Owerheidsvorme en geregtigheidsprobleme in Bybelse perspektief1
ABSTRACT
Modes of government and judiciary problems in Biblical perpective
In this paper several types of governmental systems in use in ancient Israel are discussed, as well as their influence on religious justice. These governmental forms were often understood in terms of theocracy in the Old Testament. The paper aims to give an account of different forms of government in Biblical perspective to draw a conclusion whether theocracy was effective as a mode of government in ancient Israel, and whether democracy should be accepted as an exemplary governmental system in Christian society. In conclusion, it is argued that no theocratic governmental system ever was, or will be effective, if understood as a system with the absence of a formal government. It is also argued that no democratic system can be effective with the absence of and adherence to the guidelines of Biblical Scripture.
1. INLEIDING
Die moderne owerheidsvorme en demokratiese staatsbestel het in ‘n groot mate hul wortels te danke aan die antieke Griekse stadstate.2 Palmquist3 is van mening dat Aristoteles in die teorie van sy Politiek die grootste enkele rol gespeel het in die vestiging van die moderne demokratiese owerheidsvorm. Aristoteles was van mening dat die ideale politieke bestel op die mens se rede gebaseer moet wees. Dit behels die burgers se insae in wie oor hulle regeer en die regering se bereidwilligheid om na die mense te luister.
Gedurende die laaste dekades het baie Christene tot die slotsom gekom dat demokrasie die enigste Christelike politieke stelsel is.4 Omdat die Bybel ons leer dat daar niemand is wat goed doen nie, selfs nie een nie5 aanvaar ons dat enige regering waarin die “gewone burger” nie insae het nie, uiteraard ‘n slegte regering sal wees. Palmquist noem twee redes waarom ‘n demokrasie tog goed is: eerstens omdat erkenning gee aan die mens se neiging om magsbehep te raak, en dit probeer bestry. Tweedens omdat dit die mens se vryheid, in besonder die vryheid van godsdiens, beskerm. Beide hierdie redes is egter twyfelagtig, meen Palmquist, aangesien baie sogenaamde “demokratiese regerings” uiters magsbehep is, en verder kry ons nêrens in die Bybel die opdrag dat godsdiensvryheid ten alle koste nagestreef móét word nie. Inteendeel, die kerk se geskiedenis leer dat godsdiensvryheid dikwels aanleiding gee tot godsdienstige verval en geestelike afwatering, terwyl die vervolging van die kerk dikwels lei tot toenemende geestelike groei.
Aan die ander kant is sommige Christene steeds vandag van mening dat die moderne mens moet streef na ‘n teokratiese owerheidsvorm, soos wat in die tyd van Israel voor die monargale tydperk aan die orde was.6 Voorstanders van so ‘n soort teokrasie neem die standpunt in dat demokrasie in beginsel boos is.7
Christene wat die Augustynse “stad van God” tese navolg, aanvaar dat teokrasie8 die ware Bybelse politieke regeringstelsel in die Ou Testament was.9 Palmquist10 verwys na Dobson wat meen dat daar in die moderne teologie nie baie oor die konsep van teokrasie gepraat word nie, omdat dit ‘n verouderde Bybelse stelsel is wat lank gelede vir Israel gewerk het, maar wat nie in die moderne mens se politieke wêreldbeeld sal inpas nie. Heelwat van die navorsing oor teokrasie as politieke model word gewy aan historiese- of eksegetiese studies wat nie die aandag van die moderne leser trek nie, meen Palmquist.11 Dit gebeur weinig dat hierdie soort studies uitkom by die antwoord op die vraag of die politieke regeringstelsel in veral pre-monargale Israel teokraties was, en of die Bybel teokrasie as ideale regeringsvorm voorstel?
Een van die baie redes wat aangevoer kan word vir die verwaarlosing van die studie oor die toepassing van teokrasie as politieke model in die Bybel, kom gewoon daarop neer dat die idee van ‘n teokrasie ‘n Joodse agtergrond het. In sy studie wys Weiler12 dat die konsep van teokrasie as politieke model gegrond word op die Ou-Testamentiese Joodse tekste, terwyl Christene van die standpunt uitgaan dat demokrasie die ideale regeringsvorm in die Nuwe Testament is.
