Landman, C1
Afrikaanse Protestantse Akademie

Die onderskeid tussen kerk en staat binne die konteks van ‘n Goddelike koninkryk-perspektief

ABSTRACT

Differentiation between church and state within the perspective of the Kingdom of God

The presentation is entitled “Differentiation between church and state within the perspective of the Kingdom of God”. The Greek dualism between the transcendent and the immanent is rejected. In Scholasticism the Church reigns on the spiritual/transcendent and the State on the immanent/material dimensions of human existence. In Christian reformed thinking the human person lives as a unity in a variety of directions: spiritually in relation to God, ethically in relation to fellow humans, normatively in relation to organs of society and according to fixed laws in relation to nature. However, a human beings transcendent relation to God in the end determines all other relations, so that the kingdom of God should be seen as the all encompassing manifestation of God’s will in all directions of human existence. The Church in essence is an institution of formal worship. The State is an institution with limited power, where conditions are being created by legitimate laws, so that the human person – in community relationship with others - can give expression to its transcendent relationship with God, in ethical relations with fellow beings, in the normative creation of organs of society – each according to its inner character and in relation to nature. In such view of society the Greek dualism is absent. Instead, the Christian view is one of unity (the idea of all encompassing Kingdom) in diversity (the idea of church differentiated from state).

INEIDING

Die samelewingsbegrip, soos hier gebruik, dui die onderlinge verhouding aan tussen individue, tussen individue in verhouding tot sosiale strukture (die individu tot bv. die staat) en tussen sosiale strukture onderling (bv. kerk-staat-verhoudinge), binne ‘n afgebakende geografiese ruimte.

Die Westerse samelewings het ideologies deur verskillende fases binne verskillende kultuurkontekste,2 verskillende religieuse3 rigtings en verskillende staatkundige4 bedelings ontwikkel. Daar word met twee variante (of modelle) in sake die vraag na die ideale organisasie van die samelewing volstaan:

• die Griekse dualistiese samelewingsmodel en

• die Christelik-Reformatoriese samelewingsleer.

DIE GRIEKSE DUALISTIESE SAMELEWINGSLEER

Die antropologie en samelewingsleer van Plato gaan die Christelik-Reformatoriese wysgerige antropologie en samelewingsleer vooraf. In die Griekse filosofie is die tydelike liggaam die kerker van die ewige siel. Hierdie antropologiese dualisme word ook op die samelewingsleer ingedra.

In die metafisika5 van Plato(427-347 vC) is die sintuiglik-waarneembare werklikheid ‘n gebrekkige afspieëling van ‘n ideële werklikheid van abstrakte Vorme (Grieks: eidos) wat nie waargeneem kan word nie,6 maar wat in ‘n realiteit naas die natuurlike dimensie bestaan. Plato het geglo dat daar ‘n essensie of Vorm is, wat onderliggend is aan alle konkrete dinge en wat die oorsaak is dat dinge is wat hulle is. So is ‘n stoel juis ‘n stoel omdat dit as stoel korrespondeer met die vorm van ‘n ideële stoel wat in ‘n metafisiese werklikheid bestaan. Earle E. Cairns7 skryf:

“Greek philosophers … was to call attention … to a reality that transcended the temporal and rehative world in which they lived. Both Socrates and Plato … taught that this present temporal world of the senses is but a shadow of the real world …”

Die vorme bestaan onafhanklik van die konkrete dinge van die sigbare werklikheid, maar maak die realiteite in die sintuiglik-waarneembare werklikheid moontlik.8

Die uitwerking van hierdie Ideëleer op die Gereformeerde sintese-teologie9 (Skolastiek10) was dat dit die verskeidenheid van kerke op grondslag van die Platonisme wou verklaar en oplos in en deur die idee van die onsigbare, universele kerk wat in ‘n ideële werklikheid bestaan en onderliggend aan alle konkrete kerkformasies is. Dit is, na analogie hiervan dat die verskeidenheid van kerke as institute hulle veelheid verduidelik en die eenheid daarvan in die metafisiese soek en vind. Op trant hiervan word die kerk dus gesien as ‘n bonatuurlike genade-instituut. Insgelyks word daarna gestrewe om die verskeidenheid van kerke tot ‘n eenheid te transformeer.

