Die geheim van die prediking: een-stemmigheid op die kansel1
ABSTRACT
The mystery of preaching: a blending of voices on the pulpit
This paper contends that preaching is a speech act in which at least four voices need to blend together in a theologically integrated way, namely the voice of the preacher, the voice of the biblical text, the voice of the congregation and the voice of God. It argues that preaching still has a pivotal role to play in and through the ministry of the congregation, and that it in fact provides an unsubstitutible insight into the spiritual and theological state of the church. Albeit an introduction, it tries to explore the homiletical implications of the relationship between the above-mentioned voices, by considering the pneumatological basis of this relationship, the consequences of a disintegration of the relationship, as well as the dynamics of the phenomenon called “voice”. The paper concludes with a definition of preaching.
1. INLEIDING
Daar word vertel dat die bekende humoris Mark Twain by geleentheid in die kerk was en na afloop van die diens vir die dominee gesê het: “Ek het hierdie preek van u al vantevore gehoor. Trouens, ek het dit al ’n páár keer gehoor.” Die dominee het dadelik begin om homself te verweer en geantwoord: “Nee, dis onmoontlik. Al my preke is oorspronklik. Ek het hierdie preek die afgelope week self met groot moeite gemaak en dit vandag vir die eerste keer gepreek. U het dit beslis nog nie vantevore gehoor nie.”
“Ons sal sien,” het Mark Twain met die kenmerkende vonkeling in die oog opgemerk en hy is daar weg. Die volgende dag daag daar ’n pakkie by die dominee se voordeur op, netjies toegedraai. Toe hy dit oopmaak, sien hy dat dit ’n dik woordeboek is. Binne-in die woordeboek het Twain ’n stukkie papier gesit waarop geskrywe was: Woorde, net woorde, net woorde …
Die dominee het met die woordeboek in sy hand gestaan en skielik was hy sónder woorde. Hy het geweet: Twain is reg. Ons preke bestáán uit woorde. Meestal mooi woorde, belangrike woorde, goed gekose woorde. Uit ’n sekere perspektief gesien, sou ons selfs moes sê: Ons preke is niks ánders nie as ’n redevloed, as ’n stroom van woorde wat ons monde verlaat en op die koppe en in die ore van ons toehoorders neerreën. Dit kan ook nie anders nie: Waar gepreek word, kom woorde ter sprake. Wie op die kansel klim, klim primêr daarop om te práát, om die woord te voer.
Maar … is dit ál? Bestaan ons preke bloot uit woorde, woorde, net woorde – of is daar ’n ander dimensie, ’n dieper geheim agter, of binne, die woordoppervlak? Die vraag is: Hoe moet die stroom van woorde vloei; hoe moet die woorde gebundel word om werklik ’n préék te vorm? Wat maak ons preke wérklik Woordryk?2
2. PREDIKING: DIE HART VAN DIE KERK
Dus: Wat ís ’n preek? En: Help dit nog om te preek? As basiese uitgangspunt bely ek: Ek gló aan die prediking. Ek glo dat dit steeds ’n belangrike funksie het om te vervul in die bediening in en deur die gemeente. Die kerk sou geweldige skade lei as die prediking op die een of ander manier gedevalueer of afgeskeep sou word, indien ons in ons pogings om te vernuwe nie ook grondig na die prediking sou kyk nie. Trouens, navorsing het getoon dat die prediking basies en sentraal in die opbou van die gemeente is, dat opbou nie sonder die prediking kán gebeur nie (Nel 2001:5). Die prediking moet wel nie oorskat word nie, maar dit moet ook nie onderskat word nie. Die gemeente is meer as die erediens, en die erediens is meer as die preek. Preke is slegs kort, beskeie tekste, maar dis verbindende tekste tussen die Bybelse getuienisse van wat God gedoen het, maar ook tussen die dade wat Hy tans in ons midde doen (Den Dulk 1999:28).