Die vraag word gestel of dit korrek is om te aanvaar dat die ideale regeringsvorm in Israel uitsluitlik teokraties was? Ek is van mening dat, indien die tradisionele verklaring van die begrip teokrasie aanvaar word – naamlik ‘n politieke bestel met die afwesigheid van
‘n burgerlike regering- dit nie die geval is dat Israel uitsluitlik teokraties was nie. Maar ek is van mening dat ‘n teokratiese politieke bestel wel in Israel gegeld het, mits dit verstaan word as ‘n politieke bestel gegrond op God se “reg”, en nie verstaan word as politieke bestel sonder ‘n burgerlike regering nie. In hierdie verband word verwys na die laaste woorde van die boek Rigters13 wat nie net verstaan moet word as ‘n beskrywing van die afwesigheid van sterk leierskap in Israel in dié tydperk nie,14 maar as ‘n openlike erkenning dat die bestaande regstelsel in die pre-monargale tydperk nie so effektief was nie.
2. ENKELE GEREGTIGHEIDSPROBLEME IN DIE OU TESTAMENT
Om te kategoriseer is ‘n basiese beginsel in die ordening van die menslike samelewing. Lakoff15 beskryf die mens se geneigdheid om te kategoriseer soos volg: ‘Every time we see something as a kind of thing…we are categorizing’. Alhoewel ons dus van mekaar kan, en waarskynlik sal verskil oor die inhoudelike van die begrip “reg” en “geregtigheid” in die Bybel as gevolg van konfessionele herkoms en –voorveronderstellings, is dit belangrik dat ons een of ander norm aanwend in terme van kategorisering van dié twee begrippe in die Ou Testament. Ek volstaan vervolgens met die benadering van Deist & Vorster16 oor die inhoud van dié begrippe in Bybelse perspektief. Daar moet verder ook in ag geneem word dat elke definisie van ‘n sosiale norm, en elke definisie van ‘n beginsel of ‘n aanname van die reg in die Ou Testament, slegs die ideologiese reël weergee, en nie noodwendig so deur elke samelewing toegepas is nie.
Wanneer na die begrip reg in die Ou Testament gekyk word, moet ons in ag neem hoe die reg in die hele samelewingsverband funksioneer. Elke regstelsel is altyd deel van die gemeenskap waaruit dit voortkom, en waarin dit funksioneer. Terwyl die orde wat daar in die diereryk is, die gevolg is van hulle instinktiewe optrede, is die menslike reg aangeleer, en word dit oorgedra van geslag tot geslag.
Dit kan wel aanvaar word dat die reg, soos dit in die Ou Testament weergegee word, deur die Ou-Testamentiese samelewing eerbiedig sou word, ooreenkomstig die verbond wat Jahwe met hulle gesluit het (Ek sal vir julle ‘n God wees, en julle moet vir My ‘n volk wees – Gen. 17:7). Die implikasie van hierdie verbond is dat Israel aan God verantwoording moes doen vir al hul dade.17 Volgens Deist & Vorster kan daar in dié verband in die Ou Testament ‘n tweërlei regstelsel aangetref word, naamlik die bo-persoonlike / onpersoonlike reg en die persoonlike reg.
2.1 Bo-persoonlike of onpersoonlike reg (goddelike reg)
In die Ou Testament word daar rekening gehou met regsbeginsels waaraan alles en almal: mens, dier, plante, selfs die gode aan God ondergeskik was. Daar is ‘n gegewe orde waaraan die natuur en die mens onderworpe is.