‘n Verdere invloed van die Griekse filosofie op die Middeleeuse Christendom was dat kerk en koninkryk op die transendente vlak sinoniem gemaak is en teenoor die staat op die immanente vlak te staan gekom het. Hierdie benadering het die deur oopgestel vir die verbete geveg tussen die Pous en die Keiser. So het pous Innocent III (1198-1216) homself gesien as die verteenwoordiger van Jesus en het hy derhalwe aan homself die mag toegeken om in te meng in die staatsregering11. Die Pous was laer as God maar hoër as die Keiser. Hy kon oor ander oordeel maar is deur niemand geoordeel nie.12

DIE CHRISTELIK-REFORMATORIESE SAMELEWINGSLEER

Ten einde die spanning en dualisme tussen die natuurlike en die metafisiese te kon oplos, het die Reformatoriese Christendom met ‘n totaal andersoortige samelewingsbeginsel en -model begin werk.

Vir die Christendom is die hart13 (of siel) van die mens die diepste dimensie van sy menslike eksistensie. Dit is spreekwoordelik die vonkverdeler van die mens se lewe. Die hart staan in direkte religieuse14 grondverhouding tot God. Deur sy vermoë om te kan glo,15 reik die aardse mens vanuit sy hart (of siel) uit na die transendente dimensie waar God is. Dit is ook vanuit die transendente dimensie buite die mens dat God deur die menslike hart (of siel) ‘n greep op die volheid van menswees uitoefen en laat deurwerk na die immanente werklikheid.16 In die hart lê die uitgange17 van die lewe.

As daar ‘n ontmoeting tussen God en die onrustige hart van die mens plaasvind, dan bring dit die volle mens in beweging.18 Die mens verklank en verwoord die religieuse ontmoeting tussen God en mens in “heilige” skrifte19 wat oor hierdie intense verhouding tussen God en mens handel.

Vanuit die hart (of siel) rig God die mens se volle menswees op die horisontale immanente sfeer:

• In verhouding tot die natuur,20 waar natuurwette geld.

• In intermenslike verhoudinge,21 waar etiese norme rigtinggewend is.

• In verhouding tot samelewingsinstellinge,22 waarvan elk uniek en eiesoortig is en tog intiem in ‘n sinvolle eenheid vervleg is.

Ook formaliseer of konkretiseer die mens die transendente religieuse verhouding en ontmoeting tussen God en mens in ‘n immanente samelewingstruktuur wat, binne die Christelike leer, as aanbiddingstruktuur binne die tyd funksioneer. In die Christendom noem ons hierdie godsdiensverband ‘n kerk (die Ekklesia). Die formasie van godsdiensinstellings, op die immanente vlak geskied al na gelang van die aard23 van die geloofsgemeenskappe en ter vergestalting van die godsdiensbehoeftes en kulturele geneenthede van sodanige gemeenskap.

Wat egter op die transendente vlak as ontmoeting met God belewe word, word na die hart (of siel) terug herlei en so na die omringende omwêreld van die mens uitgestraal. Cronjé skryf hieroor dat die religieuse deurwarming van die ganse lewe deur die roeping van gelowiges op elke moontlike terrein en in alle sosiale strukture – waaronder maar nie eksklusief in die kerk nie – deurwerk.24

So word die potensiële dualisme tussen transendent en immanent opgehef en sinvol in ‘n eenheid midde die verskeidenheid ingebind. Dit is juis vanuit die transendente en deur die hartsgesteldheid van die gelowige mens dat die koninkryk van God manifesteer.

ONDERSKEID EN INTERAKSIE

Bogenoemde analise vra dus meteens na die onderskeid asook verband tussen kerk (die ecclesia) en die koninkryk (die basileia). Dit vra ook na die onderskeid en verband tussen die kerk teenoor die staat en tussen kerk en staat in verhouding tot alle ander sosiale strukture.25

Oor hierdie onderskeide en verbande tussen die sosiale instellinge, is daar binne die Suid- Afrikaanse konteks vier ordeningsbeginsels aan die hand waarvan die samelewing georden kan word:

• In die kollektivisme, as ordeningsbeginsel, voer ‘n bepaalde instelling meerdere heerskappy oor ‘n aantal ondergeskikte instellinge op ‘n bepaalde terrein (bv. die kerk op die geestelike terrein en die staat op die sekulêre terrein). Die kollektivisme stel ‘n gemeenskapsinstelling primêr ten aansien van die individu.26 Die rol van sodanige gemeenskapsinstelling is bepalend asook alomvattend. Die kollektivisme is ook ideologies gedrewe.27 Volgens so ‘n dualistiese samelewingsmodel voer die staat heerskappy op die natuurlike terrein en is ekonomiese en opvoedkundige instellinge, onder meer voorbeelde, ondergeskikte instellinge van die staat (die magstaat as model). In hierdie argumentasielyn voer die kerk die heerskappy op die geestelike terrein en is die huwelik ‘n sakrament van die kerk.