Die prediking is wesenlik vir die welwese van die kerk, en tog wil dit voorkom asof daar ’n degenerasie juis ten opsigte van die prediking aan die plaasvind is. John Bluck, ’n kommunikasiewetenskaplike, maak die opmerking dat die prediking op feitlik al die wesenlike punte van goeie kommunikasie besig is om die stryd te verloor en trouens presies omgekeer word:
• as openbare gebeure (die prediking verloor al hoe meer betekenis vir die breë publiek, verloor sy “public appeal”);
• as kunsvorm wat meer as een gestalte kan aanneem (die prediking word al hoe meer eenvormig en gewoon vervelig);
• as gebeurtenis wat plaasvind ter wille van en in ’n sin behoort aan die gemeente (die prediking word in toenemende mate individualisties, word die “eiendom” van die prediker), en
• as ’n daad van geloof waarin die prediker se eie oortuigings ook op die tafel geplaas word (die prediker word ’n “professionele” redenaar, wat die boodskap “objektief” as kerklike funksionaris kan oordra) (1989:33).
Hierdie degenerasie is ’n hartseer realiteit, maar tog sou ek die prediking steeds die hart van die kerk (Luther: cor ecclesiae) wou noem. Preke is ’n vertoonvenster, of ons nou daarvan bewus is of nie. Dit bly juis ’n soort barometer van die kerk wat die gesondheidstoestand van die kerk verraai. ’n Mens sou met reg kon sê: Só prediking, só kerk; só kerk, só prediking. In konkrete preke kulmineer baie dinge: predikers se dogmatiek, etiek, Skrifbeskouing, historiese bewussyn, pastorale en eksegetiese vaardighede, hermeneutiese vermoëns, psigiese, emosionele en geestelike volwassenheid en nog veel meer. Konkrete preke skilder ’n reënboog van teologiese en kerklike (en daarom menslike!) aktiwiteite – kleurvol en opwindend, of vaal en vervelig. Dit kan óf getuig van regenerasie óf van degenerasie.
3. DIE GEHEIM VAN DIE PREDIKING: EEN-STEMMIGHEID OP DIE KANSEL
Waarin lê die verskil? Wat is die geheim van die prediking? Daar bestaan geen resep nie. Wie “geheim” in bogenoemde titel as “resep” verstaan, het dit verkeerd gelees. Daar ís nie so iets soos ’n retoriese tienpuntplan wat ons almal met ’n towerslag (oornag – meestal Saterdagnag!) in preekmeesters kan omskep nie. Daarom bied ek dit wat volg ook met huiwering aan, met die wete dat dit voorlopig en fragmentaries is, terwyl die woorde van Augustinus oor die prediking net sowel uit hierdie perspektief op die prediking geld:
“En ek … wat dit op my geneem het om met julle te praat, dink julle daaraan wie ek is, en wat ek op my geneem het. Want ek het dit op my geneem om Goddelike dinge te verkondig – en ek is ’n mens; geestelike dinge – en ek is vleeslik; ewige dinge – en ek is sterflik … Na my maat ontvang ek wat ek aan julle bedien. Wanneer geopen word, wei ek saam met julle; wanneer die deur gesluit is, klop ek saam met julle” (vgl Van Oort 1991:8; ook 1989:85).
In die prediking, soos ek reeds gesê het, gaan ’n verskeidenheid van aktiwiteite deur die tregter van die verkondiging. ’n Mens sou ook kon sê: In die prediking vind daar, bewustelik of onbewustelik, ’n “vermenging” van minstens vier soorte tale of grammatikas plaas, vloei dit saam in die woordstroom, naamlik die stem van die prediker, van die Bybelteks, van die gemeente (konteks) en van God. Die baie woorde waarvan Mark Twain gepraat het, sou op ’n empirieslinguistiese vlak gesien, breedweg in hierdie vier kategorieë geplaas kon word. Dis immers ’n prediker wie se stem vanaf die kansel opklink, ’n stem waardeur die persoon van die prediker bewustelik of onbewustelik voorgestel word. Daar word tog uit ’n Bybelse teks aangehaal of gedagte-inhoude daarvan weergegee, sodat die stem van die teks hoorbaar mag word. Daar is – hopelik – ’n wisselwerking tussen prediker en gemeente, wat veronderstel dat die prediker in die preekmaakproses na die stem van die gemeente geluister het. En daar word normaalweg gepreek met die veronderstelling of geloof dat God self op die een of ander manier in dit alles ter sprake sal kom en dat sy stem hoorbaar sal word. Die geheim van die prediking het na my wete veel te make met die manier waarop hierdie woordkategorieë met mekaar in verband staan en teologies geïntegreer word, met die wyse waarop hierdie stemme mekaar vind om akkoord te gaan en eenstemmig te wees. Dat dít egter nie ’n maklik oplosbare geheim is nie, daarvan sal enige ervare prediker kan getuig.