Die onpersoonlike reg is, soos die naam aandui, ‘n reg wat nie aan ‘n sekere persoon of instansie gekoppel kan word nie, maar aan ‘n hoër reg. In die Kanaänitiese mitologie gehoorsaam ook die gode hierdie orde: As die herfs kom, gaan Baäl, die vrugbaarheidsgod, na die onderwêreld, en word eers in die lente weer bevry. In die herfs regeer die god Mot.18 Die profete in die Ou Testament het meestal ‘n vergeefse stryd teen die Baäl-godsdiens gevoer, en daarom kan aangeneem word dat hierdie siening ook met tye in Israel gedeel is.19
In Job word God dikwels voor die “gereg” gedaag, sodat sy regverdigheid getoets kan word.20 Die probleem wat Israel dikwels met hierdie regsbeginsel gehad het, was dat niemand hierdie beginsel ten volle kon nakom nie, omdat dit ‘n regsbeginsel was waaraan die mens maar net tydelik kon verantwoord, en waaraan selfs God “gebind” was. Dit gaan in die onpersoonlike reg nie alleen om ‘n etiese regsbeginsel nie, maar vra van die mens dat hy in harmonie met die transente, die immanente en die natuur leef.21 Daarom word die rituele en rites so getrou uitgevoer, want chaos bedreig altyd die orde, en chaos in die mens se lewe is ‘n oortreding van die bo-persoonlike regsbeginsel.
Die Tora onderskei tussen wat heilig en wat profaan is22, en verplig tot die uitvoering van seremonies en rites deur die priesters en leke23. Hierdeur word die nakoming van die onpersoonlike reg beantwoord, maar die oortreding van die Wet van die Here is ‘n direkte oortreding van die bo-persoonlike reg, en moet daarom gestraf word, om harmonie tussen God, mens en natuur te verseker. Deist en Vorster (1986:179) is van mening dat dit hieruit duidelik is dat die Ou Testament te doen het met ‘n regsbeginsel wat ook as natuurreg beskryf kan word, met ander woorde: ‘n reg wat uit die alledaagse lewe afgelei moes word (en uit die Tora). Net ‘n dwaas sou die reg uittart, terwyl dit wys is om jou by die neergelegde reëls te hou. Die oortreding van die taboes in die samelewing het outomaties die straf van die Here oor die samelewing gebring. Daarom was die oortreding van ‘n taboe onmiddellik met die dood strafbaar, of met verbanning uit die gemeenskap.24
Waarop dit dus neerkom is dat Israel in ‘n teokratiese bestel aan God verantwoording moes doen vir hulle onregverdigheid, maar dat die behoefte aan wetstoepassing nie onderskat kan word nie.
2.2 Die persoonlike reg
Die persoonlike reg is ‘n regsbeginsel wat algemeen in die Ou Testament aangetref word.
Die persoonlike reg impliseer dat die indiwidu en die gemeenskap in sy optrede teenoor ‘n persoonlike regsinstansie verantwoording moet doen. Alle reg, ook die offervoorskrifte, staan onder die bevel en gesag van God. In die persoonlike regsperspektief kan God nie tot die gereg gedaag word nie, omdat Hy die Soewereine is, wat betroubaar en regverdig is.
Die persoonlike reg sou impliseer dat wat God doen reg is en voorts is “reg” gehoorsaamheid aan God se reëls en wette. Die doen van die wette van die Here word nou die etiek van die samelewing.
Die mens is verantwoordelik vir hulle optrede teenoor mekaar en teenoor die skepping, omdat God dit van hulle eis:
a) God is die Wetgewer
Die mag wat die koning, die staat en die indiwidu besit, is afgelei van die mag wat die Here aan hulle gee.
b) God is self die Wetstoepasser
Die reg is aan die mens gegee vir hulle beskerming, en hulle onderhoud, maar God eis verantwoordelikheid.
3. DIE JOODSE OPVAT TING OOR REG EN GEREGTIGHEID
Die basiese konsep van die Jode aangaande die skeppende samewerking tussen God en die mens, is dat die mens onderdanig is aan God, wat beteken dat die mens op twee maniere “reg” moet handel:
a) Reg (mishpat) – wat beteken dat die mens, met inagneming van die Goddelike Raad (eidah), oor die skepping heers.
b) Regverdigheid (tsedaqah) wat inhou dat die mens sy oordeel oor reg en verkeerd, so sal gebruik, dat dit in ooreenstemming met die Raad (eidah) van God is (m.a.w. in God se Wil).