• Die kommunalisme dui ‘n stand van sake aan wat gerig is op die vestiging van ‘n utopistiese samelewing waar ieder en elkeen se behoefte bevredig word deur die besit van produksiemiddele en verbruikersgoedere deur die kollektiwiteit (in vele opsigte die familie en stam)28. Khoza29 tipeer kommunalisme as die filosofie van “caring en sharing”. Die organies-kommunalistiese Afrika-model gaan uit van die standpunt dat die gesin die kleinste sosiale eenheid is, dat uit die gesin die sibbe en later die stam ontwikkel en dat die al wyer uitkringende sosiale lewe in ‘n lewenskring van wydste sosiale omvang uitkring. Binne hierdie konteks is dit nie die enkeling wat die geheel stempel nie, maar juis die geheel wat die individu identiteit gee. Vandaar die stelling dat ‘n mens ‘n mens is vanweë en as gevolg van ander mense. Binne ‘n Westerse konteks was skrywers soos Thomas Moore en Bellamy voorstanders van ‘n staatlose kommunalisme, sonder privaatbesit.30

• Die individualisme, as ordeningsbeginsel gaan uit van die standpunt dat die samelewing en samelewingsinstellinge die assosiasie is van ‘n aantal vrye individue, wat met mekaar rondom ‘n sekere saak ‘n sosiale kontrak (of kontrakte) binne verskillende sosiale instellinge aangaan. Die politieke model van die individualisme is die liberalisme. Die kerk is hier gewoon die losse gemeenskap van gelowiges wat saam vergader (kolegialisme).

• Die ordeningsbeginsel van eenheid-in-verskeidenheid verwerp die totale vertikale integrasie van sosiale strukture onder een oorkoepelende struktuur.31 In plaas bo- skikking of ondergeskikstelling werk die model van eenheid en verskeidenheid met neweskikkendheid. Dit gaan uit van die standpunt dat net God ex nihilo (uit niks) kon skep en dat in die skepping al die sosiale struktuurbeginsels meegegee is, aan die hand waarvan partikuliere sosiale entiteite deur die mens daargestel word, en elk oor ‘n eie sosiale struktuur beskik, elk oor ‘n eie gesaksmeer heerskappy voer, elk ‘n unieke opdrag het om uit te voer, en elk in samehang met al die ander instellinge tot ‘n sinvolle geheel saamgebind word, in wat as ‘n Christelike samelewing bekend staan.

Binne die Bybelse samelewingsleer moet daar dus‘n noodwendige en noodsaaklike onderskeid gemaak word tussen kerk (ekklesia) as besondere godsdiensinstituut en die omvangryke koninkrykie (basileia), waar lg. op die immanente vlak vanuit die transendente dimensie konkreet in die hier en nou verwesenlik moet word.

DIE KERK AS GODSDIENSVERBAND

Volgens Pelser32 het onder verskillende Christengemeenskappe van die heel vroegste kerk, daar verskillende kerk-idees bestaan. Twee algemene begrippe druk die idee van die vergadering van gelowiges uit:

• Mishkan in die Ou Testament en

• Ekklesia in die Nuwe Testament.

Mishkan beteken plek waar God woon.33 Die kerk-idee in die Ou Testament vind sy sinoniem eers in die tent-tabernakel-tradisie en later in die vaste gebou-tempel-struktuur van Salomo. God se besluit was om saam met die Israeliete in Sinai in ‘n tydelike tent-tabernakel te wees.34

Die Tabernakel was ook genoem die Tent van Ontmoeting waar God op vasgestelde tye in gesprek met Sy volk kon tree35. Die Tempel van Salomo is die permanente mishkan, waar God in formele gesprek met sy volk kon tree.