Daar is ’n hele aantal homilete wat aanvaar dat bogenoemde vier faktore wesenlik vir die preekmaakproses is. Van der Geest (1981:62) en Wardlaw (1988:64) konsentreer meer op die drie uiterlike konstituente, naamlik prediker, teks en gemeente, maar gaan tog van die veronderstelling uit dat God op die een of ander wyse deur sy Gees in die prediking ter sprake (moet) kom. Ander, soos Patte (1984:21 ev), Craddock (1985:22 ev), Bailey (1991:60) en Bohren (1971:547 ev) gebruik die vier elemente eksplisiet in hulle homiletiese refleksie – laasgenoemde veral ook wanneer hy ’n raamwerk vir die preekanalitiese metode voorstel.
Dis interessant om daarop te let dat ook die preekdefinisie van Karl Barth – alreeds in 1961 geformuleer – iets van hierdie vier komponente bevat en dat Barth dus nie, soos dikwels beweer word, geen ruimte gelaat het vir die menslike element met sy beklemtoning van die openbaringskarakter van die prediking nie. Die opmerksame leser sal bogenoemde vier “pilare van die prediking” sonder veel moeite in die volgende kan herken:
1. “Preaching is the Word of God which he himself has spoken; but God makes use, according to his good pleasure, of the ministry of a man who speaks to his fellow men, in God’s name, by means of a passage from Scripture. Such a man fulfils the vocation to which the Church has called him and, through his ministry, the Church is obedient to the mission entrusted to her.
2. Preaching follows from the command given to the Church to serve the Word of God by means of a man called to this task. It is this man’s duty to proclaim to his fellow men what God himself has to say to them, by explaining, in his own words, a passage from Scripture which concerns them personally” (1964:65).
Daar word algemeen aanvaar dat daar ’n sinvolle en teologies-verantwoorde samehang tussen die vier komponente gevind moet word. Maar hoe? Hoe weet ons of en wanneer die konvergensie plaasgevind het? Wat bepaal die punt of oomblik van fusie? Hieroor drie opmerkings:
3.1 Een-stemmigheid as gawe van die Gees
Is dit iets wat jy hoegenaamd kán of móét analiseer? Is dit nie eerder iets wat jy maar net as gawe kan ervaar en daarom verwag nie? D Martyn Lloyd-Jones skryf byvoorbeeld – uit evangelikale hoek – in dié trant oor die werking van die Gees in die prediking: “How do we recognize this when it happens? Let me try to answer. The first indication is in the preacher’s own consciousness … You cannot be filled with the Spirit without knowing it … How does one know it? It gives clarity of thought, clarity of speech, ease of utterance, a great sense of authority and confidence as you are preaching, an awareness of a power not your own thrilling through the whole of your being, and an indescribable sense of joy … What about the people? They sense it at once; they can tell the difference immediately. They are gripped, they become serious, they are convicted, they are moved, they are humbled … What then are we to do about this? There is only one obvious conclusion. Seek Him! Seek Him! … But go beyond seeking Him; expect Him” (1976:324-325).
Sonder twyfel lê die geheim van die prediking in die werking van die Gees. Die geheim van die prediking – die teologiese integrasie van die stemme – is ten diepste ’n pneumatologiese geheim. Die stem van die prediker, van die teks en die gemeente word deur die Gees saamgesnoer om stem van God te wees. Dit ís so. Maar, alhoewel hierdie geloofsbelydenis waar is en net maar beaam kan word, help dit ons metodologies gesproke nie veel verder nie. Kan ons iets meer doen as soek en verwag? Of anders, meer positief, gestel: Is dit nie juis die pneumatologie wat aan ons die vryheid skenk om hierdie soeke en verwagting metodologies in te kleur nie? Gees en metode mag tog nooit teenoor mekaar te staan kom nie (Bohren 1971:76 ev).
3.2 Teen-stemmigheid as teologiese disintegrasie
Of, dalk kom ons ’n ent nader aan die geheim van die integrasie van die stemme wanneer ons let op die teenpool – waarvan daar oorgenoeg voorbeelde is. Moontlik kom die integrasie juis helderder in die lig wanneer ons die verskynsel van disintegrasie onder die vergrootglas plaas. Want wanneer hierdie verhouding, hierdie integrasie na die een of ander kant skeef getrek word, ly die prediking skade, word dit trouens in sy wese aangetas – en kan dit preekanalities aangetoon word.3 Breedweg gesproke kan dit byvoorbeeld gebeur
• as die prediker sy of haar eie stem (of geselekteerde teologiese temas) liefhet bo enigiets anders. Dan smoor die prediker se stem die ander stemme in die preek en word dit ’n alleenspraak.