Volgens die Ou Testament het God die reg (mishpat) eers na die sondvloed aan die mens gegee, nadat God met die mens ‘n verbond gesluit het.25 In Genesis 9 gee God dit aan die mens deur ‘n belofte dat Hy respek het vir menselewens en die lewens van die diere. Om hierdie respek vir die lewe verder uit te brei, verbied God die mens later in die Pentateug om dierebloed te drink,26 want bloed is die simbool vir lewe (nefesh). Vervolgens word die doodstraf ingestel op dié mens óf dier, wat onnodig bloed vergiet.27 God se eis van reg en regverdigheid word ingestel sodat die reg van die Woord van God afhang, en regverdigheid aan die uitleef daarvan. Reg is daarom nie kreatief, mensgemaak, en menslik toegepas nie, maar afdwingbaar.
So is die reg (mishpat) van God deur die patriargale tydperk toegepas op elkeen wat die verbond van God met die mens verbreek. In ooreenstemming met God se verbond met die aartsvaders, word die dekaloog ingelui deur die bevestiging: 28
Daarom is elkeen wat Jahwe as hulle God erken, gebind deur sy “reg en regverdigheid”,29 en dit bepaal hulle optrede teenoor die indiwidu, die gemeenskap en die owerheid.30 Dit is dus duidelik dat die opdrag om “reg” te lewe en “regverdig” te wees vir Israel afdwingbaar was. Die vraag bly egter: hoe het Israel hierdie reg in die praktyk afgedwing indien hulle alleen op ‘n teokratiese politieke bestel aangewese was?
4. DIE AFDWINGBAARHEID VAN REËLS EN WET TE IN DIE PERSOONLIKE REGSISTEEM
In die geskiedenis van Israel was daar verskillende wetstoepassers wat deur die Here aangestel is om die reg en geregtigheid te handhaaf. Die mens se verantwoordelikheid teenoor die samelewing en die skepping, is deur hierdie regsinstansies beheer, en gestraf. Soos gemeld was hierdie regsinstellings weer op hulle beurt aan God verantwoording verskuldig.
De Vaux31 neem die standpunt in dat Israel nie sonder ‘n burgerlike regering (selfs in die pre-monargale tydperk) sou kon funksioneer nie, aangesien die mens nie die vermoë het om los van ‘n verantwoordelike regsinstansie met regverdigheid op te tree nie. Voordat Israel oorgegaan het tot ‘n outokratiese politieke bestel (en selfs daarna) was daar verskeie regsinstansies verantwoordelik vir die toepassing en handhawing van God se “reg”, onder meer die volgende:
a) Familieregerings
‘n Familie bestaan uit ‘n familiehoof met sy geslag, tot in die derde en vierde geslag en al húlle kinders, en kindskinders en huishoudings. Die familiehoof is die patriarg, bygestaan deur die familiehoofde van die ander kleiner gesinne.
b) Sibberegerings (“clans”)
Dit is ‘n aantal uitgebreide gesinne. Die patriarge van die verskillende gesinne vorm die raad van die oudstes, en die hoof van die belangrikste familie, is die hoof van die sibbe. Wanneer iemand die wet van Jahwe oortree het, is hy voor die oudstes in die stadspoort gedaag32.
c) Multisibberegerings
Dit is ‘n aantal bloedverwante sibbes. Die patriarg van die mees senior sibbe sou die hoof wees. Dit wil voorkom of hierdie tipe regering tydens die Rigterstyd die reg in Israel gehandhaaf het.
d) Stamregering
Hierdie regering het bestaan uit‘n aantal multisibbes, nie noodwendig meer bloedverwant nie, wat veral tydens militêre bedreiging regeer het.
e) Formele regering
Die formele regering was die staat, wat die reg van die indiwidu moes handhaaf. Hierdie regering word veral in die koningstydperk aangetref.