Ekklesia in die Grieks beteken: ‘n vergadering of byeenkoms van die gemeente in ‘n erediens waar God ontmoet word.36 Ekklesia word nêrens in die Nuwe Testament as‘n kerkgebou gebruik nie, maar in ‘n oordragtelike sin het dit die betekenis van ‘n kerk as instituut verwerf. In lg. betekenis verwys dit na die organisasie van gelowiges binne ‘n bepaalde gebied.

In die Jerusalemgemeente het gelowiges normaal in huise byeengekom: om na die leringe van die apostels te luister,37 om psalms en geestelike liedere te sing38, en om te aanbid39.

In hierdie struktuuranalises word die kerk as ekklesia gedefinieer as ‘n godsdiensverband met ‘n ritueel-kultiese inhoud wat in ‘n intieme religieuse relasie tot God sy bestaan wyd.

Dit is dus volgens Pelser nie haalbaar om oor die Nuwe Testamentiese kerkbegrip ‘n enkelvoudige of eenduidige definisie te praat nie. Dit is ook onduidelik wat Paulus met die idee van die liggaam van Christus (Corpus Cristi) bedoel. Yorke40 argumenteer dat die Corpus Cristi as dogma ‘n metafoor uit die Gnostiek is, ingevolge waarvan daar ‘n fisiese verbintenis is, tussen die gemeente en Christus. Dit wil voorkom asof die Corpus Cristi-begrip eerder sinvol met betrekking tot die koninkryksgedagte verband hou.

DIE KONINKRYK-IDEE AS CORPUS CRISTI

Twee begrippe dui die koninkryksgedagte in die Bybel aan:

• Mamlakah in die Ou Testament en

• Basileia in die Nuwe Testament.

Die Koninkryk van Israel word deur God getipeer as “‘n koninkryk wat God as priesters dien41.

Dit omvat alle aspekte van ons menswees waar die belang van God ter sprake kom42. Die koning wat God oor Israel aangestel het, regeer namens God oor die volk volgens die Tien Gebooie.43 Hierdie struktuur funksioneer in die diepste verband met die Messianisme. God maak ‘n belofte dat ‘n nasaat van Dawid op die troon sal sit, dat God vir hierdie koning ‘n Vader en die koning van Israel vir God ‘n seun sal wees.44 Die koninklike lyn van Dawid is verewig deur die koms van die Messias.45

Die sentrale betekenis van basileia is om op die immanente vlak te regeer, om gesag te voer, om oor ‘n domein te heers. In Jesus se beroemde Ons Vader gebed vra hy “laat u koninkryk kom en u wil geskied”.46

Die proklamasie van die koninkryk van God is in die vier evangelies die sentrale boodskap van Jesus.47 In die Nuwe Testament vestig God die koninkryk deur die permanensie van die finale koning oor Israel, Jesus Christus, die laaste nasaat van Dawid. Christus nooi ons uit tot burgerskap van sy koninkryk48 onder die heerskappy van God. Hierdie koninkryksidee is transendent van oorsprong, maar in die konkrete werklikheid juis in sy gedifferensieerde gestaltes immanent.

Burgers van God se koninkryk is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is49. Jesus het ons deur sy bloed van ons sondes verlos en ons “sy koninkryk gemaak, priesters vir God50. Gelowiges is dus burgers van God se koninkryk.51

Binne ‘n breë koninkryksidee het beide die kerk en die staat – en tewens ieder en elke samelewingstruktuur - belangrike eiesoortige en mekaar aanvullende roepings.52

DIE STAAT AS REGSVERBAND

Die regstaat is ‘n regsverband wat sy fundering vind binne die geografiese grense van ‘n land, maar waar die owerheidsgesag gelei word deur die geregtigheidsbeginsel wat in wette verwoord word en wat in die algemene belang toegepas word. Die regstaat se gesag oor die inwoners binne ‘n begrensde landsgebied word aan die hand van regverdige wette uitgeoefen en wel op so ‘n wyse dat die natuurlike differensiasies van die burgerlike samelewing binne die samelewing verreken word.

Die regstaat wil die voorwaardes skep vir die vrye daarstelling en funksionering van instellinge van die burgerlike samelewing. Die staat wil eenheid en harmonie binne die staatsgebied skep, sonder om in die interne gesagsfere van al die nie-staatlike instellinge van die burgerlike samelewing in te gryp.