• as die preek bloot uit “korrekte eksegese” van die Bybelteks bestaan. Dan word dit onmenslik, sonder die vlees-en-bloed-getuienis van die prediker en die konteks van die gemeente – dikwels onder die illusie dat dit “net die Bybel is” wat ons verkondig.
• as die stem van die gemeente, oftewel konteks, alle ander stemme oordonder. Op die oog af kan sulke preke aktueel klink, maar die uiteinde is dat die evangelie-vir-die-tyd verlore gaan.
• as die prediker “die stem van God’ voorhou asof dit loodreg uit die hemel na ons toe kom, sonder enige menslike of kontekstuele verpakking. Die gevaar is dikwels dat sulke predikers geen teenspraak of teenstem duld nie, dat hulle nie leerbaar is nie en trouens dikwels hulle eie bedieningsonbevoegdhede agter ’n waas van goddelikheid wil verberg.
3.3 Die stem as dinamiese fenomeen
Oor die disintegrasie van die stemme kan ons dus preekanalitiese opmerkings maak. Die teenstemmigheid, oftewel homiletiese polifonie (en soms kakofonie), is op bepaalde punte aanwysbaar. Kan ons daaruit positiewe en inhoudelike afleidings maak vir ’n preekmaakproses waarin die stemme kongruent is? Eers ’n algemene opmerking: Oor elkeen van hierdie stemme sou daar uiteraard homiletiese boekdele geskryf kon word. Die ruimte daarvoor ontbreek hier.4 Hopelik sal ’n beter begrip van die onderskeie rolle en funksies van die stemme alreeds die teologiese integrasie daarvan dien. Wat volg, is dus hoogstens penstrepe, inleidende opmerkings oor die relasie tussen die vier stemme.
Met die teologiese integrasie van die stemme bedoel ek nie dat hulle min of meer in balans gebring moet word of dat hulle noodwendig altyd dieselfde gewig moet dra nie. Die samesmelting van stemme is nie soos ’n chemiese vermenging waarin die bestanddele in presiese gelyke mate of gewigte ingevoeg word nie. Die stemme is nie dooie stowwe nie, maar ’n lewende fenomeen, wat onderlinge verhoudings veronderstel.
Ek het ’n doelbewuste keuse gemaak vir die begrip stem, ’n begrip wat na my mening nog nie genoegsaam vir die homiletiek ontgin is nie. Rondom die woord stem ontspring ’n wye semantiese veld, met begrippe soos “instemming”, “eenstemmigheid”, “stemreg”, “stemloos”, “buite stemming bly”, “om stemming te skep”, “stemmingsvol”, “stemmig”, ensovoorts – alles begrippe wat onderstreep dat die stem ’n lewende fenomeen is. Dis meer as woorde of begrippe op papier. ’n Stem bevat iets persoonliks; in die stem word die identiteit van die persoon wat praat, uitgedruk (vgl Möller 1996:33-36). Trouens, ’n mens sou selfs kon sê dat as jy nie die stem van die ander hoor nie, daar normaalweg nie ’n ware ontmoeting met die persoon kan plaasvind nie. Om byvoorbeeld ’n brief te lees is nie dieselfde as om ’n lewende ontmoeting met iemand deur die hoor van sy of haar stem te hê nie.
