondiging van die Skrif, kan (en moet) ons dus konstateer dat die koninkryk van God allesomvattend en allesbepalend is. Die koninkryk van God het nie grense nie. Dit omvat alle tye, alle lande, alle mense, alle nasies (vgl. o.a. Snyman 1977:498). Die magtigste koninkryke van die wêreld is uiteindelik aan Hom onderworpe en in sy diens (vgl. o.a. Ps. 82; Jes. 63; Jer. 46-50; Daniël 4).

Dit is dus ook allesbepalend. Deur Christus regeer God oor alles. Dit is nie maar ‘n teorie of wensdenkery dat aan Christus alle mag in hemel en op aarde behoort nie. Hy oefen hierdie mag ook uit. Hy regeer ook oor wie sy mag nie erken of daarvoor wil buig nie.

Hierdie koninkryk het ‘n Grondwet. In besonder staan die bekende Bergpredikasie van Matteüs 5 tot 7 bekend as die Grondwet van die koninkryk van God (vgl. o.a. Van der Walt 2007:183-189). Maar dit geld ook van sy Tien Gebooie wat juis in die Bergpredikasie in die lig van die vervulling in en deur Christus verklaar en in hulle volle rykdom en omvang afgekondig word (vgl. o.a. Matt. 5:17-32). Dit geld ook van elke uitspraak in die Skrif waarin God se soewereine wil verkondig word.

Aan die bepalings van die Grondwet van die koninkryk moet elke gelowige gehoorsaam wees uit dankbaarheid vir die verlossing in Christus. Maar uiteindelik sal elke mens (en ook elke owerheid) rekenskap moet gee van hulle reaksie teenoor hierdie grondwet.

3. KERK EN KONINKRYK

Kerk en koninkryk kan nooit van mekaar losgemaak word nie. In die verband van hierdie artikel kan gesê word die kerk is die leërmag van die koninkryk. Die brief aan die Efesiërs wat in die Skrif in besonder die brief is oor die kerk, loop in hoofstuk 6:10-20 uit op die oproep om as soldate, in die stryd “teen die bose magte van hierdie sondige wêreld, teen die bose geeste in die lug”, toegerus met die wapenrusting wat God gee, getrou op ons wagpos te volhard.

Kerk en koninkryk mag nie met mekaar gelykgestel word nie. Die koninkryk het geen grense nie en die heerskappy van die koning strek hom uit oor alle lewensterreine. Daarenteen is die grense van die kerk beperk tot die ware gelowiges. Nietemin is daar die allernouste verband.

Wat die verbondenheid van kerk en koninkryk betref, vestig Duvenage (1969:124/5) die aandag op ses aspekte. In die eerste plek is die kerk die gemeenskap van hulle tot wie die evangelie van die koninkryk gekom het. Van die kerk geld die woord van Lukas 8:10:” Aan julle is dit gegee om die verborgenhede van die koninkryk van God te ken …” In die tweede plek is die kerk diegene wat op die koms van die ryk wag en daarvoor bid. In die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 123 word die tweede bede van die Onse Vader dan ook soos volg verklaar: “Laat U koninkryk kom. Dit is: Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp. Bewaar u kerk en laat dit groei. Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word, totdat die volkomenheid van u ryk kom, waarin U alles in almal sal wees”.

koninkryk in hierdie wêreld te verkondig. Jesus Self sê aan die dissipels (Matt. 10:7):”Gaan preek en sê:Die koninkryk van die hemele het naby gekom” (vgl. ook Hand 8:12; 19:8; 20:25; 28:23, 31; Kol. 4:11).

In die vierde plek is die kerk die volk wat op weg is na die voleinding van die ryk, die nuwe aarde en nuwe hemel. Paulus waarsku in Handelinge 14:22: “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan”.

In die vyfde plek het die ryk ‘n normatiewe funksie ten opsigte van die lewe van die kerk. “Die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid, en vrede en blydskap in die Heilige Gees” (Rom. 14:17). Hierdie dinge, wat by die koninkryk behoort, behoort ook die deel van die gemeente te wees.

In die sesde plek is die Nuwe Testament vol van die gedagte dat die kerk nou reeds aan die koninkryk deel het, soos o.a. blyk uit Jesus se woorde in Lukas 12:32:”Julle Vader het ‘n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee”.