SA GRONDWET AS REGSTAAT-MODEL

Die Suid-Afrikaanse staatsbestel is ‘n voorbeeld van ‘n regstaat. Die staat is veronderstel om ‘n geskrewe grondwet en ‘n Menseregte-akte53 te gebruik om eenheid tussen die veelheid van regsgroeperinge en -belange te weeg te bring. Die Grondwet is die hoogste gesag in die Republiek.54 Die grondwet maak ‘n belangrike onderskeid tussen:

• die staat en organe55 van die staat en

• die instellinge van die burgerlike samelewing.56

Persone verbonde aan ‘n bepaalde kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskap mag die reg nie ontneem word om:

• saam met ander lede van sodanige gemeenskap ‘n bepaalde kultuur te geniet, ‘n godsdiens te beoefen en ‘n taal te gebruik57 en

• kultuur-, godsdiens- en samestellings tot stand te bring, daarby te mag aansluit en dit te onderhou58 nie.

Die Menseregte-akte is voorskriftelik vir die staat en die organe van die staat asook vir ‘n natuurlike en ‘n regspersoon (soos die kerk). 59

Die beperking-van-regte-klousule60 maak dit moontlik vir die staat sowel as vir instellinge van die burgerlike samelewing om sekere ander regte (vgl. gelykheid) te beperk.

‘n Instelling van die burgerlike samelewing kan, deur die formulering van interne grondwette en statute, die beperking-van-regte-klousule aanwend om elkeen van die bepalinge van die Menseregte-akte te (her)interpreteer binne die konteks van die interne grondwette daarvan.

STAAT EN OWERHEID

Daar moet egter ‘n onderskeid gemaak word tussen die SA Grondwet as regsraamwerk en die toepassing daarvan deur ‘n owerheid. Een regering kan dieselfde grondwet anders toepas as ‘n volgende. Die owerheid van die dag beperk regte deurdat, óf sekere klousules binne ‘n klousule intern beperk word,61 óf deur ‘n eksterne wet wat binne die konteks van ‘n regverdige demokratiese samelewing aanvaarbaar is.

Daar is ‘n veelheid van voorbeelde:

• Alhoewel die grondwet bv. Afrikaans as ‘n amptelike taal62 tipeer, bevorder die owerheid van die dag die een63-plus-tien64 taalbeleid, ingevolge waarvan Engels die de facto lingua franca is.

• Elkeen het die reg op lewe65, maar hierdie reg beskerm nie die reg op lewe van die ongebore baba binne sekere lewensfases nie.

• Elkeen het die reg op menswaardige behandeling66 en gelykheid67, maar die staat mag onder sekere omstandighede diskrimineer deur ‘n beleid van verkeerdstellende aksie (wat as “affirmative action”68 bekend staan).

• Elkeen het ‘n reg op die vryheid en beveiliging van sy persoon,69 maar dit kom voor asof die owerheid alleenbeheer oor die swaardmag verloor het,70 vandaar die moord en doodslag wat aan die orde van die dag is.

• Niemand mag van sy eiendomsreg71 beroof word nie, maar arbeiders wat ‘n sekere aantal jare op boerderye gewoon het, mag aanspraak maak op mede-eienaarskap.

• Die reg op onderwys volgens ‘n eie etos word, sonder subsidie, in onafhanklike onderwysinstellings geprivatiseer,72 terwyl almal ‘n deel van die belasting betaal wat aan onderwys gegee word.

En, so sou ons kon aangaan ... ONDERHANDELING

Met inagneming van die feit dat die 1993 en ‘96 Grondwette van SA die resultaat van politieke onderhandelinge is en dat die meervoudige interpretasie van die Grondwet voortgaande onderhandeling tussen instellinge van die burgerlike samelewing73 moontlik en wenslik maak, behoort kerke met die owerheid indringend dialoog te voer. In hierdie dialoog is die diktate van ‘n Christelike Regstaat74 normatief en kan, in die woorde van Küng,75 tot ‘n “global ethic” of gemeenskaplike etiese gedragskode gekom word.