In terme van die prediking beteken dit: Die prediker se stem bemiddel iets van sy of haar persoonlikheid en hopelik van die ontmoeting wat hy of sy as persoon met God gehad het. Dit verklank dus iets van die feit dat die prediker die stem van God gehoor het, deurdat hy of sy iets van God se Persoon ervaar het. Maar, waar hoor die prediker die stem van God? In die Bybelteks. Maar om die stem van God in die Bybelteks te hoor beteken meer as om net eksegetiese of historiese of linguistiese informasie daaruit te kry. Die bedoeling van die Bybelteks is om God se lewende stem te verwoord en so tot ’n ontmoeting met Hom as Persoon te lei. Luther noem hierdie stem van God in die Bybelteks die viva vox evangelii, die lewende stem van die evangelie (vgl Meuser 1983:55). Hierdie stem moet jou as prediker, as persoon, in ’n dinamiese, lewende ontmoeting aanspreek, só dat jy as prediker self nou ’n stem verkry om te praat. Die Bybelteks is die lewende stem van God wat op Skrif gestel is, ’n stem wat in ’n historiese situasie, in die tweegesprek tussen God en sy mense opgeklink het. Hierdie lewende stem moet as ‘t ware telkens herontdek word, telkens weer by in-gestem word (vgl Van der Velden 1989:126). Daarom mag die eksegetiese, historiese en linguistiese arbeid aan die teks nooit ’n doel op sigself word nie, maar eerder ’n manier waarop jy jou ore dig teen die teks hou, totdat die lewende stem wat in die Skrifte verborge is opnuut gehoor word en God so ontmoet word. Prediking is, met eerbied gesê, om soos die hond in die ou advertensie skeefoor na die grammofoon te luister, totdat jy “His Master’s voice” hoor. Deur die kraakgeluide van die historiese afstande heen herken jy die stem van die lewende Meester. Kortom, geen prediker mag preek sonder só ’n ontmoeting met God in die teks nie (Iwand 1964:19). Geen prediker word mondig sonder om die woorde wat lewe gee uit God se mond te hoor nie.
Maar die gemeente het ook ’n (unieke) stem. Die prediker moet leer om werklik aandagtig na hierdie stem te luister. Om bloot ’n aantal statistiese gegewens oor ’n gemeente te versamel is nie dieselfde as om die lewende stem van die gemeente in haar spesifieke konteks te hoor opklink nie. Inderdaad, te veel predikers hoor nooit die spesifieke stem van die gemeente nie en praat dus te vinnig met pasklaar antwoorde by die gemeente verby. Daar vind geen resonansie, geen samevoeging van stemme plaas nie, omdat daar nooit ’n lewende ontmoeting was nie. Maar, as daar nie so ’n ontmoeting tussen prediker en gemeente plaasvind nie, word die een-stemmigheid verder verbreek: Die prediker kan dan ook nie die stem van die teks as die stem van God aan die gemeente verklank nie.
Want hieroor gaan dit tog in die samevoeging van ál die stemme: dat God se stem gehoor sal word. Hierdie “laaste” stem is nie die minste nie, maar die drakrag, die integrasiepunt van al die ander stemme. Hierdie stem gee aan die prediker, die teks en die gemeente stem-reg. Sonder hierdie stem is die prediking stem-loos.
Of dalk net goeie teater. Athol Fugard het onlangs tydens ’n gesprek met Dali Tambo5 daarop gewys dat ’n teaterstuk ’n “life-changing experience” kan word as daar drie komponente teenwoordig is en as daar ’n gelukkige sinergie tussen hierdie komponente kan plaasvind: die boodskap van die teks (“script”), die passie van die speler(s) en die bereidwilligheid van die gehoor om hulle hierin te laat meeneem. Dit ís so – in soverre dit teater betref. In die prediking gaan dit egter oor meer. Daar kom ’n vierde faktor by wat die prediking juis uniek maak, naamlik die geheimenis van die stem van God.
Om te preek, is om meer as net informasie oor God aan ander oor te dra; dis die performasie van God se stem, deur die historiese afstande, die newels van onbegrip en die doofheid van die ore heen. Ja, wie ore het en kan hoor, moet luister (Luk 8:8). ’n Preek is veel meer as die oordra van religieuse informasie, ook veel meer as woorde op ’n geskrewe manuskrip. Dis eerder ’n woord – en Woordgebeure, ’n stemgeklank, eenmalig en uniek. Preke kan in werklikheid nie herhaal word nie, nie oor-gepreek word nie. Want God se stem is nie staties nie, nie gefikseer in tyd en plek nie, maar histories, kontingent, lewend en verlossend. Preke is meer as begrippe of waarhede op papier, hoe eksegeties of dogmaties korrek ook al, maar eerder ’n woord wat tot stem wil kom en so die stemming van die koninkryk van God wil skep.
4. ’N EEN-STEMMIGE DEFINISIE?
Miskien sou ek in die lig van dit alles ’n soort definisie van die prediking kon waag: Prediking vind plaas wanneer die stem van God deur die stem van die teks in die stem van die tyd (gemeentekonteks) deur die (unieke) stem van die prediker gehoor word. Wanneer hierdie vier stemme een-stemmig word, is die prediking inderdaad viva vox evangelii.