Hierby kan ook gevoeg word dat die hantering van die sleutels van die koninkryk juis aan die kerk toevertrou is (vgl, Matt. 16:19).

Die kerk kan dus die “voorafskaduwing … of ‘n voorportaal van die koninkryk” genoem word (Duvenage 1969:125). “In die kerk kom die koninkryk al ten dele in die wêreld” (Ibid). Anders gestel: Die kerk is die “begin van die deurbraak van die koninkryk van God op aarde” (Du Plooy 1992:763).

Uiteindelik kom Duvenage (1969:130) tot die volgende konklusie: “Die diens van die kerk in die koninkryk moet laat blyk dat dit in al sy aktiwiteite meewerk aan die koms van die koninkryk in die teenwoordige tyd”. Dit spreek vanself dat die uitlewing en handhawing van die Grondwet van die koninkryk op alle terreine ‘n sleutelrol speel.

4. OWERHEID EN KONINKRYK

Daar bestaan grootliks eenstemmigheid onder teoloë in die Calvinisties-reformatoriese tradisie dat die owerheid ‘n taak het om die koninkryk van God te bevorder. So stel Du Plooy (1992:768) onder andere: “Is die bevordering van die koninkryk van Jesus Christus slegs die gevolg van die beskerming van die kerk, of is dit ook ‘n bepaalde taak en verantwoordelikheid van die owerheid? Uit ons uiteensetting … behoort dit duidelik te wees dat die bevordering van die koninkryk van Jesus Christus sonder twyfel die eintlike taak van die owerheid is. Alles trek uiteindelik daarin saam”.

Du Plooy (1992:769) wys tereg op die belangrikheid van Calvyn se standpunt oor die verhouding van die owerheid tot die koninkryk van God: “Calvyn het ons geleer om prinsipieel te dink en om in ons vrae na die prinsipes van die kerk en die staat by God en sy koninkryk te begin”. Calvyn se standpunt is op die Skrif gegrond en vind daarom ook neerslag in verskeie gereformeerde konfessies, onder andere Artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (vgl. Du Plooy 1992:767). Calvyn het dus op grond van die Skrif na weë gesoek “om die Woord van God en die koninkryk (Gods heerskappy) ook gestalte te laat kry in die konkrete samelewing en in die owerheid as die externum medium salutis” (Du Plooy 1992:762).

Calvyn leer dan veral in sy Institusie (vgl. Inst. 3.19, 14/15) dat die innerlike geestelike regering en ook die uiterlike burgerlike regering , hoewel duidelik van mekaar onderskeie, albei gerig is op die koninkryk van Jesus Christus (vgl. Du Plooy 1992:763). In beeldspraak beskryf Calvyn (Inst. 4.20.1-2) die kerk as die siel van die menslike samelewing en die staat as die liggaam waarbinne die siel werksaam is. Albei het uiteindelik dieselfde gerigtheid naamlik om die koninkryk van God op innerlike en uiterlike wyse te dien en te bevorder (vgl. Du Plooy 1992:764). Die pligte en funksies van die owerheid strek hulle uit oor albei tafels van die Dekaloog en die owerheid moet as uiterlike regering toesien dat die hele samelewing in geregtigheid, vryheid en sedelikheid, ordelik bestaan. Die beginsels van die koninkryk van God moet gevestig en beskerm word (Inst. 4.20.9-13; vgl ook Acta GKSA 1970:406). Die owerheidsamp is dus ‘n roeping (vocatio) van God (Du Plooy 1992:765).

Uiteindelik kom Du Plooy (1992:768) tot die volgende konklusie: “‘n Staatsowerheid sal die onderdane of volk oor wie hy regeer die beste dien wanneer hy in sy regering aan die koninkryk van God diensbaar is. Die belange van die koninkryk van God gaan vooraf aan die belange van die onderdane, want as die koninkryk van God en sy geregtigheid gesoek word, sal God al die ander dinge wat ons nodig het wel aan ons gee”.