Alhoewel ‘n kerk as godsdiensverband ‘n onherleibare en spesifieke taak het as aanbidding-struktuur om in kommunikasie met God te treë, het die kerk insgelyks as instelling – soos en naas alle ander sosiale instellinge - ‘n belangrike profetiese taak om die koninkryk van God te help bevorder. In dialoog met die owerheid het ‘n kerk dus ‘n belangrike roeping om met die owerheid te praat oor ook die staat se roeping om die koninkryk van God “te laat kom” en om die owerheid te vermaan in die mate waarin die owerheid in hierdie verband as uitvoerende mag van die staat daarin faal.

SAMEVATTEND

Beide staat en kerk staan binne die Christelik-spirituele visie van Gods koninkryk.

In ‘n koninkryksperspektief moet gewaak word teen die diktatuur van een samelewingsinstelling oor ‘n ander. Daar moet ook gewaak word teen ‘n ideologie wat die gemeenskap sien as die blote optelsom van vrye individue wat binne verskillende samelewingstrukture met mekaar sosiale verdrae aangaan.

Daar lê groot gevare in ‘n staat-ideologie wat hetsy die kollektivisme of hetsy die kommunalistiese model as ordeningsmodel aanwend, omdat in beide gevalle dit lei tot kruipende statisme en die mag-staat.

Terwyl die Suid-Afrikaanse owerheid klaarblyklike sosiale transformasiedoelwitte nastrewe, sal instellinge van die burgerlike samelewing uiters versigtig moet wees dat die huidige staatsmodel nie stelselmatig na ‘n magstaat verlê nie. Die ontwikkeling van ‘n diktatuur word vergemaklik as die Christene hulle roeping tot die kerk alleen verskraal.

Die instellinge van die burgerlike samelewing kan staatlike voorskriftelikheid en inmenging net keer as pro-aktief oorgegaan word om die beperking-van-regte-klousule aan te wend ter verskansing van die interne grondwetlike reg van instellinge van die burgerlike samelewing, om instellinge van die burgerlike samelewing tot stand te bring, daarby te mag aansluit en dit te onderhou.76

Daar is groot meriete in die idee dat God in sy skepping‘n veelvoud van samehangende dog eiesoortige modaliteite asook sosiale strukture ingeskep het, met vir die sosiale strukture eiesoortige roepings binne ‘n breër koninkryksidee.

Die ordeningsbeginsel van eenheid-in-verskeidenheid maak dit wel moontlik dat ideale kerk-staat-verhoudinge gehandhaaf word. Dit wil sê, as die staat nie sy magte oorskry nie en die kerk nie sy aanbiddingstaak vir sosiale doeleindes versaak nie. Dit wil sê, as die staat hom soos ‘n regsverband met beperkte magte en regte, gedra en in eie reg die koninkryksgedagte bevorder. Dit wil sê as die staat geregtigheid vir almal bevorder. Dit wil sê as alle instellinge van die menslike samelewing die koninkryk van God op elke terrein bevorder.

Dit het groot meriete dat die Grondwet van SA, 1996 oor ‘n Menseregte-akte77 beskik. Om die nodige wigte en teenwigte in die samelewing in te messel, het dit besondere meriete om – naas die individuele menseregte-akte – ook aktes vir die regte van godsdiens-, taal- en kultuurgemeenskappe aanvaar te kry.78 In hierdie verband maak die Grondwet van SA daarvoor voorsiening, maar het instellinge van die burgerlike samelewing nog nie veel gedoen om sodanige aktes vir gemeenskapsregte aanvaar te kry nie. In hierdie verband doen hierdie simposium baanbrekerswerk om aandag aan sodanige akte vir godsdiensregte te gee.

TREFWOORDE

Kerk, Staat, Koninkryk, Christelike samelewingsorde, Samelewing, Soewereiniteit in eie kring

KEY WORDS

Church, State, Kingdom, Christian organization of society, Society, Sovereignty in its own sphere of competence

KONTAKBESONDERHEDE

Prof Chris Landman

Thomas Edison 65

0081 MENLOPARK Tel.: 012 460 0766

Sel: 082 854 75 16

E-pos: clandman@netactive.co.za

1 Referaat gelewer tydens die kerkeberaad van Reformatoriese kerke oor kerk en grondwet aan die Universiteit van Stellenbosch, Oktober/November 2007

2 Afrikaner, Engelsman, Hollander, Duitser, Amerikaner.

3 Bv. Katoliek, Protestant en Ortodoks.

4 Die magstaat, die regstaat, die liberaal-demokratiese staat, ens.

5 Die metafisika is die studie van die sg. wese (“being”) van dinge en handel oor die bestaansmoontlikheid van nie-fisiese entiteite. Die vraag is of daar net materiële entiteite bestaan. As reaksie op hierdie vraag verwerp die positivisme die metafisika, omdat die veld van ondersoek van die metafisika nie verifieerbaar is nie. Die metafisika stel vrae na kategorieë, wat insluit:

• Individualiteit (teenoor veelheid),

• Eienskappe (soos in kleurskakeringe),

• Verhoudinge (soos in ‘n huwelik),

• Gebeure (soos: doodgaan), en

• Stande van sake (soos: Sokrates is dood).