BIBLIOGRAFIE
Bailey, R 1991. Paul the preacher. Nashville: Broadman Press.
Barth, K 1964. Prayer and preaching. Londen: SCM Press LTD.
Bluck, J 1989. Christian Communication Reconsidered. Geneva: WCC Publications.
Bohren, R 1971. Predigtlehre. München: Kaiser.
Cilliers, J H 1994. God vir ons. ’n Analise en beoordeling van Nederduitse Gereformeerde volksprediking (1960-1980). Kaapstad: Lux Verbi.
Cilliers, J H 1996. Die uitwissing van God op die kansel. Onstellende bevindinge oor Suid-Afrikaanse prediking. Kaapstad: Lux Verbi.
Cilliers, J H 1998. Die uitwysing van God op die kansel. Inspirerende perspektiewe op die prediking – om God te sien en ander te láát sien. Kaapstad: Lux Verbi.
Cilliers, J H 2000. Die genade van gehoorsaamheid. Hoe evangelies is die etiese preke wat ons in Suid-Afrika hoor? Wellingtong: Lux Verbi.BM.
Craddock, F B 1985. Preaching. Nashville: Abingdon Press.
Daiber, K F ea 1983. Predigen und Hören. Ergebnisse einer Gottesdienstbefragung 2. Kommunikation zwischen Predigern und Hörern. Sozialwissenschaftliche Untersuchungen. München: Kaiser.
Den Dulk, M 1999. Leren preken met Augustinus (uit: Postille 1999-2000). Zoetermeer: Uitgeverij Boekencentrum.
Iwand, H J 1964. Gesetz und Evangelium. Nachgelassene Werke 4. München: Kaiser.
Josuttis, M 1973. Das Wort und die Wörter: zur Kritik am Predigtverständnis Karl Barths, in Freispruch und Freiheit: theologische Aufsätze für Walter Kreck. München: Kaiser.
Lloyd-Jones, D M 1976. Preaching and preachers. Londen: Hodder and Stoughton.
Meuser, F W 1983. Luther the preacher. Minneapolis: Augsburg.
Möller, C 1996. Der Hörer als zweiter Prediger. Zur Bedeutung der Rezeptionsästhetik für die Homiletik, in Predigen aus Leidenschaft. Karlsruhe: Verlag Evangelischer Presseverband für Baden e V.
Nel, M 2001. Ek is die verskil. Die invloed van persoonlikheid in die prediking. Bloemfontein: CLF-Uitgewers.
Patte, D 1984. Preaching Paul. Philadelphia: Fortress Press.
Van der Geest, H 1981. Presence in the pulpit: The impact of personality in preaching. Atlanta: John Knox.
Van der Velden, M J G 1989. Stimme und Schrift, in Die Predigtanalyse als Weg zur Predigt. Tübingen: Francke Verlag.
Van Oort, J 1989. Augustinus. Facetten van leven en werk. Kampen: Kok.
Van Oort, J 1991. Bediening van het heil. Augustinus over de prediking. Leiden: Uitgeverij J J Groen en Zoon.
Wardlaw, D M 1983. Preaching Biblically. Philadelphia: The Westminster Press.
1 Uitbreiding van ’n referaat gelewer by ’n BUVTON-byeenkoms oor Liturgie en Prediking, Stellenbosch 13 Aug 2001.
2 Dis natuurlik geen nuwe vraag nie. Oor die verhouding tussen die Woord van God en die baie woorde van die prediking is daar al boekdele geskryf. Ten diepste gaan dit oor die vraag: Wat is die verhouding tussen openbaring en eksistensie, en wat is die homiletiese implikasies daarvan? ’n Klassieke voorbeeld hiervan is die kritiek wat soms op die homiletiek van Karl Barth uitgespreek word, naamlik dat hy só ’n klem op ’n “Woordteologie” sou plaas dat daar geen ruimte vir die menslike subjek oorbly nie – ’n kritiek wat na my mening nie sonder meer waar is nie (vgl verder punt 3; ook Daiber 1983:93 en Josuttis 1973:22-43).
4 Die vooruitsig is dat dit in vier opeenvolgende artikels behandel sal word.
5 Tydens ’n onderhoud op die televisieprogram People of the South, 30 Sep 2001.