Palmquist merk tereg op: “a true theocracy would look very much like anarchy”33 en daarteenoor meen Mueller (aangehaal deur Palmquist34): “a permanent form of human government and theocracy are incompatible with each other”. Dit is uit die bogemelde duidelik dat ‘n teokratiese politieke vir Israel nie beteken het die afwesigheid van ‘n plaaslike regsinstansie nie. Vir hulle het die term eerder verwys na die toepassing van God se “reg” deur verantwoordelike instansies. Uit die bostaande moet afgelei word dat, al het die regeringstelsels in Ou Israel gewissel, die regeringsmag steeds direk van die Here kom, en die mens daarom met verantwoordelikheid teenoor die samelewing moes optree. Die taboe-reg het dus gegeld in die vorm van wetstoepassers, wat die bo-persoonlike/transendente (God) verteenwoordig het. Ek is dus van mening dat die teïstiese inspraak in die ordening van die samelewing ‘n fundamentele rol speel, en juis in die samelewing behoort die kerk se profetiese roepstem gedurigdeur op te klink.
5. SAMEVAT TING
Dit is duidelik dat die Bybel nie uitsluitlik ‘n teokratiese owerheidsvorm in die Augustynse “god- staat” idee voorskryf nie. God se reg het gegeld, maar is toegepas by wyse van verskillende regeerders en wetstoepassers. Dit is verder duidelik dat ‘n suiwer teokrasie as gevolg van die sondigheid van die mens en in besonder die mens se magsbeheptheid nie moontlik is nie.
Vervolgens is dit in die lig van die regsperpektiewe in die Bybel voor die hand liggend dat alle politieke modelle óf goed óf sleg is, afhangend van hoe hulle God se Woord gehoorsaam.
Dit wil dus tog lyk of demokrasie die Christelike oplossing is vir die probleem met betrekking tot die toepassing van reg en geregtigheid in die samelewing. Die sukses van ‘n demokratiese owerheid mag egter nie gemeet word aan die handhawing van vryheid of aan hul ekonomiese sukses nie. ‘n Demokratiese owerheid se sukses moet ook gemeet word in hoe ‘n mate hulle hul onderwerp aan die gesag van God. Daarom behoort ‘n demokratiese owerheid wat God se gesag minag voortdurend vermaan te word om gehoorsaam te bly aan God se reg. Die ideale Bybelsgefundeerde owerheidsvorm is dus myns insiens‘n teogesentreerde demokratiese owerheidsinstelling.
BIBLIOGRAFIE
Deist, F.E. & Vorster, W. 1986. Woorde wat ver kom. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.
De Fraine, J. 1963. Genesis, Exodus. J.J. Romen & Zonen uitgewers.
De Vaux, R. 1973. Ancient Israel. It’s life and institutions. London: Darton, Longman and Todd.
De Tigliettem, A. 2007. Kingdom of God vs. Democracy. Aanlyn beskikbaar by: http://www.alba trus. org/english/living/kingdom/kingdom_vs_democracy.htm
Jamieson, R. 1871. “Commentary on Judges 21”. In: Commentary Critical and Explanatory on the Whole Bible. Aanlyn beskikbaar by: http://www.studylight.org/com/jfb/view.cgi? book =jud&chapter=021
Lakoff, G. 1987. Woman, Fire and Dangerous Things: What categories reveal about the mind. Chicago: University of Chicago Press.
Mathew, V. K. 1969. Ancient Theocracy. Bombay: Logos Publications.
Palmquist, S. 1993. Biblical Theocracy: A vision of the biblical foundations for a Christian political philosophy. Philopsychy Press.
Palmquist, S. 1995a. Theocracy and Ecclesiocracy in Jewish Religious history. Aanlyn beskikbaar by: http://www.hkbu.edu.hk/~ppp/bth/bthA.html. Toegang: 17 Oktober 2007.