Die beginsels hierbo gestel word onder andere ook in besluite van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika gehandhaaf. “Die GKSA huldig die standpunt (Acta 1970:407) dat, aangesien die koninkryk van God met die koms van Christus aangebreek het (Mark. 1:15), daar aanvaar kan word dat God ook van die owerheid die bevordering van sy koninkryk eis”.

Daar kan verder gekonkludeer word dat die Skrif en die belydenis nie iets soos ‘n “neutrale owerheid” ken nie (Coetzee 2006:151), soos die Suid-Afrikaanse owerheid homself sien (vgl. Vorster 1999:136).”In het neutrum loert het nihil” (Verboom 1999:286 met verwysing na Van Ruler).

Die owerheidsamp is primêr (en uitsluitlik?) deur God ingestel om in die stryd teen die teëkoning Satan en sy ryk, instrumenteel te wees as dienaar van God. Die Nederlandse Geloofsbelydenis stel dit in Artikel 36 uitdruklik in die woorde “vanweë die verdorwenheid van die menslike geslag”. Die staatsidee is dus “die uitvloeisel van die gebroke en sondige karakter van die mensheid na die sondeval” (Coetzee 1969:349 met verwysing na Kuyper).

Dit beteken dat daar vir die owerheid uiteindelik slegs een van twee weë moontlik is: Of gehoorsaamheid aan God en daarom in diens van sy koninkryk, of ongehoorsaamheid aan God en daarom in diens van die ryk van Satan.

5. KERK EN GRONDWET IN KONINKRYKSPERSPEKTIEF

In die lig van bogenoemde prinsipiële uiteensetting behoort die kerk sy verhouding tot die Grondwet van die staat te bepaal. Die kerk (en uiteindelik ook die staat) het dus te doen met twee grondwette, naamlik die Grondwet van die koninkryk van God en die Grondwet van ‘n spesifieke land of staat.

Wat die verhouding tussen die twee grondwette betref, is die ideaal dat daar nie spanning of teenstrydigheid sal wees nie. Verder moet gestel word dat die grondwet van die koninkryk van God die hoogste gesag het omdat dit direk van God kom, in sy Woord gegee is. Dit beteken dat die beginsels van hierdie grondwet bepalend behoort te wees vir die beginsels van die grondwet van die staat.

Die stelling dat die grondwet van ‘n staat in ‘n regstaat die hoogste gesag is (vgl. Vorster 2000:127) kan dus nie ongekwalifiseerd gehandhaaf word nie (vgl by punt 1 hierbo). Ewe- eens is die stelling dat grondwetlike waardes voorkeur geniet bo godsdienstige en kulturele waardes indien die verskillende waardes sou bots (Ibid) in die lig van wat hierbo gestel is, problematies.

Dit is die roeping van die kerk om al die bepalings van die Grondwet van die staat te beoordeel in die lig van die beginsels van die Grondwet van die koninkryk van God (God se wil en heerskappy). Dit sou ‘n baie interessante maar ook uiters noodsaaklike studie wees.

die beginsels van die Grondwet van die staat beoog, asook die interpretasies en uitsprake van die regspraak en veral die Konstitusionele hof van en oor die Grondwet van die staat, moet beoordeel word in die lig van die beginsels van die koninkryk van God. In gevalle waar die Grondwet van die staat en/of wette gebaseer op hierdie Grondwet, en of uitsprake en interpretasie van en oor die Grondwet in stryd blyk te wees met die beginsels van die Koninkryk van God, moet die kerk vanuit die Skrif en in die Naam van God teenoor die owerheid getuig.5

Die kerk moet ook ondubbelsinnig leiding gee oor die gehoorsaamheid al dan nie aan sulke wette en uitsprake in die lig van Handelinge 5:29. In hierdie verband kan weereens na Calvyn verwys word. Hy maak die uitspraak dat owerhede wat onderdane tot afgodery wil bring “nie groter gesag oor ons het as paddas en luise” nie (vgl. Kruger 2007:21).

6. KONKLUSIE EN SLOTOPMERKINGS

Wanneer die konkrete situasie in Suid-Afrika in die lig van die prinsipiële uiteensetting hierbo, beoordeel word, kan by wyse van enkele konklusies die volgende gestel word.