Die metafisika vra na die oorsaak van die dinge, hoe dinge ontstaan het en waaruit dit bestaan (Van Asselt, W J, P L Rouwendal e.a. 1998. Inleiding in de Gereformeerde Scholastiek. Boekencentrum: Zoetermeer. 40 p.

6 Audi, Robert. 1999. The Cambridge Dictionary of Philosophy. Second Edition. Cambridge University Press. 709 p.

7 Earle E. Cairns. 1984. Christianity through the Centuries. A history of the Christian Church. Zondervan. Grand Rapids 49530, 43 p.

8 Sien Allen, Diogenes. 1985. Philosophy for understanding Theology. John Knox Press. 21 p.

9 Dit is ‘n teologie wat ‘n versoening probeer bewerkstellig het tussen die Griekse filosofie en die Christelike dogma.

10 Met skolastiek word bedoel ‘n mengsel of vermenging van die Skriftuurlike teologie met denksisteme van die Griekse filosofie. W J van Asselt en P L Rouwendal bedoel met Gereformeerde Skolastiek iets anders as in bg. geval (1998. Inleiding in de Gereformeerde Scholastiek. Boekencentrum: Zoetermeer. 15 p.). In hulle gebruik daarvan dui die skolastiek op ‘n besondere teologiese metodiek.

11 Sien Brian Tierney, ed., The Crisis of Church and State, 1050-1300. Englewood Cliffs, N J: Prentice Hall, 1964, 132 p.

12 Marvin Perry. 2001. Western Civilization. A brief history. Houghton Mifflin Company: Boston. 178 p.

13 In Kittel se woordeboek word die hart in oordragtelike sin gebruik as die innerlike van die mens. Volgens die Bybel is wedergeboorte en bekering ‘n aangeleentheid van die hart. Die uitgange van die lewe is in die hart (Spreuke 4:23). Die hart moet besny word (Romeinse 2:39). Die wet van God moet in die hart gelê word (Hebreërs 10:16). Die religieuse sentrum van menswees is dus nie in ‘n bepaalde deelsaspek van menswees te vind, soos die rede of die gevoel nie, maar in die hart.

14 Die mens staan in natuurwetmatig in verhouding tot die natuur. Die mens staan normatief in verhouding tot die medemens en die sosiale instellinge. Die mens staan in ‘n religieuse verhouding tot God.

15 Geloof word in die wysgerige antropologie gedefinieer as ‘n vermoë waaroor net die mens – in teenstelling tot die plant en dier – oor beskik, om die immanente te kan transendeer. Dus om te kan uitreik na die transendente, om te kan droom en vergesigte te kan sien.

16 Die gehoorsaam-ongehoorsame uitgange van die hart kan slegs deurwerk na dit wat aan die mens onderhorig is (die subjeksy), terwyl die strukturele werklikheid (die objeksy) deur God in stand gehou word, ongeag die sonde waarin die mens verval het (verwys na Cronje, P. Dr. In skriftelike kommentaar oor die tema).

17 Spreuke 4:23.

18 Die transendente religieuse verhouding werk deur na die immanente eksistensie en beïnvloed die normatiewe aspekte van menswees, die daarstelling en onderhouding van die menselike sosiale strukture en die mens se verhouding tot die medemens, tot die diere- en tot die plante-ryke asook die stoflike.

19 Sien Van den Belt, H. 1971. Autopistia: The Self-Convincing Authority of Scripture in Reformed Theology. Leiden.

20 Die volgende wetenskappe bestudeer die natuurwette: wiskunde, meganika, die fisika, chemie en die biologie.

21 Die volgende wetenskappe bestudeer die kultuurnorme: die psigologie, die logika, die taalkunde, die sosiologie, die ekonomie, die kunste, die jurisprudensie en die etiek.