Palmquist, S. 1995b. A Philosophical Framework for Political Systems. Aanlyn beskikbaar by: http://www. hkbu.edu.hk/%7Eppp/bth/bth1.html. Toegang: 17 Oktober 2007.
Palmquist, S. 1993c. Democracy and Christian Politics. Aanlyn beskikbaar by: http://www.hkbu.edu. hk/%7Eppp/bth/bth2.html. Toegang: 17 Oktober 2007.
Papakyriakou, E. 1997. Ancient Greek Cities. Aanlyn beskikbaar by: http://www.sikyon.com. Toegang: 15 Oktober 2007
Petersen, A. 1944. Theocracy or Democracy? New York: Labor News.
Rapp, S. 1991. God’s Country: A Case Against Theocracy. New York: Harrington Park Press.
Taubes, J. (red.).1987. Theokratie. Munchen: W. Fink.
VanHorn, S. 2007. Pure Democracy is Evil. Aanlyn beskikbaar by: http://www.albatrus.org/eng lish / goverment/democracy/pure%20democracy%20is%20evil.htm. Toegang: 15 Oktober 2007
Weiler, G. 1988. Jewish Theocracy. Leiden: Brill.
TREFWOORDE
Regstelsel Teokrasie Demokrasie, Geregtigheidsprobleme Bo-persoonlike reg, Persoonlike reg
KEY WORDS
Judicial system, Theocracy, Democracy, Personal justice, Impersonal justice
KONTAKBESONDERHEDE:
1 Referaat gelewer ter inleiding van die Kerk-staat konferensie, 29 Oktober - 2 November 2007, by die Universiteit van Stellenbosch.
2 Papakyriakou (1997:internet)
3 Palmquist (1995c:internet)
4 Palmquist (1995b:internet)
5 Psalm 14:3
6 De Tigliettem (2007:internet)
7 Vergelyk byvoorbeeld die standpunte oor demokrasie van De Tigliettem (2007:internet) en van Horn (2007:internet).
8 Teokrasie is ‘n vorm van regering waarin ‘n transendente mag die aardse mens regeer, hetsy deur ‘n persoonlike verteenwoordiger, of meer algemeen deur godsdienstige instellings (bv. die kerk). Teokrasie vervang die burgerlike regering.
9 Palmquist (1993:194)
10 Palmquist (1995a:internet)
11 Palmquist (1995a:internet)
12 Weiler (1988)
13 Rig. 21:25 – “In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë”
14 Vergelyk: Jamieson (1871:internet)
15 Lakoff (1987:5)
16 Deist & Vorster (1986:178 vv.)
17 Deist & Vorster (1986:178)
18 Deist &Vorster (1986:178)
19 Vergelyk De Vaux (1961:143).
20 Die lydingsvraagstuk in die Ou Testament word gegrond op die siening dat God aan ‘n hoër reg verantwoording moet doen
21 Vergelyk Deist & Vorster (1986:180)
22 Vergelyk Lev. 11
23 Vergelyk Lev. 1, 3, 6 en 7
24 Vergelyk Eks. 21:12, 15-17
25 Gen. 9:1-17, en veral verse 11-13(a): “En Ek rig my verbond met julle op, dat alle vlees nie meer deur die waters van die vloed uitgeroei sal word nie, en dat daar geen vloed meer sal wees om die aarde te verwoes nie… my boog gee Ek in die wolke…”
26 Vergelyk Lev. 7: 26-27
27 Eks. 21:12-36
28 “Ek is Jahwe jou God, wat jou uit die land van Egipte, uit die slawehuis uitgelei het”. Eks. 20:2–vry vertaal.
29 Regverdigheid het bedoel: om reg te lewe (om heilig te wees) en om ooreenkomstig die owerheid se standaard te lewe, wat op hul beurt weer verantwoording doen aan Jahwe.
30 De Fraine (1963:149-150)
31 De Vaux (1961:143-160)
32 Vergelyk Gen. 23:10,18; Amos 5:10, 12, 15; Jes. 29:21; Sag. 8:16
33 Palmquist (1993:45-46)
34 Palmquist (1995a:internet)