In die algemeen moet gekonstateer word dat daar, veral in die interpretasie en toepassing van die beginsels en artikels van die Grondwet van Suid-Afrika weinig gesien word of tereg kom van die koninkryksperspektief en die implementering of gehoorsaming van die beginsels van die grondwet van die koninkryk van God. In hierdie verband toon Malherbe (2007:11) duidelik aan dat die uitsprake van howe die Grondwet nie neutraal uitlê nie maar vanuit ‘n bepaalde waardestelsel of wêreldbeskouing wat nie noodwendig ‘n Christelike wêreldbeskouing is nie. En Pienaar (2006:18) verklaar: “Verskeie fundamentele regte wat in die Grondwet beskerm word, is vir Christene … lynreg in konflik met die uitleef van hulle Christelike geloof ” .

Die volgende sake kan ter illustrasie genoem word:

i. Hierbo is dit reeds gestel dat Suid-Afrika wel juridies ‘n regstaat is, maar ideologies oorgegaan het na ‘n sekulêre of neutrale staat (vgl. ook Coetzee 2006:153), wat vanuit die Koninkryksperspektief onaanvaarbaar is. Hierdie feit bring mee dat daar in die optrede van die regering dikwels‘n spanning bemerk kan word tussen die Grondwetlike verskansing van godsdiensvryheid en die beleidstoepassing (Ibid). Malherbe (2005:15) stel in hierdie verband die volgende ten opsigte van die onderwyssituasie: “Die beleid oor godsdiens in skole wat in 2003 deur die Departement van Onderwys afgekondig is, is ‘n voorbeeld van wat gebeur as wêreldbeskouings in botsing kom. Omdat die beleid op ‘n bepaalde wêreldbeskouing berus, maak dit in meer as een opsig inbreuk op die reg op godsdiensvryheid”. Ook Pienaar (2006:18) verwys na die Godsdiensneutraliteit in staatskole en ander staatsinstansies, soos bepaal deur Artikel 9 van die Grondwet.

ii. In ‘n navorsingsvoorlegging met die oog op ‘n Meestersgraadverhandeling in Etiek aan die Noordwes Universiteit oor “Imperatives of the Gospel and imperatives of the South African constitution regarding the right to life: a comparative study”, word die volgende gestel (Giles 2007:4): “Conflicts may arise between the law of the gospel expressed inter alia in Matthew 4:18-32; 22:34-40; 10:38 – which are arguably coercive as the “Judgement of the Nations’ illustrates in Matthew 25:31-46 – and constitutional demands expressed in constitutional law”. Giles (2007:4,5) gaan voort om te verwys na ‘n bepaalde hofuitspraak in dieselfde verband: “In the court case, Christian Lawyers of SA and Others v Minister of Health and Others, 1998 (4) SA (T ) 1113, it was unsuccessfully argued inter alia that the Choice of Termination of Pregnancy act is unconstitutional on the grounds that the constitutional term ‘everyone’ – 2$11 Everyone has the right to life – includes the unborn, and therefore, the unborn as a natural person has juristic status from conception to the moment of birth and the right to dignity and life consequent on such a status”.

iii. In Beeld van 15 Oktober 2007 (Liebenberg 2007:1) word mnr. Mangosuthu Buthelezi soos volg aangehaal oor die bekamping van misdaad en geweld, een van die primêre take van die owerheid volgens die Skrif: “Die Grondwet word vertrap deur diegene wat dit moet beskerm”. Luidens die berig sou Mnr. Buthelezi verder gesê het: “Suid- Afrika is ‘n vis wat van sy kop af vrot”.”Dit is die waarskuwing van Mnr. Mangosuthu Buthelezi, IVP-leier. Oor ‘‘n land wat in krisis verkeer’. Tekenend hiervan is die sage rondom kommissaris Jackie Selebi, nasionale polisiehoof, en adv. Vusi Pikoli, hoof van die nasionale vervolgingsgesag, het die IVP-leier gesê. ‘Die diep krisis in die bekamping van misdaad gaan nou veel dieper as net misdaad. Die oppergesag van die reg se fondasie en die demokrasie se boustene is nou ondergrawe’. Dit sou volgens hom erg genoeg gewees het as die land se voorste wetstoepasser weier om te bedank wanneer hy by ‘n misdaad betrek word. ‘Maar nou het … die president (Thabo Mbeki) met regspleging ingemeng en die onafhanklikheid van die geregtelike gesag ondermyn deur die direkteur van nasionale vervolging (Pikoli) te skors omdat hy nie opdragte nagekom het wat die president nooit by magte was om te gee nie’”.

iv. In die wet op sg. “Gay-huwelike” wat onlangs goedgekeur is, asook in die hele debat wat dit voorafgegaan het, was dit sonder meer duidelik dat die meeste rolspelers, onder andere die owerheid self en die regsprekende gesag, nie vanuit die koninkryksperspektief handel en besluit nie, maar vanuit ‘n Skrifvreemde ideologie van menseregte. So het Mnr. Patrick Hlomane Chauke, voorsitter van die portefeuljekomitee oor binnelandse sake, luidens ‘n berig in Rapport (19/11/2006) gesê: “Ek kan nie toelaat dat my godsdienstige oortuigings inmeng in die manier waarop ek en my komitee díe wetsontwerp hanteer nie”. In dieselfde verband verdedig Prof. Lourens du Plessis die werklikheid van die “huidige sekulêre, grondwetlike Suid- Afrika (vgl. Rapport 19/11/2006). Volgens Du Plessis het Suid-Afrika ‘n Grondwet wat geskoei is op die universele waardes van vryheid, gelykheid en menswaardigheid vir almal. Indien hierdie siening korrek is, en tensy die begrippe “vryheid”, “gelykheid” en “menswaardigheid” gevul word met betekenisinhoude wat in ooreenstemming is met die Skrif, is die Grondwet van Suid-Afrika veel meer gebaseer op die beginsels van die Franse Rewolusie as op die beginsels van die koninkryk van God. Met verwysing na ‘n konkrete hofuitspraak oor selfdegeslag-huwelike (die Fourie saak) toon Malherbe (2007:12) aan dat dit ‘n “ondubbelsinnige humanistiese benadering” verteenwoordig. ..”in werklikheid vee die Hof godsdienstige oorwegings van die tafel af en laat die speelveld oop vir net een geldige benadering, die humanistiese. Trouens, die Hof bevorder dit uitdruklik”.

v. Pienaar (2006:18) noem ook nog die volgende sake waarin die beginsels van die koninkryk van God nie vergestalt word nie: Die afskaffing van die doodstraf (Artikel 11); die inmenging met tugbevoegdhede in skole (artikels 12(1)(e) en 28(1)(d); moraliteitskwessies soos die wettiging van dobbelary en prostitusie en die verslapping van sensuurmaatreëls.

Behalwe bogenoemde sake kan ook die volgende genoem word, wat selfs nog meer direk betrekking het op die tema van Kerk en Grondwet:

a) In dieselfde debat oor die sg. “Gay huwelike” het diepgaande verskille tussen teoloë en amptelike verteenwoordigers van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika en die Nederduits Gereformeerde Kerk na vore gekom, verskille wat uiteindelik dui op verskil in siening van die verhouding Kerk en Grondwet. Die Nederduits Gereformeerde Kerk het in hulle voorlegging oor die voorgestelde wet, volgens Dr Ben du Toit (Rapport 19/11/2006) van die standpunt uitgegaan dat Suid-Afrika ‘n regstaat is, met die Grondwet as die hoogste gesag. ‘n Ander verteenwoordiger van die NG Kerk, Dr Kobus Gerber het gesê (Jackson 3/11/2006) die konstitusionele hof het klaar beslis dat daar ruimte gemaak moet word vir gay-verbintenisse. Die verteenwoordigers van die NG Kerk het nie daarteen gestry nie. Hierteenoor het Prof. Dries du Plooy van die GKSA gestel: Ondanks die skeiding tussen staat en kerk, moet die kerk steeds bly getuig teen wette, beleidsrigtings en standpunte wat bots met die wil van God (vgl. Rapport 19/11/2006). Gerber en Du Toit het volgens ‘n berig in Rapport van 15/10/2006 aan die parlementêre komitee gesê: “Dis jammer sommige Christelike groepe eis die morele hoë grond op deur hulle op ‘n Bybelse standpunt te beroep in hul uitlatings hieroor en oor ander burgerlike verbintenisse”. Christene moet volgens hulle onthou “die Bybel is nie bo die Grondwet verhewe nie”, hoewel die Woord van God vir hulle die hoogste gesag is. Du Toit het verder gesê hy neem kennis van die GKSA se distansiëring van die voorlegging weens die NG Kerk se standpunt oor gay-verbintenisse, “maar daar moet onthou word dat ‘n voorlegging aan ‘n parlementêre komitee inhoudelik verskil van ‘n sinode-aanbeveling. Op ‘n kerkvergadering is die Bybel en ons belydenis-tradisie die maatstawwe waarop ons standpunte grond. In ‘n parlementêre voorlegging is ons basisdokument die Grondwet”. Die standpunt van Du Toit en Gerber asook die voorlegging van die NG Kerk het ook vanuit die geledere van die NG Kerk self skerp teenkanting ontvang (vgl. o.a. Jan-Jan Joubert 2006; Hilda Fourie 2006). As die standpunt van Du Toit en Gerber korrek weergegee is, kan dit nie vanuit die perspektief van die koninkryk en op Bybelse gronde verdedig word nie.

b) Die vraag kan gevra word of die besluite, optrede en verklarings van ‘n liggaam soos die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK), beheers word deur die koninkryksperspektief. ‘n Eerlike en objektiewe antwoord op hierdie vraag kan alleen gegee word indien verklarings en besluite van die SARK deeglik bestudeer word. Uit gesprekke met die Algemene Sekretaris en ander funksionarisse van die liggaam en uit besluite en verklarings oor wette soos die wet op aborsie en die wet op Burgerlike Verbintenisse en ander sake, moet egter voorlopig gekonkludeer word dat die SARK se besluite en verklarings meer beheers word deur ‘n strewe na politieke korrektheid en ‘n liberaal-ideologiese vertrekpunt. Tensy lidkerke van die SARK wat erns maak met die Gereformeerde belydenis hierin ‘n radikale verandering te weeg kan bring, behoort hulle hulle lidmaatskap te heroorweeg.

Dit moet duidelik wees dat die kerk meer as ooit ‘n geweldige roeping het wat die besinning oor sowel as die uitlewing van die verhouding met die owerheid betref. Kerke van die Gereformeerde tradisie moet dringend onder mekaar eenstemmigheid kry oor relevante Bybelse beginsels en die toepassing daarvan. Sonder sodanige eenstemmigheid kan die kerk se getuienisroeping teenoor die owerheid en in die samelewing nie tot sy reg kom nie. Verder moet die kerk meer as ooit erns maak met die voorbidding vir die owerheid.

In sy verantwoording oor sy roeping, asook in sy daadwerklike roepingsvervulling moet die perspektief op God se heerskappy allesbeheersend wees.

Die kerk, maar ook die owerheid, is op pad na die oomblik waarop die laaste basuin geblaas word en die waarheid van Openbaring 11:15 ‘n volkome werklikheid word:”Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid.”

BIBLIOGRAFIE

ANON. 2006. NG Kerk staan by sy siening van die huwelik. [Web:] http://152.111.1.25/argief/berigte/rapport/2006/11/06/RH/4/mmverslag.html [Datum gebruik: 24 Okt. 2007]

ANON. 2006. Die kerk in sy hoek, en die staat in syne. [Web:] http://152.111.1.251/argief/berigte/rapport/2006/11/17/RU/3/ajstkerk.html [Datum gebruik: 24 Okt. 2007]

CALVINI OPERA OMNIA, i.e., Ioannis Calvini Opera Quae Supersunt Omnia, Vol. I-LIX. Ediderunt G[W ].

Baum, E. Cunitz & E. Reuss, Vol I-LIX, in Corpus Reformatorum, Vol. XXIX-LXXXVII. Brunsvigae/Berolini, C.A.

Schwetschke et filium, 1863-1900. [=CO 1-50.]

Calvin, J. 1992. Institusie van die Christelike godsdiens. 4 bde. Vertaal deur H.W. Simpson met medewerking van C.M.M. Brink. Potchefstroom : CJBF.

Coetzee, C.F.C. 2002. Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika en die verhouding tot die owerheid: geleenthede en knelpunte. Ned Geref teologiese tydskrif, 43(1&2):197-206, Junie.

Coetzee, C.F.C. 2006. Godsdiensvryheid in die lig van Artikel 36 NGB. Ned Geref teologiese tydskrif, 47(1&2):143-157.

Coetzee, J.H. 1969. Politiek en beroepslewe in die koninkryk van God. In: Du Toit, S., Van der Walt, T., Snyman, W.J. en Duvenage, S.C.W. reds. Die koninkryk van God. Potchefstroom : Herald.

DU PLOOY, A. le R. 1992. Calvyn oor die koninkryk van God en die staat. HTS, 48(3&4):759-771.

FOURIE, H. 2006. NG Kerk maak keel skoon oor gay-troues. [Web:] http://152.111.1.251/argief/berigte/beeld/2006/12/07/B1/6/thfgay.html [Datum gebruik: 23 Okt. 2007]

GEREFORMEERDE KERKE IN SUID-AFRIKA. 1970. Handelinge van die sewe-en-dertigste sinodale vergadering van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Potchefstroom. 497 p.

GILES, S.P. 2006. Imperatives of the Constitution of the Republic of South Africa regarding the right to life in the light of the Gospel: a Christian ethical perspective. Navorsingsvoorlegging. 19 p.

HEYNS, J.A. 1978. Dogmatiek. Pretoria : NG Kerkboekhandel. 426 p.

JACKSON, N. NGK-huwelikvoorstel: gun ander hul regte. [Web:] http://152.111.1.251/argief/berigte/beeld/2006/11/03/B1/7/tnjkerktwis.html [Datum gebruik: 23 Okt. 2007]

JOUBERT, J.J. 2006. Moderator kap gay-voorlegging. [Web:] http://152.111.1.251/argief/berigte/beeld/2006/11/24/B2/31/polkerk.html [Datum gebruik: 23 Okt. 2007]

KRUGER, P.P. 2007. Wat leer Calvyn oor die verhouding tussen kerk en staat? Die Kerkblad, 110(3204):20-21.

LIEBENBERG, D. 2007. SA word van sy kop af vrot. Beeld, Okt. 15.

MALHERBE, R. 2005. Enkele kwelvrae oor die grondwetlike beskerming van die reg op godsdiensvryheid. Referaat gelewer by ‘n Kerk-Staat konferensie aangebied deur die Fakulteit Teologie, Universiteit van Stellenbosch, 25-27 Oktober 2005.

MALHERBE, R. 2007. Die impak van die grondwet op godsdiens – ‘n voorlopige waarneming. Referaat gelewer by ‘n Kerk-Staat konferensie by die Fakulteit Teologie, Universiteit van Stellenbosch, 29-31 Oktober 2007.

ODENDAL, F.F, GOUWS, R.H. (redakteurs) 2000. Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal. Perskor.

PIENAAR, G. 2006. Ons geloof en die Suid-Afrikaanse regstaat. Die Kerkblad, 109(3189):18-19.

RAATH, A.W.G. 1997. Kan ons nog Artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelijdenis handhaaf? Die Hervormer, 90(2):6,8, Apr. 15.

RAUBENHEIMER, J. 2006. Ek wil my klere skeur, my voor God klein maak. Beeld: Okt. 27

SNYMAN, W.J. 1977. Nuwe dinge en ou dinge: uit die skat van die Koninkryk. Versamel en aan hom opgedra deur sy oudstudente by geleentheid van sy sewentigste verjaarsdag. P.C. Snyman, red. Potchefstroom: Pro Rege. 517 p. (Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing Publikasiereeks, 56).

SNYMAN, W.J. & FLOOR, L. 1969. Die koninkryk van God in die Nuwe Testament. In: Du Toit, S., Van der Walt, T., Snyman, W.J. en Duvenage, S.C.W. reds. Die koninkryk van God. Potchefstroom : Herald. p. 34-58.

VAN BRUGGEN, J. 1980. Het amen der kerk: de Nederlandse Geloofsbelijdenis toegelicht. Amsterdam : Ton Bolland. 199 p.

VAN DER WALT, T. s.j. Die Koninkryk van God – naby! J.H. Kok N.V. Kampen.

VAN DER WALT, T. 1986. Die koninkryk van God in die Bybel. In: Wetenskaplike bydraes van die PU vir CHO. Reeks F (217):1-19.

VAN DER WALT, T. 2007. Die Messias het gekom: ‘n gids in die Evangelies vir toegewyde Bybel-studente. 2de hers. uitg. Potchefstroom : Potchefstroomse Teologiese Publikasies. 309 p.

VERBOOM, W. 1999. Kostbaar belijden: de theologie van de Nederlandse Geloofsbelijdenis met preekschetsen. Zoetermeer : Boekencentrum. 382 p.

VORSTER, J.M. 1997. Teologies-etiese perspektiewe op die 1996grondwet van die Republiek van Suid- Afrika. In die Skriflig, 31(1-2):79-91.

VORSTER, N. 1999. Kerk en owerheid binne ‘n regstaat: die roeping van die kerk met betrekking tot die Suid-Afrikaanse owerheid. Potchefstroom : PU vir CHO. (Skripsie-Th. M.) 171 p.

VORSTER, N. 2000. Kerk en owerheid binne ‘n regstaat: die profetiese roeping van die kerk met betrekking tot die Suid-Afrikaanse owerheid. In die Skriflig, 34(1):109-134.

SLEUTELWOORDE

Kerk, Grondwet, Handves van regte, Koninkryk van God

KEY WORDS

Church, Constitution, Bill of rights, Kingdom of God.

KONTAKBESONDERHEDE

Prof. CFC Coetzee

Fakulteit Teologie

Noordwes- Universiteit

Potchefstroom Kampus

Teologiese Skool

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika

1 Hierdie artikel is oorspronklik as referaat gelewer by ‘n konferensie oor “Kerk en Grondwet”, gehou by die Fakulteit Teologie, Universiteit van Stellenbosch, van 29-31 Oktober 2007.

2 Hierdie artikel lui soos volg: “Soos dit die plig van die owerhede as instelling van God is om aan die kerk en sy ampsdraer hulp en beskerming te bied, so is dit die plig van alle predikante, ouderlinge en diakens om die gehoorsaamheid en eerbied wat aan die owerheid verskuldig is, getrou en ywerig by die gemeente in te skerp en hulle moet trag om in die vrees van die Here, die guns van die owerheid jeens die kerke op te wek en te behou in belang van die kerke. Dit is ook die plig van die kerklike vergaderings om korrespondensie met die owerheid te onderhou om die nodige medewerking van die owerheid te verkry en in voorkomende gevalle as kerk van Christus voor die owerheid te getuig”.

3 Daar is diegene wat meen dat ons nie van ‘n sekulêre staat kan praat nie, omdat die owerheid en die Grondwet wel erns maak met godsdiens. Coertzen wil daarom slegs praat van ‘n neutrale staat. Raath (1997:6) praat weer net van ‘n sekulêre staat. Daar is egter ook diegene wat die woorde “sekulêr” en “neutraal” as sinonieme of wisselvorme gebruik, bv. Vorster 1997:83. Dit is belangrik dat oor hierdie terme duidelikheid gekry word. Die HAT (2000:964) gee onder andere die volgende verklaring vir sekulêr: “Wêreldlik – teenoor geestelik...Die moderne mens wend hom van die kerk en word steeds meer sekulêr”. As hierdie omskrywing in ag geneem word, kan seker nie van die Suid-Afrikaanse staat as sekulêre staat gepraat word nie.

4 Vir ‘n meer volledige uiteensetting van die Koninkryk van God in die Nuwe Testament, kan verwys word na Snyman 1977:195-224. Vgl. ook Snyman en Floor 1969:34-58. Verder kan onder andere verwys word na die indringende en deeglike studie van Van der Walt:Die Koninkryk van God – naby!

5 In hierdie verband kan onder andere verwys word na die skripsie van N Vorster, voorgelê vir die graad Th M in Dogmatiek aan die PU vir CHO, 1999: “Kerk en owerheid binne ‘n regstaat. Die roeping van die kerkmet betrekking tot die Suid-Afrikaanse owerheid”.