22 Die onderlinge verhouding tussen die samelewingstrukture word deur die beginsel van soewereiniteit in eie kring en deur enkapsis (inbinding) verstaan.

23 Daarmee wil gesê word dat die gemeenskapsaard van ‘n gemeenskap van gelowiges in verhouding tot God op die transendente vlak tot ‘n groot mate die aard van die godsdiensband met God mede-bepaal. Met gemeenskapsaard word ook bedoel die spesifieke kultuur en wêreldbeskouing.

24 Cronjé, Piet (dr.) in ‘n geskrewe reaksie op die teks.

25 Bv.: huwelik, gesin, stam, opvoedkundige instellinge, ekonomiese instellinge, ens.

26 Christelijke Encyclopedie, Band 2. 244 p.

27 Vgl. die dialektiese materialisme van die Kommunistiese ideologie, die Nasionaal-sosialisme van Hitler-Duitsland en die statisme van die Italiaanse fascisme.

28 Shutte, A. 1994. Philosophy for Africa. Rondebosch: UCT Press. 40 p.

29 Khoza, R. 1995. Ubuntu in marketing, in Financial Mail. April 21, 78 p.

30 Christelijke Encyclopedie, Band 2. 245 p.

31 Christelijke Encyclopedie, Band 2. 244 p.

32 Pelser, GMM. 1995. Die kerk in die Nuwe Testament. HTS 51/3. 646 p.

33 Eks. 25:9.

34 Gen. 3:23-24; Ex. 25:8, 9.

35 Eks. 28:43; 29:42, 44.

36 1 Kor. 14:19,28, 35.

37 Hand. 2:42-47, Hand. 15:30 en Kol. 4:16.

38 Ef. 5:18-20, Kol. 3:16-17.

39 Hand. 12:12.

40 Yorke, G L O R. 1991. The church as the body of Christ in the Pauline corpus: A re-examination. Lanham: University Press. 124 p.

41 Eks. 19:6.

42 Deut. 3:4-5 en 21.

43 Deut. 17:5, 20.

44 2 Sam. 7:12-14, 16.

45 1 Sam. 24:21.

46 Matt. 6:10.

47 Matt. 4:23.

48 1 Tess. 2:12.

49 1 Pet. 2:9-10.

50 Open. 1:6.

51 Hand. 14:22.

52 Sien artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis.

53 Hoofstuk 2 van die Grondwet 1996.

54 A.2 van die Grondwet van SA 1996.

55 A.239 van die Grondwet van SA 1996.

56 A.31(1)(b) van die Grondwet van SA 1996.

57 A.31(1)(a) van die Grondwet van SA 1996.

58 A.31(1)(b) van die Grondwet van SA 1996.

59 A.8(1) van die Grondwet van SA 1996.

60 A.36 van die Grondwet van SA 1996.

61 A.9(2),15(2)(a),25(2) en 29(2).

62 A.6 van die Grondwet van SA 1996.

63 Engels as lingua franca.

64 Naas Engels die tien amptelike tale soos gelys onder artikel 6 van die Grondwet van SA 1996.

65 A.11 van die Grondwet van SA 1996.

66 A.10 van die Grondwet van SA 1996.

67 A.9 van die Grondwet van SA 1996.

68 A.9(2) van die Grondwet van SA 1996.

69 A.12 van die Grondwet van SA 1996.

70 In ‘n volskaalse oorlog in Irak het die Amerikaanse regering sedert die aanvang van die oorlog sowat 4,000 professionele soldate verloor, maar in SA sterf sowat 20 000 burgers per jaar aan misdade oorsake.

71 A.25 van die Grondwet van SA 1996.

72 A.29(3) van die Grondwet van SA 1996.

73 A.31(1)(b) van die Grondwet van SA 1996.

74 Sien die sistematies-historiese interpretasie van artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis deur Zwaag, K. van der. 1999. Onderkort of gekortwiekt? Uitgeverij Groen-Heerenveen.

75 Küng, Hans. 1997. A Global Ethic for Global Politics and Economics. SCM Press Ltd.

76 A.31(1)(b) van die Grondwet van SA 1996.

77 Hoofstuk 2 van die Grondwet van SA, 1996.

78 Sien in hierdie verband Artikel 234 van die Grondwet van SA, 